Negende Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Die sleutelteks is die tragiese dog bekende storie van koning Dawid wat toegee aan sy eie sondige begeertes: owerspel en moord. Dit is egter belangrik dat hierdie week en volgende week se twee sleuteltekste in verband met mekaar hanteer word – die sonde, maar ook God se ingrype en Dawid se berou.

Die ander tekste vir hierdie Sondag in Koninkrykstyd, het te doen met God se trou aan die regverdiges (Ps 14), God wat ons sterk maak en in ons harte woon (Ef 3), en Jesus wat ‘n skare versterk met voedsel wat net die Seun van God kan gee (Joh 6).

Ander tekste

Psalm 14
God is aan die kant van die regverdiges
(Vgl Ps 53)
14 Vir die koorleier. Van Dawid.
Die dwaas dink daar is geen God nie.
Dwase mense vernietig alles
wat hulle doen,
is ’n gruwel vir die Here.
Daar is nie een wat goed doen nie.
2Van die hemel af kyk die Here
die mense deur
om te sien of daar één verstandige is,
één wat na die wil van God vra.
3Almal het afgedwaal,
die laaste een het ontaard;
daar is niemand wat goed doen nie,
selfs nie één nie.
4Julle almal wat onreg pleeg,
wat my volk opeet asof julle brood eet
en wat weier om die Here te dien-
weet julle dan nie
5dat daar iets vreesliks
met julle gaan gebeur nie?
Omdat God aan die kant
van die regverdiges is,
6sal daar niks kom van julle planne
teen die hulpelose nie:
die Here bly sy toevlug.
7Ag, mag daar tog uit Sion
vir Israel redding kom!
Wanneer die Here die lot van sy volk
verander,
sal Jakob juig, sal Israel bly wees.

Efesiërs 3:14-21
Die gebed van Paulus vir die Efesiërs
14Daarom kniel ek in gebed voor die Vader 15aan wie die hele gemeenskap van gelowiges in die hemel en op die aarde sy bestaan te danke het. 16Ek bid dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word, 17dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees. 18Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. 19Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God.

20Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, 21aan Hom kom die eer toe, in die kerk, deur ons verbondenheid met Christus Jesus, deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid. Amen.

Johannes 6:1-21
Die vermeerdering van die brood
(Matt 14:13–21; Mark 6:30–44; Luk 9:10–17)
6 Hierna het Jesus na die oorkant van die See van Galilea toe gegaan, wat ook die See van Tiberias genoem word. 2’n Groot klomp mense het agter Hom aan gekom omdat hulle die wondertekens gesien het wat Hy aan die siekes gedoen het. 3Jesus het toe teen die berg opgegaan en met sy dissipels daar gaan sit.
4Die paasfees van die Jode was naby.
5Toe Jesus rondkyk en sien dat ’n groot klomp mense na Hom toe aankom, sê Hy vir Filippus: “Waar kan ons brood gaan koop sodat die mense kan eet?”

6Dit het Hy net gesê om hom op die proef te stel, want Hy het self goed geweet wat Hy gaan doen.
7Filippus antwoord Hom toe: “Twee honderd mense se dagloon is nie eers genoeg om elkeen van hulle ’n stukkie brood te laat kry nie.”

8’n Ander dissipel, Andreas, die broer van Simon Petrus, sê toe vir Hom: 9“Hier is ’n seuntjie met vyf garsbrode en twee vissies; maar wat is dit vir so baie mense?”
10Toe sê Jesus: “Laat die mense gaan sit.”

Daar was baie gras op daardie plek en die mense het gaan sit. Die mans alleen was omtrent vyf duisend. 11Daarna het Jesus die brood geneem, God daarvoor gedank en dit uitgedeel aan die mense wat daar gesit het, en net so ook soveel van die vis as wat hulle wou hê.

12Nadat die mense versadig was, sê Hy vir sy dissipels: “Maak die stukke bymekaar wat oorgebly het sodat daar niks verlore gaan nie.”

13Hulle het dit toe bymekaargemaak. Daar was twaalf mandjies vol met die stukke wat van die vyf garsbrode oorgebly het nadat die mense klaar geëet het.

14Toe die mense die wonderteken sien wat Jesus gedoen het, het hulle gesê: “Hy is werklik die Profeet, die Een wat na die wêreld toe moes kom.”

15Toe Jesus merk dat hulle Hom met geweld wil kom koning maak, het Hy verder die berg op gegaan, Hy alleen.

Jesus loop op die see
(Matt 14:22–33; Mark 6:45–52)
16Toe dit aand word, het Jesus se dissipels na die see toe gegaan, 17in ’n skuit geklim en weggevaar na Kapernaum toe, oorkant die see. Dit was al donker en Jesus was nog steeds nie by hulle terug nie. 18Daarby het die see onstuimig geword, omdat daar ’n sterk wind gewaai het. 19Toe hulle sowat vyf of ses kilometer geroei het, sien hulle Jesus op die see loop en naby die skuit kom, en hulle het bang geword. 20Maar Hy sê vir hulle: “Dit is Ek; moenie bang wees nie.”

21Hulle was toe gewillig om Hom in die skuit te neem, en daarna het die skuit by die land aangekom waarheen hulle op pad was.

Fokusteks

2 Samuel 11:1-15
Dawid pleeg owerspel en moord
11 In die lente, die tyd waarin die konings gewoonlik optrek om oorlog te maak, het Dawid op ‘n keer vir Joab en sy soldate en die hele Israel uitgestuur. Hulle het die Ammoniete verslaan en Rabba beleër, maar Dawid het in Jerusalem agtergebly.

2Eendag het hy na sy middagslapie opgestaan en op die dak van die paleis gaan rondstap. Van die dak af het hy ‘n vrou sien bad. Sy was ‘n baie mooi vrou. 3Dawid het oor haar laat navraag doen, en iemand het gesê: “Dit is Batseba dogter van Eliam, die vrou van Urija die Hetiet.”

