Negentiende Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Die reeks oor Filippense word vandag afgesluit. Die oorhoofse tema vir die vier Sondae was “deur lewe en sterwe dankbaar en vol vreugde”. Vandag se sleutelteks bevestig dit inderwaarheid en teken die lewe van die gelowige as veral gevul met “vrede” en (dankbare) “blydskap”.

In die Eksodusteks pleit Moses by God en God sien van die ramp af wat Hy oor die volk wou bring. In Psalm 106 oorwin God se troue liefde die volk se ontrouheid by die goue kalf. Die Sondag eindig met ‘n hoogtepunt in die teks van Matteus: “Die koninkryk van God is ‘n bruilofsfees.”

Ander tekste

Eksodus 32:1-14
Die goue kalf
32 Toe die volk sien dat Moses talm en nie van die berg af kom nie, het hulle om Aäron saamgedrom en vir hom gesê: “Kom maak vir ons ’n god dat hy ons kan lei. Hierdie man Moses het nou wel vir ons uit Egipte laat wegtrek, maar ons weet nie wat van hom geword het nie.”

2Aäron het hulle geantwoord: “Haal die goue oorringe van julle vrouens, julle seuns en julle dogters se ore af en bring dit vir my.”

3Die hele volk het toe die goue ringe van hulle ore afgehaal en dit vir Aäron gebring. 4Hy het dit van hulle ontvang, dit verwerk en daarvan ’n beeld in die vorm van ’n bulkalf gemaak.

Toe sê die volk: “Hier is jou God wat jou uit Egipte bevry het, Israel!”

5Toe Aäron dit hoor, het hy ’n altaar voor die beeld gebou en uitgeroep: “Môre is daar fees vir die Here!”

6Vroeg die volgende môre het die volk brandoffers en maaltydoffers geoffer. Daarna het die volk begin feesvier en losbandig te kere gegaan. 7Toe sê die Here vir Moses: “Klim van die berg af, want jou volk wat jy uit Egipte laat wegtrek het, het iets vreesliks gedoen. 8Hulle het gou die pad verlaat wat Ek vir hulle aangewys het en hulle het vir hulle ’n beeld van ’n bulkalf gemaak. Nou aanbid hulle hom en bring vir hom offers en sê: Hier is jou God wat jou uit Egipte bevry het, Israel.”

9Verder het die Here vir Moses gesê: “Ek het gesien dat dit ’n opstandige volk is hierdie. 10Moet My nie probeer keer nie. Ek is toornig op my volk en Ek wil hulle vernietig. Vir jou sal Ek dan tot ’n groot nasie maak.”

11Maar Moses het by die Here sy God gepleit en gesê: “Here, waarom is U toornig op u volk vir wie U deur u groot mag en met kragtige dade uit Egipte bevry het? 12Waarom moet die Egiptenaars kan sê: ‘Hy het die Israeliete bevry met die bose plan om hulle tussen die berge dood te maak en hulle heeltemal te vernietig’?

“Laat u toorn bedaar en wees u volk genadig. Moet tog nie dié ramp oor hulle laat kom nie. 13Dink aan wat U met ’n eed beloof het aan u dienaars, aan Abraham, Isak en Israel toe U vir hulle gesê het: Ek sal julle nageslag so baie maak soos die sterre aan die hemel. Die hele landstreek wat Ek belowe het, sal Ek vir julle nageslag gee om vir altyd in besit te neem.”

14Toe het die Here daarvan afgesien om die ramp waarvan Hy gepraat het, oor sy volk te bring.

Psalm 106:1-6, 19-23
Wie kan sy lof ten volle verkondig?
106 Prys die Here!
Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie!
2Wie kan die magtige dade van die Here
onder woorde bring?
Wie kan sy lof ten volle verkondig?
3Dit gaan goed met mense
wat die reg handhaaf,
wat by elke geleentheid
geregtigheid doen.
4Dink aan my, Here,
in u liefde vir u volk,
sluit my ook in by u redding,
5dat ek die voorspoed
van u uitverkorenes mag aanskou
en mag deel in die blydskap van u volk,
my mag verheug
saam met dié wat aan U behoort.
6Ons het gesondig,
net soos ons voorvaders,
ons het verkeerd gedoen,
ons is skuldig.

7Ons voorvaders het in Egipte 
nie ag geslaan 
op u magtige dade nie, 
hulle het nie gedink 
aan al u dade van trou nie, 
hulle het teen U in verset gekom 
by die Rietsee. 
8Maar Hy het hulle gered 
ter wille van die eer van sy Naam 
en om sy mag bekend te maak. 
9Hy het die Rietsee aangespreek 
en dit het opgedroog, 
Hy het sy volk 
oor die seebodem laat trek 
soos oor droë grond. 
10So het Hy hulle gered 
uit die hand van hulle haters, 
hulle bevry uit die mag van die vyand. 
11Die waters het hulle teëstanders 
verswelg, 
nie één het oorgebly nie. 
12Tóé het sy volk sy beloftes geglo 
en sy lof besing.
13Maar hulle het gou vergeet 
wat Hy gedoen het 
en nie op sy leiding gewag nie. 
14Hulle het skaamteloos meer kos geëis 
in die woestyn, 
daar in die barre wêreld het hulle 
die geduld van God beproef. 
15Toe het Hy hulle gegee 
wat hulle gevra het, 
maar hulle van siekte laat wegteer. 
16Langs die trekpad 
het hulle hulle in afguns 
teen Moses verset 
en teen Aäron 
wat aan die Here gewy was. 
17Toe het die aarde geskeur 
en vir Datan verslind, 
dit het die bende van Abiram 
verswelg. 
18’n Vuur het hulle hele bende verteer, 
die goddelose 
het in die vlamme omgekom. 

19By Horeb het hulle ’n kalf gemaak,
voor ’n god van metaal gekniel.
20Hulle het die magtige teenwoordigheid
van God
verruil vir die beeld van ’n bees
wat gras vreet.
21So het hulle vir God, hulle redder,
vergeet,
Hy wat groot dinge in Egipte
gedoen het,
22wonderdade in die land van Gam,
magtige dade by die Rietsee.
23Die Here wou hulle verdelg,
maar Moses, sy uitverkorene,
het by Hom vir hulle in die bres getree
om sy gramskap af te keer,
sodat Hy hulle nie vernietig het nie.

