Paassondag

Sections

Oorsig

Die Paassondagfeesdiens is nie net die klimaks van die Triduum nie, maar ook die hele Christelike jaar. Dit is die dag wat ons hoop vier: die een aspek wat ons net in egtheid kan vind in Jesus se opstanding en oorwinning van die dood wat ons hele uitkyk op die lewe verander.

Saam met die viering van die opstanding, kan sakramente, soos die doop – ons bevestiging dat ons saam met Jesus doodgegaan het en lewe – en rituele, soos die belydenisaflegging – wat ons reaksie is op hierdie hoop wat God vir ons gee – ’n baie belangrike visuele rol speel. In die vroeë kerk was Paassondag ook die dag wat nuwe Christene gedoop is juis om hierdie opstanding saam met Christus visueel voor te stel.

Baie geloofsgemeenskappe begin ook hulle Paassondag tussen grafte met ’n sonsopkomdiens en die voorlees van die verhaal van die vroue wat Jesus se leë graf vind.

Paassondag se kleure is oorheersend wit en goud en verder kan lewendige plante ook gebruik word om die nuwe lewe uit te beeld. Daar hang nou ’n wit en/of goue doek oor die kruis en die nagmaaltafel het weer ’n wit tafeldoek oor.

Die teksgedeelte word weer met akteurs uitgebeeld soos die ander Triduum-dienste, maar hierdie keer is dit ’n lewendige, bewegende uitbeelding – hulle voer die storie op soos die voorganger dit lees. Gemeentelede kan hiervoor gebruik word. Bou vir hierdie uitbeelding ’n “graf” aan die een kant van die liturgiese ruimte – omring deur lewendige plante en met doeke wat binne-in lê. Daar kan selfs ’n lig op die doeke skyn om dit meer sigbaar te maak.

Ander tekste

Handelinge 10:34-43
Petrus se toespraak by Kornelius
34Toe het Petrus aan die woord gekom en gesê: “Waarlik, ek begryp nou eers dat God nie onderskeid maak nie, 35maar in enige volk die mense aanneem wat Hom vereer en doen wat reg is. 36Julle weet dat God aan Israel sy woord gestuur het, naamlik die evangelie van vrede wat Jesus Christus gebring het. Hierdie Jesus is Here van almal. 37Julle weet ook van die gebeurtenisse dwarsdeur die hele Joodse land. Dit het in Galilea begin ná die doop wat Johannes verkondig het. 38Julle weet van Jesus van Nasaret, dat God Hom met die Heilige Gees gesalf en met krag toegerus het. Hy het rondgegaan, oral goeie werke gedoen en almal gesond gemaak wat in die mag van die duiwel was, want God was by Hom.

39“En ons is getuies van alles wat Hy in die Joodse land en in Jerusalem gedoen het. Hulle het Hom doodgemaak deur Hom aan die kruis te hang. 40Maar God het Hom op die derde dag uit die dood opgewek en Hom laat verskyn, 41nie aan die hele volk nie, maar net aan ons vir wie God reeds gekies het om getuies daarvan te wees, ons wat ná sy opstanding uit die dood saam met Hom geëet en gedrink het. 42Hy het ons opdrag gegee om aan die volk te verkondig en te bevestig dat dit Hy is wat deur God aangestel is as Regter oor lewendes en dooies. 43Van Hom getuig al die profete dat elkeen wat in Hom glo, vergewing van sondes deur sy Naam ontvang.”

Jesaja 25:6-9
God berei ’n feesmaal vir die volke
6Op hierdie berg gaan die Here die
Almagtige ’n feesmaal gereed maak vir al
die volke,
’n feesmaal met die beste
om te eet en te drink,
goeie kos en geurige wyn.
7Op hierdie berg sal Hy
die doek verwyder,
die doek wat oor al die volke gegooi was,
waarmee al die nasies toegemaak was.
8Hier sal die Here God
die dood vir ewig vernietig,
en die trane op almal se gesigte afvee.
Oor die hele aarde sal Hy
die smaad verwyder
wat sy volk aangedoen is.
Die Here het dit gesê.
9Wanneer dit gebeur, sal elkeen sê:
Kyk daar, dit is ons God,
ons het op Hom vertrou,
Hy het ons gered.
Dit is die Here!
Ons het op Hom vertrou.
Laat ons bly wees en juig
omdat Hy ons gered het.

