Paassondag

Sections

Oorsig

Paasfees is die grootste fees in die lewe van die Christelike kerk. Die karakter en aard van hierdie erediens staan in skrille kontras met wat die gemeente in die 40 dae van Lydenstyd en veral in die nadenke en bepeinsing tydens die Groot Lydensweek beleef het. Die gemeente het in die vorige seisoen die lydensweg van Jesus bewandel en daardie weg het Vrydag op die dood uitgeloop. Op Stil Saterdag was die kerk oor die wêreld heen vasgevang in die dood van Christus, soos die dissipels en die vroue ná die kruisiging van Jesus. Alles het tot niks gekom. Die dood spreek die finale woord. Die vroue en dissipels verwag ook by die graf die dood. Hulle gaan op Paassondag daarheen om te treur en te huil, want hulle geliefde is dood.

In die lig van dié werklikheid word die kerk op Paassondag gelaat soos die gemeente dit op Goeie Vrydag verlaat het.

Ander tekste 

Jesaja 25:6-9
6Op hierdie berg gaan die Here die
Almagtige ’n feesmaal gereed maak vir al
die volke,
’n feesmaal met die beste
om te eet en te drink,
goeie kos en geurige wyn.
7Op hierdie berg sal Hy
die doek verwyder,
die doek wat oor al die volke gegooi was,
waarmee al die nasies toegemaak was.
8Hier sal die Here God
die dood vir ewig vernietig,
en die trane op almal se gesigte afvee.
Oor die hele aarde sal Hy
die smaad verwyder
wat sy volk aangedoen is.
Die Here het dit gesê.
9Wanneer dit gebeur, sal elkeen sê:
Kyk daar, dit is ons God,
ons het op Hom vertrou,
Hy het ons gered.
Dit is die Here!
Ons het op Hom vertrou.
Laat ons bly wees en juig
omdat Hy ons gered het.

Psalm 118:1-2, 14-24
Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie!
2Israel moet getuig:
“Aan sy liefde is daar geen einde nie.”

14Die Here is my krag en my beskerming.
Dit is Hy wat my gered het!
Hoor die gejuig
in die laer van die oorwinnaars:
“Die Here doen kragtige dade,
16die Here triomfeer,
die Here doen kragtige dade!”
17Ek sal nie sterwe nie, ek sal lewe
en van die dade van die Here getuig.
18Die Here het my swaar gekasty,
maar my nie aan die dood
oorgegee nie.
19Maak die tempelpoort vir my oop:
ek wil ingaan en die Here loof.
20Dit is die poort na die Here toe;
regverdiges mag daardeur ingaan.
21Ek wil U loof
omdat U my gebed verhoor
en my gered het.
22Die klip wat deur die bouers
afgekeur is,
juis hy het die belangrikste klip
in die gebou geword.
23Dit is deur die Here gedoen
en is ’n wonder in ons oë!
24Dit is die dag
wat die Here gemaak het;
laat ons daaroor juig en bly wees.

Markus 16:1-8
Toe die sabbatdag verby was, het Maria Magdalena en Maria die ma van Jakobus, en Salome reukolie gekoop om die liggaam daarmee te gaan balsem.

2Die Sondagmôre baie vroeg kom hulle by die graf aan net toe die son opkom. 3Hulle vra toe vir mekaar: “Wie sal vir ons die klip voor die ingang van die graf wegrol?”

4Die klip was baie groot, maar toe hulle opkyk, sien hulle dat dit klaar weggerol is. 5Toe hulle in die graf ingaan, sien hulle ’n jongman aan die regterkant sit met lang wit klere aan, en hulle het groot geskrik.

6“Moenie skrik nie!” sê hy vir hulle. “Julle soek Jesus van Nasaret, wat gekruisig is. Hy is uit die dood opgewek. Hy is nie hier nie. Kyk, daar is die plek waar hulle Hom neergelê het. 7Maar gaan sê vir sy dissipels en in die besonder vir Petrus: Hy gaan julle vooruit na Galilea toe. Daar sal julle Hom sien soos Hy vir julle gesê het.”

8Hulle het uit die graf uitgegaan en weggehardloop terwyl hulle gebewe het van die skrik. Hulle het vir niemand anders iets daarvan gesê nie, want hulle was bang.