4Dawid het toe amptenare gestuur en haar laat haal. Dit was nadat sy haar reinigingsbad geneem het na haar maandstonde. Sy het na hom toe gekom, en hy het by haar geslaap. Daarna is sy terug huis toe.

5Die vrou het swanger geword en vir Dawid laat weet: “Ek is swanger.”
6Dawid het op sy beurt ‘n boodskap na Joab toe gestuur: “Stuur vir Urija die Hetiet hiernatoe.”

Joab het hom na Dawid toe gestuur.
7Urija het by hom gekom, en Dawid het hom gevra hoe gaan dit met Joab en die leër, en hoe vorder die oorlog. 8Hierna het Dawid vir Urija gesê: “Gaan nou maar huis toe en rus ‘n bietjie.”

Toe Urija uit die paleis gaan, het die koning ook nog ‘n geskenk agter hom aangestuur. 9Maar Urija wou nie huis toe gaan nie en het by die paleisdeur gaan slaap saam met die slawe van die koning. 10Hulle het vir Dawid gaan sê: “Urija was nie huis toe nie.”

Dawid vra toe vir Urija: “Jy was mos lank weg, waarom gaan jy nie huis toe nie?”
11Sy antwoord was: “Sou ek huis toe gaan om te eet en fees te vier en by my vrou te slaap, terwyl die ark en Israel saam met Juda in hutte woon en my aanvoerder Joab sowel as u soldate in die oop veld kamp opslaan? Dit sal ek beslis nooit doen nie!”

12Dawid het Urija toe beveel: “Bly vandag nog hier! Môre stuur ek jou terug.”
Urija het daardie dag en die dag daarna in Jerusalem vertoef. 13Toe het Dawid hom geroep en saam met hom geëet en gedrink. Hy het hom selfs dronk gemaak. Maar die aand het Urija uitgegaan om op sy gewone plek saam met die slawe van die koning te gaan slaap. Hy het nie huis toe gegaan nie.

14Die volgende oggend het Dawid ‘n brief aan Joab geskryf en saam met Urija gestuur. 15In dié brief het hy geskryf: “Gee tog aan Urija ‘n plek op die voorpunt waar die geveg kwaai is. Val dan terug sodat hy in die slag kan bly en sneuwel.”

16Terwyl Joab die stad beleër, het hy Urija op ‘n plek gesit waar hy geweet het daar is dapper teenstanders.
17Die burgers van die stad het uitgekom en teen Joab geveg. Daar het van Dawid se soldate gesneuwel, en Urija die Hetiet het ook omgekom. 18Joab het Dawid laat inlig oor die verloop van die geveg.

19Hy het die boodskapper beveel: “As jy vir die koning die verloop van die geveg klaar vertel het 20en net as hy begin kwaad word en jou vra: ‘Waarom het julle so naby die stad gaan veg? Het julle nie gedink aan die mense wat bo van die muur af skiet nie? 21Wie het vir Abimelek seun van Jerubbeset  doodgemaak? Is dit nie ‘n vrou wat ‘n maalklip bo van die muur af op hom gegooi het, sodat hy in Tebes gesterf het nie? Waarom het julle so naby die muur gekom?’ dan moet jy sê: Ook u manskap Urija die Hetiet het gesneuwel.”

22Die boodskapper het vir Dawid alles gaan vertel wat Joab hom beveel het. 23Hy het vir Dawid gesê: “Die vyand het dapper teen ons geveg. Hulle het tot in die oop veld na ons toe uitgekom en toe ons hulle tot by die stadspoort terugdruk, 24het die boogskutters bo van die muur af u manskappe begin raakskiet. So het party van die koning se soldate gesneuwel, en ook Urija die Hetiet het so gesterf.”

25Dawid het die boodskapper beveel: “Sê vir Joab: ‘Jy moet jou dit nie te veel aantrek nie. Dit gebeur nou maar eenmaal so dat mense sneuwel. Veg dapper in jou stryd teen die stad en verwoes dit.’ En praat hom moed in.”

26Urija se vrou het gehoor dat haar man dood is en sy het oor hom getreur. 27Toe die routyd oor was, het Dawid haar na sy huis toe laat haal. Sy het sy vrou geword en vir hom ‘n seun in die wêreld gebring. Maar wat Dawid gedoen het, was verkeerd in die oë van die Here.

Ekstra stof

1 en 2 Samuel handel oor die oorgang van die laaste rigter, Samuel, na die eerste koning, Saul en die opkoms en heerskappy van Dawid, in die elfde eeu v.C.  Hulle drie is dan ook die vernaamste karakters.  Die boeke van 1 & 2 Konings voltooi die verhaal van die konings tot en met die ballingskap in 586 v.C.

Hierdie boeke vorm deel van die Vroeë profete, vertel vanuit God se perspektief op die geskiedenis van sy volk .  Profete speel deurgaans ‘n belangrike rol, spesifiek Samuel en Natan.

Histories gesproke was dit ‘n tyd toe geen supermoondheid ‘n rol in Israel gespeel het nie.  Dit het dit moontlik gemaak vir plaaslike rolspelers om na vore te tree.  Die vernaamste teenstanders waarmee Israel te doen gekry het, was nie meer die Kanaäniete nie, maar die Filistyne (soos alreeds in die verhale van Samgar en Simson in Rigters).  Die Filistyne was van die kusstreek aan die Middellandse See met stede soos Gasa, Asdod, Askelon, Gad en Ekron.

Hierdie bedreiging was een van die redes vir die vereniging van die stamme van Israel en vorm ‘n belangrike agtergrond vir die ontvouende verhaal van die boek van Samuel tot by 2 Sam 8, waar vertel word dat Dawid “die mag uit hulle hande geneem het.” (:1)

Daar is talle ooreenkomste, maar ook beduidende verskille tussen 2 Samuel en 1 Kronieke.  Die verhaal van Dawid en sy ryk word in beide vertel, maar met verskillende perspektiewe.  Waar 2 Samuel – en die verdere verloop (en verval) van Israel se verhaal in 1 en 2 Konings – uiteindelik ‘n belangrike motivering verskaf hoekom ‘n ballingskap nodig was, wil 1 Kronieke, geskrywe ná die ballingskap, die volk juis moed laat skep uit die helde van die verlede.