24Hulle het ’n waardevolle land 
versmaai 
en die belofte van die Here 
nie geglo nie; 
25hulle het in hulle tente gesit en mor 
en nie na die Here geluister nie. 
26Toe het Hy ’n eed afgelê 
dat Hy hulle in die woestyn 
sou laat omkom, 
27hulle nageslag sou laat sterf 
onder heidense nasies, 
hulle oor die wêreld sou verstrooi. 
28Hulle het Baäl-Peor aangehang 
en geëet van wat 
aan die dooie afgode geoffer is. 
29Hulle het die Here uitgetart 
met wat hulle gedoen het, 
en ’n plaag het onder hulle uitgebreek.
30Pinehas het opgetree 
en die skuldiges gestraf, 
en die plaag het opgehou. 
31Dié optrede is deur al die geslagte heen 
vir Pinehas as ’n daad van geregtigheid
toegereken.
32Die volk het die Here se toorn by 
die Meribawaters laat ontvlam, 
en Moses het die wrange vrugte 
van hulle optrede gepluk: 
33hulle het hom so verbitterd laat raak 
dat hy onbesonne dinge gesê het. 
34Hulle het nie die ander volke 
uitgeroei 
soos die Here hulle beveel het nie, 
35maar hulle met die heidene vermeng 
en húlle praktyke aangeleer: 
36hulle het die afgode van die heidene 
begin dien 
en daarin verstrik geraak. 
37Hulle het hulle seuns en dogters 
aan veldduiwels geoffer 
38en onskuldige bloed vergiet, 
die bloed van hulle seuns en dogters 
wat hulle aan die afgode van Kanaän 
geoffer het. 
So is die land met bloed bevlek. 
39Die volk het hulle verontreinig 
deur hulle optrede 
en het troubreuk gepleeg 
deur hulle dade. 
40Die toorn van die Here 
het teen sy volk ontvlam, 
Hy het ’n weersin gekry 
in die volk wat aan Hom behoort 
41en hulle aan heidene oorgegee, 
sodat hulle haters oor hulle geheers het.
42Hulle vyande het hulle verdruk 
en hulle onder hulle gesag laat buig. 
43Talle kere het die Here sy volk gered, 
maar hulle het opstandig gebly 
en dieper in hulle sonde weggesink. 
44Tog het Hy sy oë nie vir hulle nood 
gesluit nie; 
Hy het hulle smeekgebede verhoor. 
45Ter wille van hulle het Hy 
aan sy verbond gedink, 
en in sy groot liefde was Hy genadig. 
46Hy het hulle medelye laat vind 
by dié wie se gevangenes hulle was. 
47Red ons, Here ons God, 
maak ons bymekaar tussen die volke uit, 
dat ons u heilige Naam kan loof 
en ons in u lof kan verheug. 
48Aan die Here die God van Israel 
kom die lof toe 
tot in die allerverste toekoms. 
Die hele volk moet sê: “Amen! 
Prys die Here!”

Matteus 22:1-14
Die gelykenis van die bruilof
(Luk 14:15–24)
22 Jesus het weer in gelykenisse met die mense gepraat. 2Hy het gesê: “Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met ’n koning wat vir sy seun ’n bruilofsfees voorberei het. 3Hy het sy slawe uitgestuur om die genooides na die bruilof te roep, maar hulle wou nie kom nie. 4Toe stuur hy weer ander slawe met die opdrag: ‘Sê vir die genooides: Die maaltyd is reg; my beeste en vetgemaakte vee is geslag, en alles is gereed. Kom na die bruilof toe.’

5“Maar die genooides het hulle nie daaraan gesteur nie, en die een het na sy stuk grond en ’n ander een na sy werkplek toe gegaan. 6En party het sy slawe gegryp en mishandel en doodgemaak. 7Die koning het kwaad geword en sy leër gestuur om daardie moordenaars dood te maak en hulle stad aan die brand te steek.

8“Toe sê hy vir sy slawe: ‘Alles staan klaar vir die bruilofsfees, maar die genooides was dit nie werd nie. 9Gaan nou uit na die straathoeke en nooi soveel mense as wat julle teenkom, na die bruilofsfees toe.’10Toe het daardie slawe uitgegaan op die strate en almal wat hulle gekry het, bymekaargemaak, slegtes sowel as goeies. So het die feessaal vol gaste geword.

11“Toe die koning ingaan om na die gaste te kyk, sien hy daar ’n man wat nie bruilofsklere aan het nie, 12en hy sê vir hom: ‘Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder bruilofsklere aan?’ Maar die man kon niks antwoord nie. 13Toe sê die koning vir sy dienaars: ‘Bind sy hande en sy voete vas en gooi hom uit in die diepste duisternis daarbuite. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners.’

14“Baie is immers geroep, maar min is uitverkies.”

Fokusteks

Filippense 4:1-9
4 Daarom, my broers, moet julle vas staan en getrou bly aan die Here. Ek het julle baie lief en verlang na julle. Julle is my blydskap en my kroon.

Die Christelike lewenswandel
2Ek vermaan vir Euodia en ek vermaan vir Sintige om eensgesind te wees in die Here. 3Ja, ek vra jou ook, getroue medewerker, wees hierdie vroue behulpsaam. Hulle het saam met my die stryd gevoer in diens van die evangelie, net soos Klemens ook en my ander medewerkers, wie se name in die boek van die lewe staan.

4Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! 5Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby. 6Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. 7En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.

8Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is — watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees — daarop moet julle julle gedagtes rig. 9En wat julle van my geleer en ontvang het, en gehoor en gesien het, dit moet julle doen. En God wat vrede gee, sal by julle wees.

Dank vir liefdegawes van die gemeente
10Ek was baie bly in die Here dat julle na so ‘n lang tyd weer gewys het dat julle nog aan my dink. Nie dat julle my ooit vergeet het nie, julle het net nie die kans gehad om iets te doen nie. 11Ek sê dit nie omdat ek gebrek ly nie, want ek het geleer om my in alle omstandighede te behelp. 12Ek weet wat armoede is en ek weet wat oorvloed is; van alles het ek ondervinding: om genoeg te hê om te eet sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly. 13Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee. 14Nietemin het julle goed gedoen deur my in my moeilike omstandighede by te staan.

