Negende Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Die sleutelteks fokus op Jakob wat voor sy herontmoeting met sy vervreemde broer Esau met God/’n engel/’n vreemdeling worstel en ‘n nuwe naam en identiteit ontvang. Daarmee bevestig God sy belofte van trou aan Jakob en sy verbond met Israel.

Ander tekste

Psalm 17:1-7, 15
Gebed van ’n onskuldig vervolgde
17 ’n Gebed van Dawid.
Luister tog, Here,
na my regverdige saak,
let op my hulpgeroep.
Hoor tog die gebed
wat ek in alle opregtheid bid.
2U sal uitspraak lewer in my guns:
u oë sien immers self wat reg is.
3As U my sou toets,
my selfs in my slaap sou ondersoek,
my deeglik sou keur,
sou U niks verkeerds vind nie.
4Oor die doen en late van mense
het ek niks verkeerds gesê nie:
ek het my aan u bevel gehou.
5Elke stap van my was vas
op die koers wat U aangewys het.
My voete het nie daarvan afgewyk nie.
6Ek roep U aan,
want U sal my antwoord, my God!
Luister tog na my en hoor wat ek sê.
7Toon u wonderlike trou,
U wat almal help wat vir hulle vyande
by U skuil.
8Beskerm my soos die appel van u oog,
steek my weg in die skaduwee
van u vleuels
9vir die goddeloses
wat my wil oorweldig,
die doodsvyande wat my omsingel.
15Maar wat my betref,
omdat die reg aan my kant is,
sal ek weer voor U staan.
As ek wakker word, sal ek my verbly
in u teenwoordigheid.

Romeine 9:1-5
God se verkiesing van Israel
9 In my verbondenheid met Christus praat ek die waarheid, ek lieg nie; en my gewete, wat deur die Heilige Gees gelei word, getuig saam met my 2dat daar by my groot droefheid en voortdurende hartseer is 3oor my broers, my eie volksgenote. Ek sou self vervloek wou wees, afgesny van Christus, as dit tot hulle voordeel kon wees. 4Hulle is tog Israeliete; vir hulle het God as sy kinders aangeneem en in sy heerlikheid was Hy by hulle; met hulle het Hy die verbonde gesluit en aan hulle die wet van Moses gegee, asook die tempeldiens en die beloftes; 5hulle stam van die aartsvaders af, en uit hulle is die Christus as mens gebore—Hy wat God is, verhewe bo alles en lofwaardig vir ewig! Amen

Matteus 14:13-21
Die eerste vermeerdering van die brood
(Mark 6:30–44; Luk 9:10–17; Joh 6:1–14)
13Toe Jesus dit hoor, het Hy met ’n skuit daarvandaan weggegaan na ’n stil plek om alleen te wees. Die mense het hiervan gehoor en Hom van die dorpe af te voet gevolg. 14Toe Hy uit die skuit klim, het Hy die groot menigte mense daar gesien. Hy het hulle innig jammer gekry en die siekes onder hulle gesond gemaak.

15Toe dit al aand begin word, het sy dissipels vir Hom kom sê: “Dit is ’n afgeleë plek en dit het al laat geword. Stuur die mense terug dat hulle vir hulle kan gaan kos koop in die dorpe.”

16Maar Jesus sê vir hulle: “Hulle hoef nie weg te gaan nie. Gee julle vir hulle iets om te eet.”
17Hulle sê toe vir Hom: “Ons het hier net vyf brode en twee visse.”
18“Bring dit vir My hier,” sê Hy.

19Hy het die menigte beveel om op die groen gras te gaan sit om te eet. Toe neem Hy die vyf brode en die twee visse, kyk op na die hemel en vra die seën. Daarna het Hy die brood gebreek en dit aan sy dissipels gegee, en hulle het dit aan die mense gegee. 20Al die mense het geëet en genoeg gekry, en hulle het nog twaalf mandjies vol bymekaargemaak van die stukke brood wat oorgebly het. 21Daar was omtrent vyf duisend mans wat geëet het, afgesien van die vrouens en kinders.

Fokusteks

Genesis 32:22-31
Jakob se naam word verander
32 Jakob het sy koers gegaan, en engele van God het hom teëgekom. 2Toe Jakob hulle sien, sê hy: “Dit is ‘n leër van God,” en Jakob het die plek Maganajim  genoem.

3Daarna het Jakob boodskappers vooruitgestuur na sy broer Esau toe, na die Seïrstreek toe, die gebied van Edom.

