Negentiende Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Inleiding

Seisoen van die Skepping

Inleiding
Daar is wêreldwyd ’n toenemende besorgdheid by Christene oor die ekologiese krisis en oor die manier waarop mense misbruik maak van God se skepping. Dit het onder andere daartoe gelei dat daar in die viering van die kerklike jaar ook plek ingeruim word vir geleenthede om in die erediens en prediking te fokus op die skepping en die mens se Godgegewe roeping om na die skepping om te sien.

Ons voorstel is dat die Seisoen van die Skepping in 2010 oor vier Sondae gevier word, naamlik op 19 en 26 September en 3 en 10 Oktober. Dit bly egter ’n seisoen binne die oorkoepelende seisoen van Koninkrykstyd. Die fokustekste in die Leesrooster vir hierdie vier Sondae is tekste uit die twee Timoteusbriewe. Aangesien die fokusteks en ook die ander tekste vir die vier Sondae nie spesifiek met die skepping te doen het nie, word daar ’n lys van alternatiewe tekste aangebied wat net soos die Leesrooster ook ekumenies van aard is. Hierby aansluitend is daar vir elke Sondag ’n tema gekies: die oseane (19 September), die dierelewe (26 September), die storm (3 Oktober) en die kosmos (10 Oktober).

Belangrike fokuspunte vir dié seisoen:

  • die verering van God as die Skepper van alle dinge;
  • die viering van die aarde as planeet wat gevul word deur God se teenwoordigheid;
  • die belydenis van ons aandeel aan die misbruik en vernietiging van die skepping;
  • die verkondiging van Jesus as die kosmiese Christus wat die ganse skepping vernuwe;
  • die verantwoordelikheid om saam met Christus betrokke te wees by die genesing van die skepping.

Tydseie kenmerke
Kleure en simboliek
Blou, bruin, wit, groen en rooi

Enkele bykomende gedagtes om liturgiese kreatiwiteit te stimuleer:

  • Op elkeen van die vier Sondae kan agtereenvolgens simbole soos ’n glasbak met water, ’n erdebak met grond, ’n aantal brandende kerse en ’n massa wit blomme op die nagmaaltafel geplaas word.
  • Gedeeltes van die liturgie soos die begin of einde (of die volledige erediens) kan in die buitelug gevier word.
  • Indien ’n erediens spesifiek op bewusmaking van ekologiese probleme gemik is, kan daar swart sakke uitgedeel word met die versoek dat lidmate dit gedurende hierdie tyd sal gebruik om rommel in hulle omgewing op te ruim.
  • Herwinningshouers kan op die kerkterrein geplaas word sodat lidmate herwinbare afval daarin kan plaas. Dit kan baie sinvol as projek deur die kinders van die gemeente aangepak word.
  • Blomme en ander produkte van die natuur kan prominent vertoon word in die liturgiese ruimte, asook negatiewe beelde soos ’n uitgebrande stomp.
  • Inligting aangaande spesifieke projekte kan tydens ’n omgewingsdiens gekommunikeer word.

Feesdae
Assisidag (4 Oktober) wat sy oorsprong vind in die skeppingsfokus van die lewe en werk van Fransiskus van Assisi, val binne die seisoen van skepping en kan goedskiks op die voorafgaande of daaropvolgende Sondag deel uitmaak van die viering tydens die erediens. In verskillende kerke en kontekste word verskillende ander dae ook vir aspekte van die skepping gereserveer, byvoorbeeld die Wêrelddag vir water (22 Maart), Wêreldomgewingsdag (5 Junie), Boomdag (5 September) en Wêreldkosdag (16 Oktober).

Op soek na ekologiese deugde

Daar is meer en meer kerke, vanuit verskillende konfessionele tradisies regoor die wêreld, wat ’n Seisoen van die Skepping in Koninkrykstyd vier, veral in die tyd na 1 September elke jaar. Dit volg op ’n voorstel in die verband van die Ekumeniese Patriarg Dimitri I van die Ortodokse kerk in 1989. In ’n aanbeveling van die Sentrale Komitee van die Wêreldraad van Kerke na aanleiding van die Wêreld-beraad vir Volhoubare Ontwikkeling (Johannesburg 2002) word kerke ook aangemoedig om 1 September elke jaar af te sonder as ’n dag van gebed vir die skepping en volhoubaarheid. Sedertdien het kerke in Australië, Nieu-Seeland, die Filippyne en die VSA gekom met inisiatiewe om liturgiese materiaal te ontwikkel vir só ’n Seisoen van die Skepping (sien www.seasonofcreation.com). Die European Christian Environment Network nooi insgelyks alle kerke in Europa uit om ’n “Time for Creation” in die tydperk van 1 September tot die tweede Sondag in Oktober te vier. Die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke het in Februarie 2007 ingestem dat ’n Seisoen van die Skepping by die kalender toegevoeg word en die Network of Earthkeeping Christian Communities in South Africa het ook reeds hierdie voorstel ondersteun. So ’n Seisoen van die Skepping, saam met die viering van Omgewingsondag (6 Junie 2010) en verskeie ander kerklike feesdae, kan kerke in Suid-Afrika inderdaad help om hierop te fokus.

God se groot werk met die aarde kan verwoord word onder die temas van skepping, geskiedenis, sonde, God se sorg, verlossing, kerk en sending, en voleinding. In die Seisoen van die Skepping staan ons, heel gepas in Koninkrykstyd, stil by die tema van die skep­ping. God se skepping is lank verstaan as bloot die verhoog waarop die drama van verlos­sing tussen God en mens afspeel. Die ekologiese krisis het ons gehelp om met nuwe oë te kyk na God se gawe van die skepping, na die gevolge van die mens se sonde vir die skep­ping en na die verlossing van die skepping, saam met die mens.

