Paasfees

Sections

Oorsig

Paasfees is die grootste feesdag in die lewe van die Christelike kerk. Die karakter en aard van hierdie erediens staan in skrille kontras met dit wat die gemeente beleef het tydens die 40 dae van Lydenstyd en veral in die nadenke en bepeinsing tydens Groot Lydensweek. Die gemeente het in die vorige seisoen die lydensweg van Jesus bewandel en daardie weg het Vrydag uitgeloop op die dood. Op Stil Saterdag was die kerk reg oor die wêreld vasgevang in die dood van Christus, net soos die dissipels en die vroue na die kruisiging van Jesus. Alles het tot niks gekom. Die dood spreek die finale woord. Die vroue en dissipels verwag ook by die graf die dood. Hulle gaan op Paassondag daarheen om te treur en te huil want hulle geliefde is dood. In die lig van dié realiteit moet die kerk op Paassondag gelaat word soos die gemeente dit op Goeie Vrydag verlaat het. Laat die ligte af, geen orrelspel of klokke en laat die uitgedoofde Christuskers as die fokuspunt in die liturgiese ruimte. As almal dan weer in die kerk bymekaar is, begin dan die erediens met die speel van Handel se “Hallelujakoor”, vertoon ’n beeld van die graf waarvan die klip weggeskuif is en verwyder die doringdraad van die Christuskers en steek die kers weer aan.

Ander tekste

Handelinge 10:34-43
Petrus se toespraak by Kornelius
34Toe het Petrus aan die woord gekom en gesê: “Waarlik, ek begryp nou eers dat God nie onderskeid maak nie, 35maar in enige volk die mense aanneem wat Hom vereer en doen wat reg is. 36Julle weet dat God aan Israel sy woord gestuur het, naamlik die evangelie van vrede wat Jesus Christus gebring het. Hierdie Jesus is Here van almal. 37Julle weet ook van die gebeurtenisse dwarsdeur die hele Joodse land. Dit het in Galilea begin ná die doop wat Johannes verkondig het. 38Julle weet van Jesus van Nasaret, dat God Hom met die Heilige Gees gesalf en met krag toegerus het. Hy het rondgegaan, oral goeie werke gedoen en almal gesond gemaak wat in die mag van die duiwel was, want God was by Hom.

39“En ons is getuies van alles wat Hy in die Joodse land en in Jerusalem gedoen het. Hulle het Hom doodgemaak deur Hom aan die kruis te hang. 40Maar God het Hom op die derde dag uit die dood opgewek en Hom laat verskyn, 41nie aan die hele volk nie, maar net aan ons vir wie God reeds gekies het om getuies daarvan te wees, ons wat ná sy opstanding uit die dood saam met Hom geëet en gedrink het. 42Hy het ons opdrag gegee om aan die volk te verkondig en te bevestig dat dit Hy is wat deur God aangestel is as Regter oor lewendes en dooies. 43Van Hom getuig al die profete dat elkeen wat in Hom glo, vergewing van sondes deur sy Naam ontvang.”

of Jesaja 25:6-9
God berei ’n feesmaal vir die volke
6Op hierdie berg gaan die Here die
Almagtige ’n feesmaal gereed maak vir al
die volke,
’n feesmaal met die beste
om te eet en te drink,
goeie kos en geurige wyn.
7Op hierdie berg sal Hy
die doek verwyder,
die doek wat oor al die volke gegooi was,
waarmee al die nasies toegemaak was.
8Hier sal die Here God
die dood vir ewig vernietig,
en die trane op almal se gesigte afvee.
Oor die hele aarde sal Hy
die smaad verwyder
wat sy volk aangedoen is.
Die Here het dit gesê.
9Wanneer dit gebeur, sal elkeen sê:
Kyk daar, dit is ons God,
ons het op Hom vertrou,
Hy het ons gered.
Dit is die Here!
Ons het op Hom vertrou.
Laat ons bly wees en juig
omdat Hy ons gered het.

Psalm 118:1-2, 14-24
Die Here doen kragtige dade
118 Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie!
2Israel moet getuig:
“Aan sy liefde is daar geen einde nie.” 

14Die Here is my krag en my beskerming.
Dit is Hy wat my gered het!
Hoor die gejuig
in die laer van die oorwinnaars:
“Die Here doen kragtige dade,
16die Here triomfeer,
die Here doen kragtige dade!”
17Ek sal nie sterwe nie, ek sal lewe
en van die dade van die Here getuig.
18Die Here het my swaar gekasty,
maar my nie aan die dood
oorgegee nie.
19Maak die tempelpoort vir my oop:
ek wil ingaan en die Here loof.
20Dit is die poort na die Here toe;
regverdiges mag daardeur ingaan.
21Ek wil U loof
omdat U my gebed verhoor
en my gered het.
22Die klip wat deur die bouers
afgekeur is,
juis hy het die belangrikste klip
in die gebou geword.
23Dit is deur die Here gedoen
en is ’n wonder in ons oë!
24Dit is die dag
wat die Here gemaak het;
laat ons daaroor juig en bly wees.

Johannes 20:1-18
Die leë graf

(Matt 28:1–8; Mark 16:1–8; Luk 24:1–12)
20 Die Sondagmôre vroeg, toe dit nog donker was, kom Maria Magdalena by die graf en sien dat die klip van die graf af weggerol is. 2Sy hardloop toe en gaan na Simon Petrus en na die ander dissipel toe vir wie Jesus baie lief was, en sê vir hulle: “Hulle het die Here uit die graf weggevat, en ons weet nie waar hulle Hom nou begrawe het nie.”

3Petrus en die ander dissipel het toe uitgekom en na die graf toe gegaan. 4Die twee het saam begin hardloop, maar die ander dissipel het vinniger as Petrus gehardloop en eerste by die graf gekom. 5Toe hy vooroor buk, sien hy die doeke lê, maar hy het nie ingegaan nie. 6Ná hom het Simon Petrus ook daar aangekom, en hy het in die graf ingegaan. Hy sien toe die doeke daar lê, 7ook die doek wat om Jesus se kop was. Dié doek het nie by die ander doeke gelê nie, maar was eenkant afsonderlik opgerol. 8Daarna het die ander dissipel, wat eerste by die graf gekom het, ook ingegaan, en hy het dit ook gesien en geglo.
9Hulle het nog nie die Skrif verstaan dat Jesus uit die dood moet opstaan nie.
10Daarna het die dissipels weer huis toe gegaan.

Jesus verskyn aan Maria Magdalena
(Matt 28:9–10; Mark 16:9–11)
11Maar Maria het buite by die graf bly staan en huil. Terwyl sy huil, het sy vooroor gebuk om in die graf in te kyk. 12Toe sien sy twee engele met wit klere aan daar sit waar die liggaam van Jesus gelê het, een waar die kop en een waar die voete was. 13Hulle vra toe vir haar: “Mevrou, waarom huil jy?”
Sy antwoord hulle: “Omdat hulle my Here weggevat het en ek nie weet waar hulle Hom nou begrawe het nie.”

14Nadat sy dit gesê het, het sy omgedraai en vir Jesus daar sien staan, maar sy het nie geweet dat dit Hy is nie. 15Jesus vra haar toe: “Mevrou, waarom huil jy? Vir wie soek jy?”
Sy het gedink dit is die tuinopsigter, en sy het vir hom gesê: “Meneer, as u Hom weggevat het, sê vir my waar u Hom begrawe het, en ek sal Hom daar gaan haal.”

