Existing members can log in to access this content. If you're not yet a member, consider signing up for Jeugfokus Kategese+.
Inleiding
-
Druk afdeling
Lukas 2:40-52
Ons word genooi om, soos Jesus, aan te hou groei in ons verhouding met God en om God al beter te verstaan. Ons hou nooit op groei in hierdie verhouding nie. Om ritmes en gebruike in ons daaglikse lewe te vestig help ons om te groei.
Wie?
Die 12-jarige Jesus en sy ouers, Maria en Josef.
Ons weet baie min van Jesus se kinderjare. Ons weet Josef was ’n timmerman (’n bouer wat met hout, klip en yster gewerk het) en dat hy en Maria nog kinders gehad het. Ons lees in Markus 6:3 dat die mense later gevra het of Jesus dan werklik so belangrik is; Hy was in hulle oë net ’n timmerman, soos sy pa.
Josef en Maria word geskets as godvresende Jode, dit is Jode wat God gerespekteer en die wet van Moses onderhou het. Joodse seuns is op 13 beskou as volwassenes wat self die verantwoordelikheid dra om die wet te onderhou. Dit was dus die laaste keer dat Jesus as kind saam met sy ouers Paasfees toe sou gaan. Die volgende jaar sou Jesus hierdie fees as ’n volwassene bywoon.
Waar?
Die Jode vier vandag nog feeste wat ’n belangrike plek in hulle geloofslewe inneem. In ooreenstemming met die wet van Moses het alle Jode vir die drie groot feeste na Jerusalem gegaan: die Paasfees, die Huttefees en die Pinksterfees. As afstand ’n probleem was, moes hulle minstens die Paasfees bywoon.
Ons lees in hierdie verhaal dat Jesus saam met sy ouers in Jerusalem was vir die Paasfees en daarna teruggegaan het huis toe.
Wat?
Mense het in groot groepe na die feeste gereis sodat hulle teen rowers beskerm sou wees. Daar is verskillende moontlikhede saam met watter groep Jesus kon gereis het. Volgens oorlewering het die mans agter geloop en die vroue en kinders voor.
Jesus was 12. Hy kon dus saam met enigeen van die groepe gereis het, of dalk selfs saam met ’n groep anders seuns van dieselfde ouderdom. Dit was daarom nie vreemd dat sy ouers gedink het Hy is iewers in die groot groep op pad saam met hulle huis toe nie. Hulle het eers ’n dag later agtergekom dat Hy weg was. Toe moes hulle weer ’n dag lank terugreis na Jerusalem en in die stad na Hom gaan soek. Ons lees dat hulle vol angs en kommer was omdat hulle nie geweet het waar Jesus was nie.
Ons kan ons amper nie indink dat so iets kon gebeur nie. In daardie tyd het reisreëlings dit egter moontlik gemaak. Op 12 sou Jesus al amper as ’n man beskou gewees het. Hy sou meer verantwoordelikhede ten opsigte van sy doen en late gehad het as ’n 12-jarige vandag.
In Jerusalem vind hulle Jesus in die tempel besig om die geleerdes te leer. Die geleerde mense was verbaas oor sy insig en kennis.
Het Jesus in daardie stadium al geweet wat vir Hom voorlê? Om hierdie vraag te probeer antwoord, kyk ons na Jesus se antwoord aan sy ma nadat sy Hom berispe het. Hy vra vir haar: “Waarom het julle na My gesoek? Het julle dan nie geweet dat Ek in die huis van my Vader sou wees nie?” Dit kan ook vertaal word met: “Het julle dan nie geweet dat Ek besig sou wees met die werk van my Vader nie?” Jesus het toe reeds in ’n besonderse verhouding met God gestaan.
In die Jode se denkwêreld is God nie naby aan mense nie en het God nie ’n persoonlike verhouding met mense nie. Om God “Vader” te noem was reeds vreemd. Jesus het toe reeds geweet of besef dat God Hom gestuur het en dat Hy ’n bepaalde doel en rol gehad het.
Waarom?
Jesus was besig om te groei en te ontwikkel. Hierdie teks help ons verstaan hoe belangrik dit is dat ons in ons lewe sal groei in ons verhouding met God en in ons verhouding met ander mense. Ons is nooit klaar gegroei of ontwikkel nie. Nie ten opsigte van die aspekte van ons lewe nie, en beslis ook nie ten opsigte van ons verhouding met en kennis van God nie. Dit is hoekom ons hier saam is: om verder te leer en groei.