4Jakob het vir hulle gesê: “So moet julle vir my geagte broer, vir Esau sê: So sê Jakob wat aan u onderdanig wil wees: Ek het tot nou toe by Laban gebly. 5Ek besit beeste, donkies, kleinvee, slawe en slavinne. Ek laat u dit weet om te verneem of ek by u welkom sal wees.”

6Die boodskappers het na Jakob toe teruggekom en kom sê: “Ons het by u broer Esau aangekom, maar toe was hy al op pad na u toe met vier honderd man by hom.”

7Jakob het baie bang geword, angs het hom oorval. Toe deel hy die mense by hom, en die kleinvee, die beeste en die kamele in twee groepe, 8want hy het gedink: as Esau by die eerste groep kom en dit uitwis, kan die ander groep dalk wegkom.

9Daarna het Jakob gebid: “Here, God van my voorvader Abraham, God van my vader Isak, U wat vir my gesê het om terug te gaan na my land en my familie toe en U sal goed doen aan my, 10ek is al u gunsbewyse nie werd nie, ook nie die trou waarmee U my versorg het nie. Toe ek destyds deur die Jordaan is, het ek net my kierie gehad, en nou het ek hierdie twee groot groepe. 11Red my tog uit die mag van my broer Esau, ek is bang vir hom. Hy kan dalk kom en my doodmaak, en ook die moeders en kinders. 12U het my tog beloof: Ek sal beslis goed doen aan jou, Ek sal jou nageslag so baie maak soos die sand van die see, wat nie getel kan word nie.”

13Jakob het daar oornag en die volgende môre vat hy toe uit sy besitting ‘n geskenk vir sy broer Esau: 14twee honderd bokooie en twintig bokramme, twee honderd skaapooie en twintig ramme, 15dertig kameelkoeie met kalwers, veertig koeie en tien bulle, twintig donkiemerries en tien hingste. 16Hy het elke trop aan ‘n slaaf gegee en gesê: “Trek vorentoe, maar hou ‘n afstand tussen die troppe.”

17Hy het die voorste slaaf beveel: “Wanneer my broer Esau jou kry en jou vra: ‘Wie is jy? Waarvandaan kom jy en aan wie behoort al hierdie goed voor jou?’18moet jy sê: Dit behoort aan Jakob wat aan u onderdanig wil wees. Dit word as geskenk aan Meneer gestuur, en hy kom self ook agter ons aan.”

19Jakob het dieselfde opdrag aan die tweede slaaf gegee, en ook aan die derde en aan elkeen wat agter ‘n trop was. Jakob het vir hulle gesê: “Wat ek vir die voorste gesê het, moet julle almal vir Esau sê as julle by hom kom. 20Verder moet julle ook nog sê: Jakob kom agter ons aan. Hy wil aan u onderdanig wees.”

Jakob het naamlik gedink: met die geskenk wat voor my uit gaan, sal ek probeer om hom in ‘n goeie bui te kry. Dan sal ek na hom toe gaan en miskien ontvang hy my dan vriendelik.

21So is die geskenk voor Jakob uit gestuur, maar hy het die aand in die kamp oorgebly.

22Die nag het hy opgestaan en sy twee vrouens en sy twee persoonlike slavinne en sy elf kinders gevat en deur Jabbokdrif gegaan. 23Nadat hy hulle deur die rivier gevat het, het hy ook alles wat hy besit, laat deurgaan. 24Jakob het alleen daar agtergebly, en ‘n man het tot dagbreek met hom gestoei. 25Toe die man agterkom dat hy nie vir Jakob kan wen nie, het die man, terwyl hy met hom stoei, vir Jakob teen die heup geslaan sodat dit uit die potjie gespring het. 26Die man het vir Jakob gesê: “Los my, want die dag breek.”
Jakob het geantwoord: “Ek sal jou net los as jy my seën.”
27Toe vra die man: “Wat is jou naam?” en hy antwoord: “Jakob.”
28Die man het gesê: “Jy sal nie meer Jakob genoem word nie, maar Israel , want jy het teen God en teen mense ‘n stryd gevoer en jy het dit end-uit volgehou.”

29Toe sê Jakob: “Sê my tog jou naam,” en die man vra: “Waarom vra jy my naam?”
Hy het vir Jakob net daar geseën, 30en Jakob het die plek Pniël  genoem, “want,” het hy gesê, “ek het God van aangesig tot aangesig gesien en tog het ek nie omgekom nie.”

