Negentiende Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Die sleutelteks uit Ester waarsku onder andere teen imperiale magsug en eksklusiwiteit wat maklik vreemdes uitsluit. Psalm 124 is ‘n pelgrimslied wat die Here se hulp en verlossing beeldryk besing. Jakobus skryf oor die krag en noodsaaklikheid van gebed. Markus 9:38-50 gee riglyne oor hoe om werklik sout te wees en nie afvallig te raak nie.

Ander tekste

Jakobus 5:13-20
Die gelowige gebed
13As daar iemand onder julle is wat swaar kry, moet hy bid. As daar iemand is wat opgeruimd is, moet hy lofliedere sing. 14As daar iemand van julle is wat siek is, moet hy die ouderlinge van die gemeente laat kom, en hulle moet vir hom bid en hom met olie salf onder aanroeping van die Naam van die Here. 15En as hulle gelowig bid, sal dit vir die sieke genesing bring: die Here sal hom gesond maak. As hy gesondig het, sal dit hom vergewe word. 16Bely julle sondes eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word.

Die gebed van ’n gelowige het ’n kragtige uitwerking. 17Elia was ’n mens net soos ons. Hy het ernstig gebid dat dit nie moet reën nie, en in die land het dit drie jaar en ses maande lank nie gereën nie. 18Toe het hy weer gebid, en die hemel het reën gegee en die aarde het sy oes gelewer.

19My broers, as een van julle van die waarheid afdwaal en iemand sou hom terugbring, 20weet dan dat hy wat ’n sondaar van sy dwaalweg terugbring, hom uit die dood red en maak dat ’n menigte sondes vergewe word.

Psalm 124
As die Here ons nie gehelp het nie

124 ’n Pelgrimslied. Van Dawid.
As die Here ons nie gehelp het nie,
dit moet Israel bely,
2as die Here ons nie gehelp het
toe mense ons aangeval het nie,
3dan het hulle ons lewendig verslind
toe hulle woede teen ons ontvlam het;
4dan het die waters ons weggespoel
en die vloed ons oorweldig;
5dan het die skuimende waters
ons oorweldig.
6Aan die Here kom die lof toe:
Hy het nie toegelaat
dat ons hulle prooi word nie.
7Ons is bevry soos ’n voël
uit die wip van ’n voëlvanger;
die wip het gebreek en ons was vry!
8Ons hulp kom van die Here
wat hemel en aarde gemaak het.

Markus 9:38-50
“Wie nie téén ons is nie, is vir ons”
(Luk 9:49–50; vgl Matt 12:30; Luk 11:23)
38Johannes het toe vir Hom gesê: “Here, ons het iemand gesien wat in u Naam bose geeste uitdrywe. Ons het hom probeer keer, omdat hy ons nie volg nie.”

39“Moet hom nie keer nie,” sê Jesus, “want daar is niemand wat ’n kragtige daad in my Naam sal doen en net daarna minagtend van My sal kan praat nie. 40Wie nie téén ons is nie, is vir ons.

41“Elkeen wat vir julle ’n beker water te drinke sal gee omdat julle aan Christus behoort, hy sal beslis die beloning daarvoor kry. Dit verseker Ek julle.”

Aanleiding tot afvalligheid
(Matt 18:6–9; Luk 17:1–2)
42“Elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, van My afvallig laat word, vir hom is dit baie beter as ’n groot meulsteen aan sy nek vasgemaak en hy in die see gegooi word.

43“As jou hand jou van My afvallig laat word, kap hom af! Dit is beter dat jy vermink in die lewe ingaan as dat jy altwee jou hande het en na die hel toe gaan, in die onblusbare vuur. 44h45En as jou voet jou van My afvallig laat word, kap hom af! Dit is beter dat jy kreupel die lewe ingaan as dat jy altwee jou voete het en in die hel gegooi word. 46i47En as jou oog jou van My afvallig laat word, pluk hom uit! Dit is beter dat jy met een oog die koninkryk van God ingaan as dat jy altwee oë het en in die hel gegooi word. 48Daar gaan die wurm nie dood nie en word die vuur nie geblus nie.”

Sout en vrede
(Matt 5:13; Luk 14:34–35)
49“Almal sal met die vuur van beproewing gelouter word.

50“Sout is goed, maar as sout sy krag verloor het, waarmee sal ’n mens dit weer sout maak?

“Julle moet werklik sout wees en in vrede met mekaar lewe.”

Fokusteks

Ester 7:1-6, 9-10
Haman word om die lewe gebring
7 Die koning en Haman het by koningin Ester gekom om saam met haar te eet. 2Terwyl hulle by hierdie tweede geleentheid besig was om wyn te drink, vra die koning weer vir Ester: “Wat is dit wat jy wil vra? Dit sal vir jou gegee word. Wat is jou versoek? Al is dit ook die helfte van die koninkryk, dit sal toegestaan word.”

