Negende Sondag in Koninkrykstyd

Picture of Woord en Fees
This content is only available to members.

Sections

Liturgiese voorstel

Leesroostertekste

Sleutelteks: Genesis 32:22-31
Ander tekste: Psalm 17:1-7, 15; Romeine 9:1-5; Matteus 14:13-21

Inleiding 

Die sleutelteks fokus op Jakob wat voor sy herontmoeting met sy vervreemde broer Esau met God/’n engel/’n vreemdeling worstel en ’n nuwe naam en identiteit ontvang. Daarmee bevestig God sy belofte van trou aan Jakob en sy verbond met Israel – soos dit ook in die Romeineteks verwoord word. Die psalm gee uitdrukking aan gebed van iemand wat in nood steeds sy vertroue op die Here stel. Die Evangelieteks beskryf die oorvloedige wyse waarop God in sy verbondstrou aan die behoeftes van sy mense voorsien.

Diensorde

God bring ons byeen

Aanvangslied
Lied 152 “Verhoogde Heiland, bind ons saam”

Aanvangswoord
Sien basisliturgie.

Seëngroet
Sien basisliturgie.

Lofprysing

Verootmoediging
Sien basisliturgie.

Lied

Diens van die Woord

Epiklese
Liefdevolle God,
dat ons meer, veel meer van U kan leer
en U al meer kan vertrou,
dat ons U al meer sal waardeer en dien,
dat ons U sal liefhê en aanbid:
dit is ons gebed.
Spreek, Heer, u gemeente luister. Amen.

Skriflesing
Genesis 32:22-31

Kindertyd

Boodskap

Diens van die Tafel

Geloofsbelydenis

Nagmaal
Sien basisliturgie.

Gebed
O God van Jakob én van Esau,
God van Ragel én van Lea,
en van Bilha en Silpa,
God van ons voorgeslagte
én van ons nasate,
help ons om te onthou wie ons werklik is:
u kinders,
geskape na u beeld,
bestem om te doen wat goed en reg is,
u geliefdes.
Help ons om u liefde met alle mense te deel,
sodat al u kinders met U versoen kan wees
en sodat ons met mekaar versoen kan wees.
Help ons om om te sien na hulle wat in nood verkeer,
en om dit wat ons ontvang het, met hulle wat minder het te deel.
Help ons om nie net u roepstem te hoor nie,
maar ook die roepstem van ons broers en susters.
Help ons om nie net hulle nood raak te sien nie,
maar om hulle ook as broers en susters te ag.
In u liefde, genade en goedheid vra ons dit.

God stuur ons uit

Slotlied

Seën
Mag die genade van ons Here, Jesus Christus, ons elke dag vernuwe.
Mag die liefde van God ons in staat stel om mekaar lief te hê.
Mag die gemeenskap van die Heilige Gees ons al meer in een liggaam verenig.
Mag dit alles ons gewillig maak om tot eer van God te lewe.

Musiek en sang

Aanvangslied: Lied 159:1 en 2 “God is hier teenwoordig”
Lofprysing: Lied 200:1-3 “U goedheid, Heer, kan ons nie peil nie”
Skuldbelydenis: Sien basisliturgie.

Kuns en visueel

Marc Chagall se skildery van Jakob wat met die engel worstel.

Preekstudie – Genesis 32:22-31

Teks en konteks

Alhoewel hierdie Skrifgedeelte meerdere geloofwaardige interpretasies moontlik maak, kies ek die perspektief van Jakob op pad na sy ontmoeting met Esau. Jakob verwag om Esau te ontmoet, nie as broer nie, maar eerder as vyand. Die laaste keer wat hulle mekaar immers gesien het, het Jakob die seën wat vir Esau bedoel was, met ʼn slenter gesteel.

