Negende Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Dit moet weereens beklemtoon word dat in Koninkrykstyd die tekste nie gekies is om tematies met mekaar verband te hou nie. Tog kan mens dit oorweeg om kreatief met die tekste om te gaan sodat daar ’n sekere eenheid soos ’n collage te voorskyn kom.

Met hierdie tekste sou mens redding uit die dieptes (nood) kon sien as ’n deurlopende lyn. Josef in die put, Petrus in die water en verlossing in Romeine 10.

Ander tekste

Genesis 37:1-4, 12-28
Josef en sy drome
37 Jakob het in Kanaän gebly, die land waar sy voorvaders ook as vreemdelinge gebly het. 2Hier volg die familiegeskiedenis van Jakob.
Josef was nog jonk, sewentien, toe hy kleinvee opgepas het saam met sy broers, die seuns van Bilha en Silpa, sy pa se vrouens. Josef het slegte stories oor sy broers by hulle pa aangedra.

3Van al sy seuns was Israel die liefste vir Josef, die seun wat in sy ouderdom gebore is, en daarom het hy vir Josef lang klere met moue gemaak. 4Toe sy broers sien dat hulle pa vir Josef liewer het as vir enige van hulle, het hulle ’n afkeer van Josef gekry en het hulle niks goeds oor hom gesê nie.

5Op ’n keer het Josef gedroom en dit vir sy broers vertel. Daarna was hulle afkeer van hom nog groter. 6Hy het vir hulle gesê: “Luister na die droom wat ek gehad het. Ons was op die land besig om gerwe te bind 7en skielik gaan staan my gerf regop en julle gerwe gaan staan daar rondom en hulle buig voor myne.”
8Toe sê sy broers vir hom: “Jy verbeel jou jy sal oor ons koning word. Dink jy dalk jy sal oor ons regeer?”
Oor sy drome en sy praatjies het hulle ’n nog groter afkeer van hom gekry.
9Hy het ook nog ’n ander droom gehad en hy het dit vir sy broers vertel. Hy het gesê: “Ek het weer gedroom. Die son en die maan en elf sterre het voor my kom buig.”
10Toe hy dit vir sy pa en sy broers vertel, het sy pa hom berispe en vir hom gesê: “Wat vir ’n soort droom is dit wat jy gehad het? Verbeel jy jou ek en jou ma en jou broers moet voor jou kom buig?”
11Sy broers was afgunstig op hom, en sy pa het aan die droom bly dink.

Josef word ’n slaaf
12Josef se broers het hulle pa se kleinvee gaan oppas in Sigem. 13Toe sê Israel vir Josef: “Kyk, jou broers pas die kleinvee op in Sigem. Ek wil jou na hulle toe stuur.”
Josef het geantwoord: “Goed, Pa!”

14Toe sê Israel vir hom: “Gaan kyk of alles nog reg is by jou broers en met die kleinvee en kom vertel my alles.”
Israel het hom van die laagte by Hebron af gestuur na Sigem toe. 15Hy het daar in die veld rondgesoek, en toe kom ’n man by hom en dié vra vir hom: “Wat soek jy?”

16Josef antwoord hom: “Ek soek my broers. Kan jy my dalk sê waar hulle die kleinvee oppas?”

17Toe sê die man: “Hulle het van hier af versit. Ek het gehoor hulle sê hulle wil na Dotan toe gaan.”
Josef is toe agter sy broers aan en hy het hulle by Dotan gekry.

18Hulle het hom al van ver af gesien en voor hy by hulle gekom het, het hulle ooreengekom om hom dood te maak. 19Hulle het naamlik vir mekaar gesê: “Kyk, daar kom die ou dromer aan. 20Kom ons maak hom dood en gooi hom in ’n put. Ons kan sê ’n roofdier het hom opgevreet. Dan sal ons sien wat word van sy drome.”

21Ruben het hulle hoor praat en omdat hy vir Josef wou red, het Ruben gesê: “Nee, ons moet hom nie doodmaak nie. 22Moenie moord pleeg nie. Gooi hom liewer in hierdie put hier in die veld. Moenie sy lewe neem nie.” Ruben het dit gesê sodat hy vir Josef kon red en hom na sy pa toe kon terugstuur.

23Josef het skaars by sy broers aangekom of hulle trek sy klere uit, die lang klere met moue wat hy aangehad het, 24en vat hom en gooi hom in die put. Dit was ’n droë put, sonder water. 25Daarna het hulle gaan sit en eet, en toe hulle weer sien, kom daar ’n klomp Ismaelitiese handelaars uit Gilead aan. Hulle was op pad na Egipte toe en op hulle kamele was daar gom, balsem en hars gelaai.

26Toe sê Juda vir sy broers: “Watter nut het dit vir ons om ons broer dood te maak en dit dig te hou? 27Kom ons verkoop hom aan die Ismaeliete. Ons moenie sy lewe neem nie, hy is ons broer, hy is bloedfamilie.”

Juda se broers het na hom geluister, 28en toe daar van die Midianitiese handelaars verbykom, het die broers vir Josef uit die put uit opgetrek en vir twintig stukke silwer aan die Ismaeliete verkoop en dié het hom Egipte toe gevat.

29Toe Ruben terugkom by die put, was Josef nie daar nie. Ruben het sy klere geskeur 30en teruggegaan na sy broers toe en vir hulle gesê: “Die kind is weg! Wat moet ek nou doen?”