15Julle in Filippi weet ook dat in die begin van my evangelieprediking, na my vertrek uit Masedonië, geen enkele gemeente behalwe julle ‘n aandeel gehad het aan my rekening van inkomste en uitgawe nie. 16Ook toe ek in Tessalonika was, het julle meer as een maal iets vir my behoeftes gestuur. 17Dit gaan vir my egter nie om die gawe nie, maar om die vrug daarvan: daardeur word julle self ryker. 18Maar ek het alles ontvang en ek het meer as genoeg. Noudat ek van Epafroditos ontvang het wat julle gestuur het, het ek alles wat ek nodig het. Julle gawe is voor God ‘n offer met lieflike geur, vir Hom aanneemlik en welgevallig. 19En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus. 20Aan ons God en Vader behoort die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen.

Groete 
21Groete aan almal wat aan God behoort deur Christus Jesus. Die broers hier by my stuur vir julle groete. 22Ook al die gelowiges en veral dié wat aan die huis van die keiser verbonde is, stuur vir julle groete. 23Die genade van die Here Jesus Christus sal by julle wees.

Ekstra stof

Filippense 4:2-23 – Om saam in die Here te wees, bid en leef
Paulus vervolg sy visie vir die gemeente deur hulle die wonder van saamwees, saamdink, saambid en saamleef te beskryf.  Dit is immer wat Jesus ook gedoen het.  Hy het nie ‘n boek geskryf en vir ons nagelaat nie.  Hy het ‘n gemeenskap gestig wat oor grense mense insluit wat anders is as ons.  Só herwin ons weer die bewussyn van eenheid wat God bedoel het vir die Paradys, en leef ons dit voor in hierdie wêreld, totdat almal dit weet.

Om eensgesind saam te dink in die Here
Onthou dat dit ‘n gemeente is wat begin het met ‘n baie diverse samestelling, onder andere ‘n ryk Grieks-Joodse vrou, Lidia, waarskynlik ‘n arm slavin uit ‘n ander nasie, sowel as ‘n middelklas Romeinse tronkbewaarder (Hand 16).  Die potensiaal vir konflik vanuit hulle agtergronde – taal, klas, opvoeding, afkoms – was dus altyd daar.  Daarom moedig Paulus hulle aan om te fokus op eensgesindheid, spesifiek in die konflik wat daar tussen Euodia en Sintige bestaan het.  Beide was waarskynlik sterk vroue, met ‘n passie vir die evangelie, en ‘n roepingsbewustheid binne die gemeente.  Maar hulle sterk persoonlikhede, of die sterk bewussyn van hulle roeping, het hulle in konflik met mekaar gebring.  Paulus spreek hulle en die gemeente dus sterk aan om die eenheid wat God tussen hulle geskep het, te bewaar.   Interessant, die frase wat Paulus hier gebruik wat ons met “eensgesind te wees in die Here” vertaal, is to auto phronein en Kuriô – wat ook vertaal kan word “om saam te dink in die Here“.  Dit is presies wat ons vandag met die woord geloofsonderskeiding bedoel: om jou in te stel om saam te dink in die Here, om die Godsvrae te vra (Waarmee is God besig?  Waartoe roep God ons?), om gesprek te hê totdat daar ‘n oortuiging opdaag wat harmonie en konsensus bring, iets waaraan die hele gemeenskap van gelowiges hulleself kan verbind.  En Paulus vra ook sy getroue medewerker, waarskynlik Timoteus, dat hy hierdie vroue daarin behulpsaam moet wees.  Dit beteken dat die twee sterk leiers nie aan hulle eie genade oorgelaat word nie, nie in ‘n wen-verloor situasie ingedruk word nie, maar gehelp word om tot eensgesindheid in die Here en binne die gemeenskap van gelowiges te kan groei.

Om met vreugde en inskiklikheid te leef
Paulus skryf verder dat dit nie net eensgesindheid in die Here is wat kenmerkend van die gemeente (en sy leiers) moet wees nie, maar ook ‘n vreugde in die Here, iets wat regdeur die brief beklemtoon word.  Hy gebruik die woord chairete (blydskap/vreugde) waarmee hy nie net die innerlike blydskap beskryf wat in God se teenwoordigheid hulle deel sal wees nie, maar ook die gesamentlike blydskap in die gemeenskap van gelowiges.  Let op dat hierdie blydskap verbind word aan ‘n inskiklikheid (epieikes) teenoor alle mense.  Daarmee bedoel Paulus dat dit nie net die gemeenskap van gelowiges is wat ‘n veilige, vriendelike, vreugdevolle plek moet wees nie, maar dat hierdie gesindheid ook die wyse waarop gelowiges met die publieke gemeenskap saamleef, moet stempel.  Die bereidheid om te skik, om te luister na rede, om bereid te wees om van ander te leer, of soos een kommentaar dit stel, om met: “sweet reasonableness” op te tree, moet die uitstaande kenmerk van die gemeente se interaksie met die wêreld wees.  En die primêre rede wat hierdie vreugde en inskiklikheid aanwakker, is dat die Here naby is – beide in terme van die wederkoms, die manier waarop ons dit normaalweg interpreteer, maar ook in terme van Sy teenwoordigheid in die hede.  Die gemeente kan dit dus waag om met vreugde te lewe, en inskiklik te wees teenoor alle mense, want die Here is nie ver van hulle af nie.  Dit beteken onder andere dat Hy die vermoë het om in te tree en op te tree in alle situasies binne en buite die gemeente.

Om die vrede van God in gebed te beleef
Met hierdie gedagtes oor God se nabyheid as begronding vir hulle vreugde en inskiklikheid, is dit geen wonder dat Paulus daarvandaan beweeg na die gemeente se behoeftes en besorgdhede nie.  Omdat God naby is, kan hulle oor alles en in alle omstandighede na Hom toe gaan in gebed.  Letterlik staan daar in vers 6: “maak in alles (alle situasies) julle versoeke (aitema) bekend aan God deur gebede (proseuche) en versoeke/petisies (deesis) met danksegging (eucharistie).”  Die verskillende woorde vir gebed in die vers moenie te veel onderskei word nie, omdat dit eintlik as sinonieme gelees kan word.  Die punt van die vers is eintlik net om duidelik te sê: angstigheid oor allerlei word deur voortdurende veelvuldige versoeke verlig!  Die aanmoediging tot gebed word opgevolg met een van die mees ongelooflike beloftes wat Paulus gee, letterlik vertaal: “gevolglik sal die vrede (eirene) van God, wat alle begrip/denke (nous) te bowe gaan, oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus”.  Dit is die enigste plek in die NT waar só van “die vrede van God” gepraat word.  Paulus bedoel hier nie die vrede met God nie, maar die vrede van God, die vrede wat Hy self het, die vrede wat Hy self is, die vermoë wat Hy het om nie angstig te raak oor allerlei nie, maar in beheer en veral getrou aan Homself te bly.  Dít is wat die harte en gedagtes van die gemeente sal bewaar.  En dié vrede gaan alle denke te bowe – dit bedoel letterlik dat dit iets is wat beter is as die beste beplanning!  Ons gedagtes en emosies is soos ‘n oorlogsterrein wat God sal beskerm teen angstigheid en chaos.