3Koningin Ester antwoord toe: “As die koning my goedgesind is, en die koning dit goedvind, laat my en my volk toe om te bly lewe. Dit is my wens en my versoek. 4Ek vra dit, want ons, ek en my volk, is verkoop om voor die voet uitgeroei te word. Was ons maar net as slawe en slavinne verkoop, sou ek stilgebly het, want dan sou die ramp nie soveel skade aan die koning se belange veroorsaak het nie.”

5Toe vra koning Ahasveros vir koningin Ester: “Wie is dit wat so iets beplan, en waar is hy?” 6en Ester antwoord: “Die teëstander en vyand is hierdie lae mens, hierdie Haman.”

Haman het groot geskrik daar in teenwoordigheid van die koning en koningin.

7Die koning het woedend van die ete af opgestaan en na die tuin van die paleis toe gegaan. Haman het egter bly staan om by koningin Ester om sy lewe te smeek, want hy het gesien dat die koning klaar oor sy ondergang besluit het. 8Net toe Haman neerval op die rusbank waarop Ester sit, kom die koning uit die tuin van die paleis terug in die saal waar die maaltyd gegee is. Toe sê die koning: “Wil jy nou ook nog die koningin hier by my in die paleis aanrand?”

Skaars het die koning dit gesê, of sy dienaars het vir Haman kom blinddoek.

9Garbona, een van die koning se paleisbeamptes, sê toe: “Daar is mos reeds by Haman se huis ‘n galg van drie en twintig meter hoog wat hy laat oprig het vir Mordegai wat destyds in belang van die koning gepraat het.”

Toe sê die koning: “Hang hom daaraan op!”

Ekstra stof

Ester 6-7 – Die koning se slaaploosheid is die draaipunt in die verhaal
Waar hoofstuk 1-5 die dreigende gevaar vir die Joodse volk beskryf het, begin hoofstuk 6-9 nou die verstommende uitkoms beskryf wat orals in die wêreld redding vir hulle sal bring. Interessant genoeg is dit die koning se slaaploosheid wat die draaipunt in die verhaal verteenwoordig.

Omdat die koning nie die nag kon slaap nie vra hy dat uit sy annale aan hom voorgelees word. Toe hy hoor van Mordegai se ontmaskering van ‘n sameswering teen hom, besluit hy om Mordegai erkenning te gee daarvoor. “Net toe” kom Haman daar aan met ‘n bose plan teen Mordegai om hom te laat ophang op die galg wat vir hom opgerig is. Die koning spring Haman egter voor en reël dat Haman vir Mordegai eer bewys, presies op die wyse wat Haman self voorgestel het.

Soos Dawid Pawson dit beskryf: “It was an extraordinary coincidence – clearly the hand of God.” (Unlocking the Bible, 2007: 673).

Dit het ‘n groot impak op Haman en beskaam hom selfs in die oë van sy raadgewers en sy vrou. Let op die geweldige uitspraak wat hulle oor Haman maak, dat: “jy nie (sal) kan standhou voor hom (Mordegai) nie. Voor hom sal jy heeltemal ondergaan.”!

Dit is egter nog maar die begin van die probleme wat Haman ervaar. Terwyl hulle by die tweede geleentheid besig is om wyn te drink, kom Ester met die hele mandjie patats na vore: “As die koning my goedgesind is, en die koning dit goedvind, laat my en my volk toe om te bly lewe. Dit is my wens en my versoek. Ek vra dit, want ons, ek en my volk, is verkoop om voor die voet uitgeroei te word. Was ons maar net as slawe en slavinne verkoop, sou ek stilgebly het, want dan sou die ramp nie soveel skade aan die koning se belange veroorsaak het nie.”

Let op hoe sy nie net oor haarself en haar lot praat nie, maar dit veral motiveer in die lig van wat met haar volk gaan gebeur. Maar die beste argument is eintlik dat sy vir Ahasveros duidelik maak dat sy eie belange daardeur geskaad sal word. Sy kies die beste moontlike geleentheid vir haar versoek en sy doen dit op die beste en deurdagte manier moontlik!

Toe Ahasveros agterkom dat Haman hiervoor verantwoordelik is – in Ester se woorde: “Die teëstander en vyand is hierdie lae mens, hierdie Haman” – was sy doppie geklink. Sy smeking om genade lyk boonop vir die koning na aanranding en Haman word opgehang op die einste galg wat hy vir Mordegai laat bou het.

Ester 8 – Die Jode kry die reg om hulle teen etniese suiwering te verdedig
Haman se vernedering duur selfs ná sy dood voort. Sy eiendom word aan Ester gegee wat dit aan Mordegai toevertrou om te bestuur, nadat sy haar verwantskap met hom aan die koning verklaar het. Die posisie wat Haman gehad het, word boonop aan sy vyand, Mordegai, gegee, verseël met die seëlring van die koning.

