Paasfees

Sections

Oorsig

As dit moontlik is, moet die eerste diens van Paassondag begin terwyl dit nog donker is. Dit is die logiese begin van die derde deel van die Triduum wat op Wit Donderdag begin het. Die laaste minute van dié diens was stil en in die donkerte. Goeie Vrydag het nie ’n begin of einde gehad nie, en daar is nie ’n groet aan die begin van hierdie diens nie. Gemeentelede kry almal ’n kers met hulle aankoms.

Ander tekste

Handelinge 10:34-43
Petrus se toespraak by Kornelius
34Toe het Petrus aan die woord gekom en gesê: “Waarlik, ek begryp nou eers dat God nie onderskeid maak nie, 35maar in enige volk die mense aanneem wat Hom vereer en doen wat reg is. 36Julle weet dat God aan Israel sy woord gestuur het, naamlik die evangelie van vrede wat Jesus Christus gebring het. Hierdie Jesus is Here van almal. 37Julle weet ook van die gebeurtenisse dwarsdeur die hele Joodse land. Dit het in Galilea begin ná die doop wat Johannes verkondig het. 38Julle weet van Jesus van Nasaret, dat God Hom met die Heilige Gees gesalf en met krag toegerus het. Hy het rondgegaan, oral goeie werke gedoen en almal gesond gemaak wat in die mag van die duiwel was, want God was by Hom.

39“En ons is getuies van alles wat Hy in die Joodse land en in Jerusalem gedoen het. Hulle het Hom doodgemaak deur Hom aan die kruis te hang. 40Maar God het Hom op die derde dag uit die dood opgewek en Hom laat verskyn, 41nie aan die hele volk nie, maar net aan ons vir wie God reeds gekies het om getuies daarvan te wees, ons wat ná sy opstanding uit die dood saam met Hom geëet en gedrink het. 42Hy het ons opdrag gegee om aan die volk te verkondig en te bevestig dat dit Hy is wat deur God aangestel is as Regter oor lewendes en dooies. 43Van Hom getuig al die profete dat elkeen wat in Hom glo, vergewing van sondes deur sy Naam ontvang.”

Jesaja 65:17-25
’n Nuwe hemel en ’n nuwe aarde
17Ek gaan ’n nuwe hemel
en ’n nuwe aarde skep;
aan dié wat daar nou is,
sal daar nie meer gedink word nie,
hulle sal nie onthou word nie.
18Wees bly, en jubel sonder ophou
oor wat Ek gaan skep:
Ek gaan ’n Jerusalem skep
wat vol blydskap is,
sy inwoners sal vreugde hê.
19Ek sal jubel oor Jerusalem,
Ek sal bly wees oor my volk.
Daar sal in Jerusalem
nie meer iemand gehoor word
wat huil of om hulp roep nie.
20Daar sal geen kind sterf
wat maar ’n paar dae oud is nie
en geen grysaard wat nie sy jare
uitgeleef het nie.
As iemand op honderdjarige leeftyd
sterf,
sal dit beskou word
asof hy jonk gesterf het;
as hy nie honderd word nie,
sal hy beskou word
as iemand wat vervloek is.
21Dan sal mense huise bou
en self daarin woon,
hulle sal wingerde plant
en self die druiwe eet.
22Hulle sal nie huise bou
waarin ander sal woon nie,
hulle sal nie wingerde plant
waarvan ander die druiwe sal eet nie.
My volk sal so oud word
soos ’n boom.
Dié wat Ek uitverkies het,
sal self die vrug van hulle handewerk
geniet.
23Hulle sal hulle nie
tevergeefs vermoei nie,
hulle sal nie kinders hê
vir wie daar rampe wag nie,
want hulle sal ’n volk wees
wat deur die Here geseën word,
hulle en hulle afstammelinge.
24Voor hulle nog roep,
sal Ek antwoord,
terwyl hulle nog praat,
sal Ek hulle gebed verhoor.
25Die wolf en die lam sal saam wei,
die leeu sal strooi vreet soos ’n bees,
en stof sal die kos van die slang wees.
Op my heilige berg
sal niks verkeerds gedoen word nie,
niks vernietig word nie,
sê die Here.

Psalms 118:1-2; 14-24
Die Here doen kragtige dade
118 Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie!

2Israel moet getuig:
“Aan sy liefde is daar geen einde nie.”

3Die huis van Aäron moet getuig: 
“Aan sy liefde is daar geen einde nie.” 
4Dié wat die Here dien, moet getuig: 
“Aan sy liefde is daar geen einde nie.” 
5In my nood het ek na die Here geroep, 
die Here het my gebed verhoor 
en my bevry. 
6Die Here is by my, 
ek ken geen vrees nie; 
wat kan ’n mens aan my doen? 
7Die Here is by my, Hy help my: 
ek sal neerkyk op dié wat my haat. 
8Om by die Here te skuil, 
is beter as om op mense te vertrou. 
9Om by die Here te skuil, 
is beter as om op hoë mense te vertrou. 
10Nasies het van alle kante af 
op my afgestorm. 
In die Naam van die Here 
het ek hulle aanval afgeslaan. 
11Hulle het my omsingel, 
my van alle kante bestorm. 
In die Naam van die Here 
het ek hulle aanval afgeslaan. 
12Hulle het soos bye om my gepak, 
maar hulle het verdwyn 
soos doringtakke in ’n vuur. 
In die Naam van die Here 
het ek hulle aanval afgeslaan. 
13My vyande wou my platloop 
en my ondergang bewerk, 
maar die Here het my gehelp. 

