Negende Sondag van Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Die leesroostertekste vir hierdie week is redelik uiteenlopend in fokus.

Die 2 Samuel-teks oor Dawid se owerspel met Batseba en sy moord op haar man, Urija, sluit wel nou aan by die psalm wat verwys na mense wat onreg pleeg teen God se wil.

Johannes 6 vertel die verhaal van Jesus wat die menigte voed en Jesus wat daarna op die water na sy dissipels toe loop.

Die sleutelteks uit Efesiërs is Paulus se bekende gebed vir die gemeente. Die simbool vir hierdie week (sien basisliturgie) – ‘n gebedsketting wat die gemeente self gaan maak – plaas die fokus op die belangrikheid van gebed, ook vir ons gemeenskappe en geloofsgemeenskappe.

Ander tekste 

2 Samuel 11:1-15
In die lente, die tyd waarin die konings gewoonlik optrek om oorlog te maak, het Dawid op ’n keer vir Joab en sy soldate en die hele Israel uitgestuur. Hulle het die Ammoniete verslaan en Rabba beleër, maar Dawid het in Jerusalem agtergebly.

2Eendag het hy na sy middagslapie opgestaan en op die dak van die paleis gaan rondstap. Van die dak af het hy ’n vrou sien bad. Sy was ’n baie mooi vrou. 3Dawid het oor haar laat navraag doen, en iemand het gesê: “Dit is Batseba dogter van Eliam, die vrou van Urija die Hetiet.”

4Dawid het toe amptenare gestuur en haar laat haal. Dit was nadat sy haar reinigingsbad geneem het na haar maandstonde. Sy het na hom toe gekom, en hy het by haar geslaap. Daarna is sy terug huis toe.

5Die vrou het swanger geword en vir Dawid laat weet: “Ek is swanger.”

6Dawid het op sy beurt ’n boodskap na Joab toe gestuur: “Stuur vir Urija die Hetiet hiernatoe.”

Joab het hom na Dawid toe gestuur.

7Urija het by hom gekom, en Dawid het hom gevra hoe gaan dit met Joab en die leër, en hoe vorder die oorlog. 8Hierna het Dawid vir Urija gesê: “Gaan nou maar huis toe en rus ’n bietjie.”

Toe Urija uit die paleis gaan, het die koning ook nog ’n geskenk agter hom aangestuur. 9Maar Urija wou nie huis toe gaan nie en het by die paleisdeur gaan slaap saam met die slawe van die koning. 10Hulle het vir Dawid gaan sê: “Urija was nie huis toe nie.”

Dawid vra toe vir Urija: “Jy was mos lank weg, waarom gaan jy nie huis toe nie?”

11Sy antwoord was: “Sou ek huis toe gaan om te eet en fees te vier en by my vrou te slaap, terwyl die ark en Israel saam met Juda in hutte woon en my aanvoerder Joab sowel as u soldate in die oop veld kamp opslaan? Dit sal ek beslis nooit doen nie!”

12Dawid het Urija toe beveel: “Bly vandag nog hier! Môre stuur ek jou terug.”

Urija het daardie dag en die dag daarna in Jerusalem vertoef. 13Toe het Dawid hom geroep en saam met hom geëet en gedrink. Hy het hom selfs dronk gemaak. Maar die aand het Urija uitgegaan om op sy gewone plek saam met die slawe van die koning te gaan slaap. Hy het nie huis toe gegaan nie.

14Die volgende oggend het Dawid ’n brief aan Joab geskryf en saam met Urija gestuur. 15In dié brief het hy geskryf: “Gee tog aan Urija ’n plek op die voorpunt waar die geveg kwaai is. Val dan terug sodat hy in die slag kan bly en sneuwel.”

Psalm 14
Vir die koorleier. Van Dawid.
Die dwaas dink daar is geen God nie.
Dwase mense vernietig alles
wat hulle doen,
is ’n gruwel vir die Here.
Daar is nie een wat goed doen nie.
2Van die hemel af kyk die Here
die mense deur
om te sien of daar één verstandige is,
één wat na die wil van God vra.
3Almal het afgedwaal,
die laaste een het ontaard;
daar is niemand wat goed doen nie,
selfs nie één nie.
4Julle almal wat onreg pleeg,
wat my volk opeet asof julle brood eet
en wat weier om die Here te dien-
weet julle dan nie
5dat daar iets vreesliks
met julle gaan gebeur nie?
Omdat God aan die kant
van die regverdiges is,
6sal daar niks kom van julle planne
teen die hulpelose nie:
die Here bly sy toevlug.
7Ag, mag daar tog uit Sion
vir Israel redding kom!
Wanneer die Here die lot van sy volk
verander,
sal Jakob juig, sal Israel bly wees.