Met Haman so verneder en uit die weggeruim, was die probleme van die Jode egter nie op ‘n einde nie. Die bevel van die koning was steeds dat hulle op die dertiende van die maand Adar uitgewis sou moes word. Dié bevel kon nie as sodanig verander word nie, al het Ester voor Ahasveros gekniel, gehuil en hom om genade gesmeek.

Daarom stel Ester voor dat daar ander briewe geskrywe word, aan elke volk in hulle eie taal, dat die Jode die reg het om hulle te verdedig en die ramp wat hulle kon tref, só te kan afweer. So 20 dae voor die voltrekking van die vorige gebod van Ahasveros rondom die uitwissing van die Jode, het boodskappers op resiesperde dié nuus versprei deur die hele ryk dat die koning aan die Jode in alle stede die reg gee om bymekaar te kom en hulle te verdedig. Trouens, die bevel was dat hulle enige gewapende mag van enige volk of provinsie deur wie hulle bedreig word, voor die voet kon uitroei, ook kinders en vrouens, en op almal se besittings beslag lê. ‘n Radikale ommekeer in die koning se voorskrifte en een wat vandag nog weerklink in die manier waarop die Jode hulle teen die wêreld beveilig.

Die nuwe opdrag was dus net soos die vorige een, wreed, aggressief en ongenaakbaar, maar waarskynlik die enigste manier om só ‘n groot gevaar, dié van etniese suiwering, te vermy.

Die bevel van die koning het tot groot vreugde in die stad Susan gelei en vir die Jode was daar weer “lig en vreugde en blydskap en ‘n gevoel van eiewaarde“. Hulle het maaltye gehou en feesgevier, iets wat uiteindelik oor sou gaan in die jaarlikse instelling van die Purimfees, soos ons in die volgende hoofstuk gaan lees. Interessant genoeg, sê die skrywer, het baie mense van ander volksgroepe Jode geword omdat hulle skrikbevange was vir die Jode. Hoe wydverspreid dit was, sou ‘n mens nie kon sê nie, maar die gemoedstemming van almal is gelig.

Hierdie gebeure in die Persiese ryk, waarin ‘n dreigende uitwissing deur die Jode afgeweer is, gee ‘n mens dus ‘n beter begrip van die Joodse psige. Dit is gevorm deur eeue lange ervarings van konflik met hulle buurvolke. Diep in hulle volksgeheue was die ervaring van slawerny (Egipte), die bevryding daaruit (Eksodus), die heilige oorlog teen die ander nasies in Kanaän (Intog), die ballingskap weens hulle ongehoorsaamheid (Babel), die hervestiging in Israel (Terugkeer – waaroor ons in Esra en Nehemia gaan lees) ingebrand. Op die koop toe was daar hierdie gevaar van etniese suiwering (Persiese ryk).

Só sou daar nog ‘n paar groot gevare op hulle pad wees, die verwoesting onder Antiogos IV Epiphanes in die Makkabeërtyd van die 2de eeu v.C., die verwoesting onder die Romeine in 70 n.C., die ghetto’s van die Middeleeue in Europa, die Volkslagting onder die Nazi’s (Duitsland) en die vele oorloë om hulle reg op nasieskap en ‘n grondgebied te verseker na 1948. Dit is ‘n uitmergelende geskiedenis van konflik en oorlog waarvan die einde nog nie in sig is nie.

Dit is daarom wel jammer dat hulle nie ander gun wat hulle hulleself gun nie, spesifiek die Palestyne in die voortslepende konflik in Israel vandag. Maar ‘n mens het tog begrip vir hulle aggressie, gegewe só ‘n konflikterende geskiedenis, al sou ‘n mens graag wou hê dat hulle vreedsame naasbestaan najaag.

Ester 9-10 – God red die Jode deur die leierskap van Mordegai en Ester
Die dertiende dag van Adar breek toe aan met die tafel gedek vir grootskaalse oorlog. Omdat die Jode egter voorbereid was, kon hulle weerstand bied en het hulle hul vyande oorweldig. Niemand kon voor hulle standhou nie.

Een van die redes vir die omkeer van die situasie was natuurlik dat Mordegai nou ‘n hoë posisie aan die hof van die koning beklee het en hy mag oor die goewerneurs van die provinsies gehad het. Trouens dit het bekend geword dat hy al hoe meer mag kry. Niemand wou dus van hom ‘n vyand maak nie en al die leiers, verteenwoordigers, goewerneurs en ander in diens van die koning het die Jode daarom uitgelos oral in die 127 provinsies waar hulle in beheer was.

Daar was egter steeds gevegte. Selfs in die vestingstad Susan het die Jode vyf honderd man doodgemaak, waaronder lede van die familie van Haman. Interessant genoeg word daar ‘n paar keer gesê dat die Jode nie op die oorwonne vyande se besittings beslag gelê het nie.

