Paasfees

Sections

Oorsig

Met Lydenstyd en Paasfees hoor ons elke jaar die boodskap dat Christus se lyding, sterwe en opstanding vir Hom ’n eensame pad van selfloosheid, vernedering, lyding en gehoorsaamheid was sonder om die swaard of mag op te neem. In plaas van stryd en magsverset om sy eie behoud het Hy oorgawe, deernis en liefde sonder vergoeding vir Homself gekies. Hy het dit vir ander se verlossing en beterskap vervul. Jesus het nie ’n emperor van ’n empire geword nie, maar ’n slaaf van mense en ’n hulpelose Lam ter slagting.

Ander tekste

Handelinge 10:34-43
Petrus se toespraak by Kornelius
34Toe het Petrus aan die woord gekom en gesê: “Waarlik, ek begryp nou eers dat God nie onderskeid maak nie, 35maar in enige volk die mense aanneem wat Hom vereer en doen wat reg is. 36Julle weet dat God aan Israel sy woord gestuur het, naamlik die evangelie van vrede wat Jesus Christus gebring het. Hierdie Jesus is Here van almal. 37Julle weet ook van die gebeurtenisse dwarsdeur die hele Joodse land. Dit het in Galilea begin ná die doop wat Johannes verkondig het. 38Julle weet van Jesus van Nasaret, dat God Hom met die Heilige Gees gesalf en met krag toegerus het. Hy het rondgegaan, oral goeie werke gedoen en almal gesond gemaak wat in die mag van die duiwel was, want God was by Hom.

39“En ons is getuies van alles wat Hy in die Joodse land en in Jerusalem gedoen het. Hulle het Hom doodgemaak deur Hom aan die kruis te hang. 40Maar God het Hom op die derde dag uit die dood opgewek en Hom laat verskyn, 41nie aan die hele volk nie, maar net aan ons vir wie God reeds gekies het om getuies daarvan te wees, ons wat ná sy opstanding uit die dood saam met Hom geëet en gedrink het. 42Hy het ons opdrag gegee om aan die volk te verkondig en te bevestig dat dit Hy is wat deur God aangestel is as Regter oor lewendes en dooies. 43Van Hom getuig al die profete dat elkeen wat in Hom glo, vergewing van sondes deur sy Naam ontvang.”

Jeremia 31:1-6
31 Daardie tyd, sê die Here, sal Ek die God van al
die stamme van Israel wees,
en hulle sal my volk wees.
2So sê die Here:
Israel, die volk wat aan die swaard
ontkom het,
is begenadig in die woestyn,
hy sal na sy rusplek toe kom.
3Van ver af het die Here Hom
aan Israel bekend gemaak:
Ek het jou nog altyd liefgehad,
daarom het Ek jou met geduld verdra.
4Ek sal aan jou kinders gee, Israel,
jy sal kinders in die wêreld bring.
Jy sal weer jou tamboeryne dra,
jy sal uitgaan om te dans
saam met dié wat bly is.
5Jy sal weer wingerde plant
op die Samariaberge,
die boere sal dit plant
en die vrugte daarvan geniet.
6Die dag het aangebreek,
die dag waarop dié wat wag staan,
op die Efraimsberge sal roep:
“Kom ons gaan na Sion toe,
na die Here ons God toe.”

Psalm 118:1-2, 14-24
Die Here doen kragtige dade
118 Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie!
2Israel moet getuig:
“Aan sy liefde is daar geen einde nie.” 
3Die huis van Aäron moet getuig:
“Aan sy liefde is daar geen einde nie.”
4Dié wat die Here dien, moet getuig:
“Aan sy liefde is daar geen einde nie.”

5In my nood het ek na die Here geroep,
die Here het my gebed verhoor
en my bevry.
6Die Here is by my,
ek ken geen vrees nie;
wat kan ’n mens aan my doen?
7Die Here is by my, Hy help my:
ek sal neerkyk op dié wat my haat.
8Om by die Here te skuil,
is beter as om op mense te vertrou.
9Om by die Here te skuil,
is beter as om op hoë mense te vertrou.
10Nasies het van alle kante af
op my afgestorm.
In die Naam van die Here
het ek hulle aanval afgeslaan.
11Hulle het my omsingel,
my van alle kante bestorm.
In die Naam van die Here
het ek hulle aanval afgeslaan.
12Hulle het soos bye om my gepak,
maar hulle het verdwyn
soos doringtakke in ’n vuur.
In die Naam van die Here
het ek hulle aanval afgeslaan.
13My vyande wou my platloop
en my ondergang bewerk,
maar die Here het my gehelp.
14Die Here is my krag en my beskerming.
Dit is Hy wat my gered het!
Hoor die gejuig
in die laer van die oorwinnaars:
“Die Here doen kragtige dade,
16die Here triomfeer,
die Here doen kragtige dade!”
17Ek sal nie sterwe nie, ek sal lewe
en van die dade van die Here getuig.
18Die Here het my swaar gekasty,
maar my nie aan die dood
oorgegee nie.
19Maak die tempelpoort vir my oop:
ek wil ingaan en die Here loof.
20Dit is die poort na die Here toe;
regverdiges mag daardeur ingaan.
21Ek wil U loof
omdat U my gebed verhoor
en my gered het.
22Die klip wat deur die bouers
afgekeur is,
juis hy het die belangrikste klip
in die gebou geword.
23Dit is deur die Here gedoen
en is ’n wonder in ons oë!
24Dit is die dag
wat die Here gemaak het;
laat ons daaroor juig en bly wees.

Johannes 20:1-18
Die leë graf
(Matt 28:1–8; Mark 16:1–8; Luk 24:1–12)
20 Die Sondagmôre vroeg, toe dit nog donker was, kom Maria Magdalena by die graf en sien dat die klip van die graf af weggerol is. 2Sy hardloop toe en gaan na Simon Petrus en na die ander dissipel toe vir wie Jesus baie lief was, en sê vir hulle: “Hulle het die Here uit die graf weggevat, en ons weet nie waar hulle Hom nou begrawe het nie.”