- Tydens die kindermoment in die erediens word daar vertel van ’n boom wat groei. Indien moontlik, kan julle ’n boom by die kerk plant of vir elke gesin ’n boom of plant gee om te gaan plant. Die Huisgeloof-gedeelte pas hierby aan. Julle kan ’n foto neem van elke gesin met hulle boom. Aan die einde van die jaar kan almal weer foto’s neem en kyk hoe die boom gegroei het. Laat hulle dit dan aanstuur saam met ’n boodskap oor iets wat hulle gedurende die jaar geleer het. Maak ’n uitbeelding van die foto’s wat julle in die gemeente kan hou.
- Dit kan ook gepas wees om hierdie diens te hou wanneer ’n roetemerker gevier word. Sien die hoofstuk oor eerstes en laastes in die boek Roetemerkers om meer inligting en ’n liturgie hiervoor te kry.
Kindermoment
- ’n Boom of plant.
Voorskool
- ’n Babapop of ’n prentjie van ’n baba. Sit die pop of prent voor die tyd in ’n boks en draai die boks toe met geskenkpapier. ’n Boks met ’n deksel sal die beste werk vir hierdie aanbieding.
- ’n Naamplakker vir elke kind of uitgeknipte kartonkaartjies en potlode of kryte.
Huisgeloof
- ’n Boom of plant vir die gesin om te plant.
Voorskoolse kinders
- Die uitdeelstuk: Vind-die-paadjie.
Graad 1-3
- Die uitdeelstuk: Vind-die-paadjie.
Graad 4-6
- ’n Maatband.
Graad 7-10
- Twee velle papier en ’n skryfding vir elke jongmens.
Kindermoment
-
Druk afdeling
Sit ’n boom (of plant) in die liturgiese ruimte neer.
Vra: Wat dink julle het hierdie boom alles nodig om te groei? Wat moet ek doen om hierdie boom aan die lewe te hou? Ja, dit kort water en goeie grond en genoeg sonlig. Maar as hierdie boom groot genoeg is, kort hy seker nie meer water nie. Hy het teen daardie tyd genoeg water gekry. Dan kan ek ophou om vir hom water te gee, of hoe? Nee, dis nie hoe dit werk nie.
Ek wonder hoekom dink ons dan so maklik iewers in ons lewe dat ons al die Bybelstories genoeg gehoor het en ons verstaan God goed genoeg en ons hoef nie meer die Bybel te lees of daaroor te dink nie. As ons alles gehoor het en alles verstaan, is dit seker genoeg, of hoe?
Nee, ons verhouding met God is baie dieselfde as die versorging van ’n boom. ’n Boom moet altyd versorg word. Net so moet ons gereeld met God gesels, die Bybel lees en tyd saam met ander gelowiges deurbring. Só sorg ons dat ons aanhou groei.
Ons lees vandag die verhaal van Jesus wat as kind in die tempel gekom het. Dit was vir Hom so belangrik om in die tempel te wees en oor die Here te gesels dat Hy nie eens saam met sy ouers teruggegaan het huis toe nie. Ons moet altyd veilig wees en vir ons ouers luister, maar hierdie verhaal wys vir ons dat Jesus by God, sy Vader, wou wees. Jesus was nog baie jonk toe Hy vir ons gewys het hoe belangrik dit is om moeite te doen om ’n verhouding met God te bou.
Huisgeloof
-
Druk afdeling
Gaan plant ’n boom of ’n plant van julle keuse waar julle wil of kan. Vertel vir mekaar waarna julle uitsien in die jaar wat voorlê en wat julle onseker laat voel.
Lees saam Lukas 2:40-52.
Gesels saam:
- Hoe dink julle het Jesus se ouers gevoel toe hulle Hom nie kon kry nie? Wat is julle huisreëls hieroor?
- Hoekom dink julle het Jesus in die tempel agtergebly?
- Wat kan julle in julle huis doen om mekaar te help groei in julle geloof?
Ons gaan hierdie jaar saam geestelik groei. Ons gaan ’n boom of ’n plant saam plant om ons te herinner dat ons moet groei. ’n Boom of plant kort water, goeie grond, kompos en sonlig om te kan groei. Ons gaan die boom of plant saam versorg.
Plant saam ’n boom of plant. Neem dan ’n foto van julle by die boom of plant en deel dit met die gemeente. Aan die einde van die jaar, wanneer ons Kersbome in ons huise opsit, kan julle weer ’n foto van julle by julle boom of plant neem sodat julle kan sien hoe dit gegroei het.
Dink weer aan wat julle kan doen om saam geestelik te groei. Watter planne gaan julle maak om seker te maak dit gebeur?