14Die Here is my krag en my beskerming.
Dit is Hy wat my gered het!
Hoor die gejuig
in die laer van die oorwinnaars:
“Die Here doen kragtige dade,
16die Here triomfeer,
die Here doen kragtige dade!”
17Ek sal nie sterwe nie, ek sal lewe
en van die dade van die Here getuig.
18Die Here het my swaar gekasty,
maar my nie aan die dood
oorgegee nie.
19Maak die tempelpoort vir my oop:
ek wil ingaan en die Here loof.
20Dit is die poort na die Here toe;
regverdiges mag daardeur ingaan.
21Ek wil U loof
omdat U my gebed verhoor
en my gered het.
22Die klip wat deur die bouers
afgekeur is,
juis hy het die belangrikste klip
in die gebou geword.
23Dit is deur die Here gedoen
en is ’n wonder in ons oë!
24Dit is die dag
wat die Here gemaak het;
laat ons daaroor juig en bly wees.

25Red tog, Here, 
gee tog voorspoed, Here! 
26Prys hom 
wat in die Naam van die Here kom! 
Ons seën julle uit die huis van die Here. 
27Die Here is God; 
Hy skenk ons die lewe. 
Begin die fees! Wuif met takke! 
Gaan tot by die horings van die altaar. 
28U is my God, U wil ek loof; 
my God, u grootheid wil ek besing. 
29Loof die Here, want Hy is goed, 
aan sy liefde is daar geen einde nie.

1 Korintiërs 15:19-26
Die opstanding van die dooies
12As ons dan verkondig dat Christus uit die dood opgewek is, hoe kan party van julle nog beweer dat daar geen opstanding van die dooies is nie? 13As daar geen opstanding van die dooies is nie, beteken dit dat Christus ook nie opgewek is nie. 14En as Christus nie opgewek is nie, is ons prediking sonder inhoud en julle geloof ook sonder inhoud. 15Verder sou dit beteken dat ons vals getuienis oor God afgelê het, omdat ons teen God in getuig het dat Hy Christus opgewek het. As dit dan waar is dat die dooies nie opgewek word nie, het Hy Christus ook nie opgewek nie. 16As die dooies nie opgewek word nie, is Christus ook nie opgewek nie. 17En as Christus nie opgewek is nie, is julle geloof waardeloos en is julle nog gevange in julle sondes. 18Dan is ook dié wat in Christus gesterf het, verlore. 

19As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense.

20Maar nou, Christus is opgewek uit die dood, as eersteling uit dié wat gesterf het. 21Aangesien die dood deur ’n mens gekom het, het die opstanding van die dooies ook deur ’n mens gekom. 22Net soos almal deur hulle verbondenheid met Adam sterf, so sal almal in Christus lewend gemaak word. 23Maar daar is ’n volgorde: die eersteling is Christus, daarna, by Christus se koms, dié wat aan Hom behoort. 24Daarna kom die einde, wanneer Hy die koningskap aan God die Vader oordra, nadat Hy elke mag, elke gesag en krag vernietig het. 25Hy moet as koning heers totdat die Vader al sy vyande aan Hom onderwerp het. 26Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood.

27Daar staan immers geskrywe: “Alles het Hy aan Hom onderwerp.” Maar as die Skrif sê dat alles aan Christus onderwerp is, is dit duidelik dat die Vader wat alles aan Hom onderwerp het, uitgesonder is. 28Wanneer alles dan aan die Seun onderwerp is, sal Hy Hom ook self onderwerp aan die Vader wat alles aan Hom onderwerp het. So sal God alles wees vir alles.

29En nou, as die dooies glad nie opgewek word nie, wat wil die mense bereik wat hulle vir dooies laat doop? Waarom laat hulle hulle nog vir dooies doop? 30En ons ook, waarom stel ons ons dan van uur tot uur aan lewensgevaar bloot? 31Elke dag word ek deur die dood bedreig. Ja, broers, dit is waar, net so waar as wat julle my trots is in Christus Jesus, ons Here. 32As ek hier in Efese as bloot sterflike mens soos teen wilde diere geveg het, wat het ek daarmee bereik? As die dooies nie opgewek word nie,
“laat ons eet en drink,
want môre sterf ons!” 
33Moet julle nie langer laat mislei nie:
“Slegte geselskap bederf
goeie sedes.” 
34Kom tot besinning en moenie langer sonde doen nie. Party van julle is sonder kennis van God. Dit sê ek tot julle skande.

Lukas 24:1-12
Jesus het opgestaan

(Matt 28:1–10; Mark 16:1–8; Joh 20:1–10)
24 Die Sondagmôre baie vroeg het die vroue na die graf toe gegaan met die reukolie wat hulle reggemaak het. 2Daar kry hulle die klip weggerol van die ingang van die graf af; 3en toe hulle ingaan, het hulle nie die liggaam van die Here Jesus gekry nie. 4Hulle het nie geweet wat om daarvan te dink nie. Meteens staan daar by hulle twee manne met blink klere aan. 5Die vroue het groot geskrik en met hulle gesig na die grond toe gebuig. Toe sê die manne vir hulle: “Waarom soek julle die Lewende by die dooies? 6Hy is nie hier nie. Hy is uit die dood opgewek. Onthou hoe Hy met julle gepraat het toe Hy nog in Galilea was 7en gesê het: Die Seun van die mens moet uitgelewer word in die hande van sondige mense, gekruisig word, en op die derde dag opstaan.”

