Kersdag

Sections

Oorsig

God het in Christus mens geword en onder ons kom woon! Ons herdenk saam met Christus se geboorte soveel meer as net ’n aardse verjaardag; ons herdenk die koms van dié Verlosser.

Op Kersdag is die kleure wit en goud. Die Kersdiens is ’n feesdiens. Blomme en ander feessimbole kan ruimskoots gebruik word.

Belofte op belofte word in Jesaja 62:6-12 uitbasuin. In die Afrika-tradisie van koninklike lofsangers word die woord “Bayete!” uitbasuin wanneer ’n koning aan die kom is. Dit is beide ’n koninklike groet en ook ’n opgewonde aanduiding dat die koning aan die kom is. Hierdie teksgedeelte skep dieselfde afwagting van iets/iemand groots wat aan die kom is.

Psalm 97 getuig daarvan dat die Lig van die Here, die Regverdige oor die hele aarde skyn met geen uitsondering van mens of die natuur nie.

Vryspraak vir die erfgename van die Vader, Seun en Heilige Gees word vandag aan ons belowe deur die woorde van Titus 3:4-7.

Lukas 2:(1-7)8-20 dien as herinnering dat wanneer ons vandag, op Kersdag, as geloofsgemeenskap ontmoet, dit ’n ontmoeting tussen hemel en aarde is. Die ontmoeting tussen hemel en aarde kan slegs lei tot: “Eer aan God in die hoogste hemel en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ’n welbehae het!”

Die erediens op Kersdag word gekenmerk deur:
Die spanning wat hierdie ontmoeting teweegbring omdat ons mense is wat onvolmaak is en in ’n onvolmaakte wêreld leef en oorleef.
God wat Lig en Verlossing vir ons op ’n persoonlike en ook meer publieke/gemeenskaplike wyse bring deur Jesus Christus.

Ander tekste

Psalm 97
Vir die regverdiges het daar lig gekom
97 Die Here regeer, die aarde moet
juig,
al die baie eilande moet bly wees!
2Die Here is omgewe van donker wolke;
sy troon is gebou
op reg en geregtigheid.
3’n Vuur trek voor Hom uit
en verteer sy vyande aan alle kante.
4Sy weerligstrale verlig die wêreld;
die aarde sien dit en bewe.
5Berge smelt soos was voor die Here,
voor die Here van die aarde.
6Die hemel getuig dat Hy regverdig is
en al die volke sien
sy magtige verskyning.
7Almal wat beelde dien,
wat nikswerd afgode vereer,
word ontnugter,
want al hulle gode
moet voor die Here buig.
8Sion is bly, die stede van Juda juig
wanneer hulle hoor wat U
as regter gedoen het, Here.
9U, Here, is die Allerhoogste
oor die hele aarde,
hoog verhewe bo alle gode.
10Julle het die Here lief;
haat dan wat sleg is!
Hy bewaar die lewe
van sy troue dienaars,
Hy red hulle
uit die greep van die goddelose.
11Vir die regverdiges
het daar lig gekom,
blydskap vir die opregtes.
12Wees bly in die Here, regverdiges,
prys sy heilige Naam.

Titus 3:4-7
Die Christelike gedrag
3 Herinner die mense nadruklik daaraan dat hulle hulle aan owerheid en gesag moet onderwerp, daaraan gehoorsaam moet wees en bereid moet wees om alles te doen wat goed is. 2Hulle moet van niemand kwaadpraat nie en nie rusie soek nie. Hulle moet inskiklik wees en altyd bedagsaam teenoor almal.

3Vroeër was ons ook onverstandig, ongehoorsaam, op die verkeerde pad, verslaaf aan allerlei begeertes en singenot; ons het ons lewe in kwaadwilligheid en jaloesie deurgebring; ons was haatlik en het mekaar gehaat. 

4Maar toe het die goedheid van God ons Verlosser en sy liefde vir die mens verskyn. 5Hy het ons verlos, nie op grond van iets wat ons vir ons vryspraak gedoen het nie, maar op grond van sy eie ontferming. Dit het Hy gedoen deur die wedergeboorte wat die sonde afwas, en deur die Heilige Gees wat nuwe lewe gee. 6God het die Heilige Gees oorvloedig op ons uitgestort deur Jesus Christus ons Verlosser. 7So is ons dan deur sy genade vrygespreek en het ons erfgename geword van die ewige lewe wat ons verwag.

8Dit is ’n betroubare woord. Daarom wil ek hê dat jy van hierdie dinge met groot nadruk moet getuig, sodat dié wat tot geloof in God gekom het, hulle op goeie werk kan toelê, werk wat goed en nuttig is vir die mense. 9Maar jy moet jou nie inlaat met dwase strydvrae en geslagsregisters en met getwis en stryery oor die wet van Moses nie, want dit is nutteloos en sinloos. 10Met iemand wat na twee vermanings nog skeuring veroorsaak, moet jy niks te doen hê nie, 11omdat jy weet dat so ’n man op die verkeerde pad is. Deur sy sonde bring hy die oordeel oor homself.

