Kersfees

Picture of Woord en Fees

Kersfees

Liturgiese voorstel

Leesroostertekste

Fokusteks: Jesaja 9:2-7
Ander tekste: Psalm 96; Lukas 2:1-14 (15-20); Titus 2:11-14

Inleiding

Kersfees as die viering van die geboorte van Jesus het te make met sowel die misterie as die verrukking en vreugde oor die menswording van God in Christus. Die liturgie moet hieraan gestalte en uitdrukking gee. Hierdie motiewe loop soos ’n draad deur al die Skriflesings vir die dag: Jesaja 9 onderstreep die vreugde oor God se insameling van sy oes in die geskiedenis van Israel wat ’n nuwe bedeling inlui; Psalm 96 is ’n lofsang gelaai met vreugde oor die lewenskrag van die teenwoordige God; Titus 2 onderstreep die etiese konsekwensies van die verskyning van die Goddelike genade as die bron van die goddelike nuwe orde wat intree.

Die liturgie moet uit die aard van die saak, en ook vanweë die feit dat daar baie kinders in die diens sal wees, “eenvoudig en feestelik van aard” wees: gebruik al die Skriflesings; maak gebruik van Kersliedere en
-musiek, en waar moontlik van koorsang en aanvullende musiekinstrumente soos trompette en fluite. Benewens die liturgiese kleure (wit, geel en goud) kan gepaste simbole gebruik word (soos byvoorbeeld die krip, en veral die Christuskers in die Adventskrans, aangesteek deur ’n familie). Die nagmaal behoort gevier te word of ten minste na verwys word. Gedagtig aan die evangelie se klem op ’n armmens-geboorte in ’n stal, val die klem van die nagmaal op die rykdom in die eenvoud!

Diensorde

God versamel ons voor Hom

Aanvangslied
Lied 201:1, 2 “Lofsing die Heer, buig voor Hom neer”

Aanvangswoord
Lees Lukas 2:1-14 (die hele gedeelte).

Seëngroet

Oproep tot lofprysing
Psalm 96:1-13

Lofsang
Lied 365:1-3 “Hoor die blye eng’lelied” en 345:1-4 “Kom alle getroues”; NSG 69

Diens van die Woord

Skriflesing
Titus 2:11-14

Toewydingslied
Lied 344 “O die goeie tyding, o die blye tyding”; NSG 77

Skriflesing
Jesaja 9:2-7

Prediking

Diens van die Tafel

Sang
Lied 367 “Ere aan God”

Gebed
Ons Vader

Sang
Lied 348 “Stille nag, heilige nag”; NSG 76

Instellingswoorde
Kommunie
Offergawes

Uitsending

Slotsang
Lied 364 “Herders op die ope velde”

Seën
Voorganger: Mag God die Vader aan ons die oorstelpende vreugde gee waarvan engele die eerste Kersnag gesing het.
Gemeente: Amen.

Voorganger: Mag die liefde van Christus wat Homself vir ons gegee het ons opnuut op hierdie Kersdag aan Hom verbind.
Gemeente: Amen.

Voorganger: Mag God deur sy Gees ons elke dag as Immanuel vergesel.
Gemeente: Amen.

Voorganger: Die almagtige God, Vader, Seun en Heilige Gees bly met ons, seën ons vandag en vir ewig.

Antwoord
Lied 315 “Amen”

Preekstudie: Jesaja 9:2-7

Teks

Die middelste gedeelte van ons fokusteks (Jes 9:1-6) bevat drie frases wat elk met dieselfde voorsetsel ingelui word (Heb ; v 3, 4, 5). Hierdie -frases beklemtoon die redes vir blydskap (vgl vir soortgelyke drievoudige struktuur, dog met ’n ander gedagtegang: 8:11, 19, 23).

Die ter sake passasie (9:2-6) handel oor die volk van God wat aanvanklik in duisternis verkeer (9:1), dus deur hulle vyande onderwerp en verdruk is (vgl die naasmekaarstelling van “duisternis” en “benoudheid” – 8:22), maar wat sedertdien ’n groot lig gesien het en nou vreugde ondervind (v 2) weens die verwydering van hulle neerdrukkende omstandighede (v 3) en die verbranding van oorlogstoerusting (v 4). Hierdie omme-swaai in hulle situasie setel in en is te danke aan die persoon wat in vers 5-6 voorgestel word. Hy beskik oor buitengewone kwaliteite, uitgedruk in spesiale name.