3Petrus en die ander dissipel het toe uitgekom en na die graf toe gegaan. 4Die twee het saam begin hardloop, maar die ander dissipel het vinniger as Petrus gehardloop en eerste by die graf gekom. 5Toe hy vooroor buk, sien hy die doeke lê, maar hy het nie ingegaan nie. 6Ná hom het Simon Petrus ook daar aangekom, en hy het in die graf ingegaan. Hy sien toe die doeke daar lê, 7ook die doek wat om Jesus se kop was. Dié doek het nie by die ander doeke gelê nie, maar was eenkant afsonderlik opgerol. 8Daarna het die ander dissipel, wat eerste by die graf gekom het, ook ingegaan, en hy het dit ook gesien en geglo.

9Hulle het nog nie die Skrif verstaan dat Jesus uit die dood moet opstaan nie.
10Daarna het die dissipels weer huis toe gegaan.

Jesus verskyn aan Maria Magdalena
(Matt 28:9–10; Mark 16:9–11)
11Maar Maria het buite by die graf bly staan en huil. Terwyl sy huil, het sy vooroor gebuk om in die graf in te kyk. 12Toe sien sy twee engele met wit klere aan daar sit waar die liggaam van Jesus gelê het, een waar die kop en een waar die voete was. 13Hulle vra toe vir haar: “Mevrou, waarom huil jy?”
Sy antwoord hulle: “Omdat hulle my Here weggevat het en ek nie weet waar hulle Hom nou begrawe het nie.”
14Nadat sy dit gesê het, het sy omgedraai en vir Jesus daar sien staan, maar sy het nie geweet dat dit Hy is nie. 15Jesus vra haar toe: “Mevrou, waarom huil jy? Vir wie soek jy?”
Sy het gedink dit is die tuinopsigter, en sy het vir hom gesê: “Meneer, as u Hom weggevat het, sê vir my waar u Hom begrawe het, en ek sal Hom daar gaan haal.”
16Jesus het vir haar gesê: “Maria!”
Sy draai na Hom toe en sê in Hebreeus vir Hom: “Rabboeni!” Dit beteken leermeester.
17Jesus sê toe vir haar: “Moet My nie vashou nie, want Ek het nog nie na die Vader toe opgevaar nie. Maar gaan na my broers toe en sê vir hulle: ‘Ek vaar op na my Vader toe, wat ook julle Vader is, na my God, wat ook julle God is.’”
18Maria Magdalena het toe vir die dissipels gaan sê: “Ek het die Here gesien!” En sy het ook vertel wat Hy vir haar gesê het.

Matteus 28:1-10
Jesus het opgestaan
(Mark 16:1–8; Luk 24:1–12; Joh 20:1–8)
28 Na die sabbatdag, toe dit die Sondagmôre begin lig word, het Maria Magdalena en die ander Maria na die graf gaan kyk.

2Skielik was daar ’n geweldige aardbewing. ’n Engel van die Here het van die hemel af gekom, na die graf toe gegaan, die klip weggerol en daarop gaan sit. 3Sy voorkoms was so blink soos weerlig en sy klere so wit soos sneeu. 4Van skrik vir hom het die wagte gebewe en soos dooies geword.

5Toe sê die engel vir die vroue: “Julle moet nie bang wees nie. Ek weet julle soek Jesus wat gekruisig is. 6Hy is nie hier nie, want Hy is uit die dood opgewek, soos Hy gesê het. Kom nader en kyk: daar is die plek waar Hy gelê het. 7Gaan gou en sê vir sy dissipels: ‘Hy is uit die dood opgewek, en Hy gaan julle vooruit na Galilea toe. Daar sal julle Hom sien.’ Dit is wat ek vir julle moes sê.”

8Hulle het toe haastig van die graf af weggegaan, bang maar baie bly, en hulle het gehardloop om dit aan die dissipels te vertel.

9Skielik het Jesus daar voor die vroue gestaan en hulle gegroet. Hulle het nader gekom, sy voete gegryp en Hom aanbid. 10Toe sê Jesus vir hulle: “Moenie bang wees nie. Gaan sê vir my broers hulle moet na Galilea toe gaan, en daar sal hulle My sien.”

Fokusteks

Kolossense 3:1-4
Julle is saam met Christus uit die dood opgewek
3 Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit. 2Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie, 3want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God. 4Wanneer Christus, wat julle lewe is, by sy wederkoms verskyn, sal julle ook saam met Hom verskyn en in sy heerlikheid deel.

Ekstra stof

Die gemeente van Kolosse is waarskynlik nie deur Paulus gestig nie (Kol 2:1), hoewel hy op ‘n keer deur die landstreek van Frigië, waar hulle geleë was, gereis het (Hand 16:6).  Hulle was egter duidelik sterk onder sy invloed.  Epafras wat van Kolosse af was – en ook Paulus se medewerker – was moontlik die skakel tussen hulle, en ‘n moontlike stigter van die gemeente (Kol 1:7; 4:12).  Die stad was geleë naby Efese in Klein-Asië (160 km na die ooste), in die suid-weste van wat vandag as Turkye bekend staan.  Hulle was ook nou verbind aan die naburige gemeentes in Laodisea en Hiërapolis (4:13,15).

Die brief is uit die gevangenis geskryf – soos ook Filippense, Efesiërs en Filemon – en soos met die ander drie briewe word die brief met Paulus se Romeinse gevangeniskap verbind (Kol 4:3,10,18).  Die brief was dus waarskynlik in die vroeë sestigerjare nC geskrywe, net voor ‘n aardbewing die stad getref het in 61 nC en volgens historici waarskynlik die plek verwoes het.  Vandag is daar net ruïnes oor.