1 Korintiërs 15:1-11
Die opstanding van Christus
15 Ek herinner julle, broers, aan die evangelie wat ek aan julle verkondig het en wat julle ontvang het en waarin julle ook gevestig staan. 2Deur dié evangelie word julle ook gered as julle vashou aan die boodskap soos ek dit aan julle verkondig het. As julle aan iets anders vashou, het julle tevergeefs tot geloof gekom.

3Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het en wat ek ook ontvang het, is dit: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte; 4Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte. 5Hy het aan Sefas verskyn, daarna aan die twaalf, 6en daarna aan meer as vyf honderd broers tegelyk, van wie sommige al dood is maar die meeste nou nog lewe. 7Daarna het Hy aan Jakobus verskyn en toe aan al die apostels. 8Heel laaste het Hy ook aan my, die ontydig geborene, verskyn.

9Ek is immers die geringste van die apostels en is nie werd om ’n apostel genoem te word nie, omdat ek die kerk van God vervolg het. 10Maar deur die genade van God is ek wat ek is. Sy genade aan my was nie tevergeefs nie; inteendeel, ek het harder gewerk as hulle almal; eintlik was dit nie ek nie, maar die genade van God wat by my is.
11In elk geval, of dit ek is of hulle—dit is wat ons verkondig, en dit is wat julle geglo het.

Markus 16:1-8
Jesus het opgestaan
(Matt 28:1–8; Luk 24:1–12; Joh 20:1–10)
16 Toe die sabbatdag verby was, het Maria Magdalena en Maria die ma van Jakobus, en Salome reukolie gekoop om die liggaam daarmee te gaan balsem.

2Die Sondagmôre baie vroeg kom hulle by die graf aan net toe die son opkom. 3Hulle vra toe vir mekaar: “Wie sal vir ons die klip voor die ingang van die graf wegrol?”

4Die klip was baie groot, maar toe hulle opkyk, sien hulle dat dit klaar weggerol is. 5Toe hulle in die graf ingaan, sien hulle ’n jongman aan die regterkant sit met lang wit klere aan, en hulle het groot geskrik.

6“Moenie skrik nie!” sê hy vir hulle. “Julle soek Jesus van Nasaret, wat gekruisig is. Hy is uit die dood opgewek. Hy is nie hier nie. Kyk, daar is die plek waar hulle Hom neergelê het. 7Maar gaan sê vir sy dissipels en in die besonder vir Petrus: Hy gaan julle vooruit na Galilea toe. Daar sal julle Hom sien soos Hy vir julle gesê het.”

8Hulle het uit die graf uitgegaan en weggehardloop terwyl hulle gebewe het van die skrik. Hulle het vir niemand anders iets daarvan gesê nie, want hulle was bang.

Fokusteks

Johannes 20:1-18
Die leë graf
(Matt 28:1–8; Mark 16:1–8; Luk 24:1–12)

20 Die Sondagmôre vroeg, toe dit nog donker was, kom Maria Magdalena by die graf en sien dat die klip van die graf af weggerol is. 2Sy hardloop toe en gaan na Simon Petrus en na die ander dissipel toe vir wie Jesus baie lief was, en sê vir hulle: “Hulle het die Here uit die graf weggevat, en ons weet nie waar hulle Hom nou begrawe het nie.”

3Petrus en die ander dissipel het toe uitgekom en na die graf toe gegaan. 4Die twee het saam begin hardloop, maar die ander dissipel het vinniger as Petrus gehardloop en eerste by die graf gekom. 5Toe hy vooroor buk, sien hy die doeke lê, maar hy het nie ingegaan nie. 6Ná hom het Simon Petrus ook daar aangekom, en hy het in die graf ingegaan. Hy sien toe die doeke daar lê, 7ook die doek wat om Jesus se kop was. Dié doek het nie by die ander doeke gelê nie, maar was eenkant afsonderlik opgerol. 8Daarna het die ander dissipel, wat eerste by die graf gekom het, ook ingegaan, en hy het dit ook gesien en geglo.
9Hulle het nog nie die Skrif verstaan dat Jesus uit die dood moet opstaan nie.
10Daarna het die dissipels weer huis toe gegaan.

Jesus verskyn aan Maria Magdalena
(Matt 28:9–10; Mark 16:9–11)
11Maar Maria het buite by die graf bly staan en huil. Terwyl sy huil, het sy vooroor gebuk om in die graf in te kyk. 12Toe sien sy twee engele met wit klere aan daar sit waar die liggaam van Jesus gelê het, een waar die kop en een waar die voete was. 13Hulle vra toe vir haar: “Mevrou, waarom huil jy?”

