Negende Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Vandeesweek se tekste handel oor tydsberekening. Die volk se tyd is besig om uit te loop. Hulle moet hulle tot God bekeer en die naaste in haar nood raaksien. Die mense van die ou tyd (Heb) het aan God vasgehou en daarom was ook hul komende tye in die Here se hand. Die onsigbare dinge word ‘n sekerheid as ek (om)sien na my sigbare naaste se duidelike nood. God se trou is tydloos, maar dit beteken nie dat Hy slaap nie. Hy roep sy slapende volk tot verantwoording.

Ander tekste

Jesaja 1:1, 10-20
Net Sion het oorgebly
1 Die openbaring wat Jesaja seun van Amos ontvang het aangaande Juda en Jerusalem. Dit was in die regeringstyd van Ussia, Jotam, Agas en Hiskia, konings van Juda.

Leer om weer goed te doen
10Luister na die woord van die Here,
julle Sodomsleiers!
Gee ag op wat ons God julle leer,
julle Gomorrasvolk!
11Wat het Ek aan julle baie offers?
vra die Here.
Ek is sat van die brandoffers van ramme
en die vet van voerbeeste;
die bloed van bulle en lammers en bokke
staan My nie aan nie.
12As julle kom om voor My te verskyn,
wie het julle gevra om my voorhowe
te kom vertrap?
13Moenie langer julle
nuttelose offergawes bring nie:
Ek het ’n afsku van julle wierookoffers.
Nuwemaansfeeste, sabbatsvierings,
die uitroep van feesdae:
Ek verdra nie feesviering
met onreg saam nie.
14Julle nuwemaansfeeste en feesgetye
haat Ek.
Hulle is vir My ’n las,
Ek is moeg daarvoor.
15As julle julle hande in gebed uitstrek,
sal Ek my oë vir julle toemaak.
Selfs al bid julle hoe baie,
sal Ek nie luister nie,
want julle hande is met bloed bevlek.
16Was julle, reinig julle.
Moenie voor My verskyn
as julle verkeerd doen nie.
Hou op met kwaad doen.
17Leer om weer goed te doen,
sorg dat daar reg geskied,
gaan die verdrukker teë.
Laat reg geskied aan die weeskinders,
behartig die regsake van die weduwees.
18Kom tog, laat ons die saak
met mekaar uitmaak, sê die Here:
Al was julle skarlakenrooi van sonde,
julle sal wit word soos sneeu.
Al was julle purperrooi,
julle sal wit word soos wol.
19As julle gehoorsaam wil wees,
sal julle die goeie van die land eet,
20maar as julle weier en opstandig bly,
sal die swaard júlle eet,
want dit is die Here wat dit gesê het.

Psalm 50:1-8, 22-23
Hy wat reg lewe, vir hom sal Ek red

50 ’n Psalm van Asaf.
Die Here is God, Hy alleen is God.
Hy spreek, Hy roep die hele wêreld op,
van waar die son opkom
tot waar hy ondergaan.
2Uit Sion, stad van volmaakte prag,
verskyn God in glans.
3Ons God kom,
Hy bly nie stil nie.
Voor Hom uit brand ’n vuur,
rondom Hom woed ’n storm.
4Hy roep die hemel en die aarde op
vir die saak teen sy volk:
5“Maak bymekaar
dié wat aan My getrou is
en met ’n offer
’n verbond met My gesluit het.”
6Die hemel getuig: “God is regverdig,
en Hy is die regter.”
7“Luister, my volk,
Ek wil my saak stel,
Ek wil teen jou getuig, Israel.
Ek is God, Ek is jou God!
8Dit is nie omdat jy nie offer
dat Ek rekenskap van jou eis nie;
jou brandoffers is immers
gedurig voor My.

22Julle moet luister
na hierdie waarskuwing,
julle wat nie met God rekening hou nie,
anders verskeur Ek julle
sonder dat iemand kan red.
23“Die mens wat My eer,
is die een wat lof as ’n offer bring.
Hy wat reg lewe, vir hom sal Ek red.”

Lukas 12: 32-40
Die sorge van die lewe
(Matt 6:25–34; 6:19–21)
22Verder het Jesus vir sy dissipels gesê: “Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie. 23Die lewe is tog belangriker as kos en die liggaam as klere. 24Kyk na die kraaie: hulle saai nie en oes nie; hulle het geen spens of skuur nie, maar God sorg vir hulle. Julle is tog baie meer werd as voëls. 25Trouens, wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een uur verleng? 26As julle nie eens so ’n klein dingetjie kan regkry nie, waarom bekommer julle julle oor die ander dinge?

27“Kyk hoe groei die lelies: hulle swoeg nie en hulle maak nie klere nie, maar Ek sê vir julle: Selfs Salomo in al sy prag was nie geklee soos een van hulle nie. 28As God die gras van die veld, wat vandag nog daar is en môre in die vuur gegooi word, só mooi maak, hoeveel te meer sal Hy julle versorg, julle kleingelowiges! 29Julle moet julle ook nie gedurig afvra wat julle gaan eet of drink nie, en julle moenie besorg wees nie. 30Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges in die wêreld begaan is, maar julle het ’n Vader wat weet dat julle dit nodig het. 31Beywer julle vir sy koninkryk, dan sal Hy julle ook hierdie dinge gee.

32“Moenie bang wees nie, klein kuddetjie, want dit was die wil van julle Vader om die koninkryk aan julle te gee.

33“Verkoop julle besittings en gee bydraes vir die armes. Skaf vir julle ’n beurs aan wat nie leeg raak nie, ’n onuitputlike rykdom in die hemel, waar geen dief dit kan bykom en geen mot dit kan verniel nie. 34Waar julle skat, is daar sal julle hart ook wees.”

Die gelykenis van die waaksame slaaf
(Matt 24:45–51; vgl Mark 13:33–37)
35“Wees gereed, die heupe omgord en die lampe aan die brand! 36Julle moet wees soos mense wat vir hulle eienaar wag tot hy van die bruilof af terugkom, sodat hulle dadelik vir hom kan oopmaak as hy kom en aanklop. 37Gelukkig is die slawe vir wie die eienaar by sy koms wakker sal aantref. Dit verseker Ek julle: Hy sal hulle aan tafel laat sit, self ’n voorskoot aansit en hulle kom bedien. 38Gelukkig is die slawe wat hy wakker aantref, selfs al sou hy eers om middernag of met hanekraai kom. 39Maar dit moet julle weet: as die huiseienaar geweet het hoe laat die dief kom, sou hy hom nie in sy huis laat inbreek het nie. 40 Ook julle moet gereed wees, want die Seun van die mens kom op ’n tyd wanneer julle Hom nie verwag nie.”

41Toe vra Petrus: “Here, is hierdie gelykenis net vir ons bedoel of vir almal?”
42En die Here antwoord: “Wie is eintlik die getroue en verstandige bestuurder vir wie die eienaar oor sy ander slawe sal aanstel om hulle op tyd hulle kos te gee? 43Dit is die man vir wie sy eienaar, by sy tuiskoms, so aan die werk sal kry. Gelukkig is hy! 44Ek sê vir julle die waarheid: Sy eienaar sal hom aanstel oor alles wat hy besit.

45“Maar as die slaaf by homself sê: ‘My eienaar draai lank om te kom,’ en hy die slawe, mans en vroue, begin slaan, terwyl hy self eet en drink en dronk word, 46sal die eienaar van die slaaf kom op ’n dag dat hy dit nie verwag nie, en op ’n uur wat hy nie vooraf weet nie. Dan sal sy eienaar hom laat doodmaak, en hom die lot van ontroues laat deel.

47“Die slaaf wat geweet het wat sy eienaar wil hê maar wat nie gereed gemaak of volgens die wil van sy eienaar gehandel het nie, sal ’n swaar straf kry. 48Maar hy wat nie geweet het nie en dinge gedoen het wat straf verdien, sal ’n ligte straf kry. Van elkeen aan wie baie gegee is, sal baie geëis word; en van hom aan wie baie toevertrou is, sal meer gevra word.”

Fokusteks

Hebreërs 11:1-3, 8-16
Wat geloof is
11 Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie. 2Dit is immers vanweë hulle geloof dat daar oor die mense van die ou tyd met soveel lof getuig is.

3Omdat ons glo, weet ons dat die wêreld deur die woord van God geskep is; die sigbare dinge het dus nie ontstaan uit iets wat ons sien nie.

