Negende Sondag in Koninkrykstyd

Picture of Woord en Fees
This content is only available to members.

Sections

Liturgiese voorstel

Leesroostertekste

Sleutelteks: Lukas 12:32-40
Ander tekste: Jesaja 1:1, 10-20; Psalm 50:1-8, 22-23; Hebreërs 11:1-3, 8-16

Inleiding

Op die negende Sondag in Koninkrykstyd begin vanjaar se Seisoen van Barmhartigheid ook. Die sleutelteks vir hierdie Sondag kom uit Lukas en dien as ʼn vertrekpunt wat ons in ’n goeie stemming bring vir die volgende vier Sondae. Jesus is in hierdie teks aan die woord en vertel wat gebeur wanneer mense deur die Evangelie verander word. Vir Jesus gaan dit hier oor wat werklik belangrik is – gelowiges, en wat dit beteken om Christus heelhartig te volg. Dit gaan nie net daaroor om alles weg te gee en Jesus te volg nie. Jesus wil ons aanmoedig om ons harte oop te maak vir ander en te leef binne die werklikheid van die koninkryk van God.

Diensorde

God bring ons byeen

Aanvangslied
Lied 471 “Soek allereers die koninkryk van God”

Aanvangswoord 
V: Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop.
G: Om oortuig te wees van dinge wat ons nie sien nie.

V: Dit is vanweë hulle geloof dat daar met lof aangaande die mense van ouds getuig is.
G: Ons getuig saam met hulle van God se goedheid.

V: Omdat ons glo, weet ons dat die wêreld deur God se woord geskep is.
G: Die sigbare dinge het dus nie ontstaan uit iets wat ons sien nie.

V: Ons loof God vir al sy goeie werke.
G: Mag ons iets sigbaar maak van God se liefde en genade.

Almal: Amen
– uit Hebreërs 11:1-3

Seëngroet
Sien die basisliturgie vir die Seisoen van Barmhartigheid.

Lofsang
Lied 209 “Heer, met my hele hart”

Skuldbelydenis
Genadevolle God,
ons sondes is te swaar om te dra,
te werklik om weg te steek
en te diep om te ongedaan te maak.
Vergewe dit wat ons lippe te veel bewe om te noem
en wat ons harte nie meer kan dra nie.
Heer, maak ons vry van die verlede wat ons nie kan verander nie;
maak ons oop vir ’n toekoms waar ons verander word,
en gee ons die genade om al meer in u beeld te groei,
deur Jesus Christus wat sy lewe gegee het
sodat ons met Hom in versoening kan leef.
Amen.
– vertaal en aangepas uit Volmoed Morning Prayers

Genadeverkondiging
Lied 511/NSG 278 “Lei ons, Lig”

Diens van die Woord

Gebed om die opening van die Woord
Brose ons; heilige Een,
ons betree hierdie oomblik met oop hande.

Met ’n diep asem, laat gaan ons:
’n swaar gemoed,
ons angstighede
en onsekerhede.

Ons ontvang die stilte
en word omring deur u sagte lig.
Ons maak ons oop vir u misterie.

Mag ons deur U heelheid vind;
versterk word deur die onbeskryflike;
bemoedig word deur eenvoud,
en gevul word met vreugde,
wat ons in U alleen vind.
Amen.
– Ted Loder, vertaal en aangepas uit Life Prayers

Skriflesing uit die Ou Testament
Jesaja 1:1, 10-20

Skriflesing uit die Psalms
Psalm 50:1-8, 22-23

Skriflesing uit die Nuwe Testament
Lukas 12: 32-40

Diens van die Tafel

Maak die tafel gereed.

Gebed
Heer, bedaar ons gedagtes en maak ons harte stil terwyl ons u nagmaaltafel nader. Ons bid, Heer, dat U ons al nader sal trek in gemeenskap met U terwyl ons saam die tekens van brood en wyn gebruik. Ons dink nie net na oor u kruisdood nie, maar word ook herinner dat elkeen welkom is by u tafel. Dankie vir u liefde en genade. Laat ons dit teenoor ons naaste uitleef. Laat ons met hoop vervul word terwyl ons saam om die tafel oor u liefde nadink. Amen.