16Jesus het vir haar gesê: “Maria!”
Sy draai na Hom toe en sê in Hebreeus vir Hom: “Rabboeni!” Dit beteken leermeester.

17Jesus sê toe vir haar: “Moet My nie vashou nie, want Ek het nog nie na die Vader toe opgevaar nie. Maar gaan na my broers toe en sê vir hulle: ‘Ek vaar op na my Vader toe, wat ook julle Vader is, na my God, wat ook julle God is.’”

18Maria Magdalena het toe vir die dissipels gaan sê: “Ek het die Here gesien!” En sy het ook vertel wat Hy vir haar gesê het.

of Markus 16:1-8.

Jesus het opgestaan
(Matt 28:1–8; Luk 24:1–12; Joh 20:1–10)
16 Toe die sabbatdag verby was, het Maria Magdalena en Maria die ma van Jakobus, en Salome reukolie gekoop om die liggaam daarmee te gaan balsem.

2Die Sondagmôre baie vroeg kom hulle by die graf aan net toe die son opkom. 3Hulle vra toe vir mekaar: “Wie sal vir ons die klip voor die ingang van die graf wegrol?”

4Die klip was baie groot, maar toe hulle opkyk, sien hulle dat dit klaar weggerol is. 5Toe hulle in die graf ingaan, sien hulle ’n jongman aan die regterkant sit met lang wit klere aan, en hulle het groot geskrik.

6“Moenie skrik nie!” sê hy vir hulle. “Julle soek Jesus van Nasaret, wat gekruisig is. Hy is uit die dood opgewek. Hy is nie hier nie. Kyk, daar is die plek waar hulle Hom neergelê het. 7Maar gaan sê vir sy dissipels en in die besonder vir Petrus: Hy gaan julle vooruit na Galilea toe. Daar sal julle Hom sien soos Hy vir julle gesê het.”

8Hulle het uit die graf uitgegaan en weggehardloop terwyl hulle gebewe het van die skrik. Hulle het vir niemand anders iets daarvan gesê nie, want hulle was bang.

Fokusteks

1 Korintiërs 15:1-11
Die opstanding van Christus
15 Ek herinner julle, broers, aan die evangelie wat ek aan julle verkondig het en wat julle ontvang het en waarin julle ook gevestig staan. 2Deur dié evangelie word julle ook gered as julle vashou aan die boodskap soos ek dit aan julle verkondig het. As julle aan iets anders vashou, het julle tevergeefs tot geloof gekom.

3Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het en wat ek ook ontvang het, is dit: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte; 4Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte. 5Hy het aan Sefas verskyn, daarna aan die twaalf, 6en daarna aan meer as vyf honderd broers tegelyk, van wie sommige al dood is maar die meeste nou nog lewe. 7Daarna het Hy aan Jakobus verskyn en toe aan al die apostels. 8Heel laaste het Hy ook aan my, die ontydig geborene, verskyn.

9Ek is immers die geringste van die apostels en is nie werd om ’n apostel genoem te word nie, omdat ek die kerk van God vervolg het. 10Maar deur die genade van God is ek wat ek is. Sy genade aan my was nie tevergeefs nie; inteendeel, ek het harder gewerk as hulle almal; eintlik was dit nie ek nie, maar die genade van God wat by my is.

11In elk geval, of dit ek is of hulle—dit is wat ons verkondig, en dit is wat julle geglo het.

Die opstanding van die dooies
12As ons dan verkondig dat Christus uit die dood opgewek is, hoe kan party van julle nog beweer dat daar geen opstanding van die dooies is nie? 13As daar geen opstanding van die dooies is nie, beteken dit dat Christus ook nie opgewek is nie. 14En as Christus nie opgewek is nie, is ons prediking sonder inhoud en julle geloof ook sonder inhoud. 15Verder sou dit beteken dat ons vals getuienis oor God afgelê het, omdat ons teen God in getuig het dat Hy Christus opgewek het. As dit dan waar is dat die dooies nie opgewek word nie, het Hy Christus ook nie opgewek nie. 16As die dooies nie opgewek word nie, is Christus ook nie opgewek nie. 17En as Christus nie opgewek is nie, is julle geloof waardeloos en is julle nog gevange in julle sondes. 18Dan is ook dié wat in Christus gesterf het, verlore. 19As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense.

20Maar nou, Christus is opgewek uit die dood, as eersteling uit dié wat gesterf het. 21Aangesien die dood deur ’n mens gekom het, het die opstanding van die dooies ook deur ’n mens gekom. 22Net soos almal deur hulle verbondenheid met Adam sterf, so sal almal in Christus lewend gemaak word. 23Maar daar is ’n volgorde: die eersteling is Christus, daarna, by Christus se koms, dié wat aan Hom behoort. 24Daarna kom die einde, wanneer Hy die koningskap aan God die Vader oordra, nadat Hy elke mag, elke gesag en krag vernietig het. 25Hy moet as koning heers totdat die Vader al sy vyande aan Hom onderwerp het. 26Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood. 27Daar staan immers geskrywe: “Alles het Hy aan Hom onderwerp.” Maar as die Skrif sê dat alles aan Christus onderwerp is, is dit duidelik dat die Vader wat alles aan Hom onderwerp het, uitgesonder is. 28Wanneer alles dan aan die Seun onderwerp is, sal Hy Hom ook self onderwerp aan die Vader wat alles aan Hom onderwerp het. So sal God alles wees vir alles.

29En nou, as die dooies glad nie opgewek word nie, wat wil die mense bereik wat hulle vir dooies laat doop? Waarom laat hulle hulle nog vir dooies doop? 30En ons ook, waarom stel ons ons dan van uur tot uur aan lewensgevaar bloot? 31Elke dag word ek deur die dood bedreig. Ja, broers, dit is waar, net so waar as wat julle my trots is in Christus Jesus, ons Here. 32As ek hier in Efese as bloot sterflike mens soos teen wilde diere geveg het, wat het ek daarmee bereik? As die dooies nie opgewek word nie,
“laat ons eet en drink,
want môre sterf ons!”
33Moet julle nie langer laat mislei nie:
“Slegte geselskap bederf
goeie sedes.”

34Kom tot besinning en moenie langer sonde doen nie. Party van julle is sonder kennis van God. Dit sê ek tot julle skande.

Die opstandingsliggaam
35Maar iemand kan vra: Hoe word die dooies opgewek? Watter soort liggaam sal hulle hê?

36Dis ’n dom vraag! Wat jy saai, kom nie tot lewe tensy dit eers sterwe nie. 37En wat jy saai, saai jy nie in die toekomstige gestalte daarvan nie, maar as ’n blote saadkorrel, of dit nou koring is of iets anders. 38Maar God gee ’n gestalte daaraan, soos Hy bepaal het; aan elke saadsoort gee Hy ’n eie gestalte.

39Die vleis van lewende wesens is nie alles eenders nie. Daar is verskil tussen die vleis van mense, van diere, van voëls en van visse.

