Negende Sondag in Koninkrykstyd (Seisoen van Barmhartigheid)

Sections

Oorsig

Tydseie elemente

Kleure
Groen soos in die res van Koninkrykstyd.

Simbole en rituele
’n Sogenaamde hongerdoek wat in die liturgiese ruimte gedrapeer word en waarop lidmate die geleentheid kry om items soos koerantknipsels vas te maak tydens die erediens en wat die onmiddellike konteks van nood van die gemeente reflekteer. (Die hongerdoek pas tradisioneel liturgies binne die Lydenstyd en nie in Koninkrykstyd nie. Hierdie voorstel kan moontlik gesien word as ’n loslaat van daardie mooi verband, of dalk juis ’n verruiming van die gebruik van die hongerdoek).

Bring kos in natura na die erediens, veral die nagmaalviering, om dit te gebruik om die sakrament mee te vier en dit wat oorskiet na hulpbehoewendes of spesifieke projekte te neem. Die verband tussen die nagmaal en barmhartigheid kan nie sterk genoeg beklemtoon word nie. Soos wat ons hierdie gawes, die produkte van ons arbeid, insamel, aandra en neerlê op die tafel, so lê ons ook ons lewe daar neer. Hierdie produkte van ons arbeid is nooit genoeg nie, maar op die tafel van ons Here word dit op ’n wonderbaarlike wyse vermenigvuldig sodat daar genoeg is vir iedereen. Op die tafel lê jou lewe.

Voorbidding kan in hierdie seisoen ’n besondere klem kry, weer eens en spesifiek soos geïnspireer deur die leesroostertekste en die gemeente se bepaalde konteks. Dieselfde geld vir die prediking vir hierdie seisoen.

Erediensgangers word uitgedaag om elke week tydens die Seisoen van Barmhartigheid een ete gedurende die week prys te gee en die waarde van daardie ete in die vorm van droë produkte na die erediens te bring wat gebruik sal word in ’n projek. Die produkte word nie sommer net in ’n mandjie by die deur geplaas nie, maar word tydens die derde beweging van die erediens (tafeldiens) fisiek vorentoe gebring en op die tafel geplaas. Dit kommunikeer ook baie ten opsigte van God se omgee en solidariteit in Jesus met mense in nood.

Hierdie seisoen is uiteraard ook ’n ideale geleentheid om projekte waar lidmate by kan betrokke raak, bekend te stel of dalk opnuut bekend te stel met verhale en getuienisse oor die projekte.

Ander tekste

Psalm 133 (As broers eensgesind saam woon!)

133 ’n Pelgrimslied. Van Dawid.
Hoe goed, hoe mooi is dit
as broers eensgesind saam woon!
2Dit is soos reukolie
wat van die kop af in die baard afloop,
die baard van Aäron,
af tot by die soom van sy klere.
3Dit is soos die dou van Hermonberg
wat op die berge by Sion val.
Waar broers so saam woon,
skenk die Here sy seën:
’n lang, lang lewe.

Romeine 11:1-2a, 29-32 (As God eenmaal sy genadegawe geskenk en geroep het, trek Hy dit nie weer terug nie)

Die oorblyfsel van Israel
11 “Het God dan nie tog sy volk verstoot nie?” sou iemand kon vra.
Beslis nie! Ek is immers self ook ’n Israeliet, ’n afstammeling van Abraham, uit die stam Benjamin. 2God het sy volk, wat Hy lank tevore verkies het, nie verstoot nie.

29As God eenmaal aan mense sy genadegawes geskenk en hulle geroep het, trek Hy dit nooit weer terug nie. 30Vroeër was julle heidene, ongehoorsaam aan God, maar noudat die Jode ongehoorsaam geword het, het God Hom oor julle ontferm. 31Net so gaan dit ook met die Jode: omdat God Hom oor julle ontferm het, het hulle nou ongehoorsaam geword. Maar dit gebeur sodat hulle self ook nou ontferming kan vind. 32God het almal aan die ongehoorsaamheid oorgegee, sodat Hy Hom oor almal kan ontferm.

Matteus 15:(10-20) 21-28 (“Maar die hondjies eet darem van die krummels wat van hulle base se tafels afval.”)

Wat ’n mens onrein maak
(Mark 7:14–23)

10Toe het Jesus die menigte nader geroep en vir hulle gesê: “Julle moet nou luister en mooi verstaan! 11Dit is nie wat by die mond ingaan wat die mens onrein maak nie. Maar wat by die mond uitkom, dit maak ’n mens onrein.”

12Daarna het die dissipels na Hom toe gekom en gesê: “Weet U dat die Fariseërs hulle vererg het toe hulle gehoor het wat U sê?”

13Maar Jesus antwoord: “Elke plant wat my hemelse Vader nie geplant het nie, sal uitgetrek word. 14Laat staan hulle maar; hulle is blinde leiers van blindes. As ’n blinde ’n blinde lei, val altwee in die sloot.”

15Petrus sê toe vir Hom: “Verduidelik tog vir ons die beeldspraak.”

16“Verstaan ook julle dit nog nie?” antwoord Jesus. 17“Begryp julle nie dat alles wat by die mond ingaan, na die maag toe gaan en daarna uit die liggaam uitgaan nie? 18Maar wat by die mond uitkom, kom uit die hart, en dit is die dinge wat die mense onrein maak. 19Uit die hart kom slegte gedagtes: moord, owerspel, onkuisheid, diefstal, vals getuienis, kwaadpratery. 20Dit is die dinge wat ’n mens onrein maak, maar om met ongewaste hande te eet, maak ’n mens nie onrein nie.”

Die Kanaänitiese vrou
(Mark 7:24–30)

21Jesus het daarvandaan weggegaan en na die streke van Tirus en Sidon toe vertrek. 22’n Kanaänitiese vrou wat in daardie gebied gewoon het, het onverwags by Hom aangekom. Sy het aanhoudend geroep: “Ontferm U oor my, Here, Seun van Dawid! My dogter is in die mag van ’n bose gees, en dit gaan sleg.”

23Maar Hy het haar niks geantwoord nie.
Sy dissipels kom toe by Hom en vra: “Stuur haar weg, want sy hou aan met skreeu hier agter ons.”