Dit is duidelik dat Paulus hierdie brief skryf om sekere idees en praktyke wat begin posvat het in die gemeente se invloed teë te werk.  Dit is dus nie soseer die mense self – bv dwaalleraars – wat aangevat word nie.  Hy vat eerder hulle idees en praktyke aan.  Daar was in elk geval nog nooit sekerheid onder geleerdes om hierdie idees met ‘n spesifieke bekende groep uit daardie tyd te verbind nie – hetsy die gnostici of die Joodse mistiek of ‘n mengsel daarvan nie.

Wat ‘n mens uit die brief aflei, is dat hierdie idees en gebruike van ‘n interessante vermenging van Joodse en ander godsdienstige en filosofiese idees  en praktyke gekom het.

  • Dit sluit teorieë (letterlik filosofieë) en argumente (leë leringe), waarmee Paulus nie die filosowe as sodanig aanvat nie, maar dié in Kolosse wat inhoudsloos was en slegs op menslike tradisies en basiese okkultiese of astrologiese beginsels berus het (NAV se “wettiese godsdienstige reëls” vertaal die Griekse frase: ta stoicheia tou kosmos, wat eerder beteken: “die magte van die heelal” – O’Brien), en nie op Christus nie (2:8,20).
  • Dit sluit ook sekere Joodse voorskrifte in – dinge soos die reëls van wat jy mag eet of drink of waaraan jy mag vat of dan nou juis nie (vgl ook 2:20-21), feeste wat gevier moet word (jaarlikse feeste en die nuwemaansfees) en die hou van die sabbatdag (2:16).
  • Daarby was daar ook sprake van ‘n aanbidding van engele (2:18), en asketiese gebruike (streng beheersing van die liggaam – 2:23).

‘n Swetterjoel vreemde invloede dus wat gedreig het om die boodskap van Christus te verdring en hulle in bygeloof te laat verval.

In Christus is hulle immers dood vir die invloed van die magte van hierdie wêreld (2:20).  En hierdie selfgemaakte leerstellings maak geen bydrae tot ‘n mens se verlossing nie (2:23).  Selfs nie die besnydenis is meer ‘n onderskeidingsteken van die Christen se geloof nie, net die werklikheid van Christus in elkeen se lewe (3:10).  Daarom maak Paulus beswaar teen enige vermenging van die geloof in Christus met selfgemaakte leerstellings, veral wanneer dit nog met jou saligheid verbind word.

Paulus help dus die gemeente en sy leiers om vir dié idees en praktyke te kan nee sê, voor dit te veel aanhangers in die gemeente sou hê.  Die brief is dus eintlik een van die vroegste Christelike Apologieë, wat die Christelike godsdiens teenoor leë filosofiese teorieë en vreemde gebruike verdedig.

Paulus wil daarteenoor sterk beklemtoon dat dit in die Christelike geloof net om Christus gaan, iets wat hy ook sterk beklemtoon het in sy brief aan Filippi (Fil 3:1 vv).  Dit is waarom hy in die eerste hoofstuk soveel klem lê op die voorrang van die Seun, nie net in betrekking tot die aarde nie, maar ook met betrekking tot die hemel (Kol 1:15-20).  Die enigste manier om te leef, is om vanuit ‘n verhouding met Christus te leef en Hom toe te laat om alle verhoudinge waarbinne jy leef, te beïnvloed (Kol 3 vv).  Dit het ‘n invloed op jou eie menswees (3:5-17), op jou verhoudings in die huweliks- en gesinslewe, op jou verhoudings in die werksplek (3:18-4:1), sowel as op jou verhouding met mense wat nog buite die geloof staan (4:5).

Dit is ook interessant dat die brief van Kolossense sterk inhoudelike ooreenkomste het met die brief van Efesiërs.  Beide gemeentes se geloof en liefde word vermeld (Kol 1:4,8 – Ef 1:15), Paulus bid vir hulle vir nog dieper geestelike insig (Kol 1:9-10 – Ef 1:17 – vgl Fil 1:9-10), Jesus word as Hoof van die kerk beskryf (Kol 1:18,24 – Ef 1:22-23) sowel as oor die magte (Kol 1:16-17 – Ef 1:21), en hulle word tot ‘n heilige lewe opgeroep (Kol 3:1-17 – Ef 4:17-5:13).  Dit wil voorkom asof Efesiërs verder uitbrei op temas wat in Kolossense aangeraak is, wat geleerdes Kolossense voor Efesiërs plaas (Lincoln), maar daar is nie genoeg bewyse na watter kant toe ook al nie.

Kolossense 3:1-4:1 – Leef as nuwe mense
Paulus maak nou ‘n laaste fundamentele uitspraak oor hulle verbintenis met Christus Jesus voor hy drie van die implikasies daarvan uitspel vir :  1) hulle gedagtes oor hulleself, 2) hulle lewenstyl en gedrag, en 3) al die verhoudings waarin hulle is.

Rig julle gedagtes op die dinge daarbo – 3:1-4
Dit is uiters belangrik om oor jouself vanuit jou verbintenis met Christus Jesus te dink.  Want dit beïnvloed alles.  Vir Paulus is die opstanding nie iets wat net met Christus gebeur het nie.  Dit is iets wat ook met ons gebeur, die oomblik as ons in Hom glo.  Ons status verander.  Ons is in Christus nie meer dood in ons sonde nie, maar opgewek in ‘n nuwe lewe.  Trouens, ons lewe is verborge in God.  En daarom is ons toekoms verseker.  Saam met Christus sal hierdie status aan die einde van die tyd vir almal bekend word, wanneer Christus weer verskyn.

Daarom moet ons ons gedagtes rig op die dinge daarbo.  Paulus bedoel natuurlik nie dat ons net oor die hemel moet dink, en glad nie oor die aarde nie.    Dit spel hy juis in die volgende deel uit.  Die dinge van die aarde is dinge soos onsedelikheid, slegte begeertes en gierigheid.  Dit moet nie deel van ons denke wees nie.  Die dinge daarbo is dinge soos meelewendheid, goedgesindheid en verdraagsaamheid.  Dit moet ons denke volmaak.

