Paassondag

Sections

Oorsig

Ander tekste: Handelinge 10:34-43; Psalm 118:1-2, 14-24; Kolossense 3:1-4

Paasfees is die grootste feesdag in die lewe van die Christelike kerk. Die karakter en aard van hierdie erediens staan in skrille kontras met dit wat die gemeente beleef het tydens die 40 dae van Lydenstyd en veral in die nadenke en bepeinsing tydens Groot Lydensweek. Die gemeente het in die vorige seisoen die lydensweg van Jesus bewandel en daardie weg het Vrydag uitgeloop op die dood. Op Stil Saterdag was die kerk reg oor die wêreld vasgevang in die dood van Christus, net soos die dissipels en die vroue na die kruisiging van Jesus. Alles het tot niks gekom. Die dood spreek die finale woord. Die vroue en dissipels verwag ook by die graf die dood. Hulle gaan op Paassondag daarheen om te treur en te huil want hulle geliefde is dood. In die lig van dié realiteit moet die kerk op Paassondag gelaat word soos die gemeente dit op Goeie Vrydag verlaat het. Laat die ligte af, geen orrelspel of klokke en laat die uitgedoofde Christuskers as die fokuspunt in die liturgiese ruimte. As almal dan weer in die kerk bymekaar is, begin dan die erediens met die speel van Handel se “Halleluja-koor”, vertoon ‘n beeld van die graf waarvan die klip weggeskuif is en verwyder die doringdraad van die Christus-kers en steek die kers weer aan.

Ander tekste

Handelinge 10:34-43
Petrus se toespraak by Kornelius
34Toe het Petrus aan die woord gekom en gesê: “Waarlik, ek begryp nou eers dat God nie onderskeid maak nie, 35maar in enige volk die mense aanneem wat Hom vereer en doen wat reg is. 36Julle weet dat God aan Israel sy woord gestuur het, naamlik die evangelie van vrede wat Jesus Christus gebring het. Hierdie Jesus is Here van almal. 37Julle weet ook van die gebeurtenisse dwarsdeur die hele Joodse land. Dit het in Galilea begin ná die doop wat Johannes verkondig het. 38Julle weet van Jesus van Nasaret, dat God Hom met die Heilige Gees gesalf en met krag toegerus het. Hy het rondgegaan, oral goeie werke gedoen en almal gesond gemaak wat in die mag van die duiwel was, want God was by Hom.

39“En ons is getuies van alles wat Hy in die Joodse land en in Jerusalem gedoen het. Hulle het Hom doodgemaak deur Hom aan die kruis te hang. 40Maar God het Hom op die derde dag uit die dood opgewek en Hom laat verskyn, 41nie aan die hele volk nie, maar net aan ons vir wie God reeds gekies het om getuies daarvan te wees, ons wat ná sy opstanding uit die dood saam met Hom geëet en gedrink het. 42Hy het ons opdrag gegee om aan die volk te verkondig en te bevestig dat dit Hy is wat deur God aangestel is as Regter oor lewendes en dooies. 43Van Hom getuig al die profete dat elkeen wat in Hom glo, vergewing van sondes deur sy Naam ontvang.”

Psalm 118:1-2, 14-24
Die Here doen kragtige dade
118 Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie!
2Israel moet getuig:
“Aan sy liefde is daar geen einde nie.”
14Die Here is my krag en my beskerming.
Dit is Hy wat my gered het!
Hoor die gejuig
in die laer van die oorwinnaars:
“Die Here doen kragtige dade,
16die Here triomfeer,
die Here doen kragtige dade!”
17Ek sal nie sterwe nie, ek sal lewe
en van die dade van die Here getuig.
18Die Here het my swaar gekasty,
maar my nie aan die dood
oorgegee nie.
19Maak die tempelpoort vir my oop:
ek wil ingaan en die Here loof.
20Dit is die poort na die Here toe;
regverdiges mag daardeur ingaan.
21Ek wil U loof
omdat U my gebed verhoor
en my gered het.
22Die klip wat deur die bouers
afgekeur is,
juis hy het die belangrikste klip
in die gebou geword.
23Dit is deur die Here gedoen
en is ’n wonder in ons oë!
24Dit is die dag
wat die Here gemaak het;
laat ons daaroor juig en bly wees.

Kolossense 3:1-4
Julle is saam met Christus uit die dood opgewek
3 Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit. 2Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie, 3want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God. 4Wanneer Christus, wat julle lewe is, by sy wederkoms verskyn, sal julle ook saam met Hom verskyn en in sy heerlikheid deel.

Fokusteks

Johannes 20:1-18
Die leë graf
(Matt 28:1–8; Mark 16:1–8; Luk 24:1–12)
20 Die Sondagmôre vroeg, toe dit nog donker was, kom Maria Magdalena by die graf en sien dat die klip van die graf af weggerol is. 2Sy hardloop toe en gaan na Simon Petrus en na die ander dissipel toe vir wie Jesus baie lief was, en sê vir hulle: “Hulle het die Here uit die graf weggevat, en ons weet nie waar hulle Hom nou begrawe het nie.”