24Jesus antwoord: “Ek is net na die verlore skape van die volk Israel toe gestuur.”
25Maar die vrou kom kniel voor Hom en sê: “Here, help my!”

26Hy sê vir haar: “Dit is nie mooi om die kinders se brood te vat en vir die hondjies te gooi nie.”
27“Dit is waar, Here,” sê sy, “maar die hondjies eet darem van die krummels wat van hulle base se tafels afval.”

28“Mevrou,” sê Jesus vir haar, “jou geloof is groot. Jou wens word vervul.”
Van daardie oomblik af was die dogter gesond.

Fokusteks

Jesaja 56:1,6-8
Ek sal nog ander byvoeg
56 So sê die Here:
Laat reg geskied, doen reg,
want die verlossing wat Ek bring,
is al aan die kom,
en die redding wat Ek bewerk,
gaan nou geopenbaar word.
2Dit gaan goed met die mens
wat die sabbat onderhou
en dit nie ontheilig nie,
wat sorg dat hy niks verkeerds doen nie.
Dit gaan goed met die mens
wat hom hieraan hou.
3’n Nie-Israeliet
wat by die volk van die Here
aangesluit het,
moenie dink: die Here sal my
van sy volk afsny nie.
’n Ontmande moenie van homself dink:
ek is maar ’n droë boom nie.
4So sê die Here:
Aan die ontmandes
wat my sabbatte onderhou,
wat kies vir wat Ek wil,
en wat lewe volgens my verbond,
5aan hulle sal Ek in my tempel
en aan sy mure
’n teken gee, ’n erenaam
wat beter is as seuns en dogters.
Ek sal aan sulke mense ’n naam gee
wat nie uitgewis sal word nie.
6Ek sal die nie-Israeliete
wat by my volk aansluit
om My te dien, om my Naam
lief te hê,
en om my dienaars te wees,
almal wat my sabbatte onderhou
en dit nie ontheilig nie,
en wat lewe volgens my verbond,
7na my heilige berg toe bring.
Ek sal aan hulle vreugde gee
in my huis van gebed,
hulle brandoffers, hulle offers
op my altaar sal vir My
aanneemlik wees,
want my tempel sal uitgeroep word tot
’n huis van gebed vir al die volke.
8Die Here my God
wat die verstrooides van Israel
bymekaarmaak, sê:
Ek sal nog ander byvoeg
by dié wat reeds bymekaargemaak is.

Ekstra stof

Jesaja as boek
Die indeling van Jesaja in drie dele: Proto-Jesaja, Deutero-Jesaja en Trito-Jesaja, is gebaseer op die teorie van Bernard Duhm uit die laat 19de eeu n C wat deel een met die profeet Jesaja uit die 8ste eeu v C geassosieer het, deel twee met ‘n anonieme profeet tydens die ballingskap in Babilon in die vroeë 6de eeu v C, en deel drie met nog ‘n anonieme profeet na die terugkeer uit ballingskap na Jerusalem toe in die laat 6de eeu v C. Die inhoud van die drie dele is dus verbind met die drie tydperke waaroor dit hoofsaaklik gehandel het, die Assiriese, Babiloniese en Persiese koninkryke.

Daar het egter in die laaste aantal jare ‘n belangrike verandering in die denke hieroor plaas gevind. Die klem het van Jesaja as profeet geskuif na Jesaja as boek, onder andere omdat toenemend besef is dat die inligting oor die sogenaamde “3 profete” te skraps was om as basis vir die eksegese te dien. Daarby het navolgers van Duhm se teorie die eksegese van die boek begin hanteer asof die onderskeie dele van die boek Jesaja niks met mekaar te doene gehad het nie. Hierbenewens het ander navorsers bevind dat dele van die sogenaamde Proto-Jesaja teks eintlik nie aan die profeet Jesaja self toegeskryf kan word nie, maar eerder aan redaksionele aanpassings in ‘n later tyd, wat die teorie van ‘n 3-profeet boek wankelrig gemaak het.

Baie navorsers het dus begin om Duhm se teorie op te skort en die boek eerder as ‘n literêre eenheid te lees en teologies te interpreteer. Dit beteken nie dat hulle daarmee noodwendig terugkeer na die tradisionele standpunt dat Jesaja die profeet ook die outeur van die hele boek Jesaja is nie. Maar dit beteken wel dat hulle die eenheid van die boek – waaraan verskeie mense waarskynlik eeue lank gewerk het – ernstig neem.

Indeling van die boek Jesaja
Jesaja teken God as die Lewende (Jes 37:4). Hy is die God van beide die Skepping (Jes 40:28) en die Geskiedenis (Jes 1:1; 43:15).

  • In terme van die Skepping is Hy beide Skepper (Jes 40:28) as Onderhouer (Jes 27:3, 40:26) van alles wat bestaan.
  • En in terme van die Geskiedenis tree Hy op as Regter (Jes 33:22) en Verlosser (Jes 41:14) van almal wat leef, ook die nasies (Regter: Jes 13-23; Verlosser: 56, 60).

Deel 1: Jesaja 1-39
In die eerste deel van die boek, hoofstuk 1-39, fokus Jesaja ons aandag op die mislukte roeping van Israel om in ’n lewende verhouding met God te leef as pelgrimsbestemming vir die nasies (vgl Jes 2:1-4). Hulle keuse om eerder alliansie-politiek te bedryf teen die groot wêreldmoondhede as om God se raad deur sy profeet te volg (Jes 7), het onvermydelik gelei tot Sy oordeel oor hulle deur die einste wêreldmoondhede, eers deur die bedreiging van die Assiriërs (7de eeu v C), en later voltrek deur die ballingskap in Babilon (6de eeu v C).

Juda se mislukking was veral te wyte aan hulle gebrek aan vertroue op Jahwe (Jes 30:15) wat hulle verlei het na afgodery (Jes 2:6) en politieke alliansies (Jes 7), sowel as hulle gebrek aan sosiale deernis met behoeftiges soos die wese en weduwees: “Die stad wat die tuiste van die reg was … is nou vol moordenaars.” (Jes 1:21-23).

