Ontmoeting 7

Picture of Jeugfokus Kategese
Existing members can log in to access this content. If you're not yet a member, consider signing up for Jeugfokus Kategese+.

Sections

Inleiding

Matteus 5:43-48

Ons moet ons naaste liefhê soos onsself. Alle mense is ons naaste – selfs mense van wie ons nie hou nie en wat soms lelik met ons is.

Wie?
Jesus staan op ’n berg om die dissipels en die skare mense te onderrig. Hierdie preek staan as die bergrede bekend en strek van Matteus 5–7. Die bergrede word lank reeds verstaan as ’n beginpunt én ’n opsomming van Jesus se lering. Hierdie gedeelte van die preek fokus op liefde vir alle mense, selfs ons vyande.

Waar?
Hierdie prediking het in die streek van Galilea, naby Kapernaum, plaasgevind. Ons lees in Matteus 5:1 hoe Jesus teen die berg opgegaan het om so vir die menigte mense te preek. Alhoewel daar al baie navorsing gedoen is oor die ligging van hierdie berg, kan daar nie met sekerheid gesê word waar presies dit geleë is nie.

Wanneer Jesus op die berg staan, herinner dit ons aan Moses wat teen die berg Sinai opgegaan het om die Tien Gebooie (die wet van God) te ontvang en dit aan die Israeliete oor te dra. Jesus gaan teen die berg op om die volle betekenis van die wet te verkondig.

Dit was ’n gebruiklike gebeurtenis in Jesus se tyd dat ’n rabbi of leermeester iewers sou gaan sit, en dan sou sy dissipels of leerlinge om hom versamel sodat hy hulle kon onderrig. Tydens hierdie onderrig sou die rabbi se woorde en manier van leef sy leerlinge se lewens vorm.

Wat?
Vandag se teksgedeelte is deel van die ses teenstellings van die bergprediking. Met “teenstelling” word daar nie bedoel dat Jesus Hom téén die wet van God stel nie, maar dat Hy eerder deur sy spesifieke opmerkings en leerstellings die diepste bedoelings van die wet uitlig. Dit sien ons in sy woorde wat elke keer begin met: “Julle het gehoor … maar Ek sê vir julle.” Jesus begin telkens met iets wat die mense in hulle samelewing hoor en Hy interpreteer dit volgens die wet van God. Die sesde teenstelling – om jou vyande lief te hê – is die hoogtepunt van al die teenstellings en is ook vandag se teksgedeelte.

Die eerste gedeelte van hierdie teenstelling – jy moet jou naaste liefhê – klink vir ons bekend, want dit verwys na Levitikus 19 en ons ken dit ook van die liefdesgebod: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself (Matt 22:37-40). Maar ons kry nêrens in die Bybel ’n verwysing na die tweede gedeelte – jou vyand moet jy haat – nie. Jesus kry nie hierdie gedagte uit die Ou Testament nie, maar uit sy leefwêreld. Dit is kulturele sêgoed; hoe mense dink en optree. Levitikus 19 sowel as die liefdesgebod is baie duidelik daaroor dat die Israeliete en die gelowiges hulle naastes moet liefhê, maar die samelewing het dié boodskap verdraai. Jesus laat eintlik weer die vraag in mense se harte: Wie is my naaste? In Levitikus 19 vind ons dat die Israeliete se naaste hulle volksgenote is, maar ook die vreemdelinge wat in die land woon. Die liefdesgebod leer ons dat ons naaste alle mense is. Hierdie gedeelte beklemtoon dit dan verder: Ons naaste is selfs die mense van wie ons nie hou nie of van wie ons verskil – en ons moet al ons naaste liefhê.

Waarom?
Jesus se volgelinge moet anders wees as die wêreld. Die wêreld leer ons om net lief en goed te wees vir mense wat ons as ons naastes beskou. Jesus sê egter: “Nee! Wees ook lief vir die mense wat jy nie as jou naaste beskou nie. Wees lief vir mense wat jou lewe sleg en moeilik maak (vyande).”

Liefde vir die vyand kan vreemd klink. Die probleem is dat ons liefde gereeld aan ’n emosie koppel. Die liefde waarvan God praat, is eerder ’n gesindheid en hoe ons optree. Ons gaan nie sommer warm gevoelens van liefde hê vir mense waarvan ons nie hou nie. Liefde vir die vyand is eerder as ons kies om “reg” op te tree teenoor almal, selfs dié waarvan ons nie hou nie of wat sleg teenoor ons optree.

Dit beteken egter nie dat ons vloerlappe is nie. Ons kan nooit hierdie liefdesopdrag gebruik om onreg of mishandeling teenoor onsself en ander te regverdig nie. Jy moet jou naaste liefhê soos jouself – dit beteken by implikasie dat jy jouself én jou naaste moet liefhê.

