Paasfees

Sections

Oorsig

Die Opstanding van Jesus en die inklusiwiteit van God staan in hierdie liturgie voorop. Die karakter is feestelik. ’n Belangrike nota vir voorbereiding: Vra reeds by die Goeie Vrydagdiens dat die gemeentelede blomme uit hulle tuine vir die tuingraf bring. Die blomme word deur gemeentelede in die liturgiese ruimte neergesit soos hulle die kerk binnekom op Paassondagmôre.

Ander tekste

Psalm 118:1-2, 14-24
Die Here doen kragtige dade
118 Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie!
2Israel moet getuig:
“Aan sy liefde is daar geen einde nie.” 
14Die Here is my krag en my beskerming.
Dit is Hy wat my gered het!
Hoor die gejuig
in die laer van die oorwinnaars:
“Die Here doen kragtige dade,
16die Here triomfeer,
die Here doen kragtige dade!”
17Ek sal nie sterwe nie, ek sal lewe
en van die dade van die Here getuig.
18Die Here het my swaar gekasty,
maar my nie aan die dood
oorgegee nie.
19Maak die tempelpoort vir my oop:
ek wil ingaan en die Here loof.
20Dit is die poort na die Here toe;
regverdiges mag daardeur ingaan.
21Ek wil U loof
omdat U my gebed verhoor
en my gered het.
22Die klip wat deur die bouers
afgekeur is,
juis hy het die belangrikste klip
in die gebou geword.
23Dit is deur die Here gedoen
en is ’n wonder in ons oë!
24Dit is die dag
wat die Here gemaak het;
laat ons daaroor juig en bly wees.

Kolossense 3:1-4
Julle is saam met Christus uit die dood opgewek
3 Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit. 2Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie, 3want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God. 4Wanneer Christus, wat julle lewe is, by sy wederkoms verskyn, sal julle ook saam met Hom verskyn en in sy heerlikheid deel.

Johannes 20:1-18
Die leë graf

(Matt 28:1–8; Mark 16:1–8; Luk 24:1–12)
20 Die Sondagmôre vroeg, toe dit nog donker was, kom Maria Magdalena by die graf en sien dat die klip van die graf af weggerol is. 2Sy hardloop toe en gaan na Simon Petrus en na die ander dissipel toe vir wie Jesus baie lief was, en sê vir hulle: “Hulle het die Here uit die graf weggevat, en ons weet nie waar hulle Hom nou begrawe het nie.”

3Petrus en die ander dissipel het toe uitgekom en na die graf toe gegaan. 4Die twee het saam begin hardloop, maar die ander dissipel het vinniger as Petrus gehardloop en eerste by die graf gekom. 5Toe hy vooroor buk, sien hy die doeke lê, maar hy het nie ingegaan nie. 6Ná hom het Simon Petrus ook daar aangekom, en hy het in die graf ingegaan. Hy sien toe die doeke daar lê, 7ook die doek wat om Jesus se kop was. Dié doek het nie by die ander doeke gelê nie, maar was eenkant afsonderlik opgerol. 8Daarna het die ander dissipel, wat eerste by die graf gekom het, ook ingegaan, en hy het dit ook gesien en geglo.

9Hulle het nog nie die Skrif verstaan dat Jesus uit die dood moet opstaan nie.
10Daarna het die dissipels weer huis toe gegaan.

Jesus verskyn aan Maria Magdalena
(Matt 28:9–10; Mark 16:9–11)
11Maar Maria het buite by die graf bly staan en huil. Terwyl sy huil, het sy vooroor gebuk om in die graf in te kyk. 12Toe sien sy twee engele met wit klere aan daar sit waar die liggaam van Jesus gelê het, een waar die kop en een waar die voete was. 13Hulle vra toe vir haar: “Mevrou, waarom huil jy?”
Sy antwoord hulle: “Omdat hulle my Here weggevat het en ek nie weet waar hulle Hom nou begrawe het nie.”

14Nadat sy dit gesê het, het sy omgedraai en vir Jesus daar sien staan, maar sy het nie geweet dat dit Hy is nie. 15Jesus vra haar toe: “Mevrou, waarom huil jy? Vir wie soek jy?”
Sy het gedink dit is die tuinopsigter, en sy het vir hom gesê: “Meneer, as u Hom weggevat het, sê vir my waar u Hom begrawe het, en ek sal Hom daar gaan haal.”

16Jesus het vir haar gesê: “Maria!”
Sy draai na Hom toe en sê in Hebreeus vir Hom: “Rabboeni!” Dit beteken leermeester.

17Jesus sê toe vir haar: “Moet My nie vashou nie, want Ek het nog nie na die Vader toe opgevaar nie. Maar gaan na my broers toe en sê vir hulle: ‘Ek vaar op na my Vader toe, wat ook julle Vader is, na my God, wat ook julle God is.’”

18Maria Magdalena het toe vir die dissipels gaan sê: “Ek het die Here gesien!” En sy het ook vertel wat Hy vir haar gesê het.

Matteus 28:1-10
Jesus het opgestaan

(Mark 16:1–8; Luk 24:1–12; Joh 20:1–8)
28 Na die sabbatdag, toe dit die Sondagmôre begin lig word, het Maria Magdalena en die ander Maria na die graf gaan kyk.

2Skielik was daar ’n geweldige aardbewing. ’n Engel van die Here het van die hemel af gekom, na die graf toe gegaan, die klip weggerol en daarop gaan sit. 3Sy voorkoms was so blink soos weerlig en sy klere so wit soos sneeu. 4Van skrik vir hom het die wagte gebewe en soos dooies geword.

