Palmsondag

Preekbundel

Sections

Oorsig

Die sesde Sondag in Lydenstyd is tradisioneel ook Palmsondag wat al sedert die 4de eeu in Jerusalem gevier word. Dit is die dag waarop die kerk Jesus se intog in Jerusalem in herinnering roep, maar terselfdertyd is dit ook die Sondag wat Groot Lydensweek inlei. Die erediens het op hierdie Sondag dus ‘n tweeledige fokus:

  • die herdenking van Jesus se vreugdevolle intog in Jerusalem, en
  • nadenke oor die feit dat ons weer op die vooraand van die herdenking van Jesus se lyding, sterwe en opstanding staan.

Die voorganger sou ‘n keuse kon maak om op net een van hierdie aspekte te fokus. In hierdie liturgie word Palmsondag aan die hand van Giotto di Bondone se Intog in Jerusalem oordink. By die nagmaal word Passiesondag herdenk.

Sleutelteks

Psalm 118:1-2, 19-29
1Prys die Here, want Hy is goed;
ja, vir ewig duur sy troue liefde.
2Laat Israel sê:
“Vir ewig duur sy troue liefde.”
3Laat die huis van Aäron sê:
“Vir ewig duur sy troue liefde.”
4Laat dié wat vir die Here
ontsag het, sê:
“Vir ewig duur sy troue liefde.”
5In my angs het ek geroep: “Here!”
Hy het my geantwoord
die Here het vir my ruimte gemaak.
6Die Here is vir my;
ek sal nie bang wees nie.
Wat kan ‘n mens aan my doen?
7Die Here is vir my, as my helper;
en ek, ek sal op my haters neersien.
8Dit is beter om by die Here te skuil
as om op mense te vertrou.
9Dit is beter om by die Here te skuil
as om op vooraanstaandes te vertrou.
10Alle nasies het my omsingel;
in die Naam van die Here
kon ek hulle waarlik afweer.
11Hulle het my omsingel,
ja, hulle het op my toegesak;
in die Naam van die Here
kon ek hulle waarlik afweer.
12Hulle het my omsingel soos bye,
maar hulle is geblus soos ‘n vuur
in doringstruike.
In die Naam van die Here
kon ek hulle waarlik afweer.
13Julle het my hard gestamp,
dat ek moes val,
maar die Here het my gehelp.
14My krag en sterkte was die Here;
Hy het my tot hulp gekom.
15Die geluid van jubelkrete
en van verlossing klink op
in die tente van regverdiges.
Die regterhand van die Here
doen kragtige dade.
16Die regterhand van die Here
is hoog gelig;
die regterhand van die Here
doen kragtige dade.
17Ek sal nie sterf nie,
maar ek sal lewe en vertel
van die dade van die Here.
18Die Here het my ernstig tereggewys,
maar aan die dood het Hy my
nie oorgegee nie.
19Maak vir my die poorte
na geregtigheid oop;
ek wil daardeur ingaan,
ek wil die Here prys.
20“Dit is die poort na die Here –
regverdiges mag daardeur ingaan.”
21Ek wil U prys,
omdat U my geantwoord
en my te hulp gekom het.
22Die klip wat die bouers afgekeur het,
het die hoeksteen geword.
23Van die Here het dit gekom;
dit is ‘n wonder in ons oë.
24Dit is die dag wat die Here
gemaak het;
laat ons juig
en ons in Hom verheug.
25Ag, Here, verlos ons tog!
Ag, Here, gee tog voorspoed!
26Geseënd is hy wat kom
in die Naam van die Here.
Ons seën julle uit die huis van die Here.
27Die Here is God;
Hy het vir ons lig laat skyn.
Voer met gevlegte takke
die kringdans uit tot by
die horings van die altaar.
28U is my God en ek prys U!
My God, ek wil U verheerlik.
29Prys die Here, want Hy is goed;
ja, vir ewig duur sy troue liefde

Ander tekste

Jesaja 50:4-9a
Wie wil my aankla?
4Die Here my God het my geleer
om die regte woorde te gebruik
sodat ek dié wat moeg is,
kan moed inpraat.
Elke môre laat Hy my opnuut
weer luister,
Hy laat my luister
soos ’n leerling moet luister.
5Die Here my God het my geleer
om te luister:
ek was nie teen Hom opstandig nie,
ek was nie ontrou aan Hom nie.
6Ek het my rug gehou
vir dié wat my slaan,
my wang vir dié
wat my baard uittrek.
Ek het my gesig nie weggedraai
toe ek bespot en bespoeg is nie.
7Die Here my God help my,
ek sal nie teleurgestel staan nie;
ek sal my nie ontstel nie,
ek weet ek sal nie
in verleentheid kom nie.
8Hy wat my onskuldig sal verklaar,
is naby;
wie wil ’n aanklag teen my inbring?
Laat ons elkeen sy saak stel.
Wie wil my aankla?
Laat hom vorentoe kom.
9Die Here my God help my;
wie sal my dan skuldig verklaar?
Dit is verby met almal wat my beskuldig,
soos met ’n lap
wat deur motte gevreet word.

Psalm 118:1-4, 27
Die Here doen kragtige dade
118 Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie!
2Israel moet getuig:
“Aan sy liefde is daar geen einde nie.”
3Die huis van Aäron moet getuig:
“Aan sy liefde is daar geen einde nie.”
4Dié wat die Here dien, moet getuig:
“Aan sy liefde is daar geen einde nie.”
28U is my God, U wil ek loof;
my God, u grootheid wil ek besing.
29Loof die Here, want Hy is goed,
aan sy liefde is daar geen einde nie.

Filippense 2:5-11
Die voorbeeld van Jesus Christus
5Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was:
6Hy wat in die gestalte
van God was,
het sy bestaan op Godgelyke wyse
nie beskou as iets waaraan Hy Hom
moes vasklem nie,
7maar Hy het Homself verneder
deur die gestalte van ’n slaaf
aan te neem
en aan mense gelyk te word.
En toe Hy as mens verskyn het,
8het Hy Homself verder verneder.
Hy was gehoorsaam tot in die dood,
ja, die dood aan die kruis.
9Daarom het God Hom
ook tot die hoogste eer verhef
en Hom die Naam gegee
wat bo elke naam is,
10sodat in die Naam van Jesus
elkeen wat in die hemel
en op die aarde
en onder die aarde is,die knie sou buig,
11en elke tong sou erken:
“Jesus Christus is Here!”
tot eer van God die Vader.

Matteus 21:1-11; 26:14–27:66
Die intog van Jesus in Jerusalem

(Mark 11:1–11; Luk 19:28–38; Joh 12:12–19)
21 Toe hulle naby Jerusalem kom en Betfage aan die Olyfberg bereik, het Jesus twee dissipels vooruit gestuur 2en vir hulle gesê: “Gaan na die dorpie daar reg voor julle, en net soos julle inkom, sal julle daar ’n donkie kry wat vasgemaak is, en ’n vul by haar. Maak haar los en bring hulle vir My. 3En as iemand vir julle iets daaroor sê, antwoord dan: Die Here het hulle nodig, en Hy sal hulle gou weer terugstuur.”

