Negende Sondag van Koninkrykstyd

Picture of Woord en Fees

Negende Sondag van Koninkrykstyd

Liturgiese Voorstel

Leesroostertekste

Sleutelteks: 2 Samuel 11:1-15
Ander tekste: Psalm 14; Efesiërs 3:14-21; Johannes 6:1-21

Inleiding

Die sleutelteks is die tragiese dog bekende storie van koning Dawid wat toegee aan sy eie sondige begeertes: owerspel en moord. Dit is egter belangrik dat hierdie week en volgende week se twee sleuteltekste in verband met mekaar hanteer word – die sonde, maar ook God se ingrype en Dawid se berou.

Die ander tekste vir hierdie Sondag in Koninkrykstyd, het te doen met God se trou aan die regverdiges (Ps 14), God wat ons sterk maak en in ons harte woon (Ef 3), en Jesus wat ’n skare versterk met voedsel wat net die Seun van God kan gee (Joh 6).

Diensorde

God versamel ons voor Hom

Wet
Lees Markus 12:28-34
Volg met skuldbelydenis, gepaste lied, vryspraak en toewyding. (Sien basisliturgie en liedvoorstelle onder.)

Diens van die Woord

Gebed om die opening van die Woord

Sang
Lied 253 “U het die brood gebreek”

Kindertyd
(Indien die nagmaal gevier word.)

Vertel uit Johannes 6:1-21 die verhaal van die skare wat Jesus genoeg kos gee. Dit lyk soms vir ons asof ons baie dinge nodig het, maar dit is  eintlik dinge wat ons graag wil hê. Onthou egter dat God altyd vir ons, soos vir die skare, alles gee wat ons nodig het.

Diens van die tafel

Nagmaalgebed
Here, ons kom nou soos die groot menigte agter U aan.
Ons word aangetrek deur die liefde en omgee wat uit U straal, dit wat U met elke woord deel en die lewe wat ons ervaar in u teenwoordigheid.
Ons het ’n behoefte, ’n behoefte aan kos, aan voeding.
Ons gaan soek ook dikwels op plekke wat ons vinnig weer leeg laat om hierdie behoefte te vul.
Ons besef dat ons nooit genoeg geld sal hê om voedsel te kan kry wat ons sal vul nie.
Dan kom ’n seuntjie en hou in sy hande vyf garsbrode en twee vissies en ons sê: “Wat is dit vir my?”
En U sê vir ons: “Gaan sit.”
Ons sien hoe U die brood neem, hoe U dankbaar die Skepper-God  erken wat dit so vrygewig aan ons skenk en ons eet . . .
En skielik besef ons dat ons vol is – meer as genoeg gehad het, dat ons gevoed is en dat ons dit eintlik nooit sou kon bekostig nie, maar tog kry ons dit omdat U betaal het met druppels bloed – u eie bloed.
(uit Joh 6:1-15)

Uitsending

Seën
Voorganger: Lees Efesiërs 3:15-21
Gemeente: Amen.

Musiek en sang

Skuldbelydenis: Lied 250 “Gods wet vra al ons liefde”; Lied 215 “Besing die lof van Jesus saam”; Lied 219 “Laat ons sing van ons Verlosser”; Lied 514 “Ek weet vir seker”; Lied 510 “Genade, onbeskryflik groot”; Flam 384 “Juig, al wat leef, juig voor die Heer” of Psalm  100
Slotlied: Lied 492 “In U is vreugde”

Preekstudie: 2 Samuel 11:1-15

Teks

Die verhaal in 2 Samuel 11:1-15 oor Dawid se owerspel met Urija se vrou (Batseba, die dogter van Eliam) en die daaropvolgende komplot om Urija om die lewe te bring, vorm ’n belangrike deel van die Deuteronomistiese geskiedenis en die troonopvolgingsnarratiewe van
2 Samuel 9-20 tot 1 Konings 1-2. Hier is ’n skuif weg van die sterk publieke figuur – Dawid wat koning word oor die hele Israel (2 Sam 3:6-5:5) en wat die ark van die Here terugbesorg (2 Sam 6:1-12) – om kennis te maak met die karakter van die man agter die koningstitel.

