Negende Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Die dag se tekste het almal te make met worstelling. Jesus kry die menigte innig jammer en vermeerder die brood en die vis (Matt 14). Jakob se worstelling by die Jabokrivier en sy naamsverandering na Israel (Gen 32). Pleitgebed van die een wat onskuldig beskuldig word. Hy onderhandel en probeer God oortuig om in te gryp (Ps 17). Paulus treur en worstel oor sy volksgenote wat Christus verwerp (Rom 9).

Doopherinnering 
Herinner die gemeente aan hulle doop as bevestiging van God se eienaarskap. Verwys na Genesis 32. Jakob worstel met God en ontvang ‘n nuwe naam, Israel, wat herinner aan die Hebreeuse woorde strydvoer en God of God het geworstel. God het geworstel en ons sy eiendom gemaak.

Ander tekste

Genesis 32:22-31
22Die nag het hy opgestaan en sy twee vrouens en sy twee persoonlike slavinne en sy elf kinders gevat en deur Jabbokdrif gegaan. 23Nadat hy hulle deur die rivier gevat het, het hy ook alles wat hy besit, laat deurgaan. 24Jakob het alleen daar agtergebly, en ’n man het tot dagbreek met hom gestoei. 25Toe die man agterkom dat hy nie vir Jakob kan wen nie, het die man, terwyl hy met hom stoei, vir Jakob teen die heup geslaan sodat dit uit die potjie gespring het. 26Die man het vir Jakob gesê: “Los my, want die dag breek.”

Jakob het geantwoord: “Ek sal jou net los as jy my seën.”
27Toe vra die man: “Wat is jou naam?” en hy antwoord: “Jakob.”
28Die man het gesê: “Jy sal nie meer Jakob genoem word nie, maar Israel g, want jy het teen God en teen mense ’n stryd gevoer en jy het dit end-uit volgehou.”

29Toe sê Jakob: “Sê my tog jou naam,” en die man vra: “Waarom vra jy my naam?”
Hy het vir Jakob net daar geseën, 30en Jakob het die plek Pniël h genoem, “want,” het hy gesê, “ek het God van aangesig tot aangesig gesien en tog het ek nie omgekom nie.”

31Net toe Jakob by Pniël verbygaan, het die son opgekom. Jakob het mank gebly aan sy heup, 32en daarom eet die Israeliete tot nou toe nie die senuweebondel wat aan die heup vaskom nie, want die man het vir Jakob teen sy heup geslaan, op die heupsenuwee.

Psalm 17:1-7, 15
Gebed van ’n onskuldig vervolgde
17 ’n Gebed van Dawid.
Luister tog, Here,
na my regverdige saak,
let op my hulpgeroep.
Hoor tog die gebed
wat ek in alle opregtheid bid.
2U sal uitspraak lewer in my guns:
u oë sien immers self wat reg is.
3As U my sou toets,
my selfs in my slaap sou ondersoek,
my deeglik sou keur,
sou U niks verkeerds vind nie.
4Oor die doen en late van mense
het ek niks verkeerds gesê nie:
ek het my aan u bevel gehou.
5Elke stap van my was vas
op die koers wat U aangewys het.
My voete het nie daarvan afgewyk nie.
6Ek roep U aan,
want U sal my antwoord, my God!
Luister tog na my en hoor wat ek sê.
7Toon u wonderlike trou,
U wat almal help wat vir hulle vyande
by U skuil.

8Beskerm my soos die appel van u oog,
steek my weg in die skaduwee
van u vleuels
9vir die goddeloses
wat my wil oorweldig,
die doodsvyande wat my omsingel.
10Sonder enige meegevoel,
met monde wat aanmatigende dinge sê,
omsingel hulle my 11waar ek ook gaan.
Hulle soek my ondergang.
12Hulle is soos leeus,
oorgehaal om te verskeur,
soos jong leeus wat iets voorlê.
13Kom tog, Here, staan hulle voor,
dwing hulle op die knieë.
Red my met u swaard
uit die mag van die goddeloses,
14met u eie hand, Here,
van hierdie mense.
Laat hulle ontydig omkom,
sny hulle lewens af;
laat hulle hulle vol eet aan die onheil
wat U vir hulle gereed hou;
laat daar oorgenoeg wees
vir hulle kinders
en laat daar nog oorbly
vir die kindskinders.

15Maar wat my betref,
omdat die reg aan my kant is,
sal ek weer voor U staan.
As ek wakker word, sal ek my verbly
in u teenwoordigheid.

Romeine 9:1-5
God se verkiesing van Israel
9 In my verbondenheid met Christus praat ek die waarheid, ek lieg nie; en my gewete, wat deur die Heilige Gees gelei word, getuig saam met my 2dat daar by my groot droefheid en voortdurende hartseer is 3oor my broers, my eie volksgenote. Ek sou self vervloek wou wees, afgesny van Christus, as dit tot hulle voordeel kon wees. 4Hulle is tog Israeliete; vir hulle het God as sy kinders aangeneem en in sy heerlikheid was Hy by hulle; met hulle het Hy die verbonde gesluit en aan hulle die wet van Moses gegee, asook die tempeldiens en die beloftes; 5hulle stam van die aartsvaders af, en uit hulle is die Christus as mens gebore—Hy wat God is, verhewe bo alles en lofwaardig vir ewig! Amen.

