Paassondag

Sections

Oorsig

Paasfees is die glimlag van God. Van al die wonderlike dae in die kerklike jaar is Paasfees die belangrikste vir die kerk van die Here Jesus. Izak de Villiers skryf: “Op ‘n manier sal elke gebed verhoor word. Trane sal altyd weer afgedroog word. Op ashope sal blomme oopgaan. En die son sal altyd weer skyn op ‘n Paasmôre, met die gejubel: Die Heer het opgestaan!” (Izak de Villiers, 2003. Die glimlag van God: In die gewone skuil die Goddelike. Wellington: Lux Verbi).

In die vroeë kerk was Paasfees dié geleentheid vir die bediening van die doop en vir nuutgedoopte lidmate om vir die eerste keer die nagmaal te vier. In die teenstrydigheid van Goeie Vrydag en Paasfees word die ganse lewe van die kerk gebore en gevier; daarom kon die vroeë kerk nie anders nie as om ‘n groot gewag te maak van die viering van die doop en die nagmaal op hierdie dag van alle dae. Elke aspek van ‘n feesdiens op Paassondag gee uitdrukking aan die opstanding van Jesus Christus as die glimlag van God.

Daarom is dit ‘n wonderlike geleentheid vir die liturg en die gemeente om vanuit die bronne van die tradisie sowel as van ons kontemporêre lewe te put met die oog op ‘n roerende en feestelike viering van die opstanding van Christus. In hierdie liturgie val die klem op die tradisionele viering van Paasfees.

Sleutelteks

1 Korintiërs 15:19-26
19Indien ons hoop slegs vir hierdie lewe op Christus gevestig is, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense. 20Maar nou, Christus ís opgewek uit die dood – die eersteling van die ontslapenes. 21Want aangesien die dood deur ‘n mens gekom het, kom die opstanding van dooies ook deur ‘n mens. 22Want soos almal deur Adam sterf, so sal almal in Christus lewend gemaak word; 23maar elkeen volgens ‘n bepaalde orde: as eersteling Christus, daarna, met sy koms, hulle wat aan Christus behoort. 24Dan kom die einde, wanneer Hy die koningsheerskappy aan God, die Vader, sal oorgee, wanneer Hy alle heerskappy en gesag en mag vernietig het. 25Want Christus moet as koning regeer totdat “Hy al die vyande onder sy voete gestel het”.26Die laaste vyand wat vernietig moet word, is die dood.

27“Want Hy het alles onder sy voete gestel.” Maar wanneer Hy sê dat alles onderwerp is, is dit duidelik dat dit met die uitsondering is van Hom wat alle dinge aan Christus onderwerp het. 28Wanneer alles aan Hom onderwerp is, sal die Seun Homself onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal sal wees. 29Anders, wat sal diegene wil bereik wat hulleself ter wille van die dooies laat doop? Indien dooies glad nie opgewek word nie, waarom laat hulle hulle ter wille van dooies doop? 30En waarom stel ons ons van uur tot uur in gevaar? 31So waar as wat ek van dag tot dag in doodsgevaar verkeer, so waar is dit, broers, dat julle my rede tot roem is in Christus Jesus, ons Here. 32As ek in Efese as ‘n sterflike mens teen wilde diere geveg het, van watter nut was dit vir my? As dooies nie opgewek word nie, “laat ons eet en drink, want môre sterf ons”. 33Laat julle nie mislei nie: “Slegte geselskap bederf goeie sedes.” 34Wees nugter in julle denke, soos dit hoort, en moenie sondig nie. Sommige van julle het helaas geen kennis van God nie. Dit sê ek tot julle skande.

Ander tekste

Handelinge 10:34-43
Petrus se toespraak by Kornelius
34Toe het Petrus aan die woord gekom en gesê: “Waarlik, ek begryp nou eers dat God nie onderskeid maak nie, 35maar in enige volk die mense aanneem wat Hom vereer en doen wat reg is. 36Julle weet dat God aan Israel sy woord gestuur het, naamlik die evangelie van vrede wat Jesus Christus gebring het. Hierdie Jesus is Here van almal. 37Julle weet ook van die gebeurtenisse dwarsdeur die hele Joodse land. Dit het in Galilea begin ná die doop wat Johannes verkondig het. 38Julle weet van Jesus van Nasaret, dat God Hom met die Heilige Gees gesalf en met krag toegerus het. Hy het rondgegaan, oral goeie werke gedoen en almal gesond gemaak wat in die mag van die duiwel was, want God was by Hom.

