Negentiende Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Tydens Koninkrykstyd vier ons die koninkryk van God wat is en wat was en wat kom. In God se koninkryk gee liefde vir God, liefde vir mekaar en liefde vir die wêreld die deurslag. Burgers van God se koninkryk het ander mense so lief soos wat hulle hulleself het.

Ander tekste

Deuteronomium 34:1-12

Moses sterf op Nebober
34 Moses het uit die Moabsvlakte opgeklim na Neboberg toe, tot op die top van Pisgaberg regoor Jerigo. Die Here het hom die hele land gewys: van Gilead af tot by Dan, 2die hele Naftali, die gebied van Efraim en Manasse en die hele Juda tot by die see in die weste, 3die Suidland en die vlakte, die Jerigolaagte met sy palms tot by Soar. 4Die Here het vir Moses gesê: “Dit is die land wat Ek met ’n eed beloof het aan Abraham en Isak en Jakob. Ek het gesê: ‘Ek gee dit aan jou nageslag.’ Ek het jou dit met jou eie oë laat sien, maar jy sal nie daarheen deurtrek nie.”

5Moses, die dienaar van die Here, het daar in die land Moab gesterf soos die Here beveel het. 6Hy het vir Moses begrawe in ’n vlakte in Moab, regoor Bet-Peor, maar tot nou toe weet niemand waar sy graf is nie.

7Moses was honderd en twintig jaar toe hy gesterf het; sy oë was toe nog goed en sy krag het nog nie ingegee nie. 8Die Israeliete het dertig dae oor Moses gerou in die Moabsvlakte en so die routyd oor Moses voltooi.

9Josua seun van Nun het oor wysheid beskik, want Moses het sy hande op Josua gelê. Die Israeliete het hom gehoorsaam en hulle het gedoen wat die Here vir Moses beveel het. 10Daar het nie weer ’n profeet in Israel opgetree wat soos Moses was nie. Hy het die Here persoonlik geken. 11Die Here het hom gestuur om in Egipte al die tekens en wonders vir die farao en sy amptenare en sy hele land te doen. 12Moses het al die magtige dade, al die groot dade wat vrees inboesem, voor die oë van die hele Israel gedoen.

Psalm 90:1-6, 13-17
Van ewigheid tot ewigheid is U God
90 ’n Gebed van Moses, die man van God.
Here, U was vir ons ’n toevlug
van geslag tot geslag.
2Voordat die berge gebore is,
voordat U die wêreld voortgebring het,
ja, van ewigheid tot ewigheid
is U God!
3U laat die mens sterwe:
U sê net: “Word weer stof!”
4Duisend jaar is vir U
soos gister as dit verby is,
soos een enkele wagbeurt in die nag.
5U maak ’n einde aan ’n mens,
hy gaan die doodslaap in.
Hy is soos gras
wat in die môre afgesny word:
6in die môre is dit nog groen,
maar dit word afgesny
en teen die aand is dit verlep
en dit verdroog.

7Ons vergaan onder u toorn, 
ons gaan te gronde onder u gramskap. 
8U sien ons oortredinge raak, 
U bring die sondes 
wat ons wou wegsteek, aan die lig. 
9Onder u toorn vlieg ons dae 
en skiet ons jare verby 
soos ’n gedagte. 
10Ons lewe maar sewentig jaar, 
of, as ons baie sterk is, tagtig, 
en dié is vol swaarkry en leed. 
Dit is gou verby, 
ons vlieg na ons einde toe. 
11Wie ken die krag van u toorn beter 
as u dienaars? 
Wie ken u gramskap beter? 
12Leer ons ons dae so gebruik 
dat ons wysheid bekom. 

13Hoe lank nog, Here,
voordat U ons te hulp kom?
Ontferm U tog oor ons.
14Skenk ons elke dag u liefde
in oorvloed,
dat ons ons lewe lank mag juig
en bly wees.
15Soveel dae as dié
waarin U ons verdruk het,
soveel jare as dié waarin ons gely het,
gee ons soveel jare van blydskap.
16Laat u werk vir ons duidelik word
en u grootheid vir ons kinders.
17Laat ons die goedheid
van die Here ons God belewe:
hou die werk van ons hande in stand,
ja, die werk van ons hande,
hou dit in stand.

1 Tessalonisense 2:1-8

Paulus se werk in Tessalonika
2 Julle weet tog self, broers, dat ons koms na julle toe nie op ’n mislukking uitgeloop het nie. 2Inteendeel, al is ons kort tevore in Filippi beledig en mishandel, soos julle weet, het ons God ons die moed gegee om sy evangelie aan julle te verkondig ondanks felle teenkanting. 3Ons prediking berus immers nie op dwaling nie, kom ook nie voort uit onsuiwer beweegredes nie en is sonder enige bybedoelings. 4Nee, God het ons gekeur en die evangelie aan ons toevertrou, en so verkondig ons dit dan ook. Ons wil nie die guns van mense probeer wen nie, maar doen wat God verwag, Hy wat ons diepste gedagtes toets.

