Negentiende Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Koninkrykstyd bied aan gelowiges die geleentheid om iets te beleef van die spanning tussen die “alreeds” en die “nog nie” van die koninkryk van God. Ons leef in hierdie seisoen vanuit die bewuste ervaring van Christus se weg deur pyn en lyding na oorwinning. Die dood is oorwin en die koninkryk van God breek in hierdie wêreld in. Tog is ons ook pynlik bewus van die onvoltooide aard van die koninkryk. Ons is steeds onderweg na die voleinding.

In hierdie tussentyd is dit dikwels uitdagend om te weet hoe om eties verantwoordbaar te leef. Stanley Hauerwas verwys na die alternatiewe spasie waarin gelowiges besin oor etiese aangeleenthede:

Christians do not have a ‘morality’ per se, but rather our morality is embedded in the stories that require constant retellings. Telling a story, particularly stories like those Christians tell of God’s dealings with them, is a frightening business since in the telling one frequently has the story retold in a manner that is surprising and challenging to the teller.
Hauerwas, Christians in the Hands, 32.

Volgens Hauerwas leer gelowiges wie hulle is en wat van hulle verlang word deur konstant na hulle geloofsverhale te luister en dit telkens weer oor te vertel. Denise Ackermann voeg verder by in verwysing na die belang van stories vir die geloofsgemeenskap:

Telling stories is intrinsic to claiming one’s identity and in the process finding impulses for hope. Narrative has a further function. Apart from claiming identity and naming the evil, narrative has a sense-making function. The very act of telling the story is an act of making sense of an often incomprehensible situation, of a suffering and chaotic world in which people wrestle with understanding and in so doing seek to experience relief.
Ackermann, Tamar’s Cry, 18-19.

In die Jobreeks, soos ons dit ingebed vind in Koninkrykstyd, kry ons die geleentheid om ons weer in te leef in die ryk storiewêreld wat geskep word deur die meesterverteller van die Jobverhaal. Die kompleksiteit van Job se belewing van verlies en teëspoed, sy pynlike argumente met geliefdes, sy vrae aan God en sy emosionele inkeer is alles bekende elemente aan die menslike drama en daarom so toeganklik vir moderne lesers.

Die Jobtekste dien as liturgiese uitgangspunt vir die vier Sondae wat deel vorm van hierdie reeks. Die Sondae dien as bakens op Job se reis en staan stil by Job se belewing van verlies, sy soeke na antwoorde en sin, God se antwoord en die openbaring van sy almag en Job se emosionele inkeer. Job se reis bevraagteken algemene oorsaak-gevolg logika. Die Jobtekste maak om hierdie rede baie sin in die Markusjaar as ons ook in die evangelie konstant opmerk hoe Jesus die dominante verstaan van die wet uitdaag deur te praat oor die andersoortige koninkryk wat Hy verteenwoordig.

Die laaste Sondag in die reeks val saam met Hervormingsondag en Job se emosionele inkeer kan goed aangewend word om die gesindheid van die proses van “hervorming” te illustreer.

Die Jobtekste dien as liturgiese uitgangspunt vir die vier Sondae wat deel van hierdie reeks vorm. Die vier individuele Sondae is bakens op Job se reis en staan stil by sleutelmomente van Job se verhaal. Die reeks begin hierdie Sondag deur te fokus op Job se belewing van verlies. Job, die man van God, beleef teenspoed en verlies. Job se ervaring en sy reaksie daarop word in die liturgie aangewend as illustrasie van hoe pynlik die belewing van verlies is. Die verhaal lei moderne gelowiges om ook te besin oor hulle eie traumatiese belewenisse. Psalm 26 gee aan gelowiges taal om, in hulle uur van benoudheid, tot God te roep. Die tekste uit die Nuwe Testament wys heen na Jesus as vleesgeworde God wat menswaardigheid herstel deur plek te maak vir die geringstes.

Ander tekste

Psalm 26
Ek is onskuldig
26 Van Dawid.
Laat reg aan my geskied, Here,
want ek is onskuldig.
Ek het op die Here vertrou
en nie getwyfel nie.
2Toets my, Here, keur my,
ondersoek my deur en deur.
3Ek laat my deur u liefde lei
en ek lewe deur u trou.
4Ek hou my nie op met bedrieërs nie
en met agterbakse mense
gaan ek nie om nie.
5Ek vermy die geselskap
van misdadigers
en hou my nie op met goddeloses nie.
6As ’n onskuldige, Here,
was ek my hande
en draai ek na u altaar toe
7om my loflied te sing
en van al u wonders te vertel.
8Here, u woonplek,
die tuiste van u heerlikheid,
het ek lief.
9Moet my tog nie
saam met die sondaars,
met die moordenaars laat omkom nie.
10Daar is bedrog in hulle hande,
hulle regterhande is vol omkoopgeld.
11Maar ek is onskuldig.
Red my en wees my genadig;
12dan is my pad vorentoe gelyk
en sal ek die Here prys
in die samekoms van die gemeente.