39“En ons is getuies van alles wat Hy in die Joodse land en in Jerusalem gedoen het. Hulle het Hom doodgemaak deur Hom aan die kruis te hang. 40Maar God het Hom op die derde dag uit die dood opgewek en Hom laat verskyn, 41nie aan die hele volk nie, maar net aan ons vir wie God reeds gekies het om getuies daarvan te wees, ons wat ná sy opstanding uit die dood saam met Hom geëet en gedrink het. 42Hy het ons opdrag gegee om aan die volk te verkondig en te bevestig dat dit Hy is wat deur God aangestel is as Regter oor lewendes en dooies. 43Van Hom getuig al die profete dat elkeen wat in Hom glo, vergewing van sondes deur sy Naam ontvang.”

Psalm 118:1-2, 14-24
Die Here doen kragtige dade
118 Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie!d

2Israel moet getuig:
“Aan sy liefde is daar geen einde nie.” 

14Die Here is my krag en my beskerming.
Dit is Hy wat my gered het!
Hoor die gejuig
in die laer van die oorwinnaars:
“Die Here doen kragtige dade,
16die Here triomfeer,
die Here doen kragtige dade!”
17Ek sal nie sterwe nie, ek sal lewe
en van die dade van die Here getuig.
18Die Here het my swaar gekasty,
maar my nie aan die dood
oorgegee nie.
19Maak die tempelpoort vir my oop:
ek wil ingaan en die Here loof.
20Dit is die poort na die Here toe;
regverdiges mag daardeur ingaan.
21Ek wil U loof
omdat U my gebed verhoor
en my gered het.
22Die klip wat deur die bouers
afgekeur is,
juis hy het die belangrikste klip
in die gebou geword.
23Dit is deur die Here gedoen
en is ’n wonder in ons oë!
24Dit is die dag
wat die Here gemaak het;
laat ons daaroor juig en bly wees.

Johannes 20:1-18
Die leë graf

(Matt 28:1–8; Mark 16:1–8; Luk 24:1–12)
20 Die Sondagmôre vroeg, toe dit nog donker was, kom Maria Magdalena by die graf en sien dat die klip van die graf af weggerol is. 2Sy hardloop toe en gaan na Simon Petrus en na die ander dissipel toe vir wie Jesus baie lief was, en sê vir hulle: “Hulle het die Here uit die graf weggevat, en ons weet nie waar hulle Hom nou begrawe het nie.”

3Petrus en die ander dissipel het toe uitgekom en na die graf toe gegaan. 4Die twee het saam begin hardloop, maar die ander dissipel het vinniger as Petrus gehardloop en eerste by die graf gekom. 5Toe hy vooroor buk, sien hy die doeke lê, maar hy het nie ingegaan nie. 6Ná hom het Simon Petrus ook daar aangekom, en hy het in die graf ingegaan. Hy sien toe die doeke daar lê, 7ook die doek wat om Jesus se kop was. Dié doek het nie by die ander doeke gelê nie, maar was eenkant afsonderlik opgerol. 8Daarna het die ander dissipel, wat eerste by die graf gekom het, ook ingegaan, en hy het dit ook gesien en geglo.

9Hulle het nog nie die Skrif verstaan dat Jesus uit die dood moet opstaan nie.
10Daarna het die dissipels weer huis toe gegaan.

Jesus verskyn aan Maria Magdalena
(Matt 28:9–10; Mark 16:9–11)

11Maar Maria het buite by die graf bly staan en huil. Terwyl sy huil, het sy vooroor gebuk om in die graf in te kyk. 12Toe sien sy twee engele met wit klere aan daar sit waar die liggaam van Jesus gelê het, een waar die kop en een waar die voete was. 13Hulle vra toe vir haar: “Mevrou, waarom huil jy?”
Sy antwoord hulle: “Omdat hulle my Here weggevat het en ek nie weet waar hulle Hom nou begrawe het nie.”

14Nadat sy dit gesê het, het sy omgedraai en vir Jesus daar sien staan, maar sy het nie geweet dat dit Hy is nie. 15Jesus vra haar toe: “Mevrou, waarom huil jy? Vir wie soek jy?”

Sy het gedink dit is die tuinopsigter, en sy het vir hom gesê: “Meneer, as u Hom weggevat het, sê vir my waar u Hom begrawe het, en ek sal Hom daar gaan haal.”

16Jesus het vir haar gesê: “Maria!”

Sy draai na Hom toe en sê in Hebreeus vir Hom: “Rabboeni!” Dit beteken leermeester.

17Jesus sê toe vir haar: “Moet My nie vashou nie, want Ek het nog nie na die Vader toe opgevaar nie. Maar gaan na my broers toe en sê vir hulle: ‘Ek vaar op na my Vader toe, wat ook julle Vader is, na my God, wat ook julle God is.’”