4Dit het gebeur sodat die uitspraak van die profeet vervul sou word:
5“Sê vir Sion:
Kyk, jou Koning kom na jou toe;
Hy is nederig en Hy ry
op ’n donkie,
op die vul van ’n pakdier.”

6Die twee dissipels het toe vooruit gegaan en gedoen wat Jesus hulle beveel het. 7Hulle het die donkie en die vul gebring, van hulle klere op die diere gesit, en Jesus het opgeklim. 8Die grootste deel van die skare het van hulle klere op die pad oopgegooi, en ander het takkies van die bome afgebreek en dit op die pad gestrooi. 9Die mense wat voor Jesus geloop het en dié wat agter Hom aan gekom het, het begin uitroep:
“Prys die Seun van Dawid!
Loof Hom wat in die Naam van die
Here kom!

Prys Hom in die hoogste hemel!”
10Toe Jesus in Jerusalem ingaan, het die hele stad in beroering gekom en gevra: “Wie is hierdie man?”
11Die skare het geantwoord: “Dit is die profeet Jesus van Nasaret in Galilea!”
Judas onderneem om Jesus te verraai

(Mark 14:10–11; Luk 22:3–6)
14Toe het een van die twaalf dissipels, die een wat Judas Iskariot genoem is, na die priesterhoofde toe gegaan 15en gesê: “Wat sal julle my gee as ek sorg dat Jesus in julle hande kom?” Hulle het hom toe dertig silwermuntstukke betaal. 16Van toe af was hy op die uitkyk na ’n geskikte geleentheid om Jesus te verraai.

Die paasmaaltyd word voorberei
(Mark 14:12–21; Luk 22:7–14)
17Op die eerste dag van die fees van die ongesuurde brood kom die dissipels na Jesus toe en vra: “Waar wil U hê moet ons gaan regmaak vir U om die paasmaaltyd te eet?”

18Jesus het geantwoord: “Gaan in die stad na so en so toe en sê vir hom: ‘Ons Leermeester sê: My tyd is naby. In jou huis wil Ek saam met my dissipels die paasmaaltyd hou.’”

19Die dissipels het gemaak soos Jesus aan hulle opgedra het, en die paasmaaltyd voorberei.

Jesus wys sy verraaier aan
(Mark 14:17–21; Luk 22:21–23; Joh 13:21–27)
20Toe dit aand geword het, het Jesus sy plek aan die tafel ingeneem saam met die twaalf. 21Terwyl hulle eet, sê Hy: “Dit verseker Ek julle: Een van julle sal My verraai.”

22Hulle was baie onthuts en een na die ander het Hom begin vra: “Dit is tog nie ek nie, Here?”

23Hy antwoord toe: “Die een wat saam met My sy brood in die skottel insteek, dit is hy wat My sal verraai. 24Die Seun van die mens gaan inderdaad sterwe soos daar oor Hom geskrywe staan; maar wee die man deur wie die Seun van die mens verraai word. Dit sou vir daardie man beter gewees het as hy nooit gebore was nie.”

25Toe sê Judas, sy verraaier: “Is dit miskien ek, Rabbi?”
Jesus antwoord: “Dit is soos jy sê!”

Die instelling van die nagmaal
(Mark 14:22–26; Luk 22:15–20; 1 Kor 11:23–25)
26En terwyl hulle eet, het Jesus brood geneem en die seën gevra. Daarna het Hy dit gebreek en vir sy dissipels gegee met die woorde: “Neem, eet; dit is my liggaam.”

27Toe neem Hy ’n beker, en nadat Hy die dankgebed uitgespreek het, gee Hy dit vir hulle en sê: “Drink almal daaruit, 28want dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie vergiet word tot vergewing van sondes. 29Ek sê vir julle: Van nou af sal Ek nie weer van hierdie wyn drink nie tot op die dag wanneer Ek saam met julle die nuwe wyn in die koninkryk van my Vader sal drink.”

30Nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle uitgegaan Olyfberg toe.

Petrus sal Jesus verloën
(Mark 14:27–31; Luk 22:31–34; Joh 13:36–38)
31Toe sê Jesus vir hulle: “Julle almal sal My vannag nog in die steek laat. Daar staan immers geskrywe:
‘Ek sal die herder doodmaak,
en die skape van sy kudde sal
uitmekaar gejaag word.’ z
32Maar nadat Ek uit die dood opgewek is, sal Ek julle vooruitgaan na Galilea toe.”

33Daarop het Petrus vir Hom gesê: “Al sal hulle U ook almal in die steek laat, ék sal U nooit in die steek laat nie.”

34Toe sê Jesus vir hom: “Dit verseker Ek jou: Vannag nog, voordat die haan kraai, sal jy My drie maal verloën.”

35Petrus sê vir Hom: “Al moet ek saam met U sterwe, ek sal U beslis nie verloën nie!”

Al die ander dissipels het ook so gesê.

Jesus in Getsemane
(Mark 14:32–42; Luk 22:39–46; Joh 18:1–2)
36Daarna kom Jesus met sy dissipels by ’n plek met die naam Getsemane, en Hy sê vir hulle: “Sit hier terwyl Ek daar gaan bid.”

37Hy het vir Petrus en die twee seuns van Sebedeus saamgeneem. Toe het Hy bedroef en beangs geword 38en vir hulle gesê: “Ek voel doodsbenoud. Bly hier en waak saam met My.”

39Hy het ’n entjie verder gegaan en daar gekniel met die gesig teen die grond en gebid: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by My verbygaan. Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil.”

40Daarna kom Hy na die dissipels toe terug en kry hulle aan die slaap. Hy sê toe vir Petrus: “Kon julle nie eens een uur lank saam met My waak nie? 41Waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is gewillig, maar die vlees is swak.”

42’n Tweede keer het Hy gaan bid en gesê: “My Vader, as hierdie lydensbeker nie by My kan verbygaan sonder dat Ek dit drink nie, laat u wil geskied.”

43Toe Hy terugkom, kry Hy hulle weer aan die slaap, want van die vaak kon hulle nie hulle oë oophou nie.

44Hy het hulle weer alleen laat bly en ’n derde keer gaan bid en dieselfde woorde gesê. 45Toe kom Hy na die dissipels toe terug en sê vir hulle: “Slaap en rus julle nog? Die uur het gekom. Die Seun van die mens word in die hande van sondaars oorgegee. 46Staan op, kom ons loop. Kyk, die man wat My verraai, is hier naby.”

