Paasfees

Sections

Oorsig

Paasfees is die belangrikste feesgeleentheid in die hele kerklike jaar. Die hooffokus van die fees is die opstanding van Jesus Christus uit die dood, terwyl die Ou-Testamentiese motief van bevryding van God se volk uit slawerny in Egipte ook op die agtergrond meespeel. Dit is gepas om hierdie fees met uitbundige vreugde te vier. Die vreugdekarakter kan versterk word deur die musiek wat gekies word en die versiering van die liturgiese ruimte met veelkleurige blomme en baniere. Lidmate kan aangemoedig word om bosse blomme saam na die erediens te bring en voor in die liturgiese ruimte neer te sit. Die liturgiese voorstel hieronder is gebaseer op die oudkerklike Paasdiens wat begin met die “diens van die lig” waar die oorwinning van lig oor duisternis uitgebeeld word en die “diens van die water” wat verband hou met die feit dat die Paasdiens oorspronklik die geleentheid was vir die doop van nuwe bekeerlinge.  In die “diens van die lig” word ‘n trom, ‘n simbaal en ‘n trompet gebruik om die drama van die gesproke woord te versterk.

Fokusteks

Lukas 24: 1-12
Jesus het opgestaan
(Matt 28:1–10; Mark 16:1–8; Joh 20:1–10)
24 Die Sondagmôre baie vroeg het die vroue na die graf toe gegaan met die reukolie wat hulle reggemaak het. 2Daar kry hulle die klip weggerol van die ingang van die graf af; 3en toe hulle ingaan, het hulle nie die liggaam van die Here Jesus gekry nie. 4Hulle het nie geweet wat om daarvan te dink nie. Meteens staan daar by hulle twee manne met blink klere aan. 5Die vroue het groot geskrik en met hulle gesig na die grond toe gebuig. Toe sê die manne vir hulle: “Waarom soek julle die Lewende by die dooies? 6Hy is nie hier nie. Hy is uit die dood opgewek. Onthou hoe Hy met julle gepraat het toe Hy nog in Galilea was 7en gesê het: Die Seun van die mens moet uitgelewer word in die hande van sondige mense, gekruisig word, en op die derde dag opstaan.”

8Toe het hulle sy woorde onthou 9en van die graf af teruggegaan en al hierdie dinge vir die elf en al die ander vertel. 10Die vroue was Maria Magdalena en Johanna en Maria die ma van Jakobus. Ook die ander vroue saam met hulle het dieselfde dinge aan die apostels vertel. 11Maar vir hulle het hierdie verhaal na onsin gelyk en hulle het die vroue nie geglo nie.

12Petrus het egter opgespring en na die graf toe gehardloop. Toe hy daar vooroor buk, sien hy net die doeke. Vol verwondering oor wat gebeur het, is hy terug huis toe.

Ekstra stof

Lukas vertel die opstandingsverhaal in vier dele:

  • Die leë graf – 24:1-12
  • Die Emmausgangers – 24:13-35
  • Jesus se verskyning aan die dissipels – 24:36-49
  • Jesus se hemelvaart – 24:50-53

24:1-12
Let op dat Lukas eers sterk klem lê op die leë graf wat deur die vroue en Petrus besoek is.  Net soos dit vir hom belangrik was om Jesus se onskuld voor die verskillende howe in Jerusalem, die godsdienstige (Joodse Raad), die koninklike (Herodes) en die politieke (Pilatus) te beklemtoon, só beklemtoon hy die feitelikheid van die leë graf.

Die twee engele bevestig Sy opstanding en noem Hom die Lewende.  En let veral op dat hulle die opstanding verbind aan Sy eie woorde.  Die opstanding kom dus soos Hyself dit vele kere vir hulle herhaal het, hoewel hulle dit moeilik kon glo.

24:13-35
Die Emmaus-gangers se ervaring met Jesus op die pad – het ons hart nie warm geword nie – noop hulle om Hom in te nooi, al weet hulle nog nie dat dit Hy is nie.  Met die seënbede en die breek van die brood gaan hulle oë egter oop en sien hulle wie Hy werklik is.

