Kersfees

Picture of Woord en Fees

Sections

Liturgiese Voorstel 1

Leesroostertekste

Sleutelteks:  Johannes 1:1-14
Ander tekste:  Jesaja 62:6-12; Psalm 97; Titus 3:4-7 

Inleiding

Die karakter van die Kersdiens is een van verwondering en aanbidding, van dankbaarheid vir God se onbegrensde liefde en trou. Hierdie verwondering en dankbaarheid moet die hele liturgie dra en daarin uitdrukking vind.  Dit spoor ons ook aan om grensloos vrygewig en liefdevol te wees. Die liturgiese kleure is wit en goud, die kleure van die koning wat gebore is. Gebruik baniere en ander versierings om die liturgiese ruimte feestelik te klee.

Draai geskenke toe om uit te deel aan die begin van die diens. Die volgende mense kan geskenke ontvang: die gesin met die meeste lede in die kerk; die oudste persoon in die kerk; die jongste persoon in die kerk; almal wat vandag verjaar en iemand wat nog nie ʼn geskenk ontvang het nie.

Diensorde

God versamel ons voor Hom

Aanvangslied
Begin die erediens met “Gloria in Excelsis Deo” van Vivaldi.

Aanvangswoord
Titus 3:1-4

Sang
Lied 367 “Ere aan God”

Seëngroet
Genade en vrede vir julle van God ons liefdevolle Vader en Jesus Christus, ons Here, wat gekom het, hier is en weer gaan kom en die Heilige Gees wat ook op hierdie Kersdag God se hoop, vrede, vreugde en liefde in ons harte wil laat leef.

Herinnering
Lees Jesaja 62:10-12

Sang
Lied 349 “Kom, kinders, besing met ʼn vrolike stem”

Adventskrans
Voorganger:  Sing ʼn nuwe lied vir die Here.
Sing tot eer van die Here almal op die aarde,
vertel van sy redding van dag tog dag,
verkondig sy grootheid voor al die volke,
sy magtige dade aan al die mense.
In die begin was die Woord –
gesproke en lewend,
ʼn belofte gemaak en vervul.
Gemeente:  Verheerlik die Here saam met ons.
Al God se beloftes is vervul.

Voorganger:  In die begin  was die Woord,
En deur Hom het alles ontstaan.
Gemeente:  Ewig en nou,
alreeds en nog nie,
God se beloftes is waar.

Voorganger:  Eer aan God in die hoogste hemele!
Die Woord het vlees geword
en God se beloftes waargemaak.
Steek die Christuskers aan.

Sang
Flam 245 “Lig vir die wêreld”

Diens van die Woord

Skriflesing
Psalm 90

Sang
Lied 355 “Al was ek nie daar nie”
Lied 366 “Die vreugdelied wat engele sing”

Skriflesing
Psalm 97

Sang
Lied 334 “God is liefde”
Lied 358 “Welkom, o stille nag van vrede”

Gebed
O kom, Jesus, Seun uit Dawidstam.
U bring vrede – U die Lam –
wat ons van sonde bevry.
Kom en praat met ons,
wanneer ons na u Woord luister.
Ons verbly ons in U,
Immanuel, God met ons.

Skriflesing
Johannes 1:1-14

Sang
Lied 345 “Kom alle getroues”

Prediking
Gebed

Diens van die tafel

Gebed
U kom oral en altyd ons dank toe, Here ons God,
deur Jesus Christus, ons Heer.
ʼn Nuwe dag is gebore met die koms van u Seun.
U toekoms het begin.
Toe die aarde nog donker was,
het ons u lewenslig aanskou;
die hemel gaan vir ons oop
en u heil kom binne ons bereik.
U word ons naaste en ons vrede.
Daarom Here ons God,
verhef ons ons stem om saam met engele, herders en wyses,
saam met vroue, manne en kinders wat u lig as hulle lewenslig ontdek het,
U diep uit die hart die lof toe te sing.