Leef as nuwe mense – 3:5-17
Dit is ongelooflik hoe elke woord wat Paulus hier skryf van betekenis is.  ‘n Mens kan uitvoerig uitwy oor hoe Paulus die ou lewe beskrywe wat afgelê moet word (3:5-11 – 2 groepe van 5 sondes elk word genoem) en hoe hy dan beskrywe hoe die nuwe lewe geleef moet word (3:12-17 – 15 deugdes of karaktertrekke word genoem).  Eintlik kan ‘n mens ‘n paar maande hieroor nadink, en daar sal elke dag nog dinge wees wat vir jou nuut oopgaan!  Tyd en ruimte ontbreek my egter.  Daarom maak ek net ‘n paar opmerkings hieroor:

  • Ons het ‘n prentjie nodig van die tipe mens wat God wil hê dat ons moet wees.  En die prentjie wat Paulus hier kies, is dat ons vernuwe moet word na die beeld van ons Skepper.  Dit beteken dat ons moet groei tot die volle kennis van God, want Hy is ons Skepper.
  • Dit is waarom dit so onsinnig is om klem te lê op jou afkoms (Griek of Jood), jou vorige godsdiens (besny of nie besny nie), jou taal of jou kultuur (onbeskaaf) of jou klas (slaaf of vry).  Daar is net een ding wat belangrik is, en dit is of jy in Christus glo of nie, en of Hy in jou lewe of nie.
  • En belangrik: die prentjie wat Paulus skilder van die beeld van ons Skepper is nie sy Almag, of Alomteenwoordigheid, of sy Skeppingsmag nie … maar sy karakter.  En dit is wat in ons moet groei: meelewendheid, goedgesindheid, nederigheid, sagmoedigheid en verdraagsaamheid.  Dit is hoe God is.  Dit is hoe ons moet wees.
  • Dit is waarom ons met mekaar geduldig moet wees, en mekaar moet vergewe … want dit gebeur nie oornag nie!  Ons moet bo alles mekaar liefhê, sodat ons nie deur onderlinge verskille uitmekaar gedryf word nie, veral nie verskille soos afkoms, taal, kultuur of klas nie.  Selfs nie ons verskille in die wyse waarop ons die karaktertrekke van die nuwe lewe al vertoon of nie, moet ons verlei om onderskeid te maak tussen gelowiges nie.
  • Let op hoe Paulus sê dat die vrede wat Christus gee die deurslag in ons lewe moet gee.  Dit moet letterlik skeidsregter speel tussen verskillende opsies.
  • En ek kan nie nalaat om ook op die koop toe klem te lê op Paulus se aandrang dat die boodskap van Christus in sy volle rykdom in ons moet bly nie.  Ons moet mekaar daarin onderrig en sorg dra dat almal van ons tot die volle kennis van God groei.
  • En dan is daar nog die dankbaarheid waarvan ons moet sing … op allerhande maniere …

Leef in verhoudings soos die Here verlang – 3:18-4:1
Let op hoe Paulus drie tipe verhoudings beskryf: huweliksverhoudings, gesinsverhoudings en arbeidsverhoudings.  Dit word deur geleerdes ‘n “huistafel” genoem, omdat al drie verhoudings tipies in ‘n huishouding voorgekom het.

Dit is belangrik om die vorige twee perikope se boodskap in berekening te bring in wat Paulus hier oor die drie verhoudings sê.  Die verbintenis met Christus Jesus (3:1-4) en die karakter van God (3:5-17) moet die vertrekpunt vorm vir die wyse waarop in elkeen van hierdie verhoudings opgetree word.  Dit wil sê, die spesifieke opdragte wat hy aan die onderskeie persone in die verhoudings gee, moet verstaan word in die lig van Jesus se Heerskappy en die karakter van God wat in ons gevorm moet word.

Dit beteken onder andere dat ‘n mens versigtig moet wees om die opdrag aan bv die vroue, kinders en slawe as ‘n billike en regverdige verwagting van die mans, ouers en eienaars te verstaan.  Dit sou tot misbruik aanleiding kon gee deur mans, ouers en eienaars, veral as dit onafhanklik van hulle eie opdrag tot liefhê, genaakbaarheid, en regverdige, billike gedrag hanteer word.  Dieselfde geld die opdragte aan die mans, ouers en eienaars.  Die gebreke van mans, ouers en eienaars kan baie maklik as beskuldigings teen hulle gebruik word, sonder om ag te slaan op die vroue, kinders en slawe se eie optrede.

Die opdrag tot onderdanigheid (wat natuurlik wedersyds is – in Ef 5:21 brei Paulus hierop uit om enige misverstand in hierdie brief aan Kolossense te voorkom), liefhê, gehoorsaamheid, die vermyding van foutvinderigheid, opregtheid, en reg en billikheid moet dus eerder op ‘n positiewe wyse  aangegryp word om daardeur die karakter van God aan ander ten toon te stel.  Dit sal ons almal motiveer en aanmoedig om te leef as nuwe mense.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 390 “Ons kniel hier aan U voete neer 1,2,3,4”

Aanvangswoord: (Uit  Ps 118)

Seëngroet  

Lied 168 “Heilige Jesus, Heer v/d Here vs 1,2,3”

Die opstanding

Lees Matteus 28:1-10 (of gebruik ‘n lidmaat vir die voorlesing)

Liedere
Lied 409 “Hoor jy die Paasfeesklokke vs 1,2,3”
Lied 411 “Kom almal laat jul stem verrys vs 1,2,3″

Doopherinnering
Doopritueel

Sang: Liedd 290 “Dit is my troos dat ek gedoop is vs 1,3”

Apostoliese Geloofsbelydenis

Loflied 414 “Juig verlostes, juig en sing vs 1,2”

Epiklese

Skriflesing: Kolossense 3:1-14

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 417 “Jesus ons eer U (opgestane Heer) vs 1,2”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 390 “Ons kniel hier aan U voete neer 1,2,3,4”

Aanvangswoord: (Uit  Ps 118)
V: Die Heer het opgestaan
G: Die Heer het waarlik opgestaan

V: Die Heer het opgestaan
G: Die Heer het waarlik opgestaan

V: Die Heer het opgestaan
G: Die Heer het waarlik opgestaan

V: 22Die klip wat deur die bouers
afgekeur is,
juis hy het die belangrikste klip
in die gebou geword.
23Dit is deur die Here gedoen
en is ’n wonder in ons oë!
24Dit is die dag
wat die Here gemaak het;
laat ons daaroor juig en bly wees.