Daar is talle gedeeltes in die Bybel wat met God se skepping te make het. Hier kan ’n mens dink aan geliefkoosde tekste soos Genesis 1, 2 en 9, Psalm 8, 19 en 104, Jesaja 40-66, gedeeltes uit Jesus se bergrede, Romeine 8, Kolossense 1 en Openbaring 21. Daar is egter nog veel meer as dit ter sprake. Wanneer jy die Bybel lees met ’n lens wat jou sensitief maak vir verwysings na dit wat aards is, ontdek jy gou-gou dat die Bybel tot barstens toe daarvan vol is. Dit help jou om te sien dat daar op elke bladsy van die Bybel gepraat word van berge en heuwels, lig en lug, grond en water, riviere en die see, wind en vuur, lewe en sterwe, plante en bome, diere en voëls, en ook oor die mens. Dit gaan nie net hier oor iets interessants wat die Bybel byvoorbeeld oor bome te sê het nie. Elkeen van hierdie temas kan ons help om die hele boodskap van die Bybel vanuit ’n ander oogpunt te verstaan – juis omdat die hele drama van skepping, sonde, verlossing en voleinding óók (bv) met bome te make het. Heel dikwels, as mense dit nie wil doen of verstaan nie, is dit berge of bome wat God se Woord bring. Ons sou daarom kon sê dat elkeen van hierdie temas ons kan help om vanuit ’n nuwe hoek na die hart van die evangelie te kyk.

In die Seisoen van die Skepping sal ons elke jaar na een van hierdie temas kyk. In September / Oktober 2010 kyk ons veral na die rol van deugde, insluitende die sogenaamde ekologiese deugde. Daar word deesdae baie klem gelê op ’n herwinning van ’n deugde-etiek. Net so word die belangrikheid van ekologiese deugde soos matigheid, eenvoud, soberheid, sorgsaamheid en wysheid wêreldwyd beklemtoon. In al vier die teksgedeeltes uit Paulus se briewe aan Timoteus word die rol van deugde beklemtoon. Kyk byvoorbeeld na die rol van tevredenheid, toewyding en eerbaarheid in 1 Timoteus 2:2; na tevredenheid in 1 Timoteus 6:6, 8 (teenoor allerlei ondeugde) en minsaamheid in 1 Timoteus 6:11; na moed en selfbeheersing in 2 Timoteus 1:7; na verdraagsaamheid en volharding in 2 Timoteus 2:10-11. Elkeen van hierdie deugde kan ekologies ingeklee word, veral as ’n mens soek na ’n manier van lewe wat volhoubaar kan wees vir almal op aarde – want die lewenstyl van die verbruikersklas is net eenvoudig nie volhoubaar nie.

Die briewe aan Timoteus gaan egter nie net oor die belangrikheid van hierdie deugde nie. Dit is een ding om dit te beklemtoon, dit is ’n ander ding om dit ook te beoefen. Waar kan die inspirasie en energie daarvoor vandaan kom? In hierdie teksgedeeltes kom ’n mens op die spoor van die geheim van só ’n manier van lewe. Wat is hierdie geheim? In elkeen van die teksgedeeltes kom iets hiervan na vore: die krag van die opstanding, die blye boodskap, volkome toewyding aan God, kennis van die waarheid van die evangelie, getrouheid aan daardie waarheid teenoor dwaalleer, die genade­gawes wat God gee, die krag wat God ons gee, die betroubaarheid van die Woord en, miskien bo alles, die trou van God – aan gelowiges, maar ook aan God se hele skepping. Dit is alleen wanneer ’n mens deur die wonder van die evangelie oorweldig word dat hierdie deugde daaruit voortvloei.

Gemeentes word aangemoedig om hierdie tekste te bestudeer met die oog op die viering van ’n Seisoen van die Skepping, om te besin oor die betekenis daarvan vir hulle onmiddellike omgewing, om moontlikhede vir spesiale liturgiese geleenthede te ondersoek en om lidmate en groepe in die gemeente aan te moedig om tydens hierdie seisoen in die kerklike jaar by toepaslike vorms van omgewingsorg betrokke te raak.

Fokusteks

2 Timoteus 2:8-15

Ander tekste

Jeremia 29:1, 4-7;
Psalm 66:1-12;
Lukas 17:11-19

2 Timoteus 2:8-15
Die goeie soldaat van Christus
2 Jy dan, my seun, wees sterk deur die genade wat ons in Christus Jesus het. 2Wat jy my voor baie getuies hoor verkondig het, moet jy toevertrou aan betroubare manne wat bekwaam sal wees om dit ook aan ander te leer.

3Dra jou deel van die ontberings soos ’n goeie soldaat van Christus Jesus. 4’n Soldaat in aktiewe diens wat sy bevelvoerder tevrede wil stel, bemoei hom nie met die dinge van die gewone lewe nie. 5’n Atleet wat aan ’n wedstryd deelneem, kan die prys wen slegs as hy volgens die reëls meeding. 6Die boer wat die harde werk doen, behoort eerste ’n deel van die oes te kry. 7Dink na oor wat ek sê; die Here sal jou insig gee om alles te verstaan.

8Onthou altyd dat Jesus Christus, ’n nakomeling van Dawid, uit die dood opgewek is. Dit is die evangelie wat ek verkondig. 9Vir hierdie evangelie ly ek verdrukking, selfs in boeie soos ’n misdadiger, maar die woord van God kan nie geboei word nie. 10Daarom verdra ek alles ter wille van die uitverkorenes sodat ook hulle die verlossing, wat daar in Christus Jesus is, en die ewige heerlikheid kan ontvang. 11Dit is ’n betroubare woord:
As ons saam met Hom gesterf het,
sal ons ook saam met Hom lewe;
12as ons in die geloof volhard,
sal ons saam met Hom regeer;
as ons Hom verloën,
sal Hy ons ook verloën;
13as ons ontrou is—
Hy bly getrou:
Hy kan Homself nie verloën nie.