Sang
Lied 201 “Lofsing die Heer, buig voor Hom neer”

Instelling
In die nag waarin Hy oorgelewer is, het Jesus brood geneem en nadat Hy God daarvoor gedank het, dit gebreek en aan sy dissipels gegee en gesê: “Neem, eet, dit is my liggaam.”

Net so het Hy ook na die ete die beker geneem, God daarvoor gedank, dit omgestuur en gesê: “Drink almal daaruit. Hierdie beker is die nuwe verbond wat met my bloed bevestig word tot vergewing van sondes. Dink aan My elke keer wanneer julle daaruit drink en weet julle is nou met my versoen.”

Uitdeel en gebruik van brood en wyn

Sang
Lied 348 “Stille Nag”

Uitsending

Apostoliese Geloofsbelydenis

Slotsang
Kerslied

Seën
Geliefdes, omdat God julle liefhet, sal julle nie vergaan nie. Daar is geen einde aan sy ontferming nie. Dit is elke môre weer nuut. Die genade van die Here Jesus Christus, wie se opstanding ons hoop en waarborg is, en die liefde van die Vader, wat ons erfenis veilig bewaar en die krag van die Gees, wat ons bewaar, sal met elkeen van julle wees.

Sang
Lied 314 “Amen”

Liturgiese voorstel 2

Leesroostertekste

Sleutelteks:  Johannes 1:1-14
Ander tekste:  Jesaja 62:6-12; Psalm 97; Titus 3:4-7;  Lukas 2:(1-7), 8-20

Inleiding

Die sleutelteks vir vanjaar is die vertelling van Jesus se geboorte volgens die evangelie van Johannes. Dit verskil heeltemal van die ander evangelies en is minder ingestel op karaktersketse en geografiese gegewens. Die Woord wat by God was, kom woon nou by sy mense. Hier vind as ’t ware die omgekeerde van die hemelvaart plaas:  God is aan die beweeg – Jesus verlaat sy hemelse woning en trek in ons woonbuurt in. Die wonder hiervan moet in die liturgie verwoord word.

Diensorde

God versamel ons voor Hom

Aanvangswoord
Die Here regeer! Laat die aarde juig. Laat almal bly wees.  Julle wat die Here liefhet, vir julle het daar lig gekom, en blydskap vir hulle wat opreg is. Regverdiges, wees bly in die Here, en prys sy heilige Naam (Ps 97).

Die Christuskers word aangesteek.

Aanvangslied
Lied 214 “Here, ons sal U loof”; Flam 133

Gebed
“Here God, op hierdie dag vier ons u goedheid en liefde. Op hierdie dag het u goedheid en liefde in Christus aan ons verskyn. Ons dank U vir onverdiende genade. Amen.

Seëngroet

Skriflesing  (Ou Testament)
Jesaja 62:6-12

Gemeentesang
Lied 365 “Hoor die blye Eng’lelied”
Lied 366 “Die vreugdelied wat Engele sing”
Sionsgesang 81 “Kom alle getroues”

Diens van die Woord

Gebed om die opening van die Woord
Here Jesus,
ons sien U uit die verte
oor die onmeetlike afstand van die tyd.
Ons hoor U.
Ons probeer U verstaan.
Ons probeer begryp wie U is.
Laat ons saam met U loop.
U was op aarde anders as alle ander mense.
Sterker en swakker.
Grootser en geringer.
U verkondig die eer van God,
en skaar U by die veragtes.
U bring die krag van God,
en U is swak met die swakkes.
U gee vryheid,
en laat U bind met die gebondenes.
U is God met ons.
U verdedig die saak van die skuldiges.
U skei waarheid en leuen.
U gebruik nie geweld nie
en U deins nie terug vir opoffering nie.
Laat ons met U saamloop,
U vergesel.
Gee ons lig uit u goedheid.
Maak ons soos U
– sodat ons waarlik mens kan word. – Jorg Zink

Skriflesing
Lukas 2:1-20

Prediking

Gebed
Ontvang nou in stilte dit wat uit die Woord na jou gekom het.
Neurie Lied 354 “O Christus, ons verlange”.
Amen.

