Paasfees

Picture of Woord en Fees
This content is only available to members.

Sections

Liturgiese Voorstel 1

Leesroostertekste

Sleutelteks: Johannes 20:1-18
Ander tekste: Handelinge 10:34-43; Psalm 118:1-2, 14-24; 1 Korintiërs 15:19-26 of Lukas 24:1-12

Inleiding

Paasfees is die hoogtepunt van die Christelike kerkjaar aangesien dit die fees is waar die opstanding van Christus gevier word. Saam met Goeie Vrydag dien dit tot bevestiging van die trou van God waardeur Hy ons laat deel in die sterwe en opstanding van Christus en ons op dié manier insluit in sy voortgaande versoeningswerk.

In die vroeë kerk was dit by uitnemendheid die geleentheid waar die doop bedien is en waar die nuut gedoopte lidmate vir die eerste keer aan die nagmaal deelgeneem het. In die onderstaande liturgiese voorstel word albei hierdie momente ingesluit om ons verbondenheid met Christus te bevestig. Die simboliek van die opstanding as lig wat die duisternis verdryf, was ook van vroeg af deel van die feesviering en vind uitdrukking in die plegtige indra en aansteek van die Paaskers. Lidmate kry ook die geleentheid om klein kersies (tea candles) ná die doopviering by die Paaskers aan te steek en op ’n tafel wat daarvoor gereed gemaak is, te plaas.

Die vreugde van Paasfees vra vir opgewekte musiek en sang en ’n liturgiese ruimte wat oorvloedig met blomme versier word. Lidmate kan gevra word om blomme saam te bring na die erediens toe en dit voor in die liturgiese ruimte neer te lê. Die kleure vir Paasfees is wit en goud.

Diensorde 

GOD VERSAMEL ONS VOOR HOM

Aanvangswoord 

Voorganger: Kom laat ons almal
vrolik voor God die Here sing!

Gemeente: Laat heel die aarde juigend aan Jesus hulde bring!

 

Voorganger: Ons Heiland is oorwinnaar.

Gemeente: Christus is oorwinnaar.

 

Voorganger: Hy het opgestaan!

Gemeente: Hy het waarlik opgestaan!

 

Voorganger: Laat alles wat hier lewe
die Heer se liefde prys!

Gemeente: Want Christus het na lyding weer uit die graf verrys!

 

Voorganger: Ons Heiland is oorwinnaar.

Gemeente: Christus is oorwinnaar.

 

Voorganger: Hy het opgestaan!

Gemeente: Hy het waarlik opgestaan (uit Lied 423:3).

Seëngroet

Sang

Lied 425:1-4 “Kyk die Heer het opgestaan”

DIENS VAN DIE LIG

Gewyde stilte terwyl die Paaskers ingedra en voor in die liturgiese ruimte geplaas word.

Nooi ’n lidmaat wat die afgelope jaar iemand aan die dood afgestaan het om die Paaskers aan te steek.

Gee daarna geleentheid vir stil gebed.

Sang

Lied 372:1 en 3 “Hoe glansryk blink die Môrester”

DIENS VAN DIE WOORD

Gebed

Skriflesing

1 Korintiërs 15:19-26

Sang

Lied 414:1 “Juig verlostes, juig en sing”

Skriflesing

Johannes 20:1-18

Sang

Lied 414:2 “Hy het klaar die stryd gestry”

Prediking

DIENS VAN DIE WATER

Herbevestiging van doop/doopbeloftes 

Vra lidmate om te staan en hardop op die volgende vrae te antwoord:

Voorganger: Glo jy in God die Vader,

die Skepper van hemel en aarde

en van alle sienlike en onsienlike dinge?

Gemeente: Ja, ek glo.

 

Voorganger: Weet dan dat die Vader

’n ewige verbond met ons sluit

en dat Hy ons tot kinders en
erfgename aanneem.

 

Oomblik van stilte

Voorganger: Glo jy in die een Heer, Jesus Christus,

die eniggebore Seun van God,

wat ter wille van ons en ons saligheid mens geword het,

wat vir ons gekruisig is,

gely het en begrawe is;

wat op die derde dag
opgestaan het uit die dood;

wat opgevaar het na die hemel,

en wat sit aan die
regterhand van die Vader;

wat weer sal kom met heerlikheid

en wie se heerskappy
geen einde sal hê nie?

Gemeente: Ja, ek glo.

 

Voorganger: Weet dan dat die Here Jesus Christus

ons in die gemeenskap van sy dood en opstanding ingelyf het.

 

Oomblik van stilte

Voorganger: Glo jy in die Heilige Gees,

die Heer en Lewendmaker,

wat saam met die Vader en die Seun

aanbid en verheerlik moet word?

Gemeente: Ja, ek glo.

 

Voorganger: Weet dan dat die Heilige Gees

in ons woon en ons tot lidmate van Christus heilig.

Gemeente: Sing “Amen” (uit die Geloofsbelydenis van Nicea).

 

Indien daar persone is wat op hierdie dag gedoop word, kan dit nou gedoen word nadat die vrae aan die ouers/dopelinge gevra is.

Nooi lidmate (veral die kinders) om klein kersies by die Paaskers te kom aansteek.

Sang

Lied 290:1 “Dit is my troos dat ek gedoop is”

DIENS VAN DIE TAFEL

Oproep tot viering van die nagmaal

Voorganger: Die Heer het opgestaan!

Gemeente: Hy het waarlik opgestaan!

 

Voorganger: Kom ons vier sy onstuitbare lewe.

Kom ons maak ons harte oop

vir die wonder van eindelose moontlikhede

en vir die vreugde van onblusbare hoop.

 

Instellingsverhaal

Voorganger: By die maaltyd die nag voor sy dood

het Jesus brood geneem,

dit gebreek,

dit vir sy dissipels gegee en gesê:

Gemeente: Dit is my liggaam;

dit is vir julle.

Gebruik dit tot my gedagtenis.

 

Voorganger: Na die maaltyd het Jesus die beker met wyn geneem

en gesê:

Gemeente: Dit is die beker van die nuwe verbond

wat deur my bloed beseël is.

Gebruik dit,

elke keer as julle daaruit drink,

tot my gedagtenis.

Nagmaalgebed

Voorganger: Here van die lewe,

ons neem deel aan hierdie maaltyd,

ons vier saam fees

en ons roep U in herinnering.

En ons sal voortgaan om dit te doen

totdat alle dinge aan U onderwerp is.