5Toe sê die engel vir die vroue: “Julle moet nie bang wees nie. Ek weet julle soek Jesus wat gekruisig is. 6Hy is nie hier nie, want Hy is uit die dood opgewek, soos Hy gesê het. Kom nader en kyk: daar is die plek waar Hy gelê het. 7Gaan gou en sê vir sy dissipels: ‘Hy is uit die dood opgewek, en Hy gaan julle vooruit na Galilea toe. Daar sal julle Hom sien.’ Dit is wat ek vir julle moes sê.”

8Hulle het toe haastig van die graf af weggegaan, bang maar baie bly, en hulle het gehardloop om dit aan die dissipels te vertel.

9Skielik het Jesus daar voor die vroue gestaan en hulle gegroet. Hulle het nader gekom, sy voete gegryp en Hom aanbid. 10Toe sê Jesus vir hulle: “Moenie bang wees nie. Gaan sê vir my broers hulle moet na Galilea toe gaan, en daar sal hulle My sien.”

Fokusteks

Handelinge 10:34-43
Petrus en Kornelius
10 In Sesarea was daar ’n man met die naam Kornelius, ’n kaptein in die sogenaamde Italiaanse regiment. 2Hy was godsdienstig en godvresend, hy en sy hele huisgesin. Hy het baie gedoen om die armes onder die Joodse volk te help en het gereeld tot God gebid.

3Een middag teen drie-uur het hy in ’n gesig duidelik ’n engel van God na hom toe sien kom wat na hom roep: “Kornelius!”

4Kornelius het hom verskrik aangekyk en gevra: “Wat is dit, Meneer?”

Die engel sê toe vir hom: “God het gelet op jou gebede en op wat jy vir die armes doen, en Hy het aan jou gedink. 5Stuur nou dadelik mense na Joppe toe en laat daar ’n sekere Simon haal wat ook Petrus genoem word. 6Hy is tuis by ’n ander Simon, ’n leerlooier, wat by die see woon.”

7Nadat die engel wat met hom gepraat het, weggegaan het, het Kornelius twee van sy huisbediendes en een van sy lyfwagte, ’n godsdienstige soldaat, geroep. 8Hy het hulle alles vertel en hulle na Joppe toe gestuur. 9Die volgende dag teen twaalfuur die middag, toe hulle op hulle reis al naby die dorp was, het Petrus opgegaan na die dakstoep van die huis om te bid. 10Hy het later honger geword en hy wou iets hê om te eet. Terwyl die mense die ete klaargemaak het, het hy in geesvervoering geraak. 11Hy het die hemel oop gesien en iets soos ’n groot doek wat aan sy vier punte neergelaat word, sien afkom grond toe. 12Daarin was van al die viervoetige en die kruipende diere van die aarde en van al die wilde voëls. 13Hy hoor toe ’n stem vir hom sê: “Kom, Petrus, slag en eet.”

14Maar Petrus sê: “Nooit nie, Here! Ek het nog nooit iets geëet wat onheilig of onrein is nie.”

15Hy hoor die stem toe weer, die tweede keer, vir hom sê: “Wat God rein verklaar het, mag jy nie onrein ag nie.”

16Dit het drie keer gebeur, en daarna is die doek weer in die hemel opgetrek.

17Terwyl Petrus nog wonder oor die betekenis van die gesig wat hy gesien het, kom die mans wat deur Kornelius gestuur is, by die voordeur aan. Hulle was op soek na die huis van Simon 18en doen toe navraag of Simon wat ook Petrus genoem word, daar tuis is. 19Terwyl Petrus nog nadink oor die gesig, sê die Gees vir hom: “Daar is drie mans wat jou soek. 20Kom, gaan ondertoe en moenie aarsel om saam met hulle te gaan nie, want Ek het hulle gestuur.”

21Petrus het ondertoe gegaan en vir die mans gesê: “Hier is ek. Dis vir my wat julle soek. Waarom is julle hier?”

22Hulle antwoord: “Kaptein Kornelius, ’n opregte en godvresende man vir wie die hele Joodse volk hoë agting het, het ’n openbaring deur ’n heilige engel gekry dat hy u na sy huis toe moet laat haal om te hoor wat u te sê het.”

23Petrus nooi hulle toe in en gee vir hulle huisvesting.

Die volgende dag het hy en ’n paar van die gelowiges in Joppe saam met hulle gegaan 24en ’n dag later in Sesarea aangekom. Kornelius het hulle al verwag en het sy familie en huisvriende reeds bymekaar geroep. 25Toe Petrus daar kom, het Kornelius hom tegemoet gegaan en eerbiedig voor hom gekniel. 26Maar Petrus het hom laat opstaan en gesê: “Staan op! Ek is self ook maar net ’n mens.”

27Terwyl Petrus met Kornelius praat, gaan hy die huis binne, waar hy baie mense bymekaar aantref, 28en hy sê vir hulle: “Julle weet dat ’n Jood nie met iemand van ’n ander volk mag omgaan of by hom in die huis mag kom nie, maar God het vir my gewys dat ek geen mens as onheilig of onrein mag beskou nie. 29Daarom het ek sonder om teë te stribbel, gekom toe julle my laat haal het. Sê nou vir my waarom julle my laat haal het.”

30Kornelius antwoord: “Vier dae gelede so teen drie-uur die middag was ek in my huis besig om te bid. Toe staan daar skielik ’n man met blink klere voor my, 31en hy sê: ‘Kornelius, God het jou gebed verhoor en gelet op wat jy vir die armes doen. 32Stuur iemand na Joppe toe en laat vir Simon, wat ook Petrus genoem word, daar haal. Hy is tuis by ’n ander Simon, ’n leerlooier, wat by die see woon.’33Ek het dadelik mense na u toe gestuur, en u was so goed om te kom. Ons is nou almal hier in die teenwoordigheid van God om te hoor wat die Here alles aan u opgedra het.”