Fokusteks

Matteus 14:13-21
Die dood van Johannes die Doper
(Mark 6:14–29; Luk 9:7–9)
14  Daardie tyd het Herodes, die heerser, gehoor wat van Jesus vertel word, 2en hy het vir sy paleispersoneel gesê: “Maar dit is mos Johannes die Doper! Hy is uit die dood opgewek, daarom werk die kragte in hom!”

3Vroeër het Herodes vir Johannes laat vang, laat boei en in die tronk laat opsluit. Dit het hy gedoen oor Herodias die vrou van sy broer Filippus, 4want Johannes het vir Herodes gesê: “U mag haar nie as vrou vat nie.” 5Herodes wou hom daaroor doodmaak maar was tog bang vir die mense, omdat hulle hom as ‘n profeet beskou het.

6Met Herodes se verjaarsdagviering het die dogter van Herodias voor die gaste gedans. Herodes was so in sy skik met haar 7dat hy ‘n eed afgelê het dat hy vir haar sal gee net wat sy vra. 8Haar ma het haar voorgesê en sy het gevra: “Gee vir my hier in ‘n skottel die kop van Johannes die Doper.”

9Hieroor het die koning baie sleg gevoel, maar vanweë die eed wat hy voor die gaste afgelê het, het hy opdrag gegee dat aan haar versoek voldoen moet word. 10Hy het iemand gestuur en Johannes in die tronk laat onthoof. 11Hulle het sy kop in ‘n skottel ingebring en aan die meisie gegee, wat dit na haar ma toe gevat het. 12Sy dissipels het sy liggaam kom haal en begrawe; en hulle het dit vir Jesus gaan vertel.

Die eerste vermeerdering van die brood
(Mark 6:30–44; Luk 9:10–17; Joh 6:1–14)
13Toe Jesus dit hoor, het Hy met ‘n skuit daarvandaan weggegaan na ‘n stil plek om alleen te wees. Die mense het hiervan gehoor en Hom van die dorpe af te voet gevolg. 14Toe Hy uit die skuit klim, het Hy die groot menigte mense daar gesien. Hy het hulle innig jammer gekry en die siekes onder hulle gesond gemaak.

15Toe dit al aand begin word, het sy dissipels vir Hom kom sê: “Dit is ‘n afgeleë plek en dit het al laat geword. Stuur die mense terug dat hulle vir hulle kan gaan kos koop in die dorpe.”

16Maar Jesus sê vir hulle: “Hulle hoef nie weg te gaan nie. Gee julle vir hulle iets om te eet.”
17Hulle sê toe vir Hom: “Ons het hier net vyf brode en twee visse.”
18“Bring dit vir My hier,” sê Hy.

19Hy het die menigte beveel om op die groen gras te gaan sit om te eet. Toe neem Hy die vyf brode en die twee visse, kyk op na die hemel en vra die seën. Daarna het Hy die brood gebreek en dit aan sy dissipels gegee, en hulle het dit aan die mense gegee. 20Al die mense het geëet en genoeg gekry, en hulle het nog twaalf mandjies vol bymekaargemaak van die stukke brood wat oorgebly het. 21Daar was omtrent vyf duisend mans wat geëet het, afgesien van die vrouens en kinders.

Ekstra stof

Matteus 14 – Jesus is die Seun van God wat voorsien en genees
Matteus begin met dié hoofstuk ‘n nuwe aksent in sy evangelie wat ‘n mens kan tipeer as die gemeenskap van die koninkryk – hfst. 14-18.

Uiteraard het dit steeds met teenstand te make, soos dit die geval was met die verhale van gemengde ontvangs in hfst. 11-13.  Johannes die Doper verloor sy lewe (14:1-12), die Fariseërs vat Jesus skerp aan oor sy interpretasie van die wet (15:1-20), die Fariseërs en die Sadduseërs vra weer vir ‘n teken (16:1-4) waarna Jesus die dissipels waarsku teen hulle invloed (16:5-12).

Dit vorm die agtergrond vir die feit dat Jesus begin om al hoe duideliker te praat oor sy komende kruisdood (16:21-23; 17:22-23), wat ook as ‘n metafoor dien vir die wyse waarop hulle Hom moet volg (16:24-28).  Die hoopvolle is dat Hy ook tegelykertyd van sy opstanding begin praat (16:21; 17:9,23).