5Met vleitaal het ons ons nooit opgehou nie, soos julle trouens weet. Hebsug was nooit ons verborge motief nie; daarvan is God ons getuie. 6Ons het nooit daarna gestreef dat mense ons sou eer nie, of dit nou julle of ander is 7al kon ons as apostels van Christus allerhande eise aan julle gestel het. Ons was liefdevol en sag teenoor julle soos ’n ma wat haar kinders vertroetel. 8So geheg is ons aan julle dat ons nie net die evangelie van God aan julle gegee het nie, maar ook ons lewe vir julle sou wou gee, want ons het julle lief gekry.

Matteus 22:34-46

Die vraag oor die grootste gebod
(Mark 12:28–34; Luk 10:25–28)
34Toe die Fariseërs hoor dat Jesus die Sadduseërs die mond gesnoer het, het hulle bymekaargekom, 35en een van hulle, ’n wetgeleerde, het Hom met ’n vraag probeer vastrek. 36“Meneer,” vra hy, “wat is die grootste gebod in die wet?”

37Jesus antwoord hom: “‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ uen met jou hele verstand. 38Dit is die grootste en die eerste gebod. 39En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ v40In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat.”

Die vraag oor die Seun van Dawid
(Mark 12:35–37; Luk 20:41–44)
41Toe die Fariseërs bymekaar was, vra Jesus vir hulle: 42“Wat dink julle van die Christus? Wie se seun is Hy?”
“Dawid s’n,” antwoord hulle Hom.
43Hy sê toe vir hulle: “Waarom het Dawid deur die ingewing van die Gees Hom dan ‘Here’ genoem? Hy sê tog:
44‘Die Here het vir my Here gesê:
Sit aan my regterhand
totdat Ek jou vyande aan jou
onderwerp het.’ w
45As Dawid self Hom ‘Here’ noem, hoe kan Hy dan Dawid se seun wees?”
46Niemand kon Hom daarop iets antwoord nie. Van dié dag af het niemand dit meer gewaag om Hom ’n vraag te stel nie.

Fokusteks

Levitikus 19:1-2, 15-18
Ek is die Here julle God

19 Die Here het vir Moses gesê: 2“Praat met die hele gemeente Israel en sê vir hulle: Wees heilig, want Ek die Here julle God is heilig. 3Elkeen van julle moet eerbied hê vir sy ma en sy pa. Julle moet my gebooie oor die sabbat gehoorsaam. Ek is die Here julle God. 4Julle mag nie afgode dien nie en julle mag nie vir julle afgodsbeelde maak nie. Ek is die Here julle God.

5“Wanneer julle ’n maaltydoffer vir My, die Here, slag, moet julle dit so doen dat julle vir My aanneemlik is: 6julle moet die vleis eet op die dag wanneer julle slag, of hoogstens die volgende dag. Wat oorbly tot die derde dag, moet verbrand word. 7Wie daarvan op die derde dag eet, eet iets onreins. Dit is nie vir My aanneemlik nie. 8Wie daarvan eet, is skuldig, want hy ontheilig wat aan die Here gewy is. So iemand sal van sy volksgenote afgesny word.

9“Wanneer julle julle lande afoes, moet julle nie die wenakkers afoes nie en ook nie die are wat bly lê, agterna optel nie. 10Julle moet ook nie die wingerde ’n tweede keer oes of die korrels wat val, optel nie. Laat dit alles bly vir die armes en die vreemdelinge. Ek is die Here julle God.

11“Julle mag nie steel nie en julle mag nie lieg of mekaar bedrieg nie. 12Julle mag nie ’n vals eed aflê in my Naam en so die Naam van julle God ontheilig nie. Ek is die Here.

13“Jy mag nie jou naaste uitbuit of hom beroof nie. Jy mag nie ’n dagloner se loon terughou tot die volgende dag nie. 14Uit eerbied vir jou God mag jy nie ’n dowe vloek of ’n hindernis in die pad van ’n blinde lê nie. Ek is die Here.

15“Jy mag nie onregverdig wees in die regspraak nie: jy mag nie partydig wees vir dié wat geen aansien het nie of die vooraanstaande bevoordeel nie. Oordeel regverdig oor jou naaste. 16Jy mag nie loop en skinder nie, jy mag nie jou medemens se lewe in gevaar stel nie. Ek is die Here.

