Paasfees

Sections

Oorsig

Inleiding

Ons vier Paasfees jaarliks op die eerste Sondag na die eerste volmaan na die herfs-dag-en-nag-ewening (21 Maart). Paasfees kan dus enige tyd van 22 Maart tot en met 25 April gevier word. Die datums van Aswoensdag, Hemelvaart en Pinkster is afhanklik van die datum van Paassondag.

Paastyd, voorafgegaan deur Lydenstyd, word gevier vanaf Paassondag tot en met Pinkstersondag – ’n tydperk van 50 dae (Grieks pentekoste). Hierdie 50 dae van vreugde en blydskap neem dieselfde plek in die kerklike jaar in as wat die Sondag in die week inneem.

Al meer gemeentes begin die viering van Paastyd met ’n Paaswaak, wat reeds die Saterdagaand voor Paassondag begin en wat duur tot in die vroeë oggendure van Paassondag – tradisioneel die tyd wanneer Jesus uit die graf opgestaan het. Weer eens speel die simboliek van lig deur middel van kerse ’n belangrik rol. Tydens die Paaswaak word die Paaskers aangesteek wat in baie gemeentes regdeur die jaar brand en die gemeente voortdurend herinner aan die verrese Christus, ons Lig en Lewe.

Waar alle blomme en versierings Donderdagaand uit die kerkgebou verwyder is, is daar nou ’n ontploffing van blomme – en om die vas te breek het baie gemeentes ’n ontbyt vroeg op Paasoggend.

Dit is baie belangrik om daarop te let dat Paastyd die volle 50 dae gevier moet word. Die viering van Paasfees is nie net beperk tot Paasoggend nie. Dit sou ’n verskraling van die betekenis van die opstanding wees. Paastyd behoort die mees vreugdevolle en feestelike tyd van die jaar vir die kerk te wees. Die versiering van die kerkgebou behoort dit ook te reflekteer.

Verder moet ons ook in gedagte hou dat elke Sondag eintlik ’n klein Paasfees is aangesien ons elke Sondag die opstanding van ons Here vier.

Tydseie kenmerke
Simbole, kleure en rituele

  • Ons nagmaalviering staan te veel “in die teken van rou”.  Paasoggend is ’n ideale geleentheid om die vreugdekarakter van die nagmaal te beklemtoon.
  • Reeds in die vroeë kerk is daar met Paasfees gedoop en belydenis afgelê. Alles liturgies denkbaar het gebeur.
  • Wit en goud, as kleure van oorwinning en vreugde. Die leë kruis kan met wit en goud gedrapeer word. Die Paaskers is die sentrale simbool.
  • Doen soveel moontlik met blomme – in oorvloed.
  • Hierdie is die ideale tyd om die kerkklok te benut – veral Paassondag met dagbreek.

Fokusteks

Handelinge 10:34-43

Ander RCL tekste

Psalm 118:1-2; 14-24 (Ons kan die Here loof, want Hy is goed en aan sy liefde is daar geen einde nie); 1 Korintiërs 15: 19-26 (Christus is uit die dood opgewek, daarom hoop ons op Hom, want Hy het die oorwinning behaal); Johannes 20:1-18 (Die Here Jesus leef! Daarvan is die leë graf en sy verskyning ’n bewys) of Lukas 24:1-12 (Jesus leef; Hy is uit die graf!).

Handelinge 10:34-43
Petrus se toespraak by Kornelius
34Toe het Petrus aan die woord gekom en gesê: “Waarlik, ek begryp nou eers dat God nie onderskeid maak nie, 35maar in enige volk die mense aanneem wat Hom vereer en doen wat reg is. 36Julle weet dat God aan Israel sy woord gestuur het, naamlik die evangelie van vrede wat Jesus Christus gebring het. Hierdie Jesus is Here van almal. 37Julle weet ook van die gebeurtenisse dwarsdeur die hele Joodse land. Dit het in Galilea begin ná die doop wat Johannes verkondig het. 38Julle weet van Jesus van Nasaret, dat God Hom met die Heilige Gees gesalf en met krag toegerus het. Hy het rondgegaan, oral goeie werke gedoen en almal gesond gemaak wat in die mag van die duiwel was, want God was by Hom.

39“En ons is getuies van alles wat Hy in die Joodse land en in Jerusalem gedoen het. Hulle het Hom doodgemaak deur Hom aan die kruis te hang. 40Maar God het Hom op die derde dag uit die dood opgewek en Hom laat verskyn, 41nie aan die hele volk nie, maar net aan ons vir wie God reeds gekies het om getuies daarvan te wees, ons wat ná sy opstanding uit die dood saam met Hom geëet en gedrink het. 42Hy het ons opdrag gegee om aan die volk te verkondig en te bevestig dat dit Hy is wat deur God aangestel is as Regter oor lewendes en dooies. 43Van Hom getuig al die profete dat elkeen wat in Hom glo, vergewing van sondes deur sy Naam ontvang.”

Eksegeties

Vers 34: God maak nie ’n onderskeid nie. Daar is by God nie een groep wat meer geskik is as ’n ander om sy genade te ontvang nie. Daarmee sê die Here dat Hy almal op die aarde se God is, almal is voorwerp van sy liefde. In die Ou Testament was daar wel ’n verskil tussen Israel en die ander volke in die sin dat God net vir Israel gekies en Hom net aan hulle openbaar het, maar God se bedoeling was nooit dat sy liefde moet stop waar Judaïsme stop nie. Nee, die volk Israel moes juis duidelik die seën en voordele van die Godsvolk so illustreer en uitleef dat die ander volke sou kom en vra: Help ons, ons wil ook julle God aanbid, soos Sagaria 8:23 sê.