3Petrus en die ander dissipel het toe uitgekom en na die graf toe gegaan. 4Die twee het saam begin hardloop, maar die ander dissipel het vinniger as Petrus gehardloop en eerste by die graf gekom. 5Toe hy vooroor buk, sien hy die doeke lê, maar hy het nie ingegaan nie. 6Ná hom het Simon Petrus ook daar aangekom, en hy het in die graf ingegaan. Hy sien toe die doeke daar lê, 7ook die doek wat om Jesus se kop was. Dié doek het nie by die ander doeke gelê nie, maar was eenkant afsonderlik opgerol. 8Daarna het die ander dissipel, wat eerste by die graf gekom het, ook ingegaan, en hy het dit ook gesien en geglo.
9Hulle het nog nie die Skrif verstaan dat Jesus uit die dood moet opstaan nie.
10Daarna het die dissipels weer huis toe gegaan.

Jesus verskyn aan Maria Magdalena
(Matt 28:9–10; Mark 16:9–11)
11Maar Maria het buite by die graf bly staan en huil. Terwyl sy huil, het sy vooroor gebuk om in die graf in te kyk. 12Toe sien sy twee engele met wit klere aan daar sit waar die liggaam van Jesus gelê het, een waar die kop en een waar die voete was. 13Hulle vra toe vir haar: “Mevrou, waarom huil jy?”

Sy antwoord hulle: “Omdat hulle my Here weggevat het en ek nie weet waar hulle Hom nou begrawe het nie.”

14Nadat sy dit gesê het, het sy omgedraai en vir Jesus daar sien staan, maar sy het nie geweet dat dit Hy is nie. 15Jesus vra haar toe: “Mevrou, waarom huil jy? Vir wie soek jy?”

Sy het gedink dit is die tuinopsigter, en sy het vir hom gesê: “Meneer, as u Hom weggevat het, sê vir my waar u Hom begrawe het, en ek sal Hom daar gaan haal.”

16Jesus het vir haar gesê: “Maria!”

Sy draai na Hom toe en sê in Hebreeus vir Hom: “Rabboeni!” Dit beteken leermeester.

17Jesus sê toe vir haar: “Moet My nie vashou nie, want Ek het nog nie na die Vader toe opgevaar nie. Maar gaan na my broers toe en sê vir hulle: ‘Ek vaar op na my Vader toe, wat ook julle Vader is, na my God, wat ook julle God is.'”

18Maria Magdalena het toe vir die dissipels gaan sê: “Ek het die Here gesien!” En sy het ook vertel wat Hy vir haar gesê het.

Ekstra stof

Johannes 20:1–31 – Jesus staan op as die teenwoordige Here
Johannes vertel ons in hoofstuk 20-21 van vier verskynings van Jesus na die opstanding. Hy verskyn eerste aan Maria Magdalena, tweede aan die dissipels, derde aan Tomas wat nie by was met Jesus se tweede verskyning nie en laastens (hfst 21) aan die dissipels by die meer, waar Jesus spesifiek vir Petrus intrek en heraanstel in sy rol as herderleier (laat my skape wei).

Let op dat Johannes niks vertel van die opstandingsgebeure self nie, net van die leë graf en van Jesus se verskynings daarna aan hulle. Nie een van die ander evangelies sê vir ons meer oor die opstandingsgebeure as sodanig nie. Daar is ‘n bietjie meer getuienis oor die aardbewing wat die klip weg laat rol het, van die engele wat betrokke was, maar niks oor die opwekking as sodanig nie. Dit is ‘n daad van God wat wel duidelik is uit die feit dat hulle Jesus se verskynings hierna kan waarneem, maar deel van die misterie van die opstanding sal bly tot aan die einde van die tyd.

Die leë graf met die opgerolde grafdoeke is natuurlik belangrik omdat dit die werklikheid en historisiteit van die feit van die opstanding aandui. Maar dit is veral Jesus se verskynings na sy dood wat belangrik is, omdat dit die belofte en betekenis van die opstanding vir ons beklemtoon. Uit Johannes se beskrywing van die opgestane Jesus kan ‘n mens agterkom dat Jesus herkenbaar is, steeds kommunikeer soos ons dit doen, en ‘n fisiese/werklike (by gebrek aan ‘n beter woord) liggaam het, want ‘n mens kan aan hom vat, en hy gee vir hulle kos om te eet. Maar hy is ook anders, omdat hy kan verskyn en verdwyn soos Hy wil. Hy is dus nie aan ruimte gebonde soos die dissipels nie. En telkens verander Hy die lewe van dié aan wie Hy verskyn het.

Daarmee lewer Johannes getuienis af van die werklikheid van Jesus se opstanding uit die dode en van die wyse waarop Jesus se opstanding alles verander.

Hy troos bv. vir Maria Magdalena en verseker haar dat God daar is vir haar. Haar eerste gedagte toe sy die leë graf sien, was dat iemand Jesus se liggaam weggevat het. Dit is ook wat sy vir Petrus en Johannes gaan sê het en waarna hulle kom kyk het. Die leë graf kon ook net soveel sê, daarom sê Johannes dat hulle haar geglo het, maar nog nie verstaan het dat Hy opgestaan het nie.

Dit is egter eers wanneer Jesus aan Maria verskyn in die tuin en met haar praat en sy die werklikheid van sy teenwoordigheid ervaar, dat sy Hom kan herken en as Here kan vereer. Let op hoe dít is hoe sy Jesus aan die dissipels hierna gaan bekendstel: “Ek het die Here gesien!”

En dit is dieselfde vir die dissipels. Dit is eers wanneer Hy self aan hulle verskyn, dat die dissipels rus en vrede ervaar, en hulle vrees in blydskap kan verander. Netso Tomas. Jesus openbaar Homself aan Tomas sodat sy twyfel in geloof kan verander en Hy met oortuiging deel kan wees van die groeiende getuienis van sy opstanding.