31Net toe Jakob by Pniël verbygaan, het die son opgekom. Jakob het mank gebly aan sy heup, 32en daarom eet die Israeliete tot nou toe nie die senuweebondel wat aan die heup vaskom nie, want die man het vir Jakob teen sy heup geslaan, op die heupsenuwee.

Vorige stof

Daar is twee vorige riglyne:

Liturgie

Aanvangslied: Lied 253:1, 2

Aanvangswoord
Seëngroet  

Sang: Lied 200:1, 2, 3

Wet
Laat Romeine 12:9-19 dien as ‘n spieël waarin ons ons tekortkominge en sonde kan raaksien…

Skuldbelydenis: Psalm 17

Geloofsbelydenis
Verbintenis

Loflied: Lied 464:1, 2, 3, 4

Epiklese: Lied 278

Skriflesing: Genesis 32:22-31

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 275:1, 2, 3, 4, 5

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan
of

VONKK 277 – U is die lig wat deur die donker skyn
Teks: Hannes van der Merwe 2014 ©
Melodie: HIGHLAND CATHEDRAL – Uli Rover en Michael Korb
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2014 (Pro Deo)
Musikale verryking 1en 2: Gerrit Jordaan 2014 ©
© Teks, orrelbegeleiding en musikale verrykings: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Church Hymnary Trust, Admin SCM-Canterbury Press Ltd. Met toestemming gebruik.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 253:1, 2
1. U het die brood gebreek
eens by die meer
breek nou die lewensbrood
vir my ook, Heer.
Wil steeds u waarheid meer
aan my ontvou
tot ek ook in u Woord
my Heer aanskou.

2. U is die lewensbrood,
Heiland, vir my.
U is die waarheid, Heer,
U maak my vry.
U beeld straal uit die Skrif
so helder voort –
U soek ek, Heer, Uself,
o Lewend’ Woord.

Aanvangswoord  
Voorganger: O die diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God!
Gemeente: Laat dié wat die teenwoordigheid van die Here soek, bly wees.

Voorganger: Uit God en deur God en tot God is alle dinge.
Gemeente: Soek hulp en beskerming by die Here, soek gedurig sy teenwoordigheid.

Voorganger: Aan God behoort die heerlikheid tot in ewigheid!
Gemeente: Roem die heilige Naam van God! Amen (uit Rom 11:33, 36 en Ps 105:3, 4).
;

Seëngroet  
Aan almal in (gemeente se naam) vir wie God liefhet
en wat Hy geroep het om aan Hom te behoort,
genade en vrede vir julle
van God ons Vader en die Here Jesus Christus! (uit Rom 1:7).

Sang: Lied 200:1, 2, 3
1. U goedheid, Heer, kan ons nie peil nie –
wie word daardeur nie diep getref!
Niks anders bring vir ons die heil nie –
ons wil ons hart tot U verhef.
Aan U alleen ons dank en ere –
U wat ons in u liefde lei.
U sal ons nooit vergeet nie, Here –
U wil ons in u waarheid lei.

2. U is die Heer wat ons gemaak het,
voor U kom ons, u skepsels, staan;
U is die Heer wat steeds gewaak het,
deur wie ons gans en al bestaan.
U bring in ons gemoed die vrede,
U sterk ons gees met nuwe krag;
U gee u lig ook oor ons rede –
dis U van wie ons heil verwag.

3. Sou ek, o Heer, U nie vereer nie,
sou ek u goedheid nie verstaan?
Sou U my raad gee, ek nie leer nie,
die weg wat U my wys nie gaan?
Nee, Heer, U rig my wil en strewe;
u Woord bly my gedurig by.
Vul met u liefde ook my lewe
om my in alles U te wy.

Wet
Laat Romeine 12:9-19 dien as ‘n spieël waarin ons ons tekortkominge en sonde kan raaksien…
Riglyne vir die Christelike lewe
9Die liefde moet opreg wees.
Verafsku wat sleg is
en hou vas aan wat goed is.
10Betoon hartlike broederliefde
teenoor mekaar;
bewys eerbied teenoor mekaar
en wees mekaar daarin tot voorbeeld.
11Moenie in julle toewyding
verslap nie,
bly altyd geesdriftig,
dien die Here.
12Verbly julle in die hoop;
staan vas in verdrukking;
volhard in gebed.
13Help die medegelowiges
in hulle nood
en lê julle toe op gasvryheid.
14Seën julle vervolgers,
ja, seën hulle,
moet hulle nie vervloek nie.
15Wees bly saam met dié wat bly is
en treur saam met dié wat treur.
16Wees eensgesind onder mekaar.
Moenie hooghartig wees nie,
maar skaar julle by die nederiges.
Moenie eiewys wees nie.
17Moenie kwaad met kwaad
vergeld nie.
Wees goedgesind teenoor alle mense.
18As dit moontlik is,
sover dit van julle afhang,
leef in vrede met alle mense.
19Moenie self wraak neem nie,
geliefdes,
maar laat dit oor aan die oordeel
van God.
Daar staan immers geskrywe:
“Dit is mý reg om te straf;
Ék sal vergeld,”
sê die Here.