Petrus se toespraak by Kornelius
34Toe het Petrus aan die woord gekom en gesê: “Waarlik, ek begryp nou eers dat God nie onderskeid maak nie, 35maar in enige volk die mense aanneem wat Hom vereer en doen wat reg is. 36Julle weet dat God aan Israel sy woord gestuur het, naamlik die evangelie van vrede wat Jesus Christus gebring het. Hierdie Jesus is Here van almal. 37Julle weet ook van die gebeurtenisse dwarsdeur die hele Joodse land. Dit het in Galilea begin ná die doop wat Johannes verkondig het. 38Julle weet van Jesus van Nasaret, dat God Hom met die Heilige Gees gesalf en met krag toegerus het. Hy het rondgegaan, oral goeie werke gedoen en almal gesond gemaak wat in die mag van die duiwel was, want God was by Hom.

39“En ons is getuies van alles wat Hy in die Joodse land en in Jerusalem gedoen het. Hulle het Hom doodgemaak deur Hom aan die kruis te hang. 40Maar God het Hom op die derde dag uit die dood opgewek en Hom laat verskyn, 41nie aan die hele volk nie, maar net aan ons vir wie God reeds gekies het om getuies daarvan te wees, ons wat ná sy opstanding uit die dood saam met Hom geëet en gedrink het. 42Hy het ons opdrag gegee om aan die volk te verkondig en te bevestig dat dit Hy is wat deur God aangestel is as Regter oor lewendes en dooies. 43Van Hom getuig al die profete dat elkeen wat in Hom glo, vergewing van sondes deur sy Naam ontvang.”

Ekstra stof

Handelinge 10:1-48 – Die Heilige Gees word ook vir heidene gegee
Hierdie verhaal is van sleutel belang vir die ontwikkeling van die evangelie. Hiersonder sou die Christelike evangelie ’n Joodse sekte gebly het en nooit sy grense kon oorsteek na elke nasie en volk nie. Waar die Samaritane en die Etiopiese amptenaar (Hand 8) nog deel van die Joodse geloof was (die Samaritane het nou wel ’n gemengde godsdiens gehad, maar het ook die Pentateug as gesaghebbend vir hulle godsdiens beskou), is dit nou onbesnede mense wat die evangelie hoor en glo (let op die beswaar in Hand 11:3).

Ek eis as ek dink wat kon gebeur het as Petrus nie uiteindelik ja gesê het vir die visie wat die Here hom gegee het nie. En maak geen fout nie – dit was ’n geweldige uitdaging vir hom wat groot risiko vir hom in sy eie gemeenskap ingehou het. Geen wonder dat dit dan ook die langste verhaal in Handelinge is. Lukas het duidelik die belangrikheid hiervan besef.

Dit is ook opmerklik dat dit ’n beweging van God was, en nie in die eerste plek van Petrus of die kerk nie. Die engel van God sit die proses aan die gang met sy verskyning aan Kornelius, die Romeinse of Italiaanse burger, in Seserea, wat vir Petrus moet laat haal (50 km daarvandaan in Joppe). En Petrus beleef op sy beurt ’n ekstatiese geestesvervoering (die Griekse woord ekstasis word gebruik) waarin hy ’n visioen sien en ervaar dat die Here (Jesus) sowel as die Gees met hom praat om Kornelius se versoek te eer.

En wanneer Petrus begin om te preek, nog voordat hy klaar gepraat was, word die Heilige Gees ook aan die heidene gegee met die begeleidende teken van tale, soos in die begin op Pinksterdag. Let op dat die doop hier ná die uitstorting van die Heilige Gees gegee word, selfs voordat daar vreeslik sprake van bekering is.

Handelinge11:1-18 – God gee aan nie-Jode die bekering tot die lewe
Die gebeure in Sesarea is van só ’n paradigma-skuiwende aard dat Petrus homself en die werk wat God onder die heidene (nie-Jode) gedoen het moet gaan verantwoord teenoor die “moeder”-gemeente in Jerusalem. Dié werkswyse sou ’n patroon word wat later ook met die uitbreiding deur Paulus se sendingreise gevolg moes word, waar die seël van goedkeuring deur die gemeente in Jerusalem geplaas moes word op die oorsteek van nuwe grense met die evangelie. Dit is dan ook die begin van die idee van ’n verband van kerke soos deur die meeste gemeentes regdeur die wêreld gevolg word.

’n Mens sien hier ook al die groot vraag oor die plek van die besnydenis wat gelowiges uit die Jodedom in Jerusalem bly vra het, iets wat wel later in Handelinge 15 se vergadering geantwoord is (dat besnydenis nie nodig was vir gelowiges uit die heidene nie), maar op baie plekke in die wêreld ’n sleutelkwessie sou bly.

Die bekering van die heidene word op twee maniere beskrywe. Aan die een kant word dit met die aanneming (letterlik ontvangs) van die woord (logos) van God (vers 1) beskrywe. Dws – bekering is iets wat gebeur onder die geluister na die woord van God (onthou Jesus is ook die Woord van God). Dit is iets waartoe jy instem, en wat jy aangryp.

Aan die ander kant word bekering ook as ’n bekering wat God gee tot die lewe beskrywe. Dit is wat die Afrikaanse frase in vers 18 letterlik beteken (“God het selfs mense wat nie Jode is nie, tot inkeer gebring om aan hulle die lewe te gee”). Bekering is dus nie net iets wat jy doen nie (omdraai en God se woorde aanneem nie), maar ook iets wat God jou gee.

Let ook op dat bekering ook direk met die ontvangs (doop met) van die Heilige Gees verbind word. Om die waarheid te sê, die doop met die Heilige Gees vind voor die doop met water plaas.

Liturgie

RUS

Toetrede: Lied 409 of F204.

Votum
Voorganger: Die Heer het opgestaan!
Gemeente: Die Heer het waarlik opgestaan!

Voorganger: Die Heer het opgestaan!
Gemeente: Die Heer het waarlik opgestaan!