Jesus word gevange geneem

(Mark 14:43–50; Luk 22:47–53; Joh 18:3–12)

47Op daardie oomblik, terwyl Jesus nog praat, kom Judas, een van die twaalf, daar aan, en saam met hom was ’n groot klomp mense met swaarde en stokke. Hulle is deur die priesterhoofde en die familiehoofde van die volk gestuur.

48Die verraaier het met die manne ’n teken afgespreek. Hy het gesê: “Die een wat ek soen, dit is hy. Gryp hom!” 49Hy het reguit na Jesus toe gegaan en gesê: “Goeiemôre, Rabbi,” en Hom gesoen.

50Maar Jesus sê vir hom: “Vriend, doen wat jy gekom het om te doen!”

Toe kom hulle vorentoe, gryp vir Jesus en neem Hom gevange. 51Een van dié wat saam met Jesus was, gryp toe sy swaard en trek dit uit. Hy slaan na die slaaf van die hoëpriester en kap sy oor af. 52Toe sê Jesus vir hom: “Sit jou swaard terug in sy plek, want almal wat na die swaard gryp, sal deur die swaard omkom. 53Of dink jy Ek kan nie my Vader om hulp vra nie? Hy sal dadelik vir My meer as twaalf legioene engele beskikbaar stel. 54Maar hoe sal die Skrif dan vervul word wat sê hoe die dinge moet gebeur?”

55Dit was toe dat Jesus vir die klomp mense gesê het: “Was dit vir julle nodig om met swaarde en stokke uit te gaan om My te vang asof Ek ’n rower is? Dag vir dag het Ek in die tempel gesit en die mense geleer, en julle het My nie gevange geneem nie. 56Maar dit alles het gebeur sodat die geskrifte van die profete vervul kan word.”

Toe het al sy dissipels Hom in die steek gelaat en weggehardloop.

Jesus voor die Joodse Raad

(Mark 14:53–65; Luk 22:54–55; 63–71; vgl Joh 18:13–14; 19–24)

57Die mense wat vir Jesus gevange geneem het, het Hom weggelei na Kajafas, die hoëpriester, waar die skrifgeleerdes en die familiehoofde bymekaargekom het. 58Petrus het op ’n afstand agter Hom aan gegaan tot by die binnehof van die hoëpriester se woning. Hy het ingegaan en daar by die wagte gaan sit om te kyk hoe dit afloop.

59Die priesterhoofde en die hele Joodse Raad het vals getuienis teen Jesus probeer kry sodat hulle Hom kon doodmaak. 60Baie vals getuies het na vore gekom, en tog kon die Raad niks teen Hom vind nie. Eindelik het daar twee vorentoe gekom 61en gesê: “Hierdie man het gesê: Ek kan die tempel van God afbreek en in drie dae weer opbou.”

62Toe staan die hoëpriester op en sê vir Hom: “Verweer jy jou glad nie? Wat van die getuienis wat hierdie mense teen jou inbring?”

63Maar Jesus het niks gesê nie. Die hoëpriester sê toe vir Hom: “Ek stel jou onder ’n eed by die lewende God dat jy vir ons moet sê: Is jy die Christus, die Seun van God?”

64Jesus antwoord hom: “Dit is soos u sê. Daarby sê Ek vir julle:
Van nou af sal julle
die Seun van die mens sien
waar Hy aan die regterhand sit
van Hom wat magtig is,
en julle sal Hom sien kom
op die wolke van die hemel.” a
65Toe skeur die hoëpriester uit verontwaardiging sy klere en sê: “Hy het God gelaster. Waarvoor het ons nog getuies nodig? Daar het julle nou net die godslasterlike woorde gehoor. 66Wat dink julle?”
Hulle het geantwoord: “Hy verdien die dood!”

67Toe het hulle in sy gesig gespoeg en Hom met die vuis geslaan. Hulle het Hom geklap 68en gesê: “Jy is mos ’n profeet, Christus! Sê vir ons, wie het jou geslaan?”

Petrus verloën Jesus
(Mark 14:66–72; Luk 22:56–62; Joh 18:15–18; 25–27)
69Petrus het buite in die binnehof gesit toe ’n diensmeisie na hom toe kom en sê: “Jy was ook saam met Jesus die Galileër.”

70Maar hy het dit voor almal ontken: “Ek weet nie waarvan jy praat nie.”

71Hy gaan toe na die uitgang van die binnehof. Daar sien ’n ander diensmeisie hom en sê vir dié wat daar staan: “Hierdie man was saam met Jesus van Nasaret.”

72Weer het Petrus dit ontken en met ’n eed gesê: “Ek ken die man nie!”

73’n Rukkie later kom die manne wat daar staan, na Petrus toe en sê: “Dit is waar, jy is ook een van hulle. ’n Mens kan dit aan jou spraak hoor.”

74Toe begin hy vloek, en hy sweer: “Ek ken die man nie!”

75En op daardie oomblik het daar ’n haan gekraai. Toe val dit Petrus by wat Jesus gesê het: “Voordat die haan kraai, sal jy My drie maal verloën.” En hy het buitentoe gegaan en bitterlik gehuil.

Jesus word aan Pilatus uitgelewer
(Mark 15:1; Luk 23:1–2; Joh 18:28–32)
27 Die môre vroeg het al die priesterhoofde en die familiehoofde van die volk die besluit geneem om Jesus dood te maak. 2Hulle het Hom geboei en Hom toe weggebring en aan Pilatus, die goewerneur, uitgelewer.

Die dood van Judas
(Hand 1:18–19)
3Toe Judas, die verraaier, sien dat Jesus tot die dood veroordeel is, het hy spyt gekry. Hy het die dertig silwermuntstukke teruggebring na die priesterhoofde en die familiehoofde toe 4en vir hulle gesê: “Ek het gesondig. Ek het ’n onskuldige man verraai.”
Maar hulle antwoord: “Wat het ons daarmee te doen? Dit is jou saak!”

5Judas het toe die geld in die tempel in gegooi, weggeloop en homself gaan ophang.

6Die priesterhoofde het die geld opgetel en gesê: “Dit is nie geoorloof om dit in die tempelfonds te stort nie, want dit is bloedgeld.”

7Hulle besluit toe om daarmee die grond van die pottebakker te koop as’n begraafplaas vir vreemdelinge.

8Daardie stuk grond word tot vandag toe nog Bloedgrond genoem.

9Toe is die woord vervul wat die Here deur die profeet Jeremia gesê het:

“En hulle het die dertig silwermuntstukke geneem, dit is die prys wat die Israeliete ooreengekom het om vir hom te betaal, 10en hulle het dit uitbetaal vir die grond van die pottebakker. So het die Here dit aan my opgedra.” b

Jesus voor Pilatus
(Mark 15:2–5; Luk 23:3–5; Joh 18:33–38)
11Jesus is voor die goewerneur gebring en dié vra Hom: “Is jy die koning van die Jode?”
Jesus antwoord: “Dit is soos u sê.”

