Negende Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Samuel: Dawid wil ‘n tempel bou; God bevestig sy trou aan hom en sy koningskap, maar verwys die oprigting van die tempel na sy nasaat.

Psalm 89: Die Dawidiese koninkryk is gegrond op God se belofte van krag en oorwinning. Dit is veral die verbond van troue liefde wat in die hart daarvan staan.

Efesiërs 2: Ons is: een nuwe liggaam wat nie meer geskei word deur voorskrifte nie. Ons is medeburgers, ‘n huisgesin en geestelike huis.

Markus 6: Jesus en sy dissipels kry nie die skares ontduik om te rus nie omdat Hy diep deur hulle leierloosheid getref word.

Die tema is vandag: God in leierskap. Dawid se geestelike nalatenskap as leier wys op God se teenwoordigheid in gesonde leierskap. Christus begrond self goeie leierskap in empatie. Efesiërs beskryf dit as inklusief.

Ander tekste

2 Samuel 7:1-14a
Dawid wil vir die Here ’n huis bou
(Vgl 1 Kron 17:1–27)
7 Toe koning Dawid in sy eie huis woon, nadat die Here hom rus gegee het van al sy vyande in die omgewing, 2sê hy vir die profeet Natan: “Kyk, ek woon in ’n huis wat met sederhout versier is, maar die ark van God staan in ’n tent.”

3Natan het die koning geantwoord: “Doen gerus alles wat u in gedagte het. Die Here is by u.”

4Dieselfde nag het daar egter iets gebeur: die woord van die Here het tot Natan gekom en vir hom gesê: 5“Gaan sê vir my dienaar Dawid: So sê die Here: Wil jy vir My ’n huis bou om in te woon? 6Vandat Ek die Israeliete uit Egipte laat trek het tot nou toe het Ek nog nooit in ’n huis gewoon nie. Ek het in tent en tabernakel rondgeswerf 7saam met al die Israeliete. Het Ek ooit vir een van die stamme wat Ek beveel het om die leiding van my volk Israel op hom te neem, gesê: ‘Waarom bou julle nie vir My ’n huis wat met sederhout versier is nie?’

8“Nou moet jy vir my dienaar Dawid sê: So sê die Here die Almagtige: Ek het jou uit die weiveld agter die kleinvee weggevat om oor my volk Israel te heers. 9Oral waar jy gegaan het, was Ek by jou; al jou vyande het Ek voor jou oë uitgedelg. Ek het jou so beroemd gemaak soos die grotes op die aarde. 10Ek het ’n woonplek aan my volk Israel gegee en hom gevestig, sodat hy sonder vrees in sy plek kan woon. Slegte mense sal hom nie meer verdruk soos voorheen 11toe Ek leiers oor my volk Israel aangestel het nie. Ek sal jou rus gee van al jou vyande. Ek maak aan jou bekend dat Ek vir jou ’n koningshuis gaan vestig. 12Wanneer jy te sterwe kom en jy by jou voorvaders rus, sal Ek een van jou nageslag, jou eie seun, koning maak en aan hom ’n bestendige koningskap gee. 13Hy sal vir my Naam ’n huis bou, en Ek sal sy koningskap vir altyd laat voortbestaan. 14Ek sal vir hom ’n vader wees en hy sal vir My ’n seun wees.

Psalm 89:20-37
20U het ’n openbaring gegee,
oor u troue dienaar het U gesê:
“Ek het aan ’n held my bystand geskenk,
aan ’n dapper jong man uit die volk
’n ereplek gegee.
21Ek het Dawid as my dienaar uitgesoek,
hom met my heilige olie
tot koning gesalf.
22My mag sal hom ondersteun,
my krag sal hom sterk maak.
23Vyande sal hom geen leed aandoen nie,
gewetenlose mense
sal hom nie verdruk nie.
24Ek sal sy teëstanders
voor hom verpletter
en dié wat hom haat, verslaan.
25My trou en liefde sal by hom wees:
deur My sal hy oorwin.
26Ek sal sy heerskappy uitbrei
tot oor die see,
sy gesag tot oorkant die riviere.
27Hy sal My aanroep met die woorde:
‘U is my Vader,
my God, die rots wat my redding is.’
28Ek stel hom eerste,
die magtigste koning op aarde.
29Vir altyd handhaaf Ek my trou
teenoor hom;
my verbond met hom staan vas.
30Ek sal vir hom altyd
nakomelinge verseker
sodat sy troon vas sal staan
so lank daar ’n hemel is.
31As sy nakomelinge nie handel
volgens my woord nie
en nie lewe volgens my bepalings nie,
32as hulle my voorskrifte verontagsaam
en my gebooie nie nakom nie,
33sal Ek hulle oor hulle oortreding straf
en hulle oor hulle sonde
met swaar slae tref.
34Maar my liefde sal Ek van hom
nie terughou nie,
my trou nie verbreek nie.
35Ek sal my verbond nie versaak nie,
nie een van my beloftes terugtrek nie.
36Ek, die Heilige, het ’n eed afgelê,
en my woord aan Dawid
sal Ek nie verbreek nie:
37daar sal altyd nakomelinge
van hom wees,
sodat sy troon so blywend soos die son
sal wees.