Skuldbelydenis: Psalm 17
Luister tog, Here,
na my regverdige saak,
let op my hulpgeroep.
Hoor tog die gebed
wat ek in alle opregtheid bid.
6Ek roep U aan,
want U sal my antwoord, my God!
Luister tog na my en hoor wat ek sê.
8Beskerm my soos die appel van u oog,
steek my weg in die skaduwee
van u vleuels…

Geloofsbelydenis
As geloofsbelydenis gebruik dié uittreksel uit die Belydenis van Belhar of Flam 206 “Ons glo”.
Ons glo dat God Homself geopenbaar het as die Een wat geregtigheid en ware vrede onder mense wil bring; dat Hy in ’n wêreld vol onreg en vyandskap op ’n besondere wyse die God van die noodlydende, die arme en die veronregte is en dat Hy sy kerk roep om Hom hierin na te volg; dat Hy aan verdruktes reg laat geskied en brood aan die hongeriges gee; dat Hy die gevangenes bevry en blindes laat sien; dat Hy dié wat bedruk is ondersteun, die vreemdelinge beskerm en weeskinders en weduwees help en die pad vir die goddelose versper; dat vir Hóm reine en onbesmette godsdiens is om die wese en die weduwees in hulle verdrukking te besoek; dat Hy sy volk wil leer om goed te doen en die reg te soek; dat die kerk daarom mense in enige vorm van lyding en nood moet bystaan, wat onder andere ook inhou dat die kerk sal getuig en sal stry teen enige vorm van ongeregtigheid sodat die reg aanrol soos watergolwe, en geregtigheid soos ’n standhoudende stroom; dat die kerk as eiendom van God moet staan waar Hy staan, naamlik teen die ongeregtigheid en by die veronregtes; dat die kerk as volgelinge van Christus moet getuig teenoor alle magtiges en bevoorregtes wat uit selfsug hulle eie belang soek en oor andere beskik en hulle benadeel. Ons glo dat die kerk geroep word om dit alles te bely en te doen, in gehoorsaamheid aan Jesus Christus, sy enigste Hoof, al sou ook die owerhede en verordeninge van mense daarteen wees en al sou straf en lyding daaraan verbonde wees. Jesus is die Heer. Aan dié enige God, Vader, Seun en Heilige Gees, kom toe eer en heerlikheid in ewigheid.

Verbintenis
Voorganger: Oor alle grense van afkoms wat ons van mekaar skei,
Gemeente: verbind ons, o Christus, deur u kruis aan mekaar.

Voorganger: Oor alle grense wat ryk en arm van mekaar skei,
Gemeente: verbind ons, o Christus, deur u kruis aan mekaar.

Voorganger: Oor alle grense van taal en kultuur wat ons van mekaar skei,
Gemeente: verbind ons, o Christus, deur u kruis aan mekaar.

Voorganger: Oor alle grense wat mans en vroue, jonk en oud van mekaar skei,
Gemeente: verbind ons, o Christus, deur u kruis aan mekaar.

Voorganger: Oor alle grense van vooroordeel en veroordeling wat ons van mekaar skei,
Gemeente: verbind ons, o Christus, deur u kruis aan mekaar.

Voorganger: Lei ons en leer ons om al meer te wees wat U ons bedoel het om te wees.
Gemeente: Verbind ons, o Christus, deur u kruis aan mekaar.Amen.

Loflied: Lied 464:1, 2, 3, 4
1. O Heer my God,
as ek in eerbied wonder –
en al u werke elke dag aanskou:
die son en maan,
die aarde, sterre, wolke,
hoe U dit elke dag so onderhou…

Dan moet ek juig, my Redder en my God!
Hoe groot is U; hoe groot is U!
Want deur die hele skepping klink dit
saam: hoe heerlik, Heer, u grote Naam!

2. Ek sien die veld –
die bosse, berge, vlaktes.
Ek hoor hoe fluister
grasse, stroom en wind.
O Heer, U sorg
vir klein, vir groot, vir alles
en U sorg dag na dag vir my, u kind.