Sleutelteks

Handelinge 10:34-43
Petrus se toespraak by Cornelius 

34 Petrus het toe begin praat m en gesê: “Ek besef nou werklik dat God niemand volgens sy uiterlike beoordeel nie, 35 maar dat die mens wat ontsag vir Hom het en doen wat reg is, uit watter nasie hy ook mag wees, vir Hom aanvaarbaar is.

36 Dít is die boodskap wat Hy vir die kinders van Israel gestuur het toe Hy die evangelie van vrede wat deur Jesus Christus n gekom het, verkondig het: Hy is die Here van alle mense. 37 Julle weet wat dwarsdeur Judea gebeur het – dit het begin in Galilea, ná die doop wat Johannes verkondig het –

38 hoe God Jesus van Nasaret met die Heilige Gees en met krag gesalf het. o Hy het die land deurreis, goed gedoen en almal wat onder die mag van die Duiwel was, genees, omdat God met Hom was. 39 Ons is getuies van alles wat Hy in die land van die Jode en in Jerusalem gedoen het. Maar hulle het Hom omgebring deur Hom aan ‘n kruishout op te hang. 40 Vir Hom het God op die derde dag opgewek, en beskik dat Hy verskyn –

41 nie aan die hele volk nie, maar aan getuies wat vroeër reeds deur God aangewys is – aan ons wat saam met Hom geëet en gedrink het nadat Hy uit die dood opgestaan het. 42 En Hy het ons beveel om aan die volk te verkondig en kragtig te getuig dat dit Hy is wat deur God aangewys is as Regter oor die lewendes en die dooies. 43 p Oor Hom getuig al die profete dat elkeen wat in Hom glo, deur sy Naam vergewing van sondes ontvang.”

Die Heilige Gees aan heidene 
44 Petrus was nog aan die woord, toe die Heilige Gees op almal wat na die toespraak luister, neerdaal.
45 Die gelowiges uit die besnydenis, q almal wat saam met Petrus gekom het, was uiters verbaas dat die gawe van die Heilige Gees selfs op die heidene uitgestort is.
46 Hulle het immers gehoor hoe hulle in tale spreek en God loof. Toe sê Petrus:
47 “Niemand kan tog verhinder dat hierdie mense, wat net soos ons die Heilige Gees ontvang het, met water gedoop word nie?”
48 En hy het opdrag gegee dat hulle in die Naam van Jesus Christus gedoop word. * Toe het hulle hom gevra om nog ‘n paar dae aan te bly.

Liturgie

RUS

Toetrede: Flam 237 of VONKK

Votum: (responsories terwyl kerse aangesteek word)

Lofsang: Lied 402 of Vonkk

Seëngroet: (responsories)

Lofsang: Lied 414 of Flam 207  of VONKK 75 

Herbevestiging van doop/doopbeloftes: Flam 232

HOOR

Gebed: (I L de Villiers ‘Gebed vir Paasmôre’ uit sy bundel Manna oor die duine)

Skriflesing: Handelinge 10:34-43e

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed

Dankoffer 

Slotsang: Flam 469 of Lied 422 of VONKK 5 [baie bekende melodie – dieselfde as “Praat ek mense eng’le tale]]

Seën: (responsories)

Respons: Lied 218

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 409 “Hoor jy die Paasfeesklokke” of
Flam 237 Hy leef of
VONKK 75 Halleluja! Die Heer Het Opgestaan!

Votum
Voorganger: Die Heer het opgestaan!
Gemeente: Die Heer het waarlik opgestaan!

Voorganger: Die Heer het opgestaan!
Gemeente: Die Heer het waarlik opgestaan!

Voorganger: Moenie skrik nie:  Julle soek Jesus van Nasaret.  Hoekom soek julle die Lewende by die dooies? Hy is uit die dood opgewek.
Gemeente: Die Heer het opgestaan!

Eerste kers word aangesteek
Voorganger: As Christus nie opgewek is nie, is ons prediking sonder inhoud en ons geloof ook sonder inhoud.
Gemeente: Die Heer het opgestaan!

Tweede kers word aangesteek
Voorganger: As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die mees bejammerenswaardige van alle mense.
Gemeente: Die Heer het opgestaan!