Markus 6:30-34, 53-56
Die twaalf apostels kom terug
(Matt 14:13–14; Luk 9:10–11; )
30Die apostels het na Jesus toe teruggekom en vir Hom alles vertel wat hulle gedoen en wat hulle die mense geleer het. 31Daar was baie mense wat gedurig gekom en gegaan het, sodat Jesus en sy dissipels selfs nie kans gehad het om iets te eet nie. Hy sê toe vir hulle: “Kom julle alleen saam na ’n stil plek toe en rus ’n bietjie.”

32Hulle het met ’n skuit na ’n stil plek toe vertrek waar hulle alleen kon wees. 33Baie mense het hulle egter gesien en agtergekom waarheen hulle gaan. Hulle het vinnig van al die dorpe af te voet daarheen gegaan en nog voor Jesus en sy dissipels daar aangekom. 34Toe Jesus uit die skuit klim, het Hy ’n groot menigte mense daar gesien en Hy het hulle innig jammer gekry, want hulle was soos skape wat nie ’n wagter het nie. Hy het hulle toe baie uitvoerig begin leer.

Jesus genees mense in die landstreek Gennesaret
(Matt 14:34–36)
53Hulle het toe land toe gevaar en by Gennesaret aan wal gegaan. 54Toe hulle uit die skuit klim, het die mense Hom dadelik herken 55en in daardie hele landstreek rondgegaan en dié wat ongesteld was, op draagbare begin aandra na waar hulle gehoor het dat Hy is. 56Waar Hy ook al in dorpe of stede of op plase gekom het, het die mense die siekes op die bymekaarkomplekke neergesit en Hom gevra dat die siekes tog maar net aan die soom van sy klere mag raak; en almal wat aan Hom geraak het, het gesond geword.

Fokusteks

Efesiërs 2:11-22
Lewe uit die dood
2 Julle was dood as gevolg van julle oortredings en sondes 2wat voorheen julle lewenswyse gekenmerk het. Julle het gelewe soos hierdie sondige wêreld en julle laat lei deur die vors van die onsigbare magte, die gees wat daar nou aan die werk is in die mense wat aan God ongehoorsaam is.

3So het ons trouens vroeër ook almal gelewe. Ons is deur ons sondige begeertes oorheers en het gedoen net waartoe ons luste ons gelei het en wat in ons gedagtes opgekom het. Vanweë ons sondige natuur sou ons net soos die ander mense deur God gestraf moes word. 4Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief. 5Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered! 6Ja, in Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom ‘n plek in die hemel gegee, 7sodat God ook in die tye wat kom, sou laat sien hoe geweldig groot sy genade is deur die goedheid wat Hy in Christus Jesus aan ons bewys het.

8Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God. 9Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie. 10Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.

Een nuwe mensheid
11Hou dan in gedagte wat julle vroeër was. Van geboorte was julle heidene, en julle is “onbesnedenes” genoem deur dié wat hulleself “die besnedenes” noem, al is die besnydenis net mensewerk aan die liggaam. 12In dié tyd was julle sonder Christus, uitgesluit uit die burgerskap van Israel, ver van God af sonder deel aan die verbonde en die beloftes wat daarmee saamhang, sonder hoop en sonder God in die wêreld.

13Maar nou is julle een met Christus Jesus. Julle wat vroeër ver van God gelewe het, het nou naby gekom deur die bloed van Christus. 14Christus is ons vrede, Hy wat dié twee, Jode en nie-Jode, een gemaak het. Deur sy liggaam te gee, het Hy die vyandskap afgebreek wat vroeër soos ‘n muur skeiding gemaak het. 15Die wet van Moses met al sy gebooie en bepalings het Hy opgehef, en deur vrede te maak, het Hy in Homself dié twee, Jode, en nie-Jode, tot een nuwe mensheid verenig. 16Deur sy dood aan die kruis het Hy ‘n einde gemaak aan die vyandskap en dié twee met God versoen en tot een liggaam verenig. 17Toe Hy gekom het, het Hy die goeie boodskap van vrede gebring: vrede vir julle wat ver van God was, vrede ook vir dié wat naby was. 18Deur Hom het ons almal, Jode en nie-Jode, deur die een Gees vrye toegang tot die Vader.

19Julle is dus nie meer ver van God af nie, nie bywoners nie, maar mede-burgers van die gelowiges en lede van die huisgesin van God. 20Julle is ‘n gebou wat opgerig is op die fondament van die apostels en die profete, ‘n gebou waarvan Christus Jesus self die hoeksteen is. 21In Hom sluit die hele gebou saam en verrys dit tot ‘n heilige tempel vir die Here, 22in wie julle ook saam opgebou word as ‘n geestelike huis waarin God woon.