Die verandering wat by hierdie preek intree, is geen nuwe wending in die Godsopenbaring nie, die profete het nog altyd verkondig dat almal deel moet wees van God se koninkryk (v 43), maar die mense kry nou eers begrip daarvoor. Petrus sê dat hy die betekenis van hierdie openbaring nou eers werklik besef. Nou eers? Dit het nogal lank geneem vir hierdie insig om deur te kom, want hy het saam met die ander dissipels die opdrag persoonlik van Jesus gekry om die evangelie ook aan ander te gaan vertel. Op Pinksterdag het die Heilige Gees hulle nog duideliker laat verstaan dat hulle vir mense van ander tale moet gaan preek. Nou het die Here vir Petrus ’n visioen gegee en pertinent vir hom gesê om saam met die heidense mans te gaan en nie te twyfel of terug te kyk nie. Nou eers verstaan Petrus die boodskap en gehoorsaam hy die Here. Die ander Israeliete wou nie maklik hierdie boodskap en opdrag aanvaar nie, naamlik dat nie-Jode ook deel van God se koninkryk is. Dit was ook nie maklik vir Petrus om die ander gelowiges van hierdie nuwe insig te oortuig nie, inteendeel, hulle het hom daarvoor verwyt (11:1-2).

Vers 35: Binne die konteks van die argument kan hierdie teks nie verkeerd verstaan word nie, naamlik dat God gelowiges van enige volk aanvaar en liefhet. Iemand wat die draad van die argument ignoreer en hierdie teks buite sy verband aanhaal, sal maklik ’n verkeerde aksent kan plaas op die verdienste van ’n mens wat vir God kan beïndruk en so ’n paar punte van werkgeregtigheid kan aanteken om God om te koop omdat hy “geregtigheid doen” (1933-vertaling). Die teks wil sê dat geen Jood of lid van enige bevolkingsgroep op grond van sy etniese afkoms ’n groter of kleiner reg het op God se genade nie. Genade sluit so ’n voorwaarde juis uit.

Vers 36: Lukas beklemtoon dit hier dat die verlossingsboodskap wat deur die Joodse volk gekom het, dieselfde is as wat Jesus Christus (self ’n Jood) verkondig het en dat hierdie boodskap nie net bedoel was vir hulle eie volk nie, maar juis vir almal. Die volk Israel was net die eerste ontvangers, die boodskappers, die medium waardeur God die wêreld wou seën en vir hulle wou laat verstaan dat die een God in die hemel, hulle ook lief het. Hy is almal se God en dit is wat die kerk moet gaan verkondig, juis aan die nie-Jode wat vir lank afgeskeep was omdat die volk van God nie die implikasies van God se Woord verstaan het nie. Die verskil wat duidelik na vore kom tussen wat die Ou- Testamentiese profete oor God, as God van almal, verkondig het, en die kerk van die Nuwe Testament, is dat die inhoud van die verkondiging ’n nuwe aksent kry en pertinent genoem word dat Jesus die Seun van God is. Hy is die Here van alle mense op aarde.

Vers 37: Petrus maak in sy preek ’n kort opsomming van die getuienis van Jesus, wat Hy alles gedoen het. Dan begin hy die beskrywing by Johannes wat vir Jesus doop, en hy eindig by die leë graf.

Vers 38: Kornelius-hulle het reeds van Jesus gehoor, maar Petrus verduidelik nou wie Jesus eintlik was, dat dit Hy is wat deur God gestuur is om ons verlossing te bewerkstellig, deurdat Hy met die Heilige Gees gesalf is. Hy was nie ’n gewone mens nie. Hy het die krag van God gehad (verwys na die Stem by sy doop). Hy is die middelaar tussen God en mens. Daarom het Hy die werke van God kom doen om swak mense te help, en hulpeloses te red, genadige handelinge wat wys dat God lief is ook vir swakkes en uitgeworpenes, en vir nie-Jode.

Vers 39: Dit is belangrik vir Petrus om te bevestig dat wat hulle gehoor het van Jesus, nie net stories in die volksmond was nie, maar dat die dissipels wat saam met Jesus hierdie dinge deurgemaak het, juis gekies is om ooggetuies te wees van alles wat gebeur het. Die evangelie verkondig die goeie nuus dat God die mense vergewe en hulle sondes onomkeerbaar kom betaal het. Die deel van hierdie proses wat sigbaar was, waar Jesus die lydende Messias is, gee aan die verlossingsboodskap werklike aardse voete wat oorvertel kan en moet word, met Petrus-hulle wat kan instaan vir die waarheid daarvan. Daarom noem hy sy ooggetuie-status ook hier in sy preek ter bevestiging van die werklikheid van God se verlossing, wat onder andere bewerk is ten spyte van die verwerping van Jesus deur die Joodse volk en die goddelike ingryping van God die Vader.

