Negentien Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Die tema van hierdie week se tekste is die oproep om vas te staan en getrou te bly aan die Here te midde van versoekings om moedeloos te word en vals gode (vals bronne van sekerheid) te aanbid. Eksodus 32 vertel die verhaal van die goue kalf. Psalm 106 vertel hierdie en talle ander verhale om te wys hoe God die volk se nood en sonde telkens deur redding en vergifnis verlig het. Eksodus 32 en Psalm 106 beklemtoon die rol wat Moses gespeel het as middelaar tussen die sondige volk en hulle toornige God. Filippense 4 moedig die gemeente aan om in moeilike omstandighede met blydskap vas te staan en getrou te bly. Matteus 22 beklemtoon dat die volk van God moet reageer op bogenoemde uitnodiging, want baie “is immers geroep, maar min is uitverkies”. 

Ander tekste

Psalm 106:1-6, 19-23
Wie kan sy lof ten volle verkondig?
106 Prys die Here!
Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie!
2Wie kan die magtige dade van die Here
onder woorde bring?
Wie kan sy lof ten volle verkondig?
3Dit gaan goed met mense
wat die reg handhaaf,
wat by elke geleentheid
geregtigheid doen.
4Dink aan my, Here,
in u liefde vir u volk,
sluit my ook in by u redding,
5dat ek die voorspoed
van u uitverkorenes mag aanskou
en mag deel in die blydskap van u volk,
my mag verheug
saam met dié wat aan U behoort.
6Ons het gesondig,
net soos ons voorvaders,
ons het verkeerd gedoen,
ons is skuldig.

19By Horeb het hulle ’n kalf gemaak,
voor ’n god van metaal gekniel.
20Hulle het die magtige teenwoordigheid
van God
verruil vir die beeld van ’n bees
wat gras vreet.
21So het hulle vir God, hulle redder,
vergeet,
Hy wat groot dinge in Egipte
gedoen het,
22wonderdade in die land van Gam,
magtige dade by die Rietsee.
23Die Here wou hulle verdelg,
maar Moses, sy uitverkorene,
het by Hom vir hulle in die bres getree
om sy gramskap af te keer,
sodat Hy hulle nie vernietig het nie.

Filippense 4:1-9
4 Daarom, my broers, moet julle vas staan en getrou bly aan die Here. Ek het julle baie lief en verlang na julle. Julle is my blydskap en my kroon.

Die Christelike lewenswandel
2Ek vermaan vir Euodia en ek vermaan vir Sintige om eensgesind te wees in die Here. 3Ja, ek vra jou ook, getroue medewerker, wees hierdie vroue behulpsaam. Hulle het saam met my die stryd gevoer in diens van die evangelie, net soos Klemens ook en my ander medewerkers, wie se name in die boek van die lewe staan.

4Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! 5Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby. 6Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. 7En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.

8Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is—watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees—daarop moet julle julle gedagtes rig. 9En wat julle van my geleer en ontvang het, en gehoor en gesien het, dit moet julle doen. En God wat vrede gee, sal by julle wees.

Matteus 22:1-14
Die gelykenis van die bruilof
(Luk 14:15–24)
22 Jesus het weer in gelykenisse met die mense gepraat. 2Hy het gesê: “Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met ’n koning wat vir sy seun ’n bruilofsfees voorberei het. 3Hy het sy slawe uitgestuur om die genooides na die bruilof te roep, maar hulle wou nie kom nie. 4Toe stuur hy weer ander slawe met die opdrag: ‘Sê vir die genooides: Die maaltyd is reg; my beeste en vetgemaakte vee is geslag, en alles is gereed. Kom na die bruilof toe.’

5“Maar die genooides het hulle nie daaraan gesteur nie, en die een het na sy stuk grond en ’n ander een na sy werkplek toe gegaan. 6En party het sy slawe gegryp en mishandel en doodgemaak. 7Die koning het kwaad geword en sy leër gestuur om daardie moordenaars dood te maak en hulle stad aan die brand te steek.

8“Toe sê hy vir sy slawe: ‘Alles staan klaar vir die bruilofsfees, maar die genooides was dit nie werd nie. 9Gaan nou uit na die straathoeke en nooi soveel mense as wat julle teenkom, na die bruilofsfees toe.’10Toe het daardie slawe uitgegaan op die strate en almal wat hulle gekry het, bymekaargemaak, slegtes sowel as goeies. So het die feessaal vol gaste geword.

11“Toe die koning ingaan om na die gaste te kyk, sien hy daar ’n man wat nie bruilofsklere aan het nie, 12en hy sê vir hom: ‘Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder bruilofsklere aan?’ Maar die man kon niks antwoord nie. 13Toe sê die koning vir sy dienaars: ‘Bind sy hande en sy voete vas en gooi hom uit in die diepste duisternis daarbuite. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners.’

14“Baie is immers geroep, maar min is uitverkies.”

