Kersfees

Sections

Oorsig

Die sleutelteks vir vanjaar is die vertelling van Jesus se geboorte volgens die Evangelie van Lukas. Die teks is gevul met die klanke van die vreugdelied wat die Engele daardie nag gesing het . . . met die verwondering en die lof wat in die harte van die skaapwagters gewek word. Die blye boodskap, die goeie tyding klink as ‘t ware na ‘n jubellied soos daar van Jesus, die Messias, se menswording vertel word.

Die Jesajateks vorm deel van die Messiaanse profesieë en kan saam met die oproep tot lof in Psalm 96 sinvol en veelseggend in die liturgie aangewend word. Kersfees is ‘n tyd van vrolik en bly wees. Vir ieder en elk moet dit, soos ons tekste verkondig, ‘n tyd van jubeling en lofsang wees. ‘n Tyd om opnuut in verwondering te staan oor die Messias – Immanuel, God met ons! Mag die Feesdiens vanjaar dan die ruimte bied waar lofuitinge ‘n hoogtepunt kan bereik!

Ander tekste

Jesaja 9:2-7
9 Die volk wat in donkerte geleef het, het ’n groot lig gesien, oor dié wat in die donker land was, het ’n lig geskyn.
2U het dié wat nie meer ’n nasie was nie, baie gemaak,
hulle blydskap groot gemaak.
Hulle het hulle in u teenwoordigheid
verbly
soos mense bly is in die oestyd,
soos hulle juig wanneer hulle
die buit verdeel.
3Soos die dag toe Midian verslaan is,
het U die juk verbreek
wat op die volk gedruk het,
die stok waarmee hulle geslaan is,
waarmee hulle gedryf is.
4Elke soldateskoen wat in die oorlog
gebruik is,
en elke uniform wat met bloed bevlek is, sal verbrand word,
deur die vuur verteer word.
5Vir ons is ’n Seun gebore,
aan ons is ’n Seun gegee;
Hy sal heers, en Hy sal genoem word:
Wonderbare Raadsman,
Magtige God,
Ewige Vader,
Vredevors.
6Sy heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring. Hy sal op die troon van Dawid sit en oor sy koninkryk regeer. Hy sal dié koninkryk vestig en in stand hou deur reg en geregtigheid, van nou af en vir altyd. Daarvoor sal die onverdeelde trou van die Here die Almagtige sorg.

Psalm 96
Die Here kom om oor die aarde te heers
96 Sing ’n nuwe lied tot eer van die
Here,
sing tot eer van die Here,
almal op aarde!
2Sing tot eer van die Here,
prys sy Naam,
verkondig elke dag sy reddingsdade!
3Vertel die nasies van sy mag,
al die volke van sy magtige dade.
4Die Here is groot,
al die lof kom Hom toe,
ontsagwekkend is Hy bo alle gode.
5Al die gode van die volke is niks:
dit is die Here
wat die hemele gemaak het.
6Majesteit en luister
straal van Hom uit,
krag en glans vul sy heiligdom.
7Prys die Here, alle volke,
prys die Here om sy eer en mag!
8Prys die Here
om die eer van sy Naam!
Kom na sy voorhowe toe,
bring vir Hom offers!
9Buig voor die Here
by sy heilige verskyning;
betoon eerbied aan Hom,
almal op aarde.
10Verkondig onder die nasies:
“Die Here regeer;
die wêreld staan vas, dit wankel nie;
die Here sal die volke
regverdig oordeel.”
11Die hemele moet bly wees
en die aarde moet juig,
die see en alles daarin moet druis,
12die veld en alles daarop moet jubel,
al die bome in die bos
moet hulle verheug
13voor die Here, want Hy kom,
Hy kom om oor die aarde te heers.
Hy sal oor die wêreld heers
met regverdigheid,
oor die volke met billikheid.

Titus 2:11-14
11Die genade van God wat verlossing bring, het immers aan alle mense verskyn. 12Dit voed ons op om die goddelose leefwyse en wêreldse begeerlikhede te laat vaar en met selfbeheersing, opregtheid en godsvrug in die teenswoordige wêreld te lewe, 13terwyl ons uitsien na die gelukkige dag wat ons verwag. Op daardie dag sal die heerlikheid van ons grote God en Verlosser, Jesus Christus, verskyn. 14Hy het Homself vir ons as offer gegee om ons van alle ongeregtigheid vry te maak en ons van sonde te reinig, sodat ons sy eie volk kan wees wat ywerig is om die goeie te doen.

15Dit is die dinge waaroor jy moet praat. Gebruik jou volle gesag om aan te moedig en tereg te wys. Gee aan niemand aanleiding om op jou neer te sien nie.