Lukas 2:(1-7) 8-20
Die geboorte van Jesus
(Matt 1:18–25)
2 In daardie tyd het keiser Augustus ’n bevel uitgevaardig dat ’n volkstelling in die hele ryk gehou moet word. 2Hierdie eerste volkstelling het plaasgevind toe Sirenius goewerneur was in die provinsie Sirië. 3Almal het gegaan om hulle te laat inskryf, elkeen na sy eie stad toe.

4Ook Josef het gegaan. Hy het van die dorp Nasaret in Galilea na Judea toe gegaan, na Betlehem, die stad van Dawid, omdat hy tot die huis en geslag van Dawid behoort het. 5Maria, sy verloofde, wat swanger was, het saamgegaan om ingeskryf te word. 6Terwyl hulle daar was, het die tyd gekom dat haar kind gebore moes word. 7Sy het haar Eerstelingseun in die wêreld gebring en Hom in doeke toegedraai en in ’n krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie.

Die skaapwagters en die engele
8Daar was skaapwagters in daardie omgewing wat in die oop veld gebly en in die nag oor hulle skape wag gehou het. 9Meteens staan daar ’n engel van die Here by hulle, en die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn. Hulle het baie groot geskrik. 10Toe sê die engel vir hulle: “Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle ’n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is. 11Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here! 12En dit is vir julle die teken: julle sal ’n kindjie vind wat in doeke toegedraai is en in ’n krip lê.”

13Skielik was daar saam met die engel ’n menigte engele uit die hemel wat God prys en sê:
14“Eer aan God
in die hoogste hemel,
en vrede op aarde
vir die mense in wie Hy
’n welbehae het!”
15Nadat die engele van hulle af weggegaan het na die hemel toe, sê die skaapwagters vir mekaar: “Kom ons gaan reguit Betlehem toe om te sien wat gebeur het, soos die Here dit aan ons bekend gemaak het.”

16Hulle gaan toe haastig daarheen en kry vir Maria en Josef, en die Kindjie wat in die krip lê. 17Toe hulle Hom sien, het hulle vertel wat oor hierdie Kindjie aan hulle gesê is. 18Almal wat dit gehoor het, was verwonderd oor wat die skaapwagters hulle vertel het. 19Maria het alles wat gesê is, onthou en telkens weer by haarself daaroor nagedink. 20Die skaapwagters het toe teruggegaan terwyl hulle God loof en prys oor alles wat hulle gehoor en gesien het. Dit was alles net soos dit vir hulle gesê is.

Fokusteks

Jesaja 62:6-12
Die Here het jou lief
62 Ter wille van Sion sal ek nie swyg nie,
ter wille van Jerusalem
sal ek nie stilbly nie
totdat daar vir hom redding
deurgebreek het soos ’n nuwe dag,
soos die lig van ’n brandende fakkel.
2Die nasies sal sien dat jy gered is,
Jerusalem,
al die konings sal sien dat jy mag het.
Jy sal ’n nuwe naam kry,
’n naam wat die Here self
vir jou gekies het.
3Die Here sal jou soos ’n sierlike kroon
in sy hand hou,
jou God sal jou
soos ’n koninklike tulband vashou.
4Jy sal nie meer die verstote vrou
genoem word nie,
en jou land nie meer die een
wat verlate lê nie.
Jy sal genoem word:
“Die een vir wie die Here liefhet,”
en jou land:
“Die een wat aan die Here behoort.”
Die Here het jou lief,
en jou land behoort aan Hom.
5Soos ’n jong man met ’n meisie trou,
so sal jou volk jou syne maak
en vir jou sorg.
Soos ’n bruidegom bly is oor sy bruid,
so sal jou God oor jou bly wees.
6Ek het wagte op jou mure uitgesit,
Jerusalem,
hulle sal dag en nag roep.
Julle wat die Here
aan sy beloftes moet herinner,
julle moenie stilbly nie.
7Julle moenie stilbly nie
totdat Hy Jerusalem herstel het,
totdat Hy die hele wêreld
die roem van Jerusalem laat sing het.
8Die Here het ’n eed afgelê,
en deur sy groot mag sal Hy dit
gestand doen:
Ek sal jou koring
nie weer aan jou vyande gee
om te eet nie,
uitlanders sal nie weer die wyn drink
waarvoor jy hard gewerk het nie.
9Dié wat die koring oes, sal dit eet
en hulle sal My loof;
dié wat die druiwe oes, sal die wyn drink
in die voorhof van my heiligdom.
10Gaan uit, gaan uit by die poorte,
maak die pad gereed vir die volk!
Vul die grootpad op, vul dit op!
Vat weg die klippe!
Steek ’n banier op
dat die volke dit kan sien!
11Die Here kondig
dwarsoor die wêreld aan:
“Sê vir Sion: Hy wat jou red, kom!
Sy volk wat Hy Syne gemaak het,
is by Hom,
dié wat aan Hom behoort,
loop voor Hom uit.”
12Hulle sal genoem word:
“Gewyde volk,
volk wat deur die Here verlos is.”
En jy, Jerusalem, sal genoem word:
“Gewilde stad,
stad wat nie verlate lê nie.”