Maar die gedeelte sluit ook ‘n aantal wonderlike getuienisse van die wonder van sy teenwoordigheid in wat telkens met die verhale van teenstand en lyding verweef is.  Ons lees van die twee broodwonders (14:13-21; 15:32-39), Jesus en Petrus wat op die water loop (14:22-33), talle mense wat genees word (14:34-36; 15:29-31; 17:14-20), die uitnemende geloof van die Kanaänitiese vrou (15:21-28),  Petrus wat die eerste van die dissipels word wat Jesus as die Christus, die Seun van God bely (16:13-20), Jesus se verheerliking op die berg (17:1-13) en sy wondervoorsiening vir die tempelbelasting wat hulle verskuldig is (17:24-27).

Matteus fokus nou ook op die gemeenskap wat Jesus in die proses skep onder sy mense, ‘n gemeenskap wat ‘n uiters belangrike ruimte gaan vorm om die teenstand van die wêreld te hanteer.  Daarom word dié deel afgesluit met die vierde langer toespraak van Jesus wat spesifiek handel oor verhoudinge binne die kerk, die sogenaamde kerkrede, hfst. 18.  Daarin praat Jesus oor hoe die gemeenskap van gelowiges die verhoudinge met mekaar, binne die kerk wat begin tot stand kom, moet hanteer.  Dit handel onder andere oor die regte gesindhede (18:1-5), die vermyding van struikelblokke (18:6-9), die uitreik na afgedwaaldes (18:10-16), die opdrag tot onderlinge teregwysing (18:18-20) en tegelykertyd die opdrag tot oorvloedige vergifnis wat in die vorm van ‘n gelykenis oorgedra word (18:21-35).

Johannes die Doper betaal die hoogste prys – 14:1-12
Die dood van Johannes die Doper word eintlik as agtergrond vertel vir die kommer wat Herodes het dat Jesus eintlik die opgestane Johannes die Doper is, omdat hy soveel kragtige dade doen.  Dié Herodes (Antipas) het oor ‘n kwart van sy pa, Herodes die Grote, se ryk regeer.  Omdat Johannes hom aangespreek het oor sy huwelik met Herodias, sy broer Filippus se vrou, het hy Johannes aanvanklik in die tronk laat opsluit en toe op grusame wyse laat onthoof op aandrang van sy dogter (Salomi volgens Josephus) en vrou, al was dit eintlik teen sy sin.

Johannes die Doper se dood is ‘n voorafskaduwing van die dood van Jesus en van vele martelare vir hulle geloof, soos ook Stefanus later sou moes deurmaak.  God keer nie dat hulle die hoogste prys vir hulle gehoorsaamheid aan Hom betaal nie.  Dit bring eer aan God – dat aan Hom getrou gebly word, ten spyte van die koste daarvan – en dit bring eer aan die gehoorsame volgeling van God.  Dit beteken ook dat die dood in die oë van God ‘n baie kleiner probleem is as dat mense van Hom afvallig word.  Om die waarheid te sê, ironies genoeg is die dooie Johannes in ‘n baie beter verhouding met God as die lewendige Herodes, Herodias en Salomi.

Jesus gee vyfduisend mense kos – 14:13-21
Die nuus oor Johannes die Doper laat Jesus na ‘n verlate plek (woestyn) onttrek om op sy eie alleen te wees.  Klaarblyklik het die nuus Hom ontstel, hoewel ons geen detail daaroor het nie.  Die skare het Hom egter daarheen gevolg.  Hy was dus eintlik net alleen terwyl Hy in die skuit op die meer was.  Met sy uitklim op droë grond, het die skare Hom ingewag, hoewel Hy tog later dit sou regkry om alleen te kon wees (14:23).  Omdat Hy hulle egter innig jammer gekry het, het Hy nie net hulle siekes gesond gemaak nie, maar gesorg dat hulle iets te ete kry, met die vyf brode en twee visse wat die dissipels aangebied het.

Die wonder wys dat in die hande van die Here ‘n klein bietjie eintlik verstommend veel kan wees.  Vyfduisend mans, laat staan nog om al die vroue en kinders by te tel, kon eet.  Dit is ook ‘n baie betekenisvolle aanduiding dat Jesus inderdaad die lank verwagte Messias is wat in staat is om vir sy mense te voorsien. Eintlik verwys dié wonder ook terug na die ervaring in ‘n ander woestyn toe God manna en kwartels vir sy volk met die Uittog uit Egipte in die woestyn verskaf het.  Dieselfde God wat in die OT opgetree het, tree ook nou in die NT op en die verwagting is dat Hy steeds vandag vir ons kan voorsien.

Baie geleerdes het vandag egter probleme met só ‘n wonder, meer so as met die wonder van die genesing van demoon-besetenes, omdat hulle wêreldbeeld net natuurlike verklarings toelaat.  Omdat ‘n mens besetenheid met iets meer verstaanbaar soos epilepsie in verband kan bring, is daardie tipe wonders meer verteerbaar, maar die vermeerdering van brood, glad nie verteerbaar nie.  Hulle geslote wêreldbeeld beperk hulle interpretasie en uiteindelik ook hulle geloof.