Betekenisvolle momente in die boek Samuel
1.  OORGANGE – Die verhaal is een van oorgange:

  • Van ‘n periodieke, gedeeltelike teokrasie van die rigterstyd,  na ‘n geïnstitusionaliseerde afkoms-gebaseerde monargie;
  • Van ‘n koning, Saul, wat soos die tipiese Midde-Oosterse konings optree na ‘n koning, Dawid, wat aan God gehoorsaam is;
  • Van veelvuldige aanbiddingsplekke na die nuwe sentrum in Jerusalem as woonplek van God se Naam.

Hierdie oorgange het natuurlik met baie spanning gepaard gegaan.  Dit sien ‘n mens onder andere in:

  • die konflik tussen koningskap en die verbond – vgl. bv. die kontrasterende sentimente tussen Samuel en die volk oor die behoefte aan ‘n koning in 1 Sam 8-12, en Saul wat eerder sy eie kop volg as om lojaal te bly aan God.  Vgl. ook Dawid se verhaal, wie se verbondslojaliteit juis ‘n nuwe belofte aan hom en ‘n verbond met God tot gevolg het (2 Sam 7 – let ook op die messiaanse ondertone), waarin koningskap en die verbond geïntegreer word.
  • die konflik tussen Saul en Dawid (1 Sam 16-31) – waar dit uiteindelik nie gaan óf Israel ‘n koning moet hê nie, maar watter tipe koning Israel gaan hê.  Die sleutelperspektief hier is of die koning lojaal aan God gaan wees en God se karakter gaan vertoon of nie, omdat die koning God se verteenwoordiger op aarde gaan wees.  Saul word verwerp omdat hy dink soos elke ander koning, en dat hy verhewe is bo die wet en onafhanklik van God kan optree.  Dit is juis wat die profetiese tradisie telkens onder die volk se aandag gebring het, dat die konings nie outonoom was nie, en dat sy hooftaak was om die mense in gehoorsaamheid aan God te begelei.
  • Die konflik in Dawid se koningskap (2 Sam 1-24) – vgl. hoe kort Dawid se oorwinnings as koning vertel word (2 Sam 8) teenoor hoe lank en vol detail die verhaal van sy sonde en die tragiese gevolge daarvan vertel word (2 Sam 10-20).  Dawid se twee grootse gedigte van toewyding en lof aan God word daarom in die laaste deel (2 Sam 22-23) van die boek geplaas, as ‘n belangrike deel van die samevatting van sy lewe.  Dit gee ‘n gebalanseerde prentjie van hierdie man van geloof, wat wel aan swakhede toegegee het,  maar wanneer daarmee hy gekonfronteer is, deur gebed en offers berou en verootmoediging getoon het.

2.  AANBIDDING – ‘n Sentrale fokus in die boek is die ware aanbidding van God.  Dit begin met die profesie teen Eli (2:29), wat God se voorskrifte verag het.  Dan fokus dit op die verlies van die Ark van die verbond (hfst. 4-7), waarmee die glorie of eer van Israel weggevat is (4:22).  Aan die begin van Dawid se heerskappy, is dit dus ‘n sentrale tema om die Ark weer terug te bring na Jerusalem (2 Sam 6), waarna Dawid ‘n tempel vir God (en die Ark) wil bou, wat hom verbied word.  En die boek eindig met die altaar wat gebou word op die dorsvloer van Arauna (2 Sam 24) waar lesers sou weet, die tempel uiteindelik gebou sou word (2 Kron 3:1).

3.  KONINGSKAP – Nog ‘n sentrale perspektief om in gedagte te hou, is hoe dié verhaal in die Ou Midde-Oosterse konteks inpas.  In die Ou Midde-Ooste was ‘n koning beide ‘n verteenwoordiger van die volk by God as ‘n verteenwoordiger van God by die volk.

Israel se storie in die Vroeë Profete het raakpunte hiermee.  Die storie van die konings is die storie van die volk.  Wat met hom gebeur, het ‘n direkte impak op die volk.  Hy kan selfs namens die volk met God praat, soos bv. in die Psalms gebeur. En die koning kan aanspraak maak op die volk se lojaliteit, natuurlik in dié mate wat hyself gehoorsaam is aan God.

Dit loop die Nuwe Testament verhaal van Jesus vooruit, waar die Seun van Dawid gehoorsaam is aan God, as verteenwoordiger van die volk (mensdom).  En Hy as koning die volk (Sy liggaam) in die regte verhouding met God kan bring.

4.  LEIERSKAP – ‘n Belangrike perspektief in hierdie verhaal is dat God soewerein is en altyd aan die werk is, meesal “behind the scenes”.  Dit het ‘n belangrike betekenis vir hoe ons na leierskap kyk.  Die boek Samuel wys dat daar maar net een manier is om leierskap te beoefen (Saul, Dawid), of net maar jou lewe effektief te leef (Nabal, Abigajil), en dit is om met God rekening te hou en in afhanklikheid van Hom te lewe.

Die karakters in die boek is soos spieëls waarin ons ons eie lewens afgespieël sien, en in wie se lewens ons lewenslesse leer.