31Maar sy broers het ’n boklam geslag en die klere van Josef gevat en in die bloed gedoop. 32Toe stuur hulle Josef se klere met ’n boodskap vir hulle pa: “Ons het dít opgetel. Kyk of dit dalk u seun se klere is.”

33Israel het dit herken en gesê: “Dit is my seun se klere. ’n Roofdier het hom opgevreet. Josef is opgevreet!”

34Jakob het sy klere geskeur en rouklere aangetrek. Hy het lank oor sy seun getreur. 35Al sy kinders het vir Jakob probeer troos, maar hy wou hom nie laat troos nie. Hy het gesê: “Ek sal bly treur oor my seun tot ek by hom in die dood is.”
So het Josef se pa bly treur oor hom.

36Die Midianiete het vir Josef in Egipte verkoop aan Potifar. Hy was aan die farao se paleis verbonde as hoof van die lyfwag.

Psalm 105:1-6, 16-22, 45b
Die Here hou sy verbond altyd in stand
105 Loof die Here! Roep Hom aan!
Maak aan die nasies bekend
wat Hy gedoen het.
2Sing liedere, sing tot sy eer,
vertel van al sy magtige dade.
3Roem sy heilige Naam,
laat dié wat die teenwoordigheid
van die Here soek, bly wees.
4Soek hulp en beskerming by die Here,
soek gedurig sy teenwoordigheid.
5Julle moet dink aan die magtige dade
wat Hy gedoen het,
aan sy wonders,
aan die reddingsdade op sy bevel,6julle, nageslag van Abraham sy dienaar,
nakomelinge van Jakob
vir wie Hy uitverkies het.

7Hy, die Here, is ons God; 
sy reddingsdade strek oor die hele aarde. 
8Hy hou sy verbond altyd in stand, 
die belofte wat Hy 
aan duisende geslagte toegesê het, 
9die verbond wat Hy 
met Abraham gesluit het, 
sy eed aan Isak. 
10Hy het dit vir Jakob bevestig 
as ’n vaste toesegging, 
vir Israel as verbond 
wat altyd sal bestaan. 
11Hy het gesê: 
“Ek gee Kanaän vir jou 
as grondgebied en eiendom.” 
12Toe hulle nog maar min was, 
net ’n paar mense, 
en vreemdelinge in die land, 
13toe hulle van volk na volk 
geswerf het, 
van die gebied van die een volk 
na dié van ’n ander, 
14het Hy niemand toegelaat 
om hulle te verdruk nie, 
en het Hy selfs konings 
ter wille van hulle gewaarsku:
15“Moenie aan my gesalfdes raak nie, 
moenie my profete kwaad aandoen nie!”

16Toe Hy hongersnood
oor die land gebring het
en al hulle kos laat opraak het,
17het Hy iemand voor hulle uit gestuur:
Josef is as slaaf verkoop.
18Hulle het sy voete geboei
en hom in die gevangenis gehou
19totdat sy woorde bewaarheid is,
nadat hy die toets deurstaan het
met wat die Here aan hom
bekend gemaak het.
20Toe het die koning hom
uit die gevangenis laat uitkom;
die heerser oor baie volke
het hom vrygelaat
21en hom aangestel as hoof
van die koninklike huishouding,
met gesag oor al sy besittings.
22Josef kon
die amptenare van die koning
na goeddunke beveel
en selfs aan hoë amptenare leiding gee.
45Daarom moet hulle 
sy voorskrifte gehoorsaam 
en sy wil doen. 
Prys die Here!

Matteus 14:22-33
Jesus loop op die see

(Mark 6:45–52; Joh 6:15–21)
22Net daarna het Jesus sy dissipels in die skuit laat klim om solank voor Hom uit te vaar na die oorkant toe terwyl Hy nog eers die mense huis toe laat gaan. 23Nadat Hy die mense weggestuur het, het Hy alleen na die berg toe gegaan om te bid. Toe dit aand word, was Hy daar alleen.

24Die skuit was reeds ’n paar kilometer van die kus af en is deur die golwe geteister, want die wind was van voor. 25Met dagbreek die volgende môre het Hy op die see na hulle toe aangeloop gekom. 26Toe sy dissipels Hom op die see sien loop, het hulle groot geskrik en gesê: “Dis ’n spook!” Van angs het hulle hard begin skreeu.

27Maar Jesus het dadelik met hulle gepraat en gesê. “Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie.”

28Toe sê Petrus vir Hom: “Here, as dit regtig U is, beveel my om op die water na U toe te kom.”

29“Kom!” sê Hy.
Petrus het uit die skuit geklim, op die water begin loop en naby Jesus gekom. 30Maar toe Petrus sien hoe sterk is die wind, het hy bang geword en begin sink en uitgeroep: “Here, red my!”

31Dadelik het Jesus sy hand uitgesteek, hom gegryp en vir hom gesê: “Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?”

32Hulle het toe in die skuit geklim, en die wind het gaan lê. 33Die manne in die skuit het voor Jesus gekniel en gesê: “U is waarlik die Seun van God.”

Fokusteks

Romeine 10:5-15
10 Broers, my hartewens en my gebed tot God vir my volk is dat hulle gered word, 2want ek kan van hulle getuig dat hulle vol ywer vir God is, maar sonder die regte insig. 3Hulle het hulle nie gesteur aan die manier waarop God mense vryspreek nie. Hulle wil niks van God se manier van vryspraak weet nie; hulle probeer dit op hulle eie manier kry. 4Christus is tog die einde van die wet, sodat elkeen wat glo, vrygespreek kan word.

