Negentiende Sondag van Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Genesis is ’n boek vol verhale, tonele en karakters. Die boek “vra jou om toe te laat dat die karakters in Genesis jou lewensruimte betree, om die gebeurtenisse wat daar beskryf word, in terme van jou eie lewenservaring te sien” (Vosloo). Esterhuyse noem die verhale “singewende stories”.

Genesis 1-3 is die voorwoord tot die inleiding (Gen 4-11) van die geskiedenis van Israel. Dit open ’n perspektief op wat in die res van die Ou Testament vertel gaan word. Dit is soos ’n handvatsel waarmee die deur tot die verstaan van die geskiedenis oor mense oopgemaak word. Genesis 1 gee ’n wye skoot op die fisieke werklikheid waarin die geskiedenis gaan afspeel, terwyl Genesis 2-3 as ’t ware op die akteurs van die geskiedenis naamlik God en die mens, in fokus (“zoom”) (Deist).

Genesis 2-3 word as besinnende verhaal gelees. “Wie is die mens? Hoe is die mens? Wat is die mens”, is die vraag wat die verhaal wil beantwoord (Deist). Dié verhaal het ’n tydlose karakter. “Omdat ons almal mense is . . . Dit is ’n verhaal oor en vir elkeen van ons” (Deist). Daar bestaan buite-Bybelse verhale byvoorbeeld die Gilgamesj-epos uit Sumerië wat baie na dié verhaal klink en die teks miskien minder uniek maak maar beslis nie irrelevant nie. Dalk meer outentiek en gee juis meer gesag.

Die sterk tematiese band tussen die Bybelse en buite-Bybelse stories is literêre en godsdienstige uitdrukkings-vorme van die mens se soeke na lewensin in die aangesig van verganklikheid, tydelikheid, gebrokenheid, lyding, sterwe en dood (Esterhuyse). “Genesis 2 is nie kosmologiese geskiedenis nie. Dit is primêr ’n verhaal oor verhoudings . . . Dit gaan primêr nie oor die oorsprong van die skepping nie, maar oor die toekoms daarvan. En oor die mens se rol in dié toekoms” (Esterhuyse).

Ander tekste

Psalms 8
Lof aan die Skepper
8 Vir die koorleier: met musiek.
’n Psalm van Dawid.
2Here, ons Here,
hoe wonderbaar is u Naam
oor die hele aarde,
hoe glansryk alles wat U
in die hemelruim geplaas het!
3Kinders en suigelinge besing
die magtige werk
wat U tot stand gebring het.
So word u teëstanders,
die vyande en wraakgieriges,
tot swye gebring.
4As ek u hemel aanskou,
die werk van u vingers,
die maan en die sterre
waaraan U ’n plek gegee het,
5wat is die mens dan
dat U aan hom dink,
die mensekind dat U na hom omsien?
6U het hom net ’n bietjie minder
as ’n hemelse wese gemaak
en hom met aansien en eer gekroon,
7U laat hom heers
oor die werk van u hande,
U het alles aan hom onderwerp:
9die voëls in die lug,
en die visse in die see
wat die oseane deurkruis.
10Here, ons Here,
hoe wonderbaar is u Naam
oor die hele aarde!

Hebreërs 1:1-4
Die uitnemende grootheid van die Seun van God
1 In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, 2maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun. God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het, ook erfgenaam van alles gemaak. 3Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God. Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand. Nadat Hy die reiniging van sondes bewerkstellig het, het Hy gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoë hemel. 4Hy is net so verhewe bo die engele as wat die Naam wat God Hom gegee het, voortrefliker is as hulle naam.

Hebreërs 2:5-12
Die Leidsman tot die saligheid
5Dit is nie aan engele dat Hy die toekomstige wêreld, waarvan ons praat, onderwerp het nie. 6Inteendeel, iemand het êrens getuig en gesê:
“Wat is ’n mens
dat U aan hom dink,
’n mensekind
dat U na hom omsien?
7U het hom ’n kort tydjie
minder as die engele gemaak;
U het hom met heerlikheid
en eer gekroon;
8U het alles aan hom onderwerp.”