Dan moet ek juig, my Redder en my God!
Hoe groot is U; hoe groot is U!
Want deur die hele skepping klink dit
saam: hoe heerlik, Heer, u grote Naam!

3. U Seun word mens;
in ons gebroke wêreld
kom vestig Hy sy koningheerskappy.
Hy maak weer heel
wat sonde hier gebreek het.
Hy bring weer hoop
en redding – ook vir my.

Dan moet ek juig, my Redder en my God!
Hoe groot is U; hoe groot is U!
Want deur die hele skepping klink dit
saam: hoe heerlik, Heer, u grote Naam!

4. U maak ons deel van al u grootse werke.
U laat ons bid, Heer, dat u ryk mag kom.
En kom U weer, in heerlikheid op wolke,
maak U volkome nuut u eiendom.

Dan moet ek juig, my Redder en my God!
Hoe groot is U; hoe groot is U!
Want deur die hele skepping klink dit
saam: hoe heerlik, Heer, u grote Naam!

Liedere

F21. “In Die Hemel Is Die Heer”
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Lof / Verwondering)
Teks en Musiek: Tom Hiemstra
Teks: [strofes 3,4 onbekend]
© 2001  MAR Gospel Music Publishers
(vers 1 en 2 opgeneem op Louis Brittz se CD “Ons Koning kom weer”)
LW:  Ons wil graag al vier verse vir gebruik bekendstel!!

In die hemel is die Heer
en sy glans is soos kristal.
Hy’s die Heilige van God
en Hy heers oor die heelal.

Refrein:
Daar is mag in Sy woord!
Soos die waters druis sy stem.
Soos die son op die see se blou,
so die rykdom van sy trou.
Want aan U is die mag 
en die heerlikheid en krag.
En aan U is die eer 
en die lof, want U regeer.

Miljoene in gereedheid,
is die eng’le om sy troon.
Verbysterend sy sieraad
en die weelde van sy kroon.

Refrein:

Driemaal heilig is die Heer,
Hy wat was en is en kom.
Hy’s die Alfa en Omega,
almagtig en verhewe.

Refrein:

Aan Hom wat op die troon sit,
en aan die Lam,
die heerlikheid en lof
van nou af en vir ewig.

Refrein:

F66. “Op Vaste Fondamente”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Die Kerk / Geloof)
Musiek: AURELIA – Samuel Wesley 1864;  gewysig Nellis van Zyl Smit/Neil Büchner, 2004
Teks: Attie van der Colf © 1978 / 2001;  gewysig Nellis van Zyl Smit/Neil Büchner, 2004
© MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lof  met Louis Brittz)

1. Op vaste fondamente het God sy kerk gebou
Apostels en profete het ons dit toevertrou
Die Koning van die hemel herskep deur Woord en Gees
Verlorenes op aarde dat hul sy volk kan wees

Hy roep uit alle volke ‘n volk vir Hom tesaam
Een in geloof en werke een in sy heil’ge Naam
Hy gee die brood die beker Hy gee die heil’ge doop
Om hulle te verseker: Ek het jul duur gekoop

Refrein:
Ja Hy lê die steen. Hy is die rots
Sy fondament is vas. Hy is God
O ja, Hy is
Ja, Hy is God

2. O Heer skryf in ons harte dat ons dit nooit vergeet
Al pynig ons die smarte al martel ons die leed
Die kruis van ons Verlosser sluit vergesigte oop

In ‘n verwarde wêreld bring dit weer vaste hoop

Refrein:

God praat met ons en ons luister

Epiklese: Lied 278
Hoor ons bid, o Heer;
hoor ons bid, o Heer
Verhoor tog ons gebed en gee ons vrede.
Amen.
of
Liefdevolle God,
dat ons meer, veel meer van U kan leer
en U al meer kan vertrou,
dat ons U al meer sal waardeer en dien,
dat ons U sal liefhê en aanbid:
dit is ons gebed.
Spreek, Heer, u gemeente luister. Amen.

