Ontmoeting 3

Existing members can log in to access this content. If you're not yet a member, consider signing up for Jeugfokus Kategese+.

Sections

Inleiding

Lukas 9:18-27

Jesus nooi die dissipels om te sê wie hulle glo Hy is. Ons kan hierdie woorde ’n belydenis noem. Jesus nooi hulle (en vir ons) om vanuit hierdie belydenis te leef en Hom te volg.

Wie?
In Lukas 9:18-22 praat Jesus eers met die 12 dissipels. Vanuit hierdie eerste gesprek vloei Jesus se opdrag aan die groter groep mense wat na Hom luister. Vers 23 begin met die woorde: “Toe het Hy vir almal gesê …”

Waar?
Lukas sê nie waar hierdie verhaal afspeel nie. Markus en Matteus vertel egter vir ons in hulle Evangelies dat dit in die omgewing van Sesarea-Filippi was. Hierdie gebied was meer nie-Joods en Grieks as ander gebiede in Israel. Vir Matteus en Markus was dit belangrik om Sesarea-Filippi te noem, want só wou hulle wys dat Jesus ’n ander soort koning is as die keiser van Rome of Herodes Filippus (die mense na wie die stad Sesarea-Filippi vernoem is).

Wat?
Jesus se bediening verskuif nou vanaf die landelike gebiede van Galilea na Jerusalem. In Lukas 9:51 lees ons: “Toe die tyd nader kom dat Jesus in die hemel opgeneem sou word, het Hy vasbeslote die reis na Jerusalem begin …” Die konflik tussen Jesus en die geestelike leiers van die volk raak al skerper en Hy vra vir sy dissipels of hulle begryp wie Hy is.

Petrus lê dan hierdie besonderse belydenis af oor wie Jesus is: “die Gesalfde van God” – die Een wat deur God gekies is om die Messias (in Hebreeus) of die Christus (in Grieks) te wees. Messias en Christus is titels wat ons in Afrikaans met Gesalfde kan vertaal. Uit hulle geskrifte het die Jode verstaan dat hierdie Gesalfde die volk van hulle vyande sou verlos en ’n nuwe koninkryk vir Israel sou vestig. Die meeste Jode het gedink die Messias sou ’n politieke leier wees. Jesus wou vir hulle wys dat die Messias veel meer as dit is.

Jesus maak dit duidelik dat hierdie nuwe wêreld wat Hy as die Messias tot stand gaan bring nie deur mag en geweld geskep sal word nie, maar deur opoffering. Jesus kondig aan dat Hy doodgemaak sal word, en dat elkeen wat Hom volg ook bereid moet wees om hulle lewe vir God se nuwe wêreld af te lê.

Dit lyk of die dissipels nie regtig verstaan wat Jesus met hierdie woorde bedoel nie. Dit is hoekom Hy hulle belet om vir ander mense te sê dat Hy die Messias is. Ook op ander plekke belet Jesus hulle om te praat oor wat Hy vir hulle gesê het omdat die tyd daarvoor nog nie aangebreek het nie. Jesus moes hulle nog baie dinge leer, en as hulle te gou daaroor sou praat, sou Hy voortydig gevange geneem word.

Waarom?
Mense begin vrae vra oor wie Jesus is. Sommige het ’n verwagting van Jesus begin koester. In die teks sien ons dat party mense gedink het Jesus is ’n groot profeet, iemand wat deur God gestuur is om die mense met gesag en krag te leer, soos Elia.

Op Jesus se vraag aan die dissipels oor wie hulle glo Hy is, antwoord Petrus dat Jesus die Gesalfde is. Dit kan ook vertaal word met Messias of Christus. Wanneer ons vandag hierdie titels hoor, hou dit vir ons sterk verband met ons geloof. Dit is vir ons godsdienstige of geloofsterme. In die konteks waarin Petrus hierdie titels gebruik het, was dit egter ook polities van aard. Gesalfde, Messias of Christus was ’n politieke titel vir die een wat sou kom om die volk Israel van die oorheersing van hulle vyande te bevry.

In die tyd waarin hierdie gebeure afgespeel het, het die Jode die Romeinse Ryk as die vyand gesien. Jesus sou kom om hierdie gewelddadige mense te oorwin sodat die Jode weer vry kon wees. Jesus se sending of roeping behels egter veel meer as dit. Sy roeping gaan nie net oor die bevryding van die volk Israel nie, maar eerder oor die herstel van alle verhoudings: die verhouding tussen God en mens, tussen mens en mens, en van mense met hulleself. Jesus wil stelsels wat mense verniel en vernietig, afbreek.

