Existing members can log in to access this content. If you're not yet a member, consider signing up for Jeugfokus Kategese+.
Inleiding
-
Druk afdeling
Lukas 4:14-30
Jesus maak dit duidelik dat die aankondiging van God se nuwe wêreld (God se koninkryk) vir álle mense van álle volke bedoel is. Jesus bring se God herstel vir elkeen. Jesus se boodskap is vir ons én vir hulle.
Wie?
Jesus praat aan die begin van sy bediening met die mense. Die gebeure van vandag se verhaal vind plaas nadat Johannes die Doper vir Jesus gedoop en Satan Hom in die woestyn versoek het. Hierdie gebeure help ons om te weet Jesus is nie maar net nog ’n profeet of leermeester nie.
Waar?
Nasaret, die dorp waar Jesus grootgeword het. Dit is ’n dorp in die streek of provinsie Galilea. Jesus praat op ’n sabbatdag in die plaaslike sinagoge met die mense van die gemeenskap.
Wat?
Jesus se reputasie gaan Hom vooruit en sy tuisdorp se mense wil graag hoor wat Hy te sê het. Hulle gee vir Jesus die boekrol van die profeet Jesaja. Jesus lees gedeeltes uit die teks (Jes 58:6; 61:1-2), maar Hy laat ook ’n gedeelte weg. Jesus lees nie die tweede deel van Jesaja 61:2 nie. Hierdie deel verwys na die wraak van die Here: “die dag waarop ons God sy vyande straf”. Dié gedeelte wat uitgelaat is, het ’n groot invloed gehad op die Israeliete se denke oor die rol en plek van die Messias in die bevryding van hulle vyande.
Toe Jesus die teks begin uitlê, verklaar Hy dat hierdie woorde “vandag” deur Hom bewaarheid is. Die mense is opgewonde oor wat Hy hulle leer en selfs verbaas oor sy mooi woorde. Tot in die helfte van sy boodskap knik die mense instemmend, want wat Jesus sê, is wat die volk Israel graag wil hoor. Tot op ’n punt. Dan verklaar Jesus dat hierdie beloftes van God nie nét vir die Jode bedoel is nie, maar óók vir mense wat buite die Joodse volk en tradisie staan. Eers laat Jesus die gedeelte oor God se wraak weg en dan noem Hy die voorbeeld van die profeet Elia en die profeet Elisa wat God se herstel gebring het vir mense wat deur die Israeliete as onrein en onaanvaarbaar beskou is.
Jesus begin hier die denke wat ons (die Israeliete) en hulle (ander volke) onderskei, uitdaag en afbreek. Dit is nie vir die Jode lekker om te hoor dat ander mense, wat nie soos hulle is nie, ook vir God aanvaarbaar is nie. Die skare se reaksie is fel en vinnig. Toe Jesus dinge sê waarmee hulle nie saamstem nie, word die mense so kwaad vir Hom dat hulle Hom probeer doodmaak. Jesus loop tussen hulle deur en gaan van hulle af weg.
Waarom?
Om hierdie reaksie te verstaan moet ons weer kyk na die gedeelte in die Ou Testament wat Jesus gelees het. Dit is ’n teks wat die mense destyds goed geken het en wat vir hulle baie belangrik was. Dié teks gaan oor God wat Israel se vyande sal verslaan. In die Joodse verstaan van hierdie woorde uit Jesaja is “ons” (die Israeliete) die veronregtes. “Ons” (die Israeliete) is die mense wat sleg behandel word deur “hulle” (die Romeine).
Jesus wys egter dat God se “ons” veel meer mense insluit as wat die eerste hoorders gedink het. Vandag glo ons as Christene dat God álle mense na Hom toe trek en dat álle mense deur geloof in Jesus herstel word. Ons kan ook maklik in die strik trap om mense, vir wie Jesus insluit, uit te sluit omdat hulle nie soos ons lyk, dink en optree nie.
- Kyk die fliek The hundred-foot journey (2014, Dreamworks).
