Negentiende Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

1 Tessalonisense 2:4b is ‘n goeie samevatting van die gedagtelyn in die tekste vir hierdie Sondag: Ons wil nie die guns van mense probeer wen nie, maar doen wat God verwag. Om Hom met integriteit te dien vir wie Hy is en nie om mense te beïndruk nie, dit is ons roeping. Die liturgie sal dus gerig wees op oorgawe en toewyding aan die enige en unieke Drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees.

Ander tekste

Eksodus 33:12-23
Die tent van ontmoeting
7Moses het ’n tent gevat en dit ver buite die kamp gaan opslaan. Hy het dit die tent van ontmoeting genoem. Elkeen wat na die wil van die Here wou vra, het na die tent van ontmoeting buite die kamp gegaan. 8Elke keer wanneer Moses na die tent toe uitgegaan het, het die hele volk opgestaan. Elkeen het by die ingang van sy tent bly staan en Moses agterna gekyk tot hy in die tent ingaan. 9Sodra hy ingaan, het die wolkkolom afgekom en by die ingang van die tent van ontmoeting gaan staan, en dan het die Here met Moses gepraat.

10Wanneer die hele volk die wolkkolom by die ingang van die tent van ontmoeting sien staan, het elkeen by die ingang van sy tent gebuig in aanbidding. 11Die Here het direk met Moses gepraat soos ’n man met sy vriend. Daarna is Moses terug kamp toe, maar sy assistent, die jongman Josua seun van Nun, het nie die tent van ontmoeting verlaat nie.

12Op ’n keer het Moses vir die Here gesê: “Kyk, U beveel my om met hierdie volk te trek, sonder om my mee te deel vir wie U saam met my stuur. Tog het U gesê: ‘Ek ken jou op jou naam; Ek is jou goedgesind.’13As U my dan goedgesind is, maak my u wil bekend, sodat ek U kan leer ken en kan doen wat U verwag. Onthou tog hierdie nasie is u volk.”

14Toe het die Here gevra: “Moet Ek self saamgaan en vir jou vrede gee?”

15Toe het Moses vir Hom gesê: “As U nie self saamgaan nie, moet U ons nie van hier af laat wegtrek nie. 16Hoe sal die mense weet dat ek en u volk u goedgesindheid geniet as U nie saam met ons gaan nie? Dit is juis deurdat U met ons saamgaan dat ons, ek en u volk, anders is as al die ander volke op die aarde.”

17Die Here het vir Moses geantwoord: “Ook wat jy nou gevra het, sal Ek doen. Ek is jou goedgesind en Ek ken jou op jou naam.”

18Toe sê Moses: “Laat ek tog net u magtige verskyning sien!”

19Maar die Here sê: “Ek sal al my voortreflikheid voor jou laat verbykom en Ek sal die Naam ‘die Here’ vir jou uitroep, want Ek betoon genade aan wie Ek genade wil betoon en Ek ontferm My oor wie Ek My wil ontferm. 20Vir My kan jy nie sien nie, want geen mens kan My sien en bly lewe nie.”

21Die Here het verder gesê: “Maar hier by My is ’n plek waar jy op die rots kan staan. 22As Ek in my magtige verskyning verbykom, sal Ek jou eers in ’n rotsskeur sit en jou met my hande toemaak totdat Ek verby is. 23Dan sal Ek my hande wegvat sodat jy My van agter kan sien. Niemand mag my gesig sien nie.”

Psalm 99
Die Here ons God is heilig
99 Die Here regeer:
die volke erken bewend sy gesag.
Hy troon oor die gerubs:
die aarde sidder van ontsag.
2Groot is die Here,
Hy wat in Sion is,
hoog verhewe bo al die volke.
3Hulle moet u groot en gevreesde Naam
prys:
“U is heilig!”
4U is die magtige Koning,
U het die reg lief;
wat reg is,
het U tot stand gebring.
U het reg en geregtigheid
in Jakob gevestig.
5Prys die Here ons God.
Kom buig in aanbidding voor Hom:
Hy is heilig!
6Moses en Aäron was onder sy priesters,
Samuel onder dié
wat sy Naam aangeroep het.
Hulle het die Here aangeroep
en Hy het hulle gebed verhoor.
7In ’n wolkkolom het God
met hulle gepraat,
en hulle het sy voorskrifte gehoorsaam,
die opdragte wat Hy hulle gegee het.
8Here ons God,
U het hulle gebede verhoor.
U was vir hulle ’n vergewende God,
maar Een wat ook hulle sondes
gestraf het.
9Prys die Here ons God,
buig voor Hom op sy heilige berg,
want die Here ons God is heilig.