17“Jy mag nie haatdraend wees teenoor jou volksgenoot nie, maak die geskil openlik met hom uit, moenie wat hy verkeerd gedoen het, teen hom bly hou nie. 18Jy mag nie wraak neem of ’n grief koester teenoor jou volksgenoot nie, jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is die Here.

19“Julle moet my voorskrifte gehoorsaam. Moenie verskillende soorte diere kruis of verskillende soorte saad in een land saai of ’n kledingstuk van verskillende soorte materiaal dra nie.

20“Wanneer die eienaar van ’n slavin reeds ’n ooreenkoms aangegaan het waarvolgens iemand anders haar as byvrou koop, en die eienaar het met haar gemeenskap voordat die prys betaal is en voordat hy van haar afstand gedoen het, moet hy aan die toekomstige eienaar skadevergoeding betaal. Hulle mag nie die doodstraf opgelê word nie, want hy het nog beskikkingsreg oor haar. 21Verder moet hy as skuldoffer vir die Here ’n ram bring na die ingang van die tent van ontmoeting toe. 22Die priester moet met die skuldofferram vir die eienaar van die slavin versoening doen by die Here oor die sonde wat gedoen is. Die sonde sal dan vergewe word.

23“Wanneer julle julle in die land vestig en allerhande soorte vrugtebome plant, mag julle drie jaar lank glad nie die vrugte pluk nie. Die vrugte is vir julle verbode. Dit mag nie geëet word nie. 24Die vierde jaar moet al die vrugte as ’n gawe van dankbaarheid aan die Here gewy word. 25Van die vyfde jaar af mag julle die vrugte gebruik. Julle sal dan goeie opbrengste hê. Ek is die Here julle God.

26“Julle mag nie aan heidense offermaaltye deelneem nie. Julle mag nie waarsêery en towery beoefen nie. 27–28Julle mag nie heidense rougebruike navolg deur die hare voor die ore en die wangbaard te knip of deur snye en tatoeëermerke op julle liggame te maak nie. Ek is die Here.

29“Niemand van julle mag sy dogter die skande aandoen om haar ’n tempelprostituut te laat word nie. Dit lei tot hoerery en afskuwelike sondes in die land. 30Julle moet my gebooie oor die sabbat gehoorsaam en eerbied hê vir my heiligdom. Ek is die Here. 31Moenie hulp soek by geeste of waarsêers nie. Dit sal julle onrein maak. Ek is die Here julle God.

32“Uit eerbied vir jou God moet jy eerbied bewys aan oumense en hulle met respek behandel. Ek is die Here.

33“Wanneer daar ’n vreemdeling by julle in julle land woon, mag julle hom nie onderdruk nie. 34Julle moet hom soos ’n medeburger behandel en hom liefhê soos julleself. Julle was immers self ook vreemdelinge in Egipte. Ek is die Here julle God.

35“Julle mag nie bedrog pleeg wanneer julle meet of weeg of inhoud bepaal nie. 36Julle moet ’n betroubare skaal en die regte gewigte en inhoudsmate gebruik. Ek is die Here julle God wat julle uit Egipte laat wegtrek het. 37Gehoorsaam al my voorskrifte en bepalings en leef daarvolgens. Ek is die Here.”

Liturgie

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Lied 175 “Majesteit vs 1”

Aanvangswoord
Here, U was vir ons ’n toevlug
van geslag tot geslag.
2Voordat die berge gebore is,
voordat U die wêreld voortgebring het,
ja, van ewigheid tot ewigheid
is U God! (Ps 90)

Seëngroet
Aan die gemeente van ……………………………., wat aan God die Vader en die Here Jesus Christus behoort.
Genade en vrede vir julle! (1 Tess 1)

Lied 213 “Kom volk van God verhef jul stem 1, 2”

Verootmoediging: Fokusteks as selfondersoek
Levitikus 19:1-2, 15-18

Ek is die Here julle God
19 Die Here het vir Moses gesê: 2“Praat met die hele gemeente Israel en sê vir hulle: Wees heilig, want Ek die Here julle God is heilig.

15“Jy mag nie onregverdig wees in die regspraak nie: jy mag nie partydig wees vir dié wat geen aansien het nie of die vooraanstaande bevoordeel nie. Oordeel regverdig oor jou naaste. 16Jy mag nie loop en skinder nie, jy mag nie jou medemens se lewe in gevaar stel nie. Ek is die Here.

17“Jy mag nie haatdraend wees teenoor jou volksgenoot nie, maak die geskil openlik met hom uit, moenie wat hy verkeerd gedoen het, teen hom bly hou nie. 18Jy mag nie wraak neem of ’n grief koester teenoor jou volksgenoot nie, jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is die Here.