Derde kers word aangesteek
Voorganger: Dood, waar is jou angel?  Doderyk, waar is jou oorwinning?
Gemeente: Die Heer het opgestaan!

Vierde kers word aangesteek
Voorganger: Die dood is vernietig, die oorwinning is behaal. Die koningskap oor die wêreld behoort aan ons Here en aan sy Gesalfde en Hy sal as koning heers tot in alle ewigheid.
Gemeente: Die Heer het opgestaan!

Vyfde kers word aangesteek
Voorganger: Hy wat op die troon sit, sê: “Kyk, Ek maak alles nuut!  Ek is die Alfa en die Omega, die begin en die einde, die eerste en die laaste.”
Gemeente: Die Heer het opgestaan!

Sesde kers word aangesteek
Voorganger: Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam, behoort die lof en die eer, die heerlikheid en die krag, tot in alle ewigheid!
Gemeente: Die Heer het waarlik opgestaan!

Sewende kers word aangesteek
(Aangepas uit Bybel-Media se Woord en fees – Preekstudies en liturgiese voorstelle gebaseer op die kerkjaar 2013-2014)

Lofsang 
Lied 402 “Die Heer het waarlik opgestaan” of
Vonkk 201 U Opstanding, o Here Jesus Christus

Seëngroet
Voorganger: Jesus leef!  En ons met hom!  Genade vir julle en vrede van God die Vader
Gemeente: Hy sorg vir ons!

Voorganger: en van die Seun
Gemeente: Hy het waarlik opgestaan!

Voorganger: en van die Heilige Gees.
Gemeente: Hy leef in ons!  Amen

Lofsang
Lied 414 “Juig verlostes, juig en sing ‘of
Flam 207. U Het U Heerlikheid, O Heer of
VONKK 75 Halleluja! Die Heer Het Opgestaan!

Herbevestiging van doop/doopbeloftes
Die voorganger staan by die doopvont en nooi die kinders vorentoe.
Voorganger: Glo jy in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde?
Almal: Ja, ek glo.

Voorganger: Weet dan dat die Vader ’n ewige genadeverbond met ons sluit en dat Hy ons tot sy kinders en erfgename aanneem.
Glo jy in Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, ons Here?
Almal: Ja, ek glo.

Voorganger: Weet dan dat Jesus Christus vir ons gesterf het en dat Hy ons in die gemeenskap van sy dood en sy opstanding ingelyf het.
Glo jy in die Heilige Gees?
Almal: Ja, ek glo.

Voorganger: Weet dan dat die Heilige Gees in ons woon en ons tot lidmate van Christus heilig.

Sang
Flam 232 Jesus Alleen [“In Christ Alone”]

Liedere

F237. “Hy leef”
(RUBRIEK: Flammikidz – Opstanding) Teks en musiek: Willie Pretorius © MAR Gospel Music Publishers

Hy leef, Hy leef,
die graf het oopgegaan.
Hy leef, Hy leef
Hy leef, Hy’t opgestaan.
Hy leef, Hy leef,
dit maak my hart so bly.
Jesus leef in my.

Halleluja! Halleluja!
Jesus leef in my.
Halleluja! Halleluja!
Jesus leef in my.

F232. “Jesus Alleen”
(RUBRIEK: Flam – Geloof en Vertroue) Oorspronklike titel: In Christ Alone Teks en musiek: Keith Getty en Stuart Townend
Afrikaans vertaling: Faani Engelbrecht © 2001 Thankyou Music

1. Jesus alleen kan ons vertrou.
Hy is ons hoop, ons lied, ons krag
deur storms heen, deur winterkou’
dwarsdeur die duister van die nag.
En deur sy liefde, deur sy hand
vind ons weer rus, bind Hy die band,
ons Vaste Grond, ons Fondament
hier in sy liefde leef ons nou.

2. Jesus alleen word mens soos ons
volheid van God vol kwesbaarheid.
Oneindig meer doen Hy vir ons
ly vir ons ongeregtigheid.
En deur sy offer word ons vry
hy dra ons skuld, Hy sterf, Hy ly
ontneem die dood sy heerskappy.
Hier deur sy sterwe leef ons nou.