Sy antwoord hulle: “Omdat hulle my Here weggevat het en ek nie weet waar hulle Hom nou begrawe het nie.”

14Nadat sy dit gesê het, het sy omgedraai en vir Jesus daar sien staan, maar sy het nie geweet dat dit Hy is nie. 15Jesus vra haar toe: “Mevrou, waarom huil jy? Vir wie soek jy?”

Sy het gedink dit is die tuinopsigter, en sy het vir hom gesê: “Meneer, as u Hom weggevat het, sê vir my waar u Hom begrawe het, en ek sal Hom daar gaan haal.”

16Jesus het vir haar gesê: “Maria!”

Sy draai na Hom toe en sê in Hebreeus vir Hom: “Rabboeni!” Dit beteken leermeester.

17Jesus sê toe vir haar: “Moet My nie vashou nie, want Ek het nog nie na die Vader toe opgevaar nie. Maar gaan na my broers toe en sê vir hulle: ‘Ek vaar op na my Vader toe, wat ook julle Vader is, na my God, wat ook julle God is.’ ”

18Maria Magdalena het toe vir die dissipels gaan sê: “Ek het die Here gesien!” En sy het ook vertel wat Hy vir haar gesê het.

Ekstra stof

Johannes 20:1–31 – Jesus staan op as die teenwoordige Here
Johannes vertel ons in hoofstuk 20-21 van vier verskynings van Jesus na die opstanding.  Hy verskyn eerste aan Maria Magdalena, tweede aan die dissipels, derde aan Tomas wat nie by was met Jesus se tweede verskyning nie en laastens (hfst 21) aan die dissipels by die meer, waar Jesus spesifiek vir Petrus intrek en heraanstel in sy rol as herderleier (laat my skape wei).

Let op dat Johannes niks vertel van die opstandingsgebeure self nie, net van die leë graf en van Jesus se verskynings daarna aan hulle.  Nie een van die ander evangelies sê vir ons meer oor die opstandingsgebeure as sodanig nie.  Daar is ’n bietjie meer getuienis oor die aardbewing wat die klip weg laat rol het, van die engele wat betrokke was, maar niks oor die opwekking as sodanig nie.  Dit is ’n daad van God wat wel duidelik is uit die feit dat hulle Jesus se verskynings hierna kan waarneem, maar deel van die misterie van die opstanding sal bly tot aan die einde van die tyd.

Die leë graf met die opgerolde grafdoeke is natuurlik belangrik omdat dit die werklikheid en historisiteit van die feit van die opstanding aandui.  Maar dit is veral Jesus se verskynings na sy dood wat belangrik is, omdat dit die belofte en betekenis van die opstanding vir ons beklemtoon.  Uit Johannes se beskrywing van die opgestane Jesus kan ’n mens agterkom dat Jesus herkenbaar is, steeds kommunikeer soos ons dit doen, en ’n fisiese/werklike (by gebrek aan ’n beter woord) liggaam het, want  ’n mens kan aan hom vat, en hy gee vir hulle kos om te eet.  Maar hy is ook anders, omdat hy kan verskyn en verdwyn soos Hy wil.  Hy is dus nie aan ruimte gebonde soos die dissipels nie. En telkens verander Hy die lewe van dié aan wie Hy verskyn het.

Daarmee lewer Johannes getuienis af van die werklikheid van Jesus se opstanding uit die dode en van die wyse waarop Jesus se opstanding alles verander.

Hy troos bv. vir Maria Magdalena en verseker haar dat God daar is vir haar.  Haar eerste gedagte toe sy die leë graf sien, was dat iemand Jesus se liggaam weggevat het.  Dit is ook wat sy vir Petrus en Johannes gaan sê het en waarna hulle kom kyk het.  Die leë graf kon ook net soveel sê, daarom sê Johannes dat hulle haar geglo het, maar nog nie verstaan het dat Hy opgestaan het nie.

Dit is egter eers wanneer Jesus aan Maria verskyn in die tuin en met haar praat en sy die werklikheid van sy teenwoordigheid ervaar, dat sy  Hom kan herken en as Here kan vereer.  Let op hoe dít is hoe sy Jesus aan die dissipels hierna gaan bekendstel: “Ek het die Here gesien!”