Jakob stuur sy familie en besittings as beskermingsmaatreël of verdedigingsmeganisme vooruit. Die presiese rede is onseker. Die teks maak dit wel duidelik dat Jakob alleen agtergebly het. Hy sal nie om hulp kan roep nie, niemand sal hom kan help nie. In hierdie oomblik van alleenheid in die donker, sal Jakob God se beskerming benodig, maar hy ontvang dit oënskynlik nie, ten minste nie volgens wat beskerming in die gewone sin van die woord beteken nie.

Die teks verhul met opset die identiteit van die “man”. Wie is hierdie man wat Jakob in sy eensaamheid in die donker aanval? Vers 24 stel die moontlikheid dat dit Esau is wat vir Jakob aanval, asof Esau net gewag het vir Jakob om sy familie en besittings vooruit te stuur om sy aanval te loods.

Die gestoei tussen die twee word nie in detail beskryf nie. Dit verhoog die onsekerheid en geheimsinnige omstandighede van die hele gebeurtenis. Dit is wel duidelik dat Jakob ‘n waardige opponent is. Jakob wat sy broer en God vrees, huiwer nie om sy man te staan nie. Wat ʼn merkwaardige man is Jakob nie! Nie een van die twee karakters kan die oorhand oor die ander kry nie. Die een met die onbekende identiteit het wel die fisiese vermoë om Jakob te beseer, alhoewel dié karakter nie vir Jakob oorwin nie.

Teen dagbreek wil die vreemdeling vertrek. Is die rede vir sy vertrek dat hy met dagbreek sy mag verloor, of omdat hy homself onbekend moet hou? Of is dit dalk ter wille van Jakob se veiligheid? Nietemin, hy kan nie vertrek nie, tensy Jakob hom toelaat. Hierdie versoek, of selfs pleidooi van die vreemdeling, beklemtoon nóg eens Jakob se waardigheid as opponent. Selfs nadat Jakob beseer is, bereik hulle niks meer as ‘n skietstilstand nie. As die vreemdeling God was, hoe laat God dan toe dat ‘n mens met Hom gelykspeel? Watter soort man is Jakob dat hy met God kan meeding? Hier is blykbaar nie sprake van ‘n gewone mens nie, klaarblyklik ook nie van God soos wat mense oor God dink nie.

Hier is ‘n merkwaardige gebeurtenis aan die afspeel, met merkwaardige dialoog (v 26-29).
Die man: “Los my, want die dag breek.”
Jakob: “Ek sal jou net los as jy my seën.”
Die man: “Wat is jou naam?”
Jakob: “Jakob.”

Die man: “Jy sal nie meer Jakob genoem word nie, maar Israel , want jy het teen God en teen mense ‘n stryd gevoer en jy het dit end-uit volgehou.”
Jakob: “Sê my tog jou naam.”
Die man: “Waarom vra jy my naam?”
Hy het vir Jakob net daar geseën.

Dit is interessant hoe die dele van die dialoog beweeg, sonder dat hulle regtig saamhang. Aanvanklik is Jakob die party met mag. Hy het ‘n voordeel en hy gryp die geleentheid aan (opportunis wat hy is!) om ‘n ooreenkoms voor te stel. Hy sal die vreemdeling loslaat in ruil vir ‘n seën. Ons kan aanneem hierdie seën het meer waarde in Jakob se oë as die seën wat hy destyds van sy pa ontvang het. Of dalk wou Jakob soveel moontlik seën vir homself bymekaarmaak? Nietemin, die vreemdeling verander die onderwerp van die gesprek om ‘n grondslag vir onderhandeling te vind. Let wel, die seën word nie geweier nie, maar vir die oomblik eenkant toe geskuif. Hier is Jakob, selfs met woorde, ‘n waardige opponent.

In die tweede beweging het die vreemdeling die oorhand. Hy lei die gesprek. Vir Jakob beteken hierdie skuif egter ‘n nuwe naam en ‘n nuwe identiteit. Jakob het gevra vir ‘n seën en het daarmee dalk rykdom, besittings of ‘n groter nageslag bedoel, maar hy kry iets heel verrassends: In die konfrontasie met God, ontvang hy ‘n nuwe identiteit!