Hebreërs 1:1-4, (5-12)
Die uitnemende grootheid van die Seun van God
1 In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, 2maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun. God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het, ook erfgenaam van alles gemaak. 3Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God. Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand. Nadat Hy die reiniging van sondes bewerkstellig het, het Hy gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoë hemel. 4Hy is net so verhewe bo die engele as wat die Naam wat God Hom gegee het, voortrefliker is as hulle naam.

5Immers, aan wie van die engele het God ooit gesê:
“Jy is my Seun,
van vandag af
is Ek jou Vader,”
en ook:
“Ek sal sy Vader wees,
en Hy sal my Seun wees”
6En wanneer God die Eersgeborene
in die wêreld inbring, sê Hy:
“Al die engele van God
moet Hom aanbid.”
7Van die engele sê Hy:
“Hy maak sy engele stormwinde
en sy dienaars vuurvlamme.”
8Maar van die Seun sê Hy:
“U troon, o God,
staan vir ewig vas,
met u koninklike septer
laat U reg geskied.
9U het die reg lief
en U haat die onreg.
Daarom het God, u God,
U onder groot vreugde
tot Koning gesalf
bo u tydgenote.”
10En verder:
“U, Here, het in die begin
die aarde gevestig,
en ook die hemel is die werk
van u hande.
11Dié dinge sal vergaan,
maar U bly bestaan;
soos ’n kledingstuk
sal alles verslyt;
12soos klere sal U dit oprol;
ja, soos ’n kledingstuk
sal dit vervang word.
Maar U, U bly dieselfde,
en u jare het geen einde nie.”
13Van watter engel
het Hy ooit gesê:
“Sit aan my regterhand,
totdat Ek jou vyande
aan jou onderwerp het”
14Is hulle dan nie almal geeste in diens van God, wat Hy uitstuur om dié te dien wat die saligheid gaan beërf nie?

Fokusteks

Die geboorte van Jesus
(Matt 1:18–25)
2  In daardie tyd het keiser Augustus ‘n bevel uitgevaardig dat ‘n volkstelling in die hele ryk gehou moet word. 2Hierdie eerste volkstelling het plaasgevind toe Sirenius goewerneur was in die provinsie Sirië. 3Almal het gegaan om hulle te laat inskryf, elkeen na sy eie stad toe.

4Ook Josef het gegaan. Hy het van die dorp Nasaret in Galilea na Judea toe gegaan, na Betlehem, die stad van Dawid, omdat hy tot die huis en geslag van Dawid behoort het. 5Maria, sy verloofde, wat swanger was, het saamgegaan om ingeskryf te word. 6Terwyl hulle daar was, het die tyd gekom dat haar kind gebore moes word. 7Sy het haar Eerstelingseun in die wêreld gebring en Hom in doeke toegedraai en in ‘n krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie.

Die skaapwagters en die engele
Daar was skaapwagters in daardie omgewing wat in die oop veld gebly en in die nag oor hulle skape wag gehou het. 9Meteens staan daar ‘n engel van die Here by hulle, en die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn. Hulle het baie groot geskrik. 10Toe sê die engel vir hulle: “Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle ‘n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is. 11Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here! 12En dit is vir julle die teken: julle sal ‘n kindjie vind wat in doeke toegedraai is en in ‘n krip lê.”

13Skielik was daar saam met die engel ‘n menigte engele uit die hemel wat God prys en sê:
14“Eer aan God
in die hoogste hemel,
en vrede op aarde
vir die mense in wie Hy
‘n welbehae het!”

15Nadat die engele van hulle af weggegaan het na die hemel toe, sê die skaapwagters vir mekaar: “Kom ons gaan reguit Betlehem toe om te sien wat gebeur het, soos die Here dit aan ons bekend gemaak het.”

16Hulle gaan toe haastig daarheen en kry vir Maria en Josef, en die Kindjie wat in die krip lê. 17Toe hulle Hom sien, het hulle vertel wat oor hierdie Kindjie aan hulle gesê is. 18Almal wat dit gehoor het, was verwonderd oor wat die skaapwagters hulle vertel het. 19Maria het alles wat gesê is, onthou en telkens weer by haarself daaroor nagedink. 20Die skaapwagters het toe teruggegaan terwyl hulle God loof en prys oor alles wat hulle gehoor en gesien het. Dit was alles net soos dit vir hulle gesê is.