Die verlossing is vir elkeen wat glo
5Moses skryf naamlik van die vryspraak op grond van wetsonderhouding dat die mens wat doen wat die wet beveel, daardeur sal lewe. 6Maar van die vryspraak deur die geloof sê hy: “Moenie by jouself sê: ‘Wie sal na die hemel toe opklim?’ nie,” dit is, om Christus af te bring, 7“Of: ‘Wie sal na die onderaardse diepte toe afdaal?’ nie,” dit is, om Christus uit die dood terug te bring. 8Nee, die Skrif sê:
“Naby jou is die woord,
in jou mond en in jou hart.”

En hierdie woord is die boodskap van die geloof, en dit is wat ons verkondig: 9As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. 10Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons, en ons word gered. 11Die Skrif sê tog:
“Niemand wat in Hom glo,
sal teleurgestel word nie.”

12“Niemand nie!” Dit maak dus geen verskil of ’n mens ’n Jood of ’n Griek is nie, want dieselfde Here is Here van almal, en Hy seën almal wat Hom aanroep, ryklik, 13want elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.

14Maar hoe kan ’n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek? 15En hoe kan iemand preek as hy nie gestuur is nie? Daar staan ook geskrywe: “Hoe wonderlik klink die voetstappe van dié wat die goeie boodskap bring.”

16Die Israeliete het egter nie almal aan die goeie boodskap gehoor gegee nie. Jesaja sê immers: “Here, wie het die prediking geglo wat ons gehoor het?” 17Die geloof kom dus deur die prediking wat ’n mens hoor, en die prediking wat ons hoor, is die verkondiging van Christus.

18Maar ’n mens sou kon vra: Het die Israeliete dan nie die prediking gehoor nie?
Alte seker het hulle gehoor! Die Skrif sê:
“Hulle prediking het oor die hele
wêreld weerklink,
hulle woorde tot by die uithoeke
van die aarde.”

19Of ’n ander vraag: Het Israel dit dan nie verstaan nie? In die eerste plek wys ek op wat God deur Moses sê:
“Ek gaan julle jaloers maak op mense
wat nie ’n volk is nie,
en julle kwaad maak oor ’n volk
wat nie julle kennis het nie.”

20En Jesaja gaan selfs verder. Daar sê God:
“Ek het My laat vind deur mense
wat My nie gesoek het nie,
Ek het verskyn aan mense
wat nie na My gevra het nie.”

21Maar van Israel sê Hy:
“Dag vir dag het Ek my hande
uitgesteek na ’n ongehoorsame
en weerspannige volk.”

Ekstra stof

Na Paulus met soveel oorgawe in die eerste deel van die brief aan die Romeine oor die verlossing geskryf het wat vir alle mense geld, is dit heel natuurlik om te wonder oor die toekoms van die Jode. Immers, as dit so is dat die besit en kennis van die wet die Jode nie kan red nie, ten spyte van die groot voorreg daarvan, en dat die besnydenis beperkte waarde het, omdat dit gaan oor die innerlike gesindheid van die mens (hfst. 2), maar terselfdertyd dit ook so is dat God Hom onlosmaaklik verbind het aan Israel om aan hull genade te bewys, al sou sommige van hulle aan Hom ontrou wees (hfst. 3), wat is dan die toekoms van Israel?

Paulus wy in 3 hoofstukke uitvoerig hieroor uit. Uiteraard is die fokusteks net ’n klein deel hiervan. Maar dit help ons om eers oorhoofs te kyk na die antwoord wat Paulus in dié drie hoofstukke gee om die boodskap van hoofstuk 10:5–15 reg te verstaan.

Dit is opmerklik hoe Paulus regdeur die drie hoofstukke in ’n reeks vrae sy antwoord oor die toekoms van die Jode aan die orde stel, en dat die einde van hoofstuk 11 nie net die hoogtepunt van sy antwoord is nie, maar ook eintlik die beginsel is wat die hele antwoord dra. Let op die gang van sy argument in die onderskeie perikope:

  • 9:1-14 Paulus is hartseer oor baie van sy volksgenote wat – ten spyte van hulle afstamming van Israel – tog nie werklik Israel is nie. Hoekom kom die Jode nie tot bekering nie?  Die rede? God ontferm Hom oor wie Hy wil.
  • 9:15-18 – Is God dan nie onregverdig nie? Beslis nie! Hy toon sy krag daardeur.
  • 9:19-29 – Wie kan dan met God verskil? Niemand nie. God roep uit die Joodse volk sowel as uit ander nasies mense om sy kinders te wees.
  • 9:30-10:21 – Wat is ons gevolgtrekking? Die vryspraak is vir elkeen wat glo, vir die heidene sowel as vir Israel. Dié boodskap het regoor die wêreld uitgekring, onder andere om Israel jaloers te maak.
  • 11:1-10 – Het God dan sy volk verstoot? Beslis nie! Paulus is immers ’n Jood en glo. Daar is vandag nog ’n oorblyfsel van die Joodse volk wat uit genade uitverkies is.
  • 11:11-24 – Het Israel se struikeling hulle finale val beteken? Beslis nie! Die Jode se volle getal sal gelowig word.
  • 11:25-32 – Hoe sal Israel dan gered word? Daar is ’n verharding oor ’n deel van Israel totdat die volle getal van die heidense nasies in die koninkryk ingegaan het, maar die “hele Israel” sal gered word.

