Negentiende Sondag van Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Jeremia koop, in opdrag van God, op ’n mees ongeleë oomblik ’n stukkie grond in Anatot. Juda se toekoms was duister. Maar hierdie daad sê dat hulle uiteindelik weer die beloofde land sal besit. Jeremia se daad spreek duideliker as woorde: God het ’n toekoms vir Juda! So het God ’n toekoms vir ons. Die goue draad van hierdie geloofsdaad moet vandag deur die hele liturgie loop.

Die ander tekste bevestig ook God se trou.

Ander tekste

Psalm 91:1-6, 14-16
Hy wat by die Allerhoogste
skuiling vind

91 Hy wat by die Allerhoogste
skuiling vind
en die beskerming van die Almagtige
geniet,
2hy sê vir die Here:
“U is my toevlug en my veilige vesting,
my God op wie ek vertrou.”
3Dit is Hy wat jou
uit die voëlvanger se wip hou
en jou bewaar van dodelike siekte.
4Hy beskut jou onder sy vleuels
en is vir jou ’n veilige skuilplek.
Sy trou beskerm jou aan alle kante.
5Jy hoef nie bang te wees
vir gevaar in die nag
of vir aanvalle oordag,
6vir pes wat in die donker toeslaan
of vir siekte wat helder oordag
verwoesting saai nie.

7Al val daar duisende langs jou, 
tienduisende by jou, 
vir jou sal niks tref nie. 
8Met jou eie oë sal jy sien 
hoe die goddelose gestraf word. 
9Omdat jy die Here as skuilplek 
geneem het, 
die Allerhoogste as jou beskermer, 
10sal geen onheil jou tref 
en geen plaag naby jou woonplek 
kom nie. 
11Hy sal sy engele opdrag gee 
om jou te beskerm waar jy ook al gaan. 
12Op hulle hande sal hulle jou dra, 
sodat jy nie jou voet 
teen ’n klip sal stamp nie. 
13Jy sal oor leeus en adders loop, 
leeus en slange sal jy dood trap.
14“Omdat hy My liefhet,

sal Ek hom red,”
sê die Here,
“omdat hy My ken,
sal Ek hom beskerm.
15Wanneer hy My aanroep,
sal Ek sy gebed verhoor;
in sy nood sal Ek by hom wees,
Ek sal hom red
en hom in sy eer herstel.
16’n Baie lang lewe sal Ek hom gee
en oor my hulp sal hy hom verbly.”

1 Timoteus 6:6-19
Vals leer en ware rykdom
Hierdie dinge moet jy aan die mense leer en dit by hulle inskerp. 3As iemand ’n ander leer verkondig en nie hou by die gesonde woorde van ons Here Jesus Christus en by die leer van ons godsdiens nie, 4is hy verwaand en weet hy niks. Hy het ’n sieklike beheptheid met twisvrae en met stryery oor woorde. Daaruit ontstaan afguns, twis, beledigings, gemene verdagmakery, 5voortdurende rusie van mense wat verstandelik verward en van die waarheid beroof is. Hulle dink dat die godsdiens iets is om geldelike wins mee te maak. 

6Die godsdiens is ’n groot wins as iemand tevrede is met wat hy het, 7want ons het niks in die wêreld ingebring nie; ons kan ook niks daaruit wegneem nie. 8As ons dan kos en klere het, moet ons daarmee tevrede wees. 9Maar dié wat ryk wil word, val in versoeking. Hulle loop hulle vas in die strik van baie sinlose en skadelike begeertes waardeur mense in verderf en ondergang gestort word. 10Geldgierigheid is ’n wortel van allerlei kwaad. Party het geld nagejaag en toe van die geloof afgedwaal; daardeur het hulle hulleself baie ellende op die hals gehaal.

Die goeie stryd van die geloof

11Maar jy, man van God, moet van hierdie dinge af wegvlug. Streef na opregtheid, toewyding aan God, geloof, liefde, volharding, minsaamheid. 12In die goeie wedloop van die geloof moet jy al jou kragte inspan en die ewige lewe as prys behaal. Daartoe het God jou geroep en het jy die goeie belydenis voor baie getuies afgelê. 13Voor God, wat aan alle dinge die lewe skenk, en voor Christus Jesus, wat teenoor Pontius Pilatus getuienis afgelê het van die goeie belydenis, beveel ek jou: 14“Voer jou opdrag stiptelik en onberispelik uit tot op die dag dat ons Here Jesus Christus kom.” 15Sy verskyning sal op die bestemde tyd plaasvind. Daarvoor sorg God, die goeie en enigste Heerser, die Koning van die konings en die Here van die heersers. 16Hy alleen besit onsterflikheid; Hy woon in ontoeganklike lig. Geen mens het Hom gesien of kan Hom sien nie. Aan Hom kom toe eer en ewige mag! Amen.