Die passasie vorm deel van ’n groep Skrifgedeeltes in Jesaja waarin beloftes oor ’n messiaanse figuur gemaak word. Al hierdie passasies kom voor in die gedeelte wat handel oor koning Agas (7:1-16; 9:5-6; 11:1-5, 10). Die verwysings hou ook onderling verband omdat hulle omraam word deur die twee fokuspunte van enersyds die troon van Jahwe wat die gedeelte inlui (Jes 6) en andersyds ’n lofprysing wat die gedeelte afsluit (Jes 12). Dit is ook duidelik dat die passasies gedomineer word deur die gestaltes van kinders, jong diere en selfs plante wat begin uitspruit. Die volgende is van toepassing: “seun” (bn): 7:1, 3, 4, 5, 6, 9, 14; 8:2, 3, 6; 9:5; 11:14; “kind(ers)” (jld): 8:18; 9:5; 11:7; “seuntjie/jongman” (n‘r): 7:16; 8:4; 10:19; 11:6; “klein seuntjie” (n‘r qtn): 11:6; “takkie”– 11:1; “loot” – 11:1: “suigeling” (jwnq): 11:8; “gespeende kind” (gmwl): 11:8 (OAV 1933/53).

Konteks

Daar bestaan verskeie verhale in die omgewing van Israel waarin aangedui word dat kinders wat bestem is vir groot dinge (koningskap), aanvanklik deur gevaar bedreig word. Later word so ’n kind uit gevaar verlos en as koning gekroon (bv Sargon die Grote van Akkad en Ullikummi; vgl Gen 21-22; Eks 1-2). Sulke koninklike geboortes is gewoonlik ook beskou as tekens van iets besonders wat op die punt staan om te gebeur.

Volgens sommige is Jesaja 9:5-6 gebaseer op ’n tipiese ou Nabye-Oosterse aankondiging van die geboorte van ’n nuwe koning. Ander oordeel dat dit as ’n kroningslied (tydens troonbestyging) verstaan moet word. Outeurs is ook van gedagte dat ’n kind by geboorte ’n (eerste) naam gekry het, maar dat hy by sy troonbestyging ’n ander, nuwe naam ontvang het. Ander vermoed dat so ’n naam op voetspoor van die Egiptiese gebruik uit vier of vyf komponente bestaan het. Dawid het moontlik vyf name gehad (II Sam 23:1). Daar bestaan verskil van mening of die na(a)m(e) in Jesaja 9:4-6 vier of vyf komponente verteenwoordig. Uit ikonografiese voorstellings blyk dat ou Egipte die naam van ’n nuwe koning in ’n cartouche (’n koninklike omraming – Eng “royal ring”) aangebring het. Die voorstelling in Jesaja gryp waarskynlik terug na hierdie gewoonte van die Egiptenaars om ’n (nuwe) koning by geboorte in sulke terme te beskryf. Die teks in Jesaja verwys na ’n koninklike figuur waarvan ten minste sommige van sy kwaliteite van bonatuurlike, goddelike aard is.

Diegene wat aanvaar dat Jesaja 9:5-6 vier name gebruik, wys daarop dat die name volgens ’n parallelle patroon gerangskik is (a-b-b-a-rangskikking). Afhangende van die vertaling van die afsonderlike name, blyk dit ook dat die eerste naam te doen het met heerskappy, die tweede en derde met die goddelike en die vierde weer met heerskappy.

Jesaja 9 as deel van hoofstuk 7-11, speel af teen die agtergrond van die sogenaamde Siro-Efraimitiese krisis (734-732 vC). Juda is teen sy wil by hierdie onstabiele toestand ingesleep en deur sy noordelike bure op politieke en militêre gebied bedreig. Terwyl hierdie dinge aan die gang is, besoek die profeet Jesaja koning Agas en maak sekere uitsprake.

Om sy boodskap aan Agas te illustreer, moet Jesaja kinders met hom saamneem. Die name van sommige van die kinders en die name van die koninklike individu waarvan Jesaja 9 praat, het simboliese betekenis en hou skynbaar almal met die militêre situasie verband.