3. Daar in die graf deur dood omring
Wie kon dit weet, wie het verstaan?
Daar breek die dag, die nuwe dag
Jesus, ons hoop, het opgestaan,
Hy’t opgestaan in heerlikheid.
Hy’t ons van vloek en skuld bevry.
Ek leef in Hom en Hy in my
Jesus se bloed maak waarlik vry.

4. Geen lewensangs, geen sterwensnood
dit is die krag waarop ons staan.
Van die eerste tree tot by die dood
wys Hy die weg wat ons moet gaan.
Geen duiwelsplan of aardsbestaan
kan ons ooit ruk vanuit sy hand.
Hy sal weer kom, sy bruid kom haal
tot Hy weer kom, sal ons bly staan.

F469. “Hoor Jy Die Volke”
(RUBRIEK: FLAM – Lof) Teks en musiek: Christiaan Kahler Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers [Opgeneem op Flam Folgende]

1. Hoor jy die volke  juig van ’n Man:
Hy’t sonde verslaan, en Sy heiligheid skyn
tot in die donkerste plekke van nood.
Waar ons Hom sal volg van Sy naam sal getuig.

2. Kom nou Sy kinders vloei na sy troon,
ons Vader is hier en sy liefde oorstroom
tot in ons strate die duisternis in
waar hartseer en pyn in Sy vryheid sal sing.

Refrein:
U het U Seun gestuur, en ons vrygemaak.
U het opgestaan, opgestaan vir ons.
Dan sal ek juig my God
met my hele hart en siel
sal ek leef vir U, leef vir U alleen.

3. Kom nou, sy kinders; vloei na sy troon.
Ons Vader is hier en sy liefde oorstroom
tot in ons harte vul ons opnuut.
In lofsang en dank bring ons U alle eer.

Brug:
U is die God wat ons verlos.
Halleluja! sing ons harte.
Daar is geen ander God soos U
U’s die waardheid, die weg en lewe;
Jesus, U is ons lewe.

Refrein:

VONKK 75 “Halleluja! Die Heer Het Opgestaan!”
Teks:  Jacques Louw 2008 © Muse: SINE NOMINE – Ralph Vaughan Williams 1906
© Teks: 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) © Melodie: Openbare besit RUBRIEK:  Klassiek – Paasfees

1. Halleluja! Die Heer het opgestaan!
Leeg is die graf, die dood is nou verslaan.
Ons prys sy Naam, ‘n nuwe dag breek aan.
Halleluja! Halleluja!

2. Halleluja! Die Heer voer heerskappy!
Daar aan die kruis moes Hy ons doodstryd stry.
Maar kyk, Hy leef! Verlossing is verkry!
Halleluja! Halleluja!

3. Halleluja! Ons vier met blydskap fees!
Dood is die dood, ons hoef nie meer te vrees.
Hy laat ons leef, in Hom oorwinnaars wees.
Halleluja! Halleluja!

VONKK 201 “U Opstanding, O Here Jesus Christus”
Teks: In resurrectione tua – Taizé, Afrikaanse teks: Hannes van der Merwe 2011 ©  Musiek: Taizé
Ateliers et Pressez de Taizé, Frankryk. Met toestemming gebruik. ©  2012 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Meditatief – Paasfees

U opstanding, o Here Jesus Christus,
laat juig die hemel en aarde.
“Oorwinning oor die dood deur Jesus Christus”,
jubel die hemel en aarde.

In resurrectione tua, Christe,
coeli et terra laetentur.
In resurrectione tua, Christe,
coeli et terra laetentur.

F207. “U Het U Heerlikheid, O Heer”
(RUBRIEK: Flam – Lydenstyd / Lof) Oorspronklike titel: You laid aside Your majesty Teks en musiek: Noel Richards
Afrikaanse vertaling: Hanneke en Faani Engelbrecht © 2006 © 1985 Thankyou Music (Fil 2:5-11)

U het u heerlikheid en eer, vir die wêreld prysgegee.
U het swaar gely onder sondaarshande.
U het al ons skuld gedra aan die kruis op Golgota.
U het opgestaan – U heers vanuit die hemel.

