Palm-/Passiesondag (6de Sondag in Lydenstyd)

Sections

Oorsig

Hierdie is een moontlike erediensriglyn vir gebruik op Palmsondag bekend staan. Preekriglyne publiseer ook ‘n tweede moontlikheid wat gebaseer is op Lukas 19 en waarvan die inhoud die gebruiklike benadering tot Palmsondag verteenwoordig.

Sleutelteks

Psalm 31:9-16
Vers 8 word in hierdie vertaling as deel van die perikoop geneem.

8Ek wil juig en vreugde vind in u troue liefde – dat U my ellende raakgesien het, bewus was van die benouenis van my lewe, 9my nie oorgelewer het in die hand van die vyand nie, maar my voete op ‘n ruim plek laat staan het. 10Wees my genadig, Here, want ek is benoud; my oë is dik geswel van verdriet, my siel en liggaam, 11ja, my lewe kwyn weg van kommer en my lewensjare met ‘n gesug. My kragte gee mee onder my sondelas, en my ledemate swel op. 12Ek het ‘n bespotting geword oor al my teenstanders, veral by my bure – ja, ‘n verskrikking vir my kennisse. Wie my op straat sien, vlug van my weg. 13Ek is vergete – uit die hart soos iemand wat dood is; ek word soos ‘n gebreekte kleipot. 14Want ek het die kwaadpratery van baie gehoor: “Verskrikking aan alle kante!” Wanneer hulle teen my saamspan, beplan hulle om my lewe te neem. 15Maar ek, op U, Here vertrou ek. Ek sê: “U is my God, 16my tye is in u hand.” Red my uit die hand van my vyande, van hulle wat my agtervolg.

17Laat u aangesig oor u dienskneg skyn; verlos my in u troue liefde. 18Here, laat my nie beskaamd staan nie, want ek roep na U; laat die goddeloses beskaamd staan, laat hulle die doderyk stil binnegaan. 19Laat die bedrieglike lippe swyg, hulle wat uit die hoogte en met minagting onbeskaamd oor die regverdiges praat. 20Hoe groot is u goedheid wat U bewaar vir dié wat vir U ontsag het, wat U voorberei vir dié wat by U skuil, terwyl die mense toekyk. 21U verberg hulle in die beskutting van u teenwoordigheid teen die sameswering van mense; teen twisgierige tonge steek U hulle weg in ‘n skuiling. 22Die Here moet geprys word, want in ‘n beleërde stad het Hy sy troue liefde wonderbaarlik aan my bewys. 23Maar ek, ek het in my angstigheid gedink ek is afgesny, weg uit u gesigsveld. Nogtans het U my smeekgebed gehoor, toe ek na U om hulp geroep het. 24Julle moet die Here liefhê, almal wat aan Hom getrou is. Die Here hou betroubares veilig, maar vergeld, tot die uiterste, dié wat hoogmoedig optree. 25Wees sterk en hou moed, julle almal wat julle hoop op die Here vestig.

Ander tekste

Jesaja 50:4-9a
4Die Here my God het my geleer
om die regte woorde te gebruik
sodat ek dié wat moeg is,
kan moed inpraat.
Elke môre laat Hy my opnuut
weer luister,
Hy laat my luister
soos ’n leerling moet luister.
5Die Here my God het my geleer
om te luister:
ek was nie teen Hom opstandig nie,
ek was nie ontrou aan Hom nie.
6Ek het my rug gehou
vir dié wat my slaan,
my wang vir dié
wat my baard uittrek.
Ek het my gesig nie weggedraai
toe ek bespot en bespoeg is nie.
7Die Here my God help my,
ek sal nie teleurgestel staan nie;
ek sal my nie ontstel nie,
ek weet ek sal nie
in verleentheid kom nie.
8Hy wat my onskuldig sal verklaar,
is naby;
wie wil ’n aanklag teen my inbring?
Laat ons elkeen sy saak stel.
Wie wil my aankla?
Laat hom vorentoe kom.
9Die Here my God help my;
wie sal my dan skuldig verklaar?

Filippense 2:5-11
5Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was:
6Hy wat in die gestalte
van God was,
het sy bestaan op Godgelyke wyse
nie beskou as iets waaraan Hy Hom
moes vasklem nie,
7maar Hy het Homself verneder
deur die gestalte van ’n slaaf
aan te neem
en aan mense gelyk te word.
En toe Hy as mens verskyn het,
8het Hy Homself verder verneder.
Hy was gehoorsaam tot in die dood,
ja, die dood aan die kruis.
9Daarom het God Hom
ook tot die hoogste eer verhef
en Hom die Naam gegee
wat bo elke naam is,
10sodat in die Naam van Jesus
elkeen wat in die hemel
en op die aarde
en onder die aarde is,
die knie sou buig,
11en elke tong sou erken:
“Jesus Christus is Here!”
tot eer van God die Vader.

Lukas 22:14–23:56
14Toe dit tyd was, het Jesus aan tafel gegaan en die apostels saam met Hom. 15Hy sê toe vir hulle: “Ek het baie daarna uitgesien om hierdie paasmaaltyd saam met julle te eet voordat Ek ly. 16Ek sê vir julle: Ek sal dit nie weer eet voordat dit in die koninkryk van God sy volle betekenis gekry het nie.”

17Daarna neem Hy ’n beker, spreek die dankgebed uit en sê: “Neem dit en gee dit vir mekaar aan. 18Ek sê vir julle: Ek sal van nou af nie weer wyn drink voordat die koninkryk van God gekom het nie.”

19Toe neem Hy brood, spreek die dankgebed uit, breek dit en gee dit vir hulle met die woorde: “Dit is my liggaam wat vir julle gegee word. Gebruik dit tot my gedagtenis.”

20Met die beker na die maaltyd het Hy net so gemaak en gesê: “Hierdie beker is die nuwe verbond, beseël deur my bloed, wat vir julle vergiet word.

21“Maar kyk, die hand van die man wat My verraai, is saam met Myne hier op die tafel. 22Met die Seun van die mens sal dit gaan soos dit voorbeskik is, maar wee die man deur wie Hy verraai word!”

23Toe begin hulle mekaar uitvra wie van hulle dit kon wees wat so iets sou doen.