Ekstra stof

Efesiërs 2:1-22 – God woon in die gemeenskap van gelowiges
Uit die gesprek en gebed van hoofstuk 1 trek Paulus nou vier gevolgtrekkings in hoofstuk 2-3 wat hy met ‘n verskeidenheid beelde inkleur.  ‘n Mens kan dit so opsom:

  1. God gee aan alle gelowiges plek by Hom as getuienis van sy goedheid – 2:1-10;
  2. Joodse en heidense gelowiges is saam een nuwe mensheid in Christus – 2:11-18;
  3. God woon in hierdie gemeenskap van gelowiges as getuienis aan die mensdom – 2:19-22.
  4. Alle mense kan deel word van die Godsvolk deur Christus Jesus – 3:1-13

Hy sluit dié gevolgtrekkings af met een van die mooiste gebede in die Bybel – 3:14-21 – waarin hy vra dat hierdie hele gemeenskap van gelowiges heeltemal vervul sal word met die volheid van God, as ‘n getuienis aan alle mense dat hulle in Christus Jesus vrede met God kan geniet.

God gee aan alle gelowiges plek by Hom as getuienis van sy goedheid – 2:1-10

Paulus eggo weer die refrein wat ‘n mens in hierdie gevangenskap  briewe raaksien, dat God aan ons saam met Christus ‘n plek in die hemel, dws in Sy teenwoordigheid gegee het.  Hy doen dit uiteraard ter wille van ons, omdat ons Sy kinders in Christus Jesus is.  Maar Hy doen dit ook om aan die wêreld sy geweldige groot genade ten toon te stel as getuienis van sy goedheid wat vir almal bedoel is.  Hy maak van mense wat sy vyande was, sy vriende.

‘n Mens kan vers 10 ook as volg vertaal: “Want ons is sy meesterstuk, geskep in Christus Jesus vir uitnemende projekte, wat God voorberei het, dat ons dit sal uitvoer.”  Dit is ‘n baie belangrike perspektief op die geestelike lewe.  Ons doen nie maar wat ons wil, of wat een of ander geestelike leier vir ons voorsê nie.  Ons hoor by God in Sy Woord en deur Sy Gees watter dinge Hy wil hê ons by betrokke moet raak – en dit is die dinge wat ons dan doen.  Dit is presies wat Jesus bedoel het, toe hy aan sy dissipels gesê het (in die verhaal van die Samaritaanse vrou by die put van Jakob): “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk te voltooi.” (Joh 4:34).

Joodse en heidense gelowiges is saam een nuwe mensheid in Christus – 2:11-18
Paulus kontrasteer hier die “onbesnedenes” – dit is dié nie-Jode wat nie in God geglo het nie – met die “besnedenes” – dit is die Jode wat deel van die Godsvolk was.  Christus het die vyandskap wat tussen dié twee groot groepe bestaan het, afgebreek soos ‘n mens ‘n muur sou afbreek.  Daar is nou een nuwe mensheid wat nie net met God nie, maar ook met mekaar versoen is, en nou om vrede met God en mekaar kan (en natuurlik moet) lewe.

Let op dat die mikpunt van hierdie eenheid die onbelemmerde vrye toegang tot die Vader is deur die werk van die een Gees.

God woon in hierdie gemeenskap van gelowiges as getuienis aan die mensdom – 2:19-22
Paulus gebruik 5 beskrywings van hierdie gemeenskap van gelowiges: 1) medeburgers, 2) huisgesin, 3) gebou, 4) tempel, 5) geestelike huis.  Die eerste twee beelde kom uit die samelewing uit: die politieke en nasionale sfeer, en die kleiner familie-kring.  Die laaste drie beelde kom uit die boubedryf uit, maar word duidelik geestelik bedoel.  Let op dat die gemeenskap van gelowiges nou die tempel is, en nie ‘n kerk nie.

Wat ‘n mens besonderlik tref is dat Paulus hier skryf dat die gemeenskap van gelowiges ‘n plek word waar God woon.  Soos Hy vir ons ‘n plek in Sy teenwoordigheid gegee het, so kry Hy ‘n plek by ons, in ons teenwoordigheid.  En weereens, dit is nie net ter wille van onsself nie, maar sodat Sy teenwoordigheid sigbaar kan word vir die wêreld (soos in hoofstuk 3 verder gemotiveer sal word).  Die kerk, as liggaam van Christus, is in ‘n besondere sin nou die beeld van God, die imago Dei, soos die mens dit aanvanklik was (Gen 1:26).  ‘n Kerklike gemeenskap wat nie hiervoor leef nie, mis sy doel.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 175 ” Majesteit vs 1″