Here, ek wil U besing, U my hart se loflied bring.
O, Here, hoor my dankgebede.
Ek wil U altyd vereer en aan U my lewe gee.
Here, hoor my as ek sing vir U my Koning.

VONKK 75 “Halleluja! Die Heer Het Opgestaan!”
Teks:  Jacques Louw 2008 © Muse: SINE NOMINE – Ralph Vaughan Williams 1906
© Teks: 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) © Melodie: Openbare besit  RUBRIEK:  Klassiek – Paasfees

1. Halleluja! Die Heer het opgestaan!
Leeg is die graf, die dood is nou verslaan.
Ons prys sy Naam, ‘n nuwe dag breek aan.
Halleluja! Halleluja!

2. Halleluja! Die Heer voer heerskappy!
Daar aan die kruis moes Hy ons doodstryd stry.
Maar kyk, Hy leef! Verlossing is verkry!
Halleluja! Halleluja!

3. Halleluja! Ons vier met blydskap fees!
Dood is die dood, ons hoef nie meer te vrees.
Hy laat ons leef, in Hom oorwinnaars wees.
Halleluja! Halleluja!

VONKK 5 “Vreugde! Vreugde!”
Teks: JJH du Plessis 2007 (Pro Deo) Melodie: ODE AN DIE FREUDE (Koraal-simfonie Nr 9) – Ludwig van Beethoven 1824 (ritmies aangepas)
© Teks: 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) © Melodie: openbare besit RUBRIEK:  Klassiek – Paasfees / Uitsending

1. Vreugde! Vreugde! Juig van vreugde,
want ons Heiland het verrys.
Tot die dood was Hy verneder,
uit die graf het Hy herrys.
Alle eer aan die Oorwinnaar!
Elke knie moet voor Hom buig.
“Jesus Christus is die Here!” –
elke tong moet dit getuig.

2. Jesus leef, Hy heers vir ewig,
heerlik is sy majesteit.
As gestuurde van die Vader
stuur Hy ons nou wêreldwyd.
Hy bring heling, skenk bevryding:
daarvan moet ons bly getuig.
Vreugde! Vreugde! Juig van vreugde
want ons Heiland het verrys.

God praat met ons en ons luister

Gebed
(I L de Villiers ‘Gebed vir Paasmôre’ uit sy bundel Manna oor die duine)
Verrese Heiland
die kerkklokke lui vanoggend anders.
Hulle is Paasklokke.
Hulle lui oor die vallei.
Hulle lui oor die stad.
Hulle lui oor die wêreld.
Die Here het opgestaan!
Ja, Hy het waarlik opgestaan!

Saam met Christene oor die wêreld, al u kinders,
wil ek aanbid, Oorwinnaar!
Saam met die klokke wil ek juig
oor die wonder van ‘n graf in ‘n tuin
wat oopgegaan het om nooit weer toe te gaan nie.

Daar’s ‘n pad getrap deur die dal van die dood.
U het dit uitgetrap.
U het bloedspore getrap.
Die pad gaan deur die dood
na die ewige lewe.
Ek gaan dié pad volg as U my roep.

Ek het saam met U opgestaan, Here Jesus.
Hierbinne in my hart is dit al anders.
Ek was met U in aanraking.
U het my aangeraak.
Ek sal nooit sterf nie.

Want U leef!
U leef!
Ek juig oor U, Here Jesus.
Ek juig saam met die Paasklokke.
Ek juig in die môre,
oor ‘n nuwe môre
wanneer die klokke nie sal ophou nie,
wat sal môre bly
en nooit aand word nie.
Amen.

Skriflesing: Handelinge 10:34-43e

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Gaan maak ‘n draai by Dollar Store Children’s Sermons en kyk na die groot klomp idees wat John Stevens bied. Ek hou veral van die idee met die papiersak, glowstick en skoenlappers. Uit ervaring, ‘n waarskuwing: as jy die voorstel van die leë kougom of leë eier gebruik, gaan jy ‘n verrassing gereed moet hê. Anders, in stede van opgewonde (die gevoel wat ons wil hê vir Paasfees) is die kinders net teleurgesteld!