Die naam Jakob het die betekenis van “bedrieër/haak/verdringer”. Hierdie betekenisse beskryf sy karakter, wie hy is — en dit is nie vleiend nie. In die worsteling met God ontvang hy die naam “Israel”. Die betekenis daarvan is onseker. Dit kan dalk beteken “God heers”, “God bewaar” of “God beskerm”. Die punt is egter nie die betekenis van die naam nie, maar die feit dat Jakob se naam verander word. ‘n Nuwe entiteit tree na vore.

Israel is ʼn nuwe begin. Hierdie Jakob is nou Israel, ‘n man (en gemeenskap) wat deur die vyand gedurende die nag in die lewe geroep is. In hierdie onderhandeling, het die mag tussen mens en God gewissel. Israel het God in die gesig gestaar, God het hom aangeraak, hy het met God gestoei en oorwin. In die proses ontvang hy ‘n seën en ‘n nuwe identiteit.

Daar is ook die nuwe element van God se swakheid en Israel se krag. Dit is nie asof die mens (Israel) magtiger is as God nie, maar hy is ook nie magteloos in God se teenwoordigheid nie. Rolle het weliswaar verander en daar bestaan onsekerheid oor die presiese verhouding tussen God en Israel. Alles is oop vir onderhandeling. Juis dít is dalk die oomblik van seën. God het mag aan die mens oorgegee. Israel ontvang daardie mag. Daarna is Israel sterker en magtiger, ‘n groter persoon met nuwe mag.

Hoe sal Jakob/Israel ná hierdie bemagtigende ontmoeting met God teenoor Esau optree wanneer die twee broers binnekort ontmoet? Sal hulle ontmoeting deur Jakob/Israel se voorafgaande vrees vir sy broer Esau bepaal word? Sal hy na dese vir Esau op ‘n ander manier behandel as wat vantevore in soortgelyke omstandighede te verwagte was?

Die laaste deel van die dialoog word deur Jakob gelei. Dit bevat ʼn element van waagmoed aan sy kant. Alhoewel party kommentators meen Jakob tree respekvol op (“sê my tog”), is die presiese gesindheid agter die vraag minder belangrik as die waagmoed waarmee hy die vraag stel. Met sy nuwe identiteit ontvang hy klaarblyklik waagmoed wat hy nie voorheen gehad het nie. Nou waag Jakob/Israel dit selfs om die Naam van God te vra. Die tyd het egter nog nie aangebreek om dié geheimenis te openbaar nie (dit sal eers vir Moses in Eks 3 gegee word). Jakob/Israel word die aankondiging van die Naam geweier. Die vreemdeling staan dit nie toe nie, maar gaan terug na die eerste versoek wat aanvanklik geïgnoreer is. Jakob/Israel ontvang die seën waarna hy so gesmag het, terwyl God se verborgenheid bly. ‘n Alternatiewe interpretasie is moontlik dat die seën wat volg op die retoriese vraag “Waarom vra jy my Naam?”, juis iets van God se identiteit (lees Naam) openbaar. Dit is Gód wat seën. Let egter op dat die teks eers in vers 28 openbaar dat dit God is met wie Jakob gestoei het. Eers op hierdie punt kry die voorafgaande verse nuwe betekenis.

Jakob het met God as ‘n gelyke opponent geredeneer. Hy het met God geworstel tot dagbreek toe – met die vermoë om God vas te hou of los te laat. In dié stoeigeveg dien God vir Jakob ‘n besering toe waarmee hy vir die res van sy lewe sou loop.