Johannes 6:1-21
Hierna het Jesus na die oorkant van die See van Galilea toe gegaan, wat ook die See van Tiberias genoem word. 2’n Groot klomp mense het agter Hom aan gekom omdat hulle die wondertekens gesien het wat Hy aan die siekes gedoen het. 3Jesus het toe teen die berg opgegaan en met sy dissipels daar gaan sit.

4Die paasfees van die Jode was naby.

5Toe Jesus rondkyk en sien dat ’n groot klomp mense na Hom toe aankom, sê Hy vir Filippus: “Waar kan ons brood gaan koop sodat die mense kan eet?”

6Dit het Hy net gesê om hom op die proef te stel, want Hy het self goed geweet wat Hy gaan doen.

7Filippus antwoord Hom toe: “Twee honderd mense se dagloon is nie eers genoeg om elkeen van hulle ’n stukkie brood te laat kry nie.”

8’n Ander dissipel, Andreas, die broer van Simon Petrus, sê toe vir Hom: 9“Hier is ’n seuntjie met vyf garsbrode en twee vissies; maar wat is dit vir so baie mense?”

10Toe sê Jesus: “Laat die mense gaan sit.”
Daar was baie gras op daardie plek en die mense het gaan sit. Die mans alleen was omtrent vyf duisend. 11Daarna het Jesus die brood geneem, God daarvoor gedank en dit uitgedeel aan die mense wat daar gesit het, en net so ook soveel van die vis as wat hulle wou hê.

12Nadat die mense versadig was, sê Hy vir sy dissipels: “Maak die stukke bymekaar wat oorgebly het sodat daar niks verlore gaan nie.”

13Hulle het dit toe bymekaargemaak. Daar was twaalf mandjies vol met die stukke wat van die vyf garsbrode oorgebly het nadat die mense klaar geëet het.

14Toe die mense die wonderteken sien wat Jesus gedoen het, het hulle gesê: “Hy is werklik die Profeet, die Een wat na die wêreld toe moes kom.”

15Toe Jesus merk dat hulle Hom met geweld wil kom koning maak, het Hy verder die berg op gegaan, Hy alleen.

Jesus loop op die see
(Matt 14:22–33; Mark 6:45–52)
16Toe dit aand word, het Jesus se dissipels na die see toe gegaan, 17in ’n skuit geklim en weggevaar na Kapernaum toe, oorkant die see. Dit was al donker en Jesus was nog steeds nie by hulle terug nie. 18Daarby het die see onstuimig geword, omdat daar ’n sterk wind gewaai het. 19Toe hulle sowat vyf of ses kilometer geroei het, sien hulle Jesus op die see loop en naby die skuit kom, en hulle het bang geword. 20Maar Hy sê vir hulle: “Dit is Ek; moenie bang wees nie.”

21Hulle was toe gewillig om Hom in die skuit te neem, en daarna het die skuit by die land aangekom waarheen hulle op pad was.

Sleutelteks

Efesiërs 3:14-21
Paulus se gebed vir die lesers 
14 Om hierdie rede buig ek my knieë voor die Vader, 15 van wie elke geslag in die hemel en op aarde sy naam ontvang. 16 Ek bid dat Hy vir julle na die rykdom van sy heerlikheid dít sal skenk: om deur sy Gees met krag na die innerlike mens versterk te word, 17 sodat Christus deur die geloof in julle harte mag woon, terwyl julle in die liefde gewortel en gegrond is, 18 sodat julle volledig in staat mag wees om saam met al die heiliges tot die besef te kom van die breedte en die lengte en die hoogte en die diepte, 19 ja, om die liefde van Christus te leer ken, wat alle begrip te bowe gaan, sodat julle gevul mag word met al die volheid van God.