Fokusteks

Eksodus 32:1-14
Die goue kalf
32 Toe die volk sien dat Moses talm en nie van die berg af kom nie, het hulle om Aäron saamgedrom en vir hom gesê: “Kom maak vir ons ’n god dat hy ons kan lei. Hierdie man Moses het nou wel vir ons uit Egipte laat wegtrek, maar ons weet nie wat van hom geword het nie.”

2Aäron het hulle geantwoord: “Haal die goue oorringe van julle vrouens, julle seuns en julle dogters se ore af en bring dit vir my.”

3Die hele volk het toe die goue ringe van hulle ore afgehaal en dit vir Aäron gebring. 4Hy het dit van hulle ontvang, dit verwerk en daarvan ’n beeld in die vorm van ’n bulkalf gemaak.
Toe sê die volk: “Hier is jou God wat jou uit Egipte bevry het, Israel!”

5Toe Aäron dit hoor, het hy ’n altaar voor die beeld gebou en uitgeroep: “Môre is daar fees vir die Here!”

6Vroeg die volgende môre het die volk brandoffers en maaltydoffers geoffer. Daarna het die volk begin feesvier en losbandig te kere gegaan. 7Toe sê die Here vir Moses: “Klim van die berg af, want jou volk wat jy uit Egipte laat wegtrek het, het iets vreesliks gedoen. 8Hulle het gou die pad verlaat wat Ek vir hulle aangewys het en hulle het vir hulle ’n beeld van ’n bulkalf gemaak. Nou aanbid hulle hom en bring vir hom offers en sê: Hier is jou God wat jou uit Egipte bevry het, Israel.”

9Verder het die Here vir Moses gesê: “Ek het gesien dat dit ’n opstandige volk is hierdie. 10Moet My nie probeer keer nie. Ek is toornig op my volk en Ek wil hulle vernietig. Vir jou sal Ek dan tot ’n groot nasie maak.”

11Maar Moses het by die Here sy God gepleit en gesê: “Here, waarom is U toornig op u volk vir wie U deur u groot mag en met kragtige dade uit Egipte bevry het? 12Waarom moet die Egiptenaars kan sê: ‘Hy het die Israeliete bevry met die bose plan om hulle tussen die berge dood te maak en hulle heeltemal te vernietig’?

“Laat u toorn bedaar en wees u volk genadig. Moet tog nie dié ramp oor hulle laat kom nie. 13Dink aan wat U met ’n eed beloof het aan u dienaars, aan Abraham, Isak en Israel toe U vir hulle gesê het: Ek sal julle nageslag so baie maak soos die sterre aan die hemel. Die hele landstreek wat Ek belowe het, sal Ek vir julle nageslag gee om vir altyd in besit te neem.”

14Toe het die Here daarvan afgesien om die ramp waarvan Hy gepraat het, oor sy volk te bring.

15Daarna het Moses omgedraai en van die berg af gegaan met die twee plat klippe waarop die getuienis was, in sy hand. Aan weerskante was daar op hulle geskryf, 16en dit was die werk van God. Dit was ’n inskripsie wat deur God op die klippe gegraveer is.
17Toe Josua die volk hoor lawaai, sê hy vir Moses: “Daar is oorlog in die kamp!”
18Maar Moses het gesê:
“Dit klink nie na oorwinning nie,
dit klink nie na neerlaag nie,
wat ek hoor, klink na feesviering.”
19Toe Moses naby die kamp kom en die kalf en die dansery sien, het hy woedend geword en die twee plat klippe in sy hand flenters gegooi teen die voet van die berg. 20Daarna vat hy die kalf wat hulle gemaak het, gooi dit in die vuur, maal dit fyn soos stof en strooi dit op die water. Toe laat hy die Israeliete die water drink.

21Moses het vir Aäron gesê: “Wat het hierdie volk jou aangedoen dat jy hulle hierdie groot sonde laat doen het?”

22Maar Aäron antwoord: “U moenie kwaad wees nie. U weet self hoe sleg die volk is. 23Hulle het vir my gesê: ‘Maak vir ons ’n god dat hy ons kan lei. Hierdie Moses het nou wel vir ons uit Egipte laat wegtrek, maar ons weet nie wat van hom geword het nie.’24Toe sê ek vir hulle: ‘Dié wat goud aan hulle het, moet dit afhaal en vir my gee.’ Ek het dit in die vuur gegooi, en hierdie bulkalf het daaruit gekom.”

25Toe Moses hoor dat dit die volk is wat op loop gesit het, en dat dit Aäron is wat hulle op loop laat sit het, sodat hulle ’n spot by hulle vyande geword het, 26het hy by die ingang van die kamp gaan staan en gesê: “Wie vir die Here is, kom hier na my toe!”
Al die Leviete het om hom bymekaargekom.
27Moses sê toe vir hulle: “So sê die Here die God van Israel: Elkeen moet sy swaard vat, kruis en dwars deur die kamp gaan en doodmaak, ongeag of dit familie, vriende of bure is.”

