Negende Sondag van Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

In Koninkrykstyd val die klem vanselfsprekend op die koningskap van Jesus in en oor die wêreld. Hierdie koningskap moet sigbaar wees en konkreet belewe word in die gemeente, onder gelowiges en ook in hulle getuienis teenoor die wêreld. Daarvoor moet Hy geëer word.

Die tema van Paulus se tweede gebed vir die Efesiërs (Ef 3:14-21) is om die liefde van Christus ’n praktiese werklikheid in die wêreld te laat word.

Ander tekste

2 Konings 4:42-44 ()
Kos vir honderd mene
42Daar het ’n man uit Baäl-Salisa aangekom wat vir die man van God brood gebring het, twintig garsbrode gebak met meel van die nuwe oes, en ook vars koringare.
Elisa het gesê: “Gee dit vir die mense om te eet.”

43Maar sy slaaf het beswaar gemaak: “Hoe kan ek die bietjie kos aan ’n honderd man voorsit?”
Maar Elisa het weer gesê: “Gee dit vir die mense om te eet, want so sê die Here: Hulle sal eet en nog oorhou.”

44Die slaaf het dit vir hulle voorgesit. Hulle het geëet en oorgehou, net soos die Here gesê het.

Psalms 105:10-18 (10-19)
10Hy het dit vir Jakob bevestig
as ’n vaste toesegging,
vir Israel as verbond
wat altyd sal bestaan.
11Hy het gesê:
“Ek gee Kanaän vir jou
as grondgebied en eiendom.”
12Toe hulle nog maar min was,
net ’n paar mense,
en vreemdelinge in die land,
13toe hulle van volk na volk
geswerf het,
van die gebied van die een volk
na dié van ’n ander,
14het Hy niemand toegelaat
om hulle te verdruk nie,
en het Hy selfs konings
ter wille van hulle gewaarsku:
15“Moenie aan my gesalfdes raak nie,
moenie my profete kwaad aandoen nie!”
16Toe Hy hongersnood
oor die land gebring het
en al hulle kos laat opraak het,
17het Hy iemand voor hulle uit gestuur:
Josef is as slaaf verkoop.
18Hulle het sy voete geboei
en hom in die gevangenis gehou
19totdat sy woorde bewaarheid is,
nadat hy die toets deurstaan het
met wat die Here aan hom
bekend gemaak het.

Johannes 6:1-21 ()
Die vermeerdering van die brood

(Matt 14:13–21; Mark 6:30–44; Luk 9:10–17)
6 Hierna het Jesus na die oorkant van die See van Galilea toe gegaan, wat ook die See van Tiberias genoem word. 2’n Groot klomp mense het agter Hom aan gekom omdat hulle die wondertekens gesien het wat Hy aan die siekes gedoen het. 3Jesus het toe teen die berg opgegaan en met sy dissipels daar gaan sit.

4Die paasfees van die Jode was naby.
5Toe Jesus rondkyk en sien dat ’n groot klomp mense na Hom toe aankom, sê Hy vir Filippus: “Waar kan ons brood gaan koop sodat die mense kan eet?”
6Dit het Hy net gesê om hom op die proef te stel, want Hy het self goed geweet wat Hy gaan doen.
7Filippus antwoord Hom toe: “Twee honderd mense se dagloon is nie eers genoeg om elkeen van hulle ’n stukkie brood te laat kry nie.”

8’n Ander dissipel, Andreas, die broer van Simon Petrus, sê toe vir Hom: 9“Hier is ’n seuntjie met vyf garsbrode en twee vissies; maar wat is dit vir so baie mense?”

10Toe sê Jesus: “Laat die mense gaan sit.”
Daar was baie gras op daardie plek en die mense het gaan sit. Die mans alleen was omtrent vyf duisend. 11Daarna het Jesus die brood geneem, God daarvoor gedank en dit uitgedeel aan die mense wat daar gesit het, en net so ook soveel van die vis as wat hulle wou hê.