40Daar is hemelliggame en daar is aardse liggame. Die glans van die hemelliggame is anders as dié van die aardse liggame. 41Die glans van die son is anders as dié van die maan of dié van die sterre. Ook verskil die een ster se glans van dié van die ander.

42So is dit ook met die opstanding van die dooies; wat gesaai word, is verganklik en word in onverganklikheid opgewek; 43wat gesaai word, is gering en word in heerlikheid opgewek; wat gesaai word, is swak en word in krag opgewek. 44’n Natuurlike liggaam word gesaai, ’n geestelike liggaam word opgewek. Aangesien daar ’n natuurlike liggaam is, is daar ook ’n geestelike liggaam. 45So staan daar ook geskrywe: “Die eerste mens, Adam, het ’n lewende wese geword.” Die laaste Adam het die lewendmakende Gees geword. 46Die geestelike kom nie eerste nie maar die natuurlike, en daarna die geestelike. 47Die eerste mens is uit die aarde en is stoflik; die tweede mens is uit die hemel. 48Soos die stoflike mens was, so is ook die stoflike mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. 49Soos ons die beeld van die stoflike mens was, sal ons ook die beeld van die hemelse wees.

50Wat ek bedoel, broers, is dit: vlees en bloed kan nie aan die koninkryk van God deel kry nie. Die verganklike kan nie aan die onverganklike deel kry nie. 51Kyk, ek maak ’n geheimenis aan julle bekend: Ons sal nie almal sterwe nie, maar ons sal almal verander word. 52By die laaste trompet sal dit in ’n oomblik, in ’n oogknip gebeur, want die trompet sal weerklink, en die dooies sal as onverganklikes opgewek word, en ons sal verander word. 53Hierdie verganklike liggaam moet met die onverganklike beklee word, en hierdie sterflike liggaam met die onsterflike. 54En wanneer hierdie verganklike liggaam met die onverganklike beklee is, en hierdie sterflike liggaam met die onsterflike, dan sal die woord wat geskrywe staan, vervul word:
“Die dood is vernietig,
die oorwinning is behaal.”
55“Dood, waar is jou oorwinning?
Dood, waar is jou angel?”

56Die angel van die dood is die sonde, en die sonde kry sy krag uit die wet van God. 57Maar ons dank God dat Hy aan ons die oorwinning gee deur ons Here Jesus Christus.

58Daarom, liewe broers, wees standvastig, onwankelbaar, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle inspanning in diens van die Here nie tevergeefs is nie.

Ekstra stof

Die ontstaan van die gemeente
Ons lees in Handelinge 18:1-18 van Paulus se bediening in die gemeente van Korinte. Dit was in die jare 51-52 nC.

Uit sy eerste brief aan die Korintiërs blyk dit dat Paulus daar aangekom het: “bewus van my swakheid, en met groot angs en huiwering” (1 Kor 2:3).  Hy verwys hier waarskynlik na die impak wat die voorafgaande gebeure in Filippi, Tessalonika, Berea en Atene op hom gehad het.  In Filippi is hy geslaan en in die tronk gegooi (Hand 16:11-40); in Tessalonika is hy sterk teengestaan deur die Jode (17:1-9), sowel as direk daarna in Berea waarheen dieselfde Jode hom agtervolg het en ook daar uitgedryf het (17:10-15); en sy bediening in Atene op die Areopagus het maar ’n flou respons uitgelok (17:16-34).

Hoewel daar in die eerste drie stede groeiende gemeentes gestig is, is dit onseker of daar op hierdie stadium ’n lewensvatbare gemeente in Atene ontstaan het. Net Dionisus, ‘n lid van die Areopagus, ‘n vrou Damaris en ‘n paar ander het daar gelowig geword.  Dit is ook hier waar Timoteus weer by Paulus aangesluit het, nadat hy in Filippi agtergebly het om na die gelowiges daar om te sien, hoewel Paulus hom direk weer teruggestuur het na Tessalonika en die ander gemeentes in Masedónië. Na Timoteus se besoek aan hierdie gemeentes, het hy weer in Korinte by Paulus-hulle aangesluit, vanwaar Paulus se briewe aan die Tessalonisense geskryf is.

Dat Paulus hom ook hier in Korinte voorgeneem het om nie “met hoë woorde of groot geleerdheid” (1 Kor 2:3) met hulle te praat nie, verwys waarskynlik ook terug na sy toespraak op die Areopagus in Atene, die stad.  Hy wou egter ook fokus op die kern van die boodskap van Jesus Christus, spesifiek die kruis (2:2), en dit in die krag van die Heilige Gees doen (2:4), ’n teologiese perspektief wat broodnodig was in die lig van die afwykende idees van sommige van die gemeentelede wat mettertyd kop uitgesteek het.  Dieselfde geld sy lering oor die opstanding in hfst 15, maar daaroor eers later.

Die mense van Korinte het hom goed behandel en sy boodskap is met goeie gevolg ontvang.  Hy kon ‘n hele jaar en ‘n half hier bly en sake het regtig baie goed verloop. Lukas wyt hierdie goeie ontvangs aan die werk van die Here wat een nag in ‘n gesig vir Paulus bemoedig het om nie stil te bly nie, maar die evangelie te verkondig (Hand 18:9).  In woorde wat herinner aan God se woorde aan Elia (1 Kon 19:18), verseker die Here Paulus dat daar baie mense in hierdie stad aan Hom behoort (Hand 18:10).

Paulus het by Akwila en Priscilla, wat tentmakers was net soos hyself – en boonop vermoënd, wil dit voorkom, want hulle het ook ‘n huis in Efese (1 Kor 16:19) gehad – gaan bly. Met die groeiende verset van die ongelowige Jode in die sinagoge (die gebou is steeds daar), het Paulus die Joodse gemeenskap verlaat en in die huis van Titius Justus, ironies genoeg net langs die sinagoge, sy bediening voortgesit.  En in nog ‘n stukkie ironie kom die hoof van die sinagoge, Krispus, en sy hele huisgesin tot bekering en sluit by die groeiende Christelike gemeenskap aan.

Met die wisseling van goewerneurs het die Jode probeer om Paulus voor die nuwe goewerneur Gallio aan te kla, maar dié wou niks daarvan weet nie, en het hulle uit sy hof gejaag.  Uit woede het die Jode die hoof van die sinagoge, Sostenes, aangerand, maar kon nie in hulle doel slaag om Paulus-hulle in diskrediet by die stadsbestuur te bring nie.  As dit dieselfde Sostenes is as wat in 1 Korintiërs 1:1 genoem word, het hy tot bekering gekom en deel van die bediening geword aan sy tuisstad.

Dit is op sy derde sendingreis, nadat Paulus die gemeentes in Galasië en Frigië besoek het, dat hy weer in Efese aangekom het en meer as 2 jaar daar kon bly. Terwyl hy daagliks in die saal van Tirannus besprekings gehou het (Hand 19:1-20), het hy waarskynlik sy briewe aan die Korintiërs geskrywe (1 Korintiërs was sy tweede brief aan hulle – vgl 1 Kor 5:9 wat na die eerste brief verwys). Dit is ook moontlik dat hy Korinte hierna weer besoek het (Hand 19:21-20:6), voordat hy in Masedonië 2 Korintiërs geskrywe het, wat waarskynlik eintlik 2 briewe was, sy 4de en 5de brief (hfst 1-9 en hfst 10-13), en sy tranebrief, sy 3de brief, opgevolg het (2 Kor 2:4).