En let op dat Jesus nie net vir hulle troos en versterk in hulle geloof nie. Nee, Hy stuur hulle ook, waarmee Hy hulle roeping bevestig om die wêreld met die boodskap van vergifnis in te gaan. En later doen Hy dieselfde met Petrus en gee Hom ‘n soortgelyke opdrag as wat Jesus self gehad het, om vir die skape weiding te gee. (Joh 10).

Daarmee bereik Johannes se evangelie dan ook sy hoogtepunt, want Hy skryf juis hierdie klompie verhale van Jesus se wondertekens, sy gesprekke, en sy verskynings om ons te oortuig dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat ons deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê (Joh 20:31). Jesus staan op om as die teenwoordige Here ons lewens betekenis te gee.

Ons praat te veel oor die historisiteit en werklikheid van die opstanding, en hopeloos te min oor die teenwoordigheid van die Here Jesus. Die leë graf fassineer ons miskien te veel. Dit is immers die teenwoordige Jesus wat ons lewens verander en wat ons fokus moet wees. Jy kan natuurlik nie die teenwoordige Jesus hê sonder ‘n leë graf nie – die graf was immers leeg. Maar jy kan die teenwoordige Jesus mis as jy te veel klem lê op die dogma van die leë graf.

Litiugie

Daar is in die liturgie gebruik gemaak van Bybelmedia se preekstudies sowel as van vorige bydraes by seisoenvanluister.co.za.

Aanvangslied: Lied 409 “Hoor jy die Paasfeesklokke vs 1,2,3”

Aanvangswoord/Paasroep en Psalm 118

Seëngroet

Sang 414 “Juig verlostes, juig en sing vs 1,2”

Die wonder van die opstanding Petrus se toespraak: Handelinge 10:34-43

Litanie

Lied 417 “Jesus ons eer U (opgestane Heer) vs 1,2”
of
F237. Hy leef

Geloofsbelydenis
Loflied 405 “Roem al wat leef die Heer se dag vs 1,2,3,4”

(Alternatiewe liturgie)
Doopherinnering / Geloofsbelydenis
Lidmate kom vorentoe en druk hul hande in die doopvont om hulle te herinner aan hul doop, terwyl daar gesing word:

Loflied 405 “Roem al wat leef die Heer se dag vs 1,2,3,4”

Epiklese

Skriflesing: Johannes 20:1-18

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending:Lied 421 “Die Here Jesus lewe vs 1,2,3”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of

F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
of
Vonkk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan
of

VONKK 277 – U is die lig wat deur die donker skyn

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Daar is in die liturgie gebruik gemaak van Bybelmedia se preekstudies sowel as van vorige bydraes by seisoenvanluister.co.za.

Die volgende suggestie van Bybel-Media se preekstudies (2019/20) kan bydra tot die inrig van die erediens.

Paasfees is die grootste feesdag in die lewe van die Christelike kerk. Die karakter en aard van hierdie erediens staan in skrille kontras met dit wat die gemeente beleef het tydens die 40 dae van Lydenstyd en veral in die nadenke en bepeinsing tydens Groot Lydensweek. Die gemeente het in die vorige seisoen die lydensweg van Jesus bewandel en daardie weg het Vrydag uitgeloop op die dood. Op Stil Saterdag was die kerk reg oor die wêreld vasgevang in die dood van Christus, net soos die dissipels en die vroue na die kruisiging van Jesus. Alles het tot niks gekom. Die dood spreek die finale woord. Die vroue en dissipels verwag ook by die graf die dood. Hulle gaan op Paassondag daarheen om te treur en te huil want hulle geliefde is dood. In die lig van dié realiteit moet die kerk op Paassondag gelaat word soos die gemeente dit op Goeie Vrydag verlaat het. Laat die ligte af, geen orrelspel of klokke en laat die uitgedoofde Christuskers as die fokuspunt in die liturgiese ruimte. As almal dan weer in die kerk bymekaar is, begin dan die erediens met die speel van Handel se “Halleluja-koor”, vertoon ’n beeld van die graf waarvan die klip weggeskuif is en verwyder die doringdraad van die Christus-kers en steek die kers weer aan.

Een moontlikheid is dat die gemeente voor die kerkgebou by die hoofingang vergader en daar met die aanvang van die diens deur die voorganger ontmoet word. Hy/sy groet hulle met die woorde: “Die Here het opgestaan!” Die feesgangers antwoord: “Hy het waarlik opgestaan!” Terwyl hulle ‘n opstandingslied sing, gaan almal die kerkgebou binne. Die prosessie word gelei deur iemand wat die Paas-/Christuskers dra en dit dan op ‘n prominente plek neersit. Soos die feesgangers inkom, sit hulle hul bossies blomme neer as simbool van die nuwe lewe en die vreugde wat Jesus se opstanding bring.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Aanvangslied: Lied 409 “Hoor jy die Paasfeesklokke vs 1,2,3”

Aanvangswoord/Paasroep en Psalm 118
Voorganger: Die Heer het opgestaan!
Gemeente: Die Heer het waarlik opgestaan!

Voorganger: Die Heer het opgestaan!
Gemeente: Die Heer het waarlik opgestaan!
22Die klip wat deur die bouers
afgekeur is,
juis hy het die belangrikste klip
in die gebou geword.
23Dit is deur die Here gedoen
en is ’n wonder in ons oë!
22Die klip wat deur die bouers
afgekeur is,
juis hy het die belangrikste klip
in die gebou geword.
23Dit is deur die Here gedoen
en is ’n wonder in ons oë!