Die verskillende komponente van die naam in Jesaja
9:5-6 het, afhangende van die vertaling, almal militêre konnotasies: Die 1e komponent: “Intelligente strateeg”; 2e: “Kryger-god”; 3e: “Vader van die buit”; 4e: “Kaptein” of “maarskalk” (vgl die vrede waarvan sprake is in v 5-6 ev en die idee dat geboortes ’n nuwe era van vrede inlui). Ook die woord “ywer” word soms verstaan in verband met die strydlustigheid van ’n kryger. Indien dit so is, word die voorstelling verder met ’n atmosfeer van oorlog gelaai. Die hele passasie word in elk geval gekenmerk deur militêre optrede.

Preekvoorstel

Die Here verlos sy volk op paradoksale wyse.
As die gordyn oopskuif vir die eerste toneel van die politieke en militêre drama waarvan ons in hierdie hoofstukke lees, sien ons die profeet Jesaja verbysterd deur ’n “visioen” van die Here, die groot Koning, die Heilige van Israel, op sy troon (Jes 6). Hierdie visioen domineer die hele gedeelte, asook die res van Jesaja.

Omstreeks die agste eeu vC het die klein landjie, Juda, betrokke geraak in gevaarlike internasionale politiek. Juda se noordelike bure, Israel en Sirië, het sy veiligheid begin bedreig, ’n gebeure bekend as die Siro-Efraimitiese krisis (ongeveer 734-732 vC). Verder noord het die reus, Assirië, ook sy kop begin oplig. Teen hierdie agtergrond word Agas, die koning van Juda, deur die profeet Jesaja gekonfronteer met die eise en beloftes van die Woord van die Here. ’n Swaar stryd tussen vrees en geloof woed hom uit.

Maar te midde van die gevaarlike situasie van dreigende en daadwerklike geweld, duik hier iets baie besonders op: Weerlose “kinderfigure/gestaltes” verskyn op die toneel. In Jesaja 7 tot 11 is agt verskillende tonele waarin na een of ander aspek van die politieke krisis verwys word. Terselfdertyd word in elk van die agt tonele ook verwys na kinderfigure te midde van die krisissituasie. Elke keer as ’n faset van die militêre krisis na vore gebring word, verskyn daar ’n kind op die toneel  – agt tonele, agt kinders. Van watter kinders word hier gepraat?

Die profesie verwys na die seuns van Jesaja. Hulle dra vreemde name: “’n-Oorblyfsel-keer-terug” en “Plunder-en-Roof-is-Naby” (7:3; 8:3). Verder: die Immanuel-kind (7:14); die Prins (9:5\6; 11:1,2); ’n seuntjie wat die klein getal van oorlewendes onder die Assiriërs tel (10:19); een wat vee aanjaag en nog een wat by die gat van ’n slang speel (11:6,8). Van hierdie kinders se name het simboliese betekenis, “en al die simboliese name hou op een of ander wyse verband met ’n militêre of oorlogsituasie”. Maar ten spyte van laasgenoemde, tree hierdie kinders nie as soldate op nie.

Gedurende politieke of militêre krisisse in die tyd van die Ou Testament en wanneer daar grootskaalse afval van die godsdiens aan die orde van die dag was, het dit gebeur dat “kinderoffers” aan die gode gebring is. Hierdie gruwel het soms ook in Israel-Juda voorgekom. Daar bestaan ten minste twee voorbeelde van hierdie soort optrede in die Ou Testament in die tyd van die koningskap. Volgens II Konings 16:3 het dieselfde koning van wie ons in Jesaja lees, naamlik Agas, asook sy kleinseun Manasse, by geleentheid van hulle kinders as brandoffers geoffer. Gewoonlik is sulke menseoffers aan die gode gebring om ’n dreigende ramp af te weer. Ons kan aanvaar dat Agas moontlik so ’n misdaad gepleeg het gedurende die genoemde Siro-Efraimitiese krisis.

Die profeet Jesaja beantwoord hierdie wrede, afstootlike optrede van Agas met ’n ironiese reaksie, ’n slenterslag, ’n ombuiging van gedagtes. Jesaja gryp presies dieselfde idee aan, naamlik van klein kinders, maar kondig terselfdertyd aan dat God se instrumente vir die bevryding van sy volk, lewende kinders (getuies) sal wees. En daar is ’n nuwe geboorte op pad. Kinders gaan nie as brandoffers geoffer word nie. Die tonele van hierdie drama sal deur kinderfigure oorheers word.