Hebreërs 1:1-4, 2:5-12
Die uitnemende grootheid van die Seun van God
1 In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, 2maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun. God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het, ook erfgenaam van alles gemaak. 3Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God. Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand. Nadat Hy die reiniging van sondes bewerkstellig het, het Hy gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoë hemel. 4Hy is net so verhewe bo die engele as wat die Naam wat God Hom gegee het, voortrefliker is as hulle naam.

Die Leidsman tot die saligheid
5Dit is nie aan engele dat Hy die toekomstige wêreld, waarvan ons praat, onderwerp het nie. 6Inteendeel, iemand het êrens getuig en gesê:
“Wat is ’n mens
dat U aan hom dink,
’n mensekind
dat U na hom omsien?
7U het hom ’n kort tydjie
minder as die engele gemaak;
U het hom met heerlikheid
en eer gekroon;

8U het alles aan hom onderwerp.”
By die onderwerping van alle dinge aan die mens is niks uitgesluit nie. Alles is aan hom onderwerp. Nou sien ons nog nie dat alle dinge reeds aan die mens onderwerp is nie. 9Maar ons sien Jesus, met eer en heerlikheid gekroon op grond van sy lyding en dood. Hy is ’n kort tydjie minder gemaak as die engele, sodat Hy deur die genade van God vir almal sou sterwe.

10God, ter wille van wie alles bestaan en deur wie alles ontstaan het, wou baie deel laat kry aan sy heelikheid. En daarom was dit reg dat Hy hulle Leidsman tot die verlossing deur lyding heen tot volmaaktheid sou bring. 11Hy wat heilig maak, sowel as die mense wat geheilig word, is almal uit een Vader. Om hierdie rede is Jesus nie skaam om hulle sy broers te noem nie. 12Hy sê tog:

“Ek sal u Naam aan my broers
bekend maak,
in die samekoms van die gemeente
sal Ek u lof besing.”

Markus 10:2-16
Gesprek oor egskeiding
(Matt 5:31–32; 19:1–9; Luk 16:18)
10 Jesus het Hom gereed gemaak en daarvandaan na die gebied Judea toe vertrek, oorkant die Jordaan langs. Baie mense het weer na Hom toe gekom en, soos Hy gewoond was, het Hy hulle geleer.

2Daar het ook Fariseërs gekom, en om Hom op die proef te stel, het hulle Hom gevra: “Mag ’n man van sy vrou skei?”

3Hy het daarop vir hulle gevra: “Wat het Moses julle beveel?”

4“Moses het toegelaat dat iemand ’n skeibrief opstel en skei,” jhet hulle geantwoord.

5Toe sê Jesus vir hulle: “Dit is oor die hardheid van julle harte dat hy hierdie bepaling vir julle gemaak het. 6Maar van die begin af, van die skepping af, ‘het God hulle man en vrou gemaak.’ k 7‘Daarom sal ’n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, 8en hulle twee sal een wees,’ lsodat hulle nie meer twee is nie, maar een. 9Wat God dan saamgevoeg het, mag ’n mens nie skei nie.”

10In die huis het die dissipels Hom weer hieroor uitgevra. 11Hy sê toe vir hulle: “Elkeen wat van sy vrou skei en met ’n ander een trou, pleeg egbreuk teen sy vrou. 12En as ’n vrou van haar man skei en met ’n ander een trou, pleeg sy egbreuk.”

Jesus seën die kindertjies
(Matt 19:13–15; Luk 18:15–17)
13Die mense het kindertjies na Jesus toe gebring dat Hy hulle moet aanraak. Sy dissipels het met die mense daaroor geraas. 14Maar toe Jesus dit sien, was Hy verontwaardig en het Hy vir hulle gesê: “Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle. 15Dit verseker Ek julle: Wie die koninkryk van God nie soos ’n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.”

16Hy het sy arms om die kindertjies gesit, hulle die hande opgelê en hulle geseën.

Fokusteks

Job 1:1; 2:1-10
Job word deur rampe getref
1 In die land Us was daar ‘n man met die naam Job. Hy was vroom en opreg en het God gedien en die kwaad vermy.

Die Satan tref vir Job met pynlike swere
2 Toe die hemelwesens weer op ‘n dag voor die Here kom staan, het die Satan ook tussen hulle voor die Here kom staan. 2Toe vra die Here vir hom: “Waar kom jy vandaan?”

En die Satan antwoord die Here: “Ek het die wêreld deurkruis.”

3Die Here vra toe vir Satan: “En my dienaar Job, het jy hom nou gesien? Sy gelyke kry jy nie op aarde nie: hy is vroom en opreg, hy dien My en vermy die kwaad. Hy het vroom gebly, al het jy My daartoe gebring om hom sonder rede te ruïneer.”