Om waarderend en positief te leef
Paulus vervolg met die tipe gedrag wat by dié tipe gebed pas, ‘n waarderende positiewe gerigte lewe. Hy moedig die gemeente aan om hulle gedagtes (beplanning) te rig op alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees.  En let op dat hy weereens homself as voorbeeld van só ‘n lewe gee, en die belofte van God se vrede herhaal.

God se krag bepaal ons lewe, nie gebrek of oorvloed nie
‘n Mens sien weereens die paradigma van Fil 2:6-11 in hierdie gedeelte aan die werk, hierdie keer toegepas op Paulus se ervaring van sy praktiese lewensomstandighede.  Die patroon van selfontlediging en verheerliking is nie net te siene in Christus se lewe en bediening nie (2:6-11), nie net sigbaar in Paulus se eie lewe en bediening nie (3:3-14), maar ook in Paulus se lewensomstandighede (4:10-14).  Hy weet wat gebrek, armoede en honger is, en hy weet wat is oorvloed en om genoeg te hê om te eet.  En in albei tipe lewensomstandighede het hy geleer om deur te kom, homself te behelp, omdat hy geleer het dat hy tot alles in staat is deur Christus se krag wat in hom werk (onthou Fil 3:10!).  Die woord wat hy hiervoor in vers 11 gebruik – behelp (autarkes)  – kan ook met selfgenoegsaam vertaal word, dws om vergenoegd of tevrede te wees en steeds met ‘n oop hand te lewe.  Eksterne omstandighede – of dit nou gebrek of oorvloed tot gevolg gehad het – het nie Paulus se manier van lewe bepaal nie, selfs nie sy tevredenheid daarmee al dan nie.  God se krag het dit bepaal.  Daarom was hy werklik in staat tot alles. In 2 Korintiërs 9:8 het Paulus hieroor só geskryf: “En God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk, sodat julle in alle opsigte altyd van alles genoeg (autarkeia) kan hê en volop kan bydra vir elke goeie werk.

Materiële ondersteuning ontsluit God se oorvloedige voorsiening
Paulus se blydskap (in die Here) oor hulle materiële ondersteuning lê op verskillende vlakke.  In die eerste plek het hulle hulp sy omstandighede verlig.  Tronke was gewoonlik haglike plekke: vuil, donker, en koud of warm na gelang van die weersomstandighede.  Gevangenes  is aan mekaar in groepe vasgeketting. Hulle moes hulle eie kos en klere voorsien (bv deur families). Dat Timoteus, as reisgenoot, en Epafroditos, met hulp van die gemeente, dus vir Paulus bystaan, was ‘n groot hulp (Fil 2:19-30). Maar, in die tweede plek, het hulle hulp die band tussen hom en die gemeente verstewig (4:10-16).  Hulle was immers van die begin af by die ondersteuning van sy bediening betrokke (onder andere in Tessalonika), wat van die intieme band tussen hulle getuig het.  In die derde plek het hulle hulp aan hom hulle eie toewyding aan die Here verstewig (vers 17-18).  Paulus noem hulle bydrae ‘n liturgiese offer aan God met ‘n lieflike geur, wat vir Hom aanneemlik en welgevallig is, waarmee hy sy gedagtes in Romeine 12:1-2 verder uitbrei.  Dit is nie net gelowiges se persoonlike lewens wat ‘n offer is aan God nie (Rom 12); dit is ook die gemeente se korporatiewe bediening wat ‘n offer is aan God (Fil 4).  Dit is waarom Paulus sê dat die offer hulle ryker maak in terme van die vrug wat hulle oplewer in die bediening.  Dit getuig van ‘n al hoe groter wordende geestelike onderskeiding (aan my dink – phronein) en volwassenheid. In die vierde plek bring hierdie offer nie net lof aan God nie, maar ontsluit dit ook Sy oorvloedige voorsiening vir elke behoefte (chreia) wat hulle het (vers 19-20), dit waarvoor Paulus in die vorige perikoop gesê het hulle voortdurend moet bid.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 554 “Diep uit my hart, o Vader” of
VONKK 80 Ek Is Bly [bekend] of
F231. Dankie vir hierdie nuwe dag (U Vreugde Is My Krag)

Votum
Psalm 160
Liturg: Prys die Here!  Loof die Here, want Hy is goed,
Gemeente: aan sy liefde is daar geen einde nie! 

L: Wie kan die magtige dade van die Here onder woorde bring?
G: Wie kan sy lof ten volle verkondig? 

L: Prys die Here!
Seëngroet

Lofsang
Lied 216 “Sing met vreugde, sing” of
VONKK 124 Jesus Bring Vreugde [bekende melodie]

Die Wil van God
Filippense 4:8-9
8Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is — watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees — daarop moet julle julle gedagtes rig. 9En wat julle van my geleer en ontvang het, en gehoor en gesien het, dit moet julle doen. En God wat vrede gee, sal by julle wees.

Toewyding
Lied 229 “Wil, Heer, in liefde U ontferm” of
VONKK 256 Vol van vreugde wil ons jubel [bekende melodie] of
F89. Ek Leef Binne U, Heer [bekende melodie]

Bemoediging
Filippense 4:6-7
6Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. 7En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.

Geloofsbelydenis
VONKK 96 Wees Bly En Loof Die Heer

Voorbidding en Danksegging
Kry spesifieke lidmate om spesifieke sake in gebed aan die Here op te dra en vir spesifieke sake dankie te sê.  Julle kan ook lidmate in groepies laat bid.  Jy sou telkens ‘n spesifieke saak kon noem vir mense om voor te bid / dankie te sê.  Terugvoer oor bedieninge kan ook hier gepas wees.

Liedere

F167. “Wees Bly” 
(RUBRIEK: Flam – Diens en Getuienis / Wegsending) Oorspronklike titel:  Rejoice!
Teks en musiek: Graham Kendrick Afrikaanse vertaling:  Faani Engelbrecht
© 1983 Kingsway’s Thankyou Music

Refrein:
Wees bly, want Hy, Koning Jesus,
die Hoop, die Vrede, woon in ons!
Hy leef! Hy leef! Sy Gees is in ons!
Staan op! Staan op! Gemeente, juig: Hy regeer!
1. Die tyd het aangebreek, bou aan Sy Koninkryk.
Die oes is groot, maar die arbeiders is min.
Hy kom in majesteit, bring die oorwinning in die stryd.
Almal moet sien dat Hy regeer!