Hierteenoor word God in sy heilige teenwoordigheid geteken (Jes 6) wat die oordeel oor sy volk Juda sal voltrek (Jes 8) … en tog ’n oorblyfsel (Jes 6:13) sal laat oorbly, waarin die belofte van ’n toekoms gesien kan word. Ook die nasies word deur God geoordeel (Jes 13-23), juis dié nasies op wie Israel hul vertroue geplaas het.

Benewens die historiese aanduidings in die boek (Jes 1:1; 2:1; 6:1; 7:1–25; 14:28; 20:1–6; 22:14–25, and 36:1–39:8.) word drie verhale midde in die profesieë geplaas om dit histories binne die meer as 50 jaar lange aktiewe bediening van die profeet Jesaja te plaas:

  1. Die verhaal van koning Agas in gesprek met Jesaja tydens die Siro-Efraimitiese oorlog teen die Arameërs en Israeliete van die Noordryk (, wat teen Jesaja se raad in ’n verdrag met die opkomende wêreldmag van die Assiriërs gesluit het (Jes 7-9 – vgl 2 Kon 16; 2 Kron 28) wat voor die val van Samaria in die jaar 722 v C gedateer moet word;
  2. Die verhaal van Jesaja se liggaamsprofesie teen Egipte en Kus (Jes 20:1-6) in die tyd van koning Sargon van Assirië waarskynlik in 711 v C;

Die verhaal van koning Hiskia, Agas se seun, wat dit weer reggekry het om stukkie vir stukkie die volk se onafhanklikheid terug te wen van Assirië en die Filistyne, en uiteindelik die bedreiging van Sanherib van Assirië in 701 v C kon afweer. Ook die verhaal van die siekte en herstel van Hiskia word vertel wat daarna plaasvind (Jes 36-39 – vgl 2 Kon 18-20; 2 Kron 29-32)

Jesaja 40-66
In die tweede deel van die boek, hoofstuk 40-66, fokus Jesaja ons aandag op die verlossing wat God vir sy volk bring, onder andere deur die bediening van die Dienaar van die Here (Jes 42, 49, 50, 5253) wat sy klimaks vind in die belofte van ’n nuwe hemel en aarde (Jes 65-66).

Daar word aangesluit by vorige heilsbeloftes in die eerste deel van die boek (Jes 2:2-5; 4:2-6), en ’n visie van ’n volkome nuwe begin geteken wat histories, internasionaal en kosmies van aard is.

Aan die een kant is dit ’n troosboodskap vir die verstrooide volk (Jes 40). Aan die ander kant konfronteer dit ook diegene wat nie wil deelneem aan die nuwe Uittog wat God vir sy mense belowe nie (Jes 46) en nie tot inkeer wil kom nie (Jes 56-59). Tog belowe die Here dat die nuwe toekoms onafwendbaar heerlik sal deurbreek. En die nasies sal ook daarin deel (Jes 56, 60).

Jesaja 56-57 – Almal is welkom by God
Jesaja borduur voort op die tema van die nasies en:

  1. wys hoe ander mense ingesluit word in die gemeenskap van die gelowiges – 56:1-8 en
  2. spreek ‘n skerp oordeel oor lui leiers uit – 56:9-12. Dit volg hy op met
  3. ‘n ongelooflike diepsinnige bespreking van die voorkoms van boosheid in die wêreld, wat manifesteer in die wellustige dien van afgode – 57:1-13 en
  4. ‘n oproep op die regverdiges om gereed te maak vir die uitkoms wat God gaan bring – 57:14-21.

Hoofstuk 56
56:1-8: Dit is darem ongelooflik dat die Here soveel moeite moet doen om mense te oortuig om die regte ding te doen! ‘n Mens sou dink dat dit ‘n natuurlike keuse moes wees, om die regte ding eerder as die verkeerde te doen! Maar, helaas, dit is nie so nie, wat aandui dat daar so iets soos die sondeval moes wees wat dié geneigdheid van mense om die verkeerde doelbewus te kies, kan verklaar.

Let op dat regdoen hier nie ‘n verdienstelike karakter aanneem nie, maar ‘n voorbereidende karakter, soos ons dit reeds in hoofstuk 40 aangetref het. Omdat God se verlossing aan die kom is, roep die profeet die volk op om reg te laat geskied in die gemeenskap en self reg te doen.

Regdoen word hier uitgespel as die onderhouding van diesabbat (56:2 [vir almal], 4 [vir die ontmandes], 6 [vir die nie-Israeliete]), die eerste keer dat ons dit in Jesaja aantref. Dit speel ook ‘n belangrike rol in 58:13 as deel van die proses om vreugde in die Here te vind en die land weer in besit te neem. En in 66:23 word dit (saam met die nuwemaansfees) as ‘n simbool van die gefokusde aanbidding van God in die bedeling van die nuwe hemel en aarde gebruik.

Let ook op die verstommende hoopvolle belofte wat oor die nie-Israeliete sowel as die ontmandes uitgespreek word. Nie-Israeliete is baie keer uitgesluit van die volk en die tempelgemeenskap weens die gevaar van afgodsdiens (Esra 9:1; Neh 9:2), hoewel mense soos Rut en Ragab wel weens hulle verbintenis aan God toegelaat is in die volk. Nou word hulle volledig toegelaat.

Ontmandes is egter altyd uitgesluit (Deut 23:1; Lev 21:20). Teenoor die voorskrifte van die wet word hulle dus nou ingesluit in die verbond. In taal wat herinner aan wat Johannes veel later in Openbaring sou skryf (bv. 2:17; 3:5, 12 [“Elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek ’n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal vir altyd daar bly. Ek sal op hom die Naam van my God skrywe en die naam van die stad van my God, die nuwe Jerusalem, wat van my God af uit die hemel uit afkom. En Ek sal ook my eie nuwe Naam op hom skrywe.”]; 20:15; 22:4) word hulle nou deel van die volk van God. In die Nuwe Testament word die Etiopiese finansiële amptenaar dus sonder enige probleem ingesluit in die gemeenskap van die gelowiges (Hand 8).