Vers 40: Die verlossingsboodskap bestaan daarin dat God wonderwerke kan doen (gereeld doen). In die gebeure wat God gedoen het toe Hy ons losgekoop het van ons sondes, het een van die merkwaardigste wonderwerke van alle tye plaasgevind, die opstanding van ons Here Jesus Christus. Daar was geen ooggetuies van die gebeure self nie, maar oorgenoeg getuies wat vir Christus gesien, met Hom gesels en saam met Hom geëet het. Daarvoor kan Petrus en ’n hele paar ander gelowiges instaan, en getuig Petrus hier in sy preek daarvan. Die Translator’s Handbook wys daarop dat die klem hier op die handelende God waarskynlik nie sterk genoeg deur ’n gewone vertaling uitgedruk kan word nie, naamlik dat dit Gód was wat hierdie daad gedoen en sy Seun opgewek het uit die dood. De Villiers dink dat Petrus so uitdruklik van die opstanding praat omdat hy (Kornelius) nog nie daarvan gehoor het nie, maar ’n groter waarskynlikheid is dat Petrus die geweldige implikasie van die nuwe lewe wat hiermee saamhang wil onderstreep.

Vers 41: Hoekom het Jesus nie aan die Jode verskyn nie? Hoekom het Hy hulle nie gaan konfronteer met die waarheid nie? Sal daar ooit in die geskiedenis van die wêreld so ’n oortuigende bewys kon wees dat Jesus die Christus is, as met sy verskyning aan die Jode en priesterleiers? Hoeveel bekerings sou daar gewees het as Jesus daardie dag deur die strate van Jerusalem geloop het? Hy sou nie nodig gehad het om een enkele woord te sê nie. Maar nee, Hy het besluit om nie aan almal te verskyn nie, net aan die gelowiges. Dit lyk of die Here sy opstanding nie wou gebruik om nuwe bekeerlinge te maak nie, maar slegs om gelowiges te versterk in hul lewe saam met God. Dit lyk dan asof dit nie sommer vir alle gelowiges beskore was om die opgestane Here te sien nie. Nee, Petrus noem dat dit mense is wat voorheen deur God verkies is vir hierdie voorreg. Want hierdie gelowiges het ’n besonderse groot verantwoordelikheid ontvang deurdat hulle daar kon wees met die Here se verskyning(s). Hierdie verantwoordelikheid sou ons rofweg kon opsom as die taak om so te getuig en te lewe vir hulle Here, dat daar van die handjievol gelowiges op daardie tydstip, ’n kerk van die Here sou groei wat twintig eeue later nog steeds die grootste godsdiens op die aarde sou wees en miljoene der miljoene sou tel.

Dit blyk dat daar ten minste twee gewigtige redes is waarom Jesus Hom na sy opstanding nie self aan die mense wou gaan vertoon nie: (a) Die eerste en mees voor die handliggende is: Indien die opgestane Here Jesus vir die Joodse leiers en die volk en almal wat betrokke was, sou gaan wys dat Hy leef en die dood nie oor Hom regeer nie, sou daar waarskynlik honderde mense tot die besef kom dat Jesus wel is wie Hy gesê het. Die logiese afleiding sou die meeste mense tot die besef gebring het dat hulle nie ’n ander opsie het nie, as om die Here te glo en te aanvaar, want dit is Hy wat as Regter oor almal sal oordeel en almal sal veroordeel wat nie in Hom glo nie. Duisende bekerings sou gevolg het. Maar wat sou die aard van daardie mense se geloofslewe wees? Nie ’n dankbare lewe van liefde om God se Naam te eer nie, maar ’n wettiese godsdienstige lewe wat alles nodig is om die ewige verdoemenis vry te spring, gevolge waarvan Petrus verder ook praat. Volgens die Bybel en die wil van God, is dit nie ware geloof nie, nie gerig op die verheerliking van God nie, maar eerder ’n selfgerigte daad om iets te ontvang wat God by magte is om te gee. (b) Die tweede en waarskynlik grootste rede hoekom Hy net aan gelowiges verskyn, vind ons juis in die volgende teksvers.

Vers 42: Die groot rede hoekom Jesus nie na sy opstanding in die strate van Jerusalem aan die mense verskyn en vir hulle gewys het dat Hy inderdaad die Here is nie, word in hierdie teksvers weergegee. Dit is juis omdat dit die voorreg en taak van die dissipels van Jesus is om hierdie verlossingsboodskap te gaan vertel, eerstens aan die volk van Israel en dan ook aan die ander mense, tot aan die einde van die aarde. Daarom sê Petrus die Here het daardie opdrag aan óns gegee, wat ons wat Hy gekies het om dit te doen. Ons mag, ons moet, ons sal dit doen. In die lig van hierdie teksvers word dit ook baie duidelik hoekom die engel wat met Kornelius praat, geswyg het oor die verlossingsboodskap en nie ’n woord gerep het van hoe hulle tot geloof kon kom nie. Nee, hy het slegs die afspraak vir Petrus gemaak om dit te kom doen. So het hy eers aan Kornelius verskyn en aan hom gesê om vir Petrus te laat haal. Die engel (en die Heilige Gees) reël ook aan die anderkant die afspraak deur Petrus voor te berei om hom gewillig te maak om na Kornelius te gaan. Die engel preek nie vir Kornelius nie. Die Here Jesus preek nie eintlik vir skares mense om hulle te bekeer nie. (Wil julle nie ook weggaan nie?)  Nee, om te preek en mense te help om te glo, is die voorreg van Petrus en al die ander gelowiges, want God wil wys hoe ernstig Hy oor sy keuse is om deur die krag van die Heilige Gees, sy kinders te gebruik om getuies te wees van God se genade.

Die Griekse woord kerussein het hier die uitdruklike betekenis van aankondig, bekendmaak, gaan vertel van ’n werklikheid (verlossing) wat reeds gebeur het. Dit is nie om iets tot stand te gaan bring nie, maar om te sê die redding is reeds tot stand gebring, neem kennis daarvan en verbly julle daarin, glo dit.

