Herinningsdiens

Picture of Woord en Fees

Herinningsdiens

Inleiding

Daar is twee aspekte aan hierdie diens:
Op 1 November onthou die kerk alle gelowiges wat ontslaap het en die Christene wat deur die eeue heen ’n groot bydrae gelewer het tot die voortbestaan van die kerk: die apostels en gelowiges.

Op 2 November onthou ons alle heiliges van ons eie tyd, alle afgestorwenes wat ons lewe beïnvloed het en ’n bydrae gelewer het tot die plaaslike gemeente. Ons eer die nagedagtenis van lede van ons gemeentes en families wat in die plaaslike kerk en in ons lewe ’n sleutelrol gespeel het.

Gemeentelede word vooraf ingelig en uitgenooi om gestorwenes se name op ’n ererol te plaas. Op ’n vaste tyd in die diens word hulle in herinnering geroep en gemeentelede kom kersies aansteek of bring blomme.

Verwelkoming
Die voorganger verwelkom die gemeente en plaas die diens in perspektief.

Geliefdes in die Here:
Ons kom vandag byeen om vir die Here dankie te sê vir diegene wat ons vooruitgegaan het;

Ons erken vandag:

  • God se liefde soos gereflekteer in hulle lewe.
  • Dat God hulle vir ’n bepaalde tyd aan die wêreld en aan ons geskenk het
  • Dat hulle ons lewe verryk het en die bediening van die kerk versterk het.
  • Dat ons stof is en tot stof sal terug keer.

Voorganger: Ons slaan ons oë op na die berge, waar sal ons hulp vandaan kom?
Gemeente: Ons hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het (Ps 121: 1).
Die leier doen ’n openingsgebed.

Sang

Diens van Die Woord

Nooi familielede van die afgestorwenes om die Skriflesings te doen.

Eerste Skriflesing
Jesaja 25: 6-9

Sang
Psalm 24

Tweede Skriflesing
Openbaring 21: 1-6a
Buite die konteks van die nagmaal hoef net twee Skriflesings gedoen te word. Openbaring moet dan een van die twee wees omdat dit die sleutelteks is.

Evangelielesing
Johannes 11: 32-44
Die koor kan hier optree.

Preek

Sang
Sing ’n ied waartydens die plek vir die kerse of blomme voorberei word. Bring nou die kerse of blomme in indien dit nog nie gedoen is nie.

Aflees van name
Die voorganger lees die name van die plaaslike gestorwenes en die familielede of gemeentelede steek kerse aan. Andersins kan blomme in blombakke geplaas word.
Die blomme kan die volgende dag na ’n tehuis of siekes geneem word.
As al die name gelees is, sê die voorganger:
Die Here  het gegee en die Here het geneem.
Prys die naam van die Here!
’n Oomblik van stilte volg.

Gebed van die gemeente

Ons bid vir die kerk en dank God vir die bediening van die kerk aan haar mense.

  • Dankie vir die kerkleiers en die bediening van die kerk aan die wêreld.
  • Dankie vir lewe, om ons tyd goed te benut, tot eer van God.
  • Om na te dink oor verhoudings wat skielik deur die dood beëindig is.
  • Om alle bestaande verhoudings te handhaaf en mekaar te waardeer.
  • Om te besef die lewe en die dood is nie in ons hande nie.
  • Om te weet dat God die groot Vertrooster en Geneesheer van wonde is
  • Bid vir families wat dit besonder moeilik vind om die dood van geliefdes te verwerk: dat die Here dit op sy tyd dit sal doen.
  • Enige ander paslike gebede.

Gesang

Gebed
Voorganger: Judas 24-25 “Aan Hom wat magtig is om julle van struikeling te bewaar en julle onbevlek en  met vreugde sy heerlikheid laat aanskou, aan die enigste God, ons Verlosser deur Jesus Christus onse Here, aan Hom behoort die heerlikheid en die majesteit, die krag en die mag, van alle ewigheid af, ook nou en tot in alle ewigheid.

