Negende Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Fokusteks

Kolossense 3:1-11

Ander tekste

Hosea 11:1-11 (My liefde brand te sterk.);
Psalm 107:1-9, 43 (Loof die Here want Hy is goed.);
Lukas 12:13-21 (Gelykenis van die ryk dwaas).

Kolossense 3:1-11
Julle is saam met Christus uit die dood opgewek
3 Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit. 2Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie, 3want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God. 4Wanneer Christus, wat julle lewe is, by sy wederkoms verskyn, sal julle ook saam met Hom verskyn en in sy heerlikheid deel.

Die ou en die nuwe lewe
5Daarom moet julle die aardse dinge doodmaak wat nog deel van julle lewe is: onsedelikheid, onreinheid, wellus, slegte begeertes, en gierigheid, wat afgodery is. 6Deur sulke dinge kom die straf van God oor die mense wat aan Hom ongehoorsaam is. 7Vroeër het julle ook aan dié dinge meegedoen toe julle nog daarin gelewe het. 8Maar nou moet julle al hierdie dinge laat staan: woede, haat, nyd en gevloek. Vuil taal moet daar nie uit julle mond kom nie. 9En moenie vir mekaar lieg nie. Julle het met die ou, sondige mens en sy gewoontes gebreek 10en leef nou die lewe van die nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot die volle kennis van God. 11Hier is dit nie van belang of iemand Griek of Jood is nie, besny of nie besny nie, andertalig, onbeskaaf, slaaf of vry nie. Hier is Christus alles en in almal.

12Julle is die uitverkore volk van God wat Hy baie lief het. Daarom moet julle meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam wees. 13Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe. 14Bo dit alles moet julle mekaar liefhê. Dit is die band wat julle tot volmaakte eenheid saambind. 15En die vrede wat Christus gee, moet in julle lewens die deurslag gee. God het julle immers geroep om as lede van een liggaam in vrede met mekaar te lewe. Wees altyd dankbaar. 16Die boodskap van Christus moet in sy volle rykdom in julle bly. Leer en onderrig mekaar met alle wysheid. Met dankbaarheid in julle harte moet julle psalms, lofgesange en ander geestelike liedere tot eer van God sing. 17En wat julle ook al sê of doen, sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.

Eksegeties

Die blikrigting in die brief aan die Kolossense verander by hoofstuk 3 van teologiese begronding na etiek (Moule). Tot hier het die skrywer die negatiewe aspekte van die dwaling in en om Kolosse uitgewys en die gemeente se aandag op die kern van die evangelie toegespits. Nou beklemtoon hy die “praktiese implikasies” vir ons geloofslewe as mense wat begryp wat Christus vir ons bewerk het (1:13-14), dat Hy heerskappy voer oor alles, dat ons in sy dood en opstanding gedoop is, dat ons saam met Hom lewe (2:6-15) en wat die groot misleiding van wettiese voorskrifte en selfgemaakte godsdiens werklik is (2:16-23).

Vers 1-4: In wat volg, bevestig/herhaal Paulus dit wat fundamenteel van die gemeente waar is en waarop hy alles wat hy verder leer, bou. Die oproep in die eerste vier verse is: Soek die dinge daarbo waar Christus is.

“Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is.” Dié uitdrukking sluit aan by 2:12, en 20. Dis nie voorwaardelik nie maar redegewend. Hy help gelowiges insien dat hulle radikaal veranderde geestelike toestand hulle rig om nuut en anders te kyk en doen.

“Soek / bedink die dinge daarbo / nie op aarde / waar Christus is / aan die regterhand van God.” Kyk na, stel julle in op, strewe na die dinge daarbo waar Christus is, aan die regterhand van God. Dit is die plek van sy verheerliking, van heiligheid, van voorbidding en van krag, want daarvandaan heers Hy as die Messias (vgl Ps 110:1). Dáárop moet die gemeente hulle gedagtes rig en nie op die aardse dinge/beginsels nie.

“Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God.” Iets radikaals het met die gemeente, met elke lid, gebeur. In 2:12 is dit alreeds uitgespel. In die doop is hulle “begrawe en opgewek”. Paulus herbeklemtoon dié fundamentele waarheid weer hier. Julle het gesterf, is begrawe in Christus en nou leef julle in Hom wat aan God se regterhand is (vgl Rom 6). Julle lewe is weggebêre saam met Christus by God. Dit beteken julle lewe is in Christus onwankelbaar vas en seker, geborge.

“Wanneer Christus, wat julle lewe is, by sy wederkoms verskyn, sal julle ook saam met Hom verskyn en in sy heerlikheid deel.” Onthou, Christus kom weer! Al word Hy tans nie as Heerser erken nie, al ignoreer of verwerp die wêreld Hom, sy herverskyning is seker. Ons as gelowiges se lewe is aan sy wederkoms verbind. Ons geloof in Hom sal bevestig word. Ons sal as erfenis saam met Hom verskyn en in sy heerlikheid, oorwinning, heerskappy en koningskap deel.