Liturgie

RUS

Toetrede
Lied 345 “Kom, alle getroues” of
Flam 323 “Goeie Nuus” of
VONKK 176 “Let Op, Kinders, Dis Weer Kersfees!

Votum (responsories n.a.v. Ps 97)
Interlude: Voorlesing Lukas 2:1-7

Respons – Ere aan God: VONKK 65 of Lied 367 of 369, of
Flam 39 Ons Is Die Herders se refrein

Seëngroet 

Lofsang
Lied 344 “O die goeie tyding, o die blye tyding” of
Flam 319 “Want ’n Kind Is Vir Ons Gebore (Immanuel)” of
VONKK 124 “Jesus Bring Vreugde

Litanie (responsories)

Lofsang
Lied 364 “Herders op die ope velde” of
VONKK 256 “Vol van vreugde wil ons jubel”

HOOR

Gebed

Skriflesing: Jesaja 62:6-12

Lied
Familie-oomblik
Preek

LEEF

Toewyding – lidmate hang strikkies of versierings aan ’n kersboom
Gebed

Slotsang
Lied 348 “Stille Nag”

Seën

Respons: Lied 348 vers 3 Refrein: Heer, gebore vir ons!

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 345 “Kom, alle getroues” of
Flam 323 “Goeie Nuus” of
VONKK 176 “Let Op, Kinders, Dis Weer Kersfees!”

Votum (n.a.v. Ps 97)
Liturg: Die Here regeer, die aarde moet juig,
Gemeente: al die baie eilande moet bly wees! 

Liturg: Die Here is omgewe van donker wolke;
Gemeente: sy troon is gebou op reg en geregtigheid. 

Liturg: ’n Vuur trek voor Hom uit
Gemeente: en verteer sy vyande aan alle kante. 

Liturg: Sy weerligstrale verlig die wêreld;
Gemeente: die aarde sien dit en bewe. 

Liturg: Berge smelt soos was voor die Here,
Gemeente: voor die Here van die aarde. 

Liturg: Die hemel getuig dat Hy regverdig is
Gemeente: en al die volke sien sy magtige verskyning. 

Interlude: Voorlesing Lukas 2:1-7
In stede van ’n voorlesing kan jy ook ’n video wys. Hier kan jy ‘n pragtige voorlesing en uitbeelding van die skrifgedeelte koop, of hier kry jy ‘n sandkuns uitbeelding met die voorlesing- kyk dit hier.

2 In daardie tyd het keiser Augustus ’n bevel uitgevaardig dat ’n volkstelling in die hele ryk gehou moet word. 2Hierdie eerste volkstelling het plaasgevind toe Sirenius goewerneur was in die provinsie Sirië. 3Almal het gegaan om hulle te laat inskryf, elkeen na sy eie stad toe.

4Ook Josef het gegaan. Hy het van die dorp Nasaret in Galilea na Judea toe gegaan, na Betlehem, die stad van Dawid, omdat hy tot die huis en geslag van Dawid behoort het. 5Maria, sy verloofde, wat swanger was, het saamgegaan om ingeskryf te word. 6Terwyl hulle daar was, het die tyd gekom dat haar kind gebore moes word. 7Sy het haar Eerstelingseun in die wêreld gebring en Hom in doeke toegedraai en in ’n krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie.

Respons – Ere aan God
VONKK 65 “Ere Aan God In Die Hoogste (kanon)” of
Lied 367 of 369 “Ere aan God” of
Flam 39 Ons Is Die Herders se refrein (Ere aan God)

Seëngroet 
Christus is gebore.
God is met ons.
Soos Psalm 97 voorspel het, sien ons sy magtige verskyning.
Wees bly in die Here, regverdiges, prys sy heilige Naam. (Ps. 97:12)
Amen

Lofsang
Lied 344 “O die goeie tyding, o die blye tyding”
Of Flam 319 “Want ’n Kind Is Vir Ons Gebore (Immanuel)”
VONKK 124 “Jesus Bring Vreugde”

Litanie
Voorganger: Vir ons is ’n kind gebore. Vir ons het daar verlossing gekom. Kyk, die Redder van Sion is hier!
Gemeente: Eer aan God in die hoogste hemel en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ’n welbehae het.