Voorganger: Moenie skrik nie: Julle soek Jesus van Nasaret. Hoekom soek julle die Lewende by die dooies? Hy is uit die dood opgewek.
Gemeente: Die Heer het opgestaan!

Eerste kers word aangesteek
Voorganger: As Christus nie opgewek is nie, is ons prediking sonder inhoud en ons geloof ook sonder inhoud.
Gemeente: Die Heer het opgestaan!

Tweede kers word aangesteek
Voorganger: As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die mees bejammerenswaardige van alle mense.
Gemeente: Die Heer het opgestaan!

Derde kers word aangesteek
Voorganger: Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning?
Gemeente: Die Heer het opgestaan!

Vierde kers word aangesteek
Voorganger: Die dood is vernietig, die oorwinning is behaal. Die koningskap oor die wêreld behoort aan ons Here en aan sy Gesalfde en Hy sal as koning heers tot in alle ewigheid.
Gemeente: Die Heer het opgestaan!

Vyfde kers word aangesteek
Voorganger: Hy wat op die troon sit, sê: “Kyk, Ek maak alles nuut! Ek is die Alfa en die Omega, die begin en die einde, die eerste en die laaste.”
Gemeente: Die Heer het opgestaan!

Sesde kers word aangesteek
Voorganger: Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam, behoort die lof en die eer, die heerlikheid en die krag, tot in alle ewigheid!
Gemeente: Die Heer het waarlik opgestaan!

Sewende kers word aangesteek
(Aangepas uit Bybel-Media se Woord en fees – Preekstudies en liturgiese voorstelle gebaseer op die kerkjaar 2013-2014)

Lofsang: Lied 402 of F237 of VONKK 201

Seëngroet
Voorganger: Jesus leef! En ons met hom! Genade vir julle en vrede van God die Vader
Gemeente: Hy sorg vir ons!

Voorganger: en van die Seun
Gemeente: Hy het waarlik opgestaan!

Voorganger: en van die Heilige Gees.
Gemeente: Hy leef in ons! Amen

Lofsang: Lied 417

Geloofsbelydenis
Reël dat lidmate beurtelings die volgende simbole inbring en in die liturgiese ruimte plaas: Kleed (laken), brood, beker en groot wit kers

(Die kleed word geplaas)
Voorganger: Die kleed herinner ons aan die kleed waarin Jesus se liggaam toegedraai is. Op daardie Paasmôre was dit eenkant opgerol en die graf was leeg. Saam juig ons:
Gemeente: Die Here het waarlik opgestaan!

(Die brood word geplaas)
V: Die brood herinner ons daaraan dat Jesus daardie aand van sy opstanding saam met twee van sy volgelinge op die pad na Emmaus geloop het. Toe hulle die brood saam breek, het hulle herken dat Hy die opgestane Here was. Saam juig ons:
Gemeente: Die Here het waarlik opgestaan!

(Die beker word geplaas)
V: Die wyn is vir ons die teken dat sy bloed vir ons gestort is tot ‘n volkome versoening vir al ons sondes. Saam juig ons:
Gemeente: Die Here het waarlik opgestaan!

(Die Christuskers word aangesteek)
V: Die kers word aangesteek om ons te herinner dat die duisternis die Lig nie kon uitdoof nie. Christus is die lig vir die wêreld. Saam juig ons:
Gemeente: Die Here het waarlik opgestaan!
(Verkort uit 2001, Gebedeboek met Liturgiese Voorstelle. Lux Verbi.BM – hierdie geloofsbelydenis deur Johan van der Merwe)

Lofsang: Lied 414 of F207 of VONKK 75 

HOOR

Gebed

Skriflesing: Handelinge 10:23-43

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede 
Lied 409 Hoor jy die Paasfeesklokke? of
F204. Koning van die Heelal

Votum
Voorganger: Die Heer het opgestaan!
Gemeente: Die Heer het waarlik opgestaan!

Voorganger: Die Heer het opgestaan!
Gemeente: Die Heer het waarlik opgestaan!

Voorganger: Moenie skrik nie: Julle soek Jesus van Nasaret. Hoekom soek julle die Lewende by die dooies? Hy is uit die dood opgewek.
Gemeente: Die Heer het opgestaan!

Eerste kers word aangesteek
Voorganger: As Christus nie opgewek is nie, is ons prediking sonder inhoud en ons geloof ook sonder inhoud.
Gemeente: Die Heer het opgestaan!

Tweede kers word aangesteek
Voorganger: As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die mees bejammerenswaardige van alle mense.
Gemeente: Die Heer het opgestaan!

Derde kers word aangesteek
Voorganger: Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning?
Gemeente: Die Heer het opgestaan!

Vierde kers word aangesteek
Voorganger: Die dood is vernietig, die oorwinning is behaal. Die koningskap oor die wêreld behoort aan ons Here en aan sy Gesalfde en Hy sal as koning heers tot in alle ewigheid.
Gemeente: Die Heer het opgestaan!

Vyfde kers word aangesteek
Voorganger: Hy wat op die troon sit, sê: “Kyk, Ek maak alles nuut! Ek is die Alfa en die Omega, die begin en die einde, die eerste en die laaste.”
Gemeente: Die Heer het opgestaan!

Sesde kers word aangesteek
Voorganger: Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam, behoort die lof en die eer, die heerlikheid en die krag, tot in alle ewigheid!
Gemeente: Die Heer het waarlik opgestaan!

Sewende kers word aangesteek
(Aangepas uit Bybel-Media se Woord en fees – Preekstudies en liturgiese voorstelle gebaseer op die kerkjaar 2013-2014)

Lofsang
Lied 402 “Die Heer het waarlik opgestaan” of
F237 Hy leef VONKK 201 “U Opstanding, O Here Jesus Christus’

Seëngroet
Voorganger: Jesus leef! En ons met hom! Genade vir julle en vrede van God die Vader
Gemeente: Hy sorg vir ons!