Ekstra stof

Lukas 2:1-52 – Verlosser, Christus, Here
Nadat Lukas in hoofstuk 1 verhale vertel het wat nie in die ander evangelies voorkom nie – verhale wat sentreer om die aankondigings rondom Johannes en Jesus en die reaksies wat dit by Maria, Elisabet en Sagaria uitlok – sluit hy in hoofstuk 2 dieselfde verhaal as Matteus (1:18-25) oor die geboorte van Jesus in. Die res van die hoofstuk is daarna weer eie verhale, wat nie in die ander evangelies voorkom nie.

2:1-7
Lukas verbind die verhale van die Verlosser aan die gebeure op die wêreldfront ter wille van die konteks daarvan.  Hy noem keiser Augustus (regeer van 27 vC tot 14 nC) en goewerneur Sirenius van Sirië, eersgenoemde omdat Palestina deel van die Romeinse ryk was, en laasgenoemde omdat hy waarskynlik die hele Palestynse gebied se volkstelling gereël het (volgens sommige historici was Quirenius Varus toe goewerneur, met Sirenius waarskynlik ‘n militêre veldheer wat Varus bygestaan het) .  Die volkstelling het ongeveer in 7-6 vC plaasgevind, wat dan ook Jesus se geboortedatum moes wees.

Hierdie volkstelling, sê Lukas, was die eerste van sy soort.  Daar was ook ‘n 2de volkstelling (Hand 5:37) toe daar ‘n volksopstand was deur Judas, die sogenaamde Galileër.

Bethlehem – 85 km van Nasaret af – is die stad van Dawid. Die naam is nogal betekenisvol.  Die naam beteken letterlik: “huis van brood” en is die plek waar Rut en Naomi (in die Rigtertyd) nie net fisiese brood gekry het nie, maar Rut, die Moabiet, ook met haar troue met Boas Jesus se voorouer geword het.

Let op dat Jesus gebore word in nederige omstandighede in ‘n krip in ‘n stal.

2:8-20
Die boodskap van Jesus kring uit na die skaapwagters – nie gerekende mense in daardie tyd nie –  wat met die boodskap – “goeie tyding” vertaal die Griekse woord “evangelie” – van die engele hulle na Maria en Josef haas.   Die engele noem Jesus met drie name wat sy hele bediening stempel:

Let op, trek dalk in, Mary-Ann het dit gemis

      • Verlosser – dit is ‘n sinoniem vir die naam Jesus wat ook Verlosser of Redder beteken en wat dui op die doel van sy koms,
      • Christus – Gesalfde of Messias waarmee by die verwagting van Israel soos deur die profete aangekondig, aangesluit word,
      • Herekurios – die Griekse woord wat Jode gebruik het om die Hebreeuse naam vir  God in die OT, JAHWE, te vertaal, en waarmee Jesus se Goddelike status aangedui word.

Let op dat Lukas eers Maria, die vrou, en dan eers die man, Josef, noem. Interessant dat hierdie boodskap almal verwonder, maar dan spesifiek verdere (en voortdurende) nadenke by Maria ontlok. Dit is hoe dit met die boodskap of visies van die Here werk. Daar is altyd verdere en voortdurende nadenke nodig, en die Here werk ook daarin saam deur die bevestigings wat Hy gee.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 354 “O Christus ons verlange vs 1,2,3,4”

Aanvangswoord: (Uit Hebreërs 1; Psalm 96; Jesaja 9 en Lukas 2)

Seëngroet
Aansteek van die Christuskers
Kerslitanie

Lied 358 “Welkom o stille nag van vrede vs 1,2,3”

Aanbidding

Lied 345 “Kom alle getroues vs 1,2,3,4”

Gedig voorlesing (gebruik dalk ‘n lidmaat)

MARIA (deur Elizabeth Eybers)
of
NP Van Wyk Louw, een van Suid Afrika se grootste digters, het ’n pragtige gedig geskryf oor die lewe van Jesus – die eerste vers handel oor Sy geboorte:

Lied
344 “O die goeie tyding vs 1,2,3”

Epiklese

Skriflesing: Lukas 2:1-20

Prediking
Gebed

Geloofsbelydenis: (Ahv Kolossense 1)

Offergawes

Wegsending: Lied 353 “Die Heiland is gebore vs 1,2,3”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

In die liturgie is gebruik gemaak van Bybelmedia se Woord en Fees 2013/14 en 2015/16.

Aanvangslied: Lied 354 “O Christus ons verlange vs 1,2,3,4”

Aanvangswoord (Uit Hebreërs 1; Psalm 96; Jesaja 9 en Lukas 2)
In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, 2maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun…
Sing ’n nuwe lied tot eer van die
Here,
sing tot eer van die Here,
almal op aarde!
2Sing tot eer van die Here,
prys sy Naam,
8Prys die Here
om die eer van sy Naam!
9Buig voor die Here
by sy heilige verskyning…
5Vir ons is ’n Seun gebore,
aan ons is ’n Seun gegee;
Hy sal heers, en Hy sal genoem word:
Wonderbare Raadsman,
Magtige God,
Ewige Vader,
Vredevors.
14“Eer aan God
in die hoogste hemel,
en vrede op aarde
vir die mense in wie Hy
’n welbehae het!”