Bybel-Media se Woord en Fees stel voor:
Dit is in baie lande tradisie om op Paassondag gekookte eiers te rol as ‘n simbool van die klip wat voor die leë graf weggerol is. Dit is ‘n wonderlike kinderelement om deel van die erediens te maak. In baie lande word die eiers selfs versier. Jy kan die kinders uitnooi om hulle eie eiers kerk toe te bring of jy kan self ‘n paar eiers kook en saambring. (Party winkels verkoop selfs fopeiers wat soos regte eiers lyk, maar wat van rubber gemaak is.) Nooi die kinders uit om die eiers in die kerk se paadjies af te rol. Dit hoef nie ‘n kompetisie te wees nie, maar maak seker elke deelnemer kry ietsie lekkers ná die tyd.

Preekriglyn

Ons vier vandag Paassondag. Terwyl elke Sondag, die eerste dag van die week, ‘n herinnering is aan dié dag waarop Jesus opgestaan het, loop ons beker van dankbaarheid op Paassondag oor. Jesus het opgestaan uit die dood! Jesus leef!

Met Paassondag verander alles. Niks is ooit weer dieselfde nie. Waar dood en doodsheid alle lewe in ‘n doodloopstraat laat beland het, is die mag van die dood nou geknak. God breek vir diegene wat in Jesus glo en Hom bely anderkant die dood en doodsheid ‘n nuwe weg oop. God skep ook ‘n nuwe toekoms vir God se skepping. Die ou aarde word in Christus eenmaal die nuwe aarde. Daar is ‘n toekoms en hoop.

God tel die gestorwe Jesus uit die dood op en breek die graf oop. Wat God aan Jesus doen – opstanding aan die anderkant van die dood – is wat God vir al God se kinders en die ou werklikheid beloof: lewe anderkant die dood.

Deel van God se geskiedenis

Opstandingsondag vier ‘n hoogtepunt in die Christelike geloof. Hierdie feesdag is ryk aan betekenis. Ons kan dit gerus verder verken. Dit is wat Petrus in ons teks doen. Hy bring Christus se opwekking uit die dood in verband bring met al God se werke, die volle geskiedenis van God se genadige werke in die lewe van God se skepping.

Plek en konteks

In ons teks is Petrus besig om te preek in die huis van Cornelius, ‘n nie-Joodse offisier. Hierdie gebeure en preek word oorvertel in die boek Handelinge.

Handelinge is die boek wat God se werk, God se sending, en die werk van die Heilige Gees om God se sending uit te voer, vertel. In Handelinge lees ons wat die aktiewe, werksame God doen. Handelinge vertel hoe God die wêreld waarin ons leef se geskiedenis (opnuut) betree, en hoe God die wêreld omkeer. Ons leer hier hoe God in Jesus op die wêreld aankom, dissipels roep, toerus en vernuwe, en ons lees hoe die rimpelinge van hierdie werk deur Jerusalem, Judea, Samaria en tot aan die eindes van die wêreld trek.

Hierdie rimpelinge bereik ook mense wat nie Jode is nie. Hierdie rimpelinge strek oor die eeue en bereik ook vir ons, hier in Suid-Afrika. Hoewel God in Jesus in die verre Palestina arriveer, eeue verwyder van ons eeu, in die gedaante van ‘n Jood, onder die Jode, is hierdie gebeure ook vir ons. Dit is aangrypende nuus.

Toespraak

Ons teks vertel die inhoud van Petrus se preek by Cornelius aan huis. Hierdie preek word gebore op grond van twee gesigte of visioene waarvan Handelinge 10 vertel:

  • Aan Cornelius, met die opdrag om Petrus te gaan haal (1-8)
  • ‘n Gesig aan Petrus wat sê wat God rein verklaar het moet hy ook as rein aanvaar (9-16)

Hierdie twee gesigte word gevolg deur twee gesprekke:

  • Tussen Petrus en die boodskappers van Cornelius wat hom kom haal (17-23)
  • ‘n Gesprek by Cornelius se huis tussen Petrus, Cornelius en die mense in sy huis (24-33)

Op grond van hierdie gesigte en gesprekke lewer Petrus nou ‘n toespraak, eintlik ‘n preek. Hierdie preek getuig van Petrus se sensitiwiteit vir sy gehoor, wat nou uit hoofsaaklik nie-Jode bestaan. Anders as sy preek op Pinksterdag, wemel hierdie preek nie van aanhalings uit die Ou Testament nie. Verwysings na die Ou Testament kom voor, maar is meer subtiel. Die gehoor, en wat hulle kan begryp, staan op die voorgrond.