2. Jesus werk in ons, Hy volvoer deur ons sy plan.
Hy bou sy ryk, nie van woorde maar van krag!
Selfs die onmoontlike, dit doen Hy met sy wondermag.
Almal moet sien Hy is die Heer.

3. Al is ons swak, deur sy genade is ons sterk.
Ons is soos klei, en Hy vorm ons na sy beeld.
Juis as ons swak is, weet ons sy Naam word deur ons geëer.
Dan sien die wêreld Hy is Heer!

F89. “Ek Leef Binne U, Heer”
(RUBRIEK: Flam – Toewyding / Geloof en Vertroue)  Oorspronklike titel: My life is in You, Lord
Teks en musiek: Daniel Gardner  Afrikaanse vertaling: 2004 Enke-Mari Malherbe  © Integrity Music

Ek leef binne U, Heer;
U leef binne my, Heer.
Ek leef net vir u, Heer;
U het my verlos.
Ek weet U verstaan my;
U hou u beloftes.
Dit vul my met blydskap:
U het my verlos.
Ek prys U met alles in my;
Ek prys U met al wat ek is,
met al my verstand,
met al wat ek is.
U is my lewe, o Heer.
(Einde: My lewe behoort net aan U)

F231. “Dankie vir hierdie nuwe dag (U Vreugde Is My Krag)”
(RUBRIEK: Flam – Lof)  Oorspronklike titel: De vreugde van U is mijn kracht
Teks en musiek: Marcel Zimmer  Afrikaanse vertaling: Faani Engelbrecht © 2007
© 2001 Celmar Music  (Neh 8:10, Ps 118:24 en Joh 14:27)

Dankie vir hierdie nuwe dag
wat ek van U kry deur u mag.
Heer wat ’n seën elke dag opnuut,
U gee u liefde telkens weer
en u genade keer op keer
elke oggend, elke dag opnuut.
U gee my vrede wat die wêreld nooit gee,
U gee my blydskap deur u Heilige Gees.
Ja, die blydskap wat U my gee
is meer as die vreugde wat die wêreld het.
As die son skyn en in die donkere nag,
U vreugde ek weet is my krag.

VONKK 80 “Ek Is Bly”

Ek is bly, ek is bly,
ek verbly my in die Heer.
Hy het my ‘n nuwe kleed gegee.
Hy het my verlos. Hy het my verlos.

Ek is bly, ek is bly
soos ‘n bruidegom en bruid.
Ek is bly!
Jesus is my blydskap.
Jesus is my blydskap.
Jesus is my blydskap. Ek is bly.

Ek is bly, ek is bly,
ek verbly my in die Heer.
Hy het my ‘n nuwe kleed gegee.
Hy het my verlos. Hy het my verlos.
Ek is bly, ek is bly
soos ‘n bruidegom en bruid.
Ek is bly!

VONKK 124 “Jesus Bring Vreugde”
Teks: AP van der Colf 1988 (met toestemming NG Kerk-Uitgewers)
Melodie: In Dir ist Freude – Giovanni Giacomo Gastoldi 1591
Orrelbegeleiding: H Pieter van der Westhuizen 2001 (met toestemming NG Kerk-Uitgewers)
Musikale verryking: Anton Esterhuyse 2010 © Teks en orrelbegeleiding: 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit RUBRIEK: Klassiek – Lofprysing / Kersfees en Epifanie

1.  Jesus bring vreugde, redding en vreugde –
Hy het mens vir ons geword.
Engele juig dit, herders getuig dit:
”Jesus, Redder, Seun van God!”
Wyd oor die aarde kring sy behae;
Hy kom vergewe, Hy laat ons lewe.
Hy maak ons, mense, kinders van God.
Wyd oor die aarde kring sy behae;
Hy kom vergewe, Hy laat ons lewe.
Hy maak ons, mense, kinders van God.

2.  Jesus bring vrede, hemelse vrede:
Al ons skuld het Hy versoen.
Nie meer verlore – wedergebore
deur sy Gees wat wonders doen.
Vry kan ons nader tot God die Vader:
Niks kan ons skei nie, niks wat ons ly nie.
Hy is ons vrede – vrede wat bly.
Vry kan ons nader tot God die Vader:
Niks kan ons skei nie, niks wat ons ly nie.
Hy is ons vrede – vrede wat bly.

3.  Heer, U bring vryheid, Heer, U bring blyheid,
U wat mens word in ons nag.
Heerlike gawes gee U weldadig,
God van Liefde, God van mag.
Ewige Koning, ons is u woning;
Hemel en aarde kry nuwe waarde.
U is die Here, U maak ons vry.
Ewige Koning, ons is u woning;
hemel en aarde kry nuwe waarde.
U is die Here, U maak ons vry.

VONKK 256 “Vol van vreugde wil ons jubel”
Teks: Jacques Louw 2012 ©
Melodie: Les anges dans nos campagnes – Franse Kerslied E18.
Orrelbegeleiding: Werkgroep Kerkmusiek UOVS 1978. Gebruik met toestemming Bybel-Media.
Diskant: Jacques Louw 2012 ©  © Teks, orrelbegeleiding en diskant: 2012 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit  RUBRIEK:   Klassiek – Kersfees en Epifanie

Vol van vreugde wil ons jubel
en oor God se goedheid sing.
God se liefde vir die mensdom
het sy Seun na ons gebring.

Refrein:
Kom, loof die Heer, loof die Heer, loof die Here God,
met jou hele lewe!
Kom, loof die Heer, loof die Heer, loof die Here God.
Loof die Hemelkoning.
Jesus Christus, die Verlosser,
kom in ons gebrokenheid.
Hy bevry ons uit genade
van ons skuld en sondigheid.

Refrein:
Kom, loof die Heer, loof die Heer, loof die Here God,
met jou hele lewe!
Kom, loof die Heer, loof die Heer, loof die Here God.
Loof die Hemelkoning.
Jesus is ons Lig en Lewe –
wat ’n vaste sekerheid!
By Hom is daar ware vrede,
lewe tot in ewigheid!