17Dié wat in hierdie wêreld ryk is, moet jy waarsku om nie hooghartig te wees nie. Hulle moet nie hulle hoop op die onsekerheid van rykdom vestig nie, maar op God wat alles ryklik aan ons gee om te geniet. 18Spoor hulle aan om goed te doen, om ryk te wees in goeie dade, vrygewig en mededeelsaam. 19So vergader hulle vir hulle ’n skat as ’n goeie belegging vir die toekoms, sodat hulle die ware lewe sal verkry.

20Timoteus, bewaar wat aan jou toevertrou is. Vermy die onheilige en sinlose praatjies en die redenasies van die “kennis”, soos dit verkeerdelik genoem word. 21Daar is mense wat daardie “kennis” aanhang en so van die geloof afgedwaal het.
Die genade sal by julle wees!

Lukas 16:19-31
Die ryk man en Lasarus
19“Daar was ’n ryk man wat duur en deftige klere gedra en elke dag feestelik en weelderig geleef het. 20–21En daar was ’n arm man met die naam Lasarus wat by die deur van die ryk man gelê het in die hoop dat hy van die oorskiet van die ryk man se tafel te ete sou kry. Hy was oortrek van die swere en selfs die honde het daaraan kom lek.

22“Toe die arm man te sterwe kom, is hy deur die engele weggedra na die ereplek langs Abraham. Die ryk man het ook gesterwe en is begrawe. 23Toe hy in die doderyk in pyn verkeer, kyk hy op en sien vir Abraham daar in die verte en vir Lasarus langs hom en hy roep: 24‘Vader Abraham, ontferm u oor my. Stuur tog vir Lasarus dat hy net die punt van sy vinger in water steek en my tong afkoel, want ek ly verskriklik in hierdie vuur.’25Maar Abraham sê: ‘My kind, onthou dat jy in jou leeftyd altyd die goeie gekry het en Lasarus die slegte. Nou gaan dit hier goed met hom, maar jy word gepynig. 26En buitendien is daar ’n groot kloof tussen ons en julle, sodat dié wat hiervandaan wil oorgaan na julle toe, nie kan nie, en dié wat dáár is, ook nie na ons toe kan oorkom nie.’27Toe sê hy: ‘Ek smeek u dan, vader, stuur hom tog na my pa se huis toe. 28Ek het nog vyf broers. Laat hy hulle dringend gaan waarsku sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging beland nie.’29Maar Abraham sê: ‘Hulle het die woorde van Moses en die profete. Laat hulle daarna luister.’30Hy antwoord egter: ‘Nee, vader Abraham, maar as iemand uit die dood na hulle toe gaan, sal hulle hulle bekeer.’31Maar hy sê vir hom: As hulle na Moses en die profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie al sou iemand uit die dood opstaan.”

Fokusteks

Jeremia 32:1-3a, 6-15
Jeremia koop grond
32 Dit is die woord wat van die Here tot Jeremia gekom het in die tiende regeringsjaar van koning Sedekia van Juda. Dit was die agtiende regeringsjaar van koning Nebukadnesar 2van Babel wie se leër juis toe vir Jerusalem beleër het. Die profeet Jeremia was in daardie tyd ingeperk in die binneplaas van die paleiswag van Juda. 3Koning Sedekia van Juda het vir Jeremia daar ingeperk

en gevra: “Waarom sê jy die dinge as profeet? Jy sê: So sê die Here: Ek gee hierdie stad in die mag van die koning van Babel. Hy sal dit verower. 4Koning Sedekia van Juda sal nie vrykom uit die mag van die Galdeërs nie. Hy sal beslis uitgelewer word aan die koning van Babel en persoonlik met hom praat en hom met sy eie oë sien. 5Die koning van Babel sal vir Sedekia na Babel toe vat, en hy sal daar bly, sê die Here. Dit is my straf vir hom. As julle teen die Babiloniërs oorlog maak, sal julle die neerlaag ly.”