Die brief van 1 Korintiërs
Paulus skryf hierdie brief tydens sy verblyf in Efese (1 Kor 16:8) op sy derde sendingreis, waarskynlik ongeveer 54 nC.

In die brief raak Paulus ‘n hele aantal groot vraagstukke aan, meesal sake wat oor die Christelike lewenswandel gaan, waaroor Paulus hulle wil onderrig.

Dat dit nodig was, spruit onder andere uit voortslepende impak van die heersende kultuur en godsdiens van die stad Korinte op die nuwe bekeerlinge.  Julius Ceasar het in 44 vC die stad weer opgebou, nadat dit vir meer as ‘n eeu dormant gelê het (Rome het dit in 146 vC verwoes).  Die strategiese posisie van die stad, op die 5 km breë landengte tussen Ooste en Weste, het beteken dat dit gou in ‘n groot handelstad ontwikkel het, met ‘n groot kosmopolitaanse samestelling van mense reg oor die Romeinse ryk.

Nie net was daar dus groot rykdom nie, maar ook baie gode en godsdienste, waarvan sommige moreel dekadent was, die vernaamste waarvan die Afrodiete – godin van die liefde – godsdiens was, met die groot altaar op die Akrokorinte berg.  Sommige historici bereken dat daar in haar hoogbloei meer as ‘n duisend prositute in tempeldiens was.  Die term “meisies van Korinte” het ‘n idiomatiese uitdrukking in ander stede geraak wanneer mense na prostitute verwys het.  Geen wonder dat een van die roerendste gedeeltes in die Korintiërbrief juis die verheerliking van die liefde was, wat van God kom, in direkte opposisie met die leerstellings van die heersende godin van die liefde van Korinte.

Sport was ook ‘n geliefde tydverdryf met die tweejaarlikse Istmiese spele wat as teenvoeter vir die Olimpiese Spele in Olympia gehou is.  Paulus sinspeel heel moontlik op hierdie spele in 1 Kor 9:24-27.

Wat veral opmerklik is, anders as wat die geval was in Tessalonika, is dat hierdie kulture en godsdienste se idees nie net van buite af op die gemeente ‘n impak gehad het nie, maar van binne af, omdat dit deur sommige lidmate van die gemeente aangehang is.  En hierdie mense het Paulus direk aangevat omdat hulle nie met hom saamgestem het nie, onder andere ook as gevolg van (doelbewuste?) misverstande wat uit sy eerste brief gespruit het (1 Kor 5:9-11).

Paulus kan dus nie hierdie alternatiewe leringe en perspektiewe ongebreideld laat aangaan nie.  Vandaar die berispende emosionele toon van sy brief.  Let bv. op na die taal van konfrontasie (4:18-21), appèl (10:31 vv), sarkasme (6:5) en ironie (1:26-27) wat hy gebruik.  En 2 Korintiërs wys dat dit eers slegter met hulle verhouding gegaan het, voor dit uiteindelik herstel is!

Dit is ook duidelik dat sommige van hierdie lewenswandel sake deur die huisgesin van Chloë (1:11) aan Paulus gerapporteer is, moontlik met die besoek van Stefanas, Fortunatus en Agaïkus (16:17).  Dit is sake soos: verdeelheid en wysheid (1:10-4:21), bloedskande (5:1-13), hofsake (6:1-11) en prostitusie (6:12-20), waarskynlik ook die vraag na die hoofbedekking van vroue, wat saamhang met die vraag na die algemene rol van vroue in die gemeente (11:2-16) en die nagmaalviering (11:17-34).

Maar daar is ‘n hele klomp ander sake wat Paulus verder aan in sy brief aanraak, wat heel waarskynlik in antwoord is op ‘n vroeëre brief van die Korintiërs aan hom (7:1).  Telkens lei hy dié sake in met die frase: “En nou …” en dan hanteer hy die sake waaroor hulle vrae gehad het.  Dit gaan oor sake soos seks en die huwelik (7:1), ongetroudes (maagde – 7:25), offers aan afgode (8:1), geestelike gawes en die erediens (12:1), offergawes (16:1) en oor Apollos (16:12).

Die enigste saak wat nie oor die Christelike lewenswandel gaan nie, is die lering wat Paulus oor die opstandingsliggaam gee in hoofstuk 15, hoewel dit ook duidelik iets is waaroor die Korintiërs afwykende idees gehad het, en Paulus hulle daaroor wou onderrig.

Die teologiese perspektief op die opstanding verteenwoordig waarskynlik ook ‘n korrektief nie net op hulle idees oor die geestelike gawes en wat dit beteken om geestelik te wees nie, maar ook op hulle idees oor die Christelike lewenswandel.  ‘n Mens se gedrag hier en nou word immers onder andere bepaal deur hoe jy dink oor die toekoms.  As jy nie in die opstanding glo nie, kan jy eintlik hier mos maak wat jy wil.  Dit maak dan nie saak, volgens sommige Korintiër gelowiges, of jy asketies lewe (hfst 7) of immoreel (hfst 5) nie, solank jy net geestelik is, en bv. in tale praat (hfst 14).

In tandem met sy aanvanklike beklemtoning van die kruisteologie (1:17-2:16) begrond hierdie twee teologiese perspektiewe – die kruis en die opstanding – die Christelike lewenswandel, en spel dit die raamwerk uit waarbinne hulle dissipelskap uitgelewe moet word.  Dit is ook die basis van die eenheid wat hy bepleit onder almal wat deel is van die gemeenskap van Christus.

Hoofstuk 16 sluit die brief af met ‘n paar praktiese sake.

Hoofstuk 15
Paulus wend hom tot ’n onderwerp wat hy self op die tafel sit en van kardinale belang vir die Korintiërs se geloof is – die opstanding van Christus.  Dit vorm die basis vir die geloof in hulle eie opstanding uit die dood en is dié ding wat hulle moet aanspoor om standvastig en onwankelbaar te wees, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat die hoop op die opstanding hulle oortuig dat hulle inspanning in diens van die Here nie tevergeefs is nie (vers 58).

Hy begin deur uit te brei op die kruis-evangelie van hoofstuk 2 en herinner hulle aan die die 4 hoofpilare van hulle geloof, dát Christus gesterf het, dát Hy begrawe is, dát Hy opgestaan, en dát Hy verskyn het aan die gelowiges.  Let op hoe die historiese feite (gesterf, begrawe, opgestaan, verskyn) met sy interpretasie daarvan (vir ons sonde, volgens die Skrifte) as lewensveranderende evangelie bevestig word.

Die verskeidenheid van die 6 verskynings wat Paulus beskrywe val ook op, aan enkelinge, kleiner groepe en groot groepe.  Let op ook op dat die twaalf (dissipels) onderskei word van die apostels, wat ’n groter groep was, waaronder Andronikus en Junia was (Rom 16).  Paulus sluit homself as ontydig geborene en geringste van die apostels in, weens sy vervolgingsgeskiedenis, hoewel hy trots is daarop dat hy harder as almal gewerk het, darem weens die genade van die Here.