By die onderwerping van alle dinge aan die mens is niks uitgesluit nie. Alles is aan hom onderwerp. Nou sien ons nog nie dat alle dinge reeds aan die mens onderwerp is nie. 9Maar ons sien Jesus, met eer en heerlikheid gekroon op grond van sy lyding en dood. Hy is ’n kort tydjie minder gemaak as die engele, sodat Hy deur die genade van God vir almal sou sterwe.

10God, ter wille van wie alles bestaan en deur wie alles ontstaan het, wou baie deel laat kry aan sy heelikheid. En daarom was dit reg dat Hy hulle Leidsman tot die verlossing deur lyding heen tot volmaaktheid sou bring. 11Hy wat heilig maak, sowel as die mense wat geheilig word, is almal uit een Vader. Om hierdie rede is Jesus nie skaam om hulle sy broers te noem nie. 12Hy sê tog:
“Ek sal u Naam aan my broers
bekend maak,
in die samekoms van die gemeente
sal Ek u lof besing.”

Markus 10:2-16
Gesprek oor egskeiding

(Matt 5:31–32; 19:1–9; Luk 16:18)
10 Jesus het Hom gereed gemaak en daarvandaan na die gebied Judea toe vertrek, oorkant die Jordaan langs. Baie mense het weer na Hom toe gekom en, soos Hy gewoond was, het Hy hulle geleer.

2Daar het ook Fariseërs gekom, en om Hom op die proef te stel, het hulle Hom gevra: “Mag ’n man van sy vrou skei?”
3Hy het daarop vir hulle gevra: “Wat het Moses julle beveel?”
4“Moses het toegelaat dat iemand ’n skeibrief opstel en skei,” het hulle geantwoord.

5Toe sê Jesus vir hulle: “Dit is oor die hardheid van julle harte dat hy hierdie bepaling vir julle gemaak het. 6Maar van die begin af, van die skepping af, ‘het God hulle man en vrou gemaak.’ 7‘Daarom sal ’n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, 8en hulle twee sal een wees,’ sodat hulle nie meer twee is nie, maar een. 9Wat God dan saamgevoeg het, mag ’n mens nie skei nie.”

10In die huis het die dissipels Hom weer hieroor uitgevra. 11Hy sê toe vir hulle: “Elkeen wat van sy vrou skei en met ’n ander een trou, pleeg egbreuk teen sy vrou. 12En as ’n vrou van haar man skei en met ’n ander een trou, pleeg sy egbreuk.”

Jesus seën die kindertjies
(Matt 19:13–15; Luk 18:15–17)
13Die mense het kindertjies na Jesus toe gebring dat Hy hulle moet aanraak. Sy dissipels het met die mense daaroor geraas. 14Maar toe Jesus dit sien, was Hy verontwaardig en het Hy vir hulle gesê: “Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle. 15Dit verseker Ek julle: Wie die koninkryk van God nie soos ’n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.”

16Hy het sy arms om die kindertjies gesit, hulle die hande opgelê en hulle geseën.

Fokusteks

Genesis 2:18-24
Die mens in die tuin
Toe die Here God die aarde en die hemel gemaak het, 5was daar nog nie enige struike op die aarde nie en het daar ook nog nie enige groenigheid opgeskiet nie, want die Here God het dit nog nie op die aarde laat reën nie, en daar was nog nie ’n mens om die grond te bewerk nie. 6Daar het water uit die aarde uit opgekom en al die grond nat gemaak. 7Die Here God het toe die mens gevorm uit stof van die aarde en lewensasem in sy neus geblaas, sodat die mens ’n lewende wese geword het.

8Die Here God het toe ’n tuin in Eden in die ooste aangelê en die mens wat Hy gevorm het, daar laat woon. 9Die Here God het verder allerlei bome, mooi om na te kyk en lekker om van te eet, uit die grond laat uitspruit, ook die boom van die lewe in die middel van die tuin, en die boom van alle kennis.