Aanvangswoord: Uit Psalm 124

Seëngroet: (Efesiërs 1:2)

Lied 220 “Met ons harte sing ons Here (219) 1,2,3”

Wet: Efesiërs 2

Skuldbelydenis 

Vryspraak: Efesiërs 2

Lofprysing: Efesiërs 2

Loflied 280 “Here redder groot en magtig 1,2,3”

Epiklese

Skriflesing: Efesiërs 2:11-22

Familie-oomblik
Prediking
Geloofsbelydenis
Offergawes

Wegsending: Lied 478 “Op vaste fondamente vs 1,2,3,4”

Seën: Efesiërs 3

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 175 “Majesteit vs 1”

Aanvangswoord: Uit Psalm 124
As die Here ons nie gehelp het
toe mense ons aangeval het nie,
3dan het hulle ons lewendig verslind
4dan het die waters ons weggespoel
en die vloed ons oorweldig;
6Aan die Here kom die lof toe:
8Ons hulp kom van die Here
wat hemel en aarde gemaak het.

Seëngroet: (Efesiërs 1:2)
2Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!

Lied 220 “Met ons harte sing ons Here (219) 1,2,3”

Wet: Efesiërs 2
2 Julle was dood as gevolg van julle oortredings en sondes 2wat voorheen julle lewenswyse gekenmerk het. Julle het gelewe soos hierdie sondige wêreld en julle laat lei deur die vors van die onsigbare magte, die gees wat daar nou aan die werk is in die mense wat aan God ongehoorsaam is.

3So het ons trouens vroeër ook almal gelewe. Ons is deur ons sondige begeertes oorheers en het gedoen net waartoe ons luste ons gelei het en wat in ons gedagtes opgekom het. Vanweë ons sondige natuur sou ons net soos die ander mense deur God gestraf moes word.

Skuldbelydenis 
V: As ons ons sondes bely,
God is getrou en regverdig,
Hy vergewe ons ons sondes
en reinig ons van alle ongeregtigheid.
G: Here, ek is ’n sondaar, wees my genadig.

Vryspraak: Efesiërs 2
4Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief. 5Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered! 6Ja, in Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom ’n plek in die hemel gegee, 7sodat God ook in die tye wat kom, sou laat sien hoe geweldig groot sy genade is deur die goedheid wat Hy in Christus Jesus aan ons bewys het.

8Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God. 9Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie. 10Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.

Lofprysing: Efesiërs 2
Ek verheug my daarin Here,
dat ek nou een is met Christus Jesus.
Ja- ek het vroeër ver van God gelewe het, maar  nou naby gekom deur die bloed van Christus.
U Here is ons vrede, U wat dié twee, Jode en nie-Jode, een gemaak het. Deur U liggaam te gee, het U die vyandskap afgebreek wat vroeër soos ’n muur skeiding gemaak het.
U het deur vrede te maak, in Uself dié twee, Jode, en nie-Jode, tot een nuwe mensheid verenig.
Deur U dood aan die kruis het U ’n einde gemaak aan die vyandskap en dié twee met God versoen en tot een liggaam verenig.
Ons is dus nie meer ver van God af nie, nie bywoners nie, maar mede-burgers van die gelowiges en lede van die huisgesin van God.
Ons is ’n gebou wat opgerig is op die fondament van die apostels en die profete, ’n gebou waarvan Christus Jesus self die hoeksteen is. In U sluit die hele gebou saam en verrys dit tot ’n heilige tempel vir die Here, in wie ons ook saam opgebou word as ’n geestelike huis waarin God woon.
Ek verheug my daarin Here!

Loflied 280 “Here redder groot en magtig 1,2,3”

Liedere

F265. “Die Here God Is Wonderbaar (Sing Vir Hom)”
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Lof)
Teks en Musiek: Johan Steenkamp
©  2008 Urial Publishing

1. Die Here God is wonderbaar
Hy reik uit na elke sondaar
en ook na jou en my
Hy is God van liefde
Hy is God van vrede
en ook van jou en my

Brug:
sing vir Hom, sing vir Hom
laat jou stem verrys
sing vir Hom, sing vir Hom
laat ons saam Hom prys

Refrein:
Halleluja
Halleluja

1. Die Here God sal my nooit verlaat
skyn sy lig altyd op my pad
Hy’s my enigste hoop
Hy is God van liefde
Hy is God van vrede
en ook van jou en my

F66. “Op Vaste Fondamente”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Die Kerk / Geloof)
Musiek: AURELIA – Samuel Wesley 1864;  gewysig Nellis van Zyl Smit/Neil Büchner, 2004
Teks: Attie van der Colf © 1978 / 2001;  gewysig Nellis van Zyl Smit/Neil Büchner, 2004
© MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lof  met Louis Brittz)

1. Op vaste fondamente het God sy kerk gebou
Apostels en profete het ons dit toevertrou
Die Koning van die hemel herskep deur Woord en Gees
Verlorenes op aarde dat hul sy volk kan wees