Met hierdie opstandings-evangelie as vertrekpunt beweeg hy dan direk oor na die verwagting van die opstanding van die dooies waarsonder hulle geloof waardeloos en sonder inhoud en betekenis sou wees.  Hy stel dit daarom duidelik dat soos Christus opgewek is uit die dood, sal dié wat aan Hom behoort, by Christus se koms, lewend gemaak word en opstaan uit die dood.  Dit is die evangelie en dit is ons hoop!

As dit nie waar was nie, sou ook die werk van die evangelie-bedienaars tevergeefs wees, en sou ’n mens eerder kon eet en drink asof alles tot ’n einde sal kom (hy haal hierdie spreuk uit die werk van die Griekse digter Menander aan – 341-291 vC).

Oor die verwysing na die Korintiërs wat hulle vir die dooies laat doop het, is al baie gedink, maar daar is regtig nie goeie verklarings daarvoor nie.  Al wat ’n mens kan sê, is dat Paulus dié gebruik ook inspan om die onsinnigheid van ’n geloof uit te wys wat nie rekening hou met die opstanding uit die dood nie.

Daarna praat Paulus oor die opstandingsliggaam om alle onduidelikheid daaroor op te klaar.

Ons moet onthou dat die Grieke nie in die opstanding van die liggaam geglo het nie, selfs al het hulle die idee gekoester dat die siel van die mens onsterflik is en na die dood sou kon voortbestaan.  Daarom dat Paulus soveel klem lê op die voortbestaan van gelowiges in ’n liggaamlike staat, nie net ’n geestelike nie.

Let op hoe hy in vers 36-41 sy siening begrond deur 3 voorbeelde uit die natuur te gebruik, voordat hy in vers 42-43 sy gevolgtrekkings sal maak en in vers 44-49 verder daarop sal uitbrei.

Hy gebruik eerstens die voorbeeld van die saad wat in die grond val en sterf om in ’n ander gestalte, die koringplant, voort te leef (vers 36-38).  Daarmee wys hy die onderskeid tussen die verganklike en die onverganklike liggaam aan sowel as die wesenlike kontinuïteit al is dit in ’n ander gestalte (vers 42).

Tweedens skryf hy oor die verskil tussen die vleis van mense, diere, voëls en visse (vers 39).  Daarmee probeer hy die geringheid van die aardse liggaam teenoor die heerlikheid van die hemelse liggaam aandui sowel as die herkenbaarheid van die onderskeie soorte wat ná die opstanding nog sodanig sal wees (vers 43a).

In die derde plek beskryf hy die verskil tussen dowwer en helderder hemelliggame soos die maan en sterre versus die son, en selfs sterre onderling (vers 40-41).  Daarmee probeer hy die swakker karakter van die aardse liggaam teenoor die krag van die hemelse liggaam uitdruk sowel as die herkenbaarheid van die onderskeie soorte wat ná die opstanding nog sodanig sal wees (vers 43b).

In sy uitbreiding in vers 44-49 kontrasteer hy die natuurlike karakter van ons liggame hier met die geestelike karakter van ons liggame na die opstanding.  Dit is soos die verskil tussen die eerste mens, Adam, en die laaste Adam, die lewendmakende Gees, die hemelse mens, di Christus.  Die een se liggaam is uit die aarde, en is stoflik; die tweede se liggaam is uit die hemel, en is hemels (In Romeine 5-6 sal hy weer terug kom op ’n vergelyking tussen Adam en Christus).

Die dooies sal dus as onverganklikes opgewek word, net soos dié wat dan nog lewe, in ’n oomblik ook met onverganklikheid beklee sal word.  Dan is dit die einde van die dood, en daarmee die einde van die sonde, want die oorwinning van God sal dan onverganklik wees.

Daarom kan ons saam met Paulus die Here altyd dank en standvastig en oorvloedig in die werk van die Here wees, omdat hierdie opstanding, hierdie onverganklikheid, ons hoop is.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Paasfees is die oudste Christelike fees en die enigste Christelike fees wat gedurende die eerste drie eeue gevier is. Ons hele liturgiese jaar wentel rondom Paasfees, want Paasfees wys op die duidelikste manier denkbaar God se hart vir die mensdom.

Op Goeie Vrydag het alles het tot niks gekom. Die dood spreek die finale woord. Die vroue en dissipels verwag ook by die graf die dood. Hulle gaan op Paassondag daarheen om te treur en te huil want hulle geliefde is dood.

In die lig van dié realiteit moet die kerk op Paassondag gelaat word soos die gemeente dit op Goeie Vrydag verlaat het. Laat die ligte af, geen orrelspel of klokke en laat die uitgedoofde Christuskers as die fokuspunt in die liturgiese ruimte. As almal dan weer in die kerk bymekaar is, begin dan die erediens met die speel van Handel se “Hallelujakoor”, vertoon ’n beeld van die graf waarvan die klip weggeskuif is en verwyder die doringdraad van die Christuskers en steek die kers weer aan.

Aanvangswoord – Paasroep
Voorganger: Die Heer het opgestaan!
Gemeente: Die Heer het waarlik opgestaan!

Voorganger: Die Heer het opgestaan!
Gemeente: Die Heer het waarlik opgestaan!

Seëngroet
22Die klip wat deur die bouers
afgekeur is,
juis hy het die belangrikste klip
in die gebou geword.
23Dit is deur die Here gedoen
en is ’n wonder in ons oë!
24Dit is die dag
wat die Here gemaak het;
laat ons daaroor juig en bly wees.  (Psalm 118)

Nooi die kinders na vore en vra hulle om te help om die liturgiese ruimte feestelik in te rig met blomme, ’n nuwe kanselkleed en mooi helderkleurige lappe.

Lofsang
Lied 411:1-3 “Kom, almal, laat jul stem verrys!” of/en
422:1-3 “Die Heer, die Heer het opgestaan!”

Offergawe
Laat die offergawe vanoggend deel wees van die lof en dankbetuiging aan die begin van die erediens.
Elke ding wat ons ontvang het, het van U gekom o God. Alles waarvoor ons hoop, sal vanuit u liefde gegee word. Ons dank U vir hierdie wete.

Doopherinnering
Paasfees is tradisioneel Doopsondag. As daar nie babas of nuwe lidmate is wat gedoop word nie, kan die volgende doopherinnering gedoen word:

Voorganger: Ons dink vandag spesiaal daaraan dat ons deur ons doop saam met Christus gesterf het en begrawe  is. Ons weet egter dat ons ook saam met Hom opgewek is tot ’n nuwe lewe. Daarom bevestig ons opnuut die beloftes wat by ons doop gemaak is.  Ons bely opnuut ons verbondenheid aan Christus. Ons verwerp opnuut die selfsugtige werke in ons lewe voordat Christus vir ons ’n werklikheid was.

Voorganger: Bely jy jou sonde met berou?
Gemeente: Ons bely ons sonde met berou

Voorganger: Draai u om na Christus toe?
Gemeente: Ons draai om na Christus toe

Voorganger: Het u saam met Hom gesterf?
Gemeente: Ons het saam met Hom gesterf?