Let op dat dit juis hulle gasvryheid is wat hulle hierdie openbaring laat ervaar.  Daarsonder sou hulle dit moontlik gemis het!  Weereens is dit vir Lukas baie belangrik om die verband tussen die gebeure van die opstanding en die Skrifwoord te trek, want dit is ‘n geweldige bevestiging van geloof, veral vir dié wat nie die voorreg gehad het om Hom te sien nie.

Hulle kan natuurlik nie alles vir hulleself hou nie, en gaan vertel vir die ander tot almal se groot blydskap.

24:36-49
Maar die verhaal oor Jesus se verskyning word opgevolg deur ‘n egte ervaring daarvan deur die dissipels.  En saam met die vredegroet bevestig Hy sy werklike opstanding deur hulle uit te nooi om aan Hom te vat en saam met hulle te eet.

Weereens trek Jesus die verband met die Skrifte (wet van Moses, profete, psalms) waarin ‘n geweldige boodskap vir ons sit – ons kan die Skrif glo, ook oor ander dinge.  Want, dit is net mense wat dít glo, wat dit ook sal gaan vertel vir ander, soos Hy inderdaad die opdrag gee.  Daarvoor het hulle egter die Heilige Gees nodig, van wie se uitstorting die volgende deel van sy boek ons sal vertel: Handelinge.

24:50-53
Jesus lei die dissipels uit die stad uit – 40 dae na sy opstanding (Hand 1:3) – en word in die hemel opgeneem.  Hulle gaan vol blydskap terug in afwagting van die uitstorting van die Heilige Gees.  Soos Lukas die evangelie in die tempel begin het, so eindig hy dit met die dissipels wat God in die tempel prys.

Liturgie

RUS

Toetrede: Lied 420 of Flam 168

Votum: (Uit “Soos ’n Blom na die Son draai” deur Cas Wepener)

Respons: Lied 414 of Flam 237 of VONKK 34

Seëngroet: (Uit “Gebedeboek met liturgiese voorstelle” deur Johan van der Merwe (Red)

Lofsang: Lied 421 of Lied 417 of F466 of VONKK 75

Toewyding / Herbevestiging van Doopbeloftes / Geloofsbelydenis: (Uit “Soos ’n Blom na die Son draai” deur Cas Wepener) Lied 415 of F336

HOOR

Gebed

Skriflesing: Vrouestem: Lukas 24:1-10; Mansstem: Lukas 24:11-12

Respons: Lied 403

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Lied 421 of F57 of VONKK 5

Seën

Respons: Lied 206 of VONKK 150

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 420 “Daar klink ’n lied, daar juig ’n stem” of
F168. “As Ek Opstaan In Die Oggend” (Hy Leef)

Votum
V: Die Here het opgestaan!
G: Die Here het waarlik opgestaan!

V: Dood, waar is jou angel?
G: Doderyk, waar is jou oorwinning?

V: Die dood is ingesluk.
G: Die oorwinning is behaal!
(Uit “Soos ’n Blom na die Son draai” deur Cas Wepener)

Respons
Lied 414 “Juig verlostes, juig en sing” of
F237. “Hy Leef” of
VONKK 34 “O Christus Here Jesus”

Seëngroet
V:  Jesus leef!  En ons met hom!  Genade vir julle en vrede van God die Vader
G:  Hy sorg vir ons!

V:  en van die Seun
G:  Hy het waarlik opgestaan!

V:  en van die Heilige Gees
G:  Hy leef in ons!  Amen
(Uit “Gebedeboek met liturgiese voorstelle” deur Johan van der Merwe (Red)

Lofsang
Lied 421 “Die Here Jesus lewe” of
Lied 417 “Jesus ons eer U” of
F466. Hoë Berge, Diepe Dale (Hy Leef / Daar Moet ’n God Wees) of
VONKK 75 Halleluja! Die Heer Het Opgestaan!