6Jeremia het vir Sedekia geantwoord: “Die woord van die Here het tot my gekom: 7Jou oom Sallum se seun Ganamel sal na jou toe kom en sê: ‘Koop my stuk grond wat in Anatot is vir jou, want volgens die lossingsreg moet jy dit koop.’

8“Soos die Here gesê het, het my neef Ganamel na my toe gekom in die binneplaas van die paleiswag en vir my gesê: ‘Koop tog my stuk grond wat in Anatot is in die gebied van Benjamin. Dit is jou reg om dit te besit, jy het die lossingsreg. Koop dit vir jou.’ Ek het toe geweet dit is die woord van die Here 9en ek het die stuk grond wat in Anatot is, by my neef Ganamel gekoop. Ek het vir hom twee honderd gram silwer afgeweeg. 10Nadat ek die kontrak geskryf en die seël daarop gesit het en dit deur getuies laat teken het, het ek die silwer vir hom afgeweeg op ’n skaal. 11Toe het ek die koopkontrak met die voorwaardes en die bepalings daarop, die kontrak met die seël en die afskrif sonder seël, gevat 12en in die teenwoordigheid van my neef Ganamel en van die getuies wat dit geteken het en van al die Judeërs wat in die binneplaas van die paleiswag gesit het, vir Baruk seun van Nerija, seun van Magseja, gegee.

13“In hulle teenwoordigheid het ek vir Baruk beveel: 14‘So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Vat hierdie dokumente, die koopkontrak met die seël en die afskrif sonder seël en sit hulle in ’n kleipot sodat hulle lank kan hou, 15want so sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Daar sal weer huise en grond en wingerde in hierdie land gekoop word.’

16“Nadat ek die koopkontrak vir Baruk seun van Nerija gegee het, het ek tot die Here gebid: 17Ag, Here my God, U het die hemel en die aarde gemaak deur u groot mag. Niks is vir U onmoontlik nie. 18U bewys u troue liefde aan duisende geslagte, maar U straf kinders vir die sondes van hulle ouers. Groot en magtige God, u Naam is Here die Almagtige. 19U besluite is magtig, u dade groot. U sien alles wat die mense doen. U gee aan elkeen wat hom toekom, U beloon elkeen volgens sy dade. 20Die tekens en wonders wat U in Egipte gedoen het, doen U nou nog in Israel en onder die mense. So maak U vir U ’n Naam tot vandag toe.

21“U het u volk Israel uit Egipte laat wegtrek met tekens en met wonders, met magtige dade en met wonderlike groot dade waarvoor mense vreesbevange was. 22U het hierdie land vir u volk gegee, die land wat U met ’n eed aan hulle voorvaders beloof het om aan hulle te gee, ’n land wat oorloop van melk en heuning. 23U volk het gekom en dit in besit geneem, maar hulle was ongehoorsaam. Hulle het nie u wet onderhou nie, hulle het nie gedoen wat U hulle beveel het om te doen nie. Daarom het U al hierdie rampe oor hulle laat kom. 24Daar is beleëringswalle teen die stad opgegooi om dit te verower, en die stad is deur die swaard en hongersnood en pes oorgegee in die mag van die Galdeërs wat daarteen veg. Wat U gesê het, gebeur nou. U sien dit self. 25En tog sê U, Here my God, vir my: ‘Gaan koop vir jou ’n stuk grond met silwer en sorg dat jy getuies het,’ en dít noudat die stad in die mag van die Galdeërs gegee is.”

Liturgie

Aanvangslied: Lied 178 “Donna Nobis Pacem vs 1”

Aanvangswoord: (Psalm 91)

Seëngroet: (Uit Psalm 91)

Lied 467 “Die Heer is God, die sterke God 1,2”

Verootmoediging: ‘n boom wat bot

Skuldbelydenis: (Uit Psalm 51)

Vryspraak: (Romeine 3)

Lied 245 “Ek wat vergifnis Heer ontvang het 1,2”

Riglyn om te lewe: (1 Timoteus 6)

Lof 207 “Eer aan die Vader vs 1,2,3,4,5”

Epiklese: (Woorde van Lied 257 as gebed)

Skriflesing: Jeremia 32:1-15

Prediking
Gebed

Geloofsbelydenis: Apostoliese Geloofsbelydenis

Offergawes

Wegsending: Lied 521 “Erkentlik deur die dae vs 1,2”

Seën: (Uit Psalm 91)