4Die Satan sê toe vir die Here: “Dit bewys nog niks. ‘n Man sal mos alles gee wat hy het, as hy net kan bly lewe. 5Maar raak nou net aan sy liggaam en kyk of hy U dan nie in u gesig vervloek nie.”

6Toe sê die Here vir die Satan: “Goed, hy is in jou mag. Net sy lewe mag jy nie neem nie.”

7Die Satan het van die Here af weggegaan en vir Job met pynlike swere getref, van sy kop tot sy tone. 8Job het op ‘n ashoop gaan sit en hy het ‘n potskerf gevat en hom daarmee gekrap. 9En sy vrou het vir hom gesê: “Bly jy nog steeds vroom? Vervloek God en sterf!”

10Toe sê hy vir haar: “Jy praat nou soos ‘n vroumens sonder verstand. As ons die goeie van God aanvaar, moet ons nie ook die slegte aanvaar nie?”

Onder alles het Job met geen woord gesondig nie.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 512 “Nader my God by U vs 1,2,3”

Aanvangswoord: (Ps 22:1-4)

Seëngroet: (Romeine 1)

Lied 175 “Majesteit vs 1”

Verootmoediging aangedui in die basisliturgie vir hierdie reeks word daar telkens ’n moment van besinning aan die begin van die liturgie ingeruim. Stel weekliks ’n bepaalde saak aan die orde waarop rou of weeklaag ’n natuurlike respons sou wees.

Moment van besinning
Job verwoord die trauma van sy verlies en teëspoed op aangrypende wyse.

Skep nou ’n geleentheid waarin die gemeente kan nadink oor hulle eie ervarings van pyn en verlies.

Gebruik stilte as instrument met geleentheid vir stilgebed.

God se antwoord aan Job (hoofstukke 38-41) in sy vertwyfeling sluit in…

As simbool van God se getroue teenwoordigheid word ’n kers aangesteek.

Lied 519 “Wees stil en weet, ek is die Heer vs 1,2,3,4”

Gebed: ahv Psalm 26

Geloofsbelydenis: (ahv Job 38 en 39)

Lied 260 “Ek glo vas in God die Vader vs 1 en 11”

Epiklese

Skriflesing: Job 1:1; 2:1-10

Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 511 “Lei U ons lig vs 1,2”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen
of

Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied “512 Nader my God by U vs 1,2,3”

Aanvangswoord 
My God, my God,
waarom het U my verlaat
en bly U ver as ek om hulp roep?
My God, ek roep bedags
en U antwoord nie,
ook snags, maar ek kry geen rus nie.
U is tog die Heilige
wat woon waar die lofsange van mense weerklink!
(Ps 22:1-4)

Seëngroet
7Aan almal vir wie God liefhet en wat Hy geroep het om aan Hom te behoort.
Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!
(Romeine 1)

Lied 175 “Majesteit vs 1”

Verootmoediging
Soos aangedui in die basisliturgie vir hierdie reeks word daar telkens ’n moment van besinning aan die begin van die liturgie ingeruim. Stel weekliks ’n bepaalde saak aan die orde waarop rou of weeklaag ’n natuurlike respons sou wees.

Moment van besinning
Job verwoord die trauma van sy verlies en teëspoed op aangrypende wyse.
7Die Satan het van die Here af weggegaan en vir Job met pynlike swere getref, van sy kop tot sy tone. 8Job het op ‘n ashoop gaan sit en hy het ‘n potskerf gevat en hom daarmee gekrap. 9En sy vrou het vir hom gesê: “Bly jy nog steeds vroom? Vervloek God en sterf!”

10Toe sê hy vir haar: “Jy praat nou soos ‘n vroumens sonder verstand. As ons die goeie van God aanvaar, moet ons nie ook die slegte aanvaar nie?”

Onder alles het Job met geen woord gesondig nie. (Job 2)

Skep nou ’n geleentheid waarin die gemeente kan nadink oor hulle eie ervarings van pyn en verlies.

Gebruik stilte as instrument met geleentheid vir stilgebed.

God se antwoord aan Job (hoofstukke 38-41) in sy vertwyfeling sluit in…
Ek sal vra, antwoord jy My.
4Waar was jy toe Ek
die aarde se fondamente gelê het?
5Wie het die aarde afgemeet?
Wie het ’n maatlyn
oor hom gespan?
8Wie het die see opgedam
toe hy begin uitborrel het?
22Was jy al by die plek
waar die sneeu gebêre word?
Het jy al die plek gesien
waar die hael gebêre word,

Job se berusting in die aangesig van God se almag
36Job het toe vir die Here gesê:
37“Ek is nie opgewasse teen U nie.
Hoe sou ek U kon antwoord?
Ek sal liewer stilbly.
38Ek het gepraat,
maar ek kon nie ’n antwoord
vind nie,
ek het weer geprobeer,
maar nou sal ek stilbly.”