8Toe het hulle sy woorde onthou 9en van die graf af teruggegaan en al hierdie dinge vir die elf en al die ander vertel. 10Die vroue was Maria Magdalena en Johanna en Maria die ma van Jakobus. Ook die ander vroue saam met hulle het dieselfde dinge aan die apostels vertel. 11Maar vir hulle het hierdie verhaal na onsin gelyk en hulle het die vroue nie geglo nie.

12Petrus het egter opgespring en na die graf toe gehardloop. Toe hy daar vooroor buk, sien hy net die doeke. Vol verwondering oor wat gebeur het, is hy terug huis toe.

Fokusteks

Johannes 20:1-18
Die leë graf

(Matt 28:1–8; Mark 16:1–8; Luk 24:1–12)
20 Die Sondagmôre vroeg, toe dit nog donker was, kom Maria Magdalena by die graf en sien dat die klip van die graf af weggerol is. 2Sy hardloop toe en gaan na Simon Petrus en na die ander dissipel toe vir wie Jesus baie lief was, en sê vir hulle: “Hulle het die Here uit die graf weggevat, en ons weet nie waar hulle Hom nou begrawe het nie.”

3Petrus en die ander dissipel het toe uitgekom en na die graf toe gegaan. 4Die twee het saam begin hardloop, maar die ander dissipel het vinniger as Petrus gehardloop en eerste by die graf gekom. 5Toe hy vooroor buk, sien hy die doeke lê, maar hy het nie ingegaan nie. 6Ná hom het Simon Petrus ook daar aangekom, en hy het in die graf ingegaan. Hy sien toe die doeke daar lê, 7ook die doek wat om Jesus se kop was. Dié doek het nie by die ander doeke gelê nie, maar was eenkant afsonderlik opgerol. 8Daarna het die ander dissipel, wat eerste by die graf gekom het, ook ingegaan, en hy het dit ook gesien en geglo.

9Hulle het nog nie die Skrif verstaan dat Jesus uit die dood moet opstaan nie.

10Daarna het die dissipels weer huis toe gegaan.

Jesus verskyn aan Maria Magdalena
(Matt 28:9–10; Mark 16:9–11)
11Maar Maria het buite by die graf bly staan en huil. Terwyl sy huil, het sy vooroor gebuk om in die graf in te kyk. 12Toe sien sy twee engele met wit klere aan daar sit waar die liggaam van Jesus gelê het, een waar die kop en een waar die voete was. 13Hulle vra toe vir haar: “Mevrou, waarom huil jy?”

Sy antwoord hulle: “Omdat hulle my Here weggevat het en ek nie weet waar hulle Hom nou begrawe het nie.”

14Nadat sy dit gesê het, het sy omgedraai en vir Jesus daar sien staan, maar sy het nie geweet dat dit Hy is nie. 15Jesus vra haar toe: “Mevrou, waarom huil jy? Vir wie soek jy?”

Sy het gedink dit is die tuinopsigter, en sy het vir hom gesê: “Meneer, as u Hom weggevat het, sê vir my waar u Hom begrawe het, en ek sal Hom daar gaan haal.”

16Jesus het vir haar gesê: “Maria!”

Sy draai na Hom toe en sê in Hebreeus vir Hom: “Rabboeni!” Dit beteken leermeester.

17Jesus sê toe vir haar: “Moet My nie vashou nie, want Ek het nog nie na die Vader toe opgevaar nie. Maar gaan na my broers toe en sê vir hulle: ‘Ek vaar op na my Vader toe, wat ook julle Vader is, na my God, wat ook julle God is.’”

18Maria Magdalena het toe vir die dissipels gaan sê: “Ek het die Here gesien!” En sy het ook vertel wat Hy vir haar gesê het.

Jesus verskyn aan sy dissipels
(Matt 28:16–20; Mark 16:14–18; Luk 24:36–49)
19Daardie Sondagaand was die dissipels bymekaar. Alhoewel die deure gesluit was omdat hulle bang was vir die Jode, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en vir hulle gesê: “Vrede vir julle!”

20Nadat Hy dit gesê het, wys Hy sy hande en sy sy vir hulle. Die dissipels was baie bly toe hulle die Here sien.

21“Vrede vir julle!” sê Hy weer vir hulle. “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.”

22Nadat Hy dit gesê het, blaas Hy oor hulle en sê: “Ontvang die Heilige Gees! 23As julle vir mense hulle sondes vergewe, word dit hulle deur God vergewe; as julle dit nie vergewe nie, word dit nie deur God vergewe nie.”

24Tomas, wat ook Didimus genoem is, een van die twaalf, was nie by die dissipels toe Jesus gekom het nie. 25Die ander dissipels sê toe vir hom: “Ons het die Here gesien!”
Maar hy sê vir hulle: “As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien en my vinger in die merke van die spykers steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie.”

Jesus en Tomas
26Ag dae later was Jesus se dissipels weer bymekaar, en Tomas was by hulle. Hoewel die deure gesluit was, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en gesê: “Vrede vir julle!”

27Daarna sê Hy vir Tomas: “Bring jou vinger hier en kyk na my hande; en bring jou hand en steek hom in my sy; en moenie langer ongelowig wees nie, maar wees gelowig.”

28En Tomas sê vir Hom: “My Here en my God!”

29Toe sê Jesus vir hom: “Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.”