Refrein:
Kom, loof die Heer, loof die Heer, loof die Here God,
met jou hele lewe!
Kom, loof die Heer, loof die Heer, loof die Here God.
Loof die Hemelkoning.
Saam met eng’le uit die hemel
wil ons ook ons hulde bring.
“Alle eer aan God, die Here!”,
juig ons in verwondering.

Refrein:
Kom, loof die Heer, loof die Heer, loof die Here God,
met jou hele lewe!
Kom, loof die Heer, loof die Heer, loof die Here God.
Loof die Hemelkoning.
LW: Instrumentale verwerkings van hierdie melodie vir onder andere fluit, viole, simbale en klokkies, is beskikbaar by die musikale verryking van VONKK 84.

VONKK 96 “Wees Bly En Loof Die Heer”
Teks: Rejoice, the Lord is King! – Charles Wesley (1707-1788); Afrikaanse teks: Jacques Louw 2009 ©
Musiek: GOPSAL – George Frideric Handel (1685-1759)  Kantoryverwerking: George Frideric Handel (1685-1759)
© Teks: 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) © Musiek: Openbare besit
RUBRIEK:  Klassiek – Lofprysing / Hemelvaart

1.  Wees bly en loof die Heer –
jou Koning wat regeer!
Kom bring Hom dank en eer.
Kom buig jou voor Hom neer.
Verhef jou stem en sing nou saam!
Wees bly en prys die Heer se Naam!

2.  Die Heer het opgevaar,
sit aan Gods regterhand.
Kyk, Hy regeer vandaar
en hou sy kerk in stand.
Verhef jou stem en sing nou saam!
Wees bly en prys die Heer se Naam!

3.  Van God se regterhand
regeer die Heer met mag.
Voor Hom sal elke knie
moet buig met groot ontsag.
Verhef jou stem en sing nou saam!
Wees bly en prys die Heer se Naam!

4.  Wees bly en hoop op Hom –
Hy kom vir seker weer.
Dié Regter wat sal kom,
is ook ons Redder, Heer.
Verhef jou stem en sing nou saam!
Wees bly en prys die Heer se Naam!

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Filippense 4:1-9

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Sluit aan by vers 8 en 9 en vertel die storie van die seuntjie genaamd Buddy.  Buddy was ‘n oulike seuntjie, maar hy het niks gehad om te doen nie.  So hy het heel dag TV gekyk, internet ge-“surf” en saam met ‘n slegte groep seuns uitgehang.

Een aand tydens aandete sê sy ma hy moet sy sop eet.  Ewe skielik skree Buddy:  “Ek sal nie!”

Sy pa was so verras sy valstande het skoon in sy sop geval.  Die hele familie het geskok gestaar.  Buddy is mos nie so nie!  Buddy het begin huil.  Hy was skaam vir sy eie gedrag.

Die volgende dag het Buddy sy suster se stokkielekker gegryp en in die modder gegooi.  Hy was baie lief vir sy suster en kon nie verstaan waarom hy so lelik was nie.

Buddy het vir almal gevra hoekom hy sulke aaklige dinge doen.

Op ’n dag praat Buddy se hoed met hom:  “Buddy, die rede hoekom jy sulke lelike dinge doen, is omdat jy sulke lelike goed kyk en luister.  Dit kom by jou oë en ore in, maar jou kop vol en kom dan by jou mond en hande uit.  Die Bybel sê “Julle moet altyd dink aan die dinge wat waar is, wat mooi is, wat reg is, wat rein is, wat pragtig en goed is. Ja, julle moet dink aan alles wat mooi is, alles waarop ’n mens trots kan wees.” (v8 uit Die Bybel vir Almal.)

“’n Paar slegte vriende en websites gaan geen verskil maak nie!” snork Buddy.

“Haal net jou hoed af!” het die hoed uitgeroep, “dan sal jy sien wat hierdie slegte goed aan jou gedoen het!”.

Biddy het sy hoed afgehaal  en sy kop gevoel.  Dit het vreemd gevoel.  Hard en rond.  Hy het na die spieël gehardloop en verwonderd gestaar:  Sy kop het in ’n asblik verander!
(Uit:  Cross, L.  1966.  Story Sermons for Children.  Grand Rapids, Baker Book House.)

Hier is ’n inkleurprent van ’n asblikmannetjie.  Jy kan ook ’n hoed opsit en ’n klein asblikkie onder jou hoed wegsteek.  Of laat kinders ’n (skoon) asblik oor hulle koppe trek.

Preekriglyn

Die goeie verhouding tussen Paulus en die gemeente van Filippi mens tref mens in ons teksgedeelte opnuut. Hy noem hulle geliefdes en beklemtoon die intieme verhouding tussen hulle: “Ek het julle baie lief en verlang na julle. Julle is my blydskap en my kroon” (1b).

Paulus het die gemeente ongeveer 50-51 n.C. geplant as die eerste gemeente op Europese bodem. Hy skryf hierdie brief vanuit die tronk en is duidelik diep geraak deur die liefdesbande en ondersteuning van die Filippense se kant. Hy het ook die behoefte om hulle aan te moedig op die pad van die geloof. Hulle moet vasstaan in die Here.

Konflik

Teen hierdie agtergrond skroom Paulus ook nie om persone in die gemeente wat in onderlinge konflik verkeer het, aan te spreek nie. Hulle name was Euodia en Sintige. ‘n Derde naam, Klemens, word ook genoem, hoewel dit onseker was of Klemens ook ‘n party in die konflik was.

Wie was hierdie Euodia, Sintige en Klemens? Die eerste twee was algemene name in die tyd van Paulus, en ons weet niks meer van hierdie spesifieke twee persone as wat ons in hierdie teks lees nie. Hoewel Klemens ook ‘n algemene naam was, was die kerkvaders Origens en Eusebius oortuig hierdie Klemens was die persoon wat later biskop van rome geword het, en wat die Brief van Klemens aan die Korintiërs teen 110 – 120 n.C. geskryf het.

Hoe dit ook al sy, die twee vroue – Euodia en Sintige – het in spanning met mekaar verkeer. Klemens kon moontlik deel van die argument wees, maar meer waarskynlik was hy een van die lidmate aan wie die taak opgedra is om met die versoening te help. So staan dit in ons 1983-vertaling:

Ek vermaan vir Euodia en ek vermaan vir Sintige om eensgesind te wees in die Here. Ja, ek vra jou ook, getroue medewerker, wees hierdie vroue behulpsaam. Hulle het saam met my die stryd gevoer in diens van die evangelie, net soos Klemens ook en my ander medewerkers, wie se name in die boek van die lewe staan. (2-3)

Hoewel die verwysing na die spanning slegs kortliks aangeraak word, kan ons nogal baie hieruit leer oor die hantering van konflik in die gemeente van die Here.

