Paasfees

Sections

Oorsig

Paasfees is die hoogtepunt van die Christelike kerkjaar aangesien dit die fees is waar die opstanding van Christus gevier word. Saam met Goeie Vrydag dien dit tot bevestiging van die trou van God waardeur Hy ons laat deel in die sterwe en opstanding van Christus en ons op dié manier insluit in sy voortgaande versoeningswerk.

In die vroeë kerk was dit by uitnemendheid die geleentheid waar die doop bedien is en waar die nuut gedoopte lidmate vir die eerste keer aan die nagmaal deelgeneem het. In die onderstaande liturgiese voorstel word albei hierdie momente ingesluit om ons verbondenheid met Christus te bevestig. Die simboliek van die opstanding as lig wat die duisternis verdryf, was ook van vroeg af deel van die feesviering en vind uitdrukking in die plegtige indra en aansteek van die Paaskers. Lidmate kry ook die geleentheid om klein kersies (tea candles) ná die doopviering by die Paaskers aan te steek en op ‘n tafel wat daarvoor gereed gemaak is, te plaas.

Die vreugde van Paasfees vra vir opgewekte musiek en sang en ‘n liturgiese ruimte wat oorvloedig met blomme versier word. Lidmate kan gevra word om blomme saam te bring na die erediens toe en dit voor in die liturgiese ruimte neer te lê. Die kleure vir Paasfees is wit en goud.

Ander tekste

Handelinge 10:34-43
Petrus se toespraak by Kornelius
34Toe het Petrus aan die woord gekom en gesê: “Waarlik, ek begryp nou eers dat God nie onderskeid maak nie, 35maar in enige volk die mense aanneem wat Hom vereer en doen wat reg is. 36Julle weet dat God aan Israel sy woord gestuur het, naamlik die evangelie van vrede wat Jesus Christus gebring het. Hierdie Jesus is Here van almal. 37Julle weet ook van die gebeurtenisse dwarsdeur die hele Joodse land. Dit het in Galilea begin ná die doop wat Johannes verkondig het. 38Julle weet van Jesus van Nasaret, dat God Hom met die Heilige Gees gesalf en met krag toegerus het. Hy het rondgegaan, oral goeie werke gedoen en almal gesond gemaak wat in die mag van die duiwel was, want God was by Hom.
39“En ons is getuies van alles wat Hy in die Joodse land en in Jerusalem gedoen het. Hulle het Hom doodgemaak deur Hom aan die kruis te hang. 40Maar God het Hom op die derde dag uit die dood opgewek en Hom laat verskyn, 41nie aan die hele volk nie, maar net aan ons vir wie God reeds gekies het om getuies daarvan te wees, ons wat ná sy opstanding uit die dood saam met Hom geëet en gedrink het. 42Hy het ons opdrag gegee om aan die volk te verkondig en te bevestig dat dit Hy is wat deur God aangestel is as Regter oor lewendes en dooies. 43Van Hom getuig al die profete dat elkeen wat in Hom glo, vergewing van sondes deur sy Naam ontvang.”

Psalm 118:1-2, 14-24
Die Here doen kragtige dade
118 Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie!
2Israel moet getuig:
“Aan sy liefde is daar geen einde nie.”
3Die huis van Aäron moet getuig:
“Aan sy liefde is daar geen einde nie.”
4Dié wat die Here dien, moet getuig:
“Aan sy liefde is daar geen einde nie.”
5In my nood het ek na die Here geroep,
die Here het my gebed verhoor
en my bevry.
6Die Here is by my,
ek ken geen vrees nie;
wat kan ’n mens aan my doen?
7Die Here is by my, Hy help my:
ek sal neerkyk op dié wat my haat.
8Om by die Here te skuil,
is beter as om op mense te vertrou.
9Om by die Here te skuil,
is beter as om op hoë mense te vertrou.
10Nasies het van alle kante af
op my afgestorm.
In die Naam van die Here
het ek hulle aanval afgeslaan.
11Hulle het my omsingel,
my van alle kante bestorm.
In die Naam van die Here
het ek hulle aanval afgeslaan.
12Hulle het soos bye om my gepak,
maar hulle het verdwyn
soos doringtakke in ’n vuur.
In die Naam van die Here
het ek hulle aanval afgeslaan.
13My vyande wou my platloop
en my ondergang bewerk,
maar die Here het my gehelp.
14Die Here is my krag en my beskerming.
Dit is Hy wat my gered het!
Hoor die gejuig
in die laer van die oorwinnaars:
“Die Here doen kragtige dade,
16die Here triomfeer,
die Here doen kragtige dade!”
17Ek sal nie sterwe nie, ek sal lewe
en van die dade van die Here getuig.
18Die Here het my swaar gekasty,
maar my nie aan die dood
oorgegee nie.
19Maak die tempelpoort vir my oop:
ek wil ingaan en die Here loof.
20Dit is die poort na die Here toe;
regverdiges mag daardeur ingaan.
21Ek wil U loof
omdat U my gebed verhoor
en my gered het.
22Die klip wat deur die bouers
afgekeur is,
juis hy het die belangrikste klip
in die gebou geword.
23Dit is deur die Here gedoen
en is ’n wonder in ons oë!
24Dit is die dag
wat die Here gemaak het;
laat ons daaroor juig en bly wees.
25Red tog, Here,
gee tog voorspoed, Here!
26Prys hom
wat in die Naam van die Here kom!
Ons seën julle uit die huis van die Here.
27Die Here is God;
Hy skenk ons die lewe.
Begin die fees! Wuif met takke!
Gaan tot by die horings van die altaar.
28U is my God, U wil ek loof;
my God, u grootheid wil ek besing.
29Loof die Here, want Hy is goed,
aan sy liefde is daar geen einde nie.

1 Korintiërs 15:19-26
19As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense.
20Maar nou, Christus is opgewek uit die dood, as eersteling uit dié wat gesterf het. 21Aangesien die dood deur ’n mens gekom het, het die opstanding van die dooies ook deur ’n mens gekom. 22Net soos almal deur hulle verbondenheid met Adam sterf, so sal almal in Christus lewend gemaak word. 23Maar daar is ’n volgorde: die eersteling is Christus, daarna, by Christus se koms, dié wat aan Hom behoort. 24Daarna kom die einde, wanneer Hy die koningskap aan God die Vader oordra, nadat Hy elke mag, elke gesag en krag vernietig het. 25Hy moet as koning heers totdat die Vader al sy vyande aan Hom onderwerp het. 26Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood.