In hfst. 11:26 gee Paulus ’n opsommende opmerking oor die toekoms van Israel: “op hierdie manier sal die hele Israel gered word.” Wat Paulus hier bedoel, as ’n mens vers 25 ook ingedagte hou, is: dat wanneer die volle getal uit die heidene in die koninkryk ingegaan het, sal ook die hele Israel gered wees (Jonker), d.w.s. die volle getal van die Jode wat deur God uitverkies is om gelowig te word (Dunn).

Sommige het dit wel as 3 tydperke verstaan: 1) Verharding van ’n deel van die Jode, 2) Redding van ’n deel van die heidennasies, 3) Redding van die hele Israel. Maar dit wil eerder voorkom asof dit hier oor die wyse (“op hierdie manier”) waarop redding plaasvind gaan, eerder as die tydperke waarbinne dit gebeur. Dit is ook duidelik dat die “hele Israel” nie elke enkele Jood kan beteken nie, omdat dit juis die punt van Paulus se betoog is, dat net ’n deel van Israel geloof as God se vryspraak aangegryp het, ’n oorblyfsel (vgl bv. 11:5, 7-10, 12).

Ander het die “hele Israel” as ’n geestelike entiteit, saamgestel uit Jode en heidene, verstaan, soms gekoppel aan bogenoemde tydperk-interpretasie. Israel word egter konsekwent in hierdie 3 hoofstukke in die historiese betekenis van die Joodse volk gebruik, wat so ’n betekenis onwaarskynlik maak.

Die toekoms van die Jode is dus aan die een kant dieselfde as die toekoms van die heidene: die vryspraak deur die geloof maak hulle kinders van God. Aan die ander kant is dit ook verskillend, want die heidene word deur geloof ingeënt op die Joodse olyfboom (11:17-24), wat beteken dat God nie sy volk in sy geheel verwerp nie, maar net dié wat nie in Hom glo nie.

Enkele eksegetiese opmerkings:

  • 10:9-10 – Let op hoe belydenis en geloof as twee kante van dieselfde munt geskets word. Dit is baie keer eers wanneer jy bely dat jou geloof tot sy reg kom, of van die ander kant af gestel, dit is eers wanneer jy glo, dat jy die Here Jesus kan bely.
  • 10:11 is ’n treffende perspektief op die uitverkiesing. Dit word in terme van die menslike kant daarvan gestel: “Niemand wat in Hom glo, sal teleurgestel word nie.” Dit is die aanbod van die evangelie; dit is vir elkeen. God sal “almal wat Hom aanroep” seën (10:12).
  • 10:14-15 – Dié gedeelte is ’n duidelike aansporing aan elkeen wat in Jesus glo om die goeie boodskap van vryspraak deur geloof aan alle mense op die aarde te bring. Ons is gestuurdes.

Liturgie

Aanvangslied: Lied “157 Here Jesus ons is saam vs 1,2”

Aanvangswoord: (Uit Ps 105)

Seëngroet (Uit Romeine 1)

Lied 504 “Kom laat ons saam tot Jesus nader vs 1,2,3,4,5”

Verootmoediging

Wet: (Efesiërs 2)

Skuldbelydenis: Lied 233 “Ek Vader wat gesondig het 1”

Vryspraak: (uit die fokusteks)

Geloofsbelydenis: (Uit die Evangelie van Johannes)
(Uit Bybelmedia se Vir die erediens- ‘n Handleiding, 2007)

Loflied 212 “Loof die Heer Hy is goed 1,2,3”

Epiklese

Skriflesing: Romeine 10:5-15

Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 393 “Middelpunt van ons verlange 1,2,3,4”

Seën

Musikale Amen: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 157 “Here Jesus ons is saam vs 1,2”

Aanvangswoord
V: Loof die Here! Roep Hom aan!
G: Maak aan die nasies bekend wat Hy gedoen het.

V: 2Sing liedere, sing tot sy eer,vertel van al sy magtige dade.
G: 3Roem sy heilige Naam,

V: laat dié wat die teenwoordigheid van die Here soek, bly wees. (Uit Ps 105)

Seëngroet
7Aan almal in ………………………………………… vir wie God liefhet en wat Hy geroep het om aan Hom te behoort. Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus! (Uit Romeine 1)

Lied 504 “Kom laat ons saam tot Jesus nader vs 1,2,3,4,5”

Verootmoediging

Wet
Lewe uit die dood
Julle was dood as gevolg van julle oortredings en sondes 2wat voorheen julle lewenswyse gekenmerk het. Julle het gelewe soos hierdie sondige wêreld en julle laat lei deur die vors van die onsigbare magte, die gees wat daar nou aan die werk is in die mense wat aan God ongehoorsaam is.

3So het ons trouens vroeër ook almal gelewe. Ons is deur ons sondige begeertes oorheers en het gedoen net waartoe ons luste ons gelei het en wat in ons gedagtes opgekom het. Vanweë ons sondige natuur sou ons net soos die ander mense deur God gestraf moes word. 4Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief. 5Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered! 6Ja, in Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom ’n plek in die hemel gegee, 7sodat God ook in die tye wat kom, sou laat sien hoe geweldig groot sy genade is deur die goedheid wat Hy in Christus Jesus aan ons bewys het.

8Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God. 9Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie. 10Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het. (Efesiërs 2)

Skuldbelydenis
Lied 233 “Ek Vader wat gesondig het 1”

Vryspraak :(uit die fokusteks)
En hierdie woord is die boodskap van die geloof, en dit is wat ons verkondig: 9As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. 10Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons, en ons word gered. 11Die Skrif sê tog:
“Niemand wat in Hom glo,
sal teleurgestel word nie.”

12“Niemand nie!” Dit maak dus geen verskil of ’n mens ’n Jood of ’n Griek is nie, want dieselfde Here is Here van almal, en Hy seën almal wat Hom aanroep, ryklik, 13want elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.

Geloofsbelydenis
Voorganger (V): Ek glo in Jesus Christus, die Woord wat mens geword het.
Gemeente (G): Ons het sy heerlikheid gesien, vol genade en waarheid.

V: Hy is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.
G: Hy is die Seun van God.

V: Hy is die brood wat lewe gee.
G: Wie na Hom toe kom, sal nooit weer honger ly nie; en wie in Hom glo, sal nooit weer dors kry nie.

V: Hy is die lig vir die wêreld.
G: Wie Hom volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.

V: Hy is die goeie Herder.
G: Hy lê sy lewe af vir sy volgelinge (skape). Hy ken sy volgelinge (skape) en hulle ken Hom.

V: Hy is die opstanding en die lewe.
G: Wie in Hom glo, sal lewe, al sterwe Hy ook.

V: Hy is die weg, die waarheid en die lewe.
G: Niemand kom na die Vader toe behalwe deur Hom nie.

V: Hy is die ware wingerdstok.
G: As ons in Hom bly en Hy in ons, sal ons baie vrugte dra, want sonder Hom kan ons niks doen nie.
(Uit die Evangelie van Johannes)
(Uit Bybelmedia se Vir die erediens- ‘n Handleiding, 2007)

Loflied 212 “Loof die Heer Hy is goed 1,2,3”

Liedere

Flam 91 “U Genade’s Vir My Genoeg”
Oorspronklike titel: Uw genade is mij genoeg
Teks en Musiek: Marcel Zimmer
Afrikaanse vertaling: 2005 Faani Engelbrecht
© 1998 Celmar Music

1. Sien hoe Jesus daar loop in Jerusalem,
met ‘n kruis op Sy rug en ‘n doringkroon.
Hoor hoe die menigte skreeu en roep: “Kruisig Hom!” –
so betaal Hy die sondeloon.

2. Sien die Lam aan die kruis daar op Golgota:
God wat mens word en ly, die vernedering.
Sien die liefde vir ons in Sy oë staan,
toe Hy roep: “Dit is volbring!”
Ja, ek dank U vir U genade, o Heer,
U het die kruis gedra.
U bewys U genade aan my telkens weer
en dis meer as wat ek kan vra.

3. In die ryk van die dood het Hy neergedaal.
Ja, uit liefde vir ons wat ons nie verstaan.
Maar die steen van die graf is nou weggehaal –
Jesus leef, Hy het opgestaan!
Ja, ek dank U vir U genade, o Heer,
U het die kruis gedra.
U bewys U genade aan my telkens weer
en dis meer as wat ek kan vra.

4. En nou kom ek tot U met vrymoedigheid;
met ontsag en respek, kniel ek voor U neer.
U is Koning en God tot in ewigheid
U is Jesus die hoogste Heer.
Ja, ek dank U vir U genade, o Heer,
U het die kruis gedra.
U bewys U genade aan my telkens weer
en dis meer as wat ek kan vra.
U genade’s vir my genoeg!
U genade’s vir my genoeg!

Flam 14 “Jesus is die Heer”
Teks en Musiek: André Serfontein
© 2005 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op FLAM, vol 1)

1. Keer op keer,
val ek neer,
deur my eie sondigheid.
Telkens weer,
wil ek self probeer,
opstaan uit my hulpeloosheid.
Hy laat my verstaan,
daar is net een Naam,
en elke knie sal voor Hom buig.

Refrein:
Jesus is die Heer.
Jesus is die Heer.
Dit is wat ek glo.
Ek sing dit weer en weer.
Jesus is die Heer.
Voor Hóm sal ek buig.
Jesus is die Heer.
Jesus is die Heer.
Hy’s my Heer.

2. Keer op keer,
buig Hy neer,
en lig my uit my hulp’loosheid.
Weer en weer,
wys Hy Hom as Heer,
oorweldig my met heiligheid.
Dis dan dat ek verstaan,
daar is net een Naam,
en elke knie sal voor Hom buig.

Refrein:

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Deur die storms van die lewe, O Here,
is U steeds met ons in Jesus u Seun.
Maak ons harte stil en versterk ons geloof
waar ons nou ook u reddende teenwoordigheid in u Woord mag beleef.
(Uit Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2013-14)

Skriflesing: Romeine 10:5-15

Prediking

Familie-oomblik

Lees Romeine 10:9 uit die Bybel Direkte Vertaling:
As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is en jy glo met jou hart dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy verlos word.

Hierdie teks wil ons leer dat geloof met 2 dinge te doen het:
Jou hart is betrokke by geloof want dit is wat jy glo, en jou mond is betrokke want jy moet kan sê wat jy glo…
Kom ons oefen dit met kopskud:
Ek gaan ‘n paar vrae vra, as jy saamstem knik jou kop instemmend op en af; as jy nie saamstem nie skud jou kop heen en weer.
Hou jy van roomys? (Kop knik op en af)
Hou jy van broccoli? (Waarskynlik heen en weer)
Hou jy van pizza?
Hou jy van skool huiswerk doen?
Hou jy van reën in die winter?
Hierdie oefening is ‘n voorbeeld dat wat in jou hart is na buite vertel word. Almal kan sien julle hou nie van broccoli nie, want julle koppe skud heen en weer. Net so weet almal in die kerk julle hou van roomys, want die koppe knik op en af.