Seëngroet
2Mag daar vir julle genade en vrede in oorvloed wees deur julle kennis van God en van Jesus ons Here! (1 Petrus 2)

Aansteek van die Christuskers

Kerslitanie
Voorganger: Vir ons is ’n kind gebore. Vir ons het daar verlossing gekom. Kyk, die Redder van Sion is hier!
Gemeente: Eer aan God in die hoogste hemel en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ’n welbehae het.

Voorganger: Vir ons het die Lig na die wêreld gekom en die duisternis kan dit nie uitwis nie.
Die Lig verlig alle ongeregtigheid.
Kyk, die Regter van Israel het gekom!
Gemeente: Eer aan God in die hoogste hemel en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ’n welbehae het.

Voorganger: Vir ons het daar vrede op aarde gekom. Kyk, die Vredevors het sy tentpenne by ons kom inslaan.
Gemeente: Eer aan God in die hoogste hemel en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ’n welbehae het.

Lied 358 “Welkom o stille nag van vrede vs 1,2,3”

Aanbidding
Voorganger: Hy kom as baba, in ’n stal, tussen diere, neergelê in ’n krip:
Gemeente: Daarom buig ons in aanbidding!

Voorganger: Hy kom in eenvoud, nederigheid, weerloos en broos:
Gemeente: Daarom buig ons in aanbidding!

Voorganger: Herders is die eerstes wat kom en aanbid:
Gemeente: Daarom buig ons in aanbidding!

Voorganger: Engele sing vir die heel eerste keer oor die Christuskind:
Gemeente: Daarom buig ons in aanbidding!

Voorganger: Wyses uit die Ooste bring geskenke vir Hom:
Gemeente: Daarom buig ons in aanbidding!

Voorganger: Waartoe word ons nou geroep?
Gemeente: Ons buig in aanbidding, voor Christus, die Here . . .

Lied 345 “Kom alle getroues vs 1,2,3,4”

Gedig voorlesing (gebruik dalk ‘n lidmaat)
MARIA (deur Elizabeth Eybers)
‘n Engel het dit self gebring,
die vreugde-boodskap – en jy het
‘n lofsang tot Gods eer gesing,
Maria, nooi uit Nasaret !
Maar toe Josef van jou wou skei
en bure-agterdog jou pla,
het jy kon dink, eenmaal sou hy
die hele wêreldskande dra ?
Toe jy soms met ‘n glimlag langs
jou liggaam stryk… die stilte instaar….
Wis jy met hoeveel liefde en angs
sou hy sy hellevaart aanvaar?
Die nag daar in die stal – geeneen
om in jou nood by jou te staan –
Het jy geweet dat hy alléén
Getsémané sou binnegaan?
Toe vorste uit die Ooste kom
om nederig hulde te betoon
wis jy hoe die soldate hom
tot koning van die volk sou kroon?
En toe hy in jou arms lê,
sy mondjie teen jou volle bors,
het jy geweet dat hy sou sê,
toe dit te laat was : Ek het dors!
Toe dit verby was, en jy met
sy vriend Johannes huis toe gaan –
Maria, vrou van smarte, het
jy tóé die boodskap goed verstaan?
of 
NP Van Wyk Louw, een van Suid Afrika se grootste digters, het ’n pragtige gedig geskryf oor die lewe van Jesus – die eerste vers handel oor Sy geboorte:
Nie uit wit paleise nie
wou Hy (uit soewereine Wil)
tot ons soort staat gebore word;
maar, waar die Kuise en die Arme stil
en buite die hotel se poort
verniet loseer het in die stal,
het Hy, Visarendjie van God,
in ons benoude vlees geval…

Lied 344 “O die goeie tyding vs 1,2,3”

Liedere

F20. “U Is Die Lig”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang / Kruisfuur – Geloofsbelydenis / Toewyding)
Teks en Musiek: André Serfontein
© 2005 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op FLAM, vol 1)

U is die Lig, U laat my sien;
U is die brood vir my lewe;
U is die water wat binne my vloei;
U laat my leef, u laat my groei.

Refrein:
Ek loof U Heer vir als wat U is.
Ek loof U Heer, U’s my Vader.
Ek loof U Heer vir als wat U gee.
Meer as wat ek kan verstaan,
Daarvoor kom prys ek U Naam!