12Nadat die mense versadig was, sê Hy vir sy dissipels: “Maak die stukke bymekaar wat oorgebly het sodat daar niks verlore gaan nie.”
13Hulle het dit toe bymekaargemaak. Daar was twaalf mandjies vol met die stukke wat van die vyf garsbrode oorgebly het nadat die mense klaar geëet het.
14Toe die mense die wonderteken sien wat Jesus gedoen het, het hulle gesê: “Hy is werklik die Profeet, die Een wat na die wêreld toe moes kom.”
15Toe Jesus merk dat hulle Hom met geweld wil kom koning maak, het Hy verder die berg op gegaan, Hy alleen.

Jesus loop op die see
(Matt 14:22–33; Mark 6:45–52)
16Toe dit aand word, het Jesus se dissipels na die see toe gegaan, 17in ’n skuit geklim en weggevaar na Kapernaum toe, oorkant die see. Dit was al donker en Jesus was nog steeds nie by hulle terug nie. 18Daarby het die see onstuimig geword, omdat daar ’n sterk wind gewaai het. 19Toe hulle sowat vyf of ses kilometer geroei het, sien hulle Jesus op die see loop en naby die skuit kom, en hulle het bang geword. 20Maar Hy sê vir hulle: “Dit is Ek; moenie bang wees nie.”

21Hulle was toe gewillig om Hom in die skuit te neem, en daarna het die skuit by die land aangekom waarheen hulle op pad was.

Fokusteks

Efesiërs 3:14-21
Paulus se werk onder die heidennasies
3 Daarom bid ek vir julle wat nie Jode is nie, ek, Paulus, ’n gevangene deur my diens aan Christus Jesus.
2Julle het tog seker gehoor van die opdrag wat God in sy genade aan my gegee het in julle belang. 3Hy het sy geheimenis deur ’n openbaring aan my bekend gemaak, soos ek dit hierbo kortliks beskrywe het, 4en as julle dit lees, sal julle ’n begrip kry van my insig in die geheimenis van Christus. 5Nog nooit tevore in die geskiedenis is die geheimenis aan die mensdom bekend gemaak soos God dit nou deur die Gees aan sy heilige apostels en profete geopenbaar het nie. 6En dit is die geheimenis: deur die verkondiging van die evangelie en in hulle verbondenheid met Christus Jesus, word ook mense wat nie Jode is nie, saam met ons deel van die volk van God en lede van die liggaam van Christus, en kry hulle ook saam met ons deel aan wat God belowe het.

7Van hierdie evangelie het ek ’n dienaar geword, ’n voorreg wat God in sy genade aan my gegee het deur sy krag in my te laat werk. 8Hoewel ek die geringste van al die gelowiges is, het Hy aan my hierdie voorreg gegee om aan die heidennasies die evangelie van die onpeilbare rykdom van Christus te verkondig. 9Ek moet aan almal bekend maak hoe God, die Skepper van alle dinge, nou sy verborge plan uitvoer nadat Hy dit deur al die eeue geheim laat bly het. 10Maar nou het God die ryke verskeidenheid van sy wysheid deur die kerk bekend laat word aan elke mag en gesag in die hemelruim, 11soos Hy Hom van ewigheid af al voorgeneem het om dit deur Christus Jesus, ons Here, tot uitvoering te bring. 12In ons verbondenheid met Hom en deur ons geloof in Hom kan ons met vrymoedigheid en vertroue na God gaan. 13Daarom bid ek dat julle nie moedeloos word omdat ek om julle ontwil ly nie. Julle moet dit eerder as ’n eer beskou.

Die gebed van Paulus vir die Efesiërs
14Daarom kniel ek in gebed voor die Vader 15aan wie die hele gemeenskap van gelowiges in die hemel en op die aarde sy bestaan te danke het. 16Ek bid dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word, 17dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees. 18Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. 19Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God.

20Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, 21aan Hom kom die eer toe, in die kerk, deur ons verbondenheid met Christus Jesus, deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid. Amen.

Fokus

In hoofstuk 2 het ons drie van Paulus se vier gevolgtrekkings oor die kerk gehoor, wat voortvloei uit die baie belangrike stelling oor die kerk in hoofstuk 1:22-23: dat God Jesus oor alles in hemel en aarde aangestel het, en dat die kerk sy liggaam is: “die volheid van Hom wat alles in almal vervul”.