Kindermoment
- ’n Groot verskeidenheid balle soos ’n tennisbal, gholfbal, sokkerbal, tafeltennisbal, krieketbal, netbalbal, hokkiebal en rugbybal.
- Alternatief: Verskillende vrugte soos appels, druiwe, lemoene, tamaties en piesangs.
- Foto’s of prente van verskillende mense. Die mense wat uitgebeeld word, moet verskil ten opsigte van geslag, ouderdom, ras, kultuur, ekonomiese vermoëns en beroep.
Huisgeloof
- Verskillende items wat aan dieselfde groep behoort, maar tog van mekaar verskil soos balle, vrugte of skoene.
- Vrugte vir vrugteslaai.
Voorskool
- Opsioneel: ’n Foto van ’n preekstoel of ’n ruimte waar gepreek word.
- ’n “Boekrol” vir die fasiliteerder (sien die hulpmiddel; gebruik vir die fasiliteerder die leë rolle van handdoekpapier in plaas van leë toiletpapierrolle).
- Die hulpmiddel: Maak ’n boekrol.
- Alles wat nodig is om ’n boekrol te maak: 2 leë toiletpapierrolle vir elke kind, 1 stuk bruinpapier vir elke kind, die woorde: “God is lief vir alle mense” geskryf of gedruk op ’n stukkie papier, gom en lint.
Graad 1-3

Graad 4-6
- Genoeg lekkers vir almal.
Graad 7-10
- Genoeg lekkers vir almal.
Kindermoment
-
Druk afdeling
Watter een pas nie?
Sit ’n groot verskeidenheid balle op ’n tafel voor in die liturgiese ruimte neer soos ’n tennisbal, gholfbal, sokkerbal, tafeltennisbal, krieketbal, netbalbal, hokkiebal en rugbybal. (Indien jy nie al hierdie balle kan kry nie, gebruik ’n verskeidenheid vrugte.) Nooi iemand uit die gemeente om saam met jou oor al die items te gesels. Vra:
- Watter van hierdie balle pas nie by die ander nie?
- Is daar een van die balle wat nie soos die ander is nie?
- Watter een van die balle dink jy moet ons liewer wegneem sodat al die balle dieselfde kan wees?
Die werklikheid is dat elke bal van die ander verskil. Nie een is presies soos die ander nie. Die meeste van die balle is rond, behalwe die rugbybal, maar dit is net een eienskap wat hulle deel. Verder verskil al die balle van mekaar. Sommige is harder as ander; party is kleiner as ander, en almal is van verskillende materiale gemaak.
Wys nou foto’s van mense wat ten opsigte van geslag, ras, kultuur, ouderdom, ekonomiese groep en beroep verskil.
- Watter van hierdie mense pas nie in by die groep nie?
- Wie besluit hieroor?
Alle mense is verskillend, maar mense bly mense. Net soos elke bal ’n bal is en bly, is mense – álle mense – na God se beeld gemaak. Jesus maak dit duidelik in hierdie gedeelte dat God se genade en liefde vir álmal bedoel is.
Huisgeloof
-
Druk afdeling
Maak items in die huis bymekaar wat aan dieselfde groep behoort, maar tog van mekaar verskil, soos balle, vrugte of skoene.
Gesels saam:
- Watter eienskappe deel hierdie voorwerpe met mekaar?
- Watter eienskappe onderskei hierdie voorwerpe van mekaar?
Beklemtoon dat al die balle, vrugte of skoene van mekaar verskil en verskillend gebruik word, maar steeds ’n bal, ’n vrug of ’n skoen bly. Só verskil alle mense van mekaar, maar tog is elke mens na God se beeld geskep. Ja, élke mens! Jesus bring God se genade en herstel na álle mense. Dit word duidelik in die manier waarop Jesus in vandag se gedeelte uit Jesaja voorlees en dit vir die mense verklaar.
Lees saam Lukas 4:14-30.
Jesus kondig God se herstel en die aankoms van God se nuwe wêreld aan, maar dit maak die mense so kwaad dat hulle Hom wil doodmaak.
Gesels saam:
- Hoekom dink julle het die mense so kwaad geword vir Jesus?