Openbaring 6:3b: Geliefdes in die Here, die diens is klaar, wees bemoedig met die woorde van die stem uit die troon: “Kyk die woonplek van God is by mense. God sal by hulle bly en hulle sal sy volk wees. God sal al die trane afdroog, die dood sal daar nie meer wees nie, ook leed en pyn en smart sal verbygaan. Die Here wat op die troon sit se Ek maak alles nuut”. Die Here seën julle nou en vir ewig.
Gemeente: Amen.

Preekstudie: Job 42:1-6, 10-17

Teks

Wat tevore oor die grootsheid en moeilikheid van Job gesê is, geld hier ook. Oor hierdie gedeelte, wat boonop liefs saam met vers 7-9 gelees moet word, stry geleerdes steeds. Selfs as iemand een interpretasie kies, soos ek hier doen, kan daar op verskeie maniere gepreek word. Die rykdom is bykans eindeloos.

Hier, soos elders in die boek, is die teks moontlik swak oorgelewer, met dele wat skynbaar op verkeerde plekke geplaas is. Sommige meen dat Job se twee antwoorde (39:36-38 en 42:2-6) oorspronklik een antwoord was. Die eerste deel van vers 3 in ons gedeelte, pas nie eintlik op Job se lippe nie; dit hoort dalk by God se woorde. Sommige dink dit geld ook vir die hele vers 4. Minstens die tweede deel van die vers maak egter hier goed sin. Job, wat vir God wou leer regeer, kon sy “leerling” se vrae nie beantwoord nie en ruil daarom nou die posisies: hy sal vra en op onderrig wag. Oor die moeilike vers 6 bestaan daar verskillende menings.

Vers 10-17 is op sigself nie problematies nie, maar baie geleerdes meen dat die hele slotgedeelte in verskillende fases vorm gekry het. Vers 10-17 sou dan oorspronklik behoort het tot ’n ou volksverhaal oor die geduldige Job. Dit is, oordeel sommige, hier nie heeltemal gepas nie (maar sien onder). Omdat alles nie in die prediking genoem kan word nie, fokus ek op hoofmomente van die verhaal in sy finale vorm.

In vers 2-6 maak Job vier belangrike uitsprake, waarvan die laaste een nie heeltemal duidelik is nie.

  • Hy erken dat God se almag beteken dat God planne kan beraam en uitvoer wat vir mense duister bly. Hy bely dat hy sonder insig gepraat het en die probleem oorvereenvoudig het.
  • Hy lê die rol van leermeester neer en word eerder leerling.
  • Hy skryf sy verandering van mening nie toe aan ’n nuwe “leerstelling” wat hy geleer het nie, maar aan die persoonlike ontmoeting met God.
  • Hy herroep sy vorige standpunt en “het berou in stof en as” (1933 Afrikaanse Vertaling).

Hierdie uitsprake is nie glashelder nie. Job het immers tevore van God se almag geweet. Altans, hy bely dat mense nie met God kan kompeteer nie. Tog lyk dit soms asof God vir hom bloot die supermens, veral die superregter en superheerser is. Daarom oordeel hy dat God as regter-heerser ’n onregverdige tiran is. Om God te leer ken as die Een wat “anders anders” is, leer niemand uit die woorde “almagtig” en “alwys” nie. Dit wat Job “nie begryp het nie” geld nie sy twee kernaansprake, dat hy sy lyding verwerp en dat hy onskuldig is, nie. God verwyt hom ook nooit oor hierdie standpunte nie. Hy het bloot tot verkeerde gevolg-trekkings oor God se heerskappy gekom. God se plan (38:2) was dalk meer kompleks as wat Job besef het.

Natuurlik het Job steeds nie hierdie plan begryp nie, want God het geen woord oor die “hemelse weddenskap” gerep nie. In sy tweede uitspraak verklaar Job homself bereid om te leer. Sy twisgesprekke met sy vriende het minstens deels gegaan oor wie die wysste woord kon spreek. Maar, soos Spreuke dikwels sê, wysheid lê eerder in luister as in praat. Om te luister is klaar ’n erkenning van afhanklikheid van ’n meerdere.