Vers 43: Hier eindig Petrus sy preek met dieselfde gedagte as waarmee hy begin het, naamlik met die beklemtoning van die feit dat almal wat in Jesus glo, vergifnis van sondes ontvang, ongeag van watter agtergrond, volk of taal hulle afkomstig mag wees. Hierdie skuif in die verstaan van die evangelie is van uiterste belang en is vir Petrus ’n nuwe ervaring wat hy na alle waarskynlikheid nie sou insien daar in Jerusalem tussen die ander Jode nie, maar juis hier in die huis van iemand wat alom in die Joodse kringe as ’n onbesnede heiden beskou word. Hierdie nuwe aksent sou later die verkil maak of die Christendom ’n wêreldgodsiens sou word wat hoop bring vir almal, en of dit ’n “sekte” sou bly, soos beskou deur die ander Israeliete wat bly vasklou het aan die Judaïsme en wou voortgaan met hul volksgebruike en etnies-kulturele seremonies.

Petrus noem dit duidelik dat dit nie ’n nuwe boodskap is wat hy of Jesus gebring het nie. Nee, dit was nog altyd die kern van die boodskap van al die profete, sê Petrus, al het die mense van die volk Israel dit nie aanvaar nie.

Die struktuur van die perikoop bring ’n paar duidelike aksente na vore. Daar is drie dele wat ons A B en C nommer en wat elkeen die volgende inhoud het:

A
Petrus sê: Ek sien nou dat God nie net mense van een volk liefhet nie.
Hy kies uit alle volke mense wat glo,
Hy het lankal hierdie boodskap verkondig
dat Hy almal se Here is.

B
Julle weet van Christus, wat gesalf is deur die Heilige Gees.
Ons het gesien hoe Hy mense met siektes en duiwels uithelp,
maar die Jode het Hom aan ’n kruis doodgemaak.
Hy het die derde dag opgestaan en verskyn aan mense,
nie aan almal nie, maar ons wat gekies is, wat saam met Hom was.

C
Hy het ons beveel om te gaan verkondig
dat Hy die Regter sal wees.
Die profete praat oor Hom en sê
dat elkeen wat glo in Hom, vergewe word.

Opsomming van die drie dele:
A  God is almal se God, Hy het dit lankal gesê.
Jesus het God se liefde kom wys, die Jode het Hom gekruisig. Maar Hy het opgestaan en ons is getuies daarvan.
Hy het ons beveel om vergifnis te gaan verkondig soos wat die profete gedoen het.

Tema van die perikoop: ABC = Ons moet aan álmal gaan verkondig: glo, en God sal julle verlos.

Hermeneuties

Opstanding
Die Christendom staan en val met die geloof in die opstanding van Jesus Christus. Hy is opgewek as die “eersteling van dié wat gesterf het” (1 Kor 15:20). Die feit dat Hy die eersteling is en dat die ander wat aan God behoort Hom by sy wederkoms sal volg, bevestig die sentrale posisie van die opstanding – vir ons totale bestaan en dus ook vir die erediens. Paulus sê uitdruklik: “As Christus nie opgewek is nie, is julle geloof waardeloos en is . . . dié wat in Christus gesterf het, verlore” (1 Kor 15:17-18). Dis duidelik dat die opstanding die hart vorm van die Christelike verkondiging, geloof, lewe en teologie. “In ’n definitiewe sin is alle Christelike prediking dan ook opstandingsprediking” (D J Smit in WTL3).

Die opstanding van Jesus is die episentrum van die Christelike geloof en die kerk. ’n “Episentrum” is die teoretiese punt reg bokant die plek waar ’n aardbewing ontstaan en van waaruit dit verder uitkring. Die Christelike geloof en die kerk het vanuit die geloof in die opstanding van Jesus Christus ontwikkel. Dit was dus nie maar één van die dogmas van die kerk wat eers later ontstaan het nie (soos bv die leer oor die Drie-eenheid wat eers in die vierde eeu na Christus beslag gekry het). Na Jesus se kruisiging was die dissipels platgeslaan. Alles was daarmee heen. As Jesus nie na sy opstanding aan hulle verskyn het nie, sou daar nie so iets soos die Christelike geloof of die kerk bestaan het nie. Dit is geen wonder nie dat die vroeë Christene mekaar met juis die woorde gegroet het: “Christus het opgestaan”. Alle vroeë Christelike geloofsbelydenisse het ook die opstanding van Jesus as beginpunt.

Paasfees is dus die kern van die viering van die kerklike jaar en daarom die groot hoogtepunt. Trouens, dis juis vanuit die viering van Jesus se opstanding dat die hele tradisie van die kerklike jaar ontwikkel het. Tydens die groot driedagliturgie (vanaf Donderdagaand) beleef ons liturgies weer ons eenheid met Christus in sy dood en opstanding. Die misterie van ons eenwording met Jesus Christus – soos Paulus dit in Romeine 6 beskryf – word liturgies gevier. Ons sterf saam met Hom, staan saam met Hom op en begin ’n nuwe lewe saam met Hom. Daarom sê Paulus in Galasiërs 2:20 ook dat ons nie meer lewe nie, maar dat Christus in ons leef. Ons eenheid met Christus het die potensiaal om elke aspek van ons lewe te transformeer.