28Die Leviete het gedoen wat Moses gesê het, en daardie dag is sowat drie duisend om die lewe gebring.

29Toe het Moses vir die Leviete gesê: “Vandag is julle gewy vir diens aan die Here, want julle het selfs teen seuns en broers opgetree. Om hierdie rede gee die Here vandag aan julle hierdie besondere voorreg.”

30Die volgende dag het Moses vir die volk gesê: “Julle het ’n ernstige sonde gedoen, maar ek klim nou na die Here toe op en miskien kry ek by Hom vir julle vergifnis vir julle sonde.”

31Moses het toe na die Here toe teruggegaan en gesê: “Hierdie volk het ’n ernstige sonde gedoen deur vir hulle ’n god van goud te maak. 32Vergewe tog hulle sonde. As dit nie kan nie, moet U my naam maar uitvee uit die boek wat U geskrywe het.”

33Maar die Here het hom geantwoord: “Nee, Ek sal hulle wat teen My gesondig het, se name uit my boek uitvee. 34Gaan lei jy nou die volk na die plek toe waarvan Ek met jou gepraat het. My engel sal voor jou uit gaan. Op die dag dat Ek rekenskap eis, sal Ek die volk straf oor hulle sonde.”

35Die Here het die volk met ’n ramp getref oor die kalf wat Aäron op hulle aandrang gemaak het.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 512 “Nader, my God, by U”

Aanvangswoord: Psalm 106

Seëngroet  

Lied 202 “Prys Hom, die Hemelvors”

Wet: (Uit Eksodus 20)

Skuldbelydenis: Psalm 106

Vryspraak: Filippense 4

Riglyn om te leef Filippense 4

Apostoliese Geloofsbelydenis

Loflied 245 “Ek wat vergifnis, Heer, ontvang het”

Epiklese: (Uit Psalm 19)

Skriflesing: Eksodus 32:1-14

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 203 “Loof die Here, al wat lewe”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1.  Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
of
VONKK 277 – U is die lig wat deur die donker skyn
Teks: Hannes van der Merwe 2014 ©
Melodie: HIGHLAND CATHEDRAL – Uli Rover en Michael Korb
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2014 (Pro Deo)
Musikale verryking 1en 2: Gerrit Jordaan 2014 ©
© Teks, orrelbegeleiding en musikale verrykings: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Church Hymnary Trust, Admin SCM-Canterbury Press Ltd. Met toestemming gebruik.

1. U is die lig wat deur die donker skyn.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied  512  “Nader, my God, by U”
1. Nader, my God, by U,
nog naderby.
U is om Christus wil
Vader vir my.
U liefde bly my by –
nader, my God, by U,
nader, my God, by U,
nog naderby.

2. U ken my angs en vrees,
U staan my by.
U lei my deur u Gees,
maak my weer vry.
U Woord verseker my:
Nader, my God, by U;
nader, my God, by U,
nog naderby.

3. Waar hartseer, pyn en leed
my weerloos laat,
sal U my nooit vergeet;
my nooit verlaat.
Deur lyding bring U my
nader, my God, by U,
nader, my God, by U,
nog naderby.

Aanvangswoord:Psalm 106
Die hemel getuig van die mag van God,
die uitspansel maak die werk van sy hande bekend.
Prys die Here! Loof die Here, want Hy is goed,
aan sy liefde is daar geen einde nie (uit Ps 19; 106).

Seëngroet  
Aan die gemeente van …………………..wat aan God die Vader en die Here Jesus Christus behoort.
Genade en vrede vir julle! (1 Tess 1:1)

Lied 202 “Prys Hom, die Hemelvors”
1. Prys Hom, die Hemelvors,
op sy verhewe troon,
loof Hom aan Wie die hemelkoor
hul hulde steeds betoon.
Aan Hom, die Skepperheer,
kom toe die eer en mag.
Sy Woord het alles voortgebring,
roem ewig sy gesag.

2. Loof Hom, die Lam van God,
want Hy’s vir ons geslag.
Hy het ons met sy bloed gekoop;
besing sy reddingsmag.
Uit elke stam en taal
het Hy ons vrygemaak;
sy koninkryk, sy priesterdom –
dít het Hy ons gemaak.

3. Lof, eer en heerlikheid,
die wysheid en die krag
behoort aan God daar op die troon
en aan die Lam, geslag.
Tot in die ewigheid
sal ons die lied laat hoor;
die hele skepping oraloor roep
“Amen” in ‘n koor.

Wet: (Uit Eksodus 20)
Voorganger: Gemeente, wie is die Here?
Gemeente: Die Here is ons God wat sy volk uit slawerny bevry.

Voorganger: Gemeente, hoe leef ons vry van slawerny?
Gemeente: Deur naas die Here geen ander gode te aanbid nie.

Voorganger: Gemeente, wat beteken dit om geen ander gode te aanbid nie?
Gemeente: Dat ons ons diepste vertroue in niks anders as die Here ons God sal te stel nie.