Dit tref my hoe die tempel – met al die nie-Israeliete en al die ontmandes daar – tot ‘n huis van gebed vir al die volke uitgeroep word, wat vreugde aan hulle sal verskaf (56:7 – vgl Salomo wat alreeds hieroor gepraat het in sy gebed by die inwyding van die tempel en eintlik gebed as die primêre funksie van die tempel uitgespel het). En ek kan nie anders as om te dink aan Jesus se woede met die tempelreiniging waar hy die handelaars verkwalik het dat hulle dié droom van God in gevaar gestel het (Matt 21:13; Mark 11:17; Luk 19:46).

Ekskursus oor die sabbat
Die sabbat (in Hebreeus beteken die woord: rus) was aanvanklik ‘n rusdag waardeur ‘n gesonde ritme van werk en rus gevestig is (Gen 1). Na die Uittog uit Egipte het dit ‘n ekstra betekenis gekry deurdat dit die volk moes laat terugdink aan die vryheid wat God hulle van hulle slawerny in Egipte gegee het (Deut 5). Dit was dus die teken van die verbond (Eks 20:22). Dit het ook ‘n kultiese betekenis gekry deurdat dit ‘n dag geword het waarop gewyde byeenkomste gehou is (Lev 23).

Die sabbat is met nuwe inhoud gevul in die tyd van die ballingskap, waar dit eintlik ‘n nog meer prominente betekenis gekry het as van te vore, veral omdat Israeliete nie meer by die tempel kon kom nie. Die sabbat het dus ‘n gemeenskapskeppende funksie gekry, waardeur hulle as ‘n volk saamgebind is, sowel as ‘n godsdiensbevestigende funksie, deurdat die onderhouding daarvan gesorg het dat die ballinge nie van God afvallig raak nie. Vandaar die baie belangrike opdrag in Jesaja hier rondom.

Die onderhouding van die sabbat het dus eintlik simbolies van die nakom van die hele wet geword. En oor die volgende paar eeue het die Fariseërs ‘n magdom wette van die korrekte nakoming van die sabbat geskep.

In die Nuwe Testament relativeer Jesus hierdie reëlbeheptheid deur te sê dat die sabbat ter wille van die mens gemaak is, nie die mens ter wille van die sabbat nie (Mark 2:27; Joh 5 [genesing van die man wat 38 jaar lank siek was by die bad van Betesda op ‘n sabbatdag]). Hy herstel dus die oorspronklike betekenis daarvan as ‘n dag waar op God en mense gefokus kan word.

Daarom is die sabbat ook nie voorskriftelik gemaak vir die gelowiges uit die heidene nie (Hand 15), omdat dit van heidense gelowiges Jode sou maak, en die evangelie daardeur ingeperk en eksklusief gemaak sou word. Paulus het daarom gelowiges aangeraai om nie te luister na mense wat die sabbat voorskriftelik wil maak nie (Kol 2:19), ‘n opdrag wat ons gerus vandag ook kan handhaaf wanneer mense hieroor verkeerde interpretasies versprei.

Ons vier daarom nie meer die sabbatdag as die dag van die Here nie, maar wel die Sondag as ‘n rus- en aanbiddingsdag, onder andere op voetspoor van die eerste gelowiges wat op die eerste dag van die week, Sondag, begin bymekaar kom het om die opstanding van Jesus Christus op Sondag (Mark 16:2; Matt 28:1; Luk 24:1; Joh 20:1) te vier.

Terloops, Johannes het die eerste dag van die week die eerste keer “die dag van die Here”(Open 1:10) genoem, wat deur latere vroeg-kerklike geskrifte verklaar is as die eerste dag van die week (bv. die Didage), en wat later Sondag genoem is op voetspoor van die Romeine.

Die Christene het dus begin om die nagmaal op Sondae te vier (Hand 20:7) en die dankoffer in te samel (1 Kor 16:2). Dit het die voorkeur dag vir hulle byeenkomste geword, ‘n gebruik wat tot vandag toe die hoofstroom keuse is.

56:9-12: Laat alle leiers kennis neem van dié gedeelte! Let op dat Jesaja leiers (herders) oproep om 1) te waak oor volgelinge, 2) insig te bekom oor die beste pad vorentoe, en 3) nie op eie voordeel ingestel te wees nie. Luiheid – soos Karl Barth gesê het – is die primêre sonde (hoewel ek dink Jesaja sê hoogmoed troef dit).

Hoofstuk 57
57:1-13
Ek kan nie onthou wanneer ek laas so ‘n helder uitspraak gelees het oor hoekom sleg goed met goeie mense gebeur nie. Kort en kragtig sê Jesaja dat dit “deur die boosheid in die wêreld is dat die regverdiges sterf.” (57:1). Dit is nie hulle eie skuld nie, en dit is nie vanweë die Here nie.

En die hoop waarmee hulle sterf word net so kort en kragtig uitgespel: “dié wat die reguit pad loop, kom waar daar vrede is, hulle rus in die graf” (57:2). God bewaar hulle nie noodwendig van die gevolge van die boosheid nie, maar in  die ongeluk wat hulle tref.

Laat my dink aan Jesus se saligspreking: “Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel”.

En na die diep hoopvolle uitspraak word die probleme van goddelose rebelle en wellustige afgodsdienaars uitgespel (wat selfs nie terugdeins van kinderoffers vir Molek [’n oud-Semitiese en ook Feniciese god] nie) – niemand kan hulle van hul eie boosheid red nie, omdat hulle God versaak het. Watts noem dié uitsprake oor hulle: The Dark Side of Jerusalem.

Let op dat hulle soektog na sin en betekenis vrugteloos is, maar dat die feit steeds nie genoeg is vir hulle om daarvan afstand te doen nie. Die rede? Die gratifikasie van wellus (vers 10) en vrees (vir die afgode se wraak) wat hulle vals gemaak het (11).

57:14-21
Maar vir dié wat in nederigheid hulle aan God onderwerp, is daar uitkoms. Let op dat hulle gereed moet maak vir die uitkoms deur struikelblokke te verwyder.

