Negentiende Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Jeremia 32:1-3a,6-15: Jeremia se aankoop van ’n stuk grond lyk na geldmors, maar eintlik is dit ’n daad van hoop. Psalm 91 besing God se beskerming en versorging vir hulle wat God liefhet. Lukas 16:19-31 vertel die tragiese verhaal van wat gebeur as ’n ryk mens dit nie regkry om sy rykdom te deel nie. 1 Timoteus 6:6-19 roep dissipels op om met die genoeg wat God voorsien, tevrede te wees.

Ander tekste

Jeremia 32:1-3a, 6-15
Jeremia koop grond
32 Dit is die woord wat van die Here tot Jeremia gekom het in die tiende regeringsjaar van koning Sedekia van Juda. Dit was die agtiende regeringsjaar van koning Nebukadnesar 2van Babel wie se leër juis toe vir Jerusalem beleër het. Die profeet Jeremia was in daardie tyd ingeperk in die binneplaas van die paleiswag van Juda. 3Koning Sedekia van Juda het vir Jeremia daar ingeperk en gevra: “Waarom sê jy die dinge as profeet?

Jy sê: So sê die Here: Ek gee hierdie stad in die mag van die koning van Babel. Hy sal dit verower. 4Koning Sedekia van Juda sal nie vrykom uit die mag van die Galdeërs nie. Hy sal beslis uitgelewer word aan die koning van Babel en persoonlik met hom praat en hom met sy eie oë sien. 5Die koning van Babel sal vir Sedekia na Babel toe vat, en hy sal daar bly, sê die Here. Dit is my straf vir hom. As julle teen die Babiloniërs oorlog maak, sal julle die neerlaag ly.”

6Jeremia het vir Sedekia geantwoord: “Die woord van die Here het tot my gekom: 7Jou oom Sallum se seun Ganamel sal na jou toe kom en sê: ‘Koop my stuk grond wat in Anatot is vir jou, want volgens die lossingsreg moet jy dit koop.’

8“Soos die Here gesê het, het my neef Ganamel na my toe gekom in die binneplaas van die paleiswag en vir my gesê: ‘Koop tog my stuk grond wat in Anatot is in die gebied van Benjamin. Dit is jou reg om dit te besit, jy het die lossingsreg. Koop dit vir jou.’ Ek het toe geweet dit is die woord van die Here 9en ek het die stuk grond wat in Anatot is, by my neef Ganamel gekoop. Ek het vir hom twee honderd gram silwer afgeweeg. 10Nadat ek die kontrak geskryf en die seël daarop gesit het en dit deur getuies laat teken het, het ek die silwer vir hom afgeweeg op ’n skaal. 11Toe het ek die koopkontrak met die voorwaardes en die bepalings daarop, die kontrak met die seël en die afskrif sonder seël, gevat 12en in die teenwoordigheid van my neef Ganamel en van die getuies wat dit geteken het en van al die Judeërs wat in die binneplaas van die paleiswag gesit het, vir Baruk seun van Nerija, seun van Magseja, gegee.

13“In hulle teenwoordigheid het ek vir Baruk beveel: 14‘So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Vat hierdie dokumente, die koopkontrak met die seël en die afskrif sonder seël en sit hulle in ’n kleipot sodat hulle lank kan hou, 15want so sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Daar sal weer huise en grond en wingerde in hierdie land gekoop word.’

Amos 6:1a, 4-7
Oor die vernietiging van Josef bekommer julle julle nie
6 Ellende wag vir dié wat so rustig in Sion woon,
dié wat hulle so veilig voel
op Samariaberg,
dié vername mense van die voorste nasie
op wie die koningshuis van Israel
hom verlaat!
2Gaan kyk in Kalne,
gaan daarvandaan
na die groot Hamat toe,
gaan af na die Filistynse stad
Gat toe!
Is julle beter as daardie koninkryke?
Is hulle grondgebied groter as julle s’n?
3Julle maak of die dag van rampe ver is,
maar julle bring juis die dag nader
dat geweld julle sal regeer.

4Julle lê op julle beddens
wat met ivoor ingelê is,
julle strek julle uit op julle rusbanke,
julle eet lammers uit die kleinveetrop
en kalwers uit die stal,
5julle maak liedjies vir die harp,
julle dink hulle
vir musiekinstrumente uit
soos Dawid,
6julle drink wyn uit offerkomme
en salf julle met uitsoekolie,
maar oor die vernietiging van Josef
bekommer julle julle nie.
7Daarom sal julle nou weggevoer word
op die voorpunt van die ballinge.
Die tyd is verby dat julle uitgelate lê
en feesvier.

Psalm 91:1-6, 14-16
Hy wat by die Allerhoogste
skuiling vind

91 Hy wat by die Allerhoogste
skuiling vind
en die beskerming van die Almagtige
geniet,
2hy sê vir die Here:
“U is my toevlug en my veilige vesting,
my God op wie ek vertrou.”
3Dit is Hy wat jou
uit die voëlvanger se wip hou
en jou bewaar van dodelike siekte.
4Hy beskut jou onder sy vleuels
en is vir jou ’n veilige skuilplek.
Sy trou beskerm jou aan alle kante.
5Jy hoef nie bang te wees
vir gevaar in die nag
of vir aanvalle oordag,
6vir pes wat in die donker toeslaan
of vir siekte wat helder oordag
verwoesting saai nie.

7Al val daar duisende langs jou, 
tienduisende by jou, 
vir jou sal niks tref nie. 
8Met jou eie oë sal jy sien 
hoe die goddelose gestraf word. 
9Omdat jy die Here as skuilplek 
geneem het, 
die Allerhoogste as jou beskermer, 
10sal geen onheil jou tref 
en geen plaag naby jou woonplek 
kom nie. 
11Hy sal sy engele opdrag gee 
om jou te beskerm waar jy ook al gaan. 
12Op hulle hande sal hulle jou dra, 
sodat jy nie jou voet 
teen ’n klip sal stamp nie. 
13Jy sal oor leeus en adders loop, 
leeus en slange sal jy dood trap. 