Voorganger: Gemeente, hoe bewys ons ons onverdeelde trou aan die Here?
Gemeente: Deur ’n diep ontsag vir God te hê en deur sy Naam nie ligtelik op te neem nie.

Voorganger: Gemeente, hoe leef ons sodat ons nie op nuwe maniere slawe van die mark word nie?
Gemeente: Deur in God te rus en deur die sabbat te onderhou.

Voorganger: Gemeente, hoe moet ons teenoor ons ouers en ouer mense optree?
Gemeente: Ons moet hulle eer en respekteer.

Voorganger: Gemeente, hoe leef mense wat deur God vrygemaak is om waarlik lief te hê?
Gemeente: Deur nie moord of egbreuk te pleeg nie.

Deur nie te steel of vals getuienes af te lê nie.
Deur nie dít wat vir iemand anders kosbaar is, te begeer nie

Skuldbelydenis: Psalm 106
4Dink aan my, Here,
in u liefde vir u volk,
sluit my ook in by u redding,
5dat ek die voorspoed
van u uitverkorenes mag aanskou
en mag deel in die blydskap van u volk,
my mag verheug
saam met dié wat aan U behoort.
6Ons het gesondig,
net soos ons voorvaders,
ons het verkeerd gedoen,
ons is skuldig.

Vryspraak: Filippense 4
6Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. 7En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.

Riglyn om te leef Filippense 4
8Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is—watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees—daarop moet julle julle gedagtes rig. 9En wat julle van my geleer en ontvang het, en gehoor en gesien het, dit moet julle doen. En God wat vrede gee, sal by julle wees.

Apostoliese Geloofsbelydenis
Ek glo in God die Vader, die Almagtige,
die Skepper van die hemel en die aarde.
En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
wat ontvang is van die Heilige Gees,
gebore is uit die maagd Maria;
wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is,
gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
wat opgevaar het na die hemel
en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,
van waar Hy sal kom om te oordeel
dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.
Ek glo in die Heilige Gees.
Ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk,
die gemeenskap van die heiliges;
die vergewing van sondes;
die opstanding van die vlees
en ’n ewige lewe.

Loflied 245 “Ek wat vergifnis, Heer, ontvang het”
1. Ek wat vergifnis, Heer, ontvang het,
sing dankbaar my verlossingslied.
U weet hoe ek na U verlang het
U het u guns my aangebied.

Ek loof en prys U deurentyd,
ek loof en prys U deurentyd
en roem u groot barmhartigheid,
en roem u groot barmhartigheid.

2. Ek was verlore in my sonde
en van die goeie weg vervreem.
Tog doen die Heer aan my die wonder
om my as kind terug te neem.

Ek loof en prys U deurentyd,
ek loof en prys U deurentyd
en roem u groot barmhartigheid,
en roem u groot barmhartigheid.

3. O God wat ryk is aan ontferming,
weerhou genade nooit van my,
maar hou my steeds in u beskerming
by U sal ek vir altyd bly!

Ek loof en prys U deurentyd,
ek loof en prys U deurentyd
en roem u groot barmhartigheid,
en roem u groot barmhartigheid.

Liedere

F2. “Met Ons Lewens, Wil Ons U Eer”
(Rubriek:  FLAM Gemeentesang – Toewyding)
Oorspronklike titel: Lord, be glorified
Teks en musiek: Bob Kilpatrick
Afrikaanse vertaling: 2005  Jacques Louw
© 1978  Bob Kilpatrick Ministries

Met ons lewens wil ons U eer,  Christus, ons Heer.
Met ons lewens wil ons U eer, vandag.

In ons huise wil ons U eer, Christus, ons Heer.
In ons huise wil ons U eer, vandag.

In u kerk, Heer, wil ons U eer, Christus, ons Heer.
In u kerk, Heer, wil ons U eer, vandag.

In u wêreld wil ons U eer, Christus, ons Heer.
In u wêreld wil ons U eer, vandag.

F7. “Here, Ek Vergeet So Gou”
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Skuldbelydenis)
Oorspronklike titel: Lord, Have Mercy
Teks en musiek: Steve Merkel
Afrikaanse vertaling: 2005  Breda Ludik
© 2000 Integrity’s Hosanna Music
(Opgeneem op FLAM, vol 1)

Here, ek vergeet so gou
u woorde en beloftes,
en die vuur wat in my hart
gebrand het, is nou flou.
Met ‘n hart vol ongeloof
bedink ek aardse wysheid.
Vergewe tog my louheid,
ontvlam my hart se vuur.

Refrein:
Heer, vergewe, wees genadig.
Jesus, wees genadig.
Heer, vergewe, wees genadig.
Christus, wees genadig.

Ek het soms ook neergekniel
voor mensgemaakte gode
en gegaan op paaie wat
my ver van U wegneem.
Maar ek keer weer terug na U
en pleit om u genade.
Vergewe tog my sonde
en neem my in u huis.