Skuldbelydenis: < strong>Outeur: Richard Foster
Here God
Ek sit hier voor u met gemengde emosies en motiewe.
Ek verstaan myself nie aldag nie.
Die een oomblik aanbid ek U;
die volgende oomblik swaai ek my vuiste hemelwaarts en vra ek: “Waar is U?”
Die een oomblik help ek my medemens met alles in my;
die volgende oomblik kom ek iemand te na.
Die een oomblik gun ek my buurman die beste en kry ek hom jammer dat hy swaarkry;
die volgende oomblik is ek jaloers as dit met hom begin goed gaan.
Ek weet nie aldag wie ek is nie.
Maar Here, wie ek ook al is, ek weet dat ek U s’n is.
En ek dank U dat u my aanvaar, met al my teenstrydighede en komplekse mengsel van motiewe.
Daarom sal ek nie voor u sit en voorgee wat ek nie is nie, maar myself voor u oopstel.
Daarom sal ek ook nie weghardloop van u teenwoordigheid nie, omdat ek weet: in u teenwoordigheid word ek gesond.
Lê u vaderhande op my en op ons en seën my, seën ons.
Amen.
Uit: Gebedeboek met liturgiese voorstelle: Saamgestel deur die Sinodale Eredienskommissie van die Oos-Kaap Sinode van die NG Kerk

Matt 22 as riglyn om te leef
37Jesus antwoord hom: “‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ uen met jou hele verstand. 38Dit is die grootste en die eerste gebod. 39En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ v40In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat.”

Lied 176 “Halleluja, U is Koning vs 1” of
Lied 284 “Laat Heer U vrede deur my vloei 1,2,3”

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Here, U is die Gewer van alle goeie dinge.
Laat ons vandag luister na u Woord met die liefde van Jesus Christus.
Laat sy liefde in ons lewe oorspoel in genade, gehoorsaamheid en opregte liefde vir alle ander mense.

Amen.
(Uit Preekstudies en Liturgiese voorstelle, 2011: 284)

Skriflesing: Levitikus 19:1-2, 15-18

Prediking

God stuur ons om te leef

Gebed

Geloofsbelydenis (Outeur onbekend)
Ek glo dat God my Vader is
en dat my Vader
die almagtige Skepper van hemel en aarde is.
Ek glo dat Jesus Christus my enigste Koning is,
dat Hy gesterf het sodat my sonde vergewe kan word;
dat Hy uit die dood opgestaan het sodat ek ‘n nuwe lewe kan leef;
dat Hy opgevaar het na die hemel om vir my by die Vader in te tree;
en dat Hy weer terugkom om alles volkome nuut te maak.
Ek glo dat die Heilige Gees aan my gegee is om my in die volle waarheid te lei
en my aan God gehoorsaam te maak.
Ek glo dat ek in Christus deel is van die kerk
en dat alle gelowiges my broers en susters is
saam met wie ek in liefde moet leef as die huisgesin van God.
Ek glo dat ek in Christus
‘n kind van God geword het,
die ewige lewe ontvang het
en eendag uit die dood sal opstaan
om vir ewig in God se teenwoordigheid te lewe.
Amen
(Uit Gebedeboek met liturgiese voorstelle: Saamgestel deur die Sinodale Eredienskommissie van die Oos-Kaap Sinode van die NG Kerk)

Wegsending: Lied 524 God roep ons om met woord en daad 1,2,3

Seën
2 Korintiërs 13:13 ()
13Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees.

Musikale Amen: Lied 314

Jesus stuur ons uit en ons kom tot rus

Rus

Liedere

F41. “Beeld Van God”
(RUBRIEK: Jeuglied/Flammikidz – Lof)
Teks en Musiek:Braam Hanekom
© 1998 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op FLAM, vol 1)

1. Jou lewe is ‘n lofgedig, geskryf tot Sy eer.
Sorgvuldig elke woord gekies, soos die reënboog se kleur.
Jy’s beplan in die hemel, verteenwoordiger van God.
Sorgvuldig aan mekaar geweef om te leef met een gebod.

Refrein:
Mag jy omgee en liefhê en so sy beeld uitdra
in ‘n wêreld wat verward is en na ware liefde vra.
Mag jy omgee en liefhê en so sy Naam vereer
by almal wat op soek is na die antwoord op hul seer.

2. Jy’s gebore in die wêreld, maar gemaak vir ‘n paradys,
om te lag en te lewe, soos ‘n prins in ‘n paleis.
So waarom dan die sonde waaraan jy so bly klou,
wat steeds Sy beeld vernietig en jou vreugde stukkend kou?