Lofprysing 
20 Aan Hom, wat deur sy krag wat in ons werk, die mag het om oneindig meer te doen as alles wat ons bid of dink, 21 aan Hom kom toe die heerlikheid in die kerk en in Christus Jesus, deur alle geslagte heen, vir ewig en ewig. Amen. (2020-vertaling)

Liturgie

RUS

Toetrede: VONKK 7 of Flam 335 of Lied 172

Votum: Efesiërs 3:20-21

Seëngroet: (N.a.v. Efesiërs 1:1-2)

Lofsang: Lied 220

Skuldbelydenis: (op grond van Psalm 14:1-3, 5)

Genadeverkondiging en geloofsbelydenis: VONKK 311 [gesing of gelees]

HOOR

Gebed

Skriflesing: Efesiërs 3:14-21a

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: VONKK 337 of Lied 506 of Lied 200

Seën: (Ef. 3:18-19)

Respons: VONKK 7

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
VONKK 7 Mag Ons U Liefde Ken
Flam 335 Gee My Die Insig Van U Hart (Verander my)
Lied 172 “Heilig, heilig, heilig”

Votum: Efesiërs 3:20-21
Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, aan Hom kom die eer toe, in die kerk, deur ons verbondenheid met Christus Jesus, deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid.

Seëngroet:(N.a.v. Efesiërs 1:1-2)
Aan almal in …………………………….. wat aan God behoort en in Christus Jesus glo. Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus, deur die krag van die Heilige Gees.

Lofsang
Lied 220 “Met ons harte sing ons, Here”

Skuldbelydenis
V: Dwase sê in hulle harte: Daar is geen God nie. Hulle tree gruwelik en afstootlik op. Daar is nie een wat goeddoen nie.
Soms is ons dwaas, Here. Ons vergeet dat U God is en nie ons nie. Ons doen soms gruwelike en afstootlike dinge teenoor ander omdat ons vergeet om ons naaste lief te hê. Ons gryp nie altyd die geleentheid aan om goed te doen nie en doen soms juis kwaad deur niks te doen nie of stil te bly.
G: Here, U is regverdig en U is ons God. Vergewe ons en leer ons om verstandig en liefdevol te leef.

V: Die Here kyk vanuit die hemel na die mense om te sien of daar iemand is wat verstandig is, iemand wat God soek.
Almal het afgedwaal, saam het hulle ontaard; daar is nie een wat goed doen nie, selfs nie een nie.
Ons soek dikwels eerder ander mense se goedkeuring as U s’n, Here. Ons doen wat almal doen, want almal doen dit … maar dit beteken nie dat dit u wil is nie.
G: Here, U is regverdig en U is ons God. Vergewe ons en leer ons om verstandig en liefdevol te leef.
(uit Bybel-Media se “Woord en Fees”, op grond van Psalm 14:1-3, 5)

Genadeverkondiging en geloofsbelydenis
VONKK 311 Nog voordat ek kon bid, kon smeek [gesing of gelees]

Liedere

F335. “Gee My Die Insig Van U Hart (Verander my)”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Heiliging / Gebed / Verwondering / Paasfees) Teks en musiek: Vertikaal Kopiereg: Ó 2009 Urial Publishing
(Opgeneem op By die Kruis)

Gee my die insig van u hart
Om u liefde te verstaan
Laat u genade my bevry
Om te word wie ek moet wees.

Refrein:
Ek staan in verwondering
Liefde so wyd en so ver en so diep
Die volheid van u kruis
verander my, verander my
Die krag van u verlossing
Staan op in my, staan op in my.

U het mens geword vir ons
Gekruisig en gesterf
Meer as wat ons ooit kan besef
Gee U weg op daardie dag.

Refrein:

Brug:
U is Here; U is lewe (x2)

Ek raak u wonde
En werp myself roekeloos op U
Ek’s vasberade in die vryheid van u kruis

Die volheid van u kruis
verander my, verander my
Die krag van u verlossing
Staan op in my, staan op in my.
Die volheid van u kruis
verander my, verander my
Die krag van u verlossing
Staan op in my, staan op in my.

Brug:

VONKK 7 “Mag Ons U Liefde Ken”
Efesiërs 3:19 Teks: Jannie Hougaard 2003 © Melodie: FRANCÉ – Francé Ludik 2003 © © VONKK 2009 (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Meditatief – Gebed

Mag ons u liefde ken en ook vervul word
met die volheid van God,
heeltemal vol met die volheid van God!
Amen, amen.

VONKK 311 “Nog voordat ek kon bid, kon smeek”
1. Nog voordat ek kon bid, kon smeek,
vir u genade vra;
nog voordat ek kon glo, bely,
het U my kruis gedra.