  • Eli se reaktiewe leierskap in sy huis, kos nie net vir hom en sy huis hulle lewens nie, maar veroorsaak baie pyn en donkerte vir die volk van Israel.  Hy kon wel vir Samuel aan die Here wy, maar sy blindekol in terme van sy eie seuns, het gekeer dat hy hulle dissiplineer voordat dit te laat was.
  • Samuel weer was ‘n man van integriteit, wat met moed en wysheid die Israeliete gelei het van die Rigtertyd af tot en met die oorgang na die koningstyd.  Hy salf beide vir Saul as Dawid as koning, terwyl hy steeds waarsku daarteen dat God nie as die eintlike koning geeër word nie.  En hy nooi Israel uit om sy integriteit as leier te toets.  Daarbenewens tree hy op as leier van die eerste profeteskool.
  • Saul illustreer baie van die gevare van leierskap.  Sy mislukking as leier is ‘n klassieke verhaal van ‘n leier wat opgehou het om te lei, en sy magsposisie begin misbruik het vir sy eie belange.
  • Dawid wys vir ons hoe God iemand wat growwe foute gehad het, se hart raaksien, en hom toerus en gebruik om die volk in ‘n nuwe era in te lei.  En in die tweede boek sien ons hoe Dawid se lewe blom weens sy gehoorsaamheid en dit ‘n ongelooflike bate vir die volk is.  Maar na sy ongehoorsaamheid in hoofstuk 10, staan die res van sy koningskap in die teken van dissipline, met konflikte en bedreigings en teleurstellings wat ‘n hard leerskool vorm.  Die een reddende eienskap van sy karakter, is dat hy telkens terugkeer na God in berou en boetedoening.

5.  ANDER – Let ook op hoe temas wat in die Pentateug ‘n rol gespeel het, ook hier voorkom.  Bv. die motief van die kinderlose vrou (Sara, Rebekka, Ragel – Hanna) en die keuse vir die mindere (Jakob – Dawid).

Die twee-deling van die boek dateer eintlik uit die 16de eeu.  Dit was aanvanklik een boek, soos ook 1 en 2 Konings.  Dele van die boek kom moontlik van die onbekende geskrifte van Samuel en die profete Natan en Dan (1 Kron. 29:29).

Verskeie tradisies kan in die teks onderskei word, soos die Ark narratief in 1 Sam 4-7 en 2 Sam 6, die Opkoms van Dawid in 1 Sam 16 – 2 Sam 5, en die Opvolgingsverhaal van 2 Sam 9-20 wat in 1 Konings 1-2 voortgesit word.  Dit kan verband hou met die wyse waarop hierdie verhale by die onderskeie heiligdomme Gilgal, Mispa,  en Silo bewaar is.  Die finale redaktor het dit egter as een verhaal saamgestel.

2 Samuel 11
Die gebreke in Dawid se karakter word in die volgende twee hoofstukke in groot detail vertel.  Hoofstuk 10 beskryf van die veldtogte wat deel van die normale verpligtinge van die konings was.  Hoofstuk 11 vertel dat Dawid op ‘n keer agtergebly het in Jerusalem wat die tafel dek vir die sonde teen Batseba en Urija.  Let op vir die ironieë in die hoofstuk: 1) die getroue uitlander Urija eer die ontroue Israelitiese koning; 2) die uitlander bly seksueel rein gedurende die oorlog terwyl die koning owerspel pleeg met sy vrou; 3) die koning veg nie self in die oorlog nie, maar stuur die getroue soldaat na sy dood.

2 Samuel 11-12 – die diepste ellende van die sonde lê in die minagting van die Here
Dit is só ‘n bekende verhaal, dat ‘n mens verras is met die emosionele impak daarvan op jou.  Dit is met ‘n sinkende gevoel van afgryse wat jy lees hoe Dawid al dieper sak, van owerspel tot moord en die gevolglike leuens om die ware toedrag van sake te verdoesel.  En dit net omdat hy in die oorlog teen die Ammoniete nie sy verpligtinge nagekom het nie, en gevolglik aan versoeking blootgestel is.

Attah ha-ish – Jy is die man – weerklink nog steeds in my ore soos toe my Hebreeuse dosent dit jare terug in die klas gelees het.  Die probleem met die sonde is reeds erg in terme van die effek van die mense wat daardeur geraak word, Batseba, Urija, en die ander wat ingespan word om die leuens in stand te hou, bv. Joab.  Vier seuns sou sterf as straf vir hierdie onbesonne daad, Batseba se kind, Amnon, Absalom en Adonia –  Dawid betaal dus viervoudig, soos hy self voorstel!  Selfs Agitofel word daardeur geraak, want Batseba was sy kleindogter (Eliam, Batseba se pa, was sy seun – 2 Sam 23:34), en verklaar moontlik sy ondersteuning van Absalom later in die verhaal.

Maar die diepste ellende van sonde lê in die minagting van die Here, waarmee sy sorg, beskerming en voorsiening in die wind geslaan word om jou eie, gewoonlik korttermyn, belang te dien.

Ons dink baie keer aan Psalm 51 en die vergifnis wat Dawid ontvang het na hy van harte belydenis van sy skuld gedoen het.  Maar die tragiese gevolge van sy dade, en die oordeel van die Here wat hom tref, gooi ‘n groot skaduwee oor die hele loopbaan van Dawid hierna.  Die ligpunt is die intense hertoewyding van Dawid en die geboorte van Salomo, “man van vrede”, of Jedidja, “die Here het hom lief”, soos Dawid hom genoem het.
Dawid kom ook uiteindelik sy verpligtinge in die oorlog teen die Ammoniete na, en verower só die hoofstad Rabba.

Liturgie

Aanvangswoord: (Psalm 130:1, 2)

Aanvangslied: Lied 470 “U Here is ons Koning 1,2,3,4″

Seëngroet: (Efesiërs 1)

Wet: (As heenwysing na Christus voor skuldbelydenis)
Die gebed van Paulus vir die Efesiërs (3)

Lied 491 “‘k Het Jesus lief Hy is my lig en krag vs 1,2,3,4,5”

Skuldbelydenis: (Uit Bybelmedia se Handleiding vir die erediens, 2010)

Vryspraak en toewyding: (Verwerking van Ps 130:4-8)

Geloofsbelydenis

Loflied
Lied 215 “Here ons sal U loof 1,2,3,4,5”
Lied 514 “Ek weet verseker 1,2”

Epiklese

Skriflesing: 2 Samuel 11:1-15

Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 309 “My lewe bly aan U gewy 1,2,3″

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangswoord: (Psalm 130:1, 2)
Voorganger: Uit die dieptes roep ek na U, Here.
Gemeente: Luister tog na my, Here, hoor tog my hulpgeroep.
Almal: Amen
(Uit die basisliturgie vir 2 Samuel van Bybelmedia se Woord en Fees 2014/15)

Aanvangslied: Lied 470 “U Here is ons Koning 1,2,3,4”

Seëngroet (Efesiërs 1)
Aan almal in ………………………….. wat aan God behoort en in Christus Jesus glo.
2Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus! Amen

Wet: (As heenwysing na Christus voor skuldbelydenis)
Die gebed van Paulus vir die Efesiërs
14Daarom kniel ek in gebed voor die Vader 15aan wie die hele gemeenskap van gelowiges in die hemel en op die aarde sy bestaan te danke het. 16Ek bid dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word, 17dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees. 18Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. 19Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God.

20Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, 21aan Hom kom die eer toe, in die kerk, deur ons verbondenheid met Christus Jesus, deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid. Amen.

Lied 491 “‘k Het Jesus lief Hy is my lig en krag vs 1,2,3,4,5”

Skuldbelydenis:  (Uit Bybelmedia se Handleiding vir die erediens, 2010)
Voorganger: Ons het berou oor ons sonde en bid dat U ons sal vergewe: Van alle afgode wat ons in u plek stel …
Gemeente: Verlos ons, o Heer!

V: Van alle ontrou teenoor U …
G: Verlos ons, o Heer!

V: Van elke misbruik van u Naam …
G: Verlos ons, o Heer!

V: Van ons onvermoë om tot rus te kom …
G: Verlos ons, o Heer!

V: Van ons opstand teen gesag en teen almal wat oor ons gestel is …
G: Verlos ons, o Heer!

V: Van alle haat en afguns teenoor ander mense …
G: Verlos ons, o Heer!

V: Van elke gedagte en daad waardeur ons die huwelik aantas …
G: Verlos ons, o Heer!

V: Van elke benadeling van ons naaste deur selfsug en eie belang …
G: Verlos ons, o Heer!

V: Van alle kwaadpratery en valse getuienis …
G: Verlos ons, o Heer!

V: Van alle begeertes wat sonde voortbring …
G: Verlos ons, o Heer!

V: In die Naam van Jesus Christus wat vir al ons sonde gesterf het.
G: Hoor ons, o Heer. Vergeef ons, o Heer. Ontferm U oor ons.
Amen.

Vryspraak en toewyding
Voorganger: Maar by U is daar vergifnis: daarom word U steeds gedien.
Gemeente: Ek stel my vertroue in die Here, ek vertrou op Hom, ek wag op die vervulling van sy woord.

Voorganger: Ek wag op die Here meer as wat die wagte op die môre wag. Wag op die Here, Israel, want by die Here is daar troue liefde, by Hom is die verlossing seker.
Gemeente: Hy alleen sal ons verlos van al ons sondes.
(Verwerking van Ps 130:4-8)
(Uit die basisliturgie vir 2 Samuel van Bybelmedia se Woord en Fees 2014/15)

Geloofsbelydenis
Die Here is ons God.
Hy is die Here van die heersers.
Hy is die Vader van sy volk wat op pad is.
Hy is die Skepper van die hemel en die aarde.
Hy sorg vir ons.
Sy koninkryk het naby gekom in Jesus van Nasaret,
die Messias, ons Here.
Hy het uit die dood opgestaan en roep ons om Hom te volg.
Die Gees bewerk die nuwe lewe in ons.
Hy lei ons in die waarheid.
Hy wys vir ons dat ons ons stukkende wêreld mooi moet maak.
Hy gaan saam met ons die toekoms in.
Outeur onbekend
(van der Merwe, J (red) 2001. Gebedeboek met Liturgiese Voorstelle. Wellington: Lux Verbi, bl 39.)

Loflied
Lied 215 “Here ons sal U loof 1,2,3,4,5”
Lied 514 “Ek weet verseker 1,2”

Liedere

F144. “God Is Liefde” 
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Kersfees / Epifanie,  lof)
Musiek: Retief Burger
Teks: AP van der Colf  (c) NGKU
© 2005 Urial Publishing
(1 Joh 4:7-21;  Rom 5:1-11;  Joh 3:16)

God is liefde
Juig ons harte en bedink wat Liefde doen.
Dat Hy ons sy Seun gestuur het
om ons sonde te versoen.

Hy wat eerste liefgehad het,
het in Liefde ons vergeef
nou kan ons uit God gebore
uit die bron van liefde leef
uit die bron van liefde leef
uit die bron van liefde leef

F327. “Jesus, Rots”
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Hoop & Vertroue)
Teks: Attie van der Colf  
Musiek:  Carli Lessing
© NG Kerk Uitgewers (Liedboek 503); Nuwe verwerking © 2009 deur WINS Music

Jesus, Rots, my hoop vir ewig,
Veilig kan ek op U bou
U is Heer, my anker stewig
Vas kan ek op U vertrou

U, my hoop, my koers op aarde
U gee aan die lewe sin.
Heer, U gee my lewe waarde
Nuut kan ek met U begin

Refrein:
Deur u mag, deur u krag
Dra U my van dag tot dag
Aan U Heer, altyd weer
Lof, aanbidding, dank en eer
Lof, aanbidding dank en eer

U, my hoop, my hede, toekoms
Leer my werk en bid en wag
U gee op my vrae uitkoms
Inspireer my elke dag

Refrein:

Brug:
U vergeef, U laat leef
In U krag kan ek oorwin
U vergeef, U laat leef
In U krag kan ek oorwin, kan ek oorwin

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Here God, Hemelvader,
U in wie die volheid van lig en wysheid woon,
verlig ons denke deur U Heilige Gees,
en skenk ons die genade
om U Woord aan te hoor,
met eerbied en in nederigheid,
waarsonder niemand U waarheid kan begryp nie.
Ons vra dit om Christus ontwil.
Amen
Johannes Calvyn, 1509-1564 in Wat Here is en lewend maak deur Dirkie Smit, 2001:29. Lux Verbi, Wellington.