10Daar het ’n rivier in Eden ontspring om die tuin nat te maak, en van daar af het dit verdeel en vier riviere geword. 11Die eerste rivier is die Pison en dit loop rondom die hele Gawila, waar daar goud is. 12Die goud van daardie land is suiwer. Daar is ook balsem en oniks. 13Die tweede rivier is die Gihon en dit loop rondom die hele Kus. 14Die derde is die Tigris wat oos van Assirië verbyloop, en die vierde is die Eufraat.

15Die Here God het die mens in die tuin laat woon om dit te bewerk en op te pas. 16Die Here God het die mens beveel: “Van al die bome in die tuin mag jy eet soos jy wil, 17maar van die boom van alle kennis mag jy nie eet nie. Die dag as jy daarvan eet, sterf jy.”

18Verder het die Here God gesê: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom iemand maak wat hom kan help, sy gelyke.”

19Die Here God het toe uit grond al die wilde diere en al die voëls gevorm en na die mens toe gebring om vas te stel hoe hy elkeen sou noem; en wat die mens elke lewende wese sou noem, dit sou sy naam wees.

20Die mens gee toe name vir al die mak diere, die voëls en die wilde diere, maar vir homself het hy nie ’n helper, ’n gelyke, gekry nie. 21Toe het die Here God ’n diep slaap oor die mens laat kom, sodat hy vas geslaap het. Die Here God neem toe ’n ribbebeen uit die mens, vul die plek met vleis op, 22en die ribbebeen wat Hy uit die mens geneem het, bou Hy om tot ’n vrou en bring haar na die mens toe.

23Toe sê die mens:
“Hierdie keer is dit
een uit myself, een soos ek.
Daarom sal sy ‘vrou’
genoem word;
sy is uit die man geneem.”

24Daarom sal ’n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle sal een word.
25Hulle twee, die mens en sy vrou, was kaal, maar hulle was nie skaam nie.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 164 “Ons is almal hier tesaam”
Flam 184 “Ons is almal hier tesaam” of
Vonkk 24 “Gees van God, kom woon in ons”

Votum: Psalm 8

Seëngroet
Ek groet julle in die Naam van die Drie-Enige God: Genade en vrede vir elkeen van ons.

Lofsang
Psalm 8 of
Flam 24 “As ek U hemel aanskou (nav Psalm 8)” of
Vonkk 80 “Ek is bly”

Skuldbelydenis
Voorganger: Ons het berou oor ons sonde en bid dat U ons sal vergewe:
Van alle afgode wat on in u plek stel…

Gemeente: Verlos ons, o Heer!
V: Van alle ontrou teenoor U…

Gemeente: Verlos ons, o Heer!
V: Van elke misbruik van u Naam…

Gemeente: Verlos ons, o Heer!
V: Van ons onvermoë om tot rus te kom…

Gemeente: Verlos ons, o Heer!
V: Van ons opstand teen gesag en teen almal wat oor ons gestel is…

Gemeente: Verlos ons, o Heer!
V: Van alle haat en afguns teenoor ander mense…

Gemeente: Verlos ons, o Heer!
V: Van elke gedagte en daad waardeur ons die huwelik aantas…

Gemeente: Verlos ons, o Heer!
V: Van elke benadeling van ons naaste deur selfsug en eie belang…

Gemeente: Verlos ons, o Heer!
V: Van alle kwaadpratery en valse getuienis…

Gemeente: Verlos ons, o Heer!
V: Van alle begeertes wat sonde voortbring…

Gemeente: Verlos ons, o Heer!
V: In die Naam van Jesus Christus wat vir al ons sonde gesterf het.