Lukas 24:1-12
Jesus het opgestaan
(Matt 28:1–10; Mark 16:1–8; Joh 20:1–10)
24 Die Sondagmôre baie vroeg het die vroue na die graf toe gegaan met die reukolie wat hulle reggemaak het. 2Daar kry hulle die klip weggerol van die ingang van die graf af; 3en toe hulle ingaan, het hulle nie die liggaam van die Here Jesus gekry nie. 4Hulle het nie geweet wat om daarvan te dink nie. Meteens staan daar by hulle twee manne met blink klere aan. 5Die vroue het groot geskrik en met hulle gesig na die grond toe gebuig. Toe sê die manne vir hulle: “Waarom soek julle die Lewende by die dooies? 6Hy is nie hier nie. Hy is uit die dood opgewek. Onthou hoe Hy met julle gepraat het toe Hy nog in Galilea was 7en gesê het: Die Seun van die mens moet uitgelewer word in die hande van sondige mense, gekruisig word, en op die derde dag opstaan.”
8Toe het hulle sy woorde onthou 9en van die graf af teruggegaan en al hierdie dinge vir die elf en al die ander vertel. 10Die vroue was Maria Magdalena en Johanna en Maria die ma van Jakobus. Ook die ander vroue saam met hulle het dieselfde dinge aan die apostels vertel. 11Maar vir hulle het hierdie verhaal na onsin gelyk en hulle het die vroue nie geglo nie.
12Petrus het egter opgespring en na die graf toe gehardloop. Toe hy daar vooroor buk, sien hy net die doeke. Vol verwondering oor wat gebeur het, is hy terug huis toe.

Fokusteks

Johannes 20:1-18
Die leë graf
(Matt 28:1–8; Mark 16:1–8; Luk 24:1–12)
20 Die Sondagmôre vroeg, toe dit nog donker was, kom Maria Magdalena by die graf en sien dat die klip van die graf af weggerol is. 2Sy hardloop toe en gaan na Simon Petrus en na die ander dissipel toe vir wie Jesus baie lief was, en sê vir hulle: “Hulle het die Here uit die graf weggevat, en ons weet nie waar hulle Hom nou begrawe het nie.”
3Petrus en die ander dissipel het toe uitgekom en na die graf toe gegaan. 4Die twee het saam begin hardloop, maar die ander dissipel het vinniger as Petrus gehardloop en eerste by die graf gekom. 5Toe hy vooroor buk, sien hy die doeke lê, maar hy het nie ingegaan nie. 6Ná hom het Simon Petrus ook daar aangekom, en hy het in die graf ingegaan. Hy sien toe die doeke daar lê, 7ook die doek wat om Jesus se kop was. Dié doek het nie by die ander doeke gelê nie, maar was eenkant afsonderlik opgerol. 8Daarna het die ander dissipel, wat eerste by die graf gekom het, ook ingegaan, en hy het dit ook gesien en geglo.
9Hulle het nog nie die Skrif verstaan dat Jesus uit die dood moet opstaan nie.
10Daarna het die dissipels weer huis toe gegaan.
Jesus verskyn aan Maria Magdalena

(Matt 28:9–10; Mark 16:9–11)
11Maar Maria het buite by die graf bly staan en huil. Terwyl sy huil, het sy vooroor gebuk om in die graf in te kyk. 12Toe sien sy twee engele met wit klere aan daar sit waar die liggaam van Jesus gelê het, een waar die kop en een waar die voete was. 13Hulle vra toe vir haar: “Mevrou, waarom huil jy?”
Sy antwoord hulle: “Omdat hulle my Here weggevat het en ek nie weet waar hulle Hom nou begrawe het nie.”
14Nadat sy dit gesê het, het sy omgedraai en vir Jesus daar sien staan, maar sy het nie geweet dat dit Hy is nie. 15Jesus vra haar toe: “Mevrou, waarom huil jy? Vir wie soek jy?”
Sy het gedink dit is die tuinopsigter, en sy het vir hom gesê: “Meneer, as u Hom weggevat het, sê vir my waar u Hom begrawe het, en ek sal Hom daar gaan haal.”
16Jesus het vir haar gesê: “Maria!”
Sy draai na Hom toe en sê in Hebreeus vir Hom: “Rabboeni!” Dit beteken leermeester.
17Jesus sê toe vir haar: “Moet My nie vashou nie, want Ek het nog nie na die Vader toe opgevaar nie. Maar gaan na my broers toe en sê vir hulle: ‘Ek vaar op na my Vader toe, wat ook julle Vader is, na my God, wat ook julle God is.'”
18Maria Magdalena het toe vir die dissipels gaan sê: “Ek het die Here gesien!” En sy het ook vertel wat Hy vir haar gesê het.

Ekstra stof

Johannes vertel ons in hoofstuk 20-21 van vier verskynings van Jesus na die opstanding. Hy verskyn eerste aan Maria Magdalena, tweede aan die dissipels, derde aan Tomas wat nie by was met Jesus se tweede verskyning nie en laastens (hfst 21) aan die dissipels by die meer, waar Jesus spesifiek vir Petrus intrek en heraanstel in sy rol as herderleier (laat my skape wei).
Let op dat Johannes niks vertel van die opstandingsgebeure self nie, net van die leë graf en van Jesus se verskynings daarna aan hulle. Nie een van die ander evangelies sê vir ons meer oor die opstandingsgebeure as sodanig nie. Daar is ‘n bietjie meer getuienis oor die aardbewing wat die klip weg laat rol het, van die engele wat betrokke was, maar niks oor die opwekking as sodanig nie. Dit is ‘n daad van God wat wel duidelik is uit die feit dat hulle Jesus se verskynings hierna kan waarneem, maar deel van die misterie van die opstanding sal bly tot aan die einde van die tyd.