2. U het vir my die dood oorwin,
is uit die graf gewek,
dat ek dit eendag kan begryp:
hoe ver u liefde strek.

3. U liefde wyd en hoog en diep
laat my u Naam bely.
Al sal ek dit dalk nooit verstaan,
wil ek my aan U wy.

VONKK 33 “Wyd, o Here, strek u liefde”
Nav Efesiërs 3:18,19 Teks: Friena Maritz 2016 © Melodie: Salig wie in hul opregtheid – PK de Villiers 1937
Orrelbegeleiding: PK de Villiers 1937 © Teks: 2016 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media) © Melodie en orrelbegeleiding: Openbare besit
RUBRIEK:  Klassiek – Geloof en Vertroue

1. Wyd, o Here, strek u liefde,
ver oor grense en oor tyd.
Met gelowiges oor eeue
en met vriende wêreldwyd
deel ons in die wonder, Here,
van u liefde onbegrens.
Vul ons daagliks, Hemelvader,
met u volheid onbeperk.

2. Hoog, o Here, reik u liefde,
diep u trou en vastigheid.
In die hemel en op aarde,
van die wieg tot in die graf,
deel ons in die wonder, Here,
van u liefde onbegrens.
Vul ons daagliks, Hemelvader,
met u volheid onbegrens.

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Efesiërs 3:14-21a

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Sing die liedjie “The Love of Jesus is so wonderful” met bewegings. Hier is akkoorde en lirieke. Jy kan heel maklik bewegings opmaak, of hierdie bewegings gebruik. Dit kan seker ook prettig wees om dit ‘n paar keer te sing en dit elke keer vinniger te sing.

Bybel-Media se Woord en Fees stel die volgende voor:
Reël vooraf met twee of drie kinders om hulle eie kort gebede te lees of te bid vir die gemeente. Verduidelik dat die dag se teks ’n gebed is wat Paulus vir die gemeente in Efese geskryf het en dat ons ook gereeld vir ons gemeente moet bid. Vra die kinders met wie jy gereël het om voor te gaan in gebed vir die gemeente.

Dan stel hulle ook ‘n Gebedsritueel voor:
Die idee van die gebedsritueel is dat elke lidmaat die geleentheid kry om sy of haar eie gebed vir die gemeente sigbaar in die liturgiese ruimte aan te bring (of in enige ander gepaste ruimte; dit sou selfs later bo ingangs- of uitgangsdeure na die kerkruimte gehang kon word).

Berei voor vir die ritueel deur genoeg repe papier te sny vir almal wat die erediens bywoon. Elkeen kry ’n reep. Tydens die erediens kan die gemeentelede kans kry om hulle gebede vir die gemeente op hulle repe papier neer te skryf. Wanneer hulle klaar is, kan iemand (of meer as een persoon) ’n “ketting” of “kettings” begin maak. Vou die eerste reep in ’n sirkel, met die gebed sigbaar aan die buitekant, en kram dit vas. Ryg elke nuwe reep deur die vorige “skakel” en kram dit vas. Ryg al die repe papier aan die ketting en vorm so ’n “gebedskakel”.

Julle kan enige tyd nog skakels by hierdie ketting(s) voeg. Laat die kettings minstens bly hang terwyl die reeks uit Efesiërs nog aan die gang is.

Vir nog idees en instruksies oor die papier-gebedsketting hier.

‘n Lekker opsie kan wees dat die kinders hul gebede voorlees. Laat die gemeente dan hul eie gebede skryf. Die kinders kan dan tydens die preek die gebedsketting maak en dit aan die einde van die preek bring en iewers voor in die liturgiese ruimte plaas.

Preekriglyn

Ons is tans besig met ‘n reeks tekste uit Efesiërs. Vandag staan ons stil by Efesiërs 3:14-21, wat volg op die eerste deel van hoofstuk 3 waarin Paulus verduidelik die evangelie maak dit moontlik dat almal (Jood en nie-Jood) aan God se volk kan behoort. Almal het deur geloof in Jesus Christus vrye toegang tot God.

Die gevolgtrekking dat alle mense deel kan wees van die Godsvolk, dring Paulus op sy knieë. Hy vra in gebed van God self dat dié rykdom van hierdie boodskap in sy volheid nie net deur hulle nie, maar deur alle gelowiges en nog wyer besef sal word.