Wat het hom dan laat glo dat God iets besonders in die mou voer? In sy derde uitspraak beantwoord Job hierdie vraag indirek. “Nou het my oog U gesien.” Volgens Westermann lê die kern van die boek hier. Soos in die klaagliedere in die Psalmboek is die “oplossing” nie ’n leerstelling of denkwyse nie, maar ’n “ontmoeting met God”. Waar die teenwoordigheid van God ervaar word, verskyn probleme in ’n ander lig. Omdat God nou die fokuspunt is, kom die probleme skaars in sig.

Hierdie interpretasie verklaar waarom God se antwoord geen “verduideliking” is nie en waarom die boek geen nuwe “teorie oor lyding” aanbied nie. Elke teorie is maar weer “hoorsê”, ’n sameflansing van menslike gedagtes wat onvermydelik tekort aan God se merkwaardigheid doen. Elke teorie verstar in ’n dogma waarmee mense enersyds God probeer vaspen en andersyds die ontmoeting met God vermy. Die God wat met ons teorieë omskryf kan word, kan nie aanbid word nie.

Wat Job presies in vers 6 sê, is steeds onseker. Die Afrikaanse vertalings en baie verklaarders sien daarin ’n verdere erkenning dat Job se aanval op God misplaas was. Dit het Job egter reeds in vers 3-4 erken. Boonop lees die Hebreeus nie maklik so nie. Alternatiewe verklarings is dat Job nou insien dat hy net “stof en as” (bloot mens) is, of dat hy afsien van “stof en as” (sy vorige bittere rou). Laasgenoemde maak in die konteks die meeste sin: nadat hy God se teenwoordigheid ervaar het, kom sy gemoed tot rus. Weens die onsekerheid moet ons nie oormatig klem op hierdie vers lê nie (Westermann) – veral nie in die prediking nie.

Dit is uiters belangrik dat die verhaal nie hier eindig nie. Hoewel Job tot orde geroep is omdat hy sy wysheid oorskat het, word hy nie vernietig nie. God is nie die kosmiese tiran soos Job soms gemeen het nie. Boonop was die vriende se fout veel erger. Om ’n misplaaste teorie oor God te verdedig, het hulle alle menslikheid teenoor hulle vriend prysgegee en God self verklein tot ’n kosmiese vergeldingsbeginsel. Let op dat Job steeds “met” God wou praat; die vriende was tevrede om “oor” God te praat.

Selfs vir hierdie onmenslike teologie word die vriende nie gestraf nie – vergelding heers ook hier nie – omdat Job vir hulle intree. Hierdie komplikasies is ganse boeke werd. Eerstens word geïllustreer dat vergelding – hier geregverdigde vergelding – nie outomaties werk nie. Baie faktore – hier Job se voorbidding – verander die situasie. Tweedens word Job nie herstel na en vanweë sy “belydenis” nie, maar nadat hy vir ander intree en dus enersyds uit sy selfbeheptheid kom en andersyds meer deernis vir sy vriende toon as wat hulle vir hom getoon het. Hoewel hierdie gedeelte nie in die Skriflesing voorkom nie, moet dit in die prediking oorweeg word.

Die werklike slot is eenvoudig – volgens sommige simplisties. Een interessantheid verdien egter aandag. Naas Job se latere seuns word ook sy drie dogters by die naam genoem. Boonop gee Job, teen die normale gebruik van die tyd, vir hulle ’n erfdeel onder hulle broers. Is die implikasie dat Job uit sy ervaring van die “breedheid” van God geleer het om verby die beperkings van sy kultuur te beweeg?

Konteks

Dit is, glo ek, meestal ’n fout om die Jobskrywer te onderskat. Daarom verskil ek van die geleerdes wat die slot as oppervlakkig beskou (party dink die slot van die ou volksverhaal is behou, al bots dit met die res van die boek). By Job dui interpretasieprobleme selde op onbeholpe sameflansing. Wanneer die vloei van die teks ongemaklik is, word ons uitgedaag om dieper te dink en verrassende moontlikhede raak te sien, wat dikwels belangriker is as om “regte antwoorde” te vind. Nogtans moet predikers kennis neem van twee besware, nie noodwendig in die prediking nie, maar om onversigtige, oppervlakkige uitsprake te vermy.