Seëngroet  
Genade en vrede van die God,
die Vader wat sy Seun na die wêreld toe gestuur het,
Jesus Christus die Gekruisigde
en die Heilige Gees wat ons aan Christus verbind

Lied 168 “Heilige Jesus, Heer v/d Here vs 1,2,3”

Die opstanding
Lees Matteus 28:1-10 (of gebruik ‘n lidmaat vir die voorlesing)

Jesus het opgestaan
(Mark 16:1–8; Luk 24:1–12; Joh 20:1–8)
28 Na die sabbatdag, toe dit die Sondagmôre begin lig word, het Maria Magdalena en die ander Maria na die graf gaan kyk.

2Skielik was daar ’n geweldige aardbewing. ’n Engel van die Here het van die hemel af gekom, na die graf toe gegaan, die klip weggerol en daarop gaan sit. 3Sy voorkoms was so blink soos weerlig en sy klere so wit soos sneeu. 4Van skrik vir hom het die wagte gebewe en soos dooies geword.

5Toe sê die engel vir die vroue: “Julle moet nie bang wees nie. Ek weet julle soek Jesus wat gekruisig is. 6Hy is nie hier nie, want Hy is uit die dood opgewek, soos Hy gesê het. Kom nader en kyk: daar is die plek waar Hy gelê het. 7Gaan gou en sê vir sy dissipels: ‘Hy is uit die dood opgewek, en Hy gaan julle vooruit na Galilea toe. Daar sal julle Hom sien.’ Dit is wat ek vir julle moes sê.”

8Hulle het toe haastig van die graf af weggegaan, bang maar baie bly, en hulle het gehardloop om dit aan die dissipels te vertel.

9Skielik het Jesus daar voor die vroue gestaan en hulle gegroet. Hulle het nader gekom, sy voete gegryp en Hom aanbid. 10Toe sê Jesus vir hulle: “Moenie bang wees nie. Gaan sê vir my broers hulle moet na Galilea toe gaan, en daar sal hulle My sien.”

Liedere
Lied 409 “Hoor jy die Paasfeesklokke vs 1,2,3”
Lied 411 “Kom almal laat jul stem verrys vs 1,2,3”

Doopherinnering
Voorganger: Glo jy in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde?
Gemeente: Ja, ek glo.

Voorganger: Weet dan dat die Vader ’n ewige genadeverbond met ons sluit
en dat Hy ons tot sy kinders en erfgename aanneem.

Voorganger: Glo jy in Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, ons Here?
Gemeente: Ja, ek glo.

Voorganger: Weet dan dat Jesus Christus vir ons gesterf het en dat Hy ons in die gemeenskap van sy dood en sy opstanding ingelyf het.

Voorganger Glo jy in die Heilige Gees?
Gemeente: Ja, ek glo.

Voorganger: Weet dan dat die Heilige Gees in ons woon en ons tot ledemate
van Christus se liggaam heilig.

Voorganger: Onderneem jy om jou heelhartig toe te lê op die leer van die apostels, die onderlinge verbondenheid, die gemeenskaplike maaltyd en die gebede?
Gemeente: Ek sal, met die Here se hulp.

Voorganger: Onderneem jy om die bose te weerstaan en, wanneer jy sondig, dit te bely en terug te keer na die Here?
Gemeente: Ek sal, met die Here se hulp.

Voorganger: Onderneem jy om deur woord en voorbeeld die Goeie Nuus van Jesus Christus met ander te deel?
Gemeente: Ek sal, met die Here se hulp.

Voorganger: Onderneem jy om die Here jou God lief te hê met jou hele hart, met jou hele siel,
met jou hele verstand en met al jou krag, en jou naaste soos jouself?
Gemeente: Ek sal, met die Here se hulp.

Voorganger: Onderneem jy om geregtigheid en vrede onder alle mense en volke na te jaag en die menswaardigheid van elke mens te respekteer?
Gemeente: Ek sal, met die Here se hulp.

Voorganger: Mag God, die Almagtige Vader van ons Here Jesus Christus, wat aan ons die nuwe geboorte deur water en Gees gegee het, en aan ons vergifnis van sonde geskenk het, ons ook liefde, vrede en vreugde skenk sodat ons die ewige lewe reeds nou kan beleef, in Christus Jesus ons Here. Amen.

Doopritueel
Reël vooraf dat enkele lidmate rondom die doopvont die water in die doopvont met hulle hande hanteer ten aanskoue van die gemeente.

Sang: Lied 290 “Dit is my troos dat ek gedoop is vs 1,3”

Apostoliese Geloofsbelydenis
Ek glo in God die Vader, die Almagtige,
die Skepper van die hemel en die aarde.
En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
wat ontvang is van die Heilige Gees,
gebore is uit die maagd Maria;
wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is,
gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
wat opgevaar het na die hemel
en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,
van waar Hy sal kom om te oordeel
dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.
Ek glo in die Heilige Gees.
Ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk,
die gemeenskap van die heiliges;
die vergewing van sondes;
die opstanding van die vlees
en ’n ewige lewe.