Volgens Paulus in Romeine 10:9 is dit belangrik dat mense kan sien wat in my hart aangaan, dat mense kan hoor wat ek van Jesus glo. Geloof in Jesus het met my hart en my mond te doen… En dit bring verlossing/ vryspraak/ dan is ek gered.

Idee met nog materiaal beskikbaar 

Preekriglyn

[foto’s wikimedia.commons]
Edward Kimball was ‘n assistent in ‘n skoenwinkel in Chicago. Hy was ook ‘n Sondagskoolonderwyser, en het ure van sy vryetyd spandeer deur straatkinders in Chicago se middestad op te soek en hulle van Jesus te leer. Deur sy getuienis het ‘n jong seuntjie, D.L. Moody, in 1855 tot geloof in Christus gekom. Moody het ‘n bekende prediker geword.

In 1879 kom F.B. Meyer deur Moody se getuienis tot geloof in die Here. Meyer het ‘n prediker geword, en J.W. Chapman na die Here gelei. Chapman het ‘n prediker geword, en die boodskap van Christus aan ‘n basketbalspeler, Billy Sunday, gebring.

Billy Sunday het herlewingsdienste in Charlotte, Noord-Carolina gehou, wat soveel impak gehad het dat die evangelis Mordegai Ham genooi is om in Charlotte te kom preek. Onder Ham se prediking het ‘n tienerseun, Billy Graham sy lewe vir die Here gegee. Graham het die goeie nuus met passie wêreldwyd gedeel.

Dit het alles begin met een man wat na die strate uitgereik en ‘n tienerseun in ‘n skoenwinkel vertel het dat die Here hom liefhet.

Dit laat mens aan Paulus se woorde dink:
Maar hoe kan ’n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek? En hoe kan iemand preek as hy nie gestuur is nie? Daar staan ook geskrywe: “Hoe wonderlik klink die voetstappe van dié wat die goeie boodskap bring.” (14-15)

Wie bewerk geloof?

Paulus dui in die Romeinebrief duidelik aan dat God, uit genade en liefde, neerbuig na mense wat hulleself nie kan red nie. Jesus is God se dienende beweging na mense, omdat Hy hulle liefhet. Deur Jesus van Nasaret bewerk God verlossing. Verlossing beteken dat God mense in die regte verhouding met Hom bring, sodat ons in God se volheid kan deel.

In ons teks kom daar ‘n geweldige belangrike dimensie by. Die verlossing raak effektief deur mense wat met ander daaroor gesels. Mense wat van Jesus Christus se verlossingswerk getuig, is niks minder nie as medewerkers van God.

Geloof kom deur die hoor van Jesus. En mense kan van Jesus hoor, omdat ander Hom verkondig. Die mense wat verkondig, word deur God self gestuur. God stuur mense oor grense na ander, mense wie se voetstappe wonderlike klink omdat hulle die draers van die goeie nuus is.

Die teenwoordigheid en liefde van God kom in mense se ervaringswêreld in, deur gelowiges wat daarvan getuig: op straat, in skoenwinkels, teenoor jonk en oud, teenoor binne- en buitestanders.

Indien mense hierdie boodskap by die hoor daarvan aanvaar, is dit te danke aan die Goddelike outeur van die verlossing se werk in hulle. Deur die getuienis van gestuurde mense word die werk van God voltooi.

Ons voetstappe

Die vraag is hoe my en jou voetstappe vir ander klink? (15) Paulus spoor ons aan om ook wonderlik-klinkende voetstappe te hê, omdat ons die evangelie aan ander bring. Voetstappe van die wat getuig, is voetstappe van liefde en besorgdheid oor die ander.

Edward Kimball, die assistent in die skoenwinkel, het geweet skoene is vir voete wat stap. Hy het die evangelie geneem na die arm jongmense wat in die harde ekonomiese klimaat van die 19de eeu in Chicago op straat beland het of hard moes werk net om te kan eet. So het Dwight L. Moody die evangelie gehoor, en geglo. En danksy sy voetstappe duisende ander.

Ons eie voetstappe kan die stappe word van diegene wat gaan om die liefde van God aan ander te deel.

Wie mag hoor?

Ons teks staan in die gedeelte van die Romeinebrief wat worstel met die vraag waarom die Jode nie in Jesus glo nie. Die Jode is die volk van God deur en uit wie God Jesus na die wêreld gestuur het. Jesus kom om God se bedoeling met Israel te voltooi.

Tog wil die grootste deel van Israel nie sy Messias aanvaar nie.

Paulus wys in Romeine 9-11 uit dat die evangelie ook vir nie-Jode bedoel is. Trouens, die feit dat nie-Jode die evangelie mag hoor, en dit aanvaar, sal Israel jaloers maak en so ook lei tot die redding van die Jode. Hy skryf:
Dit maak dus geen verskil of ’n mens ’n Jood of ’n Griek is nie, want dieselfde Here is Here van almal, en Hy seën almal wat Hom aanroep, ryklik, want elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word. (12-13)

Die evangelie, die voorreg om te mag hoor, is vir almal bedoel. Ons moet die krag van hierdie woorde goed hoor. Wanneer ons bewus raak dat ons voetstappe ook voetstappe van die evangelie is, moet ons die kunsmatige grense wat ons ervaringswêreld aan die evangelie van Jesus oplê, afleer.