30Jesus het nog baie ander wondertekens, wat nie in hierdie boek beskrywe is nie, voor sy dissipels gedoen. 31Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
[Liturg alles, of responsories – gemeente kursief gedrukte gedeeltes]
Wat moet ons met hierdie dag doen?
Wanneer grafte oopgaan…
Dooies opstaan…
Wanneer lewe nie gekeer kan word nie…

Dan is niks onmoontlik nie!
Hoop kan nooit geblus word nie
En liefde nooit vergaan nie.

Here Jesus, ons loof U vandag,
Omdat U vir ons duidelik gewys het dat die dood nie die laaste woord spreek nie;
Omdat U ons weer kom vul het met hoop en geloof;
Omdat U ons oë kom oopmaak het vir nuwe moontlikhede, nuwe realiteite, nuwe maniere van leef.

Open ons verstand om te glo wat ons nie kan verklaar nie;
Open ons harte om te hoop op wat ons nie kan sien nie;
Open ons lewens om te leef en lief te hê te midde van dood en hartseer;
Laat die opstanding vandag weer in ons gebeur.
Amen.
(Vanaf Sacredise.com)

Lied 409 “Hoor jy die Paasfeesklokke?” of
Flam 64 “U Is God”
VONKK 5 “Vreugde! Vreugde!”

Votum
Liturg:  Die Heer het opgestaan!
Gemeente:  Die Heer het waarlik opgestaan!

Liturg:  Die Heer het opgestaan!
Gemeente:  Die Heer het waarlik opgestaan!

Seëngroet

Lofsang
Lied 425 “Kyk die Heer het opgestaan” of
Flam 336 “Wie Is Ek Dat U Aan My Gedink Het (My Verlosser Leef) ”
VONKK 75 “Halleluja! Die Heer Het Opgestaan!”

Voorlesing: 1 Kor. 15:19-26

Lied 424 “Die Heer het waarlik opgestaan!” of
Flam 237 “Hy leef”
VONKK 105 “Ek  Wil U Eer Met Duisend Stemme, Heer”

Doopherinnering / Geloofsbelydenis
Liturg [staan by doopvont]:
Ons onthou vandag dat ons deur ons doop saam met Christus gesterf het en begrawe is.  Ons weet egter dat ons ook saam met hom opgewek is tot ’n nuwe lewe.  Daarom bevestig ons opnuut die beloftes wat by ons doop gemaak is.  Ons bely opnuut ons verbondenheid aan Christus.  Ons verwerp opnuut die selfsugtige werke in ons lewe voordat Christus vir ons ’n werklikheid was.

Liturg:  Bely jy jou sonde met berou?
Gemeente:  Ek bely my sonde met berou.

Liturg:  Daar jy om na Christus toe?
Gemeente:  Ek draai om na Christus toe.

Liturg:  Het jy saam met hom gesterf?
Gemeente:  Ek het saam met hom gesterf.
Liturg:  Het jy saam met hom opgestaan?

Gemeente:  Ek het saam met hom opgestaan.

Liturg:  Bely dan jou geloof in die drie-enige God.
Gemeente:   Ek glo in God die Vader, wat alles geskep het.  Ek vertrou sy Seun, wat die mensdom kom verlos het.  Ek glo in die Heilige Gees, wat my daagliks vernuwe en lei.

Liturg:
Die water is ’n simbool

  • Van reiniging:  dat God my sonde en skuld afwas.
  • Van my dood:  die ou mens sterf asof sy/hy verdrink.
  • Van nuwe lewe.

(Uit:  Gebedeboek met Liturgiese Voorstelle, Lux Verbi.BM, 2001)

Lidmate kom vorentoe en druk hul hande in die doopvont om hulle te herinner aan hul doop, terwyl daar gesing word:

Lied 414:  “Juig verlostes, juig en sing” of
Flam 207 “U Het U Heerlikheid, O Heer”
VONKK 127 “By God Is Ek Tevrede  (Psalm 62:6 en 7)”

Liedere

VONKK 127 “By God Is Ek Tevrede  (Psalm 62:6 en 7)”
Psalm 62:6 en 7
Teks: Mon âme se repose – Taizé; Afrikaanse weergawe: Gerrit Jordaan 2010
Musiek: Jacques Berthier 1923-1994
Teks en musiek met toestemming Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk
© 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Meditatief – Geloof en Vertroue

By God is ek tevrede, stil soos ‘n kind.
U laat my veilig voel.
Ja, net by God kan ek my vrede vind,
by Hom is daar rus.

In God alone my soul can find rest and peace,
in God my peace and joy.
Only in God my soul can find its rest,
find its rest and peace.

VONKK 105 “Ek  Wil U Eer Met Duisend Stemme, Heer”
Teks: O for a thousand tongues to sing – Charles Wesley 1707-1788; Jacques Louw 2010 ©
Musiek: LYNGHAM – Thomas Jarman  (1715-1781)
Kantoryverwerking: Onbekend (Psalter Hymnal #404)
© Teks: 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit
RUBRIEK: Klassiek – Lofprysing

1. Ek wil U eer met duisend stemme, Heer –
aan U my loflied bring,
aan U my loflied bring.
U wonderdade verstom my meer en meer.
U goedheid laat my sing.
U goedheid laat my sing.
U goedheid laat my sing.

2. Here, U leef! U’t waarlik opgestaan!
U heers oor graf en dood.
U heers oor graf en dood.
Elkeen wat glo, sal nooit verlore gaan.
U is ons krag en hoop.
U is ons krag en hoop.
U is ons krag en hoop.