14“Omdat hy My liefhet,
sal Ek hom red,”
sê die Here,
“omdat hy My ken,
sal Ek hom beskerm.
15Wanneer hy My aanroep,
sal Ek sy gebed verhoor;
in sy nood sal Ek by hom wees,
Ek sal hom red
en hom in sy eer herstel.
16’n Baie lang lewe sal Ek hom gee
en oor my hulp sal hy hom verbly.”

Prys die Here!
146 Prys die Here!
Ek wil die Here prys.
2Ek wil die Here prys so lank ek lewe,
ek wil die lof van my God besing
so lank ek daar is.
3Moenie op magtiges vertrou nie,
nie op ’n mens nie;
hy kan jou nie red nie.
4Sy asem verlaat hom,
hy word weer grond
en sy planne is daarmee heen.
5Dit gaan goed met die mens
wat sy hulp van die God van Jakob
ontvang,
die mens wie se hoop gevestig is
op die Here, sy God.
6Die Here het die hemel en die aarde
gemaak,
die see en alles daarin.
Hy bly vir altyd getrou,
7Hy laat reg geskied aan verdruktes
en gee brood aan dié wat honger ly.
Die Here bevry die gevangenes,
8die Here laat blindes sien,
Hy ondersteun dié wat bedruk is.
Die Here het die regverdiges lief.
9Hy beskerm vreemdelinge
en help weeskinders en weduwees,
maar Hy versper die pad
vir die goddeloses.
10Die Here regeer vir altyd
Sion, jou God regeer
van geslag tot geslag.
Prys die Here!

Lukas 16:19-31
Die ryk man en Lasarus
19“Daar was ’n ryk man wat duur en deftige klere gedra en elke dag feestelik en weelderig geleef het. 20–21En daar was ’n arm man met die naam Lasarus wat by die deur van die ryk man gelê het in die hoop dat hy van die oorskiet van die ryk man se tafel te ete sou kry. Hy was oortrek van die swere en selfs die honde het daaraan kom lek.

22“Toe die arm man te sterwe kom, is hy deur die engele weggedra na die ereplek langs Abraham. Die ryk man het ook gesterwe en is begrawe. 23Toe hy in die doderyk in pyn verkeer, kyk hy op en sien vir Abraham daar in die verte en vir Lasarus langs hom en hy roep: 24‘Vader Abraham, ontferm u oor my. Stuur tog vir Lasarus dat hy net die punt van sy vinger in water steek en my tong afkoel, want ek ly verskriklik in hierdie vuur.’25Maar Abraham sê: ‘My kind, onthou dat jy in jou leeftyd altyd die goeie gekry het en Lasarus die slegte. Nou gaan dit hier goed met hom, maar jy word gepynig. 26En buitendien is daar ’n groot kloof tussen ons en julle, sodat dié wat hiervandaan wil oorgaan na julle toe, nie kan nie, en dié wat dáár is, ook nie na ons toe kan oorkom nie.’27Toe sê hy: ‘Ek smeek u dan, vader, stuur hom tog na my pa se huis toe. 28Ek het nog vyf broers. Laat hy hulle dringend gaan waarsku sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging beland nie.’29Maar Abraham sê: ‘Hulle het die woorde van Moses en die profete. Laat hulle daarna luister.’30Hy antwoord egter: ‘Nee, vader Abraham, maar as iemand uit die dood na hulle toe gaan, sal hulle hulle bekeer.’31Maar hy sê vir hom: As hulle na Moses en die profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie al sou iemand uit die dood opstaan.”

Fokusteks

1 Timoteus 6:6-19
Die slawe
6 Gelowiges wat as slawe onder ’n juk staan, moet hulle eienaars met alle eerbied bejeën, sodat niemand sal kwaad praat van die Naam van God en van die Christelike leer nie. 2Slawe wat gelowige eienaars het, moet aan hulle nie minder eerbied betoon omdat hulle saam broers is nie. Hulle moet hulle eerder beter dien omdat dié wat uit hulle werk voordeel trek, met hulle een is in geloof en liefde.

Vals leer en ware rykdom
Hierdie dinge moet jy aan die mense leer en dit by hulle inskerp. 3As iemand ’n ander leer verkondig en nie hou by die gesonde woorde van ons Here Jesus Christus en by die leer van ons godsdiens nie, 4is hy verwaand en weet hy niks. Hy het ’n sieklike beheptheid met twisvrae en met stryery oor woorde. Daaruit ontstaan afguns, twis, beledigings, gemene verdagmakery, 5voortdurende rusie van mense wat verstandelik verward en van die waarheid beroof is. Hulle dink dat die godsdiens iets is om geldelike wins mee te maak.

6Die godsdiens is ’n groot wins as iemand tevrede is met wat hy het, 7want ons het niks in die wêreld ingebring nie; ons kan ook niks daaruit wegneem nie. 8As ons dan kos en klere het, moet ons daarmee tevrede wees. 9Maar dié wat ryk wil word, val in versoeking. Hulle loop hulle vas in die strik van baie sinlose en skadelike begeertes waardeur mense in verderf en ondergang gestort word. 10Geldgierigheid is ’n wortel van allerlei kwaad. Party het geld nagejaag en toe van die geloof afgedwaal; daardeur het hulle hulleself baie ellende op die hals gehaal.