Voorganger: en van die Seun
Gemeente: Hy het waarlik opgestaan!

Voorganger: en van die Heilige Gees.
Gemeente: Hy leef in ons! Amen

Lofsang
Lied 417 “Jesus, ons eer U”

Geloofsbelydenis
Reël dat lidmate beurtelings die volgende simbole inbring en in die liturgiese ruimte plaas: Kleed (laken), brood, beker en groot wit kers

(Die kleed word geplaas)
Voorganger: Die kleed herinner ons aan die kleed waarin Jesus se liggaam toegedraai is. Op daardie Paasmôre was dit eenkant opgerol en die graf was leeg. Saam juig ons:
Gemeente: Die Here het waarlik opgestaan!

(Die brood word geplaas)
V: Die brood herinner ons daaraan dat Jesus daardie aand van sy opstanding saam met twee van sy volgelinge op die pad na Emmaus geloop het. Toe hulle die brood saam breek, het hulle herken dat Hy die opgestane Here was. Saam juig ons:
Gemeente: Die Here het waarlik opgestaan!

(Die beker word geplaas)
V: Die wyn is vir ons die teken dat sy bloed vir ons gestort is tot ‘n volkome versoening vir al ons sondes. Saam juig ons:
Gemeente: Die Here het waarlik opgestaan!

(Die Christuskers word aangesteek)
V: Die kers word aangesteek om ons te herinner dat die duisternis die Lig nie kon uitdoof nie. Christus is die lig vir die wêreld. Saam juig ons:
Gemeente: Die Here het waarlik opgestaan!
(Verkort uit 2001, Gebedeboek met Liturgiese Voorstelle. Lux Verbi.BM – hierdie geloofsbelydenis deur Johan van der Merwe)

Lofsang
Lied 414 “Juig verlostes, juig en sing” of
F207. U “Het U Heerlikheid, O Heer” of
VONKK 75 “Halleluja! Die Heer Het Opgestaan!”

Liedere

VONKK 201 “U Opstanding, O Here Jesus Christus”
Teks: In resurrectione tua – Taizé, Afrikaanse teks: Hannes van der Merwe 2011 ©
Musiek: Taizé Ateliers et Pressez de Taizé, Frankryk. Met toestemming gebruik.
© 2012 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK: Meditatief – Paasfees

U opstanding, o Here Jesus Christus,
laat juig die hemel en aarde.
“Oorwinning oor die dood deur Jesus Christus”,
jubel die hemel en aarde.

In resurrectione tua, Christe,
coeli et terra laetentur.
In resurrectione tua, Christe,
coeli et terra laetentur.

VONKK 75 “Halleluja! Die Heer Het Opgestaan!”
Teks: Jacques Louw 2008 ©Muse: SINE NOMINE – Ralph Vaughan Williams 1906
© Teks: 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) © Melodie: Openbare besit RUBRIEK: Klassiek – Paasfees

1. Halleluja! Die Heer het opgestaan!
Leeg is die graf, die dood is nou verslaan.
Ons prys sy Naam, ‘n nuwe dag breek aan.
Halleluja! Halleluja!

2. Halleluja! Die Heer voer heerskappy!
Daar aan die kruis moes Hy ons doodstryd stry.
Maar kyk, Hy leef! Verlossing is verkry!
Halleluja! Halleluja!

3. Halleluja! Ons vier met blydskap fees!
Dood is die dood, ons hoef nie meer te vrees.
Hy laat ons leef, in Hom oorwinnaars wees.
Halleluja! Halleluja!

VONKK 5 “Vreugde! Vreugde!”
Teks: JJH du Plessis 2007 (Pro Deo)
Melodie: ODE AN DIE FREUDE (Koraal-simfonie Nr 9) — Ludwig van Beethoven 1824 (ritmies aangepas)
© Teks: 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) © Melodie: openbare besit
RUBRIEK: Klassiek – Paasfees / Uitsending

1. Vreugde! Vreugde! Juig van vreugde,
want ons Heiland het verrys.
Tot die dood was Hy verneder,
uit die graf het Hy herrys.
Alle eer aan die Oorwinnaar!
Elke knie moet voor Hom buig.
“Jesus Christus is die Here!” –
elke tong moet dit getuig.

2. Jesus leef, Hy heers vir ewig,
heerlik is sy majesteit.
As gestuurde van die Vader
stuur Hy ons nou wêreldwyd.
Hy bring heling, skenk bevryding:
daarvan moet ons bly getuig.
Vreugde! Vreugde! Juig van vreugde
want ons Heiland het verrys.

F237. “Hy leef”
(RUBRIEK: Flammikidz – Opstanding) Teks en musiek: Willie Pretorius © MAR Gospel Music Publishers

Hy leef, Hy leef,
die graf het oopgegaan.
Hy leef, Hy leef
Hy leef, Hy’t opgestaan.
Hy leef, Hy leef,
dit maak my hart so bly.
Jesus leef in my.
Halleluja! Halleluja!
Jesus leef in my.
Halleluja! Halleluja!
Jesus leef in my.

F207. “U Het U Heerlikheid, O Heer”
(RUBRIEK: Flam – Lydenstyd / Lof) Oorspronklike titel: You laid aside Your majesty
Teks en musiek: Noel Richards Afrikaanse vertaling: Hanneke en Faani Engelbrecht © 2006
© 1985 Thankyou Music (Fil 2:5-11)

U het u heerlikheid en eer, vir die wêreld prysgegee.
U het swaar gely onder sondaarshande.
U het al ons skuld gedra aan die kruis op Golgota.
U het opgestaan – U heers vanuit die hemel.
Here, ek wil U besing, U my hart se loflied bring.
O, Here, hoor my dankgebede.
Ek wil U altyd vereer en aan U my lewe gee.
Here, hoor my as ek sing vir U my Koning.