God word hier geteken as die vergewensgesinde en genesende God, wat sondes nie vir altyd toereken nie, en nie vir altyd toornig bly nie. Anders sou mense dit nie gemaak het nie! Sy krag verander hulle lot, en gee aan hulle vrede, terwyl die goddelose verder sal krepeer in onvrede.

Jesus stuur ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Flam 247 “Jesus Ons Aanbid U”
of
Vonkk 102 “Mag die Woorde van my Mond” (in verskillende tale gesing)

Votum: Ps. 133

Seëngroet

Lofsang
Flam 132 “Uit Een Hart”
of
Vonkk 110 “Saam wil ons die Here”

Wet: Miga 6:8

Skuldbelydenis
Flam 209 “U het my vir Uself gemaak”
of
Vonkk 110 “My God, hoe doelloos, hoe verward”

Genadeverkondiging: Romeine 11:29

Geloofsbelydenis

Liedere

F247. “Jesus Ons Aanbid U”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Verwondering)
Oorspronklik: Jesus, We Enthrone You
Teks en Musiek: Paul Kyle
Afr. teks: 2008 Johan Engelbrecht
© 1980 Thankyou! Music

Jesus, ons aanbid U,
U ons Koning en Heer.
Neem nou ons loflied aan.
Ons verheerlik u Naam.
En soos ons buig hier voor u troon, [x3]
Here Jesus, kom bind ons saam.

F132. “Uit Een Hart” 
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – ekumene, die kerk)
Oorspronklike titel: One Song of Praise
Teks en Musiek: Bob Fitts
Afrikaanse vertaling: Piet Smit
© Scripture in Song
[Kom ook onder Engelse teks: Kategorie 3 – Multi-kulturele liedere]

Vader van liefde, bron van ons krag
Ons bring in aanbidding ons loflied aan U
Here U het belowe om hier by ons te wees
As ons saam is in U Naam, in waarheid en gees

Jesus, ons Redder, Immanuel
Ons kom ons lewens as lof-offer gee
Ons wil uit een mond u ryk en krag besing
En aan U, o Skepper, Heer, ons loflied bring

Gees van die waarheid, helper uit God
Leer ons om in liefde soos Jesus te dien
En bind ons dan saam, Heer
Soos ons hier voor U staan
Om met liefde in ons hart
Na die wêreld te gaan

Sodat ons uit een hart in eenheid kan bely
Dat U Erekoning is en dit altyd sal bly

Help ons om uit een hart in eenheid te bely
Dat U Erekoning is en dit altyd sal bly

F209. “U Het My Vir Uself Gemaak “
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Geloof en Vertroue)
Oorspronklike titel: U heeft mij voor Uself gemaakt
Teks en musiek: Peter van Essen
Afrikaanse vertaling: Faani Engelbrecht
© 2005 Unisong Music Publishers t/a Samuel Music
Ps 131, Matt 11:28, Ef 1:4, 2:10

Refrein:
U het my vir Uself gemaak
en my hart is onrustig
tot dit rus vind by U
U het my vir Uself gemaak
en my hart is onrustig
tot dit rus vind by U

1. Herder van my siel
wat die duister verlig
Ek soek u aangesig
tot ek rus vind by U
Hoe ek ook al voel
U alleen is my doel
Ek soek u aangesig
tot ek rus vind by U

2. Lei my deur die nag
Heer, U Woord gee my krag
Ek soek u aangesig
tot ek rus vind by U
Dan sal ek U sien
Jesus, Heer, wie ek dien
Ek sien u aangesig
waar ek rus vind by U

VONKK 102 Mag Die Woorde Van My Mond 
Nav Psalm 19:15 
Teks: Driekie Jankowitz 2008 (Afrikaans – Pro Deo); Jacques Louw 2010 (Engels en Duits); Frans du Toit & Nataniël Sebolai 2010 (Sesotho); Naòmi Morgan 2010 (Frans)
Melodie: MY WILLEM – Driekie Jankowitz 2008 (Pro Deo)
Orrelbegeleiding: Gerrit Jordaan 2010
Kantoryverwerking: Gerrit Jordaan 2010
Musikale verryking: Gerrit Jordaan 2010
© 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Meditatief – Toetrede en Aanroeping / Gebed

Mag die woorde van my mond en die gedagtes van my hart,
vir U bly maak, o my Rots, en vir U mooi wees, o my Redder (en my God.)

Let the words of my mouth, the meditation of my heart,
Be delightful in Your sight and give You pleasure, my Redeemer (and my God.)

Se ke se bolelang le se ke se nahanang,
o kgahliswe ke tsona ‘fika le Molopolli wa ka (Morena.)

Lass die Reden meines Mundes und das Sinnen meines Herzens,
Dir gefallen, o mein Fels, und Dich erfreuen, mein Erlöser (und mein Gott.)

Que les paroles de ma bouche et ce que médite mon cœur,
te soient plaisants ô mon Rocher, de tout temps mon Rédempteur (et mon Dieu.)

VONKK 110 Saam Wil Ons Die Here 
(kanon)
Teks: AP van der Colf 1984 (met toestemming NG Kerk-Uitgewers)
Melodie: TSJEGGIË – Tsjeggiese volksmelodie
Ostinati: Colin Campbell 2010 (Pro Deo)
© Teks en ostinati: 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit
RUBRIEK: Tradisioneel – Lofprysing

(1) Saam wil ons die Here prys vir al sy liefde.
Almal loof sy grote Naam!

(2) Hy is goed vir elk van ons;
dank Hom uit een mond tesaam.

(3) Een in Jesus, onse Heer;
wie Hom liefhet, gee Hom eer.

(4) In die Gees is ons tesaam.
God is liefde, roem sy Naam.

VONKK 56 My God, Hoe Doelloos, Hoe Verward
Teks : JA Cramer (1733-1788); Ahasverus van den Berg 1806; GBA Gerdener 1931; AGB 1944 (Gesang 33); Gerjo van der Merwe 1978; gewysig VONKK Werkgroep 2009
Gebruik met toestemming van die NG Kerk Uitgewers
Melodie: Du Lebensbrot, Herr Jesu Christ – Peter Sohren 1668
© Teks en orrelbegeleiding: 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit
RUBRIEK: Klassiek – Skuldbelydenis en Genade

1. My God, hoe doelloos, hoe verward
het ek geword deur sonde.
Hoe is ek nie verblind, verhard,
en aan my wil gebonde.
Hoe het my skuld my nie vervreem,
gemeenskap, Heer, met U ontneem,
U beeld in my verduister.