Hier het ons nou die vierde gevolgtrekking: “Alle mense kan deel word van die Godsvolk deur Christus Jesus” in 3:1-13, waarna ons een van die mooiste gebede in die Bybel – 3:14-21 – vind, waarin Paulus vra dat die hele gemeenskap van gelowiges heeltemal vervul sal word met die volheid van God, as ‘n getuienis aan alle mense dat hulle in Christus Jesus vrede met God kan geniet.

Dit is die teksgedeelte waarop die preekriglyn fokus

Mag Christus in julle harte woon, gewortel en gegrondves in die liefde – 3:14-21
Die gevolgtrekking dat alle mense deel kan wees van die Godsvolk, dring Paulus op sy knieë om van God self te vra dat dié rykdom van hierdie boodskap in sy volheid nie net deur hulle nie, maar deur alle gelowiges en nog wyer besef sal word. Hy sal in hoofstuk 4 weer terugkeer om die gelowiges aan te spoor om self ernstig daaraan te werk om die eenheid wat die Gees tusen hulle gesmee het, te handhaaf. Hier is sy fokus egter om dit van God te vra.

Let op hoe Paulus hier oor die gemeenskap van gelowiges met praat. Hy beskou hulle as ‘n familie – dit is wat die woord gemeenskap (patria) in vers 14 eintlik beteken. Dit is ‘n familie wat die grense van tyd oorskry – hulle is in die hemel en die aarde. Dit is ook ‘n familie wat deur die geslagte heen EEN gemeenskap bly – vers 21.

En sy droomgebed vir hierdie familie van gelowiges is dat hulle almal werklik heeltemal vervul sal word met die volheid van God – soos hy al in 1:23 God se droom vir die kerk uitgespel het. Hy spel dit in ses bedes uit:

  • Hulle het in die eerste plek innerlike krag nodig – iets wat die Gees doen in ons harte en wat die hoop in ons brandend hou.
  • Hulle het in die tweede plek geloof nodig, want dit is hoe Christus ‘n woonplek in ons harte kry, sodat Hy ‘n werklikheid in elkeen word.
  • Daardeur sal hulle hele lewe in die derde plek in die liefde gewortel en gegrondves wees, wat onontbeerlik is om werklik vrug te kan dra.
  • Paulus bid ook dat hulle in die vierde plek sal groei in hulle insig in hoe ver die liefde van Christus strek, want dit sluit alles en almal in. Let op hoe Paulus letterlik die liefde van Christus as ‘n soort driedimensionele kubus beskryf wat ons hele werklikheid insluit. Paulus se dimensies van wyd, ver, hoog, en diep beskryf ‘n driedimensionele werklikheid, die breedte, lengte, hoogte, en diepte daarvan.
  • Maar insig is nog nie alles nie! In die vyfde plek bid Paulus dat hulle Christus se liefde sal ken, dws dit sal ervaar, ‘n liefde wat eintlik ons begrip en insig te bowe gaan.
  • En Paulus sluit in die sesde plek af met ‘n gebed dat hulle heeltemal vervul sal word met die volheid van God, presies dít wat hy bely het van die kerk in 1:23.

En dit is wat God in hulle sal bewerk, om die waarheid te sê, Hy kan ook nog meer doen as wat Paulus (of ons) kan bid of dink – oneindig meer! Daarom kom alle eer aan God toe, in die kerk, in ons persoonlike lewens, in die wêreld, en tot in alle ewigheid.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Lied 157 “Here Jesus ons is saam vs 1,2”

Aanvangswoord
20Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, 21aan Hom kom die eer toe, in die kerk, deur ons verbondenheid met Christus Jesus, deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid. (Efes 3)

Seëngroet
Aan almal in …………………………….. wat aan God behoort en in Christus Jesus glo.
2Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!
(Uit Efesiërs 1:1-2)

Lied 475 “Allerhoogste Hemelvader vs 1,2”

Verootmoediging
Laat Romeine 12:9-19 dien as ‘n spieël waarin ons ons tekortkominge en sonde kan raaksien…

