Paasfees

Picture of Woord en Fees

Paasfees

Liturgiese Voorstel

Leesroostertekste

Fokusteks: Handelinge 10:34-43
Ander tekste: Psalm 118:1-2, 14-24; 1 Korintiërs 15:19-26; Johannes 20:1-18 of Lukas 24:1-12

Diensorde

God versamel ons voor Hom

Aanvangswoord
Voorganger: Loof die Here, want Hy is goed.
Gemeente: Aan sy liefde is daar geen einde.

Voorganger: Die wat die Here dien moet getuig:

Voorganger: In my nood het ek na die Here geroep, die
Here het my gebed verhoor en my bevry.

Voorganger: Die Here is my krag en my beskerming. Dit is Hy wat my gered het.

Voorganger: Hoor die gejuig in die laer van die
oorwinnaars:
Gemeente: Die Here doen kragtige dade,
Aan sy liefde is daar geen einde.

Voorganger: Die Here triomfeer.
Gemeente: Die Here doen kragtige dade,
Aan sy liefde is daar geen einde.

Voorganger: Ek sal nie sterwe nie, ek sal lewe en van die dade van die Here getuig,
Gemeente: Die Here doen kragtige dade,
Aan sy liefde is daar geen einde.

Sang
Lied 423:1-3

Seëngroet
Voorganger: Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God ons Vader en die
gemeenskap van die Heilige Gees sal by
julle almal wees.
Gemeente: En ook by jou.

Sang
Lied 418

Viering van die opstanding
Terwyl die gemeente Lied 418 sing, kan ’n lidmaat gevra word om lelies op ’n sigbare plek aan die kruis in die liturgiese ruimte aan te bring waarna die Paaskers aangesteek word. (Lied 418 kan twee maal gesing word.)

Diens van die water

Indien daar nie op hierdie Sondag gedoop word nie, kan die gemeente die beloftes van die doop op die volgende wyse bevestig:
Kom ons herbevestig ons doop deur op die volgende vrae te antwoord:
Voorganger: Glo jy in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde?
Gemeente: Ja, ek glo.

Voorganger: Weet dan dat die Vader ’n ewige
genadeverbond met ons gesluit het en dat Hy ons tot sy kinders en erfgename aanneem.
Glo jy in Jesus Christus, die eniggebore
Seun van God, ons Here?
Gemeente: Ja, ek glo.

Voorganger Weet dan dat Jesus Christus vir ons gesterf
het en dat Hy ons in die gemeenskap van sy dood en opstanding ingelyf het.
Glo jy in die Heilige Gees?
Gemeente: Ja, ek glo.

Voorganger: Weet dan dat die Heilige Gees in ons woon en ons tot lidmate van Christus heilig (uit Preekstudies met liturgiese voorstelle Jaar A:2002, bl 134-135).

Antwoord
Die gemeente antwoord deur Lied 292:1-2 staande te sing.

Diens van die woord

Gebed om die opening van die Woord

Skriflesing
Handelinge 10:44-48

Voorbidding 

Diens van die tafel

Nagmaalslitanie
Voorganger: Mag die vrede van ons Here by julle wees.
Gemeente: En by jou.

Voorganger: Hef op julle harte.
Gemeente: Ons hef ons harte op tot die Here.

Voorganger: Kom ons dank die Here, ons God
Gemeente: Dit is reg om aan God dank en lof te bring.

Voorganger: Liefdevolle God, ons loof U vir al die
genade wat U betoon teenoor almal wat U
gemaak het. Ons dank U dat U ons, deur Jesus  Christus ons Verlosser en Here, van die mag van sonde en dood bevry en red.
Saam met die hele skepping , en in die
gemeenskap van almal wat U gered het,
maak ons u  Naam groot deur altyd deur U
te prys deur te sê:
Gemeente: Heilig, Heilig, Heilig is die Here.
God van mag en krag
hemel en aarde is vol van u heerlikheid.
Hosanna in die hoogste.
Geseënd is die een wat kom in die naam van die Here.
Hosanna in die hoogste.