Seëngroet
V: Jesus leef! En ons met hom! Genade vir julle en vrede van God die Vader…
G: Hy sorg vir ons!

V: … en van die Seun …
G: Hy het waarlik opgestaan!

V: … en van die Heilige Gees …
G: Hy leef in ons! Amen.

Sang 414 “Juig verlostes, juig en sing vs 1,2”

Die wonder van die opstanding Petrus se toespraak
Handelinge 10:34-43
34Toe het Petrus aan die woord gekom en gesê: “Waarlik, ek begryp nou eers dat God nie onderskeid maak nie, 35maar in enige volk die mense aanneem wat Hom vereer en doen wat reg is. 36Julle weet dat God aan Israel sy woord gestuur het, naamlik die evangelie van vrede wat Jesus Christus gebring het. Hierdie Jesus is Here van almal. 37Julle weet ook van die gebeurtenisse dwarsdeur die hele Joodse land. Dit het in Galilea begin ná die doop wat Johannes verkondig het. 38Julle weet van Jesus van Nasaret, dat God Hom met die Heilige Gees gesalf en met krag toegerus het. Hy het rondgegaan, oral goeie werke gedoen en almal gesond gemaak wat in die mag van die duiwel was, want God was by Hom.

39“En ons is getuies van alles wat Hy in die Joodse land en in Jerusalem gedoen het. Hulle het Hom doodgemaak deur Hom aan die kruis te hang. 40Maar God het Hom op die derde dag uit die dood opgewek en Hom laat verskyn, 41nie aan die hele volk nie, maar net aan ons vir wie God reeds gekies het om getuies daarvan te wees, ons wat ná sy opstanding uit die dood saam met Hom geëet en gedrink het. 42Hy het ons opdrag gegee om aan die volk te verkondig en te bevestig dat dit Hy is wat deur God aangestel is as Regter oor lewendes en dooies. 43Van Hom getuig al die profete dat elkeen wat in Hom glo, vergewing van sondes deur sy Naam ontvang.”

Litanie
Voorganger: Die Heer het opgestaan!
Gemeente: Die Heer het waarlik opgestaan!

Voorganger: Moenie skrik nie: julle soek Jesus van Nasaret.
Waarom soek julle die Lewende by die dooies?
Hy is uit die dood opgewek.
Gemeente: Die Heer het opgestaan!

Voorganger: As Christus nie opgewek is nie,
is ons prediking en julle geloof sonder inhoud.
Gemeente: Die Heer het opgestaan!

Voorganger: As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig,
is ons die mees bejammerenswaardige van alle mense.
Gemeente: Die Heer het opgestaan!

Voorganger: Dood, waar is jou angel?
Doderyk waar is jou oorwinning?
Gemeente: Die Heer het opgestaan!

Voorganger: Die dood is vernietig.
Die oorwinning is behaal.
Die koningskap oor die wêreld
behoort aan ons Here en aan sy Gesalfde
en Hy sal as koning heers tot in alle ewigheid.
Gemeente: Die Heer het opgestaan!

Voorganger: Hy moet as koning heers
totdat die Vader al sy vyande aan Hom onderwerp het.
Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood.
Gemeente: Die Heer het opgestaan!

Voorganger: Hy wat op die troon sit sê:
“Kyk, Ek maak alles nuut!
Ek is die Alfa en die Omega,
die begin en die einde,
die eerste en die laaste.”
Gemeente: Die Heer het opgestaan!

Voorganger: Aan Hom wat op die troon sit,
en aan die Lam behoort die lof en die eer,
die heerlikheid en die krag,
tot in alle ewigheid!
Gemeente: Die Heer het waarlik opgestaan! (uit 1 Kor 15).

Lied 417 “Jesus ons eer U (opgestane Heer) vs 1,2”
of
F237. Hy leef
(RUBRIEK: Flammikidz – Opstanding) Teks en musiek: Willie Pretorius © MAR Gospel Music Publishers

Hy leef, Hy leef,
die graf het oopgegaan.
Hy leef, Hy leef
Hy leef, Hy’t opgestaan.
Hy leef, Hy leef,
dit maak my hart so bly.
Jesus leef in my.
Halleluja! Halleluja!
Jesus leef in my.
Halleluja! Halleluja!
Jesus leef in my.

Geloofsbelydenis
Christus, die Seun, is beeld van God –
van God onsigbaar, groot.
Hy is die Eerste, Hy alleen,
die hoog verhewe Heer.
Alles wat is, is daargestel
déúr Hom, vír Hom alleen.
Voor iets daar was, was Hy reeds daar;
deur Hom hou alles stand.
Hy is die oorsprong van die kerk,
ons Hoof, die Heer is Hy.
Ons is sy liggaam, één met Hom;
en in Hom is ons één
Christus het waarlik opgestaan
as Eerste uit die dood.
In die heelal sal Hy dus wees
die Eerste – Hoof en Heer.
God met sy volheid woon in Hom,
só het God self besluit.
Daarom kon Hy versoening bring –
Gods vrede weer herstel.
Christus moes sterwe aan ‘n kruis,
Hy moes sy bloed laat vloei.
Hemel en aarde, die heelal,
is só met God versoen.
(Lied 468)

Loflied 405 “Roem al wat leef die Heer se dag vs 1,2,3,4”

(Alternatiewe liturgie)
Doopherinnering / Geloofsbelydenis
Liturg [staan by doopvont]:
Ons onthou vandag dat ons deur ons doop saam met Christus gesterf het en begrawe is. Ons weet egter dat ons ook saam met hom opgewek is tot ’n nuwe lewe. Daarom bevestig ons opnuut die beloftes wat by ons doop gemaak is. Ons bely opnuut ons verbondenheid aan Christus. Ons verwerp opnuut die selfsugtige werke in ons lewe voordat Christus vir ons ’n werklikheid was.