Selfs die koning het ‘n heilige ontsag gekry vir die weerstand van die Jode, sodat hy vir Ester sê: “Is daar iets wat jy nog wil vra? Dit sal aan jou gegee word. Het jy ‘n verdere versoek? Dit sal uitgevoer word.” Dit illustreer sy wispelturigheid en beginselloosheid. Hy is eintlik maar net besorg oor homself en hoe dinge homself gaan raak.

Ester is egter nie links nie en vra dat die Jode in Susan nog ‘n dag toegelaat word om hulle self te verdedig, waarskynlik omdat sy meer eerstehandse kennis gehad het van die weerstand wat hulle daar ondervind het. Sy vra ook dat ‘n voorbeeld gemaak word van die tien seuns van Haman wat eintlik alreeds doodgemaak is, maar nou ook verder verneder word deur hulle aan die galg te laat ophang.

Nog drie honderd man is daarom in Susan doodgemaak, maar weereens nie op hulle besittings beslag gelê nie. In totaal is vyf en sewentig duisend man doodgemaak in die Jode se verdedigingsproses reg deur die ryk.

Die 14de dag (15de dag in Susan, omdat hulle oorlog langer geduur het) is daarom ‘n dag van feesviering en vreugde gemaak, weens die noue ontkoming van die Jode. Uit vreugde het hulle ook die gebruik gevestig dat dit ‘n feesdag is waarop hulle aan mekaar eetgoed stuur uit dankbaarheid vir die oorwinning.

Die Purimfees
Mordegai het hierdie feesdag geformaliseer deur al die gebeure te laat neerskryf (hy is daarom ook waarskynlik die skrywer van die boek Ester) en briewe te stuur aan al die Jode in al die provinsies van koning Ahasveros, naby en ver, en die Jode te gelas om voortaan elke jaar die veertiende en die vyftiende van die maand Adar te vier as dae waarop die Jode die bedreiging deur hulle vyande afgeweer het. Dit is ook bevestig deur ‘n brief van Ester. Die Jode moes hierdie twee dae, dae van feesviering en vreugde maak, en aan mekaar eetgoed en aan die armes geskenke stuur. Dit het toe só ‘n vaste gebruik geword, iets wat vandag nog só gevier word.

Daar was ook ‘n geestelike kant met voorskrifte oor hoe hulle moes vas en na God om hulp moes roep. Eintlik staan daar in die gebruikte grondteks nie die woord God nie, maar wel die volgende sin: “soos hulle vir hulself en hul nageslag die voorskrifte aangaande die vastyd en die daarby behorende weeklag vasgestel het.” Die weeklag het natuurlik met God te make, maar dit word nie eksplisiet só gestel nie.

Een van die voorskrifte vir die fees is dat die boek Ester telkens voorgelees moet word om die geskiedenis in hulle geheue te verfris. Daarby is een van die tradisies dat die Jode geleer word om elke keer dat Haman se naam genoem word, uit te roep: “Vervloek is Haman!” Elke keer wat Mordegai se naam gelees is, moet hulle uitroep: “Geseënd is Mordegai!” Die voorskrif lui verder, dat daar op dié fees baie wyn gedrink mag word, om die waarheid te sê, soveel wyn, het die rabbi’s gesê, totdat niemand meer die verskil sou ken tussen “vervloek is Haman” en “geseënd is Mordegai” nie. Kan jy nou meer!

Die boek sluit af met ‘n paar verdere mededelings oor Ahasveros se regering, gekenmerk deur dwangarbeid, asook oor Mordegai se hoë pos, die tweede in bevel onder die koning, soos in die annale van die konings van Medië en Persië aangeteken is: “Hy was hoog in aansien by die Jode en gewild by al sy volksgenote. Hy het hom vir die welvaart van sy mense beywer en die veiligheid van al hulle nakomelinge verseker.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 59 “God is hier teenwoordig vs 1,2,3”

Aanvangswoord: Psalm 124

Seëngroet: Galasiërs 1:3-4

Lied 197 “Wonderbare Koning 1,2”

Wet: Markus 9

Skuldbelydenis: Lied 279 “Hoor ons sug o Heer 1”

 Vryspraak: Galasiërs 2:16

Toewyding

Loflied 200 “U goedheid Heer kan ons nie peil nie 1,2,3”

Epiklese

Skriflesing: Ester 7:1-6, 9-10

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 223 “Aan Jesus Koning al die eer 1,2,3”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 159 “God is hier teenwoordig vs 1,2,3”

Aanvangswoord: Psalm 124
6Aan die Here kom die lof toe:
8Ons hulp kom van die Here
wat hemel en aarde gemaak het.

Seëngroet: Galasiërs 1:3-4
3Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus, 4wat Homself vir ons sondes gegee het om ons te verlos uit hierdie goddelose wêreld en so die wil van God ons Vader te volbring.