Voorganger: Ewige God op U vertrou ons. Ons dank U
dat U Jesus uit die dood opgewek het, die
eerste vrug van almal wat ontslaap het. Ons bely dat Hy opgevaar het na die hemel
vanwaar Hy aan u regterhand regeer.
En ons is in afwagting op sy terugkeer.
Gemeente: Kom Here, kom tog gou.

Voorganger: Ons onthou, hemelse Vader, hoe Jesus in
die nag waarop Hy verraai is, die brood
geneem het, U daarvoor gedank het, dit
gebreek en aan sy dissipels gegee het met die woorde: “Neem, eet, dit is my liggaam wat vir julle gebreek is.”
Ook onthou ons hoe Jesus op dieselfde wyse die beker geneem het en sê: “Hierdie beker is my bloed, die bloed van die nuwe
verbond, uitgegiet vir julle. So gereeld as
julle hierdie brood eet en uit hierdie beker
drink, doen julle dit tot my gedagtenis.”
Gemeente: Waardig is die Lam wat geslag was om
die mag en rykdom, die wysheid en
sterkte die eer, heerlikheid en lof te
ontvang (uit Op 5:12).

Gemeente: Sing Lied 266.

Gebruik van die nagmaal 

Danklied
Lied 409

Uitsending

Dankoffers

Slotsang
Lied 450:1-3

Seën

Preekstudie: Handelinge 10:34-43

Inleiding
Hierdie teksgedeelte is die begin van ’n groot wending in die boek Handelinge, in besonder in die lewe van die kerk van Jesus Christus, wat ’n voortsetting van die godsvolk van die Ou Testament is en met wie God ’n verbond gesluit het. Hy het lankal beplan dat sy Woord van genade verder verkondig moet word as die grense van die volk Israel, maar daarvoor het die Israeliete nie begrip gehad het nie. Selfs hier waar die Here hulle duidelik lei om nie net aan hulle eie volk as ontvangers van die blye boodskap te dink nie, is dit vir hulle uiters moeilik om te verstaan en aanvaar dat die Here ook God van die hele wêreld is en wil wees – ook van nie-Jode en heidene. In hierdie perikoop sien ons die eerste maal dat die kerk begin doen wat die Here Jesus in sy laaste woorde op aarde aan hulle opgedra het (Matt 28:19), toe Hy die groot opdrag aan hulle gegee het om uit te gaan na alle mense en hierdie evangelieboodskap te gaan verkondig – dit sluit ook die heidene in. Hierdie preek van Petrus is die eerste wat opgeteken is oor die nakom van die sendingopdrag – die evangelisering van mense wat nie Jode is nie of nie indirek ’n gedeelde ontstaansgeskiedenis met hulle gehad het nie (sien hfst 8 oor die mense van Samaria).

Die kern van Petrus se preek, is die grondplan van die boodskap wat deur die apostels verkondig is, soos wat ons dit ook in Markus vind.

Teks

Vers 34: God maak nie ’n onderskeid nie. Daar is by God nie een groep wat meer geskik is as ’n ander om sy genade te ontvang nie. Daarmee sê die Here dat Hy almal op die aarde se God is, almal is voorwerp van sy liefde. In die Ou Testament was daar wel ’n verskil tussen Israel en die ander volke in die sin dat God net vir Israel gekies en Hom net aan hulle openbaar het, maar God se bedoeling was nooit dat sy liefde moet stop waar Judaïsme stop nie. Nee, die volk Israel moes juis duidelik die seën en voordele van die Godsvolk so illustreer en uitleef dat die ander volke sou kom en vra: Help ons, ons wil ook julle God aanbid, soos Sagaria 8:23 sê.

Die verandering wat by hierdie preek intree, is geen nuwe wending in die Godsopenbaring nie, die profete het nog altyd verkondig dat almal deel moet wees van God se koninkryk (v 43), maar die mense kry nou eers begrip daarvoor. Petrus sê dat hy die betekenis van hierdie openbaring nou eers werklik besef. Nou eers? Dit het nogal lank geneem vir hierdie insig om deur te kom, want hy het saam met die ander dissipels die opdrag persoonlik van Jesus gekry om die evangelie ook aan ander te gaan vertel. Op Pinksterdag het die Heilige Gees hulle nog duideliker laat verstaan dat hulle vir mense van ander tale moet gaan preek. Nou het die Here vir Petrus ’n visioen gegee en pertinent vir hom gesê om saam met die heidense mans te gaan en nie te twyfel of terug te kyk nie. Nou eers verstaan Petrus die boodskap en gehoorsaam hy die Here. Die ander Israeliete wou nie maklik hierdie boodskap en opdrag aanvaar nie, naamlik dat nie-Jode ook deel van God se koninkryk is. Dit was ook nie maklik vir Petrus om die ander gelowiges van hierdie nuwe insig te oortuig nie, inteendeel, hulle het hom daarvoor verwyt (11:1-2).