12Op die beskuldigings van die priesterhoofde en die familiehoofde het Hy niks geantwoord nie.

13Toe sê Pilatus vir Hom: “Hoor jy nie waarvan hulle jou alles beskuldig nie?”

14Maar Jesus het hom op geen enkele woord ’n antwoord gegee nie, sodat die goewerneur baie verbaas was.

Pilatus lewer Jesus oor om gekruisig te word
(Mark 15:6–15; Luk 23:13–25; Joh 18:39–19:16)
15Die goewerneur het die gewoonte gehad om elke paasfees vir die mense een gevangene van hulle eie keuse los te laat. 16In daardie tyd was daar ’n berugte gevangene met die naam Jesus Barabbas. 17Aangesien die mense tog bymekaar was, het Pilatus hulle gevra: “Wie wil julle hê moet ek vir julle loslaat: Jesus Barabbas of Jesus wat Christus genoem word?” 18Hy het geweet dat die priesterhoofde Hom uit afguns uitgelewer het.

19Terwyl Pilatus op die regbank sit, het sy vrou vir hom ’n boodskap gestuur: “Moet tog niks met daardie onskuldige man te doen hê nie, want ek het vannag ’n vreeslike droom oor hom gehad.”

20Intussen het die priesterhoofde en die familiehoofde die mense oorgehaal om vir Barabbas vrylating te vra en vir Jesus die dood.

21Die goewerneur vra hulle toe: “Watter een van die twee wil julle hê moet ek vir julle loslaat?”
“Barabbas!” antwoord hulle.

22Pilatus sê vir hulle: “Wat moet ek dan doen met Jesus wat Christus genoem word?”
“Kruisig hom!” skreeu hulle almal.

23Hy vra: “Watter kwaad het hy dan gedoen?”
Maar hulle skreeu nog harder: “Kruisig hom!”

24Toe Pilatus sien dit help niks nie en dat daar eerder ’n oproer kom, het hy water gevat en voor die skare sy hande gewas en gesê: “Ek is onskuldig aan die bloed van hierdie man. Dit is julle verantwoordelikheid.”

25Toe antwoord die hele volk: “Laat die skuld vir sy bloed op ons en ons kinders rus!”

26Pilatus het Barabbas toe vir hulle losgelaat; maar Jesus het hy laat gesel en Hom oorgelewer om gekruisig te word.

Die soldate bespot Jesus
(Mark 15:16–20; Joh 19:2–3)
27Daarna vat die soldate van die goewerneur vir Jesus in die ampswoning in en bring die hele leërafdeling rondom Hom bymekaar. 28Hulle trek toe sy klere uit en gooi Hom ’n pers mantel om. 29Hulle vleg ’n doringkroon en sit dit op sy kop en gee Hom ’n stok in sy regterhand. Toe bespot hulle Hom deur voor Hom te buig en te sê: “Ons groet u, Koning van die Jode!” 30Hulle het op Hom gespoeg en die stok gevat en Hom oor die kop geslaan. 31Nadat hulle Hom klaar bespot het, het hulle die mantel uitgetrek en weer sy eie klere vir Hom aangetrek. Toe lei hulle Hom weg om Hom te kruisig.

Jesus word gekruisig
(Mark 15:21–32; Luk 23:26–43; Joh. 19:17–27)
32Toe hulle uitgaan, kry hulle ’n man van Sirene met die naam Simon, en hulle het hom gekommandeer om Jesus se kruis te dra. 33Hulle kom toe by ’n plek wat Golgota genoem word; dit beteken Kopbeenplek. 34Daar het hulle Hom ’n mengsel van wyn en gal gegee om te drink, maar toe Hy dit proe, wou Hy dit nie drink nie.

35Hulle het Hom gekruisig en sy klere verdeel deur te loot. 36Daarna het hulle gaan sit en by Hom wag gehou.

37Bokant sy kop het hulle die aanklag teen Hom in skrif aangegee: “Dit is Jesus, die koning van die Jode.” 38Saam met Hom het hulle ook twee rowers gekruisig, een regs en die ander een links van Hom.

39Die mense wat daar verbygeloop het, het Jesus gelaster. Hulle het die kop geskud 40en gesê: “Jy wat die tempel afbreek en in drie dae opbou! Red jouself as jy die Seun van God is, en kom van die kruis af!”

41Net so het die priesterhoofde saam met die skrifgeleerdes en die familiehoofde ook gespot en gesê: 42“Ander het hy gered, maar homself kan hy nie red nie. Hy is mos die koning van Israel! Laat hy nou van die kruis afkom en ons sal in hom glo. 43Hy het op God vertrou; laat God hom nou red as Hy dan behae in hom het. Hy het immers gesê hy is die Seun van God!”

44Op dieselfde manier het die rowers wat saam met Hom gekruisig is, Hom ook beledig.

Jesus sterwe
(Mark 15:33–41; Luk 23:44–49; John 19:28–30)
45Van twaalfuur af het daar duisternis oor die hele land gekom, en dit het tot drie-uur geduur. 46Teen drie-uur het Jesus hard uitgeroep: “Eli, Eli, lemá sabagtani?” Dit is: My God, my God, waarom het U My verlaat? c

47Party van dié wat daar gestaan het, het dit gehoor en gesê: “Hy roep vir Elia.”

48Een van hulle hardloop toe gou, vat ’n spons en maak dit vol suur wyn en hou dit op ’n stok vir Hom om te drink. 49Maar die ander sê: “Wag, laat ons kyk of Elia hom kom red.”

50Jesus het weer hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas.

51Op daardie oomblik het die voorhangsel van die tempel van bo tot onder middeldeur geskeur. Die aarde het geskud, en die rotse het uitmekaar gebars. 52Grafte het oopgegaan, en baie gelowiges wat dood was, is opgewek, 53en hulle het uit hulle grafte uitgegaan. Na Jesus se opstanding het hulle in die heilige stad gekom, waar hulle aan baie mense verskyn het.

54Toe die offisier en die soldate wat saam met hom vir Jesus bewaak het, die aardbewing sien en die dinge wat gebeur, het hulle baie bang geword en gesê: “Hierdie man was werklik die Seun van God.”

55Daar was ook baie vroue wat op ’n afstand gestaan en kyk het. Dit is hulle wat vir Jesus van Galilea af gevolg en vir Hom gesorg het. 56Onder hulle was Maria Magdalena, Maria die moeder van Jakobus en Josef, en die moeder van die seuns van Sebedeus.

Jesus word begrawe
(Mark 15:42–47; Luk 23:50–56; Joh 19:38–42)
57Laat die middag het daar ’n ryk man aangekom. Dit was Josef van Arimatea, wat self ook ’n volgeling van Jesus was. 58Hy het na Pilatus toe gegaan en die liggaam van Jesus gevra, en Pilatus het beveel dat dit vir hom gegee moet word.