Lied: Lied 197 “Wonderbare Koning 1,2”

Wet: Markus 9
Aanleiding tot afvalligheid
43“As jou hand jou van My afvallig laat word, kap hom af! Dit is beter dat jy vermink in die lewe ingaan as dat jy altwee jou hande het en na die hel toe gaan, in die onblusbare vuur.  45En as jou voet jou van My afvallig laat word, kap hom af! Dit is beter dat jy kreupel die lewe ingaan as dat jy altwee jou voete het en in die hel gegooi word.  47En as jou oog jou van My afvallig laat word, pluk hom uit! Dit is beter dat jy met een oog die koninkryk van God ingaan as dat jy altwee oë het en in die hel gegooi word. 48Daar gaan die wurm nie dood nie en word die vuur nie geblus nie.”

50“Sout is goed, maar as sout sy krag verloor het, waarmee sal ’n mens dit weer sout maak?

“Julle moet werklik sout wees en in vrede met mekaar lewe.”

Skuldbelydenis: Lied 279 “Hoor ons sug o Heer 1”

Vryspraak: Galasiërs 2:16
16En tog weet ons dat ’n mens nie van sonde vrygespreek word deur die wet van Moses te onderhou nie, maar alleen deur in Jesus Christus te glo. Ook ons het tot die geloof in Christus Jesus gekom, en dit is hoe ons vrygespreek is: deur in Christus te glo en nie deur die wet te onderhou nie, want geen mens word vrygespreek op grond daarvan dat hy die wet onderhou nie.

Toewyding
Voorganger: Die wet van die Here is volmaak,
Gemeente: dit gee nuwe lewenskrag;

Voorganger: die bepalings van die Here is betroubaar,
Gemeente: dit gee wysheid aan die eenvoudige.

Voorganger: Die opdragte van die Here is reg,
Gemeente: dit maak my bly.

Voorganger: Die gebod van die Here is suiwer,
Gemeente: dit verhelder die oë.

Voorganger: Ontsag vir die Here is reinigend,
Gemeente: dit hou vir altyd stand;

Voorganger: die beslissings van die Here is waar,
Gemeente: heeltemal regverdig (uit Ps 19:8-10).

Loflied 200 “U goedheid Heer kan ons nie peil nie 1,2,3”

Liedere

F22. “Ek Soek U, O God”
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Toewyding / Verwondering / Aanbidding)
Teks en Musiek: Rhe Janse
© 1994  Brettian Productions
(Reeds opgeneem op: Lentereën  –  Willie Joubert
25 Gunsteling L&A liedere – Louis Brittz
Vrygemaak: Pretoria Oosterlig Gemeente)

Ek soek U, o God, my God,
ek dors na U, God.
Soos ‘n land sonder water,
wil ek tot u nader
om by U te wees,
om by U te wees.

As ek saans aan U dink, my God,
oor U peins in die nag,
dan weet ek U help my,
U hand ondersteun my.
Ek wil naby U bly,
ek wil naby U bly.

Refrein:
Want U liefde is meer werd as die lewe,
daarom sal ek U vir altyd prys;
my hande ophef om u Naam te eer, 
want U is die Heer vir wie ons lewe, lewe, lewe… (Nav Ps 63)

F166. “Die Krag Van U Liefde”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Toewyding)
Oorspronklike titel:The Power of your love
Teks en Musiek: Geoff Bullock
Afrikaanse vertaling:Faani Engelbrecht
© Word Music

Heer ek kom na U
Neem my hart, verander my
As ek U ontmoet vind ek rus by U

Want Heer ek het ontdek
dat as ek aan u voete bly
sal al my twyfel wyk
voor die krag van u liefde

Hou my vas, laat u liefde my omvou
Hou my vas, naby aan u hart
Ek voel U krag en vlieg hoog soos ‘n arend
Dan sweef ek op die wind,
op die vlerke van u Gees
en die krag van u liefde

Heer, vertoon u mag
U heerlikheid en u gesag
sodat ons u liefde kan voel in ons

Heer, leer ons u wil ken
elke dag u stem te hoor
sodat ons mag lewe
deur die krag van u liefde

God praat met ons en ons luister

Epiklese
In Jakobus 5, lees ons dat die gebed van ’n gelowige ’n kragtige uitwerking het. Elia was ’n mens net soos ons. Hy het ernstig gebid dat dit nie moet reën nie en in die land het dit drie jaar en ses maande lank nie gereën nie. Toe het hy weer gebid en die hemel het reën gegee en die aarde het sy oes gelewer.

Daarom bid ons saam:
Here, ons gebed is dat U vir ons uit u Woord ook reën sal gee.
Gee aan ons die Heilige Gees in u kerk en in ons harte sodat die aarde haar oes van liefde en omgee kan lewer. Amen.