Vers 35: Binne die konteks van die argument kan hierdie teks nie verkeerd verstaan word nie, naamlik dat God gelowiges van enige volk aanvaar en liefhet. Iemand wat die draad van die argument ignoreer en hierdie teks buite sy verband aanhaal, sal maklik ’n verkeerde aksent kan plaas op die verdienste van ’n mens wat vir God kan beïndruk en so ’n paar punte van werkgeregtigheid kan aanteken om God om te koop omdat hy “geregtigheid doen” (1933-vertaling). Die teks wil sê dat geen Jood of lid van enige bevolkingsgroep op grond van sy etniese afkoms ’n groter of kleiner reg het op God se genade nie. Genade sluit so ’n voorwaarde juis uit.

Vers 36: Lukas beklemtoon dit hier dat die verlossingsboodskap wat deur die Joodse volk gekom het, dieselfde is as wat Jesus Christus (self ’n Jood) verkondig het en dat hierdie boodskap nie net bedoel was vir hulle eie volk nie, maar juis vir almal. Die volk Israel was net die eerste ontvangers, die boodskappers, die medium waardeur God die wêreld wou seën en vir hulle wou laat verstaan dat die een God in die hemel, hulle ook lief het. Hy is almal se God en dit is wat die kerk moet gaan verkondig, juis aan die nie-Jode wat vir lank afgeskeep was omdat die volk van God nie die implikasies van God se Woord verstaan het nie. Die verskil wat duidelik na vore kom tussen wat die Ou- Testamentiese profete oor God, as God van almal, verkondig het, en die kerk van die Nuwe Testament, is dat die inhoud van die verkondiging ’n nuwe aksent kry en pertinent genoem word dat Jesus die Seun van God is. Hy is die Here van alle mense op aarde.

Vers 37: Petrus maak in sy preek ’n kort opsomming van die getuienis van Jesus, wat Hy alles gedoen het. Dan begin hy die beskrywing by Johannes wat vir Jesus doop, en hy eindig by die leë graf.

Vers 38: Kornelius-hulle het reeds van Jesus gehoor, maar Petrus verduidelik nou wie Jesus eintlik was, dat dit Hy is wat deur God gestuur is om ons verlossing te bewerkstellig, deurdat Hy met die Heilige Gees gesalf is. Hy was nie ’n gewone mens nie. Hy het die krag van God gehad (verwys na die Stem by sy doop). Hy is die middelaar tussen God en mens. Daarom het Hy die werke van God kom doen om swak mense te help, en hulpeloses te red, genadige handelinge wat wys dat God lief is ook vir swakkes en uitgeworpenes, en vir nie-Jode.

Vers 39: Dit is belangrik vir Petrus om te bevestig dat wat hulle gehoor het van Jesus, nie net stories in die volksmond was nie, maar dat die dissipels wat saam met Jesus hierdie dinge deurgemaak het, juis gekies is om ooggetuies te wees van alles wat gebeur het. Die evangelie verkondig die goeie nuus dat God die mense vergewe en hulle sondes onomkeerbaar kom betaal het. Die deel van hierdie proses wat sigbaar was, waar Jesus die lydende Messias is, gee aan die verlossingsboodskap werklike aardse voete wat oorvertel kan en moet word, met Petrus-hulle wat kan instaan vir die waarheid daarvan. Daarom noem hy sy ooggetuie-status ook hier in sy preek ter bevestiging van die werklikheid van God se verlossing, wat onder andere bewerk is ten spyte van die verwerping van Jesus deur die Joodse volk en die goddelike ingryping van God die Vader.