2. Maar U het my u guns betuig,
my, sondaar, begenadig.
U het my trotse wil gebuig
en my met guns versadig.
In Christus kon ek redding vind,
is deur Hom nou aan U verbind
om U te dien in liefde.

3. Verbreek in my voortdurend, Heer,
die neiging tot die sonde.
Maak my in Christus altyd weer
aan U alleen verbonde.
En maak my lewe: kragtig, goed –
dat ek opreg in my gemoed,
met vrug voor U kan lewe.

God praat met ons en ons luister

Familie-oomblik

Gebruik die verhaal van Skoonlief en die Ondier uit die vorige riglyn (sien 1.3 van hierdie dokument). Dit is altyd ‘n goeie idee om met kinders aan te sluit by iets uit hul leefwêreld, soos bv. ‘n fliek wat hulle al gesien het. Hier kan Disney se “Beauty and the Beast” goed werk. Laai ‘n uittreksel uit die fliek af met ‘n gratis FLV-converter.

Jy kan ook die verhaal van die Lelike Eendjie vertel.

Of gebruik Max Lucado se “As ek maar ‘n Groen Neus gehad het”. (Koop die boek by hier) (As jy die boek bestel het maar dit nie betyds gaan kry nie, kan jy ‘n e-pos stuur na [email protected] – ek sal vir jou ‘n 5MB PowerPoint stuur met al die prente,)

‘n Nuwe mode het die Wemmels beetgepak: almal wil ‘n groen neus hê! Pinkenolsie kan hierdie besigheid glad nie verstaan nie. ‘n Groen neus sal hom tog nie vinniger, sterker of slimmer maak nie. En boonop sal hy dan nes al die ander Wemmels lyk. Maar sy goeie voornemens hou nie lank nie. Stadig maar seker begin die groen neuse al hoe aantrekliker lyk. Dis ook glad nie lekker om deur die ander gespot te word juis omdat sy neus nié groen is nie. En so gebeur dit dat Pinkenolsie sy neus ook groen laat verf – en soos al die ander Wemmels met sy groen neus in die lug rondloop.

Kort voor lank laat almal hul neuse rooi verf… en toe blou… pienk… geel… oranje. Totdat Pinkenolsie en sy vriende moeg is van al die gesukkel om in te wees. Hul vriendin Lolla (wat nog nooit haar neus laat verf het nie) sê dat Eli, die Wemmel-maker, nie vir hulle kwaad is nie. Hy wil hê hulle moet by hom kom kuier.

Eli herinner die Wemmels dat hy hulle gemaak het. Hy sal hulle help om weer hulleself te wees.

Preekriglyn

’n Ou Afrika-legende vertel van die diere met horings wat besluit om partytjie te hou. Almal is welkom, maar daar is een reël: net diere met horings word toegelaat. Hiëna is eensaam en wil ook graag kom partytjie hou. Hy klop aan die deur en vra of hy nie maar kan binnekom nie. “O nee,” lui die antwoord, “jy het nie horings nie.”

Dan vermom hiëna hom soos ’n bok. Hy tel iewers in die veld ’n stel horings op en wikkel dit met ’n ou diervelkaros op sy kop vas om meer soos ’n bok te lyk. In die skemerlig word hy sowaar by die partytjie toegelaat. Hy kan dit nie waag om ’n woord te sê nie, uit vrees dat hy herken sal word. Dan begin die dans. Hiëna wikkel en swaai so geesdriftig, dat die horings skeef op sy kop skuif en hy uitgevang word. Gemsbok loop hom storm en hiëna moet laat spaander. Met groot geluk ontkom hy aan die skerp gaffelhoring. Nooit sou hy sy les vergeet nie. Wanneer diere met horings partytjie hou is hy nie welkom nie.

’n Hen en haar kuikens

In die Bybel ontmoet ons ’n ander prentjie van God. God sluit in, eerder as uit. Die Here is eerder soos ’n hen wat haar kuikens bymekaarmaak.

Dit is die prentjie van Jesaja 56. God sluit in, God versamel. Mense wat vroeër uitgesluit is omdat hulle nie sekere fisieke kenmerke gehad het nie, is nou welkom.

’n Tyd vir verstrooiing (Jesaja 1-39)

Jesus 56 speel af aan die einde van Juda se ballingskap in Babilonië. Die volk was in verstrooiing. Jesaja 1 tot 39 vertel hoedat die Here se volk misluk het in hulle roeping om ’n volk vir God te wees. Hulle moes getrou en gehoorsaam aan die Here se verbond wees en só ’n instrument wees waarmee die Here by die nasies kon uitkom. Die Here se droom vir sy volk word in Jesaja 2 uitgespel:

Daar kom ‘n tyd dat die berg waarop die huis van die Here is, ‘n blywende plek sal hê bokant die bergtoppe en sal uitstaan bo die heuwels. Al die nasies sal daarheen stroom,
baie volke sal daarnatoe gaan en sê: “Kom, laat ons optrek na die berg van die Here toe, na die huis van die God van Jakob sodat Hy ons sy wil kan leer, en ons daarvolgens kan lewe, want uit Sion kom die openbaring, uit Jerusalem die woord van die Here.”
Hy sal oordeel tussen die nasies, regspreek oor baie volke. Hulle sal van hulle swaarde ploegskare smee en van hulle spiese snoeiskêre. Die een nasie sal nie meer die swaard teen die ander opneem nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te maak nie.
Kom, volk van Jakob, laat ons lewe in die lig wat van die Here af kom. (Jesaja 2:2-5)

Eerder as om ’n bestemming vir die nasies te wees, en op God te vertrou, knoei Israel met politieke alliansies met ander volke, laat hulle verlei tot afgodery, en pleeg onreg teenoor die kwesbares in die samelewing, soos die weduwees en wese.