Ons word hier gekonfronteer met ’n besondere kenmerk van Jesaja se profesie, naamlik dat die Here sy volk sal verlos op ’n wyse waarvan mens nie sou kon sê dat dit die normale werkswyse van ’n god is nie. Die Here het ander planne. Hy verlos sy volk op paradoksale, ironiese wyse. Mens kan vra: Hoe sal God verlos van arrogansie, oorlog, verdrukking en onderdrukking? Deur nog meer arrogant voor te kom, meer oorlogsugtig op te tree, meer te verdruk of te onderdruk? Vir God is dit mos ’n eenvoudige saak om sy vyande in ’n oogwink voor Hom weg te vee en vernietig. En tog, as die profeet die kern van die saak aanraak, naamlik die hoe van God se verlossing van Juda, sien ons ’n kindergesiggie wat na ons staar. God is sterk genoeg om sy vyande te oorwin deur self kwesbaar en weerloos te word. Die kinderfigure in die profesie van Jesaja word nie as soldate of as “kanonvoer” gebruik of om die vyand se moreel lam te 1ê nie (mens maak nie kinders dood nie), maar verteenwoordig God se (skynbaar weerlose) “magsimbole”.

Later in die geskiedenis sou daar tog, in aansluiting by, maar ook ten spyte van Jesaja se prediking en deur ’n verdere omwenteling van gedagtes, wel ’n menseoffer gebring word – die offer aan die kruis.

Daar vind ’n ontwikkeling van gedagtes in hierdie gedeeltes plaas wat parallel loop met die verskyning van die kinders in die opvolgende tonele, naamlik vanaf ’n militêre of konfliksituasie na ’n toestand van vrede. Let daarop dat een van die eerste kinders wat verskyn, genoem word: “Plunder-en-Roof-is-Naby”, ’n verwysing na ’n oorlogsituasie en die gevolge daarvan. Die laaste kind verkeer in ’n paradystoestand – hy speel sonder vrees naby die gat van ’n gevaarlike slang. Dit kan ook vertaal word as: “Hy dans/huppel oor die slanggat”. ’n Beweging vanaf ’n situasie van geweld na een van vrede. Mens kan sê hierdie kinderfigure verteenwoordig die sekerheid dat geweld nie sal voortgaan nie en/of uiteindelik sal ophou en verdwyn. Die situasie in Juda sal verander.

Hierdie kinderfigure beliggaam egter verder ook die boustene vir die ontwikkeling van die idee van ’n Verlosser wat op pad is om sy volk te bevry. Ons lees in hierdie hoofstuk (7:14; 9:5) dat God die geboorte van ’n kind belowe juis wanneer die bedreiging dat mense hulle lewe kan verloor, op sy hoogste is. Maar, indien ’n nuwe geboorte gaan plaasvind, kan dit net beteken dat die lewe sal voortgaan. God is nog onder sy volk teenwoordig (7:14).

Die nuwe geboorte open die weg vir ’n verlosser. Slegs nou kan ons die plek en betekenis van die figuur van Jesaja 9:5-6 reg begryp. Ons kan nou sê dat al bogenoemde kinderfigure, gesamentlik geneem, die vereiste elemente verteenwoordig om die gedagte aan ’n kind, “een spesiale kind”, uit te beeld. Hierdie spesiale kind word onderskei van Jesaja se kinders, hy vertoon selfs goddelike trekke, hy word onder andere God self genoem (9:5). Dit kan net een ding beteken: Die kind is die Gesalfde (Messias) van God.

Hoe weet ons dat hierdie passasie in Jesaja 9 so belangrik is? Afgesien van die byna vanselfsprekende prominensie wat uit die inhoud daarvan na vore kom, val dit ook op dat daar te midde van die agt kindertonele, ook drie pouses voorkom: Die eerste en derde pouses of onderbrekings verkeer in balans met mekaar. Die eerste handel oor die Dag van Verwoesting (7:17-25), die tweede oor die Dag van Herstel (11:10-26). Die tweede onderbreking staan soos ’n toring tussen die ander twee, dus reg in die middel en vorm ’n kragtige uitspraak oor die verlossing wat op pad is (9:7-10:4).