Die goeie stryd van die geloof
11Maar jy, man van God, moet van hierdie dinge af wegvlug. Streef na opregtheid, toewyding aan God, geloof, liefde, volharding, minsaamheid. 12In die goeie wedloop van die geloof moet jy al jou kragte inspan en die ewige lewe as prys behaal. Daartoe het God jou geroep en het jy die goeie belydenis voor baie getuies afgelê. 13Voor God, wat aan alle dinge die lewe skenk, en voor Christus Jesus, wat teenoor Pontius Pilatus getuienis afgelê het van die goeie belydenis, beveel ek jou: 14“Voer jou opdrag stiptelik en onberispelik uit tot op die dag dat ons Here Jesus Christus kom.” 15Sy verskyning sal op die bestemde tyd plaasvind. Daarvoor sorg God, die goeie en enigste Heerser, die Koning van die konings en die Here van die heersers. 16Hy alleen besit onsterflikheid; Hy woon in ontoeganklike lig. Geen mens het Hom gesien of kan Hom sien nie. Aan Hom kom toe eer en ewige mag! Amen.

17Dié wat in hierdie wêreld ryk is, moet jy waarsku om nie hooghartig te wees nie. Hulle moet nie hulle hoop op die onsekerheid van rykdom vestig nie, maar op God wat alles ryklik aan ons gee om te geniet. 18Spoor hulle aan om goed te doen, om ryk te wees in goeie dade, vrygewig en mededeelsaam. 19So vergader hulle vir hulle ’n skat as ’n goeie belegging vir die toekoms, sodat hulle die ware lewe sal verkry.

20Timoteus, bewaar wat aan jou toevertrou is. Vermy die onheilige en sinlose praatjies en die redenasies van die “kennis”, soos dit verkeerdelik genoem word. 21Daar is mense wat daardie “kennis” aanhang en so van die geloof afgedwaal het.

Die genade sal by julle wees!

Ekstra stof

1 Timoteus 6:1-21 – Rykdom in God is die enigste belegging wat sal hou
Waar Paulus in hoofstuk 5 oor Timoteus se bediening IN die gemeente gepraat het, en leiding gegee het oor die onderlinge onderskraging, praat hy nou oor die bediening van die gemeente na BUITE in die gemeenskap. Die onderlinge onderskraging moet na buite in onderlinge eerbetoon uitmond, sodat mense in hulle werksverhoudinge kan sien hoe die evangelie werk.

Let op hoe Paulus die onderlinge eerbetoon motiveer: “sodat niemand sal kwaad praat van die Naam van God en van die Christelike leer nie”. Die gemeente is die draer en beskermer van die evangelie, en doen dit deur in leer en lewe opreg en outentiek te lewe. En veral in die werkplek kan die naam van God in gedrang kom, sowel as die leer van en geloof in Christus, as hulle met mekaar in konflik oor allerlei sou wees.

Lojaliteit aan mekaar en aan die evangelie is nie onderhandelbaar nie. Die bande tussen gelowiges is deur God gesmee, soos trouens ook hulle bande met Hom. En dit moet bo alles gehandhaaf word. Selfs ons onderlinge vermaning, bemoediging en onderskraging moet uit hierdie diep bewussyn van eenheid met mekaar en God gedoen word.

Vers 1-2 – Lojaliteit aan mekaar
Hierdie lojaliteit aan God en mekaar moet in alle lewensverbande gehandhaaf word. Die een verband wat Paulus uitlig, is die werkplek, waar gelowiges wat in ’n ongelyke situasie met mekaar moet saamwerk (slaaf vs eienaar), mekaar steeds as broers en susters moet raaksien en respekteer.

Vers 2b-10 – Wees tevrede met wat jy het
Maar dit gaan nie net oor die verhouding slaaf vs eienaar nie. Dit raak ook die wyse waarop ’n mens dink oor jou doel op aarde. Gierigheid is altyd ’n groot versoeking, wat selfs wanneer jy met die dinge van die Here besig is, jou kan verlei om daaruit geld te probeer maak. Die einde daarvan is dat jy van die geloof sal afdwaal en in allerlei ellende beland. Daarom is Paulus se raad aan Timoteus en sy gemeente om tevrede te wees met wat hulle het.

Vers 11-21 – Stryd die goeie stryd van die geloof
Dan keer Paulus terug na Timoteus se eie lewe en roeping, en moedig hy Timoteus aan om met alles in hom die goeie stryd van die geloof te stry. En dit tref my hoe Paulus hom motiveer met 2 goed.

1. Aan die een kant vestig hy sy aandag op dit wat agter hom lê, God wat aan alles die lewe geskenk het, en Jesus Christus wat met sy lewe en bediening die wêreld verander het. Dit is die stukrag in sy lewe, waaruit hy krag kan put om sy roeping na te kom en enduit te voltooi.

2. Aan die ander kant skets hy vir hom ’n gloeiende prentjie van die toekoms wat op die bestemde tyd sal aanbreek. Let op met hoeveel passie Paulus vir God teken: “die goeie en enigste Heerser, die Koning van die konings en die Here van die heersers”. Maar dié God is nie net die eerste in die Skepping nie, Hy is ook weergaloos in sy wese: “Hy alleen besit onsterflikheid.” “Hy woon in ontoeganklike lig.” “Aan Hom kom toe eer en ewige mag.”

Paulus keer terug na ’n laaste gedagte oor rykdom, en spreek hom sterk uit oor die onsekerheid van rykdom. Die enigste lewenstyl wat sin maak vir die gemeente, is om hulle hoop op God te vestig wat alles ryklik aan ons gee om te geniet. Woorde wat herinner aan Jesus in die Bergrede, dat God dié wat die koninkryk najaag, ook sal gee wat hulle nodig het (Matt 6:33).