Skriflesing: Genesis 32:22-31

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Cas Vos gebruik in die bundel “Omdat ons klein is” (2000: P162, Lux Verbi) die verhaal uit Philip de Vos se boek “Wolfgang Amadeus Muis” (1986: Tafelberg Uitgewers) om te illustreer hoe God in die doop vir ons ’n nuwe naam gee. Kortweg gaan dit oor die Mamma Muis wat nie kon besluit wat sy haar jongste muisbaba moes noem nie, sy het ’n spesiale naam vir hom gesoek, want sy het geweet hy is bestem vir groot dinge en toe hoor sy oor die radio die naam Wolfgang Amadeus en besluit daar en dan om hom so te noem. En dit is wat God met ons doen – Hy gee ons ’n spesiale naam, want vir Hom is ons spesiaal. As oupa se tande dan eendag daar tussen die muise beland en Wolfgang Amadeus met ’n spyker daarteen slaan en dit maak musiek raak hy bekend as die musikaalste muis ooit en doen sy naam gestand.

In vandag se fokusteks het God Jakob se naam verander omdat Hy nuwe planne met Jakob gehad het. Jakob was een van aartsvaders (eerste oudstes) van die volk Israel, saam met Abraham en Isak. Jakob se nuwe naam sou die naam word van die volk wat God gekies het om Sy volk te wees, Israel!

Preekriglyn

Soos Jakob se vlug uit Kanaän deur engele begelei is, só gebeur dit ook nou met sy terugkeer. Waar die ervaring met die engele by Bet-El vir Jakob ‘n betroubare kontakpunt met die hemel gegee het met die uitgesproke belofte dat God by hom sal wees (Gen. 28), gee hierdie ervaring met die engele by Maganajim vir Jakob ‘n verdere vaste vertrekpunt vir sy stryd op die aarde met die implisiete belofte dat die “leër van God” by hom sal wees (Gen. 32).

“Twee kampe”

Die naam Maganajim beteken: “twee kampe” wat waarskynlik dui op die werklikheid van God se betrokkenheid by sy mense. Hulle vorm as’t ware: “twee kampe“, in die stryd vir die vestiging van God se koninkryk op aarde – God se kamp van engele, en Jakob se kamp van mense en diere.

Let op hoe dié tema van die “twee kampe” in die res van die verhaal ontvou. Aan die een kant probeer Jakob alles in sy vermoë om die uitdaging wat sy herontmoeting met Esau die hoof te bied.

  • Hy stuur boodskappers om sy onderdanigheid aan Esau oor te dra. Nie dat dit veel help nie, want Esau was reeds met ‘n groot mag van vierhonderd man op pad.
  • Hy deel in sy angstigheid die mense by hom in twee groepe om die kanse dat hulle almal uitgewis word, te verminder.
  • Hy bid tot die God van sy voorouers en ouers wat hom aangesê het om terug te gaan na Kanaän en belowe het om aan hom goed te doen. Nie dat hy dié gunsbewyse werd is nie, maar net op grond van God se belofte maak hy staat daarop dat: “Ek sal beslis goed doen aan jou.
  • Hy stuur ‘n reusegeskenk aan sy broer Esau – 580 bokke, skape, kamele, beeste en donkies – maar laat hulle ook in ‘n paar troppe trek ter wille van veiligheid. “Jakob het naamlik gedink: met die geskenk wat voor my uit gaan, sal ek probeer om hom in ‘n goeie bui te kry. Dan sal ek na hom toe gaan en miskien ontvang hy my dan vriendelik.
  • Hy laat laaste van alles sy vroue en kinders en sy persoonlike besittings deur die Jabbokdrif trek.
  • Aan die ander kant bly Jakob uiteindelik heeltemal alleen agter waar ‘n man die hele nag tot dagbreek toe met hom gestoei het. Sy stryd is nie met vlees en bloed, in die gestalte van sy broer Esau nie, maar met homself en met God, soos dit uit vers 29 blyk.
‘n Nuwe naam

Jakob se stryd om die seën van sy pa het hy met bedrog in sy guns beslis. Hier vind hy sy meerdere in die stryd met God waarin hy nie kan wen nie, al hou hy enduit vol. Hy is uiteindelik afhanklik van God self om op soewereine wyse die seën vir hom ‘n werklikheid te maak.

Dat die man teen dagbreek gelos wil word, het waarskynlik daarmee te make dat geen mens God kan sien en bly lewe nie. Jakob word gevra om sy naam te gee vóór hy geseën kan word. Daarmee word Jakob gedwing om te erken dat hy ‘n bedrieër is, want dit is die betekenis van sy naam.

Die man se seën behels egter nie ‘n nuwe belofte aan Jakob nie, maar eerder ‘n nuwe naam, Israel (God stry), wat sy transformasie van bedrieër na begenadigde voltrek. Waar hy voorheen téén mense en selfs God gestry het, word God nou die een wat vír hom teen mense stry. Hiermee word dit ook duidelik dat dit hierdie God sal wees wat vir die volk wat uit Jakob gebore is, sal stry. Jakob se stryd met God het in ‘n stryd van God vir Jakob en sy nageslag verander.