Voorskool
-
Druk afdeling
Verwelkom almal aan die begin van die nuwe jaar. Dit sal goed wees om seker te maak almal ken mekaar se name. Speel gerus ook ’n paar ysbreker-speletjies tydens die eerste ontmoeting. Die internet is vol voorstelle (soek: “children icebreaker ideas”). Kies iets wat in julle konteks prakties sal werk. Dink ook aan bekende speletjies soos vroteier, “Simon says” of “Musical chairs”. Sluit af deur saam wegkruipertjie en/of “I spy with my little eye” te speel.
Ons het nou lekker gespeel en na mekaar gesoek.
Vandag luister ons na die verhaal in Lukas 2:40-52 oor hoe Jesus se ouers na Hom gesoek het.
Wat weet ons van Jesus se lewe as kind? Ken julle dalk sy geboorteverhaal? (Vertel die geboorteverhaal indien daar tyd is.) Ons ken een verhaal uit Jesus se kinderlewe. Toe Hy 12 jaar oud was, het Jesus saam met sy ouers vir die Paasfees na Jerusalem gegaan. Ná die fees het almal huis toe gegaan. Toe Josef en Maria al ’n hele dag lank gereis het, kom hulle agter Jesus is nie by die groep nie. Hulle was baie bekommerd en het dadelik na Hom begin soek.
Het een van julle al so weggeraak?
Waar kry hulle toe vir Jesus? In Jerusalem, in die tempel. Jesus was besig om die mense meer van God te leer. Vir Jesus is dit baie belangrik dat ons so dikwels moontlik sal bid en meer oor die Here sal leer.
Hierdie verhaal wys vir ons hoekom Jesus aarde toe gekom het. Hy wou ons meer oor God leer. Wat kan ons doen om meer van God te leer?
Deel die aktiwiteit aan die kinders uit. Laat hulle vir Maria en Josef help om vir Jesus te vind.
Vandag is dit baie gevaarlik om weg te raak. Wat kan ons doen om veilig te bly? Gesels met jou huismense oor wat julle kan doen om veilig te bly.
Graad 1-3
-
Druk afdeling
Verwelkom almal aan die begin van die nuwe jaar. Dit sal goed wees om seker te maak almal ken mekaar se name. Speel gerus ook ’n paar ysbreker-speletjies tydens die eerste ontmoeting. Die internet is vol voorstelle (soek: “children icebreaker ideas”). Kies iets wat in julle konteks prakties sal werk. Dink ook aan bekende speletjies soos vroteier, “Simon says” of “Musical chairs”. Sluit af deur saam wegkruipertjie en/of “I spy with my little eye” te speel.
Ons het nou lekker gespeel en na mekaar gesoek.
Vandag luister ons na die verhaal in Lukas 2:40-52 oor hoe Jesus se ouers na Hom gesoek het.
Wat weet ons van Jesus se lewe as kind? Ken julle dalk sy geboorteverhaal? (Vertel die geboorteverhaal indien daar tyd is.) Ons ken een verhaal uit Jesus se kinderlewe. Toe Hy 12 jaar oud was, het Jesus saam met sy ouers vir die Paasfees na Jerusalem gegaan. Ná die fees het almal huis toe gegaan. Toe Josef en Maria al ’n hele dag lank gereis het, kom hulle agter Jesus is nie by die groep nie. Hulle was baie bekommerd en het dadelik na Hom begin soek.
Het een van julle al so weggeraak?
Waar kry hulle toe vir Jesus? In Jerusalem, in die tempel. Jesus was besig om die mense meer van God te leer. Vir Jesus is dit baie belangrik dat ons so dikwels moontlik sal bid en meer oor die Here sal leer.
Hierdie verhaal wys vir ons hoekom Jesus aarde toe gekom het. Hy wou ons meer oor God leer. Wat kan ons doen om meer van God te leer?
Elke kind maak vir hom of haar ’n naamkaartjie en versier dit. Gebruik plakkers of uitgeknipte kartonkaartjies.
So kan jy die kinders se name leer ken en hulle help om mekaar te leer ken.Vandag is dit baie gevaarlik om weg te raak. Wat kan ons doen om veilig te bly? Gesels met jou huismense oor wat julle kan doen om veilig te bly.
Vandag is dit baie gevaarlik om weg te raak. Wat kan ons doen om veilig te bly? Gesels met jou huismense oor wat julle kan doen om veilig te bly.