U is die Woord, U wil my rig;
U wys my U wil vir my lewe;
U skenk my vrede en U gee my rus;
U het my lief net soos ek is

Refrein:

F35. Jesus Kom Weer”
(RUBRIEK:  Flammikidz – Wederkoms / Hoop en Voleinding)
Teks en Musiek: Hanneke Engelbrecht
© 2005 MAR Gospel Music Publishers

Jesus is ons Koning, Heer,
en ons weet Hy sal t’rugkeer.
Soos hul Hom sien opvaar het,
sal Hy kom om ons te red.

Refrein:
Ja, Jesus kom weer!
Ja, Jesus kom weer!
Ek en jy behoort aan Hom.
Ons glo dat Hy weer sal kom.

Jesus is ons Koning, Heer.
Ek en jy behoort aan Hom.
Soos hul Hom sien opvaar het,
glo ons dat Hy weer sal kom.

Refrein:

F247. “Jesus Ons Aanbid U”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Verwondering)
Oorspronklik: Jesus, We Enthrone You
Teks en Musiek: Paul Kyle
Afr. teks: 2008 Johan Engelbrecht
©  1980 Thankyou! Music

Jesus, ons aanbid U,
U ons Koning en Heer.
Neem nou ons loflied aan.
Ons verheerlik u Naam.
En soos ons buig hier voor u troon, [x3]
Here Jesus,  kom bind ons saam.

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Here, herders op die ope velde het gehoor hoe U vanuit die hemel met hulle praat; en toe ook daarna die boodskap gesien wat die engele gebring het. Hemelse Vader, wees ons genadig sodat ons deur u Gees u stem kan hoor en u Seun kan aanskou. Ons kom buig voor U in gespanne verwagting. Dankie, Here, dat U nog met ons bemoeienis maak.  Dankie dat U vanoggend hier teenwoordig is waar ons biddend tot U nader. Dankie vir die voorreg om Kersfees te kan vier. Amen.

Skriflesing: Lukas 2:1-20

Familie-oomblik

Dramatiseer die fokusteks ahv Die Nuwe Testament vir Kinders deur Stephan Joubert, Jan van der Watt en Hennie Stander, 1999.

Jesus se Geboorte
21–5 In daardie tyd het keiser Augustus gesê dat al die mense in die Romeinse Ryk* getel moes word. Dit het gebeur toe Sirenius die leier van Sirië was. Almal moes in daardie tyd na hulle geboorteplekke toe gaan om hulle name daar te laat neerskryf. Josef, Maria se verloofde, het van Nasaret af na Betlehem, die stad van Dawid, gegaan. Hy het soontoe gegaan want hy kom uit Dawid se nageslag. Maria, wat toe vir Jesus verwag het, het saam met hom gegaan.

6–7 Terwyl Josef en Maria daar in Betlehem was, is haar Seun gebore. Dit was haar eerste kind. Sy het Hom styf toegedraai en in ’n krip laat slaap, ’n bak waaruit die diere hulle kos eet. Omdat daar geen plek vir Josef en Maria in Betlehem was nie, moes hulle tussen die diere bly.

Skaapwagters Hoor en Sien die Goeie Nuus8–12 Naby Betlehem het ’n klompie mense gebly wat skape oppas. Hulle het in die veld geslaap. Een nag kom ’n engel* van die Here na hulle toe. Die Here se krag het alles rondom hulle helder lig gemaak. Die skaapwagters het groot geskrik. Maar die engel* sê vir hulle: “Moenie bang wees nie. Ek het goeie nuus vir julle. Hierdie nuus is ook vir die hele volk bedoel: vandag is die Redder* in Betlehem gebore. Hy sal almal wat glo* se sondes* wegvat. Hy is Christus*, die Here. Gaan soek na ’n baba wat styf in doeke toegedraai is en in ’n bak lê en slaap. Dit is Hy!”

13–14 Skielik was daar baie engele* rondom hulle. Hulle het God geprys*:
Eer* aan God. Hy bly in die hoogste hemel.
Daar is nou vrede vir almal op aarde wat in Christus*glo*.
God vier fees oor hulle.”

15 Nadat die engele* terug is na die hemel toe, sê die skaapwagters vir mekaar: “Kom ons gaan dadelik na Betlehem toe om die Kindjie te soek van wie die Here ons vertel het.”

16–19 In Betlehem het hulle vir Maria en Josef gekry, en ook vir die Kindjie wat in die krip lê. Toe hulle daar kom, het hulle vertel wat die engel* vir hulle oor die Kindjie gesê het. Almal was verbaas. Maria ook. Sy het baie keer daaraan gedink.