Mag hierdie brood en hierdie wyn

nou vir ons die brood van die lewe

en die wyn van u koninkryk word.

En mag elkeen van ons wat aan hierdie maaltyd deelneem,

aan U en aan mekaar verbind wees,

een liggaam wat deel het aan die opstanding

en wat saam met die hele skepping

deel in u groot werk van versoening.

Gemeente: In ons verskeidenheid is ons een:

een in Christus,

deur die werk van die Heilige Gees,

tot eer van die Vader.

Amen.

Bediening en gebruik van die brood en die wyn

Lofprysing

Lied 417:1 en 2 “Jesus, ons eer U”

Dankgebed

UITSENDING

Slotsang

Lied 411:1-3 “Kom almal laat jul stem verrys”

Seën 

Gemeente sing “Amen”

 

 

 

 

Liturgiese Voorstel – 2

Leesroostertekste 

Sleutelteks: Johannes 20:1-18

Ander tekste: Handelinge 10:34-43;
Psalm 118:1-2, 14-24;
1 Korintiërs 15:19-26;  of
Lukas 24:1-12

Inleiding

Die liturgie vir Paassondag is ’n liturgie van lig, wat simbolies is van Jesus Christus wat met die opstanding uit die dood die duisternis van sonde oorwin het.

Die Christuskers word aangesteek as simbool van die opstanding van Jesus Christus, regdeur die seisoen van Paastyd.

Vandag is ’n dag van feesvier deur sang, feestelike musiek en die verkondiging van die Woord wat fokus op die oorwinning van Jesus Christus.

GOD VERSAMEL ONS VOOR HOM  

Liturgie van Lig

Almal staan.

Voorganger: Die Here is met elkeen van julle.

Gemeente: En ook met jou.

 

Voorganger: Gebed

O Hemelse Vader, seën vanoggend se feesviering! Mag die vuur in elkeen van ons aangesteek word om deel te wees van die Lig wat nooit gedoof kan word nie.

Gemeente: Amen.

Aansteek van die Christuskers 

Voorganger: Jesus Christus, gister en vandag, die begin en die einde, die Alfa en Omega; aan Hom behoort die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid.

Gemeente: Amen.

 

Die Christuskers word aangesteek

Voorganger: Mag die lig van Jesus Christus die donkerte in ons harte en gedagtes verlig. Help ons om as mense van die Lig te leef.

Gemeente: Amen.

 

Die opstanding van Jesus Christus 

Voorganger: Christus het opgestaan!

Gemeente: Christus het waarlik opgestaan!

Sang

Lied 40:1, 2 “Christus het opgestaan”

 

Eerste Skriflesing

1 Korintiërs 15:19-26

Sang

Lied 402:1, 2 “Die Heer het waarlik opgestaan

DIENS VAN DIE WOORD

Skriflesing

Johannes 20:1-18

Prediking

Geloofsbelydenis van Nicea

DIENS VAN DIE TAFEL

Offergawes word opgeneem

Gebed na die opneem van die offergawes

Gebed van Danksegging

Lied 301: 1-4 “Ons kom vier u maaltyd, Vader”

Tafelgebed 

Met die breek van die brood:

Hemelse Vader,

Voorganger: Wanneer ons die brood eet, deel ons die liggaam van Jesus Christus.

Wanneer ons die wyn drink,
deel ons die bloed van Jesus Christus.

Gemeente: O Here, maak Uself bekend aan ons in die breek van die brood en drink van die wyn, nes U Uself aan die dissipels bekend gemaak het. Amen.

Uitdeel van die tekens

Gebruik van die tekens 

UITSENDING 

Lied 411:1-3 “Kom, almal, laat jul stem verrys!”

Seën

Voorganger: Die Almagtige God seën en bewaar jou.

Gemeente: Amen.

 

Voorganger: God bring vir jou genesing deur die opstanding van Jesus Christus.

Gemeente Amen.

 

Voorganger: Ons het almal getreur oor die lyding en sterwe van Christus, nou vier ons die vreugde van die opstanding van Jesus Christus. Hierdie vreugde duur tot in ewigheid.

Gemeente: Amen.

 

Voorganger: Ontvang die seën van God, die Vader, in en deur die lewe van die Seun, Jesus Christus, deur die kragtige werking van die Heilige Gees.

 

Lied 314 “Amen”.

 

 

PREEKSTUDIE – JOHANNES 20:1-18Inleiding

“Hidden first in a womb of flesh, he sanctified human birth by his own birth.  Hidden afterward in the womb of the earth, he gave life to the dead by his resurrection” (Hesychius van Jerusalem, Paashomilie 5-6). Op Paassondag móét ons die opstandingsverhaal lees en verkondig. Die omkeermoment van die Jesusverhaal het immers aangebreek: die diepte, verlatenheid en stilte van die dood is oorwin. Die kruisiging en sterwe van Jesus is nie die laaste hoofstuk van sy verhaal op aarde nie. Daar is wel ’n weggerolde klip, ’n leë graf en verskynings aan mense as bewys van lewe na die dood.

Op Paassondag trek ons ons feesklere aan en vier saam met gelowiges oor die wêreld heen dat ons Here Jesus leef. Ons vier dat Jesus se oorwinning oor die dood vir ons die lewe op ’n radikaal nuwe manier moontlik maak; in die hede, in die toekoms, asook selfs na ons eie einde hier op aarde.

Op Paassondag onthou ons dat lyding en swaarkry, verontmensliking, rou, siekte, eensaamheid, verlange, wanhoop, sonde en die dood, ons tot in ewigheid nie sal kan afsny van God se liefde en sorg vir ons nie. Ons onthou dat die donkerste dieptes van dit wat ons lewe noem – dit wat soms soos hel kan voel – nooit die oorhand kan kry oor die genade en die werklikheid van Jesus se heerskappy nie; van hemel op aarde en hemel naas aarde.

Op Paassondag bely ons ons geloof “. . . in Jesus Christus, sy eniggebore Seun – ontvang van die Heilige Gees, gebore uit die maagd Maria, wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is, en ter helle neergedaal het; wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dood . . .

Die drie Sinoptiese evangelies vertel die opstandingsverhaal op ’n eie manier. Al die verhale begin min of meer dieselfde; met ’n vroeë Sondagoggend besoek aan Jesus se graf, die teenwoordigheid van Maria Magdalena, die weggerolde klip, en die verskyning van ’n engel (of engele). Na hierdie besoek aan die graf loop elke evangelie-weergawe egter ’n eie gang, wat verstaanbaar is in die lig van die ryke versameling opstandingstradisies in die vroeë kerk.

Die fokus van hierdie bespreking van Johannes 20:1-18 is nie soseer om die verskille en ooreenkomste met die weergawes van Matteus, Markus en Lukas op te som nie, maar eerder om dieper te delf in die weergawe wat die Johannesskrywer aanbied. Raadpleeg gerus self die beskikbare kommentare om veral die fyner besonderhede oor die unieke verskille te waardeer. Dit skets tog ’n besonderse beeld van die wyse waarop vroeë Jesus-volgelinge die verhaal hul eie probeer maak het, binne spesifieke kontekste en teologiese omgewings.

 

 

Teks en konteks

Hoofstuk 20 van die Johannesevangelie bevat drie verhale in ’n presiese kronologiese volgorde: 20:1-18 – Sondagoggend: die leë graf en Jesus se verskyning aan Maria Magdalena; 20:19-23 – Sondagaand: Jesus se verskyning aan die dissipels (Tomas afwesig); 20:24-31 – een week later: Jesus se verskyning aan Tomas en die dissipels. Johannes 20:1-18, bestaan op sy beurt ook uit drie dele: vers 1-2 – inleiding; vers 3-10 – die leë graf; en vers 11-18 – Jesus se verskyning aan Maria Magdalena. Aanhalings uit die teks kom uit die 2014 Direkte Vertaling (DV), asook die 1983 Afrikaanse Vertaling (NAB).

Vers 1-2. Die eerste besoek aan Jesus se graf vind plaas op “die eerste dag van die week . . . terwyl dit nog donker was” (DV, 12:1), dus, die Sondagmôre. Die eerste dag is bereken vanaf sononder op die Saterdag, tot sononder op die Sondag.

Persone wat ’n kruisdood gesterf het, is as kriminele hanteer. Daarom is begrafnisrituele en rou vir sulke persone verbied. In aangetekende gevalle is persone wat getreur het by die dood van ’n gekruisigde, self ook gekruisig. Maria Magdalena onderneem hier dus ’n lewensgevaarlike reis wanneer sy na die graf gaan. Dit is te verstane dat sy die donkerte verkies bo helder daglig.

In die Johannesevangelie besoek sy die graf op haar eie. Soos in 19:25 word Maria identifiseer aan die hand van haar geografiese herkoms, naamlik die dorp Magdala (meer letterlik: Maria, die Magdaleen).  Dit dui daarop dat sy na alle waarskynlikheid geen man of familie gehad het nie. Sy woon dus sonder familielede tussen of saam met die groepe wat Jesus gevolg het.

Sy “sien dat die klip van die graf af weggerol is” (12:1, NAB) en haar ontsteltenis is so groot dat sy nie eers verder in die graf kyk nie. Die oop graf is vir haar ’n teken dat die liggaam van Jesus nie meer daar is nie. Sy “hardloop” (12:2, DV, NAB) om hierdie nuus aan Simon Petrus en “die ander dissipel vir wie Jesus baie lief was oor te dra” (DV, NAB) (sien ook 13:23 en 18:15-16). Dit verklap die dringendheid van die situasie, en antisipeer ook die haas en dringendheid waarmee daar later na die graf teruggehardloop word (20:4).

“Hulle het die Here uit die graf weggevat . . .” (12:2, NAB), begin haar boodskap aan hulle. Haar woorde wek verwarring by die karakters sowel as die hoorders. Het onbekende persone eenvoudig die lyk verwyder, of het grafroof plaasgevind, soos wat algemeen was in daardie tyd? Die verwysing na Jesus met die eretitel “Here”, dui hier moontlik op die skrywer se poging om reeds, voordat dit aan die karakters bekend is, iets te laat blyk van sy nuwe status as die Opgestane Een.

Die gebruik van die voorsetsel in die eerstepersoon meervoudsvorm in 12:2 (“. . . ons weet nie waar hulle Hom nou begrawe het nie”) (NAB), kommunikeer dat Maria hierdie ontstellende en raaiselagtige nuus oordra binne die raamwerk van die hele groep Jesusvolgelinge, en nie net ten opsigte van haarself as individu nie.

Vers 3-10. Maria se aankondiging rakende die leë graf lei die tweede toneel in (12:3). Haar verhaal is vir eers op die agtergrond, met dié van Simon Petrus en die geliefde dissipel wat voorkeur geniet. Die uitbeelding van die twee dissipels word in baie detail en byna komies vertel: hulle “het saam begin hardloop” (NAB, 12:4), maar die “ander dissipel” het spoed aan sy kant en kom eerste by die graf aan. Daar gekom, sien hy die doeke lê, maar huiwer om in te gaan (12:5). Simon Petrus bereik die graf wel ná hom, maar huiwer glad nie (12:6); so tipies aan die karakter van Simon Petrus in die Johannesevangelie!

Deur die geskiedenis heen was daar al vele teorieë oor die simboliek van hierdie twee dissipels en hul aankoms- en graf-betredingspatrone. Sommige klink dalk meer aanvaarbaar as ander (en ook heel aanloklik as ’n “interessante” aanpak tot die verhaal vir ’n Paassondag-preek!), maar soos Gail O’Day tereg opmerk:  “Most of these theories lead away from the Fourth Evangelist’s focus on the significance of the empty tomb.” Die kollig val in hierdie deel van die verhaal nie in die eerste plek op Simon Petrus en die “ander dissipel” nie, maar wel op die leë graf en die betekenis daarvan.

Beide Simon Petrus en die “ander dissipel” sien die doeke daar lê, maar die spesifieke melding van die “doek wat om Jesus se kop was” (12:7, NAB) (“gesigdoek” of “kopdoek”, dieselfde woord as in 11:44), volg eers met verwysing na Simon Petrus se waarneming. Hierdie doek is eenkant afsonderlik opgerol. Daar word nie vertel van enige reaksie op hierdie bevindinge deur Simon Petrus nie; die “ander dissipel” gaan egter die graf binne, sien dit ook, en glo (sonder ’n voorwerp).

Daar is ’n duidelike dramatiese progressie aan die ontdekking van die bewyse van die leë graf: Maria sien die klip wat weggerol is voor die ingang (1); die geliefde dissipel let op die doeke (5) en; Petrus sien die doeke sowel as die kopdoek (6-7). Met Petrus se ontdekking beweeg die verhaal in die rigting van die uitklaring van Maria se verwarring en misverstand, soos uitgedruk in vers 2.

Ten spyte van hul waarnemings van ’n oop en leë graf, asook doeke wat in die graf agtergelaat is, maak die skrywer steeds die onbegrip van hierdie twee dissipels duidelik: “Hulle het nog nie die Skrif verstaan dat Jesus uit die dood moet opstaan nie” (9).

By gebrek aan ’n voorwerp vir die geloof van die “ander dissipel”, is die vraag wel: Wat is dit wat hy geglo het, nadat hy gesien het? Dat Maria die waarheid gepraat het toe sy gesê het dat Jesus verdwyn het (aldus Augustinus)? Alhoewel dit duidelik is, volgens die skrywer, dat insig oor Jesus se opstanding nog nie hier ter sprake is nie, wil dit tog iets kommunikeer in terme van die verband tussen “sien” en “glo”; waarskynlik dan meer as bloot dat Maria se woord betroubaar is.

Die waarneming van die doeke in die graf klaar ’n mate van die raaisel oor die leë graf op, naamlik dat dit nie ’n grafroof was nie. Rowers sou nie die moeite gedoen het om ’n lyk uit doeke te wikkel voordat hulle aanstaltes maak nie. Na alle waarskynlikheid kan dieselfde gesê word van die moontlikheid dat Jesus se liggaam bloot deur ’n onbekende persoon verwyder is; sy liggaam kon weliswaar verskuif word, maar dan steeds nie sonder die doeke nie.

Die doeke dra dus ’n bepaalde betekenis; as teken daarvan dat iets ongewoon plaasgevind het. Jesus se liggaam is nie uit die graf geneem deur iemand anders nie. Hy het self eerder op een of ander wyse die dood agtergelaat. Daar is egter steeds genoeg onbeantwoorde vrae op hierdie stadium van die verhaal om ’n verwagting by die hoorder te wek, veral een wat die Lasarusverhaal ook ken: as Jesus nie hier is nie, waar is Hy dan?

Die toneel eindig skielik, met die enigste mededeling dat die dissipels weer huis toe gegaan het (10).

Vers 11-18. Met die derde toneel word Maria Magdalena se terugkeer na die graf saam met Simon Petrus en die geliefde dissipel veronderstel, alhoewel dit nooit genoem word nie. Slegs die Johannesevangelie vermeld dat Maria by die graf “huil”. Dit word drie maal benadruk (12:11, 13 en 15). Sy is desperaat om Jesus te vind. Sy vertoef by die graf en buk vooroor “om in die graf in te kyk” (20:11).  Die ongewone gesig van twee engele met wit klere aan, sittende op dieselfde plek waar die liggaam van Jesus gelê het (12), blyk op geen manier vir Maria te skok nie. Meer nog, die engele sit op baie spesifieke plekke: “een waar die kop en een waar die voete was”.

Die engele bring in die Johannesevangelie geen Paasaankondiging nie, maar plaas eerder opnuut klem op Maria se diep hartseer deur vir haar te vra waarom sy huil. Die spesifieke posisies van die twee engele in ooreenstemming met die plek van Jesus se liggaam in die graf (12), dui moontlik op die aanbreek van die beloofde nuwe era deur Jesus se dood en opstanding. Die hemelse en aardse ontmoet mekaar, en dit in ’n leë graf.

Na haar antwoord aan die engele oor die oorsaak van haar verdriet (13), draai Maria om en sien ’n man by haar staan. Soos dikwels in die Johannesevangelie, sal Maria eers later tot insig kom na ’n aanvanklike gebrek daaraan. Die hoorders weet iets wat die karakter self nog nie begryp nie, naamlik dat dit Jesus is wat voor haar staan (14). Die opgestane Jesus lyk anders as voorheen. Sy verwar Hom met die tuinopsigter. Ook Jesus vra haar waarom sy huil en na wie sy soek. Hy spreek haar aan as “Mevrou”, net soos wat Hy sy ma in 2:4 en 19:26 aangespreek het. Hierop antwoord Maria vir Jesus:  “Meneer, as u Hom weggevat het, sê vir my waar u Hom begrawe het, en ek sal Hom daar gaan haal” (15).  Soos te verwagte van iemand in haar ontstelde toestand, is haar antwoord nie juis deurdag nie. Sy veronderstel dat hierdie man die liggaam moontlik gesteel het (of minstens verwyder het) en dat sy daartoe in staat sou wees om Jesus se swaar lyk self te kan optel en terugbring – waar dit dan ook al tans is.

Die raaisel van die leë graf en waar Jesus is word uiteindelik opgelos wanneer Jesus haar op haar naam aanspreek en sy die stem van haar leermeester herken. Sy reageer met die Aramese woord rabboeni (16), ’n persoonlike aanspreekvorm of meer intieme vorm van die woord rabbi (“leermeester”). Hierdie interaksie tussen Jesus en Maria onthul Jesus as die goeie herder en Maria as een van sy skape. Hy ken sy skape op die naam en hulle luister na sy stem (10:3-4, 14, 16, 27). Sy is ’n gelowige, soos Lasarus, wat ook die stem van Jesus gehoor het en toe uit die dood opgewek is (11:44). Meer nog, die beloofde ommekeer van rou en pyn na vreugde is bewerk deur die woorde sowel as die teenwoordigheid van Jesus (16:20-22). Soos met Lasarus.

In Johannes 20:17-18 maak Jesus self die betekenis van sy opstanding aan Maria bekend; dit is nie ’n boodskapper wat dit bring nie. Die kernbetekenis lê in die hemelvaart wat nog moet plaasvind. Vers 17 bevat die eerste twee opdragte van die opgestane Jesus. In vers 17a word ’n verbod gegee: Maria mag nie aan Jesus vashou nie, “. . . want Ek het nog nie na die Vader toe opgevaar nie” (NAB). Hierdie verbod dui op ’n handeling wat reeds besig is om plaas te vind, of op die bedoeling om op te tree. Hier gaan dit nie om ’n algemene verbod om aan Jesus se opgestane liggaam te raak nie (Hy nooi immers juis vir Tomas om dit te doen in 20:27), maar gaan eerder om ’n spesifieke verbod op die “vashou” van Jesus in hierdie oomblik – ’n inmenging met die ontvouing van die gebeure van die uur. Noudat die kruisiging en die opstanding plaasgevind het, kan die nabye verhouding tussen Jesus en die dissipels nie bloot voortgaan soos voorheen nie. Jesus se verheerliking moet voortduur: vanaf die kruis, deur die opstanding en uiteindelik tot by die punt van voltooiing, wanneer Hy na die Vader terugkeer.

Die noodsaaklikheid van Jesus se terugkeer na die Vader word uitgedruk deur middel van die tweede opdrag wat Maria in vers 17b ontvang. Sy moet na Jesus se “broers” gaan (’n inklusiewe term wat beide broers en susters insluit) en vir hulle sê dat Jesus op die punt staan om na die Vader op te vaar. Dit is opmerklik dat sy die goeie nuus van Jesus se hemelvaart met hulle moet deel, en nie die belofte van toekomstige na-opstanding verskynings nie.

Gegewe dat Jesus se hemelvaart die vervulling van sy verheerliking inhou, maak dit heeltemal sin waarom juis dit die boodskap is wat Maria moet gaan deel. Meer nog, Jesus se hemelvaart behels die vervulling van sy beloftes aan hulle wat Hy lief het. Deurdat Hy terugkeer na die Vader, maak Jesus dit moontlik vir sy dissipels om ten volle deel te hê aan sy verhouding met God. Vandaar dat Jesus benadruk: “Ek vaar op na my Vader toe, wat ook julle Vader is, na my God, wat ook julle God is.” Op ironiese wyse sal die nabye verhouding tussen God die Vader, Jesus en die dissipels, totale vervulling bereik in die weggaan-gebeurtenis wat binnekort gaan plaasvind. Soos wat ’n leë graf teken is van ’n lewende Jesus, sal ’n hemelvaart teken wees van die nouste moontlike verbintenis tussen die Vader, Jesus en die dissipels.

Maria gehoorsaam Jesus se opdrag en gaan na die dissipels toe. As die eerste ooggetuie van die opgestane Here Jesus sê sy vir hulle: “Ek het die Here gesien!” (18). Meer nog, sy vertel vir hulle wat Jesus vir haar gesê het rakende sy hemelvaart en word daarmee die “apostel aan die apostels” (Habermann) – as die eerste een wat die volle betekenis van die leë graf begryp en daaroor kan getuig teenoor ander. Oor die reaksie van die dissipels op haar getuienis kan daar net bespiegel word; die stilte daaroor in die verhaal is egter opvallend.

Preekvoorstel

Geroep op die naam

In die lig van die besondere en diep persoonlike ontmoeting tussen Jesus en Maria Magdalena kan ’n preek die weg gaan van nadenke oor die lewens-veranderende aard van ’n persoonlike ontmoeting met die opgestane Jesus.

Om Jesus se dissipel te wees, behels nabyheid tussen Hom en ons, wat ongekend is in enige ander verhouding waarbinne ons staan – selfs die kosbaarste vriendskap of verbintenis tussen geliefdes. ’n Dissipelskap-verhouding met Jesus trek ons in en maak ons deel van die intimiteit wat daar heers tussen die Vader en Jesus; ons is deel van die binnekring en het onbeperkte toegang tot die implikasies van daardie soort intimiteit, ook in ons eie lewe. Dit is waarskynlik nie toevallig dat Johannes 20 ’n hele aantal ooreenkomste bevat met Hooglied nie; Maria se passievolle soeke na Jesus eggo dié van die naamlose vrou wat soek na haar geliefde in Hooglied.

Jesus ken elkeen wat Hom volg op die naam. Te midde van die werklikheid van miljoene gelowiges oor die wêreld heen, gebruik Jesus die ruimte van ’n persoonlike verhouding (“ek ken jou op die naam” verhouding) om die hoop en liefde vir die wêreld bekend te maak. Dit is juis Jesus se uitspreek van my en jou naam, wat ons toelaat om Hom weer “my leermeester” (rabboenie) te kan noem.

Om te sien en glo

In die verhaal is daar as ’t ware twee “sien en glo” stories: dié van die geliefde dissipel en dié van Maria.  Beide vind plaas in die “baarmoeder van die aarde” (aldus Hesychius), maar vir een is die herinneringstekens aan Jesus “slegs” doeke, vir die ander een is dit ’n gesprek op die naam gevolg deur twee opdragte.

Eerder as om die een teenoor die ander af te speel, kan dit waardevol wees om na te dink oor die veelkleurigheid van ontmoetings met Jesus, waarbinne geloof bevestig word. Daar is geen ruimte of tyd of konteks waarbinne dit nie kan plaasvind nie. Dikwels is dit juis in die onverwagse plekke waar die werklikheid van die lewende Here tuiskom. So “gewoon” soos wat die ligging van ’n begraafplaas is vir hierdie deel van die Johannesverhaal, is dit in werklikheid ’n baie makabere keuse vir ’n Jesus-ontmoeting! En tog, in hierdie omgewing van doodsheid, word lewe bevestig.

Dalk nooi die verhaal ons uit om onsself af te vra: Wat het ek nodig om te sien (of te hoor), om te kan glo? Hoe dink ek oor leidrade soos ’n leë graf en doeke, in die afwesigheid van ’n konvensionele “bewysstuk” vir Jesus as lewende Here? Terselfdertyd, hoe oop is ek vir die gedagte aan ’n ontmoeting met die lewende Here, wat my op die naam aanspreek en my dan ook stuur om bepaalde boodskappe oor te dra – terwyl dit dalk die laaste ding is wat ek verwag, of voor gereed voel?

’n Onverwagse apostel

Jesus se aanspreek van Maria op haar naam, is die enigste geval waar Jesus ’n vrou by die naam aanspreek in die Johannesevangelie. In hierdie verhaal is dit opmerklik dat dit spesifiek Maria is wat die opdrag ontvang om te gaan vertel dat Jesus opgestaan het uit die dode en dat Hy opvaar na die Vader – en dit aan die res van die dissipels.

Simon Petrus en die geliefde dissipel het wel die doeke in die graf opgemerk en die geliefde dissipel het “geglo”, maar al wat ons weet is dat hulle teruggekeer het huis toe. Des te meer, die rede vir hulle inspeksie van die graf in die eerste plek, was juis omdat dit Maria was wat hulle vertel het van die weggerolde klip.

Dit sal jammer wees indien predikers, teen die agtergrond van die antieke konteks van die verhaal, nie die ongewoonheid van hierdie rolle raaksien nie. In die Johannesgemeenskap(pe), so voer vele kommentators aan, was deel van die uniekheid daarvan juis dat mans én vroue aktief deelgeneem het aan die volgelingskap van Jesus, die verkondiging van die nuus oor sy opstanding en selfs ook die leierskap. Dat dit juis ’n vrou met ’n naam is wat die eerste ooggetuie van die opgestane Jesus is, en wat die opdrag kry om daaroor te gaan praat met hulle wat deel is van haar gemeenskap, is radikaal.

In vele kerklike kringe, selfs in gemeentes van kerkverbande wat vroue as ampsdraers bevestig, word tot vandag toe nog debatte gevoer oor die “geskiktheid” van vroue as gemeenteleiers, al dan nie. Enkelvers aanhalings uit Pauliniese geskrifte is gunstelinge om standpunt hierteen in te neem; ironies genoeg word Jesus se eie optrede en opdragte gerieflikheidshalwe misgekyk. Die kerklike tradisie se voorkeur vir die “geliefde dissipel” se “sien en glo”-handeling in hierdie verhaal, teenoor Maria Magdalena se “sien, glo en gaan verkondig”-handeling, hoort ongelukkig nie slegs tot die verlede nie.

Dat daar in die gemeenskap van Jesus inklusief en gelykwaardig gedink en gedoen moet word wanneer dit kom by dissipelskap, is duidelik in hierdie verhaal. Juis op Opstandingsondag kan dit baie besonders wees indien predikers (dikwels nog oorwegend manlik) hierdie punt kan tuisbring.

Bibliografie

De Jonge, M 1996. Johannes. Tekst en toelichting. Een praktische bijbelverklaring. Kampen: Uitgeverij Kok; Elowsky, J C (ed) 2007. John 11-21. New Testament IVb. Ancient Christian Commentary on Scripture. Downers Grove: InterVarsity Press; Habermann, R 2012. Gospel of John: Spaces for Women, in Schotroff, L & Wacker, M-T (eds) 2012. Feminist Biblical Interpretation. A Compendium of Critical Commentary on the Book of the Bible and Related Literature. Michigan; Cambridge: William B Eerdmans. 662-679; Keck et al 2015. Eight. The New Interpreter’s Bible Commentary Luke, John. Nashville: Abingdon Press; Schüssler Fiorenza, E (ed) 1994. Searching the Scriptures. Volume Two: A Feminist Commentary. New York: Crossroad; Sloyan, G S 1988. John. Interpretation. A Bible Commentary for Teaching and Preaching. Atlanta: John Knox Press.

Liturgiese Voorstel 2

Leesroostertekste

Sleutelteks: Psalm 22
Ander tekste: Jesaja 52:13-53:12; Hebreërs 10:16-25; of Hebreërs 4:14-16; 5:7-9; Johannes 18:1-19:42

Inleiding

Vandag word Goeie Vrydag genoem, alhoewel ’n groot deel van die wêreld eintlik praat van “Heilige Vrydag”. Dit is goed om die diens sonder ’n seën af te sluit, tog kan gebruik gemaak word van ’n eenvoudige “Gaan in vrede” waarna die gebou in stilte verlaat word.

Rig die diens in met die fokus op die Skriflesings en gebede, waarin ons verklaar dat ons ons medepligtigheid, ons skuld en ons enorme behoefte aan vergifnis voor die voete van die gekruisigde Christus bring.

Daarom is hierdie een van die donkerste dae in die kerklike jaar. En daarom is dit baie belangrik dat die liturgiese ruimte met net ’n eenvoudige houtkruis ingerig word. In sekere tradisies word musiekinstrumente ook nie gebruik nie, en kan liedere sonder begeleiding oorweeg word, of dan ten minste met ’n eenvoudige instrument, byvoorbeeld ’n klavier, of ’n akoestiese kitaar.

Vandag is absoluut die dag vir “unplugged” aanbidding sodat elkeen van ons aandagtig kan fokus op die lyding, verlatenheid en sterfte van Jesus Christus.

Goeie Vrydag nooi mense om te luister na die verhaal van die kruisiging van Jesus Christus, en om deel te word van hierdie verhaal.

Gebruik gemeentelede as lesers van die Skrifgedeeltes.

Diensorder

God versamel ons voor Hom  

Aanvangswoord
Voorganger: Wie sal ons glo as ons hiervan vertel?
Wie sal die mag van die Here hierin kan raaksien?

Gemeente: Die dienaar was soos ’n loot wat voor die Here uitspruit, soos ’n plant wat wortel skiet in droë grond.
Hy het nie skoonheid of prag gehad dat ons na Hom sou kyk nie, nie die voorkoms dat ons van Hom sou hou nie.

Voorganger: Hy was verag en deur die mense verstoot, ’n Man van lyding wat pyn geken het, iemand vir wie die mense die gesig wegdraai. Hy was verag, ons het Hom nie gereken nie.

Gemeente: Tog het Hy óns lyding op Hom geneem, óns siektes het Hy gedra. Maar ons het Hom beskou as een wat gestraf word, wat deur God geslaan en gepynig word.

Oor óns oortredings is Hy deurboor, oor óns sondes is Hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op Hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom.

Ons het almal gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop, maar die Here het ons almal se sonde op Hom laat afkom.

Voorganger: Hy is mishandel, maar Hy het geduldig gebly, Hy het nie gekla nie. Soos ’n lam wat na die slagplek toe gelei word en soos ’n skaap wat stil is as hy geskeer word, het Hy nie gekla nie.

Terwyl Hy gely het en gestraf is, is Hy weggeneem, en wie van sy mense het dit ter harte geneem dat Hy afgesny is uit die land van die lewendes? Hy is gestraf oor die sonde van my volk.

Hy het ’n graf gekry by goddeloses,
Hy was by sondaars in sy dood al het Hy geen misdaad gepleeg nie en
al was Hy nooit vals nie.

Dit was die wil van die Here om Hom te verbrysel, om Hom die pyn te laat ly. As Hy sy lewe as skuldoffer gee, sal Hy ’n nageslag hê en nog lank lewe, deur Hom sal die wil van die Here sy doel bereik.

Ná sy bitter lyding sal Hy weer die lig sien en Hy sal die Here ken. My dienaar, die egverdige, sal baie mense regverdig maak: Hy sal die straf vir hulle sonde dra.

Daarom gee Ek Hom ’n ereplek onder die grotes. Hy sal saam met magtiges die oorwinning vier omdat Hy Hom in die dood oorgegee het en as misdadiger beskou is, omdat Hy die sondes van baie op Hom geneem het en vir oortreders gebid het (Jes 53).

Respons
Lied 38:1-3 “Voor vorste en die wêreld”

Diens van die Woord

Skriflesing
Psalm 22

Kort oordenking

Diens van die tafel

Nagmaalformulier
Na aanleiding van Johannes se evangelie –

Paulus getuig dat die Here Jesus self die nagmaal ingestel het (1 Kor 11:23-26). Johannes se evangelie vertel vir ons aan die begin van die afskeidsgesprekke op ’n besondere wyse van hierdie gebeure (Joh 13). Voor die viering van die Paasfees het Jesus al geweet dat die tyd vir Hom gekom het om van hierdie wêreld af na die Vader oor te gaan. Johannes vertel ons ook dat Jesus sy eie mense wat in die wêreld is tot die uiterste toe liefgehad het. Dit sluit ons in wat vandag, net soos Jesus se dissipels destyds, by sy tafel aansit in eenheid met Jesus en die eerste gelowiges. Daar aan tafel het Jesus sy dissipels voorberei op sy weggaan. Wat Hy vir hulle daar geleer het, is ook betekenisvol vir ons saamwees by hierdie tafel vandag.

Die brood wat ons vandag saam gaan eet en die wyn wat ons saam gaan drink:

  • Herinner ons aan wat Jesus vir ons gedoen het, hoe Hy as Seun van die mens verheerlik is.
  • Waarborg vir ons dat Jesus deur sy verheerliking ten volle vir ons verlossing betaal het, sodat ons deel aan Hom kan hê.
  • Is verder ’n viering dat Jesus deur die Heilige Gees hier in die sakrament by ons teenwoordig is en ons steeds nader aan Hom en aan mekaar trek en aan ons ’n nuwe gebod gee.
  • Gee vir ons die versekering dat die Gees van Christus ons hier op aarde as vriende van Jesus bewaar.
  • Verseker ons dat, al het Jesus daar by die tafel afskeid geneem, Hy ons nie as weeskinders alleen gelaat het nie, maar dat sy Gees ons steeds op aarde leer en herinner. Daarmee saam kry ons die versekering dat Hy weer kom en dat daar in die huis van sy Vader baie woonplek is.
  • Dui op Jesus se heerlikheid, maar nie ’n heerlikheid wat skitter nie, eerder ’n heerlikheid wat bloei. Daarom kan ons ook vandag aan Jesus se belofte aan sy dissipels vashou: “In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.”
  • Is in die teenwoordigheid van ons lewende Here en medegelowiges, die vriende van Jesus, ’n fees waartydens ons bely en weet dat ons droefheid eendag in blydskap sal verander.

Vriende van ons Here Jesus, hier by die nagmaalstafel vier ons vandag opnuut die liefde wat God aan Jesus bewys het. Ons ontvang weer die opdrag om aan Hom toegewy te wees. Daarom is ons gedagtenis vanoggend nie alleen die Jesus wat ons troos nie, maar in die besonder ook die Here Jesus wat in Johannes 13 van die tafel af opstaan, sy bokleed uittrek en ’n handdoek vat en om Hom vasmaak. Dit is die Here aan wie se tafel ons vanoggend aansit en wat vir my en jou vra: “Verstaan julle wat Ek vir julle gedoen het?”

Kom ons antwoord vanoggend op die vraag aan die dissipels deur ons geloof te bely:
Apostoliese geloofsbelydenis

Sang
Lied 271:1, 2 “Heil’ge Jesus, wat my lewe”

Uitdeel van die tekens
Instelling van die tekens

Sang
Lied 450:1, 2 “Vader, Seun, Heil’ge Gees”
Cas Wepener, Van voor die wieg tot na die graf, rituele roetemerkers vir die drumpels van die lewe, Bybelkor, 2014)

Uitsending

Genadeverkondiging
“Dit is die verbond wat Ek met hulle na daardie dae sal sluit, sê die Here. Ek sal hulle my wette in die hart gee, in hulle verstand sal Ek dit skrywe.” Dan sê Hy verder: “Aan hulle sondes en hulle oortredings sal Ek nooit meer dink nie.”

Waar die sondes vergewe is, is geen offer daarvoor meer nodig nie (Heb 10).

Uitsending
Ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom, en dit op ’n weg wat nuut is en na die lewe lei.

Hierdie weg het Hy vir ons gebaan deur die voorhangsel heen, dit is deur sy liggaam.

En terwyl ons Hom ook as groot priester oor die huis van God het, laat ons tot God nader met ’n opregte hart en met volle geloofsekerheid.

Ons harte is immers gereinig van ’n skuldige gewete en ons liggaam is gewas met skoon water.

Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het (Heb 10).

Die Christuskers word doodgeblaas en die gemeente verlaat die gebou in stilte.

Preekstudies - Johannes18:1-19:42

Tema
Wat is waarheid?

Teks en konteks

Die evangelie van Johannes is lief vir die getal sewe:

Daar word sewe van Jesus se wonderwerke beskryf in die eerste 11 hoofstukke van Johannes;

Daar word sewe “Ek is . . .”-uitsprake van Jesus in Johannes genoem;

Daar word beskrywe hoe Jesus sewe maal na Jerusalem vir ’n (Joodse) fees opgaan – die laaste keer met die pasga toe Hy gekruisig is en opgestaan het.

Hier in hoofstuk 18 en 19 word die gebeure vertel vandat Jesus gevange geneem is totdat Hy gekruisig word. Dit word as ’n drama vertel, ’n dramatiese toneelstuk – en natuurlik word dit in sewe tonele vertel. Die hoofspelers is Jesus, Pontius Pilatus, en die Joodse leiers. Maar voor ons by die sewe tonele kom, moet ons eers vra wie Pontius Pilatus was wat hier so ’n groot rol in die gebeure rondom Jesus se lyding speel – en selfs in ons geloofsbelydenis genoem word.

In Jesus se tyd het die Romeine omtrent die hele wêreld oorheers. Die Romeine het gewoon met hulle geweldige oorlogsmasjien ander volke se leërs oorwin, hulle grond gevat en met brute krag oor hulle geheers. Dan was daar ’n Romeinse goewerneur wat oor elke verowerde gebied geheers het. Die Romeinse goewerneur wat oor die Jode geheers het, was Pontius Pilatus. Hy het geweldig baie mag gehad. Hy het mag oor alles gehad: die ekonomie, die militêre eenhede, die regstelsel – en hy het dan ook mag oor mense se lewe gehad. Hy kon besluit wie lewe en wie word ter dood veroordeel. Dit is die soort mag waarmee Pontius Pilatus geheers het.

Die Romeinse goewerneur moes natuurlik ook uitkyk om sy eie magsposisie te behou. Want soos dit maar met mag werk, was daar baie ander Romeine wat sy posisie wou hê. Pontius Pilatus moes dus baie versigtig wees om die Romeinse keiser – wat hom aangestel het – te plesier en te verseker dat die Romeine se mag orals afgedwing word, asook dat niemand die keiser se heerskappy bedreig nie.

Pontius Pilatus sou natuurlik nie gekom het waar hy was as hy nie konneksies gehad het nie. Manne met mag help mekaar om in beheer te bly. Maar Pontius Pilatus het ook gesorg dat hy van die Joodse leiers aan sy kant kry wat bereid was om hom te dien, maar ook bereid was om hulle eie mense te onderdruk. So het hy sy mag behou deur die mense bo hom gelukkig te hou, asook die mense onder hom in bedwang te hou.

Nou kom speel die groot drama hom in sewe tonele af waar Pilatus met die Jode se aanklag teen Jesus gekonfronteer word. Die tonele speel om die beurt buite en binne Pilatus se ampswoning af:

Toneel 1 (buite – 18:29-32)
Pilatus het gehoor van die man wat deur sommige as die nuwe heerser beskou word en wil uitvind wat aangaan. Die Joodse leiers bring Jesus na hom toe, maar wil self nie ingaan in Pilatus se paleis nie, omdat dit hulle sou besoedel en hulle wou nog die pasga gebruik. Nou kom Pilatus na hulle toe uit.

Toneel 2 (binne – 18:33-38a)
Pilatus neem Jesus in sy ampswoning in en vra Hom of Hy die koning van die Jode is. Pilatus meen gou dat Jesus nie ’n bedreiging vir sy mag is nie, maar eerder ’n filosoof wat oor die “waarheid” wil praat.
Toneel 3 (buite – 18:38b-40)

Pilatus gaan weer na buite toe en probeer met die Joodse leiers onderhandel. Hy vind geen skuld in Jesus nie (met ander woorde, Pilatus dink dat Jesus nie ’n bedreiging vir sy mag is nie) en bied aan om Jesus los te laat as ’n geskenk gedurende die pasga. Die Jode wil Jesus egter dood hê. Vir hulle is Jesus ’n yslike bedreiging, want hulle weet waarvan Hy praat.

Toneel 4 (binne – 19:1-3)
Pilatus laat Jesus binne die ampswoning se erf gesel, terwyl die soldate Hom spot en Hom die koning van die Jode noem.

Toneel 5 (buite – 19:4-8)
Pilatus bring Jesus uit en wys Hom vir die Jode. Pilatus herhaal dat hy geen skuld in Jesus vind nie. Maar die skare (Jode) wil Jesus gekruisig hê en beskuldig Pilatus dat hy nie hulle wette eer nie. Nou begin Pilatus bang word vir sy eie posisie.

Toneel 6 (binne – 19:9-11)
Pilatus neem Jesus weer  binne toe en vra Hom om Homself te verdedig. Pilatus het immers die mag om Jesus los te laat of te laat kruisig. Jesus antwoord dat Pilatus geen mag het wat God nie vir hom gegee het nie.

Toneel 7 (buite – 19:12-15)
Pilatus probeer  Jesus loslaat, maar die Jode herinner hom dat Jesus ’n bedreiging vir die  mag van die keiser is. Pilatus skrik en gee Jesus oor om gekruisig te word.

Preekvoorstel – temas

Kom ons konsentreer vandag op die twee tonele waar Jesus en Pilatus met mekaar praat. Dit is die tweede toneel (18:33-38a) waar Jesus en Pilatus vir die eerste keer met mekaar praat oor wat waarheid is, asook die sesde toneel (19:9-11) waar Pilatus Jesus vra om Homself te verdedig. Pilatus het mag om Jesus te laat kruisig. Jesus antwoord egter dat Pilatus geen mag het wat God nie vir hom gegee het nie.

Tema 1: Wat is waarheid?
Pilatus probeer van Jesus uitvind of hy ’n militêre leier met ’n eie leër is. Jesus praat egter oor ’n koninkryk wat nie van hierdie wêreld is nie en dat Hy gekom het om die waarheid te verkondig. Pilatus is verlig. Hy dink Jesus is sommer ’n dromer en ’n soort filosoof wat filosofeer oor die “waarheid” soos die Romeinse en Griekse filosowe van die tyd gedoen het, en al vir eeue gedoen het van lank voor Plato se tyd af.

Pilatus verstaan duidelik nie wat Jesus sê nie. Hy verstaan net van mag; van mense onderdruk en jouself met mag handhaaf. Hy verstaan nie van die waarheid wat Jesus verkondig nie, van God se liefde vir die mensdom wat alles oorheers nie. Hy verstaan nie Jesus se boodskap oor wat Hy hier op aarde kom doen het nie, naamlik om mense te genees, om uit te reik na mense, om die hart van mense weer in die sentrum van menswees te sit nie.

Pilatus verstaan ook nie dat Jesus wel Koning is nie. Jesus is nie net ’n koning nie, Hy is dié Koning. Jesus heers oor die kwade. Hy heers oor die soort mag wat Pilatus en die Romeine oor mense het. Jesus heers oor haat en die dood. Hy plaas in die plek daarvan liefde en vergifnis. Jesus wil mense aanspoor om die beste in  mekaar uit te bring en vir mekaar om te gee.

Tema 2: God is in beheer
Te midde van hierdie vreeslike gebeure, selfs nadat Hy gegesel is, sê Jesus vreesloos – nadat Pilatus Hom die kans gegee het om te sê Hy is “onskuldig” en om vry uit te stap – God is in beheer, ook van dit wat hier besig is om te gebeur.

Dit is die waarheid waarvan Jesus praat en waarvan Pilatus niks verstaan nie. Dat ons God se liefde vir ons kan vertrou, selfs in die slegste sleg wat ons oorkom, selfs in ons pyn en lyding, selfs in die dinge wat ons nie kan verstaan nie.

En al staan die waarheid voor ons, en ons sien dit nie – soos Jesus, die Waarheid, voor Pilatus gestaan het – dan kan ons God se plan, en God se goedheid, en God se liefde nie keer nie.

© Missio 2024 | All rights reserved.