Musikale Amen: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 178 “Donna Nobis Pacem vs 1”

Aanvangswoord 
Hy wat by die Allerhoogste
skuiling vind
en die beskerming van die Almagtige
geniet,
2hy sê vir die Here:
“U is my toevlug en my veilige vesting,
my God op wie ek vertrou.” (Psalm 91)

Seëngroet 
14“Omdat jy My liefhet,
sal Ek jou red,”
“omdat jy My ken,
sal Ek jou beskerm.
15Wanneer jy My aanroep,
sal Ek jou gebed verhoor;
in jou nood sal Ek by jou wees,
Ek sal jou red
en jou in eer herstel. (Uit Psalm 91)

Lied 467 “Die Heer is God, die sterke God 1,2”

Verootmoediging

Wet: (Deut 5)
6‘Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het. 7Jy mag naas My geen ander gode hê nie.

8‘Jy mag nie vir jou ’n beeld of enige afbeelding maak van wat in die hemel daarbo of op die aarde hieronder of in die water onder die aarde is nie. 9Jy mag hulle nie vereer of dien nie, want Ek die Here jou God eis onverdeelde trou aan My. Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat, 10maar Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam.

11‘Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie, want die Here sal dié een wat sy Naam misbruik, nie ongestraf laat bly nie.

12‘Jy moet die sabbatdag so deurbring dat jy dit heilig hou, soos die Here jou God jou beveel het. 13Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, 14maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God. Dan mag jy geen werk doen nie, nie jy of jou seun of jou dogter of die man of vrou wat vir jou werk, of jou bees of jou donkie of enige dier van jou of die vreemdeling by jou nie, sodat jou werksmense kan rus soos jy. 15Jy moet daaraan dink dat jy in Egipte ’n slaaf was en dat die Here jou God jou deur sy groot krag en met magtige dade daaruit bevry het. Daarom het die Here jou God jou beveel om die sabbatdag te onderhou.

16‘Eer jou vader en jou moeder, soos die Here jou God jou beveel het, dan sal jy ’n lang lewe hê en sal dit goed gaan met jou in die land wat die Here jou God vir jou gee.

17‘Jy mag nie moord pleeg nie.
18‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.
19‘Jy mag nie steel nie.
20‘Jy mag nie vals teen ’n ander getuig nie.
21‘Jy mag nie iemand anders se vrou begeer nie. Jy mag nie sy huis begeer nie, ook nie sy grond, sy slaaf of slavin, sy bees of donkie, of enigiets anders wat aan hom behoort nie.’

Skuldbelydenis
3Wees my genadig, o God,
in u troue liefde,
wis my oortredings uit
in u groot barmhartigheid!
4Was my skoon van my skuld,
reinig my van my sonde!
5Ja, my oortredings ken ek
en van my sonde bly ek altyd bewus.
6Teen U alleen het ek gesondig,
ek het gedoen wat verkeerd is in u oë.
U verwag opregtheid
diep in ’n mens se hart:
laat ek dan diep in my binneste weet
hoe U wil dat ek moet lewe.
9Neem tog my sonde weg
dat ek rein kan wees,
was my dat ek witter as sneeu kan wees.
10Laat my weer blydskap
en vreugde belewe.
11Moet tog nie ag slaan
op my sondes nie,
wis al my skuld uit!
12Skep vir my ’n rein hart, o God,
vernuwe my gees
en maak my standvastig. (Uit Psalm 51)

Vryspraak
21Maar nou het die vryspraak deur God waarvan die wet en die profete getuig, in werking getree. Dit is die vryspraak wat nie verkry word deur die wet te onderhou nie, 22maar deur in Jesus Christus te glo. God gee dit sonder onderskeid aan almal wat glo. 23Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie, 24maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus. 25–26Hom het God gegee as offer wat deur sy bloed versoening bewerk het vir dié wat glo. Hierdeur het God getoon wat sy vryspraak behels: Hy het die sondes wat Hy voorheen in sy verdraagsaamheid tydelik ongestraf laat bly het, vergewe. Maar Hy het ook getoon wat sy vryspraak in die teenswoordige tyd behels: Hy oordeel regverdig deurdat Hy elkeen vryspreek wat in Jesus glo. (Romeine 3)

Lied 245 “Ek wat vergifnis Heer ontvang het 1,2”

Riglyn om te lewe
Streef na opregtheid, toewyding aan God, geloof, liefde, volharding, minsaamheid.
12In die goeie wedloop van die geloof moet jy al jou kragte inspan en die ewige lewe as prys behaal. Daartoe het God jou geroep en het jy die goeie belydenis voor baie getuies afgelê.