18Maria Magdalena het toe vir die dissipels gaan sê: “Ek het die Here gesien!” En sy het ook vertel wat Hy vir haar gesê het.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 409 “Hoor jy die Paasfeesklokke vs 1,2,3”

Aanvangswoord
Seëngroet  

Lied 411 “Kom almal laat jul stem verrys vs 1,2,3”

Die Paasgebeure: Paasfees illustreer ook die eeue-oue waarheid van HK Vraag en antwoord 2:

Die Heidelbergse Kategismus
Vraag 2: Hoeveel dinge moet jy weet om in hierdie troos salig te kan lewe en sterwe ?
Antwoord: Drie dinge:

Ten eerste hoe groot my sonde en ellende is;
ten tweede hoe ek van al my sonde en ellende verlos kan word en
ten derde hoe ek God vir so ’n verlossing dankbaar moet wees.

A Die sonde van die mensdom word bondig saamgevat in Petrus se verwysing na die vergrype aan die Seun van die Mens in Handelinge 10:
B Die kruisgebeure en die opstanding illustreer die verlossingsakte van Christus…
C Nou kan ons ‘n dankbaarheidslewe leef: Paulus het dit oa saamgevat in sy brief aan die Kolossense 3

Geloofsbelydenis
Doop (Indien doop bedien word)
Doop en/of doopherinnering

Loflied: Lied 417 “Jesus ons eer U (opgestane Heer) vs 1,2”

Epiklese

Skriflesing: 1 Korintiërs 15:19-26

Familie-oomblik
Prediking

Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 421 “Die Here Jesus lewe vs 1,2,3”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1.  Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
of 
VONKK 277 “U is die lig wat deur die donker skyn”
Teks: Hannes van der Merwe 2014 ©
Melodie: HIGHLAND CATHEDRAL – Uli Rover en Michael Korb
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2014 (Pro Deo)
Musikale verryking 1en 2: Gerrit Jordaan 2014 ©
© Teks, orrelbegeleiding en musikale verrykings: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Church Hymnary Trust, Admin SCM-Canterbury Press Ltd. Met toestemming gebruik.

U is die lig wat deur die donker skyn.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 409 “Hoor jy die Paasfeesklokke vs 1,2,3”

Aanvangswoord  
Voorganger: Die Heer het opgestaan!
Gemeente: Die Heer het waarlik opgestaan!

Voorganger: Die Heer het opgestaan!
Gemeente: Die Heer het waarlik opgestaan!
of 
V: Christus is opgewek uit die dood
G: as Eersteling uit dié wat gesterf het.

V: Maar daar is ’n volgorde: die Eersteling is Christus,
G: daarna, by Christus se koms, dié wat aan Hom behoort.

V: Daarna kom die einde, wanneer Hy sy koningskap aan God die Vader oordra,
G: nadat Hy elke mag, elke gesag en krag vernietig het.

V: Hy moet as koning heers
G: totdat die Vader al sy vyande aan Hom onderwerp het.

V: Die laaste vyand wat vernietig word,
G: is die dood.

V: Gemeente, die Heer het opgestaan!
G: Die Heer het waarlik opgestaan!
– uit 1 Korintiërs 15

Seëngroet  
V: Genade en vrede vir julle van Hom wat Christus uit die dood opgewek en Hom met die Heilige Gees en met krag gesalf het.
G: Die Heer het waarlik opgestaan!

Lied 411 “Kom almal laat jul stem verrys vs 1,2,3”

Die Paasgebeure: Paasfees illustreer ook die eeue-oue waarheid van HK Vraag en antwoord 2:

Die Heidelbergse Kategismus
Vraag 1:  Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe ?
Antwoord:  Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus, behoort. Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos. Hy bewaar my op so ’n wyse dat, sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie. Alles moet inderdaad tot my saligheid dien. Daarom verseker Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe.

Vraag 2: Hoeveel dinge moet jy weet om in hierdie troos salig te kan lewe en sterwe ?
Antwoord:Drie dinge:
Ten eerste hoe groot my sonde en ellende is; 
ten tweede hoe ek van al my sonde en ellende verlos kan word en 
ten derde hoe ek God vir so ’n verlossing dankbaar moet wees.

A Die sonde van die mensdom word bondig saamgevat in Petrus se verwysing na die vergrype aan die Seun van die Mens in Handelinge 10:

34Toe het Petrus aan die woord gekom en gesê: “Waarlik, ek begryp nou eers dat God nie onderskeid maak nie, 35maar in enige volk die mense aanneem wat Hom vereer en doen wat reg is. 36Julle weet dat God aan Israel sy woord gestuur het, naamlik die evangelie van vrede wat Jesus Christus gebring het. Hierdie Jesus is Here van almal. 37Julle weet ook van die gebeurtenisse dwarsdeur die hele Joodse land. Dit het in Galilea begin ná die doop wat Johannes verkondig het. 38Julle weet van Jesus van Nasaret, dat God Hom met die Heilige Gees gesalf en met krag toegerus het. Hy het rondgegaan, oral goeie werke gedoen en almal gesond gemaak wat in die mag van die duiwel was, want God was by Hom.