Refrein:

3. Onthou, jy’s ‘n beeld van God wat kan skitter soos kristal
om die wêreld te herinner daar’s ‘n God in die heelal.
Kom dan nou en vat Sy hand en leef soos sy kind
wat Hy self gemaak het, en jy sal vreugde vind.

Refrein:

God praat met ons en ons luister

Familie-oomblik

In aansluiting by die tema (Ons sosiale verhoudinge weerspieël God se heiligheid) die volgende suggestie.

In die preekskets kom die volgende na vore: Vandag word aanvaar dat “heilig” eerder afgelei is van die Hebreeuse woord vir “skitter” of “blink.”  Die Heilige God straal ‘n verblindende glans uit, God is totaal anders.

Kom ons gesels met die kinders oor lig en kleur. Sluit dan die gesprek af met praktiese toepassings wanneer God se kinders blink/ skitter in ons omgang met ander mense (nav die fokusteks).

  • Ons belangrikste bron van lig is die son.
  • Hierdie lig kan direk in ons oë ingaan, of weerkaats word en stel ons in staat om ons wêreld te herken.
  • Lig beweeg teen 300 miljoen meter per sekonde.
  • Met goeie lig en die gebruik van albei oë kan ‘n mens soveel as 10 miljoen verskillende kleure onderskei- meer as enige masjien wat al ontwerp is.
  • Waarom is die lug bokant ons blou? Piepklein deeltjies in die lug laat sonlig in alle rigtings spat wanneer dit deur die aarde se atmosfeer dring. Die deeltjies versprei blou lig beter as rooi, geel of groen!
  • In die aand trek sonlig verder deur die atmosfeer sodat groen en geel lig meer versprei word terwyl rooi en oranje lig deurkom- vandaar die ander kleure van die sonsondergang.
  • Wanneer wit sonlig op reëndruppels val, funksioneer die druppels soos ‘n prisma en word die kleure verdeel en weerkaats. Vandaar ‘n reënboog met die mooiste kleur.

Inkleurprent van ‘n reënboog.

  • Ons sien meeste dinge rondom ons danksy weerkaatsings (baie min dinge gee eie lig af). Heiligheid het ook te doen met weerkaatsing van God se lig wat eers in ons lewens inskyn en dan uit ons weerkaats na ander met wie ons te doen kry.

Bron: Die groot geïllustreerde Ensiklopedie: Human en Rousseau, 1996.

Preekriglyn

Die Here onderrig sy volk: “Wees heilig, want Ek die Here julle God is heilig.”

Mens wonder hoe Christene hierdie opdrag hoor?  Wat beteken dit om heilig te wees?

Die meeste Amerikaners beskou hulself nie as heilig nie, sê ‘n opname deur die Barna Groep in 2006.  Drie uit vier volwasse Amerikaners meen dit is moontlik vir iemand om heilig te word, ongeag hul verlede.  Slegs die helfte ken egter iemand wat hulle as heilig beskou.  Net 21% Amerikaners beskou hulself as heilig.

Amerikaanse Christene se beskouinge verskil nie veel van die breë bevolking nie.  Die persentasies is marginaal hoër onder Christene.  So beskou net 29% van Christene hulself as heilig.  Volgens Barna weet die meeste Amerikaners nie regtig wat om van heiligheid te dink of te maak nie.  Amerikaners is clueless oor heiligheid.  (“The Concept of Holiness Baffles Most Americans,” barna.org, Februarie 2006)

Meeste Christene het baie spesifieke idees en prentjies oor heiligheid.  Mens kan vreeslik mistas as jy jou eie prentjie oor heiligheid onkrities in God se opdrag tot heiligheid inlees.  Dalk is ons ook soos die Amerikaners wat nie regtig weet wat om met heiligheid te maak nie.

God is heilig

Ons teks kom uit ‘n gedeeltes in Levitikus wat as die Heiligheidsversameling bekendstaan, Levitikus 17-26.  Die tema is deurgaans dat Israel heilig moet wees soos die Here (Jahweh) heilig is.  Hoofstuk is die kern hiervan, amper soos die tien gebooie op ander plekke die kern van wetsversamelings is (bv. Eksodus 20 en Deuteronomium 5).

Ons teksgedeelte beklemtoon nie wette wat strafbaar is nie.  Dit spreek die basiese gedragspatrone en gesindhede aan waarmee ons lewe, eerder as wette waaraan strawwe gekoppel kan word.  Geleerdes noem hierdie gedeelte daarom ‘n “kategismus,” ‘n positiewe riglyn tot die lewe.  Daarom begin die gedeelte met die positiewe oproep: “Wees heilig, want Ek die Here julle God is heilig.”  Deurgaans bly die toonaard op die positiewe fokus.  Ons word gehelp om ‘n lewe te lei wat by die heiligheid van die Here God pas.