Refrein:

Ek het terug verlang na U,
u liefde en genade;
na die stroom van goedheid
wat vloei van waar U woon.
Nou kom buig ek voor U neer,
want U is nog my Vader.
Ek is nog ‘n kind van U;
ek kan U nie vergeet.

Refrein:

God praat met ons en ons luister

Epiklese: (Uit Psalm 19)
Voorganger: Die woord van die Here is volmaak:
Gemeente: Dit gee lewe.

Voorganger: Die onderwysing van die Here is betroubaar:
Gemeente: Dit gee wysheid aan dié wat nog onervare is.

Voorganger: Die bevele van die Here dui die regte koers aan:
Gemeente: Dit bring blydskap.

Voorganger: Die gebod van die Here is helder:
Gemeente: Dit gee insig.

Voorganger: Die eise van die Here vir sy diens is goed:
Gemeente: Dit staan altyd vas.

Voorganger: U dienaar laat hom daardeur leer.
Gemeente: Wie dit onderhou, groot is sy beloning

Skriflesing: Eksodus 32:1-14

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Vertel die verhaal van die goue kalf op dramatiese manier.

Maak ’n goue kalf van klei met die kinders. Gebruik gekoopte klei of maak klei…

Gebruik geel klei, laat die kinders kalwers maak, laat hulle die kalwers stukkend gooi!

Kleiresep: 2 koppies meelblom; 2 koppies water; 1 koppie sout; 2 eetlepels kookolie; 4 eetlepels kremetart; Koekleursel

 Meng al die bestandele goed.  Kook in ‘n kastrol oor lae hitte terwyl aanhoudend geroer word, tot styf.  Voeg koekkleursel by, indien verkies en knie vir 1 – 2 minute tot glad.  Bêre in lugdigte houer.  Moenie meer as een mengsel gelyk maak nie. (Met erkenning aan Rethie van Niekerk)

Vir kindertyd

Aanbidding van die goue kalf: Voorbeeld 1, Voorbeeld 2 en Voorbeeld 3

Preekriglyn

Gevulde stilte

In teenstelling met die geraas en rumoer van die lewe, is daar ‘n soort stilte wat welkom en aangenaam is. Dit is ‘n gevulde stilte wat kos vir ‘n mens se siel is. Dit is die soort stilte wat soms tussen mense kom lê wat mekaar jare reeds ken, ‘n stilte gevul met teenwoordigheid, aanvaarding en begrip.

Die teenwoordigheid van God, bring ook hierdie soort stilte in ‘n mens tot stand. Daarvan hoor ons iets in Psalm 62:2 “Ja, my siel is stil tot God; van Hom is my heil” (OAV). ‘n Mens word ook bewus van hierdie gevulde stilte in Psalm 131:2 (OAV) “Waarlik, ek het my siel tot bedaring gebring en stilgemaak; soos ‘n gespeende kind by sy moeder.” Die NAV vervang stilte met rus: “Ek het rus en kalmte gevind. Soos ‘n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind.”

Woestynstilte

Teenoor hierdie stilte in die teenwoordigheid van God, is daar ‘n ander soort stilte … Wanneer God skynbaar afwesig is en sy Woord “skaars” word (1 Sam 3:1, OAV), ontstaan daar ‘n stilte wat later onuithoudbaar word. Teenoor ‘n gevulde stilte, word hierdie stilte deur leegheid, eensaamheid en benoudheid gekenmerk. Hierdie doodse stilte kan ook tussen mense bestaan, selfs al maak hulle soms nog geluide teenoor mekaar. Teenoor die stilte in die teenwoordigheid van God, is dit die stilte van die graf!

In Bybelse beeldspraak kan ons hiervan praat as die stilte van die woestyn. In die Bybel is die woestyn beeld van ‘n plek van beproewing en versoeking. Dit is ‘n moeilike plek om staande te bly. Dink aan Matteus 3 wat beskryf hoe die Gees van God op Jesus neerdaal terwyl ‘n stem uit die hemel Hom as God se geliefde Seun aanwys. Onmiddellik daarna (Matt 4) word Jesus deur die Heilige Gees “die woestyn” in gelei om daar deur “die Bose” versoek te word.

Versoeking

Die woestyn was in Israel se geskiedenis ook die plek van ‘n ander versoeking. Hiervan hoor ons in Eksodus 32. ‘n Paar hoofstukke vroeër, in hoofstuk 24, verneem ons hoedat Moses die berg uit is en daar in ‘n wolk verdwyn het. In Bybelse beeldspraak is wolke aanduidings of tekens van God se verborge teenwoordigheid. “Wolke en donkerheid is rondom Hom”, lees ons in Psalm 97:2 (OAV). Dit herinner aan Jesus se hemelvaart, waar ook sprake is van ‘n berg en ‘n wolk waarin Jesus voor die oë van sy volgelinge verdwyn.

