’n Seisoen van die Skepping 2020 – ‘n Verlore stryd?

Picture of Woord en Fees
This content is only available to members.

Sections

'n Verlore stryd?

Filippense oor vreugde onder onheilspellende wolke
Daar is al hoe meer kerke, vanuit verskillende konfessionele tradisies oor die wêreld heen, wat ’n Seisoen van die Skepping in Koninkrykstyd vier, veral in die tyd ná 1 September elke jaar. Dit volg op ’n aanbeveling van die ekumeniese patriarg Dimitri I van die Ortodokse Kerk in 1989. In ’n aanbeveling van die Sentrale Komitee van die Wêreldraad van Kerke na aanleiding van die Wêreldberaad vir Volhoubare Ontwikkeling (Johannesburg 2002) word kerke aangemoedig om 1 September elke jaar af te sonder as ’n dag van gebed vir die skepping en volhoubaarheid. Sedertdien het kerke in Australië, Nieu-Zeeland, die Fillipyne en die VSA na vore gekom met inisiatiewe om liturgiese materiaal te ontwikkel vir só ’n Seisoen van die Skepping. Die European Christian Environment Network nooi ook alle kerke in Europa uit om ’n “Time for Creation” te vier in die tydperk van 1 September tot die tweede Sondag in Oktober. Die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke het in Februarie 2007 ingestem dat ’n Seisoen van die Skepping by die kalender toegevoeg word. So ’n “Seisoen van die Skepping”, saam met die viering van Omgewingsondag en verskeie ander kerklike feesdae, kan kerke in Suid-Afrika inderdaad help om hierop te fokus.

God se heilswerk kan verwoord word onder die groot temas van skepping, geskiedenis, sonde, voorsienigheid, verlossing, kerk en sending, en voleindiging. In die Seisoen van die Skepping staan kerke, heel gepas in Koninkrykstyd, stil by die tema van die skepping. God se skepping is lank verstaan as bloot die verhoog waarop die drama van verlossing tussen God en mens afspeel. Die ekologiese krisis het ons gehelp om met nuwe oë te kyk na God se gawe van die skepping, na die gevolge van die mens se sonde vir die skepping en na die verlossing van die skepping, saam met die mens.

Daar is talle gedeeltes in die Bybel wat met God se skepping te make het. Hier kan ’n mens dink aan geliefde tekste soos Genesis 1, 2 en 9, Psalm 8, 19 en 104, Jesaja 11 en 40-66, gedeeltes uit Jesus se Bergpreek, Romeine 8, Kolossense 1 en Openbaring 21. Daar is egter nog veel meer as hierdie gedeeltes ter sprake. Wanneer ’n mens die Bybel lees met ’n lens wat jou sensitief maak vir verwysings na dit wat aards is, ontdek jy gou dat die Bybel oorlopens toe vol is daarvan. Dit help jou om te sien dat daar op elke bladsy van die Bybel gepraat word van berge en heuwels, lig en lug, grond en water, riviere en die see, wind en vuur, lewe en sterwe, plante en bome, diere en voëls, en dan ook oor die mens. Dit gaan nie net hier oor iets interessants wat die Bybel byvoorbeeld oor bome of water te sê het nie. Elk van hierdie temas kan ’n mens help om die hele boodskap van Bybel vanuit ’n ander oogpunt te verstaan – juis omdat die hele drama van skepping, sonde, verlossing en voleindiging óók met (byvoorbeeld) water of bome te make het. Heel dikwels, as mense dit dan nie wil doen of verstaan nie, is dit berge of bome wat die evangelie verkondig. ’n Mens sou daarom kon sê dat elk van hierdie temas ons kan help om vanuit ’n nuwe hoek na die hart van die evangelie te kyk.

In die Seisoen van die Skepping kyk ons elke jaar na een spesifieke tema. In 2020 maak die Leesrooster voorsiening vir ’n siklus van vier tekste uit Paulus se brief aan die Filippense, naamlik Filippense 1:21-30; 2:1-13; 3:4b-14 en 4:1-9. Hierdie siklus kan as ’n reeks behandel word in September of Oktober, afhangende van ’n gemeente se spesifieke program in daardie tyd. Die span medewerkers wat betrokke is by die Seisoen van die Skepping vir 2020 het op grond van hierdie vier tekste die volgende tema geïdentifiseer: “’n Verlore stryd? Filippense oor vreugde onder onheilspellende wolke”.