Toewyding / Herbevestiging van Doopbeloftes / Geloofsbelydenis
Liturg staan by doopvont:
V: Ons doop is ’n teken en seel dat God ons gered het. Deur die geboorte, dood en opstanding van Jesus Christus is die magte wat ons bind, verbreek en het God se koninkryk ons wêreld ingekom. Deur ons doop is ons burgers van God se koninkryk gemaak en vrygemaak van alles wat ons gevange hou. Kom ons vier vanoggend opnuut hierdie vryheid deur die beloftes wat by ons doop gemaak is te herbevestig.

Ons gaan ons vanoggend opnuut aan God toewy deur ons geloof te bely en die doopwater aan te raak.
V: Glo jy in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde?

G: Ja, ek glo.
V: Weet dan dat God ons Vader met jou doop al sy beloftes aan jou toegesê en jou Syne gemaak het.
Glo jy in Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, ons Here?

G: Ja, ek glo.
V: Weet dan dat Jesus Christus vir jou gesterf het en dat jy die redding wat Hy bewerk het, besit.

Glo jy in die Heilige Gees?
G: Ja, ek glo.

V: Weet dan dat die Heilige Gees in jou woon en vir jou die krag gee om ’n ware dissipel van Jesus te wees.
Jy behoort aan die Here en niks kan hierdie waarheid ooit verander nie.
G: Amen.
(Uit “Soos ’n Blom na die Son draai” deur Cas Wepener)

As dit gepas is, kan gedooptes vorentoe kom en hul hande in die doopvont steek, terwyl almal sing:
Lied 415 Jesus leef en ons met hom! of
Lied F336. Wie Is Ek Dat U Aan My Gedink Het (My Verlosser Leef)
As jy wil, kan jy die video Apostoliese Geloofsbelydenis (Afrikaans) hier wys.

Liedere

VONKK 150 “Halleluja 4”
Teks: Alleluja 7 – Taizé; Afrikaanse weergawe VONKK Werkgroep 2010  Musiek: Jacques Berthier 1923-1994
Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk. Met toestemming gebruik  © 2010 VONKK Uitgewers (Admin Bybel-Media)
RUBRIEK:  Meditatief – Lofprysing

Halleluja, halleluja, halleluja.
Halleluja, halleluja, halleluja.

VONKK 34 “O Christus, Here Jesus”
Teks: O Christe Domine Jesu – Taizé 2001; Afrikaanse weergawe VONKK-werkgroep 2008
Musiek: Jacques Berthier 1923-1992 Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk.
Met toestemming gebruik (Latyn, Afrikaans in hierdie weergawe en musiek) © 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK:  Meditatief – Toetrede en Aanroeping / Gebed

O Christus, Here Jesus,
o Christus, Here Jesus!
O Christe Domine Jesu,
o Christe Domine Jesu!

VONKK 75 “Halleluja! Die Heer Het Opgestaan!”
Teks: Jacques Louw 2008 © Muse: SINE NOMINE – Ralph Vaughan Williams 1906 © Teks: 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit RUBRIEK:  Klassiek – Paasfees

1.  Halleluja! Die Heer het opgestaan!
Leeg is die graf, die dood is nou verslaan.
Ons prys sy Naam, ‘n nuwe dag breek aan.
Halleluja! Halleluja!

2.  Halleluja! Die Heer voer heerskappy!
Daar aan die kruis moes Hy ons doodstryd stry.
Maar kyk, Hy leef! Verlossing is verkry!
Halleluja! Halleluja!

3.  Halleluja! Ons vier met blydskap fees!
Dood is die dood, ons hoef nie meer te vrees.
Hy laat ons leef, in Hom oorwinnaars wees.
Halleluja! Halleluja!

F466. “Hoë Berge, Diepe Dale” (Hy Leef / Daar Moet ’n God Wees)
(RUBRIEK: FLAM – Lof) Teks en musiek: Retief Burger
Kopiereg: © Urial Publishing  Opgeneem op In Verwondering en Luidkeels Dieper

1. Hoë berge, diepe dale
stormwinde is die tale wat lees –
daar moet ’n God wees.

2. Wilde waters, dorre duine
plate blomme in woestyne, wat skree –
daar moet ’n God wees.
Die skepping getuig dat die mensdom moet weet:

Refrein:
Hy leef, Hy leef
alle lof, ere waardig.
Hy leef, Hy leef
verhef bo die aarde.
Verberg vir die oog
tog hoorbaar omhoog
Hy leef!