Paulus sal in hoofstuk 4 weer terugkeer om die gelowiges aan te spoor om self ernstig daaraan te werk om die eenheid wat die Gees tussen hulle gesmee het, te handhaaf.

Hier is sy fokus egter om dit van God te vra.

God se familie …

Let op hoe Paulus hier oor die gemeenskap van gelowiges met praat. Hy beskou hulle as ‘n familie – dit is wat die woord gemeenskap (patria) in vers 14 eintlik beteken. Dit is ‘n familie wat die grense van tyd oorskry – hulle is in die hemel en die aarde. Dit is ook ‘n familie wat deur die geslagte heen EEN gemeenskap bly – vers 21.

… vervul met God in ses bedes

En sy droomgebed vir hierdie familie van gelowiges is dat hulle almal werklik heeltemal vervul sal word met die volheid van God – soos hy al in Efesiërs 1:23 God se droom vir die kerk uitgespel het.

Hy spel dit in ses bedes uit:

  • Hulle het in die eerste plek innerlike krag nodig – iets wat die Gees doen in ons harte en wat die hoop in ons brandend hou.
  • Hulle het in die tweede plek geloof nodig, want dit is hoe Christus ‘n woonplek in ons harte kry, sodat Hy ‘n werklikheid in elkeen word.
  • Daardeur sal hulle hele lewe in die derde plek in die liefde gewortel en gegrondves wees, wat onontbeerlik is om werklik vrug te kan dra.
  • Paulus bid ook dat hulle in die vierde plek sal groei in hulle insig in hoe ver die liefde van Christus strek, want dit sluit alles en almal in. Let op hoe Paulus letterlik die liefde van Christus as ‘n soort driedimensionele kubus beskryf wat ons hele werklikheid insluit. Paulus se dimensies van wyd, ver, hoog, en diep beskryf ‘n driedimensionele werklikheid, die breedte, lengte, hoogte, en diepte daarvan.
  • Maar insig is nog nie alles nie! In die vyfde plek bid Paulus dat hulle Christus se liefde sal ken, d.w.s. dit sal ervaar, ‘n liefde wat eintlik ons begrip en insig te bowe gaan.
  • En Paulus sluit in die sesde plek af met ‘n gebed dat hulle heeltemal vervul sal word met die volheid van God, presies dít wat hy bely het van die kerk in 1:23.

En dit is wat God in hulle sal bewerk, om die waarheid te sê, Hy kan ook nog meer doen as wat Paulus (of ons) kan bid of dink – oneindig meer! Daarom kom alle eer aan God toe, in die kerk, in ons persoonlike lewens, in die wêreld, en tot in alle ewigheid.

Wat is die betekenis van hierdie teks vir ons lewens?

Buig voor God

In verse 14 en 15 beskryf Paulus sy liggaamlike posisie in gebed:

Om hierdie rede buig ek my knieë voor die Vader, van wie elke geslag in die hemel en op aarde sy naam ontvang.

Dit is belangrik om in gebed bewustelik ‘n bepaalde houding in te neem, maar ook om te weet tot wie jy bid. Paulus buig die knie en buig die knie bewustelik voor God die Vader, van wie elke geslag sy naam ontvang.

Dit is natuurlik dat mens die knie buig voor groter gesag as jyself. In hierdie teks buig Paulus voor God. Dan beskryf hy God: dit is God die Vader wat die reg om naamgewing van elke geslag het.

“Naamgewing” beteken dat God elke menslike geslag ken, maar ook stempel. God gee ‘n naam aan diegene wat Hy skep en daarom segging oor het, en God stempel die identiteit van mense as mense. Ons ontvang die lewe van God en behoort aan God.

Om in gebed te kniel is daarom nie maar net gewoonte of ‘n leë tradisie nie. Dit is om die Een aan wie ons behoort reg te eer as die Een wat ons geskep het, ons besit en oor ons beskik. Ons is God s’n.

Gebed is ‘n handeling wat konnekteer met God. Dit is nie maar net die daad van gebed nie, maar veral die Een tot Wie ons bid, die groot geselskap waarin ons verkeer en na wie ons luister wanneer ons bid, wat die verskil maak.

Gebed is om te weet ek behoort nie aan myself nie, maar aan die God wat my geskep, my verlos en my tot die einde toe begelei.