Die “want” in vers 22 is ’n sleutelwoord in die gedeelte: want Jesus moet ly en verwerp en doodgemaak word. Dit is juis deur sy gebrokenheid dat Jesus geregtigheid en versoening bring. Dit is juis deur sy lyding dat Hy die afbrekende magte van die wêreld ontmasker en wys dat God op ’n totaal ander manier met mense werk. Dit staan in sterk teenstelling met die leiers van daardie tyd wat met mag en geweld regeer en onderdruk het.

Jesus leer sy dissipels dat Hy die Een is vir wie hulle moet volg, al doen ander mense dit nie. Maar Jesus waarsku hulle dat dit nie altyd maklik gaan wees om Hom te volg nie. Hulle sal ook nie altyd hou van die dinge wat Jesus doen nie. Jesus self sou baie swaarkry, en Hy waarsku sy volgelinge dat swaarkry ook vir hulle voorlê. Tog moet hulle op Hom bly vertrou en Hom bly volg.

Ons word vandag nog genooi om ons oë op Jesus gerig te hou. Só sal ons weet wat ons moet doen, want ons glo Jesus is ons Koning.

  • Kyk saam na hierdie lys mense in die wêreld met die meeste Instagram-volgelinge.

Huisgeloof

  • Verskillende uitbeeldings van Jesus.
  • ’n Plakkaat waarop julle die Naam Jesus gaan skryf, met woorde en Bybelverse rondom die Naam.
  • Kleurkryte.

Voorskool

  • ’n Kruis vir elke kind.
  • Alternatief: Genoeg karton of papier, skêre, gom en inkleurkryte sodat elkeen ’n kruis kan maak. (Sien die uitdeelstuk.)

Graad 1-3

  • Die uitdeelstuk: Maak ’n kruis.
  • Genoeg karton of papier, skêre, gom en inkleurkryte sodat elkeen ’n kruis kan maak. (Sien die uitdeelstuk.)
  • Die woorde: “Ek volg vir Jesus” op papier geskryf of gedruk, een vir elke kind.

Graad 4-6

  • Die uitdeelstuk: Maak ’n kruis.
  • Genoeg karton of papier, skêre, gom en inkleurkryte sodat elkeen ’n kruis kan maak. (Sien die uitdeelstuk.)
  • Bordkryt.

Graad 7-10

  • ’n Vel A3- of A2-papier.
  • Inkleurkryte.

Kindermoment

Vra die hele gemeente om saam te speel. Verduidelik dat jy bewegings gaan doen soos in die speletjie “Simon says”. Almal moet jou volg.

Vra voor die tyd iemand om langs jou te kom staan en ander bewegings as jy te maak, maar moenie iets oor hom of haar sê nie. Maak dit net duidelik dat die gemeente jóú moet volg.

Gesels saam:

  • Hoe het dit vir julle gevoel om my te volg en te doen wat ek doen terwyl daar iemand anders is wat ander dinge doen?
  • Vir wie was dit maklik om net vir my te volg?
  • Wat het dit maklik gemaak?

In vandag se teks sien ons die mense het gewonder wie Jesus is (en of hulle Jesus kan of moet volg). Party mense het gedink Jesus is ’n groot profeet, maar Petrus sê Jesus is die gesalfde koning vir wie die mense gewag het. Deur dit te sê, sê Petrus Jesus is die Een wat gevolg moet word, al doen ander mense ander dinge.

Jesus waarsku sy dissipels dat dit nie altyd maklik gaan wees om Hom te volg nie. Hulle gaan ook nie altyd hou van wat Jesus doen nie. Jesus self sal baie swaarkry, en Hy waarsku sy volgelinge dat swaarkry ook vir hulle voorlê. Tog moet hulle op Hom bly vertrou en Hom bly volg.

Ons word vandag nog genooi om ons oë net op Jesus gerig te hou. Só sal ons weet wat ons moet doen, want ons glo Jesus is ons Koning.

Huisgeloof

Kry ’n paar uitbeeldings, tekeninge of kunswerke van Jesus. Kyk byvoorbeeld na Kinderbybels en ander Christelike boeke of selfs Kerskaartjies. Soek ook op die internet (tik in “different images of Jesus”).

Gesels saam:

  • Wat dink julle wil hierdie prente vir ons duidelik sê?
  • Wat sê hierdie uitbeeldings oor wie Jesus is?