D J Smit merk egter die vreemde verskynsel, naamlik dat daar van die opstanding in die praktyk van die Christelike  erediens eintlik weinig teregkom!  Hy meen dis ’n simptoom daarvan dat die opstanding in die geheel van die Christelike lewe en denke nie die sentrale rol speel wat dit behoort nie. Die riglyn, wat hy vanuit Josuttis  vir liturge hieroor bied, is dat ’n gemeente nie ’n meesleurende kanselgenie benodig nie, maar iemand, soos hulle, wat die erns en omvang van die dood ken, maar daarnaas ook weet:  Jesus is opgewek vir ons!

Die opstanding bied nuwe lewensmoontlikhede. Die motief dat ’n Christen reeds nou al kan opstaan in ’n nuwe lewe, moet duidelik in die erediens na vore kom.

Handelinge
Die boek Handelinge is die skakel en sluitsteen om die sprong te verstaan tussen die evangelies, met die leringe en optrede van Jesus, en die Nuwe Testament briewe wat aan gevestigde gemeentes en groeiende Christengroepe geskryf is. Dit is die oorgang, die fondament van die latere gebeure in die kerk, die implimenteringswyse van dit wat die kerk by die Here Jesus gehoor het en die manier waarop hulle die boodskap van die Ou Testament verstaan in die lig van die verskyning van die Christus. Baie van die vrae waarmee ons vandag worstel en waarvoor daar nie ’n teksvers is wat aan ons ’n antwoord gee nie, word juis belig op die manier waarop die apostels en die vroeë geloofsgroepe die boodskap van die Here verstaan het as uitvloeisel van die verbond wat God met sy volk Israel gemaak het.

In Handelinge word eers vertel van die gebeure in die gemeente van Jerusalem, en dan kom daar juis hier in hoofstuk 10 ’n verandering waar ons die eerste maal lees van nie-Jode in die gemeente en nie-Joodse gemeentes, en dan verder van Paulus wat juis na die heidene gaan om die Woord aan die res van die wêreld te verkondig. Ons sou dus kon sê dat hierdie perikoop die skarnier is wat betref die verstaan van die Godsvolk, waar dit in die Ou-Testamentiese tyd as die volk Israel gesien is, en die Nuwe-Testamentiese volk van God wat bestaan uit gelowiges uit alle volke.

Binne die hele gebeure van Petrus wat gaan preek by die huis van Kornelius (Hand 10), sien ons die volgende opsomming van die begin aan die Kornelius verhaal (hfst 10:1-33):

  • Kornelius is godsdienstig, maar hy ken nie die pad van verlossing, na Jesus nie.
  • ’n Engel verskyn aan Kornelius en sê hy moet Petrus laat kom.
  • Die engel wys vir Petrus dat die ou wette verander, oor wat en wie heilig is.
  • Die engel sê vir Petrus hy moet na heidene gaan sonder terughouding.
  • Petrus kry sy opdrag om by heidene te gaan preek.
  • Petrus is gehoorsaam en hy gaan, soos die engel gesê het.
  • Petrus sê dat daar nie meer skeiding tussen Israel en heidene is nie.
  • Kornelius sê vir Petrus die engel het hom laat kom.

Die kernteks, Petrus se preek: vers 34-43. Dit wat daarop volg, is baie interessant, want:

  • Die Heilige Gees kom in hierdie nie-Joodse gelowiges, en Petrus doop hulle.
  • Petrus kry moeilikheid omdat hy dit durf waag het om vir heidene te gaan preek.
  • Petrus verduidelik aan hulle van die engel wat hom beveel het.
  • Hy vertel aan hulle dat die Heilige Gees in daardie nie-Jode gekom het.
  • Die gelowiges in Jerusalem aanvaar dit toe maar.

Wat hier uitstaan, is dat die Here lankal wou hê die gelowiges moet vir die heidene gaan preek, hulle wou dit nie doen nie, en hier, onder duidelike instruksie van die Here, doen Petrus dit, maar hy sleep voete, doen dit nie uit oortuiging nie, maar amper onder dwang van die Here, soos wat duidelik word uit sy verweer: Ek kon dit nie keer dat hulle gedoop word nie, toe doen ek dit maar.

Dan volg daar twee insidente wat waarskynlik deur Lukas opgeteken is as kommentaar op die koue reaksie van die Judese Christene oor Petrus wat dit gewaag het om by heidene aan huis te gaan en vir hulle te preek: (i) Daar kom hongersnood en die gelowiges in Judea kry baie swaar. Die nie-Joodse gelowiges bewys hulle Christelike vrygewigheid; hulle maak hulle harte oop deur die Joodse gelowiges te help met kos en materiële hulp. Dit is soos wat gelowiges behoort te doen, om andere te help met dit wat God vir hulle gegee het. Die nie-Joodse Christene het besef dit gaan swaar met die Christene in Judea, en hulle maak hulle harte oop en help hulle, soos wat die Judese Christene van die begin af hulle harte moes oopgemaak het om die nie-Jode te help om ook die evangelieboodskap te ontvang. (ii) Petrus word gevang, maar God red hom uit die tronk. Hy gaan na Maria se huis, en wil die goeie nuus vertel, dat hy gered is, maar die gelowiges glo dit nie, hulle aanvaar nie die diensmeisie se woord nie, sê sy is mal. Mens kan hierdie gebeure as ’n ironiese sinspeling sien op die geslotenheid van die Judese Christene wat nie bereid is om nie-Jode in hulle gemeente te verwelkom nie. Hulle is skepties om die diensmeisie te glo om Petrus, die rots van die gemeente, te aanvaar en binne te laat, en amper laat hulle hom nie eers toe om hulle Christenbyeenkoms te steur nie. Hoe moeilik sal dit dan wees vir nie-Joodse gelowiges om verwelkom te word in die midde van die Christengemeente in Jerusalem?