Voorganger: Het u saam met Hom opgestaan?
Gemeente: Ons het saam met Hom opgestaan

Voorganger: Bely dan u geloof in die drie-enige God.
Gemeente: Ek glo in God die Vader, wat alles geskep het.
Ek vertrou sy Seun, wat die mensdom kom verlos   het.
Ek glo in die Heilige Gees, wat my daagliks vernuwe en lei.
(Uit Gebedeboek met liturgiese voorstelle 2001)

Liedere

F168.”As Ek Opstaan In Die Oggend (Hy Leef)”
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Lof / Opstanding / Getuienis)
Teks en Musiek: Arno Mattheus
© 2007 MAR Gospel Music Publishers

1. As ek opstaan in die oggend, en ek sien die son
Elke môre vars genade uit Jesus se hand
Dit maak nie saak nie, wat mense sê
Dit maak nie saak nie, wat mense dink
Niks sal my stilmaak nie.
Niks sal my stilmaak nie.

Refrein:
Ek gaan sing, skree, spring en dans
Ek gaan vertel dat Jesus my redder is.
Ek gaan sing, skree, spring en dans.
Ek gaan seker maak dat die wêreld hoor:
Hy leef (Hy leef),  Hy leef (Hy leef),  Hy leef (Hy leef)!

2. Ek sal nie vrees nie;  ek sal nie skuil nie,
want Jesus gee my krag.
Hy’s my redder en my leier.  Voluit sal ek Hom volg.
Dit maak nie saak nie, wat mense sê
Dit maak nie saak nie, wat mense dink
Niks sal my stilmaak nie.
Niks sal my stilmaak nie.

Refrein:

Outro:
Dit maak nie saak nie, wat mense sê
Dit maak nie saak nie, wat mense dink
Niks sal my stilmaak nie, want Jesus leef.

Hy leef!  (Jesus leef.)
Hy leef!  (Jesus leef.)
Jesus leef!

F143. “Leeu Van Juda”
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Lof)
Teks en Musiek: Retief Burger
© 2005 Urial Publishing
(Op 5:3-7;  Rom 8:31-39;  Kol 2:14-15;  1 Kor 15:54-58;  Ps115:1)

Jesus, die sterke leeu van Juda
Jesus, die vlekkelose lam
Jesus, Oorwinnaar oor die dood
Jesus, U is oneindig groot.

U’s vir ewig, U’s vir altyd
en ek weet U’s ook vir my
word verheerlik, word verhoog
deur al die lof wat juig in my
kom verander, kom vernuwe
weer die passie binne my
Jesus, dit gaan alles net oor U

F237. “Hy leef”
(RUBRIEK:  Flammikidz – Opstanding)
Teks en Musiek: Willie Pretorius
© MAR Gospel Music Publishers

Hy leef,  Hy leef
Die graf het oopgegaan
Hy leef,  Hy leef
Hy leef,  Hy’t opgestaan
Hy leef,  Hy leef
Dit maak my hart so bly
Jesus leef in my

Halleluja!  Halleluja!
Jesus leef in my.
Halleluja!  Halleluja!
Jesus leef in my.

God praat met ons en ons luister

Epiklese

Skriflesing: 1 Korintiërs 15:1-11

Prediking

Familie-oomblik

Vra vir die kinders wat die heel beste nuus is wat hulle nog ooit gekry het.  Verduidelik dan dat daar selfs nog beter nuus is, wat iemand baie lank terug gekry het, maar wat ons ook vandag kry.  Vra die kinders of hulle onthou waaraan ons Vrydag gedink het?  (Jesus se kruisiging en dood.)  Vertel dan vir die kinders hoe hartseer en moedeloos almal was.  Alles wat hulle gehoop het, is nou verby, want Jesus is dood.  Vertel dan die verhaal van Maria en die leë graf.  Dít is die beste nuus wat enige iemand ooit gekry het en ooit sal kry:  Jesus leef!

Jy kan ook eerder ‘n video wys van die leë graf. Daar is baie kindervideos op Youtube – soek vir Jesus risen children.
Of laai hierdie een af.
Of hierdie een , wat die opstanding dramaties uitbeeld.

Nooi die kinders na vore en vra hulle om te help om die liturgiese ruimte feestelik in te rig met blomme, ’n nuwe kanselkleed en mooi helderkleurige lappe.

(Powerpoint prent van Christiancliparts.blogspot.com)

Preekriglyn

Aftrede kom nou nader vir miljoene lede van die sg. baby boomer generasie.  Hierdie generasie is in die groot “baby boom” na afloop van die Tweede Wêreldoorlog, iewers tussen 1946 en 1964, gebore.  In dié jare het die bevolkingsaanwas in die VSA en die res van die Westerse wêreld dramaties toegeneem.

Die baby boomers het ‘n hele industrie geskep wat hulle help om jonger te lyk en jonger te voel.  Hulle gaan hulself jonk genoeg hou om hul aftrede te geniet!

Die mediese industrie voorsien groot hoeveelhede aanvullings wat veroudering teenwerk.  Menslike groeihormone laat spiermassa toeneem, verbeter glo die geheue en help die hartfunksie aan.  Natuurlike estrogeen en progesteroon help teen Alzheimers en osteoporose.  Dit verlig ook die simptome van menopouse.  Testosteroon help glo die geheue en hou beenmassa in stand, verlig menopouse, en wakker seksualiteit aan.

Volgens die Akademie van Teenveroudering was dié industrie in die jaar 2006 reeds 450 biljoen rand werd.  Teen 2010 het dié syfer ontplof tot meer as 650 biljoen rand.  In die VSA spesialiseer meer as 1,500 geneeshere in anti-veroudering medikasie.

Die meeste van hierdie aanvullings en behandelings is nie behoorlik wetenskaplik geverifieer nie.  Die gewildheid daarvan berus egter op wye instemming dat dit help.  ‘n Afgetrede tandarts, dr. Howard Benedict, is ‘n voorbeeld van hoe ver mens dit kan voer.  Hy spandeer jaarliks meer as R80,000 op testosteroon jel, inspuitings van menslike groeihormone, en 30 vitamiene en voedselaanvullings.  Hy sê hy voel soos ‘n twintigjarige man.

Een lewe?

Die najaag van lewenskwaliteit en weerstand teen veroudering is ‘n goeie ding.  Tot op ‘n punt.  Mens kan veg teen die dood asof dit die einde van alles is.  Asof ons regtig net een lewe het, t.w. hiérdie lewe.

Die Christelike geloof heg groot waarde aan hierdie lewe.  Dit is ‘n gawe van God.  Ons is geroep om God met hierdie lewe te dien.  Ons moet die meeste van ons lewe hier maak, en ander help om ‘n meer vervulde lewe te lei.  Daarom roep Jesus ons op tot naastediens, tot die deel van ons gawes met ander, tot die soek van ander se belange en die dra van ander se laste.

Die evangelie maak ons egter vry van die verafgoding van hierdie lewe.  Ons het nie net een lewe nie.  Ons het die ewige lewe.  Die evangelie, die goeie nuus, van Jesus Christus betrek ons by ‘n dinamika wat ons veel meer skenk as hierdie lewe.  In Christus kry ons deel aan die ewige lewe.

Christus maak die verskil.  Christus ontsluit die ware lewe.

Die evangelie

1 Korintiërs 15 is die fondament van Christene se opstandingsgeloof.  Prof Scot McKnight, Nuwe Testamentiese geleerde, noem hierdie hoofstuk die hoeksteen van Paulus se boodskap.  Wie wil weet wat die inhoud van die evangelie is, moet na 1 Kor. 15 kyk.