Die leë graf met die opgerolde grafdoeke is natuurlik belangrik omdat dit die werklikheid en historisiteit van die feit van die opstanding aandui. Maar dit is veral Jesus se verskynings na sy dood wat belangrik is, omdat dit die belofte en betekenis van die opstanding vir ons beklemtoon. Uit Johannes se beskrywing van die opgestane Jesus kan ‘n mens agterkom dat Jesus herkenbaar is, steeds kommunikeer soos ons dit doen, en ‘n fisiese/werklike (by gebrek aan ‘n beter woord) liggaam het, want ‘n mens kan aan hom vat, en hy gee vir hulle kos om te eet. Maar hy is ook anders, omdat hy kan verskyn en verdwyn soos Hy wil. Hy is dus nie aan ruimte gebonde soos die dissipels nie. En telkens verander Hy die lewe van dié aan wie Hy verskyn het.

Daarmee lewer Johannes getuienis af van die werklikheid van Jesus se opstanding uit die dode en van die wyse waarop Jesus se opstanding alles verander.

Hy troos bv. vir Maria Magdalena en verseker haar dat God daar is vir haar. Haar eerste gedagte toe sy die leë graf sien, was dat iemand Jesus se liggaam weggevat het. Dit is ook wat sy vir Petrus en Johannes gaan sê het en waarna hulle kom kyk het. Die leë graf kon ook net soveel sê, daarom sê Johannes dat hulle haar geglo het, maar nog nie verstaan het dat Hy opgestaan het nie.

Dit is egter eers wanneer Jesus aan Maria verskyn in die tuin en met haar praat en sy die werklikheid van sy teenwoordigheid ervaar, dat sy Hom kan herken en as Here kan vereer. Let op hoe dít is hoe sy Jesus aan die dissipels hierna gaan bekendstel: “Ek het die Here gesien!”

En dit is dieselfde vir die dissipels. Dit is eers wanneer Hy self aan hulle verskyn, dat die dissipels rus en vrede ervaar, en hulle vrees in blydskap kan verander. Netso Tomas. Jesus openbaar Homself aan Tomas sodat sy twyfel in geloof kan verander en Hy met oortuiging deel kan wees van die groeiende getuienis van sy opstanding.

En let op dat Jesus nie net vir hulle troos en versterk in hulle geloof nie. Nee, Hy stuur hulle ook, waarmee Hy hulle roeping bevestig om die wêreld met die boodskap van vergifnis in te gaan. En later doen Hy dieselfde met Petrus en gee Hom ‘n soortgelyke opdrag as wat Jesus self gehad het, om vir die skape weiding te gee. (Joh 10).

Daarmee bereik Johannes se evangelie dan ook sy hoogtepunt, want Hy skryf juis hierdie klompie verhale van Jesus se wondertekens, sy gesprekke, en sy verskynings om ons te oortuig dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat ons deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê (Joh 20:31). Jesus staan op om as die teenwoordige Here ons lewens betekenis te gee.

Liturgie

RUS

Toetrede: Lied 408 of Flam 17

Votum: (Responsories, uit “Handleiding vir die Erediens”)

Tussensang: Lied 402 of Flam 396 of VONKK 5 [baie bekende melodie – ode aan de freude]

Seëngroet: (Responsories uit “Gebedeboek met Liturgiese Voorstelle”)

Lofsang: Lied 414 of Flam 93 of VONKK 75

Diens van die Water: (geloofsbelydenis, toewyding, genadeverkondiging) (Responsories, uit “Handleiding vir die Erediens”)

Responslied: Lied 417 of Flam 135

HOOR

Gebed

Skriflesing: Johannes 20:1-18

Tussensang: Lied 420 of Flam 168

Familie-oomblik: Flam 237
Preek

LEEF

Gebed

Simboliese: Handeling

Dankoffer

Slotsang: Lied 421 of Flam 336 of VONKK 105

Seën: (Responsories uit “Handleiding vir die Erediens”)

Respons: Lied 206 Halleluja! Of enige van die “Halleluja’s” uit die liedere wat gesing is

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 408 “Dit is die dag, die Heer se dag!” Of
Flam 17 Dit Is Die Dag

Votum
(Uit “Handleiding vir die Erediens”)
Voorganger (V): Die Here het opgestaan!
Gemeente (G): Die Here het waarlik opgestaan!

V: Die Here het opgestaan!
G: Die Here het waarlik opgestaan!

V: Moenie skrik nie: julle soek Jesus van Nasaret. Waarom soek julle die Lewende by die dooies? Hy is uit die dood opgewek.
G: Die Here het opgestaan!

V: As Christus nie opgewek is nie, is ons prediking sonder inhoud en ons geloof ook sonder inhoud.
G: Die Here het opgestaan!

V: As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die mees bejammerenswaardige
van alle mense.
G: Die Here hét opgestaan!

V: Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning?
G: Die Here het opgestaan!

V: Die dood is vernietig. Die oorwinning is behaal. Die koningskap oor die wêreld behoort aan ons Here en aan sy Gesalfde en Hy sal as koning heers tot in alle ewigheid.
G: Die Here het opgestaan!

V: Hy moet as koning heers totdat die Vader al sy vyande aan Hom onderwerp het. Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood.
G: Die Here het opgestaan!

V: Hy wat op die troon sit, sê: “Kyk, Ek maak alles nuut! Ek is die Alfa en die Omega, die begin en die einde, die eerste en die laaste.”
G: Die Here het opgestaan!

V: Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam behoort die lof en die eer, die heerlikheid en die krag, tot in alle ewigheid!
G: Die Here het waarlik opgestaan!

Tussensang
Lied 402 “Die Heer het waarlik opgestaan”
Flam 396 Loof Die Here, (Want Hy is goed) (nav Ps 118)” of
VONKK 5 Vreugde! Vreugde! [baie bekende melodie – ode aan de freude]

Seëngroet: (Uit “Gebedeboek met Liturgiese Voorstelle”)
V: Jesus leef! En ons met hom! Genade vir julle en vrede van God die Vader…
G: Hy sorg vir ons!

V: … en van die Seun …
G: Hy het waarlik opgestaan!

V: … en van die Heilige Gees …
G: Hy leef in ons! Amen.

Lofsang
Lied 414 “Juig, verlostes, juig en sing” of
Flam 93 God Van Krag of
VONKK 75 Halleluja! Die Heer Het Opgestaan!

Diens van die Water (geloofsbelydenis, toewyding, genadeverkondiging
(Uit “Handleiding vir die Erediens”)
Voorganger (V): Glo jy in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde?
Gemeente (G): Ja, ek glo.