Voorganger: Vir ons het die Lig na die wêreld gekom en die duisternis kan dit nie uitwis nie. Die Lig verlig alle ongeregtigheid. Kyk, die Regter van Israel het gekom!
Gemeente: Eer aan God in die hoogste hemel en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ’n welbehae het.

Voorganger: Vir ons het daar vrede op aarde gekom. Kyk, die Vredevors het sy tentpenne by ons kom inslaan.
Gemeente: Eer aan God in die hoogste hemel en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ’n welbehae het.
(Uit Woord en fees – Preekstudies en liturgiese voorstelle gebaseer op die kerkjaar 2013-2014)

Lofsang
Lied 364 “Herders op die ope velde” of 
VONKK 256 “Vol van vreugde wil ons jubel”

Liedere

F323. “Goeie Nuus”
(RUBRIEK: Flammikidz / Flam – Kersfees) Teks en musiek: Marcel en Lydia Zimmer
Oorspronklike titel: Goed NieuwsAfrikaanse vertaling: JP Bruwer, Marcel en Lydia Zimmer © 1999 Celmar Music
(Nav Jes 9:5)

Refrein:
Goeie nuus, goeie nuus
sing saam met eng’le kore!
Goeie nuus, goeie nuus
Jesus is gebore, Jesus is gebore.
“Wonderbare Raadsman”

1. Hy wil jou altyd bystaan
in alles, dag en nag.
Ja, in jou hele lewe
gee Hy jou raad en krag.
“Sterke God”
Hy is die allerbeste,
geen ander is soos Hy.
Die magtigste en sterkste
sal Hy vir altyd bly.
Refrein:

“Ewige Vader”

2. En Hy is soos ’n Vader
so baie lief vir jou.
Hy dra jou in Sy arms
jy kan op Hom vertrou.
“Vredevors”
Hy gee jou ware vrede
vir nou en vir altyd.
En dié wat in Hom glo
sal leef in ewigheid.

Refrein:
“Immanuel”

3. Hy is ook altyd by jou
en altyd om jou heen.
En waar jy ook al rondgaan
laat Hy jou nooit alleen.

Refrein:

VONKK 176 “Let Op, Kinders, Dis Weer Kersfees!”
Teks: Weisst du wieviel Sternlein stehen – Wilhelm Hey 1837; nuwe teks: Jacques Louw 2011 ©
Melodie: STERNLEIN – Duitse volksmelodie 1818 Orrelbegeleiding: Gerrit Jordaan 2010
Musikale verryking: Gerrit Jordaan 2010 © Teks, orrelbegeleiding en musikale verryking: 2011 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) © Melodie: Openbare besit RUBRIEK: Kinderlied – Advent / Kersfees en Epifanie / Kindwees

1. Let op, kinders, dis weer Kersfees!
Hoor die mense vrolik sing!
Dis die tyd wat ons kan bly wees,
vir mekaar geskenke bring.
Want ons weet dat God ons so liefhet dat
Hy sy eie Seun na die wêreld stuur:
Sodat dié wat in Hom glo
tot in ewigheid sal leef!

2. As ons weer met hierdie Kersfees
vir mekaar geskenke gee,
kom onthou dan God se liefde
en sy groot Geskenk vir ons.
God, die Vader, stuur sy geliefde Seun
om ons sondeskuld van ons weg te neem.
Sodat dié wat in Hom glo
tot in ewigheid sal leef!

3. Kom nou, kinders, laat ons bly wees!
Laat ons God se liefde prys.
Laat ons soos die wyse manne
aan die Kindjie eer bewys.
God se liefde is so oneindig groot,
Hy kom red die mens uit sy sondenood.
Sodat dié wat in Hom glo
tot in ewigheid sal leef!

VONKK 65 “Ere Aan God In Die Hoogste (kanon)”
Teks: Gloria in excelsis Deo – Lukas 2:14 Melodie: Ludwig Ernst Gebhardi 1830 © Teks en melodie: Openbare besit
RUBRIEK: Kanon – Kersfees en Epifanie

1. Ere aan God in die hoogste,
2. vrede op aarde, op aarde,
3. in die mense ‘n welbehae.
4. Amen. Amen.

F393. “Ons Is Die Herders “
(RUBRIEK: Flam – Kersfees) Teks en musiek: Jeanette Lewis © Popps Musique (geadministreer deur Flam Musiek-Uitgewers)

1. Ons is die herders,
met skaap en staf.
Ons soek die Koning,
kom van ver af.
Ons bring ons skape, ons hulde, Heer,
ons bring onsself, kom lê ons neer.

2. Ons is die wyses,
ons kom van ver.
Ons soek die Koning,
ons sien sy ster.
Ons bring ons goud, ons wierook, Heer,
ons bring onsself, kom lê ons neer.

Refrein:
Ere aan God, in die hoogste hemele,
ere aan God, hier op die aarde.
Ere aan God, saam met al die engele,
en vrede vir die wat Hom vind.