Graad 4-6
-
Druk afdeling
Verwelkom almal aan die begin van die nuwe jaar. Dit sal goed wees om seker te maak almal ken mekaar se name. Speel gerus ook ’n paar ysbreker-speletjies tydens die eerste ontmoeting. Die internet is vol voorstelle (soek: “children icebreaker ideas”). Kies iets wat in julle konteks prakties sal werk.
Hier is twee voorstelle:
- Omgekeerde “musical chairs”: Almal word geblinddoek en moet op een plek dans. Terwyl die musiek speel, word die stoele rondgeskuif en een word weggeneem. Wanneer die musiek stop, soek elkeen ’n stoel. Daar is dan een stoel te min. Die een wat nie ’n stoel kry nie val uit. Hou aan totdat daar net een speler oor is.
- Volg die naam: Almal staan in ’n kring. Een speler het ’n bal. Wanneer die speler die bal gooi, sê hy of sy die naam van die een vir wie hy of sy die bal gaan gooi. Die een wat die bal gegooi het, noem dan een goeie eienskap van die een wat die bal vang.
Ons gaan hierdie jaar baie praat oor verhale in die Bybel oor mense wat gereis het om te word wie hulle in die Here is. Ons begin die jaar met ’n verhaal uit Jesus se kinderdae. In hierdie verhaal wys Jesus vir ons hoekom Hy aarde toe gekom het.
Lees saam Lukas 2:40-52.
Gesels saam:
- Wie is al ooit iewers vergeet? Of wie het al weggeraak? Wat het julle gedoen?
- Watter woorde of sinne sou jy gebruik om Jesus se optrede in hierdie verhaal te beskryf? Hoekom? (Dink byvoorbeeld aan onverantwoordelik, verstrooid, ongehoorsaam of gefokus, maar laat die kinders self eers hulle eie woorde noem.)
- Hoekom dink julle het Jesus in die tempel agtergebly?
Meet die jongmense in die groep.
Gesels saam:
- Hoe lank is jy? Hoeveel het jy al gegroei van verlede jaar af?
- Hoe lyk ’n gesonde leefstyl wat jou sal help om goed te groei en gesond te bly?
- Dink nou aan jou geestelike lewe. Wat kan jy doen om meer van die Here te leer en geestelik te groei?
Gaan vertel vir iemand wat jy vertrou van jou planne vir die jaar. Hoe kan hierdie persoon jou help om geestelik te groei?
Graad 7-10
-
Druk afdeling
Verwelkom almal aan die begin van die nuwe jaar. Dit sal goed wees om seker te maak almal ken mekaar se name. Speel gerus ’n paar ysbreker-speletjies tydens die eerste ontmoeting. Die internet is vol voorstelle. Kies iets wat in julle konteks prakties sal werk.
Hier is twee voorstelle:
- Menslike knoop: Laat die jongmense in ’n kring staan en na binne kyk. Almal steek hulle hande voor hulle uit. Met hulle regterhand neem hulle ’n ander se linkerhand. Maak seker hulle neem nie dieselfde persoon se linker- én regterhand nie. Wanneer almal mekaar se hande geneem het, laat een jongmense begin om sy of haar maat se hand te druk. As jou een hand gedruk is, druk die persoon aan jou ander kant se hand. Wanneer die eerste speler se ander hand gedruk word, vra of almal se hande gedruk is. Indien wel, kan julle aangaan. Indien nie, is daar meer as een kring en dan moet hulle van voor af mekaar se hande neem. Indien daar net een kring is, laat die groep probeer “ontkoek” sonder om mekaar se hande te los. Hulle is ontkoek wanneer hulle in ’n kring kan staan en hulle hou die een aan hulle linker- en regterkant se hande vas.
- Feit of fiksie?: Deel vir elkeen ’n vel papier en ’n skryfding uit. Laat elke jongmens drie stellings oor hulleself op die papier neerskryf; twee moet waar wees en een moet vals wees. Hier is ’n voorbeeld:
- Ek hou van roomys.
- Ek skryf met my linkerhand.
- Ek het al in Namibië vakansie gehou.
Laat elke jongmens sy of haar stellings hardop lees. Die ander jongmense moet raai watter stelling vals is.
Ons gaan hierdie jaar baie praat oor verhale in die Bybel oor mense wat gereis het om te word wie hulle in die Here is. Ons begin die jaar met ’n verhaal uit Jesus se kinderdae. In hierdie verhaal wys Jesus vir ons hoekom Hy aarde toe gekom het.
Lees saam Lukas 2:40-52.