Skriflesing: Ester 7:1-6, 9-10

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

’n Pragtige video met die verhaal van Ester is hier beskikbaar

Preekriglyn

Die Naam van God word nie eenkeer in die boek Ester genoem nie. Tog is die boek nog altyd gesien as ‘n uitdrukking van God se sorg in die lewe van sy volk. God voorsien, ook in die uur van nasionale nood, soos God se volk in die boek Ester beleef.

Die gebeure speel af na die ballingskap waarin die Jode uit hul land ontwortel is. Hulle leef nou onder die gesag van ‘n groot koninkryk waarvan hulle nie in beheer is nie.

Hierdie soort situasie word in baie plekke in die Ou Testament uitgebeeld:

  • Josef is as slaaf verkoop na Egipte, waar hy uiteindelik verhef word tot ‘n senior posisie in die land (Genesis 37-50);
  • Daniël beland na die ballingskap in Babilon;
  • Die hoofkarakters van die boek Ester leef in die ryk wat Babilonië opgevolg het, naamlik Persië. Soos Josef en Daniël het Ester ook ‘n posisie van groot invloed verkry, wat tegelyk ook baie broos was. Sy is die koningin.

Al hierdie mense moes worstel hoe om getrou aan die God van Israel en hul geloof te leef in omgewings wat bepaal is deur die groot maghebbers van hul tyd: onderskeidelik die konings van Egipte, Babilonië en Persië.

Die verhaal

[Nota: Indien die prediker in die kindermoment gebruik gemaak het van die kort video wat die verhaal van Ester vertel, kan baie kortliks met hierdie gedeelte gehandel word. Die werklik uitstekende Youtube-video is hier beskikbaar op die God’s Story-kanaal van Youtube.]

Die verhaal verloop as volg:

  • Koning Ahasveros, ook bekend as Xerxes (of X soos ons Youtube-verhaal hom noem), is koning van Persië. Tydens ‘n fees raak die koning vrolik van wyn en wil sy vrou, Vasti, voor die gaste paradeer. Sy weier. Die koning besluit om haar te vervang, en nooi al die mooi meisies om ‘n nuwe koningin aan te stel. So word Ester gekies om die nuwe koningin te word. Die koning het nie geweet sy was ‘n Jood nie.
  • Mordegai, Ester se oom, hoor twee wagte sweer saam om die koning dood te maak. Hy vertel Ester, wat die koning vertel. Die komplot word oopgevlek en die koning se lewe gered.
  • Haman verskyn op die toneel. Hy is ‘n Agagiet, uit ‘n volk wat ook as die Amalekiete bekendstaan. Daar was eeue-lange vyandskap tussen Jood en Amalekiet. Dit was die eerste volk wat Israel destyds op hul uittog uit Egipte aangeval het.
  • Haman haat steeds die Jode en beswadder hulle by die koning. Mordegai is vyand nommer een, want hy weier om voor Haman te buig. Haman oorreed die koning om ‘n wet te maak dat al die Jode in Persië op ‘n spesifieke dag uitgeroei word.
  • Mordegai oorreed Ester om na die koning te gaan en hom na ‘n maaltyd te nooi wat sy sou voorberei. Dit was lewensgevaarlik, want niemand – nie eers die koningin – kon ongenooid na die koning gaan nie. Mens kon doodgemaak word hiervoor. Gelukkig vind Ester se besoek guns by die koning, en hy aanvaar die uitnodiging.
  • Ester nooi ook die aartsvyand van die Jode, Haman, na die maaltyd. Hy is so opgewonde oor die eer, hy laat ‘n galg van 23 meter bou om Mordegai, sy Joodse aartsvyand, aan op te hang.
  • Een nag, nog voor Ester se groot maaltyd, kan die koning nie slaap nie. Hy vra dat vir hom uit die annale van die Persiese ryk voorgelees word. So ontdek die koning hy het Mordegai nog nooit vereer nadat hy hom uit die komplot van die paleiswagte gered het nie.
  • Die koning vra Haman se advies hoe om iemand te vereer. Haman dink die koning wil hom eer, en stel ‘n ordentlike skouspel voor. Op ‘n vernederende manier moet Haman dan die prosessie lei om sy aartsvyand Mordegai te vereer.
  • Tydens Ester se maaltyd, met Haman by die tafel, vra Ester die koning se hulp om haar en haar volk te red. Sy maak bekend sy is ‘n Jood. Die koning kom agter Haman, sy vertroueling, sit agter die komplot om die Jode uit te roei. Hy gee Haman oor om tereggestel te word.
  • Die koning se wette kan nooit verander word nie. Die opdrag om die Jode uit te roei kan dus nie teruggetrek word nie. Nou kom daar ‘n nuwe proklamasie: die Jode kry die reg om hulself te verdedig.

Op hierdie manier word die Jode van uitwissing gered. Telkens is dit die wyse en verstandige manier waarop Mordegai en Ester optree wat die deurslag gee.