Diens van die Tafel

Voorbereiding
Lied 364 “Herders op die ope velde”

Tafel word in gereedheid gebring

Skriflesing
Titus 3:4-7

Tafelgebed
Panis Angelicus
Die brood van engele
word die brood van die mense.
Die hemelse brood oorwin die tydelike.
O, wonderlike sakrament:
die arme,
die kneg en die
nederige
ontvang almal die Here.
U, o God, een in drie, ons smeek
dat U ons besoek terwyl ons u aanbid.
Lei ons op u pad sodat ons uiteindelik
die lig waarin U woon mag sien.

Instellingswoorde en kommunie

Dankgebed

Sang
Lied 354 “O Christus, ons verlange”

Uitsending

Seënbede
Die Here wat gekom het, kom na jou toe:
Hy sal jou seën en jou oppas,
Hy sal met deernis na jou kyk en vir jou goed wees,
Hy sal jou gebede verhoor en aan jou vrede gee.
Die Drie-enige God seën jou op hierdie dag
en al die dae – totdat Hy weer kom.
Amen.

Preekstudie: Johonnaes 1:1-14

Teks

Vir ʼn analise van Johannes 1:1-14 vanuit ʼn “dramatiese hoek” kan Preekstudies met liturgiese voorstelle – 2001-2002 geraadpleeg word. Die eerste wat ons moet verstaan met die lees van die sogenaamde Johannese proloog, is dat baie van die inhoud waarna die skrywer van die evangelie verwys, vir sy eerste lesers bekend sou wees, maar min daarvan in die vorm waarin hy dit hier aanbied. Dit gaan dus nie net oor die herkenning van bekende woorde, frases en beelde in die proloog nie, maar oor die nuwe konteks wat deur die vierde evangelie geskep word en wat dus vir die interpretasie van hierdie woorde en beelde so belangrik is. In ’n sekere sin kan ’n mens ook net die konteks van die proloog verstaan as mens deur die proloog en die hele Johannesevangelie gelees het.

Die herformulering van bekende materiaal sien ’n mens waarskynlik die beste in die laaste verse van die proloog (14-18), waarin die taal oor God en Woord (1) getransformeer word tot taal oor Vader en Seun. Die Woord het vlees geword (14), letterlik vertaal “onder ons kom tent opslaan”, en die Woord se Naam is Jesus (17). Die storie van die Woord is dus die storie van Jesus en die storie van Jesus is die storie van die Woord. Hierdie belangrike uitgangspunt is as ’t ware die ontologiese werklikheid van waaruit die skrywer die vierde evangelie skryf en waarteen ook elke woord van die proloog gelees en verstaan moet word. Die Woord het vlees geword in die beslissende moment van die mens se geskiedenis – eintlik ook in die geskiedenis van die skepping – aangesien die inkarnasie (menswording) God se verhouding met die mens verander het en die mens se verhouding met God. Die inkarnasie beteken ook dat mense vir God kan sien, hoor en ken op maniere wat voorheen nie moontlik was nie. Die Vader-Seun-verhouding tussen God en Jesus is in ’n sekere sin die sleutel tot die verstaan van hierdie veranderde verhouding. God se Seun, omdat Hy die geïnkarneerde Woord is, kry sy identiteit van God (1, 18). Die verhouding tussen goddelik en menslik is getransformeer aangesien mense in die inkarnasie intieme, voelbare en liggaamlike toegang tot die kosmiese realiteit van God verkry.

Die nuutheid van dit wat God in Jesus na die wêreld bring, is so dramaties dat die konvensionele oorsprongs-narratiewe nie voldoende is om dit te verwoord nie. Dit is die geval omdat die storie van Jesus uiteindelik nie ʼn storie oor Jesus is nie – dit is in feite die storie van en oor God. Die inkarnasie van die Woord in Jesus herdefinieer daarom die lewe, die skepping en verlossing en in Johannes 1:1-18 gee die vierde evangelis die leser as ’t ware die teologiese padkaart van God se selfopenbaring in Jesus. Die fassinerende van Johannes 1:1-18 is dat die teks nie die lesers toelaat om afstand te neem van hierdie openbaring nie en trek as ’t ware die leser in die teologiese aansprake van die teks in. Laasgenoemde bied belangrike impulse vir die rigting van ʼn preek oor dié teks.