G: Hoor ons, o Heer.
Vergeef ons, o Heer.
Ontferm U oor ons.
Amen
(nav Eks 20:1-17. Uit Handleiding vir die Erediens, Bybelmedia 2010)

Genadeverkondiging
Lied 244 “Alles, alles is genade”
Flam 5 “Daar is geen grens” of
VONKK 14 “Hy Het Self Ons Sondes”

Liedere

VONKK 24 “Gees Van God, Kom Woon In Ons”
Teks: Tui amoris ignem – Taizé 2001; Afrikaanse weergawe Breda Ludik 2003/2009
Musiek: Jacques Berthier 1923-1992
Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk.
Met toestemming gebruik (Latyn, Afrikaans in hierdie weergawe en musiek)
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Meditatief – Gebed / Pinkster

Gees van God, kom woon in ons.
Vuur in ons aan die gloed van u liefde.
Kom oor ons, o Gees van God.
Kom oor ons, o Gees van God.

Veni Sancte Spiritus,
tui amoris ignem accende.
Veni Sancte Spiritus,
veni Sancte Spiritus.

VONKK 80 “Ek Is Bly”
Jesaja 61:10
Teks: Malan Nel 1974
Melodie: JEUG-TOT-JEUG — Awie van Wyk 1974
Gebruik met toestemming van die NG Kerk Uitgewers
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Kontemporêr – Lofprysing

Ek is bly, ek is bly,
ek verbly my in die Heer.
Hy het my ‘n nuwe kleed gegee.
Hy het my verlos. Hy het my verlos.
Ek is bly, ek is bly
soos ‘n bruidegom en bruid.
Ek is bly!
Jesus is my blydskap.
Jesus is my blydskap.
Jesus is my blydskap. Ek is bly.
Ek is bly, ek is bly,
ek verbly my in die Heer.
Hy het my ‘n nuwe kleed gegee.
Hy het my verlos. Hy het my verlos.
Ek is bly, ek is bly
soos ‘n bruidegom en bruid.
Ek is bly!

VONKK 14 “Hy Het Self Ons Sondes” 
1 Petrus 2:24
Teks: Jannie Hougaard 2003 ©
Melodie: JOANIE — Francé Ludik 2003 ©
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Meditatief – Skuldbelydenis / Nagmaal / Lydenstyd

Hy het self ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra.
Deur sy wonde is ons genees.

VONKK 38 “Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan”
Teks: Nuwe Sionsgesange 1994; gewysig Jacques Louw 2009 ©
Melodie: EVENTIDE – William Monk 1861
© Teks: 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Musiek: Openbare besit
RUBRIEK: Meditatief – Gebed / Uitsending

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

Flam 184. “Ons Is Almal Hier Tesaam”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Toetrede)
Oorspronklik: We Have Come Into His House
Teks & Musiek: Bruce T. Ballinger
Afr teks: A.P. van der Colf; Verwerking en alternatiewe teks: F Esterhuizen & Retief Burger, 2004
Kopiereg: © 1976 Universal Music

Ons is almal hier tesaam
Vergader in sy Naam,
Verheerlik Hom.
Tot die dood was Hy getrou
En daardeur is ons nou sy eiendom.
Laat ons maak soos Hy ons sê,
Mekaar steeds lief te hê
En Hom bo alles eer.
Loof Hom, Christus die Heer. (x2)

Halleluja! Ek kan nie sonder U nie.
Halleluja! Ek sal nie stilbly nie!
Halleluja! Daar is geen ander Naam nie
As Jesus Christus, die Heer…
As Jesus Christus, die Heer.

Flam 24. “As Ek U Hemel Aanskou”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Verwondering)
Teks en Musiek: Rhe Janse
© 2005 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op FLAM, vol 1)
(Psalm 8)

1. As ek U hemel aanskou –
die werke van U vingers,
maan en sterre aanskou –
dan voel ek so gering, Heer.
Wat is die mens dan dat U aan hom dink?
Wat is die mens dan dat U na hom omsien?

2. U laat ons heers oor U werk –
die werke van U hande,
dis aan ons onderwerp –
die see, die lug, die lande.
Wat is die mens dan dat U aan hom dink?
Wat is die mens dan dat U na hom omsien?