Ons teks

Ons teks vir vandag handel oor die gebeure by Ester se maaltyd vir die koning en Haman. Dit is hooggespanne oomblikke. Hierdie paar momente gaan bepaal wie lewe en wie sterwe.

Die koning vra ‘n tipiese koninklike vraag aan sy koningin (2):
Wat is dit wat jy wil vra? Dit sal vir jou gegee word. Wat is jou versoek? Al is dit ook die helfte van die koninkryk, dit sal toegestaan word.

In haar antwoord identifiseer Ester haar met haar volk (3-4):
As die koning my goedgesind is, en die koning dit goedvind, laat my en my volk toe om te bly lewe. Dit is my wens en my versoek.

Ek vra dit, want ons, ek en my volk, is verkoop om voor die voet uitgeroei te word. Was ons maar net as slawe en slavinne verkoop, sou ek stilgebly het, want dan sou die ramp nie soveel skade aan die koning se belange veroorsaak het nie

Die koning wil natuurlik weet wie die lae lak is wat die ondergang van Ester se volk beplan. Ester maak bekend dit is Haman. Sy noem hom die teëstander en vyand, ‘n lae mens.

Vir Ester is daar nie meer omdraaikans nie. Deur Haman as die vyand te identifiseer, identifiseer sy haarself as ‘n Jood. Sy plaas haarself ook onder die koning se bevel dat die Jode uitgeroei moet word.

Haman se plannetjies word nou ook vir die koning duidelik. Aangevuur deur onbeheersde trots en arrogansie het Haman ‘n komplot gesmee om die ganse Joodse nasie uit te roei. Sy sug na mag sou nooit bevredig word solank Mordegai, die Jood, weier om voor hom te kniel nie.

Haman het vir Mordegai ‘n gat gegrawe. Nou val hyself daarin. Hoe hy ook al by Ester pleit vir sy lewe, gee die koning opdrag dat hy aan sy eie galg opgehang word.

Boosheid

Haman is bereid om ‘n hele volk uit te wis omdat hy wraak op een man, Mordegai, wou neem. Mordegai se sonde was dat hy nie voor Haman wou buig nie.

Haman se plan is hoe die werklikheid van boosheid lyk. Haman gebruik sy invloed en mag om dood te bring. Deur die Jode te vermoor, wil hy uit hul eiendom skatte vergader. Die grootte van sy boosheid word uitgebeeld in die grootte van die galg van drie en twintig meter wat hy vir Mordegai laat bou.

Mens moenie die boosheid waartoe leiers en invloedryke mense in staat is, onderskat nie. Ons eie land het onder kolonialisme en imperialisme gely. Ons ken die wrange gevolge van apartheid. Die kommissie van ondersoek na staatskaping laat ons tans elke dag hoor waartoe leiers in staat is. Boosheid is ‘n werklikheid, en moet teengestaan word.

Die boek Ester bevestig wat ons op verskeie plekke in die Bybel lees: dat God onreg en hoogmoed teenstaan, en tot ‘n val bring. Dink maar aan God se hantering van die onderdrukkende Farao, temas uit die lofsang van Maria en die belofte in Jakobus 4:6:

God weerstaan hoogmoediges, maar aan nederiges gee Hy genade.

Uit Ester en Mordegai se lewens sien mens God ondersteun en gee guns aan mense wat boosheid weerstaan. Dit beteken egter nie jy moet ook risiko’s loop en jou lewe op die spel plaas nie. Weerstand teen boosheid kan selfs jou lewe kos. Dink maar aan Johannes die Doper. Nogtans spreek boosheid nooit die laaste woord nie, God wel.

Vyandskap

Haman word in Ester as ‘n Agagiet geïdentifiseer. Agag was die koning van die Amalekiete toe Saul die eerste koning van Israel was (1 Samuel 15). Die Amalekiete was die ee4rste nasie wat die Israeliete aangeval het nadat hulle uit Egipte opgetrek het. Hulle wou die nuutgebore volk van God in die woestyn verwoes.

Saul het oorlog teen die Amalekiete gevoer. In die daaropvolgende eeue is teenstanders van Israel dikwels Agagiete genoem, al het hulle geen etniese verwantskap met die Amalekiete gehad nie. In die Persiese tyd het Haman die Agagiet met die koning se gesag opgetree. Haman was effektief die aanvoerder van die teenstanders van God se volk.

Terwyl die Jode weerloos in Persië was, sonder ‘n koning soos Saul met ‘n weermag om hulle te verdedig, was die vraag of God steeds trou aan hulle sou bly? Sou God se verbondsbeloftes hulle steeds teen vyande en vernietiging beskerm?

Dit het om meer as net die oorlewing van die Jode gegaan. Die vraag was of God se verlossende handelinge ontwrig sou word deur vyande. Sou God voortgaan om sy genadige bedoelinge deur sy volk te verwesenlik, of was die plan van die baan?