Dat die man sy naam nie aan Jakob wil gee nie, is waarskynlik gemik daarop om die versoeking te voorkom om dié naam te misbruik, soos die wet eeue later sou uitspel: “Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam misbruik nie ongestraf laat bly nie.” (Eks. 20:7).

Aangesig van God

Jakob noem die plek Pniël (aangesig van God) om sy ontsag en dankbaarheid vir God te verwoord, “want, ek het God van aangesig tot aangesig gesien en tog het ek nie omgekom nie.” Nie dat hy God in die daglig gesien het nie, maar tog in die stryd in die donker van aangesig tot aangesig met God gekom het.

Hoe poëties en betekenisvol vervolg die skrywer nie met die afloop van dié ontmoeting met God nie: “Net toe Jakob by Pniël verbygaan, het die son opgekom.” ‘n Nuwe era het vir Jakob aangebreek. Die Here het Hom verbind nie net aan Jakob nie, maar aan Israel. God was nou die strydros vir die volk.

Dit is betekenisvol dat Jakob mank gebly het aan sy heup, en dat die Israeliete sy nagedagtenis geëer het met die gebruik om nie die skiatiese senuweebondel wat aan die heup vaskom, te eet nie. Soos die besnydenis hulle aan die verbond met Abraham herinner het, het die skiatiese senuweebondel hulle aan die verbond met Israel, dit is Jakob, herinner.

Jakob se arrogansie en verwaandheid het oorgegaan in afhanklikheid en nederigheid. Dit gee ‘n mens ‘n beter begrip vir die latere aanklag teen Edom, Esau se nageslag, se verwaandheid en afsydigheid, soos ‘n mens by die profeet Obadja lees.

Boodskap

Weereens lê die boodskap van dié verhaal op verskeie vlakke. Ons kyk na drie aspekte:

In die eerste plek bemoedig die verhaal ons met die perspektief op die “twee kampe” in ons eie lewe. Ons hoef nie net staat te maak op ons eie vermoëns nie. God se teenwoordigheid met alles wat Hy tot sy beskikking het, is ook aan ons belowe.

Herhalende tema

Interessant genoeg sou Dawid ‘n paar eeue later dié plek Maganajim as ‘n toevlugsoord gebruik in sy eie stryd met sy seun Absalom waar hy selfs deur van die omringende nasies, onder andere Arameërs, versorg is met beddegoed (2 Sam. 17).

Nog dieper, Elisa sou ook deeglik rekening hou met die werklikheid van die “twee kampe” toe hulle op ‘n keer omsingel was van die Arameërs. Hy het Gehasi gerusgestel: “Moenie bang wees nie, dié wat by ons is, is meer as wat hulle is.” Elisa het toe gebid dat sy oë vir God se leërmag sal oopraak: “Here, maak tog sy oë oop dat hy kan sien.” Toe die Here die oë van Gehasi oopmaak, kon hy sien dat die berge rondom Elisa vol was van perde en strydwaens van vuur (2 Kon. 6:16-17).

God se teenwoordigheid in God se kinders se lewens is ‘n werklikheid. Die spanning om in “twee kampe” vasgevang te wes, is ‘n werklikheid. Tog word dit die springplank waarvandaan God met ons werk en ons nuwe perspektief op God en die lewe verkry.

God se seën

In die tweede plek bemoedig die verhaal ons met die perspektief dat in ons worstelstryd met God se wil vir ons lewe, ons op sy uiteindelike seën kan staatmaak. Dit is so dat die verhaal ‘n mens diep laat nadink oor jou persoonlike ambisie en die drang tot selfverwesenliking en waar die grense lê tussen mens en mens en tussen mens en God. Maar die evangelie van Jakob se transformasie van bedrieër na begenadigde is dat God ons nie kies vir wie en wat ons is nie, maar vir wie en wat Hý van ons kan maak.

Om die waarheid te sê, as ‘n mens na Jakob se verhaal tot en met hier kyk, sien jy ‘n aartsskelm en manipuleerder van formaat wat ten alle koste bo wil uitkom. Hy het ongelooflike beloftes van God, reeds van geboorte af, wat herhaal is in die woestyn toe hy van Esau af wegvlug, maar hy kies om self te probeer om te sorg dat hy bo uitkom.