4Omdat Abel geglo het, het hy ‘n beter offer aan God gebring as Kain. Vanweë Abel se geloof het hy van God bevestiging ontvang dat hy ‘n opregte man is, want God het sy offers aangeneem; en deur dieselfde geloof spreek hy nou nog, al is hy reeds dood.

5Omdat Henog geglo het, is hy weggeneem sonder dat hy gesterf het, en hy was nêrens te vind nie, omdat God hom weggeneem het. Van hom word getuig dat hy, voordat hy weggeneem is, geleef het soos God dit wou. 6As ‘n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon.

7Omdat Noag geglo het, het hy God eerbiedig gehoorsaam toe hy gewaarsku is oor dinge wat nog nie gesien kon word nie. Daarom het hy die ark gebou om sy huisgesin te red. Sy geloof was ‘n veroordeling van die wêreld, maar dit het hom erfgenaam gemaak van die vryspraak wat deur die geloof kom.

8Omdat Abraham geglo het, het hy gehoor gegee toe God hom geroep het om weg te trek na die plek toe wat hy as erfdeel sou ontvang. Hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou uitkom. 9Omdat hy geglo het, het hy in die beloofde land gaan woon, ‘n vreemdeling in ‘n vreemde land. In tente het hy daar gewoon, en so ook Isak en Jakob wat saam met hom erfgename van dieselfde belofte was, 10want hy het uitgesien na die stad wat vaste fondamente het en waarvan God self die ontwerper en bouer is.

11Omdat Abraham geglo het, het hy, hoewel Sara onvrugbaar was en hy al te oud, krag ontvang om ‘n kind te verwek, omdat hy God wat dit beloof het, getrou geag het. 12Die gevolg was dat daar van een man, ‘n man wat nie meer ‘n kind kon verwek nie, kinders afgestam het so talryk soos die sterre van die hemelruim en so baie soos die sand van die see.

13Terwyl hulle steeds geglo het, het al hierdie mense gesterwe sonder om te verkry wat beloof is, maar hulle het dit uit die verte gesien en daaroor gejuig, en hulle het erken dat hulle hier op aarde slegs vreemdelinge en bywoners is. 14Mense wat so praat, gee daarmee duidelik te kenne dat hulle op soek is na ‘n vaderland. 15As hulle terug verlang het na daardie land waaruit hulle weggetrek het, sou hulle die geleentheid gehad het om daarheen terug te gaan. 16Maar hulle het na ‘n beter vaderland, dit is die hemelse, verlang. Daarom is God nie skaam om hulle God genoem te word nie; trouens, Hy het vir hulle ‘n stad gereed gemaak.

17–18Omdat Abraham geglo het, het hy, toe hy op die proef gestel is, Isak as offer afgestaan. Ja, hy wat die belofte ontvang het en aan wie gesê is: “Uit Isak sal jou nageslag gebore word,”  het gereed gestaan om sy enigste seun te offer. 19Hy was daarvan oortuig dat God by magte is om uit die dood op te wek, waaruit Abraham vir Isak ook, om dit so te stel, terug ontvang het.

20Omdat Isak geglo het, het hy Jakob en Esau geseën met die oog op die toekoms.

21Omdat Jakob geglo het, het hy op sy sterfbed albei die seuns van Josef geseën en tot God gebid terwyl hy op die knop van sy kierie leun.

22Omdat Josef geglo het, het hy kort voor sy dood melding gemaak van die uittog van die Israeliete en opdrag gegee in verband met sy liggaam.

23Omdat die ouers van Moses geglo het, het hulle hom na sy geboorte drie maande lank weggesteek toe hulle sien dat hy ‘n mooi kindjie is. Hulle was nie bang vir die bevel van die koning nie.

24Omdat Moses geglo het, het hy toe hy groot geword het, geweier om die seun genoem te word van die farao se dogter. 25Hy het verkies om liewer sleg behandel te word saam met die volk van God as om die kortstondige genieting van sonde te hê. 26Die smaad ter wille van die Christus het hy ‘n groter rykdom geag as die skatte van Egipte, omdat hy na die beloning uitgesien het.

27Omdat hy geglo het, het hy Egipte verlaat sonder dat hy vir die woede van die koning bang was. Hy het volhard soos iemand wat die onsienlike God sien.

28Omdat hy geglo het, het hy die pasga ingestel en die bloed aan die deurkosyne laat smeer sodat die engel van die dood nie die eersgeborenes van Israel sou tref nie.

29Omdat die Israeliete geglo het, het hulle deur die Rooisee getrek soos oor droë grond, terwyl die Egiptenaars verdrink het toe hulle dit ook probeer doen het.

30Omdat die Israeliete geglo het, het die mure van Jerigo geval nadat hulle sewe dae daaromheen getrek het.

31Omdat Ragab, die prostituut, geglo het, het sy die verkenners vriendelik ontvang en het sy nie omgekom saam met dié wat aan God ongehoorsaam was nie.

32En wat moet ek nog meer sê? Die tyd ontbreek my om te vertel van Gideon, Barak, Simson en Jefta, van Dawid, Samuel en die profete. 33Deur die geloof het hulle koninkryke verower, die reg van God gehandhaaf en verkry wat God beloof het; hulle het leeus se bekke toegestop, 34gloeiende vuur geblus en aan die swaard ontkom; hulle het in swakheid krag ontvang, was sterk in oorlog en het die leërs van vreemdes op die vlug gejaag. 35Vroue het hulle dooies teruggekry, opgewek uit die dood. Ander gelowiges wou nie die prys vir hulle eie vrylating betaal nie en is doodgemartel; hulle wou die opstanding tot ‘n beter lewe deelagtig word. 36Ander weer het bespotting en lyfstraf verduur, selfs boeie en gevangenskap. 37Gelowiges is met klippe doodgegooi, in stukke gesaag, met die swaard vermoor. Hulle het rondgeswerf in skaapvelle en in bokvelle. Hulle het gebrek gely, is verdruk en mishandel. 38Die wêreld was hulle nie werd nie; hulle het rondgeswerf in woestyne en op berge en het in grotte en in gate in die grond gelewe.

39En hoewel daar oor hulle almal vanweë hulle geloof met soveel lof getuig is, het hulle nie verkry wat beloof is nie, 40omdat God vir ons iets beters beoog het, sodat hulle nie sonder ons die voleinding sou bereik nie.

Die oog moet op Jesus gevestig wees.
12 Terwyl ons dan so ‘n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, 2die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God. 3Hou Hom voor oë wat so ‘n vyandige optrede van die sondaars teen Hom verdra het. Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie.

Ekstra stof

Inleiding op Hebreërs
Die brief is gerig aan huisgemeentes in Italië
Die brief-boodskap aan die Hebreërs word geskrywe aan huisgemeentes in ‘n stad in Italië, waarskynlik Rome.  Dit is ‘n “Boodskap van aansporing” of ‘n “Boodskap van bemoediging” (hfst. 13:22) aan ‘n diverse groep gelowiges wat onder baie druk verkeer.

Hierdie gelowiges het tot bekering gekom deur die werk van eerstehandse getuies van die boodskap van Jesus (hfst. 2:3;13:7).  Hulle was veral Jode (vgl. die titel: “Aan die Hebreërs“, hoewel dit eers later bygevoeg is), goed bekend met die Joodse geloof en tradisies, maar het waarskynlik ook gelowiges uit die heidene in hulle geledere gehad (“dié wat van Italië is” – hfst. 13:24).

Die sestiger- of sewentigerjare van die eerste eeu is die mees waarskynlike tyd vir die brief, hoewel dit nie meer presies gedateer kan word nie.  Teen die middel negentigs haal Klemens van Rome al uit die brief aan, so dit moes voor daardie tyd geskryf gewees het.

Die gelowiges het traag geword om te luister weens teenstand
Hoewel hierdie gelowiges die verligting van die Heilige Gees en die “goeie woord van God gesmaak het” (hfst. 6:4-5), het hulle ironies genoeg “traag geword om te luister” (hfst. 5:11) en onder andere ‘n “behoefte aan melk en nie vaste kos nie” (hfst. 5:12) gehad.