Daar is verskeie liedere wat liefde as tema het. Dink byvoorbeeld aan “God is liefde” (Lied 334 in Liedboek van die kerk of Flam 144) of “Here God van liefde” (Lied 286 in Liedboek van die kerk).

Kindermoment

  • Vyf velle papier met een woord op elkeen. Voorbeelde van moontlike woorde: kwaai, boelie, skinder, onvriendelik en ongeduldig (pas dit gerus aan).
  • Vyf velle papier met ’n rooi hart op elkeen.

Voorskoolse kinders

  • Drie boontjiesakkies of iets soortgelyks.
  • Drie emmers of wasgoedmandjies.
  • Drie papiere wat op die emmers geplak gaan word. Skryf op die eerste papier “Familie”, op die tweede papier “Maatjies” en op die derde papier “Vyande”.

Graad 1-3

  • Drie boontjiesakkies of iets soortgelyks.
  • Drie emmers of wasgoedmandjies.
  • Drie papiere wat op die emmers geplak gaan word. Skryf op die eerste papier “Familie”, op die tweede papier “Maats” en op die derde papier “Vyande”.

Graad 4-6

  • Drie boontjiesakkies of iets soortgelyks.
  • Drie emmers of wasgoedmandjies.
  • Drie papiere wat op die emmers geplak gaan word. Skryf op die eerste papier “Familie”, op die tweede papier “Vriende” en op die derde papier “Vyande”.

Kindermoment

Nooi die kinders om voor die kansel te kom sit. Vra dan vyf vrywilligers om jou te help. Gee vir elke vrywilliger ’n papier om vas te hou sodat die gemeente kan sien wat daarop staan. Die volgende woorde moet op die papiere staan (een woord op elke papier): kwaai, boelie, skinder, onvriendelik en ongeduldig (jy kan ook jou eie woorde kies). Sê dan vir die kinders die volgende:

Hier is vyf maats by die skool. Die een is altyd kwaai en raas en skelm almal. Die ander maat is ’n boelie. Hy of sy hou daarvan om ander maats rond te stamp en sleg te sê. Hierdie maat skinder graag van ander. Die volgende maat is baie onvriendelik en groet jou nooit nie. Hierdie maat is baie ongeduldig en is lelik met ander as hulle iets nie vinnig genoeg of reg doen nie. Ken julle sulke maats?

Dit is baie sleg as ander kinders lelik is met jou. Dit kan ’n mens se hart baie seermaak. Maar al is party maats soms lelik met ander kinders, bly God lief vir hulle. Want ook hulle is sý kinders. (Gee vir elk van die vyf vrywilligers ’n papier met ’n rooi hart op om vas te hou.) Omdat God lief is vir hierdie maats waarvan jy dalk nie baie hou nie, moet jy ook vir hulle lief wees. Hiermee bedoel God dat jy mooi teenoor hierdie maats moet optree en nie terug lelik moet wees met hulle nie. Ons moet vir hierdie maats wys dat God in ons hart woon.

Huisgeloof

Kan julle vyf flieks of boeke opnoem wat gaan oor mense wat ander mense wil terugkry (wraak neem)? (Voorbeelde: The Lego Movie 2, Son of Batman, Justice League vs Teen Titans, The Jungle Book, Sleeping Beauty, Toy Story 3, ensovoorts). Waarom dink julle is wraak so ’n gewilde tema vir boeke en flieks?

Lees Matteus 5:43-48.

Gesels saam:

  • Wat is ’n vyand?
  • Hoe moet ons optree teenoor mense waarvan ons nie hou nie en mense wat lelik met ons is?

Maak as huisgesin saam ’n plakkaat waarop julle skryf: “Ons is die sout en die lig vir die wêreld.” Julle kan die plakkaat saam versier. Maak dan hierdie plakkaat aan julle hek vas as getuienis.

Watter een ding kan julle hierdie week doen om God se liefde uit te leef teenoor mense waarvan julle nie hou nie? Voorbeeld: bak koekies vir ’n moeilike buurman.

Voorskool

 

 

 

Vra vir die groep die volgende vrae. Laat hulle hulle hande opsteek. Moet verkieslik nie toelaat dat die kleuters begin stories vertel nie.

Gesels saam:

  • Het ’n maatjie jou al seergemaak?
  • Het ’n maatjie al iets leliks vir jou gesê?
  • Is daar ’n maatjie by die skool waarvan jy nie hou nie?

Nota: Moedig die kinders aan om vir ’n ouer, volwassene of onderwyser te gaan vertel as ’n maaitjie hulle seermaak of iets leliks vir hulle sê.