Die ware grootheid
(Vgl Matt 20:24–28; Mark 9:30–37; 10:41–45; Joh 13:4–5, 12–17)
24Daar het onenigheid onder hulle ontstaan oor wie van hulle as die belangrikste beskou moet word. 25Maar Jesus sê vir hulle: “By die nasies is dit so: konings speel oor hulle baas, en dié wat gesag afdwing, laat hulleself weldoeners noem. 26Maar by julle moet dit nie so wees nie. Inteendeel, die belangrikste onder julle moet soos die geringste wees, en die een wat die leier is, soos die een wat dien. 27Wie is die belangrikste: die een wat aan tafel is, of die een wat bedien? Tog hy wat aan tafel is, nie waar nie? Maar Ek is in julle kring soos die een wat dien.

28“Julle is die mense wat in my beproewings altyddeur by My gebly het. 29Net soos my Vader ’n koninkryk aan My bemaak het, so bemaak Ek ’n koninkryk aan julle, 30sodat julle in my koninkryk aan my tafel kan eet en drink en op trone kan sit om oor die twaalf stamme van Israel te regeer.”

Petrus sal Jesus verloën
(Matt 26:31–35; Mark 14:27–31; Joh 13:36–38)
31“Simon, Simon!” het Jesus gesê. “Luister! Die Satan het daarop aangedring om julle soos koring te sif. 32Maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie begewe nie. As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou broers versterk.”

33Petrus sê vir Hom: “Here, ek is bereid om saam met U selfs gevangenskap en dood in te gaan.”
34Maar Hy antwoord: “Petrus, Ek sê vir jou: Die haan sal vannag nie kraai voordat jy My drie maal verloën het deur te sê dat jy My nie ken nie.”

Die stryd kom
35Verder het Jesus vir hulle gesê: “Toe Ek julle uitgestuur het sonder beursie en reissak en skoene, het julle iets kortgekom?”

“Nee, niks nie!” was hulle antwoord.
36Toe sê Hy vir hulle: “Maar nou, wie ’n beursie het, moet dit saamneem, en net so ook ’n reissak. En wie nie ’n swaard het nie, moet van sy klere verkoop en een aanskaf. 37Ek sê vir julle: Die Skrifwoord wat sê: ‘En Hy is as misdadiger beskou,’ moet aan My bewaarheid word, want wat op My betrekking het, gaan nou in vervulling.”

38Hulle sê toe: “Here, kyk hier is twee swaarde.”
“Ons laat dit daarby,” antwoord Hy hulle.
Jesus in Getsemane

(Matt 26:36–46; Mark 14:32–42)
39Jesus het die stad verlaat en volgens gewoonte Olyfberg toe gegaan, en sy dissipels het Hom gevolg. 40Toe Hy op die plek aankom, sê Hy vir hulle: “Bid dat julle nie in versoeking kom nie.”

41Hy het Hom toe van hulle afgesonder omtrent so ver as ’n mens met ’n klip kan gooi. Daar het Hy gekniel en gebid: 42“Vader, as U wil, neem tog hierdie lydensbeker van My af weg. Laat nogtans nie my wil nie maar u wil geskied!”

43’n Engel uit die hemel het aan Hom verskyn en Hom versterk. 44Hy het in doodsangs geraak en het nog ernstiger gebid. Sy sweet het soos bloeddruppels geword wat op die grond val.

45Toe Hy van die gebed opstaan en by die dissipels kom, kry Hy hulle aan die slaap, uitgeput van droefheid. 46Hy sê toe vir hulle: “Waarom slaap julle? Staan op en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie.”

Jesus word gevange geneem
(Matt 26:47–56; Mark 14:43–50; Joh 18:3–11)
47Terwyl Jesus nog praat, kom ’n klomp mense daar aan. Die een wat Judas genoem is, een van die twaalf, het hulle gelei en nader gekom na Jesus toe om Hom te soen. 48Maar Jesus sê vir hom: “Judas, verraai jy die Seun van die mens met ’n soen?”

49Toe dié wat saam met Jesus was, sien wat gaan gebeur, vra hulle: “Here, moet ons hulle met die swaard aanval?”
50Een van hulle slaan toe na die slaaf van die hoëpriester en kap sy regteroor af. 51Maar Jesus sê: “Hou op daarmee!”
Daarna het Hy die oor aangeraak en hom genees.

52Toe sê Jesus vir die priesterhoofde, die offisiere van die tempelwag en die familiehoofde wat teen Hom opgetrek het: “Trek julle met swaarde en stokke uit soos teen ’n rower? 53Dag vir dag was Ek saam met julle in die tempel, en julle het nie ’n hand uitgesteek om My te vang nie. Maar nou dat die tyd vir die duistere magte daar is, het julle julle kans.”

Petrus verloën Jesus
(Matt 26:57–58, 69–75; Mark 14:53–54, 66–72; Joh 18:12–18, 25–27)
54Hulle het Jesus toe gevange geneem en Hom weggelei en in die huis van die hoëpriester gebring. Petrus het op ’n afstand agterna gekom. 55In die middel van die binneplaas was daar ’n vuur, en daar het mense bymekaar gesit. Petrus het tussen hulle gaan sit. 56’n Diensmeisie wat hom in die skynsel van die vuur sien sit het, het hom goed bekyk en gesê: “Dié een was ook saam met daardie man.”

57Maar Petrus het dit ontken deur te sê: “Juffrou, ek ken Hom nie!”
58’n Rukkie later sien iemand anders hom en sê: “Jy is mos ook een van hulle.”
Maar Petrus antwoord: “Man, ek is nie!”
59Na verloop van sowat ’n uur het nog een met beslistheid beweer: “Sowaar, dié een was ook saam met daardie man. Hy is mos ook ’n Galileër!”
60Maar Petrus sê: “Man, ek weet nie waarvan jy praat nie!”

En onmiddellik, terwyl hy nog praat, het daar ’n haan gekraai. 61Die Here het omgedraai en Petrus aangekyk. Toe val dit Petrus by wat die Here vir hom gesê het: “Voordat die haan vannag kraai, sal jy My drie maal verloën.” 62En Petrus het buitentoe gegaan en bitterlik gehuil.