Lees saam Lukas 9:18-25.

Gesels saam:

  • Jesus vra vir sy dissipels: Wie, sê “die ander mense”, is Ek? As jy vandag vir verskillende mense in die wêreld sou vra wie Jesus is, wat dink jy sou die verskillende antwoorde wees wat jy kry?
  • Jesus vra sy tweede vraag vir sy dissipels. Wie, dink júlle, is Ek? Ons het nou gesels oor wat verskillende mense vandag oor Jesus glo. Maar wat glo óns? Wat glo jý? Wie, sê jý, is Jesus?

Jesus vra sy dissipels om nie te praat oor wat hulle oor Hom verstaan en glo nie (hulle prentjie van Jesus), want hulle verstaan nog nie presies wat Jesus se Christus-skap beteken nie. Jesus verduidelik dan vir hulle wat Hy daarmee bedoel. Hy gebruik die beeld van ’n kruis wat gedra moet word, soos iemand wat ter dood veroordeel is. Wanneer ons vir Jesus volg, beteken dit ons kies om nie net vir onsself te leef nie, maar om allereers vir God en sy nuwe wêreld te leef.

Ná sy kruisiging gee Jesus vir sy dissipels en vir ons ’n nuwe opdrag: Gaan vertel vir die mense wie Ek is.

Gesels saam:

  • As julle vir iemand anders moet verduidelik wie Jesus is, hoe sou julle Hom beskryf? Watter woorde sou julle gebruik? Dink aan woorde soos: genadig, vriendelik, deernisvol, genees, liefdevol, opoffering. Hierdie woorde help ons om te onthou wat Jesus vir ons gedoen het en wie Hy vir ons is.

Skryf die Naam Jesus in die middel van ’n plakkaat neer. Rondom die Naam Jesus kan julle dan woorde en Bybelverse neerskryf wat vir julle leer of herinner wie Jesus is. (Wees kreatief en gebruik verskillende kleure kryte). Neem dan hierdie plakkaat na iemand wat julle goed ken en verduidelik vir hulle wie Jesus is.

Voorskool

 

 

 

Speel ’n rukkie “Follow the leader”.

Gesels saam:

  • Is dit maklik om iemand anders te volg?
  • Wat maak dit maklik of moeilik?

As julle wil, kan julle die liedjie “Staan op en sê” sing. Hier is die skakel na die lie.

 

 

 

Vertel die verhaal van Lukas 9:18-27.
Opsioneel: Laat iemand soos Petrus aantrek en die storie vir die groep vertel. Jy kan selfs meer mense vra om die storie saam te vertel.

 

 

 

Gee vir elke kind ’n kruis.
Alternatief: Laat elke kind ’n kruis maak. (Gebruik die uitdeelstuk.)

Leer saam die volgende belydenis met die bewegings:
Aanbieder: Jesus is die Koning wat my wys hoe om te leef.
Kinders: Ek volg vir Jesus! (Die kinders kan op een plek stap.)

Speel nou weer “Follow the leader”. Die kinders staan in ’n ry agter die aanbieder. Wanneer die aanbieder die woorde hier bo sê, begin hy of sy stap. Die kinders antwoord met hulle woorde terwyl hulle agter die aanbieder aanstap.

 

 

 

Gaan huis toe en vertel vir iemand wat beteken die kruisie wat jy gekry of gemaak het. Probeer elke aand voordat jy gaan slaap jou belydenis opsê: “Ek volg vir Jesus!”

Graad 1-3

Speel ’n rukkie “Follow the leader”.

Gesels saam:

  • Is dit maklik om iemand anders te volg?
  • Wat maak dit maklik of moeilik?

As julle wil, kan julle die liedjie “Staan op en sê” sing. Hier is die skakel na die lied.

Vertel die verhaal van Lukas 9:18-27 deur die uitdeelstuk te gebruik:

  • Jesus het met sy dissipels gepraat. (Die lang reghoek verteenwoordig Jesus en die drie kort reghoeke verteenwoordig die dissipels. Plak die reghoeke met wondergom teen ’n bord of muur vas om te wys dat hulle gesels het.)
  • Jesus het vir sy dissipels gevra wie die mense sê Hy is. Party het gedink Jesus is Elia, die groot profeet. (Vorm ’n E met die lang reghoek en die drie kort reghoeke).
  • Jesus het vir sy dissipels gevra wie húlle dink Hy is. Petrus het gesê Jesus is die Christus. Dit beteken Hy is die Gesalfde (verduidelik die woord). Al hierdie woorde beteken Jesus is die koning op wie die Jode gewag het. (Draai nou die lang reghoek horisontaal en die kort reghoeke vertikaal, soos ’n E wat op sy rug geval het. Dink aan ’n koning se kroon.)
  • Jesus verduidelik toe vir sy dissipels wie Hy is: Hy is Jesus (draai die lang reghoek vertikaal). Hy is ’n koning, maar nie ’n koning wat ’n kroon dra nie. Jesus is ’n koning wat ’n kruis dra (sit die eerste kort reghoek horisontaal oor die lang reghoek neer sodat dit ’n kruis vorm). Jesus tree nie gewelddadig op nie, maar gee om vir verhoudings (sit die tweede kort reghoek bo-op die eerste een om die prent van ’n kruis te behou). Jesus nooi ons om ons kruis op te tel, met ander woorde, om te leef soos Jesus van ons vra (sit die derde kort reghoek bo-op die eerste twee neer).
  • Jesus is die Koning van die kruis!

Die ouer kinders kan hierdie verhaal weer vertel deur die reghoeke te gebruik.

Laat die kinders elkeen ’n kruis maak. (Gebruik die uitdeelstuk.) Laat hulle die storie weer vertel terwyl hulle die kruise maak.
Plak hierdie woorde op elkeen se kruis:
Ek volg vir Jesus! 


Trek hierdie week elke dag ’n kruis op jou handpalm met jou vinger. As jy wil, kan jy dit ook met ’n pen doen. Dink elke keer aan Jesus wat ’n ander soort koning is.

Graad 4-6

Gesels saam:

  • Wie is die gewilde kinders in julle skool?
  • Na wie in julle skool kyk die kinders en volg hulle dan? Hoekom dink julle word juis hierdie kinders gevolg?
  • Wat maak dat jy iemand (in die skool of buite die skool) volg?

Vertel die verhaal van Lukas 9:18-27 deur die uitdeelstuk te gebruik:

  • Jesus het met sy dissipels gepraat. (Die lang reghoek verteenwoordig Jesus en die drie kort reghoeke verteenwoordig die dissipels. Plak die reghoeke met wondergom teen ’n bord of muur vas om te wys dat hulle gesels het.)
  • Jesus het vir sy dissipels gevra wie die mense sê Hy is. Party het gedink Jesus is Elia, die groot profeet. (Vorm ’n E met die lang reghoek en die drie kort reghoeke).
  • Jesus het vir sy dissipels gevra wie húlle dink Hy is. Petrus het gesê Jesus is die Christus. Dit beteken Hy is die Gesalfde (verduidelik die woord). Al hierdie woorde beteken Jesus is die koning op wie die Jode gewag het. (Draai nou die lang reghoek horisontaal en die kort reghoeke vertikaal, soos ’n E wat op sy rug geval het. Dink aan ’n koning se kroon.)
  • Jesus verduidelik toe vir sy dissipels wie Hy is: Hy is Jesus (draai die lang reghoek vertikaal). Hy is ’n koning, maar nie ’n koning wat ’n kroon dra nie. Jesus is ’n koning wat ’n kruis dra (sit die eerste kort reghoek horisontaal oor die lang reghoek neer sodat dit ’n kruis vorm). Jesus tree nie gewelddadig op nie, maar gee om vir verhoudings (sit die tweede kort reghoek bo-op die eerste een om die prent van ’n kruis te behou). Jesus nooi ons om ons kruis op te tel, met ander woorde, om te leef soos Jesus van ons vra (sit die derde kort reghoek bo-op die eerste twee neer).
  • Jesus is die Koning van die kruis!

Deel die reghoeke aan die kinders uit en laat hulle die verhaal weer vertel deur die reghoeke te gebruik.

Laat die kinders vir hulleself kruise maak. (Gebruik die uitdeelstuk.) Laat hulle die storie weer vertel terwyl hulle die kruise maak.

Laat hulle op hulle kruise neerskryf:
Jesus is die Koning wat my wys hoe om te leef.
Ek volg vir Jesus! 

Gesels saam:

  • Wat beteken dit om vir Jesus by die skool te volg?


Neem bordkryt en stap na ’n plek waar julle iets op ’n teerpad kan teken of skryf. Laat elke kind die buitelyn van sy of haar voet aftrek. Laat hulle naby aan mekaar staan sodat dit een kunswerk vorm. Elkeen kan dan binne-in sy of haar voetafdruk skryf: Ek volg vir Jesus!