Vroeër is gesê dat daar ’n ontwikkeling van gedagtes plaasvind vanaf die name van die betrokke kinderfigure wat aanvanklik ’n konnotasie van ’n aktiewe konfliksituasie dra, na ’n posisie van vrede. Die messiaanse figuur neem die gedagte verder, Hy word onder andere die “Vredevors” genoem, dit wil sê, die amptenaar of maarskalk wat militêre sukses, maar veral ook “vrede bewerkstellig”, ná ’n periode van vyandigheid tussen mense; die persoon wat dinge regstel en goeie verhoudings tussen eertydse vyande daarstel. Hierdie vredesfiguur staan baie nader aan ons as wat ons miskien besef. Talle Bybeluitleggers aanvaar dat hierdie figuur verbind kan word met Jesus Christus. Die Hebreeuse woord sar (“maarskalk”) kom 17 keer in Jesaja voor (vgl 9:1-6 met Rig 8:9, 24 – die passasies gebruik die woorde: “vrede” en sjalal “buit”. Vrede dui op oorwinning). Sommige aanvaar dat sarim deel sal wees van die messiaskoning se toekomstige “kabinet” (Jes 32:1).

In Efesiërs 2:14 lees ons: “Hy (Christus) is ons vrede.” Die woorde word gebruik waar sprake is van die afbreek van mure van vyandigheid tussen (bekeerde) heiden en Jood, tussen Christene onderling. Nogal iets waaraan ons in Suid-Afrika kan dink. Maar soos iemand gesê het: Hy wat die middelmuur van skeiding tussen mense afbreek, op hom sal die klippe reën.

Jesaja 7 tot 11 word omraam deur hoofstuk 6 en 12. In hoofstuk 6 word verwys na die Troon van God wat die oorheersende plek in die profesie inneem. Die troonvisioen open nie net die drama wat in Jesaja 7-11 afspeel nie, maar oorheers dit ook. Nie die bedreiging deur Israel-Sirië/Assirië is die bepalende faktor nie, maar Gód, op sy troon. Die troon bepaal die rigting waarheen alle dinge op aarde sal beweeg. As Jesaja rondom hom kyk, sien hy die worsteling van Juda; as hy opkyk, sien hy God op sy troon. Hy besef: Die troon oorheers alles. En: Ten spyte van al die ellendes van militêre onsekerheid en vrees, word hierdie paragrawe afgesluit met ’n “lofsang” (Jes 12).

Jesaja 6 “begin” met ’n visie van God se “troon”, wat alle dinge tot hulle ware proporsies terugsnoei, onbenullig laat voorkom en in perspektief plaas. Jesaja besef dat alle dinge aan God se troon ondergeskik is. Hy “eindig” met ’n “lofsang” wat alle dinge wat teen God stry, relativeer. Die troon (hfst 6) en die lof aan God (hfst 12) oorkoepel (oorwelf) die hele drama en sluit dit in. Niks ontkom aan die heersende mag van God se troon nie en die mens kan nie anders nie as om met lof te reageer op die visioen/visie van die troon wat die stryd oorheers. Die situasie van nood op aarde word in bedwang gehou deur die troon én die lof! Die verwysing na weerlose kinders in ’n plofbare situasie klink naïef; die feite is dat God se magtige troon die fondament daarvan vorm. Die moontlikheid van oorlog domineer die passasie, maar dit word uiteindelik afgelos deur vrede.

In Openbaring 12, tipies van apokaliptiese literatuur, word die kinderfiguur dramaties deel van ’n grootse voorstelling. Daar lees ons dat die Kind wat deur die draak by sy geboorte ingewag word, egter voor sy bek na God en sy troon weggeruk word. Hier word die profeet Jesaja nie meer voor die troon gesien nie, maar neem die Kind sy plek in, eintlik baie meer, neem Hy stelling in “op” God se troon. Hierdie Kind is natuurlik Jesus Christus, die Here.

Bibliografie

Isaiah 9:5-6 and peace in South Africa. NGTT 1993, 34(1), 3-14; Infant negotiator? God’s ironical strategy for peace. Scriptura 1993, 44, 66-88.

Sections

© Missio 2024 | All rights reserved.