Gegewe die kosmiese betekenis van die inkarnasie vir Johannes, is dit geen wonder dat die Johannesevangelie met die woorde “in die begin” begin nie. Hierdie woorde is met opset ʼn oproep wat die eerste woorde van Genesis eggo. Die skrywer(s) van die skeppingsverhaal in Genesis 1 neem Israel terug na die tyd voor die skeppingsorde, na die moment voordat God die wêreld se ontstaan verwoord het (in Engels: “spoke creation into existence) en Johannes doen dieselfde met sy lesers. “In die begin” was God en die Woord – en die res van die verhaal ontvou vanuit hierdie verhouding. Johannes 1:3, soos Genesis 1, sien die skepping as behorende tot God se Woord. In die nuwe skeppingsorde is lewe en lig (Joh 1:4) die maniere waarop die Woord, God se self-uitdrukking, effektief is. Johannes 1:1-4 roep na vore die wonder van die skepping, die gawe van die lewe, die krag van die Woord en vier die misterie van die openbaring wat die konvensionele beperkinge van tyd en ruimte te bowe gaan. Die weerstand van die lig wat in die duisternis skyn (5) is bevestiging van die krag van die lewe wat in die Woord beskikbaar is.

Johannes lees dus die storie van die skepping en God se Woord deur die lens van die menswording en nie bloot net deur die tradisies van die Ou Testament nie. So maak die storie oor die skepping plek vir ʼn nuwe storie. In vers 9-13 maak die vreugdevolle viering van die Woord en die lig en die lewe wat die Woord aanbied plek vir die komplekse realiteit van die mense se respons. Wat beteken dit om nie hierdie Woord te aanvaar nie? In die konteks van die proloog beteken dit om God nie in die Woord te sien nie en om te ontken dat die Woord God se self-uitdrukking in die wêreld is. Meer spesifiek, veral in die konteks van vers 6-8, beteken dit om nie vir Jesus te aanvaar oor wie Johannes die Doper getuig dat Hy God se self-uitdrukking is nie, dat Jesus die Woord is en daarmee die bron van lewe en lig vir alle mense.

Die verwerping van die Woord van Jesus deur die mense is nie beperk tot die tyd van Jesus of tot dié van die vierde evangelie nie. Die spesifieke verwysing na “sy eie” word nooit eksplisiet in die evangelie verduidelik nie (vgl Joh 4:44). Dit staan as ʼn simbool vir hulle op wie Jesus ʼn vorige aanspraak gehad het, maar wat Hom nietemin verwerp het. In Jesus se tyd (en die tyd van die vierde evangelie) was diegene op wie Jesus hierdie aanspraak gehad het, die Jode gewees, aan wie die Woord van God reeds tevore verkondig is (vgl Heb 1:1) en wat van die begin af (Gen 1:1) in God se storie gedeel het. Vir vandag se Christene benodig die identifikasie van Jesus se “eie mense” egter heelwat meer interpretasie. Die verwerping van Jesus; deur diegene wat van “die begin” af (Gen 1:1) in die verhaal van die inkarnasie gedeel het, is die eintlike tragedie, en kan dit selfs wees dat die kerk haar in die posisie bevind in die rol van diegene wat Jesus as “sy eie” verwerp.

Vers 12-13 laat die fokus val op die tragedie van verwerping deur aandag te skenk aan vars moontlikhede wat as alternatiewe bestaan. In hierdie verse raak dit duidelik dat diegene wat wel vir Jesus aanvaar het geïdentifiseer word as diegene wat “in sy Naam geglo het”. Op hierdie punt in die proloog is die naam van die Woord, Jesus. Diegene wat vir Jesus ontvang het, glo dus dat God in Jesus beskikbaar is. Hierdie geloof is die begin van ʼn nuwe verhouding met God (1:12). Vers
12-13 gee dus uitdrukking aan beide die antropologiese en soteriologiese dimensies van die inkarnasie in die vierde evangelie. Diegene wat die geïnkarneerde Woord ontvang, word dus nuwe mense en begin ʼn nuwe lewe in God (vgl 3:3-8).