Biografie van Jesus

Wat sentraal in die preek staan, is Petrus se getuienis oor die aardse lewe van Jesus van Nasaret. Iemand soos Paulus getuig dikwels bloot oor die sterwe en opstanding van Jesus, sonder vermelding van Jesus se lewensloop op aarde.

Hier is dit anders. Die preek bevat die mees omvattende beskrywing van Jesus se aardse lewe wat ons in Handelinge kry. ‘n Redelik volledige CV word gegee. Mens kan eintlik sê Petrus gee ‘n opsomming van Lukas se evangelie: vanaf ‘n sydelingse verwysing na die engele se vredesboodskap (36) tot die groot opdrag aan die dissipels (41-42). Petrus verwys in sy preek na Jesus se bediening in Galilea, sy doop, salwing met die Heilige Gees, sy reise, lering en genesingswonders en uiteindelik Jesus se sterwe en opstanding.

Geloof by hierdie nie-Jode word gewek deur Jesus van Nasaret en sy volle bediening aan hulle te verkondig. Die kruis speel ‘n prominente rol en so ook die opstanding, maar in die groter konteks van Jesus se identiteit, lering en werke tydens sy bediening in Galilea en Judea.

Herhaling van Pinksterdag

By die verkondiging van Jesus van Nasaret aan hierdie ontvanklike gehoor, herhaal die wonder van Pinksterdag hom. Vanaf vers 43 word vertel hoe die Heilige Gees op die gehoor neerdaal.

Ons hoor nooit die einde van Petrus se preek nie, want hy word onderbreek deur die uitstorting van die Heilige Gees.

Vir die Jode skep die uitstorting van die Gees oor onreine nie-Jode ‘n uitdaging, want hulle het Jesus as ‘n Joodse Messias vir Jode gesien. In die volgende hoofstuk word vertel hoe Petrus hieroor verantwoording in Jerusalem gaan doen.

Verlossing vir almal

Die kern van hierdie gedeelte is God se groter doel met die gawe van verlossing in Jesus Christus. Nie-Jode, d.w.s. Afrikaners, Engelse, Zoeloes, Sotho’s, Duitsers, Panamese en Laplanders – noem enige groep op aarde – is ingesluit in God se bedoelinge.

Dit is hierdie groot skuif in sy verstaan wat Petrus in Handelinge 10 beleef en wat hy in vers 34v verwoord:
Ek besef nou werklik dat God niemand volgens sy uiterlike beoordeel nie, maar dat die mens wat ontsag vir Hom het en doen wat reg is, uit watter nasie hy ook mag wees, vir Hom aanvaarbaar is.

Sommige teoloë sê hierdie is Petrus se Damaskuservaring, ‘n diep bekeringservaring. Net soos Paulus se hele wêreld deur Jesus omgekeer is toe hy op pad na Damaskus was om Jesus se volgelinge te vervolg, word Petrus se hele verwysingsraamwerk hier omgekeer. Petrus, ‘n lid van die uitverkore volk, beleef hier aan huis van nie-Jode dat God nie gunstelinge onder die nasies het nie. Dat hy besef “dat elkeen wat in Hom glo deur sy Naam vergewing van sondes ontvang” (43) is eenvoudig radikaal. Petrus se wêreld word omgekeer, en in die ommekeer word die regte kant na bo gekeer, skryf iemand.

Almal wat glo word deur Jesus met God versoen. En in God se nuwe volk, ook met mekaar. Die skeidsmuur tussen mens en God word in Jesus afgebreek. En so ook die skeidsmuur tussen Petrus en Cornelius, tussen Jood en nie-Jood, tussen sg. etnies rein en sg. etnies onrein.

Dit alles gebeur deur Jesus van Nasaret, die Seun van God wat vir ons gebore, vir ons gelewe, vir ons gesterwe en vir ons opgewek is uit die dood. Die krag van God wat in sy lewe aan die werk was, is ook die krag van God wat ons red en met God en mekaar versoen.