As simbool van God se getroue teenwoordigheid word ’n kers aangesteek.

Gebed: ahv Psalm 26
Laat reg aan my geskied, Here…
Ek het op U vertrou
en nie getwyfel nie.
2Toets my, Here, keur my,
ondersoek my deur en deur.
3Ek laat my deur u liefde lei
en ek lewe deur u trou.
ek draai na u altaar toe
7om my loflied te sing
en van al u wonders te vertel.
8Here, u woonplek,
die tuiste van u heerlikheid,
het ek lief.
Red my en wees my genadig;
12dan is my pad vorentoe gelyk
en sal ek die Here prys
in die samekoms van die gemeente.
Amen

Geloofsbelydenis: (ahv Job 38 en 39)
Ek glo in die God van Job…
die God wat die aarde se fondamente gelê het;
wat die aarde afgemeet het…
Ek glo in God wat die see opgedam het toe hy begin uitborrel het;
in God wat die die môre beveel om te kom;
wat lig oor die hele aarde bring…
Ek glo in God wat die sneeu bêre;
wat die die hael opgaar;
wat vir die stortreën ’n pad oopkap en vir die donderwolke hulle koers bepaal…
Ek glo in God wat die Sewester met ’n band vasknoop
en die band van Orion kan losmaak;
wat die sterre op hulle tyd laat opkom…
Ek glo in God wat weerligstrale uitstuur;
wat verstand gee aan die ibis om teen die vloed te waarsku;
in God wie insig gee aan die haan om die dag aan te kondig…
Ek glo in God wat die tyd bepaal wanneer die klipspringers lam;
wat hulle die draagtyd bepaal;
wat aan die wildedonkie sy vryheid gee
en hom ongebonde vry laat loop loop…
Ek glo in God wat Sy Seun Jesus vir ons gestuur het;
ek glo in die vergifnis van sonde en
ek glo in die Heilige Gees.

Lied 260 “Ek glo vas in God die Vader vs 1 en 11”

Liedere

F127. “Vader, U Is Goed”  
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Verwondering / Geloofsbelydenis / Drie-Eenheid)
Oorspronklike titel: Vader, U bent goed
Teks en Musiek: Elisa Krijgsman
Afrikaanse vertaling: Faani Engelbrecht
© Unisong Music Publishers B.V. t/a Reli Music

Elke oomblik van my lewe, in voor- of teëspoed
aanbid ek U, Heer Jesus, en dank U vir u bloed
Ek vind krag in U, my Vader, as ek naby aan U bly
My hart en my gedagtes word warm as ek bely:

Refrein:
Vader, U is goed, U is heilig, U is liefde
Jesus, U is groot, U is sterker as die dood
Trooster, hierdie dag gee ek myself aan U
en ek sing met heel my hart: ‘k behoort aan U

Elke oomblik van my lewe, in die dag of in die nag,
wil ek u Woorde lees en dit dra diep in my hart
In die storms van my lewe, in die reën en in die kou’
vind ek skuilplek in u vrede, vind ek rusplek in u trou

F133. “As Ek Stil Word”  
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Toewyding, Verwondering, toetrede)
Teks en Musiek: Janie de Bruin
© MAR Gospel Music Publishers

As ek stil word
Om by U te wees
Bedaar my hart
Se donker vrees
As ek u hartklop
Teen my wang kan voel
Verstaan ek wat u Woord bedoel
U is wonderbare Raadsman
U is magtige God
U is ewige Vader
U is Vredevors

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Genadige God, ek is so bang om my toegeklemde hande oop te maak.
Wie sal ek wees as ek nie meer iets het om aan vas te hou nie? Wie sal ek wees as ek met leë hande voor U staan?
Help my, O Heer, om langsamerhand my hande oop te maak en so te ontdek dat ek meer is as wat ek besit.
Help my om oop te wees om dit wat U so genadiglik aan my wil gee te ontvang.
Help my, O God, om die onskatbare rykdom van U liefde vir my te ontvang. Maak my hart daarvoor gereed.
Amen
Vertaling van die gebed van Henri Nouwen, The Only Necessary Thing: Living a Prayerful Life (2)

Skriflesing: Job 1:1; 2:1-10

Prediking

Familie-oomblik

Arme Job… Die verhaal van Job vertel vir ons van al die slegte dinge wat hierdie goeie man oorgekom het.

Dit kon nie slegter gegaan het met Job nie…

Job was ’n baie ryk man… Ons word vertel hy het…
sewe seuns en drie dogters gehad 3en was ook die eienaar van sewe duisend stuks kleinvee, drie duisend kamele, vyf honderd paar trekosse, vyf honderd donkies en baie slawe. Onder die mense in die ooste was hy die belangrikste man.