Paulus bid, nie net omdat hy seëninge op die kerk wil afbid nie, maar omdat hy verlang na gemeenskap met God die Vader.

Vir ons eie gebedsbeoefening is dit van wesenlike belang.

Stygende lyn

Die inhoud van Paulus se gebed vir die Efesiërs (verse 16-19) vertoon ‘n stygende lyn wat as’t ware oor drie trappe al hoe hoër styg:

  • Eerstens dat Christus eerstens (vertikaal gesproke) deur sy Gees in die geloofsgemeenskap se harte sal woon en hulle innerlik sal versterk om so “in die liefde gewortel en gegrondves (te) wees”.
  • Tweedens is die gebed dat Christus hulle sal bemagtig (horisontaal gesproke) om “saam met al die gelowiges” te begryp hoe omvattend sy liefde is.
  • Derdens eindig dit by die hoogtepunt om vervul te word met die volheid van God.
Lofprysing

Daarom kan hierdie gebed in verse 20-21 op geen ander plek as in lofprysing eindig nie:

Aan Hom, wat deur sy krag wat in ons werk, die mag het om oneindig meer te doen as alles wat ons bid of dink, aan Hom kom toe die heerlikheid in die kerk en in Christus Jesus, deur alle geslagte heen, vir ewig en ewig. Amen.

“In Christus”

Paulus bid ‘n wonderlike gebed vir die Efesiërs (verse 16-19). Soos reeds gesê, bid hy vir krag, geloof, liefde, insig in die omvang van God se genade, die konkrete belewenis van God se teenwoordigheid en liefde, en die vervulling met die volheid van God.

Hy bid dit nie omdat die Efesiërs so voorbeeldig en geestelik volwasse is dat hulle hierdie ryk inhoud verdien nie.

As mens na die werklikheid van die eerste gemeente in Efese kyk, was alles nie rooskleurig nie. Daar was bv. nie ‘n gulde ontvangs van die evangelie onder die Jode in Efese nie. Handelinge 19 vertel dat die reaksie op Paulus se prediking maar gemengd was. Sommige het sy prediking beswadder en was hardkoppig. Die gemeente se statistiek was nie uit die boonste rakke nie.

Paulus het met die sinagoge gebreek en vir twee jaar besprekings in die saal van Tirannus gehou. Uiteindelik is hy na ‘n oproer uit die stad weg.

Paulus dink egter oor hierdie gemeente vanuit die werklikheid van God se teenwoordigheid onder hulle. Die waarheid oor die kerk is dat hier ‘n groep mense is wat “in Christus” in gemeenskap met God lewe en deur wie die krag van God werk. Deur hierdie groepie mense word die heerlikheid, volheid en die liefde van God in die wêreld geken.

Wanneer Paulus sy fisiese oë in gebed sluit, gaan sy geloofsoë oop. Iemand skryf:

Daar is in die “sluit van die oë” ‘n heldersiende blik op die werklikheid. Gebed as sodanig is nie ‘n ontvlugting van die feite of die werklikheid nie, maar eerder ‘n diepgaande skoue daarop in die lig van God se intense betrokkenheid daarby.

In ons teks gaan dit nie net oor ‘n bepaalde idee en sekere insigte nie, maar om begronding in Christus en die lewe voor Hom. Om in Hom gegrond te wees, is om in sy liefde gewortel te wees. Dit is een ding om kennis oor en van Christus te hê, maar dit is tog iets anders om Hom te ken en in sy liefde gewortel en gegrondves te wees.

Wees wat ons reeds is

Daar is ‘n volledige verband tussen:

  • ons belydenis van wat God is en doen, en
  • ons gebed tot God om sy wese en werke in die geloofsgemeenskap tot sy volle werking te laat kom.

Ons doel is nie net om dinge oor God te weet nie, maar om daardie dinge te doen en te leef.

Hierdie gebed help ons om wat ons glo van onsself – dat ons kinders van God is – en wat ons glo van die geloofsgemeenskap – dat ons ‘n gemeenskap is wat tyd en ruimte oorskry – aan God op te dra om al hoe meer die wonder daarvan te kan beleef.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
VONKK 337  Wyd, o Here, strek u liefde
Lied 506 “O Heer, u liefde wondergroot”
Lied 200 “U goedheid, Heer, kan ons nie peil nie”

Seën
18Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. 19Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God.

Respons
VONKK 7 Mag Ons U Liefde Ken

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.