1 Tessalonisense 2:1-8
Paulus se werk in Tessalonika
2 Julle weet tog self, broers, dat ons koms na julle toe nie op ’n mislukking uitgeloop het nie. 2Inteendeel, al is ons kort tevore in Filippi beledig en mishandel, soos julle weet, het ons God ons die moed gegee om sy evangelie aan julle te verkondig ondanks felle teenkanting. 3Ons prediking berus immers nie op dwaling nie, kom ook nie voort uit onsuiwer beweegredes nie en is sonder enige bybedoelings. 4Nee, God het ons gekeur en die evangelie aan ons toevertrou, en so verkondig ons dit dan ook. Ons wil nie die guns van mense probeer wen nie, maar doen wat God verwag, Hy wat ons diepste gedagtes toets.

5Met vleitaal het ons ons nooit opgehou nie, soos julle trouens weet. Hebsug was nooit ons verborge motief nie; daarvan is God ons getuie. 6Ons het nooit daarna gestreef dat mense ons sou eer nie, of dit nou julle of ander is 7al kon ons as apostels van Christus allerhande eise aan julle gestel het. Ons was liefdevol en sag teenoor julle soos ’n ma wat haar kinders vertroetel. 8So geheg is ons aan julle dat ons nie net die evangelie van God aan julle gegee het nie, maar ook ons lewe vir julle sou wou gee, want ons het julle lief gekry.

9Julle onthou immers nog, broers, hoe ons geswoeg en gesweet het. Dag en nag het ons gewerk om nie vir enigeen van julle ’n las te wees terwyl ons die evangelie van God aan julle verkondig het nie.

Fokusteks

Matteus 22:15-22
Die vraag oor die betaal van belasting

(Mark 12:13–17; Luk 20:20–26)
15Toe het die Fariseërs gaan besluit om Jesus met ‘n vraag in ‘n val te lok. 16Hulle stuur toe van hulle volgelinge saam met ‘n aantal Herodiane om vir Hom te sê: “Meneer, ons weet dat u iemand is wat u mening eerlik uitspreek en getrou aan die waarheid die wil van God bekend maak sonder om mense in aanmerking te neem, want u let nie op die aansien van persone nie. 17Sê vir ons wat dink u: Is dit reg om aan die keiser belasting te betaal, of is dit nie?”

18Maar Jesus het deur hulle valsheid gesien en vir hulle gesê: “Huigelaars! Waarom stel julle vir My ‘n strik? 19Wys vir My die muntstuk waarmee die belasting betaal word.”
Hulle bring toe die muntstuk vir Hom, 20en Hy vra vir hulle: “Wie se kop en naam is hierop?”

21“Die keiser s’n,” antwoord hulle.
Jesus sê vir hulle: “Gee dan aan die keiser wat aan die keiser behoort, en aan God wat aan God behoort.”

22Toe hulle dit hoor, was hulle verbaas en het hulle Hom met rus gelaat en weggegaan.

Ekstra stof

In Matteus 22 vervolg Jesus sy gesprek met die Fariseërs met ‘n derde gelykenis oor die reaksie van genooide gaste na ‘n bruilofsfees met die implisiete betekenis dat die Fariseërs optree soos die eerste genooides wat die uitnodiging geweier het (22:1-14). Daarmee onderstreep Jesus finaal hulle onbetroubaarheid. Die gelykenis word opgevolg met drie vrae wat die Fariseërs in reaksie daarop aan Jesus vra: oor belasting aan die keiser (22:15-22), oor die opstanding van die dooies (22:23-33) en die groot gebod in die wet (22:34-40). Dit is almal vrae wat Hom polities, godsdienstig en eties probeer vastrek, hoewel Jesus net te uitgeslape is vir hulle met sy deeglike praktiese antwoorde. Jesus sluit sy wedersydse gesprek met hulle af met ‘n eie vraag wat Hy aan hulle rig oor Sy identiteit waarop hulle geen antwoord gehad het nie (22:41-46). In hoofstuk 23 sal Hy ‘n omvattende oordeel oor hulle uitspreek.

Die Fariseërs se vraag oor belasting aan die keiser – 22:15-22
Die Fariseërs het desperaat geraak met Jesus en wou Hom ten alle koste vastrek en beraam ‘n plan wat in die vorm van drie vrae aan Jesus gerig word.

Die eerste vraag handel oor belasting aan die keiser. Hulle vra die vraag in die teenwoordigheid van Herodiane wat aan die koning sou kon terugrapporteer. Let op die vleitaal: “Ons weet dat U opreg is …” en dat hulle net sy “opinie” vra.