Die einste nasies waarop die volk hulle vertroue gestel het, word die instrumente van die Here se oordeel oor Israel. Die Assiriërs neem die noordelike tien stamme in ballingskap (7e eeu v.C.), en die Babiloniërs voer die suidelike twee stamme weg (6e eeu v.C.).

Só beland die Here se instrument om die nasies te bereik

’n Tyd vir bymekaarmaak (Jesaja 40 en verder)

Vanaf Jesaja 40 verander die toonaard van die boek. Die fokus val nou op die verlossing wat die Here vir sy volk bring. Die tyd breek aan dat die volk terugkeer uit ballingskap. Nie naastenby almal het egter teruggekeer nie. Met dié wat wel teruggekeer het na Juda, het dit swaar gegaan. Hulle was van plan om die tempel te herbou, maar het vir baie jare nie regtig vordering getoon nie. Droogte, hongersnood, inflasie, korrupsie, onderlinge spanning, en sterk teenstand.

In Jesaja 56 word al God se beloftes van heil hernu. “Die verlossing wat Ek bring, is al aan die kom, die redding wat Ek bewerk, gaan nou geopenbaar word”(56:1). Daar breek ’n nuwe begin vir die verstrooide, geteisterde volk aan.

’n Tyd om jou in te stel op wat God doen

Hoe kom die volk in pas met die nuwe dinge wat God doen?

Jesaja 56 beklemtoon dat Israel hulle moet voorberei om die nuwe dinge wat God doen. Dit gebeur deur reg te doen en geregtigheid te laat geskied (56:1). Die volk moet geregtigheid doen, want God se reg en God se wil gaan nou geopenbaar word. Reg en geregtigheid het hier nie ’n verdienstelike karakter nie (dit verdien nie God se heil nie), maar ’n voorbereidende karakter. Dit bring die volk op die regte golflengte om deel te neem aan die wonderlike dinge wat die Here doen.

Hoe stel mens jou in op wat God doen? Deur die bepalings van God se verbond na te kom. Drie dinge word genoem:

  • Onderhou die Sabbat en doen reg
  • Neem deel aan God se insluiting van mense
  • Gebed vir die nasies

Een: Onderhou die Sabbat en doen reg
Die Sabbat is die eerste manier waarop die volk voorberei word om God se verlossing en God se reg in ontvangs te neem:

  • Die Sabbat was aanvanklik ’n rusdag waardeur ’n gesonde ritme van werk en rus gevestig is (Gen 1).
  • Na die uittog uit Egipte kry die Sabbat ook die betekenis van die viering van die bevryding uit Egipte. Die swaar las is vervang met rus en vryheid.
  • Die Sabbat word na die uittog die dag van godsdienstige byeenkomste. Op hierdie rusdag fokus die volk op God, luister na God se Woord, verheerlik die Here, en vind deur offerandes bevryding en vergifnis van sonde.
  • In die tyd van die ballingskap kry die Sabbat selfs groter betekenis. Die tempel is verwoes en die volk is in verstrooiing, in die vreemde. Die Sabbat word nou die viering van hulkle gemeenskap met God en met mekaar, die teken dat hulle die volk van God is. Dit kry ’n samebindende krag wat Israel stempel tot volk van God.
  • Die Sabbat word dus by uitstek die teken dat die volk aan die Here vashou. Daarom word dit tydens en na die ballingskap so belangrik.

Die rus van die Sabbat getuig dat mense nie deur hulle werk alles kan vermag nie. Ons moet op God wag, op God fokus, die heil en verlossing van God verwag. God is ons hoop. Só berei die onderhouding van die Sabbat mense voor vir die heerlike verlossing wat God bring.

In die Nuwe Testament behou die Sabbat sy ryke betekenis. Teenoor die Fariseërs, wat van die Sabbat die werk en die wetsonderhouding van die mens gemaak het, beklemtoon Jesus dat die Sabbat fokus op wat God doen. Daarom genees Jesus bv. die man wat 38 jaar verlam was juis op die Sabbat. Die Sabbat stel ons in op wat God doen, en open ons oë daarvoor. Dit laat ons hoop op die Here. Dit help ons om die Here te gehoorsaam. Dit maak ons gereed om die genade wat God skenk in ontvangs te neem.

Aangesien Jesus op die eerste dag van die week uit die dood opstaan – die grootste werk van God – verskuif die vroeë Christene die rusdag van die sewende dag (die Sabbat) na die eerste dag van die week (die Sondag).

Waar gelowiges in die Naam van die Here bymekaar kom, op die werke van God fokus deur lofsange, skuldbelydenis en die soek na God se wil, word ons voorberei om deel te neem aan die reg van God en die verlossing wat God bring.

Twee: oop vir die insluiting van alle mense
Die merkwaardigste aspek van die verlossing wat God in Jesaja 56 aankondig, is die insluiting van alle mense in die geloofsgemeenskap. Vroeër is nie-Jode uitgesluit van die gemeenskap van die gelowiges. Ontmandes mag ook nie in die tempel gekom het nie (Deut. 23:1, Lev. 21:20).

Die enigste voorwaarde vir deelneem aan die geloofsgemeenskap is toewyding aan die Here en gehoorsaamheid aan wat Hy vra:

So sê die Here: Aan die ontmandes wat my Sabbatte onderhou, wat kies vir wat Ek wil, en wat lewe volgens my verbond, aan hulle sal Ek in my tempel en aan sy mure ‘n teken gee, ‘n erenaam wat beter is as seuns en dogters. Ek sal aan sulke mense ‘n naam gee wat nie uitgewis sal word nie. Ek sal die nie-Israeliete wat by my volk aansluit om My te dien, om my Naam lief te hê, en om my dienaars te wees, almal wat my Sabbatte onderhou en dit nie ontheilig nie, en wat lewe volgens my verbond, na my heilige berg toe bring. Ek sal aan hulle vreugde gee in my huis van gebed, hulle brandoffers, hulle offers op my altaar sal vir My aanneemlik wees. want my tempel sal uitgeroep word tot ‘n huis van gebed vir al die volke. (56:4-7)

Die Here maak die nasies bymekaar soos ’n hen haar kuikens versamel. Anders as die diere met horings wat almal wat anders as hulle was uit hul gemeenskap geweer het, sluit die Here in.

