Ontmoeting 24

Picture of Jeugfokus Kategese
Existing members can log in to access this content. If you're not yet a member, consider signing up for Jeugfokus Kategese+.

Sections

Inleiding

Rigters 13–16 (veral Rigters 16:23-31)

God los ons nooit nie, maak nie saak wat ons gedoen het nie. Ons genadige God luister altyd na ons.

Wie?
Simson en die Filistyne

Waar?
In die Filistyne se tempel van hulle god Dagon.

Wat?
Simson se verhaal skop met Rigters se herhalende patroon af. Die kinders van die Here het in hierdie tyd al weer verkeerde dinge gedoen, en die Here het toegelaat dat die Filistyne vir 40 jaar oor hulle baas gespeel het. Dan roep die Here ’n rigter: Simson.

Simson se geboorteverhaal in Rigters 13 vertel dat hy iemand besonders was. Hy was ’n nasireër en word van sy geboorte af aan God gewy (sien Num 6:1-21). Die engel van die Here het ’n vrou vertel dat sy ’n baba verwag. Die engel het mooi vir haar verduidelik hoe sy na hierdie baie besonderse seuntjie moet kyk: Sy mag nie wyn of bier drink terwyl sy verwag nie en moes net die regte kos eet, en die seuntjie se hare mag nie afgesny word nie. Verder het die engel gesê hierdie seuntjie sal eendag begin om hulle uit die mag van die Filistyne te red.

Toe Simson ’n jong man was, het hy op ’n Filistynse meisie verlief geraak. Toe hy eenkeer op pad was om haar te besoek, het ’n leeu op hom afgestorm. Simson het die leeu gegryp en hom met sy kaal hande uitmekaargeskeur! Hy het dit vir niemand vertel nie. Ná sy besoek het hy gesien dat daar bye in die leeu se karkas nes gemaak het. Hy en sy ouers het van die heuning geëet.

Simson het met die Filistynse meisie getrou. By die troue het hy ’n raaisel gevra. Hy het gesê hy sal vir 30 jong manne elkeen ’n mooi hemp en ’n stel klere gee as hulle die antwoord kry. Maar as hulle nie die antwoord kry nie, moes hulle vir hom 30 hemde en stelle klere gee. Die raaisel was gebaseer op sy ervaring met die leeu en die heuning.

Met opdrag van die Filistyne het sy nuwe vrou by hom gesoebat vir die antwoord. Sy het selfs vir hom gesê dat hy haar seker nie liefhet nie. Hy het vir haar die antwoord gegee, wat sy aan die Filistyne oorgedra het. Simson was woedend en hy het 30 ander Filistyne doodgeslaan en hulle klere geneem om vir die mans te gee.

Daar is nog verhale oor Simson en hoe sterk maar wreed hy was. Hy was vol woede en wraak. Eenkeer het hy 300 jakkalse se sterte aanmekaar vasgebind en vuurfakkels tussen elke twee sterte vasgemaak. Hy het hulle toe in die Filistyne se lande ingestuur. ’n Ander keer het hy ’n duisend Filistyne met ’n esel (donkie) se kakebeen doodgeslaan.

Mettertyd het Simson weer op ’n Filistynse vrou, Delila, verlief geraak. Tot vandag toe is sy die simbool van verleiding, ʼn persoon wat haar minnaar vir geld verraai. Met haar aanhoudende geneul (net soos die vorige Filistynse vrou), slaag sy daarin om Simson tot ’n val te bring. Sy vind uit waar sy ware krag lê en sy sny Simson se hare af. Simson word gevang en sy oë uitgesteek.

Alles lyk na ’n groot mislukking: Simson het nie meer sy spesiale krag nie en dit lyk nie of hy sy doel – om die volk van die Filistynse onderdrukking te bevry – kan uitleef nie. Maar in die tronk groei Simson se hare geleidelik weer.

Ons fokus vandag op die slot van Simson se verhaal. Op ʼn dag vier die Filistyne fees. Hulle dink dat hulle god, Dagon, sterker as Simson se God, die Here, is. Al die leiers en duisende mense was bymekaar en baie vrolik besig om Dagon te vereer. Hulle het vir Simson uit die tronk laat kom sodat hulle vir hom kon lag en hom kon bespot. Onthou, hy was blind. Die sterk man moes deur iemand anders gehelp word. Toe hy by die twee groot pilare kom wat die hele boonste deel van die tempel regop gehou het, het hy vir sy helper gevra of hy net aan die pilare kan voel en so ’n bietjie kan rus. Simson het tot die Here gebid vir ’n laaste bietjie krag, en toe hy die pilare trek, het die hele gebou ineengestort.