Loflied 414 “Juig verlostes, juig en sing vs 1,2”

Liedere

Flam 237. “Hy leef”
(RUBRIEK:  Flammikidz – Opstanding)
Teks en Musiek: Willie Pretorius
© MAR Gospel Music Publishers

Hy leef,  Hy leef
Die graf het oopgegaan
Hy leef,  Hy leef
Hy leef,  Hy’t opgestaan
Hy leef,  Hy leef
Dit maak my hart so bly
Jesus leef in my
Halleluja!  Halleluja!
Jesus leef in my.
Halleluja!  Halleluja!
Jesus leef in my.

VONKK 75 “Halleluja! Die Heer Het Opgestaan!”

1.  Halleluja! Die Heer het opgestaan!
Leeg is die graf, die dood is nou verslaan.
Ons prys sy Naam, ‘n nuwe dag breek aan.
Halleluja! Halleluja!

2.  Halleluja! Die Heer voer heerskappy!
Daar aan die kruis moes Hy ons doodstryd stry.
Maar kyk, Hy leef! Verlossing is verkry!
Halleluja! Halleluja!

3.  Halleluja! Ons vier met blydskap fees!
Dood is die dood, ons hoef nie meer te vrees.
Hy laat ons leef, in Hom oorwinnaars wees.
Halleluja! Halleluja!

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Lewende Here,
u Gees het in die begin oor die waters gesweef en lewe gespreek.
U Gees het op apostels en profete gerus sodat hulle lewe kon spreek.
U Gees laat die Woord mens word en onder ons woon.
U Gees wek Christus uit die dood op.
U Gees gaan uit van die Vader en die Seun en bring ons in gemeenskap met U en met mekaar.
U Gees laat ons bely: “Jesus is die Here!”
Amen.

Skriflesing: Kolossense 3:1-14

Familie-oomblik

’n Skooljuffrou het aan haar klassie gestremde kinders ’n taak gegee vir die volgende dag. Elkeen moes ’n item saambring wat “lewe” simboliseer…

Die volgende dag kry elkeen toe ’n geleentheid om sy of haar voorbeeld van lewe te verduidelik.

Ellie het by die skool aangekom met ’n pragtige blom wat sy uit haar Ma se tuin gepluk het- “blomme is lewe juffrou!”- roep sy uit.

Nico op sy beurt verduidelik (met ’n foto) hoedat sy dragtige worshondjie binnekort 3 klein hondjies in die lewe gaan bring. Die worshondjie se magie is groot geswel van die klein hondjies wat amper daar is. Die hondjies is vir hom ‘n voorbeeld van lewe.

Stian stap skaam skaam vorentoe en illustreer sy voorbeeld van lewe- ’n dosie vuurhoutjies.

Versigtig wil die juffrou by hom weet hoe die vuurhoutjies dan lewe kan beteken…

Stian skuif die dosie oop dat almal kan sien dis leeg, daar is nie eers een vuurhoutjie in nie. Ewe selfversekerd verduidelik hy: Die vuurhoutjiedosie is leeg juffrou, en so was die graf van Jesus. En dit beteken lewe!

Vertel die verhaal van die opstanding ahv Die Nuwe Testament vir Kinders deur Stephan Joubert, Jan van der Watt en Hennie Stander, 1999.

Jesus Staan op en Verskyn aan sy Volgelinge
20     1–10 Dit was nog skemer, die Sondagmôre, toe Maria Magdalena al by die graf kom. Sy sien toe dat die groot klip voor die graf weggerol is. Sy hardloop na Simon Petrus en die ander vriend waarvan Jesus baie gehou het toe. “Die Here is nie meer in die graf nie. Hy’s weg,” sê sy. “En ek weet nie waarheen hulle Hom gevat het nie.”

Petrus hardloop toe saam met die ander vriend na die graf toe. Die vriend was vinniger as Petrus en was eerste by die graf. Hy loer by die graf in en sien die lappe eenkant lê. Petrus storm toe sommer in die graf in. (Die graf was soos ’n kamer.) Hy sien die lappe daar lê. Die spesiale doek wat oor Jesus se gesig was, was mooi opgevou daar eenkant. Die vriend het toe ook in die graf ingegaan. Hy het weer na die lappe gekyk en in alles geglo wat Jesus gesê het. Hulle het voorheen nie geweet wat die Bybel bedoel dat Jesus moes sterf en weer uit die dood moes opstaan nie. Nou het hulle geweet. Hulle is terug huis toe.

11–18 Maria het by die graf gebly. Sy was hartseer. Sy loer toe by die graf in. Daar het twee hemelse wesens op die plek gesit waar Jesus se liggaam gelê het. Die een het gesit waar sy voete was en die ander by sy kop. Hulle klere het geblink. “Hoekom huil jy so?” vra hulle haar.

“Hulle het my Here se liggaam weggevat. Ek weet nie waar Hy is nie,” sê Maria. Sy kyk toe om. Daar staan Iemand. Dit was Jesus. Sy het Hom nie herken nie.

“Hoekom huil jy?” vra Jesus. “Wie soek jy?” Maria het gedink dit is die tuinier. “Asseblief, as jy die liggaam gevat het, sê my waar dit nou is. Ek sal dit versorg.”

“Maria!” sê Jesus. Sy draai vinnig om en sê: “Rabbi.” In Hebreeus* beteken dit “onderwyser.”

“Moenie nou aan My vat nie,” sê Jesus. “Ek is nog op pad na my Vader toe. Gaan na my broers toe en sê vir hulle: “Ek gaan na my Vader toe en na julle Vader toe; na my God en na julle God toe.”

Maria Magdalena gaan toe na Jesus se vriende toe. “Ek het die Here lewendig gesien,” roep sy uit. Sy vertel hulle toe alles wat Jesus vir haar gesê het.

Preekriglyn

‘n Ryk jong man het ‘n peperduur Ferrari gekoop. Hy gaan ry toe ‘n draaitjie daarmee en stop by ‘n rooi robot. ‘n Ou man op ‘n bromponie hou langs hom stil, kyk na die rooi vuurwa en vra: “Wat se kar is dié ou maat?”