In Haman se val sien ons hoe God se heil en bedoelinge om redding te bring, ‘n nuwe toekoms, voortgaan.

Haman illustreer ook dat mens versigtig moet wees om te haat en ander se ondergang te soek. Haman se vrou waarsku hom nie verniet dat sy passie om Mordegai by te kom nog tot sy einde sal lei nie.

Beskikking

Chris van wyk skryf tereg:
Die diepste indruk wat die boek laat, is dat God op ongelooflike fyn beplande maniere teenwoordig is in alles wat rondom ons en met ons gebeur. Soos Richard Niebuhr sê: “God is acting in everything that is happening to you. So respond to everything that happens as if to respond to God’s action” (Responsible Self). Dit is ‘n baie raak beskrywing van wat ons in dié boek Ester aantref, al word God se naam nie een keer eksplisiet genoem nie.

God se hand is in alles teenwoordig, verborge en amper onopvallend, maar werklik en deurslaggewend. Hy laat die regte ding op die regte tyd gebeur, want Hy wil: “alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet.” (Rom. 8:28). Dit doen hy deur omstandighede, onverwagte wendinge en die keuses van mense, ook jou eie keuses. Ons noem dit God se voorsiening. Hy IS die voorsienigheid! Buitengewone toevallighede is eintlik Godsvallighede!

Leierskap

Die boek leer ons ook hoe een persoon ‘n verskil kan maak. Dit is ten diepste wat leierskap is, die besluit om ‘n verskil te maak en dit uit te voer al bars die bottel. God gebruik ons waar ons is, al is ons alleen. Dit help natuurlik om ‘n ondersteuningsnetwerk te hê soos Mordegai dit vir Ester is. En daar is dinge wat Ester kon doen, wat Mordegai nie kon nie en omgekeerd. Maar een mens wat doen wat God vra, wat met oorleg en wysheid optree en nie terugdeins van die verantwoordelikheid om dit te doen nie, maak ‘n groot verskil, veral waar dit gedoen word in vertroue op die Here.

Die boek sluit af met mededelings oor Mordegai se hoë pos, die tweede in bevel onder die koning, soos in die annale van die konings van Medië en Persië aangeteken is:

Hy was hoog in aansien by die Jode en gewild by al sy volksgenote. Hy het hom vir die welvaart van sy mense beywer en die veiligheid van al hulle nakomelinge verseker.

Feesviering

Die boek Ester sluit af deur te vertel hoe die Jode hulself toe suksesvol teen uitwissing verdedig het. In totaal is vyf en sewentig duisend man doodgemaak in die Jode se verdedigingsproses reg deur die ryk.

Die dag van oorwinning is ‘n dag van feesviering en vreugde gemaak, weens die noue ontkoming van die Jode. Uit vreugde het hulle ook die gebruik gevestig dat dit ‘n feesdag is waarop hulle aan mekaar eetgoed stuur uit dankbaarheid vir die oorwinning.

Die Purimfees

Mordegai het hierdie feesdag geformaliseer deur al die gebeure te laat neerskryf en briewe te stuur aan al die Jode in al die provinsies van koning Ahasveros, naby en ver, en die Jode te gelas om voortaan elke jaar die veertiende en die vyftiende van die maand Adar te vier as dae waarop die Jode die bedreiging deur hulle vyande afgeweer het. Dit is ook bevestig deur ‘n brief van Ester.

Daar was ook ‘n geestelike kant met voorskrifte oor hoe hulle moes vas en na God om hulp moes roep. Die boek Ester word daarom as ‘n verduideliking gesien van hoe die Purimfees ontstaan het.

Rus en vertroue

Die boek spel die wrede en harde werklikhede van die lewe uit. Die boek ontstem en maak mens bang. Dit troos ook, juis omdat dit deel is van die kanon. Hier word die beloftes van God aan sy volk van alle tye helder bevestig.

God stuur ons om te leef

Gebed
Here, skenk aan ons uit u genade:

  • lig waar ons net donker sien
  • moed waar ons vrees
  • hoop waar ons wanhoop
  • vrede waar ons gemoed stormagtig is
  • vreugde waar ons hartseer is
  • krag waar ons swak is
  • wysheid waar ons verward is
  • sagtheid waar ons bitter is
  • liefde waar ons haat
  • vergifnis vir ons sonde
  • Uself in die plek van myself.

Here, Here, skenk my van Uself.
Amen
(Richard Foster, aangehaal in Gebedeboek met liturgiese voorstelle)

Offergawes

Wegsending: Lied 223 “Aan Jesus Koning al die eer 1,2,3”

Seën
Sout is goed, maar as sout sy krag verloor het, waarmee sal  mens dit weer sout maak?
Julle is die sout van die aarde.
Julle moet werklik sout wees en in vrede met mekaar lewe.
Ek bid dit in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees. Amen.

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.