Waarom?
Simson verpersoonlik die kortsigtigheid en hardkoppigheid van die volk. ’n Mens wil vra: Kon hy dan nie die moeilikheid sien kom het nie? Dit is ironies dat sy oë uitgesteek word.

Aan die einde van sy lewe, wanneer hy baie broos en fisiek blind is, roep Simson na die Here om hulp. Dit is in ooreenstemming met die struktuur van die Rigtersverhale: Die volk roep na die Here vanuit die slegte posisie waarin hulle beland het nadat hulle tot afgodery verlei is. Wanneer die Here sy volk en kinders hoor roep, antwoord Hy. In Simson se verhaal word Israel gered, maar die held het gesterf. Hy kon egter tog sy lewensroeping voltooi omdat hy tot die Here geroep het, en die Here hom gehoor het.

In die tyd van die Rigtersboek het die mense hulle eie koppe gevolg en nie geluister wat God sê reg en verkeerd is nie. Hulle het die behoefte aan ’n aardse koning gehad om hulle hiermee te help.

As Christene het ons ’n Koning wat vir ons wys wat reg en verkeerd is, en wat sy Heilige Gees gestuur het om ons te help om die regte keuses te maak. En tog maak ons nog baie verkeerde keuses. Gelukkig is die Here se liefde en genade groter as ons verkeerde keuses. Iets anders uit Simson se verhaal bly ook vir ons waar: Dit maak nie saak in watter moeilikheid jy is nie; jy kan tot God roep om hulp en Hy sal luister.

Lees gerus Ontmoeting 23 oor Gideon vir meer agtergrond oor die boek Rigters. Vir verdere inligting oor woede, geweld en die boek Rigter kan die boek Kookpunt deur Cas Wepener gelees word. Dit is te koop by Bybel-Media se aanlyn winkel.

Kindermoment

  • Foto’s van skilderye wat op die skerm vertoon kan word (sien “Kindermoment” hier onder).

Huisgeloof

  • ʼn Selfoon met internettoegang.

Voorskoolse kinders

  • Opsioneel: Kyk die video oor Simson op die Bible App for Kids (jy kan dit in jou selfoon se toepassingwinkel aflaai).
  • Die hulpmiddel: Simson trek die pilare om (ʼn afskrif vir elke kleuter). (Kyk gerus die volgende video wat hierdie aktiwiteit verduidelik.)
  • Genoeg kleurkryte of -potlode, skêre en gom vir die groep.

Graad 1-3

  • Opsioneel: Die volgende video kan gekyk word.
  • Die hulpmiddel: Simson trek die pilare om (ʼn afskrif vir elke kleuter). (Kyk gerus die volgende video wat hierdie aktiwiteit verduidelik.)
  • Genoeg kleurkryte of -potlode, skêre en gom vir die groep.

Graad 4-6

  • Opsioneel: Die volgende video kan gekyk word.
  • ʼn Skoon vel papier en ʼn skryfding vir elke jongmens.

Graad 7-10

  • Opsioneel: Die volgende video kan gekyk word.
  • Opsioneel: As daar tyd is, kan julle die volgende video kyk.
  • ʼn Skoon vel papier en ʼn skryfding vir elke jongmens.

Kindermoment

Vra vir die gemeente: Wat is mooi? Wie besluit wat is mooi? Wie is reg en wie is verkeerd? Dit hang natuurlik af wie die persoon is wat die besluit moet neem. Sommige mense dink dít is die mooiste skildery in die wêreld, maar ek weet nie hoekom nie. (Wys ’n foto van ’n skildery op die skerm. Jy kan ook twee of drie skilderye met uiteenlopende style plaas.)

As ek moet kies wat die mooiste skildery in die wêreld is, sal ek iets kies wat deur hierdie kunstenaar geskep is. (Wys ’n skildery wat onverwags en spesiaal is, byvoorbeeld ’n prentjie wat ’n kind vir jou geteken het).