3. Sagte stiltes deur die klowe
bring ’n boodskap wat belowe, daar’s meer –
daar moet ’n God wees.

4. Harde stem uit donker wolke
roep die nasies, alle volke, ’n kreet –
daar moet ’n God wees.
Die skepping getuig dat die mensdom moet weet:

Refrein:

Brug:
Alles vertel Hy is heilig, heilig. Alles vertel Hy is by ons, by ons. (x3)
Alles vertel Hy is heilig, heilig. Alles vertel Hy is by ons.

Refrein: (x2)

F168. “As Ek Opstaan In Die Oggend” (Hy Leef)
(RUBRIEK: Kruisfuur – Lof / Opstanding / Getuienis) Teks en musiek: Arno Mattheus © 2007 MAR Gospel Music Publishers

1. As ek opstaan in die oggend, en ek sien die son
elke môre vars genade uit Jesus se hand.
Dit maak nie saak nie, wat mense sê,
dit maak nie saak nie, wat mense dink:
Niks sal my stilmaak nie.
Niks sal my stilmaak nie.

Refrein:
Ek gaan sing, skree, spring en dans
ek gaan vertel dat Jesus my Redder is.
Ek gaan sing, skree, spring en dans.
Ek gaan seker maak dat die wêreld hoor:
Hy leef (Hy leef), Hy leef (Hy leef), Hy leef (Hy leef)!

2. Ek sal nie vrees nie; ek sal nie skuil nie,
want Jesus gee my krag.
Hy’s my redder en my leier, voluit sal ek Hom volg.
Dit maak nie saak nie, wat mense sê
dit maak nie saak nie, wat mense dink:
Niks sal my stilmaak nie.
Niks sal my stilmaak nie.

Refrein:

Outro:
Dit maak nie saak nie, wat mense sê.
Dit maak nie saak nie, wat mense dink.
Niks sal my stilmaak nie, want Jesus leef.
Hy leef! (Jesus leef.)
Hy leef! (Jesus leef.)
Jesus leef!

F237. “Hy leef”
(RUBRIEK: Flammikidz – Opstanding) Teks en musiek: Willie Pretorius © MAR Gospel Music Publishers)

Hy leef, Hy leef,
die graf het oopgegaan.
Hy leef, Hy leef
Hy leef, Hy’t opgestaan.
Hy leef, Hy leef,
dit maak my hart so bly.
Jesus leef in my.
Halleluja! Halleluja!
Jesus leef in my.
Halleluja! Halleluja!
Jesus leef in my.

F336. “Wie Is Ek Dat U Aan My Gedink Het” (My Verlosser Leef)
(RUBRIEK: Flam – Nagmaal / Paasfees)  Teks en musiek: Wian Vos Kopiereg: Ó 2009 Urial Publishing

Wie is ek dat U aan my gedink het aan die kruis
Wie is ek dat U aan my ook liefde wou bewys
Wie is ek dat U vir my ’n tuiste voorberei

Dis genade op genade, losgekoop en vry!
My Verlosser leef, my Verlosser leef
En Hy’t opgestaan, finaal oorwin
Die graf is leeg

My Verlosser leef, my Verlosser leef
En ek juig oor Hom, ek juig oor die Bruidegom
Hoe kan ek dan stilbly oor die grootste liefdesdaad?
Hoe kan ek dan swyg as die graf so duidelik praat?
Hoe kan ek nie sing as ek weet “dit is volbring”?

Dis genade op genade, losgekoop en vry!
Nou kan ek leef, deur u Gees
In die oorwinning van die opstanding leef

F57. “Ek Sien In My Gees” (Oorwinningslied) 
(RUBRIEK: Flam – Hoop en Voleinding / Lof / Koninkrykstyd) Oorspronklik: Battle Hymn of the Republic (Tradisioneel)
Afrikaanse vertaling: Piet Smit   © 1994 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Gunsteling Lof- en Aanbiddingsliedere; asook op Suid-Afrika se 100 Gunsteling Geestelike Liedere)

1. Ek sien in my gees die glorie en die almag van die Heer.
Die Allerhoogste wat in liefde oor sy koninkryk regeer.
Hy’t belowe aan die einde op die wolke kom Hy weer.
Hy is Koning, Hy regeer!