Gesels saam:
- Wat dink jy was die geleerdes se reaksie toe hulle hoor hoe Jesus in die tempel praat? Onthou, Jesus was maar 12 jaar oud, amper ’n volwassene, maar nog ’n kind. Boonop ’n kind van ’n klein dorpie. Wat sou jy dink as iemand jonger as jy vir jou van God vertel?
- Hoekom dink jy het Jesus in die tempel agtergebly?
- Waaroor is jy so passievol dat jy heeltyd daaroor kan praat? Waaroor gesels jy so graag dat jy dalk kan agterbly wanneer jou familie vertrek?
Deel vir elke jongmens ’n vel papier en ’n skryfding uit. Elkeen gaan sy of haar lewensreis teken. Hulle kan bakens en roetemerkers by die hoogtepunte van hulle lewe teken, en selfs by die laagtepunte. Hulle kan ook ’n doelwit teken van waarheen hulle op pad is.
Gesels saam:
- Maak ’n lys van alles wat jy hierdie jaar moet doen om by jou doelwit uit te kom.
- Wat kan jy doen om hierdie jaar geestelik te groei?
- Wat kan ons as groep kan doen om mekaar hierin te ondersteun?
Maak as groep ’n verbintenis aan mekaar: Ons gaan ’n veilige plek wees waar ons saam kan groei. Ons gaan mekaar ondersteun om ons doelwitte te bereik.
Afstandkategese
-
Druk afdeling
Aanvullende materiaal om op sosiale media (Whatsapp, Facebook, ens) te deel wanneer fisiese byeenkomste nie haalbaar is nie. Onder elke prent is ‘n boodskap wat jy op sosiale media (soos Whatsapp) kan uitstuur saam met die grafika.
Kernwaarheid
Stuur hierdie prent aan die hele gemeente om die kerngedagte in te lei.
Die onderstaande teks is buitelyne van ‘n moontlike huisgeloof-video wat julle self kan opneem en aan gesinne stuur.
Inleiding: Begin deur ‘n plantjie in watte te “plant”. Vra die gesinne: Wat het ‘n plant nodig om te groei? Water, grond en sonlig. Ons gaan vanjaar saam geestelik groei. Wat het ons nodig? Gebed, om die Bybel te lees, om gemeentebyeenkomste by te woon, en so meer. Kom ons lees ‘n gedeelte wat ons sal kan help groei.
Bybelgedeelte: Lees Lukas 2:40-52 saam.
Verduideliking: Jesus was 12. Hy kon dus saam met enigeen van die groepe gereis het, of dalk selfs saam met ’n groep ander seuns van dieselfde ouderdom. Dit was daarom nie vreemd dat sy ouers gedink het Hy is iewers in die groot groep op pad saam huis toe nie. Hulle het eers ’n dag later agtergekom dat Jesus weg is. Toe moes hulle weer ’n dag lank terugreis na Jerusalem en in die stad na Hom gaan soek. Ons lees dat hulle vol angs en kommer was omdat hulle nie geweet het waar Jesus was nie. In Jerusalem vind hulle Jesus in die tempel besig om die geleerdes te leer. Die geleerde mense was verbaas oor sy insig en kennis.
Het Jesus toe al geweet wat vir Hom voorlê? Om hierdie vraag te probeer antwoord, kyk ons na Jesus se antwoord aan sy ma nadat sy Hom berispe het. Hy vra vir haar: “Waarom het julle na My gesoek? Het julle dan nie geweet dat Ek in die huis van my Vader sou wees nie?” Dit kan ook vertaal word met: “Het julle dan nie geweet dat Ek besig sou wees met die werk van my Vader nie?” Jesus het toe reeds in ’n besonderse verhouding met God gestaan. Jesus was besig om te groei en te ontwikkel. Hierdie teks help ons verstaan hoe belangrik dit is dat ons in ons lewe sal groei in ons verhouding met God en in ons verhouding met ander mense. Ons is nooit klaar gegroei of ontwikkel nie. Nie ten opsigte van die aspekte van ons lewe nie, en beslis ook nie ten opsigte van ons verhouding en kennis van God nie. Dit is hoekom ons hier saam is: om verder te leer en groei.
Aktiwiteit: Ons gaan ’n boom of ’n plant saam plant en versorg om ons te herinner dat ons moet groei. ’n Boom of plant kort water, goeie grond, kompos en sonlig om te kan groei. Neem ’n foto van julle by julle boom of plant en deel dit met die gemeente. Aan die einde van die jaar, wanneer ons weer Kersbome in ons huise opsit, kan julle nog ’n foto van julle by julle boom of plant neem sodat julle kan sien hoe dit gegroei het.