6Die godsdiens is ’n groot wins as iemand tevrede is met wat hy het, 7want ons het niks in die wêreld ingebring nie; ons kan ook niks daaruit wegneem nie. 8As ons dan kos en klere het, moet ons daarmee tevrede wees.

17Dié wat in hierdie wêreld ryk is, moet jy waarsku om nie hooghartig te wees nie. Hulle moet nie hulle hoop op die onsekerheid van rykdom vestig nie, maar op God wat alles ryklik aan ons gee om te geniet.

18Spoor hulle aan om goed te doen, om ryk te wees in goeie dade, vrygewig en mededeelsaam.

19So vergader hulle vir hulle ’n skat as ’n goeie belegging vir die toekoms, sodat hulle die ware lewe sal verkry.
(1 Timoteus 6)

Lof: Lied 207 “Eer aan die Vader vs 1,2,3,4,5”

Liedere

F22. “Ek Soek U, O God”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Toewyding / Verwondering / Aanbidding)
Teks en Musiek: Rhe Janse
© 1994 Brettian Productions
(Reeds opgeneem op: Lentereën – Willie Joubert
25 Gunsteling L&A liedere – Louis Brittz
Vrygemaak: Pretoria Oosterlig Gemeente)

Ek soek U, o God, my God,
ek dors na U, God.
Soos ‘n land sonder water,
wil ek tot u nader
om by U te wees,
om by U te wees.
As ek saans aan U dink, my God,
oor U peins in die nag,
dan weet ek U help my,
U hand ondersteun my.
Ek wil naby U bly,
ek wil naby U bly.

Refrein:
Want U liefde is meer werd as die lewe,
daarom sal ek U vir altyd prys;
my hande ophef om u Naam te eer,  
want U is die Heer vir wie ons lewe, lewe, lewe… (Nav Ps 63)

F32. “U Is My Krag En My Beskerming”
(RUBRIEK: Kruisfuur /FLAM Gemeentesang – Verwondering / Geloof en Vertroue)
Teks en Musiek: Mariëtte Labuschagne
© 1995 MAR Gospel Music Publishers
(Psalm 28:7)

U is my krag en my beskerming.
By U kan ek skuil in my nood.
U dra my, U versterk my.
U troos my, U omhels my.
U liefde is groot.
Dankie, my Heer.

F118. “Bly Volhard Soos Atlete”  
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Toewyding / Diens en Getuienis)
Oorspronklike titel: Turn your eyes upon Jesus
Teks en Musiek: HH Lemmel
Afrikaanse vertaling: AP van der Colf
© 1922 New Spring
(Opgeneem in Jeugsangbundel I)
(Hebr 12:1-3 en 1 Kor 9:24-27)

1. Bly volhard soos atlete –
dis God wat ons wedloop bepaal.
Daar ‘n skaar’ verlostes wat wag om die baan
dat ons almal die wenstreep sal haal.

2. Elke las moet ons afgooi
– die sonde wat maklik verstrik –
dat ons God se pad met volharding kan loop;
dis die pad na die ware geluk.

3. Hou die oë op Jesus –
ons Vriend, ons Verlosser, ons Hoof.
Vir die vreug daarná het Hy smarte verdra;
Hy begin en versterk ons geloof.

God praat met ons en ons luister

Epiklese
O Heer, maak oop my hart se poort;
maak my ontvanklik vir u Woord
wat my u raad en wil verklaar.
Laat my dié Woord altyd bewaar.
U Woord, o Heer, deurboor en wond,
maar dit genees ook, maak gesond;
u Woord toon al ons sondes aan
en wys die weg wat ons moet gaan.
O Vader, Seun en Gees tesaam,
hoe heerlik is u Wondernaam!
O heilige Drie-enigheid,
ons loof U tot in ewigheid. (Lied 257)

Skriflesing: Jeremia 32:1-15

Prediking

Familie-oomblik

Onderstaande kan op verskeie maniere gebruik word met kinders: as opvoering of selfs net met 2 mikrofone buite sig…
Die teks is vry vertaal ahv “You want me to do what?” wat op die web beskikbaar.

Jeremia 32
Here: Jeremia!
Jeremia: Ja Here?

Here: Dit is Ek, die Here.
Jeremia: Ja ek weet, ek herken U stem.