Die rykdom wat tel, is die rykdom in God, en dit kom deur goeie dade, vrygewigheid en mededeelsaamheid, nie gierigheid en inhaligheid nie. In ekonomiese taal sluit Paulus af deur te sê, rykdom in God is die belegging wat die toets van die tyd sal deurstaan.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 168 “Heilige Jesus, Heer v/d Here vs 1,2,3”

Aanvangswoord: (Uit Psalm 146)

Seëngroet: (1 Timoteus 1)

Lied 164 “Ons is almal hier tesaam vs 1,2

Wet: Uit Amos 6

Skuldbelydenis: Lied 240 “Heiland as in ootmoed stil 1,2”

Vryspraak: (Psalm 91)

Geloofsbelydenis: (Uit Psalm 146)

Loflied 201 “Lofsing die Heer, buig voor Hom neer 1,2,3”

Epiklese Gebed (Ahv Ps 1)

Skriflesing: 1 Timoteus 6:6-19

Familie-oomblik
Prediking
Offergawes

Wegsending: Lied 524 “God roep ons om met woord en daad vs 1,2,3”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 168 “Heilige Jesus, Heer v/d Here vs 1,2,3”

Aanvangswoord: (Uit Psalm 146)
5Dit gaan goed met die mens
wat sy hulp van die God van Jakob
ontvang,
die mens wie se hoop gevestig is
op die Here, sy God.

Seëngroet: (1 Timoteus 1)
Genade, barmhartigheid en vrede van God die Vader en Christus Jesus ons Here!

Lied 164 “Ons is almal hier tesaam vs 1,2”

Wet: Uit Amos 6
Agtergrond uit die Bybel verklaar…
Die middel van die 8ste eeu v.C., by name die regeringstyd van Jerobeam II, is gekenmerk deur ’n ekonomiese opbloei en ’n tydperk van politieke stabiliteit. Dit het by die leiers en maghebbers van Israel ’n gevoel van vals sekuriteit gewek. Amos skud diegene wat so rustigwoon en hulleself so veilig voel, wakker met die oordeelswoord van die Here.

Israel ly aan ’n vals sekerheidswaan en dit kom tot uiting in ’n uitspattige lewenswyse. Hulle het buitengewoon weelderige meubels. Hulle voer ’n gemaksugtige bestaan. Terwyl die gewone mense selde of nooit vleis eet nie, is die vernames slegs met keurgraadvleis tevrede. Voorregte wat slegs vir die koningshuis beskore is, word nou deur die ryk heersersklas vir hulleself toegeëien. By hulle oordadige feesmaaltye word daar ook musiek gemaak en dan improviseer hulle, waarskynlik in hulle dronkenskap, liedjies en dink nogal dat hulle net sulke groot musiekmakers soos Dawid is! Amos spot dus eintlik met hulle.

Dan wys die Here hulle op die regte prioriteite…
4Julle lê op julle beddens
wat met ivoor ingelê is,
julle strek julle uit op julle rusbanke,
julle eet lammers uit die kleinveetrop
en kalwers uit die stal,
5julle maak liedjies vir die harp,
julle dink hulle
vir musiekinstrumente uit
soos Dawid,
6julle drink wyn uit offerkomme
en salf julle met uitsoekolie,
maar oor die vernietiging van Josef
bekommer julle julle nie.
7Daarom sal julle nou weggevoer word
op die voorpunt van die ballinge.
Die tyd is verby dat julle uitgelate lê
en feesvier.

Skuldbelydenis: Lied 240 “Heiland as in ootmoed stil 1,2”

Vryspraak: (Psalm 91)
14“Omdat hy My liefhet,
sal Ek hom red,”
sê die Here,
“omdat hy My ken,
sal Ek hom beskerm.
15Wanneer hy My aanroep,
sal Ek sy gebed verhoor;
in sy nood sal Ek by hom wees,
Ek sal hom red
en hom in sy eer herstel.
16’n Baie lang lewe sal Ek hom gee
en oor my hulp sal hy hom verbly.”

Geloofsbelydenis: (Uit Psalm 146)
6Die Here het die hemel en die aarde
gemaak,
die see en alles daarin.
Hy bly vir altyd getrou,
7Hy laat reg geskied aan verdruktes
en gee brood aan dié wat honger ly.
Die Here bevry die gevangenes,
8die Here laat blindes sien,
Hy ondersteun dié wat bedruk is.
Die Here het die regverdiges lief.
9Hy beskerm vreemdelinge
en help weeskinders en weduwees,
maar Hy versper die pad
vir die goddeloses.
Prys die Here!

Loflied 201 “Lofsing die Heer, buig voor Hom neer 1,2,3”

Liedere

F10. “Jesus, Alles Gee Ek U”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Toewyding)
Oorspronklike titel: Jesus, all for Jesus
Teks en Musiek: Robin Mark & Jennifer Atkinson
Afrikaanse vertaling: 2005 Faani Engelbrecht
© 1991 Authentic Publishing

1. Jesus, alles gee ek U,
Wat ek is en het
En wat ek ooit sal wees.
Jesus, alles gee ek U,
Wat ek is en het
En wat ek ooit sal wees.
Al my hoop, my planne en my tyd
Lê ek in u hand,
Vertrou ek aan U toe.
Al my hoop en planne en my tyd
Lê ek in u hand,
Vertrou ek aan U toe.

Refrein:
Deur U wil te doen, leer ek om vry te wees.
Deur U wil te doen, leer ek om vry te wees.
Jesus, alles gee ek U,
Wat ek is en het
en wat ek ooit sal wees.

F12. “Meer As Ooit”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Verwondering)
Oorspronklike titel: Above all
Teks en Musiek: Lenny LeBlanc & Paul Baloche
Afrikaanse vertaling: 2005 Faani Engelbrecht
© 1999 Integrity’s Hosanna Music / LenSongs Publishing
(Opgeneem op FLAM, vol 1)

Meer as rykdom, meer as mag,
as die skoonheid van sterre in die nag,
meer as wat ons ooit op aarde wen,
is dit werd, o Heer, om U te ken.
Meer as silwer, meer as geld,
al die blomme, die diere in die veld,
meer as dit, so eindeloos veel meer,
was die prys wat U betaal het, Heer.