Die arbeider wat goedkeuring wegdra
14Hou aan om die gelowiges aan hierdie dinge te herinner en vermaan hulle ernstig voor God om op te hou stry oor woorde. Dit het geen nut nie en is net skadelik vir die hoorders. 15Lê jou daarop toe om jou tot beskikking van God te stel as ’n arbeider wat die goedkeuring van God wegdra, ’n arbeider wat hom vir sy werk nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid suiwer verkondig.

16Maar die onheilige en sinlose praatjies moet jy vermy, want dié wat dit versprei, sal nog verder in goddeloosheid verval, 17en hulle woorde sal voortvreet soos kanker. Onder hulle is daar Himeneus en Filetus, 18wat van die waarheid afgedwaal het deur te sê dat die opstanding alreeds plaasgevind het. Daarmee vernietig hulle die geloof van sommige. 19Nogtans, die hegte fondament wat God gelê het, staan vas met dié woorde daarop gegraveer:
“Die Here ken dié
wat aan Hom behoort,”
en:
“Elkeen wat sê dat hy
aan die Here behoort,
moet wegbreek
van die ongeregtigheid.”

20In ’n groot huis is daar nie alleen voorwerpe van goud en silwer nie, maar ook van hout en klei. Sommige is vir besondere gebruik en ander vir die alledaagse. 21As iemand hom van die kwaad gereinig het, sal hy ’n voorwerp vir besondere gebruik wees. Dan sal hy vir die eienaar afgesonder en bruikbaar wees, voorberei vir enige goeie diens.

22Vermy die begeertes wat ’n jongmens in gevaar bring, en streef na opregtheid, geloof, liefde en vrede, saam met almal wat uit ’n rein hart die Here aanroep. 23Moet jou nie met dwase en sinlose strydvrae inlaat nie, want jy weet tog dat dit net rusies veroorsaak. 24’n Dienaar van die Here moenie rusie maak nie. Inteendeel, hy moet vriendelik wees teenoor almal, bekwaam om ander te leer en iemand wat onreg kan dra. 25Met vriendelikheid moet hy teenstanders teregwys. Dit kan wees dat God hulle bekeer en hulle tot kennis van die waarheid bring. 26Dan sal hulle weer tot nugtere insig kom en vry raak uit die vangstrik van die duiwel, waarmee hy hulle gevange gehou het om sy wil te gehoorsaam.

Eksegeties en Hermeneuties

Die afgebakende teks vir vandag vorm in verskeie Bybelvertalings deel van twee afsonderlike perikope (v 1-13 en 14-26). Die opskrif bo vers 1 tot 13 in die NAV is “Die goeie soldaat van Christus”, en dié bo vers 14-26 “Die arbeider wat goedkeuring wegdra”. Smelik plaas vers 8-13 onder die opskrif “De zin van het lijden te getuigen” en vers 14-26 onder “De anticipatie”. Johnson bespreek vers 8-13 onder die opskrif “Jesus as Exemplar” en vers 14-21 onder “The Delegate as Proven Workman”. Verhoef se tema vir vers 1-13 is “Oproep aan Timotheus om vol te houden” en vers 14-26 “Timoteus moet zich niet in verwarring laten brengen door de dwaalleraars”. Hendriksen hanteer die twee gedeeltes onder die hoofde “Though this teaching brings hardship, it also brings great reward” (v 1-13) en “Vain disputes, on the contrary, serve no useful purpose” (v 14-26). Müller reken dat 2 Timoteus 2 in die breë gaan oor die eise van die bediening. Hy stel dit dat vers 1-13 oor selfdissipline handel en vers 14-26 oor die heiligheid in woord en wandel. Hultgren behandel vers 8-13 onder die opskrif “Charge to remember the Gospel and Its Apostle” en vers 14-19 onder die opskrif “Instructions for Tending the Congregation”.

Vergeer (Die Bybellenium) en Janse van Rensburg (Die Bybel A – Z) oordeel dat 2 Timoteus Paulus se testament is. Paulus maak hier, volgens Janse van Rensburg, soos wat die gebruik in eerste-eeuse testamente was, sy naderende dood bekend. Hy roep sy volgelinge na sy sterfbed toe, evalueer die karakter van verskillende persone, bespreek sy lewenstaak, maak uitsprake oor ’n donker toekoms, wys Timoteus as sy opvolger aan, waarsku en gee opdragte, stel sy vertroue in God en dra sy volgelinge aan God op. Paulus gryp ten slotte vooruit na ’n uiteindelike oorwinningsdag in die toekoms met die terugkeer van Jesus. Ons teks val dan onder die deel waarin Paulus terugdink (1:3-2:18), heel spesifiek aan sy eie evangeliebediening (2:8-18).

Vergeer werk die gedagte van ’n testament en veral Paulus se terugdink aan sy eie bediening in 2:8-18 meer breedvoerig uit onder die opskrif “Herinnerings aan die evangeliebediening”. Hy verdeel dié verse onder die opskrif “Die inhoud van die evangeliebediening” (v 8); “Die implikasie van die evangeliebediening” (v 9); “Die doel van die evangeliebediening” (v 10); “Die uitsig van die evangeliebediening” (v 11-13); en “Opdragte” (v 14-18).

Paulus verkondig ’n lewende Christus. Dis om hierdie rede dat vers 8 met die benaming “Jesus Christus” begin, anders as die gebruiklike “Christus Jesus”, in die res van hoofstuk 2 (Hendriksen). Die klem word geplaas op die mensheid van Jesus en dit word verder uitgebou met die uitdrukking “nakomeling van Dawid”. Die feit dat Hy uit die dood opgewek is (v 8) slaan weer op die Godheid van Jesus. Die opstanding is die sentrale punt waarom dit in Paulus se evangelieverkondiging gaan. Daarom is dit noodsaaklik dat Timoteus met hierdie waarheid sal rekening hou en vanuit hierdie werklikheid sal leef. Die geïmpliseerde troos en bemoediging vir Timoteus is: “As jy en ek en ander gelowiges met Hom gesterf het, sal ons ook met Hom leef. As ons volhard, sal ons ook met Hom regeer”.