Liturg: Bely jy jou sonde met berou?
Gemeente: Ek bely my sonde met berou.

Liturg: Daar jy om na Christus toe?
Gemeente: Ek draai om na Christus toe.
Liturg: Het jy saam met hom gesterf?

Gemeente: Ek het saam met hom gesterf.
Liturg: Het jy saam met hom opgestaan?

Gemeente: Ek het saam met hom opgestaan.
Liturg: Bely dan jou geloof in die drie-enige God.

Gemeente: Ek glo in God die Vader, wat alles geskep het. Ek vertrou sy Seun, wat die mensdom kom verlos het. Ek glo in die Heilige Gees, wat my daagliks vernuwe en lei.

Liturg:
Die water is ’n simbool

  • Van reiniging: dat God my sonde en skuld afwas.
  • Van my dood: die ou mens sterf asof sy/hy verdrink.
  • Van nuwe lewe.

(Uit: Gebedeboek met Liturgiese Voorstelle, Lux Verbi.BM, 2001)

Lidmate kom vorentoe en druk hul hande in die doopvont om hulle te herinner aan hul doop, terwyl daar gesing word:

Loflied 405 “Roem al wat leef die Heer se dag vs 1,2,3,4”

Liedere

F207. “U Het U Heerlikheid, O Heer”
(RUBRIEK: Flam – Lydenstyd / Lof)
Oorspronklike titel: You laid aside Your majesty
Teks en musiek: Noel Richards
Afrikaanse vertaling: Hanneke en Faani Engelbrecht © 2006
© 1985 Thankyou Music
(Fil 2:5-11)

U het u heerlikheid en eer, vir die wêreld prysgegee.
U het swaar gely onder sondaarshande.
U het al ons skuld gedra aan die kruis op Golgota.
U het opgestaan – U heers vanuit die hemel.
Here, ek wil U besing, U my hart se loflied bring.
O, Here, hoor my dankgebede.
Ek wil U altyd vereer en aan U my lewe gee.
Here, hoor my as ek sing vir U my Koning.

VONKK 127 “By God Is Ek Tevrede (Psalm 62:6 en 7)”
Psalm 62:6 en 7
Teks: Mon âme se repose – Taizé; Afrikaanse weergawe: Gerrit Jordaan 2010
Musiek: Jacques Berthier 1923-1994
Teks en musiek met toestemming Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk
© 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Meditatief – Geloof en Vertroue

By God is ek tevrede, stil soos ‘n kind.
U laat my veilig voel.
Ja, net by God kan ek my vrede vind,
by Hom is daar rus.
In God alone my soul can find rest and peace,
in God my peace and joy.
Only in God my soul can find its rest,
find its rest and peace.

VONKK 105 “Ek Wil U Eer Met Duisend Stemme, Heer”
Teks: O for a thousand tongues to sing – Charles Wesley 1707-1788; Jacques Louw 2010 ©
Musiek: LYNGHAM – Thomas Jarman (1715-1781)
Kantoryverwerking: Onbekend (Psalter Hymnal #404)
© Teks: 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit
RUBRIEK: Klassiek – Lofprysing

1. Ek wil U eer met duisend stemme, Heer –
aan U my loflied bring,
aan U my loflied bring.
U wonderdade verstom my meer en meer.
U goedheid laat my sing.
U goedheid laat my sing.
U goedheid laat my sing.

2. Here, U leef! U’t waarlik opgestaan!
U heers oor graf en dood.
U heers oor graf en dood.
Elkeen wat glo, sal nooit verlore gaan.
U is ons krag en hoop.
U is ons krag en hoop.
U is ons krag en hoop.

3. Hoor, dowes, hoor; kom, stommes, bring Hom eer –
laat almal voor Hom buig.
laat almal voor Hom buig.
Hy kom in glorie op wolke eenmaal weer.
Laat ons van vreugde juig.
Laat ons van vreugde juig.
Laat ons van vreugde juig.

4. Vader ons loof, ons eer u Wondernaam
vir goedheid lewenslank,
vir goedheid lewenslank!
Ons eer u grootheid, ons prys U almal saam.
Aan U ons lof en dank!
Aan U ons lof en dank!
Aan U ons lof en dank!

F237. “Hy leef”
(RUBRIEK: Flammikidz – Opstanding)
Teks en musiek: Willie Pretorius
© MAR Gospel Music Publishers

Hy leef, Hy leef,
die graf het oopgegaan.
Hy leef, Hy leef
Hy leef, Hy’t opgestaan.
Hy leef, Hy leef,
dit maak my hart so bly.
Jesus leef in my.
Halleluja! Halleluja!
Jesus leef in my.
Halleluja! Halleluja!
Jesus leef in my.