Wat heiligheid nie is nie

Ons mag baie vooropgesette idees oor heiligheid hê.  Soos die Amerikaners mag ons dalk meer clueless wees as wat ons dink.  Baie van ons dink aan heiligheid as afsondering.  Vroeër het geleerdes die Hebreeuse woord vir heilig afgelei van ‘n woord vir “afsny” of “afsonder”.  Die gevolgtrekking was dat heiligheid berus op afsondering.  Israel moes dikwels heidense praktyke vermy om heilig te bly, wat hierdie teorie aantreklik maak.

Mense wat wil moraliseer kan baie morele myle uit hierdie soort uitleg kry.  Ons word dan opgeroep om ons af te sonder van die wêreld.  Ons moenie drink nie, rook nie, dans nie, vloek nie ….  So ‘n afsonderingsmoraliteit verskraal die reikwydte van ons Christelike roeping.  Dis goed om nie te vloek nie, en so aan, maar die Christelike lewe op grond van God se heiligheid gaan veel verder as ‘n paar moraliserende eise.  Dit blyk duidelik uit ons teks.

Ons moet dus versigtig wees, skryf Douglas Lawrie, om nie alte lekker dié gedeelte te gebruik om oor “die morele krisis in ons land te praat” en dan die modder lustig in alle rigtings te laat spat nie.  Ons kan modder in baie rigtings gooi, sonder dat die modder op die predikant en die gemeente spat.  Daarmee word ons niks heiliger nie, maar inderdaad heelwat skynheiliger.

Waarmee het heiligheid te doen?

Let op dat die oproep tot heiligheid aan die adres van God se volk gerig word.  Dis ons wat opgeroep word om heilig te lewe.

Vandag word aanvaar dat “heilig” eerder afgelei is van die Hebreeuse woord vir “skitter” of “blink.”  Die Heilige God straal ‘n verblindende glans uit, God is totaal anders.  God vra van ons om totaal anders te lewe.  Die woord daarvoor is heilig.  Laat ons versigtig wees om nie te veel uit ‘n woord se oorsprong af te lei nie.  Heiligheid as afsondering pas nie by die Bybelteks nie.  Die punt is dat die heilige God juis nie “afgesonder” gebly het nie.  God se heiligheid weerhou God nie daarvan om die wêreld te betree en God se heerlikheid aan mense te openbaar nie.

Wat gebeur met God se mense wat heilig is soos God heilig is?  Wat gebeur met mense wat die heerlikheid van God sien en uit hierdie heerlikheid lewe?

Die teks spel ons heiligheid as ‘n diepe, fundamentele sosiale betrokkenheid uit.  “Wees heilig” het onder andere – oorsigtelik gesê – te doen met:

  • Eerbied vir gesagsfigure (3)
  • Voldoende rus en ‘n fokus op toewyding aan die Here (Sabbat, afgodsbeelde) (3, 4)
  • Laat ‘n deel van die oes op die land agterbly sodat die armes en die vreemdelinge kan lewe (9-10);
  • Moenie steel, bedrieg of vals ede aflê nie – jaag geregtigheid na (11-12)
  • Uitbuiting, roof, onregverdige arbeidspraktyke en struikelblokke vir liggaamlik gestremde mense tas die eer van God aan (13-14)
  • Hou geregtigheid in die regspraak in stand (15)
  • Beskerm jou medemens met woord en daad (16)
  • Dink baie prakties oor hoe naasteliefde die verhoudinge tussen jou en jou medemens vorm (17)

Mens sou die lysie nog langer kon maak, na aanleiding van die res van die hoofstuk.

Die ontdekking is dat die heiligheid van God se mense, op grond van die heiligheid van God, uitspeel op die terrein van interpersoonlike en inter-groep verhoudinge.  Heilige mense is mense wat anders onder mekaar en anders in die groter wêreld van die samelewing lewe.  God se volk dóén anders, want hulle het die heerlikheid van God gesien.

Heiligheid trek ons nie in ‘n dieper, geïsoleerde binnekamer-verhouding met God in waar ons bloot diepe geestelike belewenisse met God het nie.  Dit óók ja.  Maar heiligheid stuur ons ook die wêreld in, waar ons anders lewe.  Heiligheid laat ons die risiko loop om ons geloof in die publieke lewe uit te leef.  Dit raak enersyds ons indiwiduele lewe.  Dit raak andersyds ook die inisiatiewe wat ons as geloofsgemeenskappe neem om ‘n heilige teenwoordigheid in die wêreld te handhaaf.  Heiligheid vra individuele en kollektiewe aksie.