59Josef het die liggaam geneem en dit in skoon linne toegedraai 60en dit daarna neergelê in sy eie nuwe graf wat hy in die rots uitgekap het. Hy het ’n groot klip voor die ingang van die graf gerol en weggegaan. 61Maria Magdalena en die ander Maria was ook daar en het reg voor die graf gesit.

Die graf word bewaak
62Die volgende dag, die dag na die Vrydag, het die priesterhoofde en die Fariseërs by Pilatus gekom 63en vir hom gesê: “Meneer, ons onthou dat toe daardie bedrieër nog geleef het, hy gesê het: ‘Na drie dae sal ek uit die dood opgewek word.’64Gee dan bevel dat die graf drie dae veilig bewaak word, sodat sy dissipels hom nie dalk kom steel en vir die mense vertel: ‘Hy is uit die dood opgewek’ nie. Dan sal die tweede bedrog erger wees as die eerste.”

65Pilatus antwoord hulle: “Hier is vir julle ’n wag; gaan beveilig die graf so goed as julle kan.”

66Hulle het toe gegaan en die graf beveilig deur die klip te verseël en die wag daar te laat bly.

Leesrooster vir Lidmate

Moment 1
Ons aanbid God wat sy mense deernisvol versorg
Vers 1 en 2 bevat twee oproepe aan die geloofsgemeenskap. Dit brei uit op die belydenis en motivering dat die Here goed is. Die psalmdigter getuig oor die ewigdurende aard van God se karakter met die uitdrukking “troue liefde” (2020-vertaling). Die uitdrukking vertaal ook as “verbondstrou” en “standvastige liefde”. Twee Engelse vertalings is: “His mercy endures forever” en “loyal love”. Israel is as feesvierende gemeenskap byeen om God te aanbid. Plaas jouself in die skoene van ‘n gelowige wat die verhaal van God se sorg vir sy kerk vertel. Watter uitdrukking sal jy gebruik om God se goedheid te besing?

Moment 2
Ons wil toegelaat word om God met oorgawe te aanbid
In vers 19 is die bidder aan die woord met ‘n versoek en motivering. Die bidder vra dat die poorte na geregtigheid oopgemaak word. Die rede vir die versoek is om daardeur in te gaan om die Here te prys. Die bidder kwalifiseer wie deur die poort na die Here kan gaan: regverdiges mag deurgaan. Vers 20 bevat die poortwagter se respons op die versoek in vers 19. Dit hou verband met die tradisionele toegangsliturgie. Stel jouself in die rol van die poortwagter. Wat sien jy as voorwaarde om God te mag aanbid?

Moment 3
Ons getuig van die Here se verbondstrou in ons lewe
In vers 21 spreek die bidder die Here direk aan met die woorde: “Ek wil U prys.” Daarmee verklaar die bidder homself as regverdige. Die bidder gee ‘n redegewende verklaring waarom hy toegang mag kry. Die bidder noem sy ervaring van die Here se verbondstrou/standvastige liefde in die verlede. Hoe sou jy as digter getuig het oor die Here se antwoorde in die verlede op jou hulpgeroep en versoeke? Formuleer jou oortuiging dat die Here deur jou lewe heen bevestig het dat jy geregverdig is en toegang het om deur die poort na geregtigheid te gaan.

Moment 4
Die Here is my God!
Vers 28 is ‘n hernude dankgebed. Hier identifiseer die bidder persoonlik met die Here na wie hy deur die psalm verwys het. Nou bely die psalmis dat die Here na wie toe hy wou ingaan (v 19) “my God” is. Die psalmis maak sy wens/begeerte/intensie bekend in die woorde: “My God, ek wil U verheerlik” (v 28b). Op grond van sy persoonlike ontmoeting met God roep die bidder nou die geloofsgenote op om die Here te prys (v 29). Hoe hoor jy Psalm 118 ná Palmsondag en gedurende die Groot Lydensweek? Wat is jou motivering om na God te gaan vir aanbidding? Dink aan die gemeenskap wat jy saam met jou voor die Here wil bring.

Liturgie

Aanvangslied: Lied  391 “Vervul o Heer my hart 1,2,3,4,5,6”

Aanvangswoord: – Psalm 118:1-4, 27

Seëngroet: Filippense 1:1-2

Lied: 393 “Middelpunt van ons verlange 1,2,3,4”

Verootmoediging: Matteus 21

Die intog van Jesus in Jerusalem
(Mark 11:1–11; Luk 19:28–38; Joh 12:12–19)

Aanbidding

Gebed: Ahv Psalm 118:14-29 ()

Geloofsbelydenis: ahv Filippense 2
of
Verootmoediging 2

Oordenking
Verskillende aspekte van Giotto se muurskildery kan uitgewys en as hulpmiddel tot oordenking benut word.

Loflied: 390 “Ons kniel hier aan U voete neer 1,2,3,4”

Epiklese
(Flam 87 Die woorde kan gesing of gelees word).

Skriflesing: Psalm 118

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Gebed van oorgawe
Offergawes

Wegsending: Lied 392 “O Lam van God onskuldig 1”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
of
VONKK 277 – U is die lig wat deur die donker skyn

Teks: Hannes van der Merwe 2014 ©
Melodie: HIGHLAND CATHEDRAL – Uli Rover en Michael Korb
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2014 (Pro Deo)
Musikale verryking 1en 2: Gerrit Jordaan 2014 ©
© Teks, orrelbegeleiding en musikale verrykings: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Church Hymnary Trust, Admin SCM-Canterbury Press Ltd. Met toestemming gebruik.

U is die lig wat deur die donker skyn.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 391 “Vervul o Heer my hart 1,2,3,4,5,6”

Aanvangswoord 
V: Loof die Here, want Hy is goed,
G: aan sy liefde is daar geen einde nie!

V: Israel moet getuig:
G: Aan sy liefde is daar geen einde nie.

V: Die huis van Aäron moet getuig:
G: Aan sy liefde is daar geen einde nie.

V: Dié wat die Here dien, moet getuig:
G: Aan sy liefde is daar geen einde nie.

V: Die Here is God; Hy skenk ons die lewe.
G: Begin die fees! Wuif met takke!
– Psalm 118:1-4, 27

Seëngroet: Filippense 1:1-2
Aan almal in Filippi wat deur Christus Jesus aan God behoort, met hulle ouderlinge en diakens.
2Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!