- Vir wie het die Jode gedink is God se liefde en genade bedoel?
- Wie dink julle word almal by Jesus se liefde en genade ingesluit?
Tot in die helfte van Jesus boodskap knik die mense instemmend, want wat Jesus sê, is wat hulle as Jode graag wil hoor. Toe Jesus sê egter hierdie beloftes van God is nie net vir die Israeliete bedoel nie, maar óók vir mense wat buite die Joodse volk en tradisie staan. Jesus begin die denke wat ons en hulle van mekaar onderskei, uitdaag en afbreek. Toe Jesus dinge sê waarmee die Jode nie saamstem nie, word hulle so kwaad vir Hom dat hulle Hom probeer doodmaak.
Maak saam vrugteslaai. Bid saam en sê vir die Here dankie dat alle mense deur Jesus deel van God se nuwe volk word, net soos die verskillende vrugte deel van die vrugteslaai is.
Dink aan iemand met wie jy baie vassit of van wie jy baie verskil. Dink waaroor julle saamstem en watter eienskappe julle deel. Soek ooreenkomste eerder as verskille. Hoe help dit jou om anders oor hierdie persoon te dink?
Voorskool
-
Druk afdeling
Neem die kinders na die preekstoel of die ruimte waar die prediker gewoonlik staan om te preek. Indien dit nie moontlik is nie, wys vir hulle ’n foto van hierdie ruimte in julle kerk.
Gesels saam:
- Wie staan gewoonlik op die preekstoel of voor in die kerk?
- Hoekom staan dié persoon daar?
- Het julle geweet dat Jesus ook vir die mense gepreek het? Hy het gedeeltes uit die Ou Testament gelees en vir mense meer van God geleer.
Ons gaan vandag luister na ’n verhaal uit Jesus se lewe. Die mense het vir Jesus ’n boekrol van ’n gedeelte uit die Ou Testament gegee. Hy het vir die mense daaruit voorgelees.
Opsioneel vir aanbieder: Rol die boekrol, wat jy voor die tyd gemaak het, oop (sien die hulpmiddel). Hou dit oop terwyl jy die verhaal vertel.
Vertel Lukas 4:14-30.
Beklemtoon aan die einde van die verhaal dat die Jode gedink het God is nét vir hulle lief. Toe Jesus hierdie boekrol lees en vir hulle sê God is ook lief vir mense wat nie Jode is nie, het die Jode kwaad geword. Hulle wou God se liefde net vir hulleself hê.
In die verhaal wat ons gelees het, het Jesus uit ’n boekrol voorgelees. Die Bybel was destyds nog nie ’n gedrukte boek soos vandag nie. Die boeke van die Ou Testament was op ’n boekrol geskryf. Boekrolle is gewoonlik van papirus of dierevelle gemaak.
Vandag gaan ons ons eie boekrolle maak. (Volg die riglyne van die hulpmiddel en help die kinders waar nodig.)
Vandag is dit baie gevaarlik om weg te raak. Wat kan ons doen om veilig te bly? Gesels met jou huismense oor wat julle kan doen om veilig te bly.
Graad 1-3
-
Druk afdeling
Neem die kinders na die preekstoel of die ruimte waar die prediker gewoonlik staan om te preek. Indien dit nie moontlik is nie, wys vir hulle ’n foto van hierdie ruimte in julle kerk.
Gesels saam:
- Wie staan gewoonlik op die preekstoel of voor in die kerk?
- Hoekom staan dié persoon daar?
- Het julle geweet dat Jesus ook vir die mense gepreek het? Hy het gedeeltes uit die Ou Testament gelees en vir mense meer van God geleer.
Ons gaan vandag luister na ’n verhaal uit Jesus se lewe. Die mense het vir Jesus ’n boekrol van ’n gedeelte uit die Ou Testament gegee. Hy het vir die mense daaruit voorgelees.
Opsioneel vir aanbieder: Rol die boekrol, wat jy voor die tyd gemaak het, oop (sien die hulpmiddel). Hou dit oop terwyl jy die verhaal vertel.