Instelling en gebruik van nagmaal

God stuur ons uit

Oomblik van toewyding
Gebruik hierdie oomblik aan die einde van die diens om vir elkeen die geleentheid te gee om hulle opnuut aan God se roeping toe te wy deur die volgende gebed te bid:
Ek gee my lewe aan U oor.
Verfris my geheue, my begrip en my wil.
Wat ook al ek het of besit, kom uit u hand:
Aan U gee ek dit heelhartig oor
ter uitbreiding van u koninkryk.
Ek soek net u liefde.
Deur u genade is ek ryk genoeg,
ek het niks meer nodig nie.
Amen.
– Ignatius Loyola, vertaal en aangepas uit Volmoed Morning Prayers

Slotlied
Flam 39 “Ek wil kom stil word”

Seën
Mag God se liefde alleen vir ons goed genoeg wees. Mag die woorde en dade van Jesus Christus ons lei en inspireer om meer te gee en meer te doen. Mag die Heilige Gees ons vernuwe en bemoedig om mekaar met liefde te dien. Amen.

Musiek en sang

Slotlied: Lied 440/NSG 180 “Die Here salf ons met sy Gees”

Preekstudie – Lukas 12:13-21

Konteks

Koninkrykstyd
Tydens koninkrykstyd word daar veral op barmhartigheid, evangelisasie en praktiese dienslewering binne en buite die kerk gefokus. In hierdie gedeelte val die soeklig meer op die toekoms, die onbekende van die wederkoms, maar tog ook op die sekerheid dat die Here weer kom. Daarom die vrae van wanneer, waar en hoe wat die gelowiges se onsekerheid en selfs bangheid en kommer moet aanspreek. 

Missionaliteit
Geloofsgroei ontstaan in die sekerheid dat dit God Drie-enig is wat gelowiges, asook die kerk roep (missio Dei) om eerstens self gereed te wees om die Here te ontmoet, maar ook om te sorg dat ander gereed is om die Here by die wederkoms te ontmoet. 

Simboliek
Lees gerus in die preekstudie oor Lukas 12:13-21 wat AJ Small oor rituele (en simbole) skryf. Dit is veral nodig om hieraan aandag te gee in ’n tyd van onsekerheid met die oog op die wederkoms. Dit gee gelowiges gemoedsrus dat hulle geloof in die Here nie tevergeefs is en was nie.

 Histories
Sien asseblief die verwysing in die Preekstudie van 31 Julie 2022 na David Bosch se identifisering van vier groot Joodse groepe, elkeen met hulle eie politieke en teologiese agenda: Fariseërs, Sadduseërs, Esseners en Selote. Bosch noem ook interne faktore wat tot onderlinge spanning gelei het: Die kerk en sinagoge verdeel in twee vyandige kampe; die kerk is nou vasgevang in ’n ingewikkelde organisasie met allerlei probleme. 

Die gelowiges in Lukas se tyd was nie meer so toegewyd aan die evangelie soos hulle voorgangers was nie. ’n Onvervulde wederkomsverwagting het hiertoe bygedra. In ons teksgedeelte kom die spanning vanweë hulle onderskeie standpunte oor die wederkoms na vore. Dit veroorsaak dat van die Christene onder meer na hulle ou gewoontes terugkeer. Lukas skryf hierdie gedeelte as antwoord op hierdie spanning wat die kerk en haar lidmate in 80 nC geteister het. Hy gebruik die Evangelie van Markus as bron, maar hy besef dat die gelowiges van sy tyd in ’n nuwe konteks met nuwe vrae en nuwe uitdagings leef. Daarom vertel hy van Jesus se verlossingswerk op sodanige wyse dat dit die gelowiges opnuut aangryp.