Jakob stoei met God, maar God seën hom ten spyte van sy weerstandigheid. Nieteenstaande Jakob/Israel se worsteling met die vreemdeling in die nag, is sy nuwe identiteit nie iets wat hy self skep nie. Sy nuwe identiteit word fisies en sigbaar deur God op hom afgedruk. Hy sou voortaan deur ‘n gebrek aan sy liggaam aan sy ontmoeting met God herinner word en wie hy wat Jakob is daarná geword het. Met dagbreek is die vreemdeling weg, maar Jakob óók. Israel het oorgebly, geseënd en deur God ‘n nuwe naam gegee.

Vers 30-31 beskryf Jakob/Israel se onmiddellike nadenke oor die gebeurtenis. Alhoewel Jakob die plek Pniël (“gesig van God”) noem, is dit nie so belangrik soos twee ander aspekte nie. Eerstens: Jakob verlaat die plek as iemand anders. Tweedens: Hy verlaat die plek met ‘n gebrek. Hierdie is nie die verhaal van ‘n algemene ervaring tussen God en mens nie. Die verhaal handel om ‘n spesifieke ervaring in Israel se vormingsproses. Israel se identiteit lê nie net daarin dat hulle met God te doen het en deur God uitgekies is nie. God het aan Israel ‘n fisiese merkteken gegee. In hulle gehoorsaamheid sowel as ongehoorsaamheid, is Jakob/Israel en sy nageslag mense van God wat die bewys daarvan in hulle liggame dra.

Dié teksgedeelte is ontnugterend. Dit maak die leser daarvan bewus dat die ontmoeting met God ‘n onverwagse en onvoorspelbare uitkoms het. Dit lei tot ‘n liggaamsgebrek. Dit verseker ‘n nuwe naam. Dit gee nuwe krag. Dit gee ook ‘n nuwe stryd, ‘n nuwe teken van swakheid, broosheid en oorwinning te midde van nederlaag!

Preekvoorstel

Soms moet predikers eerlik bely dat ons prediking ver afwyk van die Skrifgedeelte en dat die ooreenkomste daarmee byna onherkenbaar is. Ons beweging na die preek toe behoort ons daarom te oortuig dat die teksgedeelte self vir ons genoegsaam is (Barth).

Die voorstel is dat ons hierdie gedeelte kan doop as Jakob se verlammende oorwinning, of as Jakob se geseënde nederlaag . Die perspektiewe van verlammende oorwinning en geseënde nederlaag gaan hand aan hand. Daar is ‘n dialektiek aanwesig.

Dit kan goed wees om die perikoop weer in die preek oor te vertel. Die bedoeling is om wat in die verhaal gebeur, te beklemtoon en nuanses uit te wys. Jakob is alleen. Jakob word aangeval. Die twee teenstanders beskik oor gelyke vermoë. Die vreemdeling probeer die oorhand kry deur Jakob op die heup te slaan. Dit werk nie. Gewond, kom daar ‘n skietstilstand. Jakob beskik oor die vermoë om die vreemdeling terug te hou, of teen dagbreek te laat gaan. Daar is ‘n oordrag van mag wanneer God ʼn naam, Israel, aanbied. Daar is Jakob se waagmoed om God se naam te vra. Israel word ʼn nuwe entiteit deur seën en stryd. Hy word in sy oorwinning gewond, maar hy ly ook ‘n nederlaag. Tog is dit ‘n geseënde nederlaag.

Ons leer God hier ken as ‘n God wat seën sowel as verwond. Ons ontmoet Jakob aan die begin in ‘n toestand van kwesbaarheid. Hy is alleen, op weg na ‘n stryd met Esau. Sy lewe word bedreig. Dan kom God as vreemdeling na hom toe, selfs as opponent. Dit getuig van God wat die mens ook in sy/haar nood soos ‘n opponent ontmoet. In hierdie omstandigheid is dit asof God nie vertroos, versorg of genees nie. God staan téénoor die mens in nood! Dit blyk dat God hier Jakob se grootste vyand is. God bied vir Jakob as’t ware ‘n geleentheid om vir homself op te staan.