Voorbeelde van heiligheid

Na aanleiding van verse 15 tot 18 moet ons as gemeente dink oor wat dit prakties beteken om heilig te lewe.  Dink deurgaans daaraan dat heiligheid nie met ons private lewe alleen te doen het nie, dit het veral met ons publieke lewe te doen.  Dit het met die kollektiewe, gesamentlike publieke lewe van lidmate, maar veral die gemeente self, te doen.

Een:  Regverdig in die regspraak
Vers 15 roep ons op om regverdig in die regspraak te wees.  Ons mag nie partydig vir die minderbevoorregte wees, of die vooraanstaande bevoordeel nie.  Ons moet regverdiglik oordeel.

Daar is van ons wat in die regsberoep ons brood verdien: prokureurs, advokate, landdroste, regters.  Ander van ons het regsverteenwoordigers en gee instruksies aan hulle om namens ons op te tree.  Sommige van ons stel eise teen ander in, of moet antwoord op aanklagte wat voor ons deur gelê word.  Ons verbintenis aan ‘n heilige God het alles hiermee te doen.  Die versoeking vir ons is om ons lewe in kompartemente in te deel en te dink die reëls op die gebied van regspraak werk anders as op die “terrein” van geloof.

God se beroep op ons is om God se karakter uit te leef ook wanneer ons regte ter sprake kom.  Dis nie in orde om jou uit die juridiese konsekwensies van jou optrede met leuens en blamering van ander uit te wikkel nie.  Daar is te veel braaivleisvuurstories van mense wat ander benadeel het en toe “skotvry” daarvan afgekom het.  Daar is te veel dreigemente om ander “kaal uit te trek.”

God trek niemand voor nie.  Hoe is dit dan dat mense graag buig voor die maghebbers, diegene wat my lewe kan bevoordeel, maar skielik minder tyd of aandag oor het vir diegene wat my nie kan bevoordeel nie.  Die omgekeerde is ook waar.  Ons mag ook nie dié sonder aansien bevoordeel bloot omdat hulle nie aansien het nie.  Mense speel graag “victim,” menende dat hulle dan bevoordeel moet word.  Die regstel van onreg is een ding, maar om jouself as “victim” te posisioneer mag ‘n ontkenning van jou eie verantwoordelikheid wees.  Dan pas dit nie by die heiligheid wat in ewewigtige oordele gevra word nie.

Die meeste van ons is sekerlik nie regspraktisyns nie.  Maar ons fel elke dag oordele oor ander.  Ons luister na die klagte van ‘n buurman oor ons hond wat te veel blaf.  Ons moet reageer op ‘n tuinwerker wat nie kan kom werk nie.  Ons moet die baas se pleidooi vir hoër produktiwiteit beoordeel en besluit of ons ons samewerking heelhartig gaan verleen, en of ons met passiewe aggressie die sisteem gaan dwarsboom.  In al hierdie oordele moet ons regverdig wees.

God se reg is baie meer genadig as wat ons dink.

In die rolprent, The Interpreter, vertel die hoofkarakter van ‘n Afrika-stam wat moord op ‘n baie besondere manier hanteer.  Eers word daar vir ‘n jaar gerou.  Aan die einde van die jaar word die moordenaar met ‘n boot na die middel van die meer geneem.  Hy is vasgebind en word in die water gegooi, waar hy sekerlik gaan verdrink.  Nou het die familie van die vermoorde ‘n keuse.  Hulle kan die veroordeelde red, waarna hy vry is.  Of hulle kan hom laat sterf.  Laat hulle hom sterf, het hulle geregtigheid gekry, maar hulle is vir altyd vasgeknoop aan hulle rou.  As hulle hom red, en erken dat genade reg aan geregtigheid laat geskied, is hulle vry van die rou en kan hulle hul lewe voortsit.

Ons leer by hierdie stam dat die regte verstaan van geregtigheid daarmee rekening hou dat die lewe inherent onregverdig is, maar dat God se geregtigheid ruimte, spasie, vir mense skep om asem te haal en te lewe.  Deur ons geregtigheid gee ons dan ook aan ander lewensruimte.

Twee: Woorde is gevaarlik
God se heiligheid vra van ons om nie te skinder en ander se lewe in gevaar te stel nie.

Mens wonder hoeveel mense al deur “mob justice” doodgemaak is, bloot omdat iemand oor hulle begin skinder het op ‘n manier wat die slagoffer onskuldig verbind het aan kriminele dade.  Skinder kan lewens in gevaar stel, of mense doodmaak.