Die implikasie van die bediening word geïllustreer in Paulus se eie posisie ten tye van die skrywe van die brief. Hy is die verkondiger van die bevryding van die evangelie, maar bevind hom in boeie. Evangeliedienaars beleef dikwels sulke teenstrydige implikasies as resultaat van hulle verkondiging. Hoe duidelik kom dit nie na vore in die skrywer se eie lewe en bediening nie! Hieruit behoort Timoteus te leer en moet hy weet dat God se werk dikwels juis op hierdie skynbaar teenstrydige manier werk. Daarom stel Paulus dit aan sy leser dat die evangelie hom in boeie laat, maar dat die Woord van God nie geboei kan word nie (v 9). Die owerhede het sy vryheid weggeneem, maar kan nie die vryheid van die Woord kerker nie. Verhoef meld dat (anders as bv in
1 Tim 4:5) die “Woord van God” nie dui op ’n bepaalde uitspraak nie, maar veel eerder staan vir die voller boodskap van God vir mense – die Woord van God soos wat Paulus dit verkondig. Die Woord is nie geboei nie en sal sy loop neem selfs al sit Paulus in boeie.

Die doel van die bediening behoort te wees om tot eer van God die liefde van Christus in jou lewe en leierskap sigbaar te maak. Dis om hierdie rede dat Paulus soveel stryd, teenkanting, teenspoed en lyding kan verdra
(v 10). Ten spyte van watter lyding dit vir hom mag bring, moet Timoteus ook hieraan getrou bly – hy mag die doel van die bediening nie versaak nie. Wat op die spel is, is die evangelieverkondiging en die daarmee gepaardgaande konsekwensies. Hierdie konsekwensies word in die tweede helfte van vers 10 eksplisiet genoem – die verlossing en die ewige heerlikheid. As gevolg daarvan kan Paulus volhou onder watter moeilike omstandighede ook al. Hy bly volhard omdat hy die uitverkorenes – hulle wat Jesus Christus as Heer bely – in die oog het (nie homself nie). Hy wil hê dat hulle deel moet kry aan die verlossing, dat hulle die evangelie moet hoor en dan nie daarná sal gaan twyfel net omdat hulle hulleself dalk in moeilike situasies mag bevind nie.

Vers 11-13 bestaan uit ’n himne wat sommige kommentatore reken in die eerste-eeuse kerk bestaan het. Verhoef is van mening dat die lied ingesluit word ten einde Timoteus te bemoedig. Vroeër het Paulus hom opgeroep om bereid te wees om lyding te verdra. Hy dink ook aan sy eie lyding en verklaar dan nou dat as ons met Christus sal sterf, ons ook met Hom sal lewe. Die ooreenkoms met die formulering in Romeine 6:8 is treffend. Paulus wil Timoteus voorberei op die moeilike omstandighede waarin hy hom dalk nog sal bevind.

Vergeer noem hierdie verse “Die uitsig van die evangeliebediening”. Die fokus is hier op die beloftes wat God vir die gelowige bestem. Die waarskuwing is daarop gerig om God nie te verloën nie. Hier word verwys na Matteus 10:32-33. Die groot troos is dat hier ’n onderskeid getref word tussen verloëning en ontrouheid. Ontrouheid is oomblikke van swakheid, foute en gebreke in jou bediening waaroor jy berou het. Verloëning weer, gaan oor doelbewuste, aanhoudende en beroulose ongehoorsaamheid aan God. Die goeie nuus is dat Christus getrou bly ondanks ons ontrouheid, aldus Vergeer.

Hendriksen onderskei twee interpretasiemoontlikhede vir vers 11. Die eerste een wys op die heerlikheid wat sal volg op die martelaarsdood. Hiervolgens sal iemand wat fisiek sterf ter wille van lojaliteit aan Christus, die eer van saamleef met die Here in die lewe hierna ontvang. Die ander moontlikheid het ook te make met die martelaarsdood, maar gaan meer oor die bereidwilligheid om te sterf aan die voorregte en voordele van aardse gemaklikheid, voordeel en eer, en dus uiteindelik die bereidheid tot pyn, marteling en die martelaarsdood op jou te neem. Indien ’n mens dan in daardie sin met Christus sterf, sal jy ook saam met Hom leef.

Daar is kommentatore wat meen dat vers 11-13 oorspronklik deur Paulus geskryf is, maar die meeste reken dat hy ’n bekende lied van vroeë Christene aanhaal, behalwe die laaste reël (“Hy kan Homself nie verloën nie”) as sy eie toevoeging. Hultgren reken dat hierdie siening korrek is, aangesien die woorde afwyk van die patroon in die voorafgaande reëls. Dit dien vermeld te word dat Hultgren verder meen dat die oorspronklike lied by doopgeleenthede gebruik is. In vers 12 word volgens hom verwys na die volharding van Christene in tye van vervolging. Om saam met Christus te regeer, beteken dat gelowiges sal deel in sy hemelse heerskappy. Vers 12b rig die waarskuwing dat, as die gedooptes Christus sou verloën, Hy dieselfde met hulle sal doen en sluit aan by die woorde in Matteus 10: 33, Lukas 12:9 en Markus 8:38. Vers 13a sou lees – indien dit parallel sou loop met die voorafgaande reëls – “As ons ontrou is, sal Hy ook ontrou wees”. So iets is egter ondenkbaar. Alhoewel gelowiges ontrou kan wees, bly God getrou. Dit is die goeie nuus in vers 11-13: dat Christus getrou bly ten spyte van ons moontlike en werklike ontrouheid. Die himne word deur Paulus gebruik om aan te toon dat die volharding van Paulus van elke Christen verwag word. Die “betroubare woord” is dan niks anders nie as ’n lied wat aan die geloofsgemeenskap bekend was en by doopgeleenthede gesing is, aldus Hultgren.