Ek het egter geen probleem om dit as ‘n wonder te aanvaar, net soos Matteus dit vir ons beskryf nie.  Die historiese getuienis hieroor het wye aanvaarding onder nie net die dissipels geniet nie, maar ook onder die skares Jode wat agter Jesus aangegaan het.  Daar is niemand wat dit aanskou het en gesê het dit is oëverblindery nie.  Selfs sy teenstanders, die Fariseërs en koning Herodes – soos ons hier lees! – het dit as historiese gebeure aanvaar.  Dit is hierna vir eeue as histories aanvaar en het tot vandag toe nog ‘n effek op die lewens van duisende gelowiges.  My prentjie van God, sowel as die historiese getuienis, laat dus vir my toe om te aanvaar en te glo dat Hy op wonderbaarlike nuwe maniere dinge kan laat gebeur in die wêreld – toe en nou.  Hy is nie vasgevang in ons idee van wat moontlik is en wat nie.

Liturgie

RUS

Toetrede: F179 of Lied 151

Votum: Nav Jesaja 55

Seëngroet

Lofsang: F20 of Psalm 146

Verootmoediging: (Uit Cas Wepener se “Soos ‘n blom na die son draai”)

Toewyding: F281

Genadeverkondiging: Vonkk 222 of Lied 448

Geloofsbelydenis

HOOR

Gebed: Lied 253

Skriflesing Matteus 14:13-21

Familie-oomblik

Lied F227

Preek

LEEF

Terugvoer
Gebed

Slotsang: F212 of VONKK 158

Seën

Respons: Flam 212 refrein

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
F179. Regeer In My
Lied 151 “Skenk ons, Here, u beskerming”

Votum
Nav Jesaja 55
Kom, almal wat dors is,
kom na die water toe,
selfs ook dié wat nie geld het nie, kom,
koop en eet;
ja, kom, koop sonder geld
en sonder om te betaal,
wyn en melk.

2Waarom betaal julle vir iets
wat nie brood is nie,
waarom werk julle vir iets
wat nie kan versadig nie?
Luister aandagtig na My,
sodat julle kan eet wat goed is
en versadig kan word
met die beste wat daar is.
3Gee aandag en kom na My toe,
luister, en julle sal lewe.

Seëngroet

Lofsang
F20. U Is Die Lig
Psalm 146

Verootmoediging
(Uit Cas Wepener se “Soos ‘n blom na die son draai”)
V: Here, daar is so baie mense rondom ons, maar ons sien die meeste van hulle nie eens raak nie.
G: Here, wees ons genadig!

V: Here, by U is die laastes eerste, maar by ons bly hulle laaste.
G: Here, wees ons genadig!

V: Here, ons hou meer van belangrike mense as van onbelangrike mense.
G: Here, wees ons genadig!

V: Here, ons is volslae uitverkoop aan ’n samelewing waarin groter altyd beter is.
G: Here, wees ons genadig!

V: Here, ons is te besig om stil te staan en te luister na die sagter stemme rondom ons.
G: Here, wees ons genadig!

V: Here, ons hou van dinge en van mense en selfs van kerke wat blink.
G: Here, wees ons genadig!

V: Here, help ons om méér mense raak te sien, veral die byna onsigbares.
G: Here, wees ons genadig!

Toewyding
F281. Hier Is Ek

Genadeverkondiging
Vonkk 222 Almal Wat Dors Het, Kom Geniet
Lied 448 “O God, ons wil U altyddeur”

Geloofsbelydenis

Liedere

F179. “Regeer In My”
(RUBRIEK: Flam – Toewyding)
Teks en musiek: Rick Moser
© 2006 MAR Gospel Music Publishers

Skepper van hemel en aarde,
Lewensbron, lig en genade,
Kom regeer in my,
Kom regeer in my.

Die hemele verkondig u werke,
U almag word vertoon in die sterre,
Kom regeer in my,
Kom regeer in my.

Refrein:
Regeer in my
dat hierdie hart u huis kan wees.
Regeer in my
dat hierdie vlees u Woord kan spreek.
Regeer in my
dat hierdie lewe brood mag wees.
Woord vir die wêreld,
bring lewe deur my.

U is die eerste Woord,
U kry die laaste woord,
U is die Lewenswoord,
wat alles onderhou.

F20. “U Is Die Lig”
(RUBRIEK: Flam / Kruisfuur – Geloofsbelydenis / Toewyding)
Teks en musiek: André Serfontein
© 2005 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op FLAM, vol 1)

1. U is die Lig, U laat my sien;
U is die brood vir my lewe;
U is die water wat binne my vloei;
U laat my leef, U laat my groei.

Refrein:
Ek loof U Heer vir als wat U is.
Ek loof U Heer, U’s my Vader.
Ek loof U Heer vir als wat U gee.
Meer as wat ek kan verstaan,
daarvoor kom prys ek U Naam!