Jesus stuur ons uit en ons kom tot rus

Fokus

Hierdie teksgedeelte is die begin van ’n groot wending in die boek Handelinge, in besonder in die lewe van die kerk van Jesus Christus, wat ’n voortsetting van die godsvolk van die Ou Testament is en met wie God ’n verbond gesluit het. Hy het lankal beplan dat sy Woord van genade verder verkondig moet word as die grense van die volk Israel, maar daarvoor het die Israeliete nie begrip gehad het nie. Selfs hier waar die Here hulle duidelik lei om nie net aan hulle eie volk as ontvangers van die blye boodskap te dink nie, is dit vir hulle uiters moeilik om te verstaan en aanvaar dat die Here ook God van die hele wêreld is en wil wees – ook van nie-Jode en heidene. In hierdie perikoop sien ons die eerste maal dat die kerk begin doen wat die Here Jesus in sy laaste woorde op aarde aan hulle opgedra het (Matt 28:19), toe Hy die groot opdrag aan hulle gegee het om uit te gaan na alle mense en hierdie evangelieboodskap te gaan verkondig – dit sluit ook die heidene in.

Hierdie preek van Petrus is die eerste wat opgeteken is oor die nakom van die sendingopdrag – die evangelisering van mense wat nie Jode is nie of nie indirek ’n gedeelde ontstaansgeskiedenis met hulle gehad het nie (sien hfst 8 oor die mense van Samaria).

Die kern van Petrus se preek, is die grondplan van die boodskap wat deur die apostels verkondig is, soos wat ons dit ook in Markus vind.

Tema: God maak nie onderskeid nie

Rus

Die eerste beweging van die Seisoen van Luister se luistersiklus is om tot rus te kom.  Hier is ‘n paar voorstelle vir hierdie Sondag waaruit jy kan kies:

  • Viering van die opstanding

Tradsioneel word blomme gebruik om die vreugde van die opstanding te vier.  Lidmate kan blomme in die liturgiese ruimte neerlê en die kerk kan versier word met blomme.

Terwyl die gemeente Lied 418 sing, kan ’n lidmaat gevra word om lelies op ’n sigbare plek aan die kruis in die liturgiese ruimte aan te bring waarna die Paaskers aangesteek word. (Lied 418 kan twee maal gesing word.)

Op Paassondag word ook tradisioneel ‘n grap vertel om die verrassende optrede van God te beklemtoon – kyk by Familie-oomblik vir ‘n narratiewe benadering.

Lied

‘n Lied wat uitstekend aan die begin van die diens sal pas:

Flam 237.  “Hy leef”
(RUBRIEK:  Flammiekidz – Opstanding)
Teks en Musiek: Willie Pretorius
© MAR Gospel Music Publishers

Hy leef,  Hy leef
Die graf het oopgegaan
Hy leef,  Hy leef
Hy leef,  Hy’t opgestaan
Hy leef,  Hy leef
Dit maak my hart so bly
Jesus leef in my

Halleluja!  Halleluja!
Jesus leef in my.
Halleluja!  Halleluja!
Jesus leef in my.

Familie-oomblik

Kinders het min begrip van die fisiese finaliteit van die dood.  Daarom moet die fokus eerder op God se oorwinning van die bose magte val, en die demonstrasie van sy liefde.  Die vyandskap van Goeie Vrydag het nie die laaste woord gehad nie.  God wys met die opstanding dat Hy lief bly vir mense, dat sy liefde selfs die vyandskap van mense kan oorkom.  Die slegte ouens het dus nie oorwin nie, maar God.

Van hierdie goeie nuus moet ons getuies word.  Fokus vandag in jou gesprek met families, of in kindertyd, op God wat ons telkens verras.

Dié stories kan telkens ingelei word met ‘n refrein: “God verras ons …”  

  • Begin met Jesus wat in ‘n stal gebore is nie in ‘n paleis nie;
  • dat die boodskap eerste aan skaapwagters vertel is en nie aan die koning nie;
  • dat Jesus vreemdelinge bevriend, soos Saggeüs, die kort tollenaar, eerder as die kerkleiers;
  • dat Jesus soveel kos gee vir 5000 mense dat daar 12 mandjies vol oorskiet oorbly eerder as dat Hy hulle wegstuur om vir hulleself te gaan sorg;
  • dat Jesus Petrus en die ander se voete was eerder as dat Hy verwag hulle moet sy voete was;
  • dat Jesus sterf in ons plek, sodat ons God se kinders kan raak;
  • dat dit vrouens is wat die opstanding eerste beleef, eerder as die belangrike mans,
  • en daarby eerste die opdrag kry dat hulle daarvan moet getuig.

Sluit af met die laaste verrassing van God: Hy kies ons om vir ander van Jesus te gaan vertel.

Verras die kinders met twee paaseiers vir elkeen.  Hulle kan die een eet en met die ander een moet hulle een van die grootmense verras.

God praat met ons en ons luister

Die tweede beweging van die luistersiklus is om te luister.

Preekriglyn

Groot dele van ons land is onlangs deur ernstige veldbrande geteister.  ‘n Getraumatiseerde plaaswerker uit die Langkloof het op TV-Nuus vertel hoe die vlamme vrugteboorde letterlik oorrompel en vernietig het.  “Die vuur het nie respek vir brandpaaie, gewone paaie, of ander natuurlike grense nie,” het hy stotterend en duidelik geskok verduidelik.  “Vlamme het oor paaie gespring, en ons kon dit nie keer nie – al het ons hoe hard probeer.”

