Omgewingsondag

Sections

Jesus stuur ons uit en ons kom tot rus

Die Skrifgedeeltes bring die gemeente saam voor God as die Gewer van lewe. Koninkrykstyd begin met (1) ’n “belydenis” en (2) ’n “verkondiging” van die lewe-gewende teenwoordigheid van God. Beide vind plaas in die modus van persoonlike getuienis. Hierdie getuienis begin by kennis van God se verlossing. Omgang met vandag se tekste maak die hedendaagse gelowige bewus daarvan dat mens nie bloot “objektief” kan luister na wat Jesus gedoen het nie, maar persoonlik in lof en dank betrek word omdat sy optrede steeds die Wese van God weerspieël. Die diensorde wentel dus om die vraag: Bely en verbly jy jou steeds in die drie-enige God as lewegewende Bron van jou eie bestaan?

Fokus

Tema: Lewe getrou aan God, die Gewer van lewe

Rus

Fokus: Persoonlike belydenis
1 Konings 17:15-16

    • Geleentheid vir nadenke en stil dankgebed oor die sorg van die Here.
    • Gemeentelede kry geleentheid om ’n blom of blaar op die nagmaaltafel te plaas as simbool van dankbaarheid vir onlangse blyke van genade.
    • Alternatief: Borde met brood word op verskillende plekke in die kerk neergesit. Lidmate wat hul dank openlik wil betuig, word genooi om dit na die tafel te bring.
    • Geleentheid vir persoonlike getuienis.

 

Lied

F314. “Heer, Hoe Wonderlik (Verwonderd / Psalm 8)”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Verwondering)
Teks en Musiek: Marina du Toit & Dinti Lotz
© 2006 Urial Publishing

1. Heer hoe wonderlik, oor die hele aarde,
Is U heilige Naam!  Hoe glansryk is u skepping!
U kinders besing u magtige werk, dit laat die vyand stil
Dis bo my begrip en bo my verstand, U hou dit als in stand.

Refrein:
En ek staan net hier verwonderd, en ek sien u majesteit
En ek staan net hier verwonderd oor U.  Hoe groot, hoe groot is U!

2. As ek u hemel sien, die werke van u vingers.
U het die maan en ster elk op sy plek kom bêre.
Die voëls in die lug, die vis in die see, die skepping bring U eer.
Wie is ek, Heer, dat U aan my dink, laat heers oor al u werk?

Refrein:

Familie-oomblik

As jy internet-toegang het tydens die diens, kan jy na enige van die “Carbon footprint calculators” tydens die diens gebruik.  Een wat spesifiek vir Suid-Afrika sal werk kan jy hier kry .

Verduidelik wat ‘n “carbon footprint” is.  Bereken dan ‘n gemiddelde voetspoor – of die hele gemeente se voetspoor!  Verduidelik dat ons hierdie voetspoor “herstel” (“offset”) deur bome te plan – en plant sommer ‘n paar bome tydens die diens!  Oorweeg om Spekbome te plant.  Een hektaar van hierdie wonder-plant vang ongeveer 4 ton koolsuurgas per jaar.

God praat met ons en ons luister

Die tweede beweging van die luistersiklus is om te luister.

Preekriglyn

In 1857 het dokters die mynwerker Galen Clark meegedeel dat hy net ’n maand of wat oor het om te lewe. Hy was nog maar in sy vroeë veertigs, maar sy longe was reeds gedaan. Galen Clark het besluit om sy laaste dae in vrede in die Sierra-voetheuwels te gaan deurbring. Daar het hy vir die eerste keer die Mariposa bos betree.

In die Mariposa bos, in die voetheuwels van die hoë Sierra-bergreeks in Kalifornië, groei ’n hele aantal reuse Sequoiabome.  Sequoias is nie soseer die oudste; hoogste of dikste bome op aarde nie, maar met hulle dik hoë stamme (tot 12 meter in deursnee en tot 94 meter hoog) is hulle wel die grootste in volume. Kortom, Sequoias is die grootste lewende wesens waarvan ons weet.