Riglyne vir die Christelike lewe
9Die liefde moet opreg wees.
Verafsku wat sleg is
en hou vas aan wat goed is.
10Betoon hartlike broederliefde
teenoor mekaar;
bewys eerbied teenoor mekaar
en wees mekaar daarin tot voorbeeld.
11Moenie in julle toewyding
verslap nie,
bly altyd geesdriftig,
dien die Here.
12Verbly julle in die hoop;
staan vas in verdrukking;
volhard in gebed.
13Help die medegelowiges
in hulle nood
en lê julle toe op gasvryheid.
14Seën julle vervolgers,
ja, seën hulle,
moet hulle nie vervloek nie.
15Wees bly saam met dié wat bly is
en treur saam met dié wat treur.
16Wees eensgesind onder mekaar.
Moenie hooghartig wees nie,
maar skaar julle by die nederiges.
Moenie eiewys wees nie.
17Moenie kwaad met kwaad
vergeld nie.
Wees goedgesind teenoor alle mense.
18As dit moontlik is,
sover dit van julle afhang,
leef in vrede met alle mense.
19Moenie self wraak neem nie,
geliefdes,
maar laat dit oor aan die oordeel
van God.
Daar staan immers geskrywe:
“Dit is mý reg om te straf;
Ék sal vergeld,”
sê die Here.
Gebed om sonde vergifnis
Vergewe ons, Here God,
ons opsetlike sondes,
en dié van versuim;
die sonde van ons jeug,
én van ons ryper jare;
die sonde van ons gedagtes,
en van ons liggaam;
ons geheime en ons blatante sondes;
dié wat ons uit onkunde
of uit ongeërgdheid doen,
én dié wat ons vooruit bedink en beplan.
Vergewe ons, Here,
die sonde wat ons doen
om onsself te bevoordeel
of om ander mense te plesier;
die sonde waarvan ons weet
en wat ons onthou,
maar ook dié wat ons vergeet het;
die sonde wat ons van ander probeer wegsteek,
en van onsself;
en dié waardeur ons ander tot sonde verlei het.
Vergewe hulle ook, o God.
Vergewe ons almal ter wille van Hom
wat vir ons sonde gesterf, en opgestaan het
sodat ons vrygespreek kan word,
en wat nou aan U regterhand sit
om vir altyd vir ons in te tree
-Jesus Christus, ons Here.
(John Wesley, 1703-1791), uit “Wat Here is en lewend maak” van Dirkie Smit, 2001:49.

Lied 245 “Ek wat vergifnis Heer ontvang het 1,2,3”

Die geloofsbelydenis na die prediking kan ook hier gebruik word.

Liedere

F21. “In Die Hemel Is Die Heer”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Lof / Verwondering)
Teks en Musiek: Tom Hiemstra
Teks: [strofes 3,4 onbekend]
© 2001 MAR Gospel Music Publishers
(vers 1 en 2 opgeneem op Louis Brittz se CD “Ons Koning kom weer”)
LW: Ons wil graag al vier verse vir gebruik bekendstel!!

In die hemel is die Heer
en sy glans is soos kristal.
Hy’s die Heilige van God
en Hy heers oor die heelal.

Refrein:
Daar is mag in Sy woord!
Soos die waters druis sy stem.
Soos die son op die see se blou,
so die rykdom van sy trou.
Want aan U is die mag 
en die heerlikheid en krag.
En aan U is die eer 
en die lof, want U regeer.

Miljoene in gereedheid,
is die eng’le om sy troon.
Verbysterend sy sieraad
en die weelde van sy kroon.

Refrein:

Driemaal heilig is die Heer,
Hy wat was en is en kom.
Hy’s die Alfa en Omega,
almagtig en verhewe.

Refrein:

Aan Hom wat op die troon sit,
en aan die Lam,
die heerlikheid en lof
van nou af en vir ewig.

Refrein:

F66. “Op Vaste Fondamente”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Die Kerk / Geloof)
Musiek: AURELIA – Samuel Wesley 1864; gewysig Nellis van Zyl Smit/Neil Büchner, 2004
Teks: Attie van der Colf © 1978 / 2001; gewysig Nellis van Zyl Smit/Neil Büchner, 2004
© MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lof met Louis Brittz)

1. Op vaste fondamente het God sy kerk gebou
Apostels en profete het ons dit toevertrou
Die Koning van die hemel herskep deur Woord en Gees
Verlorenes op aarde dat hul sy volk kan wees
Hy roep uit alle volke ‘n volk vir Hom tesaam
Een in geloof en werke een in sy heil’ge Naam
Hy gee die brood die beker Hy gee die heil’ge doop
Om hulle te verseker: Ek het jul duur gekoop