Dit is so vanselfsprekend om die evangelie behoort op te eis vir my groep, my vriende, my gemeente, die onbetrokkenes in my kringetjie.

As mense soos Paulus, Edward Kimball, D.L. Moody, F.B. Meyer, J.W. Chapman, Billy Sunday, Mordegai Ham en Billy Graham nie hulle lyf op die spel geplaas het deur met hulle voete oor hul eie grense te loop nie, sou baie nie die evangelie gehoor het nie.

Gestuur om te getuig, soos Paulus dit in vers 15 verwoord, is altyd gestuur-oor-my-eie-grense. Hierdie grense mag enigiets wees: ouderdom, geslag, klas, plek, en nog baie ander wees.

Ouderdom is een van die mees kritieke grense om oor te steek. Ons kinders glo nie vanself nie, ook hulle moet die goeie nuus van Jesus Christus hoor. Die kinders van ons woonbuurte en ons middestede glo nie vanself nie.

Geografiese grense is net so belangrik. Die boodskap van Jesus moet reg oor die wêreld uitkring, sodat almal die geleentheid kry om te glo.

God is getrou

Die boodskap van verlossing in Christus is vir almal. Hierdie verlossing word deur God self gewaarborg aan elkeen wat hoor en glo. Paulus fokus op die trou en waarheid van God deur te sê:

Die Skrif sê tog:
“Niemand wat in Hom glo,
sal teleurgestel word nie.” (11)

Christus is die fondament van die verlossing, en God skenk dit aan almal wat glo. God bewerk hierdie verlossing, en sluit niemand uit wat na God roep nie.

Woord en fees vertel van ’n bedelaar wat ’n ou klasmaat ontmoet. Hy sien dadelik ’n geleentheid om ietsie te bedel. Sonder skroom skryf die klasmaat ’n tjek van R1 000 uit met die versoek dat hy dit moet gebruik om sy lewe te verander. By die bank huiwer die bedelaar om in te gaan en die tjek te wissel, want hy is vuil, verflenterd en ruik nie goed nie. Einde ten laaste draai hy maar by die deur om.

Die volgende dag loop die twee mekaar weer raak en erken die bedelaar waarom hy nie die tjek gewissel het nie. Die klasmaat se reaksie was: Jou klere, reuk of toestand bepaal nie die waarde van die tjek nie, maar wel my handtekening! Op die wyse stort God sy goddelike barmhartigheid uit oor almal, ongeag wie of wat hulle is.

Stel jouself in die skoene van ‘n jong D.L. Moody wat die evangelie by die skoenwinkel-assistent hoor. Moody se pa is oorlede toe hy vier was. Sy ma het gesukkel om die gesin te onderhou. Dwight moes as kind gaan werk bloot om drie maaltye, bestaande uit pap en melk, per dag te kon kry. Die lewe was hard en die toekoms uitsigloos. Om in sulke omstandighede te hoor dat God jou liefhet, en jou deel van ‘n liefdevolle gemeenskap maak, kan te goed klink om waar te wees. Dit kan te goed klink om van jóú waar te wees. En tog is dit waar en word lewens verander.

Tot vandag toe hoor mens die mees aangrypende getuienisse van lewens wat verander is deur die goddelike boodskap van diegene wie se voetstappe wonderlik klink.

God is naby

Die Grieks-Romeinse wêreld, waarvan die gemeente in Rome deel was, was goed bekend met oorsprongsverhale (mites) waarin persone lang reise moes aflê om by kosbaarhede uit te kom. Die idee van reis om te soek na waarheid, deug en egtheid was goed bekend. Hierdie reise het dikwels met geweld en gevegte gepaard gegaan.

In Christus is dit God wat die reis na ons aflê. God kom tot naby ons. God bewerk die verlossing in ons wêreld, op ‘n spesifieke naweek in Jerusalem op ‘n spesifieke tyd. Om hierdie verlossing tot by ons te bring, stuur God gesante wat tot by ons loop. Daarom hoef niemand na die hemel op te klim om Christus af te bring, of na die onderaardse dieptes af te daal om Christus te gaan haal nie.

Die ekonomie van die evangelie werk so dat God tot by jou kom:
“Naby jou is die woord,
in jou mond en in jou hart.”

God soek deur sy gestuurdes mense op, in die strate en slote, agter die hoë mure van ons rykmansgrendels, in skole en kerke, waar gelowiges vervolg word, en waar geloof uit die mode geraak het. Die evangelie kom tot naby almal.

Wat is hierdie evangelie?

Ons praat nog die hele tyd oor die boodskap en die goeie nuus wat by mense moet kom. Maar wat is die inhoud van hierdie evangelie? Paulus skryf:

En hierdie woord is die boodskap van die geloof, en dit is wat ons verkondig: As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons, en ons word gered. (8-10)

Die boodskap is dat Jesus die Here is, die Een wat deur God uit die dood opgewek en so publiek tot die Here verklaar is. Jesus is die Een deur wie God se regering in die wêreld ‘n werklikheid word. Jesus is die Een wat herstel en genesing bring: in ons verhouding tot God, mekaar en die wêreld. Die opgestane Jesus is die begin van God se nuwe skepping, waaraan almal wat glo deel kry.