3. Hoor, dowes, hoor; kom, stommes, bring Hom eer –
laat almal voor Hom buig.
laat almal voor Hom buig.
Hy kom in glorie op wolke eenmaal weer.
Laat ons van vreugde juig.
Laat ons van vreugde juig.
Laat ons van vreugde juig.

4. Vader ons loof, ons eer u Wondernaam
vir goedheid lewenslank,
vir goedheid lewenslank!
Ons eer u grootheid, ons prys U almal saam.
Aan U ons lof en dank!
Aan U ons lof en dank!
Aan U ons lof en dank!

VONKK 5 “Vreugde! Vreugde!”
Teks: JJH du Plessis 2007 (Pro Deo)
Melodie: ODE AN DIE FREUDE (Koraal-simfonie Nr 9) — Ludwig van Beethoven 1824 (ritmies aangepas)
© Teks: 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: openbare besit
RUBRIEK:  Klassiek – Paasfees / Uitsending

1. Vreugde! Vreugde! Juig van vreugde,
want ons Heiland het verrys.
Tot die dood was Hy verneder,
uit die graf het Hy herrys.
Alle eer aan die Oorwinnaar!
Elke knie moet voor Hom buig.
“Jesus Christus is die Here!” –
elke tong moet dit getuig.

2. Jesus leef, Hy heers vir ewig,
heerlik is sy majesteit.
As gestuurde van die Vader
stuur Hy ons nou wêreldwyd.
Hy bring heling, skenk bevryding:
daarvan moet ons bly getuig.
Vreugde! Vreugde! Juig van vreugde
want ons Heiland het verrys.

VONKK 75 “Halleluja! Die Heer Het Opgestaan!”
Teks:  Jacques Louw 2008 ©
Muse: SINE NOMINE – Ralph Vaughan Williams 1906
© Teks: 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit
RUBRIEK:  Klassiek – Paasfees

1. Halleluja! Die Heer het opgestaan!
Leeg is die graf, die dood is nou verslaan.
Ons prys sy Naam, ‘n nuwe dag breek aan.
Halleluja! Halleluja!

2. Halleluja! Die Heer voer heerskappy!
Daar aan die kruis moes Hy ons doodstryd stry.
Maar kyk, Hy leef! Verlossing is verkry!
Halleluja! Halleluja!

3. Halleluja! Ons vier met blydskap fees!
Dood is die dood, ons hoef nie meer te vrees.
Hy laat ons leef, in Hom oorwinnaars wees.
Halleluja! Halleluja!

F336. “Wie Is Ek Dat U Aan My Gedink Het (My Verlosser Leef)”
(RUBRIEK: Flam – Nagmaal / Paasfees)
Teks en musiek: Wian Vos
Kopiereg: Ó 2009 Urial Publishing

Wie is ek dat U aan my gedink het aan die kruis
Wie is ek dat U aan my ook liefde wou bewys
Wie is ek dat U vir my ’n tuiste voorberei
Dis genade op genade, losgekoop en vry!

My Verlosser leef, my Verlosser leef
En Hy’t opgestaan, finaal oorwin
Die graf is leeg
My Verlosser leef, my Verlosser leef
En ek juig oor Hom, ek juig oor die Bruidegom

Hoe kan ek dan stilbly oor die grootste liefdesdaad?
Hoe kan ek dan swyg as die graf so duidelik praat?
Hoe kan ek nie sing as ek weet “dit is volbring”?
Dis genade op genade, losgekoop en vry!

Nou kan ek leef, deur u Gees
In die oorwinning van die opstanding leef

F237. “Hy leef”
(RUBRIEK: Flammikidz – Opstanding)
Teks en musiek: Willie Pretorius
© MAR Gospel Music Publishers

Hy leef, Hy leef,
die graf het oopgegaan.
Hy leef, Hy leef
Hy leef, Hy’t opgestaan.
Hy leef, Hy leef,
dit maak my hart so bly.
Jesus leef in my.

Halleluja! Halleluja!
Jesus leef in my.
Halleluja! Halleluja!
Jesus leef in my.

F207. “U Het U Heerlikheid, O Heer”
(RUBRIEK: Flam – Lydenstyd / Lof)
Oorspronklike titel: You laid aside Your majesty
Teks en musiek: Noel Richards
Afrikaanse vertaling: Hanneke en Faani Engelbrecht © 2006
© 1985 Thankyou Music
(Fil 2:5-11)

U het u heerlikheid en eer, vir die wêreld prysgegee.
U het swaar gely onder sondaarshande.
U het al ons skuld gedra aan die kruis op Golgota.
U het opgestaan – U heers vanuit die hemel.

Here, ek wil U besing, U my hart se loflied bring.
O, Here, hoor my dankgebede.
Ek wil U altyd vereer en aan U my lewe gee.
Here, hoor my as ek sing vir U my Koning.

F336. “Wie Is Ek Dat U Aan My Gedink Het (My Verlosser Leef)”
(RUBRIEK: Flam – Nagmaal / Paasfees)
Teks en musiek: Wian Vos
Kopiereg: Ó 2009 Urial Publishing

Wie is ek dat U aan my gedink het aan die kruis
Wie is ek dat U aan my ook liefde wou bewys
Wie is ek dat U vir my ’n tuiste voorberei
Dis genade op genade, losgekoop en vry!