Hy praat dus oor die gelowiges se wederkomsverwagting op ’n spesifieke manier. In Draers van die waarheid noem Johann du Plessis dit ’n tweeslagtigheid by Lukas. Eers maak Lukas dit duidelik dat Jesus nie nou hier by hulle is nie. Hy laat egter nie buite rekening dat Jesus redelik gou verwag word nie (21:29-33). Tog moet die gelowiges ook besef dat die wederkoms nie sommer net gaan plaasvind nie. Wat seker is, is dat dit skielik en onverwags sal wees. Meer nog: Hierdie “wagtyd” vra van gelowiges om te getuig dat Jesus Christus die Verlosser is. 

Ongelukkig word hierdie boodskap nie oral en altyd positief ervaar nie. Trouens, dit lei tot hewige konflik binne en buite die kerk. Die oplossing is om aan Jesus Christus, die Messias, vas te hou en om dit saam met mekaar te vier aan die nagmaalstafel van waar hulle kan uitgaan om ’n verskil in die wêreld te maak. Dit word deur ons teksgedeelte onderstreep.

 Teks

Die afbakening van hierdie teksgedeelte vind nie oral byval nie. Lukas 12:32-34 is meestal ’n aparte gedeelte, met Lukas 12:35-48 wat ook weer op sy eie staan. Binne laasgenoemde is daar ’n verdere verdeling, naamlik Lukas 12:35-40 en 12:41-48. Tog vorm Lukas 12:22-53 ’n eenheid, want dit vertel van Jesus se gesprek met sy volgelinge. 

Lukas 12:22-34 vertel hoe nutteloos dit is om jou oor jou daaglikse lewe te bekommer – oor wat jy moet eet en aantrek. Na aanleiding van hierdie gedeelte, sê JP Versteeg dat kraaie en lelies se doel onderskeidelik is om te vlieg of te blom. Net dit en niks meer nie. Vir die res wat hulle nodig het, sorg die Here. So is mense se doel om God te verheerlik, terwyl hulle die oog op sy koninkryk hou. Hulle doel is nie om te verseker hoe lank hulle gaan leef nie. Ook nie om hulle te bekommer oor wat hulle gaan eet of aantrek nie. Dit is futiel om daarop te fokus en maak hulle moeg, want hulle kan tog niks daaraan doen nie. So verval hulle in moedeloosheid. Dit is egter God se werk. Hy sorg vir hulle. Daarom kom elke dag uit sy hand. Om so te leef staan direk teenoor hulle lewenswyse. Dit veroorsaak spanning oor die hier en nou wat gekoppel word aan die hoeveelheid aardse besittings wat hulle het. 

Tog sê Lukas 12:32-34 daar is wel ’n groepie gelowiges wat dit verstaan. Ongelukkig leef hulle in die wêreld en ook in die kerk wat dit nie verstaan nie. Daarom is hulle bang. Lukas troos hulle met die versekering dat as jy uit God se sorg leef, jy niks meer en ook niks anders nodig het nie. Dit is waarop hulle hulle harte moet fokus. 

In Lukas 12:35-48 praat Lukas met die gelowiges oor ’n nuwe aspek van hulle verhouding met die Here. Dit is egter nie losstaande van die vorige gedeelte nie. Dit gaan nou daaroor om aktief te wag op die onverwagse terugkeer van die Here. Daarom word hierdie gedeelte soos volg onderverdeel:

  • Lukas 12:35-40: Die gelykenis van die waaksame slaaf.
  • Lukas 12:41: Petrus se vraag aan die Here oor wat dit beteken om waaksaam te wees.
  • Lukas 12:42-48: Jesus antwoord met ’n gelykenis oor die beloning van dié wat waaksaam is.
  • Lukas 12:49-59 sluit hierdie gedeelte oor die koninkryk af met die vermaning dat Jesus se koms stryd en verdeeldheid tot gevolg sal hê. So word Lukas 12:13 ev se vraag dan ook beantwoord, maar dit gaan oor in Lukas 13:1 ev se oproep tot bekering. Waar dit nie gebeur nie, sal daar ellende wees (uitkap van die vyeboom, Luk 13:6 ev). 