Skinder skep stereotipes van mense of groepe.  “Die Somaliërs is sus of so.”  “Die buitelanders vat ons werk, palm al ons grond in.”  Kort voor lank breek xenofobie uit en sterf mense wreedaardig.

Die krag van woorde wat werklikhede skep, wat nie reg aan die feite en die medemens se menswaardigheid voor God doen nie, kan nie onderskat word nie.

Die digitale era en sosiale netwerke gee aan ons skinder nuwe impetus.  Ons kan mense beskinder op maniere wat skindertonge van weleer groen van jaloesie sal laat word.  Hoe meer mag mens het, hoe meer verantwoordelikheid moet jy daarvoor neem.  God is heilig.  Daarom moet ons heilig wees.

Nog ‘n voorbeeld van die mag van woorde is die onlangse vervolging van Fred van der Vyver vir die beweerde moord op sy meisie.  Uit regspraak het geblyk dat getuienis gefabriseer is om hom aan die pen te laat ry.  Mens kan hierdie voorbeelde opstapel.  ‘n Italiaanse appèlhof het Amanda Knox op 3 Oktober 2011 onskuldig bevind aan die moord op haar kamermaat, nadat sy vroeër skuldig bevind is en 4 jaar van ‘n vonnis van 26 jaar daarvoor in die tronk was.  Onafhanklike kundiges het die hantering van DNA-monsters in die Italiaanse regsproses bevraagteken.

Terug by skinder.  Dit fel ‘n oordeel oor die medemens, en kommunikeer hierdie oordeel op so ‘n manier dat die slagoffer weerloos, of feitlik weerloos, teen die aanslag is.

Drie: Liefde, versus haat, wrokke en griewe
God se heiligheid vra van ons om nie wrokke te koester, wraak te neem, of haatdraend te wees nie.

Dit laat my dink aan die verhaal van Flippie wat die aand by die huis kom en nie ‘n goeie woord vir sy maatjie Danie te sê het nie.  Hy skel op Danie, en sê dié klein swerkater sien hom nooit weer nie.  Hy gaan ook nie weer daar speel nie, en Danie sit nooit weer sy voete in hierdie huis nie.  Die gesin laat hom maar stoom afblaas.  Flippie sê hy weet hy het al baie oor Danie geskel, maar hierdie keer is hy doodernstig.  Sy huismense weet nie lekker wat om te maak nie, want hulle sal klein Danie se gereelde kuiertjies mis.  Hy is eintlik al soos ‘n kind in die huis.

‘n Rukkie later lui die voordeurklokkie.  Dis Danie.  Voor Flippie se familie hul oë kan uitvee, sit die twee maatjies saam en TV kyk.  Al wat hulle uit Flippie kan kry, is: “Kan Danie ook roomys kry, mamma?”

“Het jy dan niks bedoel van wat jy gesê het, Flippie?” vra sy ma geskok.  “Ja, alles!” En hy gluur in Danie se rigting.  “Maar ons is al twee groot vergeters!” (Uit: Stories vir die lewe – omnibus)

Dis die evangelie van God se heiligheid.  Dit maak ‘n plan met wrok en skuld, dit vergewe.

Verootmoediging

Wanneer mens God se heiligheid sien, is dit tyd om jouself te verootmoedig.  As verse 15 tot 18 in sy volle radikaliteit verstaan word, is ons opdrag prakties onuitvoerbaar. Ons moet as God se volk heilig wees; ons kan as mense nie heilig wees nie. Allerlei geestelike toertjies help ons nie.  Skynheiligheid help ons van die wal af in die sloot.  Dit dryf ons weer terug na die heilige God, nie as ontvlugting van ons medemens nie, maar as bron van nuwe moed en krag.

Wat beteken dit om heilig te wees soos God heilig is?  Amerikaners mag clueless wees, maar God gee duidelike riglyne in sy Woord.

Vir ons is Jesus die kern-openbaring van God se heiligheid.  In Hom het ons God se skitterende heerlikheid gesien; Hy is ons voorbeeld van heiligheid. By al die voorbeelde wat die eksodus bied (en wat by Jesus ook voorkom), kom nou ook die voorbeeld van opofferende liefde. Tog bevry Jesus ons ook van die opdrag om heilig te wees as las – Hy is ons heiligmaking. Wat bly dan oor van Levitikus 19? Die las het verdwyn, maar die strewe om skitterende mense te word, ware spieëlbeelde van ons skitterende God en ’n lig vir medemense wat ook geroep is om te skitter, bly steeds. Trouens, ons kan met nuwe hoop daarna strewe.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.