Jesus word bespot
(Matt 26:67–68; Mark 14:65)
63Die manne wat vir Jesus bewaak het, het aangehou om met Hom die spot te dryf en Hom te slaan. 64Hulle het Hom geblinddoek en gesê: “Jy is mos ’n profeet! Sê wie het jou geslaan!”

65En nog baie ander godslasterlike dinge het hulle Hom toegesnou.

Jesus voor die Joodse Raad
(Matt 26:59–66; Mark 14:55–64; Joh 18:19–24)
66Toe dit dag word, het die Raad van die volk—die priesterhoofde en die skrifgeleerdes—vergader en Jesus voor hulle laat bring.
67Hulle sê toe: “As jy die Christus is, sê dit vir ons.”

Maar Hy antwoord hulle: “Al sou Ek dit vir julle sê, sal julle tog nie glo nie; 68en al sou Ek vir julle ’n vraag stel, sal julle ook nie antwoord nie. 69Maar van nou af sal die Seun van die mens aan die regterhand van die almagtige God sit.”
70Toe vra hulle almal: “Dan is jy die Seun van God?”
Hy sê vir hulle: “Dit is soos julle sê: Ek is!”

71Daarop sê hulle: “Waarvoor het ons dan nog getuienis nodig? Ons het dit mos uit sy eie mond gehoor!”

Jesus voor Pilatus
(Matt 27:1–2, 11–14; Mark 15:1–5; Joh 18:28–38)
23 Daarna het die hele vergadering opgestaan en Jesus na Pilatus toe gebring. 2Daar het hulle die aanklag teen Hom begin deur te sê: “Ons het bevind dat hierdie man ons volk ophits: hy belet hulle om aan die keiser belasting te betaal en beweer dat hy die Christus, die koning, is.”
3Pilatus vra Hom toe: “Is jy die koning van die Jode?”

Hy antwoord hom: “Dit is soos u sê.”
4Daarop sê Pilatus vir die priesterhoofde en die skare: “Ek vind geen skuld in hierdie man nie.”

5Maar hulle het sterker aangedring en gesê: “Die hele Joodse land deur stook hy die volk op met sy leer. Hy het van Galilea af begin en tot hier daarmee gekom.”

Jesus voor Herodus
6Toe Pilatus dit hoor, vra hy of die man dan ’n Galileër is. 7Nadat hy te wete gekom het dat Jesus uit die magsgebied van Herodes afkomstig was, het hy Hom na Herodes toe gestuur, wat juis in daardie tyd self in Jerusalem was.

8Herodes was baie bly om Jesus te sien. Omdat hy soveel van Hom gehoor het, het hy al ’n geruime tyd die begeerte gehad om Hom te sien. Hy het ook gehoop om Hom een of ander wonderwerk te sien doen. 9Hy het allerlei vrae aan Hom gestel, maar Jesus het hom niks geantwoord nie. 10Die priesterhoofde en die skrifgeleerdes het Hom heftig gestaan en beskuldig. 11Herodes en sy soldate het Hom toe met veragting behandel. Hy het Hom ’n deftige kleed laat omhang, met Hom die spot gedryf en Hom daarna na Pilatus toe teruggestuur.

12Op daardie dag het Herodes en Pilatus vriende geword. Voorheen was daar kwaaivriendskap tussen hulle.

Pilatus lewer Jesus uit om gekruisig te word
(Matt 27:15–26; Mark 15:6–15; Joh 18:39–19:16)
13Daarna het Pilatus die priesterhoofde, die lede van die Joodse Raad en die volk bymekaar geroep 14en vir hulle gesê: “Julle het hierdie man voor my gebring as ’n opruier van die volk. Nou het ek in julle teenwoordigheid die saak ondersoek, en ek het in hierdie man geen grond gevind vir die aanklag wat julle teen hom inbring nie. 15Herodes het ook nie, want hy het hom na ons toe teruggestuur. Hy het beslis niks gedoen wat die dood verdien nie. 16Ek sal hom dus laat gésel en dan loslaat.” 17
18–19Laat Barabbas vir ons los!”
Barabbas was in die tronk oor ’n opstand in die stad en oor moord.

20Omdat Pilatus vir Jesus wou loslaat, het hy weer met hulle gepraat, 21maar hulle het aanhoudend uitgeroep: “Kruisig, kruisig hom!”

22Die derde keer sê Pilatus vir hulle: “Watter kwaad het die man gedoen? Ek het in hom niks gekry wat die doodstraf regverdig nie. Ek sal hom dus laat gésel en dan loslaat.”

23Hulle het egter met ’n harde geskreeu aangehou om te eis dat Jesus gekruisig moes word, en met hulle geskreeu het hulle die oorhand gekry. 24Pilatus het toe besluit dat aan hulle eis voldoen moes word. 25Die man wat oor opstand en moord in die tronk was, het hy vrygelaat, soos hulle geëis het, maar vir Jesus het hy uitgelewer, soos hulle wou hê.

Jesus word gekruisig
(Matt 27:31–44; Mark 15:21–32; Joh 19:17–27)
26Terwyl hulle Hom weglei, gryp hulle ’n sekere Simon van Sirene, wat toe net van buite die stad af gekom het, en sit die kruis op hom om dit agter Jesus aan te dra.

27’n Groot menigte van die volk het agter Jesus aan geloop, onder wie ook vroue wat oor Hom getreur en gehuil het. 28Maar Jesus het na hulle toe omgedraai en gesê: “Vroue van Jerusalem, moenie oor My huil nie, huil oor julleself en julle kinders, 29want daar kom dae waarin hulle sal sê: ‘Hoe gelukkig is die onvrugbare vroue en dié wat nooit ’n kind in die wêreld gebring het of gevoed het nie.’

30“Dan sal hulle vir die berge sê:
‘Val op ons!’
en vir die heuwels:
‘Bedek ons!’
31As hulle dit met die groen hout doen, wat sal dan met die droë hout gebeur?”
32Daar is ook twee ander, albei misdadigers, weggelei om saam met Jesus tereggestel te word.
33Toe hulle by die plek kom wat Kopbeen genoem word, het hulle Hom daar saam met die misdadigers gekruisig, die een aan sy regter- en die ander een aan sy linkerkant. 34Toe sê Jesus: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!”
Hulle het sy klere verdeel deur te loot.