Die evangelie is dat God se genesende koningskap deur die gekruisigde en opgestane Here Jesus ‘n werklikheid word.

Die verstommende is dat deel kry aan God se regering so eenvoudig is. Bely en glo is al wat nodig is (9). Die Griekse woord vir “bely” is homologeo, homo beteken dieselfde en lego om te praat. “Bely” is om dieselfde van Jesus te sê as wat God self van Jesus sê. Hieroor skryf Woord en fees:

Maar bely is ook baie meer as om net te sê. Die woord word baie keer ook in verband gebring met: verklaar (“profess” i.p.v. ” confess”). Daardeur dra dit die betekenis van ’n openbare deklarasie: “met jou mond” (Matt 7:23). Die inhoud van hierdie belydenis is Jesus (in sy volheid) maar spesifiek sy “Here”-wees. Let wel, nie “’n Here” (algemene god) nie, maar “dié Here” (ware en enigste God – Fil 2:11). Hy is nie maar net een van die gode nie (1 Kor 8:5, 6), maar die ware God.

“Here” is die Griekse kurios. Dis ’n sleutelwoord in die vroeë Christendom en het verskeie betekenisse. Dit kon beteken: (1) Meneer (Sir) – as ’n respekvolle benaming, of (2) vir die titel van die Romeinse keiser, of (3) as die titel vir die Griekse gode (kurios Serapsis) of ook (4) as die naam wat in die Hebreeuse literatuur gebruik is vir Jahwe of Jehova. Om daarom te sê dat Jesus die Here is, beteken dat ons Hom die eer en erkenning gee wat keisers en gode meeval. Hy kry ’n verhewe plek en erkenning van sy goddelikheid. Om Hom Here te noem beteken ook dat ons onsself as sy aanhangers of volgelinge beskikbaar stel. Om dus so ’n belydenis te maak behels dat daar ’n verhouding tussen ons en Hom bestaan. Die dubbele benaming, Jesus/Here is juis om sy goddelikheid te beklemtoon en Hom te stel bo enige ander kurios (Fil 2:9-11 – die Naam bo alle name).

Ons kry dus deel aan God se regering deur te bely dat Jesus die Here is, dié Jesus wat deur God uit die dood opgewek is. Paulus gaan voort deur te sê ons moet dit ook met ons hart glo. Dit is ‘n innerlike oortuiging dat jou belydenis waar is. Vir diegene wat so glo en bely staan die waarborg van God self dat jy gered sal word.

Wat die evangelie nie is nie

Die inhoud van die evangelie is dus wat God in en deur Jesus Christus van Nasaret gedoen het, en voortgaan om in mense se lewens te doen.

Dit help ons ook om te verstaan wat die evangelie, en wat getuienis oor die evangelie, nie is nie. Die evangelie is nie ‘n morele skema van selfverbetering nie. Die evangelie is nie ‘n poging om mense te beskaam omdat hulle so sleg is nie. Die evangelie is ook veel meer as ‘n prosedure om in die hemel te kom. Dit is ook meer as net medemenslikheid en goeie dade aan randfigure.

Die evangelie is ‘n boodskap wat mense in aksie bring. Dit het met die volheid van God se koningskap te doen waaraan diegene wat glo deel kry en waarin hulle vernuwe word. Ons kry hieraan deel sonder eie verdienste, en slegs uit God se groot barmhartigheid.

‘n Oproep aan die gemeente

Paulus se woorde is ‘n oproep aan ons gemeente, en onsself, om deel te neem aan God se beweging na alle mense.

In Paulus se geval wou hy hê dat die gemeente in Rome, aan wie hierdie brief geskryf is, hom moes help om die evangelie na Spanje te neem:

… ek koester al baie jare die begeerte om julle te besoek as ek na Spanje toe gaan. Ek hoop om julle dan op my deurreis te sien; trouens, ek sou graag ook eers ‘n tydjie by julle wou deurbring en dan met julle hulp verder na Spanje toe reis. (15:23-24)

Die intensie agter Paulus se gesprek met die gemeente is Rome, ook in ons teks, is dus die inisiatief om voetstappe te laat opklink wat uitreik met die evangelie.

Daarmee nooi Paulus gemeentes deur die eeue om inisiatief te neem om die evangelie te deel:

  • Elke individuele gelowige moet nadink oor jou eie lewe en jou deelname aan die aksie om die evangelie te deel
  • Gemeentes moet inisiatief neem om die evangelie te deel en gelowiges toe te rus om dit in duisende kontekste en op duisende maniere te doen
  • Gemeentes moet pogings om die evangelie te deel, daadwerklik ondersteun.
  • Ons moet diep delf om die ryke inhoud van die evangelie te internaliseer (te bely en te glo), want die evangelie is veel dieper, groter en ryker as die eenvoudige formules waarin ons dit dikwels probeer vasvang.

Die gemeente en gelowige word genooi om ‘n evangelie beweging (voetstappe) te wees en te word. Niks minder as dit nie. Dit is ons identiteit en roeping.

God stuur ons om te leef

Gebed
Offergawes

Wegsending Lied 393 “Middelpunt van ons verlange 1,2,3,4”

Seën
Die Here seën en beskerm elkeen wat Hom aanroep
Hy verskyn tot hulle redding en is hulle genadig,
Hy gehoor hulle gebede en gee aan hulle vrede!
Amen.
(Uit die bydrae Romeine 10:8b-13 by leesrooster.co.za, 25 Februarie 2007)

Musikale Amen: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.