Hoekom?  Dit is duidelik dat hulle baie teenstand in die gemeenskap ervaar het: ‘n “geweldige stryd van lyding“.  Hulle is nie net “deur beledigings en verdrukking openlik bespotlik gemaak” nie, maar daar is ook vroeër op hulle besittings beslag gelê (hfst. 10:32-36 – keiser Claudius het in 49 n.C. Joodse Christene uit Rome verdryf).  Baie van die gelowiges het dus die gevaar geloop om weens hierdie volgehoue druk uit die publieke gemeenskap van die geloof en die geloofsgemeenskap afvallig te raak.

Een van hulle geestelike leiers bemoedig hulle met die skrywe
Die skrywer, wat een van hulle eie leiers was (vgl. die “ons” in hfst. 13:17-19 en dat hy binnekort na hulle teruggebring wil word), kom sy pastorale en geestelike verantwoordelikheid teenoor hulle na met dié brief-boodskap, soos dit uit die slotgedeelte blyk (“aanvaar hierdie boodskap van aansporing, want ek het maar kortliks vir julle geskryf” – hfst. 13:22).  Dit is egter só goed saamgestel dat dit eintlik die karakter van ‘n goed uitgewerkte preek of selfs teologiese bydrae aanneem.

Nie dat ons weet wie dié skrywer-prediker was nie of waar hy op dié stadium was nie.  Dit kon nie Paulus gewees het nie, hoewel die skrywer wel met Paulus se werkkring bekend was.  Hy ken bv. vir Timoteus (hfst. 13:23).  Benewens die feit dat Paulus nie ‘n leier van een van die gemeentes in Rome/Italië was nie, verskil die taal, woordeskat, styl en teologiese beklemtonings van hierdie brief net te veel met dié van Paulus se ander briewe.  Dit bevat bv. van die beste Grieks in die hele NT en het 169 woorde wat nét hier in die NT voorkom (Lane, Word kommentaar). Hy haal ook meer letterlik uit die OT (LXX – Griekse vertaling) aan as wat Paulus doen.  Die skrywer het verder volgens eie getuienis nie eerstehands na die Here Jesus geluister nie (hfst. 2:3) waarvan Paulus wel getuig het (Gal. 1:11-17).

Die name van onder andere Barnabas, Apollos (Luther se voorkeur), en Silvanus (Paulus se medewerker) word deur van die ou kerkvaders en geleerdes deur die eeue voorgestel as skrywers, maar geen historiese sekerheid is daaroor moontlik nie.  Sommige stel ook Paulus se medewerker Priscilla voor (Hand 18; Rom 16:13; 1 Kor. 16:19; 2 Tim. 4:19 – in die laaste drie tekste word sy eintlik Prisca genoem; Priscilla was ‘n verkleinwoord van haar naam).  Maar, volgens hfst. 11:32 was die skrywer manlik, afgelei uit die manlike vorm van die deelwoord: “om te vertel” in Grieks wat na die skrywer verwys.

Moenie vasgevang word deur buitengewone of basiese dinge, ook nie deur Joodse gebruike nie
Hoe dit ook al sy, uit hierdie skrywer se boodskap blyk dit dat sommige van die gemeentelede hulle toevlug begin soek het in óf:

  • buitengewone ervarings, waarskynlik in hulle geval veral rondom die verering van engele – daarom die beklemtoning van Jesus se uitsonderlike posisie “hoog bo die engele verhef“. Hy is immers nie een van hulle nie, maar een met God: “U troon, o God, is vir ewig en ewig.” (hfst. 1-2);
  • die grondbeginsels van die Christelike prediking: die basiese dinge, ironies genoeg hier as “melk” beskryf – daarom die afwysing van ‘n vassteek by bv. dinge soos die doop en handoplegging, en die aanmoediging om eerder op geestelike volwassenheid in terme van leer en lewe te fokus (hfst. 6), d.w.s. “vaste kos“;
  • die Joodse gebruike van die wet – daarom die afwysing van bv. die reinigingsrites en reëls rondom kos en drank en die aanmoediging om eerder op die lewende verhouding met God te fokus (hfst. 9-10; 13:9).

Moenie afvallig word nie
Die grootste probleem was egter dat sommige van hulle doodgewoon afvallig begin word het, en in ongeloof (hfst. 3:12 – “‘n bose hart van ongeloof“), sonde (hfst. 3:13), ongasvryheid (hfst. 13:2), seksuele wanpraktyke (hfst. 13:4), geldgierigheid (hfst. 13:5), en nog allerlei vreemde leringe (hfst. 13:9) verval het.  Hierdie mense het daarom hulle leiers teengestaan (hfst. 13:7,17) en onbarmhartig teenoor die wyer gemeenskap geraak (hfst. 13:16).

Fokus op God se werk in julle lewe
Daarom lê die skrywer van Hebreërs daarop klem dat hulle weer die werk van God in hulle lewe moet erken:

  • die lewende verhouding met Jesus Christus, die Leidsman en Voleinder van die geloof (hfst. 1:2; 2:1; 10:19-22; 12:2),
  • die dinamiese werk van die Heilige Gees (hfst. 2:4; 3:7),
  • die krag van die Woord van God (hfst. 4:12),
  • die aanmoediging van hulle onderlinge byeenkomste (hfst. 10:23-25), en
  • die inspirasie van hulle onderlinge aansporing (hfst. 3:13: “elke dag“!; 12:14-17; 13:1-6), sowel as
  • die boodskap en werk van hulle leiers (hfst. 13:7-9,17).

Dít is die dinge waarop elke gelowige in hierdie gemeente moet fokus, sê die skrywer.  Daarin lê die krag van God opgesluit.  Daardeur word sy krag in hulle lewe oopgesluit. Dit is die geloofsbeginsels waaraan hulle hul moet hou.

Luister na die Skrif en die prediking
Met talle aanhalings en voorbeelde uit die skat van die Ou Testament boodskap – ‘n boodskap waarmee hulle duidelik bekend was – begrond die skrywer sy boodskap en bemoedig hulle met die evangelie van Jesus as die Leidsman van ons verlossing sowel as die Apostel en Hoëpriester van ons belydenis.  Daarmee word hulle aan die Skrif verbind soos dit deur die prediking aan hulle voorgehou word.

Hulle word opgeroep om almal saam te waak daarteen dat geeneen van hulle van die lewende God afvallig word nie.  Hulle moet styf vashou aan hulle belydenis en hulle verlossing – leer en lewe – en voortdurend met vrymoedigheid in gebed die troon van genade nader.

Fokus op geestelike volwassenheid
Hulle word dus opgeroep tot geestelike volwassenheid, om nie langer te fokus op die eerste beginsels van die geloof in Christus nie – “die bekering van dooie werke, van geloof in God, van dooponderrig, oplegging van hande, opstanding uit die dood en van ewige oordeel” (hfst. 6:1-3) – maar die wedloop wat vir hulle voorlê met volharding te hardloop, hul oog gevestig op Jesus die Leidsman en Voleinder van hulle geloof (hfst. 12:1-2).  Gasvryheid, meelewendheid, mededeelsaamheid, gehoorsaamheid en onderlinge onderdanigheid moet hulle gemeentelike lewe kenmerk. God belowe immers dat Hy hulle sal toerus met alles wat goed is, sodat hulle sy wil kan doen (hfst. 13).

Hebreërs 11 – Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag
Dit is só belangrik om hoofstuk 11 in konteks te lees.

  • In die vorige hoofstuk het die skrywer die geloofsgemeenskap in Rome aangemoedig om met vrymoedigheid in God se teenwoordigheid te leef (10:19-22).
  • Hy het hulle aangespoor tot liefde en goeie dade terwyl hulle met volharding God se wil soek en doen (10:23-25, 35-36).

Nou wil hy hulle in hoofstuk 11 verder inspireer deur ‘n wye reeks van voorbeelde van geloofsvolharding, sodat hy dit as deel van sy appèl kan gebruik dat hulle die wedloop wat vir hulle voorlê met volharding kan hardloop (12:1-3).  “Dit is immers vanweë hulle geloof dat daar met lof aangaande die mense van ouds getuig is.” (11:2; vgl. ook vers 39).