2. U is die Woord, U wil my rig;
U wys my U wil vir my lewe;
U skenk my vrede en U gee my rus;
U het my lief net soos ek is.

Refrein:

F281. “Hier Is Ek”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Toetrede)
Teks en musiek: Carli Lessing
© 2007 Broken Records

1. Hier is ek nou met my vissies en my brood
en ek bring dit voor U soos ’n kind.
Ek weet dis te min om ’n skare te voed,
maar in U hand is dit genoeg.

Refrein:
Hier is ek, Here gebruik my.
Hier is ek, kom lei my.
Hier is ek, Here gebruik my
waar U nou reeds werk.

2. Kan ek maar nou dit alles vir U gee
en leer te vertrou soos ’n kind?
Van die golwe vergeet, my oë op U hou
want deur u krag, sal U my daar hou.

Refrein:

VONKK 222 “Almal Wat Dors Het, Kom Geniet”
Nav Jesaja 55
Teks: Attie van der Colf 1978/2001 ©; aangepas VONKK Werkgroep 2012
Melodie: FRIENA – Friena Maritz 2010
Orrelbegeleiding: Friena Maritz 2012
Musikale verryking: Friena Maritz 2012
© 2012 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK:  Meditatief – Toetrede en Aanroeping / Voorbereiding om God se Woord te hoor / Nagmaal / Geloof en Vertroue

Almal wat dors het, kom geniet
die grootste guns bewys;
neem wat die Here gee, verniet –
kom koop dit sonder prys;
God gee jul water, wyn en melk –
Hy gee dit as geskenk.

Waarom betaal en waarom werk
en dit nie eens vir brood?
Luister met aandag, en Ek breek
vir jul die lewenswoord.
My liefde, goddelik en trou,
sal jul herstel en bou.

Vra na sy wil; kom soek die Heer,
terwyl Hy Hom laat vind.
Ontdek Hy maak, genadig weer,
die sondaar tot sy kind.
Wie hul bekeer, dié word vergeef;
die Here laat hul leef.

Hy maak die doringbos sipres;
die distel mirtestruik.
Wie sleg is, maak Hy nuut – ’n mens
wat Hy met vrug gebruik.
Hy gee hul vreugde, vastigheid –
nou, en in ewigheid.

Soos wat die wolke kom met reën –
op aarde lewe giet,
so kom die woord van God met seën
dit doen wat Hy gebied.
Dit bly ’n teken tot sy eer –
die Here, Hy is Héér!

F227. “Ons Sal Nou Gaan”
(RUBRIEK: Flammikidz – Getuienis)
Oorspronklike titel: Wij zullen gaan
Teks en musiek: Marcel Zimmer
Afrikaanse vertaling: 2007 Johan Engelbrecht
© 1997 Celmar Music

1. Toe Jesus opvaar na die hemel
het Hy aan ons die taak gegee:
“Gaan na die nasies en vertel hul,
die Goeie Nuus vir elke een!”
Want alle mense moet dit weet dat
die Heer vir hul gesterwe het,
en as hul glo in Hom as Redder
hy hul verseker dat hul nou vir ewig leef.

Refrein:
Ons sal nou gaan
om die wêreld te vertel
dat Jesus leef
en van alle mense hou.
Ons sal getuig
dat die Here almal liefhet
so word deur ons werk
Gods Koninkryk gebou.

2. As mense ly in hul ellende,
deur oorlog, honger en verdriet.
Dan is dit steeds nog nie die einde
want Hy sê “Ek maak alles nuut!”
Eers moet alle mense weet van
die weg wat Hy vir hul beplan,
sodat hul waarlik vry kan uitgaan
en Hom kan volg en om ook op sy weg te gaan.

Refrein:

3. As Jesus terugkom uit die hemel,
kom Hy met majesteit en eer.
En dan sal elke een/mens moet neerbuig
en uitroep: “Jesus is die Heer!”
En hul wat nooit die Woord wou glo nie,
vir hulle eindig alles sleg…
Dink jy dat jy jouself kan vrymaak
dan is jy tog so dwaas, want Jesus is die weg!

Refrein:

F212. “Die Here Het Hom Nodig”
(RUBRIEK: Flammikidz – Diens en Getuienis)
Musiek: Neil Büchner en Lizette Louw
Teks: Louis Dressel
© 2008 MAR Gospel Music Publishers
(2 Kon 5:3,15, Joh 6:9, Mark 11:3 Nuwe Lewende Vertaling)

1. Naäman het die Here nodig,
dis wat die dogtertjie hoor.
Ek het ook die Here nodig,
dis wat ek steeds hoor.

Refrein:
Here, lei my,
Heer, gebruik my,
Here, stuur my,
dis wat ek steeds hoor.