Refrein:
Aan ‘n kruis en in ‘n graf van steen,
U leef en sterf, verworpe en alleen.
Immanuel, U die God met ons
U dra die straf en dink aan ons –
meer as ooit.

God praat met ons en ons luister

Epiklese Gebed: (Ahv Ps 1)
Here- ek wil so graag hê dat
dit met my goed gaan…
ek wil nie die raad van goddeloses
volg nie,
ek wil nie met sondaars omgaan
en met ligsinniges saamspan nie,
maar ek wil in die woord van die Here
my vreugde vind,
dit dag en nag oordink.
Ek wil graag wees soos ’n boom
wat by waterstrome geplant is,
wat op die regte tyd vrugte dra
en waarvan die blare nie
verdroog nie.
Ek wil so graag voorspoedig wees in alles
wat ek aanpak.
Bewaar my dat ek nie soos kaf deur die wind uitmekaar gewaai word nie.
Waarlik, Here lei my op die pad wat U behaag.
Amen

Skriflesing: 1 Timoteus 6:6-19

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Dramatiseer die gelykenis van Lasarus en die ryk man. Aangeheg is die weergawe uit Die Nuwe Testament vir Kinders deur Stephan Joubert, Jan van der Watt en Hennie Stander, 1999.

Lasarus en die Ryk Man
19–21 Jesus vertel toe ’n storie: “Eendag was daar ’n ryk man. Hy het duur klere gedra. Daar was ook ’n baie arm man. Sy naam was Lasarus. Later was hy so swak dat hy voor die ryk man se huis gelê het. Lasarus het gehoop dat die ryk man vir hom ’n bietjie kos sou gee om te eet, al was dit net ’n paar krummeltjies. Maar hy het niks gekry nie. Sy enigste vriende was ’n paar honde wat die seerplekke aan sy lyf kom lek het.
22–24 “Lasarus het doodgegaan. Die engele* het hom kom haal en hemel toe gevat. Daar het hy reg langs Abraham gaan sit. ’n Ruk later is die ryk man ook dood. Hy is na die doderyk* toe. Daar het hy baie swaar gekry. Tussen sy pyn deur sien hy toe vir Abraham en Lasarus in die hemel. Hy roep uit: ‘Vader Abraham, kry my jammer. Stuur asseblief vir Lasarus met ’n druppel water vir my. Ek kan die pyn nie langer uithou in hierdie vuur nie!’
25–26 “Abraham sê vir hom: ‘Op die aarde het jy alles gehad wat jou hart begeer. Maar Lasarus het net swaar gekry. Nou is Lasarus gelukkig, en jy moet ly. Maar dis te laat om iets hieraan te doen. Tussen ons hier in die hemel en julle daar anderkant is ’n yslike kloof wat niemand kan oorsteek nie. Ons kan nie vir jou water bring nie. Jy kan ook nie hiernatoe kom nie.’
27–28 “Toe sê die ryk man: ‘Dan smeek ek u om vir Lasarus na my huis toe te stuur. Ek het nog vyf ander broers. En hulle is ook op pad hel toe. Laat Lasarus hulle gaan waarsku.’
29 “‘Hoekom? Hulle het mos die Bybel,’ antwoord Abraham. ‘Hulle moet maar net luister na wat God daar in die wet* en in die profete sê.’
30 “‘Ag, vader Abraham, dit sal soveel beter wees as iemand uit die hemel na hulle toe gaan. Dan sal hulle groot skrik en begin luister,’ sê die man.
31 “‘Abraham antwoord: ‘As hulle nie na God se woord luister nie, sal nie eens iemand wat uit die hemel by hulle aankom hulle lewe verander nie.’”

Preekriglyn

Iemand het eendag vir Rockefeller, die Amerikaanse grondbaron, gevra: “Wanneer besit mens genoeg grond?” Rockefeller het geantwoord: “Wanneer jy die grond wat tans aan jou grond grens, ook besit.” Dus: mens kan nooit genoeg grond hê nie. Hoe meer jy het, hoe meer wil jy hê.

Die dag na dieselfde Rockefeller se dood het ‘n joernalis vir sy rekenmeester gevra: “Presies hoeveel het Rockefeller nagelaat?” Die rekenmeester het met nadruk geantwoord: “Rockefeller het alles agtergelaat.”

Die rekenmeester het 1 Tim 6 vers 7 verstaan: “Ons het niks in die wêreld ingebring nie; ons kan ook niks daaruit wegneem nie.”

‘n Nuwe soort griep

Kenners sê daar is ‘n nuwe soort griep in die Westerse wêreld. Dit word Affluenza genoem. Dit is die onverdunde strewe na meer geld, rykdom en besittings. Dit maak mense siek. Baie sal alles oorboord gooi net om meer geld te maak. Meer grond te hê. Meer besittings te versamel.

Affluenza is ook ‘n soort geloof. Diegene wat hieraan ly, glo hulle lewe sal meer sinvol en vervuld wees as hulle baie het. Hulle status en aansien sal verhoog. Hulle sal dinge kan doen wat lekker is, en die lewe die moeite werd maak.

Affluenza word by baie mense uit vrees gebore. Die vrees is dat daar nie genoeg sal wees nie. Nie genoeg sekuriteit nie. Nie genoeg om hulle deur teenspoed te dra nie. Nie genoeg om maklik te lewe nie. Hoe meer mense dan versamel, hoe suiniger word hulle. Dikwels teenoor hulleself en hul eie behoeftes. Maar ook teenoor ander. Hulle harte en beursies gaan toe.

Prof Ernst Conradie beskryf die simptome van Affluenza as volg:

  • ’n Gevoel van leegheid, betekenisloosheid, doelloosheid, spanning en depressie.
  • Dit behels voortdurende klagtes oor oorvol programme en die oënskynlike behoefte aan opwindende naweke en vakansies om die moegheid teen te werk.
  • Dit wys in die stres van altyd haastig wees, in die klaarblyklike onvermoë om in die hede te leef.
  • Dit wys in gevoelens van minderwaardigheid as gevolg van ’n ervaarde onvermoë om met die kompeterende aard van ’n kapitalistiese etos te kan byhou.
  • Dit wys in die oormatige angstigheid wat mense oor hulle fisieke voorkoms het.
  • Dit wys in die oor- of onderbeklemtoning van sport.