Refrein:
O Heer, ons Heer, hoe wonderbaar U Naam!
O Heer, ons Heer, juig aarde, roem Sy Naam!
O Heer, ons Heer, hoe wonderbaar U Naam!
O Heer, ons Heer, juig aarde, roem Sy Naam!
Ons roem U Naam,
Ons roem U Naam!

Flam 5. “Daar Is Geen Grens”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Verwondering)
Oorspronklike titel: The Steadfast Love
Teks en musiek: Edith McNeil
Afrikaanse vertaling 2005 Faani Engelbrecht
© 1974, 1975 Celebration
(Opgeneem op FLAM, vol 1)
(Klaagliedere 3:22,23)

1. Daar is geen grens aan U guns en genade.
U groot ontferming hou nooit op.
Dit is nuut elke môre, nuut elke môre,
groot is U trou, o Heer, my God;
groot is U trou, o Heer.

Flam 132. “Uit Een Hart” 
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – ekumene, die kerk)
Oorspronklike titel: One Song of Praise
Teks en Musiek: Bob Fitts
Afrikaanse vertaling: Piet Smit
© Scripture in Song
[Kom ook onder Engelse teks: Kategorie 3 – Multi-kulturele liedere]

Vader van liefde, bron van ons krag
Ons bring in aanbidding ons loflied aan U
Here U het belowe om hier by ons te wees
As ons saam is in U Naam, in waarheid en gees
Jesus, ons Redder, Immanuel
Ons kom ons lewens as lof-offer gee
Ons wil uit een mond u ryk en krag besing
En aan U, o Skepper, Heer, ons loflied bring
Gees van die waarheid, helper uit God
Leer ons om in liefde soos Jesus te dien
En bind ons dan saam, Heer
Soos ons hier voor U staan
Om met liefde in ons hart
Na die wêreld te gaan
Sodat ons uit een hart in eenheid kan bely
Dat U Erekoning is en dit altyd sal bly
Help ons om uit een hart in eenheid te bely
Dat U Erekoning is en dit altyd sal bly

God praat met ons en ons luister

Gebed
Here, skenk aan ons uit u genade:

  • lig waar ons net donker sien
  • moed waar ons vrees
  • hoop waar ons wanhoop
  • vrede waar ons gemoed stormagtig is
  • vreugde waar ons hartseer is
  • krag waar ons swak is
  • wysheid waar ons verward is
  • sagtheid waar ons bitter is
  • liefde waar ons haat
  • vergifnis vir ons sonde
  • Uself in die plek van myself.

Here, Here, skenk my van Uself.
Amen
(Richard Foster, aangehaal in Gebedeboek met liturgiese voorstelle)

Skriflesing: Genesis 2:18-24

Familie-oomblik

Dit is ’n goeie tyd om op die wonder van die huwelik te fokus, en ouers met hulle kinders te laat gesels oor God se rol in hulle verbintenis aan mekaar. As julle mense in jul gemeente het wat op ‘n besondere manier ontmoet het, laat hulle die storie vertel. Gee kans dat ouers vir hul kinders vertel hoe hulle ontmoet het.

Verduidelik dat die Here ons geskape het om saam te wees. As jy kan kitaar speel (of enige snaarinstrument), wys vir die kinders die verskil tussen net een snaar en ‘n klomp snare wat sáám speel.

Of jy kan die storie vertel van “Swemmertjie”, ‘n klein swart vissie wat goed kon swem. Hy het saam met ‘n skool rooi vissies geswem. Een vreeslike dag is die hele skool vissies deur ‘n groot vis gevang – net Swemmertjie het weggekom. Hy was aanvanklik baie bang, maar het gou verwonderd geraak oor al die wonderlike dinge wat hy in die see sien: seewier, ‘n kreef, ‘n jellievis. Dan sien hy in ‘n skeur ‘n skool rooi vissies, presies soos sy vorige skool. Hy nooi die vissies om saam met hom te swem en al die wonderlike dinge te sien, maar hulle is te bang dat die groot visse hulle sal vang. Swemmertjie maak ‘n plan – hy wys vir al die vissies hoe om in die formaat van ‘n groot vis te swem. Hy swem as die oog. Die vissies swem heerlik so rond, terwyl die groot visse bang vir hulle weg swem.