Hier in Eksodus 32 lees ons hoe Moses vir die volk “verdwyn” het. Hy is in die Ou Testament ‘n middelaarsfiguur, ‘n tussenganger tussen God en sy volk. Moses maak as’t ware God se stem vir die volk hoorbaar en bekend. Vandat hy die berg opgegaan het, is hy egter afwesig. Sy plek is leeg, sy stem is stil. Om sonder ‘n leier alleen gelaat in die woestyn te wees, is nie ‘n grap nie. Dit is ‘n ernstige saak.

Die woestynstilte begin algaande om die volk te versmoor. In die wildernis en woestyn is daar wel heelwat geluide, veral snags, maar dit maak die leegheid nog meer skrikaanjaend en spookagtig. Daar is baie geluide, maar nie een woord wat vir ‘n mens die pad kan wys nie, nie ‘n betekenisvolle klank wat vir jou koers aanwys nie.

Die volk het Moses die berg sien opgaan, maar nou lyk dit of hy nie terugkom nie. Hulle het hom die wolk sien binnegaan, maar nou lyk dit asof die wolk hom ingesluk het. Hulle sê vir Aäron: “Ons weet nie wat van hom geword het nie.” Hulle wag en wag op sy wederkoms, maar Hy bly weg. Intussen maak die woestynstilte hulle bang. ‘n Mens kom iets hiervan agter wanneer ons in Eksodus 32:1 lees hoe die volk rondom Aäron “saamdrom”. In die woord “saamdrom” hoor ons iets van hulle benoudheid. Dit het dalk selfs ‘n aggressiewe klank. Een ding is duidelik: Die volk is moeg gewag!

Om Psalm 27:14 se raad te volg, is nooit maklik nie: “Wag op die Here! Wees sterk en laat jou hart sterk wees! Ja, wag op die Here” (OAV). So was dit ook met die volk aan die voet van die berg waar Moses verdwyn het. Hulle wag nou al sedert Eksodus 24. Hier in Eksodus 32 het hulle nou genoeg gehad van wag. Daarom maak hulle self ‘n plan om die woestynstilte te verdryf, om die leegte wat Moses se weggaan gelaat het, te vul.

‘n Fees teen die vrees!

Hulle beplan ‘n fees! Hulle wil hulle vrees met ‘n godsdienstige fees verdryf. Met hulle godsdienstige bedrywigheid probeer hulle om die doodse stilte te verbreek. Hulle gaan so te kere dat die lawaai Josua laat dink daar is oorlog in die kamp. Helaas, dit klink maar net soos oorlog; eintlik hou hulle kerk. Waarmee hulle in werklikheid besig is, is ‘n erediens ter ere van die God wat hulle uit Egipte verlos het. Eksodus 32:6 vertel hoedat hulle lofoffers bring, feesvier en losbandig te kere gaan. Volgens die OAV het hulle “opgestaan om te speel”. Hulle erediens is ‘n spel waarin hulle speel dat God teenwoordig is.

“Maak vir ons ’n god”

As deel van die feestelike spel, het die volk ook die berugte goue kalf gemaak. “Maak vir ons ‘n god dat hy ons kan lei,” sê hulle vir Aäron. Ons moet nie dink dat hulle met dié kalfsbeeld die Here wat hulle uit Egipte gelei het, wou vervang nie. Met dié beeld wou hulle juis die God wat hulle uit Egipte bevry het, vereer. Aäron gee hulle hulle sin en sê (Eks 32:4): “Hier is die God wat jou uit Egipte gelei het, Israel.” Ook vers 5: “Môre is daar ‘n fees vir die Here.” Hier gebruik hy die naam Jahwe, die Ou-Testamentiese naam van die God van Israel.

Ons moet hierdie optrede van hulle nie verkeerd verstaan nie. Dit is nie asof hulle gedink het God lyk soos hierdie beeld nie. Die beeld van die kalf was vir hulle ‘n beeld van krag waarmee hulle Jahwe, die God van Israel, wou vereer.

God toeganklik

As die Israeliete met sulke goeie bedoelings die beeld gemaak het om die leegte te vul wat Moses (en God?) se afwesigheid gelaat het, waarom was Moses dan so kwaad daaroor? (Eks 32:19). Waarom keur die Bybel die maak van godsbeelde af?

Mense sê soms dit het te doen met die feit dat God Gees is. Hy is dus onsigbaar en kan daarom nie uitgebeeld word nie. Dit is egter nie die rede nie. God maak hom soms op ‘n baie konkrete manier bekend, soos in Eksodus 33 waar Hy Moses toelaat om Hom van agter te sien. Verder is die mens, ek en jy, beelddraers van God. Ook Jesus Christus is die beeld van God wat vlees geword het. In Hom het God self die berg afgekom en sy beeld onder ons kom oprig.