35Die volk het daar gestaan en kyk. Hulle raadslede het Hom ook uitgelag en gesê: “Ander het hy gered. Laat hy homself red as hy die Christus is wat deur God uitverkies is.”

36Ook die soldate het vorentoe gekom en Hom bespot. Hulle het vir Hom suur wyn aangebied 37en gesê: “As jy die koning van die Jode is, red jouself.”

38Daar was ook ’n opskrif bokant Hom: “Dit is die koning van die Jode.”

39Een van die misdadigers wat daar gehang het, het Hom gelaster deur te sê: “Is jy dan nie die Christus nie? Red jouself en ons ook!”

40Maar die ander een het hom tereggewys en gesê: “Is jy nie bang vir God nie? Jy ondergaan tog dieselfde straf as hierdie man! 41In ons geval is dit regverdig, want ons ontvang die verdiende straf vir ons dade. Maar hierdie man het niks verkeerds gedoen nie.” 42Verder sê hy: “Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.”

43Jesus antwoord hom: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.”

Jesus sterwe
(Matt 27:45–56; Mark 15:33–41; Joh 19:28–30)
44Dit was al omtrent twaalfuur, toe kom daar duisternis oor die hele land, en dit het tot drie-uur geduur; 45die son het opgehou om te skyn. Die voorhangsel in die tempel het middeldeur geskeur. 46Jesus het hard uitgeroep: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor.”

Na hierdie woorde het Hy die laaste asem uitgeblaas.

47Toe die offisier sien wat gebeur het, het hy God geprys en gesê: “Hierdie man was werklik onskuldig.”

48Al die mense wat saamgedrom het om na die skouspel te kyk en gesien het wat daar gebeur het, het verslae huis toe gegaan. 49Maar al Jesus se vriende, ook die vroue wat Hom van Galilea af gevolg het, het op ’n afstand bly staan. Hulle het al hierdie dinge gesien.

Jesus word begrawe
(Matt 27:57–61; Mark 15:42–47; Joh 19:38–42)
50–51Daar was ’n man met die naam Josef, afkomstig van ’n Joodse dorpie Arimatea. Hy was ’n goeie en opregte man en het die koms van die koninkryk van God verwag. Hoewel hy lid van die Joodse Raad was, het hy nie met hulle besluit en optrede saamgestem nie. 52Hierdie man het na Pilatus toe gegaan en die liggaam van Jesus gevra. 53Nadat hy dit van die kruis afgehaal het, het hy dit in linne toegedraai en in ’n rotsgraf neergelê waarin nog nooit tevore iemand begrawe was nie. 54Dit was Vrydag, en die sabbat het al begin aanbreek.

55Die vroue wat saam met Jesus van Galilea af gekom het, het saamgeloop en die graf gesien en gekyk hoe sy liggaam neergelê word. 56Daarna het hulle huis toe gegaan en reukolie en salf reggemaak.

Op die sabbatdag het hulle gerus, soos die gebod bepaal.

Liturgie

Predikers het die keuse om vir hierdie Sondag óf te fokus op die Passie of die Intog. Hierdie Liturgie en Boodskap fokus sterk op Jesus se Passie. Vir die Palmsondag-diens, kyk na die materiaal oor Lukas 19:28-41.

Verduidelik vir die gemeente die viering van Passiesondag as inleiding tot die Groot Lydensweek. Derhalwe is die liturgie ook anders as meeste ander Sondae.

RUS

Toetrede: Lied 173 of Flam 82 of VONKK 100

Votum en seëngroet: [hier kan Palmtakke of lappe geswaai word]

Lofsang: Lied 545 of Flam 171 [bekend]

Dankoffer

Passie I: Lukas 22:14–20
Lied 379 of Flam 274

HOOR

Gebed

Skriflesing: Psalm 31:9-16

Preek

LEEF

Refleksie oor Jesus se lyding – mbv verskillende voorlesers: [of gebruik die litanie gebasseer op die “Stasies van die Kruis” uit ‘n vorige liturgie]

Lukas 22:39-46

VONKK 194 Was Jy Daar vers 1

Lukas 23:13-25

VONKK 194 Was Jy Daar vers 2

Lukas 22:63-71

VONKK 194 Was Jy Daar vers 3

Lukas 23:26-43

VONKK 194 Was Jy Daar vers 4

Lukas 23:44-48

VONKK 194 Was Jy Daar vers 5 

Stil gebed

Geloofsbelydenis: (ahv Filippense 2)

Slotsang: Psalm 31 of Flam 91

Seën

Respons: Lied 173 of Flam 91 Refrein  of VONKK 100 refrein

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 173 Heilig, heilig, heilig of
Flam 82 Hosanna of
VONKK 100 By Die Intog In Jerusalem (kanon)

Votum en seëngroet
[hier kan Palmtakke of lappe geswaai word, om die verband te trek met Palmsondag]
Voorganger: Loof Hom wat in die naam van die Here kom!
Gemeente: Hosanna vir die Seun van Dawid!

Voorganger: Mag die Here met julle wees.
Gemeente: En ook met jou.

Voorganger: Here, God van ons verlossing,
verleen in genade aan ons u bystand
terwyl ons naderkom om u groot dade te oordink,
die groot dade waarmee U vir ons
die ewige lewe bewerk het;
deur u Seun, Jesus Christus, ons Here.
Gemeente: Amen.

Lofsang
Lied 545 Jesus kom na Jerusalem toe of
Flam 171 Hosanna In Die Hoogste [bekend]

Dankoffer

Passie I
Liturg gaan staan by Nagmaalstafel en lees Lukas 22:14–20

14Toe dit tyd was, het Jesus aan tafel gegaan en die apostels saam met Hom. 15Hy sê toe vir hulle: “Ek het baie daarna uitgesien om hierdie paasmaaltyd saam met julle te eet voordat Ek ly. 16Ek sê vir julle: Ek sal dit nie weer eet voordat dit in die koninkryk van God sy volle betekenis gekry het nie.”
17Daarna neem Hy ’n beker, spreek die dankgebed uit en sê: “Neem dit en gee dit vir mekaar aan. 18Ek sê vir julle: Ek sal van nou af nie weer wyn drink voordat die koninkryk van God gekom het nie.”
19Toe neem Hy brood, spreek die dankgebed uit, breek dit en gee dit vir hulle met die woorde: “Dit is my liggaam wat vir julle gegee word. Gebruik dit tot my gedagtenis.”
20Met die beker na die maaltyd het Hy net so gemaak en gesê: “Hierdie beker is die nuwe verbond, beseël deur my bloed, wat vir julle vergiet word.