Preekriglyn

Ons ken almal die verhaal van Robinson Crusoe, wat alleen op ‘n eiland uitspoel. Dadelik begin hy soek na iemand, ‘n medemens. Op ‘n baie diep vlak weet Crusoe hy kan dit nie alleen maak nie.

Die fliek “Cast Away” (uit die jaar 2000), met Tom Hanks as die Crusoe-figuur, is ‘n meer onlangse voorbeeld van die alleenheid-verhaal. Hanks se karakter is ‘n amptenaar van FedEx wat homself fisies en emosioneel moet transformeer nadat hy deur ‘n noodlanding op ‘n verlate eiland beland.

Op sy verlate eiland is daar net twee dinge wat hom bewaar van kranksinnigheid: die piepklein foto van sy verloofde, wat hy op ‘n rots probeer oorteken. En Wilson, die wit sokkerbal, met die gesig wat hy met sy eie bloed daarop geteken het. Sy verloofde word net ‘n vae herinnering en motivering hoekom hy wil teruggaan na die wêreld. Al geselskap wat oorbly, is Wilson. Aan die begin pla dit hom en word hy woedend dat Wilson nie terugpraat nie. Later pla dit hom nie meer nie, solank Wilson net daar is, kan hy maar praat.

Soos die storie vorder, en dit duidelik word dat Wilson net maar ‘n voorwerp is, ‘n skepping van ‘n alleen-mens, word die alleen-man (Hanks) al meer soos ‘n dier, verloor hy al meer sy menswees. Daar is nog net een ding wat hom sy sinne op ‘n manier laat behou: die ander mense, iewers anderkant die horison. Op ‘n stadium oorweeg hy selfmoord, maar besluit dan daarteen omdat daar nie ander mense sal wees wat van sy dood sal weet nie – en dit daarom sinloos sal wees.

Daar is net een sinvolle ding oor om te doen: hy bou ‘n vlot met die hoop om in die diepsee opgepik te word. Want iewers is daar (weer) lewe… want daar is ander mense! Met die “morele steun” van Wilson se teenwoordigheid kry hy dit reg. Toe Wilson iewers in die see losraak en wegdryf, is sy smarte groot. Hy is nou man alleen. En op ‘n manier weer mens, meer mens as die dier wat hy geword het. Want nou het daar net een hoop vir hom voorgelê… ander mense. Medemense.

Die oomblik as mens dink nou is die fliek klaar, nou is alles verby, die Cast Away totaal uitgeput en bewusteloos op die laaste oorblyfsel van sy vlot, dan is daar nuwe lewe, word hy wakker. In die regte wêreld van regte mense! Regtig gered deur regte mense!

Ons is vir mekaar gemaak

Dit is wat Genesis 2 vir ons wil sê: so is ons regtig gemaak. Met die behoefte aan mense. Medemense. ‘n Gemeenskap. En in besonder: ‘n medemens. Iemand wat ons regtig kan help, regtig kan terugpraat. Saam met ons kan dink, kan voel, kan speel, werk, lag, die lewe in God se wêreld kan geniet. Iemand vir wie ons kan liefhê en iemand deur wie ons liefde ontvang. Ons eie skeppings, kunswerke, handewerk, kan net dien om ons in ons soeke na ‘n regte mens van dierlikheid en kranksinnigheid te bewaar. Ons lewe word behou, sinvol, deur mense. Daardie spesiale mens, waarvan ek op die ou end kan sê God het ons vir mekaar gemaak. Ons leer dit by die Cast Away. Dit is ook wat Genesis 2 vertel…

Alleen is nog nie klaar nie

Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Die mens is geskep vir verhoudings. Daarom sê die Here “Ek sal vir hom iemand maak wat hom kan help, sy gelyke” (sy eweknie). Die Hebreeuse woord vir hulp (ezêr) beteken nie ’n slaaf of minderwaardige hulp nie, maar word in baie psalms gebruik vir die Here. Die Here is my Helper is wat my help waar ek nie self kan regkom nie. In ons teks word “helper” gekwalifiseer met “sy gelyke” (kenegdo). Neged is letterlik “teenoor”, in die sin van gelykstaande aan, aanvullend (maar nie minder of meerderwaardig nie). Die mens kort ’n helper wat as ewemens hom kan aanvul in sy taak.