3. Ek is ’n volg’ling,
ek kom van vêr.
Ek soek die Koning,
ek sien sy ster.
Ek bring my liefde, my hulde, Heer,
Ek bring myself, kom lê my neer.

Refrein: (x2)

F319. “Want ’n Kind Is Vir Ons Gebore (Immanuel)”
(RUBRIEK: Flam / Flammikidz – Kersfees) Oorspronklik: Immanuel Teks en musiek: Marcel Zimmer
Afrikaanse vertaling: Faani Engelbrecht © 1993 Celmar Music

1. Want ’n kind is vir ons gebore,
God het sy Seun aan ons gegee.
Die heerskappy rus op sy skouers
en sy Naam sal wees:

Refrein:
Wonderbare Raadsman, Magtige God,
Ewige Vader, die Vredevors.
Immanuel,
God met ons.
Immanuel,
God met ons,
Immanuel.

2. Want so lief het God die wêreld,
Hy het sy Seun aan ons gegee
sodat die wat nou in Hom glo
leef tot in ewigheid.

Refrein:

VONKK 124 “Jesus Bring Vreugde”
Teks: AP van der Colf 1988 (met toestemming NG Kerk-Uitgewers) Melodie: In Dir ist Freude – Giovanni Giacomo Gastoldi 1591 Orrelbegeleiding: H Pieter van der Westhuizen 2001 (met toestemming NG Kerk-Uitgewers)
Musikale verryking: Anton Esterhuyse 2010 © Teks en orrelbegeleiding: 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit RUBRIEK: Klassiek – Lofprysing / Kersfees en Epifanie

1. Jesus bring vreugde, redding en vreugde –
Hy het mens vir ons geword.
Engele juig dit, herders getuig dit:
“Jesus, Redder, Seun van God!”
Wyd oor die aarde kring sy behae;
Hy kom vergewe, Hy laat ons lewe.
Hy maak ons, mense, kinders van God.
Wyd oor die aarde kring sy behae;
Hy kom vergewe, Hy laat ons lewe.
Hy maak ons, mense, kinders van God.

2. Jesus bring vrede, hemelse vrede:
Al ons skuld het Hy versoen.
Nie meer verlore – wedergebore
deur sy Gees wat wonders doen.
Vry kan ons nader tot God die Vader:
Niks kan ons skei nie, niks wat ons ly nie.
Hy is ons vrede – vrede wat bly.
Vry kan ons nader tot God die Vader:
Niks kan ons skei nie, niks wat ons ly nie.
Hy is ons vrede – vrede wat bly.

3. Heer, U bring vryheid, Heer, U bring blyheid,
U wat mens word in ons nag.
Heerlike gawes gee U weldadig,
God van Liefde, God van mag.
Ewige Koning, ons is u woning;
Hemel en aarde kry nuwe waarde.
U is die Here, U maak ons vry.
Ewige Koning, ons is u woning;
hemel en aarde kry nuwe waarde.
U is die Here, U maak ons vry.

VONKK 256 “Vol van vreugde wil ons jubel”
Teks: Jacques Louw 2012 © Melodie: Les anges dans nos campagnes – Franse Kerslied E18.
Orrelbegeleiding: Werkgroep Kerkmusiek UOVS 1978. Gebruik met toestemming Bybel-Media.
Diskant: Jacques Louw 2012 © © Teks, orrelbegeleiding en diskant: 2012 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit RUBRIEK: Klassiek – Kersfees en Epifanie

1. Vol van vreugde wil ons jubel
en oor God se goedheid sing.
God se liefde vir die mensdom
het sy Seun na ons gebring.

Refrein:
Kom, loof die Heer, loof die Heer, loof die Here God,
met jou hele lewe!
Kom, loof die Heer, loof die Heer, loof die Here God.
Loof die Hemelkoning.

2. Jesus Christus, die Verlosser,
kom in ons gebrokenheid.
Hy bevry ons uit genade
van ons skuld en sondigheid.

Refrein:
Kom, loof die Heer, loof die Heer, loof die Here God,
met jou hele lewe!
Kom, loof die Heer, loof die Heer, loof die Here God.
Loof die Hemelkoning.

3. Jesus is ons Lig en Lewe –
wat ’n vaste sekerheid!
By Hom is daar ware vrede,
lewe tot in ewigheid!

Refrein:
Kom, loof die Heer, loof die Heer, loof die Here God,
met jou hele lewe!
Kom, loof die Heer, loof die Heer, loof die Here God.
Loof die Hemelkoning.

4. Saam met eng’le uit die hemel
wil ons ook ons hulde bring.
“Alle eer aan God, die Here!”,
juig ons in verwondering.

Refrein:
Kom, loof die Heer, loof die Heer, loof die Here God,
met jou hele lewe!
Kom, loof die Heer, loof die Heer, loof die Here God.
Loof die Hemelkoning.
LW: Instrumentale verwerkings van hierdie melodie vir onder andere fluit, viole, simbale en klokkies, is beskikbaar by die musikale verryking van VONKK 84.