Diep onder die indruk van die geweldige omvang van hierdie bome het Galen Clark begin om besoekers te gaan wys waar die Sequoias staan. Later het hy as toergids begin optree.  In 1906 is die Mariposa bos as beskermde gebied geproklameer en ingesluit in die beroemde Yosemite Nasionale Park. Galen Clark, toe reeds in sy negentigs, het nog gelewe om toe te sien hoe die kroon op sy bewaringswerk gespan word.

Galen Clark moes sterf.  Maar sy lewe in die groen natuurskoon, en sy bewaringstaak het sy lewe verleng.  Die Here het op ’n onverwagse manier in sy lewe ingegryp, sy lewe verlang en hom ’n nuwe taak gegee.  Sy grootste lewenstaak het op verassende manier na sy mediese doodsvonnis ontstaan: om bome teen vernietiging te beskerm en te bewaar.

Psalm 30 wemel van die verrassende ingryping van die Here in Dawid se lewe.  Dit volg op die noodroepe wanneer ellende sy selfversekerde bestaan bedreig het.  Die lewenservaring het hom geleer dat voorspoed nie as vanselfsprekend aanvaar kan word nie.  Lewe is ’n gawe uit die hand van God.  Ons leer dit eers besef wanneer ons lewensliggie flou flikker en dreig om uit te gaan.

‘n Selfversekerde, gemaklike lewe

Die psalmdigter se beskrywing van sy eie selfversekerdheid, gemak en sekuriteit is aan ons goed bekend in ’n moderne verbruikerskultuur. Baie mense reken dat hulle God nie eintlik meer nodig het nie. Ons goeie opvoeding, eie dryfkrag, betroubare werk, kredietwaardigheid en toegang tot toepaslike tegnologie sal vir ons en ons kinders ’n roos­kleurige toekoms verseker. Alte dikwels lewe ons maar net voort asof niks ooit daaraan sal verander nie.

Ons belangrikste lewensideaal is om onafhanklik te wees en ’n goeie lewe te lei.  Al die goeie dinge wat ons verbruik (stimulerende vermaak, die gemak van elektrisiteit en eie vervoer, vlieg, reis, lekker eet) kan nie hou nie, want die wêreld het nie genoeg hulpbronne om so ’n lewenstyl te onderhou nie.  Hierdie ideaal is gedoem om te misluk.  Hoe meer mense so lewe, hoe meer word die drakrag van die aarde oorskry.  Dit lê aan die wortel van die ekologiese probleme waarmee ons toenemend gekonfronteer word.

Wanneer die borrel bars

Ons is egter ook goed vertroud met die wyse waarop hierdie gevoel van voorspoed maklik kan verander.  Siekte oorval mens vinnig.  Die dood van ’n geliefde kom onverwags.  Ongelukke, liggaamlike verlies, natuurrampe, ekonomiese agteruitgang (soos die impak van die wêreldwye finansiële krisis) dompel mens vinniger as wat jy kan sê “mes” in die ellende.  Dit lei net soos in die geval van die psalmis tot ’n gevoel van verbystering. Dit dwing mense tot radikale selfondersoek. Talle kan getuig dat hulle só ’n krisis uiteindelik as ’n geleentheid kon raaksien.

Die spreekwoord sê dat nood leer bid.  Maar wat is die inhoud van só ’n gebed?  Dit kan alte maklik net so selfgesentreerd bly.  Dan word God ten diepste steeds misbruik as ’n instrument om ons eie welvaart en herstel te verseker.  Dan het die gebed nog nie ’n dieptepunt bereik nie.  Dan het die wending weg van die verbruikersamelewing waarbinne ons leef en wat ons so maklik aanvaar nog nie aangebreek nie.  Dit word eers bereik wanneer die lof aan God die belangrikste dryfveer in ’n mens se lewe word.