As ons na die verhaal van Simson kyk, sien ons dat God hom gekies het. God het besluit dat hy spesiaal is. Maar as ʼn mens Simson se verhaal lees, sal jy sien dat hy nie noodwendig ’n baie mooi lewe gelei het nie. Hy het nie geleef soos God graag wou hê nie.

God het vir Simson gekies nog voordat hy gebore is. Ons het vandag ’n teken in die kerk wat daarop wys dat God ons ook kies terwyl ons nog te klein is om op hierdie keuse te antwoord. Wat is hierdie teken? Dit is natuurlik die doop. Omdat ons gedoop is, nooi God ons om volgens sy wil te leef en saam met Hom die wêreld ’n beter plek te maak.

Gestel God gee vir ons ʼn sekere geleentheid, en Hy gee boonop vir ons alles wat ons nodig het om dit te benut. Soms kies ons egter om nie die geleentheid te gebruik nie. Dink julle dit is verkeerd? Hoe laat dit God voel as ons kanse en geleenthede het, maar ons kies om nie saam met Hom te werk nie?

James Martin skryf: “Sin is often a ‘failure to bother’.” Sonde is om die vermoë te hê om iets te doen, om iets beter te maak, om heel te maak en dan te kies om dit nie te doen nie. Simson is deur God gekies en God het vir hom bonatuurlike vermoëns gegee, maar hy het nie eintlik belanggestel in dit wat God wou hê of wat God deur hom wou doen nie. Hy het hierdie krag wat God vir hom gegee het, meestal net vir homself gebruik.

Maar weet julle wat? Selfs al het Simson sy rug na God gedraai, het God nie sy rug na Simson gedraai nie. God het Simson steeds op ’n manier gebruik ten spyte van sy foute. God los ons nooit nie, en Hy nooi ons om Hom nie te los nie.

Huisgeloof

Gesels saam:

  • Vertel mekaar van die superheroes wat julle ken (dink dalk aan Superman, Spiderman, Elsa, en so meer).
  • Wie is jou gunsteling?
  • Wie is die sterkste?
  • Wat maak van iemand ’n superhero?
  • Wie is in die regte lewe die naaste aan ’n superhero?

Die Here het vir Simson geseën met baie krag. Sy krag was in sy hare, wat hy nooit mag gesny het nie. In die tyd wat Simson geleef het, is sy volk (die Israeliete) deur die Filistyne onderdruk. Die Here het vir Simson met al sy krag gestuur om die volk te verlos. ʼn Mens kan hom amper vergelyk met die superheroes waaroor ons gepraat het. Tog ontdek ons dat Simson nie soos ’n held opgetree het nie. Hy was arrogant en het ook met die verkeerde mense gemeng. Hy het sy krag tot sy eie voordeel misbruik. Simson het die fout gemaak om die geheim van sy krag aan ’n Filistynse meisie, Delila, te verklap. Sy het Simson se hare afgeskeer en hy is gevang. Kom ons lees hoe sy lewe tot ’n tragiese einde gekom het.

Lees Rigters 16:23-31 saam.

Gesels saam:

  • Waarom vier die Filistyne fees?
  • Waarom het hulle vir Simson uit die tronk laat haal?
  • Wat vra Simson vir die Here?
  • Hoe het Simson tog op ʼn manier sy roeping vervul?

Kyk saam na die volgende skildery deur die straatkunstenaar Banksy (een van die volwassenes kan die artikel lees en vir die huismense die agtergrond van die skildery vertel).

Gesels saam:

 

  • Wat maak iemand ’n held in julle oë?
  • “With great power comes great responsibility.” Hoe kan ons die krag en talente wat ons het op goeie maniere gebruik?

Dink saam aan maniere waarop julle hierdie week ʼn superhero vir ander mense kan wees.

Voorskool

 

 

 

Gesels saam:

  • Vertel mekaar van die superheroes wat julle ken (dink dalk aan Superman, Spiderman, Elsa, en so meer).
  • Wie is jou gunsteling?
  • Wie is die sterkste?
  • Wat maak van iemand ’n superhero?
  • Wie is in die regte lewe die naaste aan ’n superhero?