Tog was die Here kwaad oor die maak van hierdie beeld, hierdie kalfsbeeld. In Eksodus 32:7 sê Hy vir Moses: “Klim van die berg af want jou volk wat jy uit Egipte laat wegtrek het, het iets vreesliks gedoen.”

Die eintlike rede waarom die Bybel gekant is teen die maak van ‘n beeld van die Here, is omdat die mense destyds gedink het dat so ‘n godsbeeld met Goddelike krag gelaai was – byna soos ‘n battery. Die gedagte was: Deur middel van die godsbeeld, maak jy God meer toeganklik en kry jy makliker toegang tot hierdie goddelike krag. Met hulle duur goue kalf, wou die volk vir God van die berg af probeer kry. Hulle wou Hom dwing om teenwoordig te wees. Hulle wou hulle gevoel van godverlatenheid sélf te bowe kom.

Dit is een van die grootste versoekings vir die kerk en godsdiens: dat ‘n mens probeer om ‘n houvas op God te kry, Hom te dwing om teenwoordig te wees, in plaas van om uit sy vrye genade te lewe. So ‘n selfgemaakte en gefabriseerde god is ‘n afgod, al noem jy Hom ook Here.

Ons wil die leegte self opvul

Hierdie ou verhaal van die goue kalf is vandag nog aktueel. Ook deesdae word nog probeer om die woestynstilte van God se skynbare afwesigheid te verdryf en self die leegte op te vul.

Godsdiens is steeds die gewildste manier om God se teenwoordigheid te probeer afdwing. ‘n Uiterste voorbeeld hiervan is ‘n reeks “teologiese byeenkomste” wat gedurende die 1960’s aan die Universiteit van Harvard gehou is. Dit is gereël deur Timothy Leary, ‘n bekende professor in die sielkunde. Leary was ook bekend daarvoor dat hy die gebruik van die dwelmmiddel LSD aangemoedig het.

Tydens hierdie byeenkomste, is oor Bybelse temas gemediteer. Daarna is dwelmmiddels gebruik wat allerhande visioene en mistieke ervarings tot gevolg gehad het. Die tydskrif Life het ‘n artikel daaroor geplaas met die titel Instant mysticism. Die betekenis was duidelik: Behalwe instant coffee en instant pudding, kry ‘n mens ook iets soos kitsmistiek, vinnige, mensgemaakte maniere om God se teenwoordigheid te ervaar.

Protesbeweging

‘n Mens sou die kerkhervorming van die 16de eeu kon sien as ‘n protes of weerstandsbeweging teen alle menslike pogings om self ons Godverlatenheid te oorkom. Dit gebeur byvoorbeeld wanneer ‘n mens met jou goeie werke die berg probeer uitklim na God toe, maar ook wanneer jy met behulp van kerklike gebruike en godsdiensoefeninge probeer om God van die berg af te kry.

Daarom was die gereformeerde eredienste so eenvoudig en sonder enige godsdienstige “versiering”. Daarom kry ‘n mens dieselfde eenvoud in hulle kerkgeboue en kerkmusiek. Daarom is die gereformeerde spiritualiteit so bang om ‘n ervaring van God se teenwoordigheid te soek en na te jaag, en word daar eerder klem gelê op die doen van God se wil, terwyl ons wag op die Bruidegom.

Die Ou Testamentiese geleerde Fretheim skryf in sy kommentaar oor Eksodus dat die verhaal van die goue kalf eintlik baie ironies is. In die vorige hoofstukke gee God vir die volk duidelike opdragte oor die bou van die tabernakel. Die tabernakel is die plek waar God die volk wil ontmoet. God verduidelik mooi vir hulle hoe hulle Hom daar moet opsoek en nader, Hom daar moet ontmoet. Hier in Eksodus 32 doen die volk egter net mooi die teenoorgestelde van wat God vir hulle gesê het.

Fretheim noem agt punte waarin die volk se optrede direk teen God se bedoeling ingaan. Ek noem slegs drie: (i) Die volk, en nie God nie, neem die inisiatief; (ii) Die volk probeer skep wat God reeds aan hulle voorsien het; (iii) Die moeitevolle en tydrowende proses om die tabernakel te bou (waar God hulle sou ontmoet), word ‘n “overnight rush job”.

Om te wag op die Here … “an overnight rush job”

Henri Nouwen het ‘n stuk oor The Spirituality of waiting geskryf. Hy begin met die opmerking dat dit nie in die meeste mense se aard is om te wag nie. Om te wag, is vir ons ‘n vermorsing van tyd. Dit het deels te make met ons kultuur wat sterk ingestel is op doen, ‘n kultuur wat ons aanhoudend konfronteer met: “Waarvoor wag jy?” “Doen iets.” “Wys jy kan ‘n verskil maak.” Nouwen sê:

For many people, waiting is an awful desert between where they are and where they want to go. And people do not like such a place.