Die drama van verwerping en aanvaarding wat ons in vers 9-13 aantref, plaas die leser voor ʼn duidelike keuse: om óf die Woord te aanvaar en deel te neem in hierdie nuwe verhouding met God, óf om die Woord te verwerp en niks van die lewe en die lig van die Woord te aanvaar nie. In vers 14 openbaar die vierde evangelis waar hyself in die drama van aanvaarding of verwerping staan: hy het die Woord ontvang (aangeneem). Die vierde evangelis eis vir homself en sy gemeenskap die wonder en die misterie van die inkarnasie. Die finale deel van die proloog is daarom nie neutraal of objektief nie, maar bely: “Ons het sy glorie gesien.”

Met die woorde, “Die Woord het mens geword en onder ons kom woon”, het die gemeenskap die band herken wat daar tussen hulle en God soos geopenbaar in Jesus ontstaan het. God het nie op ʼn afstand van hulle gebly nie (ver en geïsoleer). Inteendeel, in Jesus, het God besluit om te midde van die mense in kwesbaarheid te woon, te midde van verwarring en pyn. En hierdie band geld ook vir die hedendaagse Christelike gemeenskap. Om vlees te word is om vreugde, pyn en verlies te ken. Dit is om lief te hê, te treur en ook eendag te sterf. Die inkarnasie bind Jesus aan die “alledaagse” van ons menslike ervaring en dus ons eie menslikheid.

Johannes 1:14 is een van die tekste wat gereeld in die kerk se leesroosters as ʼn teks vir Kersfees verskyn. Die leesrooster verwag dus as ’t ware van die kerk om Jesus se koms na die wêreld vanuit die perspektief van hierdie teks te benader. Die teks bevat geen van die tradisionele elemente van die Christelike storie nie. In die plek van die krip, die engele en die magiërs bied Johannes 1:14 aan die kerk ʼn teologiese visie van die verskil wat die inkarnasie in die wêreld maak.

Konteks

Die proloog van Johannes, het ons gesien, vertel die verhaal van die koms van die Logos vanaf die goddelike domein na die wêreldse domein. Die basiese buitelyn van die plot is verwant aan die standaard mitologiese temas van daardie tyd en het dus verskeie variasies gehad. Ons vind dit in die Joodse wysheidsliteratuur, in die Griekse filosofie en in die gnostisisme. Deur die gebruik van ‘n antieke verhaal, plot en terminologie is Johannes in staat om sy evangelie te begin op ‘n vlak wat onmiddellik deur die antieke leser herken sou word. Hy slaag dus daarin om komplekse filosofiese en teologiese konsepte van sy dag in die figuur van Jesus te verenig.

Die woord Logos is ’n Griekse term wat ons in Afrikaans vertaal met “Woord”, maar die volle betekenis van dié woord kan ons nie met dié vertaling vasvang nie. Dit het ’n ryke verskeidenheid gebruike in die Griekse filosofiese spekulasie gehad waar dit dikwels gebruik is vir die konsep wat ons vertaal as “die rede”, wat natuurlik die belangrikste Griekse deug was. Die Joodse filosoof Philo gebruik ook die begrip “logos” om te verwys na die God van die Ou Testament. Maar die gedagte van ’n gepersonifieerde entiteit wat teenwoordig was by God met die skepping word die beste verstaan teen die agtergrond van ’n ander bron, naamlik die Joodse wysheidsliteratuur soos wat ons vind in Spreuke 1-9. Hier is die gepersonifieerde Wysheid saam met God by die skepping teenwoordig en kom ook af na die aarde om die boodskap van wysheid aan die dwase mensdom oor te dra. Dit is dus duidelik dat een van die radikale kenmerke van die Johannese teologie, naamlik dat daar ‘n ander wese saam met God by die skepping was en oor wie ons anders praat as oor God, op ’n Bybelse konsep gefundeer is.