Die diere deug nie

Die Here maak dan diere en bring hulle na die mens toe om te sien wat hy hulle sal noem. Om ‘n naam te gee, beteken meer as net ‘n etiket of ‘n benoeming. Naamgewing stel ook ‘n verhouding daar. Dit is ook ‘n interpretasie van die doel waarvoor dit wat benoem word, bestaan.

Daar is egter tussen die diere nie een wat die mens se alleenheid kan ophef en die mens in sy mens-wees voltooi nie.

Die voltooide mens

Verse 21 – 24 vertel dat God die vrou maak. Ferdinand Deist beskryf dit so: “En wanneer Hy haar na Adam bring, herken Adam sy eie mensheid in haar en sing hy sy liefdesliedjie van ‘been van my been en vlees van my vlees’ en van ‘man en vrou,’ of soos dit in Hebreeus. lui: van isj en isja (23). En, lewer die verteller kommentaar, dié twee sal één wees (24). Manlik én vroulik maak eers menslik”.

Die vertelling dat sy uit die man se rib gebou is, was nie vreemd nie. Daar was in die ou wêreld allerlei skeppingsverhale, waar die metode en materiaal wat God/die gode gebruik het, baie gewissel het. Genesis neem moontlik van hierdie verhaalelemente oor om God se aksie te openbaar. Die vertelling dat die man uit die aarde (grond, stof) gemaak is, hang saam met die bogenoemde woordspelings, terwyl die skepping van die vrou uit die man se rib die aandag wil vestig dat die vrou deel was en is van die man (en andersom).

Augustinus se opmerking is nog altyd van pas: God het die vrou nie uit die man se kop gemaak dat sy oor hom moet heers nie; ook nie uit sy voete dat hy oor haar moet heers nie, maar uit sy sy, die deel naaste aan sy hart, sodat sy langs en naas hom kan staan. Die Afrikaans “naaste” druk dit goed uit.

Oor die huwelik

Hierdie skeppingsverhaal het beslis baie vir die huwelik te sê. Man en vrou is in die huwelik saam mens. Man en vrou is as mense mekaar se gelyke. Die oorheersing van die een geslag oor die ander is buite God se bedoeling vir die verhouding binne die huwelik. Die huwelik is ‘n vennootskapsverhouding waar aanstellerigheid en teorieë van vanselfsprekende hoofskap en oorheersing geen plek het nie.

Hier is geen sprake van een geslag se minderwaardigheid of onderdanigheid nie. Dit is ‘n eenheidsverhoudings van diens. Die wonderlike misterie dat die twee een sal wees, word ook deur Paulus (Ef. 5:31-32) en Jesus (Matt. 19:4-6) beskryf.

As vennote help huweliksmaats mekaar en staan mekaar by.

Oor die breër samelewing

Dit gaan in hierdie gedeelte ook oor meer as die verhouding tussen man en vrou. Die intieme band tussen man en vrou het ook impak op die sosiale samelewing.

Ook in die breër samelewing is ons helpers vir mekaar, almal mense of gelykes.  Die teks raak dus nie net die verhouding tussen een man en een vrou (binne die huwelik) nie. Ook nie net die verhouding tussen die geslagte nie. Dit gaan ook om die onderlinge verhoudings binne ’n gemeenskap.