Geen nare detail nie

Konflik het ‘n manier om te groei en meer en meer mense meer en meer daarby in te trek. Gou word die helpers ook partye in die konflik, en begin die moddergooiery.

Dit is baie belangrik om raak te sien dat Paulus hom nie laat betrek by die spanning nie. Hy het geen behoefte om die detail daaroor uit te spel of kant te kies tussen die partye nie. Natuurlik het die lidmate van Filippi geweet van die omstandighede, dinge waaroor ons net kan raai. Van Paulus sal niemand egter besonderhede oor die konflik hoor nie. Hy laat hom nie daarby betrek nie. Hy begin nie ook stories daaroor opteken, saam skinder of ‘n eie opinie oor skuld of onskuld by die partye vorm en verkondig nie.

Hy gee geen nare detail nie. Al wat ons van hom het, is die eenvoudige omgee-woorde van ‘n sensitiewe herder en berader wat die situasie opgelos wil sien, maar niemand gaan afkraak nie. Hy beskerm elkeen se reputasie, maar vra dat die spanning daadwerklik aandag moet kry, sodat dit opgelos kan word. In hierdie opsig skuil hy nie agter ander nie: hy vra direk vir optrede. Hy beskaam en veroordeel egter nie.

In enige gemeente, moet die interpersoonlike krisis opgelos word. Daarom vra hy Euodia en Sintige om mekaar te vind en eensgesind te wees in die Here.

Vir almal wat konflik moet hanteer (en dit is ons almal), help dit nogal om op te let wat Paulus nié sê nie, en wat hy wél sê.

Wat hy nié sê nie

Paulus:

  • Kies nie kant in die konflik nie;
  • Probeer nie – oor ‘n afstand – ‘n uitspraak oor die oorsake of omstandighede agter die konflik maak nie;
  • Gee nie instruksies oor hoe die gemeente die situasie moet beredder nie – hy probeer dus nie oor ‘n afstand beheer uitoefen nie;
  • Hy dreig of raas nie, nie teenoor Euodia en Sintige nie, maar ook nie teenoor die gemeente nie. Nogtans ignoreer hy nie die probleem nie.
Wat hy wél sê

Paulus:

  • Noem die betrokke persone vrymoediglik by die naam;
  • Is eerlik daaroor dat die gemeente deur die konflik in ‘n krisis gedompel word
  • Doen ‘n beroep op die partye om die probleem op te los;
  • Moedig hulle aan om in Christus, en ter wille van Christus, eenheid te vind;
  • Beklemtoon dat hulle die eenheid in Jesus Christus die deurslag moet laat gee.

Paulus se advies bou deur en deur op die werklikheid van God en God se teenwoordigheid. Aangesien Jesus Christus die fondament van die gemeente is, is ons nie aan onsself oorgelaat nie – asof ons interpersoonlike verhoudings met ander, ewe feilbare mense, al is wat ons in die wêreld het nie. Ons het Christus, en ons eenheid in Christus. Ons moet daaruit leef.

In sy beroemde boek, The Cost of Discipleship, skryf Dietrich Bonhoeffer dat Jesus as Redder, Verlosser en koning, weens sy bemiddeling met ons lewe en ons wêreld, nou in ons verhoudings aanwesig is. Ons verhoudinge met mekaar in die gemeente is in Christus bemiddelde verhoudings. Ons verhouding met mense buite die gemeente, ja trouens met die hele wêreld, is bemiddelde verhoudings. Christus staan tussen ons en God en tussen ons en ons medegelowiges, ja, tussen ons en die hele geskape werklikheid.

Christus se bemiddeling verander alles. Dit is met hierdie werklikheid in gedagte dat Paulus almal in konflik aanmoedig om een te wees in die Here, en mekaar in Christus te vind.

Ten spyte van verskille is ons saam in diens van Christus. Ons almal se name staan in die boek van die lewe.

Wees bly in die Here!

Daar is ‘n basiese lewensingesteldheid wat mens daarvan bewaar om in konflik met ander geloofsgenote te verval. Vanaf vers 4 tot 7 spel Paulus dit uit:

Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby. Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.

Paulus skryf ‘n lewe van vreugde in die Here voor as genesing vir konflik en gebroke verhoudinge. As ons vreugde in die Here opsoek, word ons toenemend inskiklik teenoor ander. Inskiklik beteken hier ook sag, gematigd, vol welwillendheid. Hierdie vreugde en inskiklikheid bou op die feit dat die Here naby is. Daarom kan ons bly wees.

Verder: Omdat die Here naby is, kan ons al ons begeertes deur gebed en met smeking en danksegging aan God bekend maak. Aangesien Christus naby is, volg vrede wat oor ons harte en gedagtes die wag hou. Dit is vrede wat alle verstand te bowe gaan.

Mense wie se denke deur vreugde, gebed, smeking en danksegging gevul word, raak vredevol, inskiklik en kan fokus op eenheid in Christus en ter wille van Christus met alle ander mense.

Gepaste waardes

Paulus is nog nie klaar met sy voorskrif oor ‘n ingesteldheid wat ons weg laat draai van konflik en bakleierigheid en ons aandag fokus op eenheid in Christus nie.

Hy skryf nou ‘n aantal gepaste waardes voor waarop ons ons gedagtes moet rig en wat ons deel van ons basiese manier van dink oor mekaar en ander moet maak (vers 8):

Verder, broers en susters, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is — watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees — daarop moet julle julle gedagtes rig.

Hierdie woorde laat mens aan die Ou Testamentiese boek Spreuke dink. Spreuke handel oor wysheid. Wysheid is die vaardigheid om in elke situasie reg op te tree. Spreuke gaan daaroor om vir jongmense die nodige etiese, morele en geestelike vaardighede aan te leer, sodat hulle reg sal lewe soos wat God wil dat ons moet lewe.

Paulus speel nou die rol van ‘n wysheidsleraar, soos Spreuke, om vir die Filippense te leer watter vaardighede hulle sal laat groei in Christus en in die uitleef van die evangelie. Alles wat waar, edel, reg, mooi, rein en prysenswaardig is, moet hulle gedagtes beheers.