Hy roep uit alle volke ‘n volk vir Hom tesaam
Een in geloof en werke een in sy heil’ge Naam
Hy gee die brood die beker Hy gee die heil’ge doop
Om hulle te verseker: Ek het jul duur gekoop

Refrein:
Ja Hy lê die steen. Hy is die rots
Sy fondament is vas. Hy is God
O ja, Hy is
Ja, Hy is God

2. O Heer skryf in ons harte dat ons dit nooit vergeet
Al pynig ons die smarte al martel ons die leed
Die kruis van ons Verlosser sluit vergesigte oop
In ‘n verwarde wêreld bring dit weer vaste hoop

Refrein:

God praat met ons en ons luister

Epiklese       

Gebed
Ons Vader,
ons aanvaar u genade met nederige dankbaarheid.
Help ons beter sien wat U van ons maak:
Ons is immers nie toevallige besoekers by U nie.
Ons is selfs nie net maar inwonende gaste nie.
U bou u huis met ons lewe – ’n tuiste vir enige mens wat na U verlang.
So brei U u invloed uit.
Ons neem ter harte dat ons u uitnodiging aan die wêreld is.
Hier word U verhaal oor– en oor geleef en vertel.
U, Christus Jesus, hou ons in liefde bymekaar.
Elkeen het ’n plek.
U bou steeds u huis groter:
mense bou vriendskappe;
mense word versterk;
mense genees en word heel;
Uself woon tussen ons (uit Ef 2:19-22).

Skriflesing: Efesiërs 2:11-22

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Kinders raak baie gou baie bewus van klasse, spanne, klubs waarin maats hulle groepeer.  Sulke groepvorming kan baie eksklusief wees en ‘n “hulle” en “ons” bewussyn skep.  Dit kan lei tot wantroue en uitsluiting.  Uiteraard lei dit tot verdere klassifikasies en stereotipes van etniese, taal, en geslags aard.

Daarom sal hulle die verassing van die insluitende boodskap van Paulus in dié gedeelte baie goed kan hoor, veral as ‘n mens dit vertel teen die agtergrond van die vele reëls waarmee die Jode gesorg het dat die heidene buite bly.  In Christus is nou ‘n nuwe mensheid wat saam met die kinders prakties ontdek kan word.

In aansluiting by die “insluitende boodskap van Paulus” vertel Eugene Peterson in sy boek “To run with the horses” (Jer 12:5) die volgende ervaring uit sy kinderdae.

Op skool was hy in sy klas die jongste en ook die kleinste. So wanneer hulle informele spansport sou speel en die 2 kapteins kies al om die beurt hulle span het hy gewoonlik tot op die laaste oorgebly.

En toe hoor hy eendag die 2 kapteins stry, terwyl hy al een is wat nog gekies moet word. Met ‘n skok sou hy ontdek hulle stry eintlik oor wie hom NIE in hulle span wil hê nie. En in sy eie woorde verander sy selfbeeld daardie dag in ‘n oomblik “from a zero to a minus”. Ons fokusteks laat dit nie toe nie- dit kan nie in Christus gebeur nie. Ons is nou een met Christus, Jode en nie-Jode is een, Hy het die vyandskap afgebreek, daar is nou eén nuwe mensheid! Ingesluit, nie uitgesluit nie.

Preekriglyn

God se vrede vloei voort uit God se genade.
Ons teksgedeelte (2:11-22) praat oor die vrede wat God in Christus bring. Dit vloei voort uit die vorige paragraaf (2:1-10) wat letterlik oorloop van die groot genade van God in Jesus Christus.

Wanneer 2:1-10 en 2:11-22 (ons teks) saamgelees word, druk dit die dubbele tema van Paulus se seëngroet aan die begin van hierdie brief uit:

Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus! (1:2)

Die vrede in Christus omspan die hele wêreld. In ons teks fokus Paulus op die wyse waarop die vrede in Christus die heidene

  • deel gemaak het van die “burgerskap van Israel” (2:12),
  • hulle “een met Christus Jesus” gemaak het (2:13),
  • hulle ingesluit het, lede gemaak het, van die “huisgesin van God” (2:19).

Hierdie Christus-gesentreerde vrede word beliggaam in ‘n versoende en heilige gemeenskap, “‘n geestelike huis waarin God woon” (2:22).

In moderne taal sal ons sê hy praat oor die nuwe sosiale werklikheid, ‘n gemeenskap, wat deur God se genade en vrede geskep word. Dit bestaan uit voormalige opponente en is ‘n wesenlike deel van die wil van God vir die wêreld.