F204. “Koning van die Heelal”
(RUBRIEK: Flam – Verwondering) Teks en musiek: Petri de Wet © 2007 MAR Gospel Music Publishers

1. Ek hoor die mense sê
miskien het Hy bly lê.
En die dinge wat ek glo beteken niks.
Maar ek wil hulde bring
vir ewig gaan ek sing.
Want my Koning is nie dood nie,
Hy het opgestaan.

Refrein:
Hy lewe, Hy lewe!
Hy sal vir altyd lewe!
Hy is die Koning van die groot heelal.
Die bome, die berge en al die silwer sterre
skyn voor die Koning van die groot heelal.

2. Die wêreld is te grys.
Die reëls word te veel gebuig
want hul glo nie in die glorie van my Heer.
Maar ons gaan eendag juig want al die
knieë gaan buig
voor die Koning van die heelal en my hart.

F336. “Wie Is Ek Dat U Aan My Gedink Het (My Verlosser Leef)”
(RUBRIEK: Flam – Nagmaal / Paasfees) Teks en musiek: Wian Vos Kopiereg: Ó 2009 Urial Publishing

Wie is ek dat U aan my gedink het aan die kruis
Wie is ek dat U aan my ook liefde wou bewys
Wie is ek dat U vir my ’n tuiste voorberei
Dis genade op genade, losgekoop en vry!
My Verlosser leef, my Verlosser leef
En Hy’t opgestaan, finaal oorwin
Die graf is leeg
My Verlosser leef, my Verlosser leef
En ek juig oor Hom, ek juig oor die Bruidegom
Hoe kan ek dan stilbly oor die grootste liefdesdaad?
Hoe kan ek dan swyg as die graf so duidelik praat?
Hoe kan ek nie sing as ek weet “dit is volbring”?
Dis genade op genade, losgekoop en vry!
Nou kan ek leef, deur u Gees
In die oorwinning van die opstanding leef

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Handelinge 10:23-43

Familie-oomblik

As omstandighede dit toelaat, kan julle Paasfees kolwyntjies (cupcakes) maak! Gaan soek op die internet vir ‘n resep. Maak gewone kolwyntjies en laat kinders dit versier met versiersuiker en klein paaseiertjies.

Jy kan ook ’n regte paaseier maak: druk ’n gaatjie bo en onder in ’n gewone eier en blaas die binnekant liggies uit. Laat droog word. Versier. Verduidelik dat paaseiers leeg is, want dit herinner ons aan die leë graf. Maar uit die leë graf het daar lewe gekom vir ons almal! Gee vir almal in die kerk paaseiers (die sjokolade soort – want vandag vier ons fees en is ons bly).

Jy kan ook by die skrifgedeelte van vandag aansluit. Sermon4Kids stel voor dat jy ’n glasbak vol bruin en wit eiers gebruik om Handelinge 10:34-36, 43 te verduidelik. ’n Mens kan eiers op baie maniere eet en vir baie goed gebruik. Verduidelik dan van bruin en wit eiers. Blykbaar lê bruin henne bruin eiers en wit henne wit eiers. Maar wat van die binnekant? Jy kan ’n paar eiers breek om te wys dat hulle dieselfde lyk aan die binnekant. Net so met mense: God het ons gemaak om verskillend te lyk aan die buitekant, maar binne is ons dieselfde – en God is lief vir ons almal! Sing saam “God hou van kindertjies”.

Preekriglyn

Ons teks speel af aan huis van die heidense offisier, Kornelius. Petrus getuig oor al die groot dinge wat God deur Jesus in die Joodse land en in Jerusalem gedoen het: Jesus van Nasaret, deur God met die Heilige Gees gesalf en met krag toegerus, het rondgegaan, goeie werke gedoen en almal gesond gemaak, want God was by Hom.

Hierdie Jesus, getuig Petrus, is in Jerusalem doodgemaak deurdat hulle Hom aan ‘n kruis gehang het. Maar God het Hom op die derde dag uit die dood opgewek, en Hom laat verskyn aan getuies. Aan hierdie getuies het die Here opdrag gegee om teenoor van Hom te getuig. Elkeen wat in Hom glo, sê Petrus, ontvang die vergewing van sonder deur sy Naam. Hy, wat aangestel is as Regter oor lewendes en dooies, is self die weg tot lewe vir diegene wat in Hom glo.

Grafika: Cross over Mt. Helix, eiendom van Martin LaBar, foto geneem op 17 Januarie 2006.

Kopiereg word gereël deur Creative Commons en laat plasing en redigering toe. Dit is beskikbaar by

https://www.flickr.com/photos/[email protected]/91962876/in/photolist-98kmQ-9QPLJ-ajKvX-aK1YX-d3KJQ-dYbMy-fEVkR-n4BNe-od4iB-pPJPx-xXtZK-AGf86-ANfeu-C1Vj5-D4kc5-FN9i1-Hkkhr-Hzxmh-29rwEP-2Hzs59-2TxHdk-2V7CtM-313RPD-34XEx9-376fum-3adS1U-3fKMAz-473VuY-47agjw-48oGDG-4c9QW6-4tYqwt-4wAth9-4zHgxB-4A3Xpr-4Dhfm8-4GRjjh-4YJuB8-562HDz-59oKMb-5bKt91-5ovZhf-5oGE5U-5pJi1m-5wcBk7-5DbFUM-5Febkb-5GmPSG-5H1vNq-5Lt9wW-61uZ9d

Paassondag

Ons vier vandag die inhoud van Petrus se getuienis. Eergister was dit Goeie Vrydag, die dag waarop ons Jesus se kruisiging gedenk het. Vandag is Paassondag. Soos belowe, het God Jesus op die derde dag uit die dood opgewek. Die dood kon Hom nie hou nie. Hy is anderkant die dood opgewek in ‘n nuwe lewe. Sy lewe is die nuwe skepping van God, waaroor die dood nie meer mag het nie. In Sy nuwe lewe, sien ons die eerste teken van die nuwe lewe wat God vir God se hele skepping beplan.