Maar, omdat Jesus hulle bose bedoelings geken het en geweet het van die voetangels wat in die vroom vraag opgesluit lê, spreek Hy hulle as skynheiliges aan en gebruik ‘n munt waarop die keiser se afbeelding en inskripsie aangebring is, om die etiese beginsel te onderstreep dat ‘n mens gehoor moet gee aan die ekonomiese stelsel waarbinne jy leef. Dit is die wyse ding om te doen.

Net so behoort jy natuurlik ook aan God, aan wie die hele aarde behoort en moet jy Hom gee wat Hom toekom. Dit is ook die wyse ding om te doen. Jesus weier dus om vasgevang te word in ‘n opgestelde konflik tussen die politiek en die godsdiens en leer eenvoudig dat albei hulle plek het. Hiermee formuleer Jesus ‘n beginsel wat uiteindelik in die Lutherse twee-ryke leer sou uitmond.

Liturgie

Aanvangslied:  Lied 167 “Jesus bron van al my vreugde vs 1,2”

Aanvangswoord
Seëngroet 

Lofliedere
Lied 200 “U goedheid Heer kan ons nie peil nie 1,2,3” en/of
Lied 199 “Loof die Here uit die hemel vs 1,2,3″

Verootmoediging

Opsomming van die wet: (Matt 22)

Skuldbelydenis: Lied 278 “Hoor ons bid o Heer 1” (2 maal)

Vryspraak
Riglyne om te lewe

Toewyding: Lied 284 “Laat Heer U vrede deur my vloei 1,2,3”

Epiklese

Skriflesing: Matteus 22:15-22

Prediking
Gebed
Geloofsbelydenis
Offergawes

Wegsending: Lied 188 “Kom dank nou almal God 1,2,3”

Seën

Musikale Amen: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 167 “Jesus bron van al my vreugde vs 1,2”

Aanvangswoord 
Die Here regeer,
Hy troon oor die gerubs:
die aarde sidder van ontsag.
2Groot is die Here,
Hy wat in Sion is,
hoog verhewe bo al die volke.
“U is heilig!”
4U is die magtige Koning,
U het die reg lief;
U het reg en geregtigheid
in Jakob gevestig.
5Prys die Here ons God.
Kom buig in aanbidding voor Hom:
Hy is heilig!
9Prys die Here ons God,
buig voor Hom op sy heilige berg,
want die Here ons God is heilig.
(Uit Psalm 99)

Seëngroet 
Aan die gemeente wat aan God die Vader en die Here Jesus Christus behoort.
Genade en vrede vir julle!
(1 Tessalonisense 1)

Lofliedere
Lied 200 “U goedheid Heer kan ons nie peil nie 1,2,3” en/of
Lied 199 “Loof die Here uit die hemel vs 1,2,3”

Verootmoediging
Opsomming van die wet (Matt 22)
Die vraag oor die grootste gebod

(Mark 12:28–34; Luk 10:25–28)
34Toe die Fariseërs hoor dat Jesus die Sadduseërs die mond gesnoer het, het hulle bymekaargekom, 35en een van hulle, ’n wetgeleerde, het Hom met ’n vraag probeer vastrek. 36“Meneer,” vra hy, “wat is die grootste gebod in die wet?”

37Jesus antwoord hom: “‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand. 38Dit is die grootste en die eerste gebod. 39En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ 40In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat.”

Skuldbelydenis: Lied 278 “Hoor ons bid o Heer 1” (2 maal)

Vryspraak
God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie.
6As ons beweer dat ons aan Hom deel het, en ons lewe in die duisternis, lieg ons en handel ons nie volgens die waarheid nie. 7Maar as ons in die lig lewe soos Hy in die lig is, het ons met mekaar deel aan dieselfde gemeenskap en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde.
8As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie.
9Maar as ons ons sondes bely—Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid. (1 Johannes 1)

Riglyne om te lewe: Johannes 15:9-17
Julle moet mekaar liefhê
9“Soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Julle moet in my liefde bly. 10As julle my opdragte uitvoer, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die opdragte van my Vader uitvoer en in sy liefde bly.

11“Dit sê Ek vir julle sodat my blydskap in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees. 12Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet. 13Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê. 14Julle is my vriende as julle doen wat Ek julle beveel. 15Ek noem julle nie meer ondergeskiktes nie, want ’n ondergeskikte weet nie wat sy baas doen nie. Nee, Ek noem julle vriende, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het. 16Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies en julle aangestel om uit te gaan en vrugte te dra, vrugte wat sal hou. So sal die Vader aan julle gee wat julle ook al in my Naam vra. 17Dit beveel Ek julle: Julle moet mekaar liefhê!”