Al hierdie goed wat hy gehad het, het hy verloor. Die 500 osse sowel as die 500 donkies is deur die mense van Skeba gesteel. Hulle het ook Job se slawe, wat die diere opgepas het doodgemaak.

Wat meer is, die 7 000 skape en bokke wat Job gehad het is deur weerlig doodgeslaan saam met die mense wat die diere opgepas het.

En toe Job nog wonder wat aangaan, kom die Galdeërs en steel die 3 000 kamele wat hy gehad het en maak die slawe dood wat die diere opgepas het.

En asof dit nie genoeg is nie, waai ‘n baie sterk wind die huis waarin sy kinders is, se mure om. En al 10 Job se kinders is dood in die ramp. Dit kon nie slegter gegaan het met Job nie…

Job se gesindheid was:
Die Here het gegee
en die Here het geneem.
Prys die Naam van die Here.”
Onder alles het Job nie gesondig of God iets verwyt nie.

Maar dit het slegter gegaan. Job het siek geword, baie siek. Hy het pynlike swere op sy vel gehad, van sy kop tot sy tone. Dit het verskriklik gejeuk- so erg dat hy hom met ’n glas (potskerf) gekrap het.

Die les wat ons by Job moet leer, is dat ons geduldig moet wees wanneer dinge vir ons sleg gaan. Jy kan weet dat God nie behae daarin het as slegte dinge met jou gebeur nie. Mag die Here vir ons die genade gee om soos Job op te tree. Sy woorde was:
“As ons die goeie van God aanvaar, moet ons nie ook die slegte aanvaar nie?”
Onder alles het Job met geen woord gesondig nie.

‘n Inkleurprent van Job met sy kinders en slawe en diere word aangeheg. Dit is gratis beskikbaar hier.

Preekriglyn

Dit was die aand van 28 Februarie 2005. Regter Joan Lefkow, ‘n regter in die Noordelike Distrik van Illinois, kom by haar huis aan in ‘n voorstad van Chicago, na ‘n dag se harde werk. Sy tref beide haar moeder en haar eggenoot dood aan. Hulle is vermoor. Beide slagoffers, Michael en Donna, is in die kop geskiet met ‘n .22 vuurwapen.

Hoewel DNA monsters gevind is, sou dit baie lank neem voor die moordenaar en die motief vir die moord sou blyk. Sy het nie geweet waarom die moorde plaasgevind het nie.

Daarom het Joan nie net haar man en haar moeder op daardie gruwelike dag in Februarie 2005 verloor nie. Haar gevoel van veiligheid en persoonlike sekuriteit was daarmee heen. Sy het ook haar huis verloor, want sy moes weens veiligheidsoorwegings verhuis. Sy het haar privaatheid verloor, want wagte is aangestel om haar op te pas. Dit was nie meer eenvoudig om boekwinkel toe te gaan, klere te gaan koop of vir ete uit te gaan nie. ‘n Vaste, rustige slaappatroon was daarmee heen. Haar drome en ideale vir aftrede, hulle toekomsplanne met kinders en kleinkinders moet nou sonder haar man voortgaan.

Nege maande later, in ‘n onderhoud met die Chicago Tribune, vertel sy van ‘n verhaal wat haar moeder altyd oor hulle plaas vertel het: “Vir tye was daar nie reën nie en dit was droog. Dan het dit weer gereën en almal was bly. Dan sou my pa by die deur uitkyk en sê: ‘Die Here gee, en die Here neem.'”

Haar pa se woorde op die plaas bly vir haar ‘n rigsnoer, vertel sy in die koerantonderhoud. Dit het haar gehelp om haar balans en haar geloof te behou. Sy sê: “As ‘n reisiger hier op aarde, voel ek nie ek kan aanspraak maak op baie nie. Ek glo regtig die Here gee en die Here neem. Dit is jou verantwoordelikheid om die teenspoed te aanvaar, net soveel soos jy graag die voorspoed aanvaar.” Daarmee haal sy natuurlik Job se woorde in Job 2:10 aan.

Op 10 Maart 2005 is ‘n selfmoordnota by ene Bart Ross, ‘n elektrisiën, gevind. Daarin beken hy moord op Joan Lefkow se eggenoot en moeder. Joan het teen hom uitgespraak gelewer in ‘n saak oor mediese wanpraktyke waarin hy die benadeelde klaer was. Sy DNA en vuurwapen het gepas by die getuienis wat op die moordtoneel gevind is.

Soveel verhale

Verliese soos hierdie gryp mens aan die hart. Daar is soveel hiervan. Dink maar net aan Chris Gouws, voormalige skoolhoof op Ugie wie se vrou, Helena, in 2012 in ‘n rooftog gedood is. ‘n Paar weke gelede is ook sy broer en moeder, Ruben en Hermien, in ‘n rooftog vermoor.