Vers 5-9: Paulus se klem val in hierdie perikoop op die ondeugde waarvan ons ons moet bekeer. In die volgende perikoop beklemtoon hy die deugde wat aangehang moet word. Die lede op aarde wat doodgemaak moet word, sinspeel op ons sterwe en opstanding saam met Christus (vgl Rom 8:13). Daar is sprake van werke van die liggaam, dinge op aarde (3:2). Dit is nie die verminking van die liggaam wat verwag word, soos die dwaalleer in Kolosse voorgestaan het nie, maar die wegdraai van die self en begeertes, en die bestryding van konkrete sondes. Sondige praktyke op seksuele gebied word hier spesifiek beklemtoon omdat die liggaam se begeertes en aksies radikaal onder dissipline van die Heilige Gees gebring moet word (Carson).

“Hoerery/onsedelikheid” word telkens in Paulus se briewe verbied (bv Gal 5:19; 1 Kor 6:9; Ef 5:3). Paulus lys meermale sedelike ondeugde waarvan Christus ons bevry (Moule verwys na 1 Kor 6:9-11). Die samelewing het ’n toeskietlike houding ingeneem ten opsigte van onwettige en buitehuwelikse geslagsverkeer eerder as om die Christelike sedes te handhaaf. Saam hiermee word “onreinheid” afgewys wat op onsuiwer motiewe dui (vgl 1 Tes 2:3). “Hartstog/wellus” lei weer tot seksuele oortredings (vgl Rom 1:26; 1 Tes 4:5). “Slegte begeertes” is op dieselfde vlak en kan lei tot gedagtes wat vrye teuels gegee word en tot hoerery kan lei (Gal 5:16, 24).

“Gierigheid” word hiernaas as ’n soortgelyke sonde genoem wat mense se fokus van God af wegtrek en so tot afgodediens lei. God se toorn/straf/oordeel kom dus oor mense wat dié sondes doen, want dit beteken ongehoorsaamheid aan God en weerspreek die Here se gesag.

Julle het vroeër self ook hierdie dinge gedoen toe julle nog in julle vorige lewe was. Voor Christus die heerskappy in julle lewe oorgeneem het. Nou moet julle egter al daardie dinge laat staan/aflê/uittrek soos klere. Elders gebruik Paulus dieselfde uitdrukking om die aflê van die werke van die duisternis te beklemtoon (vgl Rom 13:12; Ef 4:22). Hy noem verder ’n paar voorbeelde van gesindhede/emosies wat op verkeerde dade uitloop: “Toorn” (OAV; opvlieëndheid) en “woede”/haat (NAV) is saaklik dieselfde. “Boosheid”/nyd is ’n ondeug wat menslike verhoudinge versteur. Laster/gevloek (Gr blasfemia) kan teen God gerig wees, maar is hier waarskynlik bewuste onwaarhede wat teen ’n medemens uitgespreek word. Skandelike/vuil taal of smadelike praatjies wat julle medemense kan skade aandoen, moenie uit julle mond kom nie (v 9). Die gemeente se kosmopolitiese karakter kon juis hiertoe aanleiding gegee het. Omdat Paulus gesonde onderlinge verhoudinge binne die gemeente hoog geag het en wou bevorder, voeg hy ook die vermaning by dat hulle nie onderling leuens moet vertel nie.

Al hierdie vermaninge bou op die werklikheid dat die gelowiges reeds met die ou, sondige mens en sy gewoontes gebreek het/dit afgelê/uitgetrek het. Dit beteken eintlik meer as ’n uiterlike aflê van iets, dit is die verandering van lewenswandel wat nuwe werke en gewoontes openbaar. Dit geld nie slegs die individuele gelowiges nie, maar die korporatiewe persoonlikheid van die gemeente. Die eintlike punt is, kyk weg van julleself en julle eie begeertes, hou op fokus op julleself!

Vers 10-11: Teenoor die uittrek/aflê van die ou mens (v 8-9), moet julle (OAV weergawe) julle “met die nuwe mens beklee” (v 10; vgl Ef 2:15), of (NAV weergawe) “nou die lewe van die nuwe mens leef” (vgl Ef 4:24). Die tydsaanduiding hier beklemtoon ’n proses wat voortduur. Ook in Romeine 13:14 word die “aantrek van die Here Jesus Christus” as ’n voortgaande roeping verstaan, onder die leiding en met die krag van die Heilige Gees (Ridderbos). Elders by 2 Korintiërs 4:16 skryf Paulus dat ons van dag tot dag innerlik vernuwe word. Ons moet die proses van aantrek/bekleding, die lewe van die nuwe mens leef, terwyl ons “al hoe meer vernuwe” word na die “beeld van ons Skepper” en al hoe meer tot die “volle kennis van God” kom. Ons word vernuwe tot ware beelddraers van God, soos ons oorspronklik bedoel “was” om te wees (vgl Gen 1:26) en nou in Christus herstel “is” om te wees (1:15). Die “volle kennis” van God se wil word ook in Paulus se voorbidding vir die gemeente beklemtoon (Kol 1:9, 10). By 2:2 verduidelik Paulus dat die doel van sy bemoeienis met die Kolossense is om hulle te bemoedig sodat hulle in liefde aan mekaar verbind, saam sal strewe na “diep en volledige insig” sodat hulle “God se geheimenis” kan ken. Dié geheimenis “is Christus”. Ons strewe na volle insig, ons toename in kennis van God se wil, word in Christus beantwoord. Trouens, Kolossense 2:9 beklemtoon dat die volheid van God in Christus beliggaam is/in Hom woon.