39“En ons is getuies van alles wat Hy in die Joodse land en in Jerusalem gedoen het. Hulle het Hom doodgemaak deur Hom aan die kruis te hang.

B Die kruisgebeure en die opstanding illustreer die verlossingsakte van Christus…

Psalm 118
22Die klip wat deur die bouers
afgekeur is,
juis hy het die belangrikste klip
in die gebou geword.
23Dit is deur die Here gedoen
en is ’n wonder in ons oë!
24Dit is die dag
wat die Here gemaak het;
laat ons daaroor juig en bly wees. 

Johannes 20
14Nadat sy dit gesê het, het sy omgedraai en vir Jesus daar sien staan, maar sy het nie geweet dat dit Hy is nie. 15Jesus vra haar toe: “Mevrou, waarom huil jy? Vir wie soek jy?”

Sy het gedink dit is die tuinopsigter, en sy het vir hom gesê: “Meneer, as u Hom weggevat het, sê vir my waar u Hom begrawe het, en ek sal Hom daar gaan haal.”

16Jesus het vir haar gesê: “Maria!”
Sy draai na Hom toe en sê in Hebreeus vir Hom: “Rabboeni!” Dit beteken leermeester.
18Maria Magdalena het toe vir die dissipels gaan sê: “Ek het die Here gesien!”

Handelinge 10
40Maar God het Hom op die derde dag uit die dood opgewek en Hom laat verskyn, 41nie aan die hele volk nie, maar net aan ons vir wie God reeds gekies het om getuies daarvan te wees, ons wat ná sy opstanding uit die dood saam met Hom geëet en gedrink het.
C Nou kan ons ‘n dankbaarheidslewe leef: Paulus het dit oa saamgevat in sy brief aan die Kolossense…

Kolossense 3
3 Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit. 2Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie, 3want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God. 4Wanneer Christus, wat julle lewe is, by sy wederkoms verskyn, sal julle ook saam met Hom verskyn en in sy heerlikheid deel.

Geloofsbelydenis
V: Saam met die eerste volgelinge van Christus bely ons ons geloof in Hom.

Met Johannes die Doper:
G: Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!

V: Met Andreas:
G: Ons het die Messias gekry!

V: Met Natanael:
G: Rabbi, U is die Seun van God; U is die Koning van Israel!

V: Met die Samaritane:
G: Ons weet dat Hy waarlik die Verlosser van die wêreld is.

V: Met Simon Petrus:
G: U is die Christus, die Seun van die lewende God.

V: Met Maria Magdalena:
G: My Meester!

V: Met Tomas:
G: My Here en my God!

V: En nou ook met die universele kerk, versprei oor alle lande, tale en kulture.
G: Bely die Apostoliese Geloofsbelydenis hardop saam.

Doop: (Indien doop bedien word)

Doop en/of doopherinnering
V: Dit is my troos dat ek gedoop is,
G: dat ek gedoop is in u Naam,

V: want deur die doop is ek verseker
G: dat U in guns U nooit nie skaam

V: as Vader, Seun en Heil’ge Gees
G: om ook my God genoem te wees.

V: Dit is my troos dat U, Heer Jesus,
G: as Seun my deur u bloed wil was;

V: dat U my inlyf in u sterwe
G: en vrymaak van my sondelas,

V: dat U my met U óp laat staan
G: en op ’n nuwe weg laat gaan.
– uit Lied 290 “Dit is my troos dat ek gedoop is”

Loflied 417 Jesus ons eer U (opgestane Heer) vs 1,2

Liedere

Flam 175
(RUBRIEK:  Kontemporêr – Vergifnis / Lof / Geloofsbelydenis)
Teks en Musiek: Elsche van Wyk
© 2006 MAR Gospel Music Publishers

Refrein:
Vry ons is vry
Deur Sy bloed en Sy genade is ons vry
Ons is vry. Van die pyn
En smart het Jesus ons bevry
Heer elke dag is ’n belofte
Elke oomblik net geleen
Die ganse heelal bring U ere
Deur U Seun is ons vergeef
Verlos van sonde en die dood
Aan die kruis het U gely
En Here ons sê dankie
Dankie Here ons is vry
Heer U verlos ons deur genade
U vergewe en vergeet
Die kruis van Golgota bring lewe
En reddingskrag is hier vir my
Deur Jesus Christus is daar lewe
Elke knie sal voor Hom buig
U’t ons vrygemaak van sonde
En die vyand is oorwin

F237. “Hy leef”
(RUBRIEK:  Flammikidz – Opstanding)
Teks en Musiek: Willie Pretorius
© MAR Gospel Music Publishers

Hy leef,  Hy leef
Die graf het oopgegaan

Hy leef,  Hy leef
Hy leef,  Hy’t opgestaan

Hy leef,  Hy leef
Dit maak my hart so bly

Jesus leef in my
Halleluja!  Halleluja!