V: Weet dan dat die Vader ’n ewige genadeverbond met ons sluit en dat Hy ons tot sy kinders en erfgename aanneem.
(Oomblik van stilte) Glo jy in Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, ons Here?
G: Ja, ek glo.

V: Weet dan dat Jesus Christus vir ons gesterf het en dat Hy ons in die gemeenskap van sy dood en sy opstanding ingelyf het.
(Oomblik van stilte) Glo jy in die Heilige Gees?
G: Ja, ek glo.

V: Weet dan dat die Heilige Gees in ons woon en ons tot lidmate van Christus heilig.

Responslied
Lied 417 “Jesus, ons eer U”
Flam 135 Meer Soos U

Liedere

VONKK 105 “Ek Wil U Eer Met Duisend Stemme, Heer”
Teks: O for a thousand tongues to sing – Charles Wesley 1707-1788; Jacques Louw 2010 ©
Musiek: LYNGHAM – Thomas Jarman (1715-1781) Kantoryverwerking: Onbekend (Psalter Hymnal #404)
© Teks: 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) © Melodie: Openbare besit RUBRIEK: Klassiek – Lofprysing

1. Ek wil U eer met duisend stemme, Heer –
aan U my loflied bring,
aan U my loflied bring.
U wonderdade verstom my meer en meer.
U goedheid laat my sing.
U goedheid laat my sing.
U goedheid laat my sing.

2. Here, U leef! U’t waarlik opgestaan!
U heers oor graf en dood.
U heers oor graf en dood.
Elkeen wat glo, sal nooit verlore gaan.
U is ons krag en hoop.
U is ons krag en hoop.
U is ons krag en hoop.

3. Hoor, dowes, hoor; kom, stommes, bring Hom eer –
laat almal voor Hom buig.
laat almal voor Hom buig.
Hy kom in glorie op wolke eenmaal weer.
Laat ons van vreugde juig.
Laat ons van vreugde juig.
Laat ons van vreugde juig.

4. Vader ons loof, ons eer u Wondernaam
vir goedheid lewenslank,
vir goedheid lewenslank!
Ons eer u grootheid, ons prys U almal saam.
Aan U ons lof en dank!
Aan U ons lof en dank!
Aan U ons lof en dank!

VONKK 5 “Vreugde! Vreugde!”
Teks: JJH du Plessis 2007 (Pro Deo) Melodie: ODE AN DIE FREUDE (Koraal-simfonie Nr 9) – Ludwig van Beethoven 1824 (ritmies aangepas)
© Teks: 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) © Melodie: openbare besit RUBRIEK: Klassiek – Paasfees / Uitsending

1. Vreugde! Vreugde! Juig van vreugde,
want ons Heiland het verrys.
Tot die dood was Hy verneder,
uit die graf het Hy herrys.
Alle eer aan die Oorwinnaar!
Elke knie moet voor Hom buig.
“Jesus Christus is die Here!” –
elke tong moet dit getuig.

2. Jesus leef, Hy heers vir ewig,
heerlik is sy majesteit.
As gestuurde van die Vader
stuur Hy ons nou wêreldwyd.
Hy bring heling, skenk bevryding:
daarvan moet ons bly getuig.
Vreugde! Vreugde! Juig van vreugde
want ons Heiland het verrys.

F93. “God Van Krag”
(RUBRIEK: Flam – Geloof en vertroue) Teks en musiek: JA de Beer © 2005 Urial Publishing (Opgeneem op Uit dieptes)

God van krag
u stem kom skeur die hemel
soos weerlig in die nag.
U woorde vernietig elke twyfel
en vrees,
want U lewe. U lewe!

Ek sal sing al huil die stormwinde,
al dreun die vloed met mag.
Die Ewige vlam van hoop brand
diep in my, want U leef. U leef!
U lewe.

Meer as wat ek kan dink
of kan droom,
kan U waar maak in my lewe.
U regeer oor my donkerste nag.
Ek vertrou U, God van krag.
My God van krag,
my God van krag.
My God van krag.

F17.”Dit Is Die Dag”
(RUBRIEK: Flammikidz / Flam – Lof) Teks en musiek: Rhe Janse © 2005 MAR Gospel Music Publishers (Opgeneem op FLAM, vol 1)
(Ps 118:24)

Dit is die dag wat die Here gemaak het,
kom laat ons juig, laat ons bly wees daaroor.
Dit is die dag wat die Here gemaak het,
kom laat ons juig, laat ons bly wees daaroor.

Refrein:
Dit is die dag, (die dag) wat die Here gemaak het,
kom laat ons juig, (ja juig) laat ons bly wees daaroor.
Dit is die dag, (die dag) wat die Here gemaak het,
daarom sal ons juig en sing.

F396. Loof Die Here, (Want Hy is goed) (nav Ps 118)
(RUBRIEK: Flam – Geloof en Vertroue) Teks en musiek: Hannes Bosman
© Hannes Bosman geadministreer deur Flam Musiek-Uitgewers (Ps 118:1)

Loof die Here, want Hy is goed.
Want Hy is goed!
Loof die Here, want Hy is goed.
Want Hy is goed!

Want sy goedheid en sy trou
is tot in ewigheid.
Want Hy is goed (x3)

F336. “Wie Is Ek Dat U Aan My Gedink Het (My Verlosser Leef)”
(RUBRIEK: Flam – Nagmaal / Paasfees) Teks en musiek: Wian Vos Kopiereg: © 2009 Urial Publishing

Wie is ek dat U aan my gedink het aan die kruis
Wie is ek dat U aan my ook liefde wou bewys
Wie is ek dat U vir my ’n tuiste voorberei
Dis genade op genade, losgekoop en vry!

My Verlosser leef, my Verlosser leef
En Hy’t opgestaan, finaal oorwin
Die graf is leeg
My Verlosser leef, my Verlosser leef
En ek juig oor Hom, ek juig oor die Bruidegom

Hoe kan ek dan stilbly oor die grootste liefdesdaad?
Hoe kan ek dan swyg as die graf so duidelik praat?
Hoe kan ek nie sing as ek weet “dit is volbring”?
Dis genade op genade, losgekoop en vry!

Nou kan ek leef, deur u Gees
In die oorwinning van die opstanding leef

F135. “Meer Soos U”
(RUBRIEK: Flam – Gebed, Toewyding) Teks en musiek: Derek de Bruin © MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Aanbiddingsbelewenis met Moreletapark)

Refrein:
Meer soos U, meer soos U
Gees van God, werk in my,
meer soos U, meer soos U
neem U my hart en maak
my meer soos U.