Teen dié agtergrond en in aansluiting by 3:10 beklemtoon 3:11 ’n merkwaardige dog vanselfsprekende grondwaarheid wat Paulus se prediking wesenlik beheers (Ridderbos). ’n Andersoortige gemeenskap spruit uit ons nuwe bestaanswyse “in Christus”. In hierdie ander-soortige gemeenskap, waar ons die nuwe lewe uitleef in die lig van die kennis van God se wil, geld verskillende natuurlike/ou teenstellinge, skeidinge gewoon nie. Die “godsdienstig-kultiese” teenstellinge tussen die Grieke en Jode, asook die besnedenes en onbesnedenes; die “kulturele” teenstellinge tussen Grieke en nie-Grieke/ andertaliges (die Grieke het hulle wat nie Grieks gepraat het nie barbare genoem, omdat hulle vreemdelinge was vir die Griekse kultuur), insluitend die mees onbeskaafde (in die sin van oningeligte/onkundige) groep onder die sogenaamde barbare, naamlik die Skite aan die Swart see (Du Plessis; vgl Carson sou die Jode waarskynlik die Skite se wrede invalle in die 8e eeu vC onthou het), en die “sosiale en ekonomiese” teenstellinge tussen slawe en vrymense – is almal in die gemeente opgehef. Net so min as wat ’n besnede Jood of ’n kultureel ontwikkelde Griek rede het vir bevoorregting binne die gemeente, net so min is daar rede om die onbesnedenheid of “barbaars-heid”/onkundigheid in die gemeente as skeidings-beginsel te laat geld. Want “Christus is alles en in almal” sonder enige onderskeid. Die orde is immers omgekeer. Uit Christus groei die hele liggaam (2:19; vgl ook Ef 4:15,16) en die liggaam, die gemeente, al die gelowiges, word deur die Gees van Christus beheers, wat in ons almal is en aan ons almal die nuwe lewe gee (Rom 8:10).

Hermeneuties

1. Vergelyk ook die aantekeninge onder “Konteks” by 11 Julie 2010 – 6de Sondag in Koninkrykstyd.

2. Die perikoop (3:1-11) wat ons hier oordink, moet ons verstaan binne die konteks van die perikope in die Kolossense brief wat dit voorafgaan en daarop volg: 1:1-2:23 en 3:12-17 wat oor die gemeente se nuwe bestaanswyse handel; 3:18-4:1 wat die nuwe lewenswyse in die huistafels uitspel; 4:2-6 wat oor gebed en houding handel; 4:7-9 wat oor Paulus se persoonlike verhoudinge in sy situasie as gevangene praat; en 4:10-18 wat ten slotte groetes en algemene opdragte uiteensit. (Vgl die preekriglyn oor 1:1-14, wat daarop klem lê dat ons rede het om God te dank, want Christus het ons uit die mag van die duisternis weggeruk, ons verlos deur ons te vergewe [sesde Sondag in Koninkrykstyd].)

Ons preekperikoop staan verder in die konteks van Paulus se lied (1:15-20) oor die uitsonderlikheid, die onvergelykbare heerlikheid van Christus Jesus, die Seun van God. In ’n opeenvolging van loflike, verstommende karaktertrekke en handelinge, teken Paulus die Seun as God se beeld, as die eerste, verhewe bo die hele skepping, deur en vir Hom is alles geskep in hemel en op aarde, ook die onsienlike engele en geestelike magte, Hy is voor alles daar, hou alles in stand, is die oorsprong en hoof van die liggaam, die kerk, Hy is eersteling uit die dood en eerste in die heelal, in Hom woon God volledig, deur Hom versoen God alles in hemel en op aarde met Homself, en deur die Seun se bloed het God vrede herstel.

In die opeenvolgende perikope (1:21-23 en 1:24-29) beklemtoon Paulus dat dié versoening ook die gemeente in Kolossense insluit. Dis die evangelie wat aan alle mense op aarde verkondig is. Van dié evangelie is Paulus ’n dienaar en omdat hy dit verkondig verduur hy lyding. Die lyding ondergaan hy met blydskap ter wille van Christus se liggaam, die kerk. Dié evangelie wat eens verborge was, is nou aan die gelowiges geopenbaar. En dié “seënryke en heerlike geheimenis is vir alle nasies” bedoel, sê Paulus.

Paulus gebruik al die krag wat Christus hom gee om elke mens dít te laat insien en hulle tot geestelike volwassenheid te bring. Daarom beywer hy hom (2:1-5) om al die gelowiges te bemoedig om in liefde saamgebind te leef en om volledige insig te hê in God se geheimenis, wat Christus is, in wie alle verborge skatte van wysheid en kennis is. Dít staan teenoor alle valse redenasies en daarom pleit hy dat hulle in die geloof sterk sal staan.