Die sterk kontras in Johannes tussen hierdie wêreld en die goddelike wêreld, tussen lig en duisternis, en tussen kinders van die lig en kinders van die duisternis is betekenisvol in die verhale van Jesus en in dié van die vroeë kerk. Dit was ’n visie wat sin gemaak het in ’n tyd waarin die kerk ’n vervreemding van haar wortels in hierdie wêreld ervaar het. Maar wanneer dit oorbeklemtoon word, ontwikkel sodanige  teologie in die dwaalleer van gnostisisme, soos wat ons weet op grond van historiese terugskouing. As ’n korrektief op hierdie siening, sou dit ons help om Johannes 1:14 in gedagte te hou: “Die Woord het mens geword . . .” Net soos wat van die Woord verwag is om ten volle betrokke te wees in die wêreldse sake om redding te bewerk, so is dit ook vandag die taak van die kerk om haar missie uit te klaar.

Preekvoorstel

Wanneer die eerste Christene die woorde van die Johannesevangelie: “In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God . . .” gelees, of dalk eerder gehoor het, sou hulle van die begin af heelwat meer verstaan het as wat vandag met ons die geval is. Hulle sou byvoorbeeld onthou het dat in Hebreeus “woord” en “ding” dieselfde betekenis gehad het. Hulle sou ook geweet het dat die woord “logos” in Grieks ʼn verskeidenheid van betekenisse het – op die eenvoudigste vlak bloot iets wat ons sê. Maar dit sou ook kon beteken ’n patroon (iets wat dus herhaal), of ʼn rede vir iets, of selfs as die ganse struktuur van die kosmos wat ons help om sin te maak; die struktuur wat alles bymekaar hou en dit selfs vir ons moontlik maak om te dink.

Teen hierdie agtergrond begin ons ʼn idee kry van wat presies die skrywer van Johannes oor Jesus probeer sê. Sy lewe is wat God sê en ook wat God doen. Dit is as gevolg van die lewe wat in Hom leef wat dit vir ons moontlik is om te dink. Jesus is die plek waar alle realiteit gefokus is, waar alles na ʼn punt toe gebring word. Hier kan ons dus sien, soos waarskynlik op min ander plekke, wat dit is wat alles met mekaar verbind word. Om ʼn ander beeld te gebruik, dit gaan dus oor ʼn wysie wat ons almal ken en herken. Die Johannesevangelie verklaar met ander woorde, te midde van die ryke verskeidenheid van lewe wat ons in verskillende vorme in die wêreld herken, dat alles met hierdie een melodie verband hou, die melodie van die lewe van Jesus van Nasaret wat lui: “In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense” (4).

Maar die wysie moet ons nie laat vergeet wat die onderliggende beeld is nie. Dit is naamlik dat die lewe wat in Jesus is, die ewige goddelike bemiddeling wat in Hom beliggaam word, soos iets is wat gesê word; ʼn woord aan ons geadresseer. En omdat dit aan ons geadresseer word, verwag dit ʼn respons. Dan vertel die evangelie vir ons dat hierdie verwagte respons toe ongelukkig nie gekom het nie. Dit is die verstommende en in ʼn sekere sin die pynlike waarheid van hierdie woorde, naamlik dat die koms van Jesus die wêreld in twee groepe verdeel: dié wat reageer op Jesus se woord en dié wat nie daarop reageer nie. Nadat dié Woord in die wêreld gespreek is, is daar nie ʼn manier terug nie. Jou reaksie op daardie aanspraak, so sê die Johannesevangelie verhaal op verhaal, is wat wys wie en wat jy werklik is; wat ten diepste in jou aan die gang is en wat dit vir jou beteken. Wat ons doen en sê in ons respons op Jesus is ook ons eie manier om vir onsself te ontdek en vir mekaar te wys wat werklik belangrik in ons lewe is. Net soos wat met die ander evangelie- skrywers die geval is, wys Johannes hoe sommige mense diep en waaragtig op Jesus reageer sonder dat hulle presies weet wie Hy is en wat presies hulle met dié reaksie in gedagte het. Die feit van die saak bly egter indien jy nie kan reageer nie of nie wil reageer nie, loop jy weg van ʼn realiteit wat volgens Johannes jou na nêrens gaan lei nie – ʼn afdraaipad wat in die mis verdwyn.