Hy doen dit as volg:

  • Inleiding oor geloofsvertroue – 11:1-3
  • Geloofsvoorbeelde uit die oertyd – 11:4-7
  • Geloofsvoorbeelde uit die aartsvadertyd – 11:8-23
  • Geloofsvoorbeelde uit die Eksodus- en Intogtyd – 11:24-31
  • Geloofsvoorbeelde uit die Rigters- en Koningstyd – 11:32-38
  • Gevolgtrekking oor geloofsvolharding – 11:39-40

11:1-3 – Inleiding oor geloofsvertroue
Die definisie van geloof waarmee die skrywer begin, eintlik die enigste definisie van sy soort in die NT, is in die lig van hoofstuk 10 se boodskap nie ‘n abstrakte teoretiese beskrywing van geloof nie.  Dit beskryf heel konkreet die ingesteldheid, die aktiewe geloof en vertroue, waarmee hierdie wedloop wat vir die geloofsgemeenskap voorlê, gehardloop word.  In ‘n sekere sin is dié geloof ‘n ander manier om die vrymoedigheid te beskryf waarmee hulle teenoor God en teenoor mense kan optree, soos in die vorige hoofstuk beskryf is.

Die skrywer gebruik die Griekse woord pistis altesaam 24 keer (ook 1 keer die werkwoord van dieselfde woord in vers 6) regdeur hoofstuk 11 in hierdie aktiewe betekenis, d.w.s. in die sin van geloof of vertroue (faith of faithfulness – 11:1, 3, 4, 5, 6, 7[2x], 8, 9, 11, 13, 17, 20, 21, 22, 23, 24, 27, 28, 29, 30, 33, 39).

Hy onderskei hierdie tipe geloof dus van geloof in terme van sy inhoud (belief), ‘n betekenis wat hy wel in hfst. 12:2 sal inspan: “Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof” (let op die bepaalde lidwoord die), en ook op verskeie ander plekke in die NT gedoen word (vgl. bv. Gal. 2:16,20; 3:22 – “geloof in Christus Jesus” wat ook as “geloof van Christus Jesus” uitgelê kan word).

Vers 1 lui hierdie aktiewe betekenis van geloofsvertroue in wat in die res van die hoofstuk met die verdere geloofsverhale geïllustreer sal word: “Geloof is sekerheid van die dinge wat gehoop word; ‘n bewys van dinge wat nie gesien word nie.”  Let op hoe dié geloof vasgryp aan die toekomstige en onsigbare beloftes van God as ‘n realiteit.  Dit is sekerheid van die dinge wat gehoop word; dit is ‘n bewys van die dinge wat nie gesien word nie.

Dit beteken hierdie tipe geloof is die vertroue op God se beloftes as ‘n werklikheid, iets wat in en deur geloof as vas en seker geag word.  Hierdie geloof reken die beloftes van God as ‘n realiteit, al lê die verwerkliking daarvan nog in die toekoms en al kan dit nie met die sintuie waargeneem word nie.  Hierdie tipe geloof sê: God se beloftes is vas en seker.  Dit is konkreet en werklik, al kan ons dit nog nie nou al sien nie.

Die rede hoekom ‘n mens dít van God se beloftes kan glo, word dan deur die skrywer begrond in twee getuienisse uit die verlede: 1) die verhale van die geloofsgetuies (11:2) en 2) die skepping van die wêreld deur die woord van God – ex nihilo – uit niks uit nie (11:3).  Dié verhale uit die verlede gee aan geloof sy toekomsgerigte karakter.  Soos God Homself in die verlede bewys het in die geloofsgemeenskap sowel as in die skepping, só kan Hy vertrou word om ook in die toekoms op te tree en sy beloftes waar te maak.

11:4-7 – Geloofsvoorbeelde uit die oertyd
Dit is met dié tipe geloof, ‘n geloof wat die toekoms tegemoetgaan op grond van God se woord gerugsteun deur sy beloftes, dat die geloofsgemeenskap moet lewe. Hoekom?  Die skrywer is duidelik daaroor: “Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag: Want wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié beloon wat hom soek.” (11:6).

Hy gebruik drie verhale uit die oertyd as geloofsvoorbeelde: Abel (Gen. 4), Henog (Gen. 5) en Noag (Gen. 6-9).

Hoekom Abel ‘n beter offer as Kain aan God gebring word, word nie uitgespel nie, behalwe die feit dat God oor sy gawes getuienis gelewer het deur Hom as regverdig te verklaar.  Jesus het ook van Abel se vroomheid en onskuld gepraat, maar sonder om dit aan sy offer te verbind (Matt. 23:35).  Die skrywer sal later ‘n vergelyking tref tussen Abel en Jesus.  Waar Abel se bloed om vergelding geroep het (Gen. 4:10), roep die bloed van Jesus egter om versoening vir elkeen wat daarmee besprinkel is (hfst. 12:24).

Die skrywer sluit aan by wat van Henog in die OT gesê word dat hy “naby God” geleef het (Gen. 5:22) en beskryf hom as iemand wat deur geloof “God behaag het“.  Om die waarheid te sê, sê die skrywer, “deur geloof is Henog weggeneem, sodat hy nie die dood gesien het nie“.  Hy was dus in terme van Hebreërs se uitleg van geloof in vers 1, só seker van God se beloftes dat hy die werklikheid in hierdie lewe kon belewe!  Judas, die broer van Jesus, noem Henog ook ‘n profeet wat oor die toekoms wat God bring, getuig het (Jud. 14).

Waar in Abel en Henog se geval hulle verhouding met God in die kollig was, getuig Noag se voorbeeld van die feit dat hy God se woord nie net gehoor het nie, maar daaraan gehoorsaam was: “oor dit wat nog glad nie gesien is nie“!  Hy het daarom die ark gebou wat die redding van sy huis beteken het en “‘n erfgenaam geword het van die regverdiging (of vryspraak) volgens geloof“.  Die keersy daarvan was dat dit die wêreld van daardie tyd vir hulle gebrek aan geloof en vertroue op God veroordeel het.

11:8-23 – Geloofsvoorbeelde uit die aartsvadertyd
Hy vervolg met vyf verhale uit die aartsvadertyd: Abraham en Sara (Gen. 12-25), Isak (Gen. 21-27), Jakob (Gen. 25-49), en Josef (Gen. 37-50).

Dieselfde tema van geloofsgehoorsaamheid en -vertroue wat met Noag aan die orde gestel is, word nou in die verhale van hierdie aartsvaders en –moeders nagevolg.

Abraham se geloofsgehoorsaamheid toe hy geroep is om te trek na ‘n plek wat hy as erflating sou ontvang, en sy verblyf as bywoner in dié land, word geprys.  ‘n Bietjie meer inligting word gegee oor sy motivering: “Want hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die argitek en boumeester is.”  Daarmee word sy roeping verbind nie net aan die fisiese land waarheen hy getrek het nie, maar aan die toekomstige Jerusalem wat God as deel van sy koninkryk sal oprig.  Dit gee waarskynlik ook meer detail oor die “sabbatsrus” wat vir die volk van God aan die einde van die tyd voorlê, soos die skrywer in hfst. 5:9 in die vooruitsig gestel het.

Sara se geloofsvertroue op God: “aangesien sy Hom wat dit belowe het, getrou geag het,” word geprys.  Die gevolg daarvan was ‘n nageslag “in getal so veel soos die sterre van die hemel en soos die ontelbare sandkorrels op die strand by die see“.  Sy het deur geloof as’t ware lewe gegee aan Abraham “wat so te sê dood was“!

Die skrywer onderbreek sy vertelling om ‘n gevolgtrekking te maak, gebore uit die feit dat elkeen van dié geloofsgetuies gesterf het, sonder dat hulle die volle werklikheid van die beloftes ontvang het.  “Maar hulle het dit van ver afgesien en verwelkom, en bely dat hulle vreemdelinge en bywoners op die aarde is.”

Die beloftes het dus ‘n hunkering in hulle wakker gemaak na ‘n beter bedeling, ‘n hemelse een.  Die land en nageslag van Israel kon nie vir Abraham of Sara volle genoegdoening gee nie.  Net God en die stad wat Hy vir hulle voorberei, kon dit doen.  Om daardie rede is God nie skaam om hulle God genoem te word nie en hulle in te nooi in die stad wat Hy vir hulle voorberei.

Die skrywer vervolg met die verhaal van Abraham waar hy bereid was om die beloofde nageslag, Isak, op te offer in sy gehoorsaamheid aan God se opdrag.  Hoekom?  “Omdat hy gereken het dat God die mag het om ook uit die dood op te wek“!

Abraham het daarom die wonder beleef dat God vir Isak as’t ware uit die dood uit vir hom teruggegee het, ‘n ervaring wat die opstanding van Jesus Christus uit die dood uit voorafgeskadu het.