Diere met horings hou nie van hiëna, of leeu, of luiperd nie. Dit is ’n risiko om partytjie te hou met diere wat anders as jy is. Roofdiere is slinks. Dis veiliger om jou partytjie te beperk tot die diere wat jy ken en weet jy kan vertrou.

Jesaja 56 roep die Here se kerk op tot ’n brose openheid. Dit moedig ons aan om die risiko te loop om vreemdelinge en buitestaanders in te sluit. Dit is hoe die Here se mense reg doen, en geregtigheid laat geskied.

Vir die Ou Testamentiese profete het geregtigheid alles met sosiale verhoudings te doen. Reg doen beteken om diegene wat geen regte geniet nie, soos ontmandes wat van die tempel uitgesluit is, in die geloofsgemeenskap te herstel. Dit beteken om diegene buite Israel, die vreemdelinge, wat die Here soek volledig in te sluit.

Die toelating van vreemdelinge en ontmandes was ’n skerp uitdaging van die bestaande sosiale norme. Dit dui egter aan hoe radikaal die Here gehoorsaamheid en getrouheid ag. Wie God insluit, mag niemand in die geloofsgemeenskap uitsluit nie. Soos Jesus later sou sê:

“Daar is my moeder en my broers! Elkeen wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is, dié is my broer en my suster en my moeder.” (Matt 12:50)

Sonder die weerlose openheid, wat vreemdelinge en mense op die kantlyn van aanvaarheid insluit, kan die kerk nie God se instrument wees om by die nasies uit te kom nie. Die volk Israel is gebore uit God se roeping van Abraham (Gen 12). Abraham word geseën om tot ’n seën van die nasies te wees.

Juis omdat ons, wat nie Jode is nie, deur die Here se opdrag in Jesaja 56 deel van die verbondsvolk geword het, moet ons ook oop wees vir diegene wat die Here deur ons wil seën en by ons wil insluit.

Drie: ’n Huis van gebed vir die nasies
In Jesaja 56 herdefinieer die Here die tempel. Die herboude tempel sal nie in die middelpunt van etniese Israel se godsdienstig-kulturele lewe staan nie. Dit sal nie Joodse identiteit bevestig nie. Dit word die plek waar daar ingetree word in gebed vir die nasies. Dit word die instrument van insluiting.

Wanneer Jesus eeue later die tempel reinig, doen hy dit met verwysing na hierdie opdrag. Dit gaan in die samekoms in die tempel oor diegene wat tans nog ver van God is, uitgesluit van die genade en hoop in God. Dit gaan oor die nasies. Daarom leef die mense van die tempel met die oog op die insluiting van buitestaanders in die verbondsgemeenskap.

Lewenspraktyk

Jesaja 56 leer ons ’n nuwe lewenspraktyk. In die praktyk van elke dag gaan dit oor die Christelike lewenstyl. Dit is wat mense van ons raaksien. Dit is die sigbare getuienis van die Christelike lewe, nie wat ons sê oor God of oor die kerk of oor die koninkryk nie, maar wat ons leef.

Soos Paulus sê: “Hoofsaak is dat julle lewenswandel in ooreenstemming met die evangelie van Christus moet wees” (Fil .1:27).

Jesaja sit hier drie aspekte van só ’n lewenstyl op die tafel en sê, die Here wil ons vorm deur hierdie spesifieke geestelike gewoontes:

  • onderhouding van die Sabbat,
  • insluiting van anderse mense in jou gemeenskap,
  • om sáám as gemeente ‘n huis van gebed te word.

Só word ons verander van gemsbokke met skerp horings wat dié wat anders is, verwilder, na ’n hen wat kuikens bymekaar maak en versorg.

God stuur ons om te leef

Gebed
Gee terugvoer van jul gemeente se sendeling(e) en bid spesifiek vir hul werk.
As jul gemeente by ‘n spesifieke bevolkingsgroep betrokke is, gee inligting oor die betrokke groep en bid vir hulle.
Laat lidmate twee-twee saam bid of gee geleentheid vir gebede.

Slotlied
Flam 227 “Ons sal nou gaan”
of
Vonkk 38 “Here, ons God, as ons nou huis toe gaan”

F227. “Ons Sal Nou Gaan”  
(RUBRIEK: Flammikidz – Getuienis)
Oorspronklike titel: Wij zullen gaan
Teks en Musiek: Marcel Zimmer
Afrikaanse vertaling: 2007 Johan Engelbrecht
© 1997 Celmar Music

Toe Jesus opvaar na die hemel
het Hy aan ons die taak gegee:
“Gaan na die nasies en vertel hul,
die Goeie Nuus vir elke een!”
Want alle mense moet dit weet dat
die Heer vir hul gesterwe het,
en as hul glo in Hom as Redder
Hy hul verseker dat hul nou vir ewig leef.

Refrein:
Ons sal nou gaan
om die wêreld te vertel
dat Jesus leef
en van alle mense hou
Ons sal getuig
dat die Here almal liefhet
so word deur ons werk
Gods Koninkryk gebou.
As mense ly in hul ellende,
deur oorlog, honger en verdriet.
Dan is dit steeds nog nie die einde
want Hy sê “Ek maak alles nuut!”
Eers moet alle mense weet van
die weg wat Hy vir hul beplan,
sodat hul waarlik vry kan uitgaan
en Hom kan volg en om ook op sy weg te gaan.

Refrein:
As Jesus terugkom uit die hemel,
kom Hy met majesteit en eer.
en dan sal elke een/mens moet neerbuig
en uitroep: “Jesus is die Heer!”
En hul wat nooit die Woord wou glo nie,
vir hulle eindig alles sleg…
Dink jy dat jy jouself kan vrymaak
dan is jy tog so dwaas, want Jesus is die weg!

Refrein:

VONKK 38 Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan
Teks: Nuwe Sionsgesange 1994; gewysig Jacques Louw 2009 ©
Melodie: EVENTIDE – William Monk 1861
© Teks: 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Musiek: Openbare besit
RUBRIEK: Meditatief – Gebed / Uitsending

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.