Volgens Nouwen is daar ook ‘n ander rede waarom dit vir ons moeilik is om te wag. Op hierdie oomblik in die wêreldgeskiedenis leef baie mense met vrees, vrees vir mense wat anders is as hulle, vrees vir hulle eie emosies, vir die toekoms, ensovoorts. ‘n Gevoel van vrees is nie bevorderlik vir wag nie. Hy skryf:

As fearful people we have a hard time waiting, because fear urges us to get away from where we are.

Teenoor hierdie moderne ongeduld, haal Nouwen die Joods-Christelike skrywer Simone Weil aan:

“Waiting patiently in expectation is the foundation of the spiritual life.

Wat beteken dit om op die Here te wag? Volgens Nouwen beteken dit onder andere dat ek die illusie prysgee dat ek self in beheer van my lewe is, ook my geloofslewe; dat ek met “openheid” en vertroue op God wag om “sy beloftes”, en nie my wense nie, te vervul. Volgens Nouwen beteken dit uiteindelik dat ek, soos Jesus, met oorgawe aan God oorgegee sal lewe.

Nouwen skryf dat ons Jesus se lewe in twee dele kan verdeel. Die eerste deel van sy lewe is vol aktiwiteit waarin Hy die inisiatief neem. Hy preek, genees en is op reis. In die tweede deel van sy lewe word Hy oorgegee en oorgelewer. Hy word gearresteer. Hy word voor die hoëpriester en Pilatus gebring. Uiteindelik word Hy gekruisig. Daar word dinge aan Hom gedoen waaroor Hy oënskynlik geen beheer het nie. Nouwen sê:

In a way, his agony is not simply the agony of approaching death. It is also the agony of being out of control and of having to wait.

Juis in hierdie lewe en uit hierdie lewe van oorgawe en wag, bring God oorvloedige, nuwe lewe voort, skryf Nouwen. In Koninkrykstyd van die kerkjaar, word die volgelinge van Jesus aangespoor om die dissipline van wag in te oefen en te laat groei. Ons leer op God wag omdat Hy die God is wat in beheer is en sy koninkryk regeer.

 

God stuur ons om te leef

Gebed

Wegsending: Lied  203 “Loof die Here, al wat lewe”
1. Loof die Here, al wat lewe,
wil Hom dank en hulde bring
Hy het al ons skuld vergewe;
ons ‘n nuwe lied laat sing.
Loof Hom, prys Hom! Loof en prys Hom!
Loof die Vader, God en Heer!

2. Loof Hom wat in groot genade
ons deur eeue heen behou;
loof Hom vir sy reddingsdade –
vas kan ons op Hom vertrou.
Loof Hom, prys Hom! Loof en prys Hom!
Hy’s genadig en getrou.

3. Soos ‘n vader sorg vir kinders,
sorg die Heer vir wie Hom vrees.
Hy vergewe hul oortredings
en berei ‘n vreugdefees.
Loof Hom, prys Hom! Loof en prys Hom!
Laat ons Hom gehoorsaam wees!

4. Mense, soos die veld se blomme,
bloei maar vir ‘n korte tyd;
ewig oor ons kleine kommer
waak Gods goedertierenheid:
Loof Hom, prys Hom1 Loof en prys Hom –
ewige geregtigheid.

5. Loof die Here, maan en sterre,
waar jul in die wydtes kring.
Loof Hom, engele en mense,
almal wat sy wil volbring!
Loof Hom, prys Hom! Loof en prys Hom –
o my siel, bly Hom besing!

Seën
Gemeente, die Here sê vir ons: “Ek is die Here jou God wat jou uit die plek van slawerny bevry het.” Gaan leef nou as vrygemaakte mense. Gaan vertel vir die wêreld en vir die volgende geslag van die roemryke dade van die Here en van sy wonderlike mag (uit Eks 20 en Ps 78).
of
Susters en broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig. En God wat vrede gee, sal by julle wees. Amen (uit Fil 4).

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1.  Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.
of
VONKK 277 – U is die lig wat deur die donker skyn
Teks: Hannes van der Merwe 2014 ©
Melodie: HIGHLAND CATHEDRAL – Uli Rover en Michael Korb
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2014 (Pro Deo)
Musikale verryking 1en 2: Gerrit Jordaan 2014 ©
© Teks, orrelbegeleiding en musikale verrykings: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Church Hymnary Trust, Admin SCM-Canterbury Press Ltd. Met toestemming gebruik.

1. U is die lig wat deur die donker skyn.
U is die Een wat duister laat verdwyn.
Skyn in ons harte, dryf die donker uit.
Skyn in ons lewens tot in ewigheid.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.

2 . U is oorwinnaar, U’t die dood verslaan.
U het as Koning uit die graf gegaan.
Breek nou die bande, gooi die boeie neer.
Ons is oorwinnaars saam met U, ons Heer.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.

3. U is die Bruidegom en ons u Bruid.
U nooi ons vir die bruilofsmaaltyd uit.
Daar klink ons lof, daar klink ons danklied uit.
Ons bly by U tot in ewigheid.

 

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.