2. Sy brood en vissies het Hy nodig,
dis wat die seuntjie hoor.
Die Here het my alles nodig,
dis wat ek steeds hoor.

Refrein:

3. Die Here het ons almal nodig,
dis wat dissipels hoor.
Die Here het ons alles nodig,
dis wat ons steeds hoor.

Refrein:

VONKK 158 “Ons Wy Onsself Aan Christus Toe”
Teks: Jacques Louw 2011 ©
Melodie: ELLACOMBE – Wurtemberg 1784; Mainz 1833
Orrelbegeleiding:  Tradisioneel
© Teks: 2011 VONKK Uitgewers (admin BybelMedia)
© Musiek: Openbare besit
RUBRIEK: Klassiek – Liefde, Dankbaarheid en Diens / Barmhartigheid en Getuienis

1. Ons wy onsself aan Christus toe,
aan Hom, ons Redder, Heer.
Laat Hy ons lof en eer ontvang,
die Koning wat regeer.
Hy het ons met sy bloed gekoop
en maak van ons sy kerk.
Ons wil Hom met ons gawes dien,
met blydskap vir Hom werk.

2. Sy liefde, so oneindig groot,
laat ons eerbiedig juig.
Dit dring ons na die wêreld toe,
waar ons sal moet getuig.
Laat ons, gehoorsaam aan sy Woord,
ook dáár betrokke raak,
met omgee en deur diensbaarheid,
sy liefde sigbaar maak.

3. Kom open U ons oë, Heer,
vir ander in hul nood.
Maak ons, soos U, barmhartig, Heer,
waar mense vra om brood.
Maar laat ons tog dié nood besef,
wat in hul harte leef.
Deur U alleen, die Middelaar,
word sondeskuld vergeef.

God praat met ons en ons luister

Gebed

Lied 253 “U Het die brood gebreek”

Skriflesing: Matteus 14:13-21

Familie-oomblik

Lied
F227. Ons Sal Nou Gaan
[kan ook as slotlied gesing word]

Preek

Familie-oomblik

‘n Heerlike ware storie om te vertel, is dié van Wangari Maathai.  Wangari het gesien hoe Kenya se landskap verander het weens al die bome wat afgekap is.  Sy begin ‘n inisiatief waaronder later meer as 30 miljoen bome geplant en Kenya se landskap verander het.   In 2004 word sy die eerste vrou uit Afrika om die Nobel Vredesprys te wen.  Daar is ‘n pragtige storieboek vir Kindle beskikbaar wat haar storie vertel – kyk die video daarvan hier.  Of vertel die storie in jou eie woorde!

In die Johannes-weergawe van vandag se verhaal, om die brood en vissies van ‘n kind af.  Kinders sal geniet om dit te hoor!  Kry ‘n kind om vanoggend se skriflesing te doen.  Dalk kan al die grootmense saam die dissipels se woorde lees!

Jy kan ook met kinders gesels oor tafelgebede en hoekom ons dankie sê vir ons kos.  Laat almal in die kerk hande vat en ‘n tafelgebed oefen.  Eet koekies en marshmallow vissies.

Jy kan almal beïndruk wanneer jy die storie vertel met hierdie baie oulike prentjie.  Hier is ‘n (redelik ingewikkelde) aktiwiteit om ‘n mandjie vol vissies van papier te maak.  Jy kan ook vir kinders (en grootmense?) ‘n Inkleurprent gee om in te kleur tydens die preek.

Preekriglyn

In 2 Konings 4 lees ons van ‘n naamlose man, uit ‘n plek met die naam Baäl-Salisa, wat 20 garsbrode vir die profeet Elisa bring. Elisa gee dadelik opdrag dat dit vir die mense voorgesit word. Sy slaaf protesteer, want daar is te veel mense vir die “bietjie kos”.

Waarop Elisa sê: “Gee dit vir die mense om te eet, want so sê die Here: ‘Hulle sal eet en nog oorhou'” (43). So gebeur dit dan ook: die slaaf het die bietjie kos voorgesit, die mense het geëet en daar het kos oorgebly, “net soos die Here gesê het” (44).

Hierdie kort verhaal is deel van ‘n besondere hoofstuk. Regdeur 2 Konings 4 lees ons hoe die Here deur Elisa voorsiening maak in die behoeftes van mense. ‘n Weduwee wat haar twee seuns as slawe moet verkoop, word voorsien van ‘n oormaat olie, wat sy kan verkoop, haar skuld betaal, en met die balans vir haar en haar seuns voorsiening kan maak.

‘n Sunemmitiese vrou sonder ‘n seun word op Elisa se aankondiging swanger en bring ‘n seun in die wêreld. Die seun sterf. Die vrou soek Elisa op, wat na die seun kom omsien sodat hy weer lewend word.

In ‘n tyd van hongersnood laat Elisa ‘n bredie vir die mense kook. Daar beland giftige bestanddele in die bredie, maar Elisa behandel dit met meel, waarna dit veilig en eetbaar word.

Hierdie verhale verteenwoordig God se belangstelling in die alledaags lewe en nood van mense. God skep ‘n wêreld waarin daar voorsiening gemaak word vir mense se uitdaging om in moeilike omstandighede te kan leef. God is die Lewegewer, die Gasheer wat lewe op aarde moontlik maak. Die man van God, Elisa, is die agent van God waardeur God se genade bemiddel word.