Refrein:
Loof Hom, prys Hom! Halleluja!
Hy is Koning, Hy regeer!

2. Die Here is ons Vesting wat vir altyd sal bly staan.
Hy beskerm elke mens wat in geloof na Hom toe gaan.
Hy’s ons skuiling, Hy’s ons wapen, Hy het die vyand reeds verslaan.
Hy is die Rots wat ewig staan.

Refrein:
Loof Hom, prys Hom! Halleluja!
Hy’s die Rots wat ewig staan!

3. Kom deel nou in ons loflied hef jou hande op na bo.
Blaas basuine, slaan op tromme en kom dans voor God se oë.
Kom leef in die oorwinning van sy Woord waarin ons glo.
Want sy Woord sal ewig staan.

Refrein:
Loof Hom, prys Hom! Halleluja!
Want sy Woord sal ewig staan.

4. Ek glo dat Jesus Christus weer sy bruid gaan kom haal.
Ek glo die Vader het al reeds die dag en uur bepaal.
Ek sien al klaar die feestelike hemelbruilofsmaal
en die tafel met ons bruilofsmaal.

VONKK 5 “Vreugde! Vreugde!”
Teks: JJH du Plessis 2007 (Pro Deo)
Melodie: ODE AN DIE FREUDE (Koraal-simfonie Nr 9) – Ludwig van Beethoven 1824 (ritmies aangepas)
© Teks: 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)  © Melodie: openbare besit RUBRIEK:  Klassiek – Paasfees / Uitsending

1. Vreugde! Vreugde! Juig van vreugde,
want ons Heiland het verrys.
Tot die dood was Hy verneder,
uit die graf het Hy herrys.
Alle eer aan die Oorwinnaar!
Elke knie moet voor Hom buig.
“Jesus Christus is die Here!” –
elke tong moet dit getuig.

2.  Jesus leef, Hy heers vir ewig,
heerlik is sy majesteit.
As gestuurde van die Vader
stuur Hy ons nou wêreldwyd.
Hy bring heling, skenk bevryding:
daarvan moet ons bly getuig.
Vreugde! Vreugde! Juig van vreugde
want ons Heiland het verrys.

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing
As die predikant nie ’n vrou is nie, reël met ’n vrou om vandag se Skriflesing te doen:
Vrouestem: Lukas 24:1-10
Mansstem: Lukas 24:11-12
Die Sand-kuns video kan goed werk as jy dit sonder klank tydens die Skriflesing wys.

Respons: Lied 403 “Christus het opgestaan”

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Hier is ’n pragtige, stylvolle kindervriendelike video wat die verhaal van die opstanding vertel.

Carolyn Brown herinner ons daaraan dat die goeie nuus van Paasfees anders is vir kinder as vir grootmense.  Vir die meeste kinders is oorwinning oor die dood nie vreeslik opwindend (of reëel) nie.  Aansprake op nuwe lewe is ook moeilik vir kinders om te begryp.  Wat kinders wél raak, die goeie nuus van Paasfees vir kinders, is dat God die magtigste wese in die heelal is.  Die Paasfees belofte dat Jesus altyd by ons is, is ook goeie nuus vir kinders.  Natuurlik kan kinders hulleself ook vind in die boodskap van vergifnis.

Jy kan die kinders vandag regdeur die liturgie betrek:

  • Gebruik video’s
  • Laat kinders tydens die toetrede of lofsang vir die gemeente wit lelies uitdeel
  • Laat kinders aan die einde van die diens Paaseiers uitdeel (as jy die betekenis van Paaseiers iewers verduidelik het).  Koop pakke “speckled eggs”.
  • Hulle kan ook tydens die diens paaseiers versier.
  • Hou ’n paaseier-jag met paaseiers en Bybelverse

Daar is ’n baie interessante tradisie rondom Maria Magdalena en paaseiers!  Sy word dikwels uitgebeeld met ’n (rooi) eier in die hand.  Dit is gebaseer op twee legendes:  die een weergawe is dat sy ’n mandjie hardgekookte eiers by haar gehad het toe sy en die anders na die graf is.  Toe sy besef Jesus het opgestaan, het die eiers rooi geraak.  Die ander weergawe sê dat sy die opstanding mbv ’n eier aan die keiser probeer verduidelik het.  Hy het haar uitgelag en gesê haar storie is net so min waar as wat die eier rooi is – en toe raak die eier rooi!