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Here Jesus, ons loof U vandag,
Omdat U vir ons duidelik gewys het dat die dood nie die laaste woord spreek nie;
Omdat U ons weer kom vul het met hoop en geloof;
Omdat U ons oë kom oopmaak het vir nuwe moontlikhede, nuwe realiteite, nuwe maniere van leef.

Open ons verstand om te glo wat ons nie kan verklaar nie;
Open ons harte om te hoop op wat ons nie kan sien nie;
Open ons lewens om te leef en lief te hê te midde van dood en hartseer;
Laat die opstanding vandag weer in ons gebeur.
Amen.
(Vanaf Sacredise.com)

Skriflesing: Johannes 20:1-18

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Hoewel kinders nie ‘n goeie idee van die dood het nie, en daarom die opstanding net met moeite as konsep sal verstaan, sal hulle kan identifiseer met die feit dat God nie toegelaat het dat die bose mense wen nie.

Jy kan ook met hulle gesels oor geloof. Kry ’n klein beeldjie van ’n olifant en hou dit in jou hand – so dat die kinders dit nie kan sien nie. Vra dan of hulle sal glo dat jy ’n papie in jou hand hou. ’n Skoenlapper? ’n Eier? ’n Blom? En wat as jy sê jy hou ’n olifant? Laat kinders een-een kom loer wat jy in jou hand het en sê wat dit is. Vra dan of die kinders jou nou glo – en wys vir die grootmense wat jy in jou hand het. Verduidelik dat ons soms goed glo, al het ons dit nie gesien nie.

Preekriglyn

Die leë graf

Ons teks begin waar Maria Magdalena, Petrus en die ander dissipel (Johannes) by die graf aankom. Hulle sien die klip is van die graf weggerol. Vir Maria beteken dit net een ding: Hulle het die Here Jesus uit die graf weggevat, en sy weet nie waar Hy nou begrawe is nie.

Petrus en Johannes bekyk die leë graf, maar dit maak nie vir hulle sin nie. Duidelik het die dissipels nie rekening gehou met die moontlikheid dat God Jesus uit die dood sou opwek nie. Vir hulle is die graf, nou die leë graf, nog onverstaanbaar.

Daarom huil Maria. Eers was daar darem nog die liggaam van die Here, wat sy volgens Joodse gebruik sou kon versorg. Maar nou is daar niks. Ook die stoflike oorskot van Jesus is weggeneem en iewers anders begrawe.

Die dissipels, Petrus en Johannes, sien die leë graf. Dan draai hulle om en gaan huis toe. “Hulle het nog nie die Skrif verstaan dat Jesus uit die dood moet opstaan nie.” (vers 9).

Verslaentheid oorheers

Hulle verslaentheid voor die dood is so groot, dat dit nie ruimte laat vir God se ingrepe nie. Stil Saterdag, die dag na Jesus se dood, die dag waarop graf en dood die botoon voer, spoel nog oor na die Sondagmôre vroeg.

Feite, plekke en gebeure kan ook net soveel sê. Hoewel die feite belangrik is, want dit bevestig die gebeure rondom Jesus se opstanding, is dit nog nie genoeg nie. Hoop, uitsig en moed word slegs gebore waar Jesus self die toneel betree.

Die ontmoeting met Jesus

Johannes die evangelis vertel op meesterlike wyse hoe Maria se nagmerrie in ‘n oogwink verander wanneer Jesus Homself aan haar openbaar. Jesus noem haar op haar naam: “Maria!” Oombliklik herken sy, wat vir ‘n oomblik gedink het Hy is die tuinopsigter, vir Jesus. Sy roep uit: “Rabboeni! Leermeester!”

Op hierdie oomblik, in die ontmoeting met die lewende opgestane Jesus, ontdek sy Jesus se ware identiteit. Soos sy dan vir die ander dissipels gaan sê: “Ek het die Here gesien!”

Jesus is Here

Maria en die dissipels se ontdekking van Jesus se ware identiteit as die Here, is die fokus van die Johannes evangelie. Die belofte van Johannes 1 dat Jesus God is, die verskeie “Ek is”-uitsprake oor Jesus in Johannes, soos: “Ek is die lig vir die wêreld” (Joh. 8:12) of “Ek is die Goeie Herder” (Joh. 10:11), dié word nou vervul.

Maria Magdalena eien Hom in die teks as die een wat sy as haar geliefde Leermeester geken het, maar nou ook as meer as dit: “Hy is die Here”, sê sy vir die ander dissipels. En aanstons kry Tomas die twyfelaar die voorreg dat Hy kan sê wie Jesus regtig is: “My Here en my God” (Joh. 20:28).

Jesus leef anderkant die dood

Stil Saterdag word op Paassondag verbreek met die jubeling: Die Here leef! Die Leermeester het as Here opgestaan!

Die opgestane Jesus, waarlik God maar ook waarlik mens, is die eerste skepping van God wat anderkant die dood opgestaan het in ‘n nuwe lewe. Anders as Lasarus, en ander persone wat lewend gemaak is, maar weer sou sterf, leef Jesus nou in die volste sin van die woord anderkant die dood.

Jesus se opstanding lui die doodsklokke vir stil Saterdag. Jesus is die eerste wat uit die dood opgestaan het. Sy opwekking is ‘n belofte van hoop vir die res van God se skepping. Soos sy gebreekte bestaan heel gemaak en opgewek is uit die graf, sal God ook met God se kinders en God se skepping handel.