Hou in gedagte baie verliese is nie so dramaties nie, maar net so werklik en ingrypend. Nog voorbeelde: ‘n getroue lidmaat verloor sy werk en word saam met sy gesin in finansiële ellende gedompel. Of ‘n lidmaat sterf na ‘n lang en pynlike stryd teen kanker. ‘n Kind word begrawe na ‘n sinlose ongeluk.

Wat maak ons as Christene met hierdie soort situasies? Hoe bring ons ons geloof in God en intense lyding bymekaar uit? Ligte, maklike antwoorde werk nie. Wat maak ons met hierdie harde werklikhede? Hoe hou ons aan God vas, terwyl alles rondom ons krummel?

Om alles te verloor

Die boek Job handel oor hierdie geweldige vrae. In Job 1 lees ons hoe Job sy kinders en ander besittings verloor. In ons teks uit hoofstuk 2 verloor hy ook sy gesondheid.

Job se naam is in Arabies afgelei van die woord om terug te draai (bekeer). In Hebreeus verwys dit na ‘n persoon wat ernstig getoets is. Albei betekenisse vind neerslag in die inhoud van die boek. Aan die einde van die boek draai Job berouvol in sak en as terug na God as die Een wat in alles regverdig is, dit nadat hy amper bomenslik gely het.

Job word beskryf as iemand wat God dien in vroomheid en opregtheid. Sy toewyding aan God het twee fokuspunte gehad: sy begeerte was om in alles God te plesier en om Hom in niks te bedroef nie. Job was nie volmaak en sondeloos nie, maar sy vroomheid en opregtheid is en bly ‘n voorbeeld vir ons almal.

Hemelse vergadering

In Job 2:1 verskuif die toneel vir die tweede keer in twee hoofstukke van die aarde na die hemel. Hier word ‘n hemelse vergadering gehou. Die hemelwesens kom voor God staan waar Hy as Heerser / Koning op sy troon sit (vgl 1 Kon 22:19). Moderne mense het regtig probleme om hierdie hemelse “vergadering” as ‘n werklike gebeurtenis te verstaan. Sedert die opkoms van die natuurwetenskap voel sulke gebeure vir ons onwerklik. Dit is moeilik om te dink daar “bo” kan iets gebeur wat ons lewens beïnvloed. Vir ons is daar ‘n muur tussen die empiriese en geestelike wêrelde, en wonder baie selfs of laasgenoemde bestaan. Ons is natuurlik in die minderheid. Vir die meeste mense oor die wêreld is ons nie so afgesluit van ‘n geestelike werklikheid wat ‘n direkte impak op die lewe het nie. In Afrika is daar beslis nie sulke kompartemente vir mense nie.

Een gedagte wat duidelik deur hierdie toneel gekommunikeer word, is dat God die finale mag oor alle geestelike wesens het. As Hy hulle roep om voor Hom te verskyn, kan hulle dit nie weier of ignoreer nie.

Die Satan was ook tussen hierdie hemelwesens. Orals in die eerste twee hoofstukke van Job word hierdie naam as titel eerder as eienaam gebruik. Die titel dui op sy rol as teenstander en aanklaer van die mens. Hierdie rol kom veral duidelik na vore in Sagaria 3:1.

Satan in gesprek met God

Op God se vraag oor waar hy vandaan kom, antwoord die Satan dat hy die wêreld deurkruis het. Uit hierdie gedeelte blyk dit dus dat hy op daardie stadium van die geskiedenis toegang tot God gehad het en vryelik op die aarde kon rondbeweeg. Anders as die engele wat God gehoorsaam, is sy doel om verwydering te bring tussen God en die kroon van sy skepping. Sy rondbeweeg het ‘n vernietigingsmotief. Dit herinner aan Jesus se woorde in Johannes 10 oor die dief wat kom om te steel, te slag en uit te roei.

God “steek nie vir Job weg” vir die Satan nie, maar plaas hom juis in die kollig: “En my dienaar, Job, het jy hom nou gesien?” Hierdie gedeelte moet gelees word in die lig van Job 1:8-22. God het Job se karakter as ‘t ware in sy vertoonkas geplaas. Die Satan se reaksie was dat Job nie vir God gedien het uit ‘n suiwer hart nie, maar omdat dit vir hom baie persoonlike voordeel ingehou het. Sy uitdaging was dat Job sy rug op God sou draai sodra sy voorspoed in teenspoed verander. God het met duidelik vasgestelde perke aan die Satan die mag gegee om Job se voorspoed weg te neem. Satan het dit ook met bose intensie gedoen, maar Job se reaksie het sy argument ongeldig bewys. Ten spyte van onuitspreeklike lyding, het Job nie gesondig of God van iets verwyt nie.