God laat God nog minder keer.  Die evangelie respekteer nie mensgemaakte grense of beperkinge nie.  Die koninkryk verras jou met waar dit deurbreek.  Petrus, die onwillige getuie aan huis van die nie-Joodse Kornelius, ontdek: “Waarlik, ek begryp nou eers dat God nie onderskeid maak nie, maar in enige volk mense aanneem wat Hom vereer en doen wat reg is.”

Uit sy toespraak by Kornelius blyk hoedat die evangelie van Jesus Christus grense oorsteek en oorrompel:

  • God het die evangelie van vrede deur Jesus gebring, die Here van almal (10:36);
  • Hy het oral goeie werke gedoen en almal gesond gemaak wat in die mag van die duiwel was (10:38);
  • Jesus is doodgemaak om Hom stil te kry, maar God het die dood vernietig en Jesus uit die dood laat opstaan (10:39-40);
  • God het deur Jesus getuies gekies om aan almal te vertel dat Jesus die Here is (10:42);
  • Oor Hom getuig die profete dat elkeenwat glo vergewing van sondes deur sy Naam ontvang (10:43)

Die evangelie steek altyd grense oor.  Hierdie altyd-grens-oorstekende-evangelie het belangrike implikasies vir ons:

Die evangelie openbaar die krag van God

Dit is vandag Paassondag.  Jesus, die Seun van God, is op wonderbaarlike wyse as mens gebore.  Hy het gely en gesterwe, maar die dood kon Hom nie keer nie.  God laat die lewe verrassend deurbreek deur die kragtige werking van sy mag.

Petrus getuig oor die krag van Jesus se bediening.  En toe Hy doodgemaak is, wek God Hom op.  Niks kan God keer nie.  Die krag van die grens-oorstekende evangelie is groter as dié van ‘n verwoestende veldbrand.  Dit is die krag van die Bron en Gewer van die lewe self.

Die uitnodiging van ons teks, om te begryp dat God nie onderskeid maak nie, probeer ons nie bloot van opinie laat verander, of ‘n mooi gedagte oordra nie.  Dit wil ons inprop op die kragtige werking van God se mag wat die genade wêreldwyd, oor alle grense heen, laat uitbars.  Dit nooi ons uit om daaraan deel te neem, om in hierdie beweging opgeneem te word.

Die evangelie is vir almal bedoel

Die Jode van Jesus se tyd het ‘n streng opvatting oor reinheid gehad.  Reinheid het beteken dat grense gerespekteer moet word: ‘n Jood meng nie met ‘n nie-Jood nie.  Besoekers aan Israel vertel tot vandag toe hoe ortodokse Jode hulself steeds afsonder van nie-Joodse toeriste.  Selfs net om te raak aan ‘n nie-Jood bring onreinheid mee.

Vandaar die groot ontdekking vir Petrus: God maak nie onderskeid nie.  Almal wat glo word ingesluit in sy genade.  In die Ou Testament was daar wel ‘n verskil tussen Israel en die volke in die sin dat God Israel spesifiek gekies het om sy genade te beliggaam.  God se bedoeling was egter nooit dat sy liefde moet stop by die grense van die Jodendom nie.  Reeds in Abraham se roepingsverhaal sê die Here vir hom: “ek sal jou seën .. en jy moet tot ‘n seën wees.  In jou sal al die volke van die aarde geseën wees” (Gen 12:2-3).  Israel moes die seën en teenwoordigheid van die Here so beliggaam dat ander volke sou vra: Help ons, ons wil ook julle God aanbid, soos Sagaria 8:23 sê.

Vroeër in Handelinge 10 lees ons hoe die Here in ‘n gesig aan Petrus verskyn en hom leer: “Wat God rein verklaar het, mag jy nie onrein ag nie” (10:15).  Hierdie openbaring maak dit vir Petrus moontlik om die uitnodiging na Kornelius se huis te aanvaar.  Hy hoor dat God vir Kornelius opdrag gegee het om hom te nooi, waarop hy sê: “Waarlik, ek begryp nou eers dat God nie onderskeid maak nie, maar in enige volk die mense aanneem wat Hom vereer en doen wat reg is”(10:35).

Die vuur het ook na ons gespring

Ook ons is nie Jode nie.  In Handelinge 10 spring die vlamme van die evangelie óók oor die grens na ons toe, ons wat vandag in hierdie kerkgebou sit.  Min, indien enige, van ons is geneties Jode.  Ons was vroeër deur Israel uitgesluit, maar God respekteer nie grense nie.  Die evangelie kom ook tot by ons.  Elkeen wat in Hom glo, ook ons, ontvang vergewing van sondes deur sy Naam.

Die Heilige Gees skep tot vandag toe deur die Woord ‘n heilige disrespek vir grense in die Here se kerk.  Waarlik, Hy maak nie onderskeid nie!  Sal ons dit dan waag om beperkings aan die evangelie op te lê?

Mense, soos ons, wat die vuur van geloof deur die oorskryding van grense ontvang het, behoort gewilliglik deel te neem aan die oorsteek van grense met die evangelie.  As ons die genade daarvan verstaan dat God nie onderskeid maak nie, maar ons insluit, durf ons nie beletsels aan die evangelie oplê, of ‘n oortuiging handhaaf dat God witbroodjies het. Die God van een groep bo ‘n ander, of ‘n soort Partygod is nie.  Ons moet onsself gee vir die beweging van die evangelie.