Vertel Lukas 4:14-30.
Beklemtoon aan die einde van die verhaal dat die Jode gedink het God is nét vir hulle lief. Toe Jesus hierdie boekrol lees en vir hulle sê God is ook lief vir mense wat nie Jode is nie, het die Jode kwaad geword. Hulle wou God se liefde net vir hulleself hê.
In die verhaal wat ons gelees het, het Jesus uit ’n boekrol voorgelees. Die Bybel was destyds nog nie ’n gedrukte boek soos vandag nie. Die boeke van die Ou Testament was op ’n boekrol geskryf. Boekrolle is gewoonlik van papirus of dierevelle gemaak.
Vandag gaan ons ons eie boekrolle maak. (Volg die riglyne van die hulpmiddel.)
Gaan wys jou boekrol vir die mense by die huis en vertel vir hulle dat Jesus uit so ’n boekrol vir die mense gelees het.
Graad 4-6
-
Druk afdeling
Bring lekkers vir die groep. Gee net vir die helfte van die groep daarvan. (Bêre die res sonder dat die groep weet jy het nog lekkers.) Die kinders wat lekkers gekry het, mag dit nie dadelik eet nie.
Gesels saam:
- Vra vir die kinders wat lekkers gekry het: Hoe voel dit om sulke lekker lekkers te kry?
- Vra vir die kinders wat nie lekkers gekry het nie: Hoe voel dit om uitgesluit te word en nie lekkers te kry nie?
Ons gaan vandag ’n verhaal oor Jesus se lewe lees.
Jesus het in sy tuisdorp se sinagoge vir die mense uit die Ou Testament voorgelees. Die mense het vir Jesus daarheen genooi omdat hulle gehoor het van alles wat Hy sê en doen. Jesus het Jesaja 58:6 en 61:1-2 vir hulle gelees.
Kom ons lees nou Lukas 4:14-30 saam.
Gesels saam:
- Jesus noem hier voorbeelde van nie-Joodse mense wat God se genade ontvang het. Hoekom dink julle het dit die Jode so kwaad gemaak?
- Die Jode het geglo God se liefde en genade is net vir húlle as volk bedoel. Dink ons ook partykeer dat God se genade net vir sommige mense bedoel is? Kan julle voorbeelde gee?
- God sluit álle mense in; daarom moet ons dit ook doen. Hoe kan julle kinders by die skool meer insluit? Dink aan julle vriendekring.
Deel nou die res van die lekkers uit aan die kinders wat nie gekry het nie. Net soos niemand in hierdie groep met die lekkers uitgesluit word nie, so sluit God niemand van sy genade uit nie.
Bid in groepe. Sê vir God dankie dat sy koninkryk alle mense insluit. Vier fees hieroor deur die lekkers saam te eet.
Let hierdie week op hoeveel verskillende groepe mense jy kan raaksien. Mans en vroue, jongmense en bejaarde mense, mense van verskillende kulture, en so meer. Elke keer wanneer jy hierdie verskille tussen mense raaksien, kan jy bid: “God se liefde en goeie nuus is vir my bedoel, maar dit is ook vir hulle bedoel. Help my om dit te onthou, Here.”
Graad 7-10
-
Druk afdeling
Bring lekkers vir die groep. Gee net vir die helfte van die groep daarvan. (Bêre die res sonder dat die groep weet jy het nog lekkers.) Die kinders wat lekkers gekry het, mag dit nie dadelik eet nie.
Gesels saam:
- Vra vir die kinders wat lekkers gekry het: Hoe voel dit om sulke lekker lekkers te kry?
- Vra vir die kinders wat nie lekkers gekry het nie: Hoe voel dit om uitgesluit te word en nie lekkers te kry nie?
Ons gaan vandag ’n verhaal oor Jesus se lewe lees.
Jesus het in sy tuisdorp se sinagoge vir die mense uit die Ou Testament voorgelees. Die mense het vir Jesus daarheen genooi omdat hulle gehoor het van alles wat Hy sê en doen. Jesus het Jesaja 58:6 en 61:1-2 vir hulle gelees.