Graad 7-10

Gesels saam:

  • Wie van julle is op sosiale media? Wie het Instagram?
  • Hoe werk dit om iemand op Instagram te volg?
  • Hoe werk influencers?
  • Wie dink julle is die mense wat in ons wêreld die meeste op sosiale media gevolg word? Hoekom volg mense hulle?
  • Kyk by hierdie skakel na wie die mense is wat die meeste volgelinge op Instagram het. Ken jy hierdie mense? Hoekom dink julle volg soveel mense hulle?

Lees die verhaal van Lukas 9:18-27.

Gesels saam:

  • Die dissipels het ’n sekere beeld van Jesus gehad, amper soos mense wat jou nie ken nie, maar ’n beeld van jou vorm op grond van wat jy op sosiale media deel. As iemand jou vandag sou vra: “Wie, sê jy, is Jesus?” wat sou jy antwoord?
  • Hoe het Jesus verskil van die leiers van sy tyd?
  • Ons almal tree soms as leiers op. Hoe kan ons vandag lei soos Jesus?

Skep saam ’n Instagram account vir Jesus. Neem ’n A3- of A2-bladsy en besluit saam oor die volgende elemente:

  • Wat sou Jesus as sy foto gekies het?
  • Wie sou almal Jesus se volgelinge gewees het? (Dink aan mense in die Bybel.)
  • Watter soort idees of hashtags sou Jesus die meeste gebruik het?
  • Wat sou in Jesus se bio staan?

Dink nou aan hoe jy vir Jesus volg.

  • Watter eienskappe van Jesus nooi jou om Hom te volg?Bid saam dat God julle elkeen sal help om ware volgelinge te wees wat Jesus toelaat om julle lewe te verander. Bid dat julle sal kan raaksien watter dinge regtig by Jesus se profiel sal pas, en wat nie.


Kyk hierdie week noukeurig na jou sosialemediaplatforms. Vra jou af: Vir wie volg ek? Hoekom volg ek hulle? Help hierdie mense my om ’n lewe in oorvloed te leef? En ’n lewe wat na God se wil is?

Afstandkategese

Aanvullende materiaal om op sosiale media (Whatsapp, Facebook, ens) te deel wanneer fisiese byeenkomste nie haalbaar is nie. Onder elke prent is ‘n boodskap wat jy op sosiale media (soos Whatsapp) kan uitstuur saam met die grafika.

Kernwaarheid

Stuur hierdie prent aan die hele gemeente om die kerngedagte in te lei.

Die onderstaande teks is buitelyne van ‘n moontlike huisgeloof-video wat julle self kan opneem en aan gesinne stuur.

Inleiding: Verwelkom almal. Vra: Hoe lyk Jesus in jou kop? Kry ‘n paar uitbeeldings, prente of tekeninge van Jesus. Kyk byvoorbeeld na Kinderbybels en ander Christelike boeke of selfs die Kerskaartjies in julle huis. Soek ook op die internet na uitbeeldings van Jesus. Google “different images of Jesus”. Wat dink julle wil hierdie prente vir ons duidelik maak? Wat sê hierdie prentjies oor wie Jesus is?

Bybelgedeelte: Lees Lukas 9:18-25 saam.

Verduideliking: Jesus doen hier iets baie vreemd. Hy belet die dissipels om vir die mense te vertel wie Jesus is. Die dissipels het ‘n sekere prentjie van wie Jesus is. Hulle verstaan nog nie dat Jesus gaan ly en aan ‘n kruis gaan sterf nie. Wie Jesus is, verskil van die dissipels se prentjie van Jesus. Daarom wil Jesus nie hê dat hulle die boodskap moet versprei nie. Om Jesus te volg beteken ons kies om nie meer net vir onsself te leef nie, maar om vir God en sy nuwe wêreld te leef. Na sy kruisiging gee Jesus aan sy dissipels en vir ons ‘n nuwe opdrag: Gaan vertel vir die mense wie Ek is, want nou verstaan die dissipels – en ons – beter!

 

Aktiwiteit: Maak ‘n plakkaat. Skryf die Naam JESUS in die middel van die plakkaat neer. Rondom die Naam Jesus kan julle dan woorde en Bybelverse neerskryf oor wie Jesus is. (Wees kreatief. Gebruik verskillende kleure en penne, potlode en kryte.) Gebruik dan die plakkaat om vir iemand wat julle goed ken te verduidelik wie Jesus is.