20 Later het die skaapwagters teruggegaan na hulle skape toe. Hulle het God geprys* oor alles wat hulle gehoor en gesien het. Alles het gebeur presies net soos wat die engel* vir hulle gesê het.

*** Jy kan kinders kry om die teks op te voer terwyl iemand dit lees.
Of gebruik mooi prente uit ‘n kinderbybel.
Of wys hierdie video van Luk 2:8-16.
Hier kan jy pragtige inkleurprente kry van die engele én die herders.
OF
Vertel die storie van “J is for Jesus:  The sweetest story ever told” deur Crystal Bowman.  Beskikbaar by Takealot.
Dit is in rym geskryf, hier is ‘n los Afrikaanse oorvertelling daarvan:
Een dag, was die wêreld toe onder die sneeu.  Al die mense het in die middel van die dorpie bymekaar gekom, want daar was iets nuuts by die lekkergoedwinkel – iets wat niemand nog ooit vantevore gesien het nie.

Die lekkergoedmaker was opgewonde om sy nuwe Kersfeeslekker vir almal te wys.  Hy het ‘n rooi en wit pepermentstokkie op gehou dat almal kan sien – al die kinders wou daaraan lek!

“Ek het hierdie lekker gemaak”,  het hy verduidelik. Ek het dit gemaak sodat dit soos ‘n letter “J” lyk.

J staan vir Jesus, God se Seun wat aarde toe gekom het, en Kersfees is wanneer ons sy geboorte onthou.

Maar wanneer jy die lekker omdraai, om die letter onderstebo te hou, dan lyk dit soos ‘n skaapwagter se staf.

Skaapwagters was die eerste wat die Goeie Nuus gehoor het. Terwyl die skaapwagters hul skape in die nag opgepas het, was die lug ewe skielik verlig met ‘n helder hemelse lig.
Engele het verskyn en begin sing: “Ere aan God in die hoogste hemel…”

En daar in die dorpie waar Jesus gebore is, het die skaapwagters hom gevind, lekker warm toegewikkel in doeke in ‘n stal.
Die skaapwagters se harte was vol verwondering en vreugde en hulle het gekniel langs die baba seuntjie.

Ek het strepies op die lekker gesit, het die lekkergoedmaker gesê , om te onthou dat Jesus ons sonde weggewas het.  Hy het aan die kruis gesterf, sy bloed het gevloei.  Daarom is daar rooi strepies.

Die wit van die lekker is daar om ons te herinner dat ons vergewe is, ons is so wit soos sneeu.  Jesus is gebore om ons van ons sonde te verlos, om ons heilig en skoon te maak aan die binnekant.

Ek wou hierdie storie met julle deel, het die lekkergoedmaker gesê, sodat Jesus ook julle verlosser kan wees. Vertel asb. hierdie storie vir almal en sê vir God dankie vir die geskenk van sy Seun!

Gee vir al die kinders “Candy Canes”.

Woordherkenning

Daar is 13 woorde weggesteek wat in die teks van die NT vir kinders (Lukas 2:1-20) voorkom. Die woorde kan op en af, skuins op en af en selfs van regs na links lees.

Die woorde vertel die verhaal van hoe Jesus mens geword het en onder ons kom woon het…

Antwoord

Preekriglyn

Vrede op aarde, in die mense ‘n welbehae!

“Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense ‘n welbehae,” staan in die sentrum van die Kersverhaal. Die woorde is die basis van ‘n lied wat in baie kerke veral gedurende Kersfees gesing word. Dit staan ook bekend as die Gloria in excelsis Deo (Latyns vir Eer aan God). Die engelelied word dikwels afgekort, deur bloot te verwys na Gloria in Excelsis of slegs Gloria.

Die lied is oorspronklik in Frans geskryf, as Les Anges dans nos campagnes (letterlik “Engele in ons velde”) en is deur ‘n onbekende outeur in die Languedoc-gebied in Frankryk geskryf. Dit is in 1862 deur biskop James Chadwick van New Castle in Engels vertaal, en deur andere in talle en talle tale regoor die wêreld.

Saam met Christene uit byna alle kerklike tradisies oor die wêreld sing ons as Gereformeerdes elke Kersfees: “Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense ‘n welbehae.”

Regtig vrede?

Die verhaal oor die geboorte van ons Here Jesus Christus handel uiteraard oor sy vrede wat deurbreek op die aarde. Josef en die swanger Maria is genoodsaak om na Bethlehem te gaan en eindig as dakloses/swerwelinge in Betlehem. Die  kindjie Jesus word dus in die konteks van tuisteloosheid gebore. Tog sing die engele by sy geboorte: “Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense ‘n welbehae!” 