Paulus beklemtoon (2:6-15) dat ons wat Christus Jesus as Here aangeneem het in verbondenheid met Hom moet lewe. In Hom gewortel en op Hom gebou, vas in die geloof en met dankbaarheid. In Christus woon God in sy volle wese. “Christus is hoof oor al die bose magte.” Menslike oorleweringe, verordeninge en godsdienstige reëls is grond vir misleidende teorieë en argumente. Nie die besnydenis van die vlees nie, maar die besnydenis van Christus geld, wat die wegneem van ons sondige natuur beteken, soos dit in die “doop” gebeur het, waar ons saam “met Hom gesterf en opgestaan” het. Saam met Christus is ons lewend gemaak deurdat al ons sondes vergewe en ons skuld vir goed weggeneem is. Daarby het Hy die bose magte, die magte van hierdie wêreld ontwapen, hulle in die openbaar vertoon, ten toon gestel, deur hulle as “gevangenes” in die triomftog van Christus mee te voer.

Daarom (2:16-23) geld die wettiese voorskrifte oor dit wat ons mag eet en drink, of oor feeste, of die aanbidding van engele, of waaraan ons mag vat, of ons mond aan mag sit, of mag aanraak nie. Dis maar net gebooie en leerstellinge van mense. Dit het slegs die skyn van wysheid as selfgemaakte godsdiens, danige nederigheid en streng beheersing van die liggaam. Dit het egter geen waarde om die sondige drifte te beteuel nie. Wie dus sulke goed verkondig, verhef hulleself in eiewaan en laat Christus, die hoof, los. Ons oriëntasie is radikaal anders. Ons het immers saam met Christus gesterwe en is letterlik dood vir die wettiese godsdienstige reëls van hierdie wêreld, betoog Paulus. Wat vir ons geld, is dat die hele liggaam, waarvan ons deel is, uit Christus groei, ondersteun deur die gewrigte en saamgebind deur die spiere, soos God dit laat groei.

3. In sy oordenking by die gedenkdiens vir W D Jonker (Aug 2006) herinner Dirkie Smit die teenwoordiges aan die hand van Romeine 6 daaraan dat die woorde “ons behoort aan Jesus” die oorledene dwarsdeur sy lewe geïnspireer het en vir hom tot diepe troos was. Baie jare voor sy sterfdag skryf Jonker in Die Burger oor hierdie troos – toe na aanleiding van Romeine 5. “Ons verhouding met God hang nie af van ons bewussyn daarvan nie, gelukkig nie – en nêrens sien ons dit meer dramaties as by ons doop nie. As ons babas is – sê hy – weet ons ook niks van die groter verbande waarin ons lewe staan nie, die liefde waaruit ons ontvang is, die sorg en beskerming van ons ouers, ons is daarvan volkome onbewus. Tog is dit ’n werklikheid óm ons. Waarom sal dit dan anders word as ons weer terugkeer na die aarde waaruit ons geneem is en ons op ons weg daarheen langsamerhand óók weer alles vergeet wat ons eenmaal gehoor en geweet het? Dis belangriker dat God óns ken as dat ons God ken. Voordat ons was, het Hy ons reeds in liefde geken. Daarvan getuig die doop. En as ons nie meer van onsself of van God weet nie, sal Gods liefde ons steeds vashou. Tot in die dood, as ons bewussyn langsamerhand weg-eb en die stilte oor ons kom” – so skryf hy, 25 jaar gelede al.

Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? Aangesien ons saam met Hom een geword het in sy dood, sal ons sekerlik ook met Hom een wees in sy opstanding (Rom 6:3, 5). Véél, véél belangriker as ons begrip en ons bewussyn hiervan, is die trou van God wat dit belowe en verseël, beklemtoon Smit. Omdat Willie Jonker dít geglo het, kon hy hierdie belydenis so aangrypend berym in Lied 290. Vers 1 sing:
Dit is my troos dat ek gedoop is,
dat ek gedoop is in u Naam,
want deur die doop is ek verseker
dat U in guns U nooit nie skaam
as Vader, Seun en Heilige Gees
om ook mý God genoem te wees.

4. By die versoeningsartikel in die Belydenis van Belhar word onder andere na Kolossense 3:1-4:6 verwys wanneer klem gelê word op die feit “dat God deur sy leweskeppende Woord en Gees die magte van sonde en dood, en daarom ook van onversoendheid en haat, bitterheid en vyandskap, oorwin het; dat God deur sy leweskeppende Woord en Gees sy volk in staat stel om te leef in ’n nuwe gehoorsaamheid wat ook in die samelewing en wêreld nuwe lewensmoontlikhede kan bring.” Hierdie beklemtoning staan teenoor die gedwonge skeiding van mense op grond van rassegrondslag, onderlinge vervreemding, haat en vyandskap en die verloëning van die evangelie se versoenende krag uit vooroordeel, vrees, selfsug en ongeloof.

5. In Jakobus se brief (2:1-9) word die gemeente se geloof in “ons Here Jesus Christus, ‘die Here van die heerlikheid’” (die een wat die oorwinning behaal het, die Een wat heers oor alle magte, kragte, heersers) direk verbind met hulle beoordeling van en optrede teenoor ander mense. In die magsgebied van die Here van die heerlikheid beoordeel jy nie meer mense na hulle uiterlike nie. Daar beoordeel mense hulleself ook nie so nie, want armes erken dat God self aan hulle aansien gee en rykes dat hulle arm is voor God en tussen al hulle bedrywighede soos veldblomme wat tydelik is, sal vergaan (1:9-11). Wie in die Here van die heerlikheid glo, beoordeel mense nie meer volgens menslike maatstaf nie. Immers, iemand wat in Christus is, is ’n nuwe mens (2 Kor 5:16-18).