Op hierdie manier word die mag, heerlikheid, liefde en versorging van God openbaar. Dit is die lewe wat in die koninkryk van God moontlik word.

Jesus, die Gasheer

In Matteus 14:13-33 lees ons hoe Jesus Hom in afsondering terugtrek toe Hy van Johannes die Doper se dood verneem het. Die skares mense wat na Hom geluister het, het Hom egter steeds gevolg. Juis by hierdie geleentheid vind ‘n nuwe en grootse openbaring van die mag en die heerlikheid van Jesus – die eerste vermeerdering van die brood – plaas. Die eerste vermeerdering van die brood word deur ‘n tweede een in Matteus 15:29-39 gevolg.

Hierdie wonderwerk is ‘n duidelik uitdrukking van die koninkryk waarin Jesus die gasheer sal wees en die armes en die noodlydendes versadig sal word.

God se versorgende teenwoordigheid kry in Jesus sy hoogste en helderste beliggaming.

Die dissipels as gashere

Die wonderwerk ook ‘n opdrag aan Jesus se dissipels wat sy toekomstige apostels (gestuurdes) is. Hulle sou binnekort in sy plek en in sy opdrag die uitdelers wees van die gawe van die ryk. Daarom sê Jesus vir hulle: “Gee julle vir hulle iets om te eet.” As hulle dan verleë vra waar hulle kos vandaan moet kry, laat Jesus hulle die duisende uit sy hande voed en versadig.

So is die gawe van die ryk. Dit is onuitputlik en genoegsaam vir elkeen. Dit sal die duisende aan Jesus se tafel vergader. Dit moet aan mense geopenbaar word. Maar eerstens moet diegene wat glo, dit aan hulle uitdeel. Hulle sal alleen in die geloof kan volhard om regdeur die geskiedenis na die skares uit te gaan wat soos skape sonder ‘n herder is.

Brood vir die wêreld

Hermie van Zyl (Die Bybellenium) bespreek die teksgedeelte onder die opskrif: “Brood vir die wêreld.” Hy wys daarop dat toe die dissipels met die situasie sit waar daar te veel mense is om gevoed te word, hulle beplan het om die menigtes terug te stuur na die dorpe toe om daar self te gaan kos koop. Jesus plaas egter die verantwoordelikheid vierkantig op die skouers van die dissipels, met die opdrag om self vir hulle kos te gee. Die dissipels probeer egter wegskram met die verskoning van te min kos vir almal – net vyf brode en twee vissies. Maar in Jesus se hande word dit meer as genoeg.

Hierdie gebeure maak die hart van Jesus bekend en fokus op die taak van die dissipels en die kerk vandag. Matteus wys Jesus se hart met die woorde: “Hy het die mense ‘innig jammer gekry'” (14). Die Grieks gebruik die woord esplanchnisthē wat in die Direkte Vertaling weergegee word met: “Hy is met deernis gevul.” Van Zyl beklemtoon dit bly nie net by ‘n gevoel nie, Jesus se deernis gaan oor in dade van barmhartigheid wanneer Hy die siekes genees.

Jesus se dade van erbarming loop soos ‘n goue draad deur die Matteusevangelie. So word Jesus geteken as die seun van Dawid wat as Messiaskoning die eintlike taak van die koning uitvoer, naamlik die versorging van sy onderdane. Daar is nog meer as dit. Jesus het die mag om mense in hulle totale nood te versorg.

Die kerk betrek

Die belangrike saak is verder dat Jesus die dissipels, die kerk, by sy barmhartigheidsdade betrek. Hy wil dit nie sonder hulle doen nie. Daarom laat Hy nie die dissipels toe om hulle verantwoordelikhede teenoor die skare te ontduik nie. Wanneer die dissipels moedeloos kyk na die skares en hulle eie karige voorrade, nooi Jesus hulle om dit aan Hom te oorhandig. In sy hande verander alles: Daar is nie net vir almal kos nie, maar almal kry genoeg, sodat daar selfs oorbly. Met hierdie gebeure word die nood van die wêreld, die mag van Jesus om dit op te hef en die taak van Jesus se volgelinge, aldus van Zyl, onderstreep.

Tereg vra Van Zyl dan die vraag of ons nog glo Jesus en ons (die kerk) kan ‘n verskil maak? Of staar ons ons blind teen die oorweldigende nood van mense en die karige middele tot ons beskikking, en besluit dan om nie betrokke te raak nie? Die evangelie roep ons egter om brood vir die wêreld uit te deel – letterlik en figuurlik.