In ons teksgedeelte verbind Lukas die eskatologie en die ekonomie aan mekaar, aldus Annes Nel. Lukas 12:35-40 handel oor die gelowige wat gereed moet wees vir Jesus se tweede koms. Ongelukkig is onsekerheid ’n integrale deel van hierdie wag. Nie oor die feit van die wederkoms nie, maar oor die hoe, waar en wanneer. Onsekerheid lei op sy beurt weer tot wanhoop, maar ook tot afvalligheid – die terugkeer na ’n lewe wat op die mens self en op sy versorging van homself ingestel is. 

Daarom gebruik Lukas die beeld van die eienaar wat van die bruilofsmaaltyd terugkeer, aangesien dit ’n vreugdevolle gebeurtenis is. Dit sluit ook aan by die gelykenis van die vyf diensmeisies wie se fakkels aanhou brand het. Die tweede beeld wat gebruik word, is dié van ’n dief wat onverwags toeslaan. Ook dit is bekend aan die hoorders. Albei hierdie beelde versterk die besef dat die wederkoms soos ’n dief in die nag kom, en dat hulle gereed moet wees. 

Gereedheid impliseer ’n lewenswyse van onverdeelde fokus op die Here en nie beheptheid met die eie ek nie. Om hulle hierin te bemoedig, sê Jesus dat Hy met sy lewe aan die kruis die hoogste prys betaal het sodat niks, ook nie in hierdie “tussentyd”, hulle uit sy hand sal ruk nie. Daarom getuig sy lewe van diens aan ander. In navolging van Jesus moet hulle ook ander dien (bedien) en nie wag om gedien te word nie. Op hierdie manier word die wag op die wederkoms ’n positiewe ervaring.

Preekstudie

My kleindogter, Lané, speel graag wegkruipertjie. Sy hou haar twee ogies styf toe, tel tot tien en roep dan: “Here I come, ready or not,” waarna sy opgewonde haar ma begin soek. So sê die Here Jesus vir gelowiges: “Here I come, ready or not.” Daarom moet gelowiges altyd gereed wees om die Here te ontmoet wanneer Hy weer kom!

Om dit te verduidelik, bespreek Jesus twee alledaagse gebeure in Lukas 12 vanaf vers 32. Eers fokus Hy op ’n huiseienaar wie se verantwoordelikheid dit is om sy huis teen diewe te beskerm. As hy geweet het wanneer hulle kom, kon hy hulle ingewag het. Ongelukkig kom hulle onaangekondig; daarom moet hy bedags, maar ook snags voorsorg tref vir ingeval hulle hom sou verras en beroof. Dit vra dat hy altyd waaksaam en op sy hoede sal wees. 

Tweedens fokus Jesus op ’n huishulp wie se verantwoordelikheid dit is om die eienaar se huis netjies en skoon te maak. Om dit te doen moet sy haar lang linnerok met ’n gordel om die heupe vasbind. Sy doen dit sodat sy oral kan skoonmaak en nie verhinder word as sy wil buk of strek nie; ook sodat sy nie struikel en val terwyl sy die eienaar se besittings ronddra nie. Dit moet ’n daaglikse, selfs uurlikse roetine wees, want sy weet nie wanneer die eienaar van die troue af gaan terugkom nie. Dit gaan heel waarskynlik onverwags wees – ná middernag of eers met hanekraai. Die huishulp moet egter altyd op haar pos wees, gereed om die eienaar by die deur te ontmoet. Dan moet die huis se ligte brand, die tafel moet gedek wees, daar moet kos in die oond wees en die bed moet skoon oorgetrek wees sodat dit vir die eienaar lekker sal wees om huis toe te kom. Gebeur dit nie, ervaar die eienaar teleurstelling, selfs verlies, en is daar geen vreugde in daardie huis nie.