6. Paulus se vermaning aan die Kolossense was duidelik missiologies gerig (Wessels). Die struikelblokke vir die evangelie moes uit die weg, sodat dit vir hulle niegelowige bure duidelik sou wees Christus is die Here. Daarom benadruk hy in hoofstuk 3 dat gelowiges hulle op Christus self moet rig, wat opgewek is en aan die Vader se regterhand is sodat hulle alles wat hulle voortaan hier op aarde doen, kan doen met die wete dat hulle saam met Christus opgewek is (2:12). As hulle nie meedoen aan onsedelike praktyke nie (3:5) en mekaar nie meer meet volgens natuurlike maatstawwe nie (3:11), sal niegelowiges eenvoudig moes toegee dat gelowiges se gedrag uitsonderlik is, dat hulle met mekaar in versoening lewe ten spyte van hulle opsigtelike verskille, én dat hulle ou verdelings oorkom het.

In die Mediterreense wêreld van die eerste eeu wat strak verdeel was volgens status, etnisiteit, geslag, familie, stam of groep (vgl Stambaugh and Balch 1986:110; Malina, Joubert & Van der Watt 1995:5), was hierdie inderdaad ’n rewolusionêre boodskap. Paulus se vermaninge aan die gemeente om die nuwe lewe in Christus te leef, het ’n inherente missionêre dimensie wat sou blyk as die gemeentes se samekomste die opheffing van die natuurlike verdelings sou demonstreer. Dit sou inderdaad die evangelie, goeie nuus vir die breër gemeenskap wees. As buitestanders die vrede en versoening in die konkrete samekomste van Jesus se volgelinge sou sien, sou die goeie nuus van vrede met God ook makliker deur hulle geglo kon word (Wessels).

Jesus stuur ons uit en ons kom tot rus

Lied

Intreelied: Lied 526 “Waar daar liefde is”
Skuldbelydenis: Lied 247 “Heer, wees ons genadig”

Familie-oomblik

Gebruik die storie van die radio-beheerde karretjie (inleiding van die preekriglyn by 3.1) om die idee van 1 bestuurder wat beter is as 2 te illustreer.  As jy natuurlik met ’n karretjie in die kerk kan demonstreer sal dit nog beter werk.

Brei dan uit op die gevolge in ’n mens se lewe: as jy Jesus in die beheersentrum toelaat gebeur met jou wat in vers 10-17 beskryf word en kry jy dit reg om dié dinge te vermy wat in vers 8-9 beskryf word.

God praat met ons en ons luister

Die tweede beweging van die luistersiklus is om te luister.

Preekriglyn

Die radio-beheerde karretjie

Almal van ons het iewers al radio-beheerde karretjies of vliegtuigies in aksie gesien. Ek het eendag na ʼn wedren van hierdie motortjies staan en kyk en dit was baie opwindend. Die goedjies is volgens die eienaars redelik presies op skaal gebou, maar ry “op skaal” baie vinniger as hul lewensgroot eweknieë. Dit veroorsaak dat jou tydsberekening en reflekse baie skerp moet wees. Dit het die bestuurder se volle konsentrasie geverg en hulle kan nie eintlik met ander gesels terwyl hulle jaag nie. Ek het die boodskap gekry en maar eenkant gaan staan en kyk hoe hulle jaag.

Hoe moeilik dit werklik is, sou ek ʼn paar jaar later uitvind toe een van my kinders so ʼn motortjie persent gekry het. Hy was nog jonk, maar een middag het hy in die tuin gestaan en die affêrentjie het oral gery. Hy was gemaak om oor goed te klim, die neus van die karretjie met die voorwiele het kon roteer, letterlik wawiele doen. Soms  gelyk of hy rugslag swem soos was sy voorkant wawiel gedraai om ʼn draai te kom of oor ʼn klip te klim. Dit het weereens baie opwindend gelyk en ek wou hierdie keer saam speel. Ek kon ook, ek was ten minste die eienaar se pa. Ek het dan ook stadig begin, maar my seun se opmerking oor ou toppies se bestuursvermoë het my al hoe vinniger laat ry.  Dit was moeiliker was wat ek gedink het. Ek het óf te  laat gedraai, óf te vroeg, óf te skerp óf te slap, óf te vinnig óf soos ʼn ou toppie wat niks van bestuur af weet nie. Dit was nog net die eerste tien treë, die moeilikheid het regtig begin toe ek probeer omdraai en terugbestuur. Toe is my links en die kar sʼn nie meer dieselfde nie. As ek dink ek gaan links, gaan die kar regs en dan oor-korrigeer ek en voor ek my kom kry swem die ding skielik rugslag. Hy lyk kompleet soos ʼn knapie wat volspoed in ʼn bos duwweltjies in gehardloop en nou probeer om al twee voete in die lug te hou terwyl hy die duwweltjies probeer uittrek.