Lied 393 “Middelpunt van ons verlange 1,2,3,4”

Verootmoediging: Matteus 21

Die intog van Jesus in Jerusalem
(Mark 11:1–11; Luk 19:28–38; Joh 12:12–19)
21 Toe hulle naby Jerusalem kom en Betfage aan die Olyfberg bereik, het Jesus twee dissipels vooruit gestuur 2en vir hulle gesê: “Gaan na die dorpie daar reg voor julle, en net soos julle inkom, sal julle daar ’n donkie kry wat vasgemaak is, en ’n vul by haar. Maak haar los en bring hulle vir My. 3En as iemand vir julle iets daaroor sê, antwoord dan: Die Here het hulle nodig, en Hy sal hulle gou weer terugstuur.”

4Dit het gebeur sodat die uitspraak van die profeet vervul sou word:
5“Sê vir Sion:
Kyk, jou Koning kom na jou toe;
Hy is nederig en Hy ry
op ’n donkie,
op die vul van ’n pakdier.”

6Die twee dissipels het toe vooruit gegaan en gedoen wat Jesus hulle beveel het. 7Hulle het die donkie en die vul gebring, van hulle klere op die diere gesit, en Jesus het opgeklim. 8Die grootste deel van die skare het van hulle klere op die pad oopgegooi, en ander het takkies van die bome afgebreek en dit op die pad gestrooi. 9Die mense wat voor Jesus geloop het en dié wat agter Hom aan gekom het, het begin uitroep:
“Prys die Seun van Dawid!
Loof Hom wat in die Naam van die
Here kom!
Prys Hom in die hoogste hemel!”

10Toe Jesus in Jerusalem ingaan, het die hele stad in beroering gekom en gevra: “Wie is hierdie man?”

11Die skare het geantwoord: “Dit is die profeet Jesus van Nasaret in Galilea!”

Aanbidding

Gebed: Ahv Psalm 118:14-29 ()
U Here is my krag en my beskerming.
Dit is U wat my gered het!
“Die Here doen kragtige dade,
16die Here triomfeer,
die Here doen kragtige dade!”
Daarom sal ek nie sterwe nie, ek sal lewe
en van die dade van die Here getuig.
Ek wil in die tempel ingaan en die Here loof.
21Ek wil U loof
omdat U my gebed verhoor
en my gered het.
Inderdaad, die klip wat deur die bouers
afgekeur is,
juis hy het die belangrikste klip
in die gebou geword.
23Dit is deur die Here gedoen
en is ’n wonder in ons oë!
Vandag is die dag
wat die Here gemaak het;
laat ons daaroor juig en bly wees.
26Prys hom
wat in die Naam van die Here kom!
27Die Here is God;
Hy skenk ons die lewe.
28U is my God, U wil ek loof;
my God, u grootheid wil ek besing.
29Loof die Here, want Hy is goed,
aan sy liefde is daar geen einde nie. Amen

Geloofsbelydenis ahv Filippense 2
Voorganger: Ek glo in Jesus Christus, die eniggebore Seun van God die Vader
Gemeente: Hy wat in die gestalte van God was, maar Homself verneder het deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word

V: wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is.
G: Hy het Homself verneder en was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.

V: Hy het op die derde dag weer opgestaan uit die dood, opgevaar na die hemel en Hy sit aan die regterhand van God die almagtige Vader.
G: God het Hom tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is.

V: In die Naam van Jesus sal elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie buig, en elke tong sal erken: Jesus Christus is die Here!
G: Tot eer van God die Vader.
of
Verootmoediging 2

Oordenking
Verskillende aspekte van Giotto se muurskildery kan uitgewys en as hulpmiddel tot oordenking benut word.

Dissipels
Die dissipels loop in ’n digte bondel links agter Jesus met stralekranse op hulle koppe. Hulle is somber omdat hulle al by drie geleenthede by Jesus die boodskap gehoor het dat Hy in Jerusalem sal sterf. Die dissipels is agterdogtig, bang en oorweldig deur die skare se “hosannas”.

Skare
Die skare mans en vroue stroom vanuit Jerusalem na buite. Anders as in die geval van die dissipels kan hulle gesigte onderskei word. In teenstelling met die dissipels, is hulle uitbundig en vreugdevol. Iemand lê sy kleed voor Jesus neer en ander trek kledingstukke uit vir dieselfde doel. Takke word afgebreek vir lofbetuiging, terwyl die arms van die regterkantse figuur na die kruisiging verwys.

Donkie(s)
Net in die evangelie van Matteus word na die donkie en haar vul verwys. Sy is nie ’n oorlogsperd nie, maar tog statig. Haar een oor is na Jesus gedraai en haar ander na die skare.

Jesus
Die fokus is op Jesus (middelste posisie, grootte, driedimensioneel). Die nederige Koning op die donkie seën die skare. Die twee gestrekte vingers dui op die twee nature van Christus.

Loflied 390 Ons kniel hier aan U voete neer 1,2,3,4

Liedere

F44. “Bring Hom Hulde”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Lof)
Teks en Musiek: Rick Moser
© 1994 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lied, vol 4 en FLAM, vol 1)

Refrein:
Bring Hom hulde, bring Hom ere
Bring Hom hulde, ere, lof en majesteit
Soos in die hemele, so ook op die aarde
Aan Jesus alleen kom toe die eer en heerlikheid.
Aan die kruis het Hy die vyand uitgeklee
en in die openbaar oor hom getriomfeer.
Die poorte van die doderyk is uitmekaar geskeur
en die leë graf verkondig steeds: Hy alleen regeer!

F164.”Elke Knie Sal Voor Hom Buig” 
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Geloofsbelydenis)
Teks en Musiek: Rick Moser
© MAR Gospel Music Publishers
(Fil 2:10,11)

Elke knie sal voor Hom buig.
Jesus is die Heer.
En elke tong sal moet bely
Jesus is die Heer.
God het Hom ‘n Naam gegee
verhoog bo elke naam.
In sy Naam sal ons elke werk
van die bose kan weerstaan.
Elke bloedgewaste sing
Jesus is die Heer.
Aan Hom alleen die hulde bring
Jesus is die Heer.
Hy alleen is waardig
om die ere te ontvang.
Deur sy bloed is ons losgekoop
uit elke volk en stam.
Elke man en vrou en kind sing
Jesus is die Heer.
Laat jou loflied dag en nag weerklink
Jesus is die Heer.
Hemel, aarde dal en kruin sing
Jesus is die Heer.
Laat elke wese uitbasuin
Jesus is die Heer. [x3]
Jesus Christus. [x2]
Jesus is die Heer.

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Maak my nou stil, Heer.
Ek wil na U luister;
my hart vir U oopmaak
dat U my kan aanraak.
Open my oë,
my hart en my ore,
dat ek U leer ken, Heer,
en voor U kan lewe.
(Flam 87 Die woorde kan gesing of gelees word).