En dan wanneer hy hom uiteindelik in God vasloop by die Jabbokrivier, sien jy dat Hy uiteindelik buig voor God en dat hy sy arrogansie en manipulasie los en Esau met nederigheid tegemoet loop. “God was baie goed vir my,” sê hy in die volgende hoofstuk vir sy broer en dít raak die getuienis van sy lewe wat tot vandag toe met ons spreek.

Konneksie

Op ‘n derde vlak kan ons kennis neem van die parallelle wat daar tussen ons ervaring en Jakob s’n is. Calvyn het in sy kommentaar op Genesis ons versoekings met die worsteling van Jakob verbind. Versoekings, sê Calvyn, is nie net ‘n worsteling met jou eie begeertes en behoeftes en die verleiding van die wêreld nie, maar baie keer ‘n worsteling met God self en sy wil vir jou lewe. In ‘n sekere sin, sê Calvyn, veg God téén ons en vír ons. Hy maak ons sterker in dié ervarings wat voel asof God téén ons is, deurdat dit juis Hy is wat ons die krag gee om te kan oorwin:

For we do not fight against him, except by his own power, and with his own weapons; for he, having challenged us to this contest, at the same time furnishes us with means of resistance, so that he both fights against us and for us … in as much as he supplies us with more strength to resist than he employs in opposing us, we may truly and properly say, that he fights against us with his left hand, and for us with his right hand. For while he lightly opposes us, he supplies invincible strength whereby we overcome.” (John Calvin’s Commentaries on Genesis 24-50).

God stuur ons om te leef

Gebed
O God van Jakob én van Esau,
God van Ragel én van Lea,
en van Bilha en Silpa,
God van ons voorgeslagte
én van ons nasate,
help ons om te onthou wie ons werklik is:
u kinders,
geskape na u beeld,
bestem om te doen wat goed en reg is,
Help ons om u liefde met alle mense te deel,
sodat al u kinders met U versoen kan wees
en sodat ons met mekaar versoen kan wees.
Help ons om om te sien na hulle wat in nood verkeer,
en om dit wat ons ontvang het, met hulle wat minder het te deel.
Help ons om nie net u roepstem te hoor nie,
maar ook die roepstem van ons broers en susters.
Help ons om nie net hulle nood raak te sien nie,
maar om hulle ook as broers en susters te ag.
In u liefde, genade en goedheid vra ons dit.

Offergawes

Wegsending: Lied 275: 1, 2, 3, 4, 5
1. O God van Jakob, deur u hand
word steeds u volk gevoed;
U het weleer op see en land
ons vadere behoed.

2. Ons dank- en smeekgebede gaan
tot u genadetroon;
wil ons en ook ons kroos voortaan
u guns en trou betoon!

3. Berei vir ons die lewenspad
wil deur u Gees ons lei;
en as ons val, o Vader, vat
ons hand en staan ons by.

4. Bewaar ons, Heer, in alle nood;
hou oor ons lewe wag.
Wil kleding skenk, gee daagliks brood
ons deel vir elke dag.

5. Beskikker van ons deel en lot
in voor- en teëspoed,
U is ons Vader en ons God
net U is waarlik goed.

Seën
Mag die genade van ons Here, Jesus Christus, ons elke dag vernuwe.
Mag die liefde van God ons in staat stel om mekaar lief te hê.
Mag die gemeenskap van die Heilige Gees ons al meer in een liggaam verenig.
Mag dit alles ons gewillig maak om tot eer van God te lewe.

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1.  Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2.  Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.
3.  U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.
of
VONKK 277 – U is die lig wat deur die donker skyn
Teks: Hannes van der Merwe 2014 ©
Melodie: HIGHLAND CATHEDRAL – Uli Rover en Michael Korb
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2014 (Pro Deo)
Musikale verryking 1en 2: Gerrit Jordaan 2014 ©
© Teks, orrelbegeleiding en musikale verrykings: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Church Hymnary Trust, Admin SCM-Canterbury Press Ltd. Met toestemming gebruik.

1. U is die lig wat deur die donker skyn.
U is die Een wat duister laat verdwyn.
Skyn in ons harte, dryf die donker uit.
Skyn in ons lewens tot in ewigheid.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.

2. U is oorwinnaar, U’t die dood verslaan.
U het as Koning uit die graf gegaan.
Breek nou die bande, gooi die boeie neer.
Ons is oorwinnaars saam met U, ons Heer.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.

3. U is die Bruidegom en ons u Bruid.
U nooi ons vir die bruilofsmaaltyd uit.
Daar klink ons lof, daar klink ons danklied uit.
Ons bly by U tot in ewigheid.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.