Lied 379 “Jesus Christus, Lam van God” of
Flam 274 Vrygemaak

Liedere

F82. “Hosanna”
(RUBRIEK: Flammikidz – Lof / Lydenstyd)
Teks en musiek: Jan de Wet
© 2002 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Jan de Wet en die lofkleuters, loflied 2)

1. Hosanna! Hosanna! Jesus kom verby.
Hy ry op ’n donkie
die mense is so bly.
Hosanna! Hosanna!
Hoor hul juig en skree.
Hul dink Hy is die koning wat die vrede gee.

2. Hosanna! Hosanna! Jesus kom verby
Hy ry op ’n donkie
die mense is so bly.
Hosanna! Hosanna!
Almal is so bly.Maar wie het ooit gedink dat Hy moes sterf vir my.

F171. “Hosanna In Die Hoogste”
(RUBRIEK: Gemeentesang – Lof)
Oorspronklike titel: Hosanna in the highest
Teks en musiek: Carl Tuttle
Afrikaanse vertaling: Jan de Wet
© Mercy Publishing / Universal Songs

1. Hosanna (x3)
in die hoogste.
Hosanna (x3)
in die hoogste.
Ons verheerlik u Naam
soos ons nou voor U staan.
U’s verhewe, o Here God.
Hosanna in die hoogste!

2. Loof Hom (x2)
loof die Koning en Heer.
Loof Hom (x2)
bring aan Hom die lof en eer.
Heer, ons bring U die eer,
U, ons Koning en Heer.
Word verheerlik, o Here God.
Hosanna in die hoogste!

F274. “Vrygemaak”
(RUBRIEK: Flam – Geloof en Vertroue)
Teks en musiek: Tradisioneel
Verwerking (Teks en musiek): Cornel Driessen
© 2001 Urial Publishing

In u hande gee ek my lewe oor
want Here troue God,
U’t my vrygemaak (herhaal x4)
U’t my vrygemaak (herhaal x3)
U maak my vry.

F91. “U Genade Vir My Is Genoeg”
(RUBRIEK: Flam – Dankbaarheid / Lydenstyd / Opstanding)
Oorspronklike titel: Uw genade is mij genoeg
Teks en musiek: Marcel Zimmer
Afrikaanse vertaling: 2005 Faani Engelbrecht
© 1998 Celmar Music

1. Sien hoe Jesus daar loop in Jerusalem,
met ’n kruis op sy rug en ’n doringkroon.
Hoor die menigte skreeu en roep: “Kruisig Hom!” –
so betaal Hy die sondeloon.

2. Sien die Lam aan die kruis daar op Golgota:
God wat mens word en ly, die vernedering.
Sien die liefde vir ons in sy oë staan,
toe Hy roep: “Dit is volbring!”

Refrein:
Ja, ek dank U vir u genade, o Heer,
U het die kruis gedra.
U bewys u genade aan my telkens weer
en dis meer as wat ek kan vra.

3. In die ryk van die dood het Hy neergedaal.
Ja, uit liefde vir ons wat ons nie verstaan.
Maar die steen van die graf is nou weggehaal –
Jesus leef, Hy het opgestaan!

Refrein:

4. En nou kom ek tot U met vrymoedigheid;
met ontsag en respek, kniel ek voor U neer.
U is Koning en God tot in ewigheid
U is Jesus die hoogste Heer.

Refrein:

U genade’s vir my genoeg!
U genade’s vir my genoeg!

VONKK 100 “By Die Intog In Jerusalem  (kanon)”
Teks: Wilma Viljoen 1988; gewysig VONKK Werkgroep 2010
Melodie: BARTEL-ANSIE – Wilma Viljoen 1988
Ostinati: Gerrit Jordaan 2010
© 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Kinderlied – Lydenstyd (Palmsondag) / Kindwees

1. By die intog in Jerusalem het kinders bly gesing
en laag gebuig voor Hom, die Heer, hul lof aan Hom gebring.
Hosanna! Hosanna! Hosanna! Jesus kom!
Hosanna! Hosanna! Die Hemelkoning kom!

2. By die intog in Jerusalem het almal saam gesing,
met palmtakke Hom vereer, hul lof aan Hom gebring.
Hosanna! Hosanna! Hosanna! Jesus kom!
Hosanna! Hosanna! Die Hemelkoning kom!

VONKK 194 “Was Jy Daar”
Teks: Were you there when they crucified my Lord? – tradisioneel Afro-Amerikaans; Afrikaanse teks: Jacques Louw 2011 ©
Melodie: WERE YOU THERE  – tradisioneel Afro-Amerikaans
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2012 (Pro Deo)
Kantoryverwerking: Albert Troskie 2012 (Pro Deo)
© Teks, orrelbegeleiding en kantoryverwerking: 2012 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit
RUBRIEK: Multikultureel – Lydenstyd en Goeie Vrydag

1. Was jy daar toe die Heer gekruisig is?
Was jy daar toe Hy wreed mishandel is?
Daar aan die kruis het Hy betaal vir al ons sonde, al ons sonde.
Was jy daar toe die Heer gekruisig is?

2. Kan jy sien hoe Hy daar vir jou moes ly –
al die haat waardeur Hy geduldig bly?
Daar aan die kruis het Hy betaal vir al ons sonde, al ons sonde.
Kan jy sien hoe Hy daar vir jou moes ly?

3. Sien jy raak wat Hy als vir jou verduur –
al die pyn, al die spot, sy donker uur?
Daar aan die kruis het Hy betaal vir al ons sonde, al ons sonde.
Sien jy raak wat Hy als vir jou verduur?