Koning Dawid gaan nie saam met Joab en die soldate om Rabba te beleër nie, maar bly liewer in Jerusalem agter. Een dag na sy middagslapie, daardie tyd van die dag wanneer dit begin afkoel, gaan stap Dawid op die dak van die paleis vanwaar hy kan uitkyk oor die hele stad wat besig is om reg te maak vir die komende nag. Soos hy rondkyk, sien hy ’n baie mooi vrou wat bad. Hy is dadelik aangetrokke tot haar en doen spoedig navraag by iemand oor haar identiteit. Hy word meegedeel dat haar naam Batseba is, die dogter van Eliam en die vrou van Urija. Sy is dus ’n getroude vrou en buite bereik of gebruik van ’n ander man (Eks 20:14). Dit verhinder Dawid egter nie. Skuilend agter sy titel en sy mag, stuur hy amptenare om Urija se vrou te gaan haal. Die Hebreeuse stamwoord wat hier gebruik word is lgch en kan sterker vertaal word met “om te neem” of “om te vat” (“to take”; sien NKJV as voorbeeld), wat dikwels gepaard gaan met ’n aspek van mag wat geopenbaar word deur die nemer. Koning Dawid misbruik dus sy mag om ’n ander man (wat tans namens hom veg) se vrou te neem vir sy eie genot en misbruik. Urija se vrou gehoorsaam die koning se versoek en gaan saam met die amptenare na koning Dawid se kwartiere, heel moontlik onbewus dat koning Dawid haar sien bad het en ook onbewus van die koning se motiewe. Wanneer sy daar aankom slaap koning Dawid by haar, waarna sy terug gaan na haar huis toe.

Tot dusver is Batseba, die vrou van Urija, ’n geringe karakter in die verhaal van koning Dawid se sonde, met haar identiteit gevestig in haar eggenoot (later sal haar identiteit gevestig wees in haar titel as die moeder van Salomo, Dawid se opvolger). In vers 5, die eerste keer wat ons direk van haar hoor, trek sy die mat onder koning Dawid uit met drie kort woorde: “Ek is swanger.” Die Deuteronomis dui in vers 4 aan dat sy haar vorige maandstonde gehad het. Batseba, die vrou van Urija, kan dus niemand anders se kind dra as koning Dawid s’n nie. Hierdie omstandighede plaas koning Dawid en sy onetiese gedrag in die kollig. Hy moet ’n plan beraam om sy goeie naam te behou. Dawid beveel vir Joab om Urija na die paleis te ontbied in soortgelyke taal as toe hy Batseba, Urija se vrou, laat haal het. Wanneer Urija daar aankom vra Dawid hom uit oor Joab en die leër se welsyn, onder die skyn dat dit die hoofrede is waarom hy Urija laat roep het.

Na koning Dawid Urija uitgevra het, moedig hy Urija aan om huis toe te gaan en (te gaan) “rus ’n bietjie”. Laasgenoemde frase kan uit die Hebreeus vertaal word met “en gaan was jou voete”, ’n eufemisme vir seksuele omgang. Koning Dawid stel dus sy bedoeling redelik duidelik. Urija (heel waarskynlik onbewus van koning Dawid se planne) gaan wel nie huis toe na sy vrou toe nie, maar slaap liewer by die paleisdeur saam met die ander dienaars van die koning. Hy verlaat nie sy pos as dienaar van koning Dawid nie, maar bly lojaal en toegewyd in sy taak. Koning Dawid kom hiervan te hore en vra vir Urija waarom hy nie huis toe is nie. Urjia se antwoord (11) dui op sy lojaliteit as soldaat teenoor sy koning en sy medesoldate, en herinner ironies genoeg aan koning Dawid se eie ywer om die ark van die Here te beskerm en te huisves (2 Sam 6-7). Koning Dawid beveel Urija om nog ’n dag in Jerusalem te spandeer voordat hy teruggaan na Joab en die leër. Hierdie aand maak koning Dawid Urija selfs dronk, in die hoop dat hy na sy huis sal gaan en by sy vrou sal slaap. Wanneer Urija vir die tweede keer saam met sy mededienaars by die paleisdeur slaap, moet koning Dawid vinnig ’n ander plan beraam. Hy stuur ’n brief aan Joab om vir Urija in die voorste linies van die geveg te plaas, daar waar die geveg gevaarlik is en waar Urija ongetwyfeld sal sterf. En wie lewer hierdie doodsbrief aan Joab? Koning Dawid stuur dit met Urija self, die onskuldige en lojale dienaar.

Alhoewel nie ingesluit by ons Skrifdeel nie, moet die hoofstuk se laaste vers (2 Sam 11:27b) ingesluit word. Die Deuteronomis fel geen oordeel deur sy ekonomiese en feitelike skryfstyl nie, maar eindig die breër verhaal met ’n treffrase wat die oordeel onomwonde uitspreek: “Maar wat Dawid gedoen het, was verkeerd in die oë van die Here.” Hierdie gebeure het nie ongesiens by God verbygegaan nie. Wat volgende gebeur in die lewe van koning Dawid en Israel, sal deur God self bepaal word. God is in beheer van die toekoms, nie koning Dawid nie.