Toewyding: Lied 284 “Laat Heer U vrede deur my vloei 1,2,3”
(Dele uit die bydrae van 16 Oktober 2011 by seisoenvanluister.co.za)

Liedere

Flam 326.”Ek Vertrou Nie Op Geld Nie (Alleen Op Die Here)”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Geloof & Vertroue)
Teks en musiek: Carli Lessing
© 2009 WINS Music
[N.a.v. Ps 33:20-21]

1. Ek vertrou nie op geld nie, of gewildheid nie
Of die wêreld se moondhede nie
Ek vertrou nie op mag nie of op konings nie
Of op die wêreld se leërmagte nie

Brug:
Alleen op die Here
Alleen op die Here

Refrein:
Hy is my hulp en my beskermer
Die Een op wie ek vertrou
Alleen in Hom is my hart bly
Op sy heilige Naam vertrou ek
Op sy heilige Naam vertrou ek

2. Nie op myself nie of op vriende nie
Of op ander se goedkeuring nie
Ek vertrou nie op drome of op gawes nie
Of my eie oorwinnings nie

F197. “Vader Ons Eer U”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Lof)
Teks en Musiek: Stass van Veuren
© 2008 MAR Gospel Music Publishers

1. Vader, Vader ons eer U.
Vader ons loof U
En die Naam van Jesus
Vader, Vader ons eer U
Vader ons loof U
En die Naam van Jesus
My siel roep uit: Loof die Heer
My siel roep uit: Loof die Heer

Refrein:
Want U is waardig
om aanbid te word.
Want U is waardig
om aanbid te word.
Want U is waardig
om aanbid te word.
U is waardig, Abba Vader,
om aanbid te word

God praat met ons en ons luister

Epiklese: Gebed (Ahv Ps 1)
Here- ek wil so graag hê dat dit met my goed gaan…
ek wil nie die raad van goddeloses
volg nie,
ek wil nie met sondaars omgaan
en met ligsinniges saamspan nie,
2maar ek wil in die woord van die Here
my vreugde vind,
dit dag en nag oordink.
Ek wil graag wees soos ’n boom
wat by waterstrome geplant is,
wat op die regte tyd vrugte dra
en waarvan die blare nie
verdroog nie.
Ek wil so graag voorspoedig wees in alles
wat ek aanpak.
Bewaar my dat ek nie soos kaf deur die wind uitmekaar gewaai word nie.
6Waarlik, Here lei my op die pad wat U behaag.
Amen

Skriflesing: Matteus 22:15-22

Prediking
Gebed

Geloofsbelydenis
Geloofsbelydenis ahv Lied 468
Christus, die Seun, is beeld van God –
van God onsigbaar, groot.
Hy is die Eerste, Hy alleen,
die hoog verhewe Heer.
Alles wat is, is daargestel
déúr Hom, vír Hom alleen.
Voor iets daar was, was Hy reeds daar;
deur Hom hou alles stand.
Hy is die oorsprong van die kerk,
ons Hoof, die Heer is Hy.
Ons is sy liggaam, één met Hom;
en in Hom is ons één
Christus het waarlik opgestaan
as Eerste uit die dood.
In die heelal sal Hy dus wees
die Eerste – Hoof en Heer.
God met sy volheid woon in Hom,
só het God self besluit.
Daarom kon Hy versoening bring –
Gods vrede weer herstel.
Christus moes sterwe aan ‘n kruis,
Hy moes sy bloed laat vloei.
Hemel en aarde, die heelal,
is só met God versoen.

Offergawes

Wegsending: Lied 188 “Kom dank nou almal God 1,2,3”

Seën
Ek bid dat die God van ons Here Jesus Christus,
die Vader
aan wie die heerlikheid behoort,
deur sy Gees aan julle wysheid gee
en Hom so aan julle openbaar dat julle Hom werklik kan ken.
18Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder
dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou,
en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het,
19en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo.
Amen (Efes 1)

Musikale Amen: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.

Epiklese: Gebed (Ahv Ps 1)
Here- ek wil so graag hê dat dit met my goed gaan…
ek wil nie die raad van goddeloses
volg nie,
ek wil nie met sondaars omgaan
en met ligsinniges saamspan nie,
2maar ek wil in die woord van die Here
my vreugde vind,
dit dag en nag oordink.
Ek wil graag wees soos ’n boom
wat by waterstrome geplant is,
wat op die regte tyd vrugte dra
en waarvan die blare nie
verdroog nie.
Ek wil so graag voorspoedig wees in alles
wat ek aanpak.
Bewaar my dat ek nie soos kaf deur die wind uitmekaar gewaai word nie.
6Waarlik, Here lei my op die pad wat U behaag.
Amen

Skriflesing Matteus 22:15-22

Prediking

Familie-oomblik

Carolyn Brown merk tereg op dat die konsep van belasting kinders glad nie interesseer nie. Miskien is die beginsel om aan God te gee wat Hom toekom (soos in die fokusteks) meer van toepassing.