In die geval van die psalmis is hierdie gebed gevolg deur genesing, tot ’n lied van dank en vreugde en tot die herstel van die gemeenskap met ander gelowiges rondom ’n toepaslike fokus, naamlik lof aan God. Die aangrypende beeldspraak in die psalm is ’n teken hiervan:

  • “Ek was in die rou, maar U het my van vreugde laat dans, U het my rouklere uitgetrek en vir my feesklere aangetrek”- vers 12;
  • “U het my gered en my vyande nie laat bly wees oor my nie” – vers 2
  • “Ek het na U geroep om hulp en U het my gesond gemaak” – vers 3;
  • “U het my gered van die doderyk, my aan die lewe gehou toe ek al op pad was na die dood toe” – vers 4
  • “Gisteraand was daar nog trane en vanmôre lag ek al weer” – vers 6.

Ons ken baie mense wat ook kan getuig van genesing of van herstel, van die wending wat dit in hulle lewe gebring het en van die nuwe fokuspunt in hulle lewe.  Die mynwerker Galen Clark is ’n goeie voorbeeld hiervan.  (Ons weet natuurlik ook van ander met wie dit nie gebeur het nie. Wat ondergekry is deur siekte en swaarkry.  Ons verwys later in die preek weer na hierdie situasie.)

Meer as individuele genesing

Psalm 30 handel oor die genesing van die individu.  Tog is die psalm binne die geskiedenis van die Ou Testament later wyer toegepas, ook op genesing in die lewe van die gemeenskap.  Eeue na Dawid se lewe is Psalm 30 ook – volgens die Talmoed – in die konteks van die Joodse fees van die ligte  (Hanukkah) gebruik.

Die Fees van die ligte is ingestel nadat die Siriese koning Antiochus Epiphanus die tempel in 165 v.C. verontreinig het.  Hy het die aanbidding van heidense gode in Israel verpligtend gemaak, die uitoefening van die wet van Moses afgeskaf, en die besnydenis, die viering van die Sabbat en die Joodse feeste verbied. Boonop het die Joodse hoëpriester, Menelaus, Antiochus toegelaat om die tempel te plunder.  Die Jode het onder leiding van Judas Makkabeus teruggeveg en Israel tydelik van Siriese oorheersing bevry.  Die tempel is gereinig en opnuut aan die Here toegewy.

Psalm 30 is in hierdie konteks gebruik om die Jode se vreugde oor die genesing en herstel wat die Here gebring het, uit te druk.  Die woorde van die individu se genesing is ook van toepassing op die bevryding wat die geloofsgemeenskap beleef.  Die rouprosessie oor die ontheiliging van die tempel is vervang met ’n vreugdedans by die her-inwyding daarvan.

Omgewingsondag

Dit is vandag Omgewingsondag.  Ons leef in ’n bedreigde, verontreinigde, besoedelde omgewing.  Dit is gepas om vandag na te dink oor die betekenis van hierdie psalm, wat getuig van die Here wat lewe gee, vir ons lewens.  Dink aan die naderende bedreigings wat klimaatsverandering inhou. Dit dwing ons om ons lewe, ons kultuur, ja die basis van die hele geïndustrialiseerde samelewing in heroorweging te neem.

Ons het nodig om voor God tot ons sinne te kom.  Ons wêreld is siek, so siek soos die psalmdigter wie se lewe bedreig is.  So siek soos mynwerker Galen Clark wat net ’n kort tydjie gegee is om te leef.  So siek soos die Mariposa bos wat beskerming en redding nodig het.

Ons het nodig dat die Here ons leer hoe om te lewe.  Ons het ’n wonderdaad nodig wat ons aandag wegtrek van die najaag van voorspoed en die koorsagtige gebruik van die gawes van die aarde.   Ons het nodig om ons skuld aan die vernietiging van die omgewing te bely.  Ons het nodig om op God te vertrou om ons uit die dood te red en vir ons lewe te gee.