Die bekende Richard Foster skryf:
The lust for affluence in contemporary society is psychotic . . . because it has completely lost touch with reality. We crave things we neither need nor enjoy. We buy things we do not want, to impress people we do not like . . . Covetousness we call ambition. Hoarding we call prudence. Greed we call industry (Celebration of discipline, 71).

Wanneer mens Paulus se woorde aan Timoteus lees, besef jy Affluenza is eintlik ‘n baie ou siekte. “Die hunkering na rykdom het sommige mense laat afdwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor” (1 Tim 6:10; Direkte vertaling 2014). Dit het mense al baie eeue in sy greep. Daar is niks nuuts onder die son nie. Die nastreef van geld en besittings neem maklik ‘n mens se lewe oor.

‘n Strik om in te val

Paulus skryf (7-10):
Die godsdiens is ’n groot wins as iemand tevrede is met wat hy het, want ons het niks in die wêreld ingebring nie; ons kan ook niks daaruit wegneem nie. As ons dan kos en klere het, moet ons daarmee tevrede wees. Maar dié wat ryk wil word, val in versoeking. Hulle loop hulle vas in die strik van baie sinlose en skadelike begeertes waardeur mense in verderf en ondergang gestort word. Geldgierigheid is ’n wortel van allerlei kwaad. Party het geld nagejaag en toe van die geloof afgedwaal; daardeur het hulle hulleself baie ellende op die hals gehaal.

Paulus lê ’n direkte verband tussen godsdiens en ekonomie – gelowiges se verhouding met geld en materiële besittings en welvaart. Hy waarsku dat geld gelowiges se lewe kan oorneem.

Die agtergrond van sy waarskuwing is in die eerste plek teen leiers in die gemeente gerig. 1 Timoteus is gebore uit besorgdheid dat dwaalleraars die gemeente op ‘n verkeerde koers sal lei. Paulus is diep besorg daaroor dat Timoteus en die gemeente beïnvloed kan word deur diegene wat hulle self aanbied as dienaars van God, maar eintlik verloënaars van die evangelie is, en gelowiges weglei van die geloof.

Dit is in die konteks van dwaling wat ons die verhouding van die dwaalleraars met geld en rykdom moet verstaan. Geldgierigheid kom vir Paulus neer op die verloëning van die evangelie en die uitval uit die geloof. Vir hom is niks minder as die integriteit van die kerk en haar boodskap op die spel nie.

Paulus maan kerkleiers en lidmate maan teen ’n doelbewuste verlange en soeke na rykdom. Die najaag van rykdom mag nooit deel wees van die gelowige se lewe nie. En as kerkleiers rykdom soek en hulle godsdiensbeoefening sien as ’n middel tot hierdie doel, is hulle dwaalleraars.

Ongelukkig is baie Christene vandag in die greep van ‘n voorspoedsgeloof. Ons aanbid die Here omdat ons glo God wil hê ons moet ryk wees en ‘n oorvloed van besittings hê. Dan word geloof ‘n goeie finansiële belegging. Daar is nie meer ruimte om op te offer vir ons geloof, ons kruis op te neem en Christus na te volg nie.

Vergenoegdheid

Die lewensingesteldheid wat by gelowiges pas, sê Paulus, is tevredenheid. “Die godsdiens is ’n groot wins as iemand tevrede is met wat hy het ….” Ons leef immers van God se vrygewige en oorvloedige sorg. Dalk moet ons liewer die woord vergenoegd gebruik, aangesien mense wat uitgebuit word dikwels aangemoedig word om maar tevrede te wees. Dit is egter uitbuiting. Gelowiges is daarenteen tevrede met genoeg (vergenoeg) vir die instandhouding en beskerming van die lewe. Hulle verlang na niks meer en soek na niks meer nie.

Hierdie vergenoegdheid word uit gemeenskap met God gebore. Psalm 131 dra die gees en ingesteldheid wat by die gelowige pas:
Ek het rus en kalmte gevind.
Soos ‘n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het,
so het ek tevredenheid gevind (2).

In God en in sy sorg vind die gelowige alles wat nodig is. Die gelowige is ’n versadigde kind aan God se bors. Moenie rykdom soek nie, sê Paulus, want dié soeke ondermyn jou geloof. Jy kan nie God en Mammon dien nie! Wie dan sy of haar oog op Mammon het, sal van God vervreem en die weg van die geloof verlaat. Sou ’n gelowige tog wel op enige ander wyse rykdom ontvang, moet die gelowige dit gebruik om goed te doen met ’n gees van vrygewigheid en mededeelsaamheid (17-19). Rykdom of geldelike surplus moet nie opgegaar raak as ’n doel in sigself nie, maar behoort aangewend te word tot die voordeel van ander. Geld moet nie gebêre word nie, maar gebruik word.

Geld het alles geword

Die sisteem wat die wêreldekonomie beheer, is in direkte stryd hiermee. Geld het alles geword. Alles word in terme van geldwaarde bereken en beoordeel. Hoe minder geldwaarde iets het, hoe minder waardevol is dit. Dit is só omdat geld ’n doel in sigself geword het.

Aanvanklik was geld ’n middel tot ’n doel wat ruilhandel gefasiliteer het. Geld het egter toenemend die maatstaf geword waaraan waarde van alles gemeet is. Dit het die waardevolste item geword wat die mens kan hê. Die hoogste sekuriteit moontlik is geldelike sekuriteit. Daarom moet dit opgegaar en vermeerder word. Dit verseker gemoedsrus.