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Jesaja 62:6-12

Lied
Sing een van die bogenoemde lofliedere wat julle nog nie gesing het nie – kyk veral na Vonkk 124 en 256, waarvan die melodieë baie bekend is

Familie-oomblik

Dis Kersdag! In stede daarvan om te fokus op die Jesaja teks, kan jy gewoon die Kersverhaal op ’n kreatiewe manier oorvertel.

Jy kan ook vir die kinders vra wat hulle present gekry het. Kanse is goed baie van hulle het dit saamgebring, so hulle kan dit sommer vir die gemeente wys! Dan kan jy die geskenke gebruik om almal te herinner waaroor Kersfees werklik gaan.

Of vertel die (redelik abstrakte) storie van die Eseltjie se Droom deur Barbara Helen Berger vertel:

Eendag was daar ‘n grys eseltjie. Hy het soos gewoonlik aangestap, met ‘n vrag op sy rug. ‘n Man het hom gelei. En soos hulle aanstap deur die nag in die lig van die sterre, begin die eseltjie droom:

Hy droom hy dra ‘n hele stad, met stadspoorte en torings en tempels.
Hy droom hy dra ‘n skip waarin mense in wit klere saam met die geklots van die water wieg.
Hy droom hy dra ‘n fontein. Die water spuit en ‘n tuin groei uit die woestynsand.
Hy droom hy dra ‘n roos. Die blare rus saggies op sy rug terwyl die heerlike geur deur die lug versprei.
Toe droom hy hy dra ‘n vrou wat die hemel ken.

Hulle het by ‘n dorpie aangekom. Maar net die honde hardloop hulle tegemoet. Die man klop aan ‘n deur. Dit gaan nie oop nie, hulle moet verder. Hulle kom by ‘n plek wat na hooi ruik. Daar is ‘n watertrog en ‘n grot vir ‘n stal.

Die man help die vrou van die eseltjie se rug af, haal die saal van die eseltjie af en gaan agter die vrou aan by die grot in. Die eseltjie is alleen buite. Hy het so ver gestap, sy rug is seer en sy bene pyn.

Een ster skyn in die watertrog voor hom terwyl die moeë eseltjie van die water drink.

Die man kom by die grot uit en lei die eseltjie die grot in, waar die vrou op ‘n bed van strooi lê. Die eseltjie se saal is haar kussing. Sy glimlag. “Kom,” sê sy vir die eseltjie. “Kom kyk wat ons twee al die pad gedra het, jy en ek.”

Dis net ‘n klein babatjie. En tog, toe die baba sy oë oopmaak, is die hele grot vol lig. Skielik is die eseltjie nie meer moeg nie, al het hy die hemelse stad van hoop en belofte; die kerk wat soos ‘n skip in die wêreld vaar; die lewende water; die roos van Saron, waarvan die liefde soos ‘n heerlike geur versprei; en die koning van die hemele op sy rug gedra.

Preekriglyn

Toe die Joodse psigiater Victor Frankl deur die Nazi’s gearresteer en in Auschwitz, die bekende doodskamp, geplaas is, het hy alles verloor: eiendom, familie, en besittings. Hy het ook ‘n manuskrip verloor van ‘n boek waaraan hy vir jare gewerk het. Die boek het gehandel oor die soeke na die sin van die lewe. Die manuskrip was vasgewerk in die binnekant van sy jas.

Aangekom in Auschwitz forseer die Nazi’s die gevangenes om hulle klere af te staan. “Ek moes my klere oorhandig, en het in ruil die vodde gekry van iemand wat reeds na die gaskamer gestuur is,” vertel Frankl. “Nou het dit gelyk of niks en niemand my gaan oorleef nie – nie ‘n werklike kind of selfs my geesteskind, my boek, nie. Ek het gewonder of my lewe nog enige sin het.”

In die sak van sy nuwe, verflenterde jas, was daar egter ook ‘n “manuskrip”. Eintlik slegs ‘n enkele bladsy, uitgeskeur uit ‘n gebedsboekie, met die Joodse gebed “Shema Yisrael” daarop: “Hoor, Israel! Die Here is ons God, Hy is die enigste Here. Daarom moet jy die Here jou God liefhê met hart en siel, met al jou krag.” (Deut 6)

“Hierdie bladsy was nie toevallig in my nuwe jas se sak nie. Ek het geweet waarom ek lewe. Dit was ‘n uitdaging om my verlore manuskrip elke dag uit te leef, sodat dit nie langer bloot woorde op papier sou wees nie.”

In sy latere boek. Man’s Search for Meaning, skryf Frankl: “Daar is niks in die wêreld wat mens so effektief help om selfs die slegste denkbare omstandighede te oorleef as dié wete dat daar sin in jou lewe is nie…. Hy wat ‘n doel het om voor te lewe, kan omtrent enige ellende verduur.”