Ja, ons vier vandag die aardskuddende inhoud van die goeie nuus van Jesus Christus. Sy dood het deur God se trou geëindig in die lewe. Hy bring vir ons vergifnis van sonde, en sluit ons so in by die nuwe lewe wat God ook vir ons weggelê het.

Egte historiese feite

In sy preek beklemtoon Petrus dat die gebeure rondom Jesus egte geskiedkundige feite is:

  • Jesus het in die Joodse land, Israel, geleef en gewerk.
  • God het in die dorpe, stede en strate van hierdie wêreld deur Hom gewerk.
  • Jesus se werk het in Galilea, die noordelike provinsie van Israel begin.
  • Hy het oral deur Israel, en ook in die naburige streke, rondgegaan en mense genees..
  • Dit het gevolg nadat Hy deur Johannes in die Jordaan in Galilea gedoop is.
  • Na al die wonderlike dinge wat Jesus in Israel gedoen het, is Hy in Jerusalem gevange geneem en gekruisig. Hy het aan ‘n kruis gesterf. Dit was op ‘n Vrydag. Daarna het God Hom op die derde dag, ‘n Sondag, uit die dood opgewek.
  • Die lewende Here Jesus het aan baie getuies verskyn. Dit was spesifieke mense, op spesifieke plekke. Baie van hulle name is aan ons bekend. Hierdie mense is die getuies dat Jesus werklik lewend is en opgestaan het uit die dood. Petrus vertel dat hulle saam met Jesus geëet en gedrink het.

Dit beteken dat Jesus se opstanding spesifiek vir hierdie konkrete wêreld waarin ons leef, iets te sê het. Jesus se opstanding is nie ‘n sprokie, mite, feëverhaal of legende wat ons wegvoer na ‘n droomwêreld, of na ‘n tyd, eendag, lank, lank gelede nie.

Dit gaan oor konkrete feite wat vir ‘n konkrete wêreld iets te sê het. Al die genesingswonders, die herstel, die versoening van sonde en die nuwe lewe anderkant die dood het met hierdie wêreld te doen.

Die opstanding verkondig konkrete, feitelike hoop vir mense van hierdie wêreld. Die opstanding sê niks is so dood dat God dit nie lewend kan maak nie. Niks is so gebroke dat God dit nie kan herstel nie. Niemand is so verlore dat God hulle nie kan red nie. Die toekoms is nie so donker dat God dit nie kan deurbreek nie.

Om die waarheid te sê: God het reeds die toekoms deurbreek. God het Jesus uit die dood laat opstaan, en so gedemonstreer wat die toekoms van diegene is wat in Jesus vergifnis van sonde en herstel van die verhouding met God ontvang het. God het uit Jesus se dooie liggaam ‘n nuwe skepping voortgebring. In Jesus is dit die bestemming van God se pad met mense.

Die verlossing is bedoel vir hierdie wêreld. Dit open die weg vir hierdie wêreld na God se nuwe wêreld. Dit gebeur eerstens omdat Jesus die verhouding tussen wêreld en God herstel.

Herstel van die verhouding met God

Hoe werk die herstel van die verhouding met God wat deur Jesus moontlik is?

Petrus praat in sy toespraak daar by Kornelius van die evangelie (goeie nuus) van vrede wat Jesus gebring het (36). Die aspekte van die goeie nuus is:

  • Hierdie Jesus is Here van almal (36): dit is deur die buig voor Jesus, die dien van Jesus, die navolging van Jesus, die bly in sy liefde, die geloof in Jesus dat die herstel van verhoudinge, spesifiek met God, moontlik word
  • Jesus se bediening begin na die doop van Johannes (37): Johannes se doop was ‘n doop van berou oor die sonde en bekering van die sonde – waarmee Jesus sy skouer onder ons sonde en gebrokenheid ingesit sit, om dit te dra en weg te neem. Jesus neem die skeiding tussen ons en God weg wat die sonde gebring het
  • Jesus het goeie werke gedoen en almal gesond gemaak wat in die mag van die duiwel was (38): Jesus demonstreer dat sy koningskap bevryding en genesing bring
  • Jesus is gekruisig en deur God uit die dood opgewek (39-40): aan die kruis is die oorwinning oor sonde bereik, en hierdie offer is deur die Vader aanvaar, wat die oorwinning bevestig deur Jesus uit die dood op te wek
  • Hierdie Jesus is Regter oor lewendes en dooies (42): Hy sê die finale woord oor mense se lewens, ons toekoms as vrygespreekte mense is seker en staan vas.

Jesus is die Waarheid, en die hart van die Christelike geloof is dat die gekruisigde en opgestane Here Jesus die weg tot die lewe is.

Herstel van die verhouding tot mekaar

‘n Sentrale tema in hierdie gedeelte – dié sentrale tema – het te doen met die plek waar Petrus hierdie woorde uitspreek. Dit geskied aan huis van die heidense offisier Kornelius, in die Romeinse hoofstad van Israel, Sesarea.

Petrus se toespraak is die hoogtepunt van ‘n lang reeks gebeure waarin die Here hom oortuig het om na die onrein huis van ‘n heiden te gaan. Geen goeie Jood sou homself onrein maak deur dit te doen nie. Petrus was ‘n goeie Jood. Daarom laat die Here hom ‘n gesig sien van rein en onrein kos, en verklaar dat wat God rein verklaar het niemand onrein mag ag nie.

Uiteindelik gaan Petrus en steek daarmee een van die grootste grense van sy wêreld oor. Nadat hy die woorde van ons teks uitgespreek het, kom die Heilige Gees ook oor die heidene.

Hiermee is die skeidsmuur tussen Jood en nie-Jood afgebreek. Die damwal het gebars. Die brug oor die rivier is geopen. Die gapende kloof is oorgesteek. God verenig in Jesus mense wat vir eeue mekaar se vyande was.