My Verlosser leef, my Verlosser leef
En Hy’t opgestaan, finaal oorwin
Die graf is leeg
My Verlosser leef, my Verlosser leef
En ek juig oor Hom, ek juig oor die Bruidegom

Hoe kan ek dan stilbly oor die grootste liefdesdaad?
Hoe kan ek dan swyg as die graf so duidelik praat?
Hoe kan ek nie sing as ek weet “dit is volbring”?
Dis genade op genade, losgekoop en vry!

Nou kan ek leef, deur u Gees
In die oorwinning van die opstanding leef

F64. “U Is God”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Lof / Heerskappy van God)
Teks en musiek: Nellis van Zyl Smit
© MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lof met Louis Brittz)

Die hele skepping sing dat U regeer,
en elke rots skree uit: U is God.
Die bome wieg deur u asem, Heer
en saggies fluister hul: U’t opgestaan.

U regeer tot in ewigheid.
U is God vir altyd nog.
Elke knie sal buig, elke tong bely
U is waardig om geprys te word.
U is God!

Wat is die mens dat U aan hom dink
die mensekind dat U hom besoek?
Slegs minder as die eng’le gemaak
en tog met heerlikheid en eer gekroon.

Heilig, heilig, heilig is die Heer
wat was, wat is en wat kom.

Aan U behoort alle lof en eer tot in ewigheid.

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Johannes 20:1-18

Familie-oomblik

Hoewel kinders nie ‘n goeie idee van die dood het nie, en daarom die opstanding net met moeite as konsep sal verstaan, sal hulle kan identifiseer met die feit dat God nie toegelaat het dat die bose mense wen nie.

Jy kan ook met hulle gesels oor geloof.  Kry ’n klein beeldjie van ’n olifant en hou dit in jou hand – so dat die kinders dit nie kan sien nie.  Vra dan of hulle sal glo dat jy ’n papie in jou hand hou.  ’n Skoenlapper? ’n Eier?  ’n Blom?  En wat as jy sê jy hou ’n olifant?  Laat kinders een-een kom loer wat jy in jou hand het en sê wat dit is.  Vra dan of die kinders jou nou glo – en wys vir die grootmense wat jy in jou hand het.  Verduidelik dat ons soms goed glo, al het ons dit nie gesien nie.

Of wys die “Firebird Suite” uit Disney se Fantasia 2000 en gesels met die kinders oor hoe Jesus se opstanding nuwe lewe bring.

Preekriglyn

Goeie Vrydag en Paassondag is gevestigde dae op ons kalender.  Die onaangename werklikheid is dat ons eintlik op die Saterdag tussen die Vrydag en die Sondag lewe.  Stil Saterdag.  Die dag wat nooit onthou word nie, die dag toe Jesus in die graf was en dit gelyk het of alles verby is.

Wat die dissipels op ʼn klein skaal beleef het – drie dae van rou oor een Man wat aan die kruis gesterf het – beleef ons nou op ʼn kosmiese skaal.

Die menslike geskiedenis knars voort tussen die twee pole van belofte van vervulling. Kan ons glo dat God iets mooi uit die kruis kan maak?  Kan ons glo dat nuwe lewe, heilig, goed en pragtig, kan groei uit ʼn wêreld wat Bosnië, Rwanda, Nkandla, Griekwastad, die bloed van ʼn jong vrou op Valentynsdag, Wêreldoorloë, en die vernietigende hongersnode van Sub-Sahara Afrika voortgebring het?  Kan ons glo dat middestad-ghettos en oorlaaide tronke tot iets goed gaan lei?

Dit is Saterdag op planeet aarde.  Stil-Saterdag.  Die verwoesting van die kruis en die begrafnis van ʼn gebroke liggaam is nog vars in die geheue.  Saterdag.  Is daar nuwe lewe moontlik?  Gaan Sondag, Paassondag, Opstandingsondag ooit kom?

(Ontleen aan Phillip Yancey)

Sondagmôre vroeg

Ons teks begin waar Maria Magdalena, Petrus en die ander dissipel (Johannes) by die graf aankom.  Hulle sien die klip is van die graf weggerol.  Vir Maria beteken dit net een ding: Hulle het die Here Jesus uit die graf weggevat, en sy weet nie waar Hy nou begrawe is nie.

Petrus en Johannes bekyk die leë graf, maar dit maak nie vir hulle sin nie.  Duidelik het die dissipels nooit rekening gehou met die moontlikheid dat God Jesus uit die dood sou oplig nie.  Vir hulle is die graf, nou die leë graf, nog onverstaanbaar.

Hierdie Sondagmôre vroeg sien ons die verleentheid van die lewe met die dood.  Terwyl daar nog lewe is, is daar hoop.  Maar in die gees van stil Saterdag is daar net ruimte vir teleurstelling, geknakte hoop, gebluste verwagting, versplinterde drome.

Daarom huil Maria.  Sy het alles verloor.  Eers was daar darem nog die liggaam van die Here, wat sy volgens Joodse gebruik sou kon versorg.  Maar nou is daar niks.  Ook die stoflike oorskot van Jesus is weggeneem en iewers anders begrawe.

Feite verkeerd geïnterpreteer

Die dissipels, Petrus en Johannes, sien die leë graf.  Dan draai hulle om en gaan huis toe.  “Hulle het nog nie die Skrif verstaan dat Jesus uit die dood moet opstaan nie.” (9)  Net so staan Maria by die grootste wonderwerk in die geskiedenis, die leë graf.  En sy huil.

Die verslaentheid van stil Saterdag is so groot, dat dit nie ruimte kan laat vir God se ingrepe nie.  Stil Saterdag, die dag na Jesus se dood, die dag waarop graf en dood die botoon voer, spoel nog oor na die Sondagmôre vroeg.