En dit is dieselfde vir die dissipels.  Dit is eers wanneer Hy self aan hulle verskyn, dat die dissipels rus en vrede ervaar, en hulle vrees in blydskap kan verander.  Netso Tomas.  Jesus openbaar Homself aan Tomas sodat sy twyfel in geloof kan verander en Hy met oortuiging deel kan wees van die groeiende getuienis van sy opstanding.

En let op dat Jesus nie net vir hulle troos en versterk in hulle geloof nie.  Nee, Hy stuur hulle ook, waarmee Hy hulle roeping bevestig om die wêreld met die boodskap van vergifnis in te gaan.  En later doen Hy dieselfde met Petrus en gee Hom ’n soortgelyke opdrag as wat Jesus self gehad het, om vir die skape weiding te gee. (Joh 10).

Daarmee bereik Johannes se evangelie dan ook sy hoogtepunt, want Hy skryf juis hierdie klompie verhale van Jesus se wondertekens, sy gesprekke, en sy verskynings om ons te oortuig dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat ons deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê (Joh 20:31).  Jesus staan op om as die teenwoordige Here ons lewens betekenis te gee.

Ons praat te veel oor die historisiteit en werklikheid van die opstanding, en hopeloos te min oor die teenwoordigheid van die Here Jesus.  Die leë graf fassineer ons miskien te veel.  Dit is immers die teenwoordige Jesus wat ons lewens verander en wat ons fokus moet wees.  Jy kan natuurlik nie die teenwoordige Jesus hê sonder ’n leë graf nie – die graf was immers leeg.  Maar jy kan die teenwoordige Jesus mis as jy te veel klem lê op die dogma van die leë graf.

Liturgie

RUS

Nooi lidmate reeds die vorige Sondag of deur die week om blomme saam te bring en in die liturgiese ruimte te plaas.  Reël kerse en mense om kerse aan te steek.

Toetrede: Lied of Flam 204

Votum: (Responsories, terwyl kerse aangesteek word))

Seëngroet: (Responsories)

Lofsang: Lied 417 of Flam 336

Geloofsbelydenis: (Responsories, terwyl tekens vorentoe gebring word)

Lofsang: Lied 414 of VONKK 75

HOOR

Gebed

Skriflesing: Johannes 20:1-18

Respons: Flam 237 [kinderlied]

Familie-oomblik

Preek

LEEF

Dankoffer

Slotsang: Vonkk 5 [bekend: “Praat ek mense eng’le tale] of Flam 394
Nooi mense om na die erediens blomme te kom haal en te gee vir mense wat dit mag nodig hê of wat hulle wil seën.

Seën: (Responsories)

Respons: Vonkk 5 tweede vers laaste strofes

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Nooi lidmate reeds die vorige Sondag of deur die week om blomme saam te bring na die erediens en dit voor in die aanvang van die diens in die liturgiese ruimte te plaas.  Probeer ’n kandelaar kry met 7 kerse, of vra iemand om ’n ruiker met 7 kerse (wat mense kan bykom!) te maak.  Reël vooraf mense om die kerse aan te steek.   Laat daar ook iewers ’n ekstra groot wit kerks staan (weereens moontlik deel van ’n ruiker) vir die geloofsbelydenis.  Iemand kan ook dié kers inbring.

Toetrede
Lied 409 “Hoor jy die Paasfeesklokke” of
Flam 204 Koning van die Heelal 

Votum
Voorganger: Die Heer het opgestaan!
Gemeente: Die Heer het waarlik opgestaan!

Voorganger: Die Heer het opgestaan!
Gemeente: Die Heer het waarlik opgestaan!

Voorganger:  Moenie skrik nie:  Julle soek Jesus van Nasaret.  Hoekom soek julle die Lewende by die dooies?   Hy is uit die dood opgewek.
Gemeente: Die Heer het opgestaan!

(Eerste kers word aangesteek)

Voorganger:  As Christus nie opgewek is nie, is ons prediking sonder inhoud en ons geloof ook sonder inhoud.
Gemeente: Die Heer het opgestaan!

(Tweede kers word aangesteek)

Voorganger: As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die mees bejammerenswaardige van alle mense.
Gemeente: Die Heer het opgestaan!

(Derde kers word aangesteek)

Voorganger: Dood, waar is jou angel?  Doderyk, waar is jou oorwinning?
Gemeente: Die Heer het opgestaan!

(Vierde kers word aangesteek)

Voorganger: Die dood is vernietig, die oorwinning is behaal.  Die koningskap oor die wêreld behoort aan ons Here en aan sy Gesalfde en Hy sal as koning heers tot in alle ewigheid.
Gemeente: Die Heer het opgestaan!