‘n Lang reis na vryheid

Met die onlangse afsterwe van mnr. Nelson Mandela kort na die vrystelling van ‘n rolprent oor sy lewe, Long walk to freedom, word mens weer herinner aan die krag van ‘n sinvolle doel wat mense laat vasstaan en volhard. Mandela kon die 27 jaar in die tronk oorleef, geweldige opofferings maak, lyding deurstaan, en getemper, volwasse, anderkant uitstap, om sy lewensdoel – vryheid vir almal – te verwesenlik.

Die groter krag van God se beloftes

Die Bybel leer ons om vanuit God se beloftes te lewe. God se beloftes is die groter kragbron, die dieper hoop, wat mense se lewens rig. Wie ‘n helder blik, uitsig en visie op God se beloftes het, kan inderdaad enige omstandighede deurleef.

Dit is die dinamiese kragbron wat in ons teks ontsluit word. In Jesaja 62 is die volk nog te pletter geslaan na die ballingskap in Babilonië. Maar hulle het hoop. Want God is daar. En hulle weet God gaan ingryp om God se beloftes waar te maak.

Die hoop van God se volk

NT Wright, die gevierde Skrifkenner, vertel hoedat die Jode hulself en hul God ten tye van ons teksgebeure gesien het:

  • hulle het geweet dat hulle die uitverkore volk van God, die Skepper en Heerser van alle volke is. en
  • dat Hy deur hulle die heil na die hele wêreld wil bring (vgl. die Abraham-belofte).

Maar nou, sedert die tyd van ons teks, het die beloftes van herstel slegs ten dele in vervulling gegaan. Hulle is steeds onder vreemde oorheersing. Net ’n klein deel van die volk het uit ballingskap teruggekom. Toestande is alles behalwe dit waarvoor hulle gehoop het; die tempel is herbou maar die erediens is nie wat dit moet wees nie.

Die kern van Israel se geloof, sê Wright, was hoop: die verwagting dat God sal ingryp en dit wat Hy beloof het sal doen; die volk, die land en die tempel sal herstel sodat die nasies Hom as ware God sal erken. Wright haal samevattend vir EP Sanders aan:

Many Jews looked forward to a new and better age . . . The hopes centered on the restoration of the people, the building or purification of the temple and Jerusalem, the defeat or the conversion of the Gentiles, and the establishment of purity and righteousness . . . The hope that God would fundamentally change things was a perfectly reasonable hope for people . . . who believed that God had created the world and had sometimes intervened dramatically to save his people.

Die Nuwe Testamentiese verbind die vervulling van hierdie beloftes met Jesus Christus.

God is getrou en sy beloftes staan vas

In ons teks bevestig die Here dat sy beloftes waar sal word. Hy doen dit op die kragtigste moontlike manier deur ‘n eed te sweer:
Die Here het ’n eed afgelê,
en deur sy groot mag sal Hy dit
gestand doen. (8)

En wat is die inhoud van hierdie hoopvolle belofte wat die volk dra deur die jare waarin dit swaar gaan en die omstandighede dikwels ondraaglik raak? Die belofte is dat God getrou is en dat Hy doe omstandighede van sy volk inderdaad verander (verse 8-12):
Ek sal jou koring
nie weer aan jou vyande gee
om te eet nie,
uitlanders sal nie weer die wyn drink
waarvoor jy hard gewerk het nie.
Dié wat die koring oes, sal dit eet
en hulle sal My loof;
dié wat die druiwe oes, sal die wyn drink
in die voorhof van my heiligdom.
Gaan uit, gaan uit by die poorte,
maak die pad gereed vir die volk!
Vul die grootpad op, vul dit op!
Vat weg die klippe!
Steek ’n banier op
dat die volke dit kan sien!
Die Here kondig
dwarsoor die wêreld aan:
“Sê vir Sion: Hy wat jou red, kom!
Sy volk wat Hy Syne gemaak het,
is by Hom,
dié wat aan Hom behoort,
loop voor Hom uit.”
Hulle sal genoem word:
“Gewyde volk,
volk wat deur die Here verlos is.”
En jy, Jerusalem, sal genoem word:
“Gewilde stad,
stad wat nie verlate lê nie.”

Hoe reageer gelowiges op God se beloftes?

Ons teks help ons verstaan dat gebed die manier is waarop gelowiges vashou aan God se beloftes (verse 6 en 7):
Ek het wagte op jou mure uitgesit,
Jerusalem,
hulle sal dag en nag roep.
Julle wat die Here
aan sy beloftes moet herinner,
julle moenie stilbly nie.
Julle moenie stilbly nie
totdat Hy Jerusalem herstel het,
totdat Hy die hele wêreld
die roem van Jerusalem laat sing het.
In ons teks is die wagte diegene op die wagtorings wat met verwagting en in getrouheid wag op tekens van ’n nuwe toekoms, van redding en herstel (Ps 130:5-6). Hulle taak is om onophoudelik en volhardend, dag en nag te bid. Vir Habakuk was die uitkyktoring op die muur ook die plek om met God te worstel in gebed (2:1). Hulle word beskryf as “julle wat die Here onthou”.