Here: Jeremia, jy gaan ‘n besoeker ontvang.
Jeremia: Ag- dit sal wonderlik wees! Ek kan doen met ‘n besoeker. Ek sien nie eintlik ander mense nie, dit is nou sedert Koning Sedekia my hier in die binneplaas van die paleiswag laat opsluit het. Ek het net gesê wat U vir my gesê het- dat die koning van Babilon die stad sal beleër, dit sal inneem en Koning Sedekia sal wegvoer. Dit is al wat ek gesê het. En dat koning Sedekia niks kan doen om dit te keer nie. Die koning het nie daarvan gehou om dit te hoor nie…

Here: Jeremia, jy gaan ‘n besoeker ontvang.
Jeremia: U sê so ja.

Here: Jou neef Ganamel gaan jou besoek. En hy gaan jou vra om die stuk grond wat hy in Anatot besit by hom te koop. Jy moet dit koop.
Jeremia: Ek moet WAT?

Here: Jy moet die stuk grond wat jou neef jou aanbied koop.
Jeremia: Ek dog dis wat U sê… Moet ek regtig die grond by hom koop?

Here: Ja, jy moet die grond koop.
Jeremia: Here, U is ‘n groot en Almagtige God. Niks is vir U onmoontlik nie. U het die volk Israel uit Egipte se slawerny gelei en vir ons hierdie land gegee. Ek weet ons het drooggemaak, sleg drooggemaak. Ons was ongehoorsaam aan U, ons het afgode gedien. Ons verdien die straf wat oor ons gaan kom…. Maar Here, hoe kan ek die grond koop as ons land vernietig gaan word, as Jerusalem in Babel se hande gaan val. Almal weet die land gaan soos ‘n woestyn wees- dit gaan nie meer ons land wees nie. Wie koop dan nou grond in ‘n tyd soos die? Is u seker ek moet die grond koop?

Here: Koop die grond Jeremia! Ek gaan die stad oorgee in die hande van Babel. Oorlog en hongersnood en siekte lê vir julle voor. Hulle gaan die stad vernietig en dit afbreek tot op die grond. Maar Jeremia- dit is nie die einde van die storie nie. Ek gaan weer my mense bymekaar maak en hulle terugbring hierheen. Hulle sal weer hier woon, in vrede. Dan sal my mense weet dat Ek God is. En dan sal grond weer gekoop word in die land. Wingerde sal weer gekoop word in Anatot, in al die stede van Juda! So Jeremia- koop die grond. Dit is ‘n baie goeie belegging…

DIE VRAAG WORD NOU AAN DIE KINDERS GESTEL:
As jy Jeremia was- sou jy die grond gekoop het? Dit is mos geldmors. Mens koop nie grond terwyl jou stad beleër word deur die vyand nie. Jy weet mos dit is ‘n kwessie van tyd voor alles platgevee en afgebrand is.

VERDUIDELIK
Jeremia het die grond gekoop omdat dit God se opdrag was. Vir geen ander rede nie. Hy het nie toe verstaan hoekom hy die grond moes koop nie. Hy het die grond gekoop al was daar vir hom geen logiese rede nie. Jeremia het God op Sy Woord geneem.

Jeremia se optrede moes ‘n sigbare teken wees van God se belofte: dat Hy sy volk weer bymekaar gaan maak en gaan terugbring na hulle land. Dit was ‘n teken dat daar weer huise en landerye en wingerde gekoop gaan word. So word Jeremia se optrede ‘n voorbeeld van geloof dat God Sy Woord sal hou. (Vgl Jeremia 32:36-41)
OF
Jy kan ook die storie vertel van Wangari Maathai. Toe sy in Kenya groot geword het, was dit ‘n pragtige, groen land. Maar nadat sy vir jare lank weg was en weer teruggekeer het, was sy geskok om te sien hoe die land verander het. Al die bome was uitgekap en die land was vaal en droog. Vroue moes ver loop om hout vir hul vure te kry. Erosie het die grond al meer weggespoel. Wangari het besluit om bome te begin plant. In 1977 het sy 9 boompies in haar agterplaas geplant en van die plaaslike vroue gekry om ook bome te begin plant. Toe sy in 2004 die eerste vrou uit Afrika geword het wat ‘n Nobel Prys vir Vrede kry, is daar al deur haar beweging 30 miljoen bome geplant, was daar 6000 kwekerye in Kenya, is 80 000 mense se inkomste verbeter en het die beweging oor 30 lande in Afrika versprei! (By Kalahari.com kan jy ‘n pragtige prenteboek met Wangari Maathai se storie bestel – “Wangari’s Trees of Peace” deur Jeanette Winter. Daar is ook ‘n e-boek beskikbaar.