(Vyfde kers word aangesteek)

Voorganger: Hy wat op die troon sit, sê: “Kyk, Ek maak alles nuut!  Ek is die Alfa en die Omega, die begin en die einde, die eerste en die laaste.”
Gemeente: Die Heer het opgestaan!

(Sesde kers word aangesteek)

Voorganger:  Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam, behoort die lof en die eer, die heerlikheid en die krag, tot in alle ewigheid!
Gemeente: Die Heer het waarlik opgestaan!

(Sewende kers word aangesteek)

Seëngroet
Voorganger: Jesus leef!  En ons met hom!  Genade vir julle en vrede van God die Vader
Gemeente: Hy sorg vir ons!

Voorganger: en van die Seun
Gemeente: Hy het waarlik opgestaan!

Voorganger:  en van die Heilige Gees.
Gemeente: Hy leef in ons!  Amen

Lofsang
Lied 417 “Jesus, ons eer U” of
F336.Wie Is Ek Dat U Aan My Gedink Het (My Verlosser Leef)

Geloofsbelydenis
(Die groot wit kers word aangesteek of ingebring en op die Nagmaalstafel geplaas)

V: Die kers word aangesteek om ons te herinner dat die duisternis die Lig nie kon uitdoof nie. Christus is die lig vir die wêreld. Saam juig ons:
Gemeente: Die Here het waarlik opgestaan!

(Die brood word gebring en op die Nagmaalstafel geplaas)

V: Die brood herinner ons daaraan dat Jesus daardie aand van sy opstanding saam met twee van sy volgelinge op die pad na Emmaus geloop het. Toe hulle die brood saam breek, het hulle herken dat Hy die opgestane Here was. Saam juig ons:
Gemeente: Die Here het waarlik opgestaan!

(Die beker word geplaas)

V:  Die wyn is vir ons die teken dat sy bloed vir ons gestort is tot ‘n volkome versoening vir al ons sondes. Saam juig ons:
Gemeente: Die Here het waarlik opgestaan!

Lofsang
Lied 414 “Juig verlostes, juig en sing”of
VONKK 75 “Halleluja! Die Heer Het Opgestaan!”

Liedere

F204. “Koning van die Heelal”
(RUBRIEK: Flam – Verwondering) Teks en musiek: Petri de Wet © 2007 MAR Gospel Music Publishers

1. Ek hoor die mense sê
miskien het Hy bly lê.
En die dinge wat ek glo beteken niks.
Maar ek wil hulde bring
vir ewig gaan ek sing.
Want my Koning is nie dood nie,
Hy het opgestaan.

Refrein:
Hy lewe, Hy lewe!
Hy sal vir altyd lewe!
Hy is die Koning van die groot heelal.
Die bome, die berge en al die silwer sterre
skyn voor die Koning van die groot heelal.

2. Die wêreld is te grys.
Die reëls word te veel gebuig
want hul glo nie in die glorie van my Heer.
Maar ons gaan eendag juig want al die
knieë gaan buig
voor die Koning van die heelal en my hart.

F336. “Wie Is Ek Dat U Aan My Gedink Het (My Verlosser Leef)”
(RUBRIEK: Flam – Nagmaal / Paasfees)  Teks en musiek: Wian Vos  Kopiereg: ©2009 Urial Publishing

Wie is ek dat U aan my gedink het aan die kruis
Wie is ek dat U aan my ook liefde wou bewys
Wie is ek dat U vir my ’n tuiste voorberei
Dis genade op genade, losgekoop en vry!

My Verlosser leef, my Verlosser leef
En Hy’t opgestaan, finaal oorwin
Die graf is leeg
My Verlosser leef, my Verlosser leef
En ek juig oor Hom, ek juig oor die Bruidegom

Hoe kan ek dan stilbly oor die grootste liefdesdaad?
Hoe kan ek dan swyg as die graf so duidelik praat?
Hoe kan ek nie sing as ek weet “dit is volbring”?
Dis genade op genade, losgekoop en vry!

Nou kan ek leef, deur u Gees
In die oorwinning van die opstanding leef

F237. Hy leef
(RUBRIEK: Flammikidz – Opstanding)  Teks en musiek: Willie Pretorius © MAR Gospel Music Publishers

Hy leef, Hy leef,
die graf het oopgegaan.
Hy leef, Hy leef
Hy leef, Hy’t opgestaan.
Hy leef, Hy leef,
dit maak my hart so bly.
Jesus leef in my.