Skriflesing: Psalm 118

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Lees die gebeure van Palmsondag (Jesus op die donkie) uit die NT vir kinders…

Jesus in Jerusalem
21 1–5 Hierna kom hulle by ’n dorpie, Betfage, aan die voet van die Olyfberg. Dit was nie ver van Jerusalem af nie. Jesus stuur toe twee dissipels* na die dorpie toe. “As julle daar inkom,” sê Hy, “sal julle ’n donkie kry met ’n jong vul by haar. Maak haar los en bring haar vir My. As iemand vir julle vra hoekom julle dit doen, sê dan: ‘Die Here het die donkies nodig. Later sal ons die donkies terugbring.’

“Jesaja het mos al lankal gesê:
‘Sê vir almal in Jerusalem:
Julle koning kom na julle toe.
Hy dink nie te veel van Homself nie.
Daarom ry Hy op ’n donkie, op die vul van ’n gewone werksdier.’”

6–9 Die twee dissipels* is toe vooruit. Hulle het alles gedoen wat Jesus gesê het. Later, toe hulle met die donkie en haar vul by Jesus aankom, het hulle met hulle klere ’n saal gemaak waarop Jesus kon sit. Langs die pad het ’n groot skare mense saamgedrom. Toe hulle vir Jesus sien aankom, het hulle van hulle klere op die pad oopgegooi. Ander het blare en takke afgebreek en dit voor Jesus in die pad gestrooi. Hulle het Hom soos ’n koning ontvang. Die skare het hard uitgeroep.
“Welkom, Seun van koning Dawid!

Ons prys* U wat in die Naam van God na ons toe kom!
Laat die hemele weergalm van ons vrolike welkomsgroet!”

10–11 Toe Jesus in Jerusalem ingaan, het mense van oral af soontoe gestroom. Almal wou weet wat aan die gang is. “Wie is hierdie man? het hulle vir mekaar gevra. Toe antwoord die mense wat saam met Jesus stap: “Dit is Jesus. Hy is die boodskapper van God wat uit Nasaret in Galilea kom.”
Die Nuwe Testament vir Kinders deur Stephan Joubert, Jan van der Watt en Hennie Stander, 1999.

Carolyn Brown suggereer die volgende:
The only reason to order the little strips of palms is to use them as Bible bookmarks or to make them into palm crosses. To do the latter follow the directions with photographs at Making Palm Crosses at King of Peace Church .

I heard about one worship leader who walked the whole congregation through making palm crosses of their own during the worship service, projecting the step by step photographs. Worshipers were urged to take their crosses home to post on the refrigerator, a bathroom mirror, or some other visible spot where it can dry during the year. (When I walked my lectionary study group through the same process, they all felt it was way too complicated to attempt during worship. So, try it on your own before you try it with the congregation.)

Riglyne om kruise te vou
Palm Crosses (kingofpeace.org)
Or, save Palm Sunday crosses made today to make ashes for next Ash Wednesday. Next Ash Wednesday burn the crosses then crush them in a small bowl with a pestle and mixed the ashes with a little oil for use at the imposition of ashes. The worship leader who described this suggested that the majority of the ashes be prepared before the service, setting aside a few to be crushed during the service while the significance of ashes made from last Palm Sunday’s palms is explained. It would also be possible to prepare the ashes with an older children’s class during the church school hour to both teach them about the ashes and encourage their attendance on Ash Wednesday. (Warning: ashes mixed with water may form lye which will burn the skin. So, mix ashes with olive or any other kitchen oil.)

Preekriglyn

Dit is vandag Palmsondag. Ons vier vandag Jesus se intog in Jerusalem, waar die skare palmtakke swaai en neergooi en volgens Matteus 21:1-11 uitroep: “Hosanna vir die Seun van Dawid! … Hosanna in die hoogste!” (2020-vertaling).

Die skare gebruik ook Psalm 118:26 as hulle uitgroep: “Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!” (Matt 21:9).

Kom ons oordink ons teks uit Psalm 118 saam. Dit gee ons ryke stof om ons ook vandag oor die lydende Here te verheug.

Aan sy liefde is daar geen einde nie

Psalm 118 vier die wonderlike belofte dat daar aan God se liefde geen einde is nie. Psalm 118 is die laaste Psalm in ‘n hele reeks Psalms, van 110 tot 118, wat gelowiges help om te fokus op God se beloftes. Dit is beloftes soos:

  • die vestiging van die Messias se koninkryk (Ps. 110);
  • dat God se werk groots en betroubaar is vir sy mense (Ps. 111);
  • dat ontsag vir God se gebooie vreugde bring en dat vertroue op Hom die vrees vir slegte tyding verdryf (Ps. 112);
  • dat die lewe betekenisvol raak wanneer die Here geprys word van waar die son opkom tot waar dit ondergaan (Ps. 113);
  • dat hulle jubeling oor die Uittog uit Egipte vir hulle ‘n model gee om nie net te dink aan die nuwe Uittog uit Babel nie, maar ook aan God se belofte van redding uit elke vasgevalde situasie waar hulle hulle mag bevind (Ps. 114);
  • dat hulle mag weet dat God sy eer daarin stel om hulle vertroue op Hom en sy beloftes te beantwoord (Ps. 115);
  • dat hulle die Here mag liefhê, want Hy verhoor hulle smeekgebede (Ps. 116);
  • dat hulle mag weet en vertrou daarop dat God oneindig betroubaar is in sy onmeetlike liefde vir hulle (Ps. 117).

Al hierdie beloftes word nou afgerond met die gedagte dat daar aan God se liefde geen einde is nie, soos Hy dit oor en oor in die geskiedenis bewys het. Daarvan moet Israel getuig. Daarvoor moet Israel God loof.

Vervul in Jesus

Dit is dan ook uit dié hoek wat ons die skare se woorde met die intog in Jerusalem moet hoor as hulle die woorde uit Psalm 118:26 gebruik: “Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!” soos Matteus dit vir ons vertel (Matt. 21:9). Psalm 118:27 maak dan net soveel meer sin: “Begin die fees! Wuif met takke!” Hoewel die fees in Jesus se geval natuurlik geëindig het by sy kruisdood.

Die beloftes van die Here in Psalm 110-118 is dus met die koms van Jesus vervul. So interpreteer die vier evangelieskrywers dit (Mark 11; Matt. 21; Luk. 19; Joh. 12). Selfs die skare in Jerusalem kon dit nie inhou nie en het Hosanna vir die Koning gesing. Ook Jesus was baie bewus daarvan dat sy lewe die boodskap van die Psalms vervul het, soos ons lees in Luk. 24:44: “dat alles vervul moet word wat in die … psalms oor My geskrywe is“.

Inhoud

Psalm 118 kan in twee dele opgedeel word aan die hand van die inhoud.

  • Die eerste deel fokus op gebedsverhoring wat onderstreep dat God goed is, dat aan sy liefde daar geen einde is nie – vers 1-18. Dit is waarskynlik bedoel as ‘n danklied vóór die tempel deur die koning of een of ander leier wat die geloofsgemeenskap se dank verwoord.
  • Die tweede deel fokus op die lofprysing en danksegging wat onderstreep dat die Here lewe skenk, dat aan sy liefde daar geen einde is nie – vers 19-29. Dit is waarskynlik bedoel as ‘n danklied ín die tempel soos ons uit vers 19 aflei: “Maak die tempelpoort vir my oop: ek wil ingaan en die Here loof.