Die kultuur van verbruik het gegroei uit en word ook gevoed deur die waarde wat geld vir ons het. Prof Ernst Conradie skryf: “Die veronderstelling is dat die geldgierigheid waarvan daar reeds in 1 Timoteus 6 ter sprake is in ons dag verreikende implikasies verkry het” Hy spel dié implikasies uit in sy boek, Uitverkoop? In gesprek oor die verbruikerskultuur (2009). Dit is asof geldgierigheid in ons dag tot wasdom gekom en ons wêreld oorgeneem het. Geldgierigheid het ’n wêreld geskep waarin geld inderdaad goddelike status verkry het. In só ’n mate dat juis dit waarvoor Paulus bang was en die kerk teen gewaarsku het op massiewe skaal gebeur het en steeds gebeur.

Ekologiese krisis

Hierdie siek verbruikersamelewing het tragiese nadelige gevolge vir die natuur. Natuurlike hulpbronne as geskenke van God om lewe te help voortbring en te onderhou, word slagoffers van die verbruikershonger van mense. Hierdie honger vra voortdurend na meer.

Dit het reeds daartoe bygedra dat vele vorme van lewe uitgesterf het of opgebruik is. Elemente soos grond, water en lug is soos alle ander dinge in die verbruikerskultuur verander tot menslike besittings wat gekoop en verkoop kan word. Uiteindelik word alles in die natuur gebruik om geld mee te maak. Die ekologiese krisis is ’n teken van ’n siek samelewing. Dit dui op ’n sosiale, morele en – inderdaad ook – ’n spirituele probleem.

“Ons as mense dra die ekologiese krisis in ons eie liggame rond. Dit gaan oor die gifstowwe in die kos wat ons eet, die bronne van die water wat baie mense moet drink, die besoedelde lug wat ons inasem en die herkoms van die klere wat ons dra. Dit raak die manier waarop ons leef, hoe ons dink, ons houdings en gedrag”, skryf Conradie.

Geneesmiddel

Wat is die geneesmiddel vir Affluenza? Paulus sê in vers 8 ons moet vergenoegd wees met kos en klere, met die basiese dinge wat ons nodig het om te lewe.

Aardse goedere is nie iets wat verhef moet word tot ’n doel in sigself nie. Aardse goedere as geskenk en seëning is bedoel om menslike lewe te onderhou en niks meer nie. Calvyn maak die volgende opmerking by hierdie vers: Omdat ons weet dat God genoegsaam sorg, moet ons “leer om ons gemoed so rustig te hou, sodat ons nie meer verlang as wat noodsaaklik vir die lewe is om dit draaglik te maak nie.”

Wat is dan noodsaaklik vir die lewe en wat maak dit draaglik? Vers 8 dui dit aan met “kos en klere” en gee daarmee ’n definisie van tevredenheid:

  • “Kos” dui op die noodsaaklike voeding wat die mens nodig het om fisieke lewe in stand te hou.
  • Die woord wat met “klere” vertaal word (skepasmata) dui op meer as net klere. Dit dui op enige bedekking wat as beskerming dien en verwys daarom na klere sowel as huisvesting.

Calvyn skryf: “Kos en bedekking sluit weelde en oorvloed uit. Net soos die natuur met min tevrede is, moet die mens ook met min tevrede wees. Oortolligheid is alles wat vir die natuurlike gebruik te veel is”. Wat Paulus hier afwys, is die sug na materiële rykdom asof dit die diepste behoeftes van hart en siel kan bevredig.

Skadelike gevolge

Vers 9 en 10 dui die skadelike gevolge aan vir hulle wat rykdom begeer en najaag. Die begeerte na rykdom ly tot ’n gemoedstoestand waarin jy maklik verlei kan word en wat uiteindelik lei tot ’n losmaking van Christus.

Calvyn stel dit kenmerkend skerp: “Elkeen wat hom voorgeneem het om ryk te word, lewer homself as ’n gevangene aan die duiwel uit.”

Dit is asof vers 9 trappe van vergelyking uitspel vir mense wat hulle deur geld gevange laat neem. Sulke mense “val”, kom op ‘n punt van “vasloop” en “stort in” verderf en ondergang. Donald Guthrie sê in vers 9 “three clear steps of decline are discernible: lure, lust and total ruin. The desire for wealth is a monster, which plunges its victim into an ocean of complete destruction and irretrievable loss”.

Daarom vers 10: “Geldgierigheid” (letterlik liefde vir geld) is die oorsaak of wortel van “allerlei kwaad” (1983-vertaling). Die oorspronklike Grieks stel dit selfs sterker: “Geldgierigheid is die wortel van alle kwaad.” Dit is ook hoe die Direkte Vertaling 2014 dit weergee. “Die verskriklikste van al die kwaad wat uit geldgierigheid (’n sug na om te hê) gebore word, is die afval uit die geloof. Wie aan hierdie siekte ly, ontaard langsamerhand, totdat hy die geloof geheel en al verwerp het. Dit bring uiteindelik smarte – “huiweringwekkende folteringe van die gewete,” sê Calvyn.

‘n Ander strewe

Na Paulus se waarskuwing, sê hy Timoteus se lewe moet deur ‘n ander strewe as geldgierigheid gekenmerk word (11-12):

Maar jy, man van God, moet van hierdie dinge af wegvlug. Streef na opregtheid, toewyding aan God, geloof, liefde, volharding, minsaamheid. In die goeie wedloop van die geloof moet jy al jou kragte inspan en die ewige lewe as prys behaal. Daartoe het God jou geroep en het jy die goeie belydenis voor baie getuies afgelê.

Die werkwoorde in vers 11 en 12 dui op ’n aktiewe stryd wat ’n negatiewe (vlug) en positiewe (streef na) dimensie het. Die klem lê op die “streef na”.