Konteks

Op ’n literêr en struktureel eenvoudige, asook nie-veroordelende wyse, beskryf die Deuteronomis die verhaal van koning Dawid se owerspel en sy planne vir moord teen ’n onskuldige man. Die outeur wil nie ’n oordeel fel oor Dawid se gedrag nie, maar wil wel die verhaal neerpen vir toekomstige generasies. Hierdie is ’n waarskuwingsverhaal, ’n herinnering vir almal wat dit lees, dat magsug en ontrouheid aan God ernstige gevolge dra, nie net vir die sondaar nie, maar ook vir die wyer familie en gemeenskap. Die hele 2 Samuel 11 (wat nie in Kronieke aangeteken is nie, maar weggelaat is deur die Kronis) dien as ’n keerpunt in Dawid se koningskaps-verhaal en in die troonopvolgingsnarratiewe. Die leser se fokus verskuif van koning Dawid as die Godgekose koning van Israel (2 Sam 3:6-5:5), die sterk openbare figuur wat stabiliteit bied vir die Godsvolk, na Dawid in sy persoonlike hoedanigheid as ’n gewone mens met sondige neigings. Die Deuteronomis stel ons dus bekend aan Dawid se volle karakter en beklemtoon só dat alle mense, selfs konings en magtiges, beide lig en donker lewensaspekte het. Beide hierdie aspekte bring gevolge mee. Die perikoop van 2 Samuel 11:1-15 moet saam met die hele hoofstuk gelees word om die volle omvang van koning Dawid se keuses en optrede te begryp. Koning Dawid “neem” nie alleen ’n ander man (een van sy eie soldate, waarskynlik deel van die elite van Jerusalem) se vrou nie, maar laat dié onskuldige man doodmaak om sy hebsugtige sonde te verbloem. Wat meer is, ander onskuldige soldate kom ook om in die proses (2 Sam 11:17). Die gewelddadigheid wat Dawid nog in
1 Samuel 24-26 wou vermy, word die gewelddadigheid wat hy self meebring. Dit beïnvloed sy persoonlike lewe asook die lewe van die Godsvolk.

Dawid se getrouheid aan God lewer positiewe gevolge:  hy word as koning oor die hele Israel aangewys, hy bring die ark van die Here na Jerusalem terug (2 Sam 6:1-12) en hy bring stabiliteit vir die Godsvolk (2 Sam 5:6-25). Binne die denkraamwerk van die Deuteronomis maak dit sin dat koning Dawid se sondige optrede ook gevolge sal hê. Die negatiewe gevolge wat hieruit vloei is tweeledig. Koning Dawid se persoonlike lewe en die lewe van sy familie word onherroeplik geraak deur soortgelyke sondes van verkragting, moord en rebellie (2 Sam 13-19), en die dood van sy eersgeborene by Batseba, Urija se vrou (2 Sam 12:15-25), as Goddelike straf. Koning Dawid se volk, aan hom deur God toevertrou, ly onder die koningshuis se onstabiliteit en word later ook heeltemal ontwortel deur die Babiloniese ballingskap in 2 Konings. Die Deuteronomis dui aan dat 2 Samuel 11 die draaipunt is van Israel se verhaal en dat koning Dawid se optrede wye gevolge het. Die waarskuwing van magsug en geweld word verder versterk.

Hierdie perikoop en die wyer verhaal dien nie net as waarskuwing vir die Israeliete en eerste lesers nie, maar resoneer met menslike kontekste regdeur die geskiede-nis. Magsug en gepaardgaande geweld deur die leiers van die tyd, is nou verweef met die mens se storie. Ons sien dit in ons moderne militêre geskiedenis met voorbeelde soos die twee wêreldoorloë, Amerika se optrede in Irak en die Midde-Ooste, Suid-Afrika se apartheidsregime en die stryd tussen Israel en Palestina. Ons beleef dit ook in ons moderne ekonomiese stelsel waar armer en swakker mense uitgebuit word met intensiewe en lae inkomste arbeid en mensehandel vir die seksbedryf. Hierdie is vorme van magsug en gepaardgaande geweld (tog nie altyd so duidelik sigbaar nie) deur persone wat as ekonomiese en sakeleiers op die versameling van groot hoeveelhede geld fokus. Ons kan nog voorbeelde noem. Die Deuteronomis se vertelling dien as ’n skel herinnering vir ons tyd.