Deur die geleentheid om op te staan, word Jakob ‘n waardige opponent vir God (dit is die manier waarop die verhaal uitspeel). Jakob word in sy worsteling met en opstand teen die vreemdeling geseën, maar terselfdertyd tot mankheid geslaan.

Hierdie seën is een wat vreemd is aan hoe mense vandag oor seën dink. Vanuit ʼn teologie van voorspoed, is die seën van God altyd net positief. Dit is ‘n seën tot finansiële voorspoed, gesondheid, emosionele genesing, werksgeleenthede, vooruitgang, gemak, goeie verhoudings en dien tot persoonlike verryking. In hierdie ontmoetingsgebeure, vertoon die seën egter ʼn dialektiese karakter. Die seën hou ook teenkanting en selfs vloek in.

Dit is inderdaad ʼn ontwrigtende gedagte. Hoe kan ons dit met verantwoordelikheid in die prediking aan die orde stel? Beteken dit God se seën is telkens met uitdagings gevul? Is God se seën só kompleks en ambivalent dat geen mens daarop kan roem dat God iemand voortrek nie? Open God se seën nie juis die geleentheid van die onmoontlike wat moontlik word nie?

Die nuutheid van Israel as geloofsgemeenskap en die mag wat God aan Israel gee, verteenwoordig hier nie individue wat ‘n ervaring met God ondergaan het nie (selfs nie ‘n volk of homogene groep mense nie). Dit het eerder betrekking op Israel as geloofsgemeenskap. In Nuwe Testamentiese taal is die Israel die kerk as liggaam van Christus. Dié geloofsgemeenskap is die nuwe entiteit wat as lig en sout God in die wêreld verteenwoordig.

Dié geloofsgemeenskap is die entiteit wat met God stoei, en altyd sal stoei. Dit gaan om die nuutheid van ‘n verhouding met God wat nêrens anders bestaan nie. Die geloofsgemeenskap het sy gesag van God ontvang, maar dit is nie die gesag van die wêreld nie. Hierdie gesag is anders, vreemd, ‘n gesag wat gekenmerk word deur oorwinning sowel as nederlaag. Dit is ‘n gesag wat nie vir die wyses van die wêreld sin maak nie (1 Kor 1:25).

Die uitwerking van dié gesag word gesien in hoe Jakob in Genesis 33 vir Esau ontmoet. Jakob gaan waagmoedig vooruit en buig sewe keer voor Esau. Anders gestel, die nuwe gesag van die geloofsgemeenskap is een van nederigheid, ‘n manier om die wêreld deur die diens aan ander en die neerlegging van wapens te benader. Wanneer die geloofsgemeenskap met God gestoei het en gelykop uitkom, is daar gemeenskap met God.

Hierdie verhaal herinner ons aan die identiteit van die geloofsgemeenskap. Dit is ‘n identiteit wat nie van sigself kom nie. Dit dra die karakter van seën sowel as verwonding. Die geloofsgemeenskap is ʼn strydende gemeenskap wat voordurend met God worstel. Dié worsteling lê daarin om God se vreemde, verrassende en uitdagende wil vir sy skepping te hoor, op te staan en die geleenthede van stryd in die wêreld met vertroue op God tegemoet te gaan.

Bibliografie

Barth, K 1991. Homiletics. Westminster/John Knox Press: Louiseville; Brueggemann, W 1982. Genesis. Interpretation: A Bible Commentary for Teaching and Preaching. John Knox Press: Atlanta; Fretheim, TE 1994. “Genesis 32:22-32, Jacob wrestling with God” In: The New Interpreter’s Bible: Volume 1, pp 564-570. Abingdon Press: Nashville; Hatzopoulos, Athanasios 1996. “The Struggle for a Blessing, Reflections on Genesis 32:24-31,”  Ecumenical Review; Holmgren, Fredrick C 1990. “Holding Your Own Against God! Genesis 32:22-32 (In the Context of Genesis 31-33),”  Interpretation .

© Missio 2024 | All rights reserved.