Eerstens laat die motief van die “hemelse weddenskap”, wat stellig uit die volksverhaal kom en na die inleiding nooit weer opduik nie, vrae ontstaan. Sou God iemand so teister net om die “Satan” ore aan te sit? Hierop is twee antwoorde. Nóg die skrywer nóg enige mens kan werklik God se planne peil. Die res van die boek laat doelbewus hierdie misterie met rus. Die inleiding bevestig bloot vir lesers dat Job nie vir enige sonde gestraf word nie. Die skrywer kon tog nie die onuitspreeklike uitspreek nie.

Al is die “Satan” hier nie die duiwel nie, maar een van God se kinders (die hemelse aanklaer), verteenwoordig hy die gees van sinisme en twyfel (wat dikwels by mense voorkom). Sy argument is dat godsdiens altyd bloot ’n saketransaksie is. Juis die persoonlike verbondenheid wat in hierdie boek belangrik is, word in twyfel getrek. Die slot bevestig dat God en Job se verhouding nie deur verdienste en loon bepaal word nie.

Tweedens kan ons vra of enige herstel ooit volkome kan wees. Moet Job sy vorige kinders vergeet omdat hy nuwes gekry het? Is mense so uitruilbaar? Dit is inderdaad ernstige vrae wat weer die grens van die uitspreekbare toets. Ons kan hoogstens die vrae anders stel. Wat glo ons werklik as ons bely dat God mense volkome verlos en herstel? Of moet ons eerder sê dat elke ramp en leed ewig is en God permanent troef? Presies hoe God gebroke mense “heelmaak” kan ons nie sê nie. Bo al verwys die skrywer ons eers na die ontmoeting met God en dan na ander aspekte van herstel.

Soos by die vorige gedeelte moet ons hier van harde maar helende woorde praat. Uit die verafgoding van lyding, kom die “tragiese lewenshouding”. Elke mens en alle dinge is onherstelbaar gebroke, deurtrek met duisternis wat die lig oorweldig (vgl Joh 1:5). Alle helde is tragiese helde en ware insig lei tot sinisme. Die enigste sement wat ons saambind, is solidariteit “in” lyding (nie “met” lydendes nie).

Die tragiese lewenshouding kan “indrukwekkend” wees, soos sommige van Job se redes (Job 14) bewys;  “gelowig” kan dit as lewenshouding nie wees nie. Dit laat geen ruimte vir God se skeppende en herskeppende handeling nie; dit ontken “die toekoms van die gekruisigde” (Moltmann). Omdat dit alles uitverkoop aan die verlede (oorsaak en noodwendige gevolg), is dit ’n “hooplose” en “doel-lose” houding, wat aan God en mense alle vryheid ontsê. Dit is eindelik ook ’n “liefdelose” en “genade-lose” lewenshouding, want sonder die vrye keuse vir die ander, berus alle verhoudinge op berekende selfbelang.

In Job is God se oordeel oor die tragiese lewenshouding eenvoudig: “Snert!” God het eenmaal geskep; God kan herskep. In ontmoeting kom iets nuuts tot stand, selfs midde in lyding. Die verlede bepaal nie die toekoms nie, want meganiese wette (selfs morele wette) regeer nie die wêreld nie.

Hierin lê die kern van Job se erkenning dat God “alles kan doen” en enige plan kan deurvoer – ook om heersende “werklikhede” om te keer. Daar is niks danig realisties aan die tragiese lewenshouding nie, maar wel heelwat wat arrogant en eiewys is. “Daar is vir my gebrokenheid geen heling nie.” O, jy ken die toekoms – terwyl jy selfs van die verlede weinig weet. “Daarom is Job nou bereid om leerling te word en uit te vind wat God verder met hom beplan.

Om die tragiese lewenshouding af te sweer, is nie om skielik die lyding te beheers nie, maar om te erken dat God, nie lyding nie, heers. Dit is ook nie om alle lewenstragedies te vermy nie, maar om nie die tragiek te vertroetel nie. Dit is beslis nie om lyding te “aanvaar” nie – juis nie. Job het nooit heeltemal voor hierdie versoeking geswig nie, want hy het steeds sy lyding verwerp en aan sy onskuld bly kleef. Boonop het hy deurgaans die ontmoeting met God gesoek, al wou hy dit as konfrontasie kleur. In die werklike ontmoeting lyk sake vir hom anders sodat hy afsien van die elemente van die tragiese lewenshouding wat soms by hom opgeduik het (sien my voorkeurverstaan van vers 6).