Betekenis vir vandag

Ons kan die boodskap van die teks vir vandag opsom deur te wys op die verskillende maniere waarop die kerk dit deur die eeue verstaan het:

  • ‘n Morele boodskap: Sedert die bestaan van die vroeë kerk is die teks as morele verpligting uitgelê. Jesus haal sy dissipels van alle tye oor om met ander te deel.
  • Sosiale herstel: Verder is die teks sosiaal geïnterpreteer in die sin dat Jesus na beide die liggaamlike as die geestelike nood van mense omsien. Die teks gee dus ‘n antwoord op die gebed om brood in die Ons Vader-gebed.
  • Geestelik: Die teks is ook vergeestelik. Die mens leef nie van brood alleen nie, maar van elke woord wat uit die mond van God kom. Brood en vis word verstaan as die Woord wat van God uitgaan. Dit sou egter ‘n fout wees om die fisieke aard van die brood te probeer onderspeel.
  • Sakramenteel: Tussen ‘n sosiale en vergeestelikte interpretasie van die teks is daar ook ‘n eucharistiese verstaan. Daarvolgens verwys die brood reeds na die nagmaal. Die feit dat die vermeerdering direk volg op die dood van Johannes die Doper, ‘n herinnering aan die lyding wat ook op Jesus wag, verbind die vermeerdering met Jesus se lyding.
  • Kerklik: Die dissipels se rol staan vir hierdie verstaan sentraal: As apostels sal hulle in die toekoms Christus se goedere verdeel (die gawes van die ryk uitdeel).
  • Troostend / pastoraal: die wonderwerk het ‘n vertroostende rol in die Matteus-evangelie het. Dit onderstreep dat Jesus by magte is om in krisisse en nood uitkoms te gee. In hierdie sin vervul die vermeerdering van die brood ‘n geloofsversterkende rol. Dit wil gelowiges aanmoedig om in afhanklikheid op God te vertrou en op God se goedheid en sorg te reken. Terselfdertyd wil dit ons oë open vir die gebrokenheid, lyding en pyn wat die sonde en die gevolge daarvan inhou, sodat ons ook daarteen sal begin stry en na Gods koninkryk sal verlang.
Magteloosheid

Op ons kontinent word ons gekonfronteer met ontsettende nood en oorweldigende armoede. Die magteloosheid van die dissipels voor die skare se behoefte aan kos en hulle min middele is by ons nie onbekend nie.

Die realiteit van armoede en die oorweldigende nood kan ons apaties maak. Ons beperkte voorrade laat ons dikwels magteloos teenoor armoede en broodgebrek wat maak dat ons ook maar dink,  wat ons het, Maak geen verskil nie.

Die broodwonder roep ons egter op om moed te skep en weer met God se voorsienigheid rekening te hou. In Christus het die koninkryk van God in hierdie wêreld deurgebreek. Die vermeerdering van die brood is ‘n teken daarvan dat God begaan is oor elke mens se fisieke en geestelike nood.

God kan vandag nog die broodwonder kan herhaal, maar dan mag ons nie armoede, broodgebrek en die daarmee gepaardgaande lyding as onoplosbare krisisse aanvaar nie. Wat ons het, kan deur God vermeerder word. Ons moet bereid wees om wat ons het in die Here se hande te gee.

God self aan die werk

Ons moet weet dat God vandag nog in die konkrete behoeftes van mense belang stel én daarin voorsien. Die mense se honger was werklik, maar dit word in die wyer konteks van die evangelieverhaal ook simbolies van ‘n dieper honger. In beide soorte honger kan die mense nie voorsien nie. God gryp egter self in deur Jesus wat uit egte medelye die brood breek.

Terselfdertyd is die broodbreking ook ‘n magsverklaring van die Messias wat in absolute sin in mense se behoeftes voorsien. In die Here se hande verander die klein gawes en word dit baie.

Op hierdie pad moet die kerk self eers verander word. Dit doen God ook: Voordat die dissipels vir die honger skares “iets kon gee om te eet”, moes Jesus egter eers hulle weerstande oorwin. Jesus bevry mense tot egte mededeelsaamheid!

God stuur ons om te leef

Terugvoer
Gee terugvoer van (een van) jul gemeente se barmhartigheidsbedieninge.  Laat ‘n lidmaat wat daarby betrokke is, self vertel wat gedoen word en wat nodig is.  Julle kan selfs van die mense wat julle ondersteun, spesiaal nooi na hierdie erediens. Of laat ‘n spesifieke instansie wat julle ondersteun, terugvoer gee.

Daag die gemeente uit om volgende Sondag “brood” te bring.  Die “brood” sal afhang van die bedieninge waarby julle betrokke is. Dalk kan elke lidmaat “2 minute noodles” bring, of wol, of klere, of blikkieskos, ens.

Gebed
Bid veral vir die behoeftiges in jul omgewing en vir jul gemeente se barmhartigheidsbedieninge.

Slotsang
F212. Die Here Het Hom Nodig
VONKK 158 Ons Wy Onsself Aan Christus Toe [Die melodie – Ellacombe – is baie bekend en sing ook baie lekker]

Seën

Respons: Flam 212 refrein

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.