Sentrale tema

Die vrede waarvan Paulus in 2:11-22 praat, is een van die hoofpunte in die oorhoofse tema van die Efesiërsbrief:
Hy het kragtens sy besluit en voorneme die geheimenis van sy wil aan ons bekendgemaak
en dit deur Christustot uitvoering gebring op die tyd wat Hy daarvoor bepaal het.
Sy bedoeling was om alles wat in die hemel en alles wat op die aarde is,
onder een hoof te verenig,
naamlik onder Christus. (1:9-10)
‘n Sentrale aspek van God se plan om alles in Christus te verenig, is die samevoeging van Jood en heiden in Christus.

Belangrik vir ons

Vir ons is God se aksie eerstens belangrik, omdat ons volgens die destydse Jode uit die heidendom kom. Was dit nie vir God se plan om ons deel van sy volk te maak nie, om ons in Christus met die Ou Testamentiese volk van God te verenig nie, was ons vandag nog sonder Christus en sonder hoop in die wêreld.

Vir ons is dit tweedens belangrik, omdat God vandag nog voort gaan om mense wat van mekaar verskil in Christus in ons gemeente en kerke tot een nuwe, versoende mensheid saam te voeg. Daaroor later meer.

Nuwe skepping

Paulus beklemtoon: as nuwe gemeenskap, saamgevoeg uit bittere vyande, Jood en heiden, is die kerk ‘n getuienis van die nuwe skepping wat God tot stand bring.

Dat God Jode en heidene bymekaarbring in Christus is nie alleen ‘n geheimenis wat nog nooit vantevore in die geskiedenis aan die mensdom bekend gemaak is nie (3:5), dit is ook ‘n geheimenis wat nou “aan elke mag en gesag in die hemelruim” bekendgemaak word (3:10).

‘n Versoende kerk beliggaam die vrede van God soos in 2:11-22 uitgespel. So ‘n versoende kerk is ‘n getuienis van God se plan vir die hele skepping. ‘n Gemeente en kerk wat versoening doen, is ‘n profesie van God se pad met – en doel vir – die hele skepping.

Versoening

Die evangelie van God se vrede het versoening in sy kern. Die sentrale belang van versoening vir die evangelie van vrede blyk uit vers 11. Hier praat Paulus met mense wat “van geboorte heidene was”. Hy wys op die kontras tussen die heidene se voormalige status met die nuwe status wat hulle (ons) in Christus Jesus verkry het (2:13).  Op ‘n stadium heidene (voor die sterwe en verhoging van Jesus), was hulle:

sonder Christus, uitgesluit uit die burgerskap van Israel, ver van God af, sonder deel aan die verbonde en die beloftes wat daarmee saamhang, sonder hoop en sonder God in die wêreld (2:12)

Dit was tóé.

Maar nóú het hulle status verander. Hulle is een met Christus, heidene het in Christus naby gekom (2:13), hulle is nie langer “bywoners nie, maar medeburgers van die gelowiges en lede van die huisgesin van God” (2:19).

Tyd en ruimte

Verse 11 – 13 beskryf dus die statusverandering van die heidene in terme van beide tyd en ruimte:

  • Die heidene (nie-Jode) se status verander van tóé tot nóú (tyd); en
  • Hulle was vroeër ver van God en Christus, maar het nou naby gekom – naby aan Christus, naby aan die volk van God, die lede van God se verbondsmense (ruimte).

Die evangelie verander dus – in terme van tyd en ruimte – die sosiale posisie van die heidene (nie-Jode) ten opsigte van die volk van God – destyds ver, nou ingesluit. God maak diegene wat nie deel is nie in Christus, deur geloof, deel van die volk van God.

Die evangelie skep in Christus gemeenskap tussen mense wat nie in gemeenskap was nie. Dit is die hart van die missionale roeping van God Drie-Enig en dus van die kerk wat aan God behoort.

Die insluiting gebeur danksy die bloed van Christus:
Julle wat vroeër ver van God gelewe het, het nou naby gekom deur die bloed van Christus (2:13)

Christus die basis

In Efesiërs 2:14-18 praat Paulus oor die nuwe sosiale werklikheid in die kerk deur te wys op die basis waarop die heidene ingesluit word in God se verbondsvolk. Dié basis is Christus:

Christus is ons vrede, Hy wat dié twee, Jode en nie-Jode, een gemaak het.
Deur sy liggaam te gee, het hy die vyandskap afgebreek wat vroeër soos ‘n muur skeiding gemaak het. (2:14)

Daarom:
Deur Hom het ons almal, Jode en nie-Jode, deur die een Gees vrye toegang tot die Vader (2:18).

Muur van skeiding

Hoe het Christus die eenheid met God én met mekaar tussen Jood en heiden bewerkstellig? Paulus is geïnteresseerd om dié vraag ook op ‘n sosiale vlak te beantwoord. Hoe het Christus dit reggekry om die taboe dat Jood en nie-Jood nie sosiale kontak mag hê nie, weggeneem.