Legendes ten spyt, is dit ’n goeie idee om vir die gemeente te verduidelik hoekom paaseiers deel van mense se Paasfees-viering is:
Vroeë Christene het eiers rooi gekleur om hulle te herinner aan Jesus se bloed wat gevloei het.  Die eiers het mettertyd ’n simbool geraak van Jesus se opstanding:  Wanneer jy die eier oopbreek, is dit leeg!  Net so was die graf leeg!  Soet, lekker Paaseiers herinner ons aan die vreugde van lewe saam met Jesus.

Gebruik ’n Paaseier – ’n lekker groot sjokolade eier kan werk, of maak regte paaseiers van hoendereiers!  Breek die paaseier oop, wys vir almal dat dit leeg is, laat almal saam sê:  Die graf is leeg!  Jesus leef!

’n Oulike idee om die boodskap van Paasfees mbv plastiek eiers oor te dra.

Preekriglyn

‘n Bejaarde dame is met ‘n terminale siekte gediagnoseer. Sy het haar sake in orde begin kry, en onder andere haar dominee gevra om ‘n draai te kom maak. Sy wou haar laaste wense met hom bespreek.

Sy het hom vertel watter liedere sy by haar begrafnis gesing wil hê, die Skrifgedeeltes wat gelees moet word, asook die klere waarin sy begrawe wou word. Sy wou ook haar Bybel in die kis hê.

Toe dit tyd word vir die dominee om te vertrek, sê sy: “Daar is ‘n laaste wens. Ek wil met ‘n vurk in my regterhand begrawe word.” Die dominee het nie geweet wat om te sê nie. ‘n Vurk?

Die ou dame verduidelik. “Al die jare waarin ek etes by die kerk bygewoon het, wanneer die borde na die hoofmaal weggeneem word, sou iemand gewoonlik sê ons moet ons vurke hou. Dit het my altyd opgewonde gemaak, want dan het ek geweet iets lekkers kom, die beste deel van die hele ete. Hulle gaan nou sjokoladekoek of appelpastei bedien. Ons gaan ons vurke nodig hê.”

“So, wanneer mense my met ‘n vurk in my hand in my kis sien lê, en vra ‘Wat gaan aan, waarom ‘n vurk,’ moet dominee asb. vertel ek herinner hulle net: ‘Hou jou vurk, die beste is aan die kom!'”

Hierdie tannie het geweet hoe belangrik onthou en herinnering is. Op Paassondag word ons geleer om die woorde en gebeure rondom Jesus te onthou, sodat ons nie van die beste deel, ons toekoms met die Here, vergeet nie.

Laaste eer

‘n Mens moet simpatie met die vroue hê wat op die eerste Sondagoggend die laaste eer aan Jesus se liggaam wou gaan betoon. Hulle het graf toe gegaan om die dooie liggaam van Jesus met reukolie te versorg. As deel van die Joodse gemeenskap het hulle geen idee gehad wat op hulle wag nie. Immers, daar sou uiteindelik ‘n opstanding uit die dood plaasvind, maar eers aan die einde van die tye. So het hulle geglo. Geen wonder dat hulle verward was toe hulle sien die klip is weggerol en Hy is nie daar nie.

Die vroeë oggendure van Pase is een vol verrassing, verbystering, vrees en verwarring. Die vroue het nie graf toe gegaan, terwyl hulle vir hulself sê “Wel, ons het die speserye vir ingeval Hy steeds dood is, maar laat ons hoop Hy lewe weer nie.” Nee, niemand het nog ooit gedroom dat ‘n mens doodgemaak is, en dan in ‘n nuwe liggaamlike lewe aan die ander kant van die graf opgewek is nie, terwyl die res van die wêreld voortgaan soos vantevore nie. Wat hier gebeur maak menslik geen sin nie.