‘n Praktiese manier om hieraan gestalte te gee is om die kinders deel te maak van die invordering van die offergawes en wanneer hulle die offers vorentoe bring, ‘n gebed te doen waarin God gedank word wat aan ons gee sodat ons bydraes kan teruggee.
Lees dalk eers die fokusteks uit “Die Nuwe Testament vir Kinders” deur Stephan Joubert, Jan van der Watt en Hennie Stander, 1999:

Moet Mens Belasting Betaal?
15–17 ’n Klomp van die godsdienstige leiers* wou Jesus in die moeilikheid bring by die politieke leiers. Hulle is toe saam met ’n paar van koning Herodes se familielede na Jesus toe. Vriendelik sê hulle vir Hom: “Ons weet jy praat altyd die waarheid. Jy sê wat God sê en probeer nie om mense gelukkig te hou nie.” Toe vra hulle Hom: “Dink jy dis reg om belasting aan die keiser te betaal? Hy is mos ’n Romein, en ons is Jode.”

18–20 Jesus het geweet hierdie mense is nie eerlik nie. Hy sê toe vir hulle: “Julle klomp skelms! Vir wat wil julle My in die moeilikheid bring? Gee gou vir My ’n geldstuk.” Hierna vra Jesus vir die mense: “Wie se kop is op hierdie geldstuk?”

21–22 “Die keiser s’n,” antwoord hulle.
“Wel, as hierdie geld waarop die keiser se kop is aan hom behoort, moet julle dit aan hom teruggee,” sê Jesus. “Gelukkig hoef julle net van julle geld aan die keiser te gee. Maar julle moet julle hele lewe aan God gee!
Die mense wat Jesus in die moeilikheid wou bring, het nie geweet wat om te antwoord nie. Toe draai hulle maar om en stap weg.

Preekriglyn

Mense betaal dikwels nie graag hulle skuld nie. Om te kul, en koste te ontduik, is byna deel van die menslike natuur, sê Steven Levitt in Freakonomics. Jy kry dit oral, in elke sfeer van die samelewing.

Hoe mense kul, is dikwels moeilik om te ontsyfer. Soms is dit egter oorweldigend wanneer dit aan die lig kom. Neem die aand in die Lente van 1987 toe sewe miljoen Amerikaanse kinders oornag verdwyn het. Dit was die aand van 15 April. Die Departement van Binnelandse Inkomste het ‘n reël verander. In plaas daarvan om bloot die naam van elke afhanklike kind te lys, moes belastingbetalers nou ook die identiteitsnommer van elke kind op hul opgawe lys.

Toe die son die volgende oggend opkom, na die afsluiting van die belastingseisoen, was daar sewe miljoen minder kinders in die VSA. Dit verteenwoordig een uit tien van alle afhanklike kinders in die VSA.

Dis dalk veral by die betaal van belasting dat mense kul. En nie net burgers nie. Staatsorgane kul ook, wanbestee die fondse of wend dit vir eie gewin aan.

Dink aan die betogings op 8 Oktober 2014 in Parys, omdat die munisipaliteit gelde wat vir elektrisiteit betaal word nie gebruik om Eskom te betaal nie. Dié dorp word nou reeds lank deur ‘n algehele kragonderbreking in die gesig gestaar.

Net soos die staat sy burgers verantwoordelik hou om eerlik hul belastingverantwoordelikheid na te kom, moet burgers die staat ook verantwoordelik hou om hul geld reg aan te wend. Miskien sal die Nkandla-sage nog een van die grootste voorbeelde hiervan in Suid-Afrika word.

Aan die einde van September 2014 het blanke inwoners van Molteno in die Oos-Kaap saam met die inwoners van die informele nedersetting begin betoog oor die swak omstandighede in dié nedersetting. Wit en swart het saam strate wettiglik afgesluit en getoi-toi, omdat ál die burgers van die dorp die lot van sommige op hul kollektiewe skouers geneem en verantwoordbaarheid van die plaaslike owerheid geëis het. Dit het die atmosfeer om die dorp, en onderlinge verhoudinge, radikaal verander. Dit verhoog ook die kanse van suksesvolle protes aansienlik, en het verhoed dat die protes hande uitruk.

Konflik

Ons teks val binne die Matteusverhaal tydens die gebeure van Jesus se laaste week in Jerusalem (Matt 21:1-25-46). Konflik met die Joodse geestelike leiers was op ‘n breekpunt. Jesus hou niks terug om die waarheid voor almal oop te maak nie en dit ontstel die Fariseërs geweldig. Hulle wrewel teen Jesus neem daagliks toe en op verskillende maniere probeer hulle Hom in ‘n situasie kry waar hulle Hom kan aankla of in onguns bring.