Refrein:
Ja Hy lê die steen. Hy is die rots
Sy fondament is vas. Hy is God
O ja, Hy is
Ja, Hy is God

2. O Heer skryf in ons harte dat ons dit nooit vergeet
Al pynig ons die smarte al martel ons die leed
Die kruis van ons Verlosser sluit vergesigte oop
In ‘n verwarde wêreld bring dit weer vaste hoop

Refrein:

God praat met ons en ons luister

Epiklese: Lees Lied 253 “U het die brood gebreek” vs 1,2 as ‘n gebed

Skriflesing: Efesiërs 3:14-21

Prediking

Familie-oomblik

Die taal kan ‘n hindernis wees vir kleiner kinders. Probeer om die gebed in terme wat aan kinders bekend is, te vertaal. Bv – dat die gebed van Paulus ooreenkom met die wense wat ons vir ander gee op Kersfees- of verjaarsdagkaartjies. Ons wil graag hê dat hulle seën en liefde sal ervaar.

Fokus ook op die feit dat God vir ons lief is, al wen ons nie alles waaraan ons deelneem nie. Dit bou ’n selfvertroue wat op God se guns gebaseer is, en nie net op eie prestasies nie.

Hierdie vertaling is uit die Nuwe Testament vir kinders deur Stephan Joubert, Jan van der Watt en Hennie Stander (1999)

Paulus bid vir die Gemeente in die Stad Efese
14–17 Ek gaan op my knieë en bid tot God om Hom vir alles dankie te sê. God is die Vader van elke mens. Dit maak nie saak of die mens hier op die aarde is en of hy al klaar in die hemel is nie. Ek bid dat die Heilige Gees* julle sal sterk maak en dat Jesus in julle hart sal woon. Ek bid ook dat julle vir God en ander mense sal liefhê.

18–19 Jesus het julle baie lief. Ek wens so dat julle dit darem so ’n bietjie kan verstaan. Maar ek weet geen mens kan regtig verstaan hoe baie Jesus ons liefhet nie. Mag God ook Koning wees van julle hele lewe. Daar mag regtig nie ’n stukkie van julle lewe wees waar God nie Koning is nie.

20–21 Laat ons hele gemeente* vir God dankie sê dat ons kinders van Jesus mag wees. Laat alle mense vir altyd vir God dankie sê vir alles wat Hy vir ons doen. Ja, God kan selfs baie meer doen as wat ons kan droom.

Alternatief: Om ondergenoemde vers uit ons fokusteks te illustreer kan kinders vorentoe geroep word om te kyk wie die hoogste kan spring. Maak vooraf in die kerk teen ‘n plat muur merkers met papier en wondergom vanaf 1,8m elke 10cm tot so 2,8m of 3m. Kyk wie kan met 1 hand die hoogste merker raak in ‘n sprong.

18Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. (Efesiërs 3)

Ons kan die sprong redelik akkuraat meet, maar die omvang van die liefde van Christus is onmeetbaar- vandaar dat Paulus bid dat die Efesiërs enigsins sal begryp hoe wyd en ver en hoog en diep Christus se liefde strek.

Preekriglyn

‘n Seuntjie stap saam met sy ma kafee toe. Die eienaar, ‘n dierbare man, besluit om vir die seuntjie lekkers te gee. Hy steek sy hand in ‘n groot glasbottel met sagte lekkers en hou ‘n handvol na die seuntjie toe uit. “Kry vir jou, ou maat.”

Die seuntjie is normaalweg uitgaande en glad nie skaam nie. Nou deins hy egter bietjie terug, onseker of hy die lekkers moet vat. Die oom gooi dit in ‘n papiersakkie en gee vir hom aan. Met ‘n groot glimlag gryp hy die sak lekkers vas.

Op pad terug vra sy ma: “Hoekom wou jy eers nie die lekkers vat nie?”

“Die oom se hand is soveel keer groter as myne,” sê die seuntjie, “die meeste lekkers sou op die grond val!”