Vertel Matteus 5:44, 48 deur Die Bybel vir almal as riglyn te gebruik:

Jesus het gesê: “Julle weet die wette sê: ‘Jy moet lief wees vir jou naaste en jy moet jou vyand haat.’ Maar Ek sê vir julle: Julle moet lief wees vir julle vyande en julle moet bid vir die mense wat slegte dinge doen aan julle. Julle Vader in die hemel is lief vir al die mense, dit maak nie saak wie hulle is nie. So moet julle ook lief wees vir al die ander mense.”

 

 

 

Laat die kleuters in ’n ry staan. Sit die eerste emmer (gemerk “Familie”) naby aan die begin van die ry. Sit die tweede emmer (gemerk “Maatjies”) net agter die eerste een. Die laaste emmer (gemerk “Vyande”) moet verder weg gesit word. Gee vir elke kleuter ’n kans om ’n boontjiesakkie in elkeen van die emmers te gooi.

Verduidelik dat net soos dit makliker is om die boontjiesakkie in die eerste twee emmers te gooi, dit ook vir ons maklik is om ons familie en maatjies lief te hê. En net soos dit moeiliker is om die boontjiesakkie in die laaste emmer te gooi, is dit vir ons moeiliker om ons vyande (mense waarvan ons nie hou nie of mense wat lelik is met ons) lief te hê.

Herinner die kleuters dat Jesus vir sy mense vra om almal lief te hê.

 

 

 

Moedig die kleuters aan om vir die mense by die huis te gaan vertel dat Jesus ons vra om vir almal lief te wees, selfs die mense waarvan ons nie hou nie.

Graad 1-3

Laat die groep in die middel van die vertrek staan. Vra vir die kinders om “ja” of “nee” op die volgende vrae te antwoord deur links of regs te beweeg. Besluit saam watter kant is “ja” en watter kant is “nee”. Moet verkieslik nie toelaat dat die kinders begin stories vertel nie.

Gesels saam:

  • Het jy al gesien hoe een maat ’n ander maat seermaak?
  • Het ’n maat jou al seergemaak?
  • Het ’n maat al iets leliks vir jou gesê?
  • Is daar ’n maat by die skool waarvan jy nie hou nie?

Nota: Moedig die kinders aan om vir ’n ouer, volwassene of onderwyser te gaan vertel as ’n maat hulle seermaak of iets leliks vir hulle sê.

Vertel Matteus 5:44, 48 deur Die Bybel vir almal as riglyn te gebruik:

Jesus het gesê: “Julle weet die wette sê: ‘Jy moet lief wees vir jou naaste en jy moet jou vyand haat.’ Maar Ek sê vir julle: Julle moet lief wees vir julle vyande en julle moet bid vir die mense wat slegte dinge doen aan julle. Julle Vader in die hemel is lief vir al die mense, dit maak nie saak wie hulle is nie. So moet julle ook lief wees vir al die ander mense.”

Gesels saam:

  • Waarom dink julle is God lief vir alle mense?
  • Waarom moet ons lief wees vir alle mense?
  • Waarom moet ons selfs lief wees vir mense waarvan ons nie hou nie?

Laat die kinders in ’n ry staan. Sit die eerste emmer (gemerk “Familie”) naby aan die begin van die ry. Sit die tweede emmer (gemerk “Maats”) net agter die eerste een. Die laaste emmer (gemerk “Vyande”) moet verder weg gesit word. Gee vir elke kind ’n kans om ’n boontjiesakkie in elkeen van die emmers te gooi.

Verduidelik dat net soos dit makliker is om die boontjiesakkie in die eerste twee emmers te gooi, dit ook vir ons maklik is om ons familie en maats lief te hê. En net soos dit moeiliker is om die boontjiesakkie in die laaste emmer te gooi, is dit vir ons moeiliker om ons vyande (mense waarvan ons nie hou nie of mense wat lelik is met ons) lief te hê.

Dit is wat Jesus van ons vra. Ons moet probeer om vir alle mense lief te wees omdat God vir alle mense lief is.

Besluit saam as groep op twee maniere waarop ons lief of goed kan wees vir ons vyande. Voorbeeld: bid vir hulle, glimlag vir hulle, groet hulle, deel ’n broodjie met hulle, ensovoorts. Moedig die groep aan om een van die maniere te kies en dit hierdie week te gaan doen.

Graad 4-6

Sê vir die groep dat jy ’n klomp woorde gaan sê. Hulle moet op elke woord antwoord deur die teenoorgestelde woord uit te roep. As jy byvoorbeeld sê “lank” dan antwoord hulle met die woord “kort”. Ander woorde wat jy kan gebruik, is: groot/klein, oop/toe, gelukkig/hartseer, liefde/haat. Eindig met vriend/vyand.

Jesus leer in die bergrede vir sy volgelinge dat God sy kinders vra om teenoorgesteld of anders op te tree as wat die wêreld dikwels vir ons sê ons moet. Kyk of julle dit in die volgende teks kan raaksien.