Waar ons die toekoms aan God se vrymag oor laat en nie aan die blinde noodlot nie, word ook mense vryer. Job se intrede verander die toekoms – vir sy vriende. Daaragter lê nog ’n tema van die boek wat ek nie hier kan behandel nie – meegevoel. Al het Job dit tevergeefs by sy vriende gesoek, ontsê  hy dit nie aan hulle nie. Daardeur word hy weer God se kneg, wat “die werke van sy Vader doen”, werke wat nie deur verdienste bepaal word nie.

Is die slot van Job onrealisties, simplisties en steurend? Dan moet ons dit ook van ons geloof en hoop sê en ons liefde as skyn afmaak. Met die tragiese lewenshouding verloor selfs die kruis sy radikaliteit, want sulke dinge is dan mos “doodnatuurlik”. Maar die kruis is radikaal en skreiend: dit skreeu om opstand – en die opstanding.

Preekvoorstel

Moontlike preekskemas
Die preek kan rondom vers 5 gebou word, met die klem op die persoonlike ontmoeting as deurslaggewende gebeurtenis. Dan moet die indruk egter vermy word dat 42:10-17 direk uit 42:1-6 vloei. Job word nie beloon omdat hy eindelik, soos sy vriende wou hê, sy “skuld bely” het nie.

Eerstens kan daarop gewys word dat Job in die strydgesprekke twee onderskeibare posisies ingeneem het. Sy aanvanklike stellinginname, wat deurgaans primêr bly, is dat hy sy lyding hartstogtelik verwerp en dit geensins as “verdiende loon” kan beskou nie (let daarop dat Job nie op absolute volmaaktheid aanspraak maak nie. “Menslik gesproke” is hy wel die laaste een wat sulke lyding verdien). Vanuit hierdie posisie beroep hy hom op God as “beregter”.

Omdat sy vriende volhou dat sy lyding juis God se regshandeling is, rig Job homself soms teen God. Hy aanvaar sy vriende se argument: òf Job is skuldig òf God is onregverdig. Vanuit die posisie sien hy God as onregverdige regter of gevoellose, afgetrokke despoot. Hy wil die vyandige God konfronteer, met die implikasie dat hy, Job, die wêreld beter (regverdiger) sal regeer.

Uit hierdie dubbele stellingname spruit die paradoks dat Job hom op God beroep teen God. (Sommige geleerdes ontken dat hy dit doen: hy soek bloot ’n bemiddelaar tussen hom en God. Maar so ’n gesaghebbende bemiddelaar sal tog God onder ’n ander naam moet wees.) God is beide sy vyand en sy enigste hoop.

Die “eerste Job” word nie veroordeel nieSy vriende, wat die teenoorgestelde sê, het “nie reg gespreek nie”, Job het. Die “tweede Job”, wat gevaarlik na aan sy vriende kom, het, soos hulle, vanuit onvolkome kennis gepraat – sy mond verby gepraat. Hierdie Job word steeds nie “veroordeel” nie, maar tot orde geroep.

Dat Job skielik sy heftigheid vir inskiklikheid ruil, kan nie direk uit God se “antwoord” verklaar word nie. Job self verwys nie na enige nuwe inligting of insig wat hy gekry het nie. Hy erken bloot dat sy vorige kennis van God op “hoorsê” (inligting, idees, leerstellinge) berus het. Hierdie hoorsê het nie die werklikheid van God ontsluit nie. Dit kan ook nooit, daarom is daar geen dramatiese onthulling in God se antwoord nie. Enige teologie wat voorgee om God te “begryp”, maak God ’n gevangene, wat boonop daarna oorbodig is. Die teologie, nie God nie, word die bron van die lewe.

God is meer as al ons name: regter, heerser, skepper, ensovoorts. Sulke beeldspraak is nuttig en tog beperk: soms perk dit God en ons in.