In die voorafgaande drie gelykenisse het Jesus die geestelike leiers van Israel ontbloot vir wie hulle werklik is. In stede dat die waarheid in die gelykenisse hulle tot inkeer bring, spoor dit hulle eerder aan om Jesus op hulle beurt in ‘n posisie te plaas waar hulle Hom kan aankla voor die mense.

Koalisie teen Jesus

Die Fariseërs was die Joodse geestelike leiers wat hulle toegelê het op die studie van die wet van Moses. Hulle het hulleself gesien as die kenners van die Skrifte wat dit die beste kon interpreteer en verduidelik aan God se volk. Hulle het dus gevoel hulle sou die eerstes wees wat die beloofde Messias sal herken wanneer Hy kom. Jesus se aanhoudende verkondiging dat Hy die Messias was, het hulle ontstel en ‘n groeiende wrewel in hulle opgewek.

Die Fariseërs se haat vir Jesus was so intens dat hulle bereid was om saam met Herodiane te werk. Dit was inderdaad uitsonderlik. As self aangestelde bewakers van God se waarheid vir God se volk het hulle geen liefde gehad vir die Romeinse onderdrukkers wat oor hulle geheers het nie.

Aan die ander kant was die Herodiane waarskynlik Jode wat bepaalde bande met die familie van Herodes gehad het. Daar is nie baie oor hulle bekend nie, maar ons kan aanneem dat hulle nie duidelike geestelike waardes gehad het nie. Vanuit hulle politieke voorkeure het hulle die Romeinse beheer in Palestina ondersteun. Die ontsteltenis wat Jesus in hulle veroorsaak het, was omdat Hy ‘n paar dae tevore deur die skare Jode as Koning van die Jode in Jerusalem verwelkom is (Luk 19:37-38).

Hierdie twee groepe wat op teenoorgestelde pole gestaan het, het verenig in hulle teenstand teen Jesus. As “koalisie teen Jesus” het hulle Hom opgesoek waar Hy tussen baie mense was. Hulle doel was om Hom in ‘n valstrik te lei. Alhoewel hulle niks anders as haat teen Hom gekoester het nie, spreek hulle Jesus met baie vleiende woorde toe. Hulle beskrywing was ironies genoeg baie akkuraat

“Eerlik en getrou aan die waarheid”

Soos hulle gesê het, het Jesus nie net sy menslike mening eerlik uitgespreek nie, maar dit beskryf as God se woorde deur Hom (Joh 8:26, 28). Mense se opinie van Hom het geen effek gehad op sy vaste voorneme om getrou aan die waarheid net die wil van God bekend te maak nie. Vanuit ‘n ander hoek gesien, net soos die duiwel geen waarheid in hom het nie (Joh 8:44), so het Jesus niks anders as die waarheid in Hom gehad nie. Die Fariseërs en Herodiane het dit verbaal bely, maar nie met die hart geglo nie. Dit het geen persoonlike waarde vir hulle gehad nie.

Spreuke 26:23 beskryf hulle baie goed: “Soos om ‘n potskerf met silwer oor te trek, so is dit om slegte bedoelings agter mooi woorde weg te steek.” Om die waarheid aangaande Jesus te praat sonder dat dit jou hart raak, is om jouself met jou eie woorde te veroordeel. Dit is presies wat hierdie mense gedoen het sonder om dit te besef.

Strikvraag

Na die vleiende inleiding oor hoe Jesus altyd die waarheid praat, stel die groep hulle strikvraag: “Is dit reg om aan die keiser belasting te betaal of is dit nie?”

Die vraag wat die Fariseërs en Herodiane aan Jesus gevra het, het aan die hart van baie Jode geraak. Die Jode het hulleself as ‘n teokrasie gesien. Hulle is deur God regeer. Toe die heidense Rome beheer oor die land neem, hulle onderwerp en belasting begin hef, voel hulle hulle gee wat aan God behoort aan die keiser van Rome.

Die Romeinse regering het inderdaad ‘n uitgebreide belastingsisteem gehad. Naas belasting op hulle lande/ besittings, was daar handelsbelasting, inkomstebelasting, pad- en hawebelastings en dan die sogenaamde sensusbelasting. Dit is waarskynlik na hierdie laaste kategorie waarna die Fariseërs se strikvraag verwys. Elke persoon in Judea moes jaarliks individuele of persoonlike belasting aan die Romeinse regering betaal. Nodeloos om te sê, hulle het hierdie belasting gehaat.