Daar is oor die algemeen eenstemmigheid in die geraadpleegde kommentare dat daar vanaf vers 14 sekere opdragte aan Timoteus gegee word. Volgens Vergeer het Paulus in die vorige deel herinnerings aan sy eie evangeliebediening aan Timoteus gegee as iets wat hy altyd moet “onthou” (2:8). Nou gee hy die opdrag dat Timoteus ook die gelowiges van Efese aan hierdie dinge moet herinner (2:14a). Ook gemeentelede moet dus duidelik weet waaroor dit in die evangeliebediening gaan. Dit gaan oor die verkondiging van die lewende Christus. Christus word lewend voorgestel deur dade van opoffering ter wille van die uitverkorenes en nie deur ’n gestry oor woorde, oor wie reg en wie verkeerd is nie (2:14b). Om die kern van die ware evangeliebediening by mense in te skerp, vra twee dinge: jy moet jou werk só doen dat dit die goedkeuring van God wegdra (v 15) en jy moet nie in argumente betrokke raak wat die geloof afbreek nie.

Saam met Paulus se brief aan Titus en die eerste brief aan Timoteus voltooi 2 Timoteus die drietal pastorale briewe. Die briewe is aan Paulus se twee medewerkers gerig en handel oor hulle dienswerk as herderlike versorgers in onderskeidelik Efese (Timoteus) en Kreta (Titus). Dit het te make met advies en leiding insake die organisering van die gemeente in die kerklike opset van die eerste eeu na Christus. In die konteks van die tyd word daar ook dringende waarskuwings teen enige onsuiwere leerstellinge gerig, asook hoe om dit te hanteer. Die pastorale briewe het implikasies vir die pastorale sorg in die gemeente. Dit het te doen met die geestelike opbou van die gemeente, die teenstand teen die dwaalleraars in die gemeente en hoe die gemeente (in die eerste eeu) georganiseer behoort te word.

Allan Boesak lewer op Hervormingsondag 1988, tydens ’n noodtoestand wat toe reeds drie jaar duur en waartydens onder andere verskeie kerkleiers en lidmate van kerke in aanhouding is, ’n boodskap uit 2 Timoteus 2:9. Die tema van die preek is “Die Woord van God is nie gebonde nie”, na aanleiding van die formulering in die OAV.

Vir hom staan twee dinge in die teks uit. Die eerste is dat Paulus (al weer) in die gevangenis is en die tweede dat hy die einde van sy lewe sien nader kom. Vir Paulus is die gevangenskap hierdie keer anders. Sy vriende kan hom nou nie meer soos vroeër kom besoek nie en die ontberinge wat hy moet verduur is harder as voorheen. Hy is ook nie meer so optimisties nie. Sy aanhouding is ’n direkte gevolg van die vervolging van die eerste-eeuse kerk, daarom moet Timoteus in daardie verskriklik vreesaanjaende tyd hoor dat die Woord van God nie gebonde is nie. Terwyl die gemeente emosioneel en fisiek ly, moet hulle hoor: Die Woord van God is nie gebonde nie. Hierdie oortuiging lê nie in Paulus se eie krag nie, maar in die getrouheid van die God van wie hierdie betroubare woord uitgaan.

In die preek word aangedui hoe die volk Israel aan die Woord van God kon vashou en uiteindelik die bevryding uit Egipte kon beleef. Die profete in die Ou Testament is male sonder tal in ’n posisie geplaas waar hulle standpunt moes inneem teenoor die hofprofete, die owerhede en konings van hulle tyd. So ook in die Nuwe Testament; Jesus, Petrus, Johannes en Paulus self. Tog kon hulle aan die profetiese woord getrou bly, omdat die Woord van God nie gebonde is  nie.

Binne die konteks van die dag, ag Boesak dit nodig om te onderskei tussen godsdiensvryheid en die vryheid van die Woord van God. Godsdiensvryheid is ’n saak waaroor ’n regering kan besluit (of hy dit sal toelaat of nie). Die vryheid van die Woord lê egter in die vryheid van God en omdat die vryheid van die Woord van God af kom, is daar by die magte van hierdie wêreld (by implikasie die apartheidsregering van destyds) ’n vrees vir die vryheid van die (profetiese) woord.

Hy gaan verder om hierdie vryheid te stel teenoor die kerklike tradisie voor die Hervorming, waar die pous die oppergesag in die kerk gehad het en diegene (soos Maarten Luther) wat die gesag van die pous sou uitdaag, geëkskommunikeer kon word. Luther se eie ervaring as priester was juis dat die destydse Rooms-Katolieke kerklike tradisie in praktyk die Woord van God bind of probeer bind. Hy het egter hard en duidelik “nee” gesê vir dié kerklike praktyk, want die Woord van God is nie gebonde nie, aldus Boesak. In die preek bemoedig hy dan die vervolgde kerk in Suid-Afrika om nie moed te verloor in die stryd teen apartheid nie, vanweë die vryheid van die Woord van God wat setel in die vrymagtigheid en oppermagtigheid van God.

In twee opeenvolgende dagstukkies skryf Ferdinand Deist eers oor vers 1-13 en daarna oor vers 14-26. Onder die tema “Om uit die genade te leef” meld hy dat Paulus vir Timoteus wil aanspoor om die evangelie selfloos te dien. Hy wil hê dat hy altyd sal bly glo dat die evangelie die krag het om mense se harte te wen, selfs al beteken dit gevangenskap vir die draers van die evangelie. Van Hom alleen kom die krag en deursettingsvermoë om die evangelie sonder vrees te dien. Die reëls van die evangelie is dat die evangelie eerste kom. Paulus moedig Timoteus aan om hom by die reëls van die spel te hou, al is die prys daarvan ook persoonlike verdrukking. Hiervan is Paulus ’n voorbeeld: Hoewel hy self in boeie geslaan sit, beteken dit nie dat die evangelie daardeur ook in boeie is nie. Omdat Paulus by die reëls gehou het, het die evangelie die wedloop gewen, het die Woord van God voortgegaan. Daarteenoor het die evangelie in die hande van Figelus en Hermogenes verloor. Deist sluit die dagstuk af deur aan sy lesers te vra of die evangelie saam met húlle wen of word hulle dalk gediskwalifiseer?