In vers 12 gebruik Paulus taal uit die atletiekwêreld om die inspanning mee te beskryf waarmee die dissipel moet strewe. Timoteus moet al sy kragte inspan in die goeie wedloop van geloof om die ewige lewe as prys te behaal.

Die medalje by die wenpaal is die ewige lewe. Die ewige lewe is egter nie die beloning vir inspanning nie, maar die belofte van God waartoe elke dissipel geroep word. Die dissipel word deur God wenpaal toe geroep en getrek.

As deel van sy motivering vir hierdie oproep herinner Paulus Timoteus ook in vers 12 aan sy eie “goeie belydenis” wat hy voor baie getuies afgelê het. Paulus moedig hom dus dringend aan om te volhard op die pad wat hy alreeds is. Hierdie strewe moet Timoteus se lewe kenmerk.

Raad vir rykes

In vers 17-19 is Paulus weer terug by rykdom. Hy het in vers 13 nie geskroom om Timoteus onder bevel te plaas nie. Steeds onder bevel gee Paulus nou aan Timoteus die opdrag om sterk en besliste leiding te gee aan hulle in die gemeente wat ryk is. Hy is nie teen geld of waardevolle besittings nie. Hy staan ook nie afwysend teenoor mense in die gemeente wat baie daarvan het nie.

Ryk lidmate moet egter vir twee gevare oppas (17) en hulle rykdom reg gebruik (18):

  • Hooghartigheid/hoogmoed is die eerste gevaar wat hy noem. Rykdom kan ’n mens laat dink dat jy meer vernaam is as hulle wat minder as jy het. Dit kan jou kop laat swel – jou ego opblaas. Jy kan dink dat jou rykdom jou belangriker maak en bo ander verhef.
  • Die tweede gevaar is dat jy jou hoop en sekuriteit in jou rykdom sal sit, ten spyte daarvan dat rykdom net met een woord beskryf kan word, naamlik “onseker”.

Teenoor die onsekerheid van rykdom stel Paulus God se ryke voorsiening van “alle dinge” (Direkte Vertaling 2014). Nie net gee God oorvloedig nie, maar God se gawes is daar om “geniet” te word. Calvyn sê dat hoogmoed gebore word uit hoop op rykdom. Hy noem dit “’n bedrieglike hoop”.

Die regte gebruik van rykdom sal egter die rykes vrywaar van dié twee gevare van vers 17. Hulle moet dit gebruik om mee “goed te doen”. Hulle rykdom aan geld en besittings moet gepaar en geëwenaar word met ’n rykdom in goeie dade. Rykdom in goeie dade is egter net moontlik indien die houding van “vrygewigheid en mededeelsaamheid” by die ryke aanwesig is. Rykdom word opgegaar as die ryke se hoop daarin is. Rykdom word uitgedeel as die ryke se hoop op God in Christus is.

Vers 19 keer terug na die winsgedagte van vers 5 en 6. Ryk mense wat hul rykdom vrygewig en mededeelsaam gebruik om mee goed te doen, is eintlik besig om vir hulself ’n “skat op te bou” wat as “goeie fondament” ’n toekoms verseker. Hierdie toekoms is “die ware lewe”. Dit is ware wins.

Wat staan ons te doen?

Min van ons sal aan onsself as rykes dink. As mens aan die groot prentjie van die wêreld se finansies dink, tel baie van ons waarskynlik onder die 10% rykste mense op aarde. Daarom si dit so belangrik dat ons nie aan Rockefeller alleen dink wanneer ons teks teen die strikke van geldsug, ‘n allesoorheersende strewe na rykdom en geldgierigheid waarsku nie.

Dit gaan oor ons.

Almal wat het, moet weet dat ons besittings in ‘n oogwink van ons weggeneem kan word. Dit is geen standhoudende fondament vir mens se lewe nie. Daarom moet mens doelbewus hard werk om jou besittings nie na jou kop toe te laat gaan nie.

Tweedens is vrygewigheid die beste manier om die mag van geld en rykdom oor jou lewe te breek. Ons moet onsself dissiplineer om ruimskoots weg te gee.

Derdens moet ons ander, sentrale doelwitte vir ons lewens stel as bloot die maak van meer geld. Om voldoende bymekaar te maak is nie sonde nie. Die strewe na besittings as hoofdoel vir jou lewe, is egter niks minder as pateties nie. Soos Rockefeller gaan ons eendag alles agterlaat. Jesus leer ons om bo alles na die koninkryk van God en sy geregtigheid te strewe.

Vierdens moet ons oefen om ons vrees te oorwin, daardie soort vrees wat ons Affluenza gee. Die kuns is om stil te raak voor die Here, dankbaarheid vir God se sorg in ons lewe aan te wakker, en vrede en sekuriteit in God te leer vind. Daardie vrede wat die vrees wegvee uit ons lewe.

Vyfdens is die finale ankerpunt in ons lewe nie besittings of geld nie, maar die verskyning van die Here Jesus aan die einde van die tye, op die dag van die Here. Dit is ons troos. Die ewige lewe is ons erfenis.

Kry ons dit reg, sal ons as gelowiges en ons as gemeente ‘n wonderlike getuienis in die wêreld lewer.

Ja, die pad van tevredenheid hou baie groter wins in en bring groter vreugde as die verkryging van rykdom. Ons moet ons daartoe te verbind om met tevredenheid te lewe en ons rykdom te gebruik om mee goed te doen.

God stuur ons om te leef

Offergawes

Wegsending: Lied 524 “God roep ons om met woord en daad vs 1,2,3”

Seën
Die Here seën die hemelruim bokant ons,
die aarde onderkant ons,
sy beeld diep binne-in ons,
en die dag uitgestrek voor ons. Amen.
(Gebaseer op The Celtic Prayer Book 2003, Volume One, Monday Morning Prayer, geskryf deur Ray Simpson met die vriendelike toestemming van Kevin Mayhew Ltd. in Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2015-16)

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.