Jesus leef in my.
Halleluja!  Halleluja!

Jesus leef in my.

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Here, ek wil aan U dink, U ken, U liefhê.
Laat u Woord in my groei
totdat U my volmaak verander het
en ek lewe soos Jesus gelewe het.
Amen.
– Augustinus
of
God van vrede,
U het ons Here Jesus Christus uit die dood opgewek.
Sy dood het ons dood vernietig.
Sy opstanding het vir ons die lewe gebring.
Hy is ons goeie Herder.
Here Jesus, laat ons oplet na u stem.
Vorm ons soos U ons wil hê.
Doen dit nou deur ons u stem in u Woord te laat hoor.

Skriflesing: 1 Korintiërs 15:19-26

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Johannes se opstandingverhaal in die Nuwe Testament vir kinders…
(Die Nuwe Testament vir Kinders deur Stephan Joubert, Jan van der Watt en Hennie Stander, 1999.)

Jesus Staan op en Verskyn aan sy Volgelinge
20     1–10 Dit was nog skemer, die Sondagmôre, toe Maria Magdalena al by die graf kom. Sy sien toe dat die groot klip voor die graf weggerol is. Sy hardloop na Simon Petrus en die ander vriend waarvan Jesus baie gehou het toe. “Die Here is nie meer in die graf nie. Hy’s weg,” sê sy. “En ek weet nie waarheen hulle Hom gevat het nie.”

Petrus hardloop toe saam met die ander vriend na die graf toe. Die vriend was vinniger as Petrus en was eerste by die graf. Hy loer by die graf in en sien die lappe eenkant lê. Petrus storm toe sommer in die graf in. (Die graf was soos ’n kamer.) Hy sien die lappe daar lê. Die spesiale doek wat oor Jesus se gesig was, was mooi opgevou daar eenkant. Die vriend het toe ook in die graf ingegaan. Hy het weer na die lappe gekyk en in alles geglo wat Jesus gesê het. Hulle het voorheen nie geweet wat die Bybel bedoel dat Jesus moes sterf en weer uit die dood moes opstaan nie. Nou het hulle geweet. Hulle is terug huis toe.

11–18 Maria het by die graf gebly. Sy was hartseer. Sy loer toe by die graf in. Daar het twee hemelse wesens op die plek gesit waar Jesus se liggaam gelê het. Die een het gesit waar sy voete was en die ander by sy kop. Hulle klere het geblink. “Hoekom huil jy so?” vra hulle haar.

“Hulle het my Here se liggaam weggevat. Ek weet nie waar Hy is nie,” sê Maria. Sy kyk toe om. Daar staan Iemand. Dit was Jesus. Sy het Hom nie herken nie.

“Hoekom huil jy?” vra Jesus. “Wie soek jy?” Maria het gedink dit is die tuinier. “Asseblief, as jy die liggaam gevat het, sê my waar dit nou is. Ek sal dit versorg.”

“Maria!” sê Jesus. Sy draai vinnig om en sê: “Rabbi.” In Hebreeus* beteken dit “onderwyser.”

“Moenie nou aan My vat nie,” sê Jesus. “Ek is nog op pad na my Vader toe. Gaan na my broers toe en sê vir hulle: “Ek gaan na my Vader toe en na julle Vader toe; na my God en na julle God toe.”

Maria Magdalena gaan toe na Jesus se vriende toe. “Ek het die Here lewendig gesien,” roep sy uit. Sy vertel hulle toe alles wat Jesus vir haar gesê het.

Die blokraaisel sal ons help om die Hebreeuse woord (regaf) vir Jesus te verstaan…

Leidrade (ahv meegaande teks):

  1. die klip by die graf word so beskryf
  2. Maria het hierdie man aangesien vir Jesus
  3. hiermee was die Here se gesig toegedraai
  4. die engele se ….. het geblink
  5. Maria se bestemming die Sondagoggend
  6. Johannes se naam vir die engele
  7. Maria het …… (nie met die dissipels saamgegaan nie)
  8. omdat sy gedink het Jesus is dood, was Maria …..
  9. die tyd van die oggend to Maria by die graf aangekom het
  10. die naam wat Maria Jesus noem as sy Hom herken


Oplossing

Preekriglyn

In 1 Korintiërs 15 lees ons baie gemeentelede in die kerk in Korinte kies om nie in die opstanding te glo nie. Die gemeente is verdeel en daar ontstaan baie vrae en onsekerheid veral rakende die opstanding. Wat tot hierdie onsekerheid bydra, is die feit dat Korinte ‘n kosmopolitiese stad in die middel van Griekeland is. Dit is ook ‘n groot hawestad met baie besoekers wat elkeen hulle eie idees en filosofieë verkondig, en so word Paulus maar een van hierdie besoekers.