Die eienaar van die karretjie het begin om nog snaakser geluide as die kar self te maak en het probeer om sy pa te help, sodat die kar se lewe gered kan word. Ek het na die tyd besef dat een slegte bestuurder is altyd beter as twee bestuurders. Met al die geruk en gepluk aan die “bestuurstang” het karretjie begin bokspring, kompleet soos ʼn kat wat Sellotape aan sy voorpote vasgeplak gekry het. Daar is tye wat ek kon sweer die voorwiele kyk in verskillende rigtings. Met ʼn desperate oerkreet van ʼn elf jarige, op ʼn toonhoogte wat deur oordrom en sinaps blits en ʼn ontploffing net agter jou linkeroog veroorsaak, het die man die beheer oorgeneem en eenkant gaan staan en sy karretjie met ʼn sagte stemmetjie aangemoedig om terug te kom na sy baas en het hom belowe dat niemand anders ooit weer beheer oor hom sal neem nie. Die kar het skielik verbasend normaal voorgekom so asof hy alles verstaan wat nou gesê word. Hy het gelyk of hy verstaan dat hy nou weer veilig is en dat niemand soveel vir hom omgee soos die basie wat nou in beheer is nie. Ek het later gesien hoeveel sy kleinbaas uit hom haal en hoeveel plesier hulle twee saam het. Hulle het mekaar verstaan en mekaar geniet.

Iemand wat kán bestuur

As ek oor die voorval dink, besef ek net elke keer weer hoe wonderlik dit moet wees om te weet daar is iemand wat weet wat hy doen en wat kan bestuur en wat regtig omgee vir my. Iemand wat meer belang by my het as die winkelier wat die karretjies verkoop. Dis eintlik soos iemand wat die karretjie self gebou het en presies weet waartoe die dingetjie in staat en hom toelaat om sy volle potensiaal te bereik, sonder om hom te vernietig in die proses. Ons kan verder gaan en se dat hierdie karretjie wat met soveel sorg gebou is eendag gesteel is en dat die nuwe eienaar niks vir hom gevoel het nie en vreeslik verniel het. Die skepper van die karretjie sien toe eendag die karretjie en die ellendige toestand waarin hy is en besluit om dit terug te koop en te herstel sodat hy weer kan ry en plesier kan verskap aan die een wat hom oorspronklik gemaak het.

Die beeld in Kol 3, sluit baie nou hierby aan. Dit gaan oor mense wat reeds gered, in wie se lewens daar reeds herstel plaasgevind het. Die regte eienaar het hulle weer terug in sy werkswinkel en daaroor hoef niemand te twyfel nie. Wanneer ons na onsself kyk en wonder waar ons plek in hierdie wêreld is, is die Bybel baie duidelik dat geredde mense in Christus, veilig is. Hulle is terug waar hulle hoort. Die regte eienaar het hulle weer terggekoop en bewaar hulle nie net veilig nie, maar herstel hulle sodat hulle weer die mense kan word wat hulle veronderstel is om te wees.

Ons is anders as afstand-beheerde karretjies, want ons tel gewoontes en gebruike op in die lewe, ons leer om sekere waardes te aanvaar en ons lewens daarvolgens in te rig. Ons staan in lewende verhoudinge met ander en al hierdie verhoudinge slyp ons persoonlikhede. Vir ons om weer herstel te word, sal langer neem as ʼn gewone karretjie. Die geheim vir ons lê daarin om te begin verstaan hoe ons Eienaar, Christus, se gedagtes werk. Paulus moedig die Christene aan om daarna te streef, dit hulle erns moet maak om uit te vind wat Christus vir hulle lewens wil hê.

Die risiko van 2 bestuurders

Hulle moet verstaan, “Twee bestuurders in hul lewens, gaan tot chaos en seerkry lei.” Hulle het saam met Christus gesterf, dit wat verby is, hul vorige lewe met al die seerkry en skandes daaraan verbonde, is verby. Hulle mag nie meer toelaat dat daardie vorige lewe hulle “knoppies” druk nie. Dit is so maklik om terug te val op die bekende, óf om maar te maak soos almal maak. Dit is egter om ons ʼn eierdans te laat doen. Ons sal tiekiedraai en rondspring en self die regte geluide kan maak, maar ons gee beheer aan ander bestuurders oor. Ons stel ons op om gemengde seine te kry en sodoende die pad byster te raak.

Die Beheersentrum

Die oproep om ons gedagtes op die “dinge daarbo” te rig, is die oproep om ons op die regte Beheersentrum te rig. Hy wat ons duur gekoop het, is die Een wat ons wil stuur in die regte rigting, wat ons wil help om vry oor die vlaktes van die lewe te wals en seën te bring sover ons gaan. Hy wil ons vrymaak van die manier waarop ons onsself misvorm het deur ons sonde, daarom die oproep om daardie dinge in die oë te kyk vir wat hulle is.