In drie verdere kort verse word Isak en Jakob se seën van hulle seuns met die oog op die toekoms aangeraak, sowel as Josef wat van die Eksodus onder leiding van Moses melding gemaak het, ‘n goeie vierhonderd jaar daarvoor.  Die toekomstige en onsigbare karakter van dié dinge waaraan geloof vasgryp, word dus onomwonde geïllustreer in hulle verhale.  Hulle het die toekoms as werklikheid gereken.

11:24-31 – Geloofsvoorbeelde uit die Eksodus- en Intogtyd
Die skrywer kies vier verhale uit die Eksodus- en Intogtyd, die verhale van die ouers van die onvergelyklike leier Moses, uiteraard Moses self (Eksodus, Levitikus, Numeri en Deuteronomium), die volk in Josua se tyd met die oorwinning oor Jerigo, en dan die ewe onvergelyklike vrou Ragab uit dieselfde verhaal (Josua 2 en 6).  Interessant genoeg word Josua nie genoem nie.

Moses se ouers, Amram en Jogebed (Amram se tante volgens Eks. 6:19), albei uit die stam van Levi, deel van die Kehat-groep, het Moses in vertroue op God drie maande lank weggesteek, nie net omdat hulle gesien het dat hy mooi is nie – watter ouer sou dit nou nie gedink het van sy pasgebore kind nie – maar omdat “hulle nie vir die koning se bevel bang was nie“!

Moses het op sy beurt deur geloof in God die moeiliker pad gekies om hom eerder by die volk van God te skaar as by die Egiptenare, ‘n moontlikheid wat vir hom beskore was as aangenome seun van die farao se dogter.  Hy het eerder verkies “om saam met die volk van God sleg behandel te word as om die kortstondige genot van sonde te beleef“.  Die skrywer lê dit verder retrospektief uit as die keuse vir die smaad van Christus eerder as die keuse vir die skatte van Egipte.

Daarom kon Moses Egipte: “verlaat sonder om bang te wees vir die woede van die koning, want hy het volhard soos een wat Hom, die Onsienlike, sien.” Hier is ‘n mens op heilige grond, want die skrywer reken dat Moses in geloof aan Christus vasgegryp het, sonder dat hy Hom kon sien.

Hy brei verder uit op die instelling van die Pasga – waarop die nagmaal natuurlik geskoei is – as geloofsdaad waarvan die bloed aan die deurkosyne hulle eersgeborenes van die doodsengel beskerm het, sowel as op die trek deur die Rooisee.

Laastens noem hy die geloof van die volk sowel as geloof van die prostituut Ragab met die val van die mure van Jerigo in vertroue op God.  Ragab het deur geloof nie saam met die ongehoorsames omgekom nie, “omdat sy die spioene in vrede ontvang het” (vgl. ook Jak. 2:25).  Sy trou natuurlik uiteindelik met Salmon by wie sy ‘n seun Boas gehad het, wat met die Moabiet Rut getrou het uit wie Obed gebore is, die pa van Isaï, die pa van koning Dawid.  Ragab, die oumagrootjie van Dawid se pa se geloof het haar dus ingeskryf in die geslagsregister van Jesus (Matt. 1:5).  Dawid was haar agter-agter-kleinkind.

11:32-38 – Geloofsvoorbeelde uit die Rigters- en Koningstyd
Die skrywer was nou besig om deur die OT verhale te werk om nog illustrasies te gee van geloofsvertroue en gehoorsaamheid aan God.  Hy besef egter dat die tyd hom gaan ontbreek om al die stories van die helde uit die Rigtertyd (Gideon, Barak, Simson, Jefta) en uit die Koningstyd (Dawid, Samuel en die profete) te vertel.  Hy som dit daarom op deur te wys daarop dat dié ses geloofshelde eintlik net ‘n illustrasie is van ‘n hele aantal geloofshelde wat oorwinnings behaal het:

  • deur geloof koninkryke verower het“,
  • gedoen het wat reg is“,
  • beloftes verkry het“,
  • die bekke van leeus toegestop het“,
  • geweld van vuur geblus het“,
  • die skerpte van die swaard ontvlug het“,
  • krag ontvang het in swakheid“,
  • magtig geword het in oorlogvoering” en “slagordes van vreemdes afgeweer het“.
  • Ook “vroue het hulle dooies deur opstanding terugontvang“.

Hier verwys hy natuurlik na meer mense as net die ses name wat hy aanhaal, onder andere twee verwysings na Daniël en sy drie vriende, Sadrag, Mesag en Abednego, sowel as een na die Sunemmitiese vrou in die tyd van Elisa wat haar seun uit die dood uit terugontvang het (2 Kon. 4).

Midde-in vers 35 verander die karakter van die geloofsverhale na dié verhale waarin die geloofshelde eintlik op die oog af die onderspit gedelf het:

  • Sommige “is gemartel toe hulle nie die vrylating wou aanvaar nie, sodat hulle ‘n beter opstanding kon verkry“.
  • Nog ander “het die toets van bespotting en slae verduur, en boonop van boeie en gevangenskap“.
  • Nog ander “is gestenig, middeldeur gesaag; deur teregstelling met die swaard het hulle gesterf“.
  • Nog ander het “in skaapvelle geswerf, in bokvelle, behoeftig, verdruk, mishandel“.

Kortom: “die wêreld was hulle nie werd nie – terwyl hulle in verlate plekke en oor berge rondgeswerf het, en in grotte en in gate in die grond.

11:39-40 – Gevolgtrekking oor geloofsvolharding
Die skrywer sluit hierdie illustrasies van geloofsvertroue af met die veelseggende stelling dat al dié helde oor wie se geloof daar met soveel lof getuig kan word, tog nie ooit die belofte van God – hier moet ‘n mens veral dink aan die belofte van die ewige erfenis, die sabbatsrus van God – volledig in besit geneem het nie.  Hoekom?  “Sodat hulle nie sonder ons volmaak sou word nie.

Boodskap
Die skrywer inspireer ons met die reeks van geloofshelde wat hulle lewens aan God toevertrou het, Hom gehoorsaam het en in geloof volhard het.  Hy nooi ons uit om in geloofsvertroue ons eie pad met God te loop deur vas te gryp aan die toekomstige en onsigbare beloftes van God as ‘n realiteit.  Geloof is immers sekerheid van die dinge wat gehoop word; geloof is ‘n bewys van die dinge wat nie gesien word nie.

Hierdie tipe geloof sien God se beloftes as ‘n werklikheid, iets wat in en deur geloof as vas en seker geag kan word, al lê die verwerkliking daarvan nog in die toekoms en al kan dit nie met die sintuie waargeneem word nie.  Hierdie tipe geloof sê: God se beloftes is vas en seker.  Dit is konkreet en werklik, al kan ons dit nog nie nou al sien nie.

Die tafel is nou gedek vir die oproep van hoofstuk 12 om die wedloop wat voor ons lê met volharding te hardloop, om ons fokus volledig te stel op die ewige erfenis, die sabbatsrus van God.  Niks moet in ons pad kom om dié doelwit van ons lewens te bereik nie.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 526 “Waar daar liefde is 1″ (+ latyn)

Aanvangswoord: Psalm 50

Seëngroet: Galasiërs 1:3-5

Sang 107 “Die mense wat behou is 1, 2, 10″

Verootmoediging: Die risiko van vormgodsdiens

Inleiding

Skriflesing: Jesaja 1

Skuldbelydenis

Vryspraak: Hosea 11

Geloofsbelydenis: (Kort)

Lied 525 “Here hoe blymoedig vs 1,2,3″

Epiklese

Skriflesing: Hebreërs 11:1-16

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 489 “Waak, Christen staan in die geloof vs 1,2,3″

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
of

Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 526 “Waar daar liefde is 1″ (+ latyn)

Aanvangswoord:  Psalm 50
Die Here is God, Hy alleen is God.
Hy spreek, Hy roep die hele wêreld op,
van waar die son opkom
tot waar hy ondergaan.

Seëngroet: Galasiërs 1:3-5
3Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus, 4wat Homself vir ons sondes gegee het om ons te verlos uit hierdie goddelose wêreld en so die wil van God ons Vader te volbring. 5Aan God kom die heerlikheid toe tot in alle ewigheid! Amen.