Paulus se uitdaging is om die evangelie wat die vervulling van Israel se hoop op God is te vertaal na die Griekse konteks, en om gelowiges uit die Griekse denkwêreld te help om sin te maak van die lewegewende dade van God in die geskiedenis.

Die opwekking van Jesus uit die dood, is die mees verrassende gebeure ooit. Geen Jood het verwag dat die Messias sou ly en sterf nie – en dan nog op die skandelike weg van ‘n kruis. Dat God dan sy Messias op die derde lewend maak en toon dat Jesus werklik die Seun van God en die hoop van die wêreld is – dit slaan mens se asem weg.

Hierdie kragtige ingrype van God om die mag van dood en die magte van verwoesting te oorwin, sonde te vergewe, en vir die skepping ‘n nuwe toekoms te gee, moet wêreldwyd verkondig word. Wat God aan Jesus gedoen het (Hom lewend gemaak het) beplan God vir elke volgeling van Jesus en vir God se hele skepping.

Vertel dit nou vir mense wat hierdie God nie ken nie.

Struikelblokke

Vir die Griekse gelowiges in Korinte was veral twee dinge struikelblokke:

  • Die Grieke het ‘n ander siening van tyd gehad. Vir hulle was tyd soos ‘n wiel wat al in die rondte draai. Tyd het nie ‘n begin of ‘n einde nie. Vir die Joodse wêreld het tyd ‘n begin en ‘n einde. God het alles begin, en alles stuur af op die toekoms wat God vir die skepping weggelê het wanneer Jesus weer kom en God se nuwe wêreld ‘n werklikheid word. ‘n Onaanvaarbare veronderstelling vir die Grieke. Vir hulle was dit verregaande om te dink tyd kan op enige gegewe oomblik eindig.
  • Vir die Grieke was die liggaam en die materiële met die veranderlikheid daarvan sleg. Vir hulle het die mens ‘n onsterflike siel, en by die dood word die siel bevry van die slegte liggaam waarin dit ingekerker is. Dit is nie goeie nuus om te glo in die opstandingvan die liggaam nie.

Om dus in hierdie Griekse konteks oor die opstanding te preek, was ‘n uitdaging. Tog was dit goeie nuus dat God die wêreld in Christus aangeraak het. Dat lewe anderkant die dood moontlik is omdat God Christus weer lewend gemaak het.

Kom ons kyk kortliks na Paulus se redevoering in ons teks.

Hooffokus

Paulus se argument en die hooffokus van hierdie hoofstuk is om die werklikheid van Christus se opstanding aan die Griekssprekende gemeentelede in Korinte oor te dra. Dit is ‘n historiese feit. Hierdie feit keer al die veronderstellings wat ons oor lewe en dood het op sy kop. Die Grieke sukkel egter om die opstanding uit die dood te verstaan of dit te glo en om as geloofsleer te aanvaar.

Vooraf

Vers 19 is eintlik ‘n slotvers van die vorige gedeelte wat in vers 12 begin. In die voorafgaande verse maak Paulus die volgende logiese afleidings oor die siening dat daar nie ‘n opstanding ná die dood is nie:

  • Dan is Christus ook nie uit die dood opgewek nie (v 13).
  • Dan is Paulus se verkondiging sinloos, en so ook die gemeente se geloof (v 14).
  • Dan is die Korintiërs se geloof verniet (v 14a, 17b).
  • Dan word die apostels as vals getuies vir God bevind (v 15).
  • Dan verkeer ons steeds in ons sonde (v 17).
  • Dan is ook diegene wat in Christus ontslaap het, verlore (v 18).

In die verse wat volg, argumenteer Paulus verder dat indien ‘n Christen se hoop tot hierdie lewe beperk word en nie die hoop in die opstanding insluit nie, is ons die mees bejammerenswaardige omdat ons hoop dan bloot in ‘n illusie opgesluit is.

Eersteling

Vers 20 begin met ‘n tydsaanduiding: “Maar nou.” Hiermee begin Paulus ‘n ander werklikheid beskryf as die werklikheid waar die dood heers. Ons leef nou in die Goddelike werklikheid waarin Christus uit die dood opgewek is. Dit is interessant dat die werkwoord in ‘n passiewe vorm gebruik word: “Christus ís opgewek.” Dit plaas die klem daarop dat dit God is wat die aktiewe opwekkingswerk gedoen het.