Die risiko om ánder Beheer toe te laat

Die seksuele sondes is baie meer as net indiwiduele dade, dit is obsessies. Dit raak uiteindelik alles-verowerend in mense se lewens. Daar is godsdienste daar rondom gebou, meisies is deur hul ouers as tempelprostitute aan die tempels geskenk. Die verafgoding wat daar vandag rondom die seksuele in ons wêreld aan die gang is, moet ons waarsku dat een van die mooi begeertes in die lewe, onder verkeerde beheer beland het. Die rampe wat seksuele losbandigheid veroorsaak moet die Christen waarsku dat ons nie maar net daarmee kan speel nie. Ons kan nie maar net skouers optrek as ons na die huidige vlaag van seksuele oordraagbare siektes, waarvan VIGS maar een is, kyk en dink God is in beheer van die skrikwekkende gevolge van ʼn samelewing wat homself oorgee aan sy seksuele drifte en drange nie. Hierdie gedrag het maatskaplike gevolge, die samelewing steun en kreun onder gebroke huwelike, mense en kinders wat hul vertroue in gesonde verhoudinge en huwelike verloor het.

Baie van ons jong mense glo doodeenvoudig nie meer dis sinvol om seksueel rein en skoon te leef nie. Hulle wonder met reg is daar so iets soos ʼn relatief gelukkige huwelik, die verwoesting wat hulle sien, lei hulle ongelukkig om op dieselfde spoor van verwoesting voort te storm. Iewers moet ons as kerk halt roep en verkondig dat nie ons seine van die wêreld moet kry nie, die uiteinde daarvan kan net katastrofies wees. Ons wil dink soos Christus, ons soek sy wysheid, ons soek die beheer van die Heilige Gees en ons sal daaruit leef. Terwyl dit waar is dat die voorbeelde wat ons uit die samelewing sonder Christus kry ons soms tot raserny dryf, moet ons sorg dat ons stil voor God raak en werklik sy herstellende hand toelaat om ons in te stem op sy seine. Die Bybel praat nie oor oppervlakkige gedrag nie, maar diepgesetelde obsessies en drange wat alleen met behulp van die Heilige Gees nekomgedraai kan word.

Dieselfde geld vir gierigheid. As ek so begin hunker/begeer/verlang na dinge sodat ek my waardes daarvoor sal aanpas, moet ek verstaan die siene kom nie meer van Christus af nie. Ek lees iewers dat dit nou wel so is dat om te begeer die tiende gebod is, maar dit is die een gebod wat kan maak dat ek elke ander gebod breek. Wanneer ek regtignbegeer en gierig raak om iets ten alle koste wil bekom, sal ek lieg, steel en selfs moor om dit te kry. Ek sal myself doof maak vir God se stem en Hom sodoende onteer, want iets anders het baie belangriker as Hy geword. Ek is besig om my seine vir optrede van ʼn ander beheersentrum af te kry. Wanneer my oë so in baie rigtings begin dwaal, soos daardie karretjie se voorwiele waarvan ons netnou gepraat het, kan ek nie op die pad bly nie. Ek sal in allerhande rigtings hardloop, maar uiteindelik sal ek myself te pletter hardloop.

Die klem in hierdie gedeelte bly op die feit dat ek veilig in Christus is. Hy het my gekry en ek is nie meer op straat waar ek net op myself aangewys nie. Dit gaan nie oor oppervlakkige gedragsverandering nie, maar iemand wat saam met Christus leef, iemand wat sy leiding van Hom kry en seker maak dat die stem van die Heilige Gees, tussen al die ander stemme en geluide, prioriteit geniet,

Dieselfde klere

Die implikasie hiervan is dat ander duidelik sal agterkom dat ek nou aan Christus behoort, soos wat mense vandag aan hul kleredrag uitgeken kan word as hulle vir sekere sportspanne speel, so het mense in daardie dae ook baie gesê deur hul kleredrag. Die oorkleed wat mense gedra het, het duidelik verkondig in watter sosiale klas hulle val óf selfs van watter streek hulle kom. Kleredrag het gehelp om die onsigbare skeidingslyne in die samelewing, hard en duidelik te trek. Terwyl baie van die gedrag waaroor daar hierbo gepraat is dalk nog privaat en “onsigbaar” kon wees, is dit duidelik dat ons interaksie met ander, ons persoon en karakter na die oppervlak bring. Die nuwe lewenstyl wat Christene leef, sal vrae ontlok by ander, “Wie is hierdie mense met die vreemde gedrag? Hulle lyk soos ons, kom uit dieselfde dorpe en stede as ons, tog is daar iets vreemds aan hulle?” Paulus gebruik die klerebeeld om juis aan te toon hoe verskillend ons nou van die res van die samelewing is. Dis nie modes, sosiale klas, sy-togas ens wat ons anders maak nie, maar hierdie nuwe lewe wat ons leef omdat Christus in beheer is.

In die gemeente maak dit nie saak watter klere jy dra nie, dit maak nie saak of jy Jood, Griek, slaaf of vry is nie. Vir die wêreld daarbuite het dit geweldig saak gemaak, maar in die gemeente is ons verborge/weggesteek in Christus. Hier het ons dieselfde “klere” aan. Ons word uitgeken ooreenkomste met Jesus Christus, sy persoon, sy redding, sy lewe, sy dood en veral ook sy opstanding. Ons kom nie meer primêr van ʼn sekere dorp of volk af nie, want ons het saam met Christus gesterf en weer saam met Hom opgestaan – Hy is ons herkoms, Hy is ons lewe vandag en Hy is ons toekoms wanneer Hy weer kom. Hy is in beheer en Hy is die Skepper van ons gemeente. Die  gemeente ontvang hul seine of opdragte van Hom, nié die omringende kultuur en gebruike nie.