Paulus begin in 15:1 om die Korintiërs te herinner aan die evangelie wat hy by hulle verkondig het.  Die Korintiërs het hierdie evangelie ontvang, en staan daarin gevestig.  Volgens 15:2 is dit hierdie evangelie wat hulle red.

Paulus herinner die Korintiërs aan hierdie evangelie (15:1).  Die evangelie is die hart van ‘n betekenisvolle lewe.  Die evangelie skep sekuriteit.  Die evangelie waarborg egte lewe.  Die evangelie ontsluit die toekoms.

Ontvang en vashou

Dit is opvallend dat die Korintiërs nie self die evangelie uitgedink het, of self ‘n plan gemaak het om die lewe sinvol te kry nie.  Hulle het die evangelie ontvang by Paulus.  Elders beklemtoon Paulus dat hy op sy beurt weer die evangelie in sy ontmoeting met Jesus, en by die apostels ontvang het.  Aan hierdie evangelie moet hulle vashou, want dit red hulle.

Die boodskap van die evangelie is nie iets wat ons bedink, of ontwerp nie.  Dis nie iets wat ‘n mens uitgedink het nie.  Dis nie iets waaroor ons beskik of wat ons kan aanpas om ons begripsvermoë te streel nie.

Die evangelie kom van buite en moet aanvaar word as die fondament waarop egte lewe ontstaan en groei.  Ons word geroep om daaraan vas te hou.

Dit is vandag net so belangrik as in die eerste eeu in die hawestad van Korinte om die evangelie te ontvang, jou lewe daarop te bou, en daaraan vas te hou.  Daardie evangelie red.

“As julle aan iets anders vashou, het julle tevergeefs tot geloof gekom.” (15:2)

Die evangelie gaan oor Jesus

In verse 5 tot 8 beklemtoon Paulus dat Jesus Christus die inhoud van die evangelie is.  Die ware inhoud van die evangelie het te doen met gebeure in Jesus se lewe(15:3-5):

  • Christus het gesterf
  • Christus is begrawe
  • Christus is opgewek
  • Christus het verskyn.

Die evangelie – om dit te herhaal – het te doen met kerngebeure in die lewe van Jesus Christus. Die inhoud van die evangelie is Jesus.  “Evangelie” beteken om aan te kondig of te verkondig.  Wat word aangekondig?  Sleutelgebeure in die lewe van Jesus Christus.

Te veel word die evangelie as geestelike beginsels, ‘n paar geestelike wette, of ‘n paar stappe tot verlossing gesien.  Die evangelie kan maklik afgewater word tot ‘n morele kode of ‘n bepaalde lewensstyl.

Die onverdunde evangelie is die aankondiging van sleutelgebeure in Jesus Christus se lewe.  Dit is getuienis oor Jesus.  Dit is hierdie evangelie wat ons red en waartoe ons geroep word om daarin vas te staan.

“Gesterf vir ons sondes”

Paulus verbind die sleutelgebeure in Jesus se lewe met ons sondes.  Jesus het “vir ons sondes” gesterf.  Dit is die goeie nuus van Jesus: ons word verlos van die bindende mag van ons sondes.

Ons moet uiters versigtig wees om nie te eng oor Jesus se dood “vir ons sondes” te dink nie.  Daar is ‘n ryke verskeidenheid gedagtes en beelde in terme waarvan die Bybel hieroor praat.

Scot McKnight (in sy boek, The King Jesus Gospel) som die ryk Bybelse inhoud van Jesus se dood vir ons sonde as volg op:

  • Identifikasie:  Jesus sterf “met ons” – Jesus sterf as ‘n mens.  Hy het ten volle mens geword, en Hy sterf as volledige mens vir ons sondes.  Daarom kan Hy ons volkome verlos.
  • Verteenwoordiging en plaasvervanging: Hy sterf in ons plek, “namens ons.”  Hy het in ons plek gestaan en die straf op ons sonde op Sy skouers geneem.  Die straf wat tot ons fisiese en geestelike dood sou lei, het op Hom neergekom.
  • Ter wille van ons:”  Hy sterf tot ons voordeel.  Hy verwerf vir ons vergifnis van sonde, versoening met God, regverdiging voor God se regbank, koop ons los uit die slawerny van die sonde, en bevry ons van alle magte wat ons bind.  Jesus se dood (en opstanding) ontsluit die teenwoordigheid en nabyheid van God vir ons.

Dis hoe die evangelie ons red.  Die evangelie wat aan ons geskenk word, en wat ons met leë hande omhels, bind ons aan Jesus se sterwe vir ons sondes vas.  Dit dood die kiem van vernietiging in ons lewe.  Dit ontkrag die magte wat die lewe stadig maar seker uit ons pers en ons in die graf laat eindig.  Dit skenk ons lewe.

“Volgens die Skrifte”

Jesus sterf vir ons sondes “volgens die Skrifte.” (15:3)

Hiermee verbind Paulus Jesus se dood met die Ou Testament.  Jesus se dood vervul die Ou Testament.  Dit lyk nie asof Paulus een spesifieke teks in die Ou Testament in gedagte het wat Christus met sy dood vervul nie.  Hy getuig dat Jesus se dood “volgens die Skrifte” die hele Ou Testament vervul:

  • Die hele offersisteem wat getuig dat daar versoening gedoen moet word vir sonde, wys vooruit na Christus se dood “vir ons sonde volgens die Skrifte”;
  • Die Groot Versoendag waarop daar vir die volk versoening gedoen is;
  • Die Pasga waarvolgens die offerbloed vryspraak en lewe bring, en wat op talle wyses gevier is; asook
  • Helder tekste, soos die wonderlike liedere in Jesaja oor die Dienaar van die Here (vgl. bv. Jesaja 52-53),

dui alles op Jesus wat sterf volgens die Skrifte, vir ons sonde.

“Begrawe”

Jesus het nie net vir ons gesterf nie, maar is ook vir ons begrawe.  Die een plek wat ons so lank as moontlik vermy, die graf, dit het Jesus vir ons betree.  Die doderyk, so gevrees in die Ou Testament, die niksheid van die graf, dit het Jesus vir ons vermorsel.

Waarom?  Om die finaliteit van die graf oop te breek na God toe.  Om die graf te omskep van ‘n finale eindpunt, na ‘n gang, ‘n deurgang na die lewe.

Die evangelie is nie net die kruis nie.  Dit sluit ook die begrafnis van die dooie Jesus in die vars graf in die tuin, in.  Ter wille van ons.

In die breër Nuwe Testamentiese tradisie is Jesus se begrafnis juis ook sy neerdaal ter helle om die oorwinning oor die dood in die doderyk aan te kondig (1 Petrus 3:19).

In die Kariye Kilesesi (ook bekend as die Chora Kerk) in Istanbul is ‘n aangrypende fresko wat Jesus se toetrede tot die doderyk aankondig.  Die massiewe fresko dateer uit die dertiende eeu en is in die kapel van die kerk van waaruit begrafnisse gehou is, aangebring.  Dit toon hoedat Jesus pas die poorte van die doderyk platgestamp het.  Jesus is besig om Adam en Eva uit die greep van die dood op te lig.  Hy hou hulle aan hul polse vas en tel hulle op.  Self kon hulle nie na die Lewe gryp nie – hulle word opgewek.