Feite, plekke en gebeure kan ook net soveel sê.  Hoewel die feite belangrik is, want dit bevestig die gebeure rondom Jesus se opstanding, is dit nog nie genoeg nie.  Hoop, uitsig en moed word slegs gebore waar Jesus self die toneel betree.

Leermeester!

Johannes die evangelis vertel op meesterlike wyse hoe Maria se nagmerrie in ʼn oogwink verander wanneer Jesus Homself aan haar openbaar.  Jesus noem haar op haar naam: “Maria!” Oombliklik herken sy, wat vir ʼn oomblik gedink het Hy is die tuinopsigter, vir Jesus.  Sy roep uit: “Rabboeni!  Leermeester!”

Op hierdie oomblik ontdek sy Jesus se ware identiteit.  Soos sy dan vir die ander dissipels gaan sê: “Ek het die Here gesien!”

Hoogtepunt

Maria en die dissipels se ontdekking van Jesus se ware identiteit as die Here, is die fokus van die Johannesevangelie (Jan A du Rand).  Die tema van wie Jesus werklik is, word in Johannes 1 aangevoor.  Deur die loop van die evangelie kom dit altyd weer terug.  Daar is verskeie “Ek is”-uitsprake in Johannes, soos: “Ek is die lig vir die wêreld” (Joh. 8:12) of “Ek is die Goeie Herder” (Joh. 10:11).  Pilatus vra Hom uitdruklik na sy identiteit: “Is jy die koning van die Jode?” (Joh. 18:33).  Die opskrif bokant die kruis het ook op ironiese manier profetiese betekenis ten opsigte van sy identiteit (Joh. 19:19).

Maria Magdalena eien Hom in die teks wat ons vandag lees as haar geliefde Leermeester, maar ook meer as dit: “Hy is die Here”, sê sy vir die ander dissipels.  En aanstons kry Tomas die twyfelaar die voorreg dat Hy kan sê wie Jesus regtig is: “My Here en my God” (Joh. 20:28).

Stilte word jubeling

Stil Saterdag, die hooplose sug onder die lyding en swaarkry van die wêreld, word op Paassondag verbreek met die jubeling: Die Here leef!  Die Leermeester het opgestaan!

Die opgestane Jesus, waarlik God maar ook waarlik mens, is die eerste skepping van God wat anderkant die dood opgestaan het in ʼn nuwe lewe.  Anders as Lasarus, en ander persone wat lewend gemaak is, maar weer sou sterf, leef Jesus nou in die volste sin van die woord anderkant die dood.

Jesus is die eerste wat uit die dood opgestaan het.  Sy opwekking is ʼn belofte van hoop vir die res van God se skepping.  Jesus se opstanding lui die doodsklokke vir stil Saterdag.  Soos sy gebreekte bestaan geheel en gelig is uit die graf, sal God ook met God se kinders en God se skepping handel.

Versterkte geloof

Presies met hierdie doel skryf Johannes se Evangelie.  Sy bedoeling is om Christene, wie se lewe en wie se wêreld dikwels deur swaarkry gekasty word, aan te moedig om te bly glo dat Jesus die ware Messias, die Seun van God is.

Ons teks is die hoogtepunt van Johannes se evangelie, want Hy skryf juis hierdie klompie verhale van Jesus se wondertekens, sy gesprekke, en sy verskynings om ons te oortuig dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat ons deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê (Joh. 20:31).  Jesus staan op om as die teenwoordige Here ons lewens betekenis te gee.

Jesus lewe sedert Paassondag weer.  Sy lewe is vir ons ʼn belofte van hoop.  Ons mag dikwels voel ons is steeds vasgevang op stil Saterdag.  Ons kyk nog vooruit na die volkome, heerlike Paassondag wat vir onsself en ons wêreld sal aanbreek.  Ons word aangemoedig om te bly glo, te volhard, teen alle hoop in te glo.  Want die graf was leeg.  Die Here het Maria ontmoet.  En daarna die dissipels en baie ander.  Hy het ons vooruitgegaan om vir ons plek te berei.  En Hy is by ons tot aan die einde van die wêreld.

Dit maak rasioneel sin om te glo

Ons leef in die wetenskaplike era.  Bie van ons het nodig om in ons geloof versterk te word.  Mense gebruik die wetenskaplike metode, wat alles wil betwyfel, om geloof in die opgestane Here te betwyfel.  Omdat die opstanding nie in ʼn laboratorium herhaal kan word nie, sê mense dit maak nie sin om te glo nie.  Met groot oortuiging word ʼn teorie ontwerp wat sê Jesus het nooit opgestaan nie.  Die berigte hieroor is later deur sy volgelinge gefabriseer.

Christene is natuurlik nooit teen wetenskaplikheid as sodanig nie.  Wetenskapsbeoefening maak ons wêreld ʼn beter plek.  Dit bekamp baie lyding en laat ons met groter verwondering oor die glorie van God.  Die vraag is egter of wetenskaplike verifikasiemetodes ons ons geloof moet laat verloor?  Is dit hoe betroubare kennis oor die sinvrae verwerf word?  En: wat gebeur as ons historiese metodes toepas op die opstandingsgeskiedenis?