Vertel die verhaal van Simson.
Opsioneel: Julle kan ook die video oor Simson kyk op die Bible App for Kids (jy kan dit in jou selfoon se toepassingwinkel aflaai)

Deel die hulpmiddel “Simson trek die pilare om” aan elke kleuter uit (dit bestaan uit twee bladsye). Laat hulle die prentjies inkleur. Help die kleuters om Simson se prentjie op die raampie uit te knip en om dit ook in die middel deur te knip (op die lyn). Vou nou die twee kante van die prentjie met die pilare wat inmekaartuimel, na binne. Plak die twee uitgeknipte dele van die Simson-prentjie op die ander prent se gevoude dele. (Kyk gerus die volgende video wat hierdie aktiwiteit verduidelik.)

 

 

 

Gebruik die prentjie wat jy gemaak het om Simson se storie vir jou huismense te vertel.

Graad 1-3

Wie is die sterkste? Nooi twee kleuters om teen mekaar deel te neem. Hulle kan armdruk of kyk wie die meeste push-ups in ’n sekere tyd kan doen. (Werk gerus ’n paar snaakse aktiwiteite in soos wie ’n wolballetjie die verste kan gooi.)

Vandag gaan ons ’n storie lees van ’n man wat baie sterk was, maar nie altyd so ’n goeie mens was nie. Weet julle wie hierdie sterk ou in die Bybel is? Sy naam is Simson.

Vertel die verhaal van Simson.

Opsioneel: Julle kan ook die volgende video kyk of die video wat vir die voorskoolse kinders aanbeveel word).

Deel die hulpmiddel “Simson trek die pilare om” aan elke kleuter uit (dit bestaan uit twee bladsye). Laat hulle die prentjies inkleur. Help die kleuters om Simson se prentjie op die raampie uit te knip en om dit ook in die middel deur te knip (op die lyn). Vou nou die twee kante van die prentjie met die pilare wat inmekaartuimel, na binne. Plak die twee uitgeknipte dele van die Simson-prentjie op die ander prent se gevoude dele. (Kyk gerus die volgende video wat hierdie aktiwiteit verduidelik.)

Gebruik die prentjie wat jy gemaak het om Simson se storie vir jou huismense te vertel.

Graad 4-6

Gesels saam:

  • Wie van julle weet wat ’n bench press (bankdruk) is? (As een van die jongmense weet, laat hy of sy dit demonstreer.) Weet een van julle wat die huidige bench press-wêreldrekord is? Julius Maddox het in Maart 2020 ’n ondenkbare 350kg opgedruk (bevestig dat dit steeds waar is teen die tyd wat hierdie ontmoeting aangebied word). Verbeel julle hoe swaar dit moet wees!
  • Wie is die sterkste persoon wat julle ken?
  • Wie is die sterkste in ons groep? (Nooi twee kinders om teen mekaar deel te neem. Hulle kan armdruk of kyk wie kan die meeste push-ups in ’n sekere tyd doen.)

Vandag gaan ons ’n verhaal lees van ’n man wat fisiek baie sterk was, maar nie noodwendig altyd so ’n goeie mens was nie. Ons gaan oor Simson gesels. Wie ken die verhaal?

Vertel die verhaal saam of kyk die video.

Lees Rigters 16:23-31 saam.

Gesels saam:

  • Dink julle Simson is ’n held? Hoekom sê julle so?
  • Wat dink julle sou Simson anders kon doen om nie in hierdie situasie te gewees het nie?

Net soos Simson, kan ons ook soms so op ons eie dinge fokus dat ons sig op God verloor. Ons probleme kan so groot raak dat dit ’n slegte houvas op ons kry.

Laat elke jongmens op sy of haar eie sit. Gee vir elkeen ’n skoon papier en ’n skryfding. Sê dan die volgende vir die groep: Verbeel jou jy is in Simson se skoene. Jy is broos en desperaat. Jou dade het jou ingehaal. Simson was wreed en het ’n slegte humeur gehad. Hy was arrogant en het met die verkeerde mense gemeng. Dit alles het veroorsaak dat hy hom in hierdie situasie bevind het.

Dink nou aan jouself. Oor watter dinge voel jy skaam of sleg? Dalk iets wat jy verkeerd gedoen het? ’n Swak punt? Skryf dit op jou papier neer. Niemand gaan dit lees of sien nie.

Ten spyte van al Simson se foute het God steeds verlossing vir die volk gebring deur Simson se dade, al was al sy dade nie edel nie. God het vir Simson gebruik ten spyte van sy swak punte en sy foute.