Skriflesing: 2 Samuel 11:1-15

Prediking

Familie-oomblik

Lees die aangepaste weergawe van Die Boodskap dramaties voor:
In die lente van daardie jaar, in die tyd wanneer die konings gewoonlik gaan oorlog maak, het Dawid al die manskappe van Israel gestuur om teen die Ammoniete te veg. Hulle het die Ammoniete in Rabba, hulle hoofstad vasgekeer.
Dawid was nie by nie; hy het in
Jerusalem agtergebly. Laat een middag het hy op die dakstoep van die paleis rondgestap. Hy sien toe van die dak af ’n vrou wat besig is om te bad. Sy was ’n baie mooi vrou. Dawid het toe iemand gestuur om te gaan uitvind wie sy is en verneem toe haar naam is Batseba, die vrou van ‘n man met die naam Urija. Dawid het haar laat haal en by haar geslaap.

Later het die vrou toe Dawid se baba verwag en vir hom laat weet: “Ek verwag jou kind.”
Dawid het Urija (Batseba se man) van die slagveld laat haal met die idee dat hy dan by sy vrou Batseba sal slaap. Dan sou niemand weet Dawid is eintlik die kind se pa nie. Maar Urija het nie huis toe gegaan nie. Hy het by die koning se wagte by die paleis se deur gaan slaap.

Dawid het gehoor Urija het nie by sy huis gaan slaap nie. “Jy was dan so lank weg, hoekom het jy nie huis toe gegaan nie?” vra Dawid hom die volgende môre. Urija het geantwoord: “Hoe kan ek huis toe gaan om te gaan eet en drink en by my vrou te slaap as die ark van God en al die manne van Israel en Juda in tente bly, en Joab en die koning se eie soldate in die oop veld moet kamp? Ek sal dit so waar as u leef, nooit doen nie!”

Die volgende môre het Dawid vir die hoof van die leërmag ’n brief geskryf wat hy saam met Urija gestuur het. In die brief het daar gestaan: “Sit vir Urija heel voor in die kwaaiste geveg. Los hom dan alleen sodat hulle hom kan bykom en hom doodmaak.”
So wou Dawid Urija laat doodmaak om sy vrou in die hande te kry…

Vir kinders is Dawid se sonde nie owerspel nie, eerder die feit dat hy, koning Dawid, ‘n ander man se vrou gesteel het. Wat sy sonde nog erger maak is dat hy dit probeer toesmeer het.

Koning Dawid het die reëls gebreek. Selfs die koning behoort die reëls te gehoorsaam want God se reël “om nie iemand anders se vrou te begeer nie” geld vir die koning ook. En God se ander reël “dat jy nie iemand anders mag doodmaak nie” is deur koning Dawid ignoreer. Skaamteloos reël die koning dat Batseba se man in die oorlog doodgemaak word sodat die koning se sonde weggesteek kan wees.

Selfs die magtige koning Dawid moes God se reëls gehoorsaam. Ek kan nie maar net kry en doen wat ek wil nie. Ons almal moet reëls gehoorsaam.

Laasgenoemde paragraaf is gebaseer op idees van Carolyn Brown.

Preekriglyn

Die bekende Christen-outeur, Philip Yancey, beskryf die stryd om sy geloof te herwin in sy boek Soul Survivor. Dit gaan oor dertien sleutelpersone wat hom op sy geestelike reis en pad van geloof gehelp het. Hy sê: “These are the people who ushered me into the Kingdom. In many ways, they are why I remain a Christian today, and I want to introduce them to other spiritual seekers.”

Hy stel 13 persone aan ons voor, soos Henry Nouwen (skrywer oor geestelike vorming), Paul Brand (medikus wat wonderlike werk rondom melaatsheid gedoen het), Leo Tolstoy (by wie hy geleer het om homself te vergewe) en Fyodor Dostoyevsky (by wie hy geleer het hoe om genade prakties uit te leef).

Yancey is nie net eerlik oor sy eie worstelinge en gebreke nie. Hy skroom ook nie om die gebreke en leemtes van sy mentors uit te wys nie. So kan sy beskrywing van Henry Nouwen se gebreke nogal ontstellend wees. Nouwen het met verwerping, ‘n ongesonde behoefte aan erkenning en met sy seksuele oriëntasie geworstel.

Net so ontstellend soos ons teks van vandag. Hoe is dit moontlik dat koning Dawid so kon sondig, knoei en selfs moord pleeg om uit die moeilikheid te kom?

Wat om met sonde te doen?

Waarom ontstel dit mens as jy hoor van die gebreke van jou rolmodelle? Is dit dalk omdat ons nie geleer het om eerlik oor ons sonde te wees nie? Kan ons ons sonde nie in die oë kyk nie. Daarom moet ons maskers dra, ons swakhede probeer verdoesel, en optree asof suiker nie in ons mond kan smelt nie?

Dalk is dit omdat ons wetties is? So wetties, dat ons nie eerlik is met onsself oor ons eie wonde, swakhede en gebreke nie?

Dalk is ons idealisties. Ons wil ons helde en ons leiers op voetstukke sit, en hulle mag nie swak wees, foute maak, of in sonde val nie?

Niemand mag sonde ooit minimaliseer of goedpraat nie. Maar as ons nie eerlik oor ons sonde kan praat nie, gaan ons dit ook nooit oorwin nie. Daarmee help ons teks ons geweldig baie.

Dawid misbruik sy mag

Koning Dawid gaan in 2 Samuel 11 nie saam met Joab en die soldate om Rabba te beleër nie, maar bly liewer in Jerusalem agter.