Jesus ek kan leef omdat U lewe.
U alleen is Koning van my hart.
Lei my in u waarheid,
gee my vrede,
laat vaar tog nooit die werke
van u hand
en maak my …

Refrein:

F168. “As Ek Opstaan In Die Oggend (Hy Leef)”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Lof / Opstanding / Getuienis) Teks en musiek: Arno Mattheus © 2007 MAR Gospel Music Publishers

1. As ek opstaan in die oggend, en ek sien die son
elke môre vars genade uit Jesus se hand.
Dit maak nie saak nie, wat mense sê,
dit maak nie saak nie, wat mense dink:
Niks sal my stilmaak nie.
Niks sal my stilmaak nie.

Refrein:
Ek gaan sing, skree, spring en dans
ek gaan vertel dat Jesus my Redder is.
Ek gaan sing, skree, spring en dans.
Ek gaan seker maak dat die wêreld hoor:
Hy leef (Hy leef), Hy leef (Hy leef), Hy leef (Hy leef)!

2. Ek sal nie vrees nie; ek sal nie skuil nie,
want Jesus gee my krag.
Hy’s my redder en my leier, voluit sal ek Hom volg.
Dit maak nie saak nie, wat mense sê
dit maak nie saak nie, wat mense dink:
Niks sal my stilmaak nie.
Niks sal my stilmaak nie.

Refrein:

Outro:
Dit maak nie saak nie, wat mense sê.
Dit maak nie saak nie, wat mense dink.
Niks sal my stilmaak nie, want Jesus leef.

Hy leef! (Jesus leef.)
Hy leef! (Jesus leef.)
Jesus leef!

F237. “Hy leef”
(RUBRIEK: Flammikidz – Opstanding) Teks en musiek: Willie Pretorius © MAR Gospel Music Publishers

Hy leef, Hy leef,
die graf het oopgegaan.
Hy leef, Hy leef
Hy leef, Hy’t opgestaan.
Hy leef, Hy leef,
dit maak my hart so bly.
Jesus leef in my.

Halleluja! Halleluja!
Jesus leef in my.
Halleluja! Halleluja!
Jesus leef in my.

VONKK 75 “Halleluja! Die Heer Het Opgestaan!”
Teks: Jacques Louw 2008 © Muse: SINE NOMINE – Ralph Vaughan Williams 1906
© Teks: 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) © Melodie: Openbare besit RUBRIEK: Klassiek – Paasfees

1. Halleluja! Die Heer het opgestaan!
Leeg is die graf, die dood is nou verslaan.
Ons prys sy Naam, ‘n nuwe dag breek aan.
Halleluja! Halleluja!

2. Halleluja! Die Heer voer heerskappy!
Daar aan die kruis moes Hy ons doodstryd stry.
Maar kyk, Hy leef! Verlossing is verkry!
Halleluja! Halleluja!

3. Halleluja! Ons vier met blydskap fees!
Dood is die dood, ons hoef nie meer te vrees.
Hy laat ons leef, in Hom oorwinnaars wees.
Halleluja! Halleluja!

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Johannes 20:1-18

Tussensang
Lied 420 “Daar klink ‘n lied, daar juig ‘n stem” of
F168. As Ek Opstaan In Die Oggend (Hy Leef)

Familie-oomblik: Flam 237 Hy leef

Preek

Familie-oomblik

Vertel (lees dramaties) die storie van Jesus se opstanding! Kinders kan deelneem deur die gebeure op te over soos wat jy dit lees. Storypath.upsem.edu suggereer dat daar so baie emosie in hierdie verhaal is, dat dit die ideale Sondag is om met kinders empatie in te oefen. Laat hulle met elke beweging en karakter gesels oor wat daardie karakter voel.
Jy kan ook (weer?) die pragtige video van die Jesus Storybook Bible se vertelling van Johannes 20 wys: God’s Wonderful Surprise.

Dit is altyd ook ‘n goeie idee om die Paasfees-gebruike te verduidelik. Ons eet paaseiers, omdat eiers ‘n simbool is van nuwe lewe. Die eiers is hol, soos wat die graf leeg was. Die eiers is sjokolade, want dis heerlik en ons vier fees: Jesus leef!

Preekriglyn

Hidden first in a womb of flesh, he sanctified human birth by his own birth.
Hidden afterward in the womb of the earth, he gave life to the dead by his resurrection.
(Hesychius van Jerusalem, Paashomilie 5-6).

Op Paassondag móét ons die opstandingsverhaal lees en verkondig. Die omkeermoment van die Jesusverhaal het immers aangebreek: die diepte, verlatenheid en stilte van die dood is oorwin. Die kruisiging en sterwe van Jesus is nie die laaste hoofstuk van sy verhaal op aarde nie. Daar is wel ‘n weggerolde klip, ‘n leë graf en verskynings aan mense as bewys van lewe na die dood.

Op Paassondag trek ons ons feesklere aan en vier saam met gelowiges oor die wêreld heen dat ons Here Jesus leef. Ons vier dat Jesus se oorwinning oor die dood vir ons die lewe op ‘n radikaal nuwe manier moontlik maak; in die hede, in die toekoms, asook selfs na ons eie einde hier op aarde.

Op Paassondag onthou ons dat lyding en swaarkry, verontmensliking, rou, siekte, eensaamheid, verlange, wanhoop, sonde en die dood, ons tot in ewigheid nie sal kan afsny van God se liefde en sorg vir ons nie. Ons onthou dat die donkerste dieptes van dit wat ons lewe noem – dit wat soms soos hel kan voel – nooit die oorhand kan kry oor die genade en die werklikheid van Jesus se heerskappy nie; van hemel op aarde en hemel naas aarde.

Op Paassondag bely ons ons geloof “. . . in Jesus Christus, sy eniggebore Seun – ontvang van die Heilige Gees, gebore uit die maagd Maria, wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is, en ter helle neergedaal het; wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dood . . .”

Oor ons teks

Hoofstuk 20 van die Johannesevangelie bevat drie verhale in ‘n presiese kronologiese volgorde:

• 20:1-18 – Sondagoggend: die leë graf en Jesus se verskyning aan Maria Magdalena;
• 20:19-23 – Sondagaand: Jesus se verskyning aan die dissipels (Tomas afwesig);
• 20:24-31 – een week later: Jesus se verskyning aan Tomas en die dissipels.