Preekriglyn

Bob Seiple vertel hoe sy pa, op ouderdom 75, ‘n groot klomp vrugteboompies aangeplant het. “Pa is darem ‘n optimis,” het ek hom getreiter.

“Pa is ‘n paar jaar gelede oorlede. Wanneer ek nou na die ou plaashuis terugkeer, het ek ‘n keuse. Ek kan die begraafplaas op die koppie naby die huis gaan besoek en by my pa se graf oor sy lewe nadink. Of ek kan van die heerlike vrugte pluk en nadink oor iemand wat alles van hoop verstaan het.”

Die bekende gesegde sê mens moet bome plant asof jy vir ewig gaan lewe. Dit beteken: moet nooit ophou bome plant nie. Jy verryk jou eie lewe, en jy bevestig die hoop op God se trou. Die komende geslagte gaan die vrug van jou visie en hoop pluk en God vir jou dank.

Daad by die woord

Dit was nie genoeg dat Jeremia net vir die mense van God se beloftes vertel het nie. Hy moes self iets doen wat vir sy hoorders wys dat hy glo in die beloftes van God. God sê vir Jeremia om ’n stuk grond te koop, op ’n tydstip dat dit eintlik tyd was om grond te verkoop!

Dit was ’n donker tyd in Israel (meer spesifiek Juda) se geskiedenis. Dit is die jaar 587 vC, koning Sedekia se tiende regeringsjaar. Dit is dieselfde jaar waarin die stad Jerusalem ingeneem sou word deur koning Nebukadnesar van Babel. Hy het reeds die stad beleër.

Die beleëring het die normale lewe in die stad onmoontlik gemaak, met die donker wolk van die dreigende oorname oor die stad. Jeremia is onder huisarres, omdat hy van dislojaliteit verdink word. Hy het die nederlaag van Jerusalem en die gevangeneming van Sedekia voorspel. Koning Sedekia wil weet waarom hy so dislojaal is deur te voorspel dat Jerusalem verower en Sedekia na Babel weggeneem sal word.

Jeremia antwoord hom deur te vertel van sy neef Ganamel wat hom sou besoek. Die Here het aan hom openbaar dat sy neef Ganamel na hom toe sou kom met die versoek om sy stuk grond in Anatot te koop. Volgens die Mosaïese wet was die naaste manlik bloedverwant verplig om as “losser” (hy het die lossingsreg gehad) op te tree waar ’n Israeliet vanweë verarming sy grond verloor het. Dit het skynbaar gebruik geword dat die verarmde grondbesitter sy grond direk aan die familielid te koop aanbied voordat ’n vreemdeling dit oorneem.

Nuttelose kooptransaksie?

Hierdie koop het geen doel nie, niemand sal dit kan geniet nie, want Jeremia is in gevangenskap en die Galdeërs is besig om alles te vernietig. Trouens, die dorpie Anatot was reeds beset deur die Galdeërs. Die koop van grond daar lyk dus na dwaasheid.

Ganamel het toe opgedaag soos wat die Here vir Jeremia gesê het. Hy het in die versoek om sy grond te koop, as bevel van God gesien. Hy het op gebruiklike wyse die kontrak opgestel en die geldsom afgeweeg. Die korrek opgestelde koopkontrak oorhandig hy aan sy vriend en helper, Baruk.

Baruk kry opdrag om die kontrak in ’n kleipot te sit sodat dit lank sal hou. Sulke kontrakte is in duplikaat opgestel, waarvan een afskrif met die seël verseël en toegesluit is en die ander afskrif meer toeganklik gemaak is. Dit moes verseker dat die oorspronklike kontrak nie vervals kan word nie. Die onverseëlde kopie bly oop sodat dit nagegaan kan word. Die verseëlde en onverseëlde koopkontrak moet goed weggebêre word, in ’n kleipot, om later as waarborg vir die waarheid van die profetewoord te kan dien.