“Hierdie is ‘n Ferrari, dit kos ‘n paar miljoen rand.”

“Dis baie geld,” sê die ou man, “waarom kos dit so baie?”

“Want hierdie kar kan ‘n paar honderd kilometer per uur ry,” sê die trotse jong man.

Die ou man leun oor en vra om bietjie in die kar rond te kyk. “Dis ‘n pragtige kar,” sê hy.

Die volgende oomblik word die robot groen. Die jong man besluit om die ou man te wys hoe vinnig die vuurwa kan wegtrek. Hy trap die petrol plat en vlieg weg.

Teen 200 km per uur sien hy skielik ‘n kolletjie in sy truspieëltjie verskyn. Die kolletjie haal hom in! Skielik – woosh! – skiet ‘n bromponie by hom verby. “Hoe kan ‘n bromponie vinniger as ‘n Ferrari wees,” dink hy, terwyl die kolletjie skielik omdraai en – whoosh – in die teenoorgestelde rigting by hom verbyskiet. Hierdie keer sien hy duidelik dis dieselfde ou man van net-nou, steeds op sy bromponie.

Nou slaan hy brieke aan. Die volgende oomblik jaag die ou man met sy bromponie agter in die Ferrari vas. Die jong man spring uit en kry die ou man verdwaas en verflenter op die sypaadjie lê. “Oom, wat gaan aan, hoe kan ek help?”

Die ou man fluister: “Haak net my kruisbande van jou syspieëltjie af, asseblief.”

Hierdie storie het ‘n les. Dit is: Pasop waarna jy kyk. Pasop wat jy bewonder. Maak nie saak hou oud jy is nie. Pasop wat jou gedagtes vul.

Fokus op Christus

Ons teks nooi ons uit om ons lewe en ons gedagtes op Christus te fokus. Ons word genooi om ons hele lewe hier op aarde te herbedink in terme van die werklikheid van die opgestane Christus, in wie ons lewe het, wat nou aan die regterhand van God sit.

Ons teks beklemtoon drie dinge:

  • Christus se mense het reeds saam met Jesus uit die dood opgestaan: ons het met Christus gesterwe, en nou is ons lewe in die lewende Christus verborge by God
  • Christus se mense word opgeroep om hulle gedagtes op Hom te rig, sodat hulle uit die werklikheid van Christus sal lewe
  • Christus se mense moet aktief soek en strewe om ons gedagtes vanuit Christus te rig, want die belangrikste feit in hemel en op aarde is dat ons die nuwe lewe in Christus het, wat oor hemel en aarde regeer vanaf die regterhand van die Vader.

Mens moet versigtig wees wat jy bewonder. Jy kan jou gedagtes rig op dinge wat verbygaande is, wat geen heil inhou nie, wat aanspraak maak dat dit jou lewenskwaliteit verhoog, maar eintlik leeg is. Die ware lewe is om vanuit die werklikheid van Christus, die Koning, te lewe.

Dit gaan oor die aarde

Om ons gedagtes te rig op die dinge daarbo, nie die dinge op aarde nie, beteken nie dat gelowiges niks met die aarde te doen het nie. Die teendeel is waar. Hierdie verse gaan oor die lewe wat ons nou, hier op God se goeie aarde lei. In teenstelling met Plato se filosofie wat die aardse en materiële geminag het, is Christene se hemelse gesindheid baie aards!

In die res van Kolossense word dit duidelik dat ons tussen ander lewe, in gesinne, in huwelike en in arbeidsverhoudings. Dis op hierdie plekke waar ons moet leer lewe ooreenkomstig die hemelse werklikheid van Christus.

Die Bybel is teen ‘n lewe wat aardse dinge bewonder asof dit vir ons die geluk, vrede en lewenskoers kan gee wat net die hemelse werklikheid van Christus eintlik vir ons kan gee. “Aardse denke” is om dinge van die aarde tot die status van gode te verhef. Dit maak van die aarde iets anders as wat dit bedoel is om te wees. Mens leef reg op aarde, as jy vanuit Christus optree, dink, voel en wil.

Dirkie Smit stel dit so: “Dit gaan om die gerigtheid van die menslike wil en strewes, om motivering en oriëntasie.” As ons die hemelse denkraamwerk in berekening bring, bepaal dit ons gedrag: “Die Christen moet – by wyse van spreke – ‘n draai in die hemel gaan maak ten einde terug te kom en nuut hier te kan lewe.”

‘n Nuwe status as geskenk

In Christus het Christene ‘n nuwe status. Ons het gesterf. Ons het opgestaan. Ons lewe is veilig in God se hand. Ons kon geen bydrae lewer nie. Ons kon nie betaal nie. Dis ‘n geskenk wat ons deur die geloof ontvang het. Paulus skryf: “Dit het by die doop gebeur deurdat julle toe saam met Hom begrawe is. Deur julle verbondenheid met Hom is julle ook saam met Hom opgewek, omdat julle geglo het in die krag van God wat Hom uit die dood opgewek het” (2:12).

Wat met Christus gebeur het, het met ons gebeur! Ons grawe nie in onsself om sekerheid hieroor te kry nie. Ons lewe is herdefinieer deur wat God gedoen het. Dis klaar. Dis afgehandel. Wat ons ons ook al kan voorstel, word in hierdie woorde saamgevat: Christus is ons lewe. Hy is die Heer oor alle magte en gesag (Kol 1:15-20; 2:6, 10). Ons ontvang die lewe deur Hom – die ewige lewe.

Christus is ons lewe. Ons lewe is saam met Christus verborge in God! Christus is ons lewe. Dit kan nie weggeneem word of beskadig word nie. Dit staan vas. Christus is ons lewe. Dis die feit van ons lewe. God ken hierdie feite. Christus is ons lewe. Ons lewensoriëntasie het verander deur Hom. Hy is die sentrum, die fokuspunt vir ons lewe. Christus is ons lewe.