Vers 40: Die verlossingsboodskap bestaan daarin dat God wonderwerke kan doen (gereeld doen). In die gebeure wat God gedoen het toe Hy ons losgekoop het van ons sondes, het een van die merkwaardigste wonderwerke van alle tye plaasgevind, die opstanding van ons Here Jesus Christus. Daar was geen ooggetuies van die gebeure self nie, maar oorgenoeg getuies wat vir Christus gesien, met Hom gesels en saam met Hom geëet het. Daarvoor kan Petrus en ’n hele paar ander gelowiges instaan, en getuig Petrus hier in sy preek daarvan. Die Translator’s Handbook wys daarop dat die klem hier op die handelende God waarskynlik nie sterk genoeg deur ’n gewone vertaling uitgedruk kan word nie, naamlik dat dit Gód was wat hierdie daad gedoen en sy Seun opgewek het uit die dood. De Villiers dink dat Petrus so uitdruklik van die opstanding praat omdat hy (Kornelius) nog nie daarvan gehoor het nie, maar ’n groter waarskynlikheid is dat Petrus die geweldige implikasie van die nuwe lewe wat hiermee saamhang wil onderstreep.

Vers 41: Hoekom het Jesus nie aan die Jode verskyn nie? Hoekom het Hy hulle nie gaan konfronteer met die waarheid nie? Sal daar ooit in die geskiedenis van die wêreld so ’n oortuigende bewys kon wees dat Jesus die Christus is, as met sy verskyning aan die Jode en priesterleiers? Hoeveel bekerings sou daar gewees het as Jesus daardie dag deur die strate van Jerusalem geloop het? Hy sou nie nodig gehad het om een enkele woord te sê nie. Maar nee, Hy het besluit om nie aan almal te verskyn nie, net aan die gelowiges. Dit lyk of die Here sy opstanding nie wou gebruik om nuwe bekeerlinge te maak nie, maar slegs om gelowiges te versterk in hul lewe saam met God. Dit lyk dan asof dit nie sommer vir alle gelowiges beskore was om die opgestane Here te sien nie. Nee, Petrus noem dat dit mense is wat voorheen deur God verkies is vir hierdie voorreg. Want hierdie gelowiges het ’n besonderse groot verantwoordelikheid ontvang deurdat hulle daar kon wees met die Here se verskyning(s). Hierdie verantwoordelikheid sou ons rofweg kon opsom as die taak om so te getuig en te lewe vir hulle Here, dat daar van die handjievol gelowiges op daardie tydstip, ’n kerk van die Here sou groei wat twintig eeue later nog steeds die grootste godsdiens op die aarde sou wees en miljoene der miljoene sou tel.

Dit blyk dat daar ten minste twee gewigtige redes is waarom Jesus Hom na sy opstanding nie self aan die mense wou gaan vertoon nie: (a) Die eerste en mees voor die handliggende is: Indien die opgestane Here Jesus vir die Joodse leiers en die volk en almal wat betrokke was, sou gaan wys dat Hy leef en die dood nie oor Hom regeer nie, sou daar waarskynlik honderde mense tot die besef kom dat Jesus wel is wie Hy gesê het. Die logiese afleiding sou die meeste mense tot die besef gebring het dat hulle nie ’n ander opsie het nie, as om die Here te glo en te aanvaar, want dit is Hy wat as Regter oor almal sal oordeel en almal sal veroordeel wat nie in Hom glo nie. Duisende bekerings sou gevolg het. Maar wat sou die aard van daardie mense se geloofslewe wees? Nie ’n dankbare lewe van liefde om God se Naam te eer nie, maar ’n wettiese godsdienstige lewe wat alles nodig is om die ewige verdoemenis vry te spring, gevolge waarvan Petrus verder ook praat. Volgens die Bybel en die wil van God, is dit nie ware geloof nie, nie gerig op die verheerliking van God nie, maar eerder ’n selfgerigte daad om iets te ontvang wat God by magte is om te gee. (b) Die tweede en waarskynlik grootste rede hoekom Hy net aan gelowiges verskyn, vind ons juis in die volgende teksvers.