4. Kan jy sien hoe Hy worstel met die dood?
Kan jy hoor hoe Hy roep in al sy nood?
Daar aan die kruis het Hy betaal vir al ons sonde, al ons sonde.
Kan jy sien hoe Hy worstel met die dood?

5. Weet jy nou waarom hang Hy aan ‘n kruis?
Weet jy nou waarom Hy so swaar moes ly?
Daar aan die kruis het Hy betaal vir al ons sonde, al ons sonde.
Weet jy nou Hy’t dit als vir jóú volbring?

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Psalm 31:9-16

Preek

Familie-oomblik

BybelMedia se Woord en Fees sluit aan by Pamsondag:
Die Kindermoment vir Palmsondag – die ander riglyn vir vandag – stel voor dat dit ‘n geleentheid is om die intog in Jerusalem en die verwelkoming van Jesus tuis te bring deur ons eie optog te hou. Die kinders kan met palmtakke in of om die kerkgebou loop en dit voor in die kerk kom neerlê. Soos Jesus in Jerusalem verwelkom is, so verwelkom ons vandag die teenwoordigheid van die drie-enige God in ons midde. Vou ook kruisies uit palmtakke en deel dit uit. Verduidelik dat hierdie teken ons herinner dat ons die Here altyd prys in die lig van die kruisgebeure.

OF

Met die fokus op Passiesondag kan jy mense van alle ouderdomme deurlopend deur die liturgie betrek. Kinders geniet veral ‘n prosessie aan die begin, of om palmtakke of lappe (wat veiliger is as takke) te swaai. Laat verskillende mense verskillende van die voorlesings doen.

Carolyn Brown stel voor dat deelnemers die tonele lees en voordra. Kyk hier vir haar voorstel.

Jy kan die storie van Jesus se lyding met behulp van ‘n storiewiel vertel. Kinders kan dan hul eie storiewiele maak en die verloop op hul eie storiewiele volg. Hier is ‘n gratis een.

Help almal om papier kruise te maak. Kyk hier om om dit met een stuk papier te maak, of op hierdie manier met twee stukkies papier.

Jy kan ook die verhaal van Jesus se kruisiging vertel m.b.v. ‘n vel papier (en ‘n skêr).

Klein handjies wat moet besig wees om te kan stilsit, sal hou van ‘n inkleurprent.

Preekriglyn

Hierdie Psalm leer ons aan God vashou ten spyte van omstandighede. Ons leer vashou weens alles wat ons van God weet. Saam met die Psalmdigter vertrou ons dat God alles vir ons in vervulling sal bring, soos belowe.

My toekoms is in u hande

Dit is baie belangrik om in hierdie Psalm te sien dat die Psalmis, Dawid, aan God vashou ten spyte van sy ellende, die lewensbedreiging, die vyande, sy nood, sy verdriet, sy kommer, sy swaarkry, en sy uitgeteerde liggaam (vers 8-13). Hy voel “soos iemand wat lankal dood is”, hy’t “geword soos ‘n ding wat lê en vergaan” (vers 13) … “Maar ek vertrou op U, Here” … “ek sê, U is my God” (vers 15).

Vertroue kom dus meer tot sy reg in die smeltkroes van die lewe. Vertroue wys sy ware karakter in swaar tye. En Dawid kan dit doen, omdat hy glo: “My tye is in u hand” (vers 16). Hierdie sin kan ook vertaal word met “My toekoms is in u hand“.

Terwyl hy pleit dat hy uit die hande van sy vyande en vervolgers gered word, en hy pleit dat God hom sal red deur sy onfeilbare liefde, en hy smeek dat die Here hom nie teleurgestel sal laat staan in sy verwagting nie, neem hy nie God se rol oor deur in die uitkoms te glo nie, maar net in God.

Waaraan hy vashou, is alles wat hy weet van God – sy getrouheid (vers 5, 21), sy getroue en onfeilbare liefde (vers 7, 16), dat Hy raaksien (vers 7), dat Hy ‘n veilige staanplek gee (vers 8), sy goedheid (vers 19) en sy guns en beskerming (vers 24). Hoe hy vashou, is om te vertrou, sterk te wees, moed te hou.

Dat die Here wel die uitkoms voorsien het, wat Dawid gevra het, is wonderlik: “U het geluister na my gesmeek toe ek na U om hulp geroep het” (vers 23). Daarom vorm dit deel van sy appèl aan die geloofsgemeenskap, om sterk te wees, moed te hou en die Here te vertrou: “Die Here beskerm dié wat aan Hom getrou is …” (vers 24).

Verruim deur Jesus

Uit ‘n Nuwe Testamentiese hoek word die Psalm se boodskap egter verruim, deurdat Jesus aan die kruis die woorde in vers 6: “In u hande gee ek my lewe oor” aan die kruis gebruik het: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor” (Luk 23:46). Waar Dawid gevra het vir redding uit die dood, het Jesus gevra vir redding in die dood (Craigie)! Daarmee wys Jesus dat die uitkoms (tye/toekoms) van ‘n mens se lewe regtig in God se hande lê, (vers 16) en dat dit selfs die dood kan insluit.

Dit is baie keer ons probleem in ons geloofslewe. Ons fikseer op die uitkoms, die redding self, boonop soos onsself dit definieer, en verbind dan ons geloof aan die regte uitkoms, in plaas daarvan om ons geloof aan God te verbind, op Hom te vertrou. En dit stuur net op rampspoed af in terme van ons geloofslewe.

Jesus wys vir ons dat ons ernstig en volhardend vir uitkoms kan bid, soos ‘n Dawid van ouds, maar altyd die spesifieke uitkoms in die Here se hande moet laat. Dit sal voorkom dat ons geloof wankel of ten minste ongeloofwaardig voorkom, as die uitkoms nie is wat ons verklaar het dat dit sal wees nie. En kan ons die uitkoms, hoe dit ook al is, met blydskap uit die hand van die Here ontvang.