Christus is die Eersteling wat opgewek is. “Eersteling” verwys hier na die gebruik dat die eerste vrug of oes aan God gewy is. Op hierdie eerstelingvrug volg die volle oes.

Deur een mens

Vers 21-22 verwoord iets oor sonde, verlossing, dood en lewe. Paulus argumenteer dat die dood deur een man, Adam, na die aarde gekom het deur sy ongehoorsaamheid – dit beteken dat almal wat ná Adam sou kom ook hieraan onderwerp is. Paulus herinner ons aan sy verstaan van die geloof dat sonde en die dood deur Adam die mens ‘n slaaf kom maak het (sien ook Rom. 5:12-21).

Nou kom die lewe ook na die aarde deur een Man: Jesus Christus. Deur ons doop word ons in Christus se dood ingesluit en is ons dood vir die sonde. Tog het die dood steeds ‘n sê oor ons sterflike bestaan. Hierin lê die punt van Paulus se argument: Ook van hierdie sterflikheid kan ons, in Christus, verlos word. Hy beklemtoon: Ons is passief in hierdie saak, met ander woorde, dit is Christus wat ons opwek, en dit is iets wat in die toekoms sal gebeur.

Ons het dus nie ‘n onsterflike siel wat ná ons dood sal aanhou leef nie – ons besit nie onsterflikheid nie, ons moet die ewige lewe uit God se hand ontvang. Ons het eerder sterflike liggame wat sal sterf, maar deur die opstandingskrag van God weer lewend gemaak sal word.

Wederkoms

In die daaropvolgende verse beskryf Paulus opvolgende gebeurtenisse wat met Christus se wederkoms sal plaasvind:

  • Elke opponerende krag (menslik en nie-menslik) sal uitgewis word.
  • Die finale en uiteindelike vyand wat deur Christus uitwis sal word, is die dood. Vir Paulus is die dood nie net ‘n magtige bondgenoot van die sonde nie, maar eerder ‘n kosmiese donker regeerder wat poog om die finale sê te hê oor alles wat God geskep het.

Vir Paulus gaan dit dus uiteindelik oor wie die finale sê het oor die bestaan van alles in die kosmos – die dood of God. Vir hom is dit eenvoudig: Met Christus se wederkoms sal die finale oorwinning aan God behoort en Christus se volgelinge sal uit die dood opgewek word.

Boodskap vir vandag

Iemand skryf die opstanding van Jesus is soos die lug bo ons koppe: Dit bedek alles in die Christelike geloof. Dit is die kern van ons geloof. Die opstanding is waarskynlik belangriker as die geboorte van Christus (en Kersfees) en dat dit verduidelik hoekom daar nie ‘n Evangelie in die Bybel is wat nie ‘n woord oor Jesus se geboorte rep nie, terwyl nie een van die vier Evangelies die klimaks van die Paasfees weglaat nie.

Mens kan sê al vir die Evangelies is opstandingsverhale met lang inleidings.

Onwerklik?

Tog kan Paasfees vir ons onwerklik voel. Net so moeilik soos dit vir ‘n papie is om aan sigself as ‘n skoenlapper te dink so moeilik is dit vir ons om vanuit die ou bedeling oor ons heerlike toekoms met God na te dink.

Paasfees kan ook onwerklik voel omdat ons nie ophou sterf op hierdie aarde nie. Niks van die aard van ‘n liggaam wat gesterf het of enige ander fisiese aspek wat ons van die fisiese aarde ken, kan ons enige basis gee vir ons geloof in die opstanding van die liggaam nie. Ons enigste basis is Paasfees. Die implikasie van Christus se opstanding is dat diegene wat in Hom glo, ook uit die dood sal opstaan.

Johannes Calvyn het aanbeveel dat mens elke dag die ewige lewe moet bedink. Dit is ‘n werklikheid waarin ons moet insink, waarin ons moet groei, sodat dit ons lewe meer en meer bepaal.

‘n Nuwe bestemming

Reeds op die eerste Paasfees het God ‘n nuwe roete gevestig waarheen Hy sy nuwe werklikheid stuur. God het nie alleen Jesus se bestaan van dood na lewend verander nie. Hy het ook die eindbestemming van die kosmos verander deur Christus uit die dood op te wek.

Daar word ‘n verhaal vertel van argeoloë wat ‘n graf ontdek het wat minstens 2 000 jaar oud was. Onder die artefakte wat hulle in die graf gevind het, het hulle ook ‘n aantal saadjies ontdek. Dit was egter vir hulle moeilik om te bepaal watter saad dit is. Nadat dit geanaliseer en ondersoek is, het een wetenskaplike voorgestel dat die saad geplant word. Wonder bo wonder het die saad ontkiem en gegroei en ‘n besonderse magnolia het verskyn.