God gee oneindig baie

Efesiërs 1 tot 3 beskryf die kerk van die Here as resultaat van die geweldige groot gawes wat God gee. Die bestaan van die gemeenskap van gelowiges, van ons geloof, van ons verborgenheid in Christus, en van ons deel hê aan die genadegawes van God, is die vrug van God se oorvloedige gawes.

Mens voel oorweldig by die groot gawes wat God gee:

  • Die hele gemeenskap van gelowiges in die hemel en op die aarde het sy bestaan aan God die Vader te danke (15);
  • Hy gee krag uit die rykdom van sy heerlikheid (16)
  • Hy gee Christus, wie se liefde van geweldige omvang is (18)
  • Sy liefde gaan alle verstand te bowe (19)
  • Die kerk as sy liggaam word heeltemal vervul met die volheid van God (19)
  • Hy is in staat om baie meer te doen as wat ons bid of dink (20)

Mens deins eintlik terug by die aanhoor hiervan. Daar is niks vanselfsprekend aan die groot gawes wat ons ontvang nie. Dit is die wonderlikste, grootste geskenk denkbaar.

God het groot hande.

Vrug van God drie-enig se werk

Die kerk as vrug van God se werk is God se instrument in die wêreld. Die kerk is die manier waarop God in die wêreld aanwesig is om meer en meer mense na Hom te trek, en hulle as versoende gemeenskap saam te bind – aan Hom en aan mekaar.

Die Heilige Goddelike Familie – Vader, Seun en Heilige Gees – noi mense deur die verkondiging van die evangelie in verbondenheid met Jesus Christus in nuwe geloofsgemeenskap in (3:6) sodat hulle deel kan kry aan die wonderlike gawes wat die ruimhartige God belowe het.

Daarom beskryf Paulus die kerk as ‘n familie. Dit is wat die woord gemeenskap (patria) in vers 14 beteken. God skep hierdie familie.

Paulus se gebed is dank aan Vader, Seun en Heilige Gees vir hierdie handelinge en gawes. Sy gebed is dat die kerk ten volle sal ervaar en begryp wat dit beteken om so deur God oorlaai te word.

Die hele gebed veronderstel die werk van die drie-enige God. Die dinamika van ons verlossing, die wyse waarop dit mense insluit in nuwe gemeenskap, kan net die werk wees van ‘n relasionele, verhoudingsgedrewe Familie wat aan mense die onbeskryflike voorreg gee om deel te word van die Familie van God.

Daarom:

  • kniel hy in gebed voor die Vader (14), en;
  • bid dat die Gees die gelowiges innerlik sal versterk (16), en
  • vra dat Christus deur geloof in ons harte woon en sy liefde die wortel en fondament sal word waaruit ons lewe (18).

‘n Mens snap die roeping en die identiteit van die kerk baie moeilik as jy nie kliek dat die kerk gebore is uit die werk van die Goddelike Familie van Vader, Seun en Heilige Gees nie. Ons is die vrug van die lewende God se werk, voor Wie se aangesig ons lewe. Ons God is ‘n sosiale God wat mense immer oor grense insluit in gemeenskap. Altyddeur word mense wat tans nie deel is van die familie van God nie saam met ons deel van die volk van God, lede van die liggaam van Christus, en kry hulle saam met ons deel aan wat God belowe het (3:6).

Onthou ons geboortemoment

Die kerk moet haar geboortemoment voortdurend onthou om op koers te bly. Ons kom voort uit die werk van God die Vader, in en deur die lewe, sterwe, opstanding en hemelvaart van ons Here Jesus Christus, deur die kragtige werk van die Heilige Gees. Dit stempel ons identiteit en rig ons roeping. Ons leef in die voortgaande dinamika en werk van hierdie God wat sy kerk steeds gebruik om hierdie skeppingsdoel uit te leef.

In baie mense se gemoed ontstaan verwarring oor die kerk as ons uitsig op ons geboortemoment verloor. Mense mag dink:

  • die kerk is gebore uit ‘n morele kode en moet bloot ‘n stel morele waardes afdwing of bemark;
  • die kerk is geroep om die bekende omgewing, die status quo, te beskerm en te bewaar;
  • die kerk is bloot daar om sy lede te versorg;
  • die kerk is bloot ‘n geestelike vulstasie vir mense wat reeds deel is daarvan;
  • die kerk is niks meer as kerklik-institusionele strukture nie;
  • die kerk funksioneer net wanneer eredienste of formele kerklike programme en kommissie-vergaderings gebeur;
  • die kerk is ‘n warm lewensgemeenskap – vir sy lede.