Die oorwinning van die dood, soos behaal aan die kruis en in die leë graf, laat geen anders doodsheid onaangeraak nie. Die oorwinning laat doodsheid verbrokkel – ook tussen mense.

Ons kan nie Paassondag vier en tevrede wees met soveel gebrokenheid en vyandigheid tussen mense nie.

Elkeen van ons moet vandag nog ‘n Paasagenda opstel, ‘n oudit doen van die gebroke verhoudinge in en om ons. En vanuit hierdie Paasagenda begin bid en streef na herstel. Soos Petrus, sal dit ons na plekke neem waar ons nie wou gaan nie. Ons gaan die hulp van ander nodig hê, en dalk gesigte en drome ook. Ons sal nodig hê om op God te wag en aandag te gee aan die plekke en geleenthede waar God die deurbrake gee. Soos hier met Petrus en Kornelius gebeur. Die herstel wat God bring, is effektief, akkuraat en lewensveranderend. Dit is ‘n verrassing wat die wat na God se wil soek dikwels onkant betrap.

‘n Paasagenda van getuienis

Deel van ons Paasagenda is ons getuienis. Getuienis is om die feite en verhaal van God se werk deur Jesus van Nasaret lewend te hou in die wêreld van vandag.

Petrus sê Jesus het na sy opwekking uit die dood verskyn aan diegene wat God gekies het om getuies te wees daarvan. Dit is die hart van om gekies te wees deur God: Jy is gekies om ‘n getuie te wees. Ons het die getuienis oor Jesus deur oorlewering van die eerste getuies ontvang, en ons dra dit verder deur self daaroor te praat. Om deur God gekies te wees, is nie ‘n posisie van bevoorregting nie, maar van diens. Jy is gekies, sodat jy ander kan vertel. God kies enkeles, sodat almal kan hoor.

Wanneer mens vertel, soos Petrus hier in Kornelius se huis, is jy verstom om te sien hoe God werk: die getuienis is effektief, ander mense begin te glo, en word so die wat gekies is om weer verder te gaan getuig.

Hoor hoe helder sê Petrus dit:
Hy het ons opdrag gegee om aan die volk te verkondig en te bevestig dat dit Hy is wat deur God aangestel is as Regter oor lewendes en dooies. Van Hom getuig al die profete dat elkeen wat in Hom glo, vergewing van sondes deur sy Naam ontvang. (42-43)

Liefde en belangstelling van God

Vir Kornelius en sy gesin was Petrus se woorde revolusionêr. Hy was ‘n godvresende, wat beteken hy en sy mense het geweet van die God van Israel.

Tog is hulle opgevoed in die Grieks-Romeinse wêreld, wat baie gode geken het. Hierdie gode was almal daarop uit om mense vir hulle eie gewin uit te buit en te benut. Die gode was ‘n dreigende mag wat jy ten alle koste tevrede moes hou. As die gode nie gepaai is nie, kon dit katastrofies wees. Daarom het die Romeinse staat godsdiens geïnstitusionaliseer en moes alle goeie burgers deelneem aan godsdienstige feeste. Anders kon daar onheil oor die stad of staat kom.

Hierdie gode het allerhande aansprake gehad. Die keiser het gesê hy is die seun van die Romeinse hoofgod. Daar was allerhande aansprake oor opstanding uit die dood, en dies meer. Tog het niemand in die Grieks-Romeinse wêreld ooit lewe na die dood gesien, en met hulle hande daaraan kon vat nie. Niemand kon verwys na ‘n God wat op die wêreld aanland, wonders doen, die dood oorwin en dan met sy dissipels eet en drink nie.

Niemand in die Grieks-Romeinse wêreld het ‘n God geken wat mense liefhet, en neerdaal om hulle te dien, te genees, hulle sonde te vergewe en die pad na die ewige lewe vir hulle oop te breek nie.

Petrus getuig van so ‘n God. Dis revolusionêre nuus. Dis nuus wat soos ‘n vloedgolf deur die Romeinse wêreld sou versprei. Na hierdie eerste grensoorskryding, breek die damwal en verower die goeie nuus van God die bekende wêreld van daardie tyd binne ‘n paar eeue.

Vir Kornelius en sy gesin word God se liefde konkreet. Hulle ervaar dit liggaamlik. Net na Petrus se getuienis word die Heilige Gees op hulle uitgestort en ervaar hulle dit.

Op hierdie wonderlike dag beleef hulle die teenwoordigheid van God op ‘n manier wat nooit tevore moontlik was nie. God is lewend, stel in mense belang, trek mense in ‘n genesende verhouding met Hom in, en werk in en deur hulle. Hulle ervaar die liefde en belangstelling van God.

Die leë graf van Paassondag was die stil voorspel tot die uitstorting van God se revolusionêre liefde oor die hele wêreld.

Kies om deel te neem

Jesus se opdrag om te getuig is ‘n uitnodiging om deel te neem aan God se lewensveranderende liefde. Mens doen dit deur lewensveranderende woord en dade. Jy doen dit oral, met almal wat God op jou pad plaas.

God maak, in die uitstorting van sy liefde, nie onderskeid tussen mense nie.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Lied 422 “Die Heer, die Heer het opgestaan” of
VONKK 5 “Vreugde! Vreugde!” of
Flam 336. ‘Wie Is Ek Dat U Aan My Gedink Het (My Verlosser Leef)

Seën
Ontvang die Heilige Gees en God se seën vir julle opdrag:
“Eg gee vir julle die ewige lewe en julle sal nooit ooit verlore gaan nie. Niemand sal julle uit my hand ruk nie.”
(Uit: 2011. Wepener, Cas. Soos ’n blom na die son draai. BybelMedia)

Respons
Lied 218 “Halleluja!”

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.