Lees Matteus 5:43-48 saam.

Gesels saam:

  • Wat vra Jesus van sy volgelinge? Hoe is dit teenoorgesteld van wat die wêreld vir ons probeer leer?
  • Waarom moet ons lief wees vir ons vyande?
  • Op watter maniere kan ons soos God lief wees vir alle mense, selfs die mense waarvan ons nie hou nie?

Laat die jongmense in ’n ry staan. Sit die eerste emmer (gemerk “Familie”) naby aan die begin van die ry. Sit die tweede emmer (gemerk “Vriende”) net agter die eerste een. Die laaste emmer (gemerk “Vyande”) moet verder weg gesit word. Gee vir elke jongmens ’n kans om ’n boontjiesakkie in elkeen van die emmers te gooi.

Verduidelik dat net soos dit makliker is om die boontjiesakkie in die eerste twee emmers te gooi, dit ook vir ons maklik is om ons familie en vriende lief te hê. En net soos dit moeiliker is om die boontjiesakkie in die laaste emmer te gooi, is dit vir ons moeiliker om ons vyande (mense waarvan ons nie hou nie of mense wat lelik is met ons) lief te hê.

Dit is wat Jesus van ons vra. Ons moet probeer om vir alle mense lief te wees omdat God vir alle mense lief is.

Nota: Moedig die jongmense aan om vir ’n ouer, volwassene of onderwyser te gaan vertel as ’n vriend hulle seermaak of iets leliks vir hulle sê.

Besluit saam as groep op twee maniere waarop ons lief of goed kan wees vir ons vyande. Voorbeeld: bid vir hulle, glimlag vir hulle, groet hulle, deel ’n broodjie met hulle, ensovoorts. Daag mekaar uit om hierdie week goed te wees vir iemand waarvan jy nie baie hou nie (vyand).

Graad 7-10

Speel “Bybel of kultuur”. Laat die groep in die middel van die vertrek staan. Verduidelik nou vir die groep dat jy vier stellings gaan lees. Die jongmense moet besluit of die stelling in die Bybel staan of ’n kulturele sêding is deur links of regs te beweeg. Besluit saam watter kant van die vertrek verteenwoordig die Bybel en watter kant verteenwoordig die kulturele sêgoed.

Gesels saam:

  • Mense word engele wanneer hulle doodgaan.
  • Alles gebeur met ’n doel.
  • Wanneer slegte goed met ons gebeur, is dit God wat ons straf vir ons sonde.
  • As jy bid en jou gebed word nie verhoor nie, beteken dit dat jy nie genoeg in God glo nie.

Wanneer julle klaar is met al vier stellings verduidelik vir die groep dat al die stellings kulturele sêgoed is, met ander woorde, stellings wat binne ons kultuur as waarhede aanvaar word. Baie mense is oortuig dat hierdie stellings in die Bybel staan.

Net so was daar in Jesus se tyd ook kulturele sêgoed wat die mense as waarhede aanvaar het. Uit Matteus 5 lyk dit of die stelling: “Jou naaste moet jy liefhê en jou vyand moet jy haat” so ’n kulturele sêding was waarvolgens mense geleef het. In die teks wat ons vandag saam gaan lees, daag Jesus nie net hierdie kulturele sêding uit nie, maar Hy gee ’n alternatief daarvoor.

Lees Matteus 5:43-48 saam.

Gesels saam:

  • Watter alternatief bied Jesus vir die kulturele sêding van sy tyd?
  • Waarom vra die Here sy volgelinge om anders op te tree as wat hulle kultuur hulle leer?
  • Hoe voel jy wanneer jy hoor dat God goed is vir alle mense (v 45), selfs die mense wat jy dalk as jou vyande beskou?

Gesels saam oor wat dit prakties beteken om lief te wees vir jou vyande of die mense waarvan jy nie hou nie.

Hier is ’n paar voorstelle waaroor julle kan gesels:

  • Sandra post op Instagram: “Liefde is ’n keuse, nie ’n emosie nie.” Wat sal jy in die comments skryf?
  • Richard verskree sy meisie en sê haar sleg. Sy bly by hom, want die Bybel sê sy moet lief wees vir hom en hom vergewe. Wat dink jy hiervan?
  • Dawid irriteer jou. Selfs sy stemtoon maak jou negatief. Jy kan nie noodwendig sê dit is iets wat hy verkeerd gedoen het nie, dit is net wie hy is. Het jy al so gevoel? Hoe tree ’n mens teenoor so iemand op?

Nota: Moedig die jongmense aan om vir ’n ouer, volwassene of onderwyser te gaan vertel as ’n vriend hulle seermaak of iets leliks vir hulle sê.

Kies om hierdie week op een manier God se liefde uit te leef teenoor iemand waarvan jy nie hou nie.

© Missio 2024 | All rights reserved.