As Christus ons lewe is, as ons lewe saam met Christus in God verborge is, weet God baie meer van ons lewe as wat hier op aarde gesien kan word. Wat werklik tel is nie wat ons reputasie was toe ons geleef het en hoe belangrik ons was nie. Christus is ons lewe. Wat werklik tel is nie watter goeie herinnering mense van ons sal hê nie, maar wat God in die openbaar oor ons sal sê wanneer Christus aan die einde in heerlikheid verskyn. Omdat Christus ons lewe is, omdat ons identiteit bepaal word deur ons verbondenheid met die een wat gesterf en opgestaan het, is ons vry van die verlede en het ons ‘n nuwe lewe ontvang. Christus is ons lewe.

Leef uit hierdie status

Dis waarvan Paulus praat as Hy ons motiveer om aktief te soek om hemels te dink. Christus is ons lewe. Hy het gesê wat ons alles ontvang het. Ons nuwe bestaan is “saam met Christus” – saam gesterf, saam opgestaan (verlede), saam verborge (hede) en saam in heerlikheid (toekoms). Nou moet ons aanhou, elke dag, om so te lewe – saam met Christus wat ons lewe is. Ons hele lewe moet ingestel wees op hierdie feit van ons bestaan.

Dit is wat die Heidelbergse Kategismus bekering noem – mortificatio (sterf) en vivificatio (opstaan/lewe). Dis ‘n voortdurende proses van lewe uit ons nuwe status in Christus Jesus.

In ‘n preek oor hierdie gedeelte skryf Dirkie Smit dat ons nou kan bekostig om ontspanne te lewe. Dit beteken egter nie dat ons net die vrede en vreugde van die verlossing ontvang en omhels nie. Hy skryf: “Dan kan ons dit bekostig om . . . die dinge te soek daarbo waar Christus is. Dan kan ons dit bekostig om onsself te verloor, prys te gee, te verloën in diens en oorgawe en liefde . . . sonder om regtig daarmee iets te verloor, want ons lewe is veilig verborge by God.” Dis wat ‘n hemelse gesindheid beteken. Dis hoe voortdurende sterwe en opstanding werk.

‘n Identiteit van elders

Ons lewe anders op aarde, omdat ons identiteit uit die hemel kom.

Ek het dit al baie in my bediening gesien hoe iemand wat sy of haar lewe lank ‘n sekere beroep beoefen het, nie hierdie identiteit verloor wanneer hy of sy ophou om die beroep te beoefen nie. Dit het deel van sy identiteit geword. ‘n Onderwyser bly ‘n onderwyser. ‘n Boer wat dorp toe trek, bly ‘n boer. Hy dink soos een, praat soos een, dra die plaas se belange op die hart, leer die beginsels vir sy kinders, sien altyd weer na kuier op die plaas uit.

Paulus sê: Omdat Christus ons lewe is, omdat ons deur die geloof met sy dood en opstanding verbind is, omdat ons lewe veilig in sy hande is, omdat ons gedagtes en gesindhede ‘n draai in die hemel gemaak het waar Christus die Heer aan die regterhand van God sit, praat ons soos Christus, leef ons soos Christus, dink ons soos Christus.

Dis wat volg in Kolossense 3 en 4. In Kolossense 3:5-8 lê ons die dinge af, maak ons die dinge dood, trek ons die klere uit van dit wat nie soos Christus lyk nie. In Kolossense 3:12-17 staan ons saam met Hom op, trek ons die klere aan van Jesus Christus. Ons doen dit in ons gesinne, huwelike, werksverhoudings (Kol 3:18-4:1).

Omdat ons ‘n draai in die hemel gemaak het, leef ons anders op aarde.

Paassondag

Dis vandag Paassondag.

Op Paassondag vier ons ons vryheid en nuwe status in Christus. Ons verlede is uitgewis en ons toekoms is seker. Ons sien uit na die dag wanneer Christus weer sal verskyn en dit duidelik sal word dat ons sy kinders is.

NT Wright skryf hieroor:
By Christus se verskyning sal dit duidelik word met hoeveel toewyding en volharding baie oënskynlik onsuksesvolle en vergete Christene hulle Here gedien het. Paulus, die gevangene, die eksentrieke Jood vir die Romeine, en die heidensgesinde verraaier vir die Jode, sal gesien word as Paulus die apostel, die getroue dienskneg van Jesus Christus. Die mense van Kolosse, onbelangrike oud-heidene uit ‘n derderangse plattelandse dorpie, sal in glorie verskyn vir almal om te sien. Dit is hoe al die onbelangrike en geminagte mense nou reeds hulle lewens moet sien. Op hierdie fondament moet hulle egte heiligheid en Christelike volwassenheid bou.

Daarom is daar blydskap en vreugde vandag. Daar is verwagting en hoop. Ons sal in sy heerlikheid deel. Met hierdie sekerheid, hoop en verwagting roep die Here ons terug na die lewe van elke dag om hier ‘n verskil te maak.

God stuur ons om te leef

Gebed
Genadige God, vergewe ons!
Skenk ons die vreugde, vryheid en vrede, ’n lewe in oorvloed, in u Seun, Jesus Christus, wat deur U uit die dood opgewek is. Amen.

Offergawes

Wegsending: Lied 417 “Jesus ons eer U (opgestane Heer) vs 1,2″

Seën
Voorganger: Die Here sal julle seën
en julle beskerm;
die Here sal tot julle redding verskyn
en julle genadig wees;
die Here sal julle gebede verhoor
en aan julle vrede gee!
Nou en altyd en tot in ewigheid.
Gemeente: Die genade van die Here Jesus
en die liefde van God die Vader
en die gemeenskap van die Heilige Gees
bly met ons almal.
Nou en altyd en tot in ewigheid.

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1.  Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2.  Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3.  U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.