Vers 15:
Die wet van Moses met al sy gebooie en bepalings het Hy opgehef, en deur vrede te maak, het Hy in Homself dié twee, Jode en nie-Jode, tot een nuwe mensheid verenig.

‘n Belangrike opmerking: Moenie nou aan die wet en wetsgehoorsaamheid as manier om gered te word dink nie. Moenie dink Paulus probeer hier sê Christus het die geregtigheid deur werke afgeskaf nie. Dis nie hier sy punt nie.

Op ander plekke sê Paulus dat hy die wet onderhou (bv. Rom. 3:31). Jesus het self gesê dat Hy die wet en die profete nie kom afskaf het nie, maar kom vervul het. Die ophef van die wet waarvan hy hier praat, het nie met die heiligheid, geregtigheid en goedheid van die wet te doen nie (Rom. 7:12).

Wat afgeskaf is, is die wet as grens tussen Jood en nie-Jood. Die wet het vyandskap gebring tussen Jood en nie-Jood, want die een groep het sekere dinge nie op die Sabbat gedoen nie, en die ander het nie die Sabbat onderhou nie; die een het hulle kos op ‘n sekere manier geëet, die ander nie; die een groep was rein en die ander groep in hulle oë onrein.

Nog voorbeelde:

  • Vers 11: Diegene wat hulself die “besnedenes” genoem het, het neergesien op die wat van geboorte heidene was, die “onbesnedenes”;
  • Vers 14: Die tempel het oor ‘n muur beskik wat die heidene uitgesluit het. Dit was ‘n grensmuur wat verhoed het dat die tempel – in Jesus se woorde – ‘n huis van gebed vir al die nasies” kon word (Markus 11:17).

Die sosiale implikasies van die manier hoe die Jode die wet onderhou het, het ‘n grens tussen die Jode en nie-Jode geskep. Hierdie grens het op vleeslike vlak vyandigheid en afkeur geword.

Christus se koms het die tyd van skeiding tussen die Jode en die nie-Jode tot ‘n einde gebring. Nie-Jode wat tot geloof in Christus kom, hoef nie eers die Joodse lewenswyse en wetsonderhouding oor te neem om volgelinge van Jesus te kan wees nie.

Hoewel gebooie en reëls soos die besnydenis, beperkings op dieet en Sabatte insigself goeie doelwitte mag hê, mag dit nie gebruik word om gelowiges van mekaar te skei nie:

  • Christus het die wet opgeskort in soverre die wet afgeskeidenheid en vyandigheid bevorder.
  • Christus wys diegene tereg wat die wet wil gebruik om skeiding te bring, en wat nie die nuwe era wat Christus ingelui het wil erken nie.
  • Christus se opheffing van die wet staan in diens van “die een nuwe mensheid (2:15) in plaas van twee.

Christus forseer nie Jode om nie-Jode te word, of nie-Jode om Jode te word nie. Christus laat ‘n kreatiewe en diverse verskeidenheid toe, terwyl Hy vir elke gelowige ‘n nuwe, primêre identiteit gee: die status dat ons almal saam “in Christus” is. Christus is ons vrede, Christus is die vredemaker tussen groepe gelowiges.

Vandag

Ons mag wonder wat het al hierdie woorde oor Jood en nie-Jood vandag met ons te doen?

Die punt is: Die eenheid tussen Jood en heiden in Christus vorm ‘n raamwerk – vandag nog – vir alle sosiale verhoudinge in die kerk van die Here.

Elke gemeente beskik oor binnekring en buitekring groepe, wie se verskille ‘n parallel is wat Jode en nie-Jode in die eerste eeu n.C. (Paulus se tyd) uitmekaar gehou het:

  • Sommige gelowiges voel heg gebonde aan die tradisies van die gemeente, ander nie;
  • Sommige gelowiges voel soos vreemdelinge tussen die ander gelowiges met hulle kulturele oortuigings en gewoontes;
  • Waar ouer gelowiges gemaklik is met ‘n erediens waar stilte en passiwiteit by die toehoorders heers, mag jonger ouers en kinders smag na deelname en die belewenis van hul gevoel oor geloof.  In Christus mag hierdie verskille nie lei tot skeiding in die erediens nie (kinderkerk versus grootmenskerk mag ‘n voorbeeld van skeiding wees wat die kerk se diepste identiteit uitmekaar skeur.);
  • Kulturele oortuigings kan lei tot “worship wars” wat ‘n wêreldoorlog na ‘n Sondagskoolpiekniek laat lyk;
  • Dink ook aan die grense van denominasie, nasionaliteit, ras, etnisiteit, klas, geslag en ander wat kompeteer met die gelowiges se primêre identiteit bedreig, naamlik dat ons een “in Christus” is.

Hierdie verskille, spanning en selfs vyandskap is teen Christus se bedoeling vir die kerk. Dit bots met ons identiteit. Dit hou dinge in stand wat Christus reeds tot niet gemaak het:

Deur sy dood aan die kruis het hy ‘n einde gemaak aan die vyandskap en dié twee met God versoen en tot een liggaam verenig (16).