Die opgestane Here versterk ons geloof

Presies met hierdie doel skryf Johannes se Evangelie. Sy bedoeling is om Christene, wie se lewe en wie se wêreld dikwels deur swaarkry gekasty word, aan te moedig om te bly glo dat Jesus die ware Messias, die Seun van God is.

Ons teks is die hoogtepunt van Johannes se evangelie, want Hy skryf juis hierdie klompie verhale van Jesus se wondertekens, sy gesprekke, en sy verskynings om ons te oortuig dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat ons deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê (Joh. 20:31). Jesus staan op om as die teenwoordige Here ons lewens betekenis te gee.

Geloof gebou op ooggetuies

Ons leef in die wetenskaplike era waar feitelike waarneming, verifikasie en ook falsifikasie belangrik is. Hierdie manier van doen het ‘n groot impak op geloof. Hoekom? Want baie mense gebruik die wetenskaplike metode – waarin alles betwyfel word – om geloof in die opgestane Here te betwyfel. Omdat die opstanding nie in ‘n laboratorium herhaal kan word nie, sê mense dit maak nie sin om te glo nie. Met groot oortuiging word dan ‘n teorie ontwerp wat sê Jesus het nooit opgestaan nie, want ons kan dit nie vandag in ‘n laboratorium herhaal nie.

Trouens daarom bestaan God ook nie, omdat jy nie met feitelike waarneming in ‘n laboratorium God se bestaan kan verifieer nie. En wonderwerke kan per definisie nie plaasvind nie, omdat jy dit nie in ‘n laboratorium kan bewys deur eksperimente nie.

Christene is natuurlik nooit teen wetenskaplikheid as sodanig nie. Wetenskapsbeoefening maak ons wêreld ‘n beter plek. Dit bekamp baie lyding en laat ons met groter verwondering oor die glorie van God.

Die vraag is egter of wetenskaplike verifikasiemetodes vir alles in die wêreld gebruik kan word. Dit werk goed vir feitelike waarneming in terme van fisika, chemie, biologie, geologie en so meer. Maar dit werk nie so goed met alles in die menslike, sosiale en historiese dissiplines nie. Daar is net te veel veranderlikes wat ontoetsbaar is of doodgewoon nie met instrumente waargeneem kan word nie. En om die bestaan of nie-bestaan van iets te beoordeel op grond van wat jyself kan waarneem of nie, is ‘n onaanvaarbare en eintlik arrogante reduksie van die wêreld om ons tot net die wêreld van jou eie waarnemings.

‘n Mens moet in die menslike, sosiale en historiese dissiplines baie keer werk met ervarings en getuienisse wat jy nie in ‘n laboratorium kan reduseer tot ‘n beperkte aantal toetsbare veranderlikes om as waar of vals te bewys nie. Jy kan ervarings en getuienisse beter ondersoek deur dit aan interpretasie en vrae van sin en betekenis te onderwerp om só by die waarheid daarvan uit te kom.

Met geloof is dit nie anders nie. Ons werk met ervarings en getuienisse – nie net persoonlik en in die hede nie, maar ook in terme van gebeure in die samelewing en getuienisse daarvan deur die eeue.

In ‘n boek wat diep hieroor nadink en tog maklik lees, Jesus, A very short introduction, skryf Richard Bauckham (gerespekteerde Nuwe Testamentikus) hieroor. Hy wys op belangrike oorwegings wat ons kan aanlê om die historiese waarheid en betekenis van die opstandingsverhaal te verreken:

  • Die evangelies doen moeite om te vertel dat daar ooggetuies was wat die leë graf en die opgestane Here gesien het. Maria Magdalena was een van vier vroue (wat genoem word) by Jesus se kruis. Hulle het Hom sien sterwe. Hulle was by sy begrafnis, het Hom self in doeke toegedraai. Hulle het gesien hoe die klip voor die graf toegerol is. Hulle het eerstehands ervaar dat Jesus wreedaardig gesterf het, en het geweet dat Hy beslis nie meer gelewe het nie. Daarom is dit so belangrik om te hoor dat Maria Magdalena op hierdie Sondagmôre die eerste was om die leë graf te sien en uiteindelik die lewende Here Jesus self ontmoet. En hierna sou daar ‘n hele reeks van mense volg wat die lewende Here Jesus self sou ontmoet – almal ooggetuies wie se getuienis die toets van hulle eie tyd sou deurstaan, ten spyte van teenstand van die Jode af.
  • Vroue was die eerste getuies van die opstanding. In die antieke wêreld is vroue nie as betroubare getuies gereken nie. Ons sien dit ironies genoeg in die feit dat die eerste manlike dissipels sukkel om Maria Magdalena se getuienis te glo. Daarom hardloop hulle om self te gaan kyk – net om presies dieselfde te sien en ervaar as Maria Magdalena. As die opstandingsverhale opgemaakte stories was, sou die skrywers waarskynlik eerder manlike karakters die hoofspelers gemaak het. Die evangeliste kon doodgewoon begin het met die storie van Petrus en Johannes. Die feit dat hulle getrou bly aan die feite, dat vroue die eerste getuies was, bevestig dus die betroubaarheid van die getuienis.
  • Die dissipels ontmoet die opgestane Here by verskeie geleenthede. Paulus verskaf ‘n hele lys van 6 sulke persoonlike ontmoetings (1 Kor. 15), onder andere ook ‘n verskyning aan ‘n groep van 500 mense op ‘n keer en interessant genoeg ook ‘n verskyning aan Jakobus, Jesus se broer, wat later die leier van die kerk in Jerusalem sou word. Terwyl Paulus skryf, leef die meeste van hierdie mense nog. Enigeen kon hulle gaan raadpleeg en die waarheid van hulle verhale gaan bevestig. En niemand betwis hulle ervarings en getuienis nie. Daarom sê Bauckham:

The kind of evidence Paul offers is the personal testimony of many specific people who each had a story to tell – not, of course, of some neutrally observable fact, but of something extraordinary that happened to them and turned their lives around. These were the people still living out of the events to which they testified (p 106)

Uit Johannes, Paulus en die ander evangeliste se beskrywing van die opgestane Jesus kan ‘n mens agterkom dat Jesus herkenbaar is, steeds kommunikeer soos ons dit doen, en ‘n werklike, verheerlikte liggaam het, want ‘n mens kan aan Hom vat, en Hy gee vir hulle kos om te eet. Maar Hy is ook anders, omdat Hy kan verskyn en verdwyn soos Hy wil. Hy is dus nie aan ruimte gebonde soos die dissipels nie. En telkens verander Hy die lewe van dié aan wie Hy verskyn het.

Dit maak dus sin, heeltemal rasioneel sin, om jou geloof op hierdie getuienis te bou. Die ervarings en getuienisse van hierdie groot groep dissipels bevestig die ontmoeting van die Here Jesus as opgestane werklikheid, ‘n werklikheid wat gou die hele wêreld aan die praat gehad het en wat selfs in die geskiedskrywing van ‘n hele aantal nie-gelowiges historici ‘n neerslag gekry het, Josephus en Tacitus, om twee te noem.

Die teenwoordige Jesus

Sien, ‘n mens moet versigtig wees dat jy nie by die leë graf en die doek vashaak nie. Ten diepste glo Christene nie in die leë graf nie. Ons glo selfs in veel meer as die objektiewe feit van die opstanding. Ons glo in die lewende Here Jesus. En ons glo in die nabyheid en teenwoordigheid van hierdie Here, tot vandag toe. Ons glo … in die Here!

Dit kan wees dat ons dalk te veel oor die historiese waarheid en werklikheid van die opstanding praat, en hopeloos te min oor die teenwoordigheid van die Here Jesus. Die leë graf fassineer ons miskien net te veel. Dit is immers die teenwoordige Jesus wat ons lewens verander en wat ons fokus moet wees.

Reeds in die Johannesevangelie verander hierdie lewende Here Jesus lewens sovêr Hy gaan:

  • Maria se trane word afgedroog en vervang met vreugde.
  • Tomas se twyfel verdamp voor die nabyheid van Jesus, en word vervang met geloof.
  • Die dissipels se lewens word gevul met vreugde en vrede.
  • Die weifelende, onseker Emmaüsgangers word getuies van die opgestane Here met brandende harte.
Draers van hoop

Jesus skep ‘n nuwe, dinamiese beweging. Maria Magdalena word ‘n draer van hoop. Sy gaan na die dissipels en getuig sy het die Here gesien! Só verander die lewende Here Jesus Petrus en Johannes se lewe, asook Tomas s’n en Jakobus en Paulus en honderde Christen getuies in die eerste jare van die kerk se bestaan. En almal van hulle word draers van hoop – die hoop op die lewende Here Jesus, die hoop op die ewige lewe wat nie eers eenmaal aanbreek nie, maar nou sin en betekenis vir ons lewe bring.

Johannes sluit hierdie evangelie af deur vir ons te vertel dat Jesus sy dissipels die Heilige Gees gee, en hulle betroubare en kragtige draers van sy troosvolle, bemoedigende en versterkende teenwoordigheid maak: “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle…”

Dit is aan hulle te danke dat ons vandag mense is wat self getuies is van die lewende Here Jesus en wat dié boodskap nie net voortleef in hierdie wêreld nie, maar ook vir ander daarvan vertel.

God stuur ons om te leef

Gebed

Offergawes

Wegsending: Lied 421 “Die Here Jesus lewe vs 1,2,3”

Seën
Liturg: Jesus Christus is die opstanding en die lewe.
Gemeente: Hy is ons vrede.

Liturg: Wie in hom glo, sal in ewigheid nie sterwe nie.
Gemeente: Hy is ons vrede, nou en tot in ewigheid. Amen
(Uit: Handleiding vir die Erediens, B.M.)

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonkk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.
of
VONKK 277 – U is die lig wat deur die donker skyn
Teks: Hannes van der Merwe 2014 ©
Melodie: HIGHLAND CATHEDRAL – Uli Rover en Michael Korb
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2014 (Pro Deo)
Musikale verryking 1en 2: Gerrit Jordaan 2014 ©
© Teks, orrelbegeleiding en musikale verrykings: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Church Hymnary Trust, Admin SCM-Canterbury Press Ltd. Met toestemming gebruik.

1. U is die lig wat deur die donker skyn.
U is die Een wat duister laat verdwyn.
Skyn in ons harte, dryf die donker uit.
Skyn in ons lewens tot in ewigheid.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.

2. U is oorwinnaar, U’t die dood verslaan.
U het as Koning uit die graf gegaan.
Breek nou die bande, gooi die boeie neer.
Ons is oorwinnaars saam met U, ons Heer.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.

3. U is die Bruidegom en ons u Bruid.
U nooi ons vir die bruilofsmaaltyd uit.
Daar klink ons lof, daar klink ons danklied uit.
Ons bly by U tot in ewigheid.