Die bidders moet die Here aan sy beloftes (8-9) herinner (vgl. die verhaal in Ester 6). Hierdie oproep van Jesaja word tot vandag toe ernstig geneem deur ortodokse Jode wat daagliks by die klaagmuur staan en bid vir die herstel van Jerusalem! Dit word trouens ernstig geneem deur alle gelowiges wat hoopvol op die Here bly wag.

Gebed is die werk van geloof, die gelowige reaksie op God se beloftes en die van trou, wat geloof, hoop en liefde in die gelowige se lewe brandend hou.
Gebedsreuse soos George Müller herinner ons deurgaans daaraan dat gebed die primêre geloofsreaksie op moeilike omstandighede is.

God raak die wêreld in Christus aan

Die omstandighede van Nuwe Testamentiese gelowiges, soos ons, verskil drasties van die omstandighede in Jesaja 62. Ons het soveel groter insig in God se beloftes. Ons kry dit deur die lewe, werk en leer van Jesus Christus. Christus is die lewende teenwoordigheid van God by ons, veel helderder en kragtiger as wat die tempel van Jesaja 62 kon versinnebeeld. In Christus het God die wêreld aangeraak. En God het Christus, na sy dood aan die kruis, weer opgewek anderkant die dood. God het ons in Christus laat sien wat God vir ons beplan op ‘n nuwe aarde onder ‘n nuwe hemel.

En Christus het die Gees van God oor ons uitgegiet, wat ons begelei om aan Jesus vas te hou, Jesus na te volg, en God getrou te dien tot die einde toe.

Daarmee is die vlam van hoop soveel helderder aan die brand in ons. Ons ken God se bedoelinge soveel beter. In Christus het ons die geweldige vernuwende krag van God aan die werk gesein.

Daarom kan ons met soveel meer oortuiging bly bid, die Here bly smeek om sy beloftes waar te maak. Ons kan met soveel groter volharding bly vra: Here, maak U wêreld nuut! Doen reg aan ons ons aan ons wêreld. Kom, en maak alles nuut!

Gebed maak ons deel van God se missie

Jesaja 62 openbaar ‘n liefdevolle God aan ons, wat God se liefde op die wêreld uitstort. God herstel God se stad en God se teenwoordigheid op aarde. Dit gebeur, sodat die nasies God kan ken, dien en eer.

Hierdie beweging van God na die wêreld duur onverpoosd voort. Ons sien die uitstorting van God se liefde in Christus helder geopenbaar. Ons weet dat God ‘n heerlike toekoms weggelê het en ons na die nasies stuur sodat die gemeenskap van God op aarde kan groei.

En ons bid daarvoor. Ons bid dat meer mense al hoor, glo en volg. Ons bid dat die genesing wat Christus aan die wêreld bedien helderder en duideliker gesien sal word. Ons gee ons lewens om deel te neem van God se liefdesbeweging na die aarde.

Wie Kersfees verstaan – die aankoms van God in Christus op aarde, verstaan God se hart en God se missie. En bly onverpoosd bid dat God se missie al hoe duidelik sigbaar sal word. Tot op die dag dat alles hier nuut sal staan.

Ons doen dit, want die Kersfeeshoop leef in ons.

God stuur ons om te leef

Toewyding
Nooi lidmate om vorentoe te kom en in gebed strikkies of ornamente aan ’n kersboom te hang. Nooi hulle om, terwyl hulle dit doen, te bid dat God se beweging na die wêreld sal voortduur, dat ons al meer die uitstorting van God se liefde sal sien, dat meer mense sal hoor, glo en volg. Ons bid dat die genesing wat Christus aan die wêreld bedien helderder en duideliker gesien sal word. Ons gee ons lewens om deel te neem van God se liefdesbeweging na die aarde. Ons hang die strikkies of versierings as simbool van ons Kersfeeshoop.

Reël dat Lied 348 Stille Nag sag op die agtergrond speel terwyl mense dit doen.

Gebed

Slotsang
Lied 348 “Stille Nag”

Seën
Mag jy gevul wees met die verwondering van Maria
Die gehoorsaamheid van Josef
Die vreugde van die engele
Die gretigheid van die herders
Die vasbeslotenheid van die wyses
En die vrede van Christus.
Die almagtige God, Vader, Seun en Gees,
Seën jou nou en vir ewig.
(John Armstrong)

Respons
Lied 348 vers 3 Refrein: Heer, gebore vir ons!

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.