Vers 42: Die groot rede hoekom Jesus nie na sy opstanding in die strate van Jerusalem aan die mense verskyn en vir hulle gewys het dat Hy inderdaad die Here is nie, word in hierdie teksvers weergegee. Dit is juis omdat dit die voorreg en taak van die dissipels van Jesus is om hierdie verlossingsboodskap te gaan vertel, eerstens aan die volk van Israel en dan ook aan die ander mense, tot aan die einde van die aarde. Daarom sê Petrus die Here het daardie opdrag aan óns gegee, wat ons wat Hy gekies het om dit te doen. Ons mag, ons moet, ons sal dit doen. In die lig van hierdie teksvers word dit ook baie duidelik hoekom die engel wat met Kornelius praat, geswyg het oor die verlossingsboodskap en nie ’n woord gerep het van hoe hulle tot geloof kon kom nie. Nee, hy het slegs die afspraak vir Petrus gemaak om dit te kom doen. So het hy eers aan Kornelius verskyn en aan hom gesê om vir Petrus te laat haal. Die engel (en die Heilige Gees) reël ook aan die anderkant die afspraak deur Petrus voor te berei om hom gewillig te maak om na Kornelius te gaan. Die engel preek nie vir Kornelius nie. Die Here Jesus preek nie eintlik vir skares mense om hulle te bekeer nie. (Wil julle nie ook weggaan nie?)  Nee, om te preek en mense te help om te glo, is die voorreg van Petrus en al die ander gelowiges, want God wil wys hoe ernstig Hy oor sy keuse is om deur die krag van die Heilige Gees, sy kinders te gebruik om getuies te wees van God se genade.

Die Griekse woord kerussein het hier die uitdruklike betekenis van aankondig, bekendmaak, gaan vertel van ’n werklikheid (verlossing) wat reeds gebeur het. Dit is nie om iets tot stand te gaan bring nie, maar om te sê die redding is reeds tot stand gebring, neem kennis daarvan en verbly julle daarin, glo dit.

Vers 43: Hier eindig Petrus sy preek met dieselfde gedagte as waarmee hy begin het, naamlik met die beklemtoning van die feit dat almal wat in Jesus glo, vergifnis van sondes ontvang, ongeag van watter agtergrond, volk of taal hulle afkomstig mag wees. Hierdie skuif in die verstaan van die evangelie is van uiterste belang en is vir Petrus ’n nuwe ervaring wat hy na alle waarskynlikheid nie sou insien daar in Jerusalem tussen die ander Jode nie, maar juis hier in die huis van iemand wat alom in die Joodse kringe as ’n onbesnede heiden beskou word. Hierdie nuwe aksent sou later die verkil maak of die Christendom ’n wêreldgodsiens sou word wat hoop bring vir almal, en of dit ’n “sekte” sou bly, soos beskou deur die ander Israeliete wat bly vasklou het aan die Judaïsme en wou voortgaan met hul volksgebruike en etnies-kulturele seremonies.

Petrus noem dit duidelik dat dit nie ’n nuwe boodskap is wat hy of Jesus gebring het nie. Nee, dit was nog altyd die kern van die boodskap van al die profete, sê Petrus, al het die mense van die volk Israel dit nie aanvaar nie.

Die struktuur van die perikoop bring ’n paar duidelike aksente na vore. Daar is drie dele wat ons A B en C nommer en wat elke die volgende inhoud het:

A
Petrus sê: Ek sien nou dat God nie net mense van een volk liefhet nie.
Hy kies uit alle volke mense wat glo,
Hy het lankal hierdie boodskap verkondig
dat Hy almal se Here is.

B
Julle weet van Christus, wat gesalf is deur die Heilige Gees.
Ons het gesien hoe Hy mense met siektes en duiwels uithelp,
maar die Jode het Hom aan ’n kruis doodgemaak.
Hy het die derde dag opgestaan en verskyn aan mense,
nie aan almal nie, maar ons wat gekies is, wat saam met Hom was.

C
Hy het ons beveel om te gaan verkondig
dat Hy die Regter sal wees.
Die profete praat oor Hom en sê
dat elkeen wat glo in Hom, vergewe word.

Opsomming van die drie dele:

A  God is almal se God, Hy het dit lankal gesê.