Getrou aan sy aard het die Satan met ‘n nuwe, slinkse argument gekom om Job se motiewe te bly bevraagteken. Sy argument is dat ‘n mens alles sal opgee wat hy besit of deel aan het, solank hy net sy eie lewe kan behou. Sodra sy lewe in gevaar kom of daar ‘n direkte aanslag op sy lewe is, sal die vroomste mens sy rug op God draai.

Weereens doen God die byna ondenkbare. Hy gee mag aan die Satan om Job direk te teiken. Hy stel in dieselfde asem ook weer ‘n duidelike grens: “Net sy lewe mag jy nie neem nie.” As God die brullende leeu nie beperk nie, sal hy die mens verskeur. Met kenmerkende boosheid druk die Satan die grens tot op die uiterste.

Verskeie pogings is aangewend om die siekte te identifiseer wat Job getref het. Wat die siekte ook al was, dit was uiters pynlik en het mense, asook vir Job, met walging gevul. Die primêre doel van die Satan met hierdie fisieke ellende was om Job so desperaat te maak dat hy God sou vloek.

Job se vrou gee moed op

Die prentjie hier van Job is inderdaad ontstellend. As man wat al sy besittings en sy familie verloor het, sit hy op ‘n ashoop en krap sy swere met ‘n potskerf. Alles aan en rondom hom getuig van uiterste ellende. Op hierdie punt kom Job se volgende groot versoeking. Sy vrou, die enigste een van sy familie wat oorgebly het, moedig hom aan om God te vloek en te sterf. Dit word natuurlik ‘n enorme beproewing vir Job.

Weereens bewys Job die Satan as verkeerd. Waar die aanklaer wag op bitter woorde en opgee van sy geloof, reageer Job juis op die teenoorgestelde manier. Hy berispe sy vrou en wys daarop dat ‘n mens die goeie en slegte uit God se hand moet aanvaar. Tot op hierdie punt het hy nie gesondig met enige iets wat hy gesê het nie.

Hier is ‘n uitnemende voorbeeld van geloof in God wat staande gebly het in ‘n tyd toe alles in en om Job kon uitskree dat genoeg, genoeg is en dat hy nou sy rug kan draai op die God wat hom oorweldig het met bitter omstandighede.

Waarom glo mense in God?

Die vraag is: Hoekom glo mense in God? Gaan dit oor die dinge wat hulle daaruit ontvang in terme van materiële seën, gesondheid en goeie omstandighede, of gaan dit oor God self? Is ons bereid om steeds op God te vertrou wanneer ons lewe in ‘n diep donker bos in draai en ons nie sien waar die uitgang is nie?

In Job 1 en 2 word presies hierdie vrae aangeraak. Job as Godvresende man, wat God in alles wil dien en eer, beleef die ergste denkbare omstandighede. Wat hy nie weet nie, is dat die Satan juis die aanklag voor God gebring het dat Job (en per implikasie alle mense wat in God glo) Hom net dien vir die persoonlike voordeel wat hulle daaruit trek.

Job bewys die Satan verkeerd, maar dit is die vraag waarby ons vir ‘n oomblik moet stilstaan. Glo ons in God vir wie Hy is of vir wat ons van Hom kan ontvang? Daarmee saam, is ons bereid om aan God vas te hou wanneer niks sin maak nie en dit voel of Hy sy rug op ons gedraai het?

Ons gaan in die volgende weke verder by hierdie aangrypende boek stilstaan. Ons gaan ontdek hoe Job verder beproef is, hoe oppervlakkige antwoorde op lyding ontmasker word, en hoe Job bly glo omdat hy vashou aan God. Sy verhouding met God is die grond van sy geloof, nie die voordele wat geloof moontlik inhou nie.

Moderne redes vir geloof

‘n Reeks onlangse navorsingsprojekte onder Amerikaanse tieners en jong volwassenes teken ‘n verstommende van die redes vir geloof. Daar is geen rede om te dink hierdie prentjie is nie ook op Suider-Afrika van toepassing nie.

Die navorsing, gepubliseer in die boeke Soul Searching en Souls in Transition som moderne geloof as volg op:

  • Daar bestaan ‘n God wat die wêreld geskep het, dit orde en menslike lewe op aarde versorg;
  • God wil hê mense moet goed, nice en regverdig teenoor mekaar wees, soos die Bybel en die meeste groot godsdienste dit leer
  • Die sentrale doel van die lewe is om gelukkig te wees en goed oor jouself te voel
  • God hoef nie regtig betrokke by jou lewe te wees nie, behalwe as jy God nodig het om ‘n probleem op te los
  • Goeie mense gaan hemel toe wanneer hulle sterf.

Die navorsers som hierdie geloof as Moralistiese Terapeutiese Deïsme op:

  • Deïsme: God is ver en is onbetrokke. God beïnvloed nie die lewe nie.
  • Terapeuties: die doel van godsdiens is terapeuties, godsdiens moet ons help om gelukkig te wees en goed te voel oor onsself (ons het nie ‘n verlosser nodig nie).
  • Moralisties: ons raak gelukkig deur goeie keuses te maak. Ons moet nice wees en regverdig. As ons die lewe volgens die regte reëls benader, gaan ons daarom hemel toe. (Daar is nie ‘n krisis in ons verhouding met God nie, en ons het nie verlossing nodig nie).