Die vraag is: Kan ons dit vandag nog sing? Kan ons werklik met oorgawe sing: “Vrede op aarde, in die mense ‘n welbehae.”

Artikels oor oorloë, terreuraanvalle, verkragtings, ontvoerings, kapings, menseroof, xenofobiese aanvalle en plaasmoorde verskyn daagliks in die nuusblaaie of word op televisie vertoon. Meer as 10 000 mense sterf jaarliks weens terreur of oorloë of gewapende konflik wêreldwyd. Derduisende mense word jaarliks as slawe verkoop. Menseroof en -handel is ‘n werklikheid van ons tyd. In Suid Afrika word 18 000 mense jaarliks vermoor, 20 000 verkrag, tientalle mense sterf daagliks weens bendegeweld. Onvrede is ‘n daaglikse realiteit, terwyl vanoggend se preek handel oor vrede op aarde. Mens wil amper uitroep: Vrede . . . vrede terwyl daar geen vrede is nie!

Verwondering oor God

Wanneer ons egter na die Kersverhaal luister, word ons opnuut met verwondering gevul; ‘n maagd word swanger. ‘n Jong meisie word deur God self gekies om die Seun van God in die wêreld te bring. Die Jode het ‘n groot magtige koning verwag . . . iemand soos koning Dawid wat Israel weer in haar eertydse glorie sou kon herstel. Hulle het iemand verwag wat hulle sou kon bevry van die Romeinse oorheersing. Lukas vertel vir ons hoe dit gebeur het dat Jesus in armoedige omstandighede in Betlehem gebore is en nie in Nasaret nie. Josef en Maria kom in opdrag van keiser Augustus in Betlehem aan en word as ‘t ware deur God self na Betlehem gelei.

Alles gebeur as deel van God se vooruitbeskikking. Soos die Heidelbergse Kategismus in vraag 27 en 28 leer: Wat verstaan jy onder die voorsienigheid van God? Die almagtige en oral teenwoordige krag van God (a) waardeur Hy hemel en aarde en al die skepsels asof met sy hand nog onderhou en so regeer (b) dat lower en gras, reën en droogte (c), vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte (d), rykdom en armoede (e) en alles, ons nie per toeval nie, maar uit sy vaderhand toekom (f).

Wat baat dit ons dat ons weet dat God alles geskep het en dit nog deur sy voorsienigheid onderhou? Antwoord: Dat ons in alle teëspoed geduldig (a) en in voorspoed dankbaar (b) kan wees. Verder dat ons ook vir die toekoms ‘n vaste vertroue in ons getroue God en Vader (c) kan stel dat geen skepsel ons van sy liefde sal skei nie (d), aangesien alle skepsels so in sy hand is dat hulle sonder sy wil nie kan roer of beweeg nie (e).

Vrede, gebore uit God se geregtigheid

Jesus se geboorte is 2 000 jaar gelede deur die engelekoor in die volheid van die tyd aangekondig. Hulle het jubelend tot eer van die Here gesing: “Vrede op aarde . . .”

Die Wêreldraad van Kerke (WRK) het op hulle 10de algemene vergadering wat in Busan, in die Republiek van Korea (30 Okt tot 8 Nov 2013) plaasgevind het vrede as tema gehad: “God van lewe, lei ons na geregtigheid en vrede.” Die WRK het daarmee Christene dwarsoor die wêreld opgeroep/uitgedaag . . . om op ‘n pelgrimstog na geregtigheid en vrede te gaan. Ook ons behoort vrede, eenheid, geregtigheid en versoening na te jaag. Om egter vrede te ontvang sonder om geregtigheid eers te soek, is niks anders as ‘n kompromie nie.

Slegs vrede in Christus

Op die nag, meer as 2 000 jaar gelede in Betlehem het die engele gesing: “Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense ‘n welbehae!”

Met vrede op aarde het hulle egter nie die goedkoop najaag van vrede ter wille van vrede bedoel nie. Die  kindjie Jesus het sy vrede vir ons nagelaat. Die wêreld daarenteen kan vrede slegs as leë woorde bied soos Jeremia inderdaad sê: “Hulle sal sê vrede, vrede. Wanneer daar geen vrede is nie.”

Hoe dikwels jaag ons geregtigheid na ten koste van vrede en hoe dikwels jaag ons vrede, Shalom, na ten koste van geregtigheid. Die vrede-Shalom waarvan die engele sing, dui op die vrede wat slegs Christus kan bied. “Vrede op aarde” sing die engele. In ons dade, ons optrede teenoor ons medemens, ons verhoudings met mense van ander kulture, rasse, klasse, taalgroepe, ander godsdienste, selfs teenoor die natuur, behoort ons sy vrede te beliggaam. Jesus van Nasaret is die Prins van Vrede en Hy nooi almal, vroue, kinders, Jode en Grieke, mense van verskillende rasse, kulture, taalgroepe om deel te vorm van sy shalom gemeenskap.