118:1-18 – Die Here het my gebed verhoor
Die Psalm begin met die belydenis dat God goed is, dat aan sy liefde daar geen einde is nie (verse 1-2). Dít is iets wat die volk Israel sowel as sy geestelike leiers uit die huis van Aäron moet inspireer om te getuig. Trouens: Elkeen: “wat die Here dien” – vir Hom ontsag het – moet getuig daarvan dat sy liefde geen einde het nie.

118:19-29 – Aan sy liefde is daar geen einde nie
Daarom is die gebed van die volk: “Maak die tempelpoort vir my oop: ek wil ingaan en die Here loof.” Van dié ervaring van gebedsverhoring moet die wêreld, maar veral ook die geloofsgemeenskap kennis neem.

Die Psalm werk dan heel onverwags met die metafoor van die: “klip wat deur die bouers afgekeur is,” maar: “juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword.” Die Psalmis bedoel daarmee dat hulle eintlik soos die afgekeurde klip was in hulle eie ervaring, en selfs in die oë van hulle vyande.

Deur die Here se ingrype voel hulle nou asof hulle van hulle posisie van vernedering verhoog is tot die mees prominente plek in die tempel van die Here, die belangrikste klip in die gebou.

Die boodskap van die belangrikste klip vind op ‘n besondere manier in die Nuwe Testament weerklank in Paulus (Rom. 9:33; 10:11) en Petrus (1 Pet. 2:6) se onderrig oor Jesus as die fondament, die hoekklip, van die Christelike kerk. Soos Jesus verneder is aan die kruis, is Hy verhoog deur sy hemelvaart. En is Hy nou die hoeksteen, die belangrikste klip in die gebou wat God besig is om te voltooi, die hemelse Jerusalem.

Dit is daarom een van die belangrikste en wonderlikste boodskappe wat die Ou Testament en Nuwe Testament geloofsgemeenskap aan mekaar bind. Wat hulle verwag het, dít is vervul in Jesus en vorm die basis vanwaar af ons as gelowiges leef. Daarom: “Begin die fees! Wuif met die takke!” Alle gelowiges van alle tye vind vreugde in dié werklikheid.

Onthou egter, net ter wille van volledigheid, ook die ander kant, die klip waarteen ‘n mens jou voet stamp, soos Jes. 8:14 op die tafel gesit het (“bedruktheid en benoudheid is sy padkos“!) en ook deur Paulus en Petrus gebruik word.

Boodskap

Die Psalm herinner ons aan die vreugde van gebedsverhoring. Dit onderstreep dat God goed is, dat aan sy liefde daar geen einde is nie, en dat ons van Hom kan verwag dat Hy altyd só sal wees. Die Psalm herinner ons ook aan die voorreg om deur lofprysing en danksegging ‘n getuienis af te lê van wie God ook vir ander kan wees. Aan sy liefde is daar geen einde nie, voorwaar!

Die Psalm herinner ons ook aan die Here Jesus wat volgens die Nuwe Testament die belangrikste klip in die gebou geword het, vir die hele Ou Testamentiese en Nuwe Testamentiese geloofsgemeenskap regdeur die eeue. Hy is van volslae vernedering aan die kruis verhoog tot die hoogste heerlikheid in God se wêreld.

Daarom: “Begin die fees! Wuif met die takke!” Getuig van wat God vir jou gedoen het, en bly in gebed vir dié dinge waar daar nog uitkoms nodig is. Die Psalm het inderdaad ‘n boodskap wat vandag nog ons met vreugde en verwagting vul.

Ek wil die Here prys, sê vers 21. Dit is wat ons vandag doen. God is groot. Daar is geen einde aan sy liefde nie!

God stuur ons om te leef

Gebed

Gebed van oorgawe
Vader,
ek gee myself oor in u hande;
doen met my wat U wil.
Vir wat U ook al met my wil doen, dank ek U;
Ek is gereed vir alles, ek aanvaar alles.
Laat slegs u wil in my geskied,
asook in alles wat U gemaak het.
Ek vra vir niks meer as dit nie, Here.
In u hande gee ek myself oor;
ek bied myself aan U met al die liefde wat daar in my hart is,
want ek het U lief, Here,
en daarom wil ek myself gee,
wil ek my oorgee in u hande,
sonder om iets terug te hou –
met grenslose vertroue,
want U is my Vader.
(Nouwen, HJM 1989. The Road to Daybreak: A spiritual journey. Londen: Darton, Longman & Todd.)

Offergawes

Wegsending: Lied 392 “O Lam van God onskuldig 1”

Seën
Mag die liefde van die Here Jesus ons na Hom toe trek.
Mag die krag van die Here Jesus ons sterk maak in sy diens.
Mag die vreugde van die Here Jesus ons vervul.
Mag die seën van die almagtige God,
Vader, Seun en Heilige Gees,
met ons wees
en vir altyd by ons bly.
of
Seën
Mag die Here Jesus Christus by jou wees om jou te
beskerm;
Binne-in jou wees om jou te verfris;
Rondom jou wees om jou te bewaar;
Voor jou wees om jou te lei;
Agter jou wees om jou te regverdig;
Bo jou wees om jou te seën.
Hy wat saam met die Vader en die Heilige Gees
leef en regeer – God vir ewig en altyd.
William Temple (1881-1994)
(uit: Van der Merwe, J (Red) 2001. Gebedeboek met liturgiese voorstelle. Wellington: Lux Verbi)

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.
of
VONKK 277 – U is die lig wat deur die donker skyn
Teks: Hannes van der Merwe 2014 ©
Melodie: HIGHLAND CATHEDRAL – Uli Rover en Michael Korb
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2014 (Pro Deo)
Musikale verryking 1en 2: Gerrit Jordaan 2014 ©
© Teks, orrelbegeleiding en musikale verrykings: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Church Hymnary Trust, Admin SCM-Canterbury Press Ltd. Met toestemming gebruik.

U is die lig wat deur die donker skyn.
U is die Een wat duister laat verdwyn.
Skyn in ons harte, dryf die donker uit.
Skyn in ons lewens tot in ewigheid.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.

U is oorwinnaar, U’t die dood verslaan.
U het as Koning uit die graf gegaan.
Breek nou die bande, gooi die boeie neer.
Ons is oorwinnaars saam met U, ons Heer.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.

U is die Bruidegom en ons u Bruid.
U nooi ons vir die bruilofsmaaltyd uit.
Daar klink ons lof, daar klink ons danklied uit.
Ons bly by U tot in ewigheid.