Hoe werk Petrus se bekering?

Let op dat Petrus hierdie nuwe diep insig in God se wil en bedoelinge verkry deur:

  • Die inisiatief wat God neem om Hom aan Petrus te openbaar (visioen of gesig)
  • Petrus se ontmoeting en gesprekke met mense wat God oor sy pad bring
  • Die tyd wat hy op reis na Cornelius spandeer – hy kry tyd om oor die betekenis van alles na te dink.

Dit is drie elemente wat vandag nog van betekenis is vir mense wat die wil van God soek.

Radikale insluiting

Die wonder van hierdie radikale insluiting gaan so maklik by ons verby. Ons kan so gewoond wees dat ons deel is van die volk van God, dat ons vergeet dit was nooit vanselfsprekend nie.

Die radikale insluiting van die evangelie kan ook baie maklik misverstaan word, en gebeur vandag dikwels. Ons teks sê nie dat God glad nie besorgd is ook verskille tussen mense en dat God alle mense vanselfsprekend as gered beskou nie.

Vers 35 stel “dat die mens wat ontsag vir Hom het en doen wat reg is, uit watter nasie hy ook al mag wees, vir Hom (God) aanvaarbaar is”. Die “doen wat reg is” is om die boodskap van verlossing in Christus te hoor en dit te aanvaar. Ons teks sê nie Cornelius word gered omdat hy vroom is nie, maar deur sy geloof in Jesus Christus. Om reg te reageer op God se verlossing is Jesus Christus, is om te doen wat reg is.

Die gewilde opvatting dat opregtheid, goedheid en outentiekheid jou aanvaarbaar vir God maak, word nie deur die evangelieboodskap ondersteun nie. Inteendeel: God beoordeel alle mense regverdig en veroordeel die kwade en boosheid oral waar dit aangetref word.

Verlossing is nie moontlik buite Jesus om nie. Aangesien Hy vir almal gesterf het, kan die evangelie aan alle mense aangebied word, en is redding in die Naam van Jesus beskikbaar vir almal wat die boodskap aanvaar en Jesus as Here en Verlosser bely.

Petrus se bekering na hierdie regte verstaan van die evangelie veroorsaak dat die Here se dissipels nou vir die eerste keer in staat is om Jesus se opdrag dat hulle na alles nasies moet gaan, behoorlik uit te voer.

Hulle het dit gedoen, en so het ons voorouers in die noorde van Europa ook die evangelie vir die eerste keer gehoor.

Viering

Kom ons vier vandag God se aankoms op die aarde in Jesus, God se kragtige verlossingsdade, wat in die volste sin van die woord ook vir ons, ons groepie nie-Jode hier aan die suidpunt van Afrika is. En nie net vir ons nie, maar ook vir almal rondom ons, hoeveel hulle ook al van ons mag verskil.

Ons sê weer, soos aan die begin van hierdie boodskap:

  • Met Paassondag verander alles. Niks is ooit weer dieselfde nie. Waar dood en doodsheid alle lewe in ‘n doodloopstraat laat beland het, is die mag van die dood nou geknak. God breek vir diegene wat in Jesus glo en Hom bely anderkant die dood en doodsheid ‘n nuwe weg oop. God skep ook ‘n nuwe toekoms vir God se skepping. Die ou aarde word in Christus eenmaal die nuwe aarde. Daar is ‘n toekoms en hoop.
  • God tel die gestorwe Jesus uit die dood op en breek die graf oop. Wat God aan Jesus doen – opstanding aan die anderkant van die dood – is wat God vir al God se kinders en die ou werklikheid beloof: lewe anderkant die dood.

Dit is vir almal wat glo.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Flam 469 Hoor Jy Die Volke of
Lied 422 “Die Heer, die Heer het opgestaan” of
VONKK 5 Vreugde! Vreugde! [baie bekende melodie]

Seën
Voorganger: Jesus Christus is die opstanding en die lewe.
Gemeente: Hy is ons vrede.

Voorganger: Wie in Hom glo, sal in ewigheid nie sterwe nie.
Gemeente: Hy is ons vrede, nou en tot in ewigheid.
Amen (gesing deur die gemeente).

Respons
Lied 218 “Halleluja!”

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.