Sang: Lied 107 “Die mense wat behou is 1, 2, 10”

Verootmoediging: Die risiko van vormgodsdiens

Inleiding
Op 14 Julie 2019 klop Novak Djokovic sy ou vyand Roger Federer in die Wimbledon-finaal met 3 stelle teenoor 2.
Die telling was 7-6, 1-6, 7-6, 4-6, 13-12. Maar die wedstryd vertel ook ‘n ander storie.
Federer was die beter speler in 3 kategorieë…
Totale punte: Federer 218 vs 203
Breekpunte: Federer 7 vs 3
Wenners: Federer 94 vs 54
Hoe op aarde het Federer níe die wedstyd gewen nie.
Eenvoudig omdat Djokovic die punte gewen het wat saak maak!
So kan jy ook tov ‘n mens se geestelike lewe die dinge wat vir God saak maak versaak en jou vreeslik besig hou met godsdiens… Vergelyk Jesaja se kritiek op die verbondsvolk…

Skriflesing: Jesaja 1
Ek is sat van die brandoffers van ramme
en die vet van voerbeeste;
die bloed van bulle en lammers en bokke
staan My nie aan nie.
12As julle kom om voor My te verskyn,
wie het julle gevra om my voorhowe
te kom vertrap?
13Moenie langer julle
nuttelose offergawes bring nie:
Ek het ’n afsku van julle wierookoffers.
Nuwemaansfeeste, sabbatsvierings,
die uitroep van feesdae:
Ek verdra nie feesviering
met onreg saam nie.
14Julle nuwemaansfeeste en feesgetye
haat Ek.
Hulle is vir My ’n las,
Ek is moeg daarvoor.
15As julle julle hande in gebed uitstrek,
sal Ek my oë vir julle toemaak.
Selfs al bid julle hoe baie,
sal Ek nie luister nie,
want julle hande is met bloed bevlek.

18Kom tog, laat ons die saak
met mekaar uitmaak, sê die Here:
Al was julle skarlakenrooi van sonde,
julle sal wit word soos sneeu.
Al was julle purperrooi,
julle sal wit word soos wol.

Skuldbelydenis
Vergewe ons, Here God,
ons opsetlike sondes,
en dié van versuim;
die sonde van ons jeug,
én van ons ryper jare;
die sonde van ons gedagtes,
en van ons liggaam;
ons geheime en ons blatante sondes;
dié wat ons uit onkunde
of uit ongeërgdheid doen,
én dié wat ons vooruit bedink en beplan.
Vergewe ons, Here,
die sonde wat ons doen
om onsself te bevoordeel
of om ander mense te plesier;
die sonde waarvan ons weet
en wat ons onthou,
maar ook dié wat ons vergeet het;
die sonde wat ons van ander probeer wegsteek,
en van onsself;
en dié waardeur ons ander tot sonde verlei het.
Vergewe hulle ook, o God.
Vergewe ons almal ter wille van Hom
wat vir ons sonde gesterf, en opgestaan het
sodat ons vrygespreek kan word,
en wat nou aan U regterhand sit
om vir altyd vir ons in te tree
-Jesus Christus, ons Here.
(John Wesley, 1703-1791), uit “Wat Here is en lewend maak” van Dirkie Smit, 2001:49.

Vryspraak: Hosea 11
8Maar hoe kan Ek jou prysgee, Efraim? Hoe kan Ek jou laat vaar, Israel? Hoe kan Ek jou vernietig soos Adma, met jou maak soos met Sebojim? Ek kan dit nie oor my hart kry nie. My liefde brand te sterk. 9Ek sal my gloeiende toorn bedwing, Ek sal nie so ver gaan en Efraim uitwis nie, want Ek is God, nie ’n mens nie. Ek is die Heilige wat by jou is, Ek sal nie met woede ingryp nie.

Geloofsbelydenis: (Kort)
Ek glo in en vertrou op God die Vader,
wat die wêreld gemaak het.
Ek glo in en vertrou op sy Seun Jesus Christus,
wat die mensdom verlos het.
Ek glo in en vertrou op sy Heilige Gees,
wat lewe gee aan die mense van God.
Ek glo in en vertrou op een God:
Vader, Seun en Heilige Gees.

Lied 525 “Here hoe blymoedig vs 1,2,3″

Liedere

F206. “Ons glo (Jesus Is Die Heer)”
(RUBRIEK: Flam – Geloofsbelydenis)
Teks: Nico Simpson
Musiek: Riaan Steyn, Jandré Viljoen, Neil Büchner
© 2011 Flam Musiek-Uitgewers
(Geskep tydens die NG Kerk Sinode Wes- en Suid-Kaap, Mei 2011)

1. Ons glo … in U alleen.
Saamgebring deur u Woord,
versamel deur u Gees,
beskerm en versorg.

Refrein:
Jesus is die Heer.
Aan U kom toe die eer
heerlikheid in ewigheid,
Jesus Christus, U’s die Heer.

2. Ons glo … versoen deur U –
tot een beker en brood –
deur een doop gedoop
en ons bely een Naam.

Refrein:

3. Ons glo … gedring deur U
tussen haat en dood
breek U skeidings af
laat ons vredemakers word.

Refrein:

4. Ons glo… bevry deur U,
in ’n wêreld vol nood
is U by dié wat ly
en ons sal U daarin volg.

Refrein:

5. Ons glo … geroep deur U
selfs in weerstand en straf
om U alleen as Hoof
te leef en te bely.

Refrein: (x2)

F72. “Ons Glo!”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Geloofsbelydenis)
Teks en Musiek: Louis Brittz
© MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lof  met Louis Brittz)

Ons glo as ons struikel dat ons op kan staan
Ons glo in U liefde soos ‘n oseaan
Ons glo in genade soos die see
‘n Stroom van vergifnis sleur ons mee
En ons bely

Ons glo dat die Herder sy kudde lei
Ons glo dat die Leidsman die weg berei
Alwys alwetend onsienlik Heer
Onmeetlik sterke Verlosser Heer
Ons glo!

Ons glo daar’s ‘n more na die donker nag
Ons glo aan ‘n bruilof wat die bruid inwag
Ons glo in vervulling van die Woord
In Christus oorwinnaar oor die dood
En ons bely

Ons sing omdat ons glo
Aanbid omdat ons glo
Bely dit dat ons glo
Ons loof U want ons glo

Alwys alwetend onsienlik Heer
Onmeetlik sterke Verlosser Heer
Ons glo!

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Here, by U soek ek beskerming: laat my nooit beskaamd staan nie. Red my en verlos my, luister na my en maak my vry. Wees vir my ’n rots en ’n vesting, ’n plek waarheen ek altyd kan vlug. U Here is my hoop, van altyd af, ons glo in die genesende krag van u Woord wat voor ons oop is. Amen.

Skriflesing: Hebreërs 11:1-16

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Lukas 12:32-40. Speel met die kinders “Wolf, wolf, hoe laat is dit”. Lees dan vers 39 en 40: “As die huiseienaar geweet het hoe laat die dief kom . . . die Seun van die mens kom op ‘n tyd wanneer julle Hom nie verwag nie.”
of
‘n “African Impala” tot 3 meter hoog kan spring.  Tog kan hulle in wildtuine agter heinings van minder as 1 meter aangehou word – want rooibokke spring nie waar hulle nie kan sien nie.  (Vir die pret kan jy die video wys van die rooibok wat onlangs in iemand se kar ingespring het!)

Jy kan hierdie beeld verbind aan die teks, wat sê dat geloof is om oortuig te wees van dié dinge wat ons nie kan sien nie en dan vir Abraham gebruik as voorbeeld van hoe dit lyk om in geloof op te tree, al kan jy nie sien wat voorlê nie.

Preekriglyn

[Nota: Die preek bevat baie materiaal. Soos altyd is die veronderstelling dat die prediker ‘n seleksie uit die voorgestelde stof maak.]

Die eerste ontvangers van die Hebreërbrief is ‘n groep hoofsaaklike Joodse Christene wat ernstige aanslae op hulle geloof in Jesus vanuit hulle omgewing ervaar het. As gevolg van die aanslae sou hulle begin vrae vra het oor die sin van die Christelike geloof en geneig het om terug te beweeg na die Joodse geloof. Gevolglik is die boek ‘n oproep om nie die Christelike geloof op te gee en terug te keer na die Joodse geloof nie.