Johannes 20:1-18, bestaan op sy beurt ook uit drie dele:

• vers 1-2 – inleiding;
• vers 3-10 – die leë graf; en
• vers 11-18 – Jesus se verskyning aan Maria Magdalena.

Verse 1-2: Ontsteltenis
Die eerste besoek aan Jesus se graf vind plaas op “die eerste dag van die week . . . terwyl dit nog donker was” (DV, 12:1), dus, die Sondagmôre. Die eerste dag is bereken vanaf sononder op die Saterdag, tot sononder op die Sondag.

Persone wat ‘n kruisdood gesterf het, is as kriminele hanteer. Daarom is begrafnisrituele en rou vir sulke persone verbied. In aangetekende gevalle is persone wat getreur het by die dood van ‘n gekruisigde, self ook gekruisig. Maria Magdalena onderneem hier dus ‘n lewensgevaarlike reis wanneer sy na die graf gaan. Dit is te verstane dat sy die donkerte verkies bo helder daglig.
In die Johannesevangelie besoek sy die graf op haar eie. Soos in 19:25 word Maria identifiseer aan die hand van haar geografiese herkoms, naamlik die dorp Magdala (meer letterlik: Maria, die Magdaleen). Dit dui daarop dat sy na alle waarskynlikheid geen man of familie gehad het nie. Sy woon dus sonder familielede tussen of saam met die groepe wat Jesus gevolg het.
Sy “sien dat die klip van die graf af weggerol is” (12:1, NAB) en haar ontsteltenis is so groot dat sy nie eers verder in die graf kyk nie. Die oop graf is vir haar ‘n teken dat die liggaam van Jesus nie meer daar is nie. Sy “hardloop” (12:2, DV, NAB) om hierdie nuus aan Simon Petrus en “die ander dissipel vir wie Jesus baie lief was oor te dra” (DV, NAB) (sien ook 13:23 en 18:15-16). Dit verklap die dringendheid van die situasie, en antisipeer ook die haas en dringendheid waarmee daar later na die graf teruggehardloop word (20:4).

“Hulle het die Here uit die graf weggevat . . .” (12:2, NAB), begin haar boodskap aan hulle. Haar woorde wek verwarring by die karakters sowel as die hoorders. Het onbekende persone eenvoudig die lyk verwyder, of het grafroof plaasgevind, soos wat algemeen was in daardie tyd? Die verwysing na Jesus met die eretitel “Here”, dui hier moontlik op die skrywer se poging om reeds, voordat dit aan die karakters bekend is, iets te laat blyk van sy nuwe status as die Opgestane Een.

Verse 3-10: Petrus en die geliefde dissipel
Maria se aankondiging rakende die leë graf lei die tweede toneel in (12:3). Haar verhaal is vir eers op die agtergrond, met dié van Simon Petrus en die geliefde dissipel wat voorkeur geniet. Die uitbeelding van die twee dissipels word in baie detail en byna komies vertel: hulle “het saam begin hardloop” (NAB, 12:4), maar die “ander dissipel” het spoed aan sy kant en kom eerste by die graf aan. Daar gekom, sien hy die doeke lê, maar huiwer om in te gaan (12:5). Simon Petrus bereik die graf wel ná hom, maar huiwer glad nie (12:6); so tipies aan die karakter van Simon Petrus in die Johannesevangelie!

Die kollig val in hierdie deel van die verhaal egter nie in die eerste plek op Simon Petrus en die “ander dissipel” nie, maar wel op die leë graf en die betekenis daarvan.
Beide Simon Petrus en die “ander dissipel” sien die doeke daar lê, maar die spesifieke melding van die “doek wat om Jesus se kop was” (12:7, NAB) (“gesigdoek” of “kopdoek”, dieselfde woord as in 11:44), volg eers met verwysing na Simon Petrus se waarneming. Hierdie doek is eenkant afsonderlik opgerol. Daar word nie vertel van enige reaksie op hierdie bevindinge deur Simon Petrus nie; die “ander dissipel” gaan egter die graf binne, sien dit ook, en glo (sonder ‘n voorwerp).

Daar is ‘n duidelike dramatiese progressie aan die ontdekking van die bewyse van die leë graf: Maria sien die klip wat weggerol is voor die ingang (1); die geliefde dissipel let op die doeke (5) en; Petrus sien die doeke sowel as die kopdoek (6-7). Met Petrus se ontdekking beweeg die verhaal in die rigting van die uitklaring van Maria se verwarring en misverstand, soos uitgedruk in vers 2.

Ten spyte van hul waarnemings van ‘n oop en leë graf, asook doeke wat in die graf agtergelaat is, maak die skrywer steeds die onbegrip van hierdie twee dissipels duidelik: “Hulle het nog nie die Skrif verstaan dat Jesus uit die dood moet opstaan nie” (9).

Die waarneming van die doeke in die graf klaar ‘n mate van die raaisel oor die leë graf op, naamlik dat dit nie ‘n grafroof was nie. Rowers sou nie die moeite gedoen het om ‘n lyk uit doeke te wikkel voordat hulle aanstaltes maak nie. Na alle waarskynlikheid kan dieselfde gesê word van die moontlikheid dat Jesus se liggaam bloot deur ‘n onbekende persoon verwyder is; sy liggaam kon weliswaar verskuif word, maar dan steeds nie sonder die doeke nie.

Die doeke dra dus ‘n bepaalde betekenis; as teken daarvan dat iets ongewoon plaasgevind het. Jesus se liggaam is nie uit die graf geneem deur iemand anders nie. Hy het self eerder op een of ander wyse die dood agtergelaat. Daar is egter steeds genoeg onbeantwoorde vrae op hierdie stadium van die verhaal om ‘n verwagting by die hoorder te wek, veral een wat die Lasarusverhaal ook ken: as Jesus nie hier is nie, waar is Hy dan?

Die toneel eindig skielik, met die enigste mededeling dat die dissipels weer huis toe gegaan het (10).