B  Jesus het God se liefde kom wys, die Jode het Hom gekruisig.
Maar Hy het opgestaan en ons is getuies daarvan.

C  Hy het ons beveel om vergifnis te gaan verkondig
soos wat die profete gedoen het.

Tema van die perikoop: ABC = Ons moet aan álmal gaan verkondig: glo, en God sal julle verlos.

Konteks binne Handelinge en die Korneliusgebeure
Die boek Handelinge is die skakel en sluitsteen om die sprong te verstaan tussen die evangelies, met die leringe en optrede van Jesus, en die Nuwe Testament briewe wat aan gevestigde gemeentes en groeiende Christengroepe geskryf is. Dit is die oorgang, die fondament van die latere gebeure in die kerk, die implimenteringswyse van dit wat die kerk by die Here Jesus gehoor het en die manier waarop hulle die boodskap van die Ou Testament verstaan in die lig van die verskyning van die Christus. Baie van die vrae waarmee ons vandag worstel en waarvoor daar nie ’n teksvers is wat aan ons ’n antwoord gee nie, word juis belig op die manier waarop die apostels en die vroeë geloofsgroepe die boodskap van die Here verstaan het as uitvloeisel van die verbond wat God met sy volk Israel gemaak het.

In Handelinge word eers vertel van die gebeure in die gemeente van Jerusalem, en dan kom daar juis hier in hoofstuk 10 ’n verandering waar ons die eerste maal lees van nie-Jode in die gemeente en nie-Joodse gemeentes, en dan verder van Paulus wat juis na die heidene gaan om die Woord aan die res van die wêreld te verkondig. Ons sou dus kon sê dat hierdie perikoop die skarnier is wat betref die verstaan van die Godsvolk, waar dit in die Ou-Testamentiese tyd as die volk Israel gesien is, en die Nuwe-Testamentiese volk van God wat bestaan uit gelowiges uit alle volke.

Binne die hele gebeure van Petrus wat gaan preek by die huis van Kornelius (Hand 10), sien ons die volgende opsomming van die begin aan die Kornelius verhaal (hfst 10:1-33):

  • Kornelius is godsdienstig, maar hy ken nie die pad van verlossing, na Jesus nie.
  • ’n Engel verskyn aan Kornelius en sê hy moet Petrus laat kom.
  • Die engel wys vir Petrus dat die ou wette verander, oor wat en wie heilig is.
  • Die engel sê vir Petrus hy moet na heidene gaan sonder terughouding.
  • Petrus kry sy opdrag om by heidene te gaan preek.
  • Petrus is gehoorsaam en hy gaan, soos die engel gesê het.
  • Petrus sê dat daar nie meer skeiding tussen Israel en heidene is nie.
  • Kornelius sê vir Petrus die engel het hom laat kom.

Die kernteks, Petrus se preek: vers 34-43. Dit wat daarop volg, is baie interessant, want:

  • Die Heilige Gees kom in hierdie nie-Joodse gelowiges, en Petrus doop hulle.
  • Petrus kry moeilikheid omdat hy dit durf waag het om vir heidene te gaan preek.
  • Petrus verduidelik aan hulle van die engel wat hom beveel het.
  • Hy vertel aan hulle dat die Heilige Gees in daardie nie-Jode gekom het.
  • Die gelowiges in Jerusalem aanvaar dit toe maar.

Wat hier uitstaan, is dat die Here lankal wou hê die gelowiges moet vir die heidene gaan preek, hulle wou dit nie doen nie, en hier, onder duidelike instruksie van die Here, doen Petrus dit, maar hy sleep voete, doen dit nie uit oortuiging nie, maar amper onder dwang van die Here, soos wat duidelik word uit sy verweer: Ek kon dit nie keer dat hulle gedoop word nie, toe doen ek dit maar.