In ʼn boek wat so geskryf is dat elke lidmaat dit kan lees, Jesus, A very short introduction, skryf Richard Bauckham (gerespekteerde Nuwe Testamentikus) oor hierdie sake.  Bauckham wys op belangrike oorwegings:

  • Die evangelies doen moeite om te vertel dat daar ooggetuies was wat die leë graf en die opgestane Here gesien het.  Die vroue was by by Jesus se begrafnis, ʼn man wat wreedaardig gesterf het, en beslis nie meer gelewe het nie.  Hierdie vroue was waarskynlik baie goed bekend in die destydse wêreld.
  • Vroue was die eerste getuies van die opstanding.  In die antieke wêreld is vroue nie as betroubare getuies gereken nie.  Die manlike dissipels sukkel meer om te glo.  As die opstandingsverhale opgemaakte stories was, sou die skrywers beslis manlike karakters die hoofspelers gemaak het.
  • Die dissipels ontmoet die opgestane Here by verskeie geleenthede.  Paulus verskaf ʼn hele lys van sulke ontmoetings (1 Kor. 15).  Terwyl Paulus skryf, leef die meeste van hierdie mense nog.  Enigeen kon hulle gaan raadpleeg en die waarheid van hulle verhale gaan bevestig.  Daarom sê Bauckham:

The kind of evidence Paul offers is the personal testimony of many specific people who each had a story to tell – not, of course, of some neutrally observable fact, but of something extraordinary that happened to them and turned their lives around.  These were the people still living out of the events to which they testified (p 106)

Uit Johannes se beskrywing van die opgestane Jesus kan ’n mens agterkom dat Jesus herkenbaar is, steeds kommunikeer soos ons dit doen, en ’n werklike, verheerlikte liggaam het, want  ’n mens kan aan hom vat, en hy gee vir hulle kos om te eet.  Maar hy is ook anders, omdat hy kan verskyn en verdwyn soos Hy wil.  Hy is dus nie aan ruimte gebonde soos die dissipels nie. En telkens verander Hy die lewe van dié aan wie Hy verskyn het.

Dit maak sin, heeltemal rasioneel sin, om jou geloof op hierdie getuienis te bou.

Die teenwoordige Jesus

Mens moet versigtig wees dat jy nie by die leë graf en die doek vashaak nie.  Ten diepste glo Christene nie in die leë graf nie.  Ons glo selfs in veel meer as die objektiewe feit van die opstanding.  Ons glo in die lewende Here.  En ons glo in die nabyheid en teenwoordigheid van hierdie Here, tot vandag toe.  Ons glo … in die Here!

Praat ons dalk te veel oor die historisiteit en werklikheid van die opstanding, en hopeloos te min oor die teenwoordigheid van die Here Jesus?  Die leë graf fassineer ons miskien te veel.  Dit is immers die teenwoordige Jesus wat ons lewens verander en wat ons fokus moet wees.

Reeds in die Johannesevangelie verander hierdie lewende Here Jesus lewens sover Hy gaan.  Maria se trane word afgedroog en vervang met vreugde.  Tomas se twyfel verdamp voor die nabyheid van Jesus, en word vervang met geloof.  Die dissipels se lewens word gevul met vreugde en vrede.  Die weifelende, onseker Emmausgangers word getuies van die opgestane Here met brandende harte.

Draers van hoop

Jesus skep ʼn nuwe, dinamiese beweging.  Maria Magdalena word ʼn draer van hoop.  Sy gaan na die dissipels en getuig sy het die Here gesien!  Johannes vertel dat Jesus sy dissipels die Heilige Gees gee, en hulle draers van sy troosvolle, bemoedigende en versterkende teenwoordigheid maak: “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle…”  Uit hierdie opdrag ontstaan die Here se kerk.

Ons is mense wat in die era van Stil Saterdag getuies is van die groot Paassondag wat vir die Here se mense, en God se skepping, aan die kom is.  Ons ontdek in ons teks die identiteit van Jesus Christus.  Ons ontdek ook ons eie identiteit: gestuurdes wat die hoop in Jesus Christus na ons wêreld dra.

Terwyl ons dit doen, dra en versterk die teenwoordige Jesus ons deur sy Woord en Heilige Gees.

God stuur ons om te leef

Gebed

Dankoffer

Slotlied
Lied 417 “Jesus, ons eer U” of
F336. “Wie Is Ek Dat U Aan My Gedink Het (My Verlosser Leef)”

Wegsending: Psalm 118:1-2, 14-18

Liturg: 118 Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie!
2Israel moet getuig:
Gemeente: “Aan sy liefde is daar geen einde nie.” 

Liturg: 3Die huis van Aäron moet getuig:
Gemeente: “Aan sy liefde is daar geen einde nie.” 

Liturg: 4Dié wat die Here dien, moet getuig:
Gemeente: “Aan sy liefde is daar geen einde nie.” 

Liturg: 14Die Here is my krag en my beskerming.
Dit is Hy wat my gered het!
Hoor die gejuig
in die laer van die oorwinnaars:
Gemeente: “Die Here doen kragtige dade,
16die Here triomfeer,
die Here doen kragtige dade!” 

Liturg: 17Ek sal nie sterwe nie, ek sal lewe
en van die dade van die Here getuig.
18Die Here het my swaar gekasty,
maar my nie aan die dood
oorgegee nie.

Seën
Liturg:  Jesus Christus is die opstanding en die lewe.
Gemeente:  Hy is ons vrede.

Liturg:  Wie in hom glo, sal in ewigheid nie sterwe nie.
Gemeente:  Hy is ons vrede, nou en tot in ewigheid.  Amen
(Uit:  Handleiding vir die Erediens, B.M.)

Respons
Lied 189 “Halleluja!”