Een dag na sy middagslapie, daardie tyd van die dag wanneer dit begin afkoel, gaan stap Dawid op die dak van die paleis. Hiervandaan kan hy uitkyk oor die hele stad wat besig is om reg te maak vir die komende nag. Soos hy rondkyk, sien hy ‘n baie mooi vrou wat bad. Hy is dadelik aangetrokke tot haar en doen spoedig navraag by iemand oor haar identiteit. Hy word meegedeel dat haar naam Batseba is, die dogter van Eliam en die vrou van Urija. Sy is dus ‘n getroude vrou en buite bereik of gebruik van ‘n ander man (Eks 20:14).

Dit verhinder Dawid egter nie. Skuilend agter sy titel en sy mag, stuur hy amptenare om Urija se vrou te gaan haal. Die Hebreeuse stamwoord wat hier gebruik word is lgch en kan sterker vertaal word met “om te neem” of “om te vat” (“to take”). Dit gaan dikwels gepaard met ‘n aspek van mag wat geopenbaar word deur die nemer. Koning Dawid misbruik dus sy mag om ‘n ander man (wat tans namens hom veg) se vrou te neem vir sy eie genot en misbruik.

Urija se vrou gehoorsaam die koning se versoek en gaan saam met die amptenare na koning Dawid se kwartiere, heel moontlik onbewus dat koning Dawid haar sien bad het en ook onbewus van die koning se motiewe. Wanneer sy daar aankom slaap koning Dawid by haar, waarna sy terug gaan na haar huis toe.

Batseba is swanger

Tot dusver is Batseba, die vrou van Urija, ‘n geringe karakter in die verhaal van koning Dawid se sonde. Haar identiteit word in die verhaal gevestig in haar eggenoot. In vers 5, die eerste keer wat ons direk van haar hoor, trek sy die mat onder koning Dawid uit met drie kort woorde: “Ek is swanger.”

Ons teks dui in vers 4 aan dat sy haar vorige maandstonde gehad het. Batseba, die vrou van Urija, kan dus niemand anders se kind dra as koning Dawid s’n nie.

Dawid se plannetjies

Hierdie omstandighede plaas koning Dawid en sy onetiese gedrag in die kollig. Hy moet ‘n plan beraam om sy goeie naam te behou. Dawid beveel vir Joab om Urija na die paleis te ontbied in soortgelyke taal as toe hy Batseba, Urija se vrou, laat haal het. Wanneer Urija daar aankom vra Dawid hom uit oor Joab en die leër se welsyn, onder die skyn dat dit die hoofrede is waarom hy Urija laat roep het.

Na koning Dawid Urija uitgevra het, moedig hy Urija aan om huis toe te gaan en (te gaan) “rus ‘n bietjie”. Laasgenoemde frase kan uit die Hebreeus vertaal word met “en gaan was jou voete”, ‘n eufemisme vir seksuele omgang.

Koning Dawid stel dus sy bedoeling redelik duidelik. Urija (heel waarskynlik onbewus van koning Dawid se planne) gaan wel nie huis toe na sy vrou toe nie, maar slaap liewer by die paleisdeur saam met die ander dienaars van die koning. Hy verlaat nie sy pos as dienaar van koning Dawid nie, maar bly lojaal en toegewyd in sy taak.

Koning Dawid kom hiervan te hore en vra vir Urija waarom hy nie huis toe is nie. Urjia se antwoord (11) dui op sy lojaliteit as soldaat teenoor sy koning en sy medesoldate, en herinner ironies genoeg aan koning Dawid se eie ywer om die ark van die Here te beskerm en te huisves (2 Sam 6-7). Koning Dawid beveel Urija om nog ‘n dag in Jerusalem te spandeer voordat hy teruggaan na Joab en die leër.

Hierdie aand maak koning Dawid Urija selfs dronk, in die hoop dat hy na sy huis sal gaan en by sy vrou sal slaap. Wanneer Urija vir die tweede keer saam met sy mededienaars by die paleisdeur slaap, moet koning Dawid vinnig ‘n ander plan beraam. Hy stuur ‘n brief aan Joab om vir Urija in die voorste linies van die geveg te plaas, daar waar die geveg gevaarlik is en waar Urija ongetwyfeld sal sterf. En wie lewer hierdie doodsbrief aan Joab? Koning Dawid stuur dit met Urija self, die onskuldige en lojale dienaar.

Verkeerd

Ons teks fel geen oordeel deur met ‘n woord-ekonomiese en feitelike skryfstyl nie, maar eindig die breër verhaal met ‘n treffrase wat die oordeel onomwonde uitspreek: “Maar wat Dawid gedoen het, was verkeerd in die oë van die Here.”

Hierdie gebeure het nie ongesiens by God verbygegaan nie. Wat volgende gebeur in die lewe van koning Dawid en Israel, sal deur God self bepaal word. God is in beheer van die toekoms, nie koning Dawid nie.

Waarskuwing

Op ‘n eenvoudige, nie-veroordelende wyse, maar op die man af, beskryf ons teks die verhaal van koning Dawid se owerspel en sy planne vir moord teen ‘n onskuldige man. Die teks wil nie ‘n oordeel fel oor Dawid se gedrag nie, maar wil wel die verhaal neerpen vir toekomstige geslagte.

Hierdie is ‘n waarskuwingsverhaal, ‘n herinnering vir almal wat dit lees, dat magsug en ontrouheid aan God ernstige gevolge dra, nie net vir die sondaar nie, maar ook vir die wyer familie en gemeenskap.

Die verhaal is ‘n keerpunt in Dawid se koningskap en in die verdere verloop van die troonopvolging. Ons fokus verskuif van koning Dawid as die Godgekose koning van Israel (2 Sam 3:6-5:5), die sterk openbare figuur wat stabiliteit bied vir die Godsvolk, na Dawid in sy persoonlike hoedanigheid as ‘n gewone mens met sondige neigings.

Ons word dus bekendgestel aan Dawid se volle karakter. Die verhaal beklemtoon só dat alle mense, selfs konings en magtiges, beide lig en donker lewensaspekte het. Beide hierdie aspekte bring gevolge mee.