Die plotselinge redding wat van God kom

Maar wat nou as die vernietiging reeds plaasgevind het? Wat as die wending in die siekte nie kom nie, as die dood in plaas van genesing volg? Wat as die finansiële krisis nie opgelos word nie? Wat sal gebeur as klimaats-verandering heeltemal hande uitruk? Wat gaan ons maak met miljoene vlugtelinge as die laagliggende dele oorstroom word deur stygende seewater?

Die psalm gee ons nie ’n maklike antwoord nie. Die geheim lê miskien by die woord “plotseling”. Keer op keer word in die psalm gewys op hoe skielik en onverwags die uitkoms aangebreek het. Kyk veral na die beeldspraak in vers 4, 6, 12 en 13. Hierdie soort kontraste is besonder opvallend in die psalm. Dat die wending plotseling gekom het, is belangrik – want ’n mens kan dit juis nie as vanselfsprekend aanvaar nie. Trouens hierdie soort vanselfsprekendheid is juis die diepste oorsaak van die probleem. Dit lei tot die valse vertroue dat dinge altyd goed sal gaan as jy eers voorspoedig is. Meer nog, dan kan jy begin dink dat dit alles God se seën is (v 8). Dan word God se sorg as min of meer outomaties aanvaar. Maar as jy God as vanself-sprekend aanvaar, dan is God mos in jou diens. Dan sien jy nog nie die fokus waarby die psalm jou wil uitbring nie, naamlik biddende afhanklikheid van God en die lof aan God, ongeag die omstandighede.

Toepassing

Die psalmdigter moes leer om die lewe as ’n gawe uit God se hand te beleef.  Ons word vandag uitgedaag om ons omgewing te leer sien as ’n geskenk uit God se hand.  ’n Brose geskenk, so ragfyn en breekbaar soos die lewe self.

Vir dekades reeds lewe ons in die geïndustrialiseerde samelewing in relatiewe voorspoed, goeie gesondheid, gemak en sekuriteit.  Ons kan dit sien as die seën van die Here, maar spoedig aanvaar ons hierdie seën as vanselfsprekend.  Ons begin glo dat so ’n rojale lewe onbepaald kan voortduur, ons posisie is onwankelbaar, wat ons het, het ons deur ons eie toedoen.  Dan lei voorspoedigheid tot oormoedigheid.  Die fokus verskuif van God na ons toe.

Wanneer ons bewus raak van die diepte van ons ellende, soos wat nou rondom die omgewing gebeur, is dit nodig om te gryp na God.  Om ons vertroue te plaas op die redding van God.  Om die Here toe te laat om ons te leer hoe om te lewe.  ’n Veranderde lewensstyl sal ’n wonderwerk verg, maar dit is moontlik.  Ons sien dit reeds rondom ons gebeur.

Ten spyte van ons verwoestingswerk, ten spyte van ons selfgesentreerde manier van lewe in die verbruikerskultuur, is ’n nuwe begin steeds by God moontlik – op God se eie tyd. Jesaja 55:12-13 vertel dat ’n nuwe begin (na die vernietiging van die ballingskap) by God moontlik is. En dit is bome wat die nuwe begin aankondig:
Julle sal met blydskap uit Babel wegtrek en in vrede gelei word;
die berge en die heuwels sal voor julle uit jubel en juig
en al die bome in die veld sal hande klap.
In die plek van ’n doringbos sal daar ’n sipres opskiet,
in die plek van ’n dissel sal daar ’n mirteboom opskiet.
Dit sal tot eer van die Here wees,
’n blywende teken wat nooit vernietig sal word nie.

Soos die siek psalmdigter genees is, soos die verontreinigde tempel herstel is, mag ons siek omgewing net só nuwe lewe uit God se hand ontvang!  Laat ons daarvoor bid en werk.

God stuur ons om te leef

Die derde beweging van die luistersiklus is om te leef.  Hier is ‘n paar voorstelle om dit liturgies aan te voer:

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.