Die vroue verteenwoordig in baie opsigte die lewenshouding van alle mense. Ons hou vas aan die balsem vir die dood. Soos Noordmans skryf: “Met speserye wil hulle die dood bestendig, ‘n bietjie aangenamer maak. Daar is geen opstanding nie, net verset teen die dood. Maar dit is ‘n verset wat tevergeefs is. Daar is geen oorwinning oor die dood nie.”

Maar as dit die einde sou wees sou die evangelie ook aan ‘n einde kom. Thomas sou nie van sy twyfel genees word nie. Die Emmausgangers sou geen vreugde ken nie. Daar sou geen Paulus op die Damaskuspad wees nie. Sonder Pase – die belydenis van Christus se oorwinning oor die dood –  is daar geen evangelie, geen Bybel, geen kerk, geen gemeenskap van gelowiges om te troos nie. Pascal skryf: “Sonder Christus kan die wêreld nie voortgaan nie. Dit sou of vernietig of in ‘n soort hel ontaard.”

Verras uit die hemel

In hierdie omstandighede verras God ons met ‘n boodskap uit die hemel. Dis ‘n boodskap uit ‘n ander wêreld. Dit is nie wat hulle verwag het nie. Dit is nie wat hulle wou hoor nie, maar dit is wat hulle nodig gehad het. Hy is nie hier nie. Hy is opgewek!

Die engele is self ook verbaas oor die logika van die dood. God is nie ‘n God van die dood nie, maar van die lewe. Die wêreld van die dood en die wêreld van die lewe begryp mekaar nie. Hoe kan julle die lewende Jesus Christus by die dooies soek? Die dood rym nie met die lewende God nie: “Die Vader van ons Here Jesus Christus is nie die Vader van ‘n gebalsemde mummie nie” (Noordmans). Twyfel en ongeloof hou vas aan die logika van mense. Geloof hoor dat God sterker as die dood is.

Herinnering ontsluit geloof

Al maak dit nie sin vir die vroue nie, neem die boodskappers van die hemel die vroue terug op die pad van herinnering (6b – 8a):

“Onthou hoe Hy met julle gepraat het toe Hy nog in Galilea was en gesê het: Die Seun van die mens moet uitgelewer word in die hande van sondige mense, gekruisig word, en op die derde dag opstaan.”

Toe het hulle sy woorde onthou….

Hierdie herinnering is meer as om net te onthou wat Jesus gesê het. Om te onthou, is om vertroos, opgebou en versterk te word. Om te onthou, is om te verander. Die boodskappers van God herinner hulle aan Jesus se woorde wat keer op keer in hulle ore weerklink het, maar nie ingesink het nie. Inteendeel, Lukas 18:34 herinner ons daaraan dat dit byna onmoontlik vir hulle was om sy woorde te onthou: “Maar van hierdie dinge het hulle niks begryp nie. Die woorde was vir hulle duister en hulle het nie verstaan waaroor Hy praat nie.”

Die vroue onthou. Hierdie mense wat ‘n groot rol in die Lukas evangelie speel maar steeds in die samelewing as onbetroubare getuies gesien is, word die eerste getuies. Hulle kan nie stilbly nie. Dis wat gebeur wanneer die woorde van Jesus in ons harte begin weerklink. Die Woord en sakrament herinner ons gedurig aan hierdie woorde van Jesus.

Vergeet lei tot ongeloof

Vergeetagtigheid lei tot ongeloof en afvalligheid (Ps 106). Herinnering lei tot geloof en aksie. Noordmans skryf: “Elke diens wat ons in Christus verrig sal iets wegneem van die werking van die angs vir die dood . . . Elke stap wat ons neem in die sin van die Paasevangelie bring ons nader aan die ontmoeting met die opgestane Heer.”