Dan volg daar twee insidente wat waarskynlik deur Lukas opgeteken is as kommentaar op die koue reaksie van die Judese Christene oor Petrus wat dit gewaag het om by heidene aan huis te gaan en vir hulle te preek: (i) Daar kom hongersnood en die gelowiges in Judea kry baie swaar. Die nie-Joodse gelowiges bewys hulle Christelike vrygewigheid; hulle maak hulle harte oop deur die Joodse gelowiges te help met kos en materiële hulp. Dit is soos wat gelowiges behoort te doen, om andere te help met dit wat God vir hulle gegee het. Die nie-Joodse Christene het besef dit gaan swaar met die Christene in Judea, en hulle maak hulle harte oop en help hulle, soos wat die Judese Christene van die begin af hulle harte moes oopgemaak het om die nie-Jode te help om ook die evangelieboodskap te ontvang. (ii) Petrus word gevang, maar God red hom uit die tronk. Hy gaan na Maria se huis, en wil die goeie nuus vertel, dat hy gered is, maar die gelowiges glo dit nie, hulle aanvaar nie die diensmeisie se woord nie, sê sy is mal. Mens kan hierdie gebeure as ’n ironiese sinspeling sien op die geslotenheid van die Judese Christene wat nie bereid is om nie-Jode in hulle gemeente te verwelkom nie. Hulle is skepties om die diensmeisie te glo om Petrus, die rots van die gemeente, te aanvaar en binne te laat, en amper laat hulle hom nie eers toe om hulle Christenbyeenkoms te steur nie. Hoe moeilik sal dit dan wees vir nie-Joodse gelowiges om verwelkom te word in die midde van die Christengemeente in Jerusalem?

Preekvoorstel

Hierdie preek van Petrus is ’n baie mooi opsomming van hoe die Here die mens verlos het, wat Christus gedoen het en hoe God sy genade skenk sodat almal wat dit glo, die ewige lewe ontvang. Die klem val op God wat dit doen, nie deur ons werke of iets wat ons vermag het nie, in elk geval nie deur ons agtergrond of ons etniese herkoms nie. Nee, dit is vir almal bedoel.

Hierdie is die verlossingsboodskap wat ons (gelowiges) moet gaan verkondig aan almal. Net ons wat glo kan en mag dit doen. Nadat die Here Jesus uit die dood opgestaan het, het Hy net aan gelowiges verskyn. Die belangrike vraag in hierdie perikoop is: Hoekom het Christus na sy opstanding Hom nie aan die priesters en Pilatus en die Jode gaan toon nie? Dit sou mos tot massabekerings kon lei. Daardie fariseërs sou hulle uit hulle ongeloof geskrik het en moes erken dat hulle verkeerd was. Maar dit was nog nooit God se plan om mense met krag te oortuig dat hulle verkeerd is en mense uit vrees vir straf te laat bekeer nie. Nee, die Here wil sy liefde aan ons openbaar en deur sy genade ons harte sagmaak sodat ons Hom uit dankbaarheid en erkentlikheid sal dien.

Die grootste rede waarom die Here net na uitverkore gelowiges gaan en saam met hulle geëet en gesels het, was omdat hulle die voorreg en opdrag ontvang het om hierdie boodskap aan almal te gaan verkondig. Die Here neem nie hierdie voorreg van gelowiges weg nie, want toe Hy gepreek het, het mense weggeloop en gesê: Wie kan daarna luister? Maar toe Petrus preek, kom meer as 3000 mense tot geloof. Ook die engele praat nie oor die verlossingsboodskap self nie. Blykbaar verstaan hulle dit nie eers nie (1 Pet 1:12). Die engel reël alles wat nodig is sodat Petrus die geleentheid kan benut om die goeie nuus aan die huis van Kornelius te kan meedeel.

Petrus sê die Here het nie almal geroep om getuies van hierdie dinge te wees nie. Hy het mense uitgekies en aan hulle hierdie verantwoordelikheid gegee (v 41). Dit doen Hy vandag nog. Hy openbaar en roep deur sy Woord, Hy kies ons om hierdie boodskap aan mense te gaan oordra en in hierdie proses kom daar redding vir hulle, terwyl ons praat.

Daar is ongelukkig baie dinge wat ons sal wil verhinder om te gaan en om dit vir almal te vertel. Die mooiste godsdienstige redes word soms gebruik, etniese oorwegings, subjektiewe selfsug en dikwels blote ongehoorsaamheid van die kerk. Dit was ’n bitter duur prys wat God betaal het om ons te red, en Hy het net ’n paar mense gekies om dit te glo en te gaan vertel. Glo dit en gaan. Gaan vertel aan almal, selfs vir mense uit jou eie volk.