Koning Dawid “neem” nie alleen ‘n ander man (een van sy eie soldate, waarskynlik deel van die elite van Jerusalem) se vrou nie, maar laat dié onskuldige man doodmaak om sy hebsugtige sonde te verbloem. Wat meer is, ander onskuldige soldate sterf ook in die proses (2 Sam 11:17). Die gewelddadigheid wat Dawid nog in 1 Samuel 24-26 wou vermy, word die gewelddadigheid wat hy self meebring. Dit beïnvloed sy persoonlike lewe asook die lewe van die Godsvolk.

Sonde het gevolge

Dawid se getrouheid aan God lewer positiewe gevolge:  hy word as koning oor die hele Israel aangewys, hy bring die ark van die Here na Jerusalem terug (2 Sam 6:1-12) en hy bring stabiliteit vir die Godsvolk (2 Sam 5:6-25).

Koning Dawid se sondige optrede het ook gevolge. Die negatiewe gevolge wat hieruit vloei is tweeledig:

  • Dawid se persoonlike lewe en die lewe van sy familie word onherroeplik geraak deur soortgelyke sondes van verkragting, moord en rebellie (2 Sam 13-19), en die dood van sy eersgeborene by Batseba, Urija se vrou (2 Sam 12:15-25), as Goddelike straf.
  • Dawid se volk, aan hom deur God toevertrou, ly onder die koningshuis se onstabiliteit en word later ook heeltemal ontwortel deur die Babiloniese ballingskap in 2 Konings.

Die Bybelverhaal dui aan dat 2 Samuel 11 die draaipunt is van Israel se verhaal en dat koning Dawid se optrede wye gevolge het. Die waarskuwing teen magsug en geweld word sodoende verder versterk.

Dit is ook ons verhaal

Hierdie teks en die wyer verhaal dien nie net as waarskuwing vir die Israeliete en eerste lesers nie, maar ook vir mense regdeur die geskiedenis. Magsug en gepaardgaande geweld deur die leiers van die tyd, is nou verweef met die mens se storie.

Ons sien dit in ons moderne militêre geskiedenis met voorbeelde soos die twee wêreldoorloë, Amerika se optrede in Irak en die Midde-Ooste, Suid-Afrika se apartheidsregime en die stryd tussen Israel en Palestina.

Ons sien dit met die verval in die ANC wat demokratiese en geregtelike strukture aftakel om sy president te beskerm.

Ons beleef dit ook in ons moderne ekonomiese stelsel waar armer en swakker mense uitgebuit word met intensiewe en lae inkomste arbeid en mensehandel vir die seksbedryf. Hierdie is vorme van magsug en gepaardgaande geweld (tog nie altyd so duidelik sigbaar nie) deur persone wat as ekonomiese en sakeleiers op die versameling van groot hoeveelhede geld fokus.

Ons kan nog voorbeelde noem. Dink maar aan klimaatverandering as oorgebruik van die aarde se hulpbronne deur die welgestelde deel van die wêreld se bevolking. Ons teks dien as ‘n skel herinnering vir ons tyd.

Is ons sonde iemand anders se fout?

Vir baie eeue is Batseba, die vrou van Urija, voorgehou as die verleidster wat die sonde en donkerte in koning Dawid losgemaak het deur haar uitlokkende bad. Dit is ook hoe Batseba uitgebeeld is deur teoloë, predikers en kunstenaars oor die jare.

Ons teks stem nie met hierdie siening saam nie. Koning Dawid se optrede is onder die vergrootglas en God se straf val op koning Dawid se skouers. Batseba funksioneer as ‘n geringe karakter in die breër verhaal (Rembrandt se skildery van 1654 beeld Batseba uit as sou sy bloot voldoen het aan koning Dawid se eise).

Deur die eeue het lesers dit moeilik gevind om hierdie verhaal van egbreuk en moord, te vereenselwig met die lewe van die Godgekose koning, Dawid. Lesers wou eerder die teenstrydighede uitwis deur die blaam op iemand anders te plaas.

Tog erken koning Dawid dat hierdie gebeure wel sy skuld was. Ons lees in 2 Samuel 12:13 sy bekentenis teenoor die profeet Natan. Dit spreek boekdele oor Dawid se sterk karakter dat hy bereid is om na Natan te luister en as koning te erken dat hy teen God gesondig het. Koning Dawid is ‘n voorbeeld van menswees: gelyktydig ‘n kind van God en ‘n sondaar; gelyktydig gevul met lig en donker.

Daar is hoop

Daar is hoop vir mense wat hulle eie sonde in die oë kan kyk, dit kan herken en erken, berou daaroor kan hê en hulle lewe verander. Dawid het dit gedoen. Hy stort sy skuldbelydenis ook in van die psalms uit. Dink maar aan Psalm 51.

In Soul Survivor vertel Philip Yancey hoe Henry Nouwen sy eie gebrokenheid, worsteling met verwerping en sy versoeking tot sonde in die oë gekyk het. Uit hierdie gebrokenheid het ‘n man gegroei wat vir ander genesing kon bring.

Of dink aan Chuck Colson wat vanweë sy aandeel aan die Watergate skandaal in 1974 in die tronk beland het. Hy het ‘n Christen geword, ‘n gevangenisbediening begin (Prison Fellowship), die Chuck Colson Sentrum vir Christelike wêreldbeskouing gestig en meer as 30 Christelike boeke geskryf. Sy radiokommentaar in die program Breakpoint het miljoene bereik.

Die skurk en gevangene het later 15 eredoktersgrade ontvang, asook die gesogte Templetonprys vir Godsdiens.

Of dink aan koning Dawid, die man wat so diep in die sonde geval het. Tog kon hy sy skuld bely, en was hy steeds ‘n man na God se hart. Uit sy nageslag het daar ‘n ewige Koning voortgekom, en ons deel vandag nog in die seën wat God aan Dawid en sy nageslag toegesê het.

Daar is hoop – ook vir sondaars soos ons.

God stuur ons om te leef

Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 309 “My lewe bly aan U gewy 1,2,3”

Seën
18Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. 19Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God. Amen (Efesiërs 3)

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.