Dit is wat hierdie brief, preek of boek so belangrik vir hedendaagse Christene maak. Die Hebreërboek bied ‘n wonderlike manier van nadink oor geloof en hoe om selfs die Ou en Nuwe Testamente saam te lees en te verstaan.

Daar is Skrifkenners wat sê dat die Hebreërboek die helderste prentjie oor die volle omvang van Jesus se wese en werk bied. Dit is die moeite werd om regop te sit en aandagtig te luister wanneer hierdie Bybelboek aan die woord kom.

Mense van geloof

Hebreërs 11:1-3 en 8-16 verteenwoordig ‘n greep uit die groter eenheid van hoofstuk 11. Meer spesifiek handel dit oor die hooftema van geloof en neem dit die leser op ‘n oorsigtelike reis van die Ou-Testamentiese geskiedenis.

Reeds vers 2 dui die manne van ouds aan en word die leser geleidelik deur die vroegste tye in vers 4 tot 7 geneem. Hierdie is die tyd van die skepping (3), Abel en Kain (4), Henog (5) en Noag (7). Telkens word die geloof van die “manne” uitgewys en in verband gebring met hulle regverdigheid voor God vanweë hulle geloof.

Wanneer ons lesing in vers 8 hervat, word die groot vader van die geloof, Abraham, en tot mindere mate Isak, Jakob en Sara aan die orde gestel.

Die eerste vers dien as opskrif en definisie vir wat bedoel word met die begrip “geloof”. Die res van die hoofstuk wil meer sê oor die praktiese aard van geloof deur die voorbeeld van geloof in die lewe van die groot figure van die heilsgeskiedenis in herinnering te roep.

Hoe geloof inmekaarsteek

Die benadering wat die skrywer volg, help ons baie. Kom ons verduidelik hoe hy ons in die wonder van geloof inlei.

As algemene beginsel kan dit gestel word dat “die feit dat ek iets kan beskryf nie beteken dat ek verstaan hoe dit werk nie”. Voorbeeld: As ek ‘n donderstorm of hael haarfyn kan beskryf, beteken dit geensins dat ek verstaan hoe die proses van kondensasie, wolkvorming en presipitasie werk nie. Trouens, enige iemand kan dinge van buite beskryf, sonder om ‘n idee te hê van hoe dit werk. Wanneer iemand my egter help om dinge van binne af te verstaan deur middel van voorbeelde, maak die beskrywing van buite sin en bring dit begrip.

Indien ons hierdie manier van dink nou van toepassing maak op die begrip “geloof”, sien ons die meesterwerk van Hebreërs 11 soos ‘n 3-D prentjie van ouds voor ons ontvou:

  • In die eerste vers word die beskrywing van geloof gegee – byna soos ‘n werksdefinisie.
  • Dan word die praktiese implikasies vir die eerste en latere lesers in die res van die hoofstuk uitgewerk.
  • Daar word veelseggend baie gesê wanneer ons daaraan dink dat beide die suksesse en teleurstellings verwoord word in die voorbeelde. Sommige gelowiges het aan die dood ontkom en ander gelowiges het omgekom op gruwelike maniere (32-38).
God én mens betrokke

‘n Deurlopende verband word in die hoofstuk aangedui tussen (menslike) geloof en (Goddelike) regverdiging en aanvaarding. Hierdie is ‘n saak wat in die Ou Testament ‘n deurlopende tema is. Telkens word die eenheid tussen die een wat glo en die Een in wie geglo word, verwoord in terme van verwagting, vertroue en ‘n onvoorwaardelike vashou aan die Een se woorde en beloftes. Hierdie verhouding word opgesom deur die woord “geloof” te gebruik. Geloof is in die sin die reaksie van die mens op die openbaring van God (bv Eks 14:31; Ps 105). Waar geloof ontbreek, verbrokkel die verhouding egter (Num 14:11; 20:12; Deut 9:23; Ps 105:24).

Wanneer ons kyk na die eerste twee verse van hoofstuk 11, dan word alles wat volg, aan die hand van drie begrippe uitgespel. Die Griekse woorde hupostasis, elenchos en hemarturethesan dien as kern van wat beskryf word as geloof, asook die sleutelterme vir wat volg in die res van die hoofstuk

Die Direkte vertaling help ons met verse 1 en 2:

Geloof egter is sekerheid van die dinge (hupostasis) wat gehoop word;

‘n bewys (elenchos) van die dinge wat nie gesien word nie.

Dit is immers vanweë hulle geloof dat daar met lof aangaande die mense van ouds getuig is (hemarturethesan)

Dit wil sê:

  • Hupostasis kan vergelyk word met ‘n fondament onder ‘n gebou wat sterkte en stabiliteit aan die struktuur gee.
  • Elenchos verwys na ‘n innerlike oortuiging. Binne die konteks van die hoofstuk is dit duidelik dat die openbaring van God die hupostasis en elenchos tot gevolg het, in die diepste wese van die gelowige.
  • Die gevolg is dat daar ‘n getuienis van God uitgaan oor die lewe en meer spesifiek die geloof van die gelowige. Die hemarturethesan is die bevestigende of goedkeurende getuienis van God oor die lewende geloof van die gelowiges.
Prakties

Hiermee word ‘n belangrike aspek van geloof aangesny. Hebreërs 11:1-2 wil nie ‘n werksdefinisie van geloof aanbied nie, maar eerder ‘n beskrywing bied van wat geloof doen en hoe dit funksioneer op ‘n baie praktiese vlak.

Geloof is nie ‘n blinde vertroue of ‘n wilsbesluit nie. Geloof is die mens se re-aksie op die eerste aksie van God in en deur sy openbaring. In dié verband kan ‘n mens geloof beskryf as die seker wete en stille oortuiging oor die aard van God, ten spyte van die omstandighede waarbinne jy jou bevind of die gevolge van jou geloofsdade. Geloof gee aan die gelowige die vermoë om die toekoms in die hede te beleef en om die onsigbare daarom te kan sien.

Weer eens:

  • Die hupostasis (begronding/fondament) beskryf die realiteit van geloof wat tydloos met hoop omgaan. Dit wat in die verre toekoms verwag word, word nou reeds as realiteit beleef deur die geloof.
  • Die elenchos (bewysstuk/getuienis) van die geloof beskryf die vermoë om in geloof ‘n nuwe persepsie van situasies te ervaar. Deur die geloof word die onsigbare eendag nou reeds “gesien” en dit bring ‘n diep oortuiging in die gemoed van die gelowige.

Op ‘n eenvoudige wyse kan ‘n mens die gedagtegang so beskryf: God openbaar Homself deur sy Woord en die mens hoor die Woord. Met ‘n vertroue in die Bron van en daarom die boodskap van die Woord, reageer die mens met oortuiging. Selfs in onmoontlike omstandighede of waar die gevolge skrikwekkend kan wees, gehoorsaam ons God se Woord. Ons gehoorsaamheid is ons getrouheid aan die getroue God aan wie ons behoort.

Daar is ‘n vreemde wederkerige verhouding hierin te sien. Ons erken en aanbid God as die getroue God wat gister, vandag en môre dieselfde is. Deur ons geloof reageer ons met die strewe om ook getrou aan God en sy wil bevind te word. Vandaar die byna vreemde gedagte dat God uiteindelik getuig oor die getrouheid (lees geloof) van die gelowiges van ouds af.

Ons skep nie self geloof nie

Ware geloof is gevolglik ‘n diepe oortuiging van die waarheid van God se openbaring wat die fondament vir die lewe van die gelowige bied.

Wanneer ons hieroor nadink, kan ons verstaan dat dit nie iets is wat ons uit onsself kan genereer nie. Geloof is nie ‘n rugbyspeler wat homself hard genoeg op die bors slaan in ‘n poging om homself te oortuig dat hy “kan” nie. Tereg is geloof al beskryf as ‘n leë vat (houer) wat gevul word deur die getrouheid van die God Self; geloof is ten diepste ‘n gawe van God Self. Maar geloof betrek ook volledig die lewe en optrede van die gelowige. ‘n Mens groei in die geloof.

Aanmoediging

Terug by die eerste hoorders van die Hebreërboek, blyk dit dat daar rondom die groei en ontwikkeling van geloof bepaalde vrae was. Die gelowiges het teenstand vanuit hulle omgewing teenoor hulle beleef. Hierdie teenstand was so fel dat dit geloofsvrae ontlok het. Daar is sprake van gelowiges wat hulle rug wou draai op die openbaring van Jesus Christus en die geloof waartoe hulle gekom het. Ander het net gewoon moeg in die geloofsknieë geword. Deur die inhoud van die preek of brief wou die skrywer opnuut die gelowiges oproep tot die geloof en hulle aanmoedig om te volhard in die geloof.