So moet gelowiges altyd gereed wees om die Here te ontmoet, want Hy kom soos ’n dief in die nag, onverwags, skielik. Dit is egter nie lekker om so in onsekerheid te leef nie. Dink gerus terug oor die afgelope maande tydens die Covid-19-pandemie en die gepaardgaande inperkingsregulasies: die onsekerheid wat dit geskep het – ekonomies, polities en godsdienstig – en hoe dit ons fisiek, emosioneel en geestelik uitgeput het. Dit het ons laat twyfel oor die lewe, oor die toekoms, oor ons eie menswees. Ewe skielik het ons nie meer antwoorde gehad nie. Dit het die fondamente onder ons uitgeruk. Uiteindelik het ons oor die Here begin twyfel.

In die proses van onsekerheid is ons aandag afgetrek. In plaas daarvan om te fokus op dit wat ons veilig en gesond hou, fokus ons op begeertes waarsonder ons oortuig is ons nie kan leef nie. Ons eie daaglikse brood en botter word die hoofsaak. Om geld en besittings te hê word ons hoofdoel. Om te oorleef word allesoorheersend. In die proses kyk ons by ander se nood verby. Meer nog: Ons kyk by die mens wat in nood verkeer, verby. So word ons ons eie grootste struikelblok om gereed te wees om die Here weer te ontmoet. Boonop word ons ook ’n struikelblok vir ander om die Here te ontmoet. 

Vir dié wat in hierdie omstandighede leef, soos ook die mense van sy tyd, help die Here om fokus te behou en steeds gereed te wees om Hom te ontmoet. So fokus die Here op Homself. In Paulus se woorde in Filippense 2 (vanaf vers 6) klou Jesus nie met alle mag vas aan sy hemelse bestaan waar Hy aan God se regterhand sit nie. Hy laat dit los en word ’n slaaf. Dan bind Hy sy linnekleed om sy heupe vas en was die dissipels se voete. Daarna staan Hy op en bedien hulle aan tafel sodat hulle die sekerheid kan hê dat geen onsekerheid hulle ooit uit sy hand sal ruk nie. Dít is ook ons waarborg vandag te midde van die onseker tye waarin ons leef. Daarom kan Lukas se eerste lesers en ook ons vandag, gereed wees om Jesus met sy tweede koms, die wederkoms, te ontmoet. 

Dit vra dat ons fokus sal verskuif. Weg van die eie ek, die onsekerhede, die twyfel en bangheid. Waarheen moet ons dit skuif? Weg van onsself en ons eie behoeftes sodat ons in hierdie tyd van onsekerheid en verwagting ons moue kan oprol en ’n positiewe verskil in ander se lewe kan maak. Hiervoor gee die Here vir ons die krag.

Het jy dit al probeer? Is jy gereed om daarmee te begin? Ons doen dit nie omdat alles perfek in plek val nie. Ook nie omdat ons altyd die Here se wil verstaan nie, of altyd ewe lief is vir ons naaste en om hulle belange te dien nie. Ons doen dit omdat ons sekerheid oor die toekoms op Golgota in Jesus se bloed geskryf is. Daarom kan ons met vreugde op Jesus se tweede koms wag terwyl ons met geloof ons gawes, geld, goed, grond en geleenthede gebruik om ’n praktiese verskil in ander se lewensomstandighede te maak.

Dit is ’n hartseer dag as ons fokus op ons eie oorlewing ons hiervoor blind maak. Daarom sê die Here vandag vir ons elkeen: “Here I come, ready or not!”