Jesus het sy (eirēne/shalom) vir ons agtergelaat. Die doel van Jesus se geboorte, lyding, kruisiging, sterwe, opstanding is die herstel van die shalom van God.

Gestuur as draers van vrede

Christus, die Prins van vrede, stuur ons uit, soos die herders, om te getuig/te sing van wat ons gesien en gehoor het en om ‘n seën in die gebroke wêreld te word. Sing ‘n nuwe lied tot eer van die Here, sing tot eer van die Here, almal op aarde! Sing tot eer van die Here, prys sy Naam, verkondig elke dag sy reddingsdade! Vertel die nasies van sy mag, al die volke van sy magtige dade  (Ps 96:1-3).

Ons word geroep om vredemakers op reis met die lewende God te word. Om in vrede te gaan, beteken daarom om die armes te voed, die wat naak is te klee, om te assosieer met mense ongeag ras, kultuur, status, klas, agtergrond. Om in vrede te gaan beteken ook om te stry en te bid vir geregtigheid, vir die deurbreek van God se vrede op aarde. Die wêreld kan nie vrede gee nie. Meer nog . . . die wêreld kan nie die vrede wat Jesus ons skenk, wegneem nie.

Moenie vrees nie

So moenie bang wees nie, moenie vrees nie. Selfs te midde van pyn, hartseer, vertwyfeling, verdrukking en beproewing, moenie angstig rondkyk nie . . . u het ‘n God wat u nooit sal begewe of verlaat nie. Sy naam is Jesus, die Prins van vrede.

Kom ons bid vir die vrede, voorspoed, seën van God nie slegs vir Israel nie, nie slegs vir Jerusalem nie, maar ons bid vir die vrede in die gemeenskap, die land, die wêreld. Bid vir die vrede in Israel Palestina, vir die vrede in Sentraal-Afrikaanse Republiek, Demokratiese Republiek van die Kongo, Egipte, Libië, Mali, Nigerië, Somalië, Soedan, Suid- Soedan, Afghanistan, Burma-Myanmar, Pakistan, Filippyne, Thailand, Oekraïne, Irak, Sirië, Jemen, Colombië, Mexiko en talryke ander. Bid vir die vrede van die wêreld. Nie slegs vir die klein kolletjie waar u woon en werk nie. Bid vir die vrede van wêreld.

Vrede is ‘n saak van lewe en dood vir mense wat daarna smag. Bid daarom vir die vrede van die wêreld. Ons het behoefte aan vrede in die Bybelse sin van die woord. Kom ons sing saam met die engelekoor die eeu oue triomflied: “Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense ‘n welbehae!

God stuur ons om te leef

Gebed
Here, onse Here,
dankie dat U deur u geboorte, lewe en sterwe kom wys het hoe nederigheid lyk. Dankie dat U met u koms aan die geringes van die samelewing ’n baie besonderse plek in die koninkryk kom gee het.
Here, lei ons dan nou ook deur u Gees om in hierdie feestyd, ongeag ons sosiale status, soos die herders van ouds, getuienisse te wees van U koms en dit wat U vir die mensdom op aarde kom doen het.
Ons dank U ook vir die voorreg om u geboorte met vreugde en in die samesyn van ons geliefdes te herdenk.
Skenk aan ons tog ’n geseënde Somerkersfees.
In die Naam van Jesus Christus bid ons dit.
Amen.

Geloofsbelydenis: (Ahv Kolossense 1)
Ek glo in die Seun, Jesus Christus-
Die Seun is die beeld van God,
Die Seun is die Eerste,
verhewe bo die hele skepping.
Voor alles was Hy al daar,
en deur Hom bly alles in stand.
Hy is die hoof van die liggaam,
van die kerk.
Hy is die oorsprong daarvan,
Hy is die Eerste,
die Een wat uit die dood
opgestaan het,
sodat Hy die eerste plek
in die heelal inneem.

Offergawes

Wegsending: Lied 353 “Die Heiland is gebore vs 1,2,3”

Seën
Die Here sal julle seën en julle oppas.
Die Here sal met deernis na julle kyk en baie goed vir julle wees.
Die Here sal julle gebede beantwoord en vir julle vrede gee.
(Numeri 6:24vv Die Boodskap)

Antwoord: Lied 312/313/314/315