Die tema van die volgende dagstuk (v 14-26) is “Kerklike teregwysings”. Paulus vermaan Timoteus om nie betrokke te raak by kerklike twiste nie. Hy moet liewer op sy eie lewe let. Dis veel belangriker om deur God opreg en suiwer bevind te word as om deur mense “regsinnig” verklaar te word net omdat jy met hulle saamstem. Dis veel beter om ’n rein gewete voor God te hê as om deur mense aanvaar te word. Want dit kan gebeur dat jy deur ’n groep mense aangehang word en dat jy daardeur in die waan verkeer dat jy reg is. Intussen is jy egter besig om die evangelie te vervals en mense hulle hoop en uitsig op God te ontneem. Die taak van ’n evangeliedienaar is om mense se geloof in God te versterk, nie om dit te ondergrawe nie. Timoteus word aangeraai om nie met andersdenkendes te twis nie. Hy moet liewer vriendelik met sulke mense wees en bereid wees om geduldig te wees. Hy moet sy opponente met liefde teregwys, want dis langs hierdie weg dat daar ’n moontlikheid bestaan dat hulle deur God aangespreek kan word.

Deist sluit af deur te sê dat alleen liefdevolle teregwysing ’n kanaal skep waardeur nugterheid kan terugkeer in kerklike gesprekke. Hy openbaar twyfel daaroor of hierdie weg altyd in kerklike gesprekke gevolg word en vra: “Is ons besig om volgens die reëls mee te ding?”

Jesus stuur ons uit en ons kom tot rus

Fokus

Tema:  Getrouheid aan die evangelie verg self-prysgawe

Rus

Tema: Die kosmos
’n Veelkleurige web kan teen die muur agter die kansel gespan word. Bakke vol veelkleurige blomme kan op die nagmaaltafel geplaas word. Die baniere van die vorige drie Sondae kan steeds in die aanbiddingsruimte hang. Voorstellings van die aarde, planete en sterre (soortgelyk aan Kersboomversierings) kan by die deure vir die kinders uitgedeel word.

‘n Video of powerpoint van die kosmos kan gewys word.  Gebruik die powerpoint wat saam met hierdie preek gebied word.  Jy kan ‘n klomp foto’s van die kosmos aflaai by NASA se Flickr-rekening (http://www.flickr.com/photos/[email protected]/sets/), spesifiek die Chandra X-Ray Observatory.
Of gaan hier, klik op “multimedia” en laai een van die vele video’s af.  Ons hou van “2. 3-D Fly-Through of Cassiopeia A”, wat jy kan aflaai by hier. Kies net die grootte en formaat wat jy wil aflaai.

Jy kan ook jou FLV-converter program gebruik om hierdie video af te laai. (Foto’s van die heelal met Vangelis se “Conquest of Paradise”)
(Carl Sagan – met geanimeerde beelde)
Kyk gerus Louie Giglio se “Indescribable” DVD. Hier is ‘n mooi interpretasie van Chris Tomlin se “Indescribable”.

Die kinders word voor die aanvangswoord genooi om die voorstellings wat by die deure uitgedeel is, aan die web voor in die kerk te hang.

Gebed
Here God, Skepper van die hemel en die aarde,
ons is in verwondering oor die heerlikheid van u ganse
skepping,
die skoonheid en die geweldige omvang daarvan.
Help ons om te verstaan dat U groter is as alles wat
bestaan en dat U ook heers oor alle dinge in die groot
heelal.
Leer ons om met respek, maar ook met vreugde en
dankbaarheid met u skepping om te gaan.
Tot eer van u groot en heilige Naam.
Amen.

Lied

Psalm 148 “Prys uit die hemele die Heer”
Lied 168 “Heilige Jesus”
Lied 175 “Majesteit”
Lied 192 “Grote God, u skepperhand”
Lied 197 “Wonderbare Koning”
Flam 43 “As die son opkom”
Flam 295 “Wie kan die son onderhou?”

Flam 301 “Onmeetbaar, Ontembaar (Skepper)”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Toetrede)
Teks & Musiek: Stass van Veuren
©  2009  MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Onbeskaamd 2)

Onmeetbaar, ontembaar
U is foutloos en daar’s niemand soos U
Ewig en alwetend
En u grote Naam loop U vooruit

Refrein:
Skepper van die grote heelal
U is groot, U is groot
U verdien my lewe en gehoorsaamheid
Want U is God, U is God

God praat met ons en ons luister

Die tweede beweging van die luistersiklus is om te luister.

Familie-oomblik

Kinders sal hou van Paulus se gedagte dat hy maar vasgebind kan wees in die tronk, maar die Woord kan nie vasgebind word nie.  Die storie van Paulus se ontberinge en sy verbintenis aan die Woord wat by alle mense moet uitkom, sal ’n kragtige appèl op kinders maak om getrou te bly aan Jesus.

Jy kan ook die verhaal gebruik van die Chinese dogtertjie wat graag met haar ouma oor die Here wou praat.  Dié wou egter niks daarvan weet nie.  Eendag toe sy by haar ouma kuier, sien sy dat haar ouma besig was om haar mure met papier te plak.  Toe sy daarna kyk, sien sy dat dit Bybelbladsye is.  Toe sy vra waar haar ouma dié papiere gekry het, was haar ouma se antwoord, “in ’n dosie wat seker langs die pad uit iemand se sak geval het”.  Haar ouma kon egter nie lees nie, en het dus nie geweet dat dit Bybelbladsye was nie.

Die dogtertjie het stil gebly en haar ouma gehelp om haar mure verder te versier met die bladsye.  Die volgende dag toe sy by haar ouma kom kuier, sê sy vir haar ouma: “Ouma, die mure praat met my.” Verbaas het haar ouma gevra: “Wat sê die mure vir jou, my kind?” Die dogtertjie het toe begin om die Bybelverhale wat teen die mure opgeplak is met haar ouma te deel.  Kort voor lank het haar ouma in die Here begin glo, vanweë die Bybelse verhale wat sy by haar kleinkind gehoor het.