Om ons te help om dit te onthou, gee die Here vir ons ’n onthou-simbool, ’n olyftakkie. Hoekom ’n olyftakkie? ’n Olyfboom is nie baie indrukwekkend nie. Dit groei nie so hoog soos ’n bloekomboom nie. Sy hout is nie so waardevol soos geelhout nie en sy blomme is nie so mooi soos ’n roos s’n nie. Tog dring sy wortels die grond tot so diep as ses meter in sodat hy veral in droë tye kan oorleef. So ’n boom kan tot sewe-en-vyftig liter olie per jaar en vragte olywe lewer.

Deur die eeue is die olyfboom ook as simbool van onsterflikheid, versoening en oorwinning gebruik. By Griekse troues is dit ’n simbool vir geluk, in Japan vir vriendskap en sukses, en in China vir standvastigheid en vrygewigheid. Vir die Jode simboliseer dit skoonheid en veiligheid. Die Verenigde Nasies gebruik dit as simbool vir vrede. 

In die Bybel lees ons dat die tweede duif vir Noag ’n olyftak gebring het as simbool van goeie nuus, van lewe en oorlewing, van hoop en ’n nuwe toekoms. Ons lees ook in Sagaria 4:11 die volgende: “Toe vra ek vir die engel: ‘Wat beteken daardie twee olyfbome weerskante van die kandelaar?’ En verder het ek ook vir hom gevra: ‘Wat beteken die twee bondels olyftakkies langs die twee goue pype waaruit die goudkleurige olie stroom?’ Hy het vir my gesê: ‘Weet jy nie wat dit beteken nie?’ en ek het gesê: ‘Nee, Meneer.’ Toe sê hy: ‘Dit is die twee gesalfdes wat in diens staan van Hom aan wie die hele aarde behoort.’”

So is die olyfboom ’n simbool om ons te herinner dat ons altyd in diens van die Here is. In die klein dingetjies, asook in die groot dinge, ongeag wie ons is of wat ons omstandighede is. Ons moet in sy Naam diensbaar wees. Nie deur staat te maak op ons eie vermoëns of status nie, maar omdat Jesus dit eerste vir ons gedoen het. So is ons gereed om die Here te ontmoet, want, sê Hy: “Here I come, ready or not!”

Bibliografie

Agenbag, André (19 Augustus 2001): Tiende Sondag in Koninkrykstyd (Lukas 12:49-56) se verwysing na Moessner, DP. Lord of the banquet: The literary and theological significance of the Lukan travel narrative. Minneapolis: Fortress Press; Bosch, David J. Lukas-Handelinge, twee boeke vir ons tyd. Bybelstudies in 1988 te Mamelodi op versoek van die Noord-Transvaalse Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk van Afrika en weergegee deur Arnau van Wyngaard, Piet Retief, April 2014; Burger, CW et al 1987. Riglyne vir prediking oor die gelykenisse en wonderverhale. Woord teen die Lig II/2 (BA Müller), 140 ev; Du Plessis, Johann, 2002. Die Jesusgemeente in die Lukasevangelie, in Coenie Burger & Ian Nell (reds), Nuwe-Testamentiese visies vir die gemeente; Du Toit, AB et al 1980. Handleiding by die Nuwe Testament. Band IV, Die sinoptiese Evangelies en Handelinge: Inleiding en teologie; Small, Alwyn Johannes 2004. Die gebruik van rituele en simbole binne die erediens as draers van hoop. MA-tesis, Universiteit van Pretoria; Tannehill, RC 1986. (Eks elf was deel van Moessner se navorsing in 1983 te Universiteit van Basel); Die Bybellennium 2009. Lukas (Isak du Plessis), 1487 ev; Dink Jeug. Huisgeloof. Meer oor die kerkjaar, Desember 11, 2020; Preekstudies met liturgiese voorstelle gebaseer op die kerkjaar, Jaar A, Advent 2000 tot Koninkrykstyd 2001 (Annes Nel), 243 ev; Preekstudies met liturgiese voorstelle gebaseer op die kerkjaar, Jaar C, Advent 2012 tot Koninkrykstyd 2013 (Deon Beyers), 221 ev.

© Missio 2024 | All rights reserved.