Waarom het die Fariseërs juis hierdie tema vir hulle vraag gekies? Wat wou hulle bereik? As Jesus geantwoord het dat hulle wel belasting moes betaal, kon hulle die Jode teen Jesus laat draai. Sou Hy antwoord dat hulle nie betaal nie, sou die Herodiane daarvoor sorg dat die Romeinse owerhede daarvan te hore kom en sou hulle Jesus vinnig en met Romeinse effektiwiteit uit die weg ruim. Dit het gelyk of Jesus in ‘n posisie geplaas is waaruit Hy nie kon kom nie.

Bordjies verhang

Dit is egter onmoontlik vir mense om God in ‘n hoek te verf. Jesus reageer op ‘n manier wat die tafels omdraai op dié wat Hom in die verleentheid wou bring. Allereers wys Hy dat Hy alles weet. Niks kan vir Hom weggesteek word nie, maar lê oop en bloot voor Hom. Hierdie feit kom telkens in die evangelies voor wanneer Hy die gedagtes wat mense bedink openbaar en kommentaar daarop lewer. Daarna ontbloot Jesus sy teenstanders vir wie hulle werklik was, naamlik huigelaars wat Hom in ‘n valstrik wou lei. Hulle mooi woorde het Hom nie geflous nie en Jesus weet presies waarmee hulle besig was.

Jesus se reaksie

Jesus antwoord hulle. As inleiding vra Hy vir ‘n muntstuk waarmee die belasting betaal moes word. Hierdie muntstuk was waarskynlik die silwer denarius wat gelykstaande was aan een dag se vergoeding vir ‘n dagloner of soldaat. Waar die Romeinse senaat kopermuntstukke kon munt, was dit net die keiser wat silwer en goue muntstukke kon munt. Om hierdie rede was die keiser se kop op alle silwer en goue muntstukke uitgebeeld, want dit het as ‘t ware aan hom behoort. Jesus vra dan wie se kop en naam op die denarius is. Dit was duidelik vir almal wat teen wil en dank bekend was met hierdie geldeenheid. Aan die een kant van die denarius wat op daardie stadium die meeste in omgang was, was die kop van Keiser Tiberius met die inskripsie: “Tiberius Caesar, seun van die Goddelike Augustus.”

Die volgende deel van Jesus se antwoord bring twee waarhede na vore: “Gee aan die keiser wat aan die keiser behoort en aan God wat aan God behoort.” Die Griekse woord wat hier gebruik word (apaditimato, met die verbuiging apodote in die gelese teks) het inderdaad die betekenis van om iets terug te gee. Mense wat onder die beskerming en versorging van ‘n bepaalde owerheid staan, het dus die plig om iets terug te gee van dit wat hulle van die owerheid ontvang. Hiermee wys Jesus eerstens daarna dat dit niks minder as reg is nie om dit wat in elk geval aan die keiser, as verteenwoordiger van die heersende owerheid, behoort, aan hom terug te gee.

Grense vir gee

Daar is egter grense aan die gee vir die keiser. Vanaf keiser Augustus se tyd het keisers hulleself as goddelik gesien. Augustus is byvoorbeeld in 17 vC tot seun van God verklaar en hy het in daardie jaar saam met die senaat massaverlossing en vergiffenis van sondes aan sy onderdane belowe. Die godsdienstige verstaan van die keiser is ook op die denarius gereflekteer. Volgens sommige bronne was daar aan die een kant van die denarii wat in omloop was tydens Jesus se bediening, ‘n afbeelding van Tiberius se gesig en aan die ander kant ‘n uitbeelding van hom op sy troon in hoëpriesterlike gewaad, met ‘n kroon op sy kop. Dit het duidelike godsdienstige implikasies. Die teruggee van dit wat aan die keiser behoort, is egter beperk tot die sosiale en ekonomiese. Jesus weet dat nie net die keiser nie, maar ook God ‘n aanspraak op mense se lewens maak.

Na die uitwys van burgerlike verantwoordelikheid, kom Jesus by die ander sleutelelement van sy antwoord: “Gee aan God wat aan God behoort.” Wat het aan God behoort? Alles wat Hy geskep het! Waar die keiser bepaalde ekonomiese en sosiale voordele aan sy onderdane gebied het, het God die lewe aan mense gegee. Net soos daar iets aan die keiser teruggegee moes word vir dit wat hy gebied het, moes mense hulle lewe aan God teruggee aangesien dit in elk geval aan Hom behoort het.

Mens kan selfs sê dat soos die denarius die keiser se beeld gereflekteer het deur die gravering van sy kop daarop, so reflekteer die mens God se beeld aangesien ons as beeld van God geskep is. Daarom moet die mens in sy geheel aan God teruggegee word, want die mens behoort per slot van rekening aan God. Met hierdie woorde verander Jesus die strikvraag in ‘n saak van verantwoordelikheid teenoor die regering, maar veral teenoor God.