Kom ons lees nou Lukas 4:14-30 saam.
Gesels saam:
- Jesus noem hier voorbeelde van nie-Joodse mense wat God se genade ontvang het. Hoekom dink julle het dit die Jode so kwaad gemaak?
- Die Jode het geglo God se liefde en genade is net vir húlle as volk bedoel. Dink ons ook partykeer dat God se genade net vir sommige mense bedoel is? Kan julle voorbeelde gee?
Lees nou Jesaja 58:6 en 61:1-2.
Gesels saam:
- Vergelyk dit met die aanhaling uit Jesaja in Lukas 4:18-19. Wat is dieselfde, en wat verskil?
- Jesus lees hierdie gedeelte vir die mense, maar los Jesaja 61:2 opsetlik uit. Wat dink julle wou Hy daardeur vir die mense sê?
Jesus lees nie die tweede deel van Jesaja 61:2 wat na die wraak van die Here verwys nie: “die dag waarop ons God sy vyande straf”. Jesus leer die mense dat hierdie beloftes van God nie nét vir die Jode bedoel is nie, maar óók vir mense wat buite die Joodse volk en tradisie staan. God is die God van liefde, genade en regverdigheid, nie die God wat straf nie.
Gesels saam:
- God sluit alle mense in; daarom moet ons dit ook doen. Hoe kan julle jongmense by die skool meer insluit? Dink byvoorbeeld aan julle vriendekring.
- Wanneer jy dink oor die mense vir wie God lief is en met wie God ’n pad stap, wie dink jy sluit jy soms uit? (Gesels in die groep hieroor of dink net stil daaroor na.)
Deel nou die res van die lekkers uit aan die kinders wat nie gekry het nie. Net soos niemand in hierdie groep met die lekkers uitgesluit word nie, so sluit God niemand van sy genade uit nie. Bid in groepe. Sê vir God dankie dat sy koninkryk alle mense insluit. Vier fees hieroor deur die lekkers saam te eet.
Let hierdie week op hoeveel verskillende groepe mense jy kan raaksien. Mans en vroue, jongmense en bejaarde mense, mense van verskillende kulture, en so meer. Elke keer wanneer jy hierdie verskille tussen mense raaksien, kan jy bid: “God se liefde en goeie nuus is vir my bedoel, maar dit is ook vir hulle bedoel. Help my om dit te onthou, Here.”
Afstandkategese
-
Druk afdeling
Aanvullende materiaal om op sosiale media (Whatsapp, Facebook, ens) te deel wanneer fisiese byeenkomste nie haalbaar is nie. Onder elke prent is ‘n boodskap wat jy op sosiale media (soos Whatsapp) kan uitstuur saam met die grafika.
Kernwaarheid
Stuur hierdie prent aan die hele gemeente om die kerngedagte in te lei.
Die onderstaande teks is buitelyne van ‘n moontlike huisgeloof-video wat julle self kan opneem en aan gesinne stuur.
Inleiding: Verwelkom almal. Nooi almal wat daar is: Maak items in die huis bymekaar wat aan dieselfde groep behoort, maar tog van mekaar verskil, soos balle, vrugte of skoene.
Bybelgedeelte: Lees Lukas 4:14-30 saam.
Verduideliking: Hier word goeie dinge vir die mense belowe. Dit word egter nie net vir die Jode belowe (soos in Jesaja 61) nie, maar vir almal. Dit maak die mense so kwaad dat hulle vir Jesus wil doodmaak. Hulle besef nie dat God se genade vir almal is nie. Mense kyk dikwels vas in die verskille tussen hulle, soos ons kan vaskyk in die verskille tussen die balle, vrugte of skoene. God kyk egter nie vas in die verskille nie. God hou almal in sy hand vas as kinders van God – dié wat soos ons is én dié wat nie soos ons is nie.
Aktiwiteit: Maak saam met jou huismense vrugteslaai. Bid saam en sê vir die Here dankie dat alle mense deur Jesus deel van God se nuwe volk word, net soos die verskillende vrugte deel van die vrugteslaai is.