Skyn oor ons

Dawid sluit die Psalm vanaf vers 17 af deur die Here te vra dat sy aangesig oor sy diensknegte sal bly skyn. Dat Hy hulle sal bly verlos in sy troue liefde. Hy bely in vers 24: “Die Here hou betroubares veilig, maar vergeld, tot die uiterste, dié wat hoogmoedig optree.” Daarom kan Dawid ons almal oproep in vers 25: “Wees sterk en hou moed, julle almal wat julle hoop op die Here vestig.

Moderne krisisse

Die Psalm klink of dit gister geskryf is. Al het eeue verloop sedert Dawid worstel gelowiges steeds met krisisse.

Dink maar aan lewenskrisisse wat te doen het met nood en pyn wat deur menslike “vyande” en “vervolgers” veroorsaak word. Korrupsie en diefstal van staatsbronne is ‘n voorbeeld. Die ekonomie (en dus die inkomste van baie) steier onder die kragkrisis weens die stroping van Eskom. Watervoorsiening en riolering skep ernstige krisisse. Dink maar verder aan plaasmoorde, stadsmoorde, huisbrake, geweld teen vroue en kinders, en geweld teen homoseksuele persone.

Dawid se woorde “terwyl hulle saam raad hou teen my; hulle is van plan om my lewe te neem” (v 15), pas dikwels ook op ons lippe.

Nog ‘n moderne krisis is Covid-19. Dink net aan die astronomiese psigologiese, sosiale, ekonomiese en religieuse impak op gesinne, families, vriende en gemeentes. Dawid klag dat sy lewenskrisis nie eenmalig en van korte duur is nie: “My lewe kwyn weg van kommer en my jare van gesug” (v 11).

Dawid fokus ons geloof op die vorming van hoop, vertroue, sterk wees en moed skep. Die gebed van hierdie psalm help ons om te beweeg van disoriëntasie na heroriëntasie.

Gebede van Jesus

Ons het hierbo verwys na Jesus se gebruik van hierdie Psalm.

Teoloog PD Miller skryf:
What happens, therefore, as we read the Psalms with the New Testament is that they interact with one another, they talk to one another. The Psalms draw us to Jesus, make us think of him; they gain their specificity, their reality for us, their concreteness, in the revelation of Jesus. But it is the case, also, that that interaction works the other way, and our thinking and interpretation and our preaching about Jesus of Nazareth needs to be conversation with the Psalms, for the Psalms provide some of the fundamental content for what the reality of Jesus is as salvation, light, hope, deliverance, shepherd.

Jesus het die Psalms geken en gebid. Die Psalms leer ons bid. Bid as volgelinge van die Gekruisigde en Opgestane Here. Hy het die vyande en die vyand, die dood, oorwin. Daarom hou ons aan God vas ten spyte van ons omstandighede. In Jesus leer ons ons kán vashou, want óns word in die eerste plek vasgehou.

God stuur ons om te leef

Refleksie oor Jesus se lyding – mbv verskillende voorlesers
[of gebruik die litanie gebasseer op die “Stasies van die Kruis” uit ‘n vorige liturgie]

Lukas 22:39-46
39Jesus het die stad verlaat en volgens gewoonte Olyfberg toe gegaan, en sy dissipels het Hom gevolg. 40Toe Hy op die plek aankom, sê Hy vir hulle: “Bid dat julle nie in versoeking kom nie.”

41Hy het Hom toe van hulle afgesonder omtrent so ver as ’n mens met ’n klip kan gooi. Daar het Hy gekniel en gebid: 42“Vader, as U wil, neem tog hierdie lydensbeker van My af weg. Laat nogtans nie my wil nie maar u wil geskied!”

43’n Engel uit die hemel het aan Hom verskyn en Hom versterk. 44Hy het in doodsangs geraak en het nog ernstiger gebid. Sy sweet het soos bloeddruppels geword wat op die grond val.

45Toe Hy van die gebed opstaan en by die dissipels kom, kry Hy hulle aan die slaap, uitgeput van droefheid. 46Hy sê toe vir hulle: “Waarom slaap julle? Staan op en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie.”

VONKK 194 Was Jy Daar vers 1
Was jy daar toe die Heer gekruisig is?
Was jy daar toe Hy wreed mishandel is?
Daar aan die kruis het Hy betaal vir al ons sonde, al ons sonde.
Was jy daar toe die Heer gekruisig is?

Lukas 23:13-25
13Daarna het Pilatus die priesterhoofde, die lede van die Joodse Raad en die volk bymekaar geroep 14en vir hulle gesê: “Julle het hierdie man voor my gebring as ’n opruier van die volk. Nou het ek in julle teenwoordigheid die saak ondersoek, en ek het in hierdie man geen grond gevind vir die aanklag wat julle teen hom inbring nie. 15Herodes het ook nie, want hy het hom na ons toe teruggestuur. Hy het beslis niks gedoen wat die dood verdien nie. 16Ek sal hom dus laat gésel en dan loslaat.” 17

18–19Laat Barabbas vir ons los!”

Barabbas was in die tronk oor ’n opstand in die stad en oor moord.

20Omdat Pilatus vir Jesus wou loslaat, het hy weer met hulle gepraat, 21maar hulle het aanhoudend uitgeroep: “Kruisig, kruisig hom!”

22Die derde keer sê Pilatus vir hulle: “Watter kwaad het die man gedoen? Ek het in hom niks gekry wat die doodstraf regverdig nie. Ek sal hom dus laat gésel en dan loslaat.”

23Hulle het egter met ’n harde geskreeu aangehou om te eis dat Jesus gekruisig moes word, en met hulle geskreeu het hulle die oorhand gekry. 24Pilatus het toe besluit dat aan hulle eis voldoen moes word. 25Die man wat oor opstand en moord in die tronk was, het hy vrygelaat, soos hulle geëis het, maar vir Jesus het hy uitgelewer, soos hulle wou hê.

VONKK 194 Was Jy Daar vers 2
Kan jy sien hoe Hy daar vir jou moes ly –
al die haat waardeur Hy geduldig bly?
Daar aan die kruis het Hy betaal vir al ons sonde, al ons sonde.
Kan jy sien hoe Hy daar vir jou moes ly?

Lukas 22:63-71
63Die manne wat vir Jesus bewaak het, het aangehou om met Hom die spot te dryf en Hom te slaan. 64Hulle het Hom geblinddoek en gesê: “Jy is mos ’n profeet! Sê wie het jou geslaan!”