Hoe gebeur dit? Hoe groei mens in die wysheid wat hierdie waardes verteenwoordig? Dit gebeur deur die duisende keuses wat jy elke dag moet maak. Elke keuse moet bedink word vanuit hierdie Christelike waardes. Ons moet ons gedrag daardeur laat bepaal. Ons faal dikwels, maar dit moet ons nie ontmoedig nie. Niemand raak vaardig in die uitleef van ‘n waarde sonder mislukking en weer probeer nie.

Hierdie groot en lofwaardige waardes word net deel van ons lewe in die baie klein maniertjies waarop ons hulle elke dag deur die keuses wat ons maak by onsself inoefen. Dit gebeur in die supermark wanneer ons haastig en ongeduldig is, op die snelweg, in die neerdrukkende roetine van die lewe, in die moeilike en uitdagende werksituasies, by die huis, en by al die ander vurke in ons lewenspad waar ons reg moet kies. Die wyse keuse verg dikwels opoffering. Maar dit verander jou lewe.

Ons waardes moet dus praktiese gewoontes word. Dit moet die vanselfsprekende manier van optrede in ons lewe word. Ons waardes raak so ingeoefen, dat ons hulle later outomaties begin doen en toepas.

Op so ‘n manier word die gemeente ‘n vredesoekende gemeenskap en nie ‘n konflikgedrewe gemeenskap nie. Daar is mense wat dink mens kan Christus deur veg en mag eer. Paulus en die Woord van God dink nie so nie.

Die rol van voorbeeld

In vers 9 wys Paulus op die belangrike rol en invloed van die voorbeeld van geloofsvolwasse mense. Hy praat oor homself as rolmodel en sê:

En wat julle van my geleer en ontvang het, en gehoor en gesien het, dit moet julle doen. En God wat vrede gee, sal by julle wees.

Ons optrede is aansteeklik. Ander begin ons nadoen: die goeie wat ons doen, maar ook die slegte. Dit is om hierdie rede dat Paulus nie wil hê die konflik tussen Euodia en Sintige moet voortduur of groei nie. Dit moet beëindig word, want dit kan so maklik ‘n patroon word in die gemeente. Dan eindig ons met ‘n bakleierige, ondankbare, onvergenoegde gemeente sonder vrede. Een waar Christus nie meer herken en erken word nie. Alle vreugde en vrede verdwyn.

Voorbeelde van voorbeeldigheid

Eddie Orsmond wys uit hoe ‘n belangrike manier ‘n mens se voorbeeld is om die evangelie met ander te deel. Hy vertel van ‘n onlangse konferensie oor evangelisasie waar verskeie deelnemers vanuit hulle eie leefwêrelde vertel het watter invloed voorbeeld op die verspreiding van die evangelie het. Die voorbeeld van Christene in hulle interaksie met ander mense is ‘n belangrike medium om mense aan Christus bekend te stel en hulle in kontak te bring met die goeie nuus van die evangelie:

  • Makarios, ‘n sendeling van die Grieks Ortodokse Kerk in Kenia, het verduidelik dat sy denominasie klein is in getal binne die konteks waar hulle leef en werk. Die Ortodokse benadering is dié van presensie; deur dienslewering in die gemeenskap en prediking van die evangelie van die opgestane Christus op Sondae en by feeste (kerklik en sosiaal). So stel hulle mense aan die goeie nuus bekend. Die boodskap laat mense vrae vra, waaruit gesprek en getuienis volg: “Hierdie benadering trek mense van buite nader om by diegene binne-in die gemeente aan te sluit.”
  • Lesmore Gibson Ezekiel van Kenia werk in ‘n program vir Christen-Moslem verhoudinge. Hy reis na verskillende Afrikalande vir interaksie met Christen- en Moslemleiers. Dié interaksie is gerig op die gemeenskaplike voordeel van al die burgers van Afrikalande. In sy riglyne vir evangelisasie verwys hy na ‘n Christus-gelykvormige lewensstyl en die bereidheid om na mense van ander godsdienstige oortuigings te luister. Hy oordeel dat Christene nie juis bereid is om na ander te luister nie.
  • Hans Combrink van Suid-Afrika, werk as sendeling vir Biblica. Hy koördineer die organisasie se internasionale Bybelvertalingsprojekte. Die visie van Biblica is om God se Woord vir mense te bring sodat hulle dit kan verstaan om self getuies te kan wees. Combrink verduidelik hoe belangrik die lewenstyl van Bybelvertalers self is vir die geloofwaardigheid van die Bybelboodskap. Hy verwys na vertalers wat verhoudingsprobleme in hulle huwelike ervaar en skei. Die gemeenskappe wat bewus is van die name van vertalers van spesifieke uitgawes van die Bybel, reageer skepties teenoor en dikwels afwysend van die boodskap van die Bybel. Die lewenswyse van die vertaler weerspreek volgens hulle die boodskap wat hulle verkondig.
Die gemeente lê die evangelie uit

Wanneer na hierdie verhale luister, verstaan jy waarom die groot teoloog, Lesslie Newbigin, gesê het die primêre uitlegger van die evangelie is die praktiese lewe van die gemeente van Christus.

Die lewe van die gemeente is die boek wat die wêreld lees, en op grond waarvan hulle besluit of dit die moeite werd is om Jesus Christus te volg.

Laat ons daarom Paulus se daadwerklike optrede raaksien. Hy neem praktiese stappe om konflik met wysheid, deug en vreugde te vervang. Ons moet hom daarin navolg. Om Christus ontwil.

God stuur ons om te leef

Gebed
(As jy nie voor die preek ruim tyd gemaak het vir voorbidding en danksegging nie, kan dit hier gedoen word.  Oorweeg gerus om geleentheid vir gebed te gee.  Of reël vooraf mense om vir spesifieke sake te bid en dankie te sê.)

Slotsang
Lied 207 “Eer aan die Vaderof
F167. Wees Bly

Seën

Respons
F386. Mag Die God Van Hoop Deur Geloof Jou Vervul (Benedictus) [vervang “jou” met “ons”]
(RUBRIEK: Flam – Seënbede) Teks: Neil Büchner Musiek: Neil Büchner © Flam Musiek-Uitgewers (Rom 15:13)

Mag die God van hoop
deur geloof jou vervul
met alle vreugde en vrede
sodat jou hoop
sterker kan word
deur die krag van Sy Gees.

Tweede:
Laat dit so wees: Amen.
(“jou” kan ook vervang word met “jul” as mense dit vir groep, bv uitreik-groep wil sing)

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.