Christus se boodskap

Toe Christus gekom het, sê vers 17, het hy die goeie boodskap van vrede gebring.

Dit is Christus se preek wat steeds voortgaan. Jesus preek vandag nog deur Woord en Gees: op grond van die versoening aan die kruis is daar eenheid tussen dié wat naby en dié wat ver is, die wat binne en die wat buite is. Christus gaan voort om ‘n lewe van versoening te verkondig, wat in sosiale verhoudinge gesien kan word.

Christus gaan voort om deur die Gees van Pinksterdag vrede in die kerk te verkondig. Teoloog Joel Kok skryf:

Having announced the kingdom of peace in his earthly ministry, accomplished it on the cross, and proclaimed it after his resurrection, Christ continues to preach peace in and through the church, which includes Jews and Gentiles, “for through him both of us have access in one Spirit to the Father” (2:18).

‘n Heilige tempel

In verse 19 – 22 beklemtoon Paulus weer eens die nie-Jode of heidene se volle insluiting in die huisgesin van God. Hy verryk dit met ‘n beeld van ‘n heilige tempel (woonplek van God) wat opgerig word op Jesus Christus as hoeksteen, met die getuienis van die apostels en profete oor Jesus as fondament (21).

Die gemeente is die woonplek of tempel van God. Hierdie tempel is heilig. Heilig beteken om afgesonder te wees vir ‘n spesiale verhouding met God en – veral – met ‘n spesiale doel in God se plan. Gelowiges groei as heilige tempel wanneer hulle toenemend God se genade ontdek, God se vrede beleef, en toenemend eenheid in Christus vertoon as God se doel met die hele wêreld.

Geen ingroei

Dit bring ons weer terug by die tema van die hele brief (1:9-10):
Hy het kragtens sy besluit en voorneme die geheimenis van sy wil aan ons bekend gemaak
en dit deur Christus tot uitvoering gebring op die tyd wat Hy daarvoor bepaal het.
Sy bedoeling was om alles wat in die hemel en alles wat op die aarde is,
onder een hoof te verenig,
naamlik onder Christus. (1:9-10)

Of gemeentes nuwe geboue oprig, kleingroepe vorm, basaar hou of eredienste beplan, dit gebeur maklik dat die gemeente opsigself ingekeer raak. Ons word dan bloot ‘n gemeente vir onsself, waarin die lede net hul eie gemak verseker.

Efesiërs 2:11-22 herinner ons dat alle gemeentelike aktiwiteit gerig moet wees op God se doel om alles en almal in die skepping onder Christus as hoof te verenig.

Ons teks fokus op hoe God se plan vir ‘n koninkryk van vrede ‘n werklikheid kan word waar strydende en vervreemde groepe mekaar in Christus vind. Hoe kan God se bedoelinge en menslike versoening alles begelei wat ons as gelowiges doen?

  • Wat sal gebeur as ons in ons huise etes hou en vreemdelinge en mense anders as onsself nooi om saam maaltye te geniet? Ons gemeenskaplike geloof in Christus te vier?
  • Wat sal gebeur as die gemeente haarself as ouers, of as oumas en oupas vir die kinders van die hele gemeenskap sien, en hulle innooi in ons eredienste om Christus te leer ken en te vier. En as dit nie altyd so stil en rustig in ons eredienste is nie – so what?
  • Wat sal gebeur as ons nie net sop uitdeel nie, maar werklik saam met noodlydendes eet? Hier is ‘n video van ‘n gemeente wat presies dit doen – kyk dit gerus in die erediens.

Op hierdie maniere kan gemeentes heilige tempels wees wat getuig van dié dag waar daar nie ‘n tempel in die stad sal wees nie, “want sy tempel is die Here God, die Almagtige, en die Lam.” (Openb. 21:22).

Wanneer ons hierdie gedeelte getrou verkondig, en na die boodskap luister en dit doen, kan versoende gelowiges gemeentes word wat “saam opgebou word as ‘n geestelike huis waarin God woon” (Efesiërs 2:22).

God stuur ons om te leef

Geloofsbelydenis
Deur Christus, met Christus en in Christus
bly u trou en liefde altyd by ons:
oorkom ons elke bedreiging.
Neem U beheer op elke kontinent;
word u gesag in elke landstreek erken.
Ons noem U:
ons Vader,
ons God,
ons rotsvaste uitkoms.
Deur Christus, met Christus en in Christus
stel U ons tot alles in staat,
word u liefde in ons
die invloedrykste mag op aarde (uit Ps 89:2-28).

Offergawes

Wegsending: Lied 478 “Op vaste fondamente vs 1,2,3,4”

Seën: Efesiërs 3
18Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. 19Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God.
Amen

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. “Laat Dit So Wees (Amen)”
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.