65En nog baie ander godslasterlike dinge het hulle Hom toegesnou.

66Toe dit dag word, het die Raad van die volk—die priesterhoofde en die skrifgeleerdes—vergader en Jesus voor hulle laat bring.

67Hulle sê toe: “As jy die Christus is, sê dit vir ons.”

Maar Hy antwoord hulle: “Al sou Ek dit vir julle sê, sal julle tog nie glo nie; 68en al sou Ek vir julle ’n vraag stel, sal julle ook nie antwoord nie. 69Maar van nou af sal die Seun van die mens aan die regterhand van die almagtige God sit.”

70Toe vra hulle almal: “Dan is jy die Seun van God?”

Hy sê vir hulle: “Dit is soos julle sê: Ek is!”

71Daarop sê hulle: “Waarvoor het ons dan nog getuienis nodig? Ons het dit mos uit sy eie mond gehoor!”

VONKK 194 Was Jy Daar vers 3
Sien jy raak wat Hy als vir jou verduur –
al die pyn, al die spot, sy donker uur?
Daar aan die kruis het Hy betaal vir al ons sonde, al ons sonde.
Sien jy raak wat Hy als vir jou verduur?

Lukas 23:26-43
26Terwyl hulle Hom weglei, gryp hulle ’n sekere Simon van Sirene, wat toe net van buite die stad af gekom het, en sit die kruis op hom om dit agter Jesus aan te dra.

27’n Groot menigte van die volk het agter Jesus aan geloop, onder wie ook vroue wat oor Hom getreur en gehuil het. 28Maar Jesus het na hulle toe omgedraai en gesê: “Vroue van Jerusalem, moenie oor My huil nie, huil oor julleself en julle kinders, 29want daar kom dae waarin hulle sal sê: ‘Hoe gelukkig is die onvrugbare vroue en dié wat nooit ’n kind in die wêreld gebring het of gevoed het nie.’

30“Dan sal hulle vir die berge sê:
‘Val op ons!’
en vir die heuwels:
‘Bedek ons!’

31As hulle dit met die groen hout doen, wat sal dan met die droë hout gebeur?”

32Daar is ook twee ander, albei misdadigers, weggelei om saam met Jesus tereggestel te word.

33Toe hulle by die plek kom wat Kopbeen genoem word, het hulle Hom daar saam met die misdadigers gekruisig, die een aan sy regter- en die ander een aan sy linkerkant. 34Toe sê Jesus: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!”
Hulle het sy klere verdeel deur te loot.

35Die volk het daar gestaan en kyk. Hulle raadslede het Hom ook uitgelag en gesê: “Ander het hy gered. Laat hy homself red as hy die Christus is wat deur God uitverkies is.”

36Ook die soldate het vorentoe gekom en Hom bespot. Hulle het vir Hom suur wyn aangebied 37en gesê: “As jy die koning van die Jode is, red jouself.”

38Daar was ook ’n opskrif bokant Hom: “Dit is die koning van die Jode.”

39Een van die misdadigers wat daar gehang het, het Hom gelaster deur te sê: “Is jy dan nie die Christus nie? Red jouself en ons ook!”

40Maar die ander een het hom tereggewys en gesê: “Is jy nie bang vir God nie? Jy ondergaan tog dieselfde straf as hierdie man! 41In ons geval is dit regverdig, want ons ontvang die verdiende straf vir ons dade. Maar hierdie man het niks verkeerds gedoen nie.” 42Verder sê hy: “Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.”

43Jesus antwoord hom: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.”

VONKK 194 Was Jy Daar vers 4
Kan jy sien hoe Hy worstel met die dood?
Kan jy hoor hoe Hy roep in al sy nood?
Daar aan die kruis het Hy betaal vir al ons sonde, al ons sonde.
Kan jy sien hoe Hy worstel met die dood?

Lukas 23:44-48
44Dit was al omtrent twaalfuur, toe kom daar duisternis oor die hele land, en dit het tot drie-uur geduur; 45die son het opgehou om te skyn. Die voorhangsel in die tempel het middeldeur geskeur. 46Jesus het hard uitgeroep: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor.”

Na hierdie woorde het Hy die laaste asem uitgeblaas.

47Toe die offisier sien wat gebeur het, het hy God geprys en gesê: “Hierdie man was werklik onskuldig.”

48Al die mense wat saamgedrom het om na die skouspel te kyk en gesien het wat daar gebeur het, het verslae huis toe gegaan. 49Maar al Jesus se vriende, ook die vroue wat Hom van Galilea af gevolg het, het op ’n afstand bly staan. Hulle het al hierdie dinge gesien.

VONKK 194 Was Jy Daar vers 5
Weet jy nou waarom hang Hy aan ‘n kruis?
Weet jy nou waarom Hy so swaar moes ly?
Daar aan die kruis het Hy betaal vir al ons sonde, al ons sonde.
Weet jy nou Hy’t dit als vir jóú volbring?

Stil gebed

Geloofsbelydenis: (ahv Filippense 2)
V: Ek glo in Jesus Christus
G: die eniggebore Seun van God die Vader…

V: Hy wat in die gestalte van God was, maar Homself verneder het deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word
G: wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is.

V: Hy het Homself verneder en was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.
G: Hy het op die derde dag weer opgestaan uit die dood, opgevaar na die hemel en Hy sit aan die regterhand van God die almagtige Vader.

V: God het Hom tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is.
G: In die Naam van Jesus sal elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie buig, en elke tong sal erken: Jesus Christus is die Here!

V: Tot eer van God die Vader.

Slotsang
Psalm 31 of
Flam 91 U Genade Vir My Is Genoeg

Seën
Voorganger: Die genade van ons Here Jesus Christus sal by julle wees.
Gemeente: Amen

Voorganger: Die genade van ons Here Jesus Christus sal by julle wees.
Gemeente: Amen

Respons
Lied 173
of
Flam 91 Refrein:
U genade’s vir my genoeg!
U genade’s vir my genoeg!
of
VONKK 100 refrein:
Hosanna! Hosanna! Hosanna! Jesus kom!
Hosanna! Hosanna! Die Hemelkoning kom!

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.