As ons verder lees wat die Christene in Jerusalem se reaksie op die eerste bekerings in die heidenwêreld was, is ons verbaas om te sien dat hulle erg ontsteld was. Hierdie eerste stap in wêreldsending behoort met dankbaarheid begroet te word, maar Petrus word in sy tuisgemeente verwyt. Paulus kry nog meer probleme met “gelowiges” wie se eie volksgewoontes en grense belangriker is as dié van die Here.

Hoe kon dit gebeur dat, met so ’n koue begin, die kerk van die Here deur die jare kon groei en nie gesterf het nie? Dit is net die genade van God, wat nie net wonderwerke laat gebeur het om ons verlossing te bewerkstellig nie, maar nog steeds wonderwerke laat gebeur om sy kerk te laat groei en die evangelie te laat versprei, ten spyte van die kerk se powere pogings om sy stem te gehoorsaam.

Ons het die voorreg, die opdrag, om met almal te gaan praat. Daar sal teëkanting kom, weerstand, vyandigheid en miskien die dood. Laat ons hierdie seën wat God aan ons gegee het, ernstig opneem, mag ons die opdrag gehoorsaam, en mag ons glo dat die Here in mense se harte sal werk en ons woorde (van die Bybel) sal gebruik om aan hulle geloof te gee en dit te versterk.

Bibliografie

Bruce, F F 1949. The Acts of the Apostles. Leicester; De Villiers, J L 1977. Die Handelinge van die Apostels/. Kaapstad; Lenski, R C H 1961. The Acts of the Apostles. Minneapolis; Marshall, I H 1974. The Daily Commentary. London; Newman & Nida 1972. A Translator’s Handbook on the Acts of the Apostles. New York; Guthrie, D 1966. New Testament Introduction. London.

Vereenvoudigde vertaling
Die Bybelvertaling vir Dowes / vir almal, slaag daarin om op meer as een plek die betekenis van die teks beter na vore te bring, en daarom kan dit oorweeg word om hierdie vertaling in die erediens te gebruik.

Handelinge 10:34-43
34 Toe het Petrus gesê: “Ek verstaan nou waarlik dat God nie dink een persoon is belangriker as ’n ander persoon nie.  35 Nee, in elke volk hou God van die mense wat Hom respekteer en wat die dinge doen wat God wil hê. 36 Julle ken die boodskap wat God vir sy volk die Israeliete gestuur het. Jesus Christus het daardie goeie boodskap van vrede vir hulle gebring. En Hý, Jesus, is die Here van almal. 37 Julle weet van die dinge wat gebeur het in die hele land van God se volk. Dit het alles in die provinsie Galilea begin toe Johannes die Doper gepreek het oor die doop waarmee hy die mense doop. 38 Julle weet dat God die Heilige Gees in Jesus van Nasaret laat kom het en dat God vir Hom krag gegee het. God was by Jesus, daarom het Jesus na baie plekke gegaan en Hy het goeie dinge gedoen: Hy het almal gesond gemaak wat baie swaar gekry het omdat die duiwel in hulle was. 39 En ons is getuies van alles wat Jesus in die land van die Jode en in Jerusalem gedoen het. Die Jode het vir Jesus aan ‘n houtpaal gehang en so het hulle Hom doodgemaak. 40 Maar God het vir Jesus op die derde dag weer laat lewe en God het Jesus vir ons gewys, ons het Hom gesien. 41 God het Hom nie vir al die mense van die volk gewys nie, net vir ons. Ons het saam met Jesus geëet en gedrink nadat Hy gesterf het en nadat God vir Jesus weer laat lewe het. God het ons voor daardie tyd gekies om getuies te wees dat Hy weer lewe. 42 God het ook gesê dat ons vir die volk moet vertel en moet getuig dat God vir Jesus gekies en aangestel het om die Regter te wees. Die Regter moet oordeel oor die mense wat lewe en oor die mense wat klaar gesterf het. 43 Dit is oor Hóm wat al die profete getuig. Hulle sê dat God die sondes sal vergewe van elkeen wat in Jesus glo.”

Sections

© Missio 2024 | All rights reserved.