Jesus se antwoord het sy teenstanders so onkant gevang dat hulle Hom met rus gelaat en verdwyn het.

Gee vir die regering

Die vraag is of Jesus se woorde net waar was vir die Jode van sy tyd en of dit ook op ons van toepassing is.

Hoewel ons allerlei slim argumente kan ophaal, sal ons moeilik by die feit kan verbykom dat ook ons ‘n verantwoordelikheid het teenoor die regering waaronder ons leef. Die verantwoordelikheid is dalk nie lekker nie en die regering maak waarskynlik baie foute, maar was dit nie maar ook die geval in die tyd toe Jesus hierdie woorde gesê het nie?

Miskien is dit nodig dat ons vandag ‘n verbindingspypie tussen ons geestelike lewe en ons verantwoordelikheid teenoor die regering moet daarstel.

Eis ook verantwoordbaarheid

Aangesien ons vir die owerheid gee, en dus die owerheid se dienslewering moontlik maak, moet ons ook verantwoordelikheid neem om goeie diens van die regering te eis.

Diensleweringsbetogings raak dikwels gewelddadig. Christene van alle groepe in ons gemeenskappe behoort ‘n metode van protes te ontwikkel in die beste tradisie van vreedsaamheid, maar met die onverbiddelike eis tot eerlikheid, deursigtigheid en effektiwiteit op alle vlakke van regering in SA.

Ons het ook die verantwoordelikheid om te gaan stem, kontak met ons verteenwoordigers te behou, en seker te maak die belange van die gemeenskap geniet voorrang. Die burgerlike sektor moet sigself ook organiseer in aksies wat ‘n impak maak. Die wyse waarop die Treatment Action Campaign ‘n verskil in Vigsbeleid gemaak het, is ‘n goeie voorbeeld.

Kerke moet ook mekaar se hande oor alle moontlike grense vat in ‘n gemeenskaplike aksie om die regering verantwoordbaar te hou. Ons kan dit nie aan ‘n dapper emeritus-aartsbiskop oorlaat nie.

Om steen en been om die braaivleisvure te kla, gaan nie verskil maak nie.

Toegewy aan God

Die ander groot waarheid is dat ons aan God moet gee wat aan God behoort. Wat behoort aan God? As ons onsself gelowiges noem, behoort alles wat ons is en het aan Hom. In die eerste plek het God ons geskep en dit gee Hom eiendomsreg oor ons. God het egter veel verder gegaan. Hy het ons van ons sinlose oorgeërfde bestaan losgekoop deur die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is (1 Pet 1:18-19). Ons behoort dus nie aan onsself nie. Ons is gekoop en die prys is betaal (1 Kor 6:20).

As ons ernstig is om aan God te gee wat aan Hom behoort, moet ons ons geheel en al aan Hom gee. Dit sluit ons prioriteite, tyd, geld en optrede teenoor ander in. Dit sluit ook die manier in waarop ons ons burgerlike pligte teenoor die regering van die dag nakom.

Mag Jesus se woorde ons nie verhard en van Hom wegdryf soos met die Fariseërs en Herodiane nie. Mag sy woorde ons harte binnedring en deur die Heilige Gees se krag ons gewillig en bekwaam maak om sy wil prakties en aktueel binne ons eietydse konteks uit te leef.

God stuur ons om te leef

Gebed

Geloofsbelydenis
Geloofsbelydenis ahv Lied 468
Christus, die Seun, is beeld van God –
van God onsigbaar, groot.
Hy is die Eerste, Hy alleen,
die hoog verhewe Heer.
Alles wat is, is daargestel
déúr Hom, vír Hom alleen.
Voor iets daar was, was Hy reeds daar;
deur Hom hou alles stand.
Hy is die oorsprong van die kerk,
ons Hoof, die Heer is Hy.
Ons is sy liggaam, één met Hom;
en in Hom is ons één
Christus het waarlik opgestaan
as Eerste uit die dood.
In die heelal sal Hy dus wees
die Eerste – Hoof en Heer.
God met sy volheid woon in Hom,
só het God self besluit.
Daarom kon Hy versoening bring –
Gods vrede weer herstel.
Christus moes sterwe aan ‘n kruis,
Hy moes sy bloed laat vloei.
Hemel en aarde, die heelal,
is só met God versoen.

Offergawes

Wegsending: Lied 188 “Kom dank nou almal God 1,2,3”

Seën
Ek bid dat die God van ons Here Jesus Christus,
die Vader
aan wie die heerlikheid behoort,
deur sy Gees aan julle wysheid gee
en Hom so aan julle openbaar dat julle Hom werklik kan ken.
18Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder
dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou,
en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het,
19en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo.
Amen (Efes 1)

Musikale Amen: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.