Preekriglyn

Martin Niemöller was, as bevelvoerder van ’n Duitse U-boot (’n duikboot) ‘n oorlogsheld uit die Eerste Wêreldoorlog.  Weens sy dapperheid het Duitsland die Orde van die Ysterkruis, eerste klas, aan hom toegeken.  Later het hy ’n invloedryke teoloog in die Duitse kerk geword.  Niemöller was vroeër ’n ondersteuner van Hitler se Nazi-beleid, maar het op grond van sy Christelike belydenis teen die Nazisme gedraai.  Hy het ’n aktiewe rol in die Duitse Belydende Kerk gespeel om die Nazi-beleid teen te staan.  Hitler het hom in die tronk gegooi op aanklagte van hoogverraad.

Vanaf 1937 tot 1945 is hy in tronke en konsentrasiekampe aangehou, waaronder Dachau.  Martin Niemöller het die doodstraf net-net vrygespring, deels omdat Hitler besef het weerstand teen sy beleid sou verkrummel as Niemöller oortuig kon word om die Nazi’s weer te steun.  Hy stuur toe ’n voormalige vriend van Niemöller tronk toe om met hom te gaan praat.  Toe die vriend Niemöller in haglike omstandighede agter die tralies sien, sê hy: “Martin, Martin, waarom is jy hier?  Wat máák jý hier?”.  Waarop Niemöller antwoord: “En jy, waarom is jy nié hier nie?”
Oorvertel deur Amos S. Cresswell, I’ve Told You Twice (Vigo, 1995)

Paulus se testament

Die tweede brief aan Timoteus is Paulus se testament.  Hy praat hier oor sy naderende dood, oor sy lyding, dink terug aan sy eie werk in diens van die evangelie, en stel Timoteus as sy geestelike opvolger aan.  Hy is diep bewus van sy eie lyding, hoe hy in boeie geslaan is en in die tronk sit ter wille van die evangelie.  Hy is ook bewus daarvan dat die Woord van die Here nie geboei kan word nie, maar kragtig versprei met die lewegewende boodskap van Jesus Christus.

In sy testament moedig hy Timoteus aan om ook ’n arbeider te wees wat God se goedkeuring wegdra:

15 Lê jou daarop toe om jou tot beskikking van God te stel as ’n arbeider wat die goedkeuring van God wegdra, ’n arbeider wat hom vir sy werk nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid suiwer verkondig.

Daarmee gee Paulus, die man wat self alles prysgegee het om ’n arbeider te wees wat God se goedkeuring wegdra, die mantel aan Timoteus oor.  Paulus se voorbeeld van self-prysgawe, sy self-verloënende roepingsgetrouheid, is sy bemaking aan Timoteus.

Hoe lyk ’n arbeider wat die goedkeuring van God wegdra?

Die paradoks van God se trou

Is ons wêreld is daar baie stemme wat sê gehoorsaamheid aan God is ’n goeie belegging.  Ons noem dit voorspoedsteologie.  As jy doen wat die Here sê, sal dit goeie opbrengste oplewer.  Christene is veronderstel om voorspoed te geniet.  God gee graag, en sal die sluise van die hemel ooptrek vir diegene wat doen wat Hom behaag.  God gee graag, en volgens hierdie skyn-teologie is al die opbrengste van gehoorsaamheid altyd – jy het reg geraai – materieel van aard.  Daar sal baie geld wees, goeie gesondheid, van die beste om te geniet, die goeie lewe!

Daar is baie beloftes in die Bybel wat kwistig aangehaal kan word om gehoorsaamheid-as-belegging-vir-materiële-voorspoed te onderstreep.  Natuurlik is die wêreld goed geskep, behoort die kosmos aan God, en gee die Here vir ons oorvloediglik.

Die probleem ontstaan wanneer die voorspoed wat ons van God verwag die kruis probeer systap.  God se beloftes van trou en versorging is vir diegene wat die kruis van Christenskap opneem en Jesus in hierdie wêreld volg.

’n Goeie voorbeeld hiervan is Matteus 28:18-20.  Die opdrag om dissipels te maak en getuies te wees – wat op sy beste ’n hoogs riskante onderneming is – word omraam met die wonderlikste beloftes vir diegene wat getrou is: “Alle mag is aan My gegee…”, “Ek is altyd by julle…”

Dit is soos Paulus dit beleef het.  Hy ly verdrukking, hy is in boeie soos ’n misdadiger, daar word van hom verwag om baie te verdra (2:9-10), maar sy getrouheid dra vrug.  Die evangelie kan nie geboei word nie, die evangelie bring reg oor die wêreld vir diegene wat dit aangryp die vrug van die ewige lewe voort (2:10).  In sy boeie staan Jesus hom by.  Jesus gebruik sy boeie in diens van die evangelie.

Die paradoks is dat getrouheid aan die evangelie vir ons verdrukking en boeie bring, terwyl ons getroue getuienis die evangelie self lanseer om die wêreld op arendsvlerke ter verower.

Deur jouself en jou vryheid prys te gee, deur jouself te verbind aan die evangelie, bring jy lewe vir ander.  Jou boeie breek die kettings wat ander verslaaf.

Só word jy ’n arbeider wat God se goedkeuring wegdra.

Die lewende Hoop

Waarom maak dit sin om vir die evangelie in boeie te sit?  Op te offer?

Paulus verkondig ’n lewende Christus.  Vers 8 begin daarom met “Jesus Christus” – die naam Jesus plaas die mensheid van Christus op die voorgrond, die “nakomeling van Dawid”.  Hierdie Jesus is weens sy getrouheid tot in die dood aan die kruis deur God opgewek, “Here”, “Christus” gemaak.