Dit gaan hier oor ʼn vraag wat ons nie kan ignoreer nie. Verskeie kommentators het reeds daarna verwys dat die eerste vraag wat ons in die Bybel hoor nie die mens se vraag aan God is nie, maar God se vraag aan die mens – aan ons. God wat in die koelte van die aandwind in die tuin van Eden wandel, op soek na Adam en Eva wat vir Hom wegkruip en dan . . . “waar is jy?”, kom die vraag (Gen 3:9).

Die lewe van Jesus is daardie vraag wat vertaal is in die vorm van ʼn werklike menslike lewe. Dit is in die gesprekke en ontmoetings van ʼn vlees-en-bloed menslike liggaam soos elkeen van ons. Wanneer ons hierdie Persoon ontmoet het, antwoord ons saam met die vrou by die put van Samaria: “Kom kyk, hier is ʼn man wat my alles vertel het wat ek gedoen het” (Joh 4:29).

Baie naby aan die hart van die Christelike geloof en die ontmoeting met God kry ons hierdie vrae: “Wie is jy, waar is jy?” Is jy aan die kant van die lewe wat ons vind in die lewe van Jesus, die lewe van genade en waarheid, onophoudelike vrygewigheid en onvoorwaardelike eerlikheid – die enigste lewe wat lewe gee vir ander? Óf, is jy aan jou eie kant, aan die kant van diskonneksie, van vyandigheid, van die bymekaar maak van dinge en van ʼn obsessie met kontrole?

Om egter te antwoord dat jy aan die kant van lewe is, beteken ongelukkig nie dat jy nou kan ontspan met ʼn “fuzzy” lewensfilosofie van “carpe diem” en lekker gemak nie. Die teendeel is eerder waar, want dit beteken dat jy bereid is om na jouself in die spieël te kyk en ontevrede te raak met dit wat goedkoop is, dalk vol vrees, onwaar en ontwykend is – sodat die lig kan inkom en daarop kan skyn. Soos wat met Petrus die geval is in die heel laaste hoofstuk van die Johannesevangelie, kan ons maar net sê dat ons die waarheid wat daar in Jesus is, liefhet, terwyl ons moet erken dat alles wat ons probeer doen dikwels net mooi die teenoorgestelde daarvan is. En ons sê dit omdat ons vertrou dat ons liefgehê word deur hierdie onbeskryflike misterie wat na ons kom in die vorm van ʼn nuutgebore baba “vol van genade en waarheid”.

Om egter woorde te vind om te reageer op die Woord wat vlees geword het, is natuurlik een van die mees uitdagende wat daar vir ons as mense bestaan. Dink aan Johannes op soek na woorde en beelde, of Paulus wat dikwels verlore raak in lang sinne en metafore. Dit is waar die woorde van ons gedeelde aanbidding in die erediens so belangrik raak en waar die liturgie ons moet help. Dit kan natuurlik ook in die vorm van belydenisse wees, soos die aangrypende eerste woorde van die Heidelbergse Kategismus (vr en antw 1): “Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?” “Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort.” ʼn Belydenis uit die Reformasie waarvan ons die 500-jarige feesviering in 2017 gaan  beleef.

Bibliografie

Du Rand, J A 1995. Terwille van liefde: Johannes, die Woord vir die mense; Roberts, J H (et al) 1990. Teologie in Konteks; O’Day, G 1995. The Gospel of John. The New Interpreter’s Bible: A Commentary in Twelve Volumes. Abingdon Press; Soards, M. et al 1993. Preaching the Revised Common Lectionary. Year A; Smith, D E & Williams M E 1996. The Storyteller’s Companion to the Bible: John; Williams, R 2013. Choose life: Christmas and Easter Sermons in Canterbury Cathedral. Bloomsbury Publishing.

© Missio 2024 | All rights reserved.