Waarborg

Die feit dat daar selfs op so ’n late uur in die geskiedenis van Jerusalem so ’n wettige kontrak gesluit word – terwyl ’n mens sou redeneer dat sulke kontrakte tog nie veel sin het as die land voor ’n militêre nederlaag staan nie – word die waarborg dat die ballingskap nie vir ewig sal duur nie (Van Zyl). Dit was ’n geweldige gerusstelling vir die volk wat so totaal ontwortel is deur die ballingskap. Hulle sal weer die beloofde land kan besit.

Geloof tot aksie

So het Jeremia se geloof in aksie oorgegaan. Geloof sonder werke is dood. Jeremia wys sy geloof deur sy werke. Hy wys sy geloof ook deur die deeglike manier waarop hy die transaksie deurvoer. Die boodskap is dat dit wat noodwendig moet gebeur nie gekeer kan word nie. Dit is egter nie die einde van God se pad met sy volk nie. Dit is eerder die begin van die pad: die lewe sal weer begin, daar sal weer grond, huise en wingerde gekoop en verkoop word in Juda.

Die Here kom sê hiermee dat vir hierdie swaar geteisterde volk beter tye sal aanbreek, waarin die normale lewe weer sal aangaan. Daarom is dit so belangrik dat die koopprys die normale gewone prys is. Dit is ook belangrik dat die handeling aan alle regsvereistes moet voldoen en die bewysstuk in ’n kleipot gebêre word sodat dit bewaar kan bly.

God bring hoop

As alles donker is in die hede, is ons geneig om wanhopig te wees oor die toekoms. Maar die toekoms is in God se hande, en hy belowe verlossing en seën vir sy mense. Geloof in God bring dus vir ’n mens hoop. Daar kom ’n einde aan lyding; dit hou nie vir altyd aan nie.

Jeremia se daad spreek duideliker as woorde: God het ’n toekoms vir Juda! So het God ’n toekoms vir jou. Al het jy jou vasgeloop deur jou eie toedoen, al lyk omstandighede oorweldigend. Dít is geloof: om ten spyte van omstandighede wat ’n mens wil oorweldig, met die gewone lewe voort te gaan in die vertroue dat God sy goeie werk in jou lewe enduit sal voer (Fil 1:6).

Simboliese aksie

Jeremia se optrede illustreer hoe belangrik simboliese aksie in ‘tyd van nood is. Sy optrede is soos ‘n kindertuinlessie: dit word ‘n bevestiging van God se trou en God se beloftes.

Sulke simbole is altyd aangrypend as ander dit verrig. Van ons vereis dit dat ons dikwels ons eie lyf en lewe op die spel moet plaas. Geloof en hoop verg regte geld, regte aksie, regte gehoorsaamheid, ‘n lewende uitsig op God

Nog voorbeelde

Mens sien hierdie hoop in mense wat tot hulle dood toe letterlik en figuurlik bome plant. ’n Mens sien dit in die gesin wat die lewe voortsit ná die dood van ’n geliefde, in die boer wat weer opstaan ná ’n knellende droogte, in die slagoffer van ’n egskeiding wat nog tyd vind om na ander in nood uit te reik.

Ek kan alleen vra: Sien mense dit ook in my lewe?

God stuur ons om te leef

Gebed
“Genadige God, ons weet dat U ons liefhet, selfs in tye wanneer ons nie eers meer seker is of ons onsself liefhet nie. Druk ons teen U vas wanneer ons frustrasie met ons mislukkings ons van binne leeg laat voel. Vergewe ons ons sondes en help ons om ook ander te vergewe. Terwyl ons so hier bid, laat ons u belofte hoor dat ’n nuwe dag sal breek; dat na die winter die lente sal aanbreek vir ons wat vergifnis ontvang het deur Jesus Christus, wat in staat is om alle dinge nuut te maak. Amen.”
(Uit: Gebedeboek met liturgiese voorstelle. Saamgestel deur die Sinodale Eredienskommissie van die Oos-Kaap Sinode van die NG Kerk, 2001: Redakteur Johan van der Merwe)

Geloofsbelydenis: Apostoliese Geloofsbelydenis

Offergawes

Wegsending: Lied 521 “Erkentlik deur die dae vs 1,2”

Seën
14“Omdat jy My liefhet,
sal Ek jou red,”
“omdat jy My ken,
sal Ek jou beskerm.
15Wanneer jy My aanroep,
sal Ek jou gebed verhoor;
in jou nood sal Ek by jou wees,
Ek sal jou red
en jou in eer herstel. (Uit Psalm 91)

Musikale Amen: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.