Hier word vertel van die eerste mensegemeenskap, as voorbeeld van mensegemeenskap in die algemeen (Gen. 1-11), en die Israelitiese geloofsgemeenskap wat geroep is ter wille van die groter wêreldgemeenskap (Gen. 12-50). Die verteller spreek die gemeenskap aan op baie persoonlike vlak; elke hoorder moet weet: jy is die man . . . of: jy is die vrou. Jou doel is om in verhoudinge ‘n helper te wees.

Die Genesisgebeure wil vandag nog vir ons sê wat die verhouding tussen God, mens en wêreld kan en behoort te wees. Dit draai rondom wat die filosoof Martin Buber beskryf as die drie kardinale verhoudings in die mens se lewe; die ek-God-, die ek-jy-, en die ek-dit-verhouding.

Oor God

Ons teks maak ook ‘n venster oop op die karakter van God. Wie is die Skepper?

God is die goeie Vader wat vir die mens sorg. Die Here praat met mense, Hy is die metgesel-God. Hierdie sosiale God se honger na verhoudinge word aangevul deur die mens met wie God in verhouding tree. As Verhoudingswese skep God die mens – na sy beeld – as ‘n wese wat self behoefte aan gemeenskap het – met sigself, met God en met die naaste. (Buber) Die skepping van die diere en die vrou is deel van die goeie van God se lewensruimte, lewensgrense (gebod) en lewenstaak. Die man en vrou deel in al die voorregte en verantwoordelikhede.

Mag en verantwoordelikheid

Genesis 2 is nie ’n idilliese prentjie nie, maar ’n storie wat ons met onsself konfronteer. Dit lê ons eie strewe na mag en beheer oor ander – tot ons eie voordeel – bloot.

Die mag om te heers vra uiteindelik rekenskap, aanspreeklikheid en verantwoordelikheid. Leon Fouché skryf hieroor: “Die gemeensaamheid van die mens wat geïllustreer word in die man en vrou, mag nie idillies uit Genesis 2 gepreek word, sonder die aaklige moontlikheid én werklikheid van die kwaad waarvan die tweede deel van die verhaal vertel nie. Die wonderlikheid van die mens se saamwees loop uit op die oortreding van God se gebod en hulle gesamentlike skuld. Deur dit alles blyk God die goeie God te wees, wat goeie gawes gee, wat die mens bly opsoek en wat straf ter beskerming.”

Tyd vir aksie

Wanneer mens Genesis 2 soos ‘n bril opsit, sien jy skielik soveel ellende in die samelewing raak. Hierdie ellende is die gevolg van die miskenning van God se goeie bedoelinge vir die mense wat God maak.

Die misbruik van die ander is deel van die sonde, van die begin af. Genesis 3 vertel dié verhaal.

Ons teks help ons fokus op geslagsongelykheid, die misbruik van mag deur een geslag oor ‘n ander, en talle vorme van gesinsgeweld. Alle vorme van mede-menslikheid wat nié in die ander God se hulp, ‘n godgegewe vennoot, ‘n gelyke raaksien nie, is nog nie volwasse medemenslikheid nie.

Gelukkig bly God vir ons goed. Hy gee ons weer ‘n helper, ‘n medemens, een soos ons. Een uit die mens, wat ‘n broer vir ons geword het. Hom nie geskaam het om ons broer genoem te word nie, al het Hy al die rede daartoe. Hy vat ons, my, skuld op Hom. Hy sterf soos God beveel het. Maar Hy lewe weer, as die middelaar tussen ons, die gom wat ons saambind. Sodat ons nou as vriende, as huweliksmaats, as gesin, as kollegas, kan leef as ‘n geloofsgemeenskap. Met die herinnering en die hoop op die paradys.

En met Jesus tussen ons leef ons solank iets hiervan uit. In die geloof, op die Here God.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotlied
Lied 523 “Goddelike liefdebande”
Flam 132 “Uit een hart” of
VONKK 38 “Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan”

Seën

Respons
Lied 244 refrein “Alles, alles is genade
Flam 5, laaste twee versreëls: “groot is U trou, o Heer, my God; groot is U trou, o Heer.” of
Vonkk 38 laaste reël: “maak ons volhardend in geloof al meer

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.