Ons is nog onseker wat ons in die toekoms sal wees, maar met Christus se wederkoms sal ons getransformeer word om soos Hy te wees. Die wetenskaplikes wat die saad laat ontkiem en groei het, was waarskynlik baie ingenome met hulleself. Wat hulle egter nie besef het nie, is dat Christus dit moontlik gemaak het, en dat Hy dit ook moontlik sal maak dat daardie liggaam, wat ook soos die saad meer as 2 000 jaar in die graf gelê het, weer sal kan leef.

‘n Radikale belydenis

Dit is radikaal om in die gebroke wêreld met al sy onreg en krake in die opstanding na die dood te glo.

Hoor wat sê Scott Hoezee oor die dood van gelowiges en ons geloof in die opstanding:

The stark and stubborn fact of death in our world poses a most difficult challenge to our faith. Maybe we do not always realize it, but when we stand on the lip of an open grave – slit into the skin of the earth like an open wound – and say via the words of the Creed ‘I believe in the resurrection of the body,’ we are committing a most audacious and bold act.

Dat ons hierdie heerlike toekoms by God het maak ons vry. Dit maak ons vry om elke dag vir God te lewe, om Jesus na te volg en om nuut te lewe. Ons kan anders wees as die massas, omdat ons gerig op God se heerlike toekoms is en na hierdie toekoms toe lewe.

God stuur ons om te leef

Gebed
Wat ’n wonder, Here Jesus, dat U leef,
dat die magte van die dood en die doderyk U nie kon oorweldig nie,
dat U opgestaan het,
die graf oopgebreek het,
nuwe lewe gebring het vir die wêreld, vir ons.
Dankie dat ons hoop kan hê,
met verwagting kan leef omdat U lewe.

Dankie dat die lewe in die kerk nie van óns afhang nie,
maar dat U dit waarborg.
Dankie vir die lewe wat daar ook in ons gemeente is,
vir die tekens van die nuwe lewe wat U in die kerk indra.

Maak ons ’n gemeente
wat U met blydskap en oorgawe volg op die pad van die lewe,
die pad wat uitloop op die hemelstad met die vaste fondamente,
waar mot en roes nie verniel nie en diewe nie inbreek en steel nie.
Amen.
(Jaco Thom) 

Offergawes

Wegsending: Lied 421 “Die Here Jesus lewe vs 1,2,3”

Seën
V: Ontvang die seën van die opgestane Here
en gaan leef ’n lewe van lof en aanbidding tot sy eer.
Loof die Here, want Hy is goed.
G: Aan sy liefde is daar geen einde nie.

V: Die Vader wat Christus uit die dood opgewek het,
seën julle met ’n lewe wat getuig van die opstanding uit die dood.
G: Aan sy liefde is daar geen einde nie.

V: Die Seun wat gekruisig is en die dood oorwin het,
seën julle met die vergifnis van sonde en die geskenk van die ewige lewe.
G: Aan sy liefde is daar geen einde nie.

V: Dieselfde Gees waarmee God vir Jesus gesalf en met krag toegerus het,
salf julle ook nou met sy krag en stuur julle in sy Naam uit
om dié soort lewe te gaan leef wat getuig van die opstanding van ons Here Jesus Christus.

G: Aan sy liefde is daar geen einde nie.
– uit Psalm 118 en Handelinge 10

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1.  Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2.  Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3.  U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.
of
VONKK 277 “U is die lig wat deur die donker skyn”
Teks: Hannes van der Merwe 2014 ©
Melodie: HIGHLAND CATHEDRAL – Uli Rover en Michael Korb
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2014 (Pro Deo)
Musikale verryking 1en 2: Gerrit Jordaan 2014 ©
© Teks, orrelbegeleiding en musikale verrykings: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Church Hymnary Trust, Admin SCM-Canterbury Press Ltd. Met toestemming gebruik.

1. U is die lig wat deur die donker skyn.
U is die Een wat duister laat verdwyn.
Skyn in ons harte, dryf die donker uit.
Skyn in ons lewens tot in ewigheid.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.

2. U is oorwinnaar, U’t die dood verslaan.
U het as Koning uit die graf gegaan.
Breek nou die bande, gooi die boeie neer.
Ons is oorwinnaars saam met U, ons Heer.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.

3. U is die Bruidegom en ons u Bruid.
U nooi ons vir die bruilofsmaaltyd uit.
Daar klink ons lof, daar klink ons danklied uit.
Ons bly by U tot in ewigheid.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.