Vers 5 kan slegs beteken dat Job in God se antwoord die “meer van God” ervaar het, nie dat hy intellektueel iets nuuts gesnap het nie. Sommige praat in hierdie verband van “persoonlike kennis”. Dit kan so geïllustreer word: Die skelwoorde wat ek en my beste vriend mekaar soms toevoeg, dui “objektief beskou” op vyandigheid. Vanuit ons verhouding beskou, bevestig dit ons vriendskap (daar is baie sulke voorbeelde). Presies wat Job se “oog gesien het”, kan ons nooit sê nie. Ons kan dit slegs deel as ons in God se teenwoordigheid staan. Hoogstens kan ons sê dat dit te make het met verbondenheid, lojaliteit, toegeneëntheid en meegevoel.

Teologie, kerkleer en dies meer is nuttig as dit ons na God verwys; as dit God probeer vervang of vasvang, is dit nutteloos, selfs skadelik. As ons dit op ander toepas sonder om die reuse gate daarin raak te sien, is dit arrogant en harteloos. Dan mis dit die verbondenheid, lojaliteit en meegevoel wat ons aan ander skuld.

Ten slotte: Die blote woorde van God se antwoord kan op verskillende maniere gelees word, soos die woorde wat vriende en geliefdes wissel. Uit een hoek klink hulle hooghartig en sarkasties. Job, blykbaar, het iets heel anders gehoor: dat God hom ernstig opneem en “met” hom, nie “vir” hom nie, lag.

Die ander opsie is om op die “gelukkige einde” as geheel te fokus. Is dit ’n toepaslike slot? Is daar werklik “heil” (heling, herstel) vir gebroke lewens? Laat lyding nie onherstelbare letsels en leemtes nie?

Die “tragiese lewenshouding” ontken dat heling moontlik is. Die “geloof” is verplig om te sê dat dit wel is – vir God. Die preek kan rondom hierdie kontras gebou word.

Eersgenoemde sien slegs die “werklikheid” van lyding se greep; laasgenoemde sien, anderkant lyding, die moontlikhede in God se hande (geloof).

Eersgenoemde laat heers die “verlede” en sy gevolge; laasgenoemde reik uit na die “toekoms van die gekruisigde” (hoop).

Eersgenoemde verhef lyding tot ’n “wetmatigheid” – om te lewe is om te ly. Laasgenoemde sien lyding as ’n “anomalie” (in botsing met die wet) – om te lewe is om te stry teen lyding. Daarom is meegevoel in die tragiese lewenshouding eintlik sinloos. In die geloof is dit gedeelde worsteling (liefde).

Waarom word mense tot die tragiese lewenshouding verlei terwyl dit geen hoop bied nie? Dit bied ’n gevoel van “sekerheid” en “wysheid” – al is dit wrang sekerheid. Ek weet hoe die wêreld werk – alles eindig altyd sleg. Dit laat my in “beheer”. Al kan ek niks goeds tot stand bring nie, kan ek altyd lyding tot stand bring – vir myself en vir ander.

In albei opsigte is dit arrogant, want so wys en magtig is ons nie (soos Job moes leer). Ons kan nie so seker soos Job se vriende en (soms) Job wees nie. Ons kan nie die lyding beheers nie: God heers. Ons kan geen anker vir ons bestaan in ons eie integriteit (wêreldwysheid, kritiese vermoë, ens) vind nie. Lyding verplig ons om te reik na ander – uiteindelik na God. “My enigste troos in lewe en in dood is dat ek . . . nie aan myself behoort nie”, maar aan Een vir wie ek kosbaar is.

Lyding is nie onwerklik nie, maar dit is nie “die werklikheid” nie. “Die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie” (Joh 1:5). Die kruis “erken” menslike lyding; die opstanding “oorkom” dit.

Bibliografie

Kommentare: G Fohrer (KAT); N C Habel (OTL); J E Hartley (NICOT); J G Janzen (Interpretation); M H Pope (AB). Ander: R Gordis, The Book of Job; G Gutièrrez, On Job; G von Rad, Wisdom in Israel; C Westermann, The Structure of the Book of Job.

Sections

© Missio 2024 | All rights reserved.