Vir baie eeue is Batseba, die vrou van Urija, voorgehou as die verleidster wat die sonde en donkerte in koning Dawid losgemaak het deur haar uitlokkende bad. Dit is ook hoe Batseba uitgebeeld is deur teoloë, predikers en kunstenaars oor die jare. Die Deuteronomis gee geen tekstuele aanduiding dat hy as outeur met hierdie siening saamstem nie. Koning Dawid se optrede is onder die vergrootglas en God se straf val op koning Dawid se skouers. Batseba funksioneer as ’n geringe karakter in die breër verhaal (Rembrandt se skildery van 1654 beeld Batseba uit as sou sy bloot voldoen het aan koning Dawid se eise). Deur die eeue het lesers dit moeilik gevind om hierdie verhaal van egbreuk en moord, te vereenselwig met die lewe van die Godgekose koning, Dawid. Lesers wou eerder die teenstrydighede uitwis deur die blaam op iemand anders te plaas. Tog erken koning Dawid dat hierdie gebeure wel sy skuld was. Ons lees in 2 Samuel 12:13 sy bekentenis teenoor die profeet Natan. Dit spreek boekdele oor Dawid se sterk karakter dat hy bereid is om na Natan te luister en as koning te erken dat hy teen God gesondig het. Koning Dawid is ’n voorbeeld van menswees: gelyktydig ’n kind van God en ’n sondaar; gelyktydig gevul met lig en donker.

Preekvoorstel

Die Skrifdeel se preektemas kan nie geskei word van die res van 2 Samuel 11 of die breër konteks van die troonopvolgingsnarratiewe nie. Alhoewel God nie as ’n duidelik geïdentifiseerde karakter in die Skrifdeel voorkom nie, is sy handeling van belang vir die verstaan van die gedeelte. Ons moet in ag neem dat God teenwoordig is by Dawid en die volk, asook dat God in beheer is van Dawid en die volk se voorspoed en toekoms (soos benadruk in die Deutoronomistiese geskiedenis).

Die prediker kan fokus op die sentrale tema van mag en die misbruik van gesag. Elke mens het ’n mate van mag en gesag wat op verskillende maniere manifesteer. Kan die prediker en lidmate sien waar hulle eie mag setel? Dit kan voorkom in die vorm van finansiële status, beroepstatus, die onderskikking van sekere rasse en/of genders en selfs die rol wat gespeel word deur elke lid binne die gesin en familie. Hoe manifesteer mag in die omliggende gemeenskap en ook binne die plaaslike gemeente? Hoe word hierdie mag uitgeleef op ’n daaglikse basis? Sou ons eerlik teenoor ’n Natan-figuur in ons lewe en teenoor God kon bely dat ons nie deur magsmisbruik gesondig het nie? Hierdie Deutero-nomistiese waarskuwingsverhaal noop ons om nie net krities na ons breër konteks te kyk nie, maar ook krities na ons eie lewe en gesindheid. Koning Dawid is nie net ’n voorbeeld van magsmisbruik nie, maar ’n voorbeeld van ’n verantwoordbare persoon, wat skuld erken vir sy/haar foute (2 Sam 12:13).

’n Verdere tema in die Skrifdeel is die idee van persepsies. Baie teoloë en predikers het deur die jare geworstel met hierdie verhaal van koning Dawid se sonde. Hoe kan dit wees dat hierdie Godgekose koning so kon optree? Het Batseba, die vrou van Urija, hom nie met opset verlei nie? Iets of iemand moes hom tog sekerlik aanleiding gegee het? Die denkfout lê in persepsie van waarnemers en oor die mens. Elke mens het gelyktydig ’n lig- en donkerkant, en stry daagliks om die balans tussen goed en kwaad te vind (Rom 7:18-19). Geen persoon, nie eers die Godgekose koning Dawid as leier van Israel en voorvader van Jesus, spring hierdie stryd vry nie. Hierdie wete spreek mens egter nie vry daarvan om verantwoordelikheid te neem vir ons sondige optrede nie (God straf koning Dawid immers baie swaar vir die “neem” van iets wat hom nie toekom nie), maar dit gee ons wel hoop en die moed om ons koppe te lig en weer te probeer.

Bibliografie

Anderson, A A 1989. Word Biblical Commentary vol. II: 2 Samuel; Berger, Y 2009. The Ruth and David-Bathsheba Story: allusions and contrasts. Journal for the Study of the Old Testament; Birch, B, Dozeman, T B & Kaczmarczyk, N 1998. New Interpreter’s Bible vol. II: Numbers-Samuel; Garsiel, M 1993. The Story of David and Bathsheba: a different approach. The Catholic Bible quarterly, vol. 55;  Janzen, D The Condemnation of David’s “taking” in 2 Samuel 12:1-14. Journal of Biblical Literature, no 2; McCarter, P K 1984. The Anchor Bible vol. 9: 2 Samuel; Orsmond, E C et al 2002.  Preekstudies met liturgiese voorstelle gebaseer op die leesrooster vir lidmate:Revised Common Lectionary, jaar B, Advent 2002 tot Koninkrykstyd 2003.

Sections

© Missio 2024 | All rights reserved.