In die Naam van Jesus maak dit sin om jou in getrouheid aan die evangelie in boeie te laat slaan.  Die vryheid wat getrouheid bring, sal jou ook vry maak.  Daarom haal Paulus die bekende Christelike lied uit daardie tyd aan – die betroubare woord:
As ons saam met Hom gesterf het,
sal ons ook saam met Hom lewe;
as ons in die geloof volhard,
sal ons saam met Hom regeer;
as ons Hom verloën,
sal Hy ons ook verloën;
as ons ontrou is —
Hy bly getrou:
Hy kan Homself nie verloën nie.

Ons selfprysgawe wat tot opoffering en selfs boeie lei, geskied nie ter wille van ’n mooi idee of ’n lofwaardige ideaal nie.  Mens moraliseer nie maar bolangs wanneer jy die deugdelikheid aanhang van self-prysgawe nie.

Ons loop in die voetspore van Jesus.  Hy het ook vir ons geroep, en gesê: “Volg My”.  Ons het sy stem gehoor, sy kragtige opdrag gehoor, ons is lewend gemaak deur die Gees, ons word gelei deur die Woord van die lewende Christus.  Daarom stap ons die pad, watter draaie en kronkels dit ook al maak.  Die lewende Hoop, die Een wat verheerlik is, gaan ons voor.

’n Arbeider wat God se goedkeuring wegdra, volg vir Jesus.

Die kruis, die spykers, die boeie is mooi

Die kruis is die geweldadigste plek ooit.  Hier is die God-mens Jesus geweldadig vermorsel.  Maar dit is ook die mooiste plek ooit.  Hier blom die lewe.

’n Tagtigjare Amerikaanse olm, ’n skaduryke boom in die stad Oklahoma, het groot aantrekkingskrag vir toeriste.  Mense poseer vir foto’s onder dié boom.  Sy word noukeurig deur botaniste opgepas.  Sy versier plakkate en foto-albums.  Die stad Oklahoma vertroetel die boom, nie vanweë haar voorkoms nie, maar weens haar deursettingsvermoë.

Dié boom het die Oklahoma-bom oorleef.  Timothy McVeigh het sy bom-belade voertuig op 19 April 1995 slegs meters van haar parkeer.  Sy boosheid het 168 mense gedood, 850 gewond, die Alfred P Murrah Federale Gebou verwoes, en dié boom byna tot as verbrand.  Niemand het verwag die boom sou oorleef nie.  Niemand het eintlik twee keer gekyk na die verbrande, gestroopte, verwoeste boom nie.

Meteens begin die verskroeide boom bot en bloei.  Nuwe spriete van lewe kruip deur die beskadigde bas, groen blaartjies vee die grys as weg.  Lewe het begin groei op die oënskynlik dooie stam.  Só antwoord die verskroeide boom op die geweld van die bom-aanslag.  Dit is niks anders as ’n Opstandingsboom, ’n Boom van Lewe nie.

Net so bloei lewe uit die kruis.  Net so gee boeie vlerke aan die evangelie.  Net so gee ons self-prysgawe aan onsself en ander lewe.

Só leef ’n arbeider wat God se goedkeuring wegdra.

Selfprysgawe die geheim van ons aardse lewe

Wie op hierdie aarde sy lewe wil behou, moet dit prysgee.  Die evangelie illustreer hierdie waarheid in Paulus wat geboei in die tronk sit.

Selfprysgawe is nie net ’n geestelike beginsel nie.  Dit is diep ingeskape in die vesel van die skepping self.

Selfprysgawe maak lewe moontlik.  Bome neem voedingstowwe diep uit die aarde op, meng dit met koolsuurgas en skep wonderlike vrugte.  In die proses word suurstof vrygestel wat lewe moontlik maak.  Mens en dier eet die vrugte, kry energie en lewe.  Uiteindelik sterf ons, en keer terug tot stof.  Ons deel ons atome, ons biochemiese samestelling, weer met die aarde, wat dit gebruik om lewe te skep vir nuwe lewende wesens.

Ons is deel van ’n geskape siklus waarin almal die voorreg het om te neem, maar ook die verantwoordelikheid om te gee.  Alle skepsele doen dit terwyl hulle lewe, maar ook in hulle sterwe.

Die huidige ekologiese krisis word geskep deur bose gulsigheid waarin ons meer as ons deel uit die aarde neem.  Ons Westerse kultuur trap in die slaggat om dit wat verkeerd is, reg en deugdelik te noem.  Ons kultuur meen dat ’n vol lewe met oneindige gemak, waarin ons te veel grondstowwe en energiebronne verbruik, eintlik net ’n onskuldige manier is om jou potensiaal te verwesenlik.  Ons eien te veel van die goedheid van die skepping vir onsself toe, en beroof daarmee die komende geslagte wat dit wat die aarde het om vir hulle te bied.  Ons wil te hoog vlieg, en slaan die skepping met aardverwarming in boeie.

Ons behoort beperkinge op ons lewenstyl te plaas.  Dit het tyd geword om ons ongebreidelde sug na verbruik in boeie te slaan, en op die manier die goeie in die skepping ook met ander te deel.  Dit is nodig om só te leef dat ons belê in die kapasiteit van die skepping om vir ander, na ons, lewe te gee.
Ons moet onsself verloën en ons sug na gemak prysgee.
Ons mag nie alles verbuik wat ons kan nie.
Ons het nodig om opstandingsbome te plant, wat lewensmoontlikhede vir ander skep
Die evangelie vra dit van ons.  Die evangelie gee aan ons verskeie maniere waarop ons dit kan doen – deur die boodskap van lewe wat ons kan verkondig, en kan uitlewe.
Ons het in ons eie tyd helde soos Martin Niemöller nodig, eersteklas helde van die Houtkruis, die boom van lewe.

God stuur ons om te leef

Net voor die seën uitgespreek word, word die Seisoen van die Skepping afgesluit met Fransiskus van Assisi se gebed “Eer aan die Skepper” (Die Groot Gebedeboek, bl 265).  Jy kan een van die video’s wat onder die “Rus” moment van hierdie dokument voorgestel word, wys terwyl die gebed gelees word.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.