Halleluja! Halleluja!
Jesus leef in my.
Halleluja! Halleluja!
Jesus leef in my.

F394. “Wie Regeer (Ons Koning Kom)”
(RUBRIEK: Flam – Hoop en toekomsverwagting)  Teks en musiek: Juanita du Plessis  © Juanita du Plessis

1. Wie regeer, wie is in beheer?
Wie’s die begin en die einde,
die Een wat was, wat is, en wat kom?

2. My hart wil sing, alle eer wil ek bring.
Hy’s die Weg en die Waarheid,
daar’s niemand, daar’s niemand soos Hy.

Refrein:
Lig jou hande na bo (sing halleluja)
gee eer aan Hom (halleluja).
Ons Koning kom, loof sy heilige Naam.
Lig jou hande na bo (sing halleluja)
vertrou op Hom (halleluja).
Ons Koning kom,
Hy kom om ons te haal.

3. Elke knie sal buig en elke tong sal getuig:
Hy’t die dood vir ewig oorwin,
Hy’t opgestaan.

Refrein:

4. In ’n donker wêreld vra almal, wie sal die volk kom lei?
Dis die Ruiter op die wit perd,
Hy kom, Hy kom vir jou en my.

Refrein:

VONKK “75 Halleluja! Die Heer Het Opgestaan!”
Teks:  Jacques Louw 2008 © Muse: SINE NOMINE – Ralph Vaughan Williams 1906
© Teks: 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) © Melodie: Openbare besit RUBRIEK:  Klassiek – Paasfees

1. Halleluja! Die Heer het opgestaan!
Leeg is die graf, die dood is nou verslaan.
Ons prys sy Naam, ‘n nuwe dag breek aan.
Halleluja! Halleluja!

2. Halleluja! Die Heer voer heerskappy!
Daar aan die kruis moes Hy ons doodstryd stry.
Maar kyk, Hy leef! Verlossing is verkry!
Halleluja! Halleluja!

3. Halleluja! Ons vier met blydskap fees!
Dood is die dood, ons hoef nie meer te vrees.
Hy laat ons leef, in Hom oorwinnaars wees.
Halleluja! Halleluja!

VONKK 5 “Vreugde! Vreugde!”
Teks: JJH du Plessis 2007 (Pro Deo) Melodie: ODE AN DIE FREUDE (Koraal-simfonie Nr 9) – Ludwig van Beethoven 1824 (ritmies aangepas)
© Teks: 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)  © Melodie: openbare besit
RUBRIEK:  Klassiek – Paasfees / Uitsending

1. Vreugde! Vreugde! Juig van vreugde,
want ons Heiland het verrys.
Tot die dood was Hy verneder,
uit die graf het Hy herrys.

2. Alle eer aan die Oorwinnaar!
Elke knie moet voor Hom buig.
“Jesus Christus is die Here!” –
elke tong moet dit getuig.

3. Jesus leef, Hy heers vir ewig,
heerlik is sy majesteit.
As gestuurde van die Vader
stuur Hy ons nou wêreldwyd.
Hy bring heling, skenk bevryding:
daarvan moet ons bly getuig.
Vreugde! Vreugde! Juig van vreugde
want ons Heiland het verrys.

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Johannes 20:1-18

Respons: Flam 237 Hy leef  [kinderlied]

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Die uitbeelding by die Oorsig kan gebruik word.
Of
Wys die pragtige video uit die Jesus Storybook Bible: God’s Wonderful Surprise!
Of
Maak vooraf ’n regte paaseier – maak ’n klein gaatjie met ’n speld aan die bo- en onderkant van ’n eier.  Blaas die eierwit- en geel saggies uit.  Vra vir die kinders wat in die eier is.  Breek die eier – en almal is verras dat dit leeg is!  Verduidelik die verrassing en vreugde van die leë graf.  Daarom eet ons sjokolade paaseiers – want dit herinner ons aan die leë graf en dis heerlik.  Soos wat die lewe saam met die lewende Christus heerlik is!  Gee vir almal paaseiers.  (Jy sal dit dalk eers aan die einde wil doen, sodat die suiker-belaaide kinders nie in die erediens hoef stil te sit nie.)
Hier is ’n inkleurprent van gelukkige dissipels by ’n leë graf.
Hier is ’n paaseier-inkleurprent wat sê dat Jesus leef.
Hier is ’n leë paaseier.  Gee vooraf kryte, plakkers, ens. uit, sodat kinders die eiers tydens die preek kan versier.  Laat hulle dit tydens die dankoffer op die Nagmaalstafel kom sit.