Hierdie tema verg verdere verduideliking omdat daar op die oog af geen direkte verband met God se skepping in hierdie gedeeltes voorkom nie. Trouens, die beroemde uitspraak in 1:21: “Want vir my is die lewe Christus en die sterwe wins” lyk eerder na ’n onderwaardering van die aardse lewe. Staan die opoffering van Jesus Christus om “aan mense gelyk te word” (2:7) nie teenoor sy bestaan “op Godgelyke wyse” (2:6) nie? Is die strewe daarna om die “hemelse prys te kan behaal” (3:14) en die waarskuwing teen “aardsgesindheid” (3:19) nie juis tekenend van wêreldmyding nie? En watter rol is daar nog vir liggaamlike begeertes as die vrede van God oor ons harte en gedagtes die wag hou (4:7)? Is hierdie brief nie daarom van bloedweinig relevansie vir die Seisoen van die Skepping nie? Miskien, maar wat dan van die oproep tot vreugde en blydskap wat soos ’n refrein deur die hele brief opklink (in dié vier gedeeltes in 1:25; 2:2; 4:4)? Is die opwelling van gevoelens van vreugde nie juis iets baie liggaamlik nie?

Die sleutel om ’n brug te vind tussen Filippense en die soort ekologiese kwessies wat ter sprake kom by die Seisoen van die Skepping, lê by die stryd wat gestry word. Die vreugde waarvan Paulus praat, kom nie vanself nie. Dit is geen ligsinnige of selfs grappige vreugde nie en is ten diepste kontra-intuïtief. Paulus skryf immers hierdie brief as ’n politieke gevangene vanuit die tronk en die toekoms is vir hom duister. Daar is ook sprake van stryd vir die gemeente in Filippi. Daar is klaarblyklik druk om by die Romeinse orde en kultus in te pas en daarom vervolging maar ook konflik en verskeurdheid as gevolg van dwaalleer. In elk geval is hier sprake van omstandigdhede wat mense en gemeentes maklik kan onderkry. Hieroor meer in die preekstudies.

Dit is natuurlik baie maklik om raak te sien dat mense vandag steeds in die een of ander stryd verwikkel is. Dink aan ’n sielkundige tweestryd om te kan klaarkom met die eise van die lewe in ’n gedrewe wêreld, die stryd om oorlewing, om kos op die tafel te kry, die bedreigings van misdaad, politieke vorms van stryd, kulturele oorlewing en wat nog meer. Dink ook aan gemeentes wat sukkel met kwynende getalle. Ekologies is daar ook die haas onoplosbare probleme wat verband hou met bevolkingsgroei, uitbreidende verbruikerspatrone, klimaatsverandering, ontbossing, die versuring van oseane, die verlies aan biodiversiteit, die besoedeling van riviere, gebrekkige sanitasie, noem maar op. In die onlangse verlede is “onheilspellende wolke” maklik te herken: El Nino, stofwolke in die Vrystaat, Dag Zero, riool in die Vaalrivier, Idai, Kenneth, noem maar weer op. Alle aanduidings is dat hierdie probleme in die toekoms sal vererger. Vir baie voel dit asof die stryd reeds verlore is. Daarom probeer hulle maar net om self te oorleef, al gaan die wêreld rondom hulle dan verlore. Of dalk hoop hulle, op die oog af net soos Paulus, om verlos te word van hierdie “aardse tranedal”?

Het Filippense hieroor enigiets te sê? Dit sou hermeneuties dwaas wees om nie die verskil raak te sien tussen die soort stryd waarvan Paulus praat en ekologiese onheilswolke nie. Dit sou ewe dwaas wees om nie by Paulus iets oor vreugde te probeer leer as ’n mens alreeds omring is met sulke ekologiese onheilswolke nie. Dit verg vaardige eksegetiese en hermeneutiese voetwerk. In die Seisoen van die Skepping van 2019-2020 probeer ons om op die spoor te kom van die geheim van die soort aansteeklike vreugde wat Paulus gevind het. Vir hom het dit alles met Christus se menswording, kruis en opstanding te maak. En vir ons?

Aanvullende materiaal

Om só ’n Seisoen van die Skepping ten beste in te klee sal spanwerk binne ekumeniese verband nodig wees. Die volgende soort materiaal kan versamel word en elektronies beskikbaar gestel word:

  • gegewens oor El Nino, stofwolke in die Vrystaat, Dag Zero, Idai, Kenneth
  • sielkundige verslae oor hoe mense reageer op onheilspellende beelde
  • gedigte, films, literatuur oor afwagting op die einde om aan hierdie wêreld te kan ontsnap
  • liturgiese materiaal
  • grappe oor vreugde of die gebrek daaraan
  • stigtelike literatuur oor blydskap
  • praktiese wenke oor hoe om te “cope” in bitter moeilike omstandighede, hoe om die eise van die lewe te hanteer, en hoe om met jouself saam te lewe.

© Missio 2024 | All rights reserved.