Een sentrale Beheersentrum

Hierdie nuwe mense word veral ook gekenmerk deur hul kommunikasie met mekaar en ander. Nuwe gesindhede lei tot ʼn taalgebruik van respek, geduld en liefde waarin ander ook geborge sal voel. Die beheersentrum waarvandaan ons bestuur word, is dieselfde sentrum vanwaar Jesus Christus gestuur is om God en mens te versoen en om mens en mens te versoen. Die kommunikasie van daar af bepaal ook hoe ons hier met mekaar en van mekaar praat. Hierdie nuwe manier van leef en ons kenmerkende onderlinge liefde, is diep gesetel in die hart van God vanwaar sy Gees dit na ons dra.

Vir die kerk is hierdie waarheid een-voudig – daar kan net een Bestuurder wees, daar kan net een Persoon wees wat die knoppies druk en die pas aangee, daarom sal daar slegs een nuwe volk wees waar Christus alles en in almal is.

So hier sit ek en jy nou met ʼn hele warboel gedagtes. Daar is dinge wat ek weet ek moet uittrek, daar is sonde wat nekomgedraai moet word, daar is mense, soms sommer hele groepe waarvan ek niks hou, óf glad nie vertrou nie. Ons dink hierdie saak is glad nie so een-voudig nie, dis moeiliker en meer gekompliseerd as wat hierbo staan. Ek is oortuig dat toe ek en my seuntjie saam aan die “joy stick” van die karretjie gepluk het, het die karretjie ook gedink dinge is darem ongelooflik gekompliseerd. Ek glo nie hy het enige “joy” gekry uit ons saam geruk aan die “joy stick” nie. Die opdrag is steeds dat ons ons aandag moet vestig op die dinge daarbo, op die Beheersentrum waar Christus in beheer is. Die sein wat van daar af kom, sal ons nie verwar nie. Die een-voudige vraag is of ek en jy werklik bereid is om ons op Christus te rig en Hom toe te laat om ook in ons geval beheer te neem? Een-voudig, maar lewensveranderend, gemeente-veranderend en wêreld-veranderend!

Gebed

Here Jesus,
die wêreld en al die keuses is besig
om my tot raserny te dryf
maak dit stil in my hart en gedagtes
kalmeer my en verlos my van hierdie angstigheid
hierdie koorsagtige gejaag na dinge
neem my lewe en my begeertes
vul my met u liefde en lewe
vervang die hunkering, verkeerde gedagtes
die vooroordele, die skerp taal en vernederende houdings
met woorde en gesindhede wat in u hart ontstaan het,
met drome wat u droom vir die mense wat ek ontmoet
laat U heerlikheid deur my straal
sodat almal U kan ontdek in my lewe
in een sin, Here,
“Neem asseblief beheer van my lewe!”

God stuur ons om te leef

Die derde beweging van die luistersiklus is om te leef.  Hier is ‘n paar voorstelle om dit liturgies aan te voer (ons sluit hier by die Sondag van Barmhartigheid):

Kos na erediens bring
Bring kos in natura na die erediens, veral met nagmaalviering, om die sakrament daarmee te vier en waar die res na hulpbehoewendes of spesifieke projekte gaan.

Een ete prysgee
Erediensgangers word uitgedaag om, indien hulle omstandighede dit toelaat, elke week tydens die Seisoen van Barmhartigheid een ete gedurende die week prys te gee en die waarde van daardie ete in die vorm van droë produkte na die erediens te bring om  in ’n bepaalde projek gebruik te word. Die produkte word nie sommer net in ’n mandjie by die deur geplaas nie, maar word tydens die derde beweging van die erediens (tafeldiens) fisiek vorentoe gebring en op die tafel geplaas. Dit kommunikeer ook baie ten opsigte van God se omgee en solidariteit in Jesus met mense in nood.

Projekte bekendstel
Hierdie seisoen is uiteraard ook ’n ideale geleentheid om projekte waar lidmate by betrokke kan raak, bekend te stel of dalk opnuut bekend te stel met verhale en getuienisse oor die projekte.

’n Geloofsgetuie
Hier kan elke Sondag ’n kort vita (lewensverhaal) van ’n geloofsgetuie vertel word, spesifiek ook van iemand wat haar/sy lewe aan barmhartigheidswerk gewy het. Voor die hand liggende name wat opkom is Fransiskus van Assisi en Moeder Teresa, maar daar is verseker ook minder bekende en veral ook Suid-Afrikaanse voorbeelde.

Daar is ’n oorvloed inligting op die internet, sien byvoorbeeld

As uitsending
Voorganger:
Gaan en leef nou die lewe van die nuwe mens wat al meer vernuwe word na die beeld van haar Skepper
Gemeente: en tot die volle kennis van God.

Voorganger: Hier is dit nie van belang of iemand Griek of Jood is nie, besny of nie besny nie, andertalig, onbeskaaf, slaaf of vry nie.
Gemeente: Hier is Christus alles en in almal (uit Kol 3).

Almal: Lied 523

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.