Preekriglyn

Vandag is Paassondag en die kernboodskap van hierdie gedeelte is: Jesus het opgestaan! Hy het waarlik opgestaan!

Hoop

Paassondag beteken dat ons met hoop kan lewe.

Hoop omdat die graf oop is. Hoop omdat die klip weggerol, die doeke opgevou en die graf leeg is. Hoop, want Jesus het opgestaan juis sodat mense wat dink dat hulle perfek is, en dit nie is nie, met hoop kan lewe.

Miswolke verduister

Ongelukkig verdwyn hierdie boodskap in ’n wêreld wat deur miswolke geteister word.

Die Engelse het gehoop hulle sou die Franse by Waterloo verslaan. So bou hulle ’n hele netwerk van telegraafpale waarlangs hulle die uitslag vanaf die slagveld aan die mense tuis kon oordra. Dit gebeur toe dat generaal Wellington die Franse onder leiding van Napoleon Bonaparte by Waterloo verslaan. Die Engelse stuur toe ’n gekodeerde boodskap per telegraaf aan die mense tuis om te vertel van die wonderlike oorwinning wat op die slagveld behaal is.

Toe hulle in Engeland die boodskap ontvang, lees hulle: Wellington verslaan. Nodeloos om te sê, die Engelse het in sak en as op moedverloor se vlakte gaan sit. Sonder hoop op ’n toekoms. Wat hulle nie besef het nie, was dat die helfte van die boodskap vanweë digte mis langs die pad verlore geraak het.

Toe die mis opklaar, kom die res van die boodskap deur: “Wellington verslaan” vir Napoleon. Met die lees hiervan, bars die Engelse uit van vreugde, want daar was weer hoop.

Ons omstandighede

Ons word daagliks deur miswolke verhinder om Jesus se oop, leë graf te sien. In plaas daarvan om hierdie boodskap van hoop te sien, sien ons hoe die regering se besluite Suid-Afrika se toekoms in gevaar stel. Dink maar aan die heersende politieke onsekerheid oor grond en eiendom.

Opposisiepartye skarrel om munt hieruit te slaan, terwyl hulleself nie werklik alternatiewe bied nie. Ons sien korrupsie, nepotisme en die gevolge van die rommelstatus. Ons sien ons onvermoë om armoede, werkloosheid en rassisme aan te spreek. Ons sien plaasmoorde en hoe oppervlakkig sommige voorgestelde oplossings is. Ons sien hoe gewelddadig ons samelewing is, want mense sterf vir R10, ’n selfoon en ’n skootrekenaar.

Opposisiepartye skarrel om munt hieruit te slaan, terwyl hulleself nie werklik alternatiewe bied nie.

Padwoede het ’n uitlaatklep geword vir opgekropte woede. Vroue word verkrag, kinders seksueel gemolesteer en mans uitgekryt vir alles wat sleg is. Klimaatsverandering verdeel Suid-Afrika in ’n lower groen deel met bogemiddelde opbrengste, terwyl dit in ander dele van ons land kurkdroog is, met leë opgaardamme en mense wat by tenkwaens moet water tap. Ook die kerk sukkel om indruk in mense se lewe te maak, vanweë diepgewortelde historiese vooroordele. Baie mense is bang, verward en onseker, en sonder hoop.

Kyk nuut

Maar ons sien ook hoe hooploosheid verdwyn as ons met ’n ander oog na die omstandighede kyk. Ons sien ons hoef nie bang te wees nie, want alles is nie verlore nie. Ons sien ’n toekoms te midde van bekommernisse. Ons sien in droë stoppellande sonder oes vooruitsigte, ’n plant met drie rooi blomme aan. Ons sien ’n leë graf, want Jesus het opgestaan. Ons sien weer lewe, want Hy lewe en daarom het ons hoop!

Om dít te kan sien, moet ons anders kyk na die werklikheid. Nie om dit mis te kyk nie, maar om met geloofsoë daarna te kyk. Oë wat ’n leë graf sien omdat die Here opgestaan het en lewe. Dit het Maria gesien toe sy by die graf gekom het, ook Petrus en Johannes.