Jesus is begrawe.  Ter wille van ons.

“Opgewek”

Die evangelie is ook dat Jesus op die derde dag vir ons opgewek is.  Paulus gebruik die passiewe vorm: Jesus is opgewek.  Daarmee dui hy aan dat God die Vader Jesus opgewek het.  God het Jesus uit die graf gelig, God het aan Jesus nuwe lewe gegee.

Hierdie lewe wat Jesus nou leef is ‘n lewe anderkant die graf.  Mense wat weer lewend geword het, soos Lasarus, het duskant die graf opgestaan.  Hulle het weer gesterf.  Nie Jesus nie.  Jesus is anderkant die graf opgewek.  Jesus het die dood en die graf oorwin.  Jesus het opgestaan in ‘n nuwe, onverganklike lewe in heerlikheid.  Vir ons.

Die feit dat die Vader Jesus opwek, dui daarop dat die Vader Jesus se dood as ‘n offer vir ons sonde aanvaar het.  Jesus word regverdig verklaar.  Jesus se nuwe lewe is die eerste sigbare teken van die nuwe lewe wat God skep.  Jesus se verheerlike lewe is die begin van God se nuwe, verheerlikte skepping.

Met Jesus se opwekking bevestig die Vader dat alles wat Jesus geleer en gedoen het inderdaad die waarheid is wat van God kom.  Die weg wat Jesus op aarde aan ons gewys, geleer en gedemonstreer het, is inderdaad God se weg tot lewe.  Barmhartigheid, uitreik, omgee, genesing, die wondertekens, die gesagvolle lering, die eis van liefde vir mekaar en vir die vyand, die hoop vir armes – dit alles is inderdaad dinge wat van God die Vader kom, en dit is werklik die manier waarop God wil hê ons moet lewe.  Die opwekking van Jesus is God se seël op die waarheid van Jesus se leer en lewe.  God wás en is in Jesus aan die werk.

“Verskyn”

Die evangelie, wat ons geroep word om te glo, berus op die getuienis van baie.  Soos baie Jesus gesien en gehoor het, by sy kruis gestaan het, betrokke was by sy begrafnis, het baie Hom ook na sy dood en begrafnis weer lewend gesien.  Hy het aan baie verskyn.

Die evangelie wat ons red, is nie ‘n sprokie of ‘n mooi ideaal nie.  Dit is ‘n feit.  Dit is geskiedenis.  Dit het inderdaad gebeur, op hierdie aarde en vir die mense van hierdie aarde.

Toepassing

Met Paasfees word ons genooi om vas te staan in die evangelie.  Ons word genooi om ons lewe op Jesus se lewe te bou.  Laat ons mekaar vandag herinner aan dié evangelie.

Ons lewe is nie in ons hande nie – gelukkig nie.  Die sin van die lewe is nie maar om – met aanvullings en kure – die beste van ‘n slegte saak te probeer maak nie.  Daar is nie meer plek van wanhoop, mistroostigheid, vir gebrek aan moed, vir ondraaglike skuldgevoelens of vir doelloosheid nie.  Ons is ingeplant in die evangelie (goeie nuus) van Jesus wat ons ontvang het.

Ons lewe in nuwe lig.  Ons lewe in die lig wat van Jesus afstraal.  Na sy opstanding staan alles onherroeplik in ‘n nuwe lig.  Jesus lewe en ons met Hom.  Sy lewe, sterwe, en opstanding gee sin aan ons geloof en lewe.

Hoe weet ons dat ons geloof sin maak?  Jesus het vir ons gesterf, is begrawe, opgewek en het aan mense verskyn.

Daarom span ons ons in en leef en werk ons moedig op grond van die dood en opstanding van ons Here. Dink hier aan die sterk beklemtoninge van sekerheid in die res van die groter hoofstuk. Ons is daarom oortuig ons prediking is nie tevergeefs nie (15:14). Ons bely Christus is die eersteling wat opgestaan het uit die dood (15:20). Ons weet verseker die laaste vyand, die dood, is vernietig (15:26).

Ons getuig teenoor die wêreld, magte en heerskappye, van die gekruisigde Jesus wat leef en Heer is, opgewek, opgevaar en wat sit aan die regterhand van die Vader, waarlik teenwoordig in die geskiedenis, met ons, al die dae tot aan die voleinding, soos die kerk dit in die oer Christelike belydenisse gedoen het tot vandag.

Ons is op Paasfees opgewonde, uitbundig bly, en groet mekaar vol vreugde, verkondig aan mekaar en die wêreld die dood is oorwin, vertel selfs grappe ten koste van die dood (soos die oer Christelike kerk), en sing hallelujas, vreugdeliedere, kinderliedere, want “Hy leef” en ons met Hom!

God stuur ons om te leef

Gebed
Here
ons aanbid U as Christus die oorwinnaar.
U het op Golgota die dood oorwin.
U het die mag van die Satan gebreek.
Die Here het waarlik opgestaan!
Die graf is leeg!
Laat die hemel sy roem verkondig.
Dankie, Jesus Triomfator,
dat U tot die dood toe gehoorsaam was
en dat God U tot die hoogste eer verhef het;
dat U aan die regterhand van God sit en vir my intree.
Dankie, dat U my saamvoer op u triomftog
deur tyd en ewigheid.
Ek weet verseker dat,
omdat U uit die dood opgestaan het,
ek ook uit die dood van die sonde kan opstaan
tot ‘n nuwe lewe van oorwinning.
Here Jesus, omdat U die opstanding en die lewe is,
sal ek kan ingaan in die ewige tuiste
wat U gaan berei het.
Laat my nooit u lewende teenwoordigheid vergeet nie;
verseker my opnuut dat daar niks en niemand is
wat my van U liefde kan skei nie.
Vergewe my genadige Here Jesus,
as ek soms nog lewe asof U dood is.
Laat my al die dae van my lewe
in die heerlike troos lewe van U belofte:
“En onthou, Ek is by julle al die dae!”
In die Naam van my opgestane en verheerlikte Heiland.
Amen
(Uit Gebede vir jou lewenspad van Solly Ozrovech, 2009:58)

Apostoliese Geloofsbelydenis (Opsioneel)
Ek glo in God die Vader, die Almagtige,
die Skepper van die hemel en die aarde.
En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
wat ontvang is van die Heilige Gees,
gebore is uit die maagd Maria;
wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is,
gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
wat opgevaar het na die hemel
en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,
van waar Hy sal kom om te oordeel
dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.
Ek glo in die Heilige Gees.
Ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk,
die gemeenskap van die heiliges;
die vergewing van sondes;
die opstanding van die vlees
en ’n ewige lewe.

Wegsending: Lied 409:1-3 “Hoor jy die Paasfeesklokke?”

Seën
Kyk daar, dit is ons God,
ons het op Hom vertrou,
Hy het ons gered.
Dit is die Here!
Ons het op Hom vertrou.
Laat ons bly wees en juig
omdat Hy ons gered het. (Jes 25)
13Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees. (2 Korintiërs 13:13)

Musikale Amen: Lied 312/313/314/315