Verse 11-18: ‘n Kragtige ontmoeting
Slegs die Johannesevangelie vermeld dat Maria by die graf “huil”. Dit word drie maal benadruk (12:11, 13 en 15). Sy is desperaat om Jesus te vind. Sy vertoef by die graf en buk vooroor “om in die graf in te kyk” (20:11). Die ongewone gesig van twee engele met wit klere aan, sittende op dieselfde plek waar die liggaam van Jesus gelê het (12), blyk op geen manier vir Maria te skok nie. Meer nog, die engele sit op baie spesifieke plekke: “een waar die kop en een waar die voete was”.
Die engele plaas opnuut klem op Maria se diep hartseer deur vir haar te vra waarom sy huil. Die spesifieke posisies van die twee engele in ooreenstemming met die plek van Jesus se liggaam in die graf (12), dui moontlik op die aanbreek van die beloofde nuwe era deur Jesus se dood en opstanding. Die hemelse en aardse ontmoet mekaar, en dit in ‘n leë graf.

Na haar antwoord aan die engele oor die oorsaak van haar verdriet (13), draai Maria om en sien ‘n man by haar staan. Soos dikwels in die Johannesevangelie, sal Maria eers later tot insig kom na ‘n aanvanklike gebrek daaraan. Die hoorders weet iets wat die karakter self nog nie begryp nie, naamlik dat dit Jesus is wat voor haar staan (14). Die opgestane Jesus lyk anders as voorheen. Sy verwar Hom met die tuinopsigter. Ook Jesus vra haar waarom sy huil en na wie sy soek. Hy spreek haar aan as “Mevrou”, net soos wat Hy sy ma in 2:4 en 19:26 aangespreek het. Hierop antwoord Maria vir Jesus: “Meneer, as u Hom weggevat het, sê vir my waar u Hom begrawe het, en ek sal Hom daar gaan haal” (15). Soos te verwagte van iemand in haar ontstelde toestand, is haar antwoord nie juis deurdag nie. Sy veronderstel dat hierdie man die liggaam moontlik gesteel het (of minstens verwyder het) en dat sy daartoe in staat sou wees om Jesus se swaar lyk self te kan optel en terugbring – waar dit dan ook al tans is.

Raaisel opgelos

Die raaisel van die leë graf en waar Jesus is word uiteindelik opgelos wanneer Jesus haar op haar naam aanspreek en sy die stem van haar leermeester herken. Sy reageer met die Aramese woord rabboeni (16), ‘n persoonlike aanspreekvorm of meer intieme vorm van die woord rabbi (“leermeester”).

Hierdie interaksie tussen Jesus en Maria onthul Jesus as die goeie herder en Maria as een van sy skape. Hy ken sy skape op die naam en hulle luister na sy stem (10:3-4, 14, 16, 27). Sy is ‘n gelowige, soos Lasarus, wat ook die stem van Jesus gehoor het en toe uit die dood opgewek is (11:44). Meer nog, die beloofde ommekeer van rou en pyn na vreugde is bewerk deur die woorde sowel as die teenwoordigheid van Jesus (16:20-22). Soos met Lasarus.

In Johannes 20:17-18 maak Jesus self die betekenis van sy opstanding aan Maria bekend; dit is nie ‘n boodskapper wat dit bring nie. Die kernbetekenis lê in die hemelvaart wat nog moet plaasvind.

Opdrag Een

Vers 17 bevat die eerste twee opdragte van die opgestane Jesus. In vers 17a word ‘n verbod gegee: Maria mag nie aan Jesus vashou nie, “. . . want Ek het nog nie na die Vader toe opgevaar nie” (NAB). Hierdie verbod dui op ‘n handeling wat reeds besig is om plaas te vind, of op die bedoeling om op te tree. Hier gaan dit nie om ‘n algemene verbod om aan Jesus se opgestane liggaam te raak nie (Hy nooi immers juis vir Tomas om dit te doen in 20:27), maar gaan eerder om ‘n spesifieke verbod op die “vashou” van Jesus in hierdie oomblik – ‘n inmenging met die ontvouing van die gebeure van die uur. Noudat die kruisiging en die opstanding plaasgevind het, kan die nabye verhouding tussen Jesus en die dissipels nie bloot voortgaan soos voorheen nie. Jesus se verheerliking moet voortduur: vanaf die kruis, deur die opstanding en uiteindelik tot by die punt van voltooiing, wanneer Hy na die Vader terugkeer.

Opdrag twee

Die noodsaaklikheid van Jesus se terugkeer na die Vader word uitgedruk deur middel van die tweede opdrag wat Maria in vers 17b ontvang. Sy moet na Jesus se “broers” gaan (‘n inklusiewe term wat beide broers en susters insluit) en vir hulle sê dat Jesus op die punt staan om na die Vader op te vaar. Dit is opmerklik dat sy die goeie nuus van Jesus se hemelvaart met hulle moet deel, en nie die belofte van toekomstige na-opstanding verskynings nie.

Gegewe dat Jesus se hemelvaart die vervulling van sy verheerliking inhou, maak dit heeltemal sin waarom juis dit die boodskap is wat Maria moet gaan deel. Meer nog, Jesus se hemelvaart behels die vervulling van sy beloftes aan hulle wat Hy lief het. Deurdat Hy terugkeer na die Vader, maak Jesus dit moontlik vir sy dissipels om ten volle deel te hê aan sy verhouding met God.
Vandaar dat Jesus benadruk: “Ek vaar op na my Vader toe, wat ook julle Vader is, na my God, wat ook julle God is.” Op ironiese wyse sal die nabye verhouding tussen God die Vader, Jesus en die dissipels, totale vervulling bereik in die weggaan-gebeurtenis wat binnekort gaan plaasvind. Soos wat ‘n leë graf teken is van ‘n lewende Jesus, sal ‘n hemelvaart teken wees van die nouste moontlike verbintenis tussen die Vader, Jesus en die dissipels.

Maria gehoorsaam Jesus se opdrag en gaan na die dissipels toe. As die eerste ooggetuie van die opgestane Here Jesus sê sy vir hulle: “Ek het die Here gesien!” (18). Meer nog, sy vertel vir hulle wat Jesus vir haar gesê het rakende sy hemelvaart en word daarmee die “apostel aan die apostels” – as die eerste een wat die volle betekenis van die leë graf begryp en daaroor kan getuig teenoor ander. Oor die reaksie van die dissipels op haar getuienis kan daar net bespiegel word; die stilte daaroor in die verhaal is egter opvallend.

Wat is die betekenis van hierdie teksgedeelte.