Met getuienis van die vroue word die eerste stap geneem in die kragtige boodskap van die kerk wat hoop bring vir elke mens. Hierdie vroue het die moed van hulle oortuiging gehad om die dwaasheid van die opstanding te gaan verkondig. Dit maak nie sin nie, maar hulle het geweet dis waar, want die woorde van Jesus het in hulle harte grond gevat. Hulle het Hom nog nie gesien nie. Hulle het nie geweet wat die toekoms inhou nie. Maar hulle het geglo en verkondig!

God herinner ons

Tom Wright vertel dat een van sy kollegas opgemerk het dat as hy ooit ‘n outobiografie sou skryf, die titel sou wees: “I Told You So.” Die tragedie van die Paasboodskap is dat ons dit oor en oor hoor, maar tog nie hoor nie. Dit stop in ons oordromme. Dis asof ons hoor, maar tog nie hoor nie. Die verhaal maak duidelik dat ons slegs werklik hoor as God ons herinner aan sy woorde.

Die Paasboodskap is deel van die herinnering wat gelowiges jaar na jaar (eintlik Sondag na Sondag) beleef. Ons hoor egter nie met ons ore en verstand nie. Ons hoor met ons hart. Om te onthou lei tot geloof (Rom 10:10-17). Hierdie herinnering is meer as intellektuele kennis, dit is ook kennis van die hart. Wanneer die hart gesond word keer die herinnering terug. Iemand skryf: “Geloof in die opstanding is nie redelike insig nie, maar hartlike vertroue, net soos die vergewing van sondes.” Immers, “Hy is vanweë ons oortredings oorgelewer en Hy is opgewek sodat ons vrygespreek kan word” (Rom 4:25).

Ons weet nie hoe die opstanding van Christus in ons gebroke wêreld hoop in die mees hopelose situasies van verwoestende twyfel en wanhoop sal bring nie. Al wat ons weet is dat God verrassend nuut begin. Ons weet dat Jesus lewe en ons met Hom. Dood, wie sou vir jou nog bewe? Wright skryf dat die evangelie van die begin af goeie nuus is omdat dit waag om ons dinge te vertel wat ons nie verwag het nie, wat ons gesukkel het om te glo, en wat ons moeilik kan verstaan. Het ons dan gedink die evangelie sou iets vanselfsprekend, alledaags wees, iets wat ons self kon uitdink?

Die kerk verkondig die evangelie

Die kerk van Jesus Christus is die draer van die boodskap van hoop in ‘n wêreld vol doodloopstrate. Selfs terwyl bestaan nog ‘n doodsreuk het, verkondig ons die lewe. Selfs al is die dood die sagte agtergrondmusiek in almal se lewe en besef ons dat almal eenmaal sal doodgaan en elke rekening met dieselfde saldo sal sluit (Brunner), leef ons met hoop omdat Hy nie in die graf is nie. Ons dra dit na ander twyfelende dissipels en stukkende mense toe.

‘n Oggendgebed in die gebedeboek van die Evangelies Lutherse Kerk sê:

Mighty God of mercy, we thank you for the resurrection dawn, bringing the glory of our risen Lord who makes every morning new.

Kort daarna antwoord die gemeente met die volgende woorde:

Merciful God of might, renew this weary world, heal the hurts of all your children, and bring about your peace for all in Christ Jesus, the living Lord.

Die hef in die hand

Die evangelie getuig dat God in Jesus Christus die hef in die hand het as dit kom by die dood. Die Lewende is die by die dooies nie. Hy is opgewek, Hy is die lewe, Hy skenk die lewe.

Daarom is dit glad nie ‘n slegte idee om met ‘n vurk in die hand begrawe te word nie. Die beste kom nog!

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Lied 421 “Die Here Jesus lewe” of
F57. Ek Sien In My Gees (Oorwiningslied) of
VONKK 5 Vreugde! Vreugde!

Seën
V:  Jesus Christus is die opstanding en die lewe.
G:  Hy is ons vrede.

V:  Wie in hom glo, sal in ewigheid nie sterwe nie.
G:  Hy is ons vrede, nou en tot in ewigheid.  Amen

Respons
Lied 206 “Halleluja!” of
VONKK 150 Halleluja 4

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.