Die meeste jong volwassenes (18 – 23) meen hulle is in beheer van hul lewens, en moet net die regte reëls kies vir hul lewe. Daarvoor kan jy amper enige godsdiens gebruik, bv. ‘n paar versies uit die Bybel kies en al die lawwe dele van die Bybel ignoreer.

Hierdie eenvoudige benadering raak egter vinnig problematies sodra die jong volwassenes ouer word. Hulle weet die lewe is ingewikkelder as dit, maar hulle bly ankerloos omdat hulle nie in ‘n lewende verhouding met God ingebed is nie.

So ‘n geloof wat net in eie geluk belangstel, en regverdig teenoor ander wil wees om hemel toe te gaan, kan nie krisisse deurstaan nie.

Mens hoop en bid so dat hierdie jong mense in geloofsgemeenskappe opgeneem kan word wat die diep, persoonlike gronde van geloof en van ons aanneming tot kinders van God deur die kragtige werk van die Heilige Gees aan hierdie jongmense kan beliggaam.

Die boek Job is ‘n uitnodiging – soos sal blyk ons die boek oor die volgende weke voor ons ontvou – om die diepte, misterie en lewende teenwoordigheid van God te ontdek. Juis deur sy verliese en pyn leer Job God op ‘n veel dieper manier ken. Wat hom dra, is die lewende verhouding met God waarop hy nie kan teruggaan, en dit verwerp nie.

Wees getroos

Miskien voel jy dat jy nooit by Job se standaarde kan uitkom nie. Wees getroos. Die verhaal van Job gaan nie in die eerste plek oor Job se groot geloof nie, maar oor God wat in beheer van die sigbare en onsigbare, die verstaanbare en onverstaanbare is. God bly geloof by Job voed, sodat Job steeds in God kan bly glo. Hy was deurentyd bewus van Job se situasie en Hy het duidelike grense aan die Satan gestel wat laasgenoemde nie kon oortree nie. Soos wat Hy toe gedoen het, so doen Hy vandag nog.

Ons leef ook in ‘n ander tydvak as Job. Intussen het God Hom in Jesus kom openbaar. As God se eniggebore Seun het Hy in ons menswees kom deel en ‘n lydensbeker gedrink wat bitterder was as enige iets wat enige mens nog ooit moes verduur. God staan dus nie apaties en koud teenoor ons lyding nie. Verder het ons ook die Heilige Gees ontvang wat in ons bly en ons van binne af oortuig dat geen dood of swaarkry of lyding ons kan skei van God se liefde nie. Die God van Job is dus ook ons God wat nie altyd al die antwoorde op ons moeilike vrae gee nie, maar wat ons lyding ken, die angel daarvan aan die kruis getrek, en ons in verhouding met Hom vashou.

Onthou wie God is

Wanneer ons vandag Job 2:1-10 oordink, moet ons nie vashaak by die omstandighede wat ons in diep ellende intrek nie. Natuurlik moet ons dit hanteer en dit in worsteling na God bring.

Terwyl ons dit doen, moet ons onthou wie God is. Job gaan ons baie hiermee help. Die pyn gaan nie skielik verdwyn nie. Ons kan egter verseker weet dat God sy oog op ons het en die lewenspad saam met ons stap. Hierdie is nie ligte woorde wat onsensitief oor mense se swaarkry gly nie. Dit is die waarheid wat Job ons wil leer en wat juis in ons donkerste oomblikke vir ons lig kan bring om bietjie dieper te sien. God sien ons raak en sal ons nooit begewe of verlaat nie.

Mag die Here ons genade gee om regtig soos regter Joan Lefkow te bly sê: “As ‘n reisiger hier op aarde, voel ek nie ek kan aanspraak maak op baie nie. Ek glo regtig die Here gee en die Here neem. Dit is jou verantwoordelikheid om die teenspoed te aanvaar, net soveel soos jy graag die voorspoed aanvaar.”

Agter hierdie berusting sit ‘n die geloof en innige blik op wie God is.

God stuur ons om te leef

Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 511 “Lei U ons lig vs 1,2”

Seën
24Die Here sal julle seën
en julle beskerm;
25die Here sal tot julle redding
verskyn
en julle genadig wees;
26die Here sal julle gebede verhoor
en aan julle vrede gee!
(Numeri 6)
of
Die Here sal julle seën en julle oppas.
Die Here sal met deernis na julle kyk en baie goed vir julle wees.
Die Here sal julle gebede beantwoord en vir julle vrede gee.
(Numeri 6:24vv Die Boodskap)

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.