Met ‘n herhalende motief wat vertaal word met “Omdat ons glo” (2) en “Omdat . . . geglo het”, word die gevolglike optrede van die gelowiges aangedui. Geloof lei tot optrede net soos wat ongeloof lei tot optrede. Die skrywer wou die gelowiges aanmoedig om te volhard soos wat die geloofshelde van die vroegste tye af volhard het en God daarom positief oor hulle getuig. Op stelselmatige wyse begin die skrywer by die begin van die Ou Testament om ‘n argument vir volharding in die geloof op te bou.

  • In Hebreërs 11:1-3 en 8-16 is die fokus op die geloof in die Skeppergod wat universeel oor alle tye is, voordat die voorbeeld van Abraham se geloof op uitgebreide wyse bespreek word.
  • Nadat voorbeelde uit die sogenaamde prehistoriese gedeelte van Genesis uitgelig word, val die fokus op Abraham, die vader van alle gelowiges. Terwyl die verhale voor die tyd van Abraham ook oor geloof handel, word ‘n nuwe tydvak ingelui met verwysing na Abraham, aangesien die Skeppergod Homself nou in belofte en deur ‘n verbond aan Abraham verbind.
Geloof en vertroue

Met die roeping van Abraham word geloof en vertroue baie nou op mekaar betrek. Die reaksie van Abraham en Sara word direk verbind met beloftes van sorg en voorsiening. Hulle geloof in God is nie ‘n algemene godsdienstige houding teenoor God nie. Abraham en Sara se geloof word vierkantig gebou en begrond op en in God se beloftes aan hulle. Terug by die woordeskat van die eerste verse, is God se beloftes beide die hupostasis en elenchos vir hulle vertroue in God. Hulle getrouheid aan God se belofte word die grond waarvolgens hulle met Goddelike goedkeuring beskou is en word (2).

‘n Stad word voorberei

Baie interessant word die verwysing na Abraham en Sara afgesluit met ‘n verwysing na die stad wat deur God voorberei is vir hulle. Hierdie is nie iets wat hulle alreeds gekry het nie, maar iets wat in die toekoms lê. Teen die agtergrond van ons bespreking, is dit duidelik dat die stad, belofte en ‘n toekoms verband hou met die belofte van ‘n (beloofde) land en ook met die hemelse Jerusalem in 12:22. In 13:14 word die hemelse stad teenoor alle ander stede gestel en as ‘n ewige stad aangedui.

Maar hoe moet ons hierdie vreemde verwysing na ‘n stad met die verhaal van Abraham in verband bring?

Abraham is geroep om die stamvader van die volk van God te wees. Hierdie volk wou deur God Self na ‘n beloofde land gebring word. In hierdie beloofde land is die sentrale punt, Jerusalem, waar die tempel gebou sou word. In die tempel het God onder sy mense kom woon. Daarom is die tempel, stad (Jerusalem) en (beloofde) land onlosmaaklik deel van die Abraham-storie.

Met die koms van Jesus het Hy as die Messias die gebreke van die aanvanklike volk reggestel en word Hy die Voorloper na die finale beloofde land. Daar, in die beloofde land, sal alles tot voleinding gebring word. Die daarstelling van ‘n nuwe hemel en aarde met die nuwe Jerusalem, sal uitloop op die finale stad van God waar Hy tussen sy mense sal woon. Die proses wat met Abraham begin het, sal sy uiteinde vind in die nuwe hemelse stad waar die belofte – “en Ek sal jou God wees” – op ‘n finale manier in vervulling sal gaan. Dit is die uiteindelike stad van God waarbinne Abraham ook uiteindelik sal tuiskom (16).

Toets jou visie

Hebreërs 11 is soos ‘n oogkundige wat ons visie toets en vir ons ‘n bril voorskryf waarmee ons God se toekoms helder kan sien. Dit wil ons help om verder te kan kyk as net dit wat voorhande is.

Wanneer ons met voorvalle van geweld, ‘n klimaat van korrupsie, persoonlike gesondheids-probleme, werkloosheid, bankrotskap, en ander persoonlike en sosiale misstande te kampe het, wat sien ons? Staar ons ons blind teen die realiteite voor oë of sien ons meer? Om na iets te kyk en iets raak te sien, is immers nie dieselfde nie.

In die stokou rolprent, Lion King 1 ½, is daar ‘n treffende toneel waar Rafiki sê: “. . . you must look beyond what you see . . .” Presies dit skyn die uitdaging van die geloof te wees. Geloof maak van ons meer as realiste; geloof maak van ons mense wat verder as die onmiddellike kan sien.

Ek onthou nog toe die 3-D prente die eerste keer hulle opwagting gemaak het. Dié stereogramme (soos dit ook bekend staan) het een kenmerk gehad: Hoe harder jy probeer het om dit te sien, hoe minder het jy dit reggekry. Om die prentjie te kon raaksien, het nie inspanning nie, maar ontspanning vereis.

Om die lewe met geloofsoë deur te gaan, en om verder te kyk as wat jy kan sien, vra dat ons sal rus vind in die Here se beloftes. Trouens, geloof is juis die stille oortuiging en diepe begronding dat die God van die belofte getrou is en die werke van sy hande nie laat vaar nie. In die woorde van Martin Luther: “Geloof is om te sien wat jy nie sien nie, en nie te sien nie wat jy sien.”

Op grond van God se beloftes

Hebreërs 11 daag ons uit om weer te kyk na die geloofshelde van weleer. Nie op die manier waar ons dikwels terugkyk met volle besef van die uitkomste en suksesse nie. Nee, eerder in ‘n poging om skouer aan skouer met ‘n Abraham of Sara te staan as hulle in hulle haglike situasie niks meer het as net ‘n belofte van God nie. Ons is geneig om Abraham se lewe te bekyk in totaliteit, sonder om genoegsaam te dink oor hoe hy elke dag in onsekerheid moes aanpak. Wanneer ons op ons manier probeer om ons in te dink in die sandale van ‘n bejaarde man wat huis en haard verlaat het met niks meer as ‘n belofte nie, lyk dinge skielik anders. Ons ontdek op hierdie manier dat geloof nie ‘n prestasie is nie, maar karaktervorming. Geloof is soos om enkellopies aan te teken en nie om sesse te slaan nie. Met die geloof gaan dit plek-plek stadig en moeisaam.

Geloof gebeur stukkie vir stukkie elke dag. Ek word nie een oggend wakker en besit geloof nie. Geloof groei deur die genade van God uit die belofte en openbaring van God. Geloof is daarom nie iets waarvan ek myself oortuig nie. Geloof is my reaksie op God se beloftes wat oortuigend is.

Geen wonder nie dat die Nuwe Testament geloof as ‘n gawe lys nie. Dit is presies wat dit is. Soos iemand eenkeer gesê het, is geloof ‘n “leë vat wat deur God se beloftes” gevul word. Die gedagte dat ek in myself moet glo, is gedoem. Dit is eintlik lagwekkend; dit is soos om jou aan jou veters te probeer optel. Nee, geloof is my weerkaatsing van die getrouheid van God waaraan ek vashou met krag wat Hy my daagliks gee.

Beteken dit, met alles gesê, dat alles (sal) regkom indien ons almal net geloof het? Kwalik! Uit die voorbeelde van gelowiges in Hebreërs 11, is dit duidelik dat die fokus nie val op die sukses van die geloof om ‘n ideale uitkoms te bied nie. Soos wat vers 16 afsluit, is die fokus altyd weer op die toekoms. ‘n Toekoms waar God die skepping herstel om weer te wees soos toe Hy dit geskep het: ‘n hemel en aarde wat aan mekaar raak en waar Hy saam en tussen die mense stap. Hierdie toekoms het God reeds geskep en saam met die gelowiges van alle tye en plekke sien ons ook uit na die dag wanneer die voleinding sal aanbreek.

God stuur ons om te leef

Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 489 “Waak, Christen staan in die geloof vs 1,2,3”

Seën
Mag die Here jou seën met ’n ongemak oor die gemak waarmee ons ons plig om ander te help met mooi argumente afmaak.

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.