Geroep op die naam

In die lig van die besondere en diep persoonlike ontmoeting tussen Jesus en Maria Magdalena wor mens bewus van die lewens-veranderende aard van ‘n persoonlike ontmoeting met die opgestane Jesus.

Om Jesus se dissipel te wees, behels nabyheid tussen Hom en ons, wat ongekend is in enige ander verhouding waarbinne ons staan – selfs die kosbaarste vriendskap of verbintenis tussen geliefdes. ‘n Dissipelskap-verhouding met Jesus trek ons in en maak ons deel van die intimiteit wat daar heers tussen die Vader en Jesus; ons is deel van die binnekring en het onbeperkte toegang tot die implikasies van daardie soort intimiteit, ook in ons eie lewe. Dit is waarskynlik nie toevallig dat Johannes 20 ‘n hele aantal ooreenkomste bevat met Hooglied nie; Maria se passievolle soeke na Jesus eggo dié van die naamlose vrou wat soek na haar geliefde in Hooglied.

Jesus ken elkeen wat Hom volg op die naam. Te midde van die werklikheid van miljoene gelowiges oor die wêreld heen, gebruik Jesus die ruimte van ‘n persoonlike verhouding (“ek ken jou op die naam” verhouding) om die hoop en liefde vir die wêreld bekend te maak. Dit is juis Jesus se uitspreek van my en jou naam, wat ons toelaat om Hom weer “my leermeester” (rabboenie) te kan noem.

Om te sien en glo

In die verhaal is daar as ‘t ware twee “sien en glo” stories: dié van die geliefde dissipel en dié van Maria. Beide vind plaas in die “baarmoeder van die aarde” (aldus Hesychius), maar vir een is die herinneringstekens aan Jesus “slegs” doeke, vir die ander een is dit ‘n gesprek op die naam gevolg deur twee opdragte.

Eerder as om die een teenoor die ander af te speel, leer ken ons die veelkleurigheid van ontmoetings met Jesus, waarbinne geloof bevestig word. Daar is geen ruimte of tyd of konteks waarbinne dit nie kan plaasvind nie. Dikwels is dit juis in die onverwagse plekke waar die werklikheid van die lewende Here tuiskom. So “gewoon” soos wat die ligging van ‘n begraafplaas is vir hierdie deel van die Johannesverhaal, is dit in werklikheid ‘n baie makabere keuse vir ‘n Jesus-ontmoeting! En tog, in hierdie omgewing van doodsheid, word lewe bevestig.
Dalk nooi die verhaal ons uit om onsself af te vra: Wat het ek nodig om te sien (of te hoor), om te kan glo? Hoe dink ek oor leidrade soos ‘n leë graf en doeke, in die afwesigheid van ‘n konvensionele “bewysstuk” vir Jesus as lewende Here? Terselfdertyd, hoe oop is ek vir die gedagte aan ‘n ontmoeting met die lewende Here, wat my op die naam aanspreek en my dan ook stuur om bepaalde boodskappe oor te dra – terwyl dit dalk die laaste ding is wat ek verwag, of voor gereed voel?

‘n Onverwagse apostel

Jesus se aanspreek van Maria op haar naam, is die enigste geval waar Jesus ‘n vrou by die naam aanspreek in die Johannesevangelie. In hierdie verhaal is dit opmerklik dat dit spesifiek Maria is wat die opdrag ontvang om te gaan vertel dat Jesus opgestaan het uit die dode en dat Hy opvaar na die Vader – en dit aan die res van die dissipels.
Simon Petrus en die geliefde dissipel het wel die doeke in die graf opgemerk en die geliefde dissipel het “geglo”, maar al wat ons weet is dat hulle teruggekeer het huis toe. Des te meer, die rede vir hulle inspeksie van die graf in die eerste plek, was juis omdat dit Maria was wat hulle vertel het van die weggerolde klip.

Teen die agtergrond van die antieke konteks van die verhaal moet mens die ongewoonheid van hierdie rolle raaksien. In die Johannesgemeenskap(pe), so voer vele kommentators aan, was deel van die uniekheid daarvan juis dat mans én vroue aktief deelgeneem het aan die volgelingskap van Jesus, die verkondiging van die nuus oor sy opstanding en selfs ook die leierskap. Dat dit juis ‘n vrou met ‘n naam is wat die eerste ooggetuie van die opgestane Jesus is, en wat die opdrag kry om daaroor te gaan praat met hulle wat deel is van haar gemeenskap, is radikaal.
In vele kerklike kringe, selfs in gemeentes van kerkverbande wat vroue as ampsdraers bevestig, word tot vandag toe nog debatte gevoer oor die “geskiktheid” van vroue as gemeenteleiers, al dan nie. Enkelvers aanhalings uit Pauliniese geskrifte is gunstelinge om standpunt hierteen in te neem; ironies genoeg word Jesus se eie optrede en opdragte gerieflikheidshalwe misgekyk. Die kerklike tradisie se voorkeur vir die “geliefde dissipel” se “sien en glo”-handeling in hierdie verhaal, teenoor Maria Magdalena se “sien, glo en gaan verkondig”-handeling, hoort ongelukkig nie slegs tot die verlede nie.

Dat daar in die gemeenskap van Jesus inklusief en gelykwaardig gedink en gedoen moet word wanneer dit kom by dissipelskap, is duidelik in hierdie verhaal. Juis op Opstandingsondag kom hierdie punt kragtig na vore.

God stuur ons om te leef

Gebed

Simboliese Handeling
Lidmate kom steek klein kersies by die groot kers aan (veral as julle deur Lydentyd kerse aangesteek het) en plaas dit rondom die doopvont.

Dankoffer

Slotsang
Lied 421 “Die Here Jesus lewe” of
Flam 336 Wie Is Ek Dat U Aan My Gedink Het (My Verlosser Leef) of
VONKK 105 Ek Wil U Eer Met Duisend Stemme, Heer

Seën: (Uit “Handleiding vir die Erediens”)
Voorganger (V): Jesus Christus is die opstanding en die lewe.
Gemeente (G): Hy is ons vrede.

V: Wie in Hom glo, sal in ewigheid nie sterwe nie.
G: Hy is ons vrede, nou en tot in ewigheid.
Amen.

Respons
Lied 206 “Halleluja!”
Of enige van die “Halleluja’s” uit die liedere wat gesing is

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.