Ons kan ‘n lang lys van misverstande maak. Hoewel daar waarheidsmomente in hierdie misverstande mag steek, mis die dit kragtige dinamika van die leweskeppende God wat ‘n greep op mense se lewens kry, met sy volheid in hulle woon, en die wêreld deur hulle vernuwe en genees onderweg na die volle inhoud van die beloftes wat God vir hulle weggelê het.

Hoe God God se kerk bemagtig

God skep God se kerk en is deur God se kerk aanwesig in die wêreld. Hoe bemagtig God die kerk om vanuit gemeenskap met God as lewensveranderende gemeenskap in die wêreld te lewe?

God gee krag

God bekragtig eerstens God se kerk (16). Deur die werk van die Heilige Gees word die kerk innerlik versterk om God se wil te doen. Die wil, begeerte, moed en deursettingsvermoë om God se wil te doen, kom van God. Ons word deur Paulus se voorbeeld aangemoedig om voortdurend te bid vir hierdie krag.

God gee geloof

Christus kry deur geloof ‘n woonplek in ons harte, sodat Christus deur ons geken en uitgestraal word. Hierdie inwoning van Christus is iets waarvoor ons moet bid en wat ons as gawe moet omhels.

God gee liefde

Ons word ook geleer om te bid vir die liefde van God in ons, sodat ons in die liefde gewortel en gegrondves sal wees. Hy bid vir ‘n ervaring van hierdie liefde, dat ons dit nie net met ons verstand sal begryp nie, maar met ons hele wese sal ervaar. Sy gebed is dat die volheid van God in ons sal lewe, dat ons daarmee vervul sal word.

Leef vanuit ‘n Godsbelewenis

Om ons roeping as kerk kan nie uit eie krag vervul word nie. Ons het nodig om God te beleef. Ons het nodig om God se oorvloedige gawes te beleef. Ons het nodig om God se liefde te beleef.

Tony Campolo vertel dat hy elke oggend wanneer hy wakker word, bid vir ‘n Godservaring. Hy bid om te beleef dat die Here hom liefhet. Van kop tot tone liefhet. Hy bid dat die Here hom deur die dag die ervaring sal gee dat God met hom is en hom vervul. Hy bid dat die Here hom sal gebruik.

Dit het sy lewe verander. Sy gemeente bid elke dag hierdie gebed. Dit het sy gemeente verander.

God stuur ons om te leef

Gebed

Geloofsbelydenis
Die volgende seleksie uit die Belydenis van Belhar kan as geloofsbelydenis gebruik word. 
Plaas dit op die dataprojektor of gee dit in gedrukte vorm vir elke lidmaat sodat ons ons geloof saam hardop kan bely:

“Ons glo in die drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees wat deur sy Woord en Gees sy Kerk versamel, beskerm en versorg van die begin van die wêreld af tot die einde toe. Ons glo aan een heilige algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges, geroepe uit die ganse menslike geslag.

Ons glo dat God Homself geopenbaar het as die Een wat geregtigheid en ware vrede onder mense wil bring; dat Hy in ’n wêreld vol onreg en vyandskap op besondere wyse die God van die noodlydende, die arme en die veronregte is en dat Hy sy kerk roep om Hom hierin na te volg; dat Hy aan verdruktes reg laat geskied en brood aan die hongeriges gee; dat Hy die gevangenes bevry en blindes laat sien; dat Hy die wat bedruk is ondersteun, die vreemdelinge beskerm en weeskinders en weduwees help en die pad vir die goddelose versper; dat vir Hom reine en onbesmette godsdiens is om die wese en die weduwees in hulle verdrukking te besoek; dat Hy sy volk wil leer om goed te doen en die reg te soek.”
(Uit Bybelmedia se Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2011-12, liturgiese voorstel by 29 Julie 2012.)

Wegsending: Lied 478 “Op vaste fondamente vs 1,2,3,4”

Seën
18Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. 19Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God.
Amen (Efes 3)

Musikale Amen: Lied 312/313/314/315

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.