Trek nou ’n streep deur die woorde wat jy op die papier geskryf het. Skryf onder dit neer: “Ek is belangrik vir God en Hy kan my gebruik.” God is genadig en Hy vergewe. Sy liefde vir ons het geen einde nie.

Gee die jongmense tyd vir stilgebed. Hulle kan hulle papiere hou. Hulle kan dit ook êrens by ’n kruis gaan neersit as simbool dat hulle hierdie saak vir die Here gee.

Graad 7-10

Gesels saam:

  • Wie van julle weet wat ’n bench press (bankdruk) is? (As een van die jongmense weet, laat hy of sy dit demonstreer.) Weet een van julle wat die huidige bench press-wêreldrekord is? Julius Maddox het in Maart 2020 ’n ondenkbare 350kg opgedruk (bevestig dat dit steeds waar is teen die tyd wat hierdie ontmoeting aangebied word). Verbeel julle hoe swaar dit moet wees!
  • Wie is die sterkste in ons groep? (Nooi twee kinders om teen mekaar deel te neem. Hulle kan armdruk of kyk wie kan die meeste push-ups in ’n sekere tyd doen.)

Vandag gaan ons oor Simson gesels. Hy is die spiertier in die Bybel. Wanneer ons sy verhaal fyn lees, kom ons agter dat hy nie noodwendig die tipiese geloofsheld is nie. Hy is van geboorte aan die Here gewy. Sy hare mag nooit gesny word nie. Hy is gebore in ’n tyd waar die Filistyne die Israeliete onderdruk het. Wie ken die verhaal?

Vertel die verhaal saam of kyk die video.

Vandag lees ons van Gideon. Gideon was bang vir die Midianiete wat sy volk onderdruk het. Verder was hy angsbevange om sy roeping (God se droom vir hom) uit te leef, naamlik om die volk te lei om op te staan teen die Midianiete se onderdrukking.

Lees Rigters 16:23-31 saam.

Gesels saam:

 

  • Watter emosies dink julle het deur Simson gegaan toe die mense hom gespot het?
  • Watter emosie maak sy verhaal in julle wakker?
  • As julle Simson se lewe met een woord of een sin moet opsom, wat sal dit wees?

Net soos Simson, kan ons ook soms so op ons eie dinge fokus dat ons sig op God verloor. Ons probleme kan so groot raak dat dit ’n slegte houvas op ons kry.

Opsioneel: As daar tyd is, kan julle op hierdie punt die volgende video kyk.

Laat elke jongmens op sy of haar eie sit. Gee vir elkeen ’n skoon papier en ’n skryfding. Sê dan die volgende vir die groep: Verbeel jou jy is in Simson se skoene. Jy is broos en desperaat (soos die kind in die video onder die kombers). Jou dade het jou ingehaal. Simson was wreed en het ’n slegte humeur gehad. Hy was arrogant en het met die verkeerde mense gemeng. Dit alles het veroorsaak dat hy hom in hierdie situasie bevind het.

Dink nou aan jouself. Oor watter dinge voel jy skaam of sleg of verleë? Dalk iets wat jy verkeerd gedoen het? ’n Swak punt? Skryf dit op jou papier neer. Niemand gaan dit lees of sien nie.

Ten spyte van al Simson se foute het God steeds verlossing vir die volk gebring deur Simson se dade, al was al sy dade nie edel nie. God het vir Simson gebruik ten spyte van sy swak punte en sy foute.

Trek nou ’n streep deur die woorde wat jy op die papier geskryf het. Skryf onder dit neer: “Ek is belangrik vir God en Hy kan my gebruik.” God is genadig en Hy vergewe. Sy liefde vir ons het geen einde nie.

Gideon moes kies: Wil hy die heeltyd bang wees en nie God se droom vir hom uitleef nie, of gaan hy sy talente gebruik en dapper genoeg wees om wel God se droom vir hom uit te leef? God wil deur hom die Israeliete red.

Dink aan jou talente en eienskappe, asook die drome waaroor ons gesels het. Ons kan kies om op hierdie positiewe eienskappe te fokus en daarvolgens te ontwikkel. Kom ons kies vir ons elkeen ’n nuwe naam wat ons hiermee gaan help. Ons gaan dit doen deur ’n positiewe eienskap te kies wat met dieselfde letter as ons regte naam begin. Voorbeeld: Standvastige Sarie; Hardwerkende Hendrik.

© Missio 2024 | All rights reserved.