Maria staan by die graf se ingang en sien dat die grafklip weggerol is. Versigtig loer sy na binne, sien die opgerolde grafdoeke en dat Jesus se liggaam weg is. Onmiddellik dink sy die ergste en bars in trane uit. Hy is gesteel en op ’n vreemde plek begrawe. Sy wou so graag Jesus se liggaam volgens Joodse gebruike versorg het. Dan stuur sy hierdie boodskap van wanhoop die wêreld in as sy vir Petrus en Johannes daarvan vertel.

Toe sy vir ’n tweede keer by die leë graf kom, sien sy die twee engele en hulle praat met haar. Sy is egter steeds oortuig Jesus is gesteel. Dan sien sy ’n vreemde man wat by haar kom staan. Summier dink sy dit is die tuinier. Sy vra hom sommer direk of hy nie Jesus se liggaam gesien het nie.

Jesus lewe

Maar dan lig die mis as die sogenaamde tuinier met deernis in sy stem sê: “Maria.” Nou sien sy dit is Jesus, haar Here, wat met haar praat. Hy het uit die dood opgestaan. En sy glo Hy lewe. Dit gee haar hoop vir die toekoms. Maar terselfdertyd is dit ook vir haar ’n uitdaging. Sy moet dit vir die ander dissipels gaan vertel (17). Sy huiwer vir geen oomblik nie en met oorgawe sê sy vir die dissipels en almal wat wou hoor – en ook nie wou hoor nie – dat sy die opgestane Here gesien het (18).

Geloofsoë

Die grootste uitdaging waarvoor ons staan, is om met geloofsoë na die werklikheid te kyk. As ons dit doen, sien ons die daaglikse mistige lewensomstandighede – al die sleg en swaar waarmee ons moet saamleef. Maar ons sien saam met Maria ook hoe die miswolke lig – dat die klip weggerol is, die doeke opgevou is, die graf leeg is en dat die Here lewe. Wanneer ons dit sien, besef ons Jesus het die dood bloedneus geslaan. Nou kan niks ons van God se liefde skei nie. Ons sal ook in tye van swaarkry en verdrukking nie alleen wees nie. Ons het hoop, want die Here lewe!

Die vraag is nie of Jesus opgestaan het nie. Hiervoor is daar genoegsame bewyse. Die vraag is of ons met geloofsoë na elke dag kyk. Is ons bereid om teen alle menslike logika in die leë graf as getuienis te aanvaar dat God in Jesus die onmoontlike gedoen het? Vir Maria en die dissipels, maar ook vir ons en vir die Suid-Afrika van 2018?

Getuig

Wanneer ons hieroor duidelikheid het, kan en moet ons soos Maria gaan vertel. Hierdie goeie storie moet ons vertel, nie omdat ons al die antwoorde op al die vrae het nie. Ook nie omdat al ons probleme opgelos is nie. Ons vertel dit omdat ons glo in die Here wat lewe. Sy opdrag is dat ons aan ander moet gaan vertel daar is hoop.

Trevor Noah vertel die storie in sy eie woorde:

In chemistry He turned water into wine. In biology He was born without a normal conception. In physics He disapproved the law of gravity by ascending into heaven. In economics He disapproved the law of diminishing return by feeding 5000 men with two fishes and five loaves of bread. In medicine He cured the sick and the blind without administering a single dose or drug. In history He is the beginning and the end. In government He said He shall be called wonderful counsellor, prince of peace. In religion He said no one comes to the father except through Him. So who is he? He is Jesus. The greatest man in history. He had no servant yet they called Him master. He had no degree yet they called Him teacher. He had no medicine yet they called Him healer. He had no army yet kings feared Him. He won no military battles yet He conquered the world. He committed no crime yet they crucified Him. He was buried in a tomb yet He lives today. I feel honoured to serve Jesus!

God stuur ons om te leef

Dankoffer

Slotsang
Vonkk 5 Vreugde Vreugde [bekend:  “Praat ek mense eng’le tale] of
Flam 394 Wie Regeer (Ons Koning Kom)
Nooi mense om na die erediens blomme te kom haal en te gee vir mense wat dit mag nodig hê of wat hulle wil seën.

Seën
V:  Jesus Christus is die opstanding en die lewe.
G:  Hy is ons vrede.

V:  Wie in hom glo, sal in ewigheid nie sterwe nie.
G:  Hy is ons vrede, nou en tot in ewigheid.  Amen

Respons
Vonkk 5 tweede vers laaste strofes
Vreugde! Vreugde! Juig van vreugde | want ons Heiland het verrys.