God maak ons verantwoordelik vir die oorsteek van die grense

Merkwaardig genoeg steek die opgestane Here Jesus volgens Handelinge nie self die grense oor nie.  Hy verskyn nie aan die Joodse Raad, en lei hulle eensklaps tot bekering nie.  Hy gaan Pilatus nie spreek om hom op sy verkeerde weë te wys nie.  Hy maak nie ‘n draai in Rome om die keiser, wat meen dat hy ‘n god is wat aanbid moet word, op sy plek te sit nie.

Die Here Jesus verskyn aan sy volgelinge, die reisgeselskap wat Hy sorgvuldig geskep het in sy bediening op aarde.  Hierdie gelowiges kry die opdrag om die evangelie uit te dra.  Hulle is die getuies.  Soms sleep hulle voete, en moet deur gesigte aangepor word, soos Petrus.  Maar die verantwoordelikheid skuif nooit: “Júlle is my getuies…”

Dit beklee ons inderdaad met geweldige verantwoordelikheid.  Die kerk kan die kruis kelder.  Die geloofsgemeenskap kan ‘n gat vir die leë graf grawe.  Ons kan die vuur van die evangelie probeer blus, of mak maak, aan ons eie motiewe en behoeftes ondergeskik maak.

Oorsteek van grense bring pyn en destabiliseer

Die oorsteek van grense is nie maklik nie.  Die gasvrye verwelkoming van hulle wat ons anderkant die grense ontmoet, is onhutsend.  Ons hou van stabiliteit.  Dit is aangenaam as die evangelie in bekende kanale vloei wat by ons lewenstyl inpas en vir ons voorspelbaar is.  Die Nuwe Testamentikus Scot McKnight waarsku dit is ‘n versoeking vir die kerk om ‘n soort evangelie te verkondig wat die kerk se status quo handhaaf.  Die status quo, ons gemaksone, sê hy, vorm dikwels die soort evangelie wat ons bereid is om te verkondig.

God laat Hom nie keer nie.  Sodra ons God se evangelie in ons gemaksones inpas, verwater ons die evangelie en verduister Jesus in en vir die wêreld.

So was dit in Petrus se tyd.  As ons verder lees wat die Christene in Jerusalem se reaksie op die eerste bekerings in die heidenwêreld was, is ons verbaas om te sien dat hulle erg ontsteld was. Hierdie eerste stap in wêreldsending behoort met dankbaarheid begroet te word, maar Petrus word in sy tuisgemeente verwyt. Paulus kry nog meer probleme met “gelowiges” wie se eie volksgewoontes en grense belangriker is as dié van die Here.

Hoe kon dit gebeur dat, met so ’n koue begin, die kerk van die Here deur die jare kon groei en nie gesterf het nie? Dit is net die genade van God, wat nie net wonderwerke laat gebeur het om ons verlossing te bewerkstellig nie, maar nog steeds wonderwerke laat gebeur om sy kerk te laat groei en die evangelie te laat versprei, ten spyte van die kerk se powere pogings om sy stem te gehoorsaam.

Toepassing

As indiwiduele gelowiges, maar veral as gemeente, is ons geroep om na te dink oor praktiese maniere hoe ons God oor grense kan volg.  Wanneer ons by die kerkgebou uitstap, begin die erediens van die lewe. Dan is die vraag hoe ons reageer teenoor die buitestanders, dikwels die onrein mense wat oor ons pad kom?

Wie is daar by jou werk, of in die woonbuurt, oorkant die straat, of selfs in jou huis na wie moet uitreik?  Wie druk die Here op jou hart?  Wie trek jou aandag?  Wat sou jy vir daardie persoon kon sê of doen?  Hoe gaan jy jou getuies oor Jesus Christus met woorde of dade beliggaam vir daardie persoon?

Watter aksies moet ons as gemeente neem om ‘n impak te maak op julle omgewing.  Ken mense rondom ons die Here?  Het hulle toegang toe ons geloofsgemeenskap?  Hoe sou ons moes verander om hulle in ons midde welkom te heet?

Is die Here dalk al reeds besig om grense met ons oor te steek.  Watter gesigte laat Hy ons sien om ons oor allerlei mensgemaakte grense te help?

Mag die vuur en die krag van die evangelie ons dryf én die pad voor ons oopmaak!  Mag die krag van Paasfees in ons wêreld herhaal word.

God stuur ons om te leef

Die derde beweging van die luistersiklus is om te leef.  Hier is ‘n paar voorstelle om dit liturgies aan te voer:

  • Laat ‘n lidmaat of kerkraadslid bid vir die mense van die getuienisaksie van julle gemeente.
  • As julle verbind is aan sendelinge (getuies) plaaslik of in ander lande, kan ‘n storie van een of twee van hulle vertel word, waarna vir hulle voorbidding gedoen word.
  • Gee ‘n moment van stilte waar elkeen die Here antwoord op sy opdrag om aan almal die boodskap te bring.  Laat hulle spesifiek dink oor mense wat die Here reeds oor hulle pad gebring het die afgelope week of kwartaal, en hoe hulle teenoor hulle getuies kan wees.
  • Vier die wonder van God se verlossing vir alle nasies: Lied 488: “Helder skyn u lig vir die